SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2Taalkundige essays - 'n gerf uit die vroegskemerFoute en probleme author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.2 Pretoria Jun. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n2a16 

BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

 

Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd

 

 

Herman van der Elst

Politieke Wetenskap Noordwes-Universiteit Vanderbijlpark. E-pos: Herman.vanderelst@nwu.ac.za

 

 

Outeur: H. Matthee
Pretoria: Kraal Uitgewers (2017)
Bladsye: 350
ISBN: 978-0-9922189-4-2

Hierdie versamelwerk onder redakteurskap van die politieke risiko-analiseerder en gasnavorser by die Universiteit van Amsterdam (UVA), dr. Heinrich Matthee, kom op 'n kritieke tydperk in die huidige bestaansraamwerk van alle Afrikaanssprekendes en ander minderheidgroeperinge in Suid-Afrika. In wese handel die werk oor die regte en status van, sowel as die uitdagings waarmee, klein groepe internasionaal gekonfronteer word. Binne die konteks van die boek word klein groepe spesifiek met die handhawing, al dan nie, van minderhede se taal- en kultuurregte in state wêreldwyd verbind. Die werk is op 'n probleemoplossende wyse saamgestel en gerig op meningsvormers, beleidmakers, politici, asook enigiemand wat in die stand en handhawing van internasionale minderheidsregte belang stel. Die boek is so gestruktureer dat dit daarin slaag om die gedeelde uitdagings waarmee klein groepe wêreldwyd gekonfronteer word, uit te lig en te analiseer. Die werk is besonders omdat dit ook daarin slaag om die stand van minderheidsregte, oftewel - kultuurvryheid en selfbestuur - vergelykenderwys op 'n internasionale basis te ontleed. In hierdie verband word spesifiek na die Amazigh van Noord-Afrika, die Turkmene van Irak, inheemse Amerikaanse gemeenskappe, Hongaarse gemeenskappe en ander klein groepe in Afrika, die Midde-Ooste, Rusland en Europa verwys. Metodologies lewer die werk voorts 'n insiggewende bydrae tot die politieke wetenskap, die internasionale politiek en ander verbandhoudende dissiplines.

Die werk het 'n sterk teoretiese onderbou wat die hoofstukke saambind tot 'n nodige natuurlike eenheid en meetinstrument wat dan ook tekenend is van die uiteindelike praktiese oogmerke. In hierdie verband fokus De Villiers (pp.26-27) op die betekenis, waarde en noodsaak van die konsep van kulturele outonomie binne die konteks van 'n liberale demokrasie. Hierdie konsep word op 'n latere stadium deur Geldenhuys (p.83), Adams (p.108) en du Plessis (p.123) tot die Suid-Afrikaanse konteks vernou. Wat die boek egter uniek maak is dat, hoewel dit 'n sentrale tema bly, daar inhoudelik nie slegs op Afrikaanssprekendes se minderheidsbelange gefokus word nie. Dit gaan hier eerder oor die legitieme regte, universele dimensies, eienskappe en geleenthede van gebiedsongebonde outonomie van minderhede oor die wêreld heen. Dit verskaf dus 'n internasionale perspektief op die belangrikheid van minderheidsregte binne demokrasieë. Dit is dan inderwaarheid die bestaan van en internasionaal aanvaarde reg tot kulturele outonomie wat as teoretiese onderbou vir die werk dien.

Inhoudelik bevat die boek 14 hoofstukke en dit word deurgaans aan die leser oorgelaat om 'n eie gedagtegang te vorm ten einde sy/haar eie opinie binne 'n praktiese konteks te vorm, verdedig of verder te verbreed. In hierdie verband is dit belangrik om kennis te neem dat die verskillende hoofstukke op 'n globale vlak deur prominente akademici sowel as kundiges uit die praktyk saamgestel is. Die implikasie is dat die sleutelkonsepte, kultuurvryheid en selfbestuur, vanuit verskillende internasionale hoeke op 'n beskrywende wyse geanaliseer word. Die werk het dus 'n multidimensionele en veelfasettige aard. Dit word egter op 'n logiese en boeiende wyse verpak wat die akademiese aard daarvan regverdig en voldoende uitlig. Trouens, dit is 'n internasionale perspektief op minderheidsbelange wat die leser inlig en toerus om opinies binne sy/haar unieke konteks te vorm. Dit verskaf 'n gebalanseerde blik op die uitdagings waarmee minderheidsgroepe wêreldwyd gekonfronteer word. Ten einde die gestelde oogmerke te bereik, word die boek funksioneel in twee gedeeltes verdeel.

Die eerste gedeelte behandel temas wat eie is aan Afrika, maar fokus spesifiek op die Suid-Afrikaanse konteks. Die tweede gedeelte van die boek is internasionaal gerig en sinspeel op die gedeelde uitdagings waarmee klein groepe wêreldwyd gekonfronteer word. Die twee segmente van die boek word aangepak teen die agtergrond van Maja se menseregte-raamwerk binne die Afrika-konteks waar op minderheidsregte met die beklemtoning van taalregte gefokus word.

Maja se bydrae fokus op die Afrika-konteks waar menseregte direk met taalregte verbind word. In kort, die terme outonomie en menseregte figureer deurgaans as sentrale teoretiese tema in die werk (pp.52-53). Volgens Maja behoort taal nie met 'n sogenaamde probleem-ingesteldheid verbind te word nie. 'n Taal moet dus nie as 'n probleem beskou word nie (p.55). Dit lei uiteindelik tot die beperking of selfvernietiging van minderheidstale en die bevoordeling van slegs een taal, aldus Maja. Minderheidstale moet daarom eerder as kulturele en identiteitshulpbronne (hulpbron-ingesteldheid) beskou word. Binne Afrika is die realiteit egter dat baie Afrika-state nie minderheidstale as amptelike tale erken nie. Europese tale soos Engels, Spaans, Frans en Portugees word in vele state verkies. Hierdie toedrag van sake word toegeskryf aan die realiteit dat minderheidstaalregte nie binne 'n uitdruklike regsraamwerk beskerm word nie. Hierdie argument word ook deurgaans gebruik as spreekwoordelike "goue draad" wat die werk tot 'n eenheid verbind.Ter aansluiting by Maja se persepsie is Du Plessis van mening dat die miskenning van taalregte inderwaarheid tot diskriminasie kan lei (pp.123-125). Ter illustrasie word na die miskenning van die Afrikaanse taal en kultuur in Suid-Afrika verwys wat deur beduidende getalle swart, bruin en blanke mense gebesig word. Vervolgens maak Goosen die stelling dat geen gemeenskap sonder 'n identiteit tot sy reg kan kom nie. Tans word die Afrikaanssprekendes gekonfronteer met dwingende identiteitsvrae wat taal en kultuur aanbetref. Die Afrikaanssprekendes word derhalwe aan wat Goosen beskryf as "bestaanson-sekerheid" blootgestel (p.195). Hierdie soeke na 'n identiteit kan slegs oorkom word deur die vind van 'n middelgrond waarin die veelheid van onderlinge verskille mekaar ter wille van 'n groter eenheid kan vind. In hierdie verband beklemtoon Matthee deurgaans die prominensie van identiteitspolitiek as faktor in die handhawing van minderheidsregte (pp.23-24 en p.323).

Van besonderse waarde is dat Matthee die werk eindelik op 'n behendige wyse laat fokus op die stand van die Afrikaanssprekende gemeenskap se belange binne die kontemporêre Suid-Afrikaanse politiek-ekonomiese landskap. Hier kan byvoorbeeld verwys word na die bydrae van Adams waar spesifiek op die Kaapse Moslemgemeenskap gefokus word (pp.108109). Binne die Suid-Afrikaanse politieke landskap wil dit voorkom asof die handhawing van minderheidsregte deur die regering as minder belangrik geag word. Trouens, binne die breë demokratiese bestel word daar skynbaar merendeels gefokus op die ontwikkelingsdoelstellings en wil van die meerderheid van die bevolking, soms ten koste van minderheidsbelange. Hierdie toedrag van sake kan waarskynlik verbind word met die omvang en dringendheid van ontwikkelingsuitdagings waarmee die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking tans gekonfronteer word. Hierdie beklemtoning van meerderheidsbelange het egter tot gevolg dat minderheidsbelange, tot frustrasie van klein groepe, dikwels afgeskeep en selfs op die agtergrond geskuif word. Hier gaan dit spesifiek oor die gebrekkige erkenning en selfs ontkenning van kultuurvryheid, taalregte en selfbestuur van klein groepe, wat inderwaarheid grondwetlike regte wêreldwyd, en ook in Suid-Afrika behels. 'n Onlangse voorbeeld van hierdie frustrasie is myns insiens die 2018 Desember protesaksie deur lede van die Oos-Kaapse Khoisan-gemeenskap by die Uniegebou in Pretoria. Die gemeenskap se verteenwoordigers het aangedring op die erkenning en handhawing van hul taal en kultuur, of anders gestel, hul kulturele outonomie.

Teen bogenoemde kontekstuele agtergrond word daar van die veronderstelling uitgegaan dat die konsep groepsongebonde outonomie in die geval van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika 'n onderbeligte onderwerp is, wat verdere ondersoek regverdig. In hierdie verband beklemtoon De Villiers die realiteit dat minderhede nie, soos vroeër, internasionaal geografies gebonde is nie (p.26). Met ander woorde, 'n minderheid word nie noodwendig net in 'n sekere gebied in 'n staat aangetref nie, want minderhede is inderdaad 'n wêreldwye verskynsel. Hierdie neiging word toegeskryf aan migrasie wat verband hou met globalisering in die vorm van tegnologiese ontwikkeling op die gebied van kommunikasie, reis en toegang tot inligting. Dit vergemaklik mense se vermoë om oor grense te beweeg. Ter versterking van hierdie argument verwys Malan na die gebreke of "blinde kolle" in die Suid-Afrikaanse grondwetlike bedeling, wat grotendeels op individuele regte ten koste van minderheidsregte gebaseer word. Volgens Malan lei hierdie situasie noodwendig tot meerderheidsdominansie (pp.152-157). Dit is dan tipies hierdie groepsongebonde dinamika waarmee demokratiese regerings gekonfronteer word.

In die tweede gedeelte van die boek word die leser daarvan bewus gemaak dat minderhede se gedeelde uitdagings nie as geïsoleerde insidente beskou kan word nie. Dit is eerder iets wat op 'n globale basis plaasvind en ook so hanteer moet word. Matthee brei breedvoerig uit oor die ontkenning van die erfenis en kultuurhistoriese bewussyn van die Amizigh etniese groepering (Berbers) in Noord- Afrika (pp.214-215). Vandag bestaan die Amizigh etniese groepering uit beduidende minderhede in Moslem-gedomineerde Noord-Afrikaanse state soos Tunisië, Libië, Algerië en Marokko. Getalgewys bestaan hulle uit 'n bevolking van ongeveer 25 miljoen en is geografies ongebonde. 'n Kenmerk van die Amizigh-identiteitsbewussyn is die beklemtoning van vryheid. Hierdie klem op vryheid word uiteraard as 'n struikelblok gesien vir gemeenskappe waar Islam die dominante geloof is wat dan tot die miskenning van die groepering se regte in Noord-Afrika aanleiding gee.

Pabst en Rochtus fokus op die nalatenskap van die strewe na pan-Arabiese eenheid (nasionalisme) waartydens gepoog is om die Arabiese wêreld in een staat te verenig (p.233 en p.263). Hierdie eenheid sou gebou word op gedeelde taal, kultuur, geskiedenis, identiteit, geografie en politiek. Die ideaal van eenheid het egter misluk en kan kortliks toegeskryf word aan wydverspreide intra-Arabiese antagonisme. Trouens, die realiteit is dat sogenaamde nie-Arabiese burgers, soos byvoorbeeld die Koerde, as de facto tweedeklas burgers gesien word. Dit gee dan aanleiding tot diskriminasie en grootskaalse vervolging op grond van etnisiteit, taal en kultuur.

Schönteich neem die instellings van regsoutonomie onder inheemse groepe in die Verenigde State in oënskou. Histories het hierdie outonomie tussen assimilasie en isolasie gewissel (p.284). Hierdie hoofstuk fokus egter slegs op bevoegdheid van die 566 Indiaanse stamme (wat 1,7% van die VSA-bevolking uitmaak) wat federale erkenning in die vorm van strafregdienste in sogenaamde reservate geniet. Federale erkenning realiseer in die groeiende aantal polisiëringsagentskappe, howe en gevangenisse. Stamlede word as burgers van drie soewereiniteite beskou, naamlik hul stam, die Verenigde State van Amerika (VSA) en die federale staat waarin hulle woon. Die kern van Schönteich se bydrae handel oor die erkenning van die Indiaanse minderhede se regte binne die Amerikaanse politieke bestel (pp.284-293). In die geval van Suid-Afrika kan dit byvoorbeeld met die grondwetlike erkenning van tradisionele owerhede in verband gebring word.

Marácz se analise moet teen die agtergrond van die beëindiging van die Koue-oorlog en die opkoms van nasionalisme in veral Oos-Europa gesien word. In hierdie verband fokus hy spesifiek op die regsposisie en huidige inperking van die Hongaarse minderheid in Roemenië se taalregte (p.296). Hierdie minderheid is in Transilvanië woonagtig en bestaan uit ongeveer

1,2 miljoen mense of 6% van die Roemeense bevolking. Marácz stel dit duidelik dat binne die Roemeense regering, ingevolge die Europese Unie (EU) se toelatingskriteria, wel vir die Hongaarse minderheid se taalregte voorsiening gemaak word (pp.296-298). Die regte is egter te beperk en word verwaarloos, aldus Marácz. In hierdie verband word breedvoerig oor die personaliteitsbeginsel of nasionaliteitsbeginsel as teenwig teen die dominante Roemeense staatsbeleid uitgebrei. Ingevolge die personaliteitsbeginsel moet 'n minderheid se regte in 'n gasheerstaat geskoei word op die regte wat hulle in hul staat van herkoms geniet. Uiteindelik word die personaliteitsbeginsel dan ook uitgewys as instrument om veral Hongaarse taalregte in Roemenië te beskerm.

In die laaste twee hoofstukke word nasionale en internasionale neigings op 'n behendige en probleemoplossende wyse deur Matthee verbind met die uitdagings waarmee minderhede in Afrika-state asook Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika tans gekonfronteer word (pp.322 en 339). In hierdie verband word die prominensie van identiteitspolitiek as plaaslike, maar ook as internasionale verskynsel uitgewys. Ter illustrasie word van relevante voorbeelde gebruik gemaak, soos byvoorbeeld gewelddadige en politieke Islam in die Midde-Ooste, die herlewing van Russiese nasionalisme en die Britse Brexit. Binne die Afrika-konteks identifiseer Matthee die volgende kontemporêre tendense wat die handhawing van minderheidsregte bemoeilik:

  • Spanning bestaan tussen nasiestate en die wyse waarop groepe binne nasiestate hulself, hul geskiedenis en strewes beskou;

  • Dit wil voorkom asof die meeste postkoloniale regerings hul etnies-kulturele verskeidenheid misken;

  • Binne politieke faksies bestaan daar weinig steun vir multikulturele demokrasie.

'n Belangrike veronderstelling is dat identiteitspolitiek internasionaal prominent sal bly en beleidmakers en politieke wetenskaplikes dit op 'n konstante basis sal moet verreken.Ter afsluiting belig Matthee die konsepte kulturele en groepsongebonde outonomie as moontlike model om kulturele vryheid binne die bepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet te bewerkstellig. In hierdie verband is daar talle internasionale voorbeelde waar daar wel erkenning gegee word aan byvoorbeeld minderheidsgroepe se kultuur- en taalbelange. Die volgende vrae word egter gevra:

  • Is die politieke klimaat reg?

  • Is die aandrang op outonomie onder alle Afrikaanssprekendes sterk genoeg?

  • Sal die Suid-Afrikaanse regering wel dergelike outonomie toestaan?

Die indiepte-analise van die verskillende hoofstukke maak dit vir die leser moontlik om op 'n vergelykende wyse 'n onafhanklike en probleemoplossende opinie te vorm. Hier gaan dit spesifiek oor die stand van kultuurvryheid en selfbestuur vir minderheidsgroepe in die algemeen, maar met 'n klem op Afrikaanssprekendes se belang in Suid-Afrika in die besonder. Binne die breër konteks van die boek word dit uiteindelik deur Matthee en ander skrywers benadruk dat die handhawing van minderheidsregte internasionaal legitiem en implementeerbaar is.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License