SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue3Afrikaner and Zulu perspectives on the Battle of Blood River, 16 December 1838Managers' and employees' attitudes towards people with physical disabilities in the workplace author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.3 Pretoria Sep. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n3a6 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

'n Longitudinale oorsig van Suid-Afrikaanse bestuurders se houdings oor besigheidsetiek: Tendense van 2007 tot 2016

 

A longitudinal view of the attitudes on business ethics of South African managers: Trends from 2007 to 2016

 

 

Christo Bisschoff

Bemarkingsbestuurder NWU Besigheidskool Noordwes-Universiteit Potchefstroom. E-pos: Christo.Bisschoff@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Dié studie ondersoek die etiese tendense wat sedert 2007 tot 2016 onder Suid-Afrikaanse bestuurslui heers. Dieselfde reeks van 12 twyfelagtige individuele besigheidscenario's is deur die jare aan vergelykbare groepe bestuurders voorgehou om hul houdings teenoor die voorgestelde gedragscenario's te bepaal. Deur die jare is die houdings van 1 929 bestuurders so gedokumenteer. Die tendense toon dat die bestuurders nou meer krities is teenoor die scenario's in tien van die gevalle. Dit beteken dat sekere besigheidsgedrag wat vroeër as aanvaarbaar geag is, nou bevraagteken of as nie meer as aanvaarbaar geag word nie. Dit is 'n positiewe skuif in die regte rigting van etiese besigheidspraktyke. Dit toon ook aan dat bestuurders in 2016 meer bewus is van etiese gedrag en wat dan as eties korrekte besigheidsgedrag beskou word as hul voorgangers in 2007. Interessant is dat daar 'n hele paar gedragscenario's is wat vanaf 2007 tot en met ongeveer 2011/12 eers verswak het, voordat dit daarna skerp verbeter het. Die bepaling van die etiese houdings is belangrik aangesien houding n sterk drywer van gedrag is; gevolglik behoort verbeterde etiese houdings na verbeterde etiese gedrag deur bestuurders te lei.

Trefwoorde: houding, etiek, besigheid, bestuurders, oneties, tendens, scenario's


ABSTRACT

This study aimed to identify trends in ethical attitudes of managers in South Africa from 2007 up to 2016. The literature basis of the study deals with defining business ethics in South Africa from the recent past up to 2017, investigates the contentious issue of using student groups as populations, and then also particularly ascertained the suitability of experienced part-time managers in training (or retraining) as a population for business studies. Here, sufficient evidence cleared population for a focused study such as this. The empirical study then proceeded to employ all managers who crossed paths with a South African business school through the years, i.e. part-time MBA students and managers entering into advanced executive education. In total, 1 929 managers partook in the longitudinal study where they had to evaluate the behaviour described in a set of 12 business ethical scenarios. Their attitudes towards the ethical business scenarios were annually recorded on a balanced six-point scale. The data showed high reliability with a Cronbach alpha coefficient of 0.873. The validated questionnaire developed by Fullerton in 1993 was adapted and used to fit South African conditions. This questionnaire is widely used and has collected business ethics data successfully in more than nine countries across six continents. Data were captured and analysed professionally by the North West University's Statistical Consultation Services. In general, the trend analyses on the scenarios indicate that, in 2007,11 of the 12 scenarios displayed unacceptable ethical attitudes by the managers. Then, up to 2011/12, ten of these scenarios displayed similar, or even worse, managerial ethical attitudes. Since then, the trends show a steep improvement in the ethical attitudes of the managers in nine of the original unacceptable attitude scenarios. The scenario notfitting the trend of the other nine deals with obtaining a benefit from loopholes in a system. This scenario was deemed as strongly unacceptable behaviour in 2007; however, up to 2016, it has steadily deteriorated up to a point where managers believe that to benefit from loopholes in the system is only marginally unacceptable. More specific scrutiny of this analysis is required for the categorisation of the results. Here, the results were categorised into three categories. : 1) Unacceptable in 2007, but acceptable in 2016; 2) Acceptable in 2007 and remained so in 2016; 3) Unacceptable in 2007 and remained unacceptable in 2016. A total of nine scenarios were characterised belonging to the first category. All of these scenarios improved and they all show similar trends (as indicated in the general discussion of results) of improvement after 2011/12. Regarding the second category, two scenarios indicated acceptable ethical attitudes by managers back in 2007, and they remained so. They deal with "repeated visits to a dealer to capitalise on restricted bargains", and "using a dealer to get product information and then buy it online". It is also evident that the trends are steadily increasing towards acceptable behaviour. This means the attitudes of the managers at present towards these scenarios are pointing towards acceptance of such actions, and consequently more towards unethical business practices. Although limited to two scenarios only, and despite their being categorised as unethical practices, these trends are worrisome. The final category is represented by only one scenario. This is where unacceptable ethical attitudes were recorded in 2007, and it is still unacceptable in 2016. Here, the results show that the practice of buying incorrectly priced goods was, and still is, deemed acceptable (thereby indicating an unethical attitude). It was deemed marginally acceptable to take advantage of a dealer's mispriced goods in 2007, but then ethical attitudes seriously declined up to 2014 when it became very acceptable to do so. It is encouraging to see that since 2014 the attitudes pertaining to this scenario improved, where this behaviour is once again marginally acceptable. The value of the longitudinal study resides in attitude being a strong behavioural driver. This means that ethical business behaviour can be positively influenced if attitudes are showing an inclination towards ethical business practices. Here, the measurement of attitudes is important to provide a barometer of the business ethical atmosphere of South African managers; this could be useful in ethical business behaviour alteration.

Key words: attitude, ethics, business, managers, unethical, trend, scenarios


 

 

INLEIDING

Etiese houdings en gevolglike gedrag is gewortel in Afrika waar gereelde berigte van korrupsie en selfverryking oopgevlek word. Meer spesifiek het Suid-Afrika stadig maar seker geval vanaf die 43 ste plek in 2009 tot die 64ste posisie in 2016 op die internasionale Korrupsie Persepsie-indeks (Corruption Perception Index) (hierna verwys as die KPI) (Global Corruption Report, 2017). Die KPI is 'n gradering van die Suid-Afrikaanse bestuurder-leiers in internasionale indekse ontwerp op die basis van lande se waargenome vlakke van korrupsie, en hou verband met die mate van korrupsie of onetiese gedrag soos gesien deur sakelui en analiste regoor die wêreld, gebaseer op drie komponente van die land, naamlik die polisie, sowel as besigheids- en politieke onetiese gedrag. In 2010 het die indeks getoon dat Suid-Afrika 45ste uit 159 lande geplaas was (Rapule, Bisschoff & Botha 2013:22). Die afwaartse wenteling van lande in hierdie indeks word gesamentlik veroorsaak deur die onetiese optrede van bestuurder-leiers in organisasies, regeringsbeamptes en politici (Global Corruption Report, 2017).

Suid-Afrika as 'n ontwikkelende land worstel om homself te bevry van die ongeregtighede van die verlede, demokratisering, en pogings om te voldoen aan die vereistes van sy Nasionale Groeiplan (Gordhan 2017). Om sake verder te kompliseer, is Suid-Afrika dualisties van aard. Aan die een kant besit die land uitstekende finansiële stelsels en instrumente, terwyl, aan die ander kant, die land ook onder tipies ontwikkelende land-probleme ly, waaronder sekuriteit, swak gesondheidsorg, sanitasie en behuisingsprobleme, en onaanvaarbare diensverskaffing deur die openbare sektor wat poog om n beter toekoms vir sy mense daar te stel ten spyte van die strukturele slagyster waarin hulle hul bevind (Bhuiyan 2018). Met bewyse wat dui op etiese aspekte en korrupsie wat aan die orde van die dag is in die land (Global Corruption Report, 2017), vereis vrae aan toekomstige besigheid egter antwoorde ooreenkomstig die siening en houding van die toekomstige generasie opgevoede leiers ten opsigte van etiese gedrag.

 

PROBLEEMSTELLING

Die vernaamste probleem wat homself voordoen is om te bepaal wat die etiese houdings van die volgende generasie leiers in Suid-Afrika is (Abratt, Nel & Higgs 1992; Bisschoff et al. 2008; Fullerton et al. 2017). Vanselfsprekend bied die meting van etiese houdings sommige leidrade ten opsigte van hierdie saak (Fullerton & Neale 2008a; 2008b), maar wat beteken dit werklik? Meting sonder 'n basis vir internasionale vergelyking verskaf steeds die siening van Suid-Afrikaners in isolasie (Bisschoff et al. 2005; Fullerton et al. 2017). Dit impliseer dat studente wat as toekomstige leiers die mark betree met spesifieke sienings van etiek, hul ekonomiese en besigheidsaktiwiteite volgens hul etiese houdings gaan uitvoer (Fullerton & Neale 2008a; 2008b). Dit bied egter nie riglyne oor hoe hierdie aktiwiteite met ander lande vergelyk nie (Palich, Neubert & McKinney 2016; Fullerton et al. 2017). Dit skep die ruimte vir die vra van verskeie vrae. Sien die huidige Suid-Afrikaanse sienings anders daar uit as huidige etiese standpunte of sienings van dié in die verlede? En, indien dit wel verskil, op welke gronde en tot welke mate (Fullerton & Neale 2008a; 2008b)? Verder, hoe het hierdie etiese sienings deur die afgelope aantal jare verander? Dus, verskil 'n tipiese Suid-Afrikaanse bestuurder, met sy of haar unieke etiese profiel, houdings en sienings van dié van die tipiese bestuurder vanuit n ander era? Indien wel, oor welke aspekte stem hulle ooreen al dan nie, en tot welke mate?

 

DOEL EN DOELWITTE

Die doel van hierdie studie is om die heersende etiese houdings van Suid-Afrikaanse bestuurders te vergelyk met hul eweknieë gedurende die afgelope agt jaar. Die spesifieke doelwitte is soos volg:

1. Bepaal die etiese houding ten opsigte van twyfelagtige gedrag deur besigheidsbestuur-ders in Suid-Afrika; en

2. Identifiseer spesifieke etiese tendense van die bestuurders van 2007 tot 2016.

 

ETIESE KLARING

Die navorsingsprojek is deur die Etiekkomitee van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurs-wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit as n lae-risiko-projek geklassifiseer, goedgekeur en 'n etieksertifikaat is uitgereik (No. NWU-00337-18-A4).

 

LITERATUUROORSIG

Die literatuuroorsig fokus op twee sleutelelemente van hierdie studie. Eerstens, n kort oorsig van besigheidsetieknavorsing. Tweedens ondersoek die studie die gebruik van universiteitstudente as die teikenbevolking vir n betekenisvolle navorsingsonderneming.

Besigheidsetiek

Die werklike betekenis van etiek, en meer spesifiek besigheidsetiek, word al vir geruime tyd deur navorsers debatteer. Tipiese relevante definisies deur seminale Suid-Afrikaanse (en ander) navorsers is:

  • Etiek in besigheid is nie slegs 'n saak van normatiewe evaluasie nie, maar ook 'n reeks persepsies oor hoe om in terme van daaglikse aspekte op te tree (Nel, Pitt & Watson 1989).

  • Besigheidsetiek is reëls, standaarde, kodes of beginsels wat riglyne bied vir moreel korrekte gedrag en waarheid in spesifieke situasies (Abratt, Nel & Higgs 1992).

  • Daardie dissipline wat homself besig hou met die gedragsreëls en -waardes wat deur die mens gehandhaaf moet word te midde van die najaag van entrepreneuriese doelstellings (De Klerk 1996).

  • Etiek is die denkbeeld van korrekte en verkeerde optrede. Dit vertel ons of ons gedrag moreel of immoreel is en te doen het met fundamentele menslike verhoudings, hoe ons dink en optree teenoor ander en hoe ons wil hê hulle teenoor ons moet dink en optree (Post, Lawrence & Weber 2002).

Hierdie definisies verskil nie beduidend in betekenis van die moderne sienings van besigheids-etiek nie:

  • Etiek is n tak van die sosiale wetenskappe. Dit het te doen met morele beginsels en sosiale waardes. Dit help ons om te klassifiseer wat goed en wat sleg is. Dit vertel aan ons om goeie dinge te doen en slegte dinge te vermy (Akrani 2011).

  • Die studie en ondersoek van morele en sosiale verantwoordelikheid in verhouding tot besigheidspraktyke en besluitneming in besigheid (Dictionary.com 2017).

  • Die kritiese, gestruktureerde ondersoek van hoe mense en instellings in die wêreld van handel moet optree. Spesifiek behels dit die ondersoek van toepaslike beperkings in die nastreef van selfbelang, of (vir ondernemings) wins, terwyl die aksies van individue of ondernemings ander affekteer (McDonald 2017).

Sentraal tot die historíese en moderne definisies is die aanvaarbare of onaanvaarbare gedrag van bestuurders in besigheid, en hoe hierdie gedrag die maatskappy en individue affekteer (Tse & Au 1997; Wyd & Jones 1997; Zim 2013). Tipies word onetiese (en selfs korrupte) gedrag soos persoonlike gewin, korrupsie, staatskaping en onbillike rekeningkundige praktyke om wanvoorstellings van maatskappywinste te maak (soos byvoorbeeld in die gevalle van Enron (2001), (Healy & Palepu 2003) en Steinhoff (Eyewitness News 2018), ook in onetiese besigheidspraktyke geïnkorporeer.

Meting van besigheidsetiek in studentebevolkings

In hul navorsing om etiekstudies in studentebevolkings te meet, het Fullerton en Bisschoff (2013), Palich, Neubert en McKinney (2016) en ander sommige studies van so lank terug as 1985 identifiseer ter ondersteuning van studentebevolkings. Ter opsomming is die meer relevante studies soos volg:

  • Ondersoek verskille tussen besigheids- en nie-besigheidstudente ten opsigte van 30 etiese aspekte; besigheidstudente toon meer kommer ten opsigte van drie van die vyf statisties beduidende verskille (McNichols & Zimmerer 1985).

  • n Soortgelyke analise in 1993, onder dieselfde studentegroepe, deur van 19 etiese scenario's gebruik te maak, het slegs twee beduidende verskille gevind; besigheidstudente was meer aanvaardend as die nie-besigheidstudente ten opsigte van bemarking en anti-vakbond-aktiwiteite (Fullerton 1993).

  • Wyld en Jones (1997) het geen verskille tussen die etiese houdings van besigheids- en nie-besigheidstudente in hul vergelykende studie gevind nie, wat ook ondersteun is deur Tse en Au (1997) in hul vergelykende etiekstudie van studente in Nieu-Seeland.

  • In 'n meer spesifieke studie in Suid-Afrika is besigheidstudente vergelyk met 'n groep van diverse ekonomiese wetenskappe- en ouditkunde-studente in 14 maatskappy- en 14 individuele besigheidsetiek-scenario's (Bisschoff, Fullerton & Botha 2008). Hulle het twee beduidend onaanvaarbare individuele etiese scenario's dokumenteer (beide handel oor die bekomming van produkinligting vanaf die handelaar, maar koop dan die produk goedkoper elders).

  • n Verdere studie het soortgelyke studentegroepe longitudinaal vergelyk om te bepaal of Suid-Afrikaanse besigheidstudente hul etiese houding oor 'n tydperk van vyf jaar verander het (Rapule et al. 2013). Hierdie studie het onrusbarend getoon dat die etiese houding van drie individuele- en een maatskappy-scenario afgeneem het, terwyl slegs een van die individuele- en maatskappy-scenario's verbeter het. Dit dui op 'n afname in etiese houdings van Suid-Afrikaanse studente.

  • n Meer resente studie het die etiese houdings van Sjinese professionele sakelui met dié in die VSA vergelyk. Hoewel daar nie van 'n studentebevolking gebruik gemaak is nie, het hierdie studie daarin geslaag om kulturele struikelblokke van sakelui te oorkom, wat daarop dui dat interkontinentale etiese studies moontlik is (Palich et al. 2016), n bewering wat reeds deur Bisschoff, Fullerton en Moore (2005) in hul vergelykende studie van besigheidsetiek tussen Suid-Afrikaanse en Sjinese MBA-studente gemaak is. In hierdie studie het die Suid-Afrikaanse MBA-studente n hoër vlak van etiese standaarde as hul eweknieë in Sjina getoon.

Alhoewel die basis van vergelyking tussen hierdie studies verskil, het al hierdie studies getoon dat studentebevolkings internasionaal suksesvol gebruik en geteiken kan word. Gebaseer op sy navorsing, redeneer Peterson (2001) dat studentegroepe, en selfs studente- teenoor nie-studente-groepe, vir navorsingsdoeleindes vergelyk kan word. Phau en Kea (2007), Bisschoff et al. (2005), Fullerton en Neale (2008a, 2008b), Zin (2013) en Palich et al. (2016) het almal getoon dat interkulturele eties-vergelykende studies moontlik is en dat hierdie studies goeie resultate lewer. Die interkontinentale etiese studies deur Fullerton en Neale (2008a, 2008b) wat Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland, Kanada en die VSA ondersoek het, het byvoorbeeld gevind dat slegs Nieu-Seeland meer gunstige etiese houdings as die Suid-Afrikaners het.

Gebaseer op die bogenoemde bespreking is dit duidelik dat die gebruik van studente-steekproewe onder bepaalde omstandighede toepaslik is. Verskeie studies is in ander lande onderneem en kontinente het betekenisvolle resultate op verskillende basisse gedokumenteer, soos die land van oorsprong of ander kriteria van verskille tussen groepe.

Die spesifieke gebruik van deeltydse studente in bestuur as populasies is verder deur verskeie navorsers suksesvol toegepas. So het Naidoo (2011) deeltydse MBA-studente ingespan om werkspanning van onderwysers te meet, terwyl Imandin (2014) 'n soortgelyke populasie gebruik het om werknemerverbondenheid in organisasies te meet. In nog 'n studie het Bisschoff en Moolla (2015:652) die handelsmerklojaliteit onder MBA-gekwalifiseerde bestuurders gemeet. Die suksesvolle gebruik van hierdie teikengroep impliseer dat die deeltydse MBA-studente wat deur die jare gebruik is om hul etiese houdings as bestuurders weer te gee, geregverdig is. Die stand van die bestaande etiese houdings onder hierdie sleutelsegment van die Suid-Afrikaanse bevolking is belangrik om te bepaal, en dan ook verder om die tendense te identifiseer wat sedert 2007 realiseer het.

 

NAVORSINGSMETODOLOGIE

Navorsingsinstrument

Die etiese houdingsmeetinstrument ontwerp deur Fullerton (1993) is gebruik om data in te samel. Fullerton se meetinstrument is gekies aangesien dit al suksesvol in verskeie internasio-nale etiekstudies in 12 lande wat strek oor ses kontinente, gebruik is (Fullerton & Bisschoff 2013:5). Hierdie studies het lande ingesluit soos Sjina, Suid-Afrika, die VSA, Nieu-Seeland, Australië, Brasilië en ander (Fullerton & Neale 2008a:144; 2008b:193; Bisschoff et al. 2005:157; Fullerton & Bisschoff 2013:5; Rapule et al. 2013:21). Verder is die vraelys deur Fullerton (1993) gevalideer en weer gevalideer deur Bisschoff en Lotriet (2012:10745-7) as n toepaslike instrument om in besigheidsetiek-opnames gebruik te word. Hierdie konsekwente vermoë van die instrument om vergelykende data te bied, asook die feit dat die validiteit daarvan bo verdenking is, het in hierdie vraelys se guns getel as die gekose instrument om die data van hierdie studie in te samel. Die data se betroubaarheid word verder statisties gemeet deur die Alfa koëffisiënt van Cronbach te bereken. Hier word waardes bo 0.70 as betroubaar geag (Field 2009:686).

Hierdie instrument vereis van die bestuurders om hul opinies aan te dui ten opsigte van 12 twyfelagtige tipes gedrag van individuele verbruikers soos hulle in n verskeidenheid anonieme besigheidsentiteite in interaksie tree. Soos aanvaarde praktyk in etiese navorsing is, is die respondente versoek om die vlak van aanvaarbaarheid of onaanvaarbaarheid van n spesifieke scenario, wat 'n potensiële etiese dilemma uitbeeld, aan te dui (Nel et al. 1989; Rapule et al. 2013). Hierdie stel scenario's vir individue dek verskeie bestuursdissiplines, insluitend bemarking, rekeningkunde, aankope en algemene bestuur. Die vraelys lê die houdings uitgespreek vas op 'n ses-punt gedetailleerde skaal, waar 'n respons van 1 = Volledig onaanvaar-bare gedrag, en 'n respons van 6 = Volledig aanvaarbare gedrag beteken.

Data-insameling

Die populasie bestaan uit al die deeltydse studente wat by die Noordwes-Universiteit se Besigheidskool gevorderde bestuursopleiding ondergaan het. Hierdie respondente bestaan dus uit deeltydse studente wat jaarliks aan die Magister in Besigheidsadministrasie-graad (slegs finale jaar-studente), die Gevorderde bestuursprogram en die Middelbestuursprogram deelgeneem het. Hierdie seleksie van respondente is spesifiek gedoen omdat al hierdie programme se toelatingsvereistes, onder andere, n minimum van drie jaar werks- en bestuurservaring vereis. Hulle het dus goeie blootstelling aan die industrie en bestuur om n ingeligte mening aangaande die etiese houdings wat in die besigheidsmilieu heers, te gee.

Die populasie is geteiken en geen steekproef is getrek nie. Die vraelyste is jaarliks in die verskillende klasse uitgedeel nadat die doel van die navorsing verduidelik is. Deelname was vrywillig en anoniem. Deelnemende studente het na afloop van die klas die vraelyste ingedien, waarna die vraelyste aan die Statistiese Konsultasiedienste van die Noordwes-Universiteit oorhandig is om vas te lê en te verwerk. Daar is in totaal 1 929 respondente se etiese houdings vasgelê sedert 2007. Die jaarlikse aantal respondente word in Tabel 1 getoon.

Die alfa-koëffisiënt van die data is 0.873; die data is dus hoogs betroubaar en geskik vir statistiese ontleding (Field 2009:686).

Interpretasie van resultate

Die middelpunt van die ses-punt-skaal (3.5) word gebruik as n aanduiding van n neutrale houding teenoor die scenario wat gepostuleer is. Tellings hoër as die neutrale punt word deur die respondente geag as aanvaarbare gedrag; gevolglik dui so n telling op laer etiese houdings, en is dus onwenslik. Netso sal die omgekeerde waar wees en dui lae tellings dan op hoë etiese houdings. n Mens sou dus in die grafieke graag n dalende tendens oor die jare wou sien, aangesien so n tendens sal aandui dat die etiese houdings van bestuurders verbeter het vanaf 2007 tot 2016, en dat hulle nou meer krities teenoor twyfelagtige etiese gedrag staan.

 

RESULTATE

In oorleg met die Statistiese Konsultasiedienste aan die Noordwes-Universiteit word die etiese gedragstendense van die afgelope agt jaar grafies voorgestel (Steyn 2017). Die figure toon beide die tendenslyn asook die spesifieke jare se gemiddelde datapunte. Die respondente se menings is per scenario ontleed en elke scenario is ook gekategoriseer. Daar is drie hoofkate-gorieë; hulle word hiernaas bespreek.

Kategorie 1: Destyds onaanvaarbare houdings wat verbeter het tot aanvaarbare houdings

In hierdie kategorie word die scenario's voorgehou wat in 2007 as onaanvaarbaar (of wat onetiese houdings aangetoon het) geag is (met tellings bo die middelpunt van 3.5), maar wat deur die jare verbeter het tot waar die etiese houdings in 2016 as aanvaarbaar bestempel kan word (tellings onder 3.5). Hierdie scenario's en hul meegaande tendense is:

Scenario 1: Ontvang te veel kleingeld na 'n transaksie en steek dit in jou sak eerder as om dit terug te gee

 

 

 

 

Die respondente se houding teenoor dié scenario het deur die jare skerp verander van hoogs aanvaarbaar na onaanvaarbaar; dit dui op verbeterde eerlikheid en etiese gedrag ten opsigte van lae waarde-items (kleingeld).

Scenario 2: Dien oordrewe versekeringseis in deur fiktiewe items by eis te voeg

n Skerp verbetering in die etiese gedrag van die respondente realiseer ten opsigte van hoë waarde-items sedert 2007. Die respondente toon duidelik dat om 'n vals versekeringseis in te dien nie meer as aanvaarbare gedrag geag word nie. Dit dui op 'n positiewe neiging in die etiese houdings van die respondente.

Beide scenario's drie en vier spreek oneerlike gedrag aan om onverdiende kortings of voordele te kry deur te jok oor ouderdom (Sien Figure 3 en 4).

 

 

 

 

Scenario 3: Jok oor eie ouderdom om afslag te kry

Scenario 4: Jok oor kinders se ouderdom om ouderdomsbeperkings te oorkom en/of afslag te kry

In die verlede is leuenagtige gedrag oor ouderdom as aanvaarbaar beskou, maar die houdings het skerp gedaal en is tans neutraal ten opsigte van afslag, maar onaanvaarbaar as dit kom by die ouderdom van die kinders. Duidelik is die respondente nou meer sensitief om kinders se ouderdom valslik in te span tot eie gewin.

Scenario 5: Jok oor die prys van mededinger en beding so afslag op huishoudelike goedere

Dié scenario ondersoek die gebruik om ongeverifieerde pryse van mededingers aan n handelaar te stel om verdere afslag te beding.

 

 

In hierdie scenario word die gebruik van vals prysverwysings om afslag te bekom as onaanvaar-baar beskou. Sedert 2007 tot en met 2011 was die verskille marginaal en dui hoofsaaklik neutrale etiese houding aangaande dié metode om aankope te doen. In 2012 dui die respondente aan dat dit wel aanvaarbaar is om op so n wyse n beter prys te beding, maar teen 2016 het die respondente sterk gevoel dat die metode nie meer aanvaarbare gedrag voorstel nie.

Scenario 6: Gebruik produk-afslag-koepons om afslag op aankope te kry al is die spesifieke produk nie gekoop nie.

Hier word beide die etiese gedrag van die kliënt en die kassier beoordeel. Indien die kassier die koepon neem as afslagbewys, wetend dat die spesifieke produk nie in die kruideniers-waremandjie is nie, tree hy of sy ook onaanvaarbaar op. Die scenario poog egter om te bepaal hoe die kliënt daaroor voel en of die koepon wel aangebied word vir afslag aan die kassier.

 

 

Die tendens is duidelik; vanaf 2007 tot 2012 is hierdie onaanvaarbare gedrag deur kliënte as heeltemal aanvaarbaar beskou en het tellings tussen 4 en 5 aangedui dat hulle sterk voel dat dit aanvaarbaar is om enige koepon in te dien vir afslag al word die gespesifiseerde produk nie gekoop nie. In 2014 was daar egter n sterk ommeswaai in houdings en het die respondente aangedui dat dit nie aanvaarbaar is om dit te doen nie. Die 2016-respondente handhaaf hierdie positiewe neiging dat die gedrag onaanvaarbaar is.

Scenario 7: Jok oor kwaliteit en waarde van die items wat jy verkoop tydens 'n straatverkoping

Hierdie scenario beoordeel die eerbaarheid van die eienaar tydens verkoop van oorskot-huisraad of ander huishoudelike items. Uiteraard is sulke items gebruikte items en kopers is afhanklik van die eienaar om die geskiedenis en toestand van die items te bepaal. Oneerlikheid hier dui verder op bereidwilligheid om die gemeenskap waarin die eienaar bly, om die bos te lei vir eie gewin.

 

 

Weereens dui die tendens dat dié eens aanvaarbare gedrag na 2012 beskou word as onaanvaarbaar. Die positiewe neiging in etiese houding en die stawende gedragskurwe dui aan dat die respondente dit as sterk onaanvaarbaar vind om jouself te verryk ten koste van jou onmiddellike gemeenskap.

Scenario 8: Verskaf vals of misleidende inligting in markopnames

In dié scenario word die eerlikheid of aanvaarbare gedrag gemeet ten opsigte van inligting wat verskaf word. Belangrik is die aspek dat die respondent hier geen voordeel ontvang of prysgee deur óf akkurate- óf vals inligting te verskaf nie. Daar is dus geen persoonlike motivering betrokke nie.

 

 

Die tendens hier volg die neiging wat deur die vorige scenario's aangedui is; die gedrag is aanvaarbaar in 2007, maar in 2014 het die respondente begin aandui dat dit nie aanvaarbaar is om vals inligting tydens markopnames te verskaf nie.

Scenario 9: Koop klere op sig, dra dit vir spesiale geleentheid, maar gaan gee dit dan terug

Die onaanvaarbare gedrag om klere te "koop" met die doel om dit die volgende dag terug te neem nadat dit gedra is na daardie spesiale geleentheid toe, is al jare lank 'n kopseer vir boetiekeienaars.

 

 

Ongelukkig het die respondente eers teen 2011 begin besef dat hierdie gedrag onaanvaarbaar is. Hier toon die tendens 'n stadige jaarlikse positiewe neiging na meer aanvaarbare gedrag. Tog is die telling van 2016 naby aan 3, wat marginaal beter is as die neutrale middelpunt op die skaal. Dit is kommerwekkend aangesien sulke onaanvaarbare gedrag sterker verdoem behoort te word, veral gesien in die lig van wie die respondente is. As bestuurders van ondernemings behoort hulle te besef dat ondernemings finansiële skade ly weens hierdie gedrag.

Kategorie 2: Destydse aanvaarbare etiese houdings wat nog steeds aanvaarbaar is

Slegs twee scenario's behoort tot hierdie kategorie, waar die scenario in 2007 as onaanvaarbaar geag is (met tellings onder die middelpunt van 3.5), en wat deur die jare getoon het dat dit steeds in 2016 as onaanvaarbaar bestempel kan word.

Scenario 10: Besoek 'n handelaar herhaalde here om die winskopie te herhaal aangesien daar 'n beperking op die aantal items per persoon is.

In teenstelling met die tendens van die scenario's in die eerste kategorie, toon hierdie scenario n opwaartse neiging en dui op n onaanvaarbare etiese houding teenoor die uitbuit van skuiwergate tot eie gewin. Die beginpunt is egter laag wat daarop dui dat die bestuurders 'n sterk etiese houding teenoor dié scenario openbaar. Hierdie houding is egter stadig maar seker aan die verswak. Dit bly steeds onder die middelpunt van 3.5 (dus is die houding steeds eties aanvaarbaar). Dit is egter bemoedigend dat die tendens effens in 2016 gedaal het tot 'n meer aanvaarbare etiese houding in die scenario.

 

 

Scenario 11: Gebruik 'n gemagtigde handelaar om produkinligting en advies in te win, maar bestel dan die produk aanlyn

 

 

In hierdie scenario word die handelaar gebruik om die nodige produkinligting te bekom voor die produk aangekoop word. Aanvanklik is hierdie scenario as sterk onaanvaarbaar beskou, maar die tendens is duidelik dat meer bestuurders minder sterk voel dat dit onaanvaarbaar is om wel inligting by die handelaar te bekom en dan die produk elders aan te koop. Die tellings dui steeds daarop dat die scenario onaanvaarbare gedrag voorstel, selfs in 2014 waar die telling na aan die middelpunt neig. Daar is egter 'n meer eties aanvaarbare houding in 2016 aangeteken, wat die opwaartse neiging stuit. Toekomstige navorsing sal egter die nuwe afwaartse tendens moet staaf.

Kategorie 3: Destyds onaanvaarbare etiese houding wat steeds onaanvaarbaar is of selfs verder onaanvaarbaar neig

In hierdie kategorie word die een scenario voorgehou wat in 2007 as aanvaarbaar geag is (met n telling bo die middelpunt van 3.5), en wat deur die jare getoon het dat die etiese houdings steeds as onaanvaarbaar bestempel kan word.

Scenario 12: Koop 'n item wat duidelik verkeerd geprys, is teen die laer prys

 

 

Die aankoop van items teen duidelik verkeerd gemerkte prys is as aanvaarbaar geag, en selfs as meer aanvaarbare gedrag tot in 2014. Dit dui duidelik dat die respondente n houding handhaaf van eie gewin indien handelaars foutiewe pryse sou aanbring op items. In 2016 het die respondente egter neutraal op die scenario reageer.

 

GEVOLGTREKKINGS EN SAMEVATTING

Die longitudinale studie toon dat 10 van die 12 scenario's aandui dat die respondente meer krities is ten opsigte van die gepaardgaande gedrag. Waar hulle verskeie scenario's in 2007 aanvaarbaar gevind het, voel hulle nou dat die gedrag onaanvaarbaar is. Sodoende word die volgende gevolgtrekkings gemaak:

  • Die ooreenstemmende groep respondente in 2016 is meer krities as hul voorgangers in 2007 teenoor die scenario's wat gestel is. Gedrag wat in 2007 aanvaarbaar geag is, is nie meer aanvaarbaar in 2016 nie.

  • Daar het n duidelike verskuiwing in gedragsbeoordeling gekom tydens ongeveer 2012. Verskeie van die beoordelings oor die aanvaarbaarheid al dan nie van die scenario's het daadwerklik verander.

  • Die positiewe tendens na meer aanvaarbare gedrag dui aan dat die respondente van 2016 n sterker etiese houding handhaaf as hul voorgangers in 2007.

Betreffende die groeiende onaanvaarbare etiese gedrag in Scenario 12 het daar tog in 2016 'n draaipunt gekom en het die respondente die scenario meer krities beoordeel. Hulle dink egter steeds nie dat dié scenario verkeerde gedrag voorstel nie.

Een scenario het onveranderd gebly. Die gebruik om 'n handelaar te besoek, advies in te win en selfs van demonstrasies gebruik te maak waarna die identiese produk aanlyn bestel word, was sedert 2007 onaanvaarbaar.

Die studie is belangrik omdat dit dien as 'n barometer vir die besigheidsetiek-atmosfeer waarin die hedendaagse bestuurder in Suid-Afrika funksioneer. Houdings is 'n belangrike dryfveer van gedrag, en positiewe etiese houdings behoort dus tot beter etiese bestuursbesluite en gedrag te lei. Metings van houdings kan dus belangrik wees indien gedragsmodifikasie op die spel kom om die Suid-Afrikaanse bestuurders tot beter etiese besigheidsgedrag aan te spoor.

 

BEPERKINGS VAN DIE STUDIE

Hierdie studie meet die kritiese beoordelings van gedrag soos daargestel deur die scenario's wat geformuleer is. Sodoende kan die respondente se houdings teenoor etiese gedrag bepaal word. Die studie het egter belangrike beperkings, naamlik dat dit nie aandui wat die gedrag van die respondente is nie. Byvoorbeeld, die studie dui wel aan dat die respondente krities staan teenoor aanlyn aankope nadat n handelaar besoek is en produk-inligting so bekom is, maar die studie bepaal nie of die respondent oneties optree en die praktyk beoefen nie (wetende dat dit verkeerd is).

 

BIBLIOGRAFIE

Abratt, R., Nel, D. & Higgs, N.S. 1992. An examination of the ethical beliefs ofmanagers using selected scenarios in a cross-cultural environment. Journal of Business Ethics, 11:29-35.         [ Links ]

Akrani, G. 2011. What is business ethics? http://kalyan-city.blogspot.co.za/2011/09/what-are-business-ethics-meaning.html [10 Mei 2016].         [ Links ]

Bisschoff, C., Fullerton, S. & Botha, C. 2008. Examining the ethical predisposition ofthe next generation of graduates in the Republic of South Africa. Proceedings of the 2nd International Business Conference, Leadership and sustainable development, BSPN, Port Elizabeth, RSA (28-29 August).         [ Links ]

Bisschoff, C.A. & Lotriet, R.A. 2012. Factor identification in managerial ethics. African Journal of Business Management, 6(43):10741-10749.         [ Links ]

Bisschoff, C.A. & Moolla, A.I. 2015. 'n Vereenvoudigde model om handelsmerklojaliteit van vinnig-bewegende gebruiksgoedere te meet. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(4):652-664.         [ Links ]

Bisschoff, C.A., Fullerton, S. & Moore, D. 2005. Examining the ethical predisposition of the next generation of business leaders in China and the Republic of South Africa. South African Journal for Economic and Management Sciences, 11(2):157-171.         [ Links ]

Bhuiyan, M.Z.A. 2018. Developing countries are suffering from different types ofproblems. What are those and why they are there. https://www.researchgate.net/post/What_are_the_basic_problems_of_a _developing_country_Political_instability_ Crime_in_the_administration_Bureaucracy_of_the_donors_or_Mismanagement [10 Junie 2018].         [ Links ]

Craven, P. & Bisschoff, C.A. 2011. 'n Vergelykende studie van etiese persepsies tussen bestuur en werknemers binne die produksieafdeling van 'n multinasionale landboumaatskappy. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(3):354-372.         [ Links ]

De Klerk, D. 1996. Stewardship in the economic and management sciences. Potchefstroom: University Press.         [ Links ]

Dictionary.com. 2017. http://www.dictionary.com/browse/business-ethics [12 Julie 2017].         [ Links ]

Eyewitness News. 2018. How did Markus Jooste fool Steinhoff investors? http://ewn.co.za/2018/06/12/listen-how-did-markus-jooste-fool-steinhoff-investors [10 Junie 2018].         [ Links ]

Field, A. 2009. Understanding statistics using SPSS. London: Sage.         [ Links ]

Fullerton, S. 1993. The Ethical predisposition of our next generation of business and community leaders. Proceedings of the Atlantic Marketing Association, Roberta Good, ed. (March), 317-323.         [ Links ]

Fullerton, S. & Bisschoff, C.A. 2013. Ethical predisposition of business students: using the results from 12 countries to compare attitudes in six continents. 7th International Business conference. Mahé, Seychelles, pp. 1-18.         [ Links ]

Fullerton, S., Bisschoff, C.A. & Fields, Z. 2017. A look at the ethical predisposition of future South African Business leaders regarding potential misbehavior on both sides of the buyer-seller dyad. Proceedings of the Society for Marketing Advances conference. Louisville, KY, pp. 114-126.         [ Links ]

Fullerton, S. & Neale, L. 2008a. Comparing the ethical predisposition of university students in five English-speaking countries: an examination of 14 questionable business practices. Association of Marketing Theory and Practice, 17:144-152.         [ Links ]

Fullerton, S. & Neale, L. 2008b. Comparing the ethical predisposition of university students in five English-speaking countries: an examination of 14 questionable consumer actions. Society of Marketing Advances, 51:193-194.         [ Links ]

Global Corruption Report. 2017. The 2017 Global Corruption Report: South Africa. http://www.transparency.org/news/feature/corruption_perceptions_index_2016#table [15 July 2017].         [ Links ]

Gordhan, P. 2017. National Budget Speech. http://www.gov.za/speeches/minister-pravin-gordhan-2017-budget-speech-22-feb-2017-0000 [15 July 2017].         [ Links ]

Healy, P.M. & Palepu, K.G. 2003. The fall of Enron. Journal ofEconomic Perspectives, 17(2):3, Spring.         [ Links ]

Imandin, L. 2014. Developing a conceptual framework to analyse engagement and disengagement in the workplace. Potchefstroom: North-West University (Thesis - PhD).         [ Links ]

McDonald, C. 2017. Business ethics. http://www.businessethics.ca/definitions/business-ethics.html [15 July 2017].         [ Links ]

McNichols, C. & Zimmerer, T. 1985. Situational ethics: an empirical study of differentiators of student attitudes. Journal of Business Ethics, 4:175-180.         [ Links ]

Naidoo, K. 2011. Stress management and its impact on work performance ofeducators in public schools in KwaZulu-Natal. Potchefstroom: North-West University (Proefskrif - PhD).         [ Links ]

Nel, D., Pitt, L. & Watson, R. 1989. Business ethics: defining the twilight zone. Journal of Business Ethics, 8:781-791.         [ Links ]

Palich, L.E., Neubert, M.J. & McKinney, J.A. 2016. Ethical attitudes of business professionals in China and the United States: same or different? The Journal of Business Inquiry. http://www.uvu.edu/woodbury/jbi/volume15/ [15 July 2017].         [ Links ]

Peterson, R.A. 2001. On the use of college students in social science research: insights from a second-order meta-analysis. Journal of Consumer Research, 28:450-461.         [ Links ]

Phau, I. & Kea, G. 2007. Attitudes of university students toward business ethics: a cross-national investigation of Australia, Singapore and Hong Kong. Journal of Business Ethics, 72:61-75.         [ Links ]

Post, J.E., Lawrence, A.T. & Weber, J. 2002. Business and Society: Corporate Strategy, Public Policy, Ethics. New York, NY: McGraw-Hill.         [ Links ]

Rapule, S., Bisschoff, C.A. & Botha, C.J. 2013. Changes measured in the ethical predisposition of the next generation of business leaders in the Republic of South Africa: 2007 versus 2011. 7th International Business conference. Mahé, Seychelles, pp. 19-30.         [ Links ]

Tse, A. & Au, A. 1997. Are New Zealand business students more unethical than non-business students? Journal of Business Ethics, 16(4):445-450.         [ Links ]

Wyld, D. & Jones, C. 1997. An empirical look at the use of managerial and non-managerial student subjects for inquiries into ethical management. Management Research News, 20(9):18-30.         [ Links ]

Zin, R.M. 2013. Business ethical orientations among management students: a comparative study of two countries. Journal of American Academy of Business, 18(2):297-302.         [ Links ]

 

 

 

Christo Bisschoff het sy loopbaan as landbou-ekonoom begin waarna hy as dosent in Ondernemingsbestuur by die Universiteit van Pretoria aansluit. Hy studeer deeltyds en behaal die grade MCom (1990) en DCom (1992) aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy spesialiteits-velde is Bemarkings- en Landboubestuur. Christo fokus later op handelsmerkstrategie, bestuurs-etiek en doen verder steeds navorsing oor sy gunstelingonderwerp, landboubestuur. Sy navorsing behels vergelykende studies wat hy saam met sy internasionale medewerker-netwerk doen en hy het reeds verskeie geakkrediteerde artikels gepubliseer en internasionale konferen-sies oor die wêreld toegespreek. Hy tree verder op as referent vir verskeie plaaslike en interna-sionale tydskrifte, het gedien op die tegniese paneel van die Bemarkingsassosiasie van Suid-Afrika en was ook die voorsitter van die Interna-sionale Besigheidskonferensie. Hier was hy redakteur van die konferensiebundel en dien steeds op die akademiese paneel. Christo doseer Bemarkingsbestuur aan die Noordwes-Uni-versiteit se NWU Besigheidskool op Potchef-stroom.
Christo Bisschoff started his career as an agricultural economist whereafter he joined the University of Pretoria as a lecturer in Business Management. He studied part-time at the University of South Africa and obtained the degrees MCom (1990) and DCom (1992), specialising in Marketing and Agricultural Business Management. Christo focuses his research on brand loyalty, business ethics and still does research on his favourite topic, agricultural business management. He collaborates with his international network and also focuses on comparative research. He has published a wide array of accredited articles and has addressed audiences at international conferences, has acted as reviewer for a number of accredited journals and has served on the technical panel of the Marketing Association of South Africa. He was the chairman of the International Business Conference and published the conference proceedings as editor; he still serves on the academic committee. Christo lectures Marketing Management at the North-West University's NWU Business School at Potchefstroom.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License