SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.4 Pretoria Dec. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n4a18 

TAALRUBRIEK

 

Oor die skryfwyse van Afrikaans IV

 

 

Die skryfwyse van verbindings met eiename - die naam van iets of iemand - skep dekades lank reeds probleme in Afrikaans, enersyds omdat dit skynbaar in Engels geen probleme oplewer nie en talle instellings, ondernemings, reklameagentskappe, ens. dikwels die Engelse patroon na-aap, en andersyds omdat eiename in soveel verskillende vorme voorkom.

Soos vantevore in hierdie rubriek gesê, word Afrikaanse samestellings, soos in verskeie van ons Germaanse taalverwante, vas geskryf. Dit beteken dat samestellings met eiename ook vas geskryf moet word. Maar wat doen ʼn mens nou as die eienaam nie net ʼn eenvoudige of eenledige woord soos Paul of Smit of Pretoria is nie, maar byvoorbeeld iets soos Adolf Hitler of Port Elizabeth of Vallei van Verlatenheid?

In die 8ste (1991-) uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) het die Taalkommissie die saak probeer beredder deur te sê dat ʼn eienaam wat met ʼn soortnaam verbind, op enigeen van vyf maniere geskryf kon word, bv. Bloemfontein-Museum, Bloemfontein Museum, Bloemfontein-museum, Bloemfontein museum of Bloemfonteinmuseum.

Hierdie reël het in die praktyk egter soveel probleme meegebring en soveel verwarring veroorsaak dat dit in die 9de en 10de uitgawe enigermate herbereël en presieser gedefinieer moes word. Steeds was daar egter probleme, want daar was tameletjies soos die volgende:

Moet of kan ʼn mens nou skryf Van der Stelgebou of Van der Stel-gebou (of enigeen van die oorblywende opsies hier bo genoem) of moet dit dalk Vanderstelgebou wees? En as ʼn mens na die Europese ontdekking van die Nuwe Wêreld verwys, moet dit Nuwe Wêreld Kontinente of Nuwewêreldkontinente of wat wees? En is dit Adolf Hitler-snorretjie of Adolf-Hitlersnorretjie, en Vallei van Verlatenheidrotsformasie of Vallei-van-Verlatenheid-rotsformasies? En as die eienaam nie Afrikaans is nie, wat dan: sê maar Los Angeles verkeer of Los Angelesverkeer of Losangelesverkeer?

Hierdie probleem is hopelik nou finaal opgelos met die verskyning van die eeufeesuitgawe van die AWS. Dié uitgawe definieer naamlik (p. 724) ʼn "meerledige eienaam" soos volg: "'n Meerledige eienaam is 'n eienaam wat uit meer as een woord of woorddeel bestaan. Saamgestelde eiename word vas (Annamart, Oranjerivier, Landbank), of met 'n koppelteken vas (Jan-Willem, Graaff-Reinet, Hewlett-Packard) geskryf. Multiwoordeiename word los (De Waal, Kaap die Goeie Hoop, Bank Windhoek) geskryf."

ʼn Multiwoordeienaam bevat dus gewoonlik meer as een hoofletter (maar soms slegs een: vgl. [Mnr.] Van der Merwe, maar [Piet] van der Merwe) en minstens een spasie.

Die nuwe AWS se reël bepaal nou dat die hoofletters en spasies van die multiwoordeienaam in sowel samestellings as afleidings behou word, en ʼn skrywer hoef hom/haar dus nie meer te bekommer oor die vraag of iets aan die eienaam self gaan verander nie.

Of die woord waarmee so ʼn multiwoordeienaam verbind, vas geskryf moet of los geskryf kan word, hang soos vantevore af van die vraag of die resultaat van die samestelling ʼn soortnaam is (bv. die Los Angeles-verkeer of die Los Angelesverkeer maar nie *Los Angeles verkeer nie) en of dit weer ʼn eienaam is, wat dan die losskryfmoontlikheid ook toelaat, bv. Nelson Mandelarylaan of Nelson Mandela-Rylaan of Nelson Mandela-rylaan of Nelson Mandela Rylaan.

Die onveranderde behoud van die multiwoordeienaam geld ook in afleidings, behalwe as die reëls oor vokale en konsonante ʼn sekere verandering vereis, bv. Derde Wêreld > Derde Wêreldse diktatortjies en Ou Testament > Ou Testamentiese profete maar Stille Oseaan > Stille Oseaniese eilande.

Hierdie hantering van multiwoordeiename word uitvoerig in die nuwe AWS bereël en geïllustreer, en Akademielede kan gerus daarin verder oor dié saak lees. Die eeufeesuitgawe (die 11de) van hierdie onmisbare hulpbron vir enigiemand wat Afrikaans skryf, is ʼn merkwaardige prestasie deur die Taalkommissie, wat dié AWS is nie net in ʼn besonder kort tydsverloop gereedgemaak het nie, maar dit ook aansienlik verfyn en uitgebrei het, o.m. met verskeie nuttige nuwe bylaes. Dit is voorwaar ʼn pragtige publikasie en hoort in elke Akademielid se huis!

 

JD (Tom) Mclachlan

tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License