SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue1RedakteursnotaCan Althusius save the politocrats? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.1 Pretoria Jan. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n1a10 

AKTUEEL: DEBAT
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Gemeenskappe in 'n gedifferensieerde samelewing

 

Communities within a differentiated society

 

 

Danie Strauss

Skool vir Filosofie Noordwes-Universiteit Potchefstroom Kampus E-pos: dfms@cknet.co.za

 

 


OPSOMMING

Op die basis van verskillende tipes grondbegrippe ondersoek hierdie artikel die aard van verskillende wyses van omgang en verkeer in 'n gedifferensieerde samelewing - as alternatief op die eensydighede van individualistiese en universalistiese samelewingsbeskouings. Jellinek verwys selfs na hierdie twee sienings as wêreldbeskouings. Dit verantwoord die aard van maatskapsverhoudinge, gemeenskapsverhoudinge en verbandsverhoudinge en sluit af met 'n saaklike bespreking van enkele grondmomente van die wysgerige grondidee waarmee Goosen opereer.

Trefwoorde: Geheel-dele, individualisme, atomisme, universalisme, holisme, polis, vorm-materie motief, elementêre grondbegrippe, saamgestelde grond-begrippe, tipe begrippe, begripstransenderende kennis, solidêre eenheidskarakter, permanente gesagstruktuur, maatskapsbetrekkinge, gemeenskappe, verbande, soewereiniteit-in-eie-kring, logiese skepping, redelike orde.


ABSTRACT

As modes of existence and modes of explanation the aspects of reality call for an idea of what is unique and mutually cohering. Two mutually exclusive ismic orientations, known as individualism (atomism) and universalism (holism) dominated theoretical reflection on human society since ancient Greece. Goosen's preference for community brings to expression a positive appreciation of the main traits of the Greek city state (the polis) as well as a positive inclination towards the ideas on state and society in the thought of Plato and Aristotle. Jellinek even depicts these two isms as opposing world views.
In addition the history of reflecting about human society knows attempts to understand societal entities as imitating living organisms. Vitalism faced the obstacle of closed physical systems only allowing for a stasis or increase of entropy, until Schrödinger pointed out that a living entity, as an open system, can extract more order from its environment than what it can built up internally within itself. Multiple societal entities exist on the basis of a similar continuous exchange of their members. Analogies of the most basic aspects of reality are indeed constitutive for the meaning of the social intercourse. Physical entities exist, plants are alive, animals are experiencing their world, while humans lead a life, guided by normative points of view.
The interconnections between entities, as they are manifested in enkaptic relations and subject-object relations, shed a different light on the way in which Goosen speaks about things as "mere objects," particularly when the opening-up of object-functions is contemplated. In addition it should be realized that terms derivedfrom any modal aspect could be employed in a conceptual as well as a concept-transcending manner. For example, concept-transcending (idea-)statements exploring the first four aspects are: (i) everything is unique; (ii) everything coheres with everything else; (iii) everything is constant and (iv) everything changes. It is applied to what Goosen holds regarding the "incomprehensibility" but at once "beaming fullness" of things.
The different ways in which we can classify social interaction depend on all the constitutive (modal analogical) structural elements within the social aspect. An analysis of these total concepts enables a classifcation of social forms of interaction into three distinct categories, identified on the basis of two structurally specified features, namely (a) a solidary unity character (the coming and going of members do not affect the enduring identity of the social form of life) and (b) a permanent relation of super- and subordination.
When both of the features are present we encounter societal collectivities (Afrikaans: "verbande") - such as the state, a church or mosque, a firm, a university or a nuclear family. If only one of them is present communities are at stake and when both are absent co-ordinational (co-ordinated) relationships are encountered. Rousseau is used to illustrate a distorted application of the whole-parts scheme which resulted in the idea of "forcing people to be free." The idea of the political whole (the state) as the community of communities misunderstands the nature of citizenship and at once eliminates the sphere-sovereignty of the non-political communities and societal collectivities. Johannes Althusius was the first legal scholar who realized that churches, business enterprises and the like are not parts of the state, because genuine parts could only be provinces and municipalities.
Acknowledging the principle of sphere-sovereignty underlies an account of the differences between civil and non-civil private law, as well as public law while acknowledging public legal freedoms, civil freedoms and societal freedoms. A human being can assume multiple social roles without ever being fully absorbed by anyone of them.
Goosen has the sound insight that constancy and change should both be acknowledged. Unfortunately some of his formulations still contain elements of the space metaphysics of Parmenides. This is rather strange because he objects to a spatializing method of thinking, but does not realize that he then should also steer clear of employing the whole-parts relation, because in its original sense it has a spatial meaning as well.
The problematic idea of Goosen regarding a "rational order" is questioned because it contradicts his correct principled stance against the conception of the construction ofreality. It still reflects the idea of logical creation - an idea found in the thought of Hobbes. This element of nominalism reached its rationalistic peak in the view of Kant according to which human understanding is the formal law-giver of nature. The God-given creational order is intelligible but not rational.
The so-called "transcendentalia" of Greek-Medieval philosophy, namely unity, truth, beauty and goodness, are actually a poor, one-sided and extremely reductionist account of the multiple modal aspects of reality. Their selection ultimately depends upon die ground-motive of form and matter directing Greek philosophy.
There does not exist an all-encompassing human community, and if it is contemplated, for example the political domain as a community of communities, the inevitable consequence will be that the principle of sphere-sovereignty is jeopardized and that no limits could be set to the authority of government.

Key words: Whole-parts, individualism, atomism, universalism, holism, polis, form-matter motive, elementary basic concepts, compound basic concepts, type concepts, concept-transcending knowledge, solidary unitary character, permanent authority structure, co-ordinational relationships, communities, societal collectivities, sphere-sovereignty, logical creation, rational order.


 

 

1. VOORKEUR VIR DIE AARD VAN 'N GEMEENSKAP

Goosen en Malan staan tereg krities teenoor die individualistiese (atomistiese) erfenis. As alternatief bejeën hulle die geheel-dele relasie positief. In sy werk oor gemeenskap en plek stel Goosen tewens pertinent dat hy nie "die gemeenskapsgedagte slegs op 'n neutrale wyse" wil "beskryf" nie, aangesien hy "eerder 'n voorkeur vir die gemeenskapsgedagte" wil uitoefen (Goosen 2015:115).

Daarmee word teruggegryp na die Griekse gemeenskapsidee, soos wat dit vergestalt is in die polis (stadstaat) en in die wysgerige denke van Plato en Aristoteles. Hul verstaan van die moderne territoriale staat word weliswaar negatief gekleur deur dit as "staatlikheid" te tipeer - wat vir hul besef impliseer dat "staatlikheid" staatsideologies verstaan moet word - in die negatiewe sin van die woord.

 

2. TWEE TEËGESTELDE WÊRELDBESKOUINGS

Die teenoorstelling van atomistiese en holistiese (individualistiese en universalistiese) sienings is uiteraard nie nuut nie want dit gryp enersyds terug na die Griekse denke (Kallikles en Protagoras) en andersyds na Plato en Aristoteles. Die universalistiese erfenis is feitlik deurgaans tegelyk aan 'n organiese perspektief verbind, soos tewens ook blyk uit Gunnar Myrdal se kensketsing daarvan - die utilitaries-liberalistiese atomisme aan die een kant en die toenemend heterogeen-organiese benadering aan die ander kant.1 Van groter belang is wat Jellinek (1966:174) uitlig, naamlik dat dit ten diepste oor twee wêreldbeskouings handel.

Onderliggend aan hierdie stellingnames is die algemeen-wysgerige probleem van eenheid en verskeidenheid. Goosen dui selfs die "aard van die politieke werklikheid" aan as "die spel tussen eenheid en veelheid" (Goosen 2016:223). Die ewe fundamentele relasie tusssen 'n geheel en sy dele vind sy "modale tuiste"2 in die ruimte-aspek, hoewel dit tegelyk in getalsverhoudinge (die ene en die vele) gefundeer is - soos duidelik blyk uit die (suksessief-) oneindige verdeelbaarheid van 'n kontinu-samehangende geheel - soos wat dit deur Zeno uit die skool van Parmenides ontdek is en deur Aristoteles opnuut verder gevoer is. Dink bloot aan Aristoteles se waardering van die polis wat as politieke geheel aan die familie en die enkeling voorafgaan, 'n gevolgtrekking wat daaruit voortvloei dat die geheel aan die deel voorafgaan:3

Daarom gaan die staat, kragtens sy natuur, vooraf aan die familie en die individu, aangesien die geheel aan die deel moet voorafgaan.4

Die algemeen-wysgerige probleem wat hier na vore tree, kan ook beskou word as die vraag na 'n grondnoemer of vergelykingsnoemer met behulp waarvan sinvol van die verskeidenheid in die werklikheid rekenskap gegee kan word.

Wanneer getals- of ruimte-verhoudinge tewens tot die allesomvattende verklaringsbeginsel (vergelykingsnoemer) verhef word, betree ons die domein van die twee teëgestelde eensydige isme-oriëntasies wat ons sopas met verwysing na Jellinek vermeld het. In die loop van die 20ste eeu kan ook tussen metodologiese individualisme (atomisme) en metodologiese universalisme (holisme) onderskei word. Let egter daarop dat die term universalisme hier verwys na 'n oorspanning van die ruimtelike geheel-dele relasie want dit bevat 'n antwoord op die bogemelde vraag na 'n grondnoemer of vergelykingsnoemer5

Die bedoeling is dat hierdie artikel nader ingaan op die aard van sosiale omgangsvorme (maatskaps-, gemeenskaps- en verbandsverhoudinge - teen die agtergrgond van Strauss 2017a). Enersyds vra hierdie argumentasielyn aandag vir die rol van die verskillende analogiese grondbegrippe wat binne die struktuur van alle werklikheidsaspekte aangetref word en wat hier in die besonder binne die sosiale aspek na vore tree. Andersyds sal dit blyk dat dit oor saamgestelde grondbegrippe handel wat hierdie besinning sal rig op die plek en aard van gemeenskappe in 'n gedifferensieerde samelewing. Globaal gesien moet derhalwe rekenskap gegee word

(i) van elementêre (analogiese) modale begrippe (funksie-begrippe)

(ii) van modale totaal-begrippe (saamgestelde grondbegrippe) en

(iii) van struktuur-tipiese (entiteits-)begrippe.

 

3. FUNKSIE-BEGRIPPE EN ANALOGIESE GRONDBEGRIPPE

Gödel het begryp dat die verband tussen verskillende unieke aspekte op "primitiewe terme" appelleer wat slegs met behulp van 'n intuïtiewe insig (skou) verstaan kan word - en dat die sin van sulke primitiewe terme tot openbaring kom in die konneksies of relasies wat tussen hulle bestaan (Yourgrau 2005:169). Bedink byvoorbeeld dat in die ooreenstemmende moment van uitgebreidheid tegelyk die verskil tussen fisiese ruimte en matematiese ruimte na vore tree - waarmee die aard van 'n analogie belig word.6

Hoewel die begrip afstand in die eerste plek 'n ruimte-term is, het Bogardus in 'n ander konteks die frase sosiale afstand vir die eerste keer in 1928 gebruik.7 Hierdie begrip berus op die ruimte-analogie binne die struktuur van die sosiale aspek. Dink byvoorbeeld aan die lyfwag van die President van 'n land wat normaalweg naby aan die President is, hoeseer daar tegelyk 'n groot sosiale afstand tussen beide bestaan.

Wanneer Goosen oor verskillende gemeenskappe skryf, verwys hy onder meer na matriargale ordes wat "hulself as onlosmaaklik deel van 'n oer-eenheid ten grondslag van alle dinge ervaar" sodanig dat "'n afstand met betrekking tot die oer-eenheid toe nog ontbreek het" - en tesame daarmee die moontlikheid van wetenskaplike denke. In wetenskaplike denke word tewens afstand geneem van die geheel "om dit as't ware van 'buite af' te beskryf" (Goosen 2015:122). Sodanige "gebrek aan afstand" staan ook in die weg van "beheer oor die werklikheid" meen Goosen (2015:122-123). Dit gaan duidelik vir Goosen nie bloot oor "sosiale afstand" nie. Hy sluit immers by die "tradisie" aan waarvolgens "die geheel as 'n gemeens-kapsgebeure ervaar" is (Goosen 2015:86). Die terme "geheel" en "gemeenskap" vervul duidelik 'n sleutel-rol in Goosen se denke.

 

4. BEPERKINGS VAN DIE GEHEEL-DELE RELASIE

Bedink hierby dat 'n ruimtelike geheel homogeen is want elke deel openbaar dieselfde eienskappe as die geheel - dit is ook kontinu en oneindig verdeelbaar. Die baan of trajek van 'n bewegende liggaam belig 'n ruimte-analogie in die kinematiese aspek. Die toepaslikheid van die geheel-dele relasie kan egter nie toereikend van die verhouding tussen atoom en molekuul rekenskap gee nie (Strauss 2017a).

'n Biotiese geheel is nie meer homogeen nie, terwyl 'n fisiese geheel dit wel is. Nogtans besit elke egte sout-deeltjie steeds dieselfde sout-struktuur, NaCl - maar nie Na apart en Cl apart nie. Oeing-Hanoff (1976:306) verwys na water (fisies homogeen) en 'n perd (bioties heterogeen): "elke deel van 'n individuele druppel water is water, maar elke deel van 'n perd is nie 'n perd nie". Organiese lewe dui op die teenwoordigheid van 'n menigvuldigheid organe wat saamgebind word in die eenheid van lewende dinge.8

In die lig van die feit dat lewende dinge 'n menigvuldigheid organe duursaam saambind, is dit begryplik dat sienings van die menslike samelewing van oudsher af na analogie van lewende "organismes" beskryf is. Telkens, wanneer hierdie analogie nie as 'n analogie verstaan word nie, lei hierdie benadering tot 'n identifisering van die samelewing en 'n organisme. Auguste Comte verteenwoordig 'n universalisties-organisistiese denkwyse9 terwyl Herbert Spencer 'n individualistiese organisisme voorstaan (Spencer 1968:22).

 

5. ORGANIESE STABILITEIT BERUS OP FISIESE ONSTABILITEIT

Die vitalistiese agtergrond van "organisistiese" benaderings het nog aan die idee van geslote sisteme vasgehou - waardeur 'n vermeende immateriële lewenskrag die tweede hoofwet van die termodinamika sou suspendeer (die wet van nie-afnemende entropie wat bepaal dat in 'n geslote sisteem steeds die mees waarskynlike toestand bereik sal word).

Die toenemende orde wat in lewende dinge na vore tree beteken dus (skynbaar) dat lewende dinge die tweede hoofwet oortree. Von Bertalanffy het egter hierdie wet tot oop sisteme veralgemeen wat hy as 'n vloeiende ewewig [Fliessgleichgewicht] aandui.

In sy geskrif oor die Fisiese Aspek van die Lewende Sel praat Schrödinger van "negatiewe entropie". Schrödinger wys daarop dat lewende dinge die snelle verval tot 'n inerte toestand van ekwilibrium probeer vermy en wel deur negatiewe entropie as voedsel te gebruik (WEB weergawe bladsye 46-47). Vanuit 'n biochemiese en biofisiese gesigspunt beredeneer Trincher die tipiese wyse waarop lewende entiteite in die fisies-chemiese aspek van die werklikheid funksioneer en belig tegelyk belangrike implikasies van die insig dat lewende dinge, termodinamies gesien, oop sisteme is.10

 

6. LEDE-WISSELING - DIE FISIESE ANALOGIE VAN OOP SISTEME IN DIE SOSIALE ASPEK

Binne die struktuur van die sosiale aspek tref ons uiteraard ook 'n analogie van termodinamiese oop sisteme aan - met name wanneer verreken moet word dat talle samelewingsvorme eweseer berus op die uitwisseling van individuele lede sonder dat dit die duursaamheid of identiteit van die betrokke samelewingsvorme ophef. Hierdie analogie verwys dus na wat in die biofisika en die biologie as stofwisselingsprosesse aangedui word.

In die besonder kan ons dink aan samelewingsvorme soos die staat, volk, kerk, universiteit, sosiale klub, kunsvereniging en bedryf, want in almal wissel die individuele lede voortdurend. Persone wat tot openbare ampte verkies (of benoem) is, maak mettertyd plek vir ander ampsdraers en funksionarisse, terwyl die individuele onderdane van 'n staat ook voortdurend wissel. Dit geskied deur immigrasie en emigrasie, asook deur sterfgevalle en nuut-gebore kinders wat eventueel aan die vereistes vir burgerskap beantwoord. Insgelyks wissel kerklike ampsdraers en kerklidmate, dosente en studente, werkgewers en werknemers, en so meer.11

Samelewingsvorme waarin daar 'n voortdurende wisseling van lede plaasvind omvat hierdie lede as deel van 'n groter geheel en nié ongedifferensieerd bloot as individue nie. Goosen maak daarom tereg beswaar teen die idee van 'n "vryswewende individu" waar "gemeenskap" slegs 'n "kunsmatige byvoegsel tot die individu is" (Goosen 2015:39, 81, 89). Hoewel Luckmann en Berger (1967:51) dit nie in terme van basiese ontologiese onderskeidinge verduidelik nie, beklemtoon hulle dieselfde perspektief.

Die lede-wisseling van bepaalde samelewingsvorme hef nie die duursaamheid of identiteit daarvan op nie. Ons kan verkieslik van die solidêre eenheidskarakter van 'n samelewingsvorm praat.

Benewens die gebruik van kinematiese en fisiese analogieë (sosiale konstansie en sosiale dinamiek), is biotiese analogieë eweseer onvermydelik. Dink bloot aan die reeds vermelde frase "sosiale lewe" en verwante uitdrukkings soos sosiale differensiasie en integrasie, sosiale groei, sosiale aanpassing en sosiale organisasie. Selfs een van die leidende hedendaagse sosioloë, Anthony Giddens (1986:163), begryp nie dat dergelike analogiese grondbegrippe onvermydelik is nie, hoeseer hy die frase "social life" gebruik.

 

7. RELEVANTE ONDERSKEIDINGE VAN 'N NIE-REDUKSIONISTIESE ONTOLOGIE

Die ruimtelike geheel-dele relasie is 'n modale funksiebegrip wat betrekking het op alle moontlike klasse van dinge. Aspekveelsydige entiteite het daarenteen altyd bloot op 'n beperkte klas van (of tipe van) dinge betrekking. Wanneer byvoorbeeld van lewensruimte gepraat word het dit slegs op lewende dinge betrekking en nie alle moontlike dinge nie. Lewensruimte staan ook as die habitat van lewende dinge bekend, of as die bio-milieu daarvan (Umwelt). Tog is die relasie tussen 'n dier en die Umwelt daarvan verskillend van dit wat ons by die mens en sy Umwelt vind. Gostonyi (1976:902) merk op dat die dier ingebed in sy Umwelt gebore word, terwyl die mens sy "wêreld" "verower". Stoflike dinge bestaan, plante leef, diere beleef (ervaar) en mense voer hul lewe (onder leiding van normatiewe gesigspunte wat 'n keusevryheid veronderstel).

Die struktuurtipiese wyse waarop entiteite in die verskillende aspekte funksioneer sluit Goosen (2015) se spreke van "plek" in. Elke gemeenskap en verband funksioneer tewens op 'n tipies-gespesifiseerde wyse in die ruimte-aspek. Goosen (2016:242) verwys instemmend na MacIntire waar hy verkieslik van "deelname aan die lokale gemeenskap" praat "eerder as onderhorigheid aan die sentrum-soekende staat". Hier ontbreek die insig dat die mens gelyktydig deel het aan dit wat ons later as maatskaps-, gemeenskaps- en verbandsverhoudinge sal tipeer.

Goosen (2015:85) lê vervolgens daarop klem dat die "aangewese-wees-op-mekaar" van die dinge nie opgeskort en verskraal moet word tot "stof nie. Dan "word die dinge blote objekte, voorhande goed wat na willekeur ingespan, gebruik en misbruik kan word" (Goosen 2015:89). Sy beswaar sal aan effektiwiteit win indien hy kennis neem van die lig wat 'n nie-reduksionistiese ontologie op hierdie problematiek werp.

Dink byvoorbeeld aan die vervlegting van atoom en molekuul waar die interne werkingsfeer van atome nie deur chemiese verbindinge opgehef word nie. Die lewende sel bestaan op die basis van atome, molekule en makro-molekule - en natuurwetenskaplikes weet dat molekule en makro-molekule nie lééf nie.12

Von Bertalanffy (1973:146) wys ook daarop dat vanuit 'n fisies-chemiese perspektief gesien 'n lewende organisme 'n aggregaat van 'n groot aantal prosesse is wat omskryf kan word met behulp van chemiese formules, wiskundige vergelykings en natuurwette - hy wys treffend op die verskil tussen fisiese en biotiese entiteite: fisiese wette "are not interested in whether dogs are alive or dead" want "[O]ne DNA molecule, protein, enzyme or hormonal process is as good as another; each is determined by physical and chemical laws, none is better, healthier or more normal than the other".

Fisiese gestempelde entiteite besit tegelyk latente objekfunksies in alle na-fisiese aspekte. Water word byvoorbeeld as 'n lewensmiddel deur lewende dinge bioties geobjektiveer. Entiteite soos voëlnessies, spinnerakke en so meer is objektiewe natuurdinge. Objektivering is egter altyd die aktiwiteit van 'n subjek. Die sintuiglike waarneembaarheid van fisiese entiteite is latent en word eers patent gemaak wanneer 'n waarnemingsubjek dergelike entiteite sien, voel, proe of hoor. Alle objektivering veronderstel dus 'n primêr-gegewe subjek. Modale subjekte dui op modale subjeksfunksies wat aan modale wette of norme onderworpe is, terwyl verskillende tipes entiteite aan tipiese natuurwette en tipiese normerende struktuurbeginsels onderworpe is.

Die gemelde opmerking van Goosen, naamlik dat dinge "blote objekte" word, verg derhalwe 'n nadere presisering. Wanneer natuursubjekte in latere aspekte geobjektiveer word, gaan hul oorspronklike subjekfunksies nie verlore nie, dit word slegs ontsluit en verdiep (patent gemaak). Wanneer kultuur-historiese beheersende vorming (kultuurvorming) plaasvind, ontstaan kultuurobjekte wat in die kultuur-historiese aspek gefundeer is. Daarom verskil 'n mooi sonsondergang ('n natuurverskynsel wat deur mens en dier sintuiglik waargeneem kan word) van 'n skildery daarvan (laasgenoemde resulteer in 'n kultuur-histories gefundeerde en objektief-esteties-gestempelde kultuurproduk).13 Objektivering maak dus nie van dinge "blote objekte" nie, want dit berus op oorspronklike subjeksfunksies wat intakt bly.

 

8. DINGE EN SUBJEK-OBJEK RELASIES

Vanuit 'n ruimte-perspektief vorm natuur- en kultuurentiteite almal egte gehele of totaliteite. Daarom open dit die weg tot 'n ryke verskeidenheid van dinge wat sinvol met behulp van die geheel-dele relasie begryp kan word.

Dit is ook moontlik om na alles wat bestaan met behulp van terme uit die eerste twee werklikheidsaspekte te verwys, byvoorbeeld wanneer daar van die heelal gepraat word - dit is die geheel van alles. Elke ding is 'n individuele geheel en kan daarom sinvol met gebruikmaking van 'n besef van onderskeidenheid (getal) en geheelheid (ruimte) beskryf word.

 

9. BEGRIPSKENNIS EN BEGRIPSTRANSENDERENDE KENNIS

Die menslike getalsintuïsie14 en ruimte-intuïsie kan (i) begripsmatig toegespits asook (ii) begripstransenderend gebruik word. In geval (i) word modale terme (funksiebegrippe) aangewend om na gegewens binne die grense van die aspek waaruit die terme kom te verwys (soos wanneer die getal vier ons begrip van die getalsfunksie van 'n stoel aandui of wanneer die ruimtelike afmetings van 'n stoel - lengte, breedte, hoogte - op ons begrip van ruimtelike figure appelleer). In geval (ii) word modale terme gebruik om na gegewens te verwys wat die grense van die betrokke aspek te bowe gaan maar desnietemin met behulp van terme aangedui word wat nog steeds in 'n bepaalde modale aspek hul oorspronklike tuiste vind.

Die uniekheid van 'n stoel berus dus op die aritmetiese kern-sin van diskrete kwantiteit. Wanneer vanuit ons getalsintuïsie oor uniekheid gepraat word, beteken dit nie dat daar bloot oor getalseienskappe gepraat word nie, want die uniekheid van die stoel kom in alle aspekte van 'n stoel tot uitdrukking. Die idee van uniekheid berus met ander woorde op 'n begripstransenderende (of: idee-matige) gebruik van getalsterme.

Ten opsigte van die ruimte-aspek kan ons begripsmatig van die grootte en vorm van 'n stoel praat en idee-matig oor die totaliteit van die stoel handel. Dit gaan dan oor 'n idee van die stoel as geheel, in sy totaliteit en nie bloot oor die ruimte-funksie daarvan of die ruimtelike herkoms van die term totaliteit nie.

Hieruit vloei voort dat ons kategories kan stel dat alles uniek is en dat alles met alles saamhang. Deur die kinematiese en fisiese aspekte ook te betrek kan ons bykomend stel dat alles konstant is en dat alles verander.

Waar Goosen (2015:85) oor die "intrinsieke aangewese-wees-op-mekaar" van die dinge skryf, beklemtoon hy tegelyk dat die "dinge self deur 'n onpeilbare maar glansende volheid gekenmerk is". Die term "onpeilbaar" suggereer iets van wat ons pas as begripstransenderende kennis aangedui het. Dit is ook verwant aan die verduideliking wat Dooyeweerd (2016-III:65)15van die grondleggende idee van die identiteit van 'n konkreet-individuele entiteit gee wanneer hy skryf: "The philosophy of the cosmonomic Idea does not first break up a thing's unity into modal law-spheres, and then, in retrospect, seek unity in a thing. The transcendental Idea of the individual whole precedes the theoretical analysis of its modal functions. It is its presupposition, its cosmological a-priori".

Goosen (2015:85) gebruik die frase "onpeilbaar maar glansende volheid" drie keer op dieselfde bladsy. As 'n gegewe "onpeilbaar" is, moet verduidelik word waarom dit desnie-teenstaande tegelyk ook positief as 'n "glansende volheid" aangedui kan word. Dit is immers dan tog gedeeltelik "peilbaar", naamlik in die glansende volheid daarvan. Hierdie laaste res van bevestigende karakteriserings benut op 'n idee-matige wyse 'n lig-metafoor (dof/glansend) en 'n fisiese ruimte-metafoor (vol/leeg).

Let daarop dat egte metafore verwisselbaar is en relasies tussen aspekte en dinge, dinge en aspekte of dinge en dinge betref. Modale analogieë is daarenteen onverwisselbaar en is derhalwe nié metafore nie - die uitdrukkings kontinuïteit, samehang, gekonnekteerd-wees en die geheel-dele relasie is bloot modaal-ruimtelike wisselterme (kyk Strauss 2012a en 2017a).

Die gegewe dat die entiteitsdimensie in die dimensie van modale aspekte gefundeer is, maak dit moontlik om telkens na die tipiese funderingsfunksie en tipiese kwalifiseringsfunksie van bepaalde entiteite te vra. Dieselfde aantal atome [C4H4O4] lewer byvoorbeeld deur middel van alternatiewe ruimtelike rangskikkings chemies gesien twee verskillende sure (maleïensuur en fumaarsuur) - waaruit ons ondubbelsinnig kan aflei dat hierdie chemiese strukture 'n ruimtelike funderingsfunksie besit en derhalwe nie aritmeties of kinematies gefundeer kan wees nie. Dieselfde insig onderlê die wyse waarop ons later tussen verskillende maatskaps-verhoudinge, gemeenskapsverhoudinge en verbandsverhoudinge gaan onderskei, met name deur na hul onderskeie funderings- en kwalifiseringsfunksies te verwys.

Slegs wanneer iets reëel opgemerk is kan dit teoreties skeefgetrek word. Die Pythagoreërs moes byvoorbeeld iets van die aard van getal raakgesien het om tot die reduksionistiese konklusie te kom dat alles getal is. Alles word sodoende tot 'n blote optelsom herlei.

 

10. 'N SINVOLLE GEBRUIK VAN DIE GEHEEL-DELE RELASIE TEENOOR 'N OORSPANDE BENUTTING DAARVAN

Presies die teenoorgestelde gebeur in die teoretiese werklikheidsbeeld van universalistiese denkers. Hulle het wel die ruimtelike geheel-dele relasie raakgesien, maar toe ten onregte daartoe oorgegaan om die ganse werklikheid in 'n geheel-dele skema in te wring. Sinvolle idee-gebruike van ruimte-terme het sodoende in die slag gebly.

Hierdie twee uiterstes het die westerse denke oor die menslike samelewing gedurende die afgelope twee millennia oorheers. Onder meer is nie daarin geslaag om die bevoegdheid van die staat en die aard van reg sinvol te begrens nie.16

Wat egter treffend en tegelyk verbasend is, is dat beide Goosen en Malan enersyds skerp krities teenoor individualistiese (atomistiese) sienings staan, maar andersyds nie enige blyke daarvan gee dat hulle op hoogte is met die isme wat teenoor die individualisme staan nie, naamlik die universalisme of holisme. Dat hulle 'n positiewe inhoud aan die geheel-dele relasie gee moet uiteraard waardeer word, maar ongelukkig het hulle geen antenna vir die skeeftrekking en verwringing wat in universalistiese sienings opgesluit lê nie. Die verheffing van die geheel-dele relasie tot universele vergelykingsnoemer soos wat dit in universalistiese teoretiese ontwerpe gestalte kry, het beide hierdie denkers nie alleen ontgaan nie, maar belig die gegewe dat hulle ook nog vashou aan elemente van 'n egte universalistiese benadering.

Malan (2011:12) gebruik die term "universalisme" ses keer in sy boek - in verband met universaliteit. Die teenstelling waaroor dit vir hom gaan, is eintlik dié tussen universeel en individueel. Dat 'n teoretiese skeeftrekking van hierdie relasie aanleiding tot rasionalistiese en irrasionalistiese opvattings gee laat ons in hierdie konteks daar (die rasionalisme verabsoluteer universaliteit en die irrasionalisme dit wat individueel is).

Ek het nie die term universalisme in Goosen se 2015-werk raakgeloop nie. Malan en Goosen het dus klaarblyklik geen erkenning aan die keersy of korrelaat van die individualisme (atomisme) verleen nie, met name van die universalisme.

 

11. SOSIALE DIFFERENSIASIE EN INTEGRASIE

Tradisionele samelewings is ongedifferensieerd in die sin dat dit telkens in verskillende hoedanighede optree, nou as 'n ekonomiese bedryfseenheid (hetsy deur jag of landbou), dan as 'n kulties-godsdienstige eenheid en daarna weer as 'n groot-familie of as 'n politieke eenheid.

Veral in die nalewing van (universalisties-)organistiese sosiologiese teorieë word die ruimtelike geheel-dele relasie omvorm deur te onderskei tusssen sosiale sisteme en subsisteme. In die sogenaamde funksionalisme van Parsons, Merton, Alexander en andere is die samelewingsdele veronderstel om funksioneel te wees en wel deur 'n positiewe bydrae te lewer tot die voortbestaan van die hele sisteem. Parsons se bekende AGIL-paradigma is 'n bekende voorbeeld daarvan (A = Adaptation; G = Goal-attainment; I = Integration; en L = Latency).

Münch (1990: 444, 437) praat van die "own inner laws" van sosiale sisteme, terwyl selfs Rawls (1996:262) eweseer van "different principles for distinct kinds of subjects" praat.

 

12. VIER VERDERE (KONSTITUTIEWE) ANALOGIESE GRONDBEGRIPPE

Wanneer die menslike samelewing sodanig differensieer dat selfstandige sosiale entiteite na vore tree, verwerf die lede daarvan 'n gevoel van behoort, gerugsteun deur 'n sosiale bewussyn van ons en hulle. Dit lei dus vanself daartoe dat sosiale identifisering en sosiale onderskeiding plaasvind - die logies-analitiese analogie. Hierdie twee elemente het as gevolg van eensydige beklemtonings aanleiding gegee tot konsensusteorieë (die sisteemteorie) en konflikteorieë (Simmel, Rex & Dahrendorff en die neo-Marxisme).

Die aard van sosiale mag, kontrole en beheer wat in elke samelewing voorkom, betref beide sosiale subjek-objek-relasies (mag oor dinge) en sosiale subjek-subjek-relasies (mag oor mense).

Laasgenoemde word in 'n amp beliggaam omdat dit die kompetensie tot die toepassing van beginsels bevat. Beginsels geld nie vanself nie, dit moet deur die tussenkoms van 'n menslike subjek van krag gemaak, tot gelding gebring of gepositiveer word. Net soos natuurdinge aan natuurwette onderworpe is, is menslike samelewingsvorme en handelinge aan modale en tipiese beginsels onderworpe.

Sosiale omgang en verkeer bevat nog 'n konstitutiewe bou-element, met name die tekenanalogie, wat allereers impliseer dat menslike (sosiale) handelinge interpretasie verg en met sosiale status-simbole gepaardgaan. Onderskeie beklemtonings is deur twee verskillende denk-skole binne die simboliese interaksionisme ontgin: die Chicago en Iowa denkskole.

 

13. ELEMENTÊRE GRONDBEGRIPPE VERG 'N KOMPLEKSE ANALISE

Sosiale konflik (teëspraak) behoort tot sosiale ooreenstemming (instemming) te lei (konsensus). Samelewingsvorme wat 'n relasie van bowe- en onderskikking besit mag nie as sodanig as antinormatief gesien word nie. Gesagsverhoudinge stel immers 'n taak aan die ampsbekleër wat beter of slegter (norm-gehoorsaam of antinormatief) ten uitvoer gebring kan word. Volgens Dahrendorf (1961:126) genereer die grens tussen gesagsdraer en gesagsonderworpene egter konflik. Zeitlin (1973:119) meld ook dat konflik eerder die gevolg van "oppression, exploitation, abuse of authority, and other substantive uses" is. Ook Bühl (1976:24-25) stel krities dat Dahrendorf nie aandag aan die "component of legitimacy of power" skenk nie.

Sosiale interaksie berus derhalwe altyd op die verbale en a-verbale tekens van deelgenote wat op hul beurt interpretasie verg. Tipiese sosiale handelinge - soos die wuif met 'n hand, 'n hoflike groet of die terugstaan om 'n meerdere te laat voorgaan, word almal in sosiale handelinge beliggaam wat bepaalde sosiale konvensies aandui.

Eers wanneer ons al hierdie konstitutiewe bou-elemente van die sosiale aspek verreken (al die terugwysende analogieë), is dit moontlik om tot 'n genuanseerde verstaan van die verskillende wyses van omgang en verkeer in 'n gedifferensieerde samelewing te kom.

 

14. SOSIALE VERKEER IN 'N GEDIFFERENSIEERDE SAMELEWING

14.1 'n Kategorie-fout

Ons wys allereers vlugtig daarop dat die naas-mekaar-stelling van "individu" en "gemeenskap" op 'n "kategorie-fout" berus en wel in soverre daarin 'n vergelyking van appels met pere plaasvind. 'n Individu is immers nie self 'n bepaalde samelewingsvorm nie en moet gevolglik op 'n onderskeie manier betrek word by hierdie debat. Die kern-taak is om rekenskap van omgang en verkeer te gee sonder om in die impasse wat in die eensydige aard van atomistiese of holistiese benaderings opgesluit lê vasgevang te word.17

Die mens kan afwisselend onder leiding van verskillende normatiewe gesigspunte optree. Die een oomblik akademies, die volgende een ekonomies en daarna gesellig met vriende by 'n klub verkeer. Dit impliseer dat die bestaan van die mens ook ewemin volledig in enige werklikheidsaspek kan opgaan. Vanuit die hoek van die sosiale aspek gesien kan die mens veelvuldige sosiale rolle vervul sonder om ooit volledig deur enigeen daarvan omvat te word. Dink aan Aristoteles wat die mens 'n politieke dier noem wat sy lewensvervulling in die lewensomvattende polis vind.

14.2 Tönnies se bydrae tot die (mis-)verstaan van gemeenskap en maatskap

'n Meer geartikuleerde besinning oor verskillende wyses van omgang en verkeer is veral aan Tönnies (1787:5 e.v.) te danke. In 1887 onderskei hy tussen Gemeinschaft en Gesellschaft (wat mekaar opvolg) en tipeer hy eersgenoemde as 'n organiese geheel en laasgenoemde as 'n meganiese aggregaat. Dit belig die gelyktydige aanwesigheid van 'n individualistiese en 'n universalistiese oriëntasie in sy denke.18 Uiteindelik onderskei hy tussen Verhältnisse, Samtschaften en Körperschaften (sy nuwe term vir verbindinge - afgelei van 'n korporasie of organisasie).

Tönnies benut slegs enkele analogieë in die struktuur van die sosiale aspek. Hy vertrek vanuit 'n besef van sosiale eenheid en menigvuldigheid. Sosiale eenheid bring 'n liggaam (Körperschaft) na vore. Vervolgens benut hy twee pare analogieë. 'n Gemeinschaft word tewens as 'n organiese geheel beskryf en 'n Gesellschaft as 'n meganiese aggregaat. Eersgenoemde word derhalwe in bio-ruimtelike terme beskryf en laasgenoemde in kinematies-aritmetiese terme. Dat beide Gemeinschaft en Gesellschaft gelyklik deur analogieë van al die pre-sosiale aspekte gekonstitueer word, ontgaan Tönnies omdat sy kensketsing die onverbreeklike samehang tussen die sosiale en ander aspekte van die werklikheid uiteenbreek. Konstitutiewe analogiese elemente opponeer mekaar nie.

14.3 Die kritiese reaksie van Sorokin

Die feit dat Tönnies nie sosiale teëspraak (sosiale konflik) in sy ontleding betrek nie sou latere denkers tot kritiese nadenke stem. Sorokin (1962:106, asook 113) verval weliswaar meer as vyftig jaar later in die ander uiterste wanneer hy vorme van sosiale konflik, wat uit antinormatiewe gedrag voortvloei, as basis van sy sosiale klassifikasie gebruik, soos gegee in die teenstelling tussen antagonisme en solidariteit (bloot 'n beklemtoning van psigo-fisiese analogieë). Vorme van sosiale interaksie waar solidariteit domineer noem hy "familistic" (1962:99 en verder); wanneer beide pole aanwesig is noem hy dit "mixed" of "contractual" (1962:102 en verder); terwyl vorme wat oorwegend antagonisties is deur hom as "compulsory" bestempel word (1962:106 en verder). Hoewel die "familistic" tipe Tönnies se Gemeinschaft bedoel relativeer hy dit tog deur gesagsverhoudinge daarin te elimineer: "... in a truly familistic interaction or group ... there is no formal domination and subordination, no master and servant, no arbitrary government and suppressed subjects" (Sorokin 1962:100-101). Wat Sorokin "compulsory" noem, vertoon treffende raakpunte met die betreklik negatiewe omskrywing van die moderne staat wat ons by Malan (2011) aantref.

14.4 Die sosiale betrekkingsleer van Von Wiese

Omgang en verkeer tussen mense spesifiseer altyd op een of ander wyse die komplekse strukturele opbou van die sosiale aspek. Leopold von Wiese (1959:19) skenk tereg in sy "Beziehungssoziologie" ("sosiologie as betrekkingsleer") allereers aandag aan (sosiale) eenheid en menigvuldigheid en wel in 'n tweërlei (opponerende) sin: eenheid en veelheid en uniekheid en meervoudigheid. Volgens hom moet die sosiale wetenskappe dikwels hul probleme tot die laaste abstraksie terugvoer, dit is tot "die verhouding van die ene tot die vele" . Wie egter 'n werklikheidskarakter aan sosiale samelewingsvorme wil toeskryf, in die sin van bo-indivduele totaliteite, word volgens Von Wiese die slagoffer van die universalisme (holisme) (Von Wiese 1959:25; sien ook Von Wiese 1966:114-117).

Von Wiese (1959:76-77) is selfs van mening dat die (gesags-)relasie van bowe- en onderskikking nooit die basis van sosiologiese ontleding kan vorm nie. Hy is oortuig dat die wesenlike eienskap van die sosiale in die naas-mekaar-staan van mense gevind word. Hoewel daar ongetwyfeld tussen horisontale en vertikale sosiale relasies onderskei moet word, is dit nogtans foutief om een van hierdie twee relasies te verhef tot die verklaringsbeginsel van alle sosiale relasies.

In die lig van hierdie oorwegings blyk dit dat daar alternatiewe moontlikhede bestaan om analogieë van die eerste paar aspekte nader te presiseer. Die getals- en ruimte-analogieë kan betrekking hê op aksies wat binne 'n samelewingsvorm plaasvind wat tot 'n egte geheel geïntegreer is. Die kritieke vraag is egter hoe die deel-genootskap van hierdie geheel verstaan moet word.

14.5 Rousseau - voorbeeld van 'n ontspoorde waardering van die geheel-dele relasie

Rousseau (1975:244) meen dat wanneer voorheen-outonome individue tot die sosiale kontrak toetree hulle onafskeibare dele van hierdie nuwe geheel word: "Elkeen van ons plaas onsself en al ons mag kollektief onder die finale leiding van die algemene wil (volonte générale) - en ons ontvang elke lid as 'n onafskeibare deel van die geheel." Rousseau meen voorts dat geen mens van nature enige gesag oor enige ander mens besit nie - wat impliseer dat alle gesagsrelasies (tussenmenslike bowe- en onderskikking) op konvensies gebaseer is. Die eerste en mees basiese konvensie is die maatskaplike verdrag (Rousseau 1975:239). Elkeen wat deel het aan die orent-bring van die kontrak moet alle regte oordra aan die gemeenskap as geheel (Rousseau 1975:244).

Hierdie "assosiasie bring onmiddellik, in die plek van die partikuliere persoon van elke deelgenoot, 'n morele en kollektiewe liggaam na vore, wat uit net soveel lede as die stemme van die vergadering saamgestel is en vanuit hierdie handeling ontvang dit sy eenheid, gemeenskaplike [kommunale] self, lewe en wil" (Rousseau 1975:244).19

Aangesien die staat "met betrekking tot die lede daarvan, die meester van al hul goedere deur die sosiale verdrag is" (Rousseau 1975:347) besit dit 'n absolute mag oor almal (1975:253).

Op hierdie punt blyk die al-magtige konsekwensies van die universalistiese resultaat van die sosiale verdrag onverhuld. Deur die verdrag ontvang die soewerein (die staatkundige liggaam) 'n absolute mag oor al die lede daarvan. Daarom behoort die minderheid saam met die meerderheid gehoorsaam te wees aan die algemene wil (wat veronderstel is om hul eie wil te wees) - vryheid is immers vir Rousseau (1975:247) gehoorsaamheid aan dié wet wat die mens vir sigself stel.

Diegene wat gevolglik nie die algemene (meerderheids-)wil gehoorsaam nie, is eintlik ongehoorsaam aan hul eie wil - en derhalwe onvry. Rousseau (1975:246) trek die konklusie: die sosiale verdrag bevat die implisiete onderneming dat "wie ook al weier om die algemene wil te gehoorsaam sal daartoe gedwing word deur die hele liggaam". "Dit beteken niks minder nie as dat so 'n persoon gedwing sal word om vry te wees nie"!

Dit is duidelik dat die geheel-dele relasie nie sonder die nodige presisering op samelewingsvorme toegepas kan word nie. Samelewingsvorme omvat tewens nie enige individu wat daaraan deel het volledig nie - hoeseer dit korrek is om te beklemtoon dat individue slegs ooreenkomstig 'n gedifferensieerde menigvuldigheid parsiële funksies (rolle) binne samelewingsvorme optree.20 Dit is daarom misleidend om van "integrale dele" te praat, want dan bestaan die gevaar dat die sosiale funksies van individue volledig in een of ander samelewingsvorm opgeslurp en afgesluit word - soos wat dit in die universalistiese resultaat van Rousseau se verdragsleer ondubbelsinnig na vore tree.

14.6 Horisontale en vertikale relasies

Allereers moet die geheel-dele relasie onderskei word beide van bowe- en onderskikkende relasies en van neweskikkende verhoudinge. In samelewingsvorme soos die staat, die gesin, die skool en universiteit, die sake-onderneming en geloofsgenootskappe tref ons steeds 'n duursame relasie van bowe- en onderskikking aan. 'n Alternatief hiervoor vind ons in losser en selfs bloot insidentele relasies wat van neweskikkende aard is - gegee in die naas- en teenoor-mekaar-staan van (mede-)mense. Beide hierdie vertikale en horisontale ruimte-analogieë moet in hul eie reg erken word sonder om die een ondergeskik aan die ander te maak.

Hierdie opmerkings veronderstel die aard van 'n gedifferensieerde samelewing waarin onderskeie samelewingsvorme elk op 'n tipiese wyse die aktiwiteite daarvan integreer. Daarsonder sal 'n gesonde samehorigheidsgevoel ontbreek wat op sy beurt belemmerend sal inwerk op 'n positiewe identifisering gerig deur 'n saambindende wyse van kulturele stylvorming.

 

15. 'N DRIEVOUDIGE KLASSIFIKASIE VAN SOSIALE OMGANGSVORME

Tans kan ons twee kriteria formuleer met behulp waarvan tussen drie basiese wyses van omgang en verkeer in 'n gedifferensieerde samelewing onderskei kan word.

Eerstens gaan dit om die aard van'n solidêre eenheidskarakter. Hoewel hierdie kondisie betrekking het op al die funderende bou-elemente in die struktuur van die sosiale aspek spesifiseer dit veral die eerste vyf analogiese struktuur-momente, met name die analogieë van getal, ruimte, beweging, die energetiese en die biotiese - telkens gekursiveer in die volgende sin.

'n Solidêre eenheidskarakter betref 'n menigvuldigheid sosiale subjekte wat tot 'n sosiale geheel geïntegreer is en wat 'n bepaalde sosiale duursaamheid besit ongeag die wisseling (kom en gaan) van die lede daarvan.

'n Solidêre eenheidskarakter as sodanig spesifiseer egter nie watter ruimte-analogieë uitgelig moet word om ook sosiale gesagsverhoudinge te betrek nie. Daarom word nog 'n kondisiese benodig om gesagsverhoudinge te verantwoord. 'n Gesagsdraer of ampsbekleër verwys na die oorspronklike sin van die kultuur-historiese aspek wat bepaalde tipiese kompetensies behels. Soos reeds vermeld val mag, kontrole en beheer uiteen in mag oor dinge (subjek-objek-relasies) en mag oor mede-mense (subjek-subjek-relasies). Hoewel sommige magsverhoudinge derhalwe beslag kry in die aard van vertikale gesagsverhoudinge, bestaan daar ook neweskikkende (horisontale) subjek-subjek-relasies tussen mense.

Wanneer beide 'n solidêre eenheidskarakter en 'n permanente gesagstruktuur afwesig is, word die sfeer van maatskapsverhoudinge betree. Maatskapsverhoudinge word derhalwe deur neweskikkende (horisontale sosiale) relasies gekenmerk - op voet van gelykheid naas en teenoor mekaar.

Indien sosiale omgang en verkeer slegs 'n solidêre eenheidskarakter of slegs 'n permanente gesagstruktuur vertoon kan van 'n gemeenskap gepraat word, terwyl die term verband toepaslik is op alle gevalle waar beide 'n solidêre eenheidskarakter en 'n permanente gesagstruktuur aangetref word. Maatskapsverhoudinge vorm die keersy van verbands- en gemeenskaps-verhoudinge en word ook in inter-individuele verhoudinge aangetref. Weliswaar kan gemeenskappe en verbande ook maatskapsverhoudinge beliggaam en wel in soverre hulle op voet van gelykheid neweskikkend optree - ook teenoor individue, ander gemeenskappe en verbande.

Geen mens bestaan slegs in maatskapsverhoudinge of slegs in verbands- en gemeenskaps-verhoudinge nie. Maatskapsverhoudinge aan die een kant en verbands- en gemeen-skapsverhoudinge aan die ander kant is altyd onverbreeklik gekorreleer. Terloops moet daarop gewys word dat Dooyeweerd (1917-III:178 en verder) verbande as georganiseerde (dit is: histories-gefundeerde) gemeenskappe beskou. Hiervolgens is beide die huwelik en die gesin bioties gefundeerde en eties gekwalifiseerde gemeenskappe, terwyl 'n siening wat hierdie modale totaalbegrippe losmaak van enige verwysing na 'n funderings- of bestemmingsfunksie die huwelik as gemeenskap sal onderskei van die gesin as 'n verband.

 

16. 'N NUWE DEFINISIE VAN INDIVIDUALISME EN UNIVERSALISME

1) Die individualisme verselfstandig maatskapsverhoudinge ten koste van verbands- en gemeenskapsverhoudinge, terwyl

2) die universalisme verbands- of gemeenskapsverhoudinge eensydig beklemtoon - ten koste van maatskapsverhoudinge.

Samelewingsvorme soos die staat, 'n geloofsverband, 'n bedryfsonderneming, 'n sosiale klub, 'n kunsvereniging,'n gesin, 'n skool, 'n universiteit en 'n kultuurvereniging besit almal 'n relasie van bowe- en onderskikking asook 'n solidêre eenheidskarakter. Dosente en studente by 'n universiteit verwissel ook voortdurend. Insgelyks kom en gaan owerheidspersone én die onderdane van 'n staat. Langs hierdie weg kan die verbandskenmerke van al die bogemelde samelewingsvorme aangetoon word. Voorbeelde van egte gemeenskappe is die volk, die uitgebreide familie (groot familie) 'n taalgemeenskap,'n tussen-staatlike gemenebes (gemeenskap) van state en die huwelik. Sogenaamde "lokale gemeenskappe" is óf egte dele van die staat, óf nie-staatlik van aard ('n boere-gemeenskap, 'n taalgemeenskap of 'n kultuurgemeenskap).

Modale totaal-begrippe is nodig om hierdie tipes verhoudinge te tipeer. Die blote identifisering van maatskapsverhoudinge gee egter nog nie uitsluitsel oor die verskillend-geaarde sosiale verhoudinge wat ons in 'n gedifferensieerde samelewing aantref nie.

 

17. DIE VRUGBAARHEID VAN 'N BEGRENSDE GEMEENSKAPSBEGRIP

Maatskapsverhoudinge kan voltrek word onder leiding van enige normatiewe aspek. Gesien in samehang met gemeenskaps- en verbandsverhoudinge bied hierdie benadering duidelike kriteria om weg te beweeg van 'n ongenuanseerde gebruik van die term "gemeenskap". Let byvoorbeeld op alles wat Goosen (2015:81) as gemeenskappe tipeer: familie, geslag, dorp, streek, taal, kultuur, staat, ensovoorts. Indien 'n "dorp" 'n plaaslike munisipaliteit is, vorm dit deel van die staat as verband.

Die spreke van "tussenliggende instellings" (Goosen 2016:247, 248), van eie instellings (2016:243, 245) van subsidiariteit21en van die politieke geheel as gemeenskap van die gemeenskappe (2016:247) is problematies. Hy verwys ook na die Griekse polis as "voltooide gemeenskap" (Goosen 2015:52). In die gedagtegang van Aristoteles, waarby Goosen aansluit, gaan dit oor die Griekse opvoedingsideaal van die volmaakte (perfekte) samelewing, in die middeleeue aangedui as die societas perfecta - hoeseer die politieke sfeer as laere voortrap diensbaar aan die kerk as bonatuurlike genade-instituut gemaak is waar laasgenoemde die mens tot ewige geluksaligheid sal voer. In die middeleeuse denke is die Griekse grondmotief van materie en vorm getransformeer tot die grondmotief van natuur en genade waarin 'n poging aangewend is om die antieke Griekse heidendom met die Bybelse grondmotief van skepping, sondeval en verlossing te versoen.

 

18. DIE ALTERNATIEF VAN JOHANNES ALTHUSIUS

Althusius (1603:16) het eerste die insig geopenbaar dat kerke, bedrywe en gesinne nie dele van die staat is nie - slegs provinsies en munisipaliteite kan dele van die staat wees. Sy spreke van assosiasies met hul toepaslike wette (leges propriae) vorm die vertrekpunt van wat later in die lyn van Groen van Prinsterer, Abraham Kuyper en Herman Dooyeweerd as die beginsel van soewereiniteit-in-eie-kring aangedui is.22 Habermas (1995:437) praat in hierdie verband van "die sogenaamde eiewetlikheid van die individuele sosiale sfere".

Dit is verskralend om gemeenskappe bloot in terme van enkele "eienskappe" te beskryf - soos Malan (2011:298) dit doen wanneer hy verduidelik: "Gemeenskappe is 'n omvattende konsep met kulturele, historiese, sosiale en ekonomiese eienskappe". Volgens Malan (2011:280) loop die "dwanglogika van staatsbou" uit op " n onverskoonbare vergryp teen individuele vryheid en menswaardigheid en die integriteit van kulturele, taal- en dergelike nie-staatlike gemeenskappe". Wanneer hy byvoorbeeld van die "regeringsfunksies van [plaaslike] tuistelike gemeenskappe" praat is dit nie meer duidelik in watter mate sy prinsipieel-korrekte onderskeiding tussen die staat en nie-staatlike gemeenskappe in die slag bly nie (Malan 2011:286).

Hierdie uitsprake laat ongelukkig nie die aard van die funksie wat die mens in sy hoedanigheid as staatsgenoot (burgers en nie-burgers) binne die staat het, tot sy reg kom nie. Deelgenootskap aan die staat, wat owerheid en onderdane op 'n begrensde kultuur-gebied (territorium) saambind, sien juis af van dergelike nie-staatlike verbintenisse, met name van volkskulturele verbintenisse, van godsdienstige affiliasie, van ekonomiese posisie, sosiale stand, intellektuele gevormdheid en familie-agtergrond, sodat effektief juridies na die regsbelange wat daarin opgesluit lê omgesien kan word!

 

19. SOEWEREINITEIT-IN-EIE-KRING AS BASIS

Die idee van eie-geaarde verbande, gemeenskappe en maatskapsverhoudinge veronderstel die idee van kring-soewereine modale aspekte. Slegs op die basis daarvan kan 'n unieke funderingsfunksie en 'n unieke kwalifiseringsfunksie geïdentifiseer word. Indien hierdie twee tipiese funksies nie soewereiniteit-in-eie-kring besit het nie, sou geen aspek funderend en kwalifiserend ten opsigte van onderskeie samelewingsvorme kon optree nie.

Waar Malan se omskrywing van die "kenmerke" van 'n gemeenskap dig nader tot die idee dat elke samelewingsvorm binne al die aspekte van die werklikheid funksioneer, bevat Goosen se benadering 'n intuïtiewe greep op onderskeie kwalifiseringsfunksies van gemeen-skappe. By geleentheid praat hy byvoorbeeld van kultuurgemeenskappe, taalgemeenskappe (Goosen 2015:61), van 'n politieke gemeenskap (2015:53) en van 'n ekonomiese gemeenskap (2015:61). Die sistematies-wysgerige idee van 'n tipiese funderings- en kwalifiseringsfunksie verskaf bloot 'n nadere presisering aan die wyse waarop gemeenskappe onderling onderskei kan word. Weliswaar bevat die geskrifte van Goosen en Malan nie 'n insig in die verskil tussen algemene modale en struktuur-tipiese begrippe nie. Die "politieke" sfeer kan ook duideliker verhelder word indien die kring-soewereine aard van die juridiese aspek van die werklikheid erken word en bykomend besef word dat nie-staatlike lewensvorme ook tipiese funksies in die regsaspek besit nie.

Die regsbelange van al hierdie sfere behoort deur die owerheid van 'n regstaat in een openbare (publieke) regsorde saamgebind te word. Die politieke domein sluit tewens onder meer die volgende in: (a) publieke regsbelange (soos die integriteit van die menslike liggaam en eiendomsreg); (b) die regsbelange van niestaatlike samelewingsvorme (soos bedrywe, skole en universiteite, sosiale verenigings, taal- en kultuurgemeenskappe en geloofgenootskappe) asook (c) die persoonlike regsbelange van individue (die burg en asiel van persoonlike vryheid).

 

20. SOLIDÊR-KRITIESE KANTTEKENINGE BY ENKELE ONTOLOGIESE AANNAMES VAN GOOSEN

(a) Die werklikheidas 'n samehangende "gemeenskapsgebeure"

Goosen (2016:223) verwys na die "werklikheid" as "deelnemende gebeure". Hy praat ook van die werklikheid as 'n samehangende "gemeenskapsgebeure"; van "gemeenskap" as 'n "dinamiese gebeure" (2016:55); en van die geheel as 'n "gemeenskapsgebeure" (2016:86). Dit konstitueer sy (wysgerige) grondidee van die werklikheid:

die werklikheid is 'n samehangende, dinamies-deelnemende gemeenskapsgebeure van die geheel.23

Die moderne sosioloog wat 'n soortgelyke weg ingeslaan het as Goosen is Giddens. Hy stel dat sy teorie van "strukturering" gesien moet word as 'n poging om weg te kom van die problematiese verhouding van individu en samelewing. Daarom neem hy sy vertrekpunt in die dinamiese vloei van "recurrent social practices" - waaraan hy toevoeg: "I wanted to place an emphasis on the active flow of social life" (Giddens 1998:75-76).24

(b) Goosen erken die samehang tussen duursaamheid en verandering

Anders as Sztompka en Giddens wil Goosen nogtans tereg vashou aan iets wat sowel duursaam as onderworpe aan verandering is. Hy verwoord dit op uiteenlopende wyses. So onderskei hy byvoorbeeld tussen twee kragte - "die aktiewe doen en die konstante" (2015:49). Vervolgens praat hy, in die konteks van 'n gemeenskap wat gebeur, van "sowel die veranderlike as die stabiele" sowel "die historiese as die tydlose" (2015:55). Later handel hy, met verwysing na Parmenides en Herakleitos, oor dit wat onveranderlik en veranderlik is (2015:176). Ons het egter gesien dat hierdie relasie teruggevoer kan word na die oorspronklike unieke en onherleibare sin van die kinematiese en fisiese aspekte van die werklikheid en na Plato wat duidelik ingesien het dat verandering (in moderne terme: energie-werking) slegs op die basis van duursaamheid (kontinuïteit of konstansie) vasgestel kan word. Die eerste hoofwet van die termodinamika berus tewens op 'n kinematiese analogie aan die wetsy van die fisiese aspek wat ten beste as energie-konstansie aangedui kan word.

(c) Die nalewende ruimte-metafisika in die denke van Goosen

Wanneer Goosen egter duursaamheid (konstansie) identifiseer met onveranderlikheid en tydloosheid, openbaar sy spreekwyse iets van die ruimte-metafisika van die skool van Parmenides. Hierdie spreekwyse moet ook saam met Goosen se beswaar teen "verruimteliking" gelees word. Binne die kader van die dialektiese grondmotief van natuur en vryheid het die primaat wat aan die vryheidspool (die persoonlikheidsideaal) toegeken is daartoe gelei dat die "geesteswetenskaplike" metode afwysend teenoor die objektiverende metode van daardie natuurwetenskappe staan wat hul studie-gebied in 'n "verruimtelikende" ("spatializing") metode vind.

Dooyeweerd vat dit bondig saam:

Alongside the rationalistic phenomenological line there is an irrationalistic phenome-nological school strongly influenced by ...Wilhelm Dilthey (1833-1911, professor at Berlin) and his followers (Martin Heidegger, Theodor Litt, Max Scheler, Eduard Spranger, Hans Freyer and others). They demand a so-called "geisteswissenschaftliche" [humanities] method for legal theory and political science, as opposed to the objectifying method of those natural-scientific disciplines that find their field of study in a spatializing method. (Dooyeweerd 2018:105-106)

(d) Die kontradiksie in Goosen se siening

As "verruimteliking" (Goosen 2015:381, 383) problematies is, sluip daar 'n dialektiese denkwyse in wat die onverbreeklike samehang tussen al die werklikheidsaspekte misken. Bykomend veroorsaak die gegewe dat die geheel-dele relasie sy oorspronklike tuiste juis in die ruimte-aspek vind 'n onverwagse teenspraak in Goosen se denke - gebruikmakend van die geheel-dele relasie is hy dan self aan 'n verruimtelikende denkwyse skuldig.

Goosen (2015:378) waarsku tereg teen die "verabsolutering van immanente" gegewens "soos volk en staat". Hy neem gevolglik ook prinsipieel stelling in teen enige vergoddeliking want God transendeer die geheel - wat daaruit blyk dat "die geheel van dinge deur God te bowe gegaan word" (2015:84).

(e) Die status van wette in Goosen se denke

Gemeenskapsgebeure is gefundeer in die "wet van eksessiewe méér-wees" (Goosen 2015:8990). Omdat "eksessief" op iets inherent antinormatief dui, oordaad, kan dit liefs met 'n positiewe term vervang word. Hy gebruik wel die term "(natuurlike) orde" met verwysing na Aristoteles (2015:53).

Goosen gebruik nie die idee van 'n wetsorde of skeppingsorde nie. Hy benader dit wel deur te praat van die "wyse waarop God sy skepping onderhou en die redelike orde wat Hyself geskep het". Hy sien God as die krag "waarvan die spore in 'n geordende, rasionele en daarom ook betroubare geheel opgespoor kan word" (2015:87). Hierdie opvatting staan op gespanne voet met sy korrekte pleidooi vir die nie-gekonstrueerde aard van dinge - hy verwys krities na die "oproep om die werklikheid nuut te skep" (2016:235). Die ontiese gegewenheid van wat is, is sekerlik (rasioneel-redelik) kenbaar, maar die gegewe werklikheid is nie sélf rasioneel nie.

Die motief van logiese (rasioneel-redelike) skepping tref ons reeds by Hobbes aan en dit bereik sy rasionalistiese hoogtepunt by Kant wat die menslike verstand verhef tot apriories-formele wetgewer van die natuur: "Die verstand skep sy wette (apriori) nie uit die natuur nie, maar skryf dit aan die natuur voor" (Kant 1783, II:320; § 36). Sedertdien verneem ons vanuit verskillende oorde dat die werklikheid self 'n rasionele struktuur besit.

'n Ondersoek na die reikwydte van die skeppingsbeginsel van soewereiniteit-in-eie-kring sou Goosen sekerlik meer krities ingestel het teenoor die pagane religieuse25 grondmotief van vorm en materie wat aan die wortel van die Griekse kultuurontwikkeling en ook aan Plato en Aristoteles se denke lê. Enersyds is hierdie grondmotief vir die totalitêre siening van die polis verantwoordelik en andersyds belig dit die afwesigheid van die idee van soewereiniteit-in-eie-kring in ons verstaan van die aard van 'n gedifferensieerde samelewingsorde. Dit kan toegelig word met verwysing na Dooyeweerd se tipering van Plato se ideëleer in Politeia in verband met die polis asook na die tradisie wat deur Protagoras ingelei is. Dooyeweerd skryf:

In books II through X of the Republic, the theory of ideas is placed in relation to the polis, as the center of Greek life. The polis, as the bearer of the religion of culture, thereby again takes the central position in Plato's thought that it had occupied from the very beginning, as is clear from his seventh letter. Further, it is precisely through its being applied to the organization of the polis that this theory receives its most far-reaching application to all areas of life. For, as the vehicle of the culture religion, the polis is simultaneously the earthly vehicle of the form principle, which governs this religion. Paideia, in the sense of the forming of the free Greek into a citizen, meant for the popular Greek mind of classical times, and for Plato as well, the cultural formation of a person in all areas of life. Indeed, according to this view, the polis is the all-encompassing sphere of human society, which lays claim to all terrains of human life. The notion that each distinct component of society possesses a sovereignty in its own sphere that is rooted in its internal nature and created structure, a view that arose only from the ground-motive of the Christian religion, is completely foreign to the world of classical antiquity. (Dooyeweerd 2012-I:164-165)

Die aanvanklike Griekse siening aanvaar 'n kosmiese wêreldorde ('n "natuurlike orde") waarin die aanneem van 'n vaste individuele vorm deur die Anangkë gedoem is om kragtens 'n wet van geregtigheid weer tot die vormlose oorsprong daarvan terug te keer. Protagoras meen daarenteen dat die natuur geen wet ken nie - alle reg ontstaan uit die nomos van die staat. Slegs die polis ontgin die menslike aanleg tot kultuur en tegniek. Dooyeweerd skryf: "For this reason those who live outside the Greek city-state, the barbaroi, are viewed as not fully human. This view became characteristic for the entire classical theory of state and law" (Dooyeweerd 2017:211-212).26

(f) Die kritiek op die nominalisme

Goosen (2015:87) is tereg krities ten opsigte van die nominalistiese opvatting van God se vermeende willekeurige relasie tot die skepping. God word 'n "duistere wilsmag wat die ganse werklikheid op 'n willekeurige wyse kan maak". Indien hy op hierdie punt die wet as (kreatuurlik-onoorskrybare) grens tussen God en skepsel sou betrek, sou hy kon argumenteer dat willekeur 'n normatiewe orde veronderstel en op grond daarvan as iets antinormatiefgesien moet word. Alleen dit wat aan die wet onderworpe is kan egter antinormatief handel, wat beteken dat Ockham met sy siening eintlik - teen sy eie bedoeling in - God onder die wet ingetrek het, wat die vertrekpunt van 'n sekularisasie-proses ingelei het waarvan ons nog steeds die gevolge dra.

(g) Eenheid, waarheid, skoonheid en goedheid

Uit die "tradisie" aanvaar Goosen (2015:90) hierdie "transendentalia" as "belangrike eien-skappe" van "die geheel". Dooyeweerd (2012 en 2013) het uitvoerig op die agtergrond van hierdie transendentalia ingegaan.Hy skryf:

We also saw how the first two determinations - those of unity and truth - go back to the Eleatic concept of being, which could only grasp being in a naturalistic form: as the spatial shape of a ball, the all-encompassing celestial sphere.

The second pair of transcendentals, those of beauty and goodness, is entirely governed by the form principle of the culture religion which deepened it theoretically and ethically and proceeded to guide the entire formation of concepts along the Socratic idea of the "kalokagathon." In all four transcendentals the analogical concept of being remains the correlate of the activity of theoretic thought which is made independent - autonomous - and oriented to the form principle. As such, it (ousia in Aristotle) is proclaimed to be entirely independent of the matter principle. (Dooyeweerd 2013:285-286)

 

21. SLOTOPMERKING

In hierdie artikel word gefokus op die elementêre (analogiese) begrippe, op modale totaal-begrippe en op struktuur-tipiese (entiteits-)begrippe om te kom tot 'n genuanseerde plasing van die begrip "gemeenskap" binne die konteks van die onderskeiding tussen maatskapsver-houdinge, gemeenskapsverhoudinge en verbandsverhoudinge in 'n gedifferensieerde samelewing.

 

BIBLIOGRAFIE

Alexander, J.C. & Seidman, S. (Eds). 1990. Culture and Society, Contemporary Debates. New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

Althusius. J. 1603. Politica Methodice Digesta [Collection of Systematic Political Views] (1603, 3rd ed. 1614).         [ Links ]

Aristotle 1894. Politica, Teks Uitgawe deur F. Susemihl & R.D. Hicks: The Politics of Aristotle, 'n Hersiene teks, New York: McMillan & Co.         [ Links ]

Aristotle. 2001. The Basic Works of Aristotle. Edited by Richard McKeon met 'n Inleiding deur C.D.C. Reeve. (Random House in 1941). New York: The Modern Library.         [ Links ]

Bühl, W.L. (1976): Theorien sozialer Konflikte. Darmstadt 1976.         [ Links ]

Charness, G. & Gneezy, U. 2000. What's in a Name? Anonymity and Social Distance in Dictator and Ultimatum Games. 5 November: JEL classification: [A13, B49, C91, D63, D64 (pp.1-21). http://dlx.b-ok.org/genesis/115000/604525a54bb2e0b2af6d1792eb5607a0/_as/[Charness] _Anonimity_and_Social_Distance(b-ok.org).pdf]        [ Links ]

Dahrendorf, R. 1961. Gesellschaft und Freiheit: Zur soziologischen Analyse der Gegenwart. München: Piper.         [ Links ].

De Robertis, E.D.P., Nowinski, W., & Saez, F.A. 1965. Cell Biology. London: W. B. Saunders Co.         [ Links ]

Dobzhansky, T. 1965. Discussion of Schramm's Paper. In: The Origins of Prebiological Systems and their Molecular Matrices, Ed. S.W. Fox. New York: Academic, pp. 309-315.         [ Links ]

Dobzhansky, Th. 1967. The Biology of Ultimate Concern. New York: New American Library.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2003. Roots of Western Culture, Pagan, Secular and Christian Options, B Series, Volume 3, General Editor [GE] D.F.M. Strauss, Lewiston: Edwin Mellen.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2012. Reformation and Scholasticism in Philosophy, Vol. I, Collected Works of Herman Dooyeweerd, A Series, Volume 5, GE D.F.M. Strauss, Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2016. A New Critique of Theoretical Thought. 4 Bande. Series A (1-4), GE D.F.M. Strauss, Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2017. Time, Law, and History, Collected Works of Herman Dooyeweerd, B Series, Volume 14, GE D.F.M. Strauss, Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2018 [in proses]. Encyclopaedia of the Science of Law, A Series, Volume 10, Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Duvenhage, P. 2016. Afrikaanse Filosofie. Perspektiewe en Dialoë. Bloemfontein: SUN MeDIA.         [ Links ]

Giddens, A. 1986. The Constitution of Society, Berkeley: University of California Press (eerste uitgawe 1984).         [ Links ]

Giddens, A. 1998. Interview Three - Structuration Theory (with C. Pierson). In: Pierson (1998:75-93).         [ Links ]

Goosen, D. 2015. Oor Gemeenskap en Plek. Pretoria: FAK.         [ Links ]

Goosen, D. 2016. Die werklikheid as deelnemende gebeure, of die verwikkelde samehang van eenheid en veelheid. In: Duvenhage (2016:221-248).         [ Links ]

Gosztonyi, A. 1976. Der Raum: Geschichte seiner Probleme in Philosophie und Wissenschaften. Volume I, Freiburg: Alber.         [ Links ]

Habermas, J. 1995-1 & 1995-2. Theorie des kommunikativen Handelns. [Theory of Communicative Action] Volume 1 & Volume 2. Frankfurt am Main: Suhrkamp.         [ Links ]

Jellinek, G. 1966. Allgemeine Staatslehre (Dritte Auflage). Berlin: Verlag Dr. Max Gehlen.         [ Links ]

Jones, A. 1998. Ed. Science in Faith, A Christian Perspective on Teaching Science, Essex: Romford.         [ Links ]

Kant, I. 1783. Prolegomena zu einer jeden künftigen Metaphysik die als Wissenschaft wird auftreten können. Hamburg: Felix Meiner edition (1969).         [ Links ]

Luckmann, T. & Berger, P.L. 1969. The social construction of reality; a treatise in the sociology of knowledge, London: Allen Lane.         [ Links ]

MacIntire, A. 1988. Whose Justice? Which Rationality? Notre Dame: University of Notre Dame Press.         [ Links ]

Martindale, R. 1975. Prominent Sociologists Since World War II, Columbus: Charles E. Merrill Publishing Company.         [ Links ]

Münch, R. 1990. Differentiation, Rationalization, Interpenetration: The Emergence of Modern Society, in: Alexander (1990a:441-464).         [ Links ]

Myrdal, G. 1932. Das politische Element in der National ökonomischen Doktrinbildung. Berlin: Junker und Dünnhaupt Verlag.         [ Links ]

Nisbet, R.A. 1962. Community and Power, formerly "The Quest for Community". New York: Oxford University Press        [ Links ]

Oeing-Hanoff, L. 1976. Individuum, Individualität - Hoch- und Spätskolastik. In: Historisches Wörterbuch der Philosophie, Volume 4. Basel-Stuttgart: Schwabe & Co, pp. 304-310.         [ Links ]

Parsons, T., Bales, R.F. & Shills, E.A. 1953. Working Papers in the Theory of Action. New York: Free Press.         [ Links ]

Pierson, C. 1998. Conversations with Anthony Giddens: Making Sense ofModernity. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Rawls, J. 1996. Political Liberalism. Revised Edition. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Rousseau, J.J. 1975. Du ContratSocial etAutres Oeuvres Politiques. Paris: Editions Garnier Fréres.         [ Links ]

Schrödinger, E. 1955. What is Life? The Physical Aspect of the Living Cell. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Simpson, G.G. 1969. Biology and Man. New York: Harcourt.         [ Links ]

Sorokin, P.A. 1962. Society, Culture and Personality, New York: Cooper Square publishers.         [ Links ]

Spencer, H. 1968. Reasons for Dissenting from the Philosophy of Comte and other Essays, Berkely: Glendessary press.         [ Links ]

Stegmüller, W. 1987. Hauptströmungen der Gegenwartsphilosophie. Vol.III. Stuttgart: Alfred Krüger Verlag.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2002. Is it meaningful to juxtapose "individual" and "society"? Society in Transition, 33(1):96-115.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2004. Transcending the impasse of individualism and universalism in sociological theory? Society in Transition, 35(1):1-18.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2006. Beyond the opposition of individual and society, Part I: Acknowledging the constitutive social function of being an individual and 'de-totalizing' the idea of 'society'. South African Review of Sociology, 37(2):143-164.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2006a. The Rise of the Modern (Idea of the) State. Politikon, 33(2):183-195.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2007. Beyond the opposition of individual and society, Part II: The 'category-mistake' entailed in this opposition. South African Review of Sociology 2007, 38(1):1-19.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2008. Philosophy in the Context of our Time - IV: The perennial question concerning "(metaphysical) categories". Journal for Christian Scholarship, 47(2):35-51.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2012. A history of attempts to delimit (state) law. Journal for Juridical Science, 37(2):35- 64.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2012a. Die moontlikheidsvoorwaardes van metafoorgebruik. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52(4):613-628.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2013. Sphere sovereignty, solidarity and subsidiarity. Journalfor Christian Scholarship (93-123).         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2014. The Place of the State in a Differentiated Society: Historical and Systematic Perspectives. Politikon: South African Journal of Political Studies, 41(1):121-139.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2017. Wysgerige onderskeidinge relevant vir 'n besinning oor staat en samelewing met besondere verwysing na Koos Malan se Politokrasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(3):852-870.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. Strauss. 2017a. Die aard en plek van die geheel-dele relasie - gesien vanuit 'n algemeen- wysgerige sowel as 'n vakfilosofiese perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(4):1078-1092.         [ Links ]

Sztompka, P. 1993. The Sociology of Social Change. Cambridge, Massachusetts: Blackwell.         [ Links ]

Tönnies, F. 1972. Gemeinschaft und Gesellschaft, Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft (first edition, 1887).         [ Links ]

Trincher, K. 1985. Die Dualität der Materie. In: Philosophia Naturalis, Vol.22(3):329-342.         [ Links ]

Von Bertalanffy, L. 1973. General System Theory, Foundations Development Applications. Middle Sex: Harmondsworth.         [ Links ]

Von Gierke, O 1968. Johannes Althusius und die Entwicklung der naturrechtlichen Staatstheorien. Aalen: Scientia.         [ Links ]

Von Wiese, L. 1959. Philosophie und Soziologie, Berlin: Duncker & Humblot.         [ Links ]

Von Wiese, L. 1966. System der Allgemeinen Soziologie als Lehre von den sozialen prozessen und den sozialen Gebilden der Menschen (Beziehungslehre). Berlin: Duncker & Humblot.         [ Links ]

Yourgrau, P. 2005. A World Without Time. The forgotten Legacy of Gödel and Einstein. London: Penguin Books.         [ Links ]

Zeitlin, I.M. 1973. Rethinking Sociology, A Critique of Contemporary Theory. New Yersey.         [ Links ]

 

 

 

Danie Strauss word in 1971 as senior lektor in Wysbegeerte aan die destydse UOVS aangestel. Vanaf Januarie 1976 is hy bevorder tot medeprofessor en in Oktober 1977 word hy aangestel as professor en hoof van die Departement Wysbe-geerte aan die UOVS. In 1994 vertrek by na Kanada waar hy as eerste Direkteur van die Dooyeweerd Centre die publikasie van die ver-samelde werke van Herman Dooyeweerd in Engels van stapel stuur. Hy keer in 1997 terug na Suid-Afrika en vanaf April 1998 tot 31 Desember 2001 ageer hy as Dekaan van die nuwe Fakulteit van Geesteswetenskappe aan die UVS. Benewens 15 selfstandige publikasies, 42 internasionale konferensievoordragte en 20 bydraes tot ver-samelde werke het meer as 290 vakartikels in nasionale en internasionale tydskrifte uit sy pen verskyn. In 2005 is 'n werk oor die wysgerige grondslae van die moderne natuurwetenskappe deur die Duitse Uitgewer Peter Lang gepubliseer, Paradigmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 het 'n werk oor die sosiologie ook by Peter Lang verskyn - Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford: New York). In 2009 het sy werk, Philosophy: Discipline of the Disciplines by Paideia Press, Grand Rapids, USA verskyn (715 pp.). In 2011 is dit in Amsterdam deur die Stichting Reformatorische Filosofie beloon as die mees omvattende uitbouing van die sistematiese erfenis van hierdie filosofie. Sedert 2013 is Danie Strauss Navorsingsgenoot by die Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Kampus.
Danie Strauss was appointed as senior lecturer in Philosophy at the then University of the Orange Free State (UOFS) in 1971. He was promoted to associate professor in January 1976 and in October 1977 he became professor and head of the Department of Philosophy at the UOFS. In 1994 he went to Canada, where as the first Director of the Dooyeweerd Centre, he initiated the publication of the collected works of Herman Dooyeweerd in English. He returned to South Africa in 1997 and from 1 April 1998 to 31 December 2001 he was Dean of the new Faculty of Humanities at the UFS.Apart from 15 independent publications, 42 international conference papers and 20 contributions to collected works, he has published 290 articles in national and international journals. In 2005 his work on the philosophical foundations of the modern natural sciences was published by Peter Lang Publishers - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford New York). In 2009 his work, Philosophy: Discipline of the Disciplines was published by Paideia Press, Grand Rapids, USA (715 pp.). In 2011 this book received the award for work in the fields of systematic philosophy or the history ofphilosophy for advancing the cause of the "Philosophy of the Cosmonomic Idea". Since 2013 Danie Strauss is a Research Fellow at the School of Philosophy, North West University, Potchefstroom Campus, South Africa.
1 Myrdal (1932:87). [Vertalings is deurgaans deur die Outeur.]
2 Die term "modaal" verwys na 'n modus of wyse van bestaan.
3 Die vermeende algemene opvatting dat die geheel meer as die som van die dele daarvan is - of dat die geheel groter as 'n deel daarvan is - is deur die versamelingsleer weerlê. By 'n oneindige versameling is die geheel ekwivalent aan enige egte deel daarvan.
4
και πρότερον δέ τη φύσει πόλις ή οικία και έκαστος ημών εστίν. τό γαρ όλον πρότερον άναγκαΐον Aristoteles, Politica, 1253 a 19-20 (Aristoteles 1894:149).
5 Die universalisme kan ook op die oorbeklemtoning van dit wat universeel is dui.
6 Hou in gedagte dat daar onderskei moet word tussen terugwysende analogieë (retrosipasies) en vooruitwysende analogieë (antisipasies). Terloops wys ons daarop dat Goosen se tipering van analogiese denke as paradoksaal (met verwysing na A=A en krygers as leeus - Goosen 2015:129) van hierdie las bevry kan word indien die uniekheid en samehang tussen die logies-analitiese en teken-aspekte van die werklikheid verreken word - sien Strauss 2012a in sy geheel. ("Die moontlikheidsvoorwaardes van metafoorgebruik").
7 "Social distance is a term that has been used in the social science literature since at least Bogardus (1928). The idea is that people are expected to act more favorably toward those with a higher degree of social kinship. Typical determinants of social distance are nationality, occupation, race, religion; the weights assigned to each category vary somewhat across cultures" (Charness & Gneezy 2000:3).
8 Die proporsionele verhouding tussen die kern en sitoplasma van 'n lewende sel is konstant (sien De Robertis, Nowinski & Saez 1965:205-206) en besoek die WEB by "NUCLEOPLASMIC INDEX" (besoek op 12 Oktober 2017).
9 Martindale (1973:7) wys daarop dat sosiale organisasie deur die "organisisme" werk met die gedagte van die samelewing se organe.
10 Die vier eienskappe is: (i) ruimtelike-afgrensing; (ii) begrensde lewensduur; (iii) egalig-konstante sel-temperatuur en (iv) die hoëre sel-temperatuur as die onmiddellik-aangrensende omgewing (Trincher 1985:336).
11 Bedink slegs dat alle atome in die menslike liggaam elke sewe jaar volkome uitgewissel word en dat 98% van die proteïn in die brein elke 24 uur hernu word (sien Jones 1998:40).
12 Omdat molekule nie leef nie is dit volgens Simpson (1969:6) "selfcontradictory" om van molekulêre biologie te praat, terwyl Dobzhansky (1965:310) tereg byvoeg: "Pre-biological natural selection is a contradiction in terms". Wanneer vervlegting met behoud van 'n interne werkingsfeer geskied, staan dit as enkaptiese vervlegting bekend.
13 Tegniek (insluitende gereedskap) is kultuur-histories gefundeer én kultuur-histories gekwalifiseer - dit is immers gemaak (funderingsfunksie) om iets anders mee te maak (kwalifiseringsfunksie).
14 Die term "intuïsie" dui hier op 'n onmiddellike insig wat nie nader gedefinieer kan word nie. So 'n intuïtiewe insig in die unieke sin-kern van elke aspek belig tegelyk die onherleibaarheid daarvan.
15 Let daarop dat Dooyeweerd die term "transendentaal" hier in 'n ontiese sin en nie in 'n epistemiese sin gebruik nie.
16 Verskeie kante van hierdie problematiek is diepgrypend in verskeie publikasies aan die orde gestel - vergelyk met name Strauss (2006a), (2012), (2013) en (2014).
17 Vergelyk die ontleding van hierdie eensydige sienings in die denke van sosioloë soos Comte, Spencer, Tönnies, Von Wiese, Durkheim, Spann, Weber, Parsons, Sorokin, MacIver, Alexander, Münch, Sztompka, Habermas en Giddens in Strauss (2002), (2004), (2006), (2007).
18 Goosen (2015:11) sluit nog implisiet by hierdie opvatting van Tönnies aan wanneer hy die relasie tussen beide as 'n historiese proses sien: "Van 'n gestempel-wees-deur die ou gemeenskappe is daar steeds minder sprake".
19 Hierdie merkwaardige resultaat van die sosiale verdrag gryp vooruit op die transpersonalistiese inset van die Romantiek - waar die bo-individuele volksgeheel 'n sentrale plek verwerf (vergelyk die denke van Schelling, Fichte en Hegel - vgl ook Popper 1966-II:52).
20 Terloops wys ons daarop dat die geheel-dele relasie by Rousseau die bowe- en onderskikkende relasie van owerheid en onderdaan vervang.
21 Sien Goosen (2016: 247-248). In Strauss (2013) word krities gekyk na die tekortkominge van die beginsel van subsidiariteit in vergelyking met die beginsel van soewereiniteit-in-eie-kring.
22 Althusius Hoofstuk IX van die 1610 Groningen-uitgawe, bladsy 115. Hy stel hier dat "aparte individuele mense" of "families" nie dele van die staat is nie.
23 Goosen gebruik die terme samehangend, deelnemend, geheel en dinamies in 'n begripstransen-derende sin. Ongelukkig bevat hierdie grondidee 'n universalistiese skadukant. Dit verklaar ook waarom hy so gemaklik by Aristoteles se universalistiese denkwyse aansluiting kon vind.
24 Ook Sztompka (1993:9) ontwikkel 'n teorie van sosiale verandering ten koste van konstansie.
25 Met die woord "religieus" word nie godsdiens in engere sin bedoel nie, maar die diepste bewegende kragte in die lewe van mense en samelewings.
26 Let daarop dat MacIntire (1988:122,126) wel die totalitêre aard van die polis raakgesien het.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License