SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.4 Pretoria Dec. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n4a13 

AKTUEEL: DEBAT
RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Redakteursnota

 

 

In hierdie uitgawe gee Danie Strauss 'n uiteensetting van die geheel-dele-relasie, gesien vanuit 'n algemeen-wysgerige sowel as 'n vakfilosofiese perspektief. In 'n inleidende opmerking verduidelik die outeur dat hy beoog om in 'n verdere artikel nader in te gaan op die implikasies van hierdie ondersoek vir die wyse waarop sosiale omgang en verkeer in 'n gedifferensieerde samelewing verstaan moet word. Sowel die huidige as die beplande opvolgartikel geskied dus, binne die voortgesette debat oor staat en samelewing, met Danie Goosen se werk oor die gemeenskap in gedagte. Benewens hierdie verdere bydrae sal van Andries Raath ook 'n slotartikel in Maart 2018 geplaas word. Tensy ander rolspelers intussen beduidend toetree tot die gesprek, word beplan om hierdie aktuele debat, wat deurgaans op 'n gesofistikeerd-beredeneerde wyse gevoer is, in Junie 2018 af te sluit by wyse van Danie Goosen en Koos Malan se repliek op al die voorafgaande bydraes.

Ter inligting word die vorige bydraes tot die debat hieronder kortliks geskets:

In die Junie 2016-nommer van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe het Andries Raath, in 'n diskoers met Danie Goosen en Koos Malan, die politieke en regsfilosofiese implikasies van politieke kommunitarisme van nader bekyk.

In die September 2016-nommer tree Danie Strauss toe tot die debat deur aan te voer dat die tekortkominge van sowel individualistiese (atomistiese) as universalistiese (holistiese) benaderings ondervang kan word "indien erns gemaak word met die ontiese beginsels van soewereiniteit-in-eie-kring en universaliteit-in-eie-kring".

In Desember 2016, in die tweede boek, lewer sowel Danie Goosen as Koos Malan repliek op die vorige twee standpunte, soos verwoord deur Andries Raath (Junie 2016) en Danie Strauss (September 2016) onderskeidelik.

In Junie 2017, in die tweede boek, reageer Danie Strauss op veral Danie Goosen se repliek wat in die Desemberuitgawe van 2016 verskyn het. Die outeur beplan om in opvolgbydraes bepaalde raak- en verskilpunte met sowel Danie Goosen as Koos Malan se standpunte breër uit te werk.

In September 2017 beredeneer sowel Andries Raath as Danie Strauss spesifieke filosofiese vooropstellings in die voortgesette debat rondom staat en samelewing. Andries Raath bepleit 'n diepgaande gesprek oor grondslagkwessies - vir hom is dit essensieel dat voldoende aandag geskenk word aan "die grondmotiewe, grondidees en ideologiese ladings van wetenskaplike begrippe in die antieke Griekse politieke denke". Eweneens beredeneer Danie Strauss in sy artikel, met spesifieke verwysing na Koos Malan se Politokrasie, "wysgerige onderskeidinge relevant vir 'n besinning oor staat en samelewing".

Alle lesers van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe word weer eens hartlik uitgenooi om deel te neem aan die debat. Beperk u debatsbydraes tot hoogstens 2 000 woorde. Indien u sou verkies om liewer uitvoeriger by wyse van 'n navorsingsartikel te reageer, sal dergelike bydraes aan die gewone keuringsprosedure onderhewig wees, maar steeds in die afdeling AKTUEEL geplaas word.

 

Ina Wolfaardt-Gräbe

Oktober 2017

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License