SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue1The perception of higher education students of the influence of their gap year experiences on their personal developmentAt home in God's world: a transforming paradigm for being human and for social involvement - B J van der Walt author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.1 Pretoria Jan. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n1a9 

AKTUEEL: DEBAT
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Redakteursnota

 

 

In hierdie uitgawe lewer Danie Strauss en Andries Raath die sluitstukke in hulle kritiese lees van die werk van Danie Goosen en Koos Malan in die debat oor staat en samelewing. Soos gestel in die Desember 2017-uitgawe, bespreek Strauss die implikasies van die geheel-dele-relasies vir 'n begrip van sosiale omgang en verkeer in 'n gedifferensieerde samelewing. Andries Raath, daarenteen, besin op sy beurt opnuut oor die grondslae van politokratiese kommunitarisme, met spesifieke aandag aan die vermeende belang van Johannes Althusius vir die begrip polis.

Ter inligting word die vorige bydraes tot die debat hieronder kortliks geskets:

In die Junie 2016-nommer van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe het Andries Raath, in 'n diskoers met Danie Goosen en Koos Malan, die politieke en regsfilosofiese implikasies van politieke kommunitarisme van nader bekyk.

In die September 2016-nommer tree Danie Strauss toe tot die debat deur aan te voer dat die tekortkominge van sowel individualistiese (atomistiese) as universalistiese (holistiese) benaderings ondervang kan word "indien erns gemaak word met die ontiese beginsels van soewereiniteit-in-eie-kring en universaliteit-in-eie-kring".

In Desember 2016, in die tweede boek, lewer sowel Danie Goosen as Koos Malan repliek op die vorige twee standpunte, soos verwoord deur Andries Raath (Junie 2016) en Danie Strauss (September 2016) onderskeidelik.

In Junie 2017, in die tweede boek, reageer Danie Strauss op veral Danie Goosen se repliek wat in die Desemberuitgawe van 2016 verskyn het. Die outeur beplan om in opvolgbydraes bepaalde raak- en verskilpunte met sowel Danie Goosen as Koos Malan se standpunte breër uit te werk.

In September 2017 beredeneer sowel Andries Raath as Danie Strauss spesifieke filosofiese vooropstellings in die voortgesette debat rondom staat en samelewing. Andries Raath bepleit 'n diepgaande gesprek oor grondslagkwessies - vir hom is dit essensieel dat voldoende aandag geskenk word aan "die grondmotiewe, grondidees en ideologiese ladings van wetenskaplike begrippe in die antieke Griekse politieke denke". Eweneens beredeneer Danie Strauss in sy artikel, met spesifieke verwysing na Koos Malan se Politokrasie, "wysgerige onderskeidinge relevant vir 'n besinning oor staat en samelewing".

In Desember 2017 gee Danie Strauss, as wegbereider vir sy analise van aspekte van 'n gedifferensieerde samelewing, 'n uiteensetting van die geheel-dele-relasie, gesien vanuit 'n algemeen-wysgerige sowel as 'n vakfilosofiese perspektief.

Hierdie aktuele debat, wat deurgaans op 'n gesofistikeerd-beredeneerde wyse gevoer is, word afgesluit met beoogde bydraes deur Danie Goosen en Koos Malan in die Junie-nommer van die tydskrif. Lees ook, in hierdie uitgawe, Denis Venter se meningstuk, oor "demokratiese regering en die rol van etiek en integriteit in die politiek en openbare lewe" as nog 'n perspektief op staat en samelewing.

 

Ina Wolfaardt-Gräbe

Februarie 2018

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License