SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue3A longitudinal view of the attitudes on business ethics of South African managers: Trends from 2007 to 2016Perceptions of social workers on the needs of families where a child has been diagnosed with cancer author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.3 Pretoria Sep. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n3a7 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Sanlam-amptenare uit die volk gebore om die volk te dien?

 

Sanlam officials born from the volk to serve the people?

 

 

Wynand Beükes1, I; Anton EhlersII; Grietjie VerhoefIII

IVryskutnavorser, Kaapstad. E-pos: wbeukes@absamail.co.za
IIDepartement Geskiedenis Universiteit Stellenbosch. E-pos: aehl@sun.ac.za
IIIEkonomiese, Sake- en Rekeningkundige Geskiedenis Universiteit van Johannesburg E-pos: gverhoef@uj.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Suid-Afrikaanse lewensversekeringsmaatskappy Sanlam het in 1918 die lewenslig aanskou te midde van verskeie verweefde ekonomiese, politieke en maatskaplike faktore wat meegewerk het om 'n taamlik stewige stigtingstydperk vir die jong maatskappy te verseker. Op politieke gebied was die stigting aan die opwelling van Afrikanernasionalisme gekoppel (Koen 1986:6068; Le Roux 1953:128; Scannell 1968:11). Dié nasionalisme het gepaardgegaan met die stigting van die Nasionale Party (NP) in 1914. Die volksgevoel het ontstaan uit die benarde maatskaplike posisie waarin talle Afrikaners hulle ná die Anglo-Boereoorlog bevind het. Afrikanerleiers het besef dat opheffing slegs moontlik was indien Afrikaners ook 'n aandeel in die sakewêreld verwerf. Dié wete, tesame met die sukses van die Helpmekaarbeweging en die gaping in die bestaande versekeringsbedryf in Suid-Afrika vir 'n lewensversekeringsmaatskappy veral gemik op Afrikaners, het regstreeks tot die stigting van Sanlam gelei. Die maatskappy was hoofsaaklik aanvanklik op die Afrikanermark gemik, maar het uit die staanspoor die hele Suid-Afrikaanse mark bedien. Dit het sakesin gemaak - 'n suksesvolle onderneming in die Suid-Afrikaanse mark wat sy besigheidsfokus direk mik op 'n segment van die samelewing wat grotendeels buite die versekeringsmark gestaan het, en wat terselfdertyd kon bydra tot Afrikaneropheffing.
Die vraag wat in hierdie artikel beantwoord word, is in hoeverre dié voorafvermelde konteks en ook veral die Sanlam-slagspreuk "Uit die volk gebore om die volk te dien" in die aanstelling van die eerste amptenare weerspieël is. Het die maatskappy net op wit Afrikaanssprekende NP-ondersteuners staatgemaak om op dreef te kom? Was daar dus genoeg sakekundigheid in eie geledere om dié nuwe Afrikaner-wa deur die eerste drif te kry?

Trefwoorde: Lewensversekeringsmaatskappy, personeel, Afrikaners, Afrikaans, nasionalisme, ekonomie, Engelssprekendes, opheffing, verwarrende uitsprake


ABSTRACT

The South African life assurance company, Sanlam, was established in 1918 as a direct result of Afrikaner ambitions. This ethnic nationalism was inspired by the advances of the Afrikaans language movement and the formation of the National Party (NP) in 1914 as a political home to many Afrikaners. An objective with the establishment of Sanlam as a life assurance company was the economic empowerment of Afrikaners in South Africa. Economic upliftment was the goal. From the beginning, the company was known principally as an Afrikaans institution focusing on Afrikaner interests. Sanlam wanted to establish itself as a South African establishment rendering a service to the entire South African community. That vision made business sense - a successful enterprise in the South African market that also contributed to Afrikaner empowerment. The question is whether that focus resulted in the company relying on an exclusive Afrikaans-speaking NP supporter base in its staff composition. This question is raised especially in view of Sanlam's Afrikaans slogan at that time: "Uit die volk gebore om die volk te dien". The interpretation of the meaning of the word "volk" is contrasting. Afrikaners of that period understood the word as referring to the Afrikaner people. "Volk" is translated into English as "people" or "nation". The slogan therefore reads as follows in English: "Born from the people to serve the people" - implying a wider involvement than only the Afrikaners.
Pronouncements of Afrikaner politicians contributed to this confusion of tongues. The Afrikaner leader JBM Hertzog, for instance, on the one hand considered the concept "Afrikaners" to include Afrikaans and English speakers. On the other hand, he maintained that the two groups perhaps will be united somewhere in the future. Sanlam leaders' views in this regard varied between a reference to the "Afrikaans-speaking section" of the "Afrikanervolk" and a statement that the company is a truly Afrikaans national institution in the broadest interpretation of the word. Another reference in this regard is the view that Sanlam had developed from service to the section of the population from which it originated and that the staff members are in the service of the Afrikanervolk. Regardless of all the rhetoric, business sense played the determining role eventually. The company indeed saw the light of day with three non-Afrikaners as staff members in its midst. Two Scotsmen occupied senior positions in the new company and a Jewish woman assisted the personnel in the correct use of business Afrikaans. During the establishment years, a number of English-speakers were appointed. However, the staff overwhelmingly remained Afrikaans-speaking. Despite or perhaps as a result of the disparate interpretation of the company slogan, non-Afrikaners were involved in the company from the beginning as well as a senior Afrikaans staff member who openly exhibited his support for a party other than the NP. Although a minority by far, they were accepted as normal staff members. From the preceding analysis it turns out that the Sanlam slogan retrospectively can be rephrased as "Mainly, but not completely born from the Afrikaner people to serve the South African nation".

Keywords: Life assurance company, staff, Afrikaners, Afrikaans, nationalism, economy, English speakers, upliftment, confusing views


 

 

1. INLEIDING

'n Maatskappy se organisasiekultuur beskik oor 'n kragtige kapasiteit om die omvattende of veel-dimensionele verlede van die konteks waarbinne dit tot stand gekom het, te weerspieël. Navorsing oor die geskiedenis van Sanlam se Hoofkantoorpersoneelkorps (Beukes 2017) het dit onderstreep. In Sanlam se geval het die vestiging, ontwikkeling en verandering van die organisasiekultuur 'n terugspieëling gebied van gebeure wat Suid-Afrikaners in 'n mindere of meerdere mate beïnvloed het - van die omvangryke gevolge van byvoorbeeld die beleid van rasseskeiding en die nuwe politieke bedeling ná 1994 tot kortstondige ervarings van onder meer enger kulturele gedrag, soos kleredrag en maatskappy-uitstappies. Die wel en wee van Suid-Afrika se verlede sedert 1918 is dus deur die organisasiekultuur vergestalt. Daar is vir lank vasgeklou aan die wanvoorstelling dat Sanlam eksklusief Afrikaans was en slegs die belange van Afrikaners en die bevordering van Afrikanernasionalisme op die hart gedra het (Freschi 2009; O'Meara 1983). Hierdie artikel ondersoek krities die "Suid-Afrikanisme" van Sanlam se aanvangsjare soos vergestalt in die stigtingspersoneelkorps.

Die navorsing oor wie Sanlam se personeel tydens die stigtingsjare was, is gegrond op die Amerikaanse navorser en skrywer Edgar H Schein se teorie dat kultuurvestiging onder meer deur gedeelde ondervinding tot stand kom, maar dat dit die stigters is wat dié proses van stapel stuur deur hul oortuigings, waardes en aannames uit die staanspoor te laat geld. Dié gedeelde ondervinding lei daartoe dat 'n kerngroep tot stand gebring word wat 'n gemeenskap-like doel en visie met die stigters deel. Almal in dié groep glo dat maatskappystigting 'n goeie gedagte is en dat dit die moeite werd was om die vereiste tyd, geld en energie daaraan te bestee (Schein 2004:225-227).

Verskeie ander navorsers soos Mats Alvesson meld in dié verband dat maatskappystigters grootliks personeel kan beïnvloed - in so 'n mate dat latere bestuurders vasgevang is deur sekere tradisies en 'n sekere soort werksmag en dit baie moeilik kan verander. Dié rasionele aanvaarding van oortuigings verander in emosionele identifikasie met waardes wat uiteindelik heilige koeie word (Alvesson 1994:20,82).

Schein se standpunt oor die maatskappystigters se rol in kultuurvorming is aangewend om vrae oor Sanlam in dié verband te beantwoord, byvoorbeeld op welke wyse die stigters se sienswyses die maatskappy se indiensnemingsbeleid beïnvloed het. Op grond hiervan is 'n ontleding gedoen van die Sanlam-slagspreuk "Uit die volk gebore om die volk te dien". Dit is nie bekend wanneer die slagspreuk geskep is nie, maar dit word vanaf 1929 in dokumentasie vermeld (SA, 5/2/1, Jaarverslae en -vergaderings, 11/12/1929).

Die slagspreuk word vir die doel van hierdie artikel terugskouend ontleed om te bepaal of net persone binne die kring van die Afrikanervolk by die maatskappystigting en -vestiging betrokke was. Die vraag wat hieruit voortspruit, is wat met die woord "volk" geïmpliseer is - slegs Afrikaanssprekende witmense of het dit ook Engelssprekende witmense of mense van kleur ingesluit? In hierdie studie word gefokus op hoe leiers in Afrikanergeledere asook Sanlam se bestuur hulle hieroor uitgespreek het. Die maatskappy se uitsprake in byvoorbeeld voorsittersverslae word ontleed. As agtergrond was publikasies soos onder meer Uit die volk gebore: Sanlam se eerste vyftig jaar (Scannell 1968:3-15) en Dr. Tinie Louw - 'n Kykie in die Ekonomiese Geskiedenis van die Afrikaner (Bezuidenhout 1969:49-62) van waarde om die konteks te verstaan.

 

2. DIE POLITIEKE EN SOSIO-EKONOMIESE KONTEKS TYDENS DIE STIGTINGSJARE

Van 1899 tot 1902 was Groot-Brittanje en die twee Boererepublieke in die Anglo-Boereoorlog betrokke. Die republieke is vernietigend verslaan. Burgers van die republieke is as krygsgevangenes aangehou, vroue en kinders het groot lyding in konsentrasiekampe ervaar en plase is verwoes. Dit het tot gevolg gehad dat die Afrikaners die 20ste eeu binnegegaan het met 'n gevoel van pessimisme en doelloosheid. Die materiële vernietiging tydens die oorlog het plattelandse Afrikaners in armoede gedompel. Hulle is beskryf as verslane, onderworpe, vernederde en verarmde mense. In die eerste drie dekades van die 20ste eeu het die Afrikaners op groot skaal hul plase verlaat as gevolg van dié uitgebreide landelike verarming. Hul verstedeliking is beskryf as 'n snelle, chaotiese en meestal traumatiese proses wat verdere verarming en maatskaplike nood teweeggebring het. Dit was 'n maatskaplike en ekonomiese krisis. Teen 1930 was 41 persent van Afrikaners reeds verstedelik teenoor twee tot drie persent in 1890 (Bezuidenhout 1969:37; Giliomee 2004:274-275; Giliomee & Adam 1981:108-110; Grobbelaar 1974:168-169; Joubert 1972:7-21; Pretorius 2012:189-190; Van Jaarsveld 1981:14).

Alle Afrikaners was egter nie verarm nie. Veral in en rondom Kaapstad was invloedryke Afrikaners suksesvol in die landbou en sakelewe. Dié welgestelde Afrikaners het hulle beywer vir die ekonomiese en opvoedkundige bevordering van hul mede-Afrikaners (Pretorius 2012:464). Dit, tesame met ander doelbewuste pogings vanuit eie geledere om deur etniese mobilisering en die bevordering van Afrikanernasionalisme hul posisie op kulturele, politieke en ekonomiese gebied te verbeter, het in die tweede dekade van die eeu daartoe meegewerk dat die wiel stadig maar seker vir Afrikaners begin draai het.

Wat kultuur betref, was die opkoms van die Afrikaanse taal vir Afrikaners 'n element waaromheen gemobiliseer kon word. Afrikaans-Hollands is byvoorbeeld in 1914 as taalmedium in sekere skole aanvaar en in 1919 is Afrikaans as amptelike taal van die Nederduitse Gereformeerde Kerk erken. Ten opsigte van die politiek het nasionaalgesinde Afrikaners vanaf 1914 'n politieke tuiste in die nuutgestigde NP gevind ná die skeuring met die regerende Suid-Afrikaanse Party (SAP) - hoofsaaklik vanweë laasgenoemde se rekonsiliasiepolitiek teenoor Groot-Brittanje en wit Engelssprekendes in Suid-Afrika. In dieselfde jaar het sommige Afrikaners met geweld gerebelleer teen die regering se besluit om aan Groot-Brittanje se kant aan die Eerste Wereldoorlog deel te neem. Die Rebellie is onderdruk en swaar boetes is aan die rebelle opgelê. Hulle sou nooit dié las kon dra nie en is deur ruïnering in die gesig gestaar. 'n Beroep is op Afrikaners gedoen om deur middel van die Helpmekaarfonds tot die rebelle se redding te kom. Veral nasionaalgesinde Afrikaners het die wekroep ter harte geneem en in die periode 1915-1917 is alle rebelleskuld gedelg. Hierdie poging het tot die besef gelei dat die Afrikaners, ten spyte van die armoede in hul geledere, oor 'n kapitaalkragtigheid beskik het wat deur samewerking doeltreffend gemobiliseer sou kon word (Bezuidenhout 1969:7-8; Pretorius 2012:288-289; Scannell 1968:11).

In 1915 het nasionaalgesinde Afrikaners 'n spreekbuis gekry met die verskyning van die dagblad De Burger in Kaapstad. Baie probleme is ondervind om die nodige kapitaal onder Afrikaners vir dié projek bymekaar te maak, want daar was 'n element van wantroue in die sakevernuf van mede-Afrikaners. Hierdie opvatting en die haglike maatskaplike toestand van soveel Afrikaners, het 'n besef van ekonomiese onmag onderstreep. 'n Besef het gou onder Afrikanerleiers posgevat dat hulle ook 'n aandeel moet kry in die ekonomie van Suid-Afrika, wat in daardie tyd oorweldigend deur Engelssprekende witmense oorheers is. In 1916 is tydens 'n armblankekongres van die NG Kerk aangevoer dat arm volksgenote die verantwoordelikheid van alle Afrikaners is en dat ekonomiese aksie en die opbou van Afrikaners in die algemeen noodsaaklik was (Cameron 1986:260; Koen 1986:22-26; Pretorius 2012:282).

Lewensversekering is aan die begin van die 19de eeu tydens die Britse besetting van die Kaap gevestig en was een van die oudste bedrywe in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dié bedryf was aan die begin van die 20ste eeu besonder voorspoedig. Die Suid-Afrikaanse maatskappye was so suksesvol dat hulle teen 1916 meer lewensversekering in geldwaarde as buitelandse maatskappye bedryf het. Teen 1918 het lewensversekering in Suid-Afrika ontwikkel tot 'n bedryf wat meer premie-inkomste verdien het as enige ander soort versekering. Dié groei was 'n aanduiding dat daar 'n behoefte was aan Suid-Afrikaanse maatskappye wat lewensversekering plaaslik bemark het (Borscheid & Haueter 2013:325-348; Halleen 2013:40,49-51,59,61; Verhoef in Pearson & Yoneyama 2015:145-168).

Die voorafvermelde faktore het daartoe gelei dat die versekeringsmaatskappy Santam op 28 Maart 1918 geregistreer is om lewens-, brand-, ongeluks-, siekte-, marine-, vee- en dergelike versekering te behartig. Die Direksie van Santam het besef dat dit problematies sou wees om die lewensafdeling van die besigheid op 'n onderlinge grondslag te bedryf as dit in een maatskappy met korttermynversekering gedoen word. Net een weg was dus oop en dit was die stigting van 'n afsonderlike maatskappy om lewensversekering te onderneem. Dit het daartoe gelei dat Santam op 8 Junie 1918 die lewensversekeringsmaatskappy Sanlam geskep het (SA, Santam Notuleboek No 1:12a; Halleen 2013:51-61; Scannell 1968:13-14).

 

3. DIE ROL VAN POLITIEK EN ETNISITEIT IN AANSTELLINGS

Die antwoord op die vraag oor wat die politieke en taalagtergrond van die personeellede was wat gehelp het om die maatskappy in die stigtingsjare vastrapplek te gee, is voor die hand liggend in die maatskappy se aanstelbeleid geleë. Dit is derhalwe nodig om as agtergrond die sosiale, politieke, kulturele en ideologiese sienswyses asook die standpunte en uitsprake van diegene wat vir die aanstellings verantwoordelik was, te ontleed omdat dit ten grondslag van die aanstelbeleid gelê het. Dié ontleding sal antwoorde bied op die vraag wie dit was wat verantwoordelik was om Sanlam te vestig? Was die grondleggers van Sanlam mense wat uit die "volk" gekom het? Was die amptenare 'n homogene groep Afrikaanssprekende witmense of was daar dalk ook Engelssprekendes en persone met uiteenlopende politieke sienswyses wat deel uitgemaak het van die aanvanklike personeelkorps?

3.1 Fokus op Afrikanervolk, maar verwarrende nuanses

Die eerste Dagbestuurslede het die eerste personeellede aangestel. Dit is daarom insiggewend hoe die Dagbestuurslede gedink en hoe hulle in die samelewing betrokke was. WA Hofmeyr, die eerste voorsitter, was sonder twyfel die persoon wat die grootste invloed tydens die vestiging van Sanlam se personeelkorps uitgeoefen het. Hy was vanaf die maatskappy se stigting tot sy dood 35 jaar later ononderbroke voorsitter van die Direksie en ook 31 jaar lank tot 30 Maart 1949 voorsitter van die Dagbestuur.

Voor sy betrokkenheid by Sanlam was Hofmeyr op kommando in die Anglo-Boereoorlog, die eerste sekretaris van die Afrikaanse Taalvereniging in Kaapstad en vanaf 1915 die eerste sekretaris van die pasgestigte NP van Kaapland. Hy was ook die eerste voorsitter van Nasionale Pers (vanaf 1915). Hy is in 1929 as 'n NP-lid van die Suid-Afrikaanse Senaat aangewys (SA, Die Sanlam-Fakkel, 01/10/1953:2; Le Roux 1953:25-28,92,167-168).

CR Louw, die tweede voorsitter, het ook aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem voordat hy hom op Ermelo as 'n prokureur gevestig het. Hy het in 1916 na Kaapstad verhuis. Hy was van 1918 tot 1966 onafgebroke 'n Direkteur van die maatskappy, die laaste dertien jaar as voorsitter. Hy het van Julie 1920 tot Maart 1922 as besturende direkteur waargeneem en was van Maart 1949 tot 1966 voorsitter van die Dagbestuur. Louw se doelwit met Sanlam was om vir sy volk 'n vastrapplek in die ekonomie te gee (SA, SDBN, 23/11/1966; SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, CR Louw, "Charles Robert Louw: privaat-versameling"). Louw was 'n ondersteuner van die NP en was onder meer van 1922 tot 1931 'n lid van die party se regskommissie (De Kock ea 1968-1987: Vol V, 496).

Fred Dormehl, die maatskappy se eerste besturende direkteur, was nou betrokke by die bevordering van die Afrikaner se belange deur onder meer sy lidmaatskap van die Afrikaanse Taalvereniging. Hy was ook hoofbestuurder en sekretaris van Nasionale Pers (De Kock ea 19681987: Vol III, 242). Sy doelwit met die stigting van Santam en Sanlam was die opbou van die Afrikaner en om die Afrikaner ekonomies te versterk (SA, Die Sanlam-Fakkel, 01/06/1962:5-7). Tinie Louw, eerste Suid-Afrikaans-gebore Afrikaanse aktuaris, se lewensverhaal word vergelyk met die verhaal van die suksesvolle ekonomiese opkoms van die Afrikaner (Bezuidenhout 1969: voorwoord). Hy het hom ten doel gestel om Afrikaanse ondernemings uit te brei en werksgeleenthede vir Afrikaners te skep. Buiten by Sanlam en Santam was hy ook betrokke by onder meer Saambou Bouvereniging, Volkskas en Federale Mynbou asook by die stigting van Federale Volksbeleggings en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, MS (Tinie) Louw Tobie Louw (2), "Huldigingsrede deur dr. P.E. Biesenbach ter ere van dr. M.S. Louw"; Rapport, 19/08/1973; Handhaaf, 01/1976, 08/1977).

Dit blyk dat die leierskorps van Sanlam inderdaad persone was met sterk etniese Afri-kanersentimente, wat op kulturele gebied in 'n aktiewe betrokkenheid by die bevordering van Afrikaans as taal en op politieke gebied in ondersteuning van die NP gemanifesteer het. Daarby was die meeste Dagbestuurslede lewenslank by die maatskappy betrokke. Dit kan vertolk word dat hul voorkeure of sentimente ten opsigte van die aanstelling van personeel vir lank in daardie konteks verstaan moet word.

Die Dagbestuur se sterk Afrikaner-etniese en -kulturele oriëntering het deurlopend sterk gefigureer in die taal en retoriek van die bedryf en bemarking van die maatskappy. Hierdie volksoriëntering was 'n deurlopende tema tydens die vestigingsjare ten spyte van soms oënskynlik botsende en verskillende inhoude wat oor tyd aan sleutelbegrippe soos Afrikaners of volk geheg is. Dié uiteenlopende menings was in ooreenstemming met politieke leiers se teenstellende uitsprake. Dit moet beskou word teen die agtergrond van die uiteenlopende politieke strominge in daardie tyd onder wit Suid-Afrikaners, te wete Afrikanernasionalisme, Afrikaans- en Engelssprekendes wat in eenheid wou saamwerk en Engelssprekendes wat die bande met die Britse monargie en groter imperiale koninkryk wou behou het, asook die Paktregering sedert 1924 tussen die hoofsaaklik Afrikaanse NP en die hoofsaaklik Engels-gesteunde Arbeidersparty. Eerste Minister JBM Hertzog het aangevoer dat hy onder Afrikaners ook Engelssprekendes insluit wat Suid-Afrika eerste stel. Sy politieke opvatting het berus op samewerking tussen Suid-Afrikaanse Afrikaans- en Engelssprekende witmense onder die leuse: "Suid-Afrika eerste" (Van den Heever 1943:312; Nienaber ea 1965:10).

Hertzog het in dié verband aan die een kant aangevoer dat die begrip Afrikaner diegene, Afrikaans- sowel as Engelssprekendes, ingesluit het wat deur die bodem, verlede en ook tradisies van die land gewortel was. Aan die ander kant het hy aangevoer dat die Afrikaanse en Engelse stroom langs mekaar moes vloei en dat hulle miskien eendag in die toekoms sou saamvloei (Naudé 1970:72). Die latere Eerste Minister DF Malan het in dié verband verklaar dat hy van mening was dat slegs Afrikaanssprekendes Afrikaners genoem kon word (Koorts 2014:61-62. Vergelyk ook Scholtz 1975).

Die Sanlam-leiers se siening in dié verband het gewissel van 'n verwysing na die "Afrikaanssprekende seksie" van die "Afrikanervolk" (SA, Die Sanlam-Fakkel, 07/05/1936:3) tot 'n verklaring dat die maatskappy 'n eg Afrikaanse volksinrigting in die wydste sin van die woord is. Ook is daarna verwys dat die maatskappy besig was om aan jong Afrikaners werk te verskaf en hulle in die assuransiewese op te lei. In dié verband is verder verklaar dat Sanlam 'n nuwe werksverskaffingsbron vir Afrikanerseuns en -meisies geskep het (SA, 5/2/2, Voorsittersredes/Sekondantsredes 1918-1989 (1-70), 21/12/1921). Voorts is aangevoer dat die maatskappy reeds 'n huishoudelike naam onder "ons volk" (SA, 5/2/2, Voorsittersredes/ Sekondantsredes 1918-1989 (1-70), 10/12/1924) was en dat staatgemaak kon word op die "pragtige meewerking van die Afrikaanse volk" (SA, 5/2/2, Voorsittersredes/Sekondantsredes 1918-1989 (1-70), 09/12/1925). Daar is ook daarop aanspraak gemaak dat die Afrikanervolk Sanlam toegeëien het as 'n nasionale inrigting en dat die maatskappy gestig is met die doel om aan sy volk sy eie maatskappy te gee (SA, Die Sanlam-Fakkel, 07/04/1936:11, 07/05/1936:1). Nog uitsprake lui dat Sanlam gegroei het uit diens aan die bevolkingsdeel waaruit hy ontstaan het en dat Sanlam-amptenare in diens van die Afrikanervolk was (Scannell 1968: voorwoord; Marais 1946:ii:A:1; SA, Die Sanlam-Fakkel, 01/01/1954:1).

3.2 "Oom Piet" vir sommige van meer belang

Die voorafgaande uitsprake kan op die oog af as teenstellend beskou word, soos ook die geval kan wees met uiteenlopende strekkings in boodskappe van die maatskappy aan die twee wit bevolkingsgroepe. 'n Voorbeeld hiervan is die voorsittersverslag van 28 Desember 1923 waarin 'n deel van die Afrikaanse bewoording soos volg lui: "Hulle is oortuig dat daar 'n vaste fondament van 'n Suid-Afrikaanse saak gelê is waaruit 'n onderneming sal oprys waarop alle Afrikaners met reg trots sal kan wees". Dit is in Engels vertaal met: "They are convinced that during the five years a solid foundation has been laid of a South African undertaking which will continue to grow into an edifice of which South Africa will be justly proud" (SA, 5/2/2, Voorsittersredes/Sekondantsredes 1918-1989 (1-70), Direksieverslag, 28/12/1923). Die "Afrikaners" in die Afrikaanse kopie is vertaal met "South Africa" in die Engels. In die Afrikaans word dus net die "Afrikaners" aangespreek, maar in die Engels is die gehoor veel wyer omdat na "South Africa" verwys word.

Op 12 Desember 1928 het die voorsitter soos volg verklaar: "In 1918 is hy in die lewe geroep om vir die Afrikaner sy aandeel in die versekeringsbedryf te verower en die Afrikaner-seun in daardie werk op te lei en sodoende vir hom 'n lewensbestaan in die besigheidswêreld te verseker. In hierdie strewe het die Afrikanervolk die Maatskappy mildelik ondersteun." 'n Deel van die Engelse vertaling lui: "It was established in 1918 to seek fresh avenues of employment for the South African youth and to train the youth of this country in Life Assurance. So great was the support [...] by the people of the Union" (SA, 5/2/2, Voorsittersredes/-Sekondantsredes 1918-1989 (1-70), Direksieverslag, 12/12/1928). Terwyl daar in die Afrikaans drie keer na "Afrikaner" verwys word, word die woord nie in Engels gebruik nie. "Afrikaner-seun" is in die Engels na "South African youth" vertaal en "Afrikaner-volk" na "people of the Union". Nog 'n voorbeeld van 'n Afrikaanse boodskap waarvan die Engelse weergawe nie ooreenstem nie, kom voor in die voorsittersverslag van 18 Desember 1942. In die Afrikaans word breedvoerig na die dood van "Oom Piet" verwys terwyl dit in die Engels net kortliks vermeld is (SA, 5/2/1, Jaarverslae en -vergaderings, "24ste Jaarvergadering van Sanlam" & "24th Annual Meeting of Sanlam"). "Oom Piet" is 'n verwysing na PGW (Piet) Grobler, een van die stigterslede van Sanlam en 'n NP-minister in die Pakt-regering, wat in 1942 oorlede is - (SA, Die Sanlam-Fakkel, 07/08/1936:3-7, 01/09/1942:3-4).

Die voorafgaande oënskynlik teenstellende sienings en standpunte in Sanlam moet beoordeel word teen die historiese konteks van Hertzog en ander politieke leiers se siening oor Afrikaner- en Suid-Afrikanerskap. In die ontleding van Sanlam se standpunte hieroor kan die gevolgtrekking gemaak word dat die maatskappy besef het dat die Afrikaners as verreweg die maatskappy se oorheersende kliëntebasis net ekonomies baat kon vind as hulle deel van die totale Suid-Afrikaanse ekonomie kon uitmaak. Dié ekonomie moes sterk wees om ook die Afrikaners op 'n positiewe wyse te kon akkommodeer asook om te verseker dat Sanlam winsgewend sou wees. Met dit in gedagte is die pertinente subjektiewe verwysings na Afrikaners en ander etniese terme in die Afrikaanse teks juis gebruik om aanklank te vind by Afrikaners se etniese sentimente. Dit is omdat Sanlam in die vestigingsperiode die gemarginaliseerde Afrikaners as vernaamste markfokus gekies het. Dié sentimente sou by Engelssprekendes min trefkrag hê en hulle eerder vervreem het. Appèl op die Engelssprekende deel van die bevolking sou groter trefkrag hê as daar na hulle in die groter Suid-Afrikaanse samelewing en as deel van die jeug verwys word. Die verskille moet beskou word teen die agtergrond dat Sanlam nooit eksklusief net Afrikaanssprekendes as markfokus geteiken het nie. Die maatskappy het probeer voordeel trek uit sy Suid-Afrikaanse eienskap teenoor die meerderheid nie-Suid-Afrikaanse/ buitelandse maatskappye wat in Suid-Afrika besigheid gedoen het. (Verhoef 2014:731-752).

Teen hierdie agtergrond maak byvoorbeeld die verwysing na "Oom Piet" in Afrikaans sin, omdat Sanlam se Afrikanerkliënte of potensiële kliënte van hom bewus sou wees as 'n prominente NP-politikus terwyl die teenoorgestelde waar sou wees vir Engelssprekendes. Die feit dat die voorsitter so oor hom uitgewei het in die Afrikaanse weergawe, is juis 'n aanduiding van waar die maatskappy se sentiment gelê het. Die skerp etniese verwysings is in die Engelse weergawes van sy kommunikasie onderspeel om nie potensiële Engelssprekende polishouers of kopers te vervreem nie terwyl die oorweldigende sentiment van die maatskappy by Afrikaners en hul belange gelê het.

Dit moet ook in gedagte gehou word dat vertalers ten opsigte van die voorafgaande met legitieme vertalingsdilemmas te doen gehad het. So byvoorbeeld is in die voorsittersverslag van 10 Desember 1924 "gevoelens en behoeftes van die volk" (SA, 5/2/2, Voorsittersredes/ Sekondantsredes 1918-1989 (1-70), 10/12/1924) met "public sentiments and requirements" (SA, 5/2/1, Jaarverslae en -vergaderings: Chairman's address, 10/12/1924) vertaal. Die woord "volk" is deur "public" vervang. Voorts lui die Afrikaanse bewoording onder meer "dat Sanlam vandag reeds 'n huisnaam is onder ons volk" (SA, 5/2/2, Voorsittersredes/Sekondantsredes 1918-1989 (1-70), 10/12/1924). Die Engelse vertaling lui "that Sanlam is to-day a household word in the community" (SA, 5/2/1, Jaarverslae en -vergaderings: Chairman's address, 10/12/1924). In dié geval is "ons volk" met "the community" vervang. Vergelyk ook in dié verband hoe die bewoording "uit die volk gebore is om die volk te dien", vertaal is in "founded by the people for the people" (SA, 5/2/1, Jaarverslae en -vergaderings, Chairman's address, 11/12/1929). Wat hier in gedagte gehou moet word, is dat "volk" in die sin en betekenis wat dit in dié tydperk in Suid-Afrika gebruik is, nie in Engels vertaalbaar was nie.

 

4. SANLAM SIEN DIE LIG MET TWEE SKOTTE EN 'N JODIN

Die nuwe maatskappy het sy besigheid begin met twee afdelings, die Gewone en die Industriële Afdeling, wat op grond van ras geskei was. Die wit amptenare was lede van die Gewone Afdeling en die bruin amptenare lede van die Industriële Afdeling (SA, SDBN, 09/12/1918, 30/12/1920, 07/01/1921, 16/08/192). Die Industriële Afdeling word in 'n aparte hoofstuk in Beukes se proefskrif bespreek. Dié afdeling het net bruin personeellede gehad en hulle het afsonderlik van die wit afdeling gewerk. Hul kliënte was ook slegs nie-wit. Die afdeling het net tot aan die einde van 1920 in Sanlam bestaan.

Wat die Gewone Afdeling betref, was drie nie-Afrikaansgeborenes van die begin af by die personeel betrokke. Hulle was twee Skotte, Alfred MacDowall en George Paterson, en 'n Jodin, Sarah Goldblatt. Die drie was voor Sanlam se stigting in Santam se diens. Hoewel in die notules aangedui word dat hulle deur Sanlam aangestel is, het hulle vanweë die ineengevlegtheid van die twee maatskappye voortgegaan om vir albei maatskappye te werk. Hulle was dus net deels by Sanlam betrokke. Die hoofrede vir dié drie se betrokkenheid by die maatskappy was die gebrek aan sake-ervaring in Afrikanergeledere.

4.1 MacDowall en dagbestuur sit nie om dieselfde vuur

Alfred MacDowall is op 22 Mei 1873 op Stranraer, Wigtownshire, Skotland gebore. MacDowall, die seun van 'n bankier, het sy loopbaan by die Nasionale Bank van Skotland begin. Daarna het hy by die Standard Bank aangesluit en is na Suid-Afrika gestuur as reisende inspekteur. Hy het hom in 1903 by die maatskappy Norton & Kie in Boksburg aangesluit en tot 1912 in daardie hoedanigheid gedien. In dié tyd was hy stadsraadslid van Boksburg en in 1911 het hy as burgemeester waargeneem. Hy het toe die betrekking aanvaar as rekenmeester by die General Accident Fire & Life Assurance Corporation in Kaapstad. Hy het in November 1917 bedank (SA, 6/1/1/2, Biografieë: WJ Bezuidenhout, Deel 22, M - S).

MacDowall was een van die grondleggers van Santam. Hy het naamlik aangevoer dat daar gekapitaliseer moes word op die golf van Afrikanernasionalisme en het sy gedagte van die stigting van 'n brand- en ongevalleversekeringsmaatskappy onder die aandag van Afrikanerleiers gebring. MacDowall is op 5 Desember 1917 op die eerste genotuleerde vergadering van Santam se voorlopige direkteure op grond van 'n vyfjaarkontrak as algemene bestuurder en sekretaris aangestel met 'n salaris van £1,000 per jaar. Hy is ook op dieselfde vergadering in 'n aanvangskomitee aangestel om aandag te gee aan die uitreiking van 'n prospektus en die stigting van die maatskappy. MacDowall het daarna tussen 6 Desember 1917 en 20 Junie 1918, die dag van Sanlam se eerste Direksievergadering, altesame twaalf komitee- en Direksievergaderings van Santam bygewoon. Hy is op 2 April 1918 as Santam se algemene bestuurder en sekretaris aangestel. MacDowall het volgens die lys van aanwesiges Sanlam se eerste Direksievergadering as sekretaris bygewoon. Hy is op laasgenoemde vergadering ook as algemene bestuurder en sekretaris aangestel (SA, SDN, 5:1; Santam Notuleboek No 1: 1a-6; SA, 5/1, Stigting, 5/1/1 Aktes van oprigting, 5/1/2, Stigtingsgedagte).

MacDowall se verhouding met die Dagbestuur is van die begin af deur onenigheid gekenmerk. Die Skot was ontsteld oor die Dagbestuurslede se inmengery by sy werk. Hy het in die eerste twee jaar van Sanlam se bestaan sover vasgestel kan word, drie keer hewig oor bestuurskwessies met hulle gebots. MacDowall het sy ontevredenheid hiermee op Dagbestuursvergaderings uitgespreek en die atmosfeer op sulke vergaderings was nie altyd "liefdevol en goedgesind" (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Scott-Hayward, R.I.C.) nie.

 

 

MacDowall se eerste erge meningsverskil met die Dagbestuur was skaars vier maande ná maatskappystigting. Die meningsverskil het gegaan oor 'n personeelverslag wat Dormehl en CR Louw op 3 Oktober 1918 opgestel het. Dit het tot baie skerp reaksie van MacDowall gelei in 'n brief wat hy die volgende dag aan die voorsitter van die Dagbestuur gerig het. MacDowall vaar in die brief uit daaroor dat hy sonder sy medewete ingesluit is in 'n kommissie oor personeelsake. Hy voer aan dat hy met sy terugkeer uit Johannesburg eers gehoor het dat hy aangestel is in 'n kommissie wat personeelsake in die algemeen moes ondersoek. Hy skryf voorts dat hy aan bande gelê word deur die feit dat hy nie weet wat die presiese redes vir die aanwysing van die kommissie is nie. MacDowall se tweede grief was na aanleiding van 'n bewering in die brief dat die personeel ietwat topswaar is. Hy stem nie daarmee saam nie en voer aan dat erkenning nie gegee is vir die feit dat buitengewone eise aan die personeel gestel word as gevolg van die volume werk wat die Dagbestuur aan hulle voorlê nie (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Mac-Mas, briewe van MacDowall/Dagbestuur). Dié wrywing tussen MacDowall en die Dagbestuur kan beskou word as waarskynlik die eerste bestuurskrisis in die maatskappy. Dit is nie bekend wat die Dagbestuur se reaksie op MacDowall se brief was nie.

Die tweede erge meningsverskil was op die Dagbestuursvergadering van 19 September 1919 toe MacDowall protes aangeteken het teen die besluit oor 'n huurkontrak. MacDowall was van mening dat die maatskappy hieroor nie wyslik handel nie (SA, Santam Notuleboek No 1:255). In Mei 1920 het MacDowall se derde fel meningsverskil oor verskeie sake met die Dagbestuur daartoe gelei dat hy uit die maatskappy bedank het. Hy het die redes vir dié besluit op 25 Mei 1920 in 'n brief aan Hofmeyr verstrek. Hy maak sterk beswaar teen die onregverdige kritiek en dat hy verantwoordelik gehou word vir gebeurtenisse wat die gevolg is van 'n Dagbestuursbeleid waarmee hy nie saamstem nie. Hy sê vyandige kritiek is op hom gelewer vir die gebrek aan geskikte personeellede. Hy reken dat dit lyk of sekere Dagbestuurslede die geleentheid verwelkom het om die kritiek teen hom te gebruik. MacDowall voer voorts aan dat die gebrek aan geskikte takbestuurders nie 'n probleem sou gewees het indien die bestuur sy voorstel aanvaar het nie. Oor die klagte dat hy nie genoeg tyd buite die maatskappy bestee nie, voer hy aan dat die personeel nie opgewasse is om bestuur in sy afwesigheid te behartig nie. Sy laaste klagte is dat die maatskappy deur te veel bestuur van die Dagbestuur verlam word (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Mac-Mas, briewe van MacDowall/Dagbestuur).

Briefwisseling daarna tussen MacDowall en Hofmeyr is 'n aanduiding daarvan dat eersgenoemde se laaste dae by die maatskappy deur beskuldigings en verwyte gekenmerk is. Hofmeyr voer aan dat MacDowall se weergawe van gebeure glad nie reg is nie. MacDowall antwoord dat dit 'n welkome verrassing sou gewees het as sy siening ondersteun is deur die lede van die Dagbestuur wat juis die rede vir sy bedanking was. Die vyandige gevoel word bevestig met Hofmeyr se brief op 3 Junie 1920 aan MacDowall waarin gemeld word dat besluit is om laasgenoemde se dienste dadelik te beëindig, in plaas van eers aan die einde van die maand soos deur MacDowall versoek, en dat hy alle boeke, dokumente en sleutels aan die maatskappy moet oorhandig (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Mac-Mas, briewe van MacDowall/Dagbestuur). Die skielike vertrek van MacDowall as die mees senior personeellid, het sekerlik 'n verwarrende invloed op die personeel gehad. Dit word bevestig deur 'n Direksiebesluit op 24 Junie 1920 om die personeel te bedank vir hul ondersteuning en lojaliteit aan die maatskappy in die omstandighede veroorsaak deur die bedanking van die algemene bestuurder (SA, Santam Notuleboek No 1:60). Die waarskynlike rede vir MacDowall se vete met die Dagbestuur is geleë in die feit dat hy sy verworwe, en wat hy beskou het as meer-derwaardige, sakekennis in die maatskappy wou toepas. Hy het teenstand van die Dagbestuurslede gekry, wat persone was wat hy beskou het met minder uitgebreide sakevermoë en ervaring. Hulle was straks bekommerd oor dié nie-Afrikaner se bestuursbedrywighede in die maatskappy en vandaar die inmenging.

Tussen al dié getwis met die Dagbestuur moes MacDowall hom nog aanpas by die Afrikaans met 'n tikkie Nederlands daarby, wat die kantoortaal was. 'n Oud-kollega, DP de Klerk, het hom beskryf as redelik tweetalig. Hy kon die Afrikaans van die tyd praat, maar kon dit nie skryf nie. Persoonlike bemarkingsbriewe in Afrikaans is in die naam van MacDowall uitgestuur. 'n Voorbeeld is die brief wat hy op 23 Oktober 1919 aan ds PWA de Klerk van Albertinia gestuur het (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Mac-Mas, brief MacDowall/ds. PWA de Klerk; SA, 6/1/1/2, Biografieë: WJ Bezuidenhout, Deel 22: M - S).

Ná sy uitdienstreding het MacDowall sy eie maatskappy, Union & National & General Assurance Company, gestig waarvan hy die bestuurder was. Sy gesondheid het egter vinnig agteruitgegaan en hy moes sy plasie, Eikenhof, in Banhoek, Stellenbosch verkoop en na die Verenigde Koninkryk gaan vir mediese behandeling. MacDowall is op 12 Oktober 1923 op 50-jarige ouderdom in die St Mary's Nursing Home in Chiswick, Middlesex, Engeland aan noodlottige bloedarmoede oorlede en in die Scheuchan-begraafplaas in Stranraer by sy moeder en twee broers begrawe (SA, 6/1/1/2, Biografieë: WJ Bezuidenhout, Deel 22: M - S).

Alfred MacDowall het onmisbare tegniese versekeringskennis in Santam en Sanlam ingedra. Sy ervaring en kundigheid was van onskatbare waarde vir die twee maatskappye, deurdat die onervare bestuurspan daarop kon reken dat tegniese vereistes in versekering nagekom is. Binne die konteks van die groter Suid-Afrikanisme wat vaardig was in die omgewing van Santam en Sanlam, het MacDowall deel uitgemaak van die vestiging van 'n eg Suid-Afrikaanse onderneming. Daardie onderneming het onteenseglik die versekerings-bedryf betree met die bedoeling om die mark vir Suid-Afrikaners terug te wen, in teenstelling met die groot aantal buitelandse versekeringsmaatskappye wat in die land sake gedoen het.

4.2 Paterson se onvermoë, gesondheid en "elfuurtjie" eis sy loopbaan

George Paterson is op 16 Februarie 1883 in Edinburg, Skotland gebore. Hy het aan die Watson's Academy studeer en het in 1913 in Suid-Afrika aangekom om as aktuaris in diens van African Homes Trust (AHT) te tree. Nadat Santam in 1918 'n beherende aandeel in AHT gekoop het, het Paterson op 2 April as aktuaris in die diens van Santam getree. Hy is op 20 Junie 1918 in dieselfde hoedanigheid by Sanlam aangestel. Teen Augustus 1918 was Paterson aktuaris en bestuurder van Sanlam en rekenmeester van albei maatskappye (SA, Actuaries of South Africa, Vol 1; SA, SDN, 5:1; De Smidt 1965:84; Bezuidenhout 1969:9).

Verskeie faktore het daartoe bygedra dat Paterson gesukkel het om die mas by Sanlam op te kom. Die eerste aanduiding van sy onvermoë om sy werk te verrig kom voor in 'n ongedateerde memorandum van MacDowall waarin hy verklaar dat Paterson as 'n bestuurder misluk het. Hy beskik nie oor die noodsaaklike vermoë om die besigheid te bestuur nie. Hy is nie metodies en noukeurig nie en beskik oor geen administratiewe vermoë nie. MacDowall voer verder aan dat hy heelwat aandag aan die kwessie gegee het in die hoop dat sy betrokkenheid 'n positiewe gevolg sou hê. Dié poging was egter onsuksesvol en MacDowall beveel aan dat Paterson nie in sy bestuurspos kan aanbly nie (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, CR Louw, WCA-2213:7). Later is ten opsigte van Paterson verklaar dat dit toenemend onmoontlik vir hom was om sy pligte te verrig. Paterson se onvermoë het tot 'n groot krisis in die maatskappy gelei omdat sy aktuariële verslae nooit voltooi is nie. In die eerste voorsittersrede van 23 Desember 1919 is verklaar dat die direkteure nie die aktuariële verslag ontvang het nie weens Paterson se ongesteldheid (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, CR Louw, WCA-144, Staff: Mr. G.W. Paterson: Actuary; SA, 5/2/2, Voorsittersredes 1918-1989, 1-70).

Sy gesondheidsprobleme het Paterson verder gekniehalter. Die Direksie het aangevoer dat dié toestand so ernstig was dat hy nie sy werk kon doen nie (SA, SDN, 5:19). Nog 'n remskoen was sy vermeende drankgebruik. Tinie Louw het in 1948 verwys na Paterson as 'n senuweeagtige Skot wat 'n ervare verbruiker was van sy land se graanprodukte in gestookte vorm. Die ou Kaapse gebruik van "'n elfuurtjie" het by hom en 'n kollega van 'n herversekeringshuis herleef. Die herversekeringstransaksies het meestal oor die toonbank van die naburige kroeg plaasgevind, met die gevolg dat die "sake" dikwels op soek was en die aantekeninge van die herversekerings onvolledig (SA, Die Sanlam-Fakkel, 1 Julie 1948:2,3).

Die Dagbestuur het die probleme aangaande Paterson ter harte geneem, want op 29 November 1918 is met leedwese verklaar dat hy nie 'n suksesvolle bestuurder was nie. Die Dagbestuur het gevolglik besluit om Paterson se werkooreenkoms op 30 April 1919 te laat verval en om op 'n konsultasiegrondslag van sy dienste gebruik te maak. 'n Maand later op 30 Mei 1919 is "besluit om hem te laat aan blij van maand tot maand" (SA, Santam Notuleboek No 1:218). Paterson was tussen Mei en Desember 1919 in 'n raadgewende hoedanigheid by Sanlam betrokke. Sy kontrak is op 31 Desember 1919 beëindig en hy het na Skotland teruggekeer (De Smidt 1965:84; SA, SDN, 5:134).

In 'n stadium dat Santam en Sanlam nie oor eie aktuariële kundigheid beskik het nie, kon die stigterslede hulle verlaat op die kundigheid van Paterson. Dat hy nie aan die verwagtinge van die betrekking voldoen het nie, het weldra duidelik geword. Die feit bly staan: Santam en Sanlam het voldoende sosiale kapitaal gehad om die kundigheid uit die breër Suid-Afrikaanse samelewing te trek om die vestiging te bewerkstellig. Hierdie netwerk het naas Afrikaans-sprekendes, ook nie-Afrikaners ingesluit. Die spanning tussen Paterson en die Santam/Sanlam-bestuur het meer te doen gehad met professionele kapasiteit as met onversoenbaarheid tussen taalgroepe.

4.3 Goldblatt: Kliëntewerwer en taalraadgewer

Sarah Goldblatt is op 25 Desember 1889 in Londen gebore. Haar ouers was Jode van Oos-Europese afkoms. Sy was die eerste personeellid wat nog voor Sanlam se stigting deur Santam in die "Lewens Afdeling" - Sanlam se voorloper - aangestel is. Dié aanstelling was op 29 Mei 1918, net meer as 'n week voor die stigting van Sanlam op 8 Junie. Die eerste en laaste verwysing na "Mej. Goldblatt" in Sanlam se Dagbestuursnotules is op 6 September 1918. Hieruit blyk dit dat sy besigheid vir die nuwe maatskappy moes werf en met 'n vaste salaris en kommissie vergoed is (De Kock ea 1968-1987: Vol V, 312; SA, Santam Notuleboek No 1: 110; SA, SDBN, 6/9/1918).

Tinie Louw het vertel dat hy en Goldblatt saamgewerk het, dikwels langs dieselfde tafel. Sy was nie 'n agent in die ware sin van die woord nie. Sy het uit die kantoor kliënte vir Sanlam gewerf en dan die name van moontlike aansoekers na die verkoopslui buite gestuur. Volgens Louw het sy toe reeds onder die Afrikaanse skrywer CJ Langenhoven se invloed 'n lewendige belangstelling in Afrikaans gehad. In Sanlam was die geskrewe taal, volgens Louw, maar beroerd, en Goldblatt kon met die versorging van briewe 'n waardevolle bydrae lewer (SA, Die Fakkel, 13/06/1975:1). Sy kan inderwaarheid as 'n voorloper van die maatskappy se latere afdeling Taaldienste beskou word. Dit is nie bekend wanneer sy Sanlam verlaat het nie, maar in 1919 het sy as onderwyser in Tokai begin werk. Sy was later die administratrise van die letterkundige nalatenskap van Langenhoven (Kannemeyer 1995:21-47). Goldblatt is op 22 Mei 1975 in Bellville oorlede (De Kock ea 1968-1987:Vol V, 312).

 

5. ENGELSE PERSONEELLEDE AS SUID-AFRIKANERS VERWELKOM

Die manifestasie van die breër Suid-Afrikanisme soos verwoord in die Hertzog-oproep om Suid-Afrika eerste te plaas, het inderdaad neerslag in die personeelomgewing in Sanlam gevind. Dit was Sanlam se uitgesproke voorneme om Afrikaners 'n vastrapplek in die Suid-Afrikaanse ekonomie te gee en werksgeleenthede vir Afrikanerseuns en -meisies te skep. Dit is inderdaad gedoen tydens die vestigingsjare van die personeelkorps. Hoedanig daardie beleid toegepas sou word, was sekerlik om eerste die uitgesproke bemagtigingsdoelwit te verwesenlik. Die ontleding van dokumentasie dui daarop dat die maatskappy nie net sy besigheid begin het met nie-Afrikaners in sy geledere nie, maar dat Engelstaliges ook in die vestigingsjare as administratiewe personeellede aangestel is. Van die personeellede is toegelaat om in die kantooromgewing Engels te gebruik om hulle duidelik en verstaanbaar uit te druk as hulle dit so verkies het.

'n Voorbeeld is Harry van Dam, 'n Nederlander van geboorte en die eerste redakteur van die personeelblad, wat aangedui het dat hy in sommige gevalle Engels bo Afrikaans verkies as taalmedium om sy vakkundige werk te doen. Hy het naamlik in 'n brief in 1926 soos volg hieroor aan die algemene bestuurder geskryf: "First of all I must crave your indulgence for writing this letter in English. This subject is one of vital importance [...] and I freely confess that if I wrote this letter in Afrikaans, it would hamper me in giving free expression to my thoughts". Hy was ook die enigste senior amptenaar uit agt wie se boodskap op 'n maatskappykonferensie net in Engels in die personeelblad gepubliseer is. Van Dam se voorkeur vir Engels het hom nie in die maatskappy benadeel wat posbekleding betref nie. Voordat hy as redakteur betrokke geraak het, was hy in die senior pos van bestuurder in Johannesburg en Durban. Ten tyde van sy redakteurskap het hy die pos van assistentagentskapsbestuurder in Kaapstad beklee (SA, SDN, 29/07/1918, SDBN, 27/02/1920, 23/12/1925; SA, Die Sanlam-Fakkel, 01/12/1933:7-10, 15/07/1933:21; SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings: Stieger - Van der W, brief "Realteration of contract" Van Dam - algemene bestuurder, 26/12/1926).

 

 

 

Ondanks dié akkommoderende houding jeens Engels as taalmedium, moes Engelssprekende personeel hulle by die Afrikaanse maatskappy aanpas. 'n Voorbeeld is die Engelssprekende Cedric Baker, wat as eerste klerk op Hoofkantoor aangestel is (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Ba - Bo, "Staflid C. Baker", 13/06/1935). Hy het in sy aansoekdokument aangedui dat hy nie baie vaardig in Afrikaans was nie hoewel hy Afrikaans as skoolvak geneem het. Hy het ook in die dokument verklaar dat hy private klasse in Afrikaans bywoon (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Ba - Bo, "Staflid C. Baker", "Applikasie vir Aanstelling op die Personeel, 01/06/1931). Laasgenoemde was blykbaar 'n sukses, want sy bestuurder het vier jaar later verklaar dat hy besonder goeie vordering met sy kennis van Afrikaans gemaak het en sy besprekings met sy personeel in die maatskappy se "huistaal" doen (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Ba - Bo, "Staflid C. Baker", Memorandum Feenstra, "Baker, Cedric", 29/08/1934). Baker se Engelstalige agtergrond het nie verhinder dat hy senior poste in die maatskappy beklee het nie. Hy is naamlik op 1 Oktober 1949 tot assistentsekretaris bevorder en het op 1 Mei 1965 as sekretaris (eise) afgetree (SA, Die Sanlam-Fakkel, 01/10/1949:3, 01/03/1965:4-5).

Die Engelssprekende personeellede by takkantore het soms by kwessies oor tweetaligheid ter sprake gekom. So byvoorbeeld het Jan Feenstra, hoofklerk, in 'n brief in Maart 1920 aan die algemene bestuurder aangevoer dat dit nodig was om 'n tweetalige administrasieklerk in die Johannesburgse Takkantoor aan te stel. Die klerk wat in daardie stadium daar was, het nie 'n woord in Afrikaans geken nie. As 'n Afrikaanssprekende kliënt by die kantoor opgedaag het, moes 'n derde persoon geroep word om te tolk. Feenstra het in September 1922 verwys na 'n amptenaar met die van Burton wat aangestel is. Volgens Feenstra was Burton nie tweetalig nie, maar hy was van mening dat die toestand sou verander (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings: Du Pr - F, brief Feenstra - algemene bestuurder, 14/01/1924).

Uit die voorafgaande blyk dit dus dat Sanlam in die beginjare ook Engelssprekende personeel aangestel het. Die aansoekers was bewus daarvan dat hul onvermoë ten opsigte van Afrikaans dalk teen hulle kon tel by aanstelling - daarom het Baker byvoorbeeld aangedui dat hy private onderrig in Afrikaans ontvang. Dit dui daarop dat Afrikaans die onbetwiste omgangstaal van Sanlam-amptenare was. Amptenare wat wou oorleef, moes dus noodge-dwonge Afrikaans bemeester om in die kantoorsituasie doeltreffend te kon funksioneer. Daar was 'n bereidwilligheid by Engelssprekende amptenare om dit te doen, enersyds omdat die materiële aanmoediging, naamlik om hul werk te behou, daartoe bygedra het, maar ook omdat hulle eensgesind was met die idee dat almal wat Suid-Afrika eerste plaas, "Afrikaners" in die breedste betekenis van die woord was.

Engelssprekendes is nie aanstellings geweier omdat hulle nie Afrikaans goed magtig was nie, soos deur Baker en Burton bewys is. Bekwaamheid het dus swaarder geweeg as etniese oorwegings en Sanlam het Engelssprekende amptenare tegemoetgekom ten spyte van hul onvermoë om Afrikaans vlot te kon praat. Dit wil dus voorkom asof daar in die vestigingsjare nie 'n rigiede of eksklusiewe toepassing van etniese voorkeure ten opsigte van taal was nie, maar dat die praktyk van die kantooromgewing tog Engelssprekende amptenare subtiel aangemoedig het om mettertyd Afrikaans vaardig te raak. Die alternatief was om die maatskappy se diens te verlaat as die etnies/kulturele omgewing hulle ongemaklik sou gelaat het of hulle nie daarby kon of wou aanpas nie.

'n Onderwerp wat by die voorafgaande aansluit, is dat Sanlam nie net personeelwer-wingsadvertensies in Afrikaanse koerante geplaas het nie, maar ook in Engelstalige koerante. Soms is personeellede aangestel wat op advertensies in Engelstalige koerante gereageer het - twee van hulle het selfs tot die senior pos van hoofklerk gevorder. Die een was Fanie Cloete wat na aanleiding van 'n advertensie in die Cape Times in Desember 1920 by die maatskappy in diens getree het. Die tweede was Pieter Lamprecht wat in April 1923 by Sanlam aansoek gedoen het om 'n betrekking nadat hy 'n advertensie daaroor in die Rand Daily Mail gesien het (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, Br - Del, brief Cloete - Sanlam, 06/11/1920; L - Eric Louw, brief Lamprecht - Sanlam, 13/04/1923). Hierdie advertensiepraktyk dui daarop dat Sanlam inderdaad uit die staanspoor met 'n breër Suid-Afrikanisme gewerk het om kundige personeel te bekom.

Die afleiding uit die voorafgaande is dat Sanlam ongeag van die taalmedium in dié koerante geadverteer het waarin geglo is dat hulle die wydste blootstelling sou kry of omdat 'n spesifieke teikenmark in gedagte was. 'n Moontlike verklaring is dat die meeste versekeringsmaatskappye wat in Suid-Afrika sake gedoen het, Engelse oorsese maatskappye was. Indien personeel met ondervinding in 'n spesifieke afdeling van die versekeringswese nodig was, moes geadverteer word in koerante wat deur potensiële kandidate gelees is. Sanlam het waarskynlik geargu-menteer dat bekwaamheid swaarder as etniese oriëntering geweeg het en het daarom ook in Engelse koerante geadverteer. Die argument kan ook wees dat Afrikaners wat by bestaande Engelse versekeringsmaatskappye gewerk het tweetalig was (anders sou hulle nie by 'n Engelse maatskappy kon funksioneer nie) en dat amptenare wat dus via die roete van Engelse koerante van vakante poste bewus word die voordeel van tweetaligheid met hul sou kon saambring. Laastens was daar in die periode ook sekerlik koerante wat bekend was daarvoor dat hulle 'n sterk afdeling oor vakante poste gepubliseer het vanweë byvoorbeeld hul wye sirkulasie.

 

6. DIVERSITEIT VAN POLITIEKE SENTIMENTE

Sanlam se Direkteure was in die vestigingsjare by die politiek van die dag betrokke en het redelik algemeen die NP openlik ondersteun. So byvoorbeeld is twee van hulle opgeneem in die Pakt-kabinet nadat die NP in 1924 op 'n vennootskapsbasis die politieke beheer in die land oorgeneem het. Hulle was CW Malan as Minister van Spoorweë en Hawens en PGW Grobler as Minister van Lande (SA, 5/2/2, Voorsittersredes/Sekondantsredes 1918-1989 (1-70), 10/12/1924; Cameron 1986:248-270). Dit was normaal aangesien Direksielede as nie-betaalde amptenare van maatskappye juis gekies is omdat hulle teenwoordigheid in die Direksie die maatskappy op een of ander wyse tot voordeel kon wees - op grond van aspekte soos hul finansiële kennis, politieke verbintenisse en openbare statuur onder veral die maatskappy se kliënte en teikenmark. Soos met instellings soos banke die geval was, is Sanlam se personeellede egter nie toegelaat om die politiek te betree nie (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, L - Eric Louw, brief Feenstra - Lamprecht, 05/05/1937).

Een Sanlam-amptenaar het egter openlik sy politieke kleure getoon - en dit was boonop nie vir die NP nie. Hy was die reeds vermelde Pieter Lamprecht wat op 1 Oktober 1927 in Sanlam se diens getree en in April 1937 hoofklerk op Hoofkantoor geword het. Lamprecht, wat in die Eerste Wereldoorlog in die destydse Duits-Oos-Afrika militêre diens gedoen het, was reeds op jeugdige ouderdom 'n invloedryke figuur in die destydse Arbeidersparty. Hy was betrokke by die bloedige botsings tussen die regeringsmagte en die arbeiders aan die Witwatersrand in 1922 (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, L - Eric Louw, Memorandum 05/12/1962, "Pieter Joubert Lamprecht is op 23 November 1899 [...]"). Die Arbeidersparty het steun van Afrikaanssprekendes ontvang ná die regering se optrede, maar dit het later afgeneem weens die partyleiers se sterk Britsgesindheid. Lamprecht se betrokkenheid by die Arbeidersparty het op 29 April 1937 ter sprake gekom toe Die Burger op sy voorblad berig het oor 'n "P.J. Lambrechts" wat die vorige aand op Stellenbosch as voorsitter opgetree het by 'n politieke vergadering wat deur 'n Arbeidersparlementslid toegespreek is (Die Burger, 29/04/1937).

Feenstra het Lamprecht na aanleiding hiervan ingelig dat 'n maatskappy-opdrag van 27 Julie 1929 amptenare openbare deelname aan publieke sake of politiek verbied het, tensy verlof van die Direksie ontvang is (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings: L - Eric Louw, brief Feenstra -Lamprecht, 05/05/1937). Lamprecht het op sy beurt per brief geantwoord dat hy nie van die opdrag bewus was nie. Hy het voorts verklaar dat hy al jare lid van die Arbeidersparty se uitvoerende raad was, die laaste twee jaar as vise-voorsitter. Hy sou bereid wees om dié posisie neer te lê indien dit ongeoorloof sou wees (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings: L - Eric Louw, brief Lamprecht - Feenstra, 08/05/1937). Vyf dae na dié brief het die Dagbestuur Lamprecht oor die voorval berispe (SA, SDBN, 13/05/1937). Feenstra het Lamprecht die volgende dag hiervan ingelig en aangevoer dat die Dagbestuur dit as raadsaam beskou het dat hy van sy politieke poste afstand sou doen (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, L - Eric Louw, brief Feenstra - Lamprecht, 14/05/1937). Dit is nie bekend of Lamprecht dit toe gedoen het nie. Wat wel duidelik blyk, is dat daar nie teen hom gediskrimineer is weens sy politieke sienings nie. Hy was die hoofklerk van drie afdelings op Hoofkantoor en het ná sy aftrede in April 1960 as tydelike werker in diens gebly. In 'n Sanlam-verslag oor Lamprecht word vermeld dat hy 'n warm belangstelling in personeelsake getoon het. Hy was 'n stigterslid van die maatskappy se siekefonds vir binnepersoneel en was as medestigter altesame 16 jaar lank voorsitter van die SA Vereniging van Versekeringsamptenare (SA, 6/5/1, Lewensbeskrywings, L - Eric Louw, memorandum 05/12/1962, "Pieter Joubert Lamprecht is op 23 November 1899 [...]").

Hoewel die Lamprecht-geval nie 'n verteenwoordigende steekproef is nie kan dit tog gebruik word om sekere gevolgtrekkings te maak oor die rol van politiek in die aanstelling van amptenare. Lamprecht se Arbeidersparty-simpatieë het nie verhoed dat hy aangestel is nie, hoewel sy aanstelling plaasgevind het in 'n tyd toe die NP en Arbeiders in die Pakt-regering politieke bondgenote was. Dit het ook nie verhoed dat hy bevorder is nie. Die feit dat hy onbewus was van die opdrag kan daarop dui dat dit nie so 'n brandende kwessie was dat dit op gereelde basis onder amptenare se aandag gebring is nie en die maatskappy slegs daarop gereageer het wanneer dit openbare kennis geword het en moontlik potensiële kliënte kon afskrik. Die afleiding kan ook gemaak word dat amptenare ook bereid was om hulle by die reël neer te lê indien hulle gekonfronteer is. Dit het daarop neergekom dat as hulle tussen hul werk/inkomste en politieke affiliasies moes kies, hulle hul werk gekies het.

 

7. SLOT - AMPTENARE UIT DIE VOLK GEBORE OM DIE SUID-AFRIKAANSE VOLK TE DIEN

Die stigting van Sanlam en die gevolglike vestiging van 'n stewige personeelstruktuur tydens die vormingsjare het uit die hart van die Afrikanervolk gespruit. Ondanks of straks as gevolg van die uiteenlopende interpretasie van die maatskappy-leuse "Uit die volk gebore om die volk te dien", is Engelssprekendes van die begin af by die maatskappy verwelkom. Daar was ook politieke openheid soos getuig deur die een senior amptenaar wat openlik nie die NP ondersteun het nie. Diegene was wel gering in getal, maar daar was geen beletsel of openlike weerstand daarteen om hulle as normale lede van die personeel te aanvaar nie. Die Sanlam-leuse kan goedskiks geherformuleer word as "Hoofsaaklik, maar nie ten volle nie, uit die Afrikanervolk gebore om die Suid-Afrikaanse volk te dien". Voorts blyk dit dat retoriek, in dié geval oor die opheffing van die Afrikaners, op dowe ore kan val as die praktiese uitvoering van die groter oogmerk nie inderdaad aan die aanvanklike doelwit gevolg gegee het nie. Sanlam het inderdaad 'n strategiese rol gespeel in die ekonomiese bemagtiging van Afrikaners, maar nooit uitsluitlik slegs aan Afrikaners nie. Desondanks al die politieke uitsprake oor Afrikaners is buitestanders ingesluit in die span om die maatskappy op koers te kry. Nie-Afrikaners het hulle vereenselwig met die doelstellings van die nuwe versekeringsmaatskappy. Dit is moeilik om te bepaal wat die waarde van laasgenoemdes was in die ontwikkeling van die maatskappy omdat so min besonderhede oor die meeste van hulle bekend is. Paterson se bydrae is in die wiele gery deur persoonlike omstandighede en Goldblatt was waarskynlik nie lank genoeg betrokke om 'n groot verskil te maak nie. Van die buitestanders het egter 'n invloedryke rol gespeel. 'n Voorbeeld is MacDowall wat ten spyte van sy vete met die Dagbestuur uit die aard van sy posisie 'n kantoorstelsel help skep het waarop Sanlam met welslae in latere jare kon voortbou. Van Dam het die invloedryke posisie as redakteur van die maatskappynuusblad beklee en Lamprecht het as voorsitter van die SA Vereniging van Versekeringsamptenare uiteraard 'n grondslag daargestel wat die werksomstandighede van amptenare jare daarna nog beïnvloed het.

Van meer betekenisvolle belang is die feit dat die stigters van Santam/Sanlam, hoewel gemotiveer deur die saak van Afrikaner-bemagtiging, die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap wou saamneem in die vestiging van 'n eg Suid-Afrikaanse versekeringsonderneming. Die SA Mutual was inderdaad reeds sedert 1845 'n plaaslike onderneming, maar die gaping in die mark het ontstaan deur die sigbaar gemarginaliseerde posisie van die Afrikaanssprekende segment van die bevolking. Sanlam het derhalwe as strategiese sakeplan sy werksaamhede gerig om daardie gedeelte van die bevolking wat buite die georganiseerde versekeringsbedryf gestaan het, in te sluit. Die artikel onderstreep dat daardie Sanlam-strategie inklusief was en geleidelik die vertroue van nie-Afrikaanssprekendes gewen het. Die diversifikasie in die Sanlam-polishouersprofiel is reeds deur Halleen toegelig (Halleen 2013). Hierdie studie staaf Sanlam-inklusiwiteit sedert die vestigingsjare met spesifieke verwysing na die Hoofkantoor-personeelkorps.

 

BIBLIOGRAFIE

Sanlam Argief (SA)

5/1, Stigting

5/2/1, Jaarverslae en -vergaderings

5/2/2, Voorsittersredes/Sekondantsredes

6/1/1/2, Biografieë: WJ Bezuidenhout

6/5/1, Lewensbeskrywings

Actuaries of South Africa Vol 1

Die Sanlam-Fakkel (personeelblad)

Santam Notuleboek No 1

SBDN (Sanlam Dagbestuursnotules)

SDN (Sanlam Direksienotules)

Koerante en tydskrifte

Die Burger, 29/04/1937

Rapport, 19/08/1973

Handhaaf, 01/1976, 08/1977

Alvesson, M. 1994. Cultural perspectives on organizations. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Beukes, WJ. 2017. Van Afrikanerkultuur tot korporatief: die geskiedenis van Sanlam se hoofkantoorper-soneelkorps. PhD-proefskrif: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Bezuidenhout, WJ. 1969. Dr. Tinie Louw - 'n kykie in die ekonomiese geskiedenis van die Afrikaner. Johannesburg: AP-Boekhandel.         [ Links ]

Borscheid, PP & NV Haueter. 2013. World insurance. The evolution of a global risk network. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Cameron, T. 1986. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

De Kock ea. 1968-1987. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Pretoria: Raad vir Geestesweten-skaplike Navorsing.         [ Links ]

De Smidt, HE. 1965. An historical sketch of actuaries in South Africa, 1883-1948. Actuarial Society of South Africa.         [ Links ]

Freschi, F. 2009. The business of belonging: volkskapitalisme, modernity and the imaginary of national belonging in the decorative programmes of selected commercial buildings in Cape Town, South Africa, 1930-1940. South African Historical Journal, 61(3).         [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners - 'n biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, H & Adam, H. 1981. Afrikanermag - opkoms en toekoms. Stellenbosch: Stellenbosch Universiteitsuitgewers.         [ Links ]

Grobbelaar, PW. 1974. Die Afrikaner en sy kultuur: Deel I - mens en land. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Halleen, S. 2013. From life insurance to financial services: a historical analysis of Sanlam's client base, 1918-2004. PhD thesis: University Stellenbosch.         [ Links ]

Joubert, D. 1972. Toe witmense arm was - Uit die Carnegie-verslag 1932. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Kannemeyer, JC. 1995. Langenhoven - 'n lewe. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Koen, WPG. 1986. Sanlam tussen twee wêreldoorloë: Sy stigting, groei en stryd om 'n ekonomiese staan-plek vir die Afrikaner 1918-1939. PhD-proefskrif: Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

Koorts, L. 2014. DFMalan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Le Roux, NJ. 1953. WA Hofmeyr- sy werk en waarde. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Marais, HS. 1946. Sanlam-Gedenkboek - uit die volk gebore om die volk te dien; Sanlam 1918-1946. Maatskappypublikasie: Sanlam.         [ Links ]

Naudé, JD. 1970. Generaal J.B.M. Hertzog en die ontstaan van die Nasionale Party 1913-1914. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Nienaber, PJ ea. 1965. Gedenkboek - Generaal JBM Hertzog. Johannesburg: AP-Boekhandel.         [ Links ]

O'Meara, D. 1983. Volkskapitalisme: class, capital and ideology in the development of Afrikaner Nationalism,1934-1948. Johannesburg: Ravan.         [ Links ]

Pearson, R & T Yoneyama. 2015. Corporate forms and organisational choice in international insurance. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Pretorius, F. 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika - van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Scannel, JP. 1968. Uit die volk gebore: Sanlam se eerste vyftig jaar. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Schein, EH. 2004. Organizational culture and leadership. San Francisco: Jossey-Bass.         [ Links ]

Scholtz, GD. 1975. Hertzog en Smuts en die Britse Ryk. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van den Heever, CM. 1943. Generaal JBM Hertzog. Johannesburg: AP-Boekhandel.         [ Links ]

Van Jaarsveld, FA. 1981. Wie en wat is die Afrikaner? Tafelberg: Kaapstad.         [ Links ]

Van Zyl, L. 2003. Sarah Goldblatt: letterkundige administratrise van C.J. Langenhoven. MA-tesis: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Verhoef, G. 2014. Die onderneming in die gemeenskap: korporatiewe maatskaplike betrokkenheid deur Sanlam, 1918-1980. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4).         [ Links ]

 

 

 

Wynand Beukes was hoofsubredakteur van Die Burger en bestuurder, nuusbriewe en taal-diens van Sanlam. Hy het in 2011 sy MA ("Dorp-sondernaam: 'n kultuurhistoriese ondersoek na die dambouersgemeenskap wat aan die einde van die 19de eeu op Tafelberg ontstaan het") en in 2017 sy PhD ("Van Afrikanerkultuur tot Korporatief: die geskiedenis van Sanlam se Hoof-kantoorpersoneelkorps, 1918-2008") aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy doen tans navorsing oor Kaapstad se geskiedenis.
Wynand Beukes was chief subeditor of Die Burger and manager, newsletters and language service at Sanlam. In 2011 he obtained his MA ("Dorpsondernaam: 'n kultuurhistoriese ondersoek na die dambouersgemeenskap wat aan die einde van die 19de eeu op Tafelberg ontstaan het") and in 2017 his PhD ("Van Afrikanerkultuur tot Korporatief: die geskiedenis van Sanlam se Hoofkantoorpersoneelkorps, 1918-2008") at the University of Stellenbosch. At present, he does research into the history of Cape Town.

 

 

Anton Ehlers is 'n dosent in die Departement Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch en spesialiseer in Sakegeskiedenis. Hy beskik oor 'n doktorsgraad in Geskiedenis. Sy fokus is op finansiële instellings, klerekleinhandel en entre-preneurskap. Hy het reeds verskeie artikels oor trustmaatskappye en eksekuteurskamers, klerekleinhandelaars soos Pep Stores, entrepreneurs soos Renier van Rooyen en niewinsgewende finansiële instellings soos die Helpmekaar Studiefonds, die lig laat sien. Sy mees onlangse publi-kasie is 'n monografie: Die Kaapse Helpmekaar c.1916-c.2014. Bemiddelaar in Afrikaner opheffing, selfrespek en respektabiliteit.
Anton Ehlers is a lecturer in the History Department at Stellenbosch University. He has a doctorate in History. His focus is on financial institutions, clothing retail and entrepreneurship. He has already published several articles on trust companies and boards of executors, clothing retailers such as Pep Stores, entrepreneurs such as Renier van Rooyen and not-for-profit-financial institutions such as the Helpmekaar Study Fund. His most recent publication is a monograph: Die Kaapse Helpmekaar c.1916-c.2014. Bemiddelaar in Afrikaner opheffing, selfrespek en respektabiliteit.

 

 

Grietjte Verhoef is Professor in Ekonomiese, Sake- en Rekeningkundige Geskiedenis aan die Universiteit van Johannesburg. Sy het bydraes gelewer tot die publikasie van 16 boeke en twee monografieë oor besigheid en versekering. Haar navorsingsfokus behels die ekonomiese, sake- en versekeringsgeskiedenis van Suid-Afrika. Voltooide en huidige navorsingsprojekte dek die ontwikkeling van finansiële instellings in Afrika en Suid-Afrika, vrywillige spaarorganisasies, koloniale ekonomiese groei en die ontwikkeling van die versekeringsbedryf. Haar mees onlangse publikasie is The History of Business in Africa. Complex discontinuities to emerging markets. (Springer, November 2017 ISBN 9783319625652). 'n Verdere publikasie op die pers is The power of your life. The Sanlam century of insurance empowerment, 1918-2018. Oxford: Oxford University Press.
Grietjie Verhoef is Professor in Accounting, Economic and Business History, at the University of Johannesburg. She published contributions to 16 books and two monographs on business and insurance. Her research specialisation comprises the Economic, Business and Accounting History of South Africa. Completed research projects include studies on the development of corporate business in South Africa and Africa, spanning the development of financial institutions inAfrica and South Africa, voluntary savings organisations, colonial economic growth, and the development of the insurance industry. Her latest publication is: The History ofBusiness in Africa. Complex discontinuities to emerging markets. (Springer, November 2017 ISBN 9783319625652). Forthcoming: The power of your life. The Sanlam century of insurance empowerment, 1918-2018. Oxford: Oxford University Press.
1 Wynand Beukes is 'n vryskutnavorser in Kaapstad en hierdie artikel is verwerk uit die proefskrif waarmee hy in Desember 2017 die graad PhD aan die Departement Geskiedenis van die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Sy promotors was dr. Anton Ehlers, Voorsitter van die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, en prof. Grietjie Verhoef, Ekonomiese, Sakeen Rekeningkundige Geskiedenis, Universiteit van Johannesburg.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License