SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue1Self-government in deeply divided societies - the kaleidoscope of efforts by the Afrikaans community to develop a comprehensive model for self-managementCurrent demographic, political and religious global and educational tendencies for the promotion of interreligious tolerance author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.1 Pretoria Jan. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n1a3 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Dagloners: 'n Gevallestudie van die kwesbaarheid van die maatskaplike bestel en samehorigheid in Suid-Afrika se informele ekonomie

 

Day labourers: A case study of the vulnerability of the social fabric and cohesion in South Africa's informal economy

 

 

Rinie SchenckI; Derick BlaauwII

IDepartement Maatskaplike, Werk Universiteit van Wes-Kaapland E-pos: cschenck@uwc.ac.za
IISkool vir Ekonomiese Wetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: Derick.Blaauw@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Dagloners is werklose mense, meestal mans, wat 'n poging aanwend om 'n inkomste te verdien deur hul arbeid en vaardighede in 'n arbeidsmark langs die pad of by 'n kruising te verkoop. Die groeiende aantal dagloners wat 'n lewe uit informele indiensname maak, is 'n duidelike teken dat Suid-Afrika nie die werkloses in die arbeidsmark kan absorbeer nie - veral nie die laag- en ongeskoolde arbeiders nie. Om in die informele ekonomie te oorleef en 'n bestaan te maak, impliseer n onsekere inkomste en bestaan.
Hierdie nasionale studie is in twee fases uitgevoer. Tydens 'n verkenningsfase het die outeurs n landwye verkenning in 2005 en 2006 onderneem. Dit het 'n geskatte aantal dagloners in Suid-Afrika van tussen 45 000 en 50 000 opgelewer. Die tweede fase van die studie het bestaan uit die ontwerp van die vraelys, die opstel van die steekproef vir die gevallestudie asook die uiteindelike veldwerk. Die steekproef is saamgestel proporsioneel tot die aantal dagloners wat in die geïdentifiseerde stede en dorpe aanwesig was tydens die eerste fase van die projek. Die outeurs het van bondelsteekproefneming en sneeubalsteekproefneming gebruik gemaak om te verseker dat die dagloners in stedelike en landelike gebiede nie onder- of oorverteenwoordig word nie. Die opleiding van die veldwerkers het deeglike aandag geniet en die veldwerk self het van Februarie 2007 tot November 2008 geduur, waartydens 3 830 onderhoude gevoer is. Alle etiese oorwegings het ook deeglike aandag ten tye van die navorsing geniet.
Die doel van die artikel is om die sosio-ekonomiese profiel van dagloners in Suid-Afrika te beskryf as 'n gevallestudie wat illustreer watter druk op die maatskaplike samehorigheid van die gesinne en gemeenskappe in die informele ekonomie geplaas word. Daar word in besonder aandag gegee aan die sosio-ekonomiese omstandighede van die dagloners en die beleids- en institusionele maatreëls wat ingestel moet word om ondersteuning aan die dagloners te kan bied, sodat samehorigheid bevorder kan word en nie bedreig word, soos tans die geval is nie.

Trefwoorde: Dagloners; informele ekonomie; maatskaplike bestel; maatskaplike samehorigheid; werkloosheid; armoede; informele indiensname; immigrante; oorlewing; kwesbaarheid; voedselonsekerheid


ABSTRACT

The concepts social fabric and social cohesion refer to complex and interdependent systems that exist in a community. Social cohesion includes aspects such as the level ofrespect people have for each other, people's experiences of belonging, identification with the community, identity, their experiences of social justice, and participation. Social cohesion is further evident in the extent that people are accepting each other, taking responsibility for themselves and others and providing safety and security.
South Africa's political and racially-based history and the current high poverty and inequality do not provide a conducive context for a cohesive society. This is evident in the high prevalence of poverty, unemployment, crime, substance dependency and the neglect and abuse of women and children. Facilitating a socially cohesive society is high on the agenda of the current government, but the current policy frameworks and institutional structures cannot create a socially cohesive society. Failing to create a socially cohesive South African society is evident in the more than 50 000 day labourers who are standing on the street corners of our cities and towns daily, with the hope to access a job and an income for the day.
Day labourers are unemployed people, mostly men, making a living by selling their labour and skills on the street corners of South African cities and towns. The growing number of day labourers who make a living in the informal economy is a clear indication that South Africa cannot absorb the unemployed in the formal economy. In particular, South Africa is unable to accommodate the low-skilled and uneducated labourers in the formal labour market. To make a living and survive in the informal economy imply an insecure existence.
The aim of the article is to describe the socio-economic profile of the 3 830 day labourers interviewed during the first national study in South Africa as a case study that illustrates the vulnerability of the social cohesion and social fabric of poor families and communities surviving in the informal economy. The national study was implemented in two phases. The first phase lasted approximately two years, which were spent travelling throughout South Africa to determine on which street corners and open spaces the day labourers are standing in the cities and towns of South Africa. This reconnaissance phase of the study resulted in the estimation that there are at least 50 000 day labourers occupying street corners of South African towns and cities daily. The second, or fieldwork, phase of the research consisted of the completion of3 830 interviews with day labourers throughout South Africa during 2007 and 2008. In this phase, the authors developed the survey instrument, recruited field workers, provided appropriate training and tested the questionnaire. This was followed by the sampling, where a combination of cluster and snowball sampling was used to proportionally represent the research population. A representative sample of approximately 9% enabled meaningful statistical analysis. All ethical principles were adhered to. The questionnaires were completed with the assistance of well-trained fieldworkers who were fluent in the languages spoken by the day labourers.
The results of the study show that, given the high unemployment rate and slow economic growth in South Africa, the informal economy and day labouring are here to stay and should be supported with relevant facilitating policies and institutions/structures. Day labouring is furthermore a survivalist strategy and it implies an irregular income. It became clear that the day labourers in general have very low education and skills levels and will not be able to access formal labour in the current economic climate.
Day labourers are the result of a vulnerable socially exclusive society. It will remain in an increasingly vulnerable exclusive society if not addressed through the implementation of policies and practices that will enhance social cohesion and strengthen the social fabric of the South African society.

Key terms: Day labourers; informal economy; social fabric; social cohesion; unemployment; poverty; informal employment; migrants; survival; vulnerability; food insecurity


 

 

1. INLEIDING

Die konsep maatskaplike bestel of maatskaplike samehorigheid dui op komplekse en interafhanklike sisteme en eienskappe wat in die gemeenskap bestaan. Dit sluit aspekte in soos onder meer demografiese en ekonomiese faktore, optrede of gedrag van die mense, gesinslewe, netwerke, verhoudings tussen mense, en organisasies.

Die feit dat bogemelde verweef word deur mense se sienswyses, waardes en sentimente is veral baie belangrik. Dit sluit in hul respek vir mekaar, ervaring van om te behoort, identifikasie met mekaar, ervaring van sosiale geregtigheid en gelykheid, gewilligheid tot deelname aan aktiwiteite en verantwoordelikheid neem vir hulself en mekaar, die aanvaarding van mekaar asook minderheidsgroepe soos immigrante, ervaring van tevredenheid, geluk en positiewe toekomsverwagtings en hul ervaring van veiligheid en sekuriteit (Markus 2016:11).

'n Land soos Suid-Afrika - met sy politieke en rasgeoriënteerde geskiedenis - en sy uitermate hoë amptelike werkloosheidsyfer (27.7%) (Statistieke Suid-Afrika 2017) het besondere uitdagings wat hom in die gesig staar om sy maatskaplike samehorigheid en weefsel sterk te hou (Markus 2016:11). Om die waarheid te sê, die maatskaplike bestel word as uiters kwesbaar beskou, wat manifesteer in die hoë armoede, misdaad, substansiemisbruik en verwaarlosing sowel as die ontstellende vlakke van geweld teen vroue en kinders. Die fasilitering van 'n positiewe maatskaplike samehorigheid is hoog op die agenda van die huidige regering se beleidsraamwerke, maar vind nie wasdom in die praktyk nie.

Een van die manifestasies van die mislukking om wel sodanige maatskaplike samehorigheid te fasiliteer, kan gesien word in die meer as 50 000 dagloners wat daagliks langs die strate van ons dorpe en stede staan in die hoop om een of ander tydelike werk te bekom. Trouens, hulle sal enige werk neem wat aan hulle gebied word, dikwels teen baie lae lone (Theodore et al. 2017:143).

Dagloners is werklose mense, meestal mans, wat 'n poging aanwend om 'n inkomste te verdien deur hul arbeid en vaardighede te verkoop in 'n arbeidsmark teen die pad of by 'n kruising (Louw 2007:10; Valenzuela Jr. et al. 2006:1; Theodore et al. 2009:422; Blaauw 2010:iv). Die groeiende aantal dagloners wat 'n lewe maak uit informele indiensname is 'n duidelike teken dat Suid-Afrika nie die werkloses in die arbeidsmark kan absorbeer nie - veral nie die laag- en ongeskoolde arbeiders nie.

Om in die informele ekonomie te oorleef en 'n bestaan te maak, impliseer 'n onseker inkomste en bestaan. Dit impliseer verder dat die werkers kwesbaar is om aan uitbuiting blootgestel te wees. Daar is voorts geen institusionele liggaam of organisasie wat beskerming bied en waardeur hul stemme gehoor kan word nie. Die dagloners word op daaglikse basis in kontant betaal en funksioneer sonder enige wetlike en ander verpligtinge ("van die boek af') van werkgewerskant.

Sommige dagloners kan dalk die informele ekonomie sien as 'n opsie om die formele ekonomie via die informele ekonomie te betree. Die meeste aanvaar egter dat hulle nooit tot die formele ekonomie sal toetree nie, weens faktore soos ongeskooldheid. Dis geen verrassing nie, veral gesien teen 'n agtergrond van die uitgebreide werkloosheidskoers wat op 36% staan en n jeug-werkloosheidsyfer van meer as 50% (Statistieke Suid-Afrika 2017; Graham & De Lannoy 2017).

Die waarskynlikheid dat van die dagloners permanente werk in die formele ekonomie gaan kry, is uiters gering. Die vraag na ongeskoolde en laaggeskoolde arbeid word al hoe kleiner, gegewe die geweldige mededinging vir die al hoe skaarser tydelike werk wat bestaan. Die vlak van mededinging word verder verhoog deur die groot aantal immigrante uit Afrika wat na Suid-Afrika stroom (Theodore et al. 2017:142). Suid-Afrika word tans gesien as een van die gewildste bestemmings vir mense uit Afrika-lande wat blootgestel is aan oorloë, korrupsie en outokratiese regerings (Theodore et al. 2017:142). Die inherente dreigende vreemdelingehaat wat daarmee saamgaan, bevorder nie maatskaplike samehorigheid nie en werk dit aktief teë (Crush et al. 2015).

Dit is dus belangrik dat ons na die dinamika van die informele ekonomie begin kyk as iets wat hier is om te bly. Dit is gebiedend noodsaaklik dat ons dit beter verstaan en begrip ontwikkel vir die uitdagings waaraan informele werkers blootgestel word. Sodoende kan gepaste beleids- en institusionele ondersteuning ontwikkel word wat kan bydra om dié sosiale uitdagings aan te spreek en die druk op informele werkers se bestaan en oorlewing te verlig.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die navorsers uit die Maatskaplike Werk en Ekonomie saamgewerk het om die sosio-ekonomiese profiel van die dagloners in Suid-Afrika te ondersoek. Die artikel deel die resultate van die navorsing en beskryf die omstandighede van die dagloners en die druk wat dit op die maatskaplike samehorigheid van die gesinne en gemeenskappe in die informele ekonomie plaas. Daar word ook in besonder aandag gegee aan die beleids- en institusionele maatreëls wat daargestel moet word om ondersteuning aan die dagloners te kan bied, sodat samehorigheid bevorder kan word en nie bedreig word soos dit tans die geval is nie.

 

2. METODE

Die data is afkomstig van die eerste en sover enigste wetenskaplik gefundeerde landswye nasionale studie wat onder die dagloners gedoen is wat in die strate van die stede en landelike dorpe van Suid-Afrika 'n bestaan probeer maak. Volgens Rubin en Babbie (2014:181) is opnames vir die insameling van primêre data geskik vir eksplorerende, beskrywende en verduidelikende studies. Die opname in die studie het beskik oor al drie die genoemde elemente. Daar is gebruik gemaak van gestruktureerde vraelyste met beide kwantitatiewe en kwalitatiewe vrae (Bless, Higson-Smith & Sithole 2013).

Die navorsingstrategie is gebou op enkele vorige studies wat die nasionale studie in Suid-Afrika voorafgegaan het. In die VSA het Valenzuela Jr. et al. (2006) die eerste nasionale studie van dagloners in Amerika onderneem. Schenck en Louw (2005) het in die dieselfde tyd die eerste eksploratiewe studie in Pretoria onderneem, terwyl Gonzo en Plattner (2003) 'n studie in Windhoek (Namibië) onderneem het. Schenck en Louw het kontak gemaak met die navorsingspan in die VSA. Ná 'n besoek aan die VSA is die vraelys wat daar gebruik is, aangepas om n moontlik vergelykende opname in 2004 onder die dagloners in Pretoria te doen (Louw 2007). Hierdie studies het die basis gevorm waarop die nasionale studie gebou is.

Die daaropvolgende nasionale studie is in die volgende fases uitgevoer:

1. Die verkenningsfase: Omdat die navorsingspan onder leiding van Louw (2007) net die dagloners in Pretoria nagevors het en dagloners in die ander groot stede en dorpe opgemerk het, het die navorsers in die landswye studie, waarop hierdie artikel gebaseer is, begin om 'n verkenning te doen om vas te stel waar die dagloners in Suid-Afrika se ander stede en dorpe voorkom. Aanvanklik is welsynsorganisasies en munisipaliteite in die stede en dorpe gekontak om inligting by hulle te kry. Dit het nie veel vrugte afgewerp nie. Een van die redes was dat hulle nie altyd presies verstaan het na wie verwys word nie. In elke streek word daar verskillende name aan die mense toegeken, waaronder "casual workers" of "casuals", "skroppie-soekers", "temps" en "dailies" (Louw 2007:13). Dit het tot gevolg gehad dat die outeurs van die artikel in 2005 en 2006 in hul motors geklim en self die land deurkruis het om te bepaal in watter dorpe en stede dagloners aangetref word. Dit is in detail opgeteken, en 'n geskatte aantal dagloners in Suid-Afrika kon gemaak word (45 000 - 50000). Uit die aard van die saak kon elke dorp nie besoek word nie, maar die groter dorpe in elke streek is geteiken. Dit is dus moontlik dat dagloners in die kleiner dorpe nie getel en opgeteken is nie. Die syfer was dus in alle waarskynlikheid 'n effense onderskatting. Die verspreiding van dagloners in Suid-Afrika word in Figuur 1 geïllustreer.

Bron: Navorsingsdata na afloop van outeurs se verkenningspogings

2. Die tweede fase van die studie het bestaan uit die ontwerp van die vraelys, die opstel van die steekproef vir die gevallestudie asook die uiteindelike veldwerk. Die vraelys is ontwerp met inagneming van die werk van Louw (2007) asook die vraelys soos gebruik in die VSA deur Valenzuela Jr. et al. (2006). Die vraelys het verskeie weergawes gehad, wat telkens verbeter is voor die finale weergawe aanvaar is. Die hoofstede van elke provinsie sowel as ander belangrike sentra in die landelike gebiede in die onderskeie provinsies het deel van die steekproef uitgemaak. Die steekproef is saamgestel proporsioneel tot die aantal dagloners wat tydens die eerste fase van die projek in die geïdentifiseerde stede en dorpe aanwesig was. Die plekke waar die dagloners vergader om gehuur te word, is opgedeel in klein, medium en groot vergaderplekke. Die outeurs het van bondel-steekproefneming en sneeubalsteekproefneming gebruik gemaak om te verseker dat die dagloners in stedelike en landelike gebiede nie onder- of oorverteenwoordig word nie. 'n Steekproef van tussen vyf en tien persent is in die vooruitsig gestel. Die vraelyste in die stede is voltooi met behulp van studente wat as veldwerkers gewerf is by die onderskeie plaaslike universiteite. Studente wat die tale magtig is wat deur die dagloners gepraat word, is gewerf. Vir die landelike areas is gebruik gemaak van 'n toegewyde veldwerker wat vyf van Suid-Afrika se amptelike tale magtig is, en bereid was om deur die land te reis en die onderhoude te voer. Die opleiding van die veldwerkers het deeglike aandag geniet voor die insameling van die data. Die veldwerk self het in Februarie 2007 'n aanvang geneem en is afgehandel in November 2008. Die meeste onderhoude is in Gauteng (26%), gevolg deur die Wes-Kaap (16%), KwaZulu-Natal (14%), en die Oos-Kaap (12%) voltooi. Die steekproef is geëvalueer om te verseker dat die beoogde proporsionaliteit bereik is. Dit is belangrik om daarop te let dat alle etiese oorwegings ook deeglike aandag ten tye van die navorsing geniet het. Geen onderhoud is gevoer sonder die ingeligte toestemming van die respondent nie. Die projek self het die nodige etiese klaring by die Universiteit van Suid-Afrika gehad. Binne die konteks was dit nog belangriker dat geen dagloner daarvan weerhou sou word om 'n moontlike werksgeleentheid te kry deur aan die navorsing deel te neem nie. Die veldwerkers het dit baie duidelik gemaak dat die dagloners te eniger tyd die onderhoud kon beëindig as daar 'n moontlikheid op 'n werk bestaan. Dit het dan ook verskeie kere gebeur dat n dagloner nie die onderhoud kon voltooi nie aangesien hy saam met n werkgewer vertrek het. Die vraelyste is dan as onvoltooid hanteer.

Uit die geskatte 45 000 tot 50 000 dagloners in Suid-Afrika is daarin geslaag om 'n totaal van 3 830 onderhoude te voer. Tabel 1 verskaf meer volledige inligting oor die provinsiale verspreiding van die respondente in die studie.

Dit verteenwoordig nie minder nie as 8.5% van die navorsingspopulasie, wat die studie verteenwoordigend maak. Deur gebruik te maak van beskikbare sagteware is bereken dat die hoeveelheid respondente 'n statisties betekenisvolle analise teen 'n 99%-vertrouensinterval moontlik maak. Die vraelyste is skoongemaak en in MS Excel aangeteken. Analises is gedoen met behulp van SPSS- en Eviews-programmatuur. Kwalitatiewe data is aanvullend tot die kwantitatiewe data ingesamel en gebruik om kwantitatiewe resultate verder te verklaar en te ondersteun.

 

3. RESULTATE

3.1 Demografiese profiel van die dagloners in Suid-Afrika

Tabel 2 verskaf die opsomming van die resultate uit die opname wat gemaak is met die dagloners in Suid-Afrika. Die tabel beskryf die demografie, werksomstandighede en die inkomste van die dagloners.

 

 

Al die dagloners in die opname was swart en feitlik uitsluitlik manlik. Slegs 4% van die respondente is vroulik. Die bevinding maak teoreties sin aangesien dit dalk moeiliker vir vroue is om langs die strate te staan en wag vir werk. Daar is verskeie redes hiervoor. Die onbeskermde aard van die dagloners se daaglikse bedrywighede is dalk die mees waarskynlike verklaring dat vroue minder op die straat staan en werk soek. Daarmee saam het vroue andersoortige netwerke en metodes om werk te bekom as byvoorbeeld huishulpe. Dit is wel interessant dat tydens die kwalitatiewe onderhoude 'n opmerking gemaak is deur een van die manlike dagloners dat hierdie nog 'n plek is waar '"n man 'n man kan wees".

Die meeste (85%) van die dagloners is in Suid-Afrika gebore en 10% is van Zimbabwe afkomstig. Daar was ook dagloners uit Mosambiek, Namibië, Swaziland en Lesotho en enkele dagloners wat nie bereid was om hul land van herkoms aan te dui nie. Die vermoede bestaan dat hulle wel van buite Suid-Afrika se landsgrense kom en dalk ongedokumenteerdes of onwettige buitelanders is. Daar is nie aangedring daarop om hul nasionaliteit te sien of wettigheid te bepaal nie.

Gevalle het voorgekom waar die dagloner sou aandui dat hy Suid-Afrikaans is maar aan hulle voorkoms en taal was dit te betwyfel.

Interessant is dat die situasie in die VSA omgekeerd is van die Suid-Afrikaanse dagloner-landskap. In Amerika is 93% van die dagloners buitelanders uit Mexiko en Sentraal-Amerika, teenoor 'n skamele 7% wat vanuit die VSA kom (Theodore et al. 2015:810).

Met observasie en in gesprekke met die dagloners het die spanning tussen die Suid-Afrikaanse dagloners en hul buitelandse eweknieë baie duidelik na vore gekom. Hulle sal dikwels nie op dieselfde straathoeke staan nie en die Suid-Afrikaanse dagloners sal die buitelandse dagloners, maar in besonder die Zimbabwiërs, daarvan beskuldig dat hulle werk steel met hul goedkoop arbeid. Daar word ook na hulle in neerhalende taal (makwerekweres) verwys, soos in Schenck, Xipu & Blaauw (2012:40) aangehaal: "The makwerekweres are spoiling the employers.....they must go back to Zimbabwe and leave us alone." Hierdie spanning is toenemend waarneembaar namate die mededinging vir beperkte tydelike werksgeleenthede toeneem. Die negatiewe uitwerking op die maatskaplike samehorigheid is duidelik.

'n Baie interessante syfer uit die resultate is dat 30% van die dagloners in Suid-Afrika afkomstig is van die Oos-Kaap, terwyl die Noord-Kaap as die mees ylbevolkte provinsie, en Gauteng as mees digbevolkte provinsie elk 4% van die dagloners lewer. In 'n vorige studie deur Louw (2007:184) het sy egter uitgewys dat 88% van die dagloners in die strate van Pretoria uit Limpopo gekom het.

Daar is duidelik migrasie vanuit die provinsies waar werk skaars is, soos die Oos-Kaap, na die stede van provinsies soos Gauteng en die Wes-Kaap. Hier is die werksgeleenthede teoreties beter, gegewe die sterker provinsiale ekonomieë (Blaauw et al. 2006:459). Hierdie migrasiepatrone skep dikwels verwydering tussen families en dit het n verdere negatiewe uitwerking op die maatskaplike sisteme en samehorigheid in die samelewing. Dit blyk verder dat alle dagloners, buiten hulself, gemiddeld vier persone onderhou met die inkomste wat hulle as dagloner verdien. Die 3 830 dagloners onderhou dus, buiten hulself, meer as 13 000 persone met die inkomste wat hulle verdien. Gegewe die sensus, wat hierdie studie voorafgegaan het, se bevinding dat daar 'n minimum van 50 000 dagloners in Suid-Afrika was in 2006, is die aantal persone wat deur hulle onderhou word ten minste 200 000.

Nog 'n kommerwekkende feit wat uit die studie na vore gekom het, is die besonder lae skolastiese vlakke van die dagloners. Die feit dat slegs 15% graad 12 geslaag het, sal beslis 'n uitwerking hê op enige moontlikheid dat hulle werk in die formele ekonomie sal kan kry. Byna die helfte (47%) van die dagloners het aangedui dat hulle nog nooit voorheen enige formele werk gehad het nie. Informele werk soos om 'n dagloner te wees, was dus baie moontlik hul eerste en enigste kennismaking ooit met die arbeidsmark as geheel. Dié wat wel voltyds gewerk het, het aangedui dat hulle meestal laer geskoolde werk gedoen het soos om n petroljoggie te wees, n plaasarbeider, n sekuriteitsbeampte, of as arbeider vir n tuindienste-onderneming gewerk het. Sommige het 'n kontrak in die konstruksiebedryf gehad.

Die dagloners het dan ook verder aangedui dat die redes waarom hulle nie in staat was om graad 12 te voltooi nie, hoofsaaklik finansieel van aard was en ook weens ander gesinsprobleme. Een het dit so uitgedruk: "no parents, no money, no support". Onder finansiële redes het hulle armoede aangedui en/of dat een of albei die ouers oorlede is en hulle hul sibbe moes onderhou of hul ouers was bloot te arm om hulle skool toe te laat gaan. Hulle kon nie skooluniforms bekostig nie en van hulle het aangedui dat hulle op plase of afgesonderde landelike areas grootgeword het, waar hulle nie toegang tot skole gehad het nie. Sommige was ook verantwoordelik daarvoor om die veekudde van die gesin op te pas (beeswagters en/ of skaapwagters).

Onder die redes vir gesinsprobleme was daar aanduidings van huwelikskonflik en verwaarlosing deur van die ouers wat nie toegesien het dat die kinders by die skool uitkom nie. Sommige het ook dissiplinêre redes vir vroeë skoolverlating aangedui en 'n klein hoeveelheid het bloot nie in skoolonderrig belanggestel nie. Een van die dagloners het ook aangedui dat hy n meisie swanger gemaak het en dus moes gaan werk soek om die kind te onderhou ("I impregnate someone and had to look for work").

Dit is dus nie verbasend dat die dagloners aangedui het dat hul vaardigheidsvlakke baie laag is nie. Slegs 1% van die Suid-Afrikaanse dagloners het naskoolse opleiding gehad, teenoor die 9% van die buitelandse dagloners. Een van die verklarings hiervoor is die feit dat Zimbab-wiese dagloners beter skoolopleiding gehad het en met goeie kwalifikasies na Suid-Afrika geïmmigreer het. Meeste van die vaardighede wat die dagloners bekom het, is aangedui as indiensopleiding ("on the job") en informeel aangeleer.

Een van die dagloners het dan ook verduidelik dat hy op skool leer sweis het. Hy het in graad 10 die skool verlaat. Hy bevestig dat hy loodgieter- en verfvaardighede by die ander dagloners aangeleer het en dat hy ten tye van die studie besig was om die vaardigheid van teëlwerk aan te leer. Om 'n groter repertoire van vaardighede te hê, kan 'n mens teoreties help om toegang tot werk te kry.

Graham en De Lannoy (2017) het soortgelyke bevindings in hul studies gemaak, naamlik dat daar n sterk verband is tussen swak opleiding en vaardigheidsvlakke en werkloosheid. Hierdie studie het dit weereens bevestig. Die implikasies hiervan vir maatskaplike samehorigheid is ondubbelsinnig en kommerwekkend.

Die oorlewingsaard van die informele arbeidsmark is duidelik in die lang ure wat die dagloners op straathoeke staan in die hoop om werk te kry. Dit op sigself plaas baie direkte druk op die maatskaplike bestel van die gemeenskappe waaruit hulle kom. Wanneer hulle werk kry, werk hulle lang ure en wanneer hulle nie werk nie, bestee hulle baie tyd om te "wag" of om dan selfs sosiaal te verkeer. Dit is dan ook een van die redes waarom daar na die werklose jongmense in Suid-Afrika verwys word as die "waiting" of wagtende generasie (hulle wag vir werk). Hul kwaliteit van lewe word direk daardeur beïnvloed, in besonder wanneer hulle ook nog ná 'n dag se gewag met leë hande moet huis toe gaan en hul gesin meedeel dat hulle geen inkomste kon verdien om in hul behoeftes te voorsien nie. Sommige het dan ook aangedui dat hulle nie huis toe gaan as hulle nie met geld of kos kan huis toe gaan nie.

Dit het verder uit die studie geblyk dat daar beduidende variansie in die inkomste van dagloners bestaan. Hul inkomste word bepaal deur die beskikbaarheid van werk in die dorp of stad waar hulle staan, hul vaardigheidsvlakke en ook hul taalvaardigheidsvlak. Taalvaardigheid se belangrike impak op dagloners se werk en inkomste word ook onderskryf deur Gallardo (2012:ii). Die dagloners in Gallardo (2012:72) se studie het hul gebrekkige vermoë om met die werkgewer te kommunikeer as een van die grootste uitdagings aangedui om werk en dus inkomste te bekom.

In sommige dorpe en stede is werksgeleenthede meer geredelik beskikbaar, afhangend van die vlak en omvang van ekonomiese aktiwiteite om en in die stad of dorp. Seisoenaliteit speel ook hier 'n belangrike rol. In sommige plattelandse dorpe is die dagloners afhanklik van die seisoenale aard van boerderye. Wanneer dit byvoorbeeld oestyd is, is werk meer beskikbaar as in die tye wanneer die plase "stil" is of boubedrywighede in die stede tot stilstand gekom het.

Hierdie tipe verskille kom baie duidelik na vore uit die antwoorde op vrae waar hulle moes aandui wat die inkomste was wat hulle in 'n "goeie" of "slegte" week verdien het. In 'n goeie week in 2008 kon 'n dagloner gemiddeld R387 verdien, teenoor die skamele R164 per week wanneer dit n slegte week was. Daar is ook weke waarin hulle geen inkomste verdien nie. Hierdie onsekerheid van inkomste maak dit moeilik vir die dagloner en sy familie om vooruit te beplan en volhoubaar uit armoede uit te beweeg. Hulle oorleef dus bloot van dag tot dag en weet ook nie of hulle wel hul afhanklikes elke dag kan onderhou nie. Om dagloonwerk te verrig, soos dit tans daar uitsien, is duidelik n oorlewingstrategie en nie n pad uit armoede nie (Blaauw et al. 2006:469; Valenzuela Jr. et al. 2006:10).

In die volgende afdeling word gefokus op die effek wat die dagloner se omstandighede, soos hier bespreek, op die sosiale samehorigheid en gesinslewe het.

3.2 Gesinsbande en verhoudinge

Die volgende vinjet uit die kwalitatiewe data is 'n illustrasie van die ervaring van 'n tipiese dagloner en sy gesinsverhoudinge:

Die dagloner het by 'n maatskappy in Polokwane gewerk wat lugversorgers geïnstalleer en reggemaak het. Die maatskappy het sy deure gesluit en hy het gevolglik sy werk in die formele ekonomie verloor. Hy het saam met sy vrou en kinders gewoon. Hy het gevolglik na Pretoria gekom om werk te soek en as dagloner begin staan. Komende van Limpopo het hy aanvanklik in n park geslaap om naby die straathoek te wees waar hy vir werk gewag het. Sy gesin het in Limpopo agtergebly. Hier kon hy mettertyd genoeg materiaal bymekaar maak om 'n "shack" (soms ook deur sekere Afrikaanssprekende dagloners daarna verwys as "hok") te bou in die naaste swart woongebied sodat sy gesin weer by hom kon aansluit. Dit neem hom daagliks vyf ure om na en van sy werk te loop vanwaar hy woon omdat hy nie kan bekostig om die vervoer te betaal nie. Intussen het sy vrou hom verlaat omdat, volgens hom, n vrou nie by n man bly wat nie n werk het nie. Hy voel baie skaam dat hy nie genoeg geld het om behoorlik na sy kinders om te sien en vir hulle te gee wat hulle nodig het nie.

Dié gevallestudie toon duidelik dat die gesinsomstandighede en die sosiale weefsel van die gesinne van die dagloners onder geweldige druk is en selfs uitrafel. Ten spyte van die feit dat die dagloner verantwoordelik is vir die onderhoud van vier ander mense, is dit interessant om op te merk dat slegs 26% getroud is (Westers en/of tradisioneel). Dit kan te doen hê met die feit dat die grootste meerderheid (66%) van die dagloners jeugdig is, met ander woorde onder die ouderdom van 35 jaar. By verdere ondersoek het hulle wel aangedui dat hulle in 'n verhouding is en saam met iemand woon en kinders het. Sommige het egter ook aan die navorsers gemeld dat hulle doodeenvoudig nie kan bekostig om te trou nie. Hulle het nie die geld of die middele om iets soos "lobola"1 of 'n bruidskat te betaal nie (Louw 2007:193; Dubbeld 2013:11). Dit is dus duidelik dat dagloners op straat staan in 'n poging om 'n inkomste te verdien vir hulself en om hul familie en/of afhanklikes te versorg.

Menige dagloner het gemeld dat dit vir hulle baie moeilik is om in die aand huis toe te gaan as hulle nie n werk bekom het nie. Om die afhanklikes in die oë te kyk wanneer hulle met leë hande tuiskom, is hul grootste verleentheid. Dit is selfs aan die navorsers meegedeel dat hulle soms nie huis toe gaan as hulle nie iets kan saamneem nie. Hulle sal dan by vriende of in die veld slaap. Dit plaas dus baie druk op die reeds kwesbare sosiale bestel van huishoudings en gemeenskappe (Visser et al. 2016:11). So byvoorbeeld het 'n dagloner gemeld dat hy sy lewensmaat en kind onderhou, maar "I only go home when I have at least R500 to give to the family". As hy nie die R500 kan verdien nie, is hy nie in staat om huis toe te gaan nie.

In baie van die stede soos Johannesburg, Pretoria en Kaapstad het dit dan ook geblyk dat van die dagloners nie saam met hul gesinne woon nie. Hul gesinne is in ander provinsies, soos die Oos-Kaap in die geval van Kaapstad, en Limpopo en Mpumalanga in die geval van Pretoria en Johannesburg, of in die naburige lande. Die dagloner woon in en om die stede met die hoop om werk te kry en stuur geld aan hul gesinne indien hul inkomste dit toelaat. In die kleiner stede en dorpe woon hulle wel meestal by hul onderskeie gesinne. Dit beteken dat hulle daagliks kan huis toe gaan.

In sommige stede, soos Port Elizabeth, het die dagloners aangedui dat hulle, weens die feit dat hulle nie vervoergeld kan bekostig nie, so vroeg as vier uur in die oggend begin loop om twee ure later betyds by die staanplek aan te kom in die hoop om opgelaai te kan word vir werk. Indien hulle nie werk vir die dag gekry het nie, loop hulle honger terug huis toe sonder iets om aan hul huishoudings te bied. Sommige het ook gemeld dat hulle eerder op straat kom staan in die hoop om werk te kry, as om in die honger oë van hul afhanklikes te kyk soos die volgende aanhaling aandui: "Some days I do not go home. If I get a piece job then there is money to go home otherwise I go back to the bushes to sleep".

Die data toon dat net meer as die helfte (52%) van die dagloners by hul gesinne woon en 48% dus nie daagliks by hulle gesinne deurbring nie. Dit plaas druk op die hegtheid van die gesinne en gemeenskappe (Dubbeld 2013:12). Die navorsing het verder bevind dat die mans wat nie by hul gesinne bly nie, ook nie so gereeld hul gesinne kan besoek nie. Die afstand van en na waar hul gesinne woonagtig is en die koste-implikasies bemoeilik dit. Sommige verdien gewoon net nie genoeg om hul gesinne gereeld te besoek nie.

Van die dagloners wat nie by hul gesinne woon nie, het 48% aangedui dat hulle slegs een tot twee keer per jaar hul gesinne kan besoek. Slegs 14.5% is in staat om vier maal per jaar hul gesinne te besoek. 'n Skamele 16.5% en 3.9% het onderskeidelik aangedui dat hulle wel in staat is om maandeliks en selfs weekliks hul gesinne te besoek. Ons het dan ook gevind dat van die dagloners by twee stelle gesinne betrokke is, aangesien hulle dikwels in beide die stad en die platteland gesinne onderhou.

Al kan die dagloner nie sy gesin so gereeld besoek nie, probeer hy meer gereeld geld aan die gesin stuur. n Volle 58% het bevestig dat hulle maandeliks geld aan hul afhanklikes stuur, terwyl 11% nie voldoende geld het om aan hul afhanklikes te stuur nie. Die gesinne wat geen ander inkomste het nie, maak dus verder staat op die regering se maatskaplike welsynstoelae. Enkele gesinne het ander broodwinners, maar buitelanders, in die besonder, het meestal geen ander inkomste as dié wat hulle as dagloners verdien nie, aangesien lande soos Zimbabwe nie maatskaplike sekuriteitstelsels het nie. Dubbeld (2013:21) is egter van mening dat die maatskaplike toelaes, soos dit nou daar uitsien, ten spyte van die feit dat hulle noodsaaklik is vir die oorlewing van die arm mense, ook bydra tot die verswakking van die maatskaplike bestel/weefsel van veral die landelike armstes.

Die feit dat sommiges begunstigdes is (soos die moeders in geval van kinderonder-steuningstoelae) bring 'n andersoortige ongelykheid in die gemeenskap, wat dan die werklose jongman uit die gemeenskap druk om in die stede en dorpe te gaan werk soek en hulle dus losmaak van hul gesinne en gemeenskappe. Makina (2013:149), aan die ander kant, het gevind dat in sommige gemeenskappe die jongman se uitbeweeg uit die gemeenskap na die stad in n poging om werk te kry beskou word as n soort ritueel van deurgang ("rite of passage"). Die volgende afdeling ondersoek die ander fasette van n dagloner se daaglikse lewe en die uitwerking wat dit op gesinsbande en maatskaplike samehorigheid kan hê.

3.3 Die individuele omstandighede van die dagloners

Die volgende stel vrae wat aan die dagloners gevra is, was om te bepaal waar hulle slaap.

 

Tabel 3

 

Slegs 32% van die dagloners slaap in een of ander vorm van 'n huis. Dit sluit huise in wat deur die regering gebou is, of soos hulle daarna verwys as die RDP2-huise. Die res van die dagloners slaap in "shacks" (37.3%) of hokke, soos daarna verwys word in sommige streke van die land, en 3.9% slaap in die veld, bosse of op straat.

Die landswye data en tendens in Tabel 4 is feitlik identies met die daglonerstudie deur Blaauw et al. (2007:227-228) in Pretoria in 2004. Die grootste aantal respondente (60.1%) betaal glad nie vir hul verblyf nie aangesien hulle in staatsgesubsidieerde huise, of hul eie gehuggies woon. Dit sluit die betaling van water en ligte uit. Dit kan ook selfs gebeur dat hulle voordele kry uit die plaaslike regering se hulpbehoewende ("indigent") program, waar water en ligte gesubsidieer word. Daar is 5% wat aangedui het dat hulle R50 per maand betaal vir akkommodasie. As in ag geneem word dat hulle 'n gemiddeld van R171.69 in swak weke verdien, kan R50 tot 7% van n gemiddelde dagloner se totale maandelikse inkomste bedra, in tye wat deur dagloners as slegte tye beskou word.

n Groter persentasie (14.3%) respondente betaal tussen R100 tot R199 per maand vir hul akkommodasie en 78 (2%) betaal meer as R300 per maand vir die plek waar hulle slaap. Dit kan dus tot 44% van hul gemiddelde inkomste in swak maande uitmaak. Dit is dus nie verbasend dat hulle soms nie genoeg geld per maand het om vir hulle afhanklikes te stuur nie. Die impak van hierdie inkomste-onsekerheid op die maatskaplike bestel kan nie onderskat word nie. Persone wat nie 'n vaste of seker inkomste het nie, ervaar dikwels ook voedselonsekerheid.

3.4 Voedselsekerheid van die dagloners

Literatuur dui aan dat persone in arm huishoudings dikwels maaltye oorslaan en die kwaliteit van hul maaltye is nie noodwendig gebalanseerd nie (Collins et al. 2009:1). Die oorlewingsaard van n dagloner se bestaan word duidelik geïllustreer in terme van hul voedselonsekerheid. Die resultate toon aan dat soveel as 2 300 (55.8%) van die dagloners aangedui het dat hulle soms nie genoeg het om te eet nie. Van hulle is 924 (24.1%) ietwat beter daaraan toe, aangesien hulle aangedui het dat hulle daagliks genoeg het om te eet, maar nie noodwendig van die tipe kos wat hulle graag sou wou eet nie. Hulle moet uit die aard van die saak koop wat bekostigbaar is. Slegs 11% was tevrede dat hulle wel daagliks genoeg kos het om te eet en ook die soort kos wat hulle verkies.

Net oor die 150 dagloners het geweier om die vraag te beantwoord. Daar word vermoed dat hulle ook in een van die kategorieë sou val waar hulle nie voldoende kos het om te eet nie. Die voedselsekerheid van die landswye studie is minder positief as die voedselsekerheid van die dagloners in die Pretoria-studie in 2004 (Blaauw et al. 2007:229). 'n Logiese verduideliking kan wees dat die landswye ondersoek gebiede ingesluit het waar mense meer voedselonseker-heid as in Pretoria ervaar. Stede soos Oos-Londen het getoon dat die dagloners oor die algemeen minder werk kry as in 'n stad soos Pretoria, Johannesburg of Kaapstad.

In die studie deur Walsh en Van Rooyen (2015:118) het hulle egter bevind dat mense in stedelike gebiede groter voedselonsekerheid ervaar as mense in die landelike gebiede. Dit dui dus aan dat dagloners in landelike areas moontlik meer voedselsekerheid kan ervaar. Kos kan meer geredelik beskikbaar wees deur self-verbouing en ondersteuning deur die gemeenskap.

Die vraag is ook aan die dagloners gevra of daar enige individue, groep of organisasies is wat wel aan hulle kos voorsien terwyl hulle langs die pad staan. Slegs 12% van die respondente het bevestig dat daar wel individue en/of groepe is wat met tye kos voorsien. In meeste van die gevalle was dit geloofsgroeperinge, kerke en individue (veral vroue) wat uitreik om iets te ete aan die dagloners te voorsien. n Interessante mededeling was van ses dagloners by een staanplek wat gemeld het dat 'n minibus-taxibestuurder na hulle omsien deur gereeld vir hulle kos te bring.

Ons het ook waargeneem dat by die wagplekke van die dagloners ook dikwels ander aktiwi-teite ontstaan, soos vroue wat kom kos verkoop - onder andere aan die dagloners. Kos soos vetkoeke, "bunny chows'7"spatlos'7"gatsbys"3 of pap met vleis is gewilde verkopers, aangesien dit vullende kos is of "walky talkies" of "runaways" (onderskeidelik gebraaide koppe en pote van hoenders).

Die volgende gedeelte ondersoek die veiligheidsaspekte van dagloners se daaglike stryd om liggaam en siel aanmekaar te hou.

3.5 Veiligheidsaspekte van die dagloners se bestaan

Dagloners word grootliks gebruik om hande- en harde arbeid te verrig soos verskillende aspekte in konstruksie, die op- en aflaai van trokke en tuinwerk. Die aard van die werk bring mee dat die dagloners maklik ernstige beserings kan opdoen. Rakende beserings aan diens en ander gesondheidsaspekte het Kerr en Dole (2001:16) bevind dat 70% van die dagloners in Cleveland in die VSA blootgestel is aan onveilige werksomstandighede. In die nasionale studie in die VSA het 73% van dagloners aangedui dat hulle aan gevaar blootgestel word (Valenzuela Jr. et al. 2006:13). Die dagloners in die VSA het dan ook aangedui dat hulle nie sommer wegbly van die werk nie want hulle wil nie die inkomste verloor nie (Valenzuela Jr. et al. 2006:13).

In die ondersoek wou ons dus ook weet of die dagloners in Suid-Afrika blootgestel word aan gevaarlike werksomstandighede en beserings opdoen. Beserings impliseer verlies aan werkdae en noodgedwonge inkomste. Om in die informele ekonomiese omgewing te werk, beteken ook daar is geen mediese versekering wat inkomste kan buffer nie (Collins et al. 2009:1; Kerr & Dole 2001:16).

In die studie wat in 2004 in Pretoria gedoen is (Louw 2007:225; Blaauw et al. 2007:230), blyk dit dat 24% van die dagloners wel beserings aan diens opgedoen het. Van die 24% wat beseer is, het meer as die hellte (57.6%) geen mediese versorging gekry nie. Op die vraag hoekom hulle nie mediese versorging gekry het nie, was die gewildste antwoord dat hulle dit nie kon bekostig nie. Hulle kon ook nie bekostig om van die werk weg te bly nie, aangesien hulle die inkomste nodig het en bang is hulle verloor die werksgeleentheid. Dié wat wel vir mediese behandeling gegaan het, het bevestig dat hulle self, hul familie of vriende vir die mediese sorg betaal het.

Die nasionale studie het egter verrassende resultate in dié verband gelewer. Net meer as 420 (11.1%) dagloners meld dat hulle beserings opgedoen het wat verhoed het dat hulle kon gaan werk. Gegewe die feit dat die dagloners gewoonlik gebruik word om werk te doen waaraan daar risiko's gekoppel is, is dit 'n verbasend klein getal en het hulle geen klem daarop geplaas, soos in die geval van die VSA-studie nie (Valenzuela Jr. et al. 2006:13; Blaauw et al. 2007:230). Opvolgstudies is nodig om te sien of hierdie 'n blywende tendens of 'n eenmalige bevinding was. Met al die faktore wat druk op die dagloners se sosiale en maatskaplike bestel plaas, ontstaan die onwillekeurige vraag oor wat die dagloners self probeer doen om dit te probeer hanteer. Aspekte soos die vorming van ondersteuningsnetwerke het dus n kernaspek van die studie gevorm.

3.6 Die vorming van ondersteuningsnetwerke

In die studie van Schenck et al. (2012:40) het een van die dagloners die volgende opmerking gemaak: "Life is tough when you don't have a permanent job and when your family is far

away. Sometimes we stay for two days without food." Om 'n ondersteuningsnetwerk te hê te midde van die moeilike omstandighede waaronder die dagloners funksioneer, is dus belangrik. Des te meer is ondersteuning belangrik vir die dagloners wat nie by hul gesinne bly en hul ondersteuning ervaar nie (Louw 2007:196). Daarbenewens ervaar hulle ook verlies aan status binne die gesin en gemeenskap omdat hulle werkloos is (Gonzo & Plattner 2003:94).

Daar is bevind dat die dagloners veral ondersteuning aan mekaar bied terwyl hulle die lang ure langs die pad deurbring, wagtende vir die moontlikheid van werk (Schenck et al. 2012:40). Hierdie studie het getoon dat 2 806 of 73.3% van die dagloners deel van 'n groep is wat mekaar ondersteun. Dit is 11 persentasiepunte meer as die groep dagloners in Pretoria (Louw 2007:228).

Die dagloners ondersteun mekaar op verskeie terreine. Tabel 5 dui die verskillende aspekte aan waarmee die dagloners mekaar ondersteun.

Studies in die VSA, Namibië en in Pretoria, Suid-Afrika, het ook die belangrikheid van sosiale ondersteuning beklemtoon. Die mans wat op die sypaadjies staan, vorm 'n gemeenskap (Gonzo & Plattner 2003:67; Blaauw et al. 2007:230). Interessant is die feit dat hulle verhoudinge vorm veral met die oog daarop om werk te vind (64.4%). Soos een dagloner dit duidelik uitgespel het: "When you befriend an edge trimmer and buy him "itakana" (liquor) regularly, you are sure to become one of the regulars in the gardening service." (Schenck et al. 2012:42).

Hulle deel dan ook kos (26.7%) en geld (15.7%), wat dui op die oorlewingsaard van hul bestaan, maar ook n unieke en positiewe vorm van samehorigheid.

 

4. GEVOLGTREKKING

Hierdie artikel het die sosio-ekonomiese omstandighede beskryf van die dagloners wat n oorlewingsbestaan in die informele ekonomie probeer maak. Hul oorlewingsbestaan, soos dit daar uitsien illustreer die kwesbare Suid-Afrikaanse maatskaplike samehorigheid/bestel wat daadwerklike optrede vereis. Daar kan dus kortliks opsommenderwys gereflekteer word op die vyf elemente van maatskaplike samehorigheid, soos deur Markus (2016:11) geïdentifiseer:

1. Die bevordering van die ervaring om te behoort: Gegewe die feit dat soveel van die dagloners trekarbeiders en buitelanders is en nie by hul gesinne woon nie, is daar ernstige bedreigings rondom die ervaring om te behoort en deel te wees van sy huishouding en die gemeenskap. Die buitelanders word ook nie verwelkom in Suid-Afrika nie, maar word ervaar as bedreigings en die verhoudinge tussen buitelanders en plaaslike inwoners is al as n kruitvat beskryf.

2. Die ervaring van maatskaplike geregtigheid en gelykheid: Die dagloners voer n bestaan as randfigure tot die formele ekonomie en aspekte soos maatskaplike dienste en maatskaplike beveiliging. Hulle is ook randfigure tot hul huishoudings deurdat hulle sporadies kontak het wanneer hulle oorbetalings aan hul gesinne maak of besoeke aan hul gesinne bring. Leibbrandt en Green (2017) bevestig ook dat ongelykheid en maatskaplike ongeregtigheid in Suid-Afrika die afgelope jare vergroot het, met die groter wordende armoede, ongelykhede en ongeskooldheid.

3. Ervaringe van deelname en inklusiwiteit: Dagloners, soos alle Suid-Afrikaners, is stemgeregtigdes van die land, maar dit is waar hul stemme ophou. Buitelanders het nie eers daardie roete van deelname aan openbare prosesse en debat nie. Daar bestaan nie beleid, prosedures of organisasies waar hulle kan deelneem, klagtes kan lê, beskerming kan vra of ondersteuning kan ontvang soos in die geval van die werkersentrum in die VSA nie (Visser et al. 2016). Geen liggaam bestaan tans wat ondersteuning aan die dagloner kan bied wanneer hy uitgebuit sou word nie, aangesien sy ongereguleerde werk en bestaan niemand verantwoordbaar maak nie.

4. Die ervaring van aanvaarding: Om sigbaar te wees en te ervaar jy word as menswaardig aanvaar, is belangrik vir maatskaplike samehorigheid. Die navorsing het bevind dat die dagloners in baie opsigte onsigbaar is of n irritasie is vir die gemeenskappe waarbinne hulle staan. Die dagloners is kwesbaar vir uitbuiting. Dit is dus belangrik dat bewusmaking geskep word in die gemeenskappe waar hulle staan en werk om hulle te aanvaar as deel van ons samestelling en met agting, respek en menswaardig te behandel. Die dagloners, soos reeds aangedui, gaan nie weggaan nie, want daar is min ander opsies vir hulle.

5. Die ervaringe van selfwaarde en lewenstevredenheid: Die voorafgaande faktore dra direk by tot die ervaring van selfwaarde en lewenstevredenheid. Om werk te kry, al is dit informeel, erkenning te kry vir die werk wat gedoen word, met respek gehanteer te word en deel te wees van n gesin en gemeenskap, bevorder selfwaarde, lewenstevredenheid en uiteindelik maatskaplike geregtigheid en samehorigheid (Gonzo & Plattner 2003).

Gegewe die hoë werkloosheidsyfer in Suid-Afrika, is die een realiteit wat aanvaar moet word dat die informele ekonomie hier is om te bly. Gegewe die lae vlakke van skoolopleiding en lae vaardigheidsvlakke van die dagloners, sal hulle ook beswaarlik toegang tot die formele ekonomie kry. Cichello en Rogan (2017) het bevind dat laevlak-geskoolde persone wat in die formele en informele ekonomie funksioneer, dieselfde onvermoë het om uit armoede te kan beweeg en hulle sal gevolglik gemarginaliseerde en kwesbare mense bly. Die dagloners kom dus uit n kwesbare maatskaplike samehorigheid/bestel en gaan 'n nog meer kwesbare bestel tegemoet as daar nie institusionele, beleid- en gesindheidsveranderinge intree nie. Wat staan ons dus te doen?

1. Dit is belangrik dat die waarde van die informele ekonomie nie onderskat moet word om n groot hoeveelheid werkloses in Suid-Afrika te help om 'n bestaan te maak nie. Erkenning van die belangrikheid van die informele ekonomie is dus belangrik om beleid en praktyk daarmee te kan belyn.

2. Regerings-, nieregeringsorganisasies en privaatsektorbeleid en -praktyke moet in plek gekry word wat die informele sektor kan ondersteun in plaas van om dit te beperk, te bestraf of te ontken. Spesifieke organisasies soos die werkersentrums ("worker centres") in die VSA is n goeie voorbeeld wat daarop ingestel is om die belange en werksom-standighede van die werkers in die informele ekonomie te beskerm en te verbeter. Hierdie organisasies kan slegs hierdie ondersteuning bied as hulle die volle ondersteuning van veral die plaaslike owerhede ontvang.

3. Voorkomende en remediërende programme soos behoorlike skoolopleiding, volwasse opleiding en vaardigheidsontwikkeling is uiters belangrik om mense vir die formele arbeidsmark voor te berei. Solank mense ongeskoold en ongeletterd is, is die informele ekonomie hul enigste uitweg.

Ten slotte: Geen van die genoemde beleide en praktyke kan beplan en uitgevoer word sonder die betrokkenheid en insette van die dagloners self nie. Beleids- en institusionele maatreëls en -ondersteuning aan die dagloners en ander persone in die informele ekonomie is die verantwoordelikheid van verskeie vakrigtings, professies en meer nog van elke lid van die samelewing.

 

BIBLIOGRAFIE

Blaauw, D., Louw, H. & Schenck, R. 2006. The employment history of day labourers in South Africa and the income they earn - a case study of day labourers in Pretoria. South African Journal of Economic and Management Sciences, New Series, 9(4):458-471.         [ Links ]

Blaauw, P.F., Pretorius, A.M., Louw, H. & Schenck, C.J. 2007. The socio-economic reality of being a day labourer in Pretoria. Social Work/MaatskaplikeWerk, 43(3):224-233.         [ Links ]

Blaauw, P.F. 2010. The socio-economic aspects of day labouring in South Africa. Unpublished DCom- thesis, Department of Economics & Econometrics, University of Johannesburg, South Africa.         [ Links ]

Bless, C., Higson-Smith, C. & Sithole, L. 2013. Fundamentals of social research methods - an African perspective (5de uitgawe). Cape Town: Juta.         [ Links ]

Cichello, P. & Rogan, M. 2017. A job in the informal sector reduces poverty about as much as a job in the formal sector. Econ 5xi.http://www.econ3x3.org/article/job-informal-sector-reduces-poverty-about-much-job-formal-sector (20 June 2017).         [ Links ]

Collins, D., Morduch, J., Rutherford, S. & Ruthven, O. 2009. Portfolios of the poor: how the World's poor live on $2 a day. Cape Town: UCT Press.         [ Links ]

Crush, J., Chikanda, A. & Skinner, C. 2015. Mean Streets: Migration, Xenophobia and informality in South Africa. Southern Africa Migration Project, The African Centre for Cities and the International Development Research Centre, Cape Town.         [ Links ]

Dubbeld, B. 2013. How social security becomes social insecurity: fluid households, crisis talk and the value of grants in a KwaZulu-Natal village. http://wiser.wits.ac.za/system/files/seminar/Dubbeld2013.pdf. (20 June 2017).         [ Links ]

Gallardo, A. 2012. Coping behaviours of day laborers in San Mateo, California. Doctoral dissertation. University of California San Francisco.http://repository.usfca.edu/diss/31/?utm_source=repository.usfca.edu%2Fdis s%2F31&utm_medium=PDF&utm_campaign=PDFCoverPages (10 June 2017).         [ Links ]

Gonzo, W. & Plattner, I.E. 2003. Unemployment in an African country: A psychological perspective. Windhoek: University of Namibia Press.         [ Links ]

Graham, L. & De Lannoy, A. 2017. What South Africa can do about youth unemployment in the short run. Econ 5xi. http://www.econ3x3.org/article/youth-unemployment-what-can-we-do-short-run. (15 September 2017).         [ Links ]

Kerr, D. & Dole, C. 2001. Challenging exploitation and abuse: A study of the day labor industry in Cleveland. Cleveland: City Council.         [ Links ]

Leibbrandt, M. & Green, P. 2017. Policies for inclusive growth. Econ 5xi.http://www.econ3x3.org/article/redi3x3-conference-policies-inclusive-growth. (22 June 2017).         [ Links ]

Louw, H. 2007. Men at the margins: Day labourers at informal hiring sites in Tshwane. Unpublished PhD-thesis, Department of Social Work, University of South Africa, Pretoria.         [ Links ]

Makina, D. 2013. Migration and Characteristics of Remittance Senders in South Africa. International Migration 51(1)e148-e158 DOI: 10.1111/j.1468-2435.2012.00746.x.         [ Links ]

Markus, A. 2016. Mapping social cohesion: The Scanlon foundation surveys. Monash University Caulfield East Victoria.http://scanlonfoundation.org.au/wp-content/uploads/2016/11/2016-Mapping-Social-Cohesion-Report-FINAL-with-covers.pdf. (21 June 2017).         [ Links ]

Rubin, A. & Babbie, E. 2014. Research methods for social work 8tlled Pacific Grove: Brooks Cole.         [ Links ]

Schenck, R. & Louw, H. 2005. An exploratory study on day labourers in Elardus Park, Pretoria. Social Work/Maatskaplike Werk, 41(1):84-95.         [ Links ]

Schenck, R., Xipu, L. & Blaauw, P.F. 2012. What happens during those long hours next to the road? An exploratory study of three informal hiring sites in Tshwane. Social Work/Maatskaplike Werk, 48(1):35-46.         [ Links ]

Schenck, C.J., Blaauw, P.F. & Viljoen, J.M.M. 2016. In Petmesidou, Delamonica, Papatheodorou & Henry-Lee (eds). Child Poverty, Youth (Un)employment, and Social Inclusion. Stuttgart: Ibidem Press.         [ Links ]

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA). 2017. Quarterly labour force survey - OLFSQ1:2017.http://www.statssa.gov.za/?p=9960. (16 June 2017).         [ Links ]

Theodore, N. Valenzuela, Jr. A. & Meléndez, E. 2009. Worker centres: defending labour standards for migrant workers in the informal economy. International Journal of Manpower, 30(5):422-436.         [ Links ]

Theodore, N., Blaauw, D., Schenck, C., Valenzuela, Jr. A., Schoeman, C. & Meléndez, E.J. 2015. Day labor, informality and vulnerability in the United States and South Africa. International Journal of Manpower, 36(6):807-823.         [ Links ]

Theodore, N., Blaauw, P.F., Pretorius, A.M. & Schenck, C.J. 2017. The socio-economic incorporation of migrant and native-born day labourers in Tshwane, South Africa. International Migration, 55(1):142-156.         [ Links ]

Valenzuela, Jr. A., Theodore, N., Meléndez, E. & Gonzalez, A.L. 2006. On the corner: Day labour in the United States. Los Angeles: UCLA.         [ Links ]

Visser, A., Theodore, N., Meléndez, E.J. & Valenzuela, Jr. A. 2016. From economic integration to socio economic inclusion: Day labor worker centers as social intermediaries.Urban Geographies. http://dx.doi.org/10.1080/02723638.2016.1168574 (20 June 2017).         [ Links ]

Walsh, C.M. & Van Rooyen, F. C. 2015. Household food security and hunger in rural-urban communities in the Free State, South Africa. Ecological Food Nutrition, 54(2):118-137.         [ Links ]

 

 

 

Rinie Schenck is tans professor en gegradeerde navorser in die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK). Voordat sy by UWK begin werk het, was sy 25 jaar aan Unisa en 6 jaar aan die Universiteit van Pretoria (UP) verbonde. Haar navorsing is gerig op armoede, werkloosheid en in besonder op die persone wat 'n bestaan probeer maak in die informele ekonomie. Professor Schenck en haar navorsingspan gee veral aandag aan die dagloners en vullisherwinners. Sy het reeds wyd in nasionale en internasionale tydskrfte gepubliseer oor die bepaalde onderwerp.
Rinie Schenck is professor and rated researcher in the Department of Social Work at the University of the Western Cape (UWC). Prior to UWC she lectured at Unisa for 25 years and 6 years at the University of Pretoria (UP). Her research focus is on poverty, unemployment and in particular on people who are making a living in the informal economy, including day labourers and waste pickers. She has published extensively in national and international journals.

 

 

Derick Blaauw is 'n professor in die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom-kampus). Voor sy huidige pos het hy ekonomie aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) gedoseer asook aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en die Soweto- en Bloemfontein-kampusse van Vista Universiteit. Professor Blaauw se navorsing is hoofsaaklik op arbeids- en ontwikkelingseko-nomie gerig. Sy huidige werk is toegespits op die sosio-ekonomiese dinamika van kwesbare groepe in die informele ekonomie, insluitend karwagte, dagloners en vuUisherwinners. Ander navorsings-terreine sluit die rol van arbeidsmakelaars in Suid-Afrika se arbeidsmark in. Professor Blaauw het reeds wyd in geakkrediteerde plaaslike en internasionale joernale gepubliseer sowel as in konferensie- en navorsingspublikasies by plaaslike en internasionale geleenthede.
Derick Blaauw is a professor in the School of Economic Sciences at the North-West University (Potchefstroom campus). Prior to taking up this position, he lectured economics at the University of Johannesburg (UJ), Rand Afrikaans University (RAU) and at the Soweto and Bloemfontein Campuses of Vista University. Professor Blaauw's research interests are mainly in the field of labour and development economics. His current work focusses on the socio-economic dynamics of vulnerable groups in the informal economy, such as car guards, day labourers and waste pickers. Other areas of research include the role of labour brokers in South Africa's labour market. Professor Blaauw has an extensive list of publications in accredited national and international journals, as well as conference and research papers presented at local and international events.
1 "Lobola" is 'n vorm van 'n bruidskat wat deur die bruidegom aan die familie van die bruid betaal word.
2 RDP verwys na die ANC-regering se Rekonstruksie en Ontwi kkelingsprogram,wat as basis virekonomiese beleid gedien het tussen ongeveer 1995 en 2005.
3 Verskillende name word in die verskillende streke vir die bepaalde dis gegee.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License