SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2Adam Small: Denker, digter, dramaturg - 'n huldigingKultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.2 Pretoria Jun. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n2a15 

BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

 

Taalkundige essays - 'n gerf uit die vroegskemer

 

 

Gerda Odendaal

Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal E-pos: godendaal@sun.ac.za

 

 

Outeur: Frank Hendricks
Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA
Bladsye: 145
ISBN:" 978-1-928357-48-3

Frank Hendricks se bundel essays Taalkundige essays - 'n gerf uit die vroegskemer verskyn in 2017 by sy aftrede as dosent in Afrikaanse taalkunde na 38 jaar aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Departement Afrikaans en Nederlands.

Die eerste opmerklike kenmerk van die bundel is die wye verskeidenheid taalkundige onderwerpe wat aan bod kom. Terwyl dit deesdae algemener is om óf bundels oor 'n verskeidenheid taalkundige onderwerpe deur 'n verskeidenheid outeurs, óf 'n bundel deur 'n enkele outeur waarin daar meer indringend aandag geskenk word aan 'n enkele onderwerp, te sien, sluit Taalkundige essays bydraes op vier terreine van die taalkunde in, te wete sintaksis, naamkunde, variasietaalkunde en ortografíese normering. Dit gee aan die leser 'n volledige(r) beeld van Hendricks as navorser, aangesien dit 'n momentopname verteenwoordig van die taalkundige navorsing waarmee hy hom die afgelope byna vier dekades besighou. Benewens oorspronklike navorsing (hfst. 1, 2 en 8), bevat hierdie bundel lesings en referate wat hier uiteindelik in gedrukte vorm verskyn (hfst. 4, 5 en 6), asook herbewerkte weergawes van navorsing wat reeds elders verskyn het (hfst. 3 en 7).

Die aanbied van 'n verskeidenheid onderwerpe beteken nie dat die bydraes in hierdie bundel aan diepgang inboet nie. Die navorsing wat in die onderskeie hoofstukke aangebied word, word telkens binne die breër navorsingsveld gesitueer deurdat daar 'n oorsig gegee word oor navorsing wat reeds oor die betrokke onderwerp in die Afrikaanse taalkunde gedoen is (vgl. voetnoot 5, p. 6 en p. 31). Dit help nie net die leser om te verstaan hoe die betrokke hoofstuk by bestaande navorsing inpas nie, maar bied ook aan die navorser wat hom of haar verder in die betrokke onderwerp wil verdiep 'n waardevolle naslaanbron (vgl. voetnoot 7, p. 41). Hierdie aspek, tesame met Hendricks se kritiese blik op die beperkinge van sy eie navorsing (vgl. p. 48), sal ongetwyfeld daartoe lei dat hierdie bundel verdere navorsing aanspoor.

Opmerklik is Hendricks se aansluiting by die Stellenbosse skool in die taalkunde, soos verteenwoordig deur taalkundiges soos Fritz Ponelis en Johan Combrink. Nie net spreek Hendricks (p. i) in die "Voorwoord", asook elders in die bundel (vgl. hfst. 4) sy eksplisiete waardering vir hulle werk uit nie, maar die navorsing in hierdie bundel spreek ook van sy implisiete erkenning van hulle vakkundige impak op sy werk. Sodoende veranker Hendricks hom met die navorsing wat in dié bundel aangebied word stewig binne die Stellenbosse tradisie van Afrikaanse taalkunde. Die vernaamste hiervan is waarskynlik Hendricks se voorkeur vir taalkundige beskrywing binne die raamwerk van 'n kontekstuele analise van taalverskynsels, soos veral deur die navorsing van Ponelis verteenwoordig. Hierdie benadering tot die taalkunde maak die formele taalkundige analises nie alleenlik toeganklik nie, maar ook toenemend relevant in 'n tydvak waarin daar hernude gesprek is oor die byeenbring van formele en toegepaste taalkunde.

Hendricks se aansluiting by hierdie vorige generasie taalkundiges verteenwoordig aller-mins 'n klakkelose navolging van gedane navorsing. Hendricks skroom nie om tekortkominge in vorige navorsing uit te wys nie (vgl. voetnoot 4, p. 36 en p. 39) en bied telkens 'n nuwe perspektief op of dra nuwe insigte by tot vorige navorsing (vgl. p. 6 en 31). Hierbenewens skenk hy aandag aan voorheen onverkende navorsingsterreine (vgl. hfst. 1).

In sy hoofstuk oor Ponelis se bydrae tot die bestudering van Omgangsvariëteite in Afrikaans (hfst. 4), meen Hendricks (p.92) dat Ponelis onthou sal word "as 'n Afrikaanse taalkundige wat aan alle manifestasies van die Afrikaanse taal en aan die ganse Afrikaanse taalgemeenskap 'n plek in die son gegun het". Hierdie publikasie, soos baie van Hendricks se vorige navorsing, getuig egter daarvan dat dieselfde van Hendricks gesê kan word.

'n Tema wat oor die jare nog altyd sterk in Hendricks se werk na vore gekom het en wat ook sentraal staan in Taalkundige essays, is sy bemoeienis met die voorheen gemarginaliseerde variëteite van Afrikaans, te wete Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans. In dié bundel wys Hendricks weereens dat hierdie variëteite nie alleenlik wetenskaplike studie waardig is nie, maar ook verdere indringende studie behoef (vgl. hfst. 3 en 5). Vir hom is dit egter nie genoeg dat hierdie variëteite bloot waardeer en bestudeer word nie. Sy oproep om 'n polilektiese taalbeskrywingsmodel wat erkenning gee aan die verskeidenheid van Afrikaans en wat stut op wat hy 'n gelykevlakbenadering tot taalverskeidenheid noem, asook sy steun vir die herstandaardisering van Afrikaans deur die toenemende benutting van die voorheen gemarginaliseerde variëteite van Afrikaans as voedingsbronne vir Standaardafrikaans, kom sterk na vore in die bundel (vgl. hfst. 4, 5 en 6).

Nog 'n kenmerk van Hendricks se navorsing wat in hierdie bundel neerslag vind, is sy byeenbring van taalkunde en letterkunde (vgl. hfst. 3 en 5). Ook hier is die fokus op die literêre vergestalting van die voorheen gemarginaliseerde variëteite van Afrikaans. Sy hoofstuk oor die vestiging van Afrikaanse variëteite in veral die letterkunde en hoofstroom Afrikaanse koerante (hfst. 5) bevat onder andere 'n waardevolle oorsig oor die gebruik van Kaapse en Oranjerivierafrikaans as literêre mediums. Laasgenoemde maak hierdie bundel weereens 'n waardevolle katalisator vir verdere navorsing.

Hendricks se betrokkenheid by die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir byna ag jaar blyk uit die twee laaste hoofstukke in die bundel oor die skryfwyse van onder andere variëteitsbenamings en toename in Afrikaans. Hiermee sluit hy ook weer by sy hoofstukke oor die naamkunde (hfst. 2 en 3) en variasietaalkunde (hfst. 4 en 5) aan, sodat die bundel uiteindelik, hoewel dit bydraes op verskillende terreine van die taalkunde insluit, 'n afgeronde geheel vorm.

Hendricks se didaktiese aanbieding, verheldering van teoretiese inhoud met voldoende voorbeeldmateriaal, toeganklike aanbieding van data, en volledige bronverwysings maak Taalkundige essays ten slotte geskikte en waardevolle leesstof vir veral nagraadse studente.

Alhoewel hierdie bundel essays saamval met Hendricks se aftrede as dosent, wil die subtitel 'n gerf'uit die vroegskemer te kenne gee dat sy aftrede nie die einde van sy bemoeienis met die Afrikaanse taalkunde beteken nie. Dit is eerder 'n voorsmakie van wat 'n mens van Hendricks te wagte kan wees in hierdie nuwe fase van sy lewe as akademikus. Te oordeel aan dié bundel, gaan dit 'n goeie oes wees.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License