SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue3South Africa's water crisis - an interdisciplinary approachEmancipatory learning and educational research author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.3 Pretoria Sep. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n3a4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Morele leierskap noodsaaklik vir versoening -toegepas op die Israel-Palestina konflik

 

Moral leadership necessary for reconciliation - applied to the Israel-Palestinian conflict

 

 

Chris Jones

Fakulteit Teologie Universiteit Stellenbosch. E-pos: chrisjones@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel poog om uit te wys dat versoening, veral in konflik-geteisterde gebiede, moeilik is sonder morele leierskap. Morele leierskap moet egter in lyn met sekere biologiese kerndrywers, soos evolusionêr in die mens bepaal, gebring word. Waar dit nie in lyn hiermee is nie, is transformasie op die langtermyn nie werklik moontlik nie. In die lig hiervan word daar stilgestaan by versoening wat onontbeerlik is as ons menslik wil saamleef. Binne hierdie raamwerk van morele leierskap asook versoening word die historiese en eietydse perspektief op die konflik tussen die Israeli's en Palestyne in oënskou geneem en hoe hierdie morele leierskapsmodel, geïntegreerd hiermee, moontlik kan help om, in lyn met internasionale wetgewing en menseregte (alhoewel dit nie bespreek word nie) vrede en versoening in hierdie eeue-oue Midde-Oosterse konflik-geteisterde gebied te bring. Hierdie model word ook baie kortliks met sekere etiese teorieë en beginsels in verband gebring.

Trefwoorde: morele leierskap; ingebore drywers van gedrag; kernwaardes; voorspoed; geregtigheid; vertroue; kennis; versoening; nuwe mensheid; Israel-Palestynse konflik; Joodse fundamentalisme; Sionisme; godsdiensinvloed


ABSTRACT

This article seeks to show that reconciliation, especially in conflict-stricken areas, is very difficult without moral leadership. Moral leadership is meant to bring wholeness and reconciliation and give people a chance to live according to their full potential and rights. It usually brings about deep and lifelong changes, not only to individuals, but also to communities and societies. The presence or absence of true moral leadership is usually inextricably linked to the emotional maturity as well as the discerning ability of leaders and a country's people. It also depends on spiritual maturity, although morality is not primarily determined by this. Moral leadership, however, must be brought in line with certain biological key drivers, as evolutionary determined in human beings. Where this is not in line, long-term transformation, based on prosperity for all, justice, trust and knowledge, is not really possible. In light of this, the focus falls on reconciliation that is indispensable if we want to co-exist humanely. Reconciliation, however, is radical. It creates a new kind of humanity. It involves more than the veiling of evil. It is about addressing injustice. Radical reconciliation means the establishment of real relationships, actually life-long relationships, especially with people who are marginalised, powerless and outraged, and whose dignity you did not previously recognise. It is about confession and forgiveness. It is a call to exchange places with the other Within thisframework, the historical and contemporary perspectives ofthe Israeli-Palestinian conflict are explored, and I try to prove how this moral leadership model, integrated with certain important aspects regarding this conflict, may help bring about peace and reconciliation in this age-old Middle East conflict-torn area, obviously in line with international law and human rights (although not discussed). This model is also very briefly related to certain ethical theories and principles. The article reasons that no conversation about the conflict in Palestine is meaningful without asking among others the following questions: To whom does Palestine really belong? Who has the greatest historical claim on this territory? Why is it so difficult to settle the conflict between Israel and the Palestinians? To better understand the decades of conflict in the Middle East the article helps to try and grasp the historical roots that gave rise to this conflict. In this process, it is also necessary to reconsider many of the accepted dogma about, for example, the Zionist movement and their historical claim on the Palestinian territory. The article indicates how land on which the Palestinians lived for more than 1 000years, was with the emergence of the Israeli state, taken away from them mostly by violence and without their consent. From the beginning it was the Zionist's goal to alienate the non-Jewish Palestinians from their land. Zionism, however, was based on an erroneous colonialist view of the world in which there is no sense for the rights of indigenous people. The refusal to recognize the Palestinian's right to self-determination and an own state, appears to be for many years the main causes of violence and bloodshed in this area. It is not good enough for politicians to just manage this crisis, it has to be solved. Activist's role in this regard, must not be underplayed too. However, this can only be done by moral leadership in accordance with international law and human rights. This is the only way in which sustainable peace will be possible. In this regard, Israel has a lot of work to do. The prospects for peace talks are slim because many UN resolutions, under the diplomatic cloak of the United States, are denied, even rejected. The US supplies provisions of billions of dollars to Israel. This does not even include fighter-planes, technology and weapons. Another last important thought mentioned regarding this conflict has to do with the influence of religion on the current state of affairs. This conflict just shows us how strong age-old (religious) traditions, dividing decisions and discriminatory actions still function in our modern societies.

Key words: moral leadership; evolutionary determined key drivers of behaviour; core values; prosperity; justice; trust; knowledge; reconciliation; new humanity; Israel-Palestinian conflict; Jewish fundamentalism; Zionism; religious influence


 

 

1. INLEIDENDE OPMERKINGS OOR MORELE LEIERSKAP

Leierskap wat nie uit gesonde, morele kernwaardes spruit nie, kan nie werklik tot versoening lei nie. Ware morele leierskap is radikaal; dit kós 'n mens. Dit kan nie deur magsbeheptheid en met mooi woorde as rookskerm om huigelary te verbloem, bepaal word nie. Mense raak agterdogtig oor leierskap wat net gerig is op eie politieke voordeel, sosio-ekonomiese beskerming en nepotisme. Hulle betreur hardvogtige optrede - wat geregverdig word - maar waarvan die wreedaardigheid onbeskryflike gevolge vir die "ander" inhou. Sulke soort leierskap voed normaalweg net die wêreld van die magtiges, want transformerende geregtigheid, wat aanleiding gee tot versoening, lê selde in die hart van hul pogings. Egte, radikale versoening volgens Allan Boesak en Curtiss de Young, word selde in die skadu van die "troon" gevind (Boesak & De Young 2012:4).

Morele leierskap is veronderstel om heelheid en versoening te bring en mense 'n kans te gee om volgens hul volle potensiaal en regte te leef. Dit bring normaalweg diep en lewenslange veranderinge nie net by individue nie, maar ook in gemeenskappe en samelewings. Die aan- of afwesigheid van ware morele leierskap is gewoonlik onlosmaaklik verbind met die emosionele volwassenheid asook onderskeidingsvermoë van leiers en 'n land se mense. Dit hang ook saam met spirituele volwassenheid, alhoewel moraliteit nie primêr hierdeur bepaal word nie.

Die pad van 'n oordrewe, grypsugtige gees en 'n allesoorheersende narsistiese mentaliteit het die vermoë om die siel van gemeenskappe en 'n nasie uit te droog. Die wêreld sal vinniger op die pad van radikale morele leierskap moet vorder as ons werklik diepgaande versoening, veral in konflik-geteisterde gemeenskappe, wil hê. 'n Mens besef egter die omvang en "koste" van hierdie taak. Daar is niks romanties daaraan om onregverdige, skynheilige, immorele optrede uit te daag nie - om ambisieuse en opportunistiese leiers te konfronteer met die waarheid nie.

Morele leierskap is 'n pad waar die binnekring bereid moet wees om van buite te kyk. Dit behoort 'n pad van aanleer én afleer te wees. Dit moet 'n pad wees waar elkeen met hul héle menswees moet kan loop. Morele leierskap waak daarteen dat sekere denke se drakrag oorskat word, want waar dit wel gebeur, kan dit so maklik soos afgode word. En afgode, weet ons, moet eers sterf voor die (W)aarheid werklik omarm kan word. Wanneer feite, soos wat die individu of groep dit ten alle koste wil verstaan, méér waar gemaak word as wat dit is, word hierdie weg uiteindelik 'n skyn-waarheid wat nie die toets van die tyd kan deurstaan nie.

In hierdie artikel word 'n baie definitiewe (evolusionêr-bepaalde) morele leierskapsmodel gekies. Alhoewel dit nie spesifiek binne 'n breër oorsig van etiese teorieë en beginsels geplaas en bespreek gaan word nie (vanweë beperkte ruimte), word hier wel kortliks verwys na sekere belangrike aspekte van verskillende breë etiese teorieë en beginsels, wat in hierdie model ingebed lê. So byvoorbeeld word die belangrike deontologiese kenmerk naamlik, dat 'n mens jou plig/verpligtinge teenoor jou naaste of 'n gemeenskap moet nakom, ter wille van etiese korrektheid en integriteit, deeglik gehandhaaf. Dit is egter baie versigtig vir utilitarisme wat leer dat iets eties korrek is as dit bruikbaar is deur en tot voordeel is van die meerderheid. Hierdie model het nie (noodwendig) die meerderheid mense op die oog nie, maar word gerig deur biologiese kerndrywers wat mag beteken dat dit nie n ander keuse het as om in belang van n spesifieke minderheidsgroep op te tree nie. Hierdie model vra deurgaans, ongeag persoonlike gevoelens of die moontlike inperking deur wetgewing soos gedryf deur 'n spesifieke groep of individue, wat billik en regverdig is, en wat jy kan doen om volgens jóú innerlike oortuigings, dapper etiese leierskap te openbaar. Dit is baie sterk in menseregte en bepaalde deugde gegrond. Dit gaan daaroor om die meeste "goed", heilsaamheid en voordeel vir mense te beding, veral daar waar mense benadeel word en dalk in die minderheid is - en waar die goeie verhoed word, te sorg dat die minste skade aan daardie mense berokken word. Dít kan gebeur deur geregtigheid te laat geskied en om mense die reg tot outonomie te gun. In hierdie model, wat homself kies op die spoor van evolusie, word van hierdie geselekteerde etiese beginsels en kenmerke van etiese teorieë verreken, met die uitsluitlike doel om morele leiding te gee, en waar daar byvoorbeeld benadeling en konflik is, oplossings te probeer bewerkstellig. Hier word dus n voorkeurmodel op grond van biologiese kernbeginsels aangebied om onder andere onmin, onreg en konflik aan te spreek. Alhoewel dit as normatief en deduktief ervaar sou kon word, hou dit, soos hierbo aangedui, wel ander etiese besluitnemingstyle, keuses, reëls en modelle in gedagte. Daar word besef dat hierdie model, soos alle ander etiese teorieë, leemtes in sy mondering mag hê, maar dit word aangebied as n morele vertrekpunt en rigtingwyser vir individue en gemeenskappe wat belangrike etiese besluite moet neem.

In die volgende afdeling gaan juis stilgestaan word by hoe morele leierskap in die proses van evolusie in die mensspesie Homo sapiens sapiens vasgelê is. Indien leiers hulle doelbewus hieraan steur, mag dit bydra tot versoening tussen groepe.1

 

2. INGEBORE DRYWERS VAN GEDRAG

Miskien is die mees noemenswaardige afleiding rakende menslike gedrag wat voortspruit uit Charles Darwin se wetenskaplike studies, wat meer as 150 jaar gelede gepubliseer is, die idee van die vier ingebore, evolusionêr-bepaalde drywers van gedrag. Mense het ontwikkel om anders as diere te oorleef. As spesie het ons oorleef omdat ons geleer het om in groepe te werk en op probleemoplossingsvaardighede eerder as brute krag, staat te maak.

Paul Lawrence, eertydse professor aan die Harvard-sakeskool, reken dat Darwin se insigte oor menslike drywers rakende gedrag oor baie jare heen grootliks geïgnoreer is. Hy en Nitin Nohria stel in Driven: How human nature shapes our choices (2002), 'n teorie van menslike gedrag voor wat gebaseer is op n "renewed Darwinism" en vier sleutel-drywers (Lawrence 2017), wat ook deur Marc Hauser in sy boek Moral Minds (2006), verduidelik word.

Hulle skryf dat alle diere op grond van twee belangrike, ingebore drywers oorleef. Dit het te doen met (1) die verkryging van hulpbronne en 'n nageslag, en (2) om hulself en hul grondgebied (eiendom) te beskerm. Die mens het deur middel van evolusie twee bykomende drywers ontwikkel, wat ook in sekere ander soogdiere na vore kom, maar soveel sterker in die mens manifesteer, naamlik (3) die drywer om met vertroue langtermyn-verhoudings te vestig en daarin te belê, en (4) die drywer om te kan verstaan - om te leer, te skep, kreatief te wees, en 'n breër begrip van sake te ontwikkel. Mense weeg en balanseer botsende eise en belange, terwyl hulle op die menslike brein se merkwaardige potensiaal hiervoor staatmaak; die brein wat in staat is tot goeie, morele leierskap, maar, helaas, ook tot slegte, verkeerde, misleidende en bose optrede (Lawrence 2017).

2.1 Kernwaardes

Lawrence sluit aan by Marc Hauser (2006), wat in sy genoemde boek Moral minds nadink oor hoe gedrag lyk wat hierdie drywers of basiese natuurwetmatighede, nie net in 'n mens se eie lewe nie, maar ook in die lewe van ander mense versterk en bevorder. Volgens Lawrence hou goeie leiers al vier hierdie geëvolueerde drywers in n dinamiese balans. Hierdie vier drywers, asook die spesifieke gedrag wat dit moet versterk, wanneer uitgedruk as selfstandige naamwoorde eerder as werkwoorde - lewer vier uiters belangrike kernwaardes op, naamlik voorspoed/florering, geregtigheid, vertroue, en kennis (Lawrence 2017).

2.1.1Voorspoed

Hierdie kernwaarde korrespondeer met die drywer rakende die verkryging van hulpbronne. Dit poog om, sover moontlik, álle mense se vermoë om die nodige hulpbronne te bekom, te verbeter. Dit fokus nie net op eie voorspoed nie. Dit vra eerlik waarop ander mense geregtig is, en bevorder dit tot elke prys, al ontlok dit wrewel en woede. Dít vra natuurlik selfbeheersing en selfopoffering, eenvoud en tevredenheid. Dit is 'n uitdaging om nié deel te word van die heersende neiging tot opeis, hebsug en magsug nie. Dít word moontlik deur ander mense aktief te help om te floreer en hulle 'n kans op 'n goeie of beter lewe te gee. Daar moet egter gewaak word teen "vals vrygewigheid" om gewetes te sus (Boesak & De Young 2012:146-147).

2.1.2Geregtigheid

Dít korrespondeer met die drywer van beskerming. Hiervoor is moed en dapperheid nodig. Geregtigheid hou die ander veilig, beskerm hul naam, identiteit, idees en oortuigings, bewaar hul integriteit, hul geliefdes en eiendom - nie net die eie nie. Dit sluit kwesbare kinders in wat soms blootgestel en uitgelewer word aan destruktiewe planne en vernietigende besluite van volwassenes. Waar geregtigheid nagestreef word, word daar nie net 'n sluier oor onreg getrek nie - en onreg word nié in die magtiges se belang geprioritiseer nie. Versoening kan nooit by neutraliteit begin nie. Dit begin deur volledig aan die kant van geregtigheid te gaan staan - veral by diep gewondes en geviktimiseerdes (Boesak & De Young 2012:101-102). Versoening moet gebaseer wees op die verwydering van ongeregtigheid - op persoonlike en sistemiese vlak.

2.1.3Vertroue

Vertroue het goeie en langtermynverhoudings of sosiale kohesie in die oog. Hiervoor is eerlikheid, integriteit, asook die bevordering en bou van vrede nodig. Die Britse historikus Anthony Seldon sê in hierdie verband: "we believe that trust is innate, and that we flourish in a trusting world. Performing trustful acts makes us feel happy: there is a natural compulsion to give and receive trust, and to be honest" (Seldon 2009:25).

2.1.4Kennis

Kundigheid en inligting is in hierdie opsig ontsettend belangrik. Dit vereis om leerbaar, kreatief en innoverend te bly sin maak van die wêreld en die mens se plek daarin. Alhoewel Stamos (2008:9-10) oordeel dat spesialisasie in enige veld of situasie uiters belangrik is, oordeel hy ook dat interdissiplinêre studie met 'n oop gemoed uiters noodsaaklik is om die wêreld en hoe dit werk, (beter) te verstaan. As 'n mens werklik deur 'n ondersoekende gees en 'n dors na inligting en kennis vervul en gedryf word, kan baie moontlikhede ontkiem. Alhoewel rasionaliteit 'n belangrike rol in hierdie opsig speel, word inligting ook oorgedra deur storievertelling, narratiewe en verskillende interseksionele ontmoetings met mense. Stories is kragtig - soos ook deur kinders vertel - en kan mense uit hul gemaksones verskuif. Dit kan dominante magte en kragte verander. Dit kan betekenisvol en doelgerig wees asook verskillende menings effektief oordra. Oorheersende stories kan egter ook grense skep en ander nodige inligting blokkeer. Die dominante verhaal of storie is nie die enigste nie. Daar is ook ander stories wat gehoor moet word vir nuwe, maksimale insigte en om te kan transformeer.

Kennis en inligting (goed nagevors en getoets) weet hoe noodsaaklik dit is om te alle tye met integriteit die waarheid te praat. Dit weerhou nie, maar openbaar; dit bespot nie, maar respekteer; dit intimideer nie, maar inspireer; dit manipuleer nie, maar motiveer. Hoe groter die eiland van kennis, hoe langer die kuslyn van respek, vertroue en bewondering.

Die beste morele leiers gee aan ál vier hierdie kernwaardes gelyktydig aandag, sodat daar vir die meeste mense gepaste voordeel kan wees. Hulle weeg en balanseer dit, veral as daar konflik is (Lawrence 2017). As leiers vir soveel as moontlik mense voorspoed begeer en onderhandel, maksimum geregtigheid laat geskied, belê in gesonde, betekenisvolle langtermyn-verhoudings en soveel as moontlik persone blootstel aan kennis, inligting en vaardighede, móét dit lei tot die oorbrugging van groot ongelykhede, asook tot sosiale kohesie en diepgaande versoening. In teenstelling hiermee lê slegte leiers uitermate klem op net enkele van hierdie aspekte (dikwels eie voorspoed en beskerming van net hulself en hul bates) ten koste van die ander en gevolglik ook ten koste van versoening en heling.

Volgens Francisco Ayala moet die uitdaging wees om hierdie waardes so goed/effektief as moontlik in lyn met die natuurlike drywers te bring. Waar dit nie in lyn gebring word nie, sal spesifieke waardes, kodes of kultuur op die lang termyn nie oorleef nie (Ayala 2012:174175). Hoe nader hierdie waardes aan die mens se biologiese samestelling kom, hoe groter is die kans op gesonde, versoende gedrag. Iets wat nie daarmee strook nie, kan nie (onbepaald) oorleef nie en bring wrywing en konflik.

Ek glo in 'n geïntegreerde teorie van menslike gedrag: n leierskapsteorie wat toetsbaar is en hopelik sal help om sekere gebeure beter te analiseer en uitkomste (goed en nadelig) beter te antisipeer. Waar morele waardes in ooreenstemming is met die mens se biologiese aard, kan realistiese volhoubare nie-diskriminerende veranderinge geskep word. Een verwagting in hierdie verband is dat vrese en wanopvattings onder mense rakende ánder op hierdie wyse oorkom sal kan word; dat mense op vreemde maniere verbaas sal staan; dat hierdie model mense sal help om oor grense heen te dink en 'n innerlike oog sal ontwikkel met betrekking tot die pyn, gebrokenheid en marginalisering van ander om sodoende hoop te bring en die wêreld 'n nuwe manier van mens-wees te wys (Jones 2017).

2.2 Koste vir die afwesigheid van morele leierskap

Morele leierskap spruit uit 'n mens se diepste bronne van menswees. Dit is in hierdie dieptes, in die "siel", vanuit die biologiese samestelling van die mens waar kernwaardes hul oorsprong het, van waar dit moeisaam groei, gevorm en gelouter word. Wat benodig word, is rolmodelle, figure wat kernwaardes modelleer. Morele leierskap is 'n baie moeilike pad. Min mense stap dit regtig. Die prys vir die afwesigheid van morele leierskap is egter baie duur.

"Bereken ons ooit dié koste? Vir ons ekonomie en politiek, plaaslike bestuur en dienslewering? Vir onderwys en kerk? Firmas en banke? Vir ons kinders, ons toekoms? Wonder ons ooit oor dié koste, dié prys - van ons gebrék aan morele leierskap" vra Dirkie Smit so treffend in een van sy rubrieke (Smit 2013:12).

Na hierdie kort bespreking van wat morele leierskap is, en hoe dit in lyn met ons evolusionêre samestelling gebring behoort te word, gaan daar kortliks gekyk word na wat met versoening bedoel word, met die oog op die konflik tussen die Israeli's en Palestyne. Die rede hiervoor is dat n belangrike oogmerk asook gevolg van hierdie morele leierskapmodel juis versoening behoort te wees.

 

3. VERSOENING

3.1 'n Nuwe mensheid2

Radikale versoening beteken die vestiging van egte verhoudings, eintlik lewenslange verbintenisse met veral mense wat gemarginaliseer, magteloos en verontreg is, en wat mens dalk vroeër nie geduld het nie. Dit gaan oor belydenis en vergifnis. Dit is 'n oproep om plekke met "die ander" te ruil.

Vir Brian Bantum lei radikale versoening tot 'n plek

where persons can no longer return to their former people for they speak with a new accent, their lives are marked by new rhythms, enemies have become friends, and friends have become enemies ... we become sutured into a new people and become surprised by the people we become in the process. (Bantum 2010:184,192)

Versoening lei tot 'n nuwe mensheid. Tydens die versoeningsproses, na die opspraakwekkende Reitz-4 episode op die Kovsie kampus (2008), is daar aan 'n swart manstudent gevra watter oomblik in die versoeningsproses het hom die diepste geraak. Hy sê toe:

When Mama Emma Koko [een van die werkers] told the white students 'we forgive you, you are our sons', I really understood the depth and meaning of their forgiveness. As Africans we understand if the mothers claim them as their sons, we cannot refuse them as our brothers. (Boesak & De Young 2012:110-111)

Om ons te help met hierdie soort verandering en perspektief, het ons egter profete nodig. Profete vra moeilike vrae en eis eerlike antwoorde ter wille van integriteit en geloofwaardigheid. Die Joodse denker en rabbi, Abraham Heschel, sê profete is

some of the most disturbing people who have ever lived ... The prophet indicts those who create or benefit from oppression. The role of the prophet, as the old saying goes, is to afflict the comfortable and comfort the afflicted. Prophets express the anger of God at injustice while communicating God's compassion to the oppressed. (Heschel 2001:xxi,4)

Die geskiedenis wys wel dat mense wat die mantel van profesie aantrek, wat die wêreld aan die noodsaaklikheid van morele leierskap bly herinner, dikwels nie goed ontvang word nie. Moderne samelewings kry dit alte dikwels reg om profete stil te maak deur verwerping, vervolging, tronkstraf en selfs die dood. Dit lyk of daar 'n patroon in die menslike kultuur is: ons is baie gemakliker met profete wanneer hulle dood is as wanneer hulle leef. Dán eer ons hulle in die publiek en stal hul bydraes in museums en heilige plekke uit. In Luk 11:47 sê Jesus: "Ellende wag vir julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor". Profete en radikale versoeners moet aanvaar dat hulle nooit, wanneer hulle die waarheid verkondig, deur hulle familie, tuisdorp, nasie en etniese groep geëer sal word nie (Boesak & De Young 2012:124-125). En waar profete stilgemaak word, seëvier ongeregtigheid.

Een van die redes hoekom profetiese woorde en dade so ongemaklik is, is omdat dit werklike verandering vereis. Versoening sónder geregtigheid, onpartydigheid, eerlikheid en menswaardigheid, is hoegenaamd nie versoening nie. Ook is vergifnis, wat so belangrik vir versoening is, nie maar net 'n kwessie van vergeet en aanbeweeg asof niks werklik gebeur het, of niks verder gedoen hoef te word nie. Prof Willie Esterhuyse vertel dat hy by 'n gesprek oor sosiale kohesie in Kliptown opnuut bewus geword het dat versoening nie oor vergewe en vergeet gaan nie, maar eerder oor onthou en vergewe. Boesak en De Young bevestig dit: "Forgiving is . holding the memory as holy before God, so that the victim is honoured and the atrocity is never repeated again" (Boesak & De Young 2012:154).

Hierdie soort versoening het egter niks met sentimentaliteit te doen nie. Daar is niks romanties daaraan om onregverdige, immorele politieke en ekonomiese beleidsrigtings, wat vernietigende armoede skep en inkomste-ongelykheid bevorder, uit te daag en te omvorm tot volhoubare politieke en ekonomiese geregtigheid nie. Radikale versoening ontstaan feitlik nooit vanuit die sentrum van politieke en godsdienstige mag nie. Dit begin selde, indien ooit, by die binnekring of leierskap. Dit ontspring eerder aan die periferie - by mense wat op profetiese wyse teen die grense lê - en wat magsbehepte en grypsugtige leiers konfronteer met die waarheid. "Cheap reconciliation, in pretending to be more and more like God, becomes less and less like God" (Boesak & De Young 2012:157).

Vervolgens word daar aandag geskenk aan 'n historíese blik op die jarelange konflik tussen Israel en Palestina, en hoe bogenoemde leierskapsmodel moontlike versoening in hierdie gebied sou kon bring, sou leiers en aktiviste doelbewus hieraan aandag skenk en in lyn hiermee probeer optree.

 

4. HISTORÍESE AANLOOP TOT DIE ISRAEL-PALESTINA KONFLIK

Alhoewel hier heelwat kritiese aspekte rakende Sionisme uitgelig word, moet hierdie perspektief nié as anti-Semities beskou word nie. Hier word gekyk na moontlike wortels wat hierdie konflik veroorsaak met die oog daarop om te probeer vasstel in watter mate morele leierskap, soos in hierdie artikel beredeneer, rigting vir moontlike oplossings en/of versoening in hierdie gebied kan aandui.

4.1 Die vroeë geskiedenis van die streek

Van die vrae wat sou kon help om hierdie konteks beter te verstaan, sluit in: Aan wie behoort Palestina? Wie het die grootste historíese aanspraak op die grondgebied? Waarom is dit so moeilik om die konflik tussen Israel en die Palestyne te besleg? Om die dekades-lange konflik in die Midde-Ooste beter te verstaan, help dit om die historiese wortels wat hiertoe aanleiding gegee het beter te verstaan. In die proses is dit ook nodig om baie van die aanvaarde dogma oor byvoorbeeld die Sionistiese beweging en hul historiese aanspraak op Palestynse grondgebied in heroënskou te neem.

Die grond waarop die Palestyne vir méér as 1 000 jaar gewoon het, is met die totstandkoming van die Israelse staat meestal met geweld en sonder hul instemming van hulle afgeneem. Van die begin was dit die Sioniste se doelwit om die nie-Joodse Palestyne van hul grond te vervreem. Sionisme was egter op 'n foutiewe kolonialistiese wêreldbeskouing gegrond waarin daar min ag geslaan is op die regte van inheemse mense.

Tussen 3 000 en 1 100 v.C. het die Kanaäniete op die grond gewoon wat vandag as Israel, die Wesoewer, Libanon en die grootste dele van Sirië en Jordanië bekend staan. Die Hebreërs het teen ongeveer 1 250 v.C. hierheen migreer. Volgens opgrawings was Jerusalem teen hierdie tyd reeds 'n gevestigde stad. 'n Baie gesofistikeerde waterstelsel wat in daardie stadium moontlik al agt eeue oud kon wees, getuig hiervan (Washington Report On Middle East Affairs 2011).

Die Joodse koninkryke was slegs een van baie tydperke in antieke Palestina. Die uitgebreide koninkryke van Dawid en Salomo waarop die Sioniste hul grondeise baseer, het in totaal net 78 jaar (1000-922vC) geduur. En sou 'n mens die algehele duur van die Joodse koninkryke - vandat Dawid Kanaän in 1 000v.C. verower het tot die uitwissing van Juda in 586v.C. - as onafhanklik beskou, het die Jode vir 'n totaal van (net) 414 jaar regeer (Beatty 1957:45).

Palestina, die bakermat van die Christendom, het in die 7de eeu reeds 'n oorheersend Arabiese land geword. In 1516 word Palestina 'n provinsie van die Ottomaanse Ryk, maar dit was steeds nie minder Arabies nie. Sedert 1882 het Joodse koloniste in Palestina begin vestig, maar tot en met die lente van 1948, toe Israel as staat gevestig is, was Arabiere verreweg in die meerderheid. In 1931 byvoorbeeld was daar 174 606 Jode teenoor 'n totale bevolking van 1 033 314 (Said 1992:11). Daar was egter steeds ook afstammelinge van die Semiete - die oorspronklike inwoners van die landstreek - wat Christene, Jode, of Moslems was.

In 1858 word die Ottoman-grondkode van krag wat vereis dat landbougrond in die naam van individuele eienaars geregistreer word. Vir die eerste keer kon 'n landbewoner ontneem word van sy reg om op grond te bly, dit te bewerk en oor te dra aan 'n volgende geslag. Voorheen was hierdie regte onvervreembaar. Hierdie kode het egter dikwels gemeenskapsregte op eiendom geïgnoreer (Said & Hitchens 2001:211). In 1919 sê Weizman, Sionistiese leier op daardie stadium, die volgende tydens 'n vredeskonferensie in Parys: "The Arabs will be our problem for a long time... It's not going to be simple. One day they may have to leave and let us have the country. They're ten to one, but don't we Jews have ten times their intelligence?" (Wilson, 2003).3

Ná die val van die Ottomaanse Ryk en die Eerste Wêreldoorlog word Palestina 'n Britse mandaatgebied.

4.2 Britse mandaatperiode: 1920-19484

Die Balfour-deklarasie van November 1917 wat deur die Britse regering uitgevaardig is, het 'n Joodse tuisland in Palestina belowe. Dit beteken 'n Europese krag het 'n besluit geneem oor 'n nie-Europese gebied sonder inagneming van die teenwoordigheid en wense van die grootste meerderheid inwoners van daardie gebied - die Palestyne. In 1921 het dr Eder, 'n lid van die Sionistiese Kommissie, hulle intensies baie duidelik gemaak: "There can be only one National Home in Palestine, and that a Jewish one, and no equality in the partnership between Jews and Arabs..." (Hadawi 1991:51). Van 1936 tot 1939 het die Palestyne in opstand gekom, maar is met brutale Britse mag onderdruk. Oor die 1938 Palestynse konflik word Ghandi soos volg aangehaal:

Palestine belongs to the Arabs in the same sense that England belongs to the English or France to the French. ... What is going on in Palestine today cannot be justified by any moral code of conduct. ... Jews can settle in Palestine only by the goodwill of the Arabs. . As it is, they are co-sharers with the British in despoiling a people who have done no wrong to them. According to the accepted canons of right and wrong, nothing can be said against the Arab resistance in the face of overwhelming odds. (Mendes-Flohr 1984:108)

In 1947 toe die Verenigde Nasies se partisieplan aangekondig is, het dit grond wat onwettig deur Jode bekom en besit is, amptelik aan hulle toegeken. Die destydse Sioniste-leier, David Ben-Gurion, was uiters ongelukkig hieroor, want hy wou nog méér grond hê as wat deur die VN bepaal is - ten koste van die Palestyne, natuurlik (Morris 1998). Teen hierdie tyd was Amerika een van die mees aggressiewe voorstanders van partisie. Die Verenigde Nasies het met dié partisieplan een van hul eie kernbeginsels, naamlik dié van die reg tot selfbeskikking vir álle mense, geweld aangedoen (Hadawi 1991:76).

In Desember 1947 het Brittanje aangekondig hy gaan op 15 Mei 1948 uit Palestina onttrek. Palestyne in Jerusalem en Jaffa het toe 'n protes teen die partisie uitgeroep en gevegte het feitlik onmiddellik in die strate van Jerusalem uitgebreek. In April 1948 was agt uit die 13 groot Sionistiese militêre aanvalle gemik op Palestyne in die gebied wat aan die Arabiese staat toegeken was (Emerman et al. 1981:68,71). Met hul sterk militêre mag het die Europese Jode teen 15 Mei 1948 die meeste Arabiese stede in Palestina ingeneem. In teenstelling hiermee het die Palestyne nie beslag gelê op een van die gebiede wat deur partisie vir die Joodse staat gereserveer was nie (Cattan 1969:37).

Ná 15 Mei 1948 het die Arabiere toegetree tot die stryd, maar dit was die tweede fase van die oorlog - in reaksie op die massamoorde, uitsettings en onteiening wat oor tyd deur Sioniste aan hulle gedoen is (Hadawi 1991:92). Joseph Weitz, direkteur van die Joodse Nasionale Grondfonds, het op 19 Desember 1940 gesê: "It must be clear that there is no room for both peoples in our country..." (Said 1992:99). Hy het gereken alle Arabiere moes na naburige lande verplaas word, behalwe miskien dié in Bethlehem, Nasaret en Ou Jerusalem. Daar is honderde sulke stellings gemaak (Said 1992:100). Edward Said sê verder: "Israel has negated the possibility of return... systematically and juridically made it impossible, on any grounds whatever, for the Arab Palestinian to return, be compensated for his property, or live in Israel as a citizen equal before the law with a Jewish Israeli" (Said 1992:49). Die weiering om Palestyne se reg tot selfbeskikking en 'n eie staat te erken, blyk oor jare van die belangrikste oorsake vir die geweld en bloedvergieting daar te wees.

In die winter van 1949 was meer as 750 000 Palestyne in ballingskap. In die koue het families in grotte, hutte en tente gebly - uitgehonger, dikwels binne sigafstand van hul eie groentetuine in Palestina, wat tóé deel was van die nuwe staat van Israel (Emerman et al. 1983:75,77-78).

4.3 Die 1967 oorlog, die Israeliese besetting van die Wesoewer en Gaza, en die tyd daarna5

Egipte het nie die 1967-oorlog begin soos aanvanklik deur Israel beweer is nie. Dít is deur 'n voormalige bevelvoerder van die Lugmag, Generaal Ezer Weitzman, bevestig: "In June 1967, we again had a choice. The Egyptian Army concentrations in the Sinai approaches do not prove that [Egyptian president Gamal Abdel] Nasser was really about to attack us. We must be honest with ourselves. We decided to attack him" (Chomsky 1983:100). Yitzhak Rabin, Stafhoof van Israel, beaam dit: "I do not think Nasser wanted war. The two divisions he sent to The Sinai would not have been sufficient to launch an offensive war. He knew it and we knew it" (Quigley 1990:164). Moshe Dayan, Verdedigingsminister in 1967 wat die bevel gegee het om die Golan Hoogland in te neem, sê:

[M]any of the firelights with the Syrians were deliberately provoked by Israel, and the kibbutz residents who pressed the Government to take the Golan Heights did so less for security than for the farmland. ... They didn't even try to hide their greed for the land. ... And then we would use artillery and later the air force also, and that's how it was. (Schmemann 1997)

Sedert die Sesdaagse Oorlog van 1967 het Israel min gevoel vir internasionale wetgewing. Hulle het 52% van die grond in die Wesoewer beset en 30% van die Gasastrook, vir óf militêre gebruik óf die vestiging van Joodse burgers. Tans is dit veel meer. Net tussen 1967 en 1982 het Israel se militêre regering 1 338 Palestynse huise op die Wesoewer vernietig. Sedertdien het hierdie vernietiging voortgegaan. Gedurende dieselfde tydperk is meer as 300 000 Palestyne sonder verhoor deur Israel se geheime magte aangehou (Lockman & Beinin 1990:104,108). Die VN se Algemene Vergadering het hom intussen wel uitgespreek teen Israel se besetting van die Wesoewer, Oos-Jerusalem en Gasa - en teen Israel se ontkenning van selfbeskikking en dat dít 'n ernstige en groeiende bedreiging vir internasionale vrede en sekuriteit inhou (Quigley 1990:220).

Die jongste geskiedenis is/word gekenmerk deur die bou van 'n sogenaamde "apartheidsmuur" tussen die Palestynse gebied in die Wesoewer, Oos-Jerusalem en Israel, met gepaardgaande inperking van die beweging van mense in hul eie staat. Palestynse huise, ander infrastruktuur en grond word in die Wesoewer en Oos-Jerusalem onteien of vernietig en nuwe Israelse nedersettings brei steeds in die besette gebiede uit. Voorts is daar die onwettige verbruik van water deur Israelse setlaars en daarmee saam die inkorting van watervoorsiening aan die Palestyne in die Wesoewer, asook Israelse militêre intimidasie in die besette Palestynse gebiede. Ons lees steeds daagliks van ernstige beserings wat Palestyne opdoen tydens demonstrasies in die Gaza strook. Dikwels word hulle deur Israeli magte gedood. Daar is soveel humanitêre behoeftes, eintlik krisisse, veroorsaak deur onder andere n dekade lange Israel blokkade. Die lys van huidige menseregte-vergrype (sien ook 4.6) kan verder aangevul word.6 Dit lyk of Israel hul militêre stewels stewig in die gesigte van die Palestyne wil hou. Dít is natuurlik olie op die konflik-vuur in Palestina. Weerstandsbewegings word gevoed deur diskriminasie en menseregteskendings. 'n Mens kan weerwraak op grond van historiese onreg nooit regverdig nie; tóg sal dit 'n logiese gevolg wees - partykeer tot die uiterste gedryf, soos Hamas wat kort ná hul stigting in 1987 erken het hy wil Israel vernietig. Tog is dít nie genoem in sy Palestynse parlementsverkiesingsmanifes van 2006 nie.

Dit is nie goed genoeg dat politici net hierdie krisis bestuur nie; dit moet opgelos word. Natuurlik lê die oplossing nie net in die hande van politici nie. Ons hoor en lees ook van aktivisme in hierdie Palestynse stryd soos onder andere deur siviele drukgroepe, digitale aktivisme, en deur die wêreld te vra om Israel met sanksies te boikot. Maar oplossings, op watter maniere ook al nagestreef, is net moontlik as dit gemotiveer en gedryf word vanuit morele waardes en leierskap in ooreenstemming met internasionale wetgewing. Dit is al hoe ware, volhoubare vrede moontlik is. In hierdie opsig het Israel veral baie werk om te doen. Sporadiese teenwoordigheid van Jode in historiese Palestina sedert die vroegste tye, hef nie die feit op dat die voorsate van die huidige Palestyne vir die afgelope 1 000 jaar in die gebied tussen die Middellandse see en die Jordaanrivier by verre in die meerderheid was nie. Toe die eerste Joodse nedersetting byvoorbeeld gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu in Palestina gestig is, het die Joodse teenwoordigheid slegs 3% van die bevolking uitgemaak teenoor 97% van die Palestyne. Geen wonder nie dat 'n afvaardiging van Joodse Rabbi's uit Oostenryk wat deur Theodor Herzl gestuur is om die geskiktheid van Palestina vir 'n Joodse tuiste te ondersoek, terugrapporteer het: "The bride is beautiful, but married to another man" (Sethi 2014). Om dié rede het Herzl selfs Argentinië en Uganda as alternatiewe vir 'n Joodse tuiste oorweeg.

In 1918 het Jode slegs 56 000 van die totale bevolking van 700 000 uitgemaak, teenoor die 574 000 Moslem Arabiere en 70 000 Christene, terwyl hulle (die Jode) slegs 2% van die grondgebied besit het. Ten tye van die partisievoorstelle van 1947, het die Jode slegs 5.67% van die grondgebied besit. Aan die einde van die Britse mandaat in 1948, tydens die stigting van die staat van Israel, het die Jode slegs sowat 'n derde van 'n bevolking van ongeveer 2 miljoen uitgemaak (Cattan 1969:18-30). Hierdie feit van 'n sterk Palestynse teenwoordigheid is allerweë deur belangrike Joodse leiers self aanvaar. David Ben-Gurion, latere eerste minister sê: "Let us not ignore the truth among ourselves.politically we are the aggressors and they defend themselves. ... The country is theirs, because they inhabit it" (Chomsky 1983:91). Die gerespekteerde Joodse historikus Bennie Morris skryf: "A Jewish state would not have come into being without the uprooting of 700 000 Palestinians" (Hammond 2014). Moshe Dyan is van mening "[t]here is not a single Jewish settlement that was not established in the place of a former Arab village" (Hallaj 2011:102).

4.4 Kritiek teen Sionisme7

Erich Fromm reken dat as elke nasie skielik die grond waarop hul voorvaders 2 000 jaar gelede gewoon het, moet terugeis, sal die wêreld 'n "malhuis" wees (Hadawi 1991:95). Martin Buber reken: "Only an internal revolution can have the power to heal our people of their murderous sickness of causeless hatred. ... It is bound to bring complete ruin upon us." Hy wonder hoe 'n nasie met soveel bloed op hul hande kan "babble and rave about being the People of the Book and the light of the nations" (Washington Report On Middle East Affairs 2011). In 1978 sê Rabbi Hirsch van Jerusalem die volgende oor Sionisme:

Zionism is diametrically opposed to Judaism. Zionism wishes to define the Jewish people as a nationalistic entity. The Zionists say, in effect, 'Look here, God'. We do not like exile. Take us back, and if you don't, we'll just roll up our sleeves and take ourselves back. ... This, of course, is heresy. (Hadawi 1991:38)

4.5 Joodse fundamentalisme

Joodse fundamentalisme was nooit verteenwoordigend van die breë Judaïsme8 nie, maar het tog 'n invloed gehad, veral wat die ideologiese basis vir die setlaar-beweging in die Wesoewer en Gasa betref. Dit het ook die ideologiese basis vir rassisme in Israel gevorm. Rabbi Kook sê by geleentheid: "The difference between a Jewish soul and the souls of non-Jews . is greater and deeper than the difference between a human soul and the souls of cattle" (Shahak & Mezvinsky 1999:ixA Nog verdere voorbeelde sou genoem kan word soos 'n versoek deur die Gush Emunim rabbi's dat Jode wat Arabiere doodmaak nie gestraf moes word nie, en dat grond van Palestyne waarop daar beslag gelê word, nie as steel nie, maar as heiliging/wyding gesien moet word (Shahak & Mezvinsky 1999:71-72).

4.6 Israel eis respek, maar bewys min aan Palestina9

Volgens Adam Omar (2014:17) is daar tans steeds vele optredes van Israel wat die internasionale reg oortree. Daar vind land-, see-, lug- en grondblokkades plaas wat geen basis of regverdiging onder internasionale reg het nie. Mense word geskiet wanneer hulle probeer om vis te vang om daaruit 'n bestaan te maak. Geen medisyne, toerusting en ander benodigdhede word toegelaat om Gasa binne te kom nie.

Die Palestyne word kollektief gestraf om hulle tot onderwerping te dwing. Mans, vroue en kinders word in tronke geplaas sonder verhoor - tot onlangs meer as 7 000. Gedwonge uitsettings en beskadiging van huise en plaasgrond vind plaas om etniese suiwering te bereik. Dan is daar die voortdurende bou van Joodse nedersettings op besette Palestynse grond. Die Verenigde Nasies het dit onwettig verklaar, maar die verowering en besetting van Palestynse grond vind steeds plaas - onder die dekmantel van vredesgesprekke wat al die afgelope 20jaar gevoer word. Die elektrisiteits- en die watersuiweringsinstellings word gebombardeer. Menseregte word selfs in die howe ontken. Protes in enige vorm word wreed onderdruk. Baie word erg beseer in betogings, en die dood van betogers, soos vroeër na verwys, is alledaags. Volgens die internasionale reg het mense die reg om te protesteer en om te veg vir hul regte en vryheid. Dít is presies wat die Palestyne doen: hulle voer 'n stryd om vryheid en nasionale onafhanklikheid. Israel het die vierde magtigste weermag ter wêreld, gevorderde tegnologie, wapens en vliegtuie en bombardeer huise na willekeur. Die dodetal is hemelhoog en sluit babas, jong kinders, vroue en bejaardes in. Feitlik die hele Oos-Gasa is 'n ruïne (Omar 2014:17).

Israel straf die Palestyne omdat hulle 'n eenheidsregering met Hamas gevorm het (en wat 'n sterker teenstand teen Israel se aggressie skep). Israel voer voortdurend aan Hamas is terroriste en regverdig hierdeur Israel se invalle en oorlog teen Palestynse opstand. Hierdie strategie word gereeld gebruik om wêreldmening stil te maak en stel Israel as 'n slagoffer voor. Die Israel-Palestina konflik is nie (net) 'n botsing tussen Jode en Moslems nie - 15% van die Palestyne is Christene. Daar is ook nie-gelowige Palestyne. Die eintlike en ware saak is dié van grondbesit.

Israel gryp openlik grond. Ten spyte daarvan dat Israel hom vroeër (2005) van die Gasa strook ontkoppel het, beheer hy dit steeds van buite. Israel het egter vir sy eie Joodse setlaars aangesê om Gasa te verlaat (daar is tans geen setlaars in Gasa nie) om sodoende die Wesoewer digter te bevolk. Die setlaar-beweging bestaan nie net in die Wesoewer nie, maar ook in die besette Oos-Jerusalem. Israel wil nou 'n gedemilitariseerde Gasa bewerkstellig. Hulle wil Gasa beheer omdat natuurlike gas langs die kus gevind is, en Israel is reeds besig met planne om dié hulpbron te ontgin (Omar 2014:17).

Die vooruitsigte vir vredesonderhandelinge is skraal omdat talle VN-resolusies, onder die diplomatieke dekmantel van die VSA, verwerp word. Die VSA verskaf voorrade van miljarde dollar aan Israel, en dit sluit nie eens die vegvliegtuie, tegnologie en wapens in nie.

Daar moet benadruk word dat Moslems nie anti-Joods is nie, maar teen die moderne Sionisme. Dit geld ook Christene en nie-gelowige Palestyne. In hierdie opsig het Khalid Mishal, 'n vorige leier van Hamas, bevestig dat die Palestyne nie die Jode haat nie. In 'n onderhoud met 'n Kanadese televisiejoernalis het hy gesê: "The liberation of Palestine does not mean Hamas want to kill the Jews or want to throw them into the sea - we do not want to fight the Jews because they are Jews. We fight them because they stole our land".

Daar is egter weinig begrip vir die feit dat gewapende verset teen enige vorm van onregmatige besetting in ooreenstemming is met internasionale reg. Die enigste voorwaarde is dat burgerlikes nie geteiken mag word nie. Tydens die Tweede Intifada met die klem op selfmoordbomaanvalle, het Hamas egter nie aan hierdie voorwaarde voldoen nie. Maar daar kan nie 'n oplossing vir hierdie konflik wees tensy Hamas nie ook betrek word nie. Hamas is intussen van die Hof van die Europese Unie se lys van terroriste afgehaal. Hamas het by verskeie geleenthede te kenne gegee dat hulle n tweestaat-oplossing, gebaseer op die 1967 grense, sal aanvaar - maar wat onhaalbaar lyk as gevolg van die wydverspreide nedersetting en bouery op besette Palestynse grond.

In hierdie opsig moet beklemtoon word dat die Palestyne verdeeld is oor hierdie politieke oplossing. Die meeste Palestyne ondersteun wel egter die welbekende BDS10 oproep. Dit staan vir "Boycott, Divestment, Sanctions". Dit is 'n Palestynse beweging wat hom beywer vir vryheid, geregtigheid en gelykheid. Dit bevorder die belangrike beginsel dat die Palestyne dieselfde regte het as alle ander mense. Dit is geïnspireer deur die Suid-Afrikaanse apartheidsbeweging en roep mense internasionaal op om Israel te dwing om volgens internasionale wetgewing op te tree.

Dit is egter belangrik om hier kennis te neem van die feit dat hierdie sogenaamde oplossings bemoeilik word deur die verskuilde belange van Palestynse politici, die Israeli agenda en die doelwitte van imperialistiese en gierige wêreldmagte.

4.7 Die invloed van godsdiens op die huidige situasie

Anders as wat algemeen vermoed word, het die stigting van die staat van Israel nie n godsdienstige of Bybelse motief gehad nie. Die vader van die Sionisme, Theodor Herzl en die latere Eerste Minister van Israel na wie reeds vroeër verwys is, David Ben-Gurion, was albei erkende ateïste. Tog kan mens nie die rol van godsdiens in hierdie konflik tussen Israel en Palestina geringskat nie. Juis hierom is onder andere die tempelterrein in Jerusalem so omstrede.

Vir die Jode is die westelike- of klaagmuur hulle heiligste plek. Dit word beskou as 'n oorblyfsel van die oorspronklike tempel. Ook beskou die Palestyne hierdie selfde tempelterrein as heilig, aangesien twee bekende en prominente heiligdomme hier op die tempelberg aangetref word, naamlik die Al Aqsa moskee en die "Dome of the Rock". Beide hierdie groepe eis Jerusalem dus op as hul hoofstad. In die lig hiervan het die onlangse opening van die VSA se ambassade in Jerusalem beslis nie vrede en versoening in hierdie gebied (en elders) bevorder nie. Inteendeel dit het tot protesaksies gelei en binne enkele dae na hierdie opening is ten minste 106 Gasa-inwoners gedood, 11 000 beseer en is 3 000 deur skerp ammunisie getref. Geen ongevalle aan Israel se kant is aangemeld nie. Die dag waarop die ambassade geopen is - 14 Mei 2018 - was die 70ste herdenking van die Palestynse Nakba, oftewel "katastrofe". Dit is wat die Palestyne die totstandkoming van Israel in 1948 noem toe hulle self uit die gebiede moes vlug wat nou die oostelike grens van Israel vorm. Hierdie skuif van die Amerikaanse ambassade van Tel Aviv na Jerusalem maak die Palestyne woedend omdat hulle Oos-Jerusalem as die hoofstad van n toekomstige Palestynse staat beskou.

Die blinde toegeneentheid van baie Westerse lande teenoor Israel berus dikwels op n misplaasde vertolking van die Bybelse profesieë oor die terugkeer uit die ballingskap. Die terugkeer uit die ballingskap het egter reeds in die tyd van Esra en Nehemia plaasgevind en het niks met die grootskaalse verhuising van Jode na die staat van Israel te doen nie. Die sterk invloed van millennium Christene op veral die Amerikaanse presidente versterk hul bevooroordeeldheid teenoor die Palestyne. Die millennium Christene is naamlik van mening dat die terugkeer na die staat van Israel n voorvereiste is vir die tweede koms van Christus wat dan ook die duisendjarige vredesryk sal voorafgaan.

Israeliese leiers het in lyn hiermee oor jare heen meesterlik daarin geslaag om die sogenaamde "Dawid en Goliat" verhaal sodanig te verpak dat die wêreld se simpatie grotendeels by Israel lê.

Bogenoemde aspekte dui maar net weer aan hoe sterk eeueoue (godsdiens) tradisies, verdelende besluite en diskriminerende optrede in moderne samelewings funksioneer.

 

5. SLOTOPMERKINGS

Bogenoemde vier kerndrywers, wat evolusionêr bepaal word, asook die vier belangrike waardes wat daarmee korrespondeer, behoort in die hart van morele leierskap te lê, veral wat betref n konflik-geteisterde situasie soos tussen Israel en Palestina. Dit is al hoe daar moontlik vrede tussen die groeperinge aldaar bewerkstellig en bevorder kan word; en hoe die volgende woorde van Hans Küng - al is dit net op 'n beperkte wyse - aangespreek sou kon word:

When will the endless dispute over the Holy Land ever be settled? When will the war be ended, the tragedy - which deeply depresses all the friends of the state Israel ... be over? In the present world situation, inflamed by 11 September 2001 and Iraq War of 2003, the Jewish state is, unhappily, in danger of remaining even more fixated on the past, instead of facing the present and being open to the future. (Küng 2007:4)

As mens die belangrikste kwessies wat deur Israel geweier word, en deur die Palestyne geëis word, in oënskou neem, kan bogenoemde morele leierskapmodel sonder om die situasie te oorvereenvoudig, in die volgende opsigte help. Die Palestyne se situasie kan verbeter en bevorder word as Israel (1) aan hulle die nodige bronne gee om voorspoedig te wees en te floreer. Dit sou onder andere kon beteken dat die oostelike deel van Jerusalem aan die Palestyne afgestaan word, omdat hulle dit baie graag as hul hoofstad wil hê, wat sodoende hul besigheids-en kultuursentrum kan word. Voor dít nie gebeur nie, sal wrywing en konflik voortgaan. (2) Daar sal meer effektiewe verhoudings deur Israel en Palestina met mekaar aangegaan en gevestig moet word - wat onder andere gekenmerk sal moet word deur omarming, empatie, insluiting, vertroue, respek, eer en erkenning. Maniere waarop dít in hierdie konflik-geteisterde situasie sou kon geskied, is vir Israel om n volkome onafhanklike Palestynse staat op hul spreekwoordelike voorstoep te aanvaar en die skandmuur af te breek. Deur die skandmuur te behou, word menslike verhoudings in "ons" en "hulle" gedefinieer. Dit is verdelend en teen internasionale wetgewing. (3) Die Palestyne se situasie behoort beter deur Israel begryp te word deur, met die nodige inligting en kennis waaroor hulle beskik, nie net op rasionele vlak nie, maar ook op grond van stories en narratiewe soos deur mense vertel, te verreken om beter sin van die Palestynse leefwêreld en psige te maak. Nie net word hieroor in die media berig nie, maar die benadeling en verontregting van Palestyne kom ook na vore in geïntegreerde gespreksruimtes tussen die Israeli's en Palestyne. Stories besit die vermoë om dominante kragte en magte te verander. In hierdie opsig kan Israel ophou om Palestynse grond te beset; al die Joodse vestings en dorpies in die besette Palestynse gebiede kan ontruim word; en verwoeste geboue kan herstel of nuut opgebou word. (4) Israel kan ook heelwat meer doen om geregtigheid na te jaag in belang van Palestina deur alle Palestynse vlugtelinge en ballinge toe te laat om na hul land terug te keer en in vryheid rond te beweeg (Geering 2001:63). Dit sal baie moed en dapperheid verg, maar dit sal die Palestyne hul reg op selfbeskikking (asook ander menseregte) teruggee. As hierdie belangrike kwessies onder andere aandag sou kry, behoort mense se houdings, ingesteldheid en persepsies van mekaar positief beïnvloed en verander te word. Dit sluit ook die Palestyne se ingesteldheid teenoor Israel in.

Waar al vier hierdie geëvolueerde waardes gelyktydig bevredig word, sal Israeli's en Palestyne ongetwyfeld meer vervuld, in vrede en suksesvol kan saamleef, omdat botsende eise en belange beter opgeweeg sal word.

Hierdie evolusionêre lens waardeur n mens na moraliteit en morele leierskap kyk, sou baie kon help om die konflik tussen Israel en Palestina aan te spreek, maar dit sou ook ander moondhede kon help om universele waarhede in belang van soveel as moontlik mense te soek - oor generasies en grense heen. Volkome objektiwiteit is egter nie altyd moontlik nie. Mense bly vasgevang in hul eie kulturele en godsdienstige oortuigings, wat weer hul besluite en gedrag bepaal. Mense bly geneig om hierdie drywers en dienooreenkomstige waardes slegs in terme van die verstaan van hul eie wêreld te interpreteer en te ekstrapoleer. Dit beteken egter nie dat refleksie oor morele waardes en leierskap wat betref 'n eietydse situasie sonder waarde is as daar nie onmiddellik sukses is nie. Die uitdaging is om aan te gaan om hieroor te reflekteer en aksies te loods, nie net vir ons eie voordeel of tot voordeel van ander nie, maar ook vir hulle wat ná ons kom.

 

BIBLIOGRAFIE

Akram, S.M., Dumper, M., Lynk, M. & Scobbie, I. 2011. International law and the Israeli-Palestinian conflict: A rights-based approach to Middle East peace. Abingdon: Routledge.         [ Links ]

Ayala, F.J. 2012. The big questions: Evolution. London: Quercus.         [ Links ]

Bantum, B. 2010. Redeeming mulatto: A theology of race and Christian hybridity. Waco: Baylor University Press.         [ Links ]

Beatty, I. 1957. Arab and Jew in the land ofCanaan. Chicago: Henry Regnery Company.         [ Links ]

Beit-Hallahmi, B. 1993. Original sins: Reflections on the history of Zionism and Israel. New York: Olive Branch Press.         [ Links ]

Boesak, A.A. & De Young, C.P. 2012. Radical reconciliation. Beyond political pietism and Christian quietism. Maryknoll: Orbis Books. https://bdsmovement.net/what-is-bds [2 June 2018].         [ Links ]

Brinner, W. & Rischin, M. 1987. Like all the nations? The life and legacy of Judah L. Magnes. Albany: State University of New York Press.         [ Links ]

Caplan, N. 2010. Israeli-Palestinian conflict: Contested histories. Oxford: Wiley-Blackwell.         [ Links ]

Cattan, H. 1969. Palestine, the Arabs and Israel. London: Longman.         [ Links ]

Chomsky, N. 1983. The fateful triangle: The United States, Israel and the Palestinians. Boston: South End Press.         [ Links ]

Du Toit, F. & Doxtader, E. 2010. In the balance: South Africans debate reconciliation. Johannesburg: Jacana Media.         [ Links ]

Eagleman, D. 2015. The brain: The story of you. New York: Pantheon.         [ Links ]

Elliot, N. 2008. The arrogance of nations: Reading Romans in the shadow of empire. Minneapolis: Fortress.         [ Links ]

Rupert, P., Johnson, P., Emerman, J., John, L. & People's Press Palestine Book Project Staff. 1981. Our roots are still alive: The story of the Palestinian people. New York: Institute for Independent Social Journalism.         [ Links ]

Flapan, S. 1987. The birth of Israel: Myths and realities. New York: Pantheon.         [ Links ]

Geering, L. 2001. Who owns the Holy Land? Wellington: St Andrew's Trust.         [ Links ]

Hadawi, S. 1991. Bitter harvest: A modern history of Palestine. New York: Olive Branch Press.         [ Links ]

Hallaj, D. 2011. Born a refugee: A novel of one Palestinian family. Google Books.         [ Links ]

Hammond, J.R. 2006. Benny Morris's untenable denial of the ethnic cleansing of Palestine. Foreign Policy Journal. https://www.foreignpolicyjournal.com/2016/11/14/benny-morriss-untenable-denial-of-the-ethnic-cleansing-of-palestine [17 November 2017].         [ Links ]

Hauser, M.D. 2006. Moral minds: How nature designed our universal sense of right and wrong. London: Abacus.         [ Links ]

Heschel, A.J. 1962. The prophets. New York: Harper & Row Publishers.         [ Links ]

Hirst, D. 2003. The gun and the olive branch: The roots of violence in the Middle East. London: Faber & Faber.         [ Links ]

Jones, C. 2017. The importance of moral leadership with regard to gender, race, poverty and sexual orientation. Unpublished Paper: Cultivating change agents: mainstreaming gender and health in Africa, Gender Unit Conference, Stellenbosch University, 28-29 March 2017.         [ Links ]

Küng. H. 2007. Islam: Past, present & future. Oxford: Oneworld Publications.         [ Links ]

Lawrence, P. Moral leadership as shaped by human evolution. Harvard Business Review. https://hbr.org/2010/05/moral-leadership-as-shaped-by [15 March 2017].         [ Links ]

Lawrence, P.R. & Nohria, N. 2002. Driven: How human nature shapes our choices. San Francisco: Jossey-Bass.         [ Links ]

Lockman, Z. & Beinin, J. 1990. Intifada: The Palestinian uprising against Israeli occupation. London: I.B. Tauris & Co. Ltd.         [ Links ]

Mendes-Flohr, P.R. 1983. A land of two peoples: Martin Buber on Jews and Arabs. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Morris, B. 1998. Looking back: A personal assessment of the Zionist experience. Tikkun, 13(2):40-49.         [ Links ]

Myers, C. & Enns, E. 2009. Ambassadors of reconciliation, Volume 1: New Testament reflections on restorative justice and peacemaking. New York: Orbis Books. https://www.ochaopt.org [2 June 2018].         [ Links ]

Omar, A. 2014. Israel se tien leuens. Die Burger, 21 Augustus.         [ Links ]

Peretz, D. 1996. The Arab-Israel dispute. New York: Facts on File.         [ Links ]

Pappe, I. 2006. The making of the Arab-Israel conflict, 1947-1951. London: I.B. Tauris & Co Ltd.         [ Links ]

Quigley, J. 1990. Palestine and Israel: A Challenge to Justice. Durham & London: Duke University Press.         [ Links ]

Said, E.W. 1992. The question of Palestine. New York: Vintage Books.         [ Links ]

Said, E.W. & Hitchens, C. 2001. Blaming the victims: Spurious scholarship and the Palestine question. London: Verso.         [ Links ]

Seldon, A. 2009. Trust: How we lost it and how to get it back. London: Biteback Publishing Ltd.         [ Links ]

Schmemann, S. 1997. General's words shed a new light on the Golan. The New York Times, 11 May.         [ Links ]

Sethi, R. 2014. The bride is beautiful, but is married to another man. Newslaundry.com. https://www.newslaundry.com/blogs/the-bride-is-beautiful-but-is-married-to-another-man [8 December 2017].         [ Links ]

Shahak, I. 1994. Jewish history, Jewish religion: The weight of3000years. London: Pluto Press.         [ Links ]

Shahak, I. & Mezvinsky, N. 1999. Jewish fundamentalism in Israel. London: Pluto Press.         [ Links ]

Smit, D. 2013. Al gewonder oor die koste van morele leierskap? Die Burger, 23 Februarie, p. 12.         [ Links ]

Stamos, D.N. 2008. Evolution and the big questions: Sex, race, religion, and other Matters. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Swaab, D. 2014. Ek is my brein: Van baarmoeder tot Alzheimer (vertaal deur Daniel Hugo). Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Tutu, D. 1999. No future without forgiveness. London: Rider.         [ Links ]

Washington Report on Middle East Affairs. Jews for Justice. 15 March 2011 [5 December 2017 & 8 January 2018].         [ Links ]

Wilson, R. 2003. Palestine. http://users.physics.harvard.edu/~wilson/HUMANRIGHTS/PALESTINE/ history/considerations.html [8 January 2018]         [ Links ]

Winter, E. 1963. And not to yield: An autobiography. New York: Harcourt, Brace & World.         [ Links ]

 

 

 

Chris Jones was vir byna 20 jaar 'n gemeentepredikant in Ceres voordat hy en sy gesin aan die begin van 2008 Stellenbosch toe verhuis het om die Eenheid vir Morele Leierskap aan die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, op die been te bring. Hy staan tans aan die hoof van hierdie Eenheid en is ook 'n navorsingsgenoot binne die dissiplinegroep Sistematiese Teologie en Ekklesio-logie, deeltydse dosent in Etiek en studieleier (ook eksaminator) vir nagraadse studente. Hy lewer op gereelde basis referate by kon-ferensies en is die skrywer van 'n verskeidenheid boeke, hoofstukke in boeke en artikels. Ook help hy met eweknie-evaluering van artikels. Hy is betrokke by verskeie gemeenskapsontwikkelings-projekte.
Chris Jones was a church minister in Ceres for close to 20 years before moving to Stellenbosch with his family at the beginning of 2008 to establish the Unit for Moral Leadership at the Faculty of Theology, Stellenbosch University. He currently heads this Unit and is also a research fellow within the discipline group Systematic Theology and Ecclesiology, part-time lecturer in Ethics and supervisor (also examiner) for postgraduate students. He regularly presents papers at conferences and is the author of a variety of books, chapters in books and articles. He also helps with peer reviewing of articles. He is involved in various community development projects.
1 Ek sou graag in hierdie afdeling méér oor die evolusie van ons spesie (en meer spesifiek oor die reptielbrein wat die mens so dikwels pootjie deurdat dit onder andere net vir homself opeis en toe-eien) wou uitbrei, maar volstaan vanweë beperkte ruimte, met die aanbeveling van die volgende boeke - wat meer lig hierop kan werp: David Eagleman, The Brain: The story of you (2015), en Dick Swaab, Ek is my brein: Van baarmoeder tot Alzheimer (2014). Daar is heelwat mense deur die geskiedenis wat daarin geslaag het om regtig "menslik" op te tree en wat nie toegelaat het dat hul reptielbrein hul neo-korteks lamlê nie, naamlik Martin Buber, Mahatma Ghandi, Martin Luther King, Nelson Mandela en Desmond Tutu, om enkeles te noem. Vir verdere toeligting oor die evolusie van ons spesie en hoe moraliteit hierdeur beïnvloed word, kan die werke van Francisco Ayala, The Big Questions: Evolution (2012); David Stamos, Evolution and the Big Questions: Sex, Race, Religion, and Other Matters (2008); Marc Hauser, Moral Minds (2006); en Paul Lawrence en Nitin Nohria, Driven: How Human Nature Shapes Our Choices (2002), geraadpleeg word. In hierdie artikel word daar net op baie beperkte wyse by hulle bydraes aangesluit.
2 Sien ook in aansluiting hierby Ched Myers en Elaine Enns, Ambassadors of reconciliation, Volume 1: New Testament reflections on restorative justice and peacemaking (2009); Neil Elliot, The arrogance of nations: Reading Romans in the shadow of empire (2008); Fanie du Toit en Erik Doxtader, In the balance: South Africans debate reconciliation (2010); en Desmond Tutu, No future without forgiveness (1999).
3 Sien ook Ella Winter se And not to yield: An autobiography (1963) en Don Peretz se The Arab-Israel dispute (1996).
4 Vir verdere perspektiewe rakende (verbandhoudende) aspekte wat in hierdie afdeling aangeraak word, sien: David Hirst se The gun and the olive branch: The roots of violence in the Middle East (2003); Benjamin Beit-Hallahmi se Original sins: Reflections on the history of Zionism and Israel (1993); Simha Flapan se The birth of Israel: Myths and realities (1987) en Ilan Pappe se The making of the Arab-Israel conflict, 1947-1951 (2006).
5 Sien ook in hierdie verband Israel Shahak se Jewish history, Jewish religion: The weight of3000 years (1994), en Zachary Lockman en Joel Beinin se Intifada: The Palestinian uprising against Israeli occupation (1990).
6 Meer hieroor kan op die webwerf van die Verenigde Nasies gelees word: https://www.ochaopt.org
7 Sien ook William Brinner en Moses Rischin, Like all the nations? The life and legacy of Judah L. Magnes (1987).
8 Dit is belangrik om hier aan te toon dat die Jode Judaïsme as 'n kulturele en sosiale identiteit verstaan wat nie noodwendig 'n geloof insluit nie. Die meeste Jode is nie gelowig nie.
9 Vir verdere inligting oor die Israeli's se vergrype, is die volgende twee bronne veral insiggewend: Susan M. Akram et al., International law and the Israeli-Palestinian conflict: A rights-based approach to Middle East peace (2011). Deur die lens van internasionale wetgewing en geregtigheid, verwerp hierdie boek die mite dat wetgewing nie bruikbaar kan wees in die aanspreek en oplos van hierdie konflik nie. Verskeie kundiges gee 'n in-diepte analise van sleutelkwessies wat in hoofstroombesprekings rakende hierdie konflik dikwels gemarginaliseer word. Neil Caplan, The Israeli-Palestinian conflict: Contested histories (2010) bied 'n insiggewende en waardevolle oorsig van die kwessies wat die afgelope 130 jaar die onopgeloste Israeli-Palestynse konflik gekarakteriseer en gedefinieer het.
10 Lees meer hieroor onder andere by: https://bdsmovement.net/what-is-bds

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License