SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue1Hengelo is Afrika: de Afrikaanse literatuur in Nederland in 2009 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.1 Pretoria Jan. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n1a12 

MENING

 

Girardin se Etiese Heksagoon: Demokratiese regering en die rol van etiek en integriteit in die politiek en openbare lewe

 

Girardin's Ethical Hexagon: Democratie government and the role of ethics and integrity in politics and public life

 

 

Denis Venter

Navorsingsgenoot: Politieke Studies en Regeerkunde Universiteit van Johannesburg; Universiteit van die Vrystaat E-pos: denisventer@gmail.com

 

 

INLEIDING

Hierdie meningstuk is 'n breë teoretiese uiteensetting van relevante konsepte, gebaseer op 'n wydlopige literatuurstudie. Dit behandel die essensie van demokratiese regering, die intrinsieke aard en kwaliteit van integriteit en etiese optrede, die noodsaak vir deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die politiek en openbare lewe, en die enorme uitdagings wat korrupsie vir openbare dienslewering inhou. Die politiek en openbare diens kan nie langer integriteit en etiese implikasies of uitdagings ignoreer of afwysend daarteenoor staan nie, hoe dit ook al hanteer mag word, want daar is vier fundamentele waardes wat voortdurend in die praktiese politiek verwesenlik moet word: (1) die beperking van gesag; (2) en (3) die doeltreffendheid (bevoegdheid) en verantwoordbaarheid (deursigtigheid) van regering; en (4) geregtigheid. Inderdaad, etiek en integriteit in die politiek is nie alleen wenslik nie, maar ook moontlik - dit is nie 'n naïewe droom nie. Etiek en integriteit is, metafories gesproke, twee kante van dieselfde muntstuk. Die ses waardebondels in Benoït Girardin se Ethical Tree - hierdie skrywer noem dit die Etiese Heksagoon - staan in noue verband met en word gerugsteun deur die vyf faktore onderliggend aan integriteit.

 

DEMOKRASIE, DEMOKRATIESE REGERING, EN GOEIE REGERING: KRIPTIESE DEFINISIES

Demokrasie gaan essensieel, in wese, oor die aanwending van mag en die hantering van konflik, 'n stel politieke instellings en prosesse gegrond op die beginsels van kiesersbeheer oor openbare besluite en besluitnemers, en die gelyke stem van burgers in die uitoefening van daardie beheer.

Daar is geen bloudruk vir demokrasie nie, want elke land se politieke instellings en gebruike word gesmee deur sy eie geskiedkundige, kulturele, maatskaplike en ekonomiese agtergrond. Demokrasie kan nie floreer sonder die basiese voorwaardes vir menslike veiligheid nie, 'n burgerlike politieke kultuur wat vir die oppergesag van die reg en die beskerming van basiese vryhede voorsiening maak, 'n gemeenskaplike gevoel van nasionale soewereiniteit, burgerskap en nasionale identiteit, en 'n ondersteunende streeks- en internasionale omgewing.

Demokratiese regering vereis werkende, funksionerende instellings: 'n onafhanklike regbank wat die oppergesag van die reg handhaaf, en waar elke burger gelyk voor die reg is; 'n parlement of wetgewer wat die burgery verteenwoordig, nie een wat deur die Presidensie, of die uitvoerende gesag, of die burokrasie beheer word nie; werkende, goed-funksionerende politieke partye; toeganklike media wat vry, onafhanklik, onpartydig, en onbevooroordeeld optree, en wat nie deur die staat of deur korporatiewe belange beheer word nie; en 'n lewendige, dinamiese burgerlike samelewing, een wat as 'n waghond oor die regering en belangegroepe kan optree, en wat alternatiewe of ander vorme van politieke deelname bied.

Die karaktereienskappe van goeie regering is heel moeilik om te omskryf. Dog dit kan gedefinieer word as sou dit die volgende insluit: wydverspreide deelname deur die burgery in regeringsprosesse, besluitneming deur middel van die oppergesag van die reg, deursigtigheid in die optrede van regeringsinstellings, deelnemende interaksie met betrekking tot die behoeftes en verwagtinge van die burgery, 'n oriëntasie tot konsensus, billikheid en onpartydigheid in die hantering van alle burgers, doeltreffendheid en bekwaamheid in die gebruik van openbare hulpbronne, openbare verantwoordbaarheid, en die aanwending van strategiese visie in beplanning vir ontwikkeling.

 

ETIEK EN INTEGRITEIT: TWEE KANTE VAN DIESELFDE MUNTSTUK

Etos is die morele opvattings eie aan 'n bepaalde samelewing, soos om 'n etos van openbare diens aan die dag te lê. Etiek is die morele beginsels wat die doen-en-late, die gedrag, die optrede van politici en staatsamptenare moet bepaal met betrekking tot wat reg, eerlik, moreel korrek en aanvaarbaar, of verkeerd, oneerlik, moreel onbillik en onaanvaarbaar is. Dit is om bepaalde reëls van etiese optrede en 'n onuitgesproke of geskrewe etiese kode na te kom. Dit voeg deurslaggewende waarde tot die politieke lewe toe deur die regverdige behandeling van alle belanghebbendes te waarborg, nadruk op billikheid te lê, te beklemtoon dat die inperking van regeringsmag van absolute en wesenlike belang is, en 'n langtermynperspektief of visie te bied.

Integriteit is die absolute en onwrikbare nakoming van 'n kode van etiese waardes. Dit behels die eienskap om eerlik en onkreukbaar te wees, om karaktertrekke met 'n nougesette, eerbare en opregte houding te vertoon, om streng morele beginsels aan die dag te lê, en om in alle aangeleenthede wat die openbare lewe raak met 'n sterk sin vir integriteit op te tree. Die kern van integriteit is om geloofwaardig, openhartig, deursigtig, en getrou aan die waarheid te wees, met 'n absolute verbintenis tot die saak voorhande; om 'n tersaaklike doelgerigtheid en onpartydigheid in besluitneming te toon; en om te verseker dat besluite nie beïnvloed word deur nepotisme, begunstiging, ander onbehoorlike motiewe, of korrupte praktyke en gebruike nie. Integriteit word dus gekenmerk deur onselfsugtige diens, gegrond enkel en alleen in die openbare belang, eerlikheid in die lewering van openbare diens, die verklaring van enige persoonlike belang wat in konflik mag kom met die uitvoering van openbare pligte (oftewel deursigtigheid), en verantwoordbaarheid aan die publiek vir besluite en optrede.

Onderliggend aan integriteit is daar vyf faktore, voorgestel deur die formule:

Deursigtigheid vereis van die regering om nie iets te verdoesel of met 'n kleed van geheimhouding te bedek in 'n poging om die goedkeuring van die burgery te verkry, óf om die afkeuring van dit wat dit doen te ontwyk nie. Daar bestaan 'n gebrek aan deursigtigheid wanneer politici of openbare amptenare poog om korrupte optrede te verskuil agter die gebruik van staatsmasjinerie om toegang tot inligting te ontsê of te onderdruk; daarin misluk om die volle omvang, aard en gevolge van deurlopende regeringsprogramme of gereelde regeringsake wat alle burgers raak, openbaar te maak; of blootlegging doelbewus vaag en ondeursigtig maak deur misleidende statistieke en versinde of gefabriseerde verduidelikings, asook pogings tot regverdiging.

Verantwoordbaarheid beteken dat politici en openbare amptenare volle verantwoordelik-heid moet aanvaar vir besluite of optredes wat hulle neem en ondersteun, en vir die gevolge van geformuleerde en aanvaarde beleidsrigtings, asook van geïmplementeerde wetgewing. Hulle moet verwag om nie net alleen verantwoordbaar gehou te word nie, maar ook om besluite en optredes te verduidelik wanneer hulle daarom gevra word, en sodoende 'n bereidwilligheid openbaar om te reageer op geldige of geregverdigde navrae. Die vlak van verantwoordbaarheid mag wissel. Dit kan beperk word tot 'n klein en vertroulike groep van tegnokrate; óf dit kan toeganklik en in die ope wees met inligting wat wydverspreid beskikbaar gestel word; óf dit kan in redelike besonderhede gaan; óf dit kan taamlik algemeen wees.

Vir goeie regering is die kwaliteit van verantwoordbaarheid en deursigtigheid, asook geloofwaardigheid, van kritieke belang. Dit pas soos sluitstukke inmekaar en kan selfs as die vernaamste en mees onderskeidende kenmerke van etiek in die politiek beskou word. Oplaas, in die politiek en openbare lewe moet politici en openbare amptenare aan die kieserskorps en belastingbetalers verantwoordbaar wees, en moet hulle deurgaans deursigtig in hul optrede wees.

'n Goed-funksionerende demokrasie is daarom verantwoordbaar en deursigtig, en gee gehoor aan die verwagtings, somtyds die versugtings, van sy burgery. Wat in bedwang gehou moet word, is die feitlik algemene voorkoms van onverantwoordbare en ondeursigtige regering, wat duidelik blyk uit 'n tendens om onafhanklike politieke ondersoek, soos deur nieregeringsorganisasies (NROs) en die media (buite die institusionele netwerk van die regerende party-staat), te beperk.

Wetgewing kan egter nie etiek voorskryf nie. Daarom moet 'n pragmatiese benadering gevolg word wat nie te teoreties en te moralisties is nie. Politieke etiek kan nie in motivering en voorneme alleen gegrond wees nie. Dus moet besluitnemers kennis neem van die gevolge en uitkomste van besluite en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar, selfs as dit strydig is met die aanvanklik-gestelde doelwit, óf daardie doelwit verydel of tot niet maak.

Inderdaad word die waarde van etiek in 'n maatskaplike konteks hoofsaaklik gemeet aan gevolge en uitkomste. Wette wordgerespekteer of gekritiseer vanweëhul uitkomste en impak, hul gevolge, nie hul breë doelwitte nie. 'n Sprekende voorbeeld is die sage rondom die South African National Roads Agency Limited (SANRAL) se Gauteng e-tol padnetwerk. Duidelik was dit die eerste tekens van passiewe verset, gevolg deur heelwat ander, wat óf openlik óf verskuil plaasvind.

In alle politieke tradisies word etiese verantwoordelikheid in die politiek voortdurend aangespreek. Die pendulum swaai voortdurend tussen twee uiterstes: etiek as 'n verwysing-raamwerk vir die politiek, en politiek geheel en al ontkoppel aan enige etiese verantwoordbaarheid.

Korrupsie is die misbruik van openbare ampte, of toevertroude gesag, vir persoonlike wins. Dit ondermyn instellings, vernietig lewens en gemeenskappe, bring menslike lyding mee (burgers wat afgepers word vir omkoopgeld om toegang tot openbare dienste te verkry), lei tot mislukking in die lewering van basiese dienste (soos skoon water, sanitasie, onderwys, gesondheidsorg, openbare vervoer, en persoonlike veiligheid), ontspoor die bou van noodsaaklike infrastruktuur, en ontketen algemene woede onder die bevolking. Dit lei daartoe dat gemeenskappe gedestabiliseer en gewelddadige konflik aangewakker word. Voorbeelde hiervan is die voortdurende diensleweringsproteste in verskeie dele van die land, wat heel dikwels in geweld ontaard.

Mense is korrup wanneer hulle gewillig is om toe te gee aan oneerlike, immorele of onwettige gedrag in ruil vir finansiële gewin, óf om 'n voordeel te verkry. Korrupsie verwys na praktyke en optrede, veral van mense in gesagsposisies, wanneer hulle die mag of vermoë het om korrup te wees, die geleentheid hom voordoen om korrup te wees, en die motivering bestaan om korrup te wees. Korrupsie floreer omdat die staat gebruik kan word as 'n meganisme om opwaartse mobiliteit of patronaatskap te verseker, en sodoende die weg te baan vir private toegang tot openbare hulpbronne. Sodoende word staatsmasjinerie die weg deur middel waarvan elites rykdom bekom, eerder as om te dien as 'n regstellende meganisme om maatskaplike geregtigheid en volhoubare ontwikkeling te bevorder. Daar bestaan daarom 'n behoefte om strategieë te ontwikkel wat die private akkumulasie van rykdom deur middel van korrupsie ontkoppel aan toegang tot openbare ampte deur middel van die politiek.

 

DIE ETIESE HEKSAGOON

Dríe faktore is van fundamentele belang in die politiek en lê aan die kern van Benoit Girardin se Etiese Heksagoon (hy stel dit voor as 'n Ethical Tree): die inperking van regeringsgesag of mag, doeltreffende, maar bevoegde, bekwame regering, en die verantwoordbaarheid of deursigtigheid van regering. Sodra politieke maghebbers die inperking van gesag aanvaar en dit sien as positief en noodsaaklik, stelsels soepel, doeltreffend en oplossingsgeoriënteerd is, en besluitnemers verantwoordbaar gehou word, staan beleidsrigtings 'n veel beter kans om stabiel, aanvaarbaar en volhoubaar te wees, en kan moontlike risiko's voorsien en voorkom word (sien Diagram 1).

Geregtigheid lê aan die wortel van etiese politiek en etiese beleidsrigtings. 'n Billike vlak van geregtigheid werk soos messelklei, soos gom wat 'n samelewing saambind. Geregtigheid, veral as dit as sodanig gesien word, voed vertroue in gesag en politieke mag onder die burgery - veel meer nog, as burgers oortuig is dat die oppergesag van die reg geld en op een en almal, ongeag status of posisie, van toepassing is. Geregtigheid vorm ook die basis van die etiese heksagoon, verskaf aan regimes 'n betroubare en vasstaande fondament, en bied aan die burgery die geleentheid om in vrede in 'n pluralistiese samelewing te lewe.

Die etiese heksagoon bestaan uit ses bondels van kardinale waardes - dit hou verband met inwaartse en uitwaartse perspektiewe en basiese politieke vereistes vir maatskaplike samehorigheid. Die oorhoofse sambreelterme vir hierdie bondels is Verantwoordelikheid en Vryheid; Vrede en Veiligheid; Identiteit en/in Verskeidenheid (Diversiteit); Volhoubaarheid; Samehorigheid (Solidariteit); en Billikheid en die Oppergesag van die Reg.

Politieke gesag loop 'n groot risiko as dit nie daarin slaag om 'n minimum kwalitatiewe drempeltelling in al ses waardebondels te bereik nie, of ten minste in sommige van die ses waardebondels, soos in die geval van "mislukte" state wat uiters broos is en op die punt van ineenstorting staan. 'n Gemiddelde telling is nie voldoende nie. Wanneer goeie tellings in sommige waardebondels behaal word teenoor besondere swak tellings in ander, is 'n regime uiters ongebalanseerd en daarom in gevaar. Dit is beter om voldoende tellings in elk van die ses waardebondels te behaal, eerder as om slegs in sommige van die ses goed te vertoon.

Heel dikwels ontstaan omstandighede waarin waardes in stryd met mekaar verkeer en elkeen op voorkeurbehandeling aanspraak maak. Veiligheid, geregtigheid en volhoubaarheid kan nie bereik word sonder 'n kompromis met billikheid nie. In handelsaangeleenthede vind state dit moeilik om 'n keuse te maak tussen verantwoordelikheid en billikheid (vrye toegang vir landbouprodukte, geen verskuilde geldelike steun of subsidies vir besighede, en so meer). Oor die omgewing is daar 'n voortdurende noodsaak vir kompromieë tussen volhoubaarheid en samehorigheid, verantwoordelikheid, billikheid, veiligheid, en identiteit. Binnelandse konflikte met internasionale implikasies word vasgevang in besluitloosheid tussen veiligheid, identiteit en verskeidenheid, vryheid en verantwoordelikheid, tot op 'n punt dat billikheid en samehorigheid op die spel geplaas word. Om inskiklik te wees teenoor minderhede en etniese spanning te ondervang, vereis dat nie net alleen billikheid en veiligheid nie, maar ook eenheid en/in verskeidenheid verseker moet word.

Morele dilemmas is die daaglikse brood en botter van die politiek: die vermindering van voertuiguitlaatgasse teenoor die ontwikkeling van vervoerstelsels, besuinigingsmaatreëls teenoor ekonomiese groei, doeltreffendheid teenoor vryheid, samehorigheid (solidariteit) teenoor verantwoordelikheid, en daadwerklike optrede teenoor besluitloosheid. Die vraag is of dit toelaatbaar, moreel regverdigbaar is om growwe menseregte-vergrype ongehinderd of ongestraf te laat voortgaan? Hier kan verwys word na hedendaagse gevalle soos dié in Sirië, die Soedan, en Myanmar, om maar net 'n paar te noem. Dog, politieke besluite word heel dikwels vasgevang tussen doeltreffendheid en vinnige optrede onder leiding van sterk leierskap, of legitimiteit (regmatigheid) en 'n langdurige proses van raadpleging en onderhandeling.

 

WAARDES EN BELANGE IN INTERAKTIEWE REGERING

Waardes wys op wat paslik, beter, meer doelmatig is, 'n "bestel of orde van die goeie", en is dié soort beginsels waarop mense nie bereid is om te kompromitteer nie. Waardes (etiek) en belange (politiek) is kruissnydend en oorvleuel (sien Diagram 2). In die politiek is waardes sonder belange netso gevaarlik as belange sonder waardes. Albei is noodsaaklik en hulle bestaan in 'n kreatiewe, skeppende spanning met mekaar. Die samevalling van, of die konver-gensie tussen, die politiek en etiek bly altyd broos en is nooit, indien ooit, vanselfsprekend of verseker nie (norme, aan die ander kant, verwys na voorskrifte en gebiedende noodsaaklikhede).

Weens uiteenlopende etiese standpunte en perspektiewe is die deel van waardes absoluut noodsaaklik vir interaktiewe regering om gemeenskaplike belange te dien. Vorme van interaksie is oop, kompleks en veranderlik óf wisselvallig. Regerings mag bepaalde kort- of langtermynperspektiewe hê, besigheidskorporasies sal oor die langer termyn daarna strewe om hulpbronne en markte te verseker, vakbonde sal die belange van hul werkers wil bevorder, die burgerlike samelewing (verenigings, die media, dinkskrums) mag op emosionele kitsoplossings aandring óf 'n bewustheid vir langtermynvolhoubaarheid openbaar, en multilaterale instellings en internasionale NRO's mag vêrsiende doelstellings hê, óf bloot die speelbal van konflikterende partye word. Hoewel politiek hoofsaaklik die verantwoordelikheid van die staat (die regering, beleidsformuleerders, die burokrasie) is wat leierskap moet voorsien, is die private sakesektor, die burgerlike samelewing (georganiseerde verenigings, die media, dinkskrums), en vakbonde toenemend invloedryk, geniet hulle meer en meer geleenthede om insette te lewer, en is hulle in staat om hul eie belange en waardes te bevorder. Van deurslaggewende belang is om ontvanklik te wees vir 'n verskeidenheid van perspektiewe en belange, en om kompromieë te smee sonder om een stel belange te onderspeel of te verwerp (sien Diagramme 3 en 4).

Die kompleksiteit en onvoorspelbaarheid van uitkomste, gevolge en trefkrag (die impak) van besluite beteken dat alle rolspelers moet kan staatmaak op gedeelde waardes, gevorm deur 'n proses waarin alle akteurs die riglyne of grondreëls eerbiedig. Te dikwels vergeet menige openbare amptenare die werklike doel waarvoor hulle deur die belastingbetaler in diens geneem en betaal word. Sodoende word die gebrek aan, of die verlies van, 'n openbare diens-leweringsetiek die doodsteek vir openbare diens self. Dis daarom ook nie verbasend nie dat regerings merendeels burokraties, oudmodies, ondoeltreffend, onbuigsaam (rigied), opgeblase, en verkwistend geword het.

Die belangrikste eienskap van interaktiewe regering (in wese, die herskepping daarvan) is dat dit die mens, die indiwidu, as die middelpunt, die spil sien waarom alles moet draai. In werklikheid het die erkenning, die besef dat regerings bestaan om die burgery te dien, die soeke na 'n nuwe regeringsparadigma gedryf. Soos die sfeer van regeringsaktiwiteite mettertyd verbreed het, het die openbare amptenary meer soos meesters en heersers begin optree; en namate die burokrasie 'n feitlike monopolie oor dienslewering verkry het, het die beheptheid met reëlgebondenheid stelsels ondoeltreffend en ongevoelig teenoor die belange en behoeftes van die algemene publiek gemaak. In die proses is die etos van openbare diens verwring, indien nie 'n noodlottige doodsteek toegedien nie, en dienslewering vind plaas op 'n wyse wat op die wense en gerief van die regering gefokus is, eerder as op die behoeftes en voorkeure van die publiek. Dus het die lewering van 'n beter en meer doeltreffende diens aan die burgery in vele opsigte die toets vir die regering se vermoë geword om sy legitimiteit (wettigheid) te hervestig en die vertroue van die publiek terug te wen. Dit sal tyd neem om die heersende burokratiese kultuur te verander, asook die oorgang na 'n nuwe regeringsparadigma te bestuur. Inderdaad, om 'n regulatoriese regime en struktuur te skep wat eerlik, betroubaar, onge-kompliseerd en terselfdertyd streng afdwingbaar is, is miskien die grootste uitdaging vir enige regering. Vir 'n regulatoriese regime om doeltreffend te funksioneer, is 'n dwingende voorwaarde 'n kerngesonde regbank en regstelsel, asook die bestaan van 'n regsorde (die oppergesag van die reg, regsoewereiniteit) -waarvan nie een van die twee in ontwikkelende lande as vanselfsprekend aanvaar kan word nie.

 

SLOTOPMERKINGS

Dit word nog steeds betwis of die vernaamste dryfkrag van etiek in die politiek die algemene nut, openbare welsyn, geregtigheid, billikheid, gedeelde waardes, of gemeenskaplik-gekontrakteerde belange is. Inderdaad, weifel die verhouding tussen die politiek en etiek meestal tussen 'n baie noue verbintenis en 'n bykans algehele, wedersydse uitsluiting. Daarom duur skeptisisme oor die toepaslikheid van etiek in die politiek gevolglik voort. Dit word gevoed nie net alleen deur die belewenis van menslike onvermoë, tekortkominge en rampspoed nie, maar ook deur die voortdurende kloof tussen verklaarde voorneme en praktiese uitvoering (implementering), belofte en volvoering (realisering).

Terwyl 'n intense herlewing van etiek vandag waargeneem kan word op terreine soos gesondheidsorg en mediese ingrepe, ekonomiese en korporatiewe sakepraktyke, en in omge-wingsaangeleenthede, bly die politieke sfeer grootliks onaangeraak deur enige etiese oor-wegings, óf word dit doodeenvoudig geïgnoreer. Politieke en staatsdiens (burokratiese) elites wat die vernaamste besluitnemers is, sal daarom moet bewys dat hulle die nodige politieke wil het om bestaande wette af te dwing, om die stelsels van deursigtigheid, integriteit en verantwoordbaarheid te versterk, en om meer in terme van almal se belange (die samelewing as geheel) te dink, nie in terme van die bevordering van hul eie, persoonlike belange nie.

Dit is duidelik dat die wêreld en Afrika, ook Suid-Afrika, by 'n kruispad staan. Die politiek en openbare diens kan nie langer etiese uitdagings ignoreer of afwysend daarteenoor staan nie, hoe dit ook al hanteer mag word. Wat vandag in die politiek en openbare lewe voorgehou word as integriteit, etiek, deursigtigheid en verantwoordbaarheid is grootliks afgewater. Daar is minder van 'n verwagting dat eerlikheid, openhartigheid en morele optrede sal geld, en daarom word al hoe minder ag daarop geslaan as hierdie deugde afwesig is. Die burgery word gewoond gemaak aan beeldpoetsing, die glibberige uitlatings van woordvoerders, oppervlakkige frases en eufemismes, en die verdoeseling (verskansing, geheimhouding) en vertragingstaktiek wat die politiek en openbare lewe kenmerk.

Die klaarblyklike gevolge vir 'n demokratiese samelewing en regering is daarom geensins bemoedigend nie.

 

NOTA

Hierdie stuk is 'n verwerking van die kragpuntvoordrag wat op 4 Mei 2017 gelewer is tydens die Eerste Afrikaanse Politieke Wetenskappe-Kollokwium op die Potchefstroomse Kampus van Noordwes-Universiteit (NWU), in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). Dit is 'n vertaling uit Engels van 'n kragpuntvoordrag (ongepubliseerd) wat aangebied is tydens 'n konferensie in Kigali, Rwanda op 26 Junie 2014. Hierdie teks kan dus gesien word as 'n opsomming (in Afrikaans) van 'n onlangs gepubliseerde boekbydrae deur die outeur - vir 'n breedvoerige hantering van die onderwerp, sien Venter, Denis. "Girardin's 'Ethical Hexagon': Democratie Governance and the Role of Ethics in Politics and Public Service", in Haque, Shamsul, Shyaka, Anastase & Mudacumura, Gedeon (eds). 2017. Democratizing Public Governance in Developing Nations. London: Routledge, pp. 84-108.

 

 

Denis Venter was tussen 1978 en 1999 die Hoofnavorser in Politiek en Internasionale Betrekkinge en, voor sy uittrede, Uitvoerende Direkteur aan die Afrika-Instituut van Suid-Afrika. Na voor- en nagraadse studie aan die Universiteit van Pretoria, behaal hy die DLitt et Phil-graad in Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria. Sedert 2000 bedryf hy 'n eenheid vir politieke en ekonomiese risiko-analise, Africa Consultancy & Research. Vir 'n dekade (1995-2005) dien hy as Vise-Voorsitter van die Raad van die Inter-nasionale Afrika-Instituut (IAI) in London. Van Augustus 2010 tot Junie 2011 beklee hy die Nelson Mandela-Leerstoel in die Sentrum vir Afrikastudies, Skool vir Internasionale Studies aan die Jawaharlal Nehru-Universiteit, New Delhi, Indië. Met sy terugkeer na Suid-Afrika word hy aangestel as Senior Navorsingsgenoot in Politiek en Regeerkunde (2012-) aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), en Navor-singsgenoot in Politieke Studies en Regeerkunde (2013-) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein. Hy publiseer talle vakkundige artikels en boekbydraes:een van die mees onlangse is "Tackling Corruption in Politics and Public Service: Instruments to Enhance Integrity in Governance", in Davis, Brenda (ed.). 2016. Corruption: Political, Economic and Social Issues. Hauppauge (NY): Nova Science Publishers, pp. 61-91. Between 1978 and 1999,
Denis Venter was Chief Researcher in Politics and International Relations and, prior to his retirement, Executive Director at the Africa Institute of South Africa. After graduate and post-graduate studies at the University of Pretoria, he obtained a DLitt et Phil degree in Political Sciences at the University of South Africa in Pretoria. Since 2000, he has been managing a political and economic risk analysis unit, Africa Consultancy & Research. For a decade (1995-2005) he served as Vice-Chairman of the Council of the International African Institute (IAI) based in London. From August 2010 to June 2011 he was the Nelson Mandela Chair Professor in the Centre for African Studies, School of International Studies at Jawaharlal Nehru University, New Delhi, India. Upon his return to South Africa he was appointed Senior Research Fellow in Politics and Governance (2012-) at the University of Johannesburg (UJ), and Research Associate in Political Studies and Governance (2013-) at the University of the Free State (UFS) in Bloemfontein. He has published numerous scholarly articles and book contributions, one of the most recent being "Tackling Corruption in Politics and Public Service: Instruments to Enhance Integrity in Governance", in Davis, Brenda (ed.). 2016. Corruption: Political, Economic and Social Issues. Hauppauge (NY): Nova Science Publishers, pp. 61-91.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License