SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue2Kontrastiewe en komparatiewe perspektiewe op die Afrikaanse en Nederlandse taal- en literatuurstudieConstructions with krijgen and kry. A comparison from a (diachronie) constructionist perspective author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.2 Pretoria Jun. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n2a2 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Die Wes-Kaapse Argief en die begin van Afrikaans

 

The Western Cape Archives and the beginning of Afrikaans

 

 

Helena Liebenberg

Tracing History Trust, E-pos: helena@tracinghistorytrust.co.za, E-pos: helena@taaloord.co.za

 

 


OPSOMMING

Vir die onderhawige ondersoek is gebruik gemaak van die getranskribeerde inhoud van etlike reekse 17de- en 18de-eeuse VOC-dokumente wat in die Wes-Kaapse Argief gehuisves word en sedert 2001 tydens vier omvangryke projekte beskikbaar gestel is en steeds word. Veral die taalmateriaal in die Resolusies van die Politieke Raad, Inventarisse, Vendusierolle en Dagregisters van die Kaapse kommandeurs en goewerneurs bied talryke voorbeelde van taalvorme wat toe gebruik is en behoue gebly het in Afrikaans. In hierdie opsig kan Afrikaans beskou word as bewarea van ou, onbekende of streekswoorde in hedentydse Nederlands. Talle Afrikaanse woorde is afkomstig uit die 17de-eeuse Nederlandse 'boeretaal'. Daar word ook gewys op die invloed van Wes-Europese streekstale, veral Platduits, op die vorming van dit wat later Afrikaans genoem is. Slegs 'n beperkte aantal woorde van Oosterse en Khoi-Khoi-herkoms kom voor, alhoewel Khoi-Khoi-plekname 'n besondere erfenis blyk te wees.

Trefwoorde: VOC, Wes-Kaapse argief, bewaring, digitalisering, transkribering, resolusies, inventarisse, vendusierolle, "Duitsch", boeretaal vs. Standaardtaal, leenwoorde, Franse Hugenote, etimologieë, Afrikaans as bewarea


ABSTRACT

The transcribed contents of a number of 17th and 18th century VOC document series vested in the Western Cape Archives were used in the present study. Since 2001 this information was made available during the execution of four extensive transcription projects, of which the VC Daghregister Project is still continuing. The linguistic material in the Resolutions of the Council of Policy, intestate inventories, auction rolls and journals of the Cape Commanders and Governors contains numerous examples of forms used at the time and which became part of the vocabulary of Afrikaans. The language today serves as conservancy of obsolete and dialectal words in modern Dutch. Many Dutch "boeretaal" words remained in Afrikaans. Other Western European dialects, especially Low German, also influenced the language. Although only a few Eastern and Khoi-Khoi borrowed words were noted, the numerous Khoi-Khoi place-names did then and still enrich the landscape.
The Western Cape Archives and the beginning of Afrikaans was the title of this keynote paper delivered at the 9th international congress ofthe Southern African Association for Dutch Studies. It is not a theoretical linguistic study, but presents historical language material extracted from documents of the Dutch East-India Company (VOC) written at the Cape of Good Hope and conserved in the Western Cape Archives.
The VOC collection is part of UNESCO's Memory of the World Register, which makes it obligatory to conserve the heritage and make it publicly available. Various projects were/ are run:
TANAP - Towards a New Partnership, which transcribed the Resolutions of the Political Council.
TEPC - Transcription of Estate Papers ofthe Cape of Good Hope (inventories and auction rolls, as well as muster rolls).
The VOC Daghregister Project - Transcription of the VOC Journals under the auspices of the Tracing History Trust. Journals missing from the Western Cape collection were photographed in the Nationaal Archief, The Hague, the Netherlands. The VC (verbatim copies) Daghregister Project - The documents were photographed and then transcribed. This project is still continuing.
Ever since the first Resolution had been recorded on board the Drommedaris on 30 December 1651, every important event at the Cape of Good Hope was documented until 16 September 1795 when the British first took over the Cape. The Resolutions were written in formal bureaucratic style. Nonetheless, typical Afrikaans forms can be seen, coexisting with many French forms that came to South Africa as part of the 17th century Dutch vocabulary. Here and there, the influence of sailors'vocabulary is clear.
The Estate Papers were written by trained scribes as well as "ordinary" people. Many Afrikaans words can be traced to the informal language of the latter rather than standard Dutch.
The VOC Journals were written by trained scribes, but in a relaxed style. An entry describing the weather was customary every day. Diminutives are markedly Afrikaans rather than Dutch and there are a few interesting slips of the pen.
All VOC officials had to know and use the 17th/18th century Dutch of their time; the Resolutions refer to this language form as "Nederduijtsch" or "Duijtsch". The Commanders and Governors wrote many documents themselves and were all Dutch mother tongue speakers, with only two exceptions. A secretary or "first sworn clerk" was responsible for the documentation in each of the various government departments, assisted by other scribes. The initial Dutch speakers were later joined by writers from the Low Dutch, German and Scandinavian regions.
Unwittingly, the authors of the Resolutions, Journals, Inventories and Auction Rolls recorded invaluable clues to the development of Afrikaans and the influence ofthe Khoi-Khoin, slaves from the East, German- and French-speaking people and people from Scandinavia. The paper traces various fascinating case histories of Afrikaans words.
When these original sources of historical language material are studied, it is clear that Afrikaans developed from 17th and 18th century Dutch and serves as a conservancy of forgotten, obsolete and dialectal Dutch words.

Key words: VOC, Western Cape Archives, Conservation, digitisation, transcription, resolutions, inventories, auction rolls, "Duitsch", Boeretaal vs. Standard, loan words, French Huguenots, etymologies, Afrikaans as conservancy


 

 

Ek het na 'n mirakel gestaar, na 'n glinsterende steen onder die sand, blootgelê deur 'n stormvlaag. Hier was iets so veraf, en tog so naby. Dit was iets wonderbaarliks op taalgebied. ... Ek het getuur na 'n poësie in die pragtige taal wat Afrikaans genoem word. (Uittreksel in Afrikaans van 'n onderhoud met Gerrit Kornrij deur Veltkamp-Visser, 2003)

 

1. INLEIDEND

Vir die onderhawige ondersoek is gebruik gemaak van gegewens wat deur die outeur as taalkundig interessant beskou en opgeteken is SLEGS uit getranskribeerde tekste van etlike reekse 17de- en 18de-eeuse VOC-dokumente wat in die Wes-Kaapse Argief gehuisves word en sedert 2001 tot op datum tydens vier omvangryke projekte beskikbaar gemaak is en steeds word, naamlik TANAP2 (2001-2003), TEPC3 (2004-2008), die VOC Daghregister Om te transkribeer beteken om op 'n langdurige ontdekkingsreis te wees: Wat selfs net die volgende sin gaan openbaar, is onbekend totdat die woorde op die rekenaarskerm verskyn. Daarom kan nie voorspel word wanneer watter taalverskynsel of gebeurtenis verwag kan word nie, want die inhoud is werklik geslote tot op die oomblik van ontsluiting deur transkripsie (die letterlike oortik van wat geskryf is).

Project4 (2010-2015) en die VC Daghregister Project5 (2016 -). Bronne wat in die Kaapse Argief ontbreek, is aangevul deur dokumente uit die Nationaal Archief in Den Haag.

 

 

Tydens die uitvoering van die projekte het duidelik geblyk dat die transkribeerders en redigeerders moedertaalsprekers van Afrikaans of Nederlands moet wees, aangesien hulle oor taalinsig en -begrip moet beskik om moeilik leesbare handskrifte korrek te transkribeer.

Afrikaanssprekendes kwyt hulle goed van hul taak omdat hulle verstaan wat hulle lees6juis omdat Afrikaans uit 17de- en 18de-eeuse Nederlands ontwikkel het, steeds in noue verband met moderne Nederlands staan en dien as bewarea van talle woorde wat in die VOC-dokumente voorkom, maar tans in Nederlands vergete, verouderd of streeksgebonde is. Die volgende is enkele van talle sodanige voorbeelde uit die Etimologiewoordeboek van Afrikaans7(EWA):

afdek (verouderd), aanteel (gebruik deur Van Riebeeck), bra (gewestelik Antwerps en Limburgs), flussies (verouderde Ndl. flusjes, ongeveer 1600), genant (naamgenoot, verouderd in Nederlands) en gesels (verouderd of gewestelike Nederlands).

 

2. DOELSTELLINGS

Die doelstelling van die artikel is om te wys op interessante taalmateriaal en nie soseer om sodanige gegewens te interpreteer nie. In hierdie opsig sluit die artikel aan by die hoofdoel van die voorgenoemde projekte, naamlik die beskikbaarstelling in die openbare domein van die handgeskrewe dokumente se inhoud in toeganklike formaat vir gebruik deur onder andere taalnavorsers. (Die transkripsie vind plaas in Microsoft Word met of sonder kodering en XML-omskakeling.)

Die artikel is dus hoofsaaklik daarop gerig:

  • om 'n oorsig te gee van getranskribeerde inligting wat interessant gevind is, sonder breedvoerige ontleding of taalteoretiese bespreking, hoewel die werk van Afrikaans-historiese taalkundiges indirek bevestig word;

  • om die voorbeeldmateriaal as illustrasie te laat dien van wat die navorser te wagte kan wees tydens die ondersoek van getranskribeerde tekste;

  • om die taalverhaal sodanig te vertel dat dit belangstelling in verdere navorsing oor onder andere die ontstaansteorieë van Afrikaans sal prikkel, en

  • om lesers bewus te maak van die waarskynlike woordwêreld waaraan die Kaapse inwoners tydens die VOC-tydperk blootgestel was en om die faktore wat daarvoor verantwoordelik was, uit te lig.

Al die inligting wat bespreek word, is getranskribeer en digitaal beskikbaar. Die tekste wat as CD-produkte bemark word, is reeds deur VIvA8 as korpus ontsluit, terwyl ook die Noordwes-Universiteit die materiaal in navorsingsprojekte oor Afrikaans gebruik, aangesien die formaat waarin die transkripsies gedoen word, onmiddellik as taalkorpus kan dien.

 

3. DIE WES-KAAPSE ARGIEF EN REKORDBEHEER

3.1 VOC-erfenis

Die VOC-versameling in die Wes-Kaapse Argief, bestaande uit dokumente en kaarte, vorm die bakermat van argivale inligting oor vroeë geskrewe Nederlands in Suid-Afrika en dien as primêre bron vir die geskrewe aanvangsgeskiedenis van die Kaap.

Die dokumentversameling word verdeel in drie hoofafdelings: die Politieke Raad (C.1-231), die Raad van Justitie (CJ9-reeks) en die Weeskamer (MOOC10-reekse), aangevul deur die Verbatim Copies- ofte wel VC-reekse (vgl. voetnoot 5).

 

 

Tydens reedsgenoemde projekte is die Resolusies, die MOOC8- en MOOC10-reeks van die Weeskamer, gedeeltes van die CJ-reeks van die Raad van Justisie en die VC-reeks, onder andere die Monsterrolle en Dagregisters, getranskribeer. Voorbeeldmateriaal is uit hierdie tekste onttrek.

3.2 UNESCO11

In Augustus 2004 word Nederland se VOC-versameling deel van UNESCO se Memory of the World Register met gevolglike erkenning aan rekords in die Nationaal Archief in Den Haag, en die argiewe in onder andere Kaapstad, Djakarta, Colombo en Chennai (Madras, Indië).

Op 6 April 2005 word die VOC-versameling in die Wes-Kaapse Argief amptelik deel van UNESCO se wêrelderfenis met die verpligting om die gesamentlike erfenis te bewaar én openbaar beskikbaar te stel.

3.3 Digitisering12 en digitalisering13

Hoewel argiefmateriaal tans veral met behulp van digitisering bewaar word, het die VOC-amptenare destyds al voorsorg getref dat die inligting in drievoud en op meer as een plek gehou word. Benewens die oorspronklike geskrifte wat gebly het in die Kaap as kantoor van oorsprong, is een kopie elk gestuur aan Nederland (Kamer Amsterdam of Kamer Middelburg) en aan Batavia as "hoofplaats" in die Ooste, waaronder die Kaap geressorteer het.

Die Wes-Kaapse Argief neem saam met die Nasionale Argief in Pretoria die voortou in die Suid-Afrikaanse argiefwese deur dokumentreekse en kaartversamelings volgens internasionale argiefbeleid tans met die beste toerusting te digitiseer.

Om hiertoe in staat te wees, gebruik die Wes-Kaapse Argief 'n Cobra V-skandeerder wat dokumente fotografeer, 'n Zeutschel-skandeerder wat onder andere die VOC-kaartversameling tot A0 skandeer en 'n tweede, kleiner skandeerder vir die digitisering van kaarte en dokumente groter as A4 en kleiner as A1.

4.1 Wanneer?

Elke belangrike gebeurtenis aan Cabo de Goede Hoop is deur die Politieke Raad laat dokumenteer: vanaf die eerste Resolusie op 30 Desember 1651 deur Jan van Riebeeck en sy skeepsraad aan boord van die Drommedaris tot die laaste Resolusie op 16 September 1795 met die eerste Britse oorname, waarin die voorwaardes vir oorname in Engels naas Nederlands opgeneem is.

Die Resolusies is verryk deur Dagregisters, op enkele jare na volledig. In die Bataafse tydperk (1803-1806) was die Kaap inderdaad weer Hollands. Ná die tweede Britse oorname in 1806 tot lank daarna is die dokumente steeds volgens dieselfde Nederlandse norme geskryf. Die redes waarom Nederlands behou is, is onbekend: Was dit om die amptenare en burgers nie te vervreem van die nuwe bewind deur Engels af te dwing nie? Of was dit bloot 'n ekonomies praktiese rede om die gevestigde administratiewe struktuur so min moontlik te versteur?

4.2 Waar?

4.2.1 Die Vierpuntfort

Tussen 1652 en 1679 is die dokumente geskryf in die Fort de Goede Hoop, aangevul deur dokumentasie uit Stellenbosch en enkele buiteposte.

Op Maandag, 8 April 1652 stap Jan van Riebeeck met die Fort se plan aan wal, vergesel van die mans op die Reijger, Drommedaris en Goede Hoop om die fondament te begin grawe - "100 coppen, behalven d' officieren, adsistenten, opperbarbiers & a." (C. 1).

Die seemanswoord combuijs klim saam van die skip af, want dit was reeds op die grondplan ingeskryf:

 

 

4. WANNEER, WAAR, HOE EN DEUR WIE

In 1656 verskyn combuijs die eerste keer in die Resolusies. In die Inventarisse is combuijs oor die algemeen gebruik, terwyl keuken selde voorgekom het. Die "plaaslike" skrywers was reeds bekend met combuijs, terwyl skrywers wat waarskynlik pas van Batavia of "patria" in die Kaap aangeland het die woord keuken gebruik. Of dalk het hulle die seemanswoord combuijs nog nie geken nie, of wou behoudend Nederlands wees deur met keuken te volstaan.

4.2.2 Die Vyfpuntkasteel

Van 1679 tot 1795 is die dokumente geskryf in die Kasteel de Goede Hoop, aangevul deur dokumentasie uit die distrikte, soos Stellenbosch, Swellendam, Drakenstein, die Land van Waveren en later Graaff-Reinet, asook buiteposte soos Saldanhabaai, Groene Kloof en Riviersonderend, en plekke soos Mosselbaai en Plettenbergbaai.14

4.3 Hoe en deur wie?

4.3.1 Hoe

Die VOC-dokumente is in 17de- en 18de-eeuse variëteite van Nederlands geskryf, aan die begin in Gotiese skrif, maar later toegankliker dog wisselend van moeilike tot makliker vloeiskrif. Selfs op skrif is daar gehuiwer tussen standaard- en boere-Hollands, hoewel die "standaardvorm" as meer beskaafd en die boere-Hollands as minder beskaafd beskou is:15

 

 

Die Resolusies is geskryf in formele, omslagtige amptenarytaal (Eng. officialese) met ellelange sinne, deurspek van Franse leenwoorde en dikwels moeilik om te begryp. Die Dagregisters daarenteen is in ontspanne, boeiende en dikwels poëtiese styl geskryf. Voorbeelde uit hierdie twee getranskribeerde reekse word in die artikel aangevul uit die Vendusierolle opgestel deur "opgeleide" skrywers, asook die Inventarisse deur sowel VOC-amptenare as "ingesetenen". Op afgeleë plekke en by gebrek aan 'n opgeleide skrywer moes die veldkornette en burgers self die pen opneem. Die oorspronklike inventaris is dan Kasteel toe gestuur waar dit deur die amptelike "schrijvers" gekopieer is. Sodanige oorspronklike of eerste inventarisse is van groot taalhistoriese belang.

4.3.2 Deur wie

Die getranskribeerde Monsterrolle bevat die name van alle VOC-amptenare, elkeen se plek van herkoms en plaaslike beroep. Die plek van herkoms dien as riglyn vir vaardigheid in Nederlands, of om te bepaal uit welke Nederlandssprekende of andertalige streke die mans afkomstig was. Uit onderstaande inskrywings van Mei 1657 is almal (nog) van die Nederlandse gebied afkomstig:

 

 

Die VOC-hiërargie word soos volg aangetoon:

  • Die Kaapse kommandeurs en goewerneurs was bykans almal Nederlandsmoedertaalsprekers, hoewel van verskillende streke. Daar was twee uitsonderings, naamlik Maurits Pasques de Chavonnes uit 'n adellike Franse Hugenote-familie16 en Jan de la Fontaine17 met 'n Franse pa en Nederlandse ma. Goewerneur Hendrik Swellengrebel18 se herkoms en taalgebruik word later bespreek.

  • Die gesagvoerders het dikwels self dokumente geskryf of aan 'n sekretaris gedikteer. So byvoorbeeld het Jan van Riebeeck van 30 Desember 1651 tot 29 Maart 1652 persoonlik die Resolusies aangeteken, maar toe die werksaamhede aan land begin het, het hy die taak aan 'n ander amptenaar oorgedra.

  • In die verskillende regeringsafdelings was 'n sekretaris of eerste geswore klerk, bygestaan deur assistentskrywers, verantwoordelik vir die dokumentasie. Daar was ook skrywers wat na verskillende belangepunte uitgeplaas is, soos die "Comp:s slaven [logie]", "int hospitaal", "op de Weeskamer", "int slagthuijs" of as "quarnisoens schrijver", "houtschrijvef'/"schrijver houtmagasijn". 'n Groot aantal amptenare is gewoon "schrijvers" genoem.19

  • Indien die plek van herkoms 'n aanduiding kan wees van moedertaalsprekers teenoor nie-moedertaalsprekers, blyk dat moedertaalsprekers van Nederlands aanvanklik die pen gevoer het. Later was daar ook skrywers uit veral Platduitse, Duitse en Skandinawiese gebiede.20

  • In 1794 verskyn 'n lys van die "Corps Pennisten onder commando van den Commandant van Reede van Oudshoorn" (M16), bestaande uit 180 man waarvan 100 gebore Kapenaars was, 55 Nederlanders, 22 Duitsers, 1 Skandinawiër en 1 Switser. Hulle taalgebruik, ook dié van die Kaapgeborenes,21 is minder opwindend, want dit is in (te) goeie 18de-eeuse Nederlands.

 

5. KANTAANTEKENINGE OOR TAALGEBRUIK

Vervolgens word verwys na enkele interessanthede wat uit bepaalde argiefreekse getranskribeer is:

5.1 Taalgebruik in die Resolusies22

5.1.1 Seemanswoorde

Op die skepe moes die combaars, kooigoed en combuijs sorg dat die ontberings van geharde matrose tot jong hooplopers minder fel/hel was; by die "rheede" het hierdie items en hulle benamings saam met die seemanne aan wal gegaan en is by die Kaapse strooidakhuisies en ander plekke ingedra. So beland selfs kok en koksmaat naderhand in die combuijsen (1709) van die "hospitaal" en "slavenlogie".

5.1.2 Bokkems en biltong

In Afrikaans leef Nederlandse woorde soos pannekoek en bokkems, naas biltong (1769)23 wat 'n vroeë Afrikaanse eieskepping was, waar bil- "boud" (boudvleis gesny dat dit soos 'n beestong lyk). Die Nederlandse meervoudsvorm billen is dikwels gebruik: In 1693 is 'n burger wat die jaarlikse militêre diensplig probeer ontduik het, "met een voetschop onder sijn billen van 't vaandel gejaagd" - dié soort straf is gereeld toegedien.

5.1.3 Uitdrukkings

Idiomatiese uitdrukkings is skaars, maar darem: Die Nederlandse eed van hoe waar ende waarachtigt! (1717) lei sekerlik tot die Afrikaanse so waar as wragtag! In 1733 wou Engelse duikers by Saldanhabaai vrag uit die gesinkte skip Rotterdam berg, maar daar kom toe fout, "waardoor de pont hol over bol op strand soude worden gesmeeten", in Afrikaans holder-stebolder.

5.1.4 Franse leenwoorde

Besonder baie Franse leenwoorde kom voor, onder andere werkwoorde soos separeeren, compareeren, persisteeren en emploijeeren, asook selfstandige naamwoorde soos comptoir, fabriek en relatie, waarvan sommiges toe lank reeds in Nederlands bestaan en in Afrikaans oorgedra is.

5.1.5 Oor -age en -je

Die Nederlandse leenwoorde op -age uit Frans kom dikwels voor, óf as -agie soos in leckagie, óf as -asie soos in leccasie, met laasgenoemde vorm wat in Afrikaans gevestig geraak het. Vergelyk verder timmerasie en occasie (albei 1680), asook bosgasie (1712). Opvallend is die Nederlandse meervoud-verkleiningsuitgang -jes wat geskryf is soos later in Afrikaans gebruiklik, naamlik bodempies, lijsies en 5ossiesmans (almal 1712). In 1733 doen Francois Guillaumet (stamvader Gilliomee) verslag oor sy poging om 'n sykultuur aan die Kaap te vestig. Na die betrokke seisoen het hy net "omtrent drie quart pont eijertjes overgehouden" - eiertjes soos in Afrikaans, want in Nederlands moes dit eitjes gewees het.

5.2 Taalgebruik in die Dagregisters24

5.2.1 Weerwoorde

Die eerste en dikwels enigste daaglikse inskrywing handel oor die weer en natuurgesteldheid: sonskyn en 'n ligte briesie, teenoor stormwinde, haelbuie, donder en blitse met die werkwoord "geonweert" tussenin; stortreën, droogtes en gepaardgaande peste en plae; meteoriete, selfs 'n komeet, aardbewings - ja, alles.

Opvallend is beskrywings soos "lievelijke sonneschijn", "vlaeghie soeten regens" (1695). Dikwels het selfs die mitologie bygekom: "Quam Phoebus uijt den schoot van Aurora soo helder en so claar" (1716). Ongure weer was "morsig", "droevig", "slordig" of "roesemoesig" (1724).

5.2.2 Verkleinwoorde

Die volop gebruik van verkleinwoorde is opvallend vanaf 1680 met veral die -ie soos in Afrikaans25 (vgl. 5.1.5), in plaas van die -je soos in Nederlands: stofregentie, windtie, voordeeltie en verrekijkertie (1687 en 1692). Vergelyk ook scheepie, lughie, vlaeghie (1695), eilanties, boekie en boonties (1699). Hierdie tendens het voortgeduur tot in die 1720's.26

Op 4 Maart 1722 vertel Arij Dirksz: hoe hy gered is nadat sy skip gesink het: "wanneer ik mijn eers op twee plankies begaf' (VC22). Sy plek van herkoms, naamlik Zevenhuijsen, omgewing Schieland, Rotterdam, Suid-Holland, dui waarskynlik een gebied aan waar dié verkleinwoordvorms gebruiklik was en waarvandaan dit die Kaap bereik en hier gevestig geraak het.

5.2.3 Verskrywings

Die skrywer moes luister wat gedikteer word en teen groot spoed neerskryf, sonder tyd vir (oor)dink. Dit is onduidelik of die volgende aan die dikteerdeer of die pennis toegeskryf moet word, hoewel die eindproduk 'n glimlag ontlok:

  • Die skip Voetboogh word tussen die een vaart en die volgende sommer Handboogh, terwyl die Meermin in die 1712-dagregister van geslag verander en as Meerman anker gooi.

  • Waarskynlik onder invloed van St. Helena en al die ander heiliges word die plek Sandanhabhaij toe St. Aldanhabhaij, die skip Centaurus is herdoop tot St. Taurus en Zanzibar word skielik sommer St. Zaber.

  • Laaste maar nie die minste nie: Caap de Loop blyk na vele kopkrap Guadeloupe te wees.

5.3 Taalgebruik in die Inventarisse27

Die Weeskamer wat in 1673 gestig is, hanteer boedelinventarisse en -vendusies, wat deur mense van verskillende stande en grade van geletterdheid (op)geskryf is.

In die 17de eeu was die afstand tussen beskaafde en boere-Hollands nog klein. So byvoorbeeld is die keuse van eu wat oorgeneem is in Afr. heuning en seun minder beskaafd geag as die oo in Ndl. honig en zoon. Talle Afrikaanse woorde is dus afkomstig uit 17de-eeuse boere-Hollands.28 Vorme wat in 17de-eeus gebruiklik was en tans in Afrikaans aangetref word, is die kort o soos in botter en skottel x Ndl. booter en schootel (vgl. 4.3.1). Die VOC-skeepsnaam Botterblom (1654) is verdere bewys dat Ndl. botter destyds heel gebruiklik was.

Twee voorbeelde:

(1) 17de-eeus, beskaafde Hollands

As VOC-amptenaar skryf en onderteken die Nederlander Jacob Lever onderstaande boedelinventaris; sy taalgebruik en spelling is kenmerkend van goeie VOC-Nederlands:

 

 

Dit is die inventaris van die "landbouweresse Susanna Putters", weduwee van wyle "landbouwer Hans Kunen". Volgens die VOC-monsterrolle was die Duitser Hans Kune van Maagdeburg afkomstig. In 1702 was hy soldaat en in 1709 "wagenrijder", waarna hy vryburger word en twee plase nalaat: Kunenburg en Stetteijn (lg. word tans genoem Statteijn, geleë naby Villiersdorp in die Overberg).

(2) 17de-eeus, boere-Hollands

Vergelyk hierteenoor die taalgebruik van die inventaris wat op Stetteijn deur die burgers Willem van der Merwe en Sijbrant Vermeulen self opgeneem is.

Stamvader van der Merwe was van Oud-Beyerland (tussen Dordrecht en Rotterdam), en Sijbrandt was die seun van stamvader Jan Willemsz: Vermeulen van Utrecht.

 

 

Die mans se spelling is sekerlik 'n weerspieëling van hulle spreektaal, soos "Prisendend" (President), "in" (en), "snappaan" (snaphaan), asook "teekeitel" (teeketel) en "Uili" (Julie). Die inventaris bevat voorbeelde van sogenaamde boere-Hollands soos die kort o in "bottervaaten" en "schottel", asook eu in "schoenseun". Die oe in "schoenseun" is in die Kaap en in Kaaps steeds gebruiklik.

Vergelyk die waarskynlike dialekuitspraak vir ui soos in "seuijg" (suig), "deusend" (duisend), "heuijs" (huis). Volgens Kloeke (1950:48, taalkaart HUIS) val die fh^eus-gebied in Frankryk. Kan die spelling dui op die invloed wat Hugenote afkomstig uit wat tans Frans-Vlaandere is, op hulle buurmanne gehad het? (Vgl. 6.5.2 vir Jacques Delport se inventaris.) Vergelyk ook "3 koppies en 3 pierinc":

 

 

5.4 Taalgebruik in die Vendusierolle29

Soos ook die geval met die ander reekse, word slegs die opvallendste en interessantste voorbeelde uit die getranskribeerde vendusierolle aangehaal.

5.4.1 Eksotiese tekstielsoorte uit die Ooste

Daar was lyste met knope, sierband, trosse "garens" en kant. Wat veral opgeval het, was eksotiese materiaalsoorte soos "Persiaanse en Chinese sijde, geblomde armoesijnen,30 Suratse chitsen, baftas, roemaals", asook stowwe soos "bethille" (soort moeselien, linnesoort), "mourisse" (blou materiaal vanaf die distrikte Nellore en Cantatur, Indië) en "salampoerisse" (soort sis).

Die geverfde katoenmateriaal, genaamd "sitsen", was baie gewild. Ndl. sits verwys na fyn bont katoen uit Oos-Indië met blomme en figure wat met die hand daarop geskilder is. Afr. sis kom uit Ndl. sits "bont katoen" van chits (4 Februarie 1659, JvR, DR131) uit Eng. chintz, mv. van chint (1610's) uit Singalees chint, Hindi chimt "bont doek" uit Sanskrit chitra 's "helder".

 

 

5.4.2 Veldkornette en burgers aan die pen

In die afgeleë distrikte is 'n inventaris en vendusierol dikwels deur die betrokke veldkornet opgestel en deur familielede of vriende onderteken, soos die volgende:

 

Transkripsie:

 

 

Soos die "ingesetenen" op die voorposte gepraat het, het hulle waarskynlik geskryf, vandaar reeds Afrikaanse woordgebruik en grammatikale keuses. Die vendusierolle bied 'n groot hoeveelheid woordmateriaal, onder andere meervoude en verkleinwoorde, met os, osse en ossies wat die eerste keer voorkom soos hieronder aangeteken:

 

 

Vergelyk veral die Afrikaanse meervoudsvorme in onderstaande lys wat reeds in 1749-1757 gebruik word:

vloerstene, 2 beschote leere (Ndl. ladders), ophaal gordijne, bakke, racke, latte en vorme, 1 sak boone, 1 parthij jukscheeje, calbasse, pijpedoppe en knoope, knipmesse, lappe, linte in zoort, portraite, manschoene, castrolle, asook 1 partij rouwgespes (Ndl. gespen), asook Afrikaanse vorme soos vleis in vleiskroon, pap in papcom, milies in 2 sacken met milies en alwijn (Ndl. aloë) (MOOC 10/6, 7, 8).

 

6. VERSKEIDENHEID TONGVALLE

6.1 VOC-taalbeleid

Amptelik het die 17de-eeuse Nederlands, waarvan 'n standaardvorm die ideaal sou wees, binne én buite die VOC se struktuur en administrasie gegeld. Al die amptenare, soldate en skeepslui, asook slawe en vryliede moes dit praat of aanleer en na die beste van hul vermoë gebruik. Jan van Riebeeck het die tradisie gevestig om "Hollands" te praat. In die Resolusies word slegs die benamings "Nederduijtsch" en "Duijtsch" vir die taalvorm van daardie tyd gebruik. In die 1686-dagregister verwys "Duijts" egter na 'n egte Duitser in die sinsnede "een Duijts karel die wel swemmen konde" (9 Aug.).

6.2 Aanraking met die Khoi-Khoin

6.2.1 Kennismaking en daarna

Vanaf Maart 1647 het die onderkoopman en 60 matrose van die gestrande skip Haerlem 'n jaar lank in Tafelbaai oorleef. Hulle het op goeie voet met die Khoi-Khoin verkeer en onder

Op 10 April 1652, vier dae na hulle aankoms, maak Van Riebeeck en sy geselskap kennis met die mense van "Saldinia", onder andere die Khoi-Khoi-tolke Herrij (die Strandloper) "wat Engels spreeckt" (JvR DR1, 1 Okt. 1652), Claes Das, Doman en die dogtertjie Eva (Krotoa), later ook "tolkinne" genoem. In 1659 het sy reeds in die Fort gewoon "om vorder te leeren leesen en bidden" (JvR DR2, 3 Jan.).

Van Riebeeck het 'n doelbewuste poging aangewend om kommunikasie te bewerkstellig met behoud van goeie betrekkinge as oogmerk. In die Resolusie van 24 September 1652 staan geskryf: "ende een Hottentoos jongen met bewillinge van sijn ouders mede te laten gaen, om ondertusschen onse tale te doen leeren, ende alsoo metter tijt tot tolk te mogen gebruijcken" (C. 1).

Hoewel daar kommunikasie tussen die Khoi-Khoin en die VOC was, is Khoi-Khoin-individue wat Nederlands deur kontak gehoor, aangeleer en verstaan het, onontbeerlik en is veral op togte na die binneland as tolke gebruik. Dit is onwaarskynlik dat VOC-amptenare inheemse tale magtig was. Vergelyk onderstaande verhaal van taalverwerwing soos in die 1686-dagregister aangeteken:

Op die terugreis na 'n ekspedisie na "Namaquasland" besoek Simon van der Stel en sy geselskap die Gregriquaas. Hulle gee aan hom 'n gevange "Hottentot" van die "Cammesonse natie", wie se grense strek vanaf die Buffelsrivier tot aan die Vegeti Magni (Latyn vir "groot rivier"). Die man is skrander en dra goeie kennis van sy land en omstreke. Ten einde inligting hieroor te verkry, moes met hom gekommunikeer kon word: "Waarom hem d' E: Heer Commandeur sooveel mogelijck in de Duitsche taal laat onderwijsen en op de Hollandsche wijse kleeden" (26 Jan. 1686) (VC10).

6.2.2 Leenwoorde

Daar verskyn drie Khoi-Khoi-woorde33 in die VOC-dokumente wat tydens voorgenoemde projekte getranskribeer is, naamlik dacha/dacka, caros en kirrie. Die datums toon aan wanneer die betrokke woord die eerste keer in die getranskribeerde materiaal teengekom is en nie noodwendig die eerste keer dat dit in die omvattende VOC-versameling neergeskryf is nie.

Afr. dagga

Verwys na óf Indiese hennep wat reeds voor 1652 deur Portugese na Suid-Afrika ingevoer is, óf wilde dagga. Uit Khoi-Khoi-tale. In Nama daxa-b "twak" teenoor !amaxa-b saamgetrek uit !am-"groen" en daxa-b "twak"; daxa-b wsk. uit Arabies duxan "tabak" wat dui op kontak tussen Arabiessprekende en die Khoi-Khoin. Vgl. dacha (1658, Resolusies) en dacha/dacka (1712-dagregister).

Afr. karos

Verwys na "skaapvelmantel, velkombers". Uit Khoi-Khoi caro-s, karo-s, cro-s of kro-s, wsk. die verkleinwoord van Nama kho-b 'vel'. Op 6 Februarie van die 1714-dagregister word berig van 'n weggeloopte slaaf wat gevang is omdat hy "den Hottentot Jantie door de caros, en cap:tn Prins zijn dogter door het been geschooten heeft".

Afr. kierie

In die betekenis van 'n langerige, dun stok, dikwels met 'n knop aan die punt uit Khoi-Khoi karrie, keeri(e), keree, herrij, kierie, kirri, kirrij of kurie. Op 27 November van die 1701-dagregister word die volgende berig: "door dezelve Hottentots met kirries of stokken is doodgeslagen".

6.2.3 Eerste voorbeeld van reduplikasie?34

'n Waarskynlik belangrike taalvonds is in die 1708-dagregister aangetref (kursief, onderstreep):

 

 

Enkele vrae

Is die Khoi-Khoi s.nw. sam sam "vrede" dalk die eerste s.nw.-reduplikasie35 op skrif? Hou dit verband met Afr. saam-saam, dus "almal saam" met die bygedagte van "in vrede verkeer"? (Ndl. samen, ook saam, is saamgetrek uit te en zamen "bijeen, in elkanders gezelschap" (WNT).) Is Afr. saam-saam deur die Khoi-Khoi-reduplikasiepatroon versterk? Kan dit wees dat die Khoi-Khoin in vervloë tye die Nederlandse woord saam by verbyvarendes gehoor het, die betekenis ervaar het as "vrede" en dit as leenwoord geredupliseer het? Om hierdie en soortgelyke vrae te kan beantwoord, sal beslis verdere navorsing vereis.

Hedentydse gebruik van sam sam

Sylvia36 en haar vriendinne, almal Xhosasprekers, maak beurte om maandeliks by te dra tot 'n spaarplan, en wanneer dit die maand jou beurt is, ontvang jy alles wat "saamgegooi" is, dus die sam sam (wsk. uit Afr. saam-saam).

Volgens die Xhosasprekende mnr. Thembile Ndabeni, oud-onderwyser, wat by die Wes-Kaapse Argief werksaam is, bestaan die woord sam sam nie in sy taal nie en hy ken dit glad nie; daar is wel 'n Xhosafamilie in Llanga, Somerset-Wes met Sam Sam as patroniem.

6.2.4 Plekname

'n Baie belangrike Khoi-Khoi-woorderfenis, toe en tans, lê in Suid-Afrikaanse plekname, waarvan onderstaande uit Raper toegelig word (1987):

Die volgende plekname is afgelei uit stamname: Namakwaland uit "Namaquas" (1659) en "land"; Obiekwaberge uit "Obiquas" (1676) en "berge"; Outenikwaland uit "(H)outeniquase" (1690) en "land", en Gamtoosrivier uit "Gamtouers" (1710) en "rivier".

Vergelyk ook Goudini "bitter/wildeheuning", "heuningbier"; Hantam uit heyntame, 'n eetbare wortel (Pelargonium bifolium); Camdebo(s) "groen holte/gat" (seekoeigat); Karoo (Caro, 1794) "hard", "droog"; Tsitsikamma (Citzij kamma, 1789) "waters begin", verwysend na die hoë reënval en talle strome en riviere in die betrokke omgewing.

6.3 Slawe, slavinne en vrywording

Die slawe wat na die Kaap gebring is, was veral afkomstig van Indonesië, Bengale (Noordoos-Indië), die Kus van Koromandel (Suid-Indië), Maleisië, Madagaskar en die kuste van Afrika, onder andere Guinee, Angola en Mosambiek.

6.3.1 "De Neederduitsche Taal"

Kommandeur van Riebeeck was onder streng verpligting om toe te sien dat niemand veral Portugees, die lingua franca in Asië, met slawe praat nie, maar slegs die "Neederduitsche Taal". Sy vasberadenheid blyk uit die volgende:

Reeds op 17 April 1658 is begin met skoolonderrig vir die "Angoolse Compagnies-slaven ende -slavinnen, per Amersfoort uijt de Portuguese prijs becomen". Die slawe is in die voor- en namiddag onderrig deur sieketrooster Pieter van de Stael37 van Rotterdam, wat goed opgelei was om die leerlinge38 regte egte "Hollants Nederduyts" te leer lees (JvR, DR1).

Uit die volgende blyk dat Nederlands-taalvaardigheid ook vir die huwelik belangrik geag is:

Op Saterdag 6 Julie 1658 word toestemming verleen tot Jan Sacharías van Amsterdam en Maria van Bengalen se huwelik toe Jan haar "transport van vrijcopinge" kon toon EN "also oocq verseeckert dat voorsz: Maria de Nederduytse tale volcomentlijcq niet alleen verstaet, maer oocq duydelijcq spreeckt" (JvR, DR2).

Die Kompanjieslawe se kinders het onderrig in Nederlands ontvang, hetsy in die slawelosie of in "de Duijtsche schole" (Des. 1676 en 1 Jan. 1677, C. 10). Uit die Resolusies blyk dat die slawelosie se "schoolmeesters" die "Neederduijtsche Taal" volkome magtig was, soos Hans Jacob Jurgens van de Caab (m.a.w. Kaapsgebore) wat in 1744 aansoek doen om vrygestel te word (C. 122); hy kon Nederlands vlot praat en was toe reeds omtrent 15 jaar skoolmeester. Een vereiste om uit slawerny vrygestel te word, was juis die bewys dat die aansoeker die "Neederduijtsche Taal" volkome magtig was.

6.3.1 Nicolaas Ondatie

Dan was daar ook Nicolas Ondatie, gewese kassier, tolk en St. Thomas Christen39 van Colombo. Weens 'n mindere oortreding is hy in 1727 Kaap toe verban waar hy in 1737 oorlede is. Hy was 'n geleerde en opgevoede man en het vlot Nederlands geskryf en daarin onderrig.

 

 

In sy miniatuurgrootte "Memorie Boeck" maak Ondatie in 1733 en 1736 'n lys van sy skoliere met die volgende vanne, getranskribeer soos geskryf: Fori, Leries, Fose, Malerbe, Radijn, De Jager en Haarhoff.

'n Versameling Singalese briewe deur Ondatie in die Kaap en sy familie in Colombo, vorm deel van sy Kaapse argieflêer (MOOC14). Een daarvan is geadresseer aan: "Monsieur Nicolaes Ogendatie, scool meester tot Cabo de Goede Hoop" waar die sc in "scool" uit Colombo, Indië ooreenstem met die Skandinawiese sk (vgl. 6.4.3), wat in Afrikaans die norm geword het.

6.3.2 Woorde uit die Ooste

'n Hele aantal Oosterse leenwoorde, veral Oosterse kos-, groente- en vrugtename wat ook in Afrikaans voorkom, word in die getranskribeerde tekste gevind.

In die Resolusies verskyn onder andere piesang (1661); atjar, baadjoe, bakkeleien, blatjang, borrie, kiaat soos in "kiate" of "jatij plankjes" (1709); ook lemun, piekel, piering (1709). Oosterse woorde kom ook in die Inventarisse en Vendusierolle voor.

Vervolgens word enkele voorbeelde40 bespreek:

Afr. amok

Uit Ndl. amok (1622, 1624) uit Maleis amo(e)k wat beteken "verblind deur raserny", aanvanklik vanweë opiumgebruik. In die 1713-dagregister het drie slawe, waaronder Trijntje, saamgesweer om 'n moord te pleeg. Hulle het "amok" as wagwoord gebruik om mekaar in die nag uit te ken.

Afr. paai

Ou kêrel. Uit Ndl. paai (al Mnl.) "vader", "pa" óf uit Ndl. seemanstaal pay (1675), óf uit Mal.-Port. pay, Port. pae "pa". Ndl. paai en Mnl. pade kan daarmee verband hou. In 1685 was paai, veral as ouwe paai, al 'n gewone woord in die Hollandse volkstaal. In verbinding met 'n eienaam was paai 'n eerbiedwaardige aanspreekvorm vir 'n ou man asook 'n ou, bevare matroos, soos Paij Isak in die aanhaling "sijnde een oud man, met namen Paij Isak" (28 Jan. 1689-joernaalinskrywing tydens 'n landtog, opgeneem in die 1689-dagregister). Paij Isak is gered nadat sy skip by Terra de Natal vergaan het.

 

 

Afr. tronk

Die koloniaal-Nederlandse woord tronk (1663) kom uit Port. tronco "blok waarin voete van misdadigers gesluit word", asook "gevangenis". Die Boegies- en Sunda-slawe aan die Kaap gebruik waarskynlik tarunka uit Port. tronco, wat die gebruik van tronk plaaslik kon versterk het. Mauritius was sonder 'n "gevangenhuijs", gevolglik is die bandiete snags in "een tronk gesloten" (1698-dagregister). Trijntje wat 1713 amok geroep het, se juffrou het haar in die "tronk heeft laten setten", dus in die gevangenis.

6.4 Germaanse invloed anders as Nederlands

6.4.1 Vernederlandsing

In navolging van die VOC-taalbeleid dat die spreektaal so na moontlik aan "Nederduijtsch" moes wees, het die amptenare dikwels name vernederlands. Veral Duitse name en vanne is aangepas: Johann Heinrich Bebler wat self so geteken het, word Jan Hendrik Pepler, terwyl Wilhelm Holtzhausen in een resolusie Willem Houthuisen genoem word (1744). Vyftig jaar later (1797) word Houthuijsen selfs nog in 'n vendusierol geskryf: "Willem Houthuijsen d' oude" (MOOC10/25.6).

Ook Franse mansvoorname is vernederlands en bestaan steeds in Afrikaans naas die oorspronklike vorm: Jean x Jan of Johannes, Charl x Karel of Sarel, Pierre x Petrus, Frangois x Frans, Guillaume x Willem en Jacques x Jakobus. Dieselfde geld Hugenote-vrouename.

6.4.2 Duitse taalgebiede

Europese nie-moedertaalsprekers soos die getalsterke en sosiaal-invloedryke VOC-dienaars uit die Duitse taalgebied, waaronder Platduits,41 het beslis 'n bydrae tot Afrikaans gelewer. Volgens Van Rensburg (1968:46-47) is daar in die Platduitse taalgebied vorme wat net so in Afrikaans voorkom, onder andere gedoen, gesterf, geval, hond, lammer(s) en gister.

Vergelyk verder die hedentydse Platduitse sin: "Bannig ist ja wohl so 'n Allerweltswort" (sien 7.2), waar "so 'n" ooreenstem met die volgende voorbeelde uit die 1689-dagregister, naamlik "een soo 'n harde wind" en "soo 'n geweldighe stroom",42 wat ook in Afrikaans neerslag gevind het.

Die geletterde Duitsers was goeie administrateurs en onontbeerlik vir ordelike regeringsbestuur aan die Kaap. Hulle was Lutherane, soos die Skandinawiërs ook, en het sonder ophef 'n belangrike sosiale invloed uitgeoefen. Dikwels was hierdie stamvaders ook bevelvoerders in die milisie, wie se taalgebruik hulle ondergeskiktes kon beïnvloed het. Daar was ook 'n groot aantal Duitse soldate aan die Kaap (vgl. die VOC-monsterrolle).

Hendrik Swellengrebel se taalgebruik pas hier in: Sy oupa Heinrich is in 1626 in Stettin,43Pommere gebore. Sy pa Johannes is in 1671 in Moskou gebore en trou in 1699 aan die Kaap met Johanna Cruse. Haar pa was Duits en haar ma Nederlands. Hy was die enigste goewerneur wat aan die Kaap gebore is.44

Swellengrebel was die eerste geswore klerk en skrywer van die 1721 -dagregister, waaruit onderstaande lys woorde met onder andere kenmerkend Duitse kort klinkers, aangeteken is (eers sy woord, dan die Nederlands):

 

 

Aansluitend hierby is die volgende verslag in die Nederlands deur die Duitser Magnus Pietersen. In die 1672-monsterrol verskyn sy naam as "Magnus Pietersen, soldaat"; in 1693 en 1696 word hy gelys as "Magnus Pietersz: van Lintsdorp/Linsdorp, sergeant"; in 1699 is sy plek van herkoms "Zinsdorp"; in 1703 (laaste inskrywing) is hy genoem "Magnus Pieterse van Lintsdorp, gewesen sergiant" (afgetredene). Hoewel Linsdorf 45 tans deel is van Frankryk (streek Grand Est, departement Haut-Rhin, wyk Altkirch), is dit op die grens met Duitsland en was in die 17de-eeu deel van die Duitse spraakgebied. Vergelyk die onderstreepte woorde in onderstaande kursiewe teks:

Saturdagh den 18:n Maij 169746

Op van dage soo bekomt den Wel Ed: H:r Gouverneur een rapport briefken van den serjant Magnus Pietersz: die als voors: met 12 compagnies dienaren na de Hottentotse capitain Claas was afgesonden, ter oorsake als hiervooren bereets is gementioneerd. Zijnde het rapportbrievken van volgende inhoud:

Rapport aan den Ed: Heer

Als dat ik vier dagen alhier bij de craal gestaan en hebbe, capitain Claas en den Ouden Heer te rede gesteld, waarom sij den capitain Coopman de 5 craallen heb genomen, maar ik kan geen antwoord van hem krijgen, niet minde dasgeraupte goed, maar hald ons op van een dag toe den anderen, als gel: aan den Hoch Ed: Heer order stellen, wat ik my heb te verhallen. Verblijve den Hoch Ed: Heeren onderdanigster dienaar (was geteikend) Magnus Pietersz:

Die volgende is Duitshede in Pietersen se Nederlands:

 

 

6.4.3 Skandinawiese invloed

Die volgende is die bekendste Afrikaanse stamvaders49 wat uit Skandinawië Kaap toe gekom het: ses van Deense herkoms (Griessel en Weidemann van Kopenhagen, Pansegrouw met 'n Deense pa, Schoombee van Koningsdal, Grove van Viborg in Jutland en Knoesen/Knoetze van die eiland Fin/Fünen), vyf van Sweedse herkoms (Bergh, Cornelissen en Toerien van

Gotenburg, Erlank van Uppsala en Tregard/Trichardt/Trigardt van Synnerby) en twee van Noorweegse herkoms (Brand Robbert Roberts en Oelofse van Christiana, tans Oslo).

Die sk- wat kenmerkend van Skandinawiese tale is, bestaan in Afrikaans. In Nederlands en Duits word sch- gebruik, hoewel die uitspraak verskil: Nederlands [sx] x Duits [f]. In die Inventarisse kom sk- verspreid voor, soos in gereetskap (1693), maatskappije (1696), skoenen (1707), skietloot (1714), skaade (1715) enfiskaal (1716). In al die gevalle was die sekretaris egter 'n Nederlander, naamlik Coopman, Van Kervel en Van Pollinchoven, waaruit afgelei kan word dat ek ook in die Nederlandse-spraakgebied gebruik is.

In Afrikaans word die vnw. ek gebruik, teenoor Ndl. ik en D. ich. Die vnw. ek kom voor in Platduits en veel vroeër in Oudnoors50 (vgl. Indogermaans *eg51). In die Resolusies kom ek52 slegs vier keer voor, gebruik deur vier amptenare afkomstig van onderskeidelik Amsterdam, Mitau, Wildhausen en Gotenburg - dus oor 'n heel verspreide gebied en nie beperk tot sekere streke nie.

6.5 Die Hugenote en "Duijtsch"

Die Franse Hugenote was die enigste Europese groep sprekers van beduidende grootte aan die Kaap wat 'n Romaanstalige agtergrond gehad het.

6.5.1 VOC teen groepvorming

Die Hugenote woon veral in die "Fransche Hoek", aanvanklik Olifantshoek genoem. Die hoofstroom vlugtelinge kom in 1688 tydens Simon van der Stel se bewind in die Kaap aan. Omdat hy groepvorming wou verhoed, gee hy in 1689 opdrag dat hulle "vermengd met Duijtsche natien ... mogen woonen ... omtrent 150 koppen, so mannen als vrouwen".

In die 1692-dagregister verskyn 'n lys van vryburgers wat moes omsien na die paaie in "Drakenstein, Perelen Stellenkeur", asook die driwwe oor die "Berg Rivier". Hieruit blyk dat Van der Stel se uitplasingsbeleid suksesvol was, met die Franse (kursief) wat verspreid tussen die Nederlanders en Duitsers gewoon het:53

Jan van Oldenborg, Hendrik Thieleman, Hendrik Venter, Roelof Pasman, Weimer Pasman, Jacob de Savoije, de weduwe Ekhof, Roelof van Wijk, Arij van Wijk, de twe Fransoisen boven Savoijen, Pieter van der Bijl, Abraham Diemer, Maarten van Staden, Jacobus van der Heiden, Frangois Bastiansz: ande Perel, de weduwe van den overleden Pieter Jansz van Kalais, de soon van d'opgemelde weduwe, Pieter Meijer, Jan Duran, Willem Basson, Jacobus van As, Andre Gauche, Matthijs Vrijhagen, JanManu, Hercules du Pre d'oude, Thomas Monk, Pieter Andriesz:, Christopher Snijman, Ernst Frederig Walter, Arij Lekkerwijn, Jan Claas Mulder, Jan le Long54 met de Fransman naast hem wonende (NA10717).

6.5.2 Taalvaardigheid

Wat die eerste geslag Hugenote betref, was daar drie taalvaardigheidsgroepe: een-, twee- en meertaliges.

Eentaliges

Eentaliges soos Pierre Joubert (1663-1737) van La Motte-d'Aigues het direk uit Frankryk gevlug en moes Nederlands toe eers aanleer. Vergelyk die taalgebruik in sy ontwerp van 'n oond (MOOC14/5):

 

 

Transkripsie van teks en die "vertaling" daarvan:

Links bo: geheele oofent [hele oond]

Regs bo: Ezerns Roster [ysterrooster]

Onder, links: registers omme het vuur te doen mehr branden, [registers om die vuur meer/beter te laat brand

onder: bovenste gedelde van den ovendt [boonste gedeelte van die oond]

regs: het gadt waar de koelen worden en germotten en de kroger geset / een [die gat waar die kole ingegooi en die vuur? gemaak word/ 'n] Ezer om herligerde voor het baarsten van den ovendt [yster omheenleggende vir die bars van die oond (om te verhoed dat die stene van die hitte bars)]

By wie het Pierre Joubert leer "Duitsch" praat? Want ook hy gebruik "roster", "gedelde" en "koelen", vorme soortgelyk aan die taalgebruik in Kunen, Delport en Swellengrebel se geskrifte. Dalk is sy "in germotten" 'n foutvorm vir Ndl. in en gemokeren "ingegooi"?

Tweetaliges

Daar was 58 tweetaliges (Frans en Nederlands) afkomstig uit die historíese Vlaandere, huidige Frans-Vlaandere, Rysel en Calais.

Uit die volgende briefie deur die tweetalige Jacques de la Port van Ryssel blyk dat sy taalgebruik nie soveel beter as dié van Pierre Joubert was nie.

 

 

In Drakenstein het die Franse, Nederlanders, Duitsers en dalk selfs 'n verdwaalde Skandinawiër, sekerlik mekaar se taalgebruik beïnvloed, soos blyk uit die volgende:

Delport gebruik sk- in "skoonsoon" en heus- in "heusvrou" (vgl. Kloeke se HUIS-taalkaart, 5.3). Sy gewonlige met die kort o herinner aan Swellengrebel se Nederlands. Daarby gebruik Delport "Weesmeesters" (soos Afrikaans) x Ndl. "Weesmeesteren" en pas die Franse name en vanne aan: Jacques de la Porte word "Jacob Delport" en Pierre Jourdaan word "Pieter Jordaen". As Franssprekende sukkel hy met die [x]-klank55 en skryf soos hy gepraat het: "docter" [doktar] vir Ndl. dochter/Ar. dogter en "keen" [ke:n] vir Ndl./Afr. geen.

Meertaliges

Die meertaliges, soos stamvaders Jacob Naudé en Willem Boshoff kon Frans, Duits en Nederlands praat. Naudé groei op in Berlyn en was onderwyser aan die Kaap. Guillaume Henri Bossau van Bayonne woon eers in Hamburg voordat hy in 1741 Kaap toe kom. Reeds in 1749 noem hy homself Willem Hendrik Boshof(f).56

6.5.3 Talekonflik

In April 1700 skryf W. A. van der Stel en die Raad aan die Drakensteinse Franse gemeente dat daar heelwat "Duijts"-sprekendes woon wat nie die Franse dienste verstaan nie; ook dat die Franse ds. Simond nie die Hollandse kindertjies so goed leer lees en skryf nie. Die voorstel is dat Frans deur "Duijts" vervang word, waarna die tweetalige meester Jacobus de Groot van Haarlem in ds. Simond se plek aangestel word. Al was die ouer en taalbehoudende Hugenote heel ontsteld, is Frans as kerktaal finaal in 1706 deur die Politieke Raad verbied.

Dit is wel verrassend dat Paul Roux van Orange, Suid-Frankryk, vanaf 1708 tot 1722 met slegs vier jaar ontbrekend, en "Anthonij Foor" (Faure) ook van Orange, vanaf 1719 tot 1722 as Franse voorlesers in die Monsterrolle gelys word. Hulle was dus op die Kompanjie se boeke en ontvang vergoeding. Dit is onduidelik of "France voorleser" beteken dat hulle in Frans voorgelees het, of dat hulle Frans was en voorgelees het.

 

7. AFRIKAANS AS BEWAREA

7.1 Afrikaans onthou wat Nederlands vergeet het

Vanweë die afgesonderdheid van die Kaapse taalgemeenskap het woorde wat tans in Nederlands verouderd, vergete of streeksgebonde is, bly voortleef in Afrikaans, wat as bewarea van ou taalmateriaal dien.

Die volgende is enkele voorbeelde van Nederlandse streekstaalwoorde in Afrikaans: afjak, akkedis, appelkoos, botteroog, dankie, foeter, gesels, hoender, karnallie, neut, oond, pampoen, pêrel, perd, pers, ruspe, serp, toeka, verknorsing, verneuk, verrinneweer, wilger en wurm.57

Vindplekke van vier sodanige woorde in die transkripsies:

 

 

7.2 'n Glinstersteen vir laaste

Laaste aan die beurt is baie - alombekend, baie gewild as gebruikswoord en so (ge)heel eie aan Afrikaans.

'n Kriptiese etimologie sou kon lui dat Afrikaans die woord baie ontleen het via Nederlands as 18de-eeuse mengtaal (Bargoens) uit Mal. banjak, of eerder direk uit Kaapse Mal. banjak.

Vergelyk in hierdie opsig Boshoff en Nienaber (1967:149) se etimologie:

baie: 'veel/vele'; (adv.) 'erg, seer', (dial. nog) baia/baing, (ouer spel- en wv.) baiing/ baijanbh/banja(ng)/banje(r), oudste 1780 banje; miskien via Nederlands, maar moontlik eers in die 18de eeu in Afrikaans ontleen aan Maleis banjak (met nouliks hoorbare k) wat sowel seer as veel/vele in 'n mate verdring het; miskien het Nederlands bandig (by Kiliean bandigh, Platduits, Fries en dialektiese vorme onder andere banni/bannich/bannig, bandig, asook (un)banni/(un)bandig/(on)bendig) daartoe meegewerk.

Volgens Scholtz (1972) is banje58 in 1769 die eerste keer opgeteken.

Die Oosterse en Westerse invloed is egter albei van belang: Die Platduitse bywoorde banni, bannich, bannig en die Friese bywoord banjer beteken dieselfde as Afrikaans baie. In Platduits word juis gesê: "Bannig59 ist ja wohl so 'n Allerweltswort".

Die Nederlandse selfstandige naamwoord banjer, in afgeleide betekenis uit baanderheer, hoort tot die volkstaal, soos in "zich gedragen als een banjer", met die gedagte van grootdoenerig. Die werkwoord is banjeren.

In Louies Reijnders60 se 1793-joernaal wat hy gehou het op die skip Ablasserwaard tydens die seereis via Portsmouth na Batavia, gebruik hy banjer as bywoord in banjer kout en neem dit mee na Batavia waar banjak in Maleis gebruik is.

 

 

Uit prof. Victor Webb en dr. Jan Picard61 se taalnavorsing blyk dat Bahasa Indonesia eeue gelede uit Sanskrit ontwikkel het. Indien dit so is, beteken dit dat Maleis tot die Indogermaanse taalfamilie behoort en nie meer daarbuite staan nie (vgl. die aangepaste talekaart):

 

 

Onderstaande voorbeelde hou ook verband:

  • Mal. banjak stem ooreen met Hindi bhamjak met die gedagte van ekstra groot, soos in kirtiman bhamjak "rekordbreker" en sakti-bhamjak "magsmakelaar" (Eng. power-broker).62

  • Die Indonesiese Banyak/Banjak63-eilandgroep bestaan uit tussen 71 en 99 eilandjies.

  • In die 1725-dagregister is die slaafnaam Banja van Mallebaar aangeteken.

 

8. SLOTGEDAGTES

Die VOC-amptenary en al die ander mense wat hierdie dokumente geskryf het, het 'n erfenis van onskatbare waarde nagelaat en onbewustelik 'n geweldige bydrae tot Afrikaans gelewer. Uit die argiefmateriaal wat reeds tydens die transkriberingsprojekte ontsluit is, blyk veral uit die bydraes deur die gewone mense dat daar buiten die 17de-eeuse Nederlandse taalvorm ook 'n beduidende inset gelewer is deur Wes-Europese tale en streektale oor die algemeen. Hierdie bydrae is aangevul deur Oosterse en Khoi-Khoi-insette van besondere waarde.

Na jarelange ontsluiting van 17de- en 18de-eeuse woorde aangeteken in VOC-dokumente as primêre bronne, twyfel outeur nie daaraan nie dat die taal wat Afrikaans genoem word, se bakermat in Wes-Europa lê, maar dat dit hier te lande onder bepaalde omstandighede en bydraes deur Oosterse en inheemse sprekers ontwikkel het tot wat in 1903 deur Hjalmar Reitz beskryf is as "Afrikaansch ... mooi; zoo eenvoudig, ernstig, en oprecht gemeend" (Jansen 1999:285).

Vandag nog word ons taal so ervaar.

 

BIBLIOGRAFIE

PRIMÊRE BRONNE

VOC-dokumentreekse: Wes-Kaapse Argief

Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop: C1-231

Inventarisse: MOOC8/1-75

Vendusierolle: MOOC10/1-8, 25

Monsterrolle: VC39/2-VC48 en NA12537-12653

VC-dagregisters: 1680-1730 (VC9-23); 1775-1776 (VC32), 1779-1791 (VC33-34) M16: Lijst van het Corps Pennisten (1794)

VOC-dagregisters: Nationaal Archief, Den Haag

Jare in Wes-Kaapse Argief ontbreek in NA gefotografeer: 1687, 1692, 1695 (NA10717), 1699 (NA 10720), 1700 (NA 10721), 1704 (NA10724), 1706 (NA 10726), 1709 (NA 10729), 1713 (NA10732), 1714 (NA10733), 1789 (NA10808)

SEKONDÊRE BRONNE

Bosman, D.B. & H.B. Thom. 1952. Jan van Riebeeck. Dagregister, Deel 1-3 (1651-1666). Kaapstad: Balkema. Elektroniese weergawe: DBNL © 2010 dbnl / erven D.B. Bosman / erven H.B. Thom http://www.dbnl.org/tekst/rieb001dagh01_01/colofon.htm        [ Links ]

Da Silva, P. (Ed.) 1996. A Dictionary ofSouth African English on Historical Principles. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Den Besten, Hans & Ton van der Wouden. 2012. Roots of Afrikaans: Selected Writings of Hans Den Besten. Pages on Khoekhoen reduplication displayed by permission of John Benjamins Publishing. Copyright.         [ Links ]

Du Toit, P.S. 1937. Onderwys aan die Kaap onder die Kompanjie, 1652-1795. Kaapstad & Johannesburg: Juta.         [ Links ]

Gordon, E.V. 1956. An Introduction to Old Norse. Second Edition revised by A.R. Taylor. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Jansen, Ena & Wilfred Jonckheere. 1999. Boer en Brit. Afrikaanse en Nederlandse tekste uit en om die Anglo-Boereoorlog. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Kloeke, G.G. 1950. Herkomst en groei van het Afrikaans. Leiden: Universitaire Pers Leiden.         [ Links ]

Kluge, Friedrich. 1883. Etymologisches Wörterbuch derdeutschenSprache. Bearb. von Elmar Seebold. 23, erw. Aufl. Berlin, New York: De Gruyter, 1995.         [ Links ]

Le Roux, T.H. 1966. Die dagboek van Louis Trigardt. Pretoria: J.L. van Schaik Bpk.         [ Links ]

Liebenberg, H.C. 1993. Semantiese herhaling in die grammatika van Afrikaans. D.Litt. et Phil., Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.         [ Links ]

Morris, W. (Ed.). 1972. The Heritage Illustrated Dictionary of the English Language. New York: McGraw-Hill International Book Company.         [ Links ]

Pama, C. 1983. Die Groot Afrikaanse Familienaamboek. Kaapstad: Human & Rousseau Uitgewers (Edms.) Bpk.         [ Links ]

Raper, P.E. 1987. Dictionary of Southern African Place Names. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Scholtz, J. du P. 1972. Afrikaans-Hollands in die Agtiende Eeu. Verdere voorstudies tot 'n geskiedenis van Afrikaans. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Van der Merwe, H.J.J.M. 1960. Die tweeklanke en verkleinwoorde by Van Riebeeck. Oorgedruk uit Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, April 1960.         [ Links ]

Van Rensburg, C. Platduits en Afrikaans. Taalfasette 1968, Deel 7. Pretoria: J.L. van Schaik, Beperk.         [ Links ]

Van Wyk, G.J. (red.). 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die WAT.         [ Links ]

Van Wyk, G.J. (red.). 2007. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Supplement. Stellenbosch: Buro van die WAT.         [ Links ]

Weijnen, A. Zeventiende-eeuwse Taal. Vijfde Druk. Zutphen: N.V. W.J. Thieme & Cie.         [ Links ]

Woordeboek van die Afrikaanse Taal. 2009. Elektroniese weergawe: A-R. Stellenbosch: Buro van die WAT.         [ Links ]

Woordeboek der Nederlandsche Taal. Elektroniese weergawe. Leiden: Instituut voor de Nederlandse Taal (INT)        [ Links ]

ELEKTRONIESE BRONNE

https://books.google.co.za/book (Den Besten)

https://de.wiktionary.org/wiki/bannig

https://de.wiktionary.org/wiki/banyak

https://en.wikipedia.org/wiki/Banyak_Islands

https://en.wikipedia.org/wiki/Hendrik_Swellengrebel

https://en.wikipedia.org/wiki/Low_German

 

 

 

Helena Liebenberg: As gebore Pretorianer studeer sy aan Unisa waar sy Afrikaanse Taalkunde doseer en haar doktorsgraad in Afrikaanse Semantiek verwerf. Sedert 1992 bedryf sy en haar man die Sentrum vir Besigheids-en Taaldiens.
Tussen 2001 en 2008 is sy betrokke by twee VOC-transkripsieprojekte: TANAP en TEPC. As trustee van die Tracing History Trust hanteer sy sedertdien die VOC Daghregister Project en die huidige VC Daghregister Project.
Verder vertaal en redigeer sy, skryf taal-kunde-artikels en idiomeboekies vir kinders -alles in en vir Afrikaans; ontwerp Afrikaanse/ Engelse taal- en natuurspeletjies; is medeouteur van die Etimologiewoordeboek van Afrikaans, asook outeur van Stories and Tales in the VOC Journals, en van Rooswater en Geheimenis van die Roos, spirituele digbundels.
y hou voordragte oor taal, kultuur, genealogie, geskiedenis en die mistieke, en bedryf Taaloord (http://www.taaloord.co.za).
Helena Liebenberg: As a native Pretorian she studied at Unisa where she lectured in Afrikaans Linguistics and obtained her doctoral degree in Afrikaans Semantics. In 1992 she and her husband established the Centre for Business and Languages Services.
From 2001 to 2008 she was involved in two VOC Transcription Projects: TANAP and TEPC. As a trustee of the Tracing History Trust she has since managed the VOC Daghregister Project and the current VC Daghregister Project.
She translates and edits, writes academic articles and children's books - all in and on behalf of Afrikaans; is the creator/designer of Afrikaans/ English educational games (language/nature), co-author of the Etimologiewoordeboek van Afrikaans, author of Stories and Tales in the VOC Journals, and composer of Rooswater and Geheimenis van die Roos, anthologies of spiritual verse.
She lectures on language, culture, genealogy, history and the mystical, and is the owner of Taaloord (http://www.taaloord.co.za).
1 Hierdie artikel is 'n herbewerkte en uitgebreide weergawe van die hoofsprekersaanbieding wat gelewer is op 28 Junie 2017 tydens die 9de internasionale kongres van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek. Die tema van die kongres was "Kontrapunt: Kontrastiewe en komparatiewe perspektiewe op die Afrikaanse en Nederlandse taal- en literatuurstudie".
2 TANAP: Towards A New Age of Partnership, waartydens die Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop (1651-1795) beskikbaar gestel is (~7,3 miljoen woorde).
3 TEPC: Transcription of Estate Papers of the Cape of Good Hope, waartydens o.a. Boedelinventarisse (MOOC8), Vendusierolle (MOOC10), Monsterrolle en "Bandietenrollen" beskikbaar gestel is (~4,5 miljoen woorde).
4 Die Tracing History Trust se VOC Daghregister Project, befonds deur Cordis Trust, Zuid-Afrikahuis, Van Ewijckstigting en die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (~700 000 woorde).
5 VC: Verbatim Copies; die reeks bevat die VOC-dagregisters wat in die 1880's in die Rijksarchief, Nederland oorgeskryf is en tans in die Wes-Kaapse Argief gehuisves word (~1 miljoen woorde reeds getranskribeer).
6 Slegs Afrikaans- en Nederlandssprekendes het die TEPC-transkribeerderstoets geslaag; Engelssprekendes kon glad nie die handskrifte ontleed en dus transkribeer nie, want hulle het nie die taal verstaan nie. Dieselfde probleem word ondervind by die Nasionale Argief in Indonesië waar die argivarisse wat nie Nederlands magtig is nie, nie die dokumente kan transkribeer nie want hulle weet nie waaroor die inhoud handel nie.
7 Van Wyk (2003, 2007)
8 Virtuele Instituut vir Afrikaans
9 CJ: Court of Justice
10 MOOC: Master of the Orphan Chamber
11 UNESCO: United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization
12 Digitisering: fotografering en skandering van dokumente.
13 Digitalisering: transkribeer van dokumentinhoud met of sonder kodering en XML-omskakeling.
14 Waardevolle VOC-dokumentasie wat by sendinggemeenskappe soos Genadendal in bewaring gehou word, is ongetranskribeer en gevolglik nie beskikbaar vir taalkundige ontleding nie.
15 Weijnen, vyfde druk (geen jaartal)
16 Maurits Pasques de Chavonnes van Den Haag, goewerneur 1714-1725; in die tuig oorlede.
17 Jan de la Fontaine van Amsterdam, onderkoopman; 1ste inskrywing in Junie 1710; gesaghebber ná De Chavonnes se oorlye in 1725 tot 1727; goewerneur 1732-1737.
18 Hendrik Swellengrebel is gebore aan die Kaap, assistent; 1ste inskrywing in 1713; goewerneur 1739-1751.
19 Inligting oor skrywers en waar hulle gestasioneer was, is verkry uit die VOC-monsterrolle.
20 Om die getalle vir die verskillende gebiede te bepaal, verg 'n in-diepte ondersoek van inligting oor plek van herkoms wat in die Monsterrolle verstrek word.
21 Hulle was gewoonlik die seuns van welgestelde Kaapse ouers, geleerd en Nederlands goed magtig.
22 C-reeks: 1651-1795
23 Scholtz (1972)
24 11 Dagregisters wat in die Kaapse Argief ontbreek, is gefotografeer in die NA en toe plaaslik getranskribeer.
25 Dit geld ook die Inventarisse en Vendusierolle.
26 Omdat die skrywers selde indien ooit geïdentifiseer kan word, word hierdie en ander taalverskynsels slegs as waarnemings aangetoon.
27 MOOC 8-reeks: 1673-1834
28 Kloeke (1950) lê klem op streeksgebruik; Afr. heuning: Suid-Hollands (p. 89), Afr. seun: algemeen-Hollands (p. 98). Amsterdam was 'n botter- en schottel-stad (p. 91).
29 MOOC 10-reeks: 1673-1834
30 Afgelei van die toenmalige Turkse stad Ormuz, tans in Iran.
31 JvR, DR1, DR2, DR3: Jan van Riebeeck se Dagregisters, Deel 1, 2 en 3
32 vold: - voldaan, d.w.s. betaal
33 Die etimologieë is uit EWA en Boshoff en Nienaber (1967) verwerk.
34 Liebenberg (1993, Hfst. 3) (Sien HCL-studies by http://www.taaloord.co.za).
35 Vgl. Den Besten (2007:218) oor naamwoord-reduplikasie, o.a. mens-mens : "In our view this is the essential contribution of Khoekhoe to reduplication in AFR."
36 Met dank aan my kollega, mev. Maureen Rall, vir Sylvia se bydrae.
37 Van der Stael was 'n Culemborger, soos Van Riebeeck wat dus dieselfde "Hollants Nederduyts" gepraat het. Duytsen, Nederlanders, Hollanders (26/8/1658) word blykbaar sonder verskil in betekenis gebruik.
38 Vgl. Du Toit ( 1937: 19): "Hoewel daar reeds in 1658 'n skool vir slawe opgerig is, het dit nog tot 1663 geduur voordat die blanke kinders aan die Kaap in hierdie voorreg kon deel".
39 Die St. Thomas-Christene is genoem na die apostel Thomas wat volgens oorlewering ná Jesus se kruisiging en opstanding na Indië gaan om daar Sy leringe te verkondig.
40 Die etimologieë is uit EWA verwerk.
41 Platduits is 'n Wesgermaanse taal wat hoofsaaklik in Noord-Duitsland en die oostelike deel van die Nederlande gepraat word en is nou verwant aan Nederlands, Fries en Engels.
42 VC12: Joernaal van die galjoot De Noord, p. 54 en p. 110
43 Verdeling van Pommere tussen Swede en Brandenburg is in 1653 in Stettin (tans Szczesin) bevestig. Duitsers verdring later die Pole; vgl. ook Kunen se plaas Stetteijn.
44 https://af.wikipedia.org/wiki/Hendrik_Swellengrebel
45 Linsdorf, Wikipedia
46 VC14
47 WNT-CD: In Suid-Afrika (reeds by Van Riebeeck) en Indië: "een afgepaalde ruimte waarbinnen men het vee opsluit; ook (in Afrika) een dorp van inboorlingen". Uit Port. curral. (Etim. uit Boshoff en Nienaber, p. 369)
48 WNT-CD
49 Pama (1983)
50 Gordon (1956)
51 Morris (1972)
52 Die amptenare was: constapel Willem Willemsz:, Amsterdam (1747); burger chirurgijn Willem Ferdinand Hoijer van Mitau, Koerland, Oosseelande (tans Letland) (1758); dominee Remeus Harders, Wildhausen (tans Duitsland) (1769) en E. Bergh seun van stamvader Oloff Bergh van Gotenburg, Swede (1787).
53 Hulle name is gelys soos hulle erwe naasmekaar in strate toegeken is: aan die een kant van die Hugenoot Jacob de Savoije woon Weimer Pasman van Nederlandse herkoms en aan sy ander kant woon die weduwee van wyle soldaat Arend Eekhof van Hamburg.
54 Die laaste inskrywing, nl. Jean le Long (x Maria Coche) is later vernederlands na Jan de Lange. Op papier is daar nie meer te onderskei tussen die nageslag van die Franse en die Nederlandse Jan de Lange nie.
55 Isack Albach, 'n Franssprekende Elsasser van die Trigardt-trek het onder Napoleon gedien. Vlgs. Le Roux (1966) het hy "Duits-Afrikaans" gepraat. Dat hy wel Franssprekend was, blyk daaruit dat hy net soos Delport ook nie [x] kon sê nie: "kedink" (gedink), "ik kee nie om" (ek gee nie om nie) en "kedaan" (gedaan).
56 Pama (1983:66)
57 EWA (2003, 2007)
58 In sommige streke van die Wes-Kaap en in Kaaps is banje 'n wisselvorm van baie en word ook gebruik om te beklemtoon, soos in: "Ek is bánje bly" waar banje beteken 'regtig', 'erg'.
59 Plattdeutsch: bannig 'auBerordentlich stark, groB oder intensiv, sehr'.
60 Daar bestaan geen inligting oor Reijnders nie; sy plek van herkoms asook verblyf sou lig kon werp op sy gebruik van banjer.
61 Prof. Webb en dr. Picard is albei Afrikaans-taalkundiges; lg. het opgegroei in Indonesië en is Bahasa Indonesia volkome magtig.
62 Wiktionary
63 https://en.wikipedia.org/wiki/Banyak_Islands

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License