SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2Constructions with krijgen and kry. A comparison from a (diachronie) constructionist perspective"Dit gaan nog belangrik word": Changes in grammatical future reference in Afrikaans author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.2 Pretoria Jun. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n2a4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Modale kettings in Afrikaans1

 

Modal chains in Afrikaans

 

 

Jac Conradie

Departement Tale, Kuituurstudies en Toegepaste Linguïstiek (LanCSAL), Skool vir Tale, Fakulteit Geesteswetenskappe Universiteit van Johannesburg. E-pos: jacc@uj.ac.za

 

 


OPSOMMING

Modale (hulp-)werkwoorde (MW'e) kom algemeen in Germaanse tale en variëteite voor in kombinasies van twee of meer in een proposisie of klous, byvoorbeeld Jy sal vinniger moet kan werk. Die doel van hierdie ondersoek is om die beginsels van of beperkings op sulke opeenvolgings in Afrikaans te bepaal.
Die hipotese word gestel dat hoe hegter die MW die sinsonderwerp aan 'n predikaat verbind, hoe nader sal die MW aan die hoofwerkwoord staan. Kan, soos in Sy moet kan orrel speel, dui byvoorbeeld op 'n inherente kenmerk van die onderwerp, naamlik die "vermoë" om orrel te speel, en staan gewoonlik die naaste aan die hoofwerkwoord. In epistemiese gebruik, soos in Sy kan moet orrel speel, lewer kan uitspraak oor die waarskynlikheid van die proposisie (naamlik Sy moet orrel speel) in sy geheel en neem dan gewoonlik die eerste posisie in.
Die hipotese is vervolgens empiries getoets met verwysing na die MW'e sal/sou en modaal gebruikte gaan, moet/moes, mag, behoort te, wil/wou en kan/kon. Om die voorkoms as sodanig van kettings van hierdie MW'e te bepaal, is hoofsaaklik gebruik gemaak van Taalkommissie-korpus 1.1, maar ook van ander bronne. Daar is bevind dat 8 uit die 15 voorspelde kettings wel voorkom, terwyl van die volgordes wat nie voorspel word nie, slegs'n enkele voorbeeld gevind is, wat die hipotese oor die algemeen bevestig. Die volgorde van mag en behoort (te) ten opsigte van ander MW'e kon egter slegs ten dele bevestig word; dit is byvoorbeeld duidelik dat mag altyd ná sal/sou georden word en behoort (te) altyd voor kan/kon.

Trefwoorde: proposisie, sinsonderwerp, predikaat, inchoatief, perfektief, kernbetekenis, epistemies, evaluering, evidensieel, relativering, realisering, deonties, dinamies, verpligting, toestemming, wil, vermoë, moontlik-heid, Force Dynamics


ABSTRACT

Sequences of two or more modal auxiliaries in one clause are found in most Germanic languages and varieties, as in Danish, for instance (example and gloss by Brandt 1999:126):
An Afrikaans example would be:
Nar jeg kommer i skole vil jeg ikke gide skulle kunne laese latin. When I get to school will I not bother should could read Latin
Jy sal vinniger moet kan werk.
You. SG will quicker must can work
"You will have to be able to work more quickly."
The purpose of this paper is to determine whether the ordering of Afrikaans modals adhere to a general principle or is constrained in some way. The sequencing of a modal such as kan "can", on the one hand, and of modals with an epistemic (or evidential) function, on the other, may be indicative of such a principle. So is the fact that the modal sal "will" - and similarly Dutch zullen "will" - conventionally occupies the first position. Cognates of the modal kan "can" typically occupy the last position in the chain in various Germanic languages. This modal ascribes a fixed attribute, expressed by the predicate, to the sentential subject. A modal used in epistemic function, e.g. kan "can" in
Ben kan 'n Boeing moet vlieg om die werk te kry. Ben can a Boeing must fly to the work to get "Ben may be required to fly a Boeing if he is to get the job."
evaluates the probability of the entire proposition and therefore has no special relationship to the sentential subject. This also goes for certain usages of sal "will" and its preterite sou "would", such as prediction, hypotheticals, future tense, and evidentiality as expressed by sou "would":
Ben sou 'n vlieënier wees.
Ben would a pilot be
"Ben is said to be a pilot."

There is a sharp functional contrast between epistemic moet "must, should", where a relationship with the sentential subject is completely lacking, and kan "can" when expressing a subject-internal ability, as in
Ben moet Boeings kan vlieg.
Ben must Boeings be.able.to fly
"Ben is expected to have the ability to fly Boeings."
While in the case of kan the modal source derives from the sentential subject itself, the modal source related to moet typically has an external nature. In the course of the utterance, i.e. from a discursive point of view, the role assigned to the subject changes: while Ben at first only has a thematic role in relation to moet, it comes to assume a more agentive role in relation to kan. If wil "want to" + kan "can" were to constitute the chain, the modal source remains internal to the subject: it is not fully implemented in the case of wil (i.e. is inchoative), but forms a fixed attribute in the case of kan (i.e. is perfective). In a moet "must" + kan "can" sequence there is both a progression from external to internal source of modality and from inchoative to perfective aspect.
In regard to possible orders of modals in chains, it is hypothesized that the position of a particular modal in a chain is a function of the strength of the link forged between the sentential subject and its predicate by the modal in question, where "strength" is defined by the extent to which the source of modality is identical with or internal to the subject and the extent to which the realisation of the source of modality is in the process of coming into effect (inchoative) or has been realised (perfective). While the default assumption in the case of Ben vlieg "Ben isflying" would be factual, the addition ofkan as in Ben kan vlieg "Ben can fly" renders the act of flying counterfactual, and the further addition of moet, as in Ben moet kan vlieg "Ben should be able tofly" in turn renders the ability expressed by kan counterfactual. The factuality expressed by the rightmost verb is therefore cancelled (relativised) by every modal added to the left.
A combination of the functional and aspectual relationship of the subject to the modal verb it controls would give rise to the order in Table 1.
The actual occurrence of the predicted chains was empirically checked with reference to the Taalkommissiekorpus 1.1 and other sources. The search was restricted to non-negative sequences with two root3 modals, with no clause boundaries between them. Out of 15predicted orders, such as sal moet, moet wil and behoort te kan, eight were attested. However, only one example was found of non-predicted (or converse) root orders such as kan moet and wil mag. The hypothesis is therefore confirmed in general. However, a number of non-occurrences of predicted orders still require an explanation, e.g. the fact that behoort (te) "ought to" was only followed by kan/kon "can, could", and mag "may" only preceded by sal/sou "will, would".

Key words: proposition, sentential subject, predicate, inchoative, perfective, root meaning, epistemic, evaluation, evidential, relativising, realising, deontic, dynamic, obligation, permission, will, capability, possibility, Force Dynamics


 

 

1. INLEIDING

Die essensie van modaliteit is vir Kiefer (1997:242-243) geleë in die moontlikheid "(t)o conceive of a state of affairs being otherwise" en veral "the relativization (my kursivering, CJC) of the validity of sentence meanings to a set of possible worlds". Modaliteit word in Afrikaans onder meer uitgedruk deur modale bywoorde of partikels soos moontlik, mos, darem, hoeka en sommer en in die werkwoordstelsel deur modale werkwoorde (MW'e). Hierdie werkwoorde, wat in Afrikaans oor die algemeen hulp- eerder as hoofwerkwoorde is, kwalifiseer en relativeer nie alleen leksikale werkwoorde nie, maar ook ander MW'e in die sinspredikaat en selfs 'n proposisie in sy geheel. Hulle kernbetekenisse of -funksies (Eng. root meanings) kan moontlik as basis dien om die waarskynlikheid van 'n proposisie te evalueer (epistemiese gebruik) of om die verifieerbaarheid van die inligting aan te dui (evidensiële gebruik). So kan "noodsaaklikheid" die basis wees van die (nie-epistemiese) "verpligting" in

(1a) Sy moet vanaand werk.4

maar, waar die waarskynlikheid van 'n proposisie beoordeel word (epistemies), "hoë waarskynlikheid" aangedui word:

(1b) Sy moet nog op kantoor wees.

Soos in die meeste Germaanse tale en variëteite kan ook in Afrikaans meer as een MW in één proposisie5 voorkom en modale kettings vorm. Die MW'e wat die ketting uitmaak, kan in jukstaposisie met mekaar voorkom, maar ook verspreid deur die proposisie, soos uit enkele voorbeelde met drie MW'e blyk:

(2a) Antwoorde op hierdie vrae sal moet kan verduidelik waarom die mens ... (TK)

(2b) Hy sou hom wou kon afsluit van die alledaagse. (A.Krüger, Twee lewens,62012:56)

(2c) Ek sou met my nommereen-span wou kon uitdraf (TK)

Die volgorde word bepaal deur die wyse waarop kernbetekenisse mekaar onderling relativeer of die proposisie as sodanig deur epistemiese MW'e gerelativeer word. Die doel van hierdie ondersoek is dan om te bepaal aan watter beginsel(s) hierdie volgordemoontlikhede of -beperkings in Afrikaans onderworpe is. Die MW'e wat hiervoor gebruik gaan word, is sal/ sou en gaan (as MW),7moet/moes, mag,8 behoort (te), wil/wou en kan/kon. Hoef te en durf word in hierdie studie agterweë gelaat omdat hulle hoofsaaklik ontkennend en in vraagsinne gebruik word. Oor die rol wat die negatiewe polariteit wat aanwesig is of geïmpliseer word in die bepaling van die volgorde, moet verdere navorsing gedoen word.

Ons staan kortliks stil by die sintaktiese konteks waarin MW'e voorkom.

 

2. SINTAKTIESE KONTEKS VAN MODALE KETTINGS

Die volgorde

[modale werkwoord(e)] + [leksikale werkwoord(e)]9 + [hulpwerkwoord(e)]

kan in Afrikaans as die ongemarkeerde volgorde van werkwoorde in hoof- sowel as onderskikkende bysinne beskou word, ook wanneer meer as een MW aanwesig is. In sinne (3a) en (3b) is moes en kon die MW'e, afgelaai die hoofwerkwoord en gewees en het hulpwerkwoorde; in (3b) kan gesien word hoe die sinsdeelvolgorde deur die verskuiwing van 'n voltooide deelwoord (afgelaai) gewysig kan word.

(3a) Die program moes maklik kon afgelaai gewees het.

(3b) Ons weet dat die program maklik afgelaai moes kon gewees het.

'n Ander konstruksie, wat feitelikheid uitdruk, het die volgorde [het] + [MW] + [hoofwerk-woord] in [4]:

(4) Hier het hy van voor af moes begin. (J.Miles, Buiteveld, 2003:217)

Hierdie konstruksie, 'n variant van 'n Nederlandse realiskonstruksie, kan egter in Afrikaans slegs een MW bevat en dus verder buite rekening gelaat word. Afrikaanse MW'e kan, behalwe in sintaktiese konteks, ook in die konteks van kettingvorming in ander Germaanse tale geplaas word.

 

3. ANDER GERMAANSE TALE

Modale kettings kom in ander Germaanse tale of variëteite in volgordes voor wat op die eerste gesig baie soortgelyk is aan Afrikaans (spieëlbeeldgevalle soos in Duits en sommige Nederlandse dialekte daargelaat), met Engels as 'n moontlike uitsondering. Die volgende is enkele voorbeelde.

Nederlands: ... maar daar staat dan tegenover dat al maar meer anderstalige

Brusselaars Nederlands willen spreken of toch zouden willen kunnen spreken (Marnixkranf)

"maar aan die ander kant sal steeds meer Brusselaars Nederlands wil praat of sou hulle dit tog wou kon praat"

Deens: Nar jeg kommer i skole vil jeg.

wanneer ek kom in skool wil ek

ikke gide skulle laese latin. (Brandt 1999:126)

nie bekommerd. wees sal lees Latyn

"As ek in die skool kom, sal ek my nie daaroor bekommer dat ek Latyn behoort te kan lees nie."10

Noors: Vi vil matte kunne be om utsettelse.

ons sal moet kan vra om uitstel

"Ons sal moontlik om uitstel moet vra"

Han kan ville vaere allene

Hy kan wil wees alleen

"Hy kan alleen wil wees." (Faarlund et al. 1997:528)

Duits: Sie müssen uns sehen können

Hulle moet ons sien kan

"Hulle moet ons kan sien."11

Jiddisj: Du vest darfn ken3u zingen.

Jy sal moet kan sing

"Jy sal moet kan sing." (Jacobs 2005:246-7)

Wekker (1974:498) wys daarop dat zullen in Nederlands altyd die eerste werkwoord is. Volgens Faarlund et al. (1997:528) kan alle Noorse MW'e kunne "kan/kon" en ville "wil/wou" voorafgaan. Kunne "kan" is laaste in kettings wat die meeste in Deense korpusse voorkom, ofskoon ander MW'e ook laaste kan staan, aldus Brandt (1999:126). Volgens Skyum-Nielsen (1971), soos aangehaal deur Brandt (1999:127), kan epistemiese MW'e en burde "behoort te" nie regeer word nie.12 Brandt (1999:128) vermoed ook dat 'n dinamiese MW, byvoorbeeld kunne "kan" en ville "wil", slegs 'n ander dinamiese MW kan regeer, ofskoon voorspellende ville, dus "sal", enige MW kan regeer. Dit wil voorkom asof MW'e vergelykbaar met Afrikaans sal en kan heel dikwels onderskeidelik die eerste en laaste posisie inneem in hierdie tale.

Ook in Engels kom modale kettings, sogenaamde "double modals", uitgebreid voor. Dit het in Middelengels voorgekom en kom vandag in Skotland, die noorde van Engeland (Northumbria) en in die suid-oostelike deel van die VSA veral in die spreektaal voor. 'n Opmerklike ooreenkoms met Afrikaans13 is dat een of meer van die MW'e imperfekta kan wees, maar die Engelse gebruik is uniek in die sin dat might heel dikwels die eerste posisie inneem. Gewilde kombinasies in Skots van die 18de tot die 20ste eeu is volgens Montgomery en Nagle (1994:94) will + can/could, would + could, might + could/can/would, en in die Suidelike Middellande en Suidelike VSA (Di Paolo 1989:195) might + could/can/oughta/ should. Vergelyk in laasgenoemde gebied:

(5a) I've seen ones that might possibly could be flowers (Di Paolo 1989:205) "Ek het van hulle gesien wat miskien blomme sou kon wees."

(5b) We might can go up there next Saturday. (Di Paolo 1989:221) "Ons kan miskien volgende Sondag soontoe gaan."

In alle variëteite kom can en could die meeste voor as laaste MW (Montgomery & Nagle1994:95). Die uitsonderlikheid van might blyk daaruit dat aanhegvragies in sowel Skotland as die Suidelike VSA na die tweede MW eerder as na might terugverwys (Montgomery & Nagle 1994:97):

(6) I might could do that, couldn't I?

"Ek kon dit miskien gedoen het, kon ek nie?"

Die aanvangs-might is al beskryf as 'n bywoordagtige element soos die (eweneens modale) maybe (Montgomery & Nagle 1994:93), en "politely suggestive" of "nonintrusive" (Di Paolo 1989:198), en daar word beweer dat die sisteem van verdubbeling wat veral op might gebaseer is, ontwikkel het "to express epistemic modality and to fulfill certain pragmatic functions" (Montgomery & Nagle 1994:104). Of might epistemies is of 'n pragmatiese funksie vervul (byvoorbeeld dié van illokusionêre versagter of beleefdheid), dit bevestig die patroon dat MW'e wat op die proposisie as sodanig betrekking het, by voorkeur die eerste skakel van die modale ketting sal wees.

In die lig van bostaande gegewens kan voorlopig aangeneem word dat epistemiese MW'e en ander wat op die hele proposisie betrekking het, geneig is om die eerste posisie in die ketting in te neem, terwyl 'n MW soos kan/kon 'n tipiese afsluiter van die reeks is. Vervolgens word eers gekyk na epistemies en evidensieel gebruikte MW'e.

 

4. EPISTEMIESE EN EVIDENSIËLE FUNKSIES EN SAL/SOU/GAAN AAN DIE BEGIN

'n MW het 'n epistemiese betekenis of funksie as dit deur die spreker gebruik word om die waarskynlikheid van dit waarna 'n proposisie verwys, te evalueer - in die woorde van Nuyts (2005:9): "an estimation of the chances that the state of affairs applies in reality or not". In vergelyking met die wye spektrum van modale betekenisse en -nuanses is die "grade van waarskynlikheid" wat uitgedruk word, heel beperk (volgens Nuyts 2005:11 bloot "rough positions" op 'n skaal) en is dit onwaarskynlik dat kernfunksies volgens 'n eenvoudige prosedure in epistemiese funksies "omgesit" kan word. Daar moet eerder gedink word aan ad hoc-aanpassings van modale kernfunksies aan die epistemiese funksie. Die "moontlikheid"-betekenis van kan/kon is byvoorbeeld regstreeks bruikbaar in die tipering van die waarskynlikheid van 'n proposisie as "matig waarskynlik". Mag ontleen moontlik sy epistemiese rol aan 'n semantiese veld wat "toestemming", "toegewing" en "moontlikheid" omvat. Deur die stelligheid van 'n voorspelling dui sal op "groot waarskynlikheid", terwyl moet dieselfde vermag, maar via die "noodwendigheid" wat dit impliseer. Wil word nie in Afrikaans epistemies gebruik nie. So lewer mag en kan 'n evaluasie van "blote waarskynlik-heid", terwyl moet en sal op "sterk waarskynlikheid" dui; vergelyk onderskeidelik:

(7a) Sy het nie opgedaag nie; sy mag/kan of moet/sal al weer in die buiteland wees.

Die epistemiese deel van die sin kan geparafraseer word as

(7b).. ..dit mag/kan/moet/sal (die geval) wees dat sy weer in die buiteland is.

Sal/sou/gaan vorm 'n soort grensgebied tussen epistemiese en kernfunksies, sodat dit nie vreemd is dat dit ook altyd eerste in 'n modale ketting voorkom nie. Die konsep van "voorspelling" is sentraal in die betekenisveld van sal/gaan: toekomsgerigte voorspelling wanneer die toekomende tyd aangedui word, maar ook die tipe voorspelling wat byvoorbeeld vir wetenskaplike teorievorming vereis word en waar die teorie en sy bewyse gelyktydig waar is. Dat daar wel 'n onderskeid tussen sal/sou/gaan se kernfunksie en epistemiese funksie is, blyk uit die volgende sinspaar:

(8a) Sy sal/?gaan 'n paleontoloog wees (hipotese: Die afleiding kan gemaak word dat paleontologie haar vak is.)

(8b) Sy sal/gaan al weer op die dansbaan wees. (epistemies: Daar is 'n sterk moontlikheid dat sy nou aan die dans is.)

Waar sal/sou/gaan hipoteties, soos in (8a), gebruik word of op 'n belofte, opdrag of die toekoms dui (vergelyk vir die laaste drie: Ek sal die takie gou afhandel; Jy sál my help en Hulle sal more hier aankom) gaan dit steeds om die kernbetekenis van sal, maar as die kommunikatiewe doel van die uiting evaluerend is, word sal epistemies gebruik, soos in (8b).

Nog 'n modale funksie wat met die proposisie in sy geheel verband hou, is evidensialiteit: die aanduiding dat die spreker nie persoonlik instaan vir die waarheid van 'n proposisie nie, moontlik omdat dit op hoorsê eerder as eie waarneming berus. Buite die werkwoordstelsel word dit veral deur die modale partikel glo, soos in (9a), uitgedruk, maar binne die stelsel enigsins vaer - omdat sou ook ander betekenisnuanses het - deur die imperfekvorm sou, soos in (9b):

(9a) Hy het glo die moord gepleeg.

(9b) Hy sou die moord gepleeg het.

Daar kan dus ook verwag word dat die evidensiële sou aan die begin van 'n modale ketting sal staan.

'n Vraag waarna later (par. 7) teruggekeer word, is die situasie waar sal/sou/gaan in 'n kernbetekenis gebruik word en 'n ander MW in epistemiese funksie, en albei dus aanspraak op die eerste posisie het.

Ons kyk vervolgens na kan/kon as laaste skakel in die modale ketting.

 

5. KAN/KON AS EINDPUNT

Kan in Afrikaans en sy imperfekvorm kon het 'n aaneenlopende betekenisspektrum wat "vermoë", "geleentheid", "moontlikheid" en selfs die totale afwesigheid van weerstand teen realisering of die blokkering van aksie insluit. Boye (2005:64) beskryf die "moontlikheid"-betekenis van Deens kunne soos volg uit die oogpunt van Force Dynamics: "We may describe the possibility meaning of kunne negatively as an absent barrier ... not preventing Bob14 from participating in the relation do the dishes or positively as the mere existence of a force-dynamic potential". Die "toestemming"-betekenis van kan kan beskou word as die gekonvensionali-seerde produk van 'n taalhandeling wat "moontlikheid" aan die aangesprokene "toeken". Kan/ kon dui op 'n vaste, intrinsieke kenmerk of attribuut van die sinsonderwerp se referent. Nuyts (2005:7) beskryf dinamiese modaliteit, wat veral kan/kon insluit, as "an ascription of a capacity/ ability to the subject-participant of the clause".

Terwyl kan/kon in sy kernfunksie tipies die laaste MW in 'n ketting is, sal kan/kon (of 'n ander MW) in epistemiese funksie enige ander MW (behalwe sal/sou/gaan) voorafgaan. Die kontras tussen die twee funksies dui in eersgenoemde geval op 'n inherente, gerealiseerde kenmerk van die sinsonderwerp, naamlik "vermoë", terwyl kan/kon in laasgenoemde geval geen verband hou met enige onderdeel van die proposisie nie, en dus ook nie met die sinsonderwerp nie.

Ná 'n beskouing van die vullers van die eerste en laaste posisie kyk ons nou na volgordevoorkeure tussen hierdie twee punte en wat hulle moontlik motiveer.

 

6. VOLGORDEVOORKEURE

Van die volgende twee uitings is die eerste meer aanvaarbaar as die tweede:

(10a) Ben moet Boeings wil vlieg (om die werk te kry).

" Dit is noodsaaklik dat Ben die begeerte het om Boeings te vlieg ."

(10b) ? Ben wil Boeings moet vlieg (om die werk te kry).

"Ben het die begeerte dat dit noodsaaklik is om Boeings te vlieg ."

Laat ons aanneem dat die toevoeging van elke MW links van die predikaat, die realisering daarvan relativeer. Dus, in Ben vlieg Boeings is die verstekaanname dat die vliegaksie (daadwerklik of as beroepsaktiwiteit) plaasvind; in Ben wil Boeings vlieg word dié aksie opgehef, maar bestaan die begeerte nog, en in Ben moet Boeings wil vlieg is sowel die vliegaksie as die begeerte opgehef (dus: Ben wil nie noodwendig nie), maar druk die predikaat in sy geheel 'n verpligting uit. Die uitbreiding van die predikaat kan so voorgestel word:

Ben [moet [wil [Boeings vlieg]]]

Die uitbreiding van die predikaat deur die toevoeging van MW'e is egter nie relativering as sodanig nie, maar het ten doel om steeds nuwe voorwaardes vir die realisering van die predikaat te stel of nuwe wêrelde te skep in Kiefer (1977) se terme: vlieg, ja, maar dan moet die wil daar wees; die wil om te vlieg, ja, maar dit moet as verpligtend beskou word. Keer ons nou die volgorde om, soos in (10b) hierbo, dan word die (inherente) wil/begeerte van die onderwerp as die voorwaarde gestel om eksterne motivering te bekom om die aksie uit te voer - wat redundant of selfs teenstrydig voorkom: die wil as sodanig is reeds voldoende waarborg vir realisering. In die voorkeurvolgorde, naamlik moet wil soos in (10a), word in die diskoersvolgorde deur moet bloot 'n tematiese rol aan Ben toegeken, terwyl daarna deur wil 'n aktiewe rol aan Ben toegeken word. As "om te moet" en "om te wil" as modale kragte beskou word, dan het die krag wat op Ben inwerk in Ben moet 'n eksterne modaliteitsbron, terwyl Ben self die interne modaliteitsbron is in die geval van Ben wil. Moet, wat "verpligting" aandui, is 'n tipiese deontiese MW, en deontiese betekenis, volgens Boye (2005:68), "only affects an agonist from the outside". Tydens die verloop van die uiting word die funksie van die onderwerp dus uitgebrei van onderganer na dié van agens of doener en verander die status van die predikaat van eksterne attribuering aan die onderwerp na dié van inherente kenmerk van die onderwerp.

Ook die volgende twee gevalle is nie ewe aanvaarbaar nie, al tree die onderwerp in albei gevalle as agens op:

(11a) Ben wil Boeings kan vlieg.

"Ben het die begeerte om in staat te wees om Boeings te vlieg."

(11b)*Ben kan Boeings wil vlieg.

"Ben is in staat [LW nie die epistemiese gebruik nie] om te begeer om Boeings te vlieg."

Kan dui reeds op "vermoë" en dui selfs daarop dat niks vir die onderwerp in die weg staan om die aksie uit te voer nie; "wil" lyk in so 'n situasie oorbodig. Die verskil is in hierdie geval aspektueel van aard: as attribuut is wil inchoatief of dui dit op toekomstige realisering of realisering wat nog aan die gang is, terwyl kan op 'n vaste, gerealiseerde attribuut dui en as perfektiefaangedui kan word. Die ongerealiseerde attribuut gaan dus die gerealiseerde attribuut vooraf. So kan sal/sou/gaan, moet/moes, mag (as die gee van toestemming) en wil/wou as inchoatiefbeskou word, en behoort, kan/kon en mag (as toestemming) as perfektief, waardeur dit op 'n interne, gerealiseerde attribuut of kenmerk dui.

In (12a) speel sowel inherentheid as aspek 'n rol, deurdat 'n inchoatiewe, eksterne attribuut (moet) 'n perfektiewe, interne attribuut (kan) voorafgaan. Die omgekeerde in (12b), naamlik om in staat te wees om verplig te word, is 'n contradictio in terminis.

(12a) Ben moet Boeings kan vlieg.

"Ben is verplig om in staat te wees om Boeings te vlieg."

(12b) *Ben kan (= is in staat) Boeings moet vlieg.

"Ben is in staat om verplig te word om Boeings te vlieg."

In die lig van bostaande waarnemings kan vervolgens 'n verklarende hipotese geformuleer word wat empiries toetsbaar is.

 

7. HIPOTESE

Die hipotese word vervolgens gestel dat die posisie van 'n bepaalde MW in 'n modale ketting 'n funksie is van die hegtheid waarmee die sinsonderwerp aan sy werkwoordelike predikaat verbind is, waar die "hegtheid" van die verband bepaal word deur die mate waarin die modaliteitsbron identies is met of intern is ten opsigte van die sinsonderwerp, en die mate waarin die realisering van die predikaat 'n aanvang geneem het (inchoatief) of afgehandel is (perfektief). Die rol van die modaliteitsbron word ook hoog aangeslaan deur Brandt (1999:302), wat die "modal source" as die primêre dimensie van modaliteit beskou en die Germaanse modale werkwoorde daarvolgens in twee groepe verdeel: die "abilitive" groep wat intrasubjektief is met 'n modaliteitsbron wat tipies inherent aan die subjek self is (byvoorbeeld "capability" of "disposition") en deontiese MW'e wat "toestemming" of "verpligting" uitdruk.

Omdat MW'e multifunksioneel is wat hulle kernbetekenis betref, sou dit moontlik aangewese gewees het om die hipotese op semantiese velde eerder as spesifieke MW'e te baseer. Dit sou egter tot groot willekeur en die oorvleueling van MW'e aanleiding kon gee. Omdat hier uitgegaan word van die standpunt dat die betekenisonderskeidings van elke MW tot één kernbetekenis herlei kan word, word die MW'e self (met gaan in sy modale betekenis saamgegroepeer met sal/sou) as vertrekpunt geneem. In die lig van hierdie oorweging en die beginsels onderliggend aan bogenoemde hipotese kan die voorspelde voorkeurvolgorde voorgestel word soos in Tabel 1.15

Tabel 1 kan soos volg toegelig word. Kan/kon het 'n onderwerpinterne modaliteitsbron, wat reeds as attribuut gevestig is. In die geval van wil/wou is die bron steeds intern, maar dit is aspektueel inchoatief en die attribuut dus nog nie gevestig nie. Volgens die algemeengeldige gedragsvoorskrif wat behoort kenmerk, het die onderwerp van behoort dus sowel 'n interne bron, die sinsonderwerp, as 'n eksterne bron, byvoorbeeld die spreker. Hierdie "verpligting" kan as 'n vaste, byvoorbeeld etiese, attribuut beskou word. Mag het slegs 'n eksterne bron, die oorsprong van die "toestemming," wat dan 'n attribuut van die onderwerp word (die onderwerp "het" toestemming). Aspektueel kan mag dus sowel inchoatief as perfektief wees. Moet/moes dui, anders as mag, nie op 'n perfektiewe attribuut van die onderwerp nie; die verpligting het tipies 'n eksterne bron - wat die onderwerp desgewens op hom-/haarself toepaslik kan maak (Ek moet nou gaan.) - en die uitwerking daarvan is nog onafgehandel, met ander woorde inchoatief.

Sal/sou/gaan het uiteenlopende betekenisonderskeidings, wat 'n brug slaan tussen die kernbetekenis van moet, en die epistemiese of evidensiële gebruik van MW'e, wat op die proposisie in sy geheel slaan. In laasgenoemde gevalle staan die MW in geen direkte semantiese verhouding tot die sinsonderwerp nie. In beloftes en opdragte deur middel van sal is dié verhouding egter nog aanwesig, ofskoon dit hier om taalhandelinge gaan. By die maak van 'n belofte (Ek sal...) is die modaliteitsbron intern ten opsigte van die onderwerp, en by die gee van 'n opdrag (Jy sál ...), ekstern. Waar sal/sou/gaan egter hipoteses en voorspellings uitdruk of op die toekoms dui, hou dit geen verband met die onderwerp nie: die hele proposisie word gerelativeer of in die (ongerealiseerde) toekoms gesitueer. Die verskil tussen die kernbetekenis en epistemiese gebruik van sal/sou/gaan is een van funksie: voorspelling teenoor die beoordeling van die waarskynlikheid van die proposisie (vgl. (8a) en (8b) hierbo, wat hier herhaal word as (13a) en (13b).

(13a) Sy sal/?gaan 'n paleontoloog wees (hipotese: Die afleiding kan gemaak word dat paleontologie haar vak is.)

(13b) Sy sal/gaan al weer op die dansbaan wees. (epistemies: Daar is 'n sterk moontlikheid dat sy nou aan die dans is.)

'n Volgordeteenstrydigheid wat hier kan ontstaan, is dat waar sal/sou/gaan (epistemies óf in 'n kernbetekenis) kombineer met 'n ander MW in epistemiese funksie, laasgenoemde dan tog die tweede posisie moet inneem. Dié moontlikheid moet minstens in Skotse Engels en Noors nie uitgesluit word nie. In die Skots-Engelse voorbeeld

(14)They might could be working in the shop. (Montgomery en Nagle 1994:94)

kan sowel might as could epistemies wees. Volgens Eide (2005:129) is kombinasies van epistemiese ("non-root") MW'e in Noors moontlik as die tweede MW kunne "kan" is. In die volgende Noorse sin in (14a) uit Faarlund et al.(1997:528) is vil "sal" toekomsaanduidend en kunne "kan" - hier selfs in die derde posisie - epistemies.17 'n Vergelykbare Afrikaanse sin is (15b).

(15a) Vi vil matte kunne be om utsettelse.

ons sal moet kan vra om uitstel

'Ons sal moontlik om uitstel moet vra.'

(15b) Wie anders [as Winterbach] sou hy kon wou doen18 vir die grand finale!(L. Lategan)

Sou is hipoteties, en kon - soos Noors kunne hierbo - moontlik epistemies.

Sal/sou/gaan, wat in kettings net in die eerste posisie voorkom en waar moeilik onderskei kan word tussen kern- en epistemiese funksies, is sonder meer eerste van al die MW'e in Tabel 1 geplaas. As ons ons beperk tot kettings van net twee kern-MW'e, laat die ordeningsbeginsel 15 verskillende volgordes toe. Behalwe in die geval van sal/sou/gaan moet die eerste MW altyd 'n kernfunksie hê; 'n geval soos Ben kan Boeings moet vlieg sal slegs 'n teenvoorbeeld wees as kan kernbetekenis het, want epistemies gebruikte MW'e kan in elk geval voorop staan.

Vervolgens word die toetsing van die hipotese beskryf.

 

8. EMPIRIESE KONTROLE

Die vraag is in hoeverre die kombinasies van MW'e wat gevind word, beperk is tot dié wat deur Tabel 1 voorspel word. Daar is van die Taalkommissiekorpus 1.1 (TK) gebruik gemaak om vas te stel watter kombinasies überhaupt voorkom en enkele ander tekste het ook as bron van voorbeelde gedien. Die doel van die gebruik van die korpus en ander bronne, byvoorbeeld literêre werke, was nie 'n presiese kwantifisering van verskillende tipes nie, maar in eerste instansie om vas te stel of bepaalde kettings hoegenaamd voorkom. Omdat trefslae vir bepaalde kombinasies kon uiteenloop van een tot meer as 'n honderd bladsye van 50 trefslae elk, kon die aantal woorde tussen die twee MW'e van soveel as 0 - 10 tot so min as 0 - 2 wissel, en is soms net na 'n gedeelte van die korpus gekyk. 'n Goeie voorstelling kon dus gemaak word van die globale frekwensie van 'n bepaalde kombinasie, byvoorbeeld of dit hoogs frekwent is, beslis voorkom of glad nie voorkom nie.

Aangesien die volgordehipotese gebaseer is op semantiese/funksionele verhoudings tussen MW'e en aangeneem word dat hierdie verhoudings nie konstant kan bly as een of meer MW'e ontken word nie, is ontkennende voorbeelde uitgesluit van die ondersoek. Van die (onvoorspelde) volgorde wil moet is talle ontkennende voorbeelde gevind, byvoorbeeld:

(16a)Want ek wil beslis nie aan Alex moet verduidelik ... nie. (I. Venter, Skoenlapper, 2012:301)

(16b) Hy wil nie op 'n dag soos hierdie óók daarna moet luister nie (K.Breytenbach, Hartland, 2012:17)

Vervolgens word 'n beeld gegee van die voorkoms al dan nie van voorspelde kombinasies en daarna van die kombinasies wat deur die hipotese uitgesluit word.

 

9. VOORSPELDE KETTINGS

Tabel 1 voorspel dat net kombinasies uit en in die volgorde van die reeks

sal/sou/gaan - moet/moes - mag - behoort te - wil/wou - kan/kon

sou voorkom, dus byvoorbeeld sal + moet of moes + kon, maar nie kan + moet of wil + mag nie. Omdat sal, sou en gaan in die reël in elk geval die eerste posisie inneem en dit ook epistemiese MW'e oor die algemeen geld, word in die empiriese kontrole nie onderskei tussen kern- en epistemiese sal/sou/gaan nie. Wat die ander MW'e betref, word slegs voorbeelde waar die eerste MW 'n kernbetekenis het (en wat dus nie epistemies gebruik word nie), in ag geneem, en in geen geval word ontkennende proposisies in ag geneem nie. Getalle het slegs betrekking op wat in die TK gevind kon word; ter illustrasie word egter ook gebruik gemaak van voorbeelde uit ander bronne (soos telkens aangedui).

Sal/sou: Voorbeelde is van 14 uit 16 moontlike kombinasies gevind.Sal en sou kombineer met al die ander MW'e in die reeks, behalwe met behoort (te). Sal + moet19(17a) en sal + kan20(20a) het opmerklik hoë frekwensies, in vergelyking met sal + mag (122x) (18a) en sal + wil (22x)(20a). Sal kombineer egter ook met die imperfekta moes (3x)(17c), wou (28x)(19b) en kon (17x)(20b). Sou kombineer die meeste met moes (606x)(17d), maar ook dikwels met kan (305x)(20c), wil (127x)(19c) en moet (65x)(17d), en soms met mag (6x)(18b), wou (9x)(19d) en kon (12x)(20d). Enkele voorbeelde uit die TK en ander bronne:

(17a) Jy sal moet vinnig bykom, my sussie. (P. Stamatelos, Madeliefies, 2012:116)

(17b) As hulle hul sin kry, sou niemand met skape boer nie en al die myne sal moes sluit (TK)

(17c) Want as sy by hom wil uitkom, sal sy oor bokse moes klim (M.Malan, Suiderkruis, 2008:42)

(17d) 'n Oupatjie sou met 'n handkarretjie moet "hawk" (TK)

(17e) Want as hy die dag sou moes beginne help verduidelik, sal hy moet help verduidelik tot die Oordeelsdag toe (L. de Villiers, Kaapstadkarma-polisie, 2012:47)

(18a) Hy sal net deur die venster van die babakamer mag kyk (TK) (18b)... ofjy in die VSA sou mag praktiseer as dieetkundige (TK)

(19a) Jy sal graag wil weet, nè, almal wil weet. (C.Karsten, Man van min belang, 2013:345)

(19b) Waarom sal ek 'n boek wou skryf oor die Van Buuren-saak? (C. Marnewick, Clarence van Buuren, 2012:7)

(19c) Ons sou graag met jou ook wil praat. (TK)

(19d) Wat sou ek wou gee om daarmee te kon grootword? (M.Leroux-Van der Boon, Go'el Yisra'el, 2012:23)

(20a) Daai man sal jou sommer net so kan doodskiet. (H. du Plessis, As die wind kom draai, 2013:73)

(20b) Later in die aand sal hy dit feitlik presies kon teken. (K. Breytenbach, Hartland, 2012:189)

(20c) Maar ek sou tot more kan bly. (TK)

(20d) Aan die negatiewe kant sou mens wel enkele besware kon opper. (TK)

Gaan: Voorbeelde is van 3 uit 8 moontlike kombinasies gevind. Gaan kombineer in enkele gevalle met moet (1x), wil (1x) en kan (1x).

(21a) Hier gaan georganiseerde landbou sy kant moet bring. (TK)

(21b) Mattie gaan hier moet laat stofsuig. (E.Venter, Wolfwolf, 213:37)

(21c) Oom Mike gaan 'n klomp beeste wil hê. (TK)

(21d) Hoe gaan ons ooit vir hom tot siens kan sê? (TK)

Moet/moes: Voorbeelde is van 5 uit 12 moontlike kombinasies gevind. Moet + kan21kom die meeste voor, (22a) en (22b); moes + kon22(22e) heelwat minder. Moet kombineer verder met wil (11x), (23a) en (23b), kon (2x)(22c), en moes ook met kan (4x)(22d). Voorbeelde:

(22a) En die tenoor moet die hoë G pianissimo kan sing. (TK)

(22b) 'n beitel moet kan klip breek/as hy 'n beitel is (N.P. van Wyk Louw, "Die beiteltjie")

(22c) Eintlik moet mens hom hier kon verwag. (TK)

(22d) Sodanige vroue moes Nederlands kan praat (TK)

(22e)Vannag moes 'n man langs 'n vuurtjie kon geslaap het (TK)

(23a) Dit moet háár besluit wees. Sy moet met hom wil praat. (TK)

(23b) Dit [seiljagbou] moet jou belangstelling wees en jy moet werklik dit wil doen (RSG)

(23c) Feit is, sy wil Nicky nie hê nie, sy wil net hê hy moet haar wil hê. (F. Bloemhof, Tweede asem, 2001:54)

(23d) Dat die Here nou moes wil dat sy nie die laaste sê kon inkry nie. (M.van Zyl, Amraal, 2016:97)

Mag: Geen voorbeelde is van 5 moontlike kombinasies gevind nie. Van mag + wil (7x) en mag + kan (3x) is wel voorbeelde gevind, maar in alle gevalle óf ontkennend (24a), óf met mag in epistemiese funksie (24b) en (24c).

(24a) Die prediker mag nie méér wil wees as wat hy werklik ... (TK)

(24b) Jy mag dalk na hierdie toepassing wil terugkom. (TK)

(24c) Jy mag ander dinge kan doen, maar jy kan nie tee maak nie. (TK)

Behoort (te): Van behoort te kan is in die TK 681 voorbeelde gevind (25b) en van behoort te kon 4 (25c). Daar is nie tussen die kern- en epistemiese gebruike van behoort (te) onderskei nie, aangesien die onderskeid dikwels baie fyn is.

(25a) soos julle ook graag behoort te wil wees (J en R Nagtegaal, In limbo, 2002:28)

(25b) Jy as toekomstige tegniese onderwyser behoort met gesag hieroor te kan gesels (TK)

(25c) met jou toenemende selfvertroue behoort jy die ontbrekende antwoorde self te kon vind (TK)

Wil/kan: Voorbeelde is van 2 uit 4 moontlike kombinasies gevind. Wil + kan (26a) is hoogs frekwent;23 van wil + kon (1x) en wou + kon (4x) (26b) is net enkele voorbeelde gevind. Voorbeelde uit literêre werke:

(26a) Hy ... wil... die fynste lyn kan teken (K.Schoeman, Titaan, 2009:189)

(26b) Sy wou hom teen haar voel, wou kon raak aan dit wat hier en nou is. (C.Barkhuizen le Roux, Getuie, 2012:177)

Opsommend kan gestel word dat van die 49 moontlike kombinasies van MW'e 27 gevind is. Indien presens- en imperfekvorme24 saamgevoeg word,25 is van 15 kombinasies 8 gevind, te wete

SAL26> MOET/mag/WIL/KAN (4)

MOET > WIL/KAN (2)

behoort (te) > KAN (1)

WIL > KAN (1)

Al stem al hierdie kettings met die voorspelde volgorde ooreen, is mag empiries net ná SAL aangetref en behoort (te) slegs vóór KAN, maar nóg mag, nóg behoort(te) ten opsigte van 'n ander MW. SAL kan enige MW voorafgaan (behalwe miskien behoort (te)) en KAN is veral goed gevestig as laaste MW.

 

10. UITGESLOTE KETTINGS

Die kombinasies wat volgens die voorspelling nie behoort voor te kom nie (sal/sou/gaan hier uitgesluit omdat hulle altyd die eerste posisie inneem) moet deel uitmaak van die reeks

kan/kon - wil/wou - behoort (te) - mag - moet/moes

PRES + PRES > IMPF + IMPF > IMPF + PRES > PRES + IMPF In ooreenstemming hiermee is sal moet > sou moes > sou moet > sal moes; sal mag > sou mag; moet kan > moes kon > moes kan >/=moet kon en wil kan > wou kon. Uitsonderings is egter sou wil, wat meer frekwent is as sal wil, en sou kan, wat moontlik meer frekwent is as sal kan. Die relatief hoë frekwensie van die kombinasie IMPF + IMPF is moontlik toe te skryf aan kongruensie tussen die MW'e. Vgl. Ponelis (1979) se "preteritale assimilasie". Verdere ondersoek is egter nodig.

Van die 25 kombinasies wat hierdeur gevorm word, het net één, te wete kan + wil, 'n voorbeeld opgelewer, en dan nog met wil as hoof- eerder as hulpwerkwoord:

(27) Handel alleen volgens dié stelreëls waarvan jy tegelyk kan wil dat hulle as universele gedragswette vir alle mense sal geld. (TK)

In talle oënskynlike teenvoorbeelde word die eerste MW epistemies gebruik27(28), die proposisie ontken28 (29), of albei (30).

(28a) Wat kan julle moontlik nou van my wil weet (TK)

(28b) Belastingbetalers kan dalk meer as 'n miljard rand moet opdok (TK)

(28c) Sommige leerders mag dalk lank moet wag. (TK)

(28d) Hou hierdie brosjure. Jy mag dit weer moet lees. (medisynepamflet)

(29) Hy wil nie langer na hulle stories moet luister nie. (I.Winterbach, Vlakwater, 2015:234)

(30) In 'n klein plekkie soos hierdie kan jy nie gedurig met almal wil skoor soek nie (TK).

As net die gevalle in ag geneem word waarvan die eerste MW nie epistemies gebruik word en die konteks nie ontkennend is nie, kon slegs voorbeeld (27) as teenvoorbeeld gevind word. Die feit dat, in teenstelling hiermee, voorbeelde van meer as die helfte van die voorspelde volgordes gevind kon word, dui daarop dat die hipotese oor die algemeen ondersteun word.

 

11. BEVINDINGS

In 'n poging om vas te stel of die vorming van modale kettings in Afrikaanse sinne deur bepaalde beginsels bepaal word, is die hipotese gestel dat die posisie van 'n MW in 'n ketting saamhang met die hegtheid waarmee die sinsonderwerp aan sy werkwoordelike predikaat verbind. Daar is verder van die veronderstelling uitgegaan dat hierdie "hegtheid" bepaal word deur die mate waarin die modaliteitsbron intern met die sinsonderwerp geïdentifiseer kan word en die mate waarin die realisering van die predikaat bloot 'n aanvang geneem het of reeds afgehandel is. Teen hierdie agtergrond is die belangrikste Afrikaanse MW'e georden vanaf proposisie-eksterne rolle soos epistemiese en evidensiële funksies en die hipotetiese funksies van sal/sou/gaan, aan die een kant, tot kan/kon, wat na 'n reeds gerealiseerde, interne kenmerk van die onderwerp verwys, aan die ander kant (sien Tabel 1).

Die hipotese is getoets deur die voorkoms van al die voorspelde sowel as die nievoorspelde kombinasiemoontlikhede empiries na te gaan. Hiervoor is hoofsaaklik gebruik gemaak van die Taalkommissiekorpus 1.1, maar aanvullend ook van ander bronne, byvoorbeeld literêre tekste. Die bedoeling was nie in eerste instansie om die gebruiksfrekwensies van kombinasies met mekaar te vergelyk nie, maar bloot om vas te stel watter kettings überhaupt voorkom.

Indien presens- en imperfekvorme as afsonderlike entiteite gereken word (met moet + kan, moes + kan en moes + kon byvoorbeeld as drie verskillende kombinasies), blyk dit dat van die 49 kombinasies wat voorspel is, 27 voorgekom het. As daar geen onderskeid tussen presens- en imperfekvorme getref word nie (sodat MOET + KAN as één kombinasie gereken word), is uit 15 moontlike kombinasies voorbeelde van 8 gevind - uit albei oogpunte dus effens meer as die helfte van die gevalle.

Van die omgekeerde, nievoorspelde kombinasies, daarenteen, is net 'n enkele voorbeeld gevind (vergelyk voorbeeld (27)), wat die voorkoms van die nievoorspelde kettings onwaarskynlik maak. Hierdeur word die hipotese oor die algemeen bevestig.

Die relatiewe posisie van twee MW'e word egter slegs ten dele bevestig: mag29 kon net georden word ná SAL en behoort (te) net vóór KAN (en moontlik voor wil, vergelyk (25a)).Die moontlikheid bestaan ook dat behoort (te) in Afrikaans, soos Deens burde "behoort" (Brandt 1999:127), glad nie deur SAL voorafgegaan kan word nie - iets wat verklaar moet word in die lig van die algemene voorkoms van SAL + MOET. Die afwesigheid van kombinasies van MOET en mag en van MOET en behoort (te) kan moontlik toegeskryf word aan die gedeeltelike teenstrydigheid van "verpligting" en "toestemming", en die semantiese oorvleueling van "verpligting" en "voorskrif", onderskeidelik.

 

BIBLIOGRAFIE

TK, sien Taalkommissiekorpus 1.1.

Boye, K. 2005. Modality and the concept of force-dynamic potential. In Klinge, A. & Müller, H.H. (eds). Modality. Studies in Form and Function. London: Equinox, pp. 49-80.         [ Links ]

Brandt, S. 1999. Modal verbs in Danish. Travaux du Cercle Linguistique de Copenhagen, Vol XXX. Copenhagen: C.A. Reitzel.         [ Links ]

Di Paolo, M. 1989. Double modals as single lexical items. American Speech 64(3):195-224.         [ Links ]

Eide, K. M. 2005. Norwegian Modals. Berlin & New York: Mouton de Gruyter.         [ Links ]

Faarlund, J.T., Lie, S. & Vannebo, K.I. 1997. NorskReferanse-Grammatik. Oslo: Universitetsforlaget.         [ Links ]

Jacobs, N.G. 2005. Yiddish - A Linguistic Introduction. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Kiefer, F. 1997. Modality and Pragmatics. Folia Linguistica XXXI/3-4:241-253.         [ Links ]

Modal Auxiliaries, The (die modalen Hilfsverben). 2017.http://www.dartmouth.edu/~deutch/Grammatik/Verbs/modals.html. [26 Junie 2017]        [ Links ]

Montgomery, M.B. & Nagle, S.J. 1994. Double modals in Scotland and the Southern United States: Trans-Atlantic inheritance or independent development? Folia Linguistica Historica XIV/1-2:91-107.         [ Links ]

Nuyts, J. 2005. The modal confusion: on terminology and the concepts behind it. In Klinge, A. & Müller, H.H. (eds). Modality. Studies in Form and Function. London: Equinox, pp. 5-38.         [ Links ]

Papafragou, A. 2002. Modality and theory of mind. Perspectives from language development and autism. In Barbiers, S., Beukema, F. & Van der Wurf, W. (eds). Modality and its Interaction with the Verbal System. Amsterdam/ Philadelphia, pp.185-204.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse Sintaksis. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Skyum-Nielsen, P. 1971. Modalverberne i Nudansk. Ongepubliseerde ms. Taalkommissiekorpus 1.1 deur http://viva-afrikaans.org.         [ Links ]

Wekker, H.C. 1974. Enkele suggesties voor de syntactische analyse van het hulpwerkwoord zullen in het modern Nederlands. De nieuwe taalgids 67(6):493-499.         [ Links ]

 

 

 

Jac Conradie behaal 'n B.A.-graad aan die Universiteit Stellenbosch in 1965, en 'n Hon-neursgraad (met onderskeiding) aan dieselfde universiteit in 1967, sowel as 'n M.A.-graad vir 'n verhandeling met die titel Die lydende vorm in Afrikaans in 1969. Hy voltooi sy doktorale studie aan die Rijksuniversiteit Utrecht in 1972 en behaal 'n Ph.D. in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand in 1979 met 'n proefskrif getiteld Die diachronie van die Afrikaanse voltooide deelwoord. Hy is tans emeritus professor van die Universiteit van Johannesburg (vroeër die Randse Afrikaanse Universiteit), waar hy sedert 1975 Afrikaanse taalkunde gedoseer het en in tydelike hoedanigheid steeds historiese taalkunde, sintaksis en morfologie op voor- en nagraadse vlak doseer. Hy is 'n NRF-gegradeerde navorser, Senior Navorsingsgenoot in die Fakulteit Geestes-wetenskappe en medewerker aan die Taal-portaalprojek, en sy navorsingsbelangstellings sluit die geskiedenis van Afrikaans en Nederlands, modaliteit, grammatikalisasie en ikonisiteit in taal in.
Jac Conradie obtained a B.A. degree at Stellenbosch University in 1965, and an Honours degree (with distinction) at the same university in 1967 as well as an M.A. degree for a dissertation entitled Die lydende vorm in Afrikaans (The passive voice in Afrikaans) in 1969. He completed Doctoral studies at the University of Utrecht in 1972, and obtained a Ph.D. in Afrikaans and Nederlands from the University of the Witwatersrand in 1979 with a thesis entitled Die diachronie van die Afrikaanse voltooide deelwoord (The diachronics of the Afrikaans past participle). At present he is emeritus professor of the University of Johannesburg (formerly the Rand Afrikaans University), where he has been teaching Afrikaans linguistics since 1975 and is still teaching historical linguistics, syntax and morphology at pre- and post-graduate level as a temporary lecturer. He is an NRF rated researcher, Senior Research Associate in the Faculty of Humanities and contributor in the Taalportaal project, and his research interests include the history of Afrikaans and Dutch, modality, gram-maticalisation and iconicity in language.
1 Met dank aan die Universiteit van Johannesburg en die Nasionale Navorsingstigting (NRF) vir hulle steun en aan die anonieme keurders vir waardevolle wenke.
2 As behoort (te) draws the subject's attention to a directive already considered binding to the subject, the source of the directive may be considered external as well as internal to the subject.
3 Epistemic and other senses were also permitted in the case of sal/sou/gaan as these conventionally occupy the first position.
4 Voorbedde sonder bronaanduiding is vir demonstrasiedoeleindes geformuleer.
5 Dit skakel dus gevalle soos die frekwente wil + moet in Ek wil [jy moet dit doen] uit.
6 Boektitels word in bronverwysings soms in verkorte vorm weergegee.
7 Gaan as MW is 'n byna-sinoniem en mededinger van sal, en vereis anders as die bewegingswerkwoord gaan die agterlating van 'n werkwoord aan die sinseinde, dus Ek gaan jou help, maar nie *Ek gaan (=sal) help jou nie.
8 Die imperfekvorm mog is verouderd.
9 Leksikale werkwoorde sluit die hoofwerkwoord en voorafgaande skakelwerkwoorde in, waaronder gaan as bewegingswerkwoord.
10 Die glos van Brandt (1999:126) lui: "When I get to school will I not bother should could read Latin."
11 http://www.dartmouth.edu/~deutch/Grammatik/Verbs/modals.html
12 Dit wil sê hulle is verpligtend eerste.
13 Vgl. ook infinitiewe soos to could.
14 Verwys na 'n sin soos Bob can do the dishes.
15 Daar is aanduidings dat 'n ontwikkeling van dinamiese tot deontiese en verder tot epistemiese betekenis, wat onderliggend is aan die volgorde van toenemende relativering (en dus groter abstraksie) wat in Tabel 1 uitgedruk word, ook kenmerkend is van taalverwerwing en taalverandering. Papafragou (2002), wat probeer aantoon dat "genuine epistemic interpretations of modals presuppose the ability to reason about mental representations" (Papafragou 2002:192), het byvoorbeeld empiries vasgestel dat die verwerwingsvolgorde by Engelse kinders dinamiese MW'e (byvoorbeeld "voorneme" en "vermoë"), dan deontiese MW'e (byvoorbeeld "verpligting" en ''toestemming") en laastens epistemies-gebruikte MW'e is - 'n volgorde wat ook in Mandarynse Chinees, Moderne Grieks, Fins en Turks aangetref word (Papafragou 2002:189). Volgens Nuyts (2005:14) is die diachroniese evolusie ook dinamies > deonties > epistemies. Dat daar 'n verband kan bestaan tussen "metarepresentasie", hipotetisering, relativering en voorwaardelikheid, enersyds, en 'n latere stadium van denkontwikkeling, andersyds, lyk nie vergesog nie. Vir opeengestapelde MW'e beteken die toevoeging van elke MW dan ook steeds groter abstraksie van 'n vaste, interne kenmerk tot steeds meer omvattende kwalifisering en uiteindelik evaluasie.
16 Die imperfekvorm mog is verouderd.
17 Persoonlike mededeling deur JT Faarlund.
Doen dui op "resenseer" in hierdie konteks.
19 70x in ±9% van die TK
20 45x in ±21% van die TK
21 137x in ±10% van die TK
22 17x in ±10% van die TK
23 18x in ±20% van die TK
24 Omdat die TK nie met die oog op vergelykbare frekwensies ondersoek is nie, kan, wat die kombinasie van presens- en imperfekvorme betref, die volgende net tentatief opgemerk word. Dit wil voorkom asof die oorheersende frekwensieverhoudings die volgende is:
25 Gesamentlik in hoofletters benoem, byvoorbeeld moet en moes as MOET.
26 SAL sluit hier gaan in.
27 Die eerste posisie is 'n voorkeurposisie vir epistemies gebruikte MW'e en sou dus nie die voorspelling ontkrag nie.
28 Proposisies met negatiewe polariteit word nie in ag geneem nie omdat negasie vermoedelik die voorspellingsbeginsel ondermyn.
29 Uiteraard gaan dit hier, soos elders, net om MW'e in kernfunksie, en word gevalle soos Ek mag dalk net 'n goeie sielkundige moet gaan spreek (TK), waar mag epistemies is, uitgesluit.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License