SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2A substitute for Phèdre or the (un)translatability of intertextual references in Jean-Paul Daumas's Le cimetière des éléphantsDisentanglement: The basis of societal and religious freedom author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.2 Pretoria Jun. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n2a7 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

'n Ekokrities-filosofiese perspektief op die kortverhaal "Katvoet" (Riana Scheepers): Die mens en die natuur

 

An Ecocritical-philosophical perspective on the short story "Katvoet"(Riana Scheepers): Humans and nature

 

 

Carien Smith

Departement Filosofie Universiteit van Johannesburg E-pos: smithcatharina23@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Hierdie navorsing bied 'n ekokrities-filosofiese blik op die verhaal "Katvoet" uit die gelyk-namige kortverhaalbundel deur Riana Scheepers (2009). Die navorsing is interdissiplinêr van aard en betrek die dissipline van filosofie sowel as letterkundige studie. "Katvoet" bevraagteken die antroposentriese perspektief deur alternatiewe perspektiewe te beklemtoon en 'n alterverhaal te skep wat parallel met die antroposentriese verhaal verloop. Die vrou se verhouding met diere en die natuur weerspreek die algemene aannames oor die mens en die natuur en die rol van die natuur in die mens se wêreld. Die vrou verdierlik in die verhaal en hierdie verdierliking skep die weg tot 'n verfrissende en nuwe siening van die absolute binêre opposisies van kultuur en natuur, rasionaliteit en emosies, die mens en die dier, objek en subjek, en "mind" en liggaam. Die vrou se verhouding met die natuur en diere plaas die mens en die natuur op gelyke voet en die natuur word nie onderdruk deur die mens nie. Die verhaal bied ook die geleentheid om die konsep natuur te herdefinieer teen die agtergrond van die verskuiwende verhoudings met die natuur.

Trefwoorde: Ekokritiek, Riana Scheepers, vrou, dier, natuur, kultuur, rasionaliteit, liggaam, "mind", niemenslike, agentskap, "Katvoet", Morton, Buell


ABSTRACT

The purpose of this article is to present an ecocritical-philosophical analysis of Riana Scheepers' short story "Katvoet" (2009). In previous work I have analysed this text with reference to aphenomenological framework (LitNet Academic 13(2):227-252). However, in my view the story offers more possibilities for interpretation. In particular, it may be fruitfully explored in ecocritical terms. To this end, I draw on Alaimo, Hekman, Bennett, Buell, Burton-Christie, Garrard, Iovino, Love, Morton, Warren, as well as some of the prominent Afrikaans academics in the ecocritical field, namely Susan Smith and Susan Meyer.
Ifirst outline the differences between the ecocritical framework informing the current as opposed to my earlier phenomenological study. I employ this framework to challenge some of the general Western philosophical ideas that ground Western thought (according to Karen Warren 2015, 2009): 1. the idea that rationality is the ultimate characteristic and faculty of human beings which makes them distinct and superior to animals; 2. the conception of human beings as rational beings with the ability to think logically; 3. a belief in basic binary oppositions, such as mind and body, woman and man, subjectivity and objectivity, culture and nature, and rationality and emotions; 4. the belief in an ontological difference between human beings and animals (Diehm 2003:32-3; Warren 2015; Warren 2009). Ecocriticism and its various manifestations in literature is further discussed. Thereafter the analysis of the short story "Katvoet" is presented in accordance with the above conceptual framework. In the story, the basic assumptions that ground the Western philosophical ideas are critically analysed as they are presented in the story, in order to determine to which degree these ideas are being challenged. What seems to be essential arising from this analysis is that the basic binary oppositions, traditional Western philosophical ideas, the concept of nature and the basic anthropocentric thinking that dominates literature are challenged in this story.

Key terms: Ecocriticism, Riana Scheepers, woman, animal, nature, culture, rationality, body, mind, nonhuman, agency, "Katvoet", Morton, Buell


 

 

1. INLEIDING

Die doel van hierdie artikel is om die verhaal "Katvoet" deur Riana Scheepers uit haar gelyknamige bundel (2009) aan die hand van ekokritiek te bespreek. Ek het hierdie kortverhaal reeds in 2016 in 'n artikel op LitNet Akademies (13(2):227-252) ontleed aan die hand van die fenomenologie, wat strenggenome 'n filosofiese metode is. Ek glo egter dat hierdie teks ryk is aan verdere moontlikhede vir ontleding en dat een so 'n moontlikheid die aanwending van ekokritiese wetenskapsbeginsels is. Van die teoretici na wie ek verwys is Alaimo, Hekman, Bennett, Buell, Burton-Christie, Garrard, Iovino, Love, Morton, Glotfelty en Fromm (spesifiek in terme van ekokritiek); Husserl, Merleau-Ponty, Kant en Warren (filosofiese begronding); en van die voorlopers in die gebruik van ekokritiek in die Afrikaanse literatuur, naamlik Susan Smith en Susan Meyer.

Vervolgens, die struktuur van die artikel. Eerstens tref ek 'n onderskeid tussen die huidige artikel en my vorige artikel, naamlik "Die vrou, swangerskap en die dier in die kortverhaal "Katvoet" deur Riana Scheepers: 'n fenomenologiese ondersoek" (LitNet Akademies 13(2):227-252). 'n Aantal filosofiese konsepte word bespreek om te verduidelik hoe ek bepaalde terme aanwend: eerstens die onderskeid tussen woorde, konsepte, teorieë en 'n fisiese entiteit, daarna 'n verdediging van die gebruik van die woord "mind" en laastens 'n oorsig van die konsepte agent, agentskap en morele agent. Vervolgens word 'n aantal van die algemene filosofiese idees wat as grondslag dien vir die Westerse filosofiese kanon bespreek. Hierdie basiese idees word juis deur ekokritiek bevraagteken en gekritiseer en sommige van hierdie kritiek kan raakgelees word in "Katvoet".

Konseptuele raamwerke as verwysingsraamwerke en die kenmerke van onderdrukkende konseptuele raamwerke kom volgende aan bod.1 Die konsep natuur word oorsigtelik bespreek: die wyse waarop die natuur gedefinieer en uitgebeeld word in die Westerse kanon. Vervolgens word ekokritiek bespreek; eerstens die definisie en oorsprong van ekokritiek, daarna die wyse waarop ekokritiek in die literatuur manifesteer. Daarna word die verhaal "Katvoet" ontleed aan die hand van die bogenoemde verwysingsraamwerk wat geskep word deur filosofie en letterkunde, met hoofsaaklik die gebruik van die teoretiese raamwerk van ekokritiek.

 

2. KONTEKSTUALISERING

Dit is belangrik om te onthou dat ekokritiek interdissiplinêr van aard is en nie slegs in die veld van die letterkunde lê nie; dit "tree in gesprek met omgewingsgeskiedenis, filosofie, sosiologie, (fisiese) wetenskappe en ekologie, asook die lewenswetenskappe" (Bergthaller 2014; Marshall 2001:2; Meyer 2016:1204). In hierdie artikel gebruik ek daarom nie slegs die letterkundige aspekte van ekokritiek om die verhaal te ontleed nie, maar steun ook op sommige konseptuele raamwerke vanuit die filosofie. Hier gaan dit onder meer om die algemene Westerse filosofiese idees wat die literêre kanon onderlê, analitiese filosofiese idees rondom konsepte en teorieë, die analitiese of sintetiese identiteit van konsepte asook die filosofie van aksie en agentskap.

In die genoemde studie wat ek onderneem het in LitNet Akademies (2016) is dieselfde kortverhaal as wat in hierdie artikel onder die loep kom, vanuit 'n fenomenologiese perspektief ontleed, soos trouens blyk uit die titel van die artikel. Aangesien die LitNet Akademies-artikel hoofsaaklik vanuit die fenomenologie benader is, verskil die onderhawige artikel daarvan in terme van die basiese konseptuele raamwerke wat as verwysingsraamwerk gebruik word vir die ontleding. In die LitNet Akademies-artikel is daar wel ook afdelings oor 1) die dier en 2) die natuur en die vrou wat van belang vir die ekokritiek kan wees, maar die fokus bly steeds op aspekte van die verhaal soos beskou vanuit 'n streng fenomenologiese perspektief. In die fenomenologiese ondersoek is die teorieë van onder andere Maurice Merleau-Ponty, Edmund Husserl, Iris Marion Young en Simone de Beauvoir as uitgangspunt gebruik.

In 'n fenomenologiese ondersoek is die fokus op die ervaringswêreld van 'n bepaalde ervarende subjek as die gewaarwordende subjek, vanuit die eerstepersoonperspektief, waar die klem op die fenomenologiese intensionaliteit ("intentionality") van ervaringe val (Smith & Thomasson 2005:1). Met intensionaliteit word daar verwys na "die unieke eienskap van 'n ervaring, dat dit 'n ervaring van 'n spesifieke objek, gebeurtenis, emosie, herinnering, en so meer is en dat hierdie ervaring 'n spesifieke betekenis dra" (Cerbone 2006:4; Cresswell 2009: 7; Smith 2016:231; Smith & Thomasson 2005:8). Die fokus in die fenomenologiese ontleding van die verhaal "Katvoet" is dus op die vrou as beliggaamde subjek en haar belewende liggaam (Husserl se "lived body") as liggaam wat "lewende, ervarende en affektiewe onderdele besit" en "die ruimte [is] waarop en waarin die gewaarwordinge plaasvind" (Cerbone 2006:101,7; Drummond 2007:645; Jensen 2013:viii; Merleau-Ponty 2005:92; Smith 2016:231; Smith 2013).

Die vrou se liggaam (as belewende liggaam) en al die ervaringe van die liggaam is die sentrale fokuspunt vir die genoemde ondersoek, met die vrou se verhouding met die natuur en diere sekondêr. Die verskeidenheid betekenisse wat die ervaringe vir die vrou inhou kom na vore deur haar ervaringe van "liggaamlike eienaarskap, 'dubbele-sensasie'-ervaringe, die digotomieë tussen subjek en objek, Self en Ander, die binneste en buitenste ruimtes van die liggaam, ek en nie-ek, verlede en toekoms, en eie en vreemde" (Smith 2016:230). Die betekenisse wat van hierdie ervaringe afgelei word is gesag, vryheid, eienaarskap oor haar liggaam en ervaringe, 'n beskermingsaard en 'n dierlike aard (Smith 2016:240-1). Hierdie betekenisse van haar ervaringe kan in sommige gevalle ook ekokrities ontleed word, maar dit is eerder alle ervaringe van die vrou wat ontleed word in die 2016-studie en nie slegs die ervaringe wat verband hou met 'n ekokritiese lesing van die teks soos in die onderhawige ondersoek nie.

Van die mees kenmerkende verskille tussen die fenomenologiese ondersoek in die LitNet-artikel en die huidige artikel is, dus: 1) 'n fenomenologiese ondersoek word uitgevoer vanuit die eerstepersoonsperspektief, waar 'n ekokritese ondersoek nie noodwendig vanuit hierdie perspektief toegepas word nie, maar eerder uitgevoer word vanuit 'n breër perspektief oor die mens se verhouding met nie net enige ervaringe nie, maar spesifiek die mens, die natuur, die mens se houding teenoor die natuur, die materiële, die interaksie tussen hierdie verskeie aspekte in 'n teks en ander kultuurvorms (Glotfelty 1996:xviii; Meyer 2016:1203; Phillips 1999:578; Smith 2012; Smith 2016). Verder 2) is die klem in 'n fenomenologiese ondersoek op die intensionaliteit ("intentionality") van die ervarende subjek se ervaringe (Cerbone 2006:4). Die individu is die eenheidskepper van haar ervaringe en in die fenomenologiese ondersoek is die fokus op bepaalde ervaringe en fenomene wat sentraal staan tot die ervarende subjek (Cerbone 2006:6), waar 'n ekokritiese ondersoek, daarenteen, nie noodwendig op hierdie wyse fokus op slegs 'n bepaalde individu (as eenheidmaker) se ervaringe as fenomene nie. 'n Ekokritiese ondersoek kan ander fenomene in ag neem wat buite 'n spesifieke verhouding met 'n belewende liggaam staan en waar daar nie 'n eenheidskepper teenwoordig is nie. In die 2016-artikel is dit die vrou se verhouding met haar emosies, die betekenisse van haar ervaringe, interaksie met haar eie liggaam (ook "dubbele sensasies"), haar kind, asook sommige aspekte van haar interaksie met die natuur en diere (vanuit 'n fenomenologiese eerstepersoonsperspektief) wat aan bod kom as tipes ervaringe wat omskryf word.

Een van die verdere groot verskille in die twee ondersoeke is dat 3) ekokritiek volgens sommige teoretici nie 'n metode is nie, maar eerder "'n aanpasbare praktyk wat vraagstukge-drewe eerder as paradigmagedrewe is" (Buell 2005:11; Meyer 2016:1203). Hierteenoor word daar in fenomenologie baie bepaald na die "fenomenologiese metode" verwys wat in twee stappe verdeel kan word: 1) die "transendentale fenomenologiese vermindering" ("transcendental-phenomenological reduction") wat meebring dat ons van 'n "world-oriented, world-representing experience" na 'n filosofiese benadering kan skuif waarin ons ervaringe as ervaringe kan omskryf en die verskeie aspekte van die ervaringe kan ondersoek (Cerbone 2006:12, 22-3; Moran 2000:11; Smith & Thomasson 2005:9). Hierna vind daar 2) 'n veralgemening en abstrahering plaas waardeur ons wegbeweeg van werklike individuele ervaringe na die tipes ervaringe of die essensies van tipes ervaringe (Moran 2000:11; Smith & Thomasson 2005:9). Hierdie metode help om ervaringe te verwyder van enige filosofiese, wetenskaplike, alledaagse en kulturele voorveronderstellings wat die interpretasie van die ervaringe kan beïnvloed (Cerbone 2006:17; Moran 2000:11-2). Hierdie metode word ook "bracketing" genoem (Moran 2000:11-2).2

Laastens kan genoem word dat daar in ekokritiek bestudeer word hoe antroposentriese denke, asook in sommige gevalle verdere basiese binêre opposisies (mens en dier, rasionaliteit en emosies, "mind" teenoor liggaam, en so meer) herdefinieer word (Diehm 2003:32-3; Love 2003:22; Warren 2009). In 'n fenomenologiese ondersoek word hierdie tipe bevraagtekening van die betrokke binêre opposisies en antroposentriese denke nie eksplisiet aangepak nie, maar sal dit eerder as 'n tipe ervaring ondersoek kan word indien dit deel vorm van die intensionaliteit van die ervarende subjek wat belig word.

Fenomenologie sal op 'n baie interessante wyse toegepas kan word om 'n fenomenologies-ekokritiese ontleding van 'n bepaalde teks uit te voer, alhoewel dit duidelik is dat dit nie die geval was in my vorige (Smith 2016) ontleding nie, aangesien daar ander ervaringe ter sprake was wat nie direk verband hou met ekokritiek nie. Dit is daarom duidelik dat hierdie Scheepers-verhaal nog verdere geleenthede bied vir ontleding vanuit ander konseptuele raamwerke as die fenomenologie. In hierdie navorsing is dit die doel om die verhaal te ontleed deur die konseptuele raamwerk van ekokritiek as deel van die verwysingsraamwerk te gebruik.

 

3. FILOSOFIESE KONSEPTUELE RAAMWERK, ALGEMENE WESTERSE FILOSOFIESE IDEES EN DIE KANON

Ter verduideliking van sommige van die terme wat gebruik word in hierdie navorsing wil ek eerstens verwys na die onderskeid tussen woorde, konsepte, teorieë ("conceptions") en die "ding" self in die wêreld.3 Woorde het spesifieke definisies en 'n spesifieke woord het bepaalde konnotasies en soms denotasies. Daarom is dit moontlik dat twee verskillende woorde ("water" in Afrikaans, "agua" in Spaans) na een en dieselfde ding kan verwys, en verder kan verskillende woorde in verskillende tale ook na dieselfde konsep verwys. Konsepte is die essensie van een of ander fenomeen wat daarmee verbind is. Daarom kan daar verskeie teorieë ("conceptions") oor een konsep wees, maar die konsep verwys na een of ander essensie wat in al die teorieë van daardie konsep teenwoordig is. Indien daardie essensie nie in 'n teorie oor 'n konsep teenwoordig is nie, is dit nie 'n teorie oor die spesifieke konsep nie. Die "ding" in die wêreld is die fisiese entiteit waarna verwys kan word deur verskillende woorde. Die "ding" het verder ook bepaalde fisiese eienskappe. Die fisiese entiteit wat vloeibaar en drinkbaar is, is beide "agua", en ook "water".

Vervolgens verwys ek na die gebruik van die woord "mind" wat verkies word bó die gebruik van sommige ander Afrikaanse woorde wat algemeen as sinonieme daarvoor gebruik word (gees, intellek, rede, rasionaliteit, denke, en so meer). Die woord "mind" en die konsep wat daardeur opgeroep word, is nie analities identies met die woorde intellek, rede, rasionaliteit, gees, denke, en so meer nie. Daarom is hierdie woorde nie vergelykbaar of omruilbaar nie. Hierdie woorde en die konsepte verbonde daaraan is eerder sinteties verbind met die woord "mind". Die bogenoemde woorde kan dus nie as sinonieme vir die woord "mind" optree nie. Met analitiese identiteit is dit die geval dat X gelyk is aan X, dat die twee omruilbaar is, of a priori die waarheid is (Bunnin & Yu 2004:29). 'n Voorbeeld van analitiese identiteit is "water" en "H20" wat omruilbaar is en verder ook sinonieme is. Die twee woorde is analities identies aangesien hulle na presies dieselfde konsep verwys (Bunnin & Yu 2004:29; Lowe 1995:28). 'n Sintetiese identiteit, in teenstelling met die bogenoemde, is te vinde in die sin "hierdie pen is swart". Die konsep "swart" word bygevoeg by die konsep "pen", maar die twee word nie gelykgestel nie, of is nie identies nie, en is slegs sinteties verbind. "Swart" en "pen", afsonderlik, verwys nie na dieselfde konsep nie, maar "swart pen" verwys na 'n verhouding waarin die twee verbind is. Hierdie analitiese/sintetiese identiteit-onderskeid word teruggevoer na Immanuel Kant se seminale teks Critique of Pure Reason (oorspronklik 1788; 2007) waarin hierdie verbintenis ondersoek word.

Die derde stel konsepte wat ek in hierdie navorsing toepas, wat ek hier kortliks wil bespreek, is die konsepte agent, agentskap, en morele agent. Die konsep agent word omskryf as 'n wese wat die vermoë of kapasiteit het om te kan optree en agentskap is die beoefening van hierdie vermoë (Horn 1995:18; Thompson 2010; Schlosser 2015; Sterelney 2001). Hierdie omskrywing van die konsep agentskap kom veral vanuit die aksiefilosofie (Philosophy of Action) waarin daar ook onderskeid getref word tussen aksies wat bloot gebeur (sonder die aktiewe agentskap van 'n agent) en ander aksies wat gebeur as gevolg van die aktiewe uitvoer van 'n agent se agentskap (Schpall & Wilson 2012). In die eersgenoemde is dit gebeurtenisse wat bloot plaasvind, terwyl die tweede gebeurtenisse betref wat bewerkstellig word deur agente (Schpall & Wilson 2012).

Verskeie tipes agentskap kan geïdentifiseer word, asook verskeie teorieë oor agentskap. Ter opsomming: daar is teorieë gebaseer op die idees van 1) agentskap as intensionele aksie (vanuit fenomenologiese "intentionality"); 2) agentskap as inisiëring deur die agent; 3) agentskap as uitsluitlike menslike eienskap; 4) agentskap sonder verstandelike verteen-woordiging; 5) verstandelike agentskap; 6) gedeelde agentskap; 7) kollektiewe agentskap; 8) verhoudingsagentskap; en 9) kunsmatige agentskap (Schlosser 2015). Agentskap is, op sy mees basiese, 'n oorsaaklike verhouding ("causal relation") tussen verskeie agente (Schlosser 2015).

Die morele aspek van agentskap is 'n verdere onderdeel van hierdie konsep (ek verwys vervolgens na hierdie aspek as "morele agentskap"). In hierdie opsig verwys dit na die agent se mag om morele keuses te maak, uit te voer, en die verantwoordelikhede wat daarmee verbind is (Horn 1995:4-5; Schlosser 2015).

Daar is egter baie teorieë oor die konsepte agent, agentskap, en morele agent wat verband hou met die intensionaliteit van die agent (die fenomenologiese "intentionality") asook die oorsaaklike verhouding ("causation") in aksies (Schpall & Wilson 2012). Die woorde"agent" en "agentskap" is dus omvattend met betrekking tot al die verskeie identifiseerbare aspekte van agentskap, waar sommige ander Afrikaanse omskrywings nie omvattend is ten opsigte van al hierdie individuele aspekte nie. Die konsep is genuanseerd en ingewikkeld en 'n vereenvoudigde vertaling van die woord sal sommige van die noodsaaklike aspekte van die konsep uitsluit.

Die algemene filosofiese idees wat die konseptuele raamwerk vir die Westerse filosofiese kanon vorm en as grondslag dien sluit die volgende in: 1) 'n aanvaarding van en verbondenheid tot rasionaliteit as die uitstaande kenmerk van die mens en die eienskap wat die mens anders en verhewe maak vergeleke met diere en die natuur (Bailey 2005:4; Diehm 2003:32-3; Warren 2015; Warren 2009a:20); 2) 'n teoretisering van die mens as rasionele wese met die vermoë tot logiese en abstrakte denke; daarmee gepaardgaande die vermoë om aan objektiewe idees en beginsels te kan dink en hierdie idees en beginsels terselfdertyd te kan vergelyk, asook die vermoë om die gevolge van aksies te kan beredeneer en te kan verstaan (Warren 2015; Warren 2009a:20); 3) 'n onderskrywing van basiese binêre opposisies, soos byvoorbeeld "mind" teenoor liggaam, die absolute teenoor die relatiewe, subjektiwiteit teenoor objektiwiteit, kultuur teenoor natuur, sentrum en periferie, en die rede teenoor emosies (Diehm 2003:32-3; Nye & Warren 2009:157, 160; Warren 2015; Warren 2009a:19; Warren 2009b:537,538; Westphal 2011:47); 4) die oortuiging dat daar 'n ontologiese onderskeid tussen niemenslike diere, asook die natuur, en mense is; en 5) die assessering van die waarheid van epistemologiese en etiese beginsels deur die kriteria van universele veralgemeenbaarheid (Warren 2015; Warren 2009a:5, 6; Warren 2009b:537, 538).4 Die meeste van hierdie grondliggende idees word deur ekokritiek bevraagteken. In hierdie artikel verwys ek veral na die idees soos uitgedruk in 1, 3, en 4 van die bogenoemde opsomming.

Hierdie kanonieke idees kan deurlopend identifiseer word tot en met die Antieke Grieke en verwys na filosowe wie se denke die grondslag vorm in filosofie aan die meeste Westerse universiteite. In hierdie tradisie is daar sterk ooreenstemming oor die mees algemene konseptuele raamwerk en die bogenoemde vyf aspekte is algemeen herkenbaar in hierdie denke (Diehm 2003:32; Warren 2015).

 

4. KONSEPTUELE RAAMWERKE

Die individu ervaar die wêreld en die self deur n verwysingsraamwerk wat uit konseptuele raamwerke bestaan wat houdings, aannames, oortuigings, teorieë en beginsels oor die wêreld insluit waardeur die individu die wêreld ervaar en oordeel (Warren 2015; Warren 2009b:537). Onderdrukkende raamwerke funksioneer om die ongeregverdigde verhoudings en praktyke van dominering en onderdrukking te verduidelik en te regverdig (Diehm 2003:32-3; Warren 2015).

Vier kenmerke van onderdrukkende konseptuele raamwerke kan identifiseer word, wat ek hier soos volg vertaal: 1) waarde-hiërargiese, Bo-Onder-denke, 2) opposisionele en uitsluitende waarde-dualismes, 3) mag en voordele word ervaar op wyses wat die Bo-Onder-denke en sisteme bevoordeel en die Bo verkry mag en voordele, en 4) 'n logika van dominering wat die morele voorveronderstelling vir die superioriteit van onderskikking regverdig. Waarde-hiërargiese, Bo-Onder-denke heg minder waarde aan dit wat as Onder geklassifiseer word; in die tradisionele Westerse denke en filosofie word die samelewing en kultuur as Bo geklassifiseer en die natuur as Onder, die man as Bo en die vrou as Onder, rede en rasionaliteit as Bo en emosies as Onder, die denke en rasionaliteit as Bo en die liggaam as Onder, die subjek as Bo en die objek as Onder (Browning & Warren 2009:35; Diehm 2003:32-3; Gray 1981:20; Warren 2015; Warren 2009a:19). Hierdie Bo-Onder-klassifisering en organisering regverdig ongelykheid in plaas daarvan om diversiteit te aanvaar en aan te moedig (Warren 2015).

Die opposisionele (teenoor komplementerende) en uitsluitende (teenoor insluitende) waardedualismes heg meer waarde aan een van die twee waardes in die opposisie teenoor die ander een; byvoorbeeld kultuur het meer waarde as die natuur, die man het meer waarde as die vrou, rede meer as emosies, rasionaliteit meer as die liggaam, en die subjek het meer waarde as die objek (Diehm 2003:32-3; Warren 2015; Warren 2009a:19-21; Warren 2009b:538, 539). Daar word ontken dat die minderwaardige van die waardedualisme enigsins iets van waarde tot die meerderwaardige van die waardedualisme kan bydra (Diehm 2003:33).

Hiervolgens is dit beter om met kultuur, die man, die rede, rasionaliteit, en as subjek te identifiseer as om met die natuur, vrou, emosies, liggaam en as objek te identifiseer (Diehm 2003:33; Warren 2015). Die derde kenmerk behels dat mag en voordele op so 'n wyse beskou word dat die Bo bó die Onder bevoordeel sal word (Warren 2015; Warren 2009b:539). Die Bo (byvoorbeeld kultuur en rede) het meer mag en voordeel as die Onder (natuur en emosies). Die logika van dominering wat die morele voorveronderstelling vir die superioriteit van onderskikking regverdig, beklemtoon die een of ander eienskap of tekort aan 'n eienskap wat die Onder het, en daarom word die Bo as superieur beskou (Warren 2015; Warren 2009b:539). Hiervolgens het diere en die natuur nie rasionaliteit en logika nie, maar die mens het, en daarom is die mens superieur en Bo.

 

5. DIE NATUUR

Die natuur, die organiese, materiële wat in teenstelling met die menslike staan is vir lank reeds vereenvoudig in die mens se denke (Phillips 1999:577-8; Ruse 1995:603; Warren 2015) en die ekokritiek bevraagteken hierdie vereenvoudigde denke:

It is one of the great mistaken ideas of anthropocentric thinking (and thus one of the cosmic ironies) that society is complex while nature is simple [...] That literature in which nature plays a significant role is, by definition, irrelevant and inconsequential. That nature is dull and uninteresting, while society is sophisticated and interesting. (Love 2003:23)

Verder tref Stephenson (1995:181) 'n onderskeid tussen die "natuur" en NATUUR, waarin die eersgenoemde verwys na die fisiese, oftewel "sticks and stones", waarteenoor NATUUR verwys na 'n mag, of fors. In die ekokritiek sal 'n mens eerder beweer dat die laasgenoemde uitgebeeld word aangesien die natuur in ekokritiek uitgebeeld word as 'n mag, of fors, met agentskap.

Volgens Alaimo (2010:1) word die natuur geobjektiveer tot op die vlak dat die mens die natuur as dood ervaar en dat die natuur nie aktief en lewend is nie. Smith (2014:757) verduidelik dit as volg:

[...] in die plek daarvan is die "begrip" natuur, wat gestroop is van alle lewe en as sodanig 'n leë abstraksie of leë spasie geword het, slegs daar vir die mens se eie benutting om daaraan betekenis toe te ken soos dit die mens pas. Die mens glo dat deur die natuur te ontwikkel, waarde daaraan toegevoeg word - 'n aksie wat bydra tot objektivering en uitbuiting van die "onbetwiste" spasie.

Die enigste manier om die natuur/kultuur dualisme te verander, is om die konsep natuur te herdefinieer (Alaimo & Hekman 2008:4). Die natuur moet ervaar en beskou word as iets wat agentskap het en meer is as bloot 'n hulpbron wat vir industriële produksie en sosiale konstruksie gebruik word (Alaimo & Hekman 2008:4; Warren 2015). Alaimo en Hekman (2008:5) beweer dat maniere benodig word om die interaksies tussen verskeie verskynsels te verstaan; die interaksies tussen die liggaamlike, materiële, menslike, meer-as-menslike, die diskursiewe en die tegnologiese. Volgens Fromm en Glotfelty (1996:15) is daar ander tale in die wêreld as bloot die mens se sosiaal gekonstrueerde taal: daar is die taal van "[the] birds, the wind, earthworms, wolves, and waterfalls - a world of autonomous speakers whose intents [...] one ignores at one's own peril".

In sy meer ongetemde toestand kan die natuur as 'n ruimte van beproewing en verleiding funksioneer, n ruimte van vryheid, genesing en bevryding, asook n ruimte waar die mens sy vrese en begeertes projekteer (Bertens 2014:221). In die Westerse kultuur is die verhouding met die natuur n onbetwiste verhouding van heerskappy wat meestal gebaseer is op die verhouding van heerskappy soos dit uitgebeeld word in 1 Genesis vers 26 in die Bybel: "Toe het God gesê: 'Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip'" (Bertens 2014:223; Burton-Christie 1993:155; Vital 2008:90). Hierdie tipe denke word gekenmerk deur antroposentriese denke oor die mens-natuur dualisme en verhouding wat ondersteun word deur die mens se vermoë tot rasionele denke (Bailey 2005: 4; Burton-Christie 1993:155; Warren 2015).

Verder het die mens vir die natuur en diere name gegee wat die dominerende posisie beklemtoon en alles in die skepping word gevolglik beskou as hulpmiddels vir die mens (Fromm & Glotfelty 1996:9). Die hiërargie wat hierdie skrifgedeelte uitbeeld en bevestig is duidelik: die mens word in die regerende posisie geplaas en die natuur in die posisie van slawerny (Bertens 2014:223). Die Christendom word beskou as die mees antroposentriese geloof en dit is hoofsaaklik hierdie geloof wat die denkwyses van die Westerse mens bepaal en gevorm het (Burton-Christie 1993:155; Fromm & Glotfelty 1996:9).

 

6. EKOKRITIEK EN DIE NUWE MATERIALISME

Omgewingsetiek kan beskou word as die geskiedkundige beginpunt van Westerse omgewingsfilosofie: die idee dat die mens morele verpligtinge het teenoor niemenslike diere en/of die natuur, en nie net teenoor mense nie (Tregenza 1995:238; Warren 2015). Daar word n inherente waarde aan die natuur en aan diere toegeskryf wat in kontras staan met die tradisionele idee dat die natuur en diere slegs instrumentele waarde besit (Warren 2015).

Ekologie is die studie van die verhouding tussen alle organismes; menslik en niemenslik, asook die omgewing of die plek waarin die organismes funksioneer (Morton 2010:4; Smith 2012:888; Vital 2008:90). Ekokritiek is die studie van die verhouding tussen die fisiese omgewing en die literatuur; ook aan die hand van bepaalde "literêre skryf- en leespraktyke en die kultuurprodukte van hierdie praktyke" (Fromm & Glotfelty 1996:xviii; Smith 2012:890). Bepaalde vrae wat gevra word in die ekokritiese bestudering van n teks is as volg: "Hoe word die natuur uitgebeeld in 'n bepaalde teks? Watter rol speel die milieu in die plot van die bepaalde teks? Is die waardes wat uitgebeeld word in die teks in ooreenstemming met ekologiese wyshede? Op watter manier beïnvloed die uitbeelding van die natuur in n teks die mens se verhouding tot die natuur? Wat is die invloed van die ekologiese wetenskap op die literatuur?" (Fromm & Glotfelty 1996:xviii-xix).5

Ekokritiek beskou die verbintenis tussen die mens en die natuur as fundamenteel, en die siening dat die twee mekaar affekteer word as vanselfsprekend aanvaar (Fromm & Glotfelty 1996:xix). In ekoktritiek sluit die konsep wêreld die hele ekosfeer in (Fromm & Glotfelty 1996:xix). William Rueckert het die term ekokritiek uitgedink en die eerste keer gebruik in sy opstel "Literature and Ecology: An Experiment in Ecocriticism" in 1978 (Fromm & Glotfelty 1996:xx). Ekokritiek se noue verwantskap aan die wetenskap van ekologie maak dit uniek in sy aard in vergelyking met kontemporêre kulturele en literêre teorieë wat soms meer verwyderd is van ander wetenskappe en op hulle eie funksioneer (Garrard 2004:5).

In Rueckert se gebruik van ekokritiek verwys hy spesifiek na die "application of ecology and ecological concepts to the study of literature", waar n wyer interpretasie van ekokritiek egter die bestudering van al die moontlike verhoudings en verwantskappe tussen die fisiese wêreld en die literatuur insluit (Fromm & Glotfelty 1996:xx). Ekokritiek bestudeer verder ook die verhoudings tussen spesifieke dinge: mense en die fisiese wêreld, kultuur en die fisiese wêreld, geïntegreerde en interafhanklike gemeenskappe en hulle verhoudings (Fromm & Glotfelty 1996:xx; Vital 2009:89).

Die woorddeel "eko"- in "ekokritiek" is afkomstig van die Griekse woord "oikos" (Maser 2009:27; Smith 2012:890) wat na "huis" verwys. Die woord "kritiek" is afkomstig van die Griekse "kritis" wat die betekenis dra van "beoordelaar" (Fromm & Glotfelty 1996:69). Tesame dra die woord "ekokritiek" dus die betekenis van "beoordelaar van plek", of "kritikus van plek" of "huis" (Fromm & Glotfelty 1996:69). Oikos verwys dus na die natuur, wat die wydste verwysing na huis of blyplek is en die kritos "is an arbiter of taste who wants the house kept in good order, no boots or dishes strewn about to ruin the original decor" (Fromm & Glotfelty 1996:69). Die bogenoemde dui gesamentlik op die belangrikheid van die konsep plek in die algehele verstaan van die konsep ekokritiek.

Volgens Lawrence Buell (2005:ix) begin alle menslike ondervindings by plek. Plek sluit in die lokaal (die materiële ligging vir sosiale verhoudings), ligging (waar die plek fisies is), asook die ervaring van die plek wat individueel of gemeenskaplik kan wees (emosies en gevoelens asook betekenisse gekoppel aan die plek) (Cresswell 2009:1-2, 4, 7). In ekokritiek het Buell (2005:63) drie dimensies van plek geïdentifiseer wat onlosmaaklik verbind is aan mekaar, interafhanklik tot mekaar staan, en in wisselwerking tree (Smith 2012:891). Smith (2012:887) som die drie dimensies soos volg op: "(i) die fisiese materialiteit van die omgewing, (ii) die sosiokulturele persepsie en linguistiese konstruksie van plek en (iii) die individuele en persoonlike verwantskap en verhouding met die plek". Plek is nie net die tasbare dimensie nie, maar ook "die verbeelde plek, die omgewing van die bewussyn" (Buell 2005:6; Smith 2016:1224). 'n Ligging word 'n plek sodra daar betekenis en waarde daaraan gekoppel word, gewoonlik deur mense wat die mag het om betekenisse namens sosiale groepe daaraan te heg (Cresswell 2009:1, 5, 7; Tuan 1977:6; Westphal 2011:x, 5). Plek is verder nooit volledig gekonstrueer nie aangesien betekenis verander en nie staties is nie: die betekenisse van plek kan bevraagteken word en verander (Cresswell 2009:6). Plek word dus op interessante wyse gekonstrueer en uitgebeeld in ekokritiese tekste.

Van die elemente wat raakgelees kan word in tekste waar ekokritiek teenwoordig is, is die volgende: die "[i]nteraksie tussen die menslike en die niemenslike", of die lewende en die nielewende (Smith 2014:761); die "[o]mmekeer van rolle, materiële uitruil en saambestaan" (Smith 2014:764); of die "interspel tussen fisiese substansie (beide menslik en niemenslik) en biologiese liggame waardeur voorspelbare skeidings tussen lewensvorme en materiële entiteite opgehef word" (Smith 2014:760); ekosentriese verhale teenoor die algemene antroposentriese verhale staan (Smith 2014:764-5); nuwe subjek-objek-verhoudings tot stand kom deur die verskuiwing van die objek- en subjekposisie (Smith 2014:766); asook interpretasies van plek wat die natuur as agent insluit (Cresswell 2009; Tuan 1977; Stephenson 1995; Warren 2015). Hierdie kenmerke skep dus n verhaal wat as n alterverhaal beskou kan word wat die realiteit "herbetower", parallel loop en ook in teenstelling staan met verhale wat "ongelykhede, rassisme, besoedeling en armoede" uitbeeld (Bennett 2001:8; Smith 2014:760).

Die nuwe materialisme is 'n beweging waarin daar klem gelê word op die interaksie tussen die materiële, en materialiteit (Smith 2016:1219). Dit is veral in die werke van onder andere Lawrence Buell (The Future of Environmental Criticism: Environmental Crisis and Literary Imagination, 2005), Timothy Morton (Ecology without nature, 2007; The ecological thought, 2010), Serenella Iovino ("Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the "new materialisms" and its implications for ecocritical theory" 2012), waar die Nuwe Materialisme op die voorgrond kom. Materialiteit is 'n "meervlakkige konsep" wat 'n "dig verstrengelde en meervoudige weefsel [veronderstel] wat sowel sosiolinguistiese konstruksies en kulturele verteenwoordiging (die diskursiewe praktyke) as die materialiteit van ekologiese verhoudings en ervaring insluit" (Smith 2014:755). In die ontstaan van materiële formasies is daar die "samehang en vervlegting" van niemenslike sowel as menslike liggame op 'n terrein van aksie en kennis (Smith 2016:1219). Hier is die konsep van transliggaamlikheid ook belangrik: materie en diskoers vloei oor die grense van die menslike en niemenslike en liggame word hierdeur herdefinieer (Alaimo 2008:238; Smith 2016:1219). In hierdie erkenning van die beweging oor die grense van liggame, openbaar dit 'n nuwe epistemologiese ruimte (Alaimo 2008:238).

 

7. ONTLEDING

In die Afrikaanse literatuur is die ekokritiek as literatuurkritiek nog jonk, maar reeds baie sterk aan die groei, wat duidelik is vanuit die vining groeiende hoeveelheid navorsing in hierdie veld deur, onder andere, akademici soos Susan Smith (2016; 2015; 2014; 2012a; 2012b), Susan Meyer (2017; 2016; 2014, 2012a, 2012b), Dan Wylie (2007), Marisa Keuris (2007) en Reinhardt Fourie (2011, MA-proefskrif).6

"Katvoet" (Scheepers 2009:150-7) is die verhaal van 'n vrou wat in die nag opstaan uit die bed, die natuur betree en gaan stap.7 Sy stap snags al hoe verder en sy word al hoe meer deel van die natuur en die dierlike. Nadat sy swanger word, hou sy steeds aan om snags te stap. Sy gee geboorte in die natuur en keer dan terug na haar man met haar pasgebore kind in haar arms.

Die verhaal bied die moontlikheid om deur die lens van die ekokritiek gelees te word wat 'n aantal nuwe insigte oplewer. In "Katvoet" word die hiërargie tussen die menslike en niemenslike omvergewerp: die vrou tree as gelyke met die dier en die natuur op en die verhaal beklemtoon die vrou se ervaringe van die natuur en die diere. In "Katvoet" is die verhouding tussen die mens, die samelewing of kultuur en die natuur 'n verhouding waarin die dominansie opgehef is: die natuur bestaan dus in 'n gesonde verhouding met die samelewing. Die ekokritiese en ekologiese temas in die verhaal skep n verhaal wat as alterverhaal beskou kan word; die verhaal bevraagteken ongelykhede ten opsigte van die mens se verhouding met die natuur en diere, en hef die onderdrukking van die natuur en diere op.

7.1 Die ekokritiese as 'n bevraagtekening van die Westerse Filosofie

In "Katvoet" word 'n algemene bevraagtekening van die algemene Westerse filosofiese idees en konseptuele raamwerke raakgelees. Eerstens betwis dit die aanvaarding van en verbondenheid tot die idee van rasionaliteit as basiese kenmerk van die mens en dié kenmerk wat die mens verhewe maak bo die dier en die natuur. Deurdat die vrou in "Katvoet" haar "los[maak] uit die arms van haar man" (151) en in die nag gaan stap, maak sy haarself deel van 'n alternatiewe lewe wat nie as deel gesien word van die lewe wat met rasionaliteit vereenselwig word nie en daarom nie as deel van die menslike beskou word nie. "Sy loop [...] al met die plaaspad in die straat tussen die Kalahariduine, weg van die huis, weg van die grootpad, dieper die plaas in" (151) en dieper die natuur in, verder weg van die menslike, die antroposentriese wat verbind word met die rasionele, en die samelewing.

Die verdierliking van haar aksies en haar sintuie is n verdere aanduiding dat sy haar losmaak van die menslike en die rasionele. Haar sintuie ondergaan 'n verandering: "Haar reukvermoë verskerp" (153) en "[h]oe meer sy stap, hoe skerper sien sy in die donker" (153). Verder verdierlik haar aksies, soos wat haar man haar beskryf: sy is "'n veel vuriger minnares" (152) en sy slaan haar naels "in sy rug" (154). Sy is die vrou wat "met [haar] tong en vingerpunte n bloedspoor oor sy vel kruip" (152). Die wyse waarop sy met haar "lippe weggetrek en sissend deur [haar] tande" "'n steenbok en haar lam" oppas (154) is ook 'n wegbreek van die rasionele. n Verdere voorbeeld van die wegbreek van die rasionele is wanneer die vrou haar "klere uittrek en opkyk na die maan" (153). Deur haar klere uit te trek is dit 'n absolute breek met die rasionele, aangesien klere geassosieer word met die rasionele en menslike (Smith 2016:248). Met die verwydering van klere word die konvensies van die samelewing en kultuur eenkant toe geskuif. In al die bogenoemde gevalle is dit dus omdat die vrou haar instink laat oorneem dat sy wegbreek van die rasionele: sy maak haarself los van die rede, rasionaliteit, die menslike en laat die instinktiewe oorneem.

Tweedens problematiseer "Katvoet" die geloof in basiese binêre opposisies: mens en dier, "mind" teenoor liggaam, kultuur teenoor natuur, en rasionaliteit teenoor emosies. Aan die begin van die verhaal word die opposisies teenoor mekaar gestel, maar met die verloop van die verhaal word die opposisies al hoe meer opgehef. Verder word die menslike en die dierlike teenoor mekaar gestel: die diere wat die vrou tegemoetkom in haar wandelinge word as haar absolute teenoorgesteldes geposisioneer. Die vrou is in die menslike wêreld ingebed en die kat word as simbool van die dierlike wêreld beskou, alhoewel die kat gedomestikeerd is (150). Deurdat die vrou dan die dierlike wêreld betree, word hierdie opposisie betwis en opgehef.

n Verdere binêre opposisie wat in twyfel getrek word is dié van "mind" en liggaam. Die vrou se liggaam, aksies en denke verdierlik. Aangesien haar denke en "mind" betrek word in die verdierliking word die liggaamlike en die "mind" eerder vloeibare dimensies van mekaar en die opposisie word bevraagteken. Die vrou se reuk en sig verskerp (152, 153) en verder verander haar gedrag teenoor haar man: sy is "n veel vuriger minnares" (152). Haar aksies begin al hoe meer te verdierlik en dit dui op hoe haar denke verdierlik: haar "mind" is nie absoluut geskei van haar liggaam nie, maar word eerder deel van 'n vloeibare dimensie van haar bestaan.

Die binêre opposisie tussen kultuur en natuur word geproblematiseer. Die vrou gaan stap in die nag terwyl "[d]ie ander wesens van die wêreld slaap, in beddens met verekomberse of onder koel lakens, in matjieshuise onder karosse, in krotte, strukture, huise, tevrede om beskut en uit die swart asem van die nag te wees" (151). Die "beddens", "verekomberse", "lakens", "matjieshuise", "karosse" en "huise" verwys alles na die kultuur of die samelewing. Daar word dus 'n skeiding getref tussen die vrou en die ander mense wat slaap, maar deur die skeiding word die twee opposisies juis beklemtoon deur die uitbeelding van die kat (alhoewel tot 'n mate gedomestikeerd) wat die menslike wêreld betree en die vrou wat die natuurlike wêreld, of die dier se wêreld, betree. Alhoewel die kat 'n huiskat is, is dit steeds 'n dier en verteenwoordigend van die dierlike asook die natuur. Deurdat die vrou die dier se wêreld betree en tot n mate verdierlik, word die absolute opposisie tussen die kultuur en natuur opgehef, aangesien die vrou later as deel van die natuur beskou kan word.

Derdens bevraagteken "Katvoet" die ontologiese onderskeid tussen niemenslike diere en die natuur en die mens. Die vrou se aksies en liggaamlikheid verander met verloop van die verhaal en sy verdierlik. Met hierdie gepaardgaande veranderinge word die ontologiese onderskeid tussen die niemenslike en die menslike stelselmatig oorbrug. Die dierlike in die vrou word nie meer soveel bedwing nie en sy maak haarself los van haar menslike natuur; dit wil sê dat sy haar inherente dierlike aard aanvaar en erken dat dit bestaan. Hierdeur ontken sy nie die kennis wat deur dierlike ervaringe opgebou kan word nie en sy aanvaar dat daar 'n ontologie is wat slegs deur dierlike ervaringe toeganklik is. Die reeds genoemde verskerping van sintuie is dus nie net 'n losmaak van die rasionele nie, maar dui op 'n dieperliggende verdierliking: "Haar reukvermoë verskerp, sy leer die geure van die nag" (153) en haar sig verskerp: "Hoe meer sy stap, hoe skerper sien sy in die donker" (152). Deur die verskerping van haar sintuie het sy toegang tot kennis wat voorheen nie vir haar toeganklik was nie.

7.2 Die aanvegting van konseptuele raamwerke in "Katvoet"

In "Katvoet" word die algemene onderdrukkende en dominerende konseptuele raamwerke opgehef: die waarde-hiërargiese, Bo-Onder-denke en die opposisionele en uitsluitende waarde-dualismes word beëindig. Die natuur word nie meer as ondergeskik aan die mens, of die samelewing, gedefinieer nie.

In "Katvoet" word die onderskeid tussen dit wat as Bo en dit wat as Onder geklassifiseer word en die waarde-hiërargieë wat daarmee gepaardgaan, opgehef. Die waarde-hiërargieë tussen die samelewing en die natuur, subjek en objek, en rasionaliteit en emosies word beëindig. Die waarde van die samelewing en die natuur word as gelyk beskou en die samelewing word nie meer as Bo en die natuur as Onder gesien nie. In die verhaal word die samelewing daarom ook nie méér voordele en mag gegun as die natuur nie. Deurdat die vrou in die natuur inloop, eenwording met die natuur beleef en die natuur nie domineer nie, vind daar eerder n proses plaas waarin die mens en die samelewing saam met die natuur bestaan as die natuur se gelyke en nie as Bo, en as iets wat meer waarde het nie.

Die vrou se waarde as ervarende subjek is ook nie meer Bo dié van die natuur (as objek) nie. Omdat die vrou en die natuur saambestaan is dit die subjek en die objek wat saambestaan en gelyke waarde het. Die waarde van rasionaliteit bo emosies word ook opgehef en beide het dieselfde waarde: rasionaliteit het nie meer waarde as emosies nie. Die vrou se ervaringe van haar emosies en haar ervaringe van rasionaliteit word gelyke status gegee en die een word nie as belangriker as die ander geag nie. Die waarde-hiërargie is dus weer eens opgehef en die Bo-Onder denke is daarmee saam tersyde gestel.

Die opposisie en uitsluiting tussen die samelewing en die natuur word eweneens opgehef. Wanneer die kat "in die vroeë oggendure terug[kom] van haar middernagtelike jagtog" (150) betree sy die menslike wêreld, die wêreld van die samelewing, waarin sy ook as makgemaakte dier leef. In plaas daarvan dat die samelewing en die natuur hier in opposisie geplaas word en ter uitsluiting van mekaar gestel word, word hulle eerder saam geplaas en sluit hulle mekaar in. Die natuur en die samelewing komplementeer mekaar en daar word nie meer waarde aan een van die twee dualismes bo die ander geheg nie. Die vrou wat die dierlike wêreld of die natuur betree, is ook tekenend van die samelewing wat die natuur betree en eerder saam daarmee optree as wat dit dominerend voorkom. Verder trek die vrou haar klere uit hoe dieper sy in die donker stap (153) en dit is 'n simboliese agterlaat van die konvensies van die samelewing.

7.3 Die mens, natuur en agentskap

Die natuur word herdefinieer in "Katvoet": die natuur word nie uitgebeeld as 'n onaktiewe, sosiale en kulturele konstruk nie, maar eerder as 'n noodsaaklike en aktiewe agent. Die natuur (beide dierlik en niedierlik) tree in wisselwerking met die vrou en die vrou ervaar die natuur as aktief en betekenisvormend. Die vrou tree in wisselwerking met die plante, bome, die sandduine en die omgewing (151, 153, 154), asook die diere (152, 153, 154, 156, 157). "Katvoet" bied nuwe perspektiewe en wyses waarop die interaksies tussen die materiële, menslike, meer-as-menslike en liggaamlike verstaan kan word.

Die vrou beskou die natuur as 'n morele agent en openbaar deur haar gedrag 'n sin vir verantwoordelikheid teenoor die natuur as morele agent. Sy hanteer die diere en die natuur as subjekte met inherente waarde: die diere het nie bloot net instrumentele waarde vir haar nie en sy erken die inherente waarde en agentskap van die diere. Wanneer die steenbok geboorte gee aan haar lam is daar roofdiere wat 'n bedreiging is en die vrou staan met haar "lippe weggetrek en sissend deur [haar] tande" en maak seker "dat daar geen roofdier naby kom nie" (154). Die diere se gedrag toon dat hulle ook morele verpligting teenoor die vrou ervaar: "Die trop gemsbokke wat in 'n digte drom naby haar staan, hulle horings 'n falanks van spiese na buite gedraai" (156) en "[h]ulle begelei haar huis toe, tot kort voor die hek" (157). Hier is dit in kontras met die algemene idee dat diere en die natuur nie morele agentskap het nie en daarom weerspreek die verhaal hierdie idee van diere en die natuur as passief. Die vrou wat die steenbok en die steenbok se lam oppas dui verder daarop dat die vrou morele verpligtinge teenoor die diere ervaar.

In "Katvoet" let die vrou op die taal van die natuur en sy is nie net gefokus op die antroposentriese sosiale konstruksie van menslike taal nie. Verder is dit nie net op gehoor wat sy staatmaak om die diere se taal te leer ken nie, maar ook op ander sintuiglike waarnemings en kommunikasie. Eerstens hoor sy die wildsbokke wat proes en hulle "senuweeagtige wegspring tussen krakende takke" (152). Verder ruik sy die reën wat kom (153), die "klam grond en boesmansgras" (150, 154, 157) en die "mistigheid van die see" (153). Sy leer die taal van die diere ken vanuit hulle aksies: die wildsbokke wat proes en wegspring (151), die bokke wat vir haar kyk (152), die "gesinnetjie bakoorjakkalsies wat spelend voor haar uitdraf en blomspoortjies in die grond afdruk" (153), die "[u]il wat sy kop kantel en haar hoe-hoe beantwoord" (153), die "rooikat wat sy kop skigtig op sy voorpote plattrek en haar stip dophou" (153), die "diere van die nag" wat haar tegemoet kom en "mettertyd [snuif] aan haar uitgestrekte hande" (154), "die bewerige klein bokkie wat orent kom en wankelrig op dun pootjies staan" nadat hy gebore is (154), die ooi wat "haar lam sorgvuldig skoon[lek]" en die nageboorte opvreet (154), die "roofdier wat groen na haar gluur" (156) en die bokke wat haar oppas en saam met haar huis toe stap (156-157).

In hierdie verhaal word daar weggebreek van die algemene idee dat die natuur eenvoudig is en dat die samelewing kompleks is; die natuur word uitgebeeld as 'n gekompliseerde, aktiewe verskynsel en die vrou se interaksie met die natuur en die dier dui op hierdie kompleksiteit. Die vrou se ervaringe van die natuur word toenemend ingewikkeld en dit wys op die moontlike verhouding wat die mens met die natuur kan hê indien die mens hierdie geloof van die natuur as n eenvoudige, onaktiewe verskynsel kan ophef. Dit dui dus op n alternatiewe beskouing van die wêreld: die verhouding tussen die mens en die natuur en die mens en die dier. Die vrou se sintuiglike ervaringe van die natuur, haar interaksies met die ander diere, die feit dat sy geboorte in die natuur gee en die manier wat die natuur en die niemenslike diere op haar reageer in die natuur, wys verder op die kompleksiteit en aktiewe aard van die natuur.

Die samelewing word as eenvoudig uitgebeeld in "Katvoet", wat kontrasteer met die algemene idee en uitbeelding van die samelewing as gekompliseerd. Daar word nie veel verwysings na die samelewing gemaak nie en die vrou vind dit beter om haar tyd in die natuur te spandeer. Sy vind die natuur aanloklik. 'n Paar verwysings na die natuur dui selfs op 'n tipe verslawing: die nagte wat "soet en vonkelend" (151) is, die "sjampanje van die nag" (152), die "elektriese trilling van triljoene sterre" (152), "haar baba se klein sieletjie [wat] haar elke nag roep om uit te gaan" (155), en sy is die "vrou wat die nag nodig het, soos suurstof' (155).

Die natuur funksioneer vir die vrou as 'n ruimte waar sy vry kan wees van die samelewing. Sy gee geboorte in die natuur, weg van die perke wat aan haar gestel word deur die samelewing en sy kan vrylik beweeg tussen die menslike en dierlike. Sy het nie n dokter en die mediese wetenskap nodig om haar swangerskap, die geboorte en die geboorteproses te reguleer nie. Die vrou vind ook vryheid in die natuur wanneer sy haar "klere [kan] uittrek en opkyk na die maan" (153) en ook wanneer sy geboorte gee in die natuur (156). Die natuur is 'n ruimte waar die vrou haar vrese kan projekteer; sy is bang vir die roofdiere wat haar en haar pasgebore kind bedreig (156) en steeds vind sy bevryding in die natuur, want sy is nie bang om in die aande te gaan stap nie (151).

Aangesien die verhaal se fokus op die natuur is, is dit eerder ekosentries as antroposentries. In die verhaal word daar gefokus op die interaksie tussen die menslike en die niemenslike; die vrou se verhouding met die dier en die natuur staan op die voorgrond. Die vrou verdierlik en die interaksie word dus amper n interaksie tussen dier en dier, of die dier en die natuur. Die vrou se interaksie met haar man word bykans n vorm van n interaksie tussen n dier (sy) en 'n mens (hy): "[Sy] is die vrou wat [haar] minnaar bemin, wat met [haar] tong en vingerpunte 'n bloedspoor oor sy vel kruip, [haar] naels in sy rug slaan" (152). Verder weet die man dat hy nie sy "nagvrou" kan keer nie (155); in hierdie konteks word die nag met die natuur en die dierlike verbind en die vrou word weereens as dierlik uitgebeeld, n wese wat dierlike impulse en neigings het wat nie deur die mens beheer kan word nie.

Die vrou ruil rolle met die kat wanneer sy in die nag gaan stap, dus is daar n ommekeer van rolle tussen die vrou en die dier, of die menslike en die natuurlike. Die vrou betree die natuur en sy tree uit die menslike ruimte en die samelewing, en daar is n verwisseling van rolle: "staan sy [op] as die kat inkom, en loop die nag in" en sy "loop al met die plaaspad langs [...] die diep, donker, verblindende nag in" (151). Die nag word simbool van die natuur en die dierlike. Die vrou trek haar klere uit en kyk na die maan (153) soos wat diere naak in die natuur sal funksioneer en beweeg, en die vrou loop "katvoet" (155) waar daar dierlike eienskappe aan haar toegeken word. Wanneer die kat in die huis kom en by die man en die vrou in die bed kom lê, vind daar ook n vorm van n ommekeer plaas en die kat (die natuur) ruil uit met die menslike.

Die vrou gee geboorte in die natuur en krap die "nageboorte weg [...] onder 'n rooiduin se sand" (156) en daar vind 'n baie letterlike en fisiese materiële uitruil plaas. Die vrou laat iets materieel en fisies van haar liggaam agter in die natuur. Wanneer die kat by die man en die vrou in die bed klim, ruik die kat na "klam grond en boesmansgras" (150) en die kat bring die natuur se reuke na die menslike ruimte. Soms bring die kat 'n veldmuis vir die man (150) en die natuur word weereens ingebring na die menslike ruimte.

Wanneer die vrou die natuur betree in die aand en tyd saam met die diere spandeer, is daar ook n tydelike saambestaan wat plaasvind. Die diere aanvaar haar teenwoordigheid en hulle "kom haar tegemoet, snuif mettertyd aan haar uitgestrekte hande" (154). Die kat wat in die huis kom en by die mense bly dui ook op n saambestaan: "Die kat kom in die vroeë oggendure terug van haar middernagtelike jagtog. Sy druk haar in 'n stywe bondel dreunende genot teen die vrou se slapende man vas" (150). Die interaksie tussen die kat en die man dui ook op dié saambestaan (150-1):

Soms kom sy terug met 'n veldmuis in haar bek, en lê sy dit as 'n geskenk vir die man neer op die mat voor sy bed. Hy reageer, pligsgetrou, op haar toewyding en bewondering vir hom, streel haar ore, krap haar oor die lengte van haar lyf sodat sy kromrug en spinnend onder sy hand orent staan; hy prys haar vir haar dapper dade, haar instinkte, haar grasie en skoonheid, bedank haar vir die sublieme geskenk van 'n veldmuis of 'n mol.

Hierdie verhaalgegewe dui op die fisiese, letterlike saambestaan tussen die menslike en die niemenslike, of die dierlike.

In "Katvoet" vind daar ook n uitruil en verandering tussen die subjek- en objekposisie plaas. Die natuur is nie meer die absolute objek in die vrou se ervaringswêreld nie aangesien die vrou se liggaam self ook vir haar 'n objek word. Haar bewustheid van haar liggaam en haar ervaringswêreld het tot gevolg dat die grense tussen subjek (syself) en objek (natuur) opgehef word en dat daar eerder net 'n saambestaan is as wat daar die absolute onderskeid tussen subjek en objek gehandhaaf word. Die vrou se verdierliking lei daartoe dat sy ook deel word van dit wat voorheen as die objek ervaar en beskou was: die natuur en die dier. Die vrou verdierlik en die dier word ook ervarende subjek eerder as objek. Deurdat die vrou inherente waarde aan die diere toeken, erken sy ook dat hulle as subjek en agent kan optree, en nie bloot objek is nie.

Die fisiese materialiteit van die omgewing word beskryf in die vrou se direkte waarnemings van die omgewing, asook haar waarneming van die omgewing se impak op haar sintuie: "Die kat ruik na klam grond en boesmansgras" (150), "[d]ie kat se pote [...] is klam, haar pels koud van die naglug buite" (150). Die vrou se "stewels [maak] 'n sagte geruis oor die sand" (151), sy beskryf die "nagte is soet en vonkelend" (151), sy sien die wildsbokke, gemsbokke, blesbok en bergkwaggas (152). Sy beskryf die bome: die kameeldoring, herdersboom en die swarthaak (153). Sy beskryf die reën en die wind (153), die "mistigheid van die see" (153) en die "silhoeëtte van bome en windpompe" (153).

Die sosiokulturele persepsie van die natuur is dat dit die wildernis is en ongetem en gevaarlik is. Die man probeer om sy vrou daarteen te beskerm en vra of sy veilig is om in die nag te gaan stap, veral vandat sy swanger is: "Sal jy ophou om snags te loop as dit te veel word? [...] Sal jy stop as jy moeg word?" en dan vra hy haar: "[m]aar is jy veilig?" (155). Sy stel hom dan gerus: "Jý van alle mense behoort te weet dat ek veiliger hier is as op enige ander plek in die wêreld" (155). Die vrou se ervaring van die natuur, in teenstelling met dié van haar man, is dat dit is waar sy hoort en ook waar sy veilig is. Haar stelselmatige verdierliking dui hierop en die feit dat sy ook naderhand haar klere uittrek (153) wys dat sy heeltemal gemaklik is in die natuur.

Die vrou se verhouding en verwantskap met die plek is intiem en persoonlik. Met haar verdierliking begin haar verhouding met die samelewing algaande te verswak, terwyl haar verhouding met die natuur versterk. Haar versterkte sintuie is simbool van die versterking van die verhouding met die natuur. Die feit dat sy geboorte in die natuur gee en die materiële uitruil wat plaasvind tydens geboorte, dui ook op die intieme en persoonlike verbintenis met die natuur.

 

8. SAMEVATTING

Die verhaal word ontleed en geïnterpreteer om te bepaal hoe die basiese aannames van die Westerse filosofie wat as grondslag vir die kanon dien, getoets word in die verhaal. Daarna word die uitbeelding van die natuur, die mens en agentskap in "Katvoet" ontleed: die natuur word eerder as kompleks en aktiewe agent uitgebeeld as wat die natuur enkelvoudig en onaktief is. Die uitbeelding van die fisiese materialiteit in die verhaal en die hooffiguur se individuele verwantskap en verhouding met die plek dui op 'n baie persoonlike verbintenis van die karakter met die natuur en projekteer 'n beeld van 'n interaktiewe verhouding.

Die verhaal "Katvoet" bied interessante moontlikhede vir ontleding aan die hand van die ekokritiek: 'n alterverhaal word geskep waarin parallelle en teenoorgesteldes geskep word vir antroposentriese verhale wat teenoor "Katvoet" staan. Die interaksie tussen die menslike en natuur, of die dier, die ommekeer van rolle, materiële uitruil en die saambestaan en die nuwe subjek-objek verhoudings skep alternatiewe perspektiewe op die verhoudings tussen die mens en die dier en die natuur.

 

BIBLIOGRAFIE

Alaimo, S. 2008. Introduction: Emerging Models of Materiality in Feminist Theory. In Alaimo, S. & S. Hekman. Material Feminisms. Bloomington: Indiana University Press, pp.1-19.         [ Links ]

Alaimo, S. 2010. Bodily Natures: Science, Environment and the Material Self. Bloomington: Indiana University Press.         [ Links ]

Anker, W. 2011. Skrapnel. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Bailey, C. 2005. On the backs of animals: the valorization of reason in contemporary animal ethics. Ethics and the Environment, 10(1):1-17.         [ Links ]

Bennett, J. 2010. Vibrant Matter: A Political Ecology of Things. Durham & London: Duke UP.         [ Links ]

Bergthaller, H. 2014. What is Ecocriticism? https://www.easlce.eu/about-us/what-is-ecocriticism/ [29 Maart 2018].         [ Links ]

Bertens, H. 2014. Literary Theory: The Basics. (3rd ed.). London: Routledge.         [ Links ]

Browning, E.A. & K.J. Warren. 2009. Chapter 1: Plato and Diotima. In: Warren, K.J. (ed.). 2009. An Unconventional History of Western Philosophy. New York: Rowman & Littlefield Publishers, pp. 27-62.         [ Links ]

Buell, L. 2005. The Future of Environmental Criticism: Environmental Crisis and Literary Imagination. Oxford: Blackwell Publishing.         [ Links ]

Bunnin, N. & J. Yu. 2004. Blackwell Dictionary of Philosophy. Oxford: Blackwell Publishers.         [ Links ]

Burton-Christie, D. 1993. 'A feeling for the natural world': spirituality and contemporary nature writing. Continuum, 2(2-3):154-180.         [ Links ]

Cerbone, D.R. 2006. Understanding Phenomenology. Durham: Acumen.         [ Links ]

Cresswell, T. 2009. Place. In Thrift, N. & Kitchen, R. (eds). International Encyclopedia of Human Geography. Oxford: Elsevier, Volume 8, pp. 169-177.         [ Links ]

Drummond, J.J. 2007. Historical Dictionary of Husserl s Philosophy. Lanham: Scarecrow Press.         [ Links ]

Fourie, R. 2011. A postcolonial and ecocritical reading of Marlene van Niekerk's modern plaasroman Agaat. (Ongepubliseerde Magisterverhandeling).         [ Links ]

Fromm, H. & S. Glotfelty. 1996. The Ecocriticism Reader: Landmarks in Literary Ecology. London: The University of Georgia Press.         [ Links ]

Garrard, G. 2004. Ecocriticism. London: Routledge.         [ Links ]

Glotfelty, S. 1996. Introduction. In Fromm, H. & S. Glotfelty. (eds). The Ecocriticism Reader: Landmarks in Literary Ecology. London: The University of Georgia Press, pp. xv-xxxvii.         [ Links ]

Gray, E. D. 1981. Green Paradise Lost. Wellesley, MA: Roundtable Press.         [ Links ]

Honderich, T. (ed.). 1995. The Oxford Companion to Philosophy. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Horn, J. 1995. Action. In Honderich, T. (ed.). 1995. The Oxford Companion to Philosophy. Oxford: Oxford University Press, pp. 4-5.         [ Links ]

Horn, J. 1995. Agent. In Honderich, T. (ed.). 1995. The Oxford Companion to Philosophy. Oxford: Oxford University Press, p. 18.         [ Links ]

Husserl, E. 2013 [1931]. Ideas: General Introduction to Pure Phenomenology. (Translated by W.R. Gibson). London: Routledge.         [ Links ]

Iovino, S. 2012. Material Ecocriticism. Matter, Text, and Posthuman Ethics. In Müller, T. & Sauter, M. (eds). Literature, Ecology, Ethics. Heidelberg: Winter Verlag.         [ Links ]

Jensen, R.T.& D. Moran. 2013. The Phenomenology of Embodied Subjectivity. New York: Springer.         [ Links ]

Kant, I. 2007 [1781]. Critique of Pure Reason. (Translated by M. Weigelt). London: Penguin Books.         [ Links ]

Keuris, M. 2007. An ecocritical reading of Pieter Fourie's Die Koggelaar. Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 23(4):417-431.         [ Links ]

Krog, A. (2006).Verweerskrif. Roggebaai: Umuzi.         [ Links ]

Lilley, D. 2013. Recovering Nostalgia in Nature Writing. Alluvium, https://www.alluvium-journal.org/2013/05/13/recovering-nostalgia-in-nature-writing/ [2 April 2018].         [ Links ]

Love, G.A. 2003. Practical Ecocriticism: Literature, Biology and the Environment. London: University of Virginia Press.         [ Links ]

Lowe, E.J. 1995. Analytic and Synthetic Statements. In Honderich, T. (ed.). The Oxford Companion to Philosophy. Oxford: Oxford University Press, p. 28.         [ Links ]

Lyon, T.J. 1989. This Incomparable Land: A Book of American Nature Writing. Boston: Houghton Mifflin.         [ Links ]

Marshall, I. 2001. Literary criticism as ecological thought. Interdisciplinary Literary Studies, 3(1):1-3.         [ Links ]

Maser, C. 2009. Earth in Our Care: Ecology, Economy, and Sustainability. London: Rutgers University Press.         [ Links ]

Merleau-Ponty, M. 2005 [1945]. Phenomenology of Perception. (Translated by C. Smith). London: Routledge.         [ Links ]

Meyer, S. 2016. Natuurgesentreerde skryfwerk as ekosisteem: 'n ondersoek na Boomkastele: 'n sprokie vir 'n stadsmens (Schalk Schoombie). Deel 1, Tydskifvir Geesteswetenskappe, 56(4-2):1200-1212.         [ Links ]

Meyer, S. 2017. Natuurgesentreerde skryfwerk as ekosisteem: 'n ondersoek na Boomkastele: 'n sprokie vir 'n stadsmens (Schalk Schoombie). Deel 2, Tydskifvir Geesteswetenskappe, 57(1):154-167.         [ Links ]

Moran, D. 2000. Introduction to Phenomenology. London: Routledge.         [ Links ]

Morton, T. 2007. Ecology Without Nature. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Morton, T. 2010. The Ecological Thought. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Müller, T. & M. Sauter (eds). 2012. Literature, Ecology, Ethics. Heidelberg: Winter Verlag.         [ Links ]

Nye, A. & K.J. Warren. 2009. Chapter 5: Descartes and Elisabeth. In Warren, K.J. (ed.). An Unconventional History of Western Philosophy. New York: Rowman & Littlefield Publishers, pp. 157-188.         [ Links ]

Phillips, D. 1999. Ecocriticism, literary theory, and the truth of ecology. New Literary History, 30(3):577-602.         [ Links ]

Rademeyer, P. 2015. Adam Twee. (Ongepubliseerde teks).         [ Links ]

Rawls, J. 1999. A Theory of Justice. (Revised edition). Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Ruse, M. 1995. Nature. In Honderich, T. (ed.). The Oxford Companion to Philosophy. Oxford: Oxford University Press, pp. 607-8.         [ Links ]

Scheepers, R. 2009. Katvoet. Kaapstad: Human & Rousseau Uitgewers.         [ Links ]

Schlosser, M. 2015. Agency. Stanford Encyclopedia of Philosophy. https://plato.stanford.edu/entries/agency/ [14 Desember 2017].         [ Links ]

Schoombie, S. 2015. Boomkastele. Pietermaritzburg: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schpall, S. & G. Wilson. 2012. Action. Stanford Encyclopedia of Philosophy. https://plato.stanford.edu/entries/action/ [14 Desember 2017].         [ Links ]

Smith, C. 2016. Die vrou, swangerskap en die dier in die kortverhaal "Katvoet" deur Riana Scheepers: 'n fenomenologiese ondersoek. LitNet Akademies, 13(2):227-252.         [ Links ]

Smith, D.W. 2013. Phenomenology. Stanford Encyclopedia of Philosophy. https://plato.stanford.edu/entries/phenomenology/ [28 Maart 2018].         [ Links ]

Smith, D.W. & A.L. Thomasson. 2005. Phenomenology and Philosophy of Mind. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Smith, J. 2011. Apokalips. (Ongepubliseerde teks).         [ Links ]

Smith, S. 2012a. Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman. LitNet Akademies, 9(2):500-523.         [ Links ]

Smith, S. 2012b. Plek en ingeplaaste skryf. 'n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887-928.         [ Links ]

Smith, S. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme: 'n ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies, 11(2):749-774.         [ Links ]

Smith, S. 2016a. "Landskapverinniging" as sentrale motief in die gedig "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-2):1213-1226.         [ Links ]

Smith, S. 2016b. Die aarde is 'n eierblou ark. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Sterelney, K. 2001. The Evolution of Agency and Other Essays. Oxford: Cambridge University Press.         [ Links ]

Thompson, M. 2008. Life and Action: Elementary Structures of Practice and Practical Thought. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Thrift, N. & R. Kitchen. (eds). International Encyclopedia of Human Geography. Oxford: Elsevier, Volume 8.         [ Links ]

Tregenza, B. 1995. Environmental Ethics. In Honderich, T. (red.). 1995. The Oxford Companion to Philosophy. Oxford: Oxford University Press, p. 238.         [ Links ]

Tuan, Y.F. 1977. Space and Place: The Perspective of Experience. Minneapolis: University of Minnesota Press.         [ Links ]

Tüür, K. & T. Reitalu. 2012. Botanical nature writing: an ecocritical analysis. Estonian Journal of Ecology, 61(1):9-19.         [ Links ]

Van Niekerk, M. 2013. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Vital, A. 2008. Towards an African ecocriticism: postcolonialism, ecology and "Life and times ofMichael K". Research in African Literatures, 39(1):88-94.         [ Links ]

Warren, K.J. 2015. Feminist Environmental Philosophy. Stanford Encyclopedia of Philsophy. http://plato.stanford.edu/entries/feminism-environmental/ [19 April 2016].         [ Links ]

Warren, K.J. 2009a. 2,600 Years of the History of Western Philosophy Without Women: This Book as a Unique, Gender-Inclusive Alternative. In Warren, K.J. (ed.). An Unconventional History ofWestern Philosophy. New York: Rowman & Littlefield Publishers, pp. 1-26.         [ Links ]

Warren, K.J. (ed.). 2009b. An Unconventional History of Western Philosophy. New York: Rowman & Littlefield Publishers.         [ Links ]

Westphal, B. 2011 [2008]. Geocriticism: Real and Fictional Spaces. Translated by T. Tally Jnr. New York: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

Wylie, D. 2007. //Kabbo's challenge: transculturation and the question of a South African ecocriticism. Journal of Literary Studies, 23(3):252-70.         [ Links ]

 

 

 

Carien Smith is tans 'n Global Excellence Stature Scholar by die Universiteit van Johannesburg, waar sy besig is met haar Magister in Filosofie onder leiding van uitgelese navorsingsprofessor Thaddeus Metz. Sy voltooi haar BA-graad in 2015, en haar Honneurs in Afrikaanse letterkunde in 2016. Twee van haar navorsingsartikels is reeds vir publikasie aanvaar - onder-skeidelik in Stilet (2014) en LitNet Akademies (2016).
Benewens akademiese aktiwiteite het Carien reeds sukses behaal met haar kreatiewe skryf-werk. In 2015 haal sy die langlys vir die PEN International New Voices-toekenning en tweemaal die kortlys vir die Iceland Writers Retreat Alumni-toekenning in 2018 en 2016. In 2018 asook 2016 wen sy AdHoc Flash Fiction kompetisies ('n internasionale Bath Flash Fiction Award-projek); in 2015 ontvang sy 'n AFRI-KOON van die ATKV. 'n Aantal van haar kortverhale is ook reeds gepubliseer: in die misdaad-kortverhaalbundel Op die spoor van (Tafelberg Uitgewers, 2017); in die Spreek die Woord/Break the Spell Kuns en Sprokiesverhaal-bundel wat 'n projek vir die Stellenbosch Woordfees was (2016); die kortverhale "Likke-waan" en "Binnekort" in Nuwe Stories 3 (Human & Rousseau, 2014). Hierbenewens ontvang sy twee toekennings in die Nuwe Stories 3-kompetisie - Naaswenner ("Binnekort") en Eervolle vermelding ("Likkewaan"). Haar liefde vir teater lewer 'n aantal tekste, waaronder Formalien, wat in 2009 die kortlys van tien vir die Nagtegaal Teksprys haal. Carien is 'n professionele lid van PEN South Africa.
Carien Smith is currently a Global Excellence Stature Scholar at the University of Johannesburg, where her Master's Degree in Philosophy is supervised by Distinguished Research Professor Thaddeus Metz. She completed her BA-degree in 2015, and her Honours in Afrikaans literature in 2016. Two of her research articles have already been accepted for publication in Stilet (2014) and LitNet Akademies(2018) respectively. In 2015 Carien was longlisted for the PEN International New Voices Award; and twice for the Iceland Writers Retreat Alumni Award, in 2018 and 2016. In 2018 and 2016 she won AdHoc Flash Fiction competitions (an international Bath Flash Fiction Award project); while in 2015 she received an AFRIKOON from the ATKV. A number of short stories have already been published as follows: in the crime fiction collection Op die spoor van (Tafelberg Publishers, 2017); in the Break the Spell/Spreek die Woord art and fairytales collection which was a Stellenbosch Word Festival project (2016); two short stories in the Nuwe Stories 3 short story collection, published by Human & Rousseau Publishers (2014). In addition, she received two awards in the Nuwe Stories 3 competition: Runner Up and Special Mention. Her love for theatre has led to a number of texts, of which Formalien was short listed for the Nagtegaal Text Prize in 2009. Carien is a professional member of PEN South Africa.
1 In hierdie konteks gebruik ek die term konseptuele raamwerke om te verwys na die teoretiese raamwerke wat as grondslag dien vir 'n verwysingsraamwerk. Hiervolgens is die verwysings-raamwerk nie bloot een teoretiese benadering nie, maar eerder 'n versameling konseptuele raamwerke (of teoretiese raamwerke) wat saamgegroepeer is om die algehele verwysingsraamwerk te skep.
2 Vir 'n meer volledige omskrywing van die tweeledige fenomenologiese metode, oftewel die "transcendental-phenomenological reduction", asook "bracketing", sien Husserl (2013), Cerbone (2006), Moran (2000) en Smith & Thomasson (2006).
3 Die wyse waarop John Rawls (1999) die onderskeid tref tussen 1) konsepte ("concepts"), 2) teorieë ("conceptions"), 3) die fisiese entiteit en 4) die woord wat gebruik word dien as grondslag in my onderskeid en word in filosofie meestal as die grondslag gebruik om hierdie spesifieke onderskeid te tref.
4 Hierdie opsomming word deur Karen J. Warren saamgestel in die boek An Unconventional History of Western Philosophy: A Conversation Between Men and Women Philosophers (2009) waarvan sy die samesteller was. Sy neem vyf aspekte in ag wanneer sy hierdie opsomming saamstel, naamlik: 1) die Westerse tradisie kan nagespoor word tot by die Antieke Grieke; 2) dit is hoofsaaklik manlike filosowe wie se tekste deurgaans in die Engelssprekende wereld gebruik is; 3) die fokus in die navorsing wat as grondliggend beskou word is op bepaalde "filosofiese vrae" gefokus; 4) dit het sekere onderliggende teorieë, aannames, definisies, oortuigings, opposisies en onderskeidings; en 5) die formaat van hierdie filosofie is gewoonlik argumentgedrewe en analities gestruktureer (Warren 2009:5, 6, 537, 538). Verder word hierdie kanon geopponeer deurdat Warren se boek alternatiewe perspektiewe bied wat ingesluit word in die kanon (Warren 2009a:1). Aangesien die onderhawige kortverhaal juis hierdie tradisionele raamwerke bevraagteken, is dit sinvol om van hierdie opsomming van Warren (2015; 2009) gebruik te maak.
5 Ekokritiese tekste kan verdeel word in fiksie, asook niefiksie (Meyer 2016; Meyer 2017; Smith 2012a; Smith 2012b; Smith 2014; Smith 2016; Stephenson 1995). Een van die kategorieë van ekokritiese tekste is nature writing, deur Meyer (2016) vertaal as natuurgesentreerde skryf waar een van die hoofkenmerke van hierdie genre "die uitbeelding van 'n persoonlike verbintenis met die tuisomgewing en persoonlike interpretasie van die natuur" is, asook die getrouheid aan "analitiese waarneming en (natuur)wetenskaplike feite" (Burton-Christie 1993:157; Meyer 2016:1206; Stephenson 1995:171-2). In hierdie genre is daar veral fokus op die impak wat die natuurlike wêreld op die waarnemer het (Burton-Christie 1993:157). Verder is dit die getrouheid aan wetenskaplike waarheid wat hier beklemtoon word (Meyer 2016:1206; Stephenson 1995:1734; Tüür & Reitalou 2012:10). Nature writing is dus, soos wat Meyer (2016:1207) dit opsom, "'n kombinasie van wetenskaplike verslaggewing en artistieke uitdrukking, 'n poging om met 'n wetenskaplike oog te kyk en met literêre effek te skryf" wat verskeie tipes tekste insluit, naamlik "essays, memoires, reisbeskrywings, verhale en romans" (Lilley 2013; Stephenson1995:170-1). Ek stem egter nie saam met Meyer (2016; 2017) se interpretasie van nature writing dat dit toegepas kan word op fiksie nie, soos wat sy dit toepas op die ontleding van Schalk Schoombie se roman Boomkastele (2015) in haar artikels (2016; 2017) nie. In Stephenson (1995:171) asook Burton-Christie (1993:156-7) word daar baie spesifiek uitgewys dat alhoewel daar nie ooreenstemming is oor hoeveel nature writing tussen die grense van die genres beweeg nie, daar wel ooreenstemming is dat dit nie fiksie is nie (daar is 'n baie definitiewe onderskeid tussen die struktuur van 'n essay en die struktuur van 'n roman). Daar is egter ook ander teoretici wat meen dat die grense onduideliker is as om dit bloot te kategoriseer as fiksie en niefiksie. Dit is om hierdie rede dat ek nie nature writing as analitiese ontledingsmetode gebruik in hierdie navorsing nie, aangesien ek eerder oortuig is daarvan dat daar 'n meer definitiewe onderskeid gemaak moet word tussen fiksie en niefiksie in die ekokritiek. Een van die hoofredes hoekom ek glo dat hierdie onderskeid belangrik is, is omdat dit moeilik is om 'n fiktiewe werk te lees en die feitelike terselfdertyd te prosesseer as feit (Stephenson 1995:173). Aangesien hierdie navorsing nie gerig is daarop om nature writing volledig te kategoriseer en omskryf nie, sien Meyer (2016) en Lyon (1989) vir 'n interessante en baie volledige bespreking van die onderskeid.
6 Vir 'n baie volledige lys van prosawerke wat 'n ekokritiese aanslag het, sien Meyer (2017:1204). Hierby kan sommige poësiewerke ook gevoeg word: onder andere Antjie Krog (2006), Johann Lodewyk Marais se hele oeuvre, Susan Smith (2016), Marlene van Niekerk en dan talle ander ouer poësiewerke wat van nuuts af ondersoek kan word. Op die terrein van drama is daar ook 'n aantal, Tertius Kapp se Oorsee (2014), Philip Rademeyer se Adam Twee (2015), Johann Smith se Apokalips (2011) en Willem Anker se Skrapnel (2011) om net 'n paar te noem.
7 Vervolgens sal slegs bladsynommers aangedui word in verwysings na die verhaal "Katvoet" (Scheepers 2009:150-7).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License