SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue1Op de radio flonkerde het Afrikaans . De Afrikaanse literatuur in Nederland in 2017Die afbreek van woorde aan reëleindes author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.1 Pretoria Jan. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n1a14 

BOEKBESPREKING BOOK REVIEW

 

Die Dorslandtrek 1874-1881

 

 

Johann Tempelhoff

Noordwes-Universiteit. Johann.Tempelhoff@nwu.ac.za

 

 

Outeur: Nicol Stassen
Uitgewer: Protea Boekhuis, Pretoria, 2015
ISBN: 978-1-4853-0105-9

Afgesien daarvan dat Pretoriase uitgewer en geskiedkundige Nicol Stassen instrumenteel is in die publikasie van belangrike Suid-Afrikaanse historiese werke, het hy vir hom naam gemaak as 'n deskundige op die gebied van die geskiedenis van die Transvaalse republiek in die 19de eeu en die trekke van Afrikaner-grensboere in die dorre gebiede van die Botswana-Kalahari, Namibië en Angola in. Hy spesialiseer in die diaspora van Europeërs van Nederlandse afkoms aan die Kaap in die 17de eeu en hulle migrasie en vestiging in die Suider-Afrikaanse binneland. Daar was al verskeie historici wat op hierdie terrein gewerk het, by name PJ van der Merwe, CFJ Mulder en L Hattingh. Stassen verteenwoordig 'n vierde generasie van diesulkes.

Stassen se werk bring hierdie verskynsel van migrasie in die hoofstroom van geskied-skrywing. Terwyl die Groot Trek 'n ryk voedingsbron vir die Afrikaner se groeiende nasionale bewussyn was, het ons kennis van die migrasies van mense van Europese afkoms na die voormalige Duits-Suidwes-Afrika, Mosambiek en Angola, Oos-Afrika, die Britse gebiede van Noord- en Suid-Rhodesië, en selfs Argentinië grotendeels vaag gebly en het dit hoofsaaklik berus op kort narratiewe oor die wit stam van Afrika, die Afrikaners.

Stassen se werk staan daarenteen uit weens die deeglike en omvattende ondersoek van bronmateriaal oor die Transvaalse Afrikaners - hoofsaaklik uit die ou Wes-Transvaal en lidmate van die Gereformeerde Kerk - wat dit in ander dele van Afrika in gewaag het. Soos hulle voorsate was hulle op soek na die ideale plek om hulle te vestig, maar hulle het ook gestreef na 'n kulturele ruimte waarin hulle die waardes kon uitleef van n pioniersvolk wat nie aan n owerheid met imperiale oogmerke onderdanig wou wees nie. Hattingh het reeds in die 1970's daarop gewys dat die Britse planne vir 'n Suider-Afrikaanse konfederasie gedurende die 1870's klaarblyklik daarop gemik was om die Britse teenwoordigheid deur die hele suidelike Afrika te versprei. Vir baie Transvaalse Afrikaners het dit na Britse gesag geruik. Stassen wys egter daarop dat dit nie die belangrikste dryfkrag agter die trek was nie. Ook godsdiens, politiek, ekonomiese oorwegings en die gebruiklike trekgees het n beduidende rol gespeel.

Die Dorslandtrek is in die eerste plek 'n vertelling oor die trekke, in verskeie opeenvolgende emigrantegroepe Transvalers, uit die westelike en noordwestelike grensgebiede van Transvaal na die dor Suider-Afrikaanse binneland wat deur hoofsaaklik San, Khoi en Bantoesprekende Afrikane bewoon is voordat die Britte, kort ná die Berlynse Konferensie (1880-1884), van Betsjoeanaland (Botswana), Swaziland en Basoetoland (Lesotho) as protektorate besit geneem het.

Stassen se werk dra by tot ons begrip van die wyse waarop groepe en individue die binneland van die subkontinent ingetrek het en ons begrip van hulle daaglikse lewe. Hy gee inligting oor hoe geloofskwessies of plaaslike en soms baie persoonlike vetes of vriendskappe die mobiliteit aan die gang gesit het. Daar is ook 'n rykdom aan beskrywings, nougeset uit die beskikbare bronmateriaal geneem, wat vertel van hoe die jagter-grensbewoners aanhou soek en swerf het, en gegroepeer en gehergroepeer het voordat hulle hulle togte diep die binneland in aangepak het.

n Uitstekende bydrae van die studie is die verslag van hoe hierdie trekkermense omgewings-vlugtelinge geword het, grotendeels as gevolg van hul onvermoë om aan te pas by 'n tekort aan plaaslike waterbronne. Migrasie is tans n belangrike studieveld in sowel die noordelike as die suidelike halfrond. Die dryfvere en weerhoudingsfaktore van die prosesse van menslike mobiliteit vorm steeds samelewings in talle dele van die wêreld. Omdat Stassen 'n narratiewe geskiedkundige is, is sy fokus op besonderhede en min aandag word gewy aan die breër verskynsel van migrasie as sodanig. Vir die leser wat graag die hedendaagse gevolge van die migrasie van mense uit die Midde-Ooste en Afrika na Wes-Europa wil begryp, bied Die Dorslandtrek 'n interessante mikrohistoriese beeld van wat gebeur as mense deur klimaats-, ekonomiese en geopolitieke kragte gedwing word om ter wille van beter vooruitsigte na verre plekke te verhuis.

Die skrywer het klaarblyklik reeds die meeste van die harde werk van 'n deurtastende ondersoek van die beskikbare bronne oor die Dorslandtrekkers gedoen, wat dit vir navorsers uit ander dissiplines moontlik maak om n indruk te kry van die migrasieproses wat in die laaste kwart van die 19de eeu momentum gekry het. Van besondere belang is die vraag van hoe om die voortdurende gebrek aan toereikende waterbronne te hanteer. Die dorheid van die binneland van Suider-Afrika in die 19de eeu is 'n sleutelaanduiding van die skrikwekkende toestande wat die geharde grensboere moes deurmaak. Dit is redelik om aan te neem dat die toestande wat geheers het gedurende die globale klein ystyd wat in die 1850's geëindig het en waarskynlik die vorm van wit nedersetting omstreeks die middel van die 19de eeu beïnvloed het, reeds beduidend verander het teen die 1870's, toe die migrasie van die Dorslandtrekkers weswaarts begin het.

Hulle migrasie is grotendeels bepaal deur 'n soeke na plekke wat gunstig vir nedersetting was - verkieslik in die Portugese kolonie Angola in die verre noordweste. Die grensgebied, die vuurwapens en perde as ry- en trekdiere, waarmee hulle sedert die 1830's bekend was, was teen die 1870's vinnig aan die verander. Die ontdekking van minerale en die ontwikkeling van myne by Kimberley en in die Oos-Transvaal het deel uitgemaak van die kommersialisering en industrialisering van die grensgebied. Watter grond mense ook al besit het, het deel geword van n land waarin die brose ekonomie van n pioniersrepubliek voortdurend onderwerp is aan die ekonomiese eise van handelaars en toggangers. Hulle het n nuwe soort koloniale ekonomie verteenwoordig wat nie byval gevind het nie in die protostedelike grensnedersettings waar kerk, handeldryf en die staat histories bepalend was. Stassen versag die talmende rigiede beeld van die vroeëre grensboer wat slawe besit het. Hy spits hom toe daarop om die "vrye volk" op n meer genuanseerde en komplekse wyse as vroeëre geskiedskrywers oor die 19de-eeuse Suid-Afrikaanse grensgebiede te vertolk en te kontekstualiseer.

Stassen ontluister baie van die mitologie rakende Afrikanerleierskap en die "heroïese" rol van geselekteerde individue uit die Groot Trek, wat die belangrikste diskoers van Afrikanermi-grasie na die binneland van Suid-Afrika was. In plaas daarvan bring hy n versameling pensketse byeen van gewone mense wat darem op n manier n bestaan kon maak in van die barste dele van Suider-Afrika danksy die vaardighede wat hulle bekom het sedert die eerste Europeërs in die laat 18de eeu die binneland van die subkontinent begin inbeweeg het. Die beliggaming van goeie leierskap het geblyk die vermoë te wees om in buitengewoon ongunstige toestande leiding en rigting te gee. Aan die grensgebied van die Dorslandtrek was die goeie leier iemand wat ons vandag n doeltreffende rampbestuurder sou noem.

Baie soos die Louis Tregardt-ekspedisie voor die Groot Trek in die 1830's wat handelsbande met die buitewêreld in die noordoostelike dele van die hedendaagse Suid-Afrika wou smee, was die Dorslandtrekkers reisigers in ongerepte gebied waar min Europeërs vantevore al was. Hulle was maar te dikwels swak ingelig oor die plaaslike stand van sake. Dit was moeilik vir die geharde Afrikanergrensboere uit die Transvaalse republiek om die vertroue van die plaaslike inheemse mense te wen. Die reputasie van n strydlustige Transvaalse volk het die trekkers in die landstreke wat hulle potensieel kon verken, vooruitgeloop.

Materieel en intellektueel gesprake het die Dorslandtrekkers voor vele uitdagings gestaan. Hul geïsoleerde omstandighede in die Transvaalse republiek ná 1852 het hulle ekonomies en intellektueel die kennis ontsê wat deur ander (buitelandse) reisigers in die binneland van die subkontinent in boeke en artikels gepubliseer is. Voorts was daar aansienlike ontwikkelings op die gebied van die tegnologie, die medisyne en strategieë om met die inheemse gemeenskappe in die binneland om te gaan. Ten slotte het die "onsigbare hand" van 'n opkomende merkantilistiese ryk wat morele en politieke steun aan goed ingeligte en ervare reisigers, sendelinge en handelaars gebied het, die Dorslandtrekkers strategies kwesbaar gemaak. Hulle kon nie meeding met die agentskapsrol van invloedryke individuele Britse, Duitse en Portugese pioniers wat ten tyde van die Dorslandtrek reeds met die plaaslike inheemse mense genetwerk het nie.

Vir die genealoog en familiegeskiedkundige is Stassen se werk 'n belangrike bron. Hoewel hy hom nie op die terrein van die prosopografie begewe nie, werp die meerlagige diskoers oor talle Afrikanerfamilies lig op die uitwerking van die grenslewe op die familie-eenheid. Die sterftesyfer was hoog en oorlewingsvermoë is deeglik beproef. Die werk berus op 'n omvattende maar steeds onvolledige versameling familiegeskiedenisse en genealogieë van bewoners van die Suid-Afrikaanse binneland. Die voordeel van Stassen se gebruik van familiegeskiedenis is dat dit gewone mense op die voorgrond plaas. Die leser maak kennis met die buitengewone beproewings wat dié mense moes deurmaak in 'n tydperk van groot mobiliteit. Die ontberings van trek deur waterarm streke, die lyding van die lewende hawe, die siektes, honger en dors word verpersoonlik uit individuele narratiewe omtrent lewensverlies en die gevolge daarvan vir huwelike en geboortes.

Die Dorslandtrek het ook baie waarde vir enige voornemende besoeker aan Botswana, Namibië en Angola. Vir die Suid-Afrikaanse avontuur- en 4x4-toeris bevat die studie 'n aantal gedetailleerde kaarte van plekke en roetes waar daar nog fisiese oorblyfsels in die strawwe omgewings is waarheen min mense tot onlangs nog gereis het. Veral besoekers aan die Okavango en die Ngamimeer in Botswana, die Etoshapan in Namibië en die suidelike dele van Angola sal by die lees van die boek baat vind.

Stassen ondersoek nie die droogte- en vloedtoestande in Suider-Afrika gedurende die tydperk 1874-81 deurtastend nie, maar die studie gee wel baie insig in die dorheid van die omgewing en die antropogeniese gevolge van waterskaarste. Vir die 21ste-eeuse leser wat vir wêreldwye klimaatsverandering en menslike aanpassing by heersende toestande sensitief is, is die studie van enorme belang. Die beskrywing van die wyse waarop mens en dier gely het in klimaats-omstandighede waaraan hulle nie gewoond was nie, maak waardevolle leesstof uit. Daar is toenemend konsensus dat die snelle intrede van klimaatsverandering ongeveer 6000 VHJ 'n diepgaande uitwerking op menslike beskawings in die Midde-Ooste en Noord-Afrika gehad het (Berger et al. 2016).

Stassen gee treffende beskrywings van die manier waarop beeste op die gebrek aan water gereageer het, hoe hulle weggebreek en weggeraak het en dikwels nooit weer lewend gekry is nie. Vroeë reisigers na die binneland is vooraf gewaarsku dat vee in die woestyn water letterlik van ver afkan ruik (Sparrman 1977). Die reuk van reënwater in woestyngebiede het 'n opmerklike uitwerking op mens en dier. Dit word veroorsaak deur osoon, n molekule wat gevorm word as gevolg van die elektrisiteit wat in weerlig vrygestel word. In die proses word die twee atome van suurstof in water tot drie afgebreek, wat die kenmerkende reuk aan reën gee (Barnett 2015). Vandag weet ons ook dat bakterieë in die atmosfeer - selfs in stofwolke - opgeneem word en amper soos 'n aërosol 'n verskeidenheid van reuke versprei wat 'n onbewuste uitwerking op mense en diere het (Smets et al. 2016). Stassen beskryf sulke gebeurtenisse uit 'n interessante narratiewe oogpunt.

In die geheel verteenwoordig Die Dorslandtrek goeie Suid-Afrikaanse geskiedskrywing. Die feit dat dit ook uitstekend in Engels vertaal is deur dr. Bridget Bushell Theron, een van die voorste Suid-Afrikaanse geskiedenisteksredigeerders, maak die werk vir 'n veel groter leserspubliek toeganklik: The Thirstland Trek 1874-1881 by Nicol Stassen. Pretoria:Protea Book House. 2016. ISBN978-1-4853-0036-6. Amazon price: R370.

 

BIBLIOGRAFIE

Barnett, C. 2015. Rain: A natural and cultural history. New York: Crown Publishers.         [ Links ]

Berger, J-F, L Lespez, C Kuzucuoglu, A Glais, F Hourani, A Barra, J Guilaine & B Paolo. 2016. "Interactions between climate change and human activities during the early to mid-Holocene in the eastern Mediterranean basins." Climate of the Past 12(9):1847-1877.         [ Links ]

Smets, W, S Moretti, S Denys & S Lebeer. 2016. "Airborne bacteria in the atmosphere: Presence, purpose, and potential." Atmospheric Environment 139:214-221.         [ Links ]

Sparrman, A. 1977. A voyage to the Cape of Good Hope, towards the Antarctic polar circle, round the world and to the country of the Hottentots and the caffres from the year 1772-1776. Kaapstad: Van Riebeeck-Vereniging.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License