SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2Prophesy, myth and delirium: The urgent quest for true knowledge in the age of informationalism and knowledge depreciationTaalkundige essays - 'n gerf uit die vroegskemer author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.2 Pretoria Jun. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n2a14 

BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

 

Adam Small: Denker, digter, dramaturg - 'n huldiging

 

 

Bibi Burger

Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria. E-pos: bibi.burger@up.ac.za

 

 

Redakteur: Jacques van der Elst
Uitgewer: Protea Boekhuis, Pretoria, 2017
ISBN: 978-1-4853-0863-8

Adam Small: Denker, digter, dramaturg is die eerste in 'n beplande reeks bundels om hulde te bring aan Hertzogpryswenners. Dit is gepas dat die eerste bundel juis gewy is aan Adam Small, gegewe die vernederende manier waarop hy in die verlede deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (hierna Akademie) behandel is. Hy is naamlik in 1975 saam met S.V Petersen as lid genomineer, maar is eers in 1978 assessorlidmaatskap toegestaan, wat hy saam met Petersen geweier het. Soos Jacques van der Elst in sy bydrae ("Adam Small en die Hertzogprys") verduidelik, moet hierdie weiering gesien word as protes teen die Akademie se historiese rol in die onderhoud van 'n wit nasionalistiese Afrikaanse letterkunde, sowel as teen die "mindere" posisie van assessorlidmaatskap wat aan hulle toegestaan is (Van der Elst 2017:77).

Hierdie behandeling deur die Akademie reflekteer die manier waarop Small aanvanklik deur die Afrikaanse literêre sisteem gesien is as 'n skrywer wat hoogstens aandag verdien as spreekbuis van Kaaps en van bruin Afrikaanssprekendes in die algemeen. André P. Brink se bespreking van Kanna hy kö hystoe inAspekte van die Nuwe Drama (1986) en H.J. Vermeulen se Reuse-blokboek oor Kanna (1987) is uitsonderings: studies geskryf voor 1990 wat wel met respek en op akademies innoverende wyse met Small se werk omgaan. In heelwat van die bydraes in die huldigingsbundel word verwys na die meer algemene neerhalende houding van die literêre establishment teenoor Small (sien byvoorbeeld Odendaal 2017:52 en Willemse 2017:112-113). Dit was dus 'n versoenende simboliese gebaar toe die Akademie se Letter-kundekommissie in 2012 besluit het om nie, soos wat die reglemente voorskryf, die Hertzogprys toe te ken aan 'n dramateks wat in die vorige drie kalenderjare gepubliseer is nie, maar om eerder die prys toe te ken aan Small se dramaoeuvre. Hierdie besluit is nie ewe positief deur almal ontvang nie, soos uiteengesit deur Van der Elst. Nicol Stassen was byvoorbeeld krities omdat dramas wat wel in daardie periode gepubliseer is oorgesien is, terwyl Hein Willemse aangevoer het dat Small die toekenning om politieke redes moes weier. Hierdie jaar (2018) het die Letterkundekommissie 'n soortgelyke besluit geneem deur te besluit om die Hertzogprys toe te ken aan Pieter Dirk Uys se Stukke teater ('n versameling dramas wat dateer uit die 1970's tot die 1990's) en "met inagneming van sy hele oeuvre". Dit sal interessant wees om te sien of hierdie toekenning 'n soortgelyke reaksie ontlok as dié op Small se toekenning.

Dit is prysenswaardig dat daar nie in Adam Small: Denker, digter, dramaturg - 'n huldiging weggeskram word van die soms omstrede aard van Small se verhouding met die Akademie nie. Eerder word hierdie verhouding juis deur verskeie van die skrywers op die voorgrond geplaas en vanuit verskillende benaderings akademies ondersoek.

Ná Erika Terblanche se biografíese skets ('n verwerkte weergawe van haar "skrywers-album" op LitNet) en Abraham H. de Vries se terugblik op sy persoonlike verhouding met Small, volg Bernard Odendaal se posisionering van Small se poësie binne die Afrikaanse literêre sisteem. Hy gee 'n oorsig van hoe Small se status as digter oor tyd verander het en ondersoek ook hoe Small mettertyd 'n tipe "literêre vaderfiguur" binne die Afrikaanse poësie geword het (Odendaal 2017:57). Dit behels beide die maniere waarop hy jonger digters geïnspireer het, sowel as Nathan Trantraal se berugte bewerings dat Small van Kaaps 'n "goon ofjoke-taal" gemaak het. Odendaal (2017:59) interpreteer Trantraal se kritiek as "'n instrument van simboliese optrede" wat gehelp het om sy eie naam te laat uitstaan onder "opkomende bruin Afrikaanse digters".

       Op Odendaal se hoofstuk volg Van der Elst se reeds genoemde uiteensetting van die toekenning van die Hertzogprys aan Small en die polemieke daar rondom. Hierop volg Steward van Wyk se "Adam Small se identiteitskonstrukte", 'n opgedateerde weergawe van sy vroeëre artikel "'ons is nie halfnaaitjies nie / ons is Kaaps': Die wroeging met identiteit by enkele swart Afrikaanse skrywers" (1997). In daardie artikel analiseer hy Small se aanvanklike poging om aansluiting te vind by Afrikaner intellektuele in die 1950's en 1960's, sy omarming van Swart Bewussynsdenke in die 1970's ('n periode waarin hy in Engels geskryf het) en sy versoening met Afrikaanse mense en identifisering met die reënboognasie in die 1990's. Hierdie argument word in die bundel bygewerk met verwysings na Small se openbare stilswye in die vroeë 2000's tot en met die publikasie van Klawerjasin 2013 (Van Wyk 2017: 99-102). Van Wyk verwys na Small se verklaring van hierdie stilswye in terme van 'n bitterheid oor die voortdurende maniere waarop sy werk en uitsprake in raskategorieë geplaas is (Van Wyk 2017:100). In Klawerjas en Small se openbare uitsprake daarna (onder andere by die Vierde Swart Afrikaanse Skrywersimposium in 2015 en in sy gelukwensing aan die rektor van die Universiteit van Stellenbosch oor die instelling se nuwe taalbeleid) bespeur Van Wyk (2017:102) 'n nuwe houding waarin "[m]enslikheid" vir Small "groter waarde [dra] as die behoud van taal".

In die (min-of-meer) eerste helfte van die boek word 'n kort biografie en persoonlike blik op Small as mens dus gevolg deur uiteensettings van die maniere waarop sy status in die Afrikaanse literêre sisteem, sy verhouding met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en sy eie konseptualisering van sy identiteit oor tyd verander het. Dit is 'n sinvolle struktuur wat die weg voorberei vir hoofstukke ses tot nege, waarin spesifieke literêre werke in diepte bespreek word.

In hoofstuk ses bespreek Hein Willemse die gedig "Vryheid" uit Kitaar my kruis (1962). Hy analiseer, na aanleiding van Hanna Arendt se Between past and future, die spanning in die gedig tussen die strewe na 'n individualistiese innerlike vryheid waar die individu onaangeraak is deur uiterlike situasies en die stryd om 'n per definisie gemeenskaplike politieke vryheid. Die maniere waarop hierdie spanning in "Vryheid" teenwoordig is, word as vertrekpunt gebruik om hierdie spanning in die res van Small se oeuvre en in wat Van Wyk sy "identiteitskonstruk-sie" noem, te ondersoek.

In die volgende hoofstuk, "Herinneringe en herbesinnings - Kanna hy kö hystoe" bespreek Marisa Keuris Kanna se opvoeringsgeskiedenis. Deur middel van 'n fokus op herinneringstudies, trauma en versoening, plaas sy soos ander bydraers die klem op verskuiwings in Small se status: van die eerste opvoerings wat Small as bruin mens nie kon bywoon nie, tot die hedendaagse status van Kanna as "ikoniese werk" wat nog gereeld opgevoer word (Keuris 2017:154).

Keuris se hoofstuk word gevolg deur Jacomien van Niekerk se analise van die Brechtiaanse invloed (al dan nie) op twee verwerkings van Kanna tot radiodrama. Van Niekerk se bespreking van Kanna se opvoeringsgeskiedenis is meer krities as Keuris s'n. Terwyl Keuris toegee dat die opvoeringsgeskiedenis van Kanna soms pynlik is, is Van Niekerk (2017:159-161) se kritiek op die wyse waarop bruin karakters deur wit akteurs vertolk is (ook in die 1989 radiodrama), feller. Waar die karakter van Makiet gewoonlik as 'n versorgende en lydende moederfiguur interpreteer word, fokus Van Niekerk (2017:167-171) ook op die maniere waarop die teenstrydighede in Makiet se karakterisering bydra tot 'n genuanseerde kritiek op die maniere waarop almal medepligtig gemaak word aan die ongeregtigde en vervreemdende samelewing wat in die drama uitgebeeld word.

Michael le Cordeur fokus in sy bydrae ook op 'n spesifieke drama, naamlik Krismis van Map Jacobs en veral op die drama as teks wat gereeld aan hoërskoolkinders voorgeskryf word. Hy deel sy ervaring met die onderrig van die drama aan onderwysstudente en hulle indruk dat dit gebruik kan word om Kaaps deel van Afrikaanse kurrikula te maak en om leerders te laat nadink oor bendegeweld. Le Cordeur eien Small dus ook as 'n verteenwoordiger van Kaaps, maar sy benadering (wat ook erkenning gee aan die heterogeniteit van hierdie taal [Le Cordeur 2017:191]) fokus eerder op die bemagtiging wat dit meebring, eerder as wat dit Small slegs beperk tot skrywer van Kaaps. Dit sou wel waardevol gewees het as Le Cordeur die statistieke van studente se reaksie op Map Jacobs ingesluit het. Dit sou byvoorbeeld gebruik kon word om verskillende studente se reaksies met mekaar te vergelyk.

Soos reeds genoem, bestaan die tweede hoofstuk van die bundel uit Abraham H. de Vries se herinneringe aan Small. Dit is gepas dat die tweede laaste hoofstuk van die bundel ook meer persoonlik en minder akademies is. Dit bestaan uit die Vlaamse leksikograaf Willy Martin se besinning oor sy pogings om enkele Small gedigte na Nederlands en Vlaamse dialekte te vertaal en sluit 'n postume brief aan Small in. Hierin verduidelik Martin die keuses wat hy as vertaler gemaak het.

Die heel laaste hoofstuk is Antoinette Lombard en Rinie Schenk se besonder interessante bespreking van 'n aspek van Small se lewe waarna daar dikwels in die verbygaan verwys word, maar wat nog nie akademies ondersoek is nie - naamlik sy loopbaan as Maatskaplike Werkdosent. Hulle bespreek die invloed van sy fokus op maatskaplike geregtigheid op kurrikula en op die studente vir wie hy klas gegee het.

Natuurlik is daar steeds aspekte van Small se werk en sy lewe wat nie in die bundel verteenwoordig word nie. Daar word relatief min aandag geskenk aan sy poësie (in vergelyking met sy dramas). Odendaal fokus net op sy posisie as digter in die literêre sisteem en Willemse interpreteer slegs "Vryheid". Martin se "brief aan Small oor sy vertalings bevat wel 'n kort (maar ekonomiese) strukturele analise van die betrokke gedigte.

Ten spyte van hierdie gapings dien Adam Small: Denker, digter, dramaturg - 'n huldiging as 'n inleiding tot die akademiese en populêre diskoerse oor Small se werk en lewe én bevat dit oorspronklike navorsing wat ook nuwe navorsingsmoontlikhede oopmaak. Laasgenoemde word ook bevorder deur Bettina Wyngaard se bibliografie aan die einde van die bundel. Hierdie bibliografie is deeglik en sal dien as 'n nuttige hulpbron vir navorsers en studente. Daar is wel enkele bronne (soos Bloom se Anxiety of Influence en Carlson se The Haunted Stage) ingesluit wat deur die skrywers in hierdie boek gebruik is, maar wat nie direk verband hou met Adam Small nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Brink, A.P. 1986. Aspekte van die nuwe drama. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Van Wyk, S. 1997. "ons is nie halfnaaitjies nie / ons is Kaaps": Die wroeging met identiteit by enkele swart Afrikaanse skrywers. Literator 18(2):85-97.         [ Links ]

Vermeulen, H.J. 1987. Kanna hy kö hystoe. Reuse-blokboek 21. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License