SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue4The role of NSFAS in facilitating access to higher education for students from poorer communities in South AfricaLanguage, technics and truth author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.4 Pretoria Dec. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n4a8 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Familiemoord gepleeg deur kinders: 'n Gevallestudie

 

Family murder by children: A case study

 

 

Melanie MoenI; Christiaan BezuidenhoutII

IFakulteit Opvoedkunde, Universiteit van Pretoria. E-pos: melanie.moen@up.ac.za
IIFakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Pretoria. E-pos: christiaan.bezuidenhout@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Suid-Afrikaanse samelewing word as gewelddadig beskou, met 'n gemiddelde nasionale moordsyfer wat beduidend hoër is as in die res van die wêreld. Die familie is ʼn kernsisteem binne die breëre gemeenskap en word tradisioneel as 'n veilige sisteem beskou. Die realiteit is egter dat 'n groot persentasie moorde in Suid-Afrika deur 'n kennis, familielid of lid van 'n huishouding gepleeg word. Die doel van die artikel was om die kind as 'n persoon wat familiemoord pleeg, beter te verstaan. 'n Kwalitatiewe navorsingsontwerp is gevolg en kwalitatiewe inhoudsontleding is vir data-analise gebruik. Die geval wat in hierdie artikel bespreek word om die tipiese kenmerke te illustreer van kinders wat familiemoord pleeg, het deel uitgemaak van ʼn PhD-studie in opvoedkundige sielkunde. Alhoewel elke geval van familiemoord tot ʼn mate uniek is, is daar wel kenmerke wat in die meerderheid gevalle voorkom en tot dieper insigte rakende die fenomeen kan bydra. Kenmerke wat dikwels voorkom, dui op ʼn swak (of geen) band met die primêre sorggewer. Geborge huislike omstandighede ontbreek oorwegend en die kind se emosionele behoeftes word grotendeels misken. Die akkumulatiewe stressors lei dikwels tot gevoelens en persepsies van verwerping. Verlies word nie altyd toereikend hanteer nie. Gesinswanfunksionering, wat mishandeling en ekstreme ouerskapstyle insluit, is opvallend. Akkumulatiewe stressors het dikwels gevoelens van angs en onderliggende aggressie tot gevolg. Die akkumulatiewe individuele en sistemiese gebeure vind oor jare plaas en lei daartoe dat die kind uiteindelik moord pleeg.

Trefwoorde: familiemoord, kinders, etiologiese faktore, gesinswanfunksionering, binding, verwerping, mishandeling, angs, aggressie


ABSTRACT

South African society is perceived as violent, with an average murder rate significantly higher than in the rest of the world. The family is a core system within the broader community and is traditionally seen as a safe environment. The reality, however, is that a high percentage of all murders is committed by someone known to the family or a member of a family or household. The aim of the article is to understand the child who commits family murder by determining the contributing individual and systemic factors that lead to family murder. A qualitative research design was followed and qualitative content analysis was used to analyse the data.
The case presented in this article to illustrate the typical characteristics of children who committed family murder formed part of a PhD study in educational psychology. Although each case of family murder has unique features, similar characteristics are often present in all these cases, and it is hoped that this case study will increase insight into the general characteristics of this phenomenon.
Simone (pseudonym), whose case is described in this article, was subjected to severe family dysfunction and physical abuse by her father and grandmother. She had an ambivalent relationship with her grandmother, who was sometimes caring but sometimes abused her verbally. Simone also had to perform adult duties from an early age, having to collect money for her grandmother at nightclubs her grandmother owned. Her mother did not intervene when the grandmother took over the care of Simone. When Simone was 10 years old, her father committed suicide. Two days before the suicide the father discussed his feelings and suicide plans with Simone. Simone's grandmother blamed Simone for her father's suicide. At the age of twelve, Simone slipped sleeping tablets into her grandmother's tea. She approached two unknown men on the street and persuaded them to kill her grandmother, who, she told them, had murdered her parents. In return she promised the men household goods and sexual intercourse. The men agreed to commit the murder and followed Simone to the grandmother's home where she was asleep due to the medication she had been given. Simone was in the next room when the men strangled her grandmother. Not being convinced that her grandmother was dead, she gave the men a kitchen knife and insisted they slit her grandmother's throat as well. The men subsequently each received 25-year prison sentences. For her role in the murder of her grandmother, Simone received 36 months' correctional supervision, suspended for 7 years. She became South Africa's youngest female murder accomplice.
The general characteristics of children who commit family murder (including this case study) relate to weak or no attachment to the primary caregiver. This, as well as the accumulated individual and environmental stressors, lead to feelings and perceptions of rejection. A safe and supportive family environment is often absent; the child's emotional needs are not acknowledged. These children are often not supported when they experience loss. Family dysfunction, which includes abuse and extreme parenting styles, is evident. The accumulated stressors often lead to feelings of anxiety and aggression. The individual and systemic stressors accumulate over several years and result in murder at a seemingly "unimportant" moment.

Keywords: family murder, children, etiological factors, family dysfunction, attachment, rejection, anxiety, aggression


 

 

1. INLEIDING

Die Suid-Afrikaanse samelewing word as gewelddadig beskou. Die nasionale moordsyfer is 5 maal hoër as die wêreldgemiddelde, met 33 moorde per 100 000 mense (Kriegler & Shaw 2016). Die moordsyfer in Suid-Afrika het in die afgelope paar jaar met 4,9% toegeneem (Evans & Verster 2016), en vanaf April 2015 tot en met Maart 2016 is daar 51 mense per dag vermoor. Die Misdaadnavorsings- en Statistiekverslag van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) berig dat 70%-80% van die slagoffers en moordenaars/aanstigters gedurende die afgelope dekade mekaar geken het (Kearney & Erasmus 2013). Dit is verontrustend dat 24,9% van alle moorde deur 'n familielid of lid van 'n huishouding gepleeg word (Statistiek Suid-Afrika 2014). Daar is bevind dat aggressiewe en seksuele oortredings deur kinders in Suid-Afrika van 1995 tot 2011 met ongeveer 12% toegeneem het (Muntingh & Ballard 2012). Volgens statistiese inligting van die Departement van Korrektiewe Dienste is 234 kinders onder die ouderdom van 18 jaar gedurende 2011 en 2012 vir aggressiewe misdade gevonnis (www.dcs.gov.za). Alhoewel die bogenoemde syfers hoofsaaklik op algemene misdade van kinders in die gevangenis fokus, is dit belangrik om daarvan kennis te neem, aangesien dit 'n steeds toenemende spiraal van geweld in die Suid-Afrikaanse samelewing beklemtoon.

Soos reeds gemeld, word verskeie vorms van geweld, van roof tot moord, op alle vlakke van die samelewing aangetref en bly die voorkoms daarvan in Suid-Afrika uiters hoog. In 'n toenemend gewelddadige samelewing word dit noodsaaklik om die verskynsel van moord te verstaan en die oorsake in oënskou te neem. Alhoewel belangstelling in misdaad nog altyd hoog was, bly dit moeilik om te verstaan waarom dit plaasvind en wat daaromtrent gedoen kan word. Ons onvermoë om misdaad te voorkom, is deels te wyte aan ons onvermoë om die komplekse aard van kriminele gedrag te verstaan (Bartol & Bartol 2014:2). Lancaster (2013) is van mening dat moord as 'n maatskaplike probleem beskou moet word wat nie deur polisiëring alleen opgelos kan word nie. Weens ons gebrek aan kennis is ons dikwels onkundig oor die waarskuwingstekens in ons gesinne, skole en gemeenskappe. Daarom is dit noodsaaklik om 'n diep insig in sowel sistemiese as individuele faktore rondom hierdie verskynsel te verkry.

In hierdie artikel postuleer die navorser dat familiemoord deur kinders 'n samelewingsprobleem is wat te omvangryk is om slegs deur die kriminele regstelsel hanteer te word. Kennis wat die begrip, voorspelling en voorkoming van gewelddadige gedrag in kinders kan bevorder behoort dus aangemoedig te word. Sulke kennis kan ook gebruik word om ouer- en skoolprogramme as beskermende en voorkomende maatreëls te ontwikkel. Insig in die lewe en motivering van hierdie kinders is ook noodsaaklik om familielede teen die moontlike moorddadige optrede van 'n gevaarlike kind in die familie te beskerm.

Die doel van die artikel is dus om die unieke leefwêreld van kinders wat familiemoord pleeg, te interpreteer en uit te lig. Binne die raamwerk van die artikel is 'n familiemoord die opsetlike veroorsaking van die dood van 'n familielid/-lede deur 'n kind. In hierdie navorsing verwys die term "familielid" na die hele verwantskapsnetwerk van minstens drie geslagte in ʼn familie, in die huidige staat én namate dit met verloop van tyd ontwikkel het. Dit sluit biologiese en uitgebreide familie in, primêre versorgers en aangenome of pleegfamilies (Pillay 2009). Familielede sluit dus biologiese moeders, vaders, broers, susters en aangenome kinders en stiefouers, asook grootouers, niggies, nefies, ooms en tantes in. Medepligtigheid, aanmoediging of fasilitering van familiemoord/e word by die definisie van familiemoord ingesluit. In Tabel 1 word voorbeelde van Suid-Afrikaanse gevalle van familiemoord deur kinders opsommend uiteengesit.

 

 

Een geval (Simone), wat deel gevorm het van 'n PhD-studie aan die Universiteit van Pretoria, word in hierdie artikel onder die loep geneem. Die navorser wou sodoende die algemene omstandighede van kinders wat familiemoord pleeg, toelig en deur 'n grondige bespreking en analise van die geval insig in hierdie tipe moorde verhoog. Daar word gehoop dat beter begrip en insig daartoe sal bydra dat risikokenmerke by kinders vroegtydig geïdentifiseer word.

 

2. METODOLOGIE

Die navorser het op ʼn kwalitatiewe navorsingsbenadering besluit om die faktore wat tot familiemoord deur kinders lei, te verken. Kwalitatiewe navorsing is dikwels gegrond op anekdotes wat mense oor ʼn sekere aspek in die navorsing gesê en/of geskryf het. Kwalitatiewe navorsing beskryf ook gedrag soos dit gedokumenteer is en poog verder om die betekenis van die gedokumenteerde gedrag te verstaan (Joubert, Hartell & Lombard 2016). Dit is belangrik in kwalitatiewe navorsing om sin van die verskynsels soos wat dit in die werklike wêreld plaasvind, te maak (Rule & John 2011). In hierdie artikel was die fokus op hoe hierdie persepsies en betekenisse in die dokumente na vore kom.

Ten einde ʼn diepgaande begrip te verkry van die onderliggende redes waarom kinders hierdie misdade pleeg, is ʼn gevallestudie-ontwerp gebruik, waarin ʼn probleem ondersoek word deur een of meer relevante gevalle binne ʼn spesifieke konteks te verken (Creswell 2014). Gevallestudienavorsing is ʼn kwalitatiewe benadering waarin die navorser een of meer gevalle oor ʼn tydperk ondersoek en kan gebruik word om ingewikkelde faktore binne ʼn enkele geval te ontleed (McLeod 2011).

Die gekose gevallestudie in hierdie artikel moes aan die volgende kriteria voldoen:

- Die moord is deur ʼn kind gepleeg, met of sonder medepligtige(s).

- Een of meer familielede is vermoor.

- Die kind is deur ʼn hof skuldig bevind aan moord op (ʼn) familielid(lede).

- Dokumentasie oor die kind se agtergrond, beskrywing van die misdaad, sielkundige en/of psigososiale verslae was beskikbaar.

- ʼn Vonnisopleggingsverslag was beskikbaar.

Diverse tipes dokumente is benut en het oor die algemeen hofverslae, sielkundige en maatskaplike verslae, koerantberigte en polisiedossiere ingesluit. Dokumentontleding word dikwels as 'n sistematiese prosedure gebruik om dokumente - gedruk sowel as elektronies - na te gaan en te evalueer (Bowen aangehaal in Sallabas 2013:364). Die voordele van die gebruik van dokumentontleding as data-insamelingstrategie is dat die navorser toegang tot ʼn verskeidenheid tipes dokumente kan verkry en breë gedagtes kan nagaan. Dokumente bied ook die moontlikheid van ʼn ryk beskrywing van inhoud en om temas met verskeie databronne te verifieer.

Kwalitatiewe inhoudsontleding is vir die data-ontledingsproses gebruik. Kwalitatiewe inhoudsontleding kan beskryf word as ʼn analitiese benadering wat vir enige soort kommunikasieopname gebruik kan word deur die sistemiese inhoudsontledingsreëls te volg (Breakwell, Smith & Wright 2012). Deur kwalitatiewe inhoudsontleding as data-ontledingstegniek te gebruik, wou die navorser die ingewikkeldheid van ʼn omvangryke versameling tekste verminder (Bauer & Gaskell 2000). In hierdie artikel is skuilname gebruik om die identiteite van die kind en die betrokkenes te beskerm. Die navorsers het etiese goedkeuring gekry vir die studie van die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit van Pretoria. In Tabel 2 word die persoonsbeeld van die kind wat familiemoord pleeg, weergegee. Die persoonsbeeld is saamgestel uit die data uit die breëre PhD-studie.

 

 

3. GEVALLESTUDIE

Alle bronne wat in die gevallestudie gebruik is, word as voetnotas aan die einde van die narratief gegee. Simone se ouers het mekaar ontmoet toe haar ma 19 en haar pa 23 jaar oud was. Hulle is kort na hulle ontmoeting getroud en Simone is 'n paar maande daarna gebore. Die ma het net na die geboorte 'n harttoestand en anemie ontwikkel. Sy kon Simone nie borsvoed nie, en Simone se ouma aan moederskant het vir die fisiese versorging van die baba ingestaan.. Simone het 'n broer wat 5 jaar jonger is as sy.

Die eerste jaar van die huwelik was gelukkig, waarna Simone se pa alkohol begin misbruik het. Hy het Simone begin verwaarloos en min respek vir haar ma getoon, wat hy emosioneel asook fisies begin mishandel het. Hy het ook aggressief opgetree en Simone fisies mishandel. In hierdie tydperk was hy gereeld werkloos. Die ouers het met tye uitmekaar gegaan en op verskillende plekke gewoon.

Die pa se verhouding met sy eie ma is as stormagtig beskryf. Hy was baie afhanklik van haar en het dit moeilik gevind om enige versoek van haar te weier. Wanneer hy dit wel gedoen het, het dit spanning en skeiding tussen hulle veroorsaak. Die pa se ma was die mees dominante persoon in sy lewe. Sy het werk aan hom verskaf en hom afhanklik van haar gehou deur hom slegs 'n klein salaris te betaal. Verder het sy hom van 'n huis voorsien, maar hom gereeld gedreig dat sy dit sou terugneem. Hy is selfs voorgesê hoe om aan te trek en sy kinders te behandel. Sy het ook bepaal na watter skool haar kleinkinders moes gaan. Sy het gereeld haar skoondogter verkleineer en afgekraak en daarop aangedring dat die kinders vir lang tydperke by haar moes oorbly.

Toe Simone 4 jaar oud was, het haar ouma haar pa na 'n argument ernstig fisies aangerand. Hy het snymerke, drie gebreekte ribbes en 'n gekraakte vinger gehad. Simone het die beserings gesien en was daarvan bewus dat haar ouma dit veroorsaak het. Toe Simone 10 jaar oud was, het haar pa agtergekom dat hy nie deur sy biologiese pa grootgemaak is nie. Dit was vir hom 'n groot skok en dit het in 'n intense argument tussen hom en sy ma ontaard. Hy het depressief geraak en sy gevoelens met Simone gedeel. Hy het vir haar gesê dat die lewe saam met sy ma onuithoudbaar was en dat hy selfmoord oorweeg. Twee dae later het hy homself geskiet. Haar pa se dood was 'n groot skok vir Simone, en na sy dood het sy gereeld van hom gedroom. Sy het na sy selfmoord 'n tyd lank sielkundige terapiesessies bygewoon, maar haar ouma aan vaderskant het die sessies beëindig toe sy van mening was dat Simone genoegsaam aangepas het. Hoewel Simone beweer dat sy nooit selfmoordgedagtes gehad het nie, is daar wel melding gemaak van 'n selfmoordpoging twee maande na haar pa se dood.

Na die pa se dood het sy ma die familie uit die huis wat sy aan hulle voorsien het, laat sit. Alhoewel Simone se ma 'n onderdanige rol binne die familieverband gespeel het, was sy die hoofbroodwinner. Sy is egter ook deur haar skoonma gedomineer. Belangrike besluite, soos waar Simone moes tuisgaan en na watter skool sy kon gaan, is deur die skoonma geneem, en Simone se ma se opinie is selde in ag geneem. Die skoonma en Simone se pa (toe hy nog geleef het) het saam besluit dat Simone vir lang tydperke by haar ouma (die skoonma) moes bly (Grade 1, 5 en 7).

Haar verhouding met haar ouma is gekenmerk deur dominansie en manipulasie, maar met tye ook toegeeflikheid. Die ouma het nagklubs besit, en Simone moes vanaf die ouderdom van 9 jaar namens haar ouma geld by die instellings gaan invorder. Hierdie take moes meestal in die aande uitgevoer word. Haar ouma het baie gekla oor Simone se telefoongebruik en die tyd wat sy op die telefoon gespandeer het. Hierdie gesprekke was meestal met 'n vriend wat 20 jaar oud was, heelwat ouer as sy. Die ouma het die verhouding met hierdie vriend beëindig. Die kere wat sy by haar ma wou gaan woon, het die ouma haar gemanipuleer deur vir haar te sê dat haar ma haar emosioneel skade kon aandoen. Die ouma se beledigings en afkrakery van Simone se ouers het haar gereeld laat huil. Haar ouma het Simone met haar eie dogter vergelyk en dan genoem dat sy nie so intelligent of mooi soos haar dogter is nie. Simone het haar ouma beskryf as iemand wat kil was, maklik rusie gemaak het, ongeskik was en nie ander se gevoelens in ag geneem het nie. Omdat sy so ambivalent was, was Simone onseker of haar ouma vir haar omgee. Soms was sy toegeeflik en ander kere het sy wreed opgetree. Die wyse waarop haar ouma Simone se jonger boetie fisies gestraf het, het haar ook dikwels ontstel. Simone was van mening dat die ouma die oorsaak van haar pa se selfmoord was, maar die ouma het Simone die skuld daarvoor gegee.

Die skool en sielkundiges het Simone beskryf as 'n aangename jong meisie wat met selfvertroue opgetree het. Die skoolpersoneel, die gesinsadvokaat en die sielkundiges wat Simone in terapie gehad het, was van mening dat Simone op 'n hoër emosionele en sosiale vlak gefunksioneer het as haar kronologiese ouderdom en portuurgroep. In die verslae en onderhoude was daar geen vermelding van wangedrag nie. Inteendeel; sy het 'n goeie skoolbywoningverslag getoon, aan sport deelgeneem en was 'n prefek op skool. Haar verhoudinge met haar portuurgroep is ook as toereikend beskryf.

'n Paar weke voor die moorde het Simone gemeld dat 'n familievriend onverwags by die skool opgedaag het. Sy het die vriend met tye by haar ouma se klub gesien. Hy het Simone 'n bedrag geld gegee en gesê dat hy haar in die toekoms 'n guns sal vra. Sy het die versoek vreemd gevind, maar sy het op daardie stadium niks daarvan gedink nie. Simone was bewus daarvan dat hy soms aggressief opgetree het en na bewering iemand vermoor het. Sy was ook daarvan bewus dat die familievriend geld by haar ouma geleen en nie terugbetaal het nie. 'n Paar dae voor die moord het die man haar weer opgesoek en met haar gepraat oor die guns wat hy benodig. Hy het haar gevra om mense te kry om haar ouma te vermoor. Simone was baie ontsteld en het skynbaar hieroor gehuil. Die man het genoem dat haar ouma vir Simone, haar ma en jonger broer wou vermoor. Vir haar was dit geloofwaardig, want in haar opinie was die ouma tot moord in staat.

Volgens Simone het die familievriend voorgestel dat sy twee arm swart mans moet soek om haar ouma te vermoor. Hy het ook gesê sy moet hulle waardevolle items in die huis gee as betaling. Die familievriend het haar verseker dat dit in haar eie belang is en dat hy haar sou beskerm teen enige wetlike gevolge. Hy sou haar ook bystaan met 'n alibi. Simone het ook beweer dat die vriend vir haar een of ander teken sou gee wanneer die tyd reg is om haar ouma te vermoor. Hy het voorgestel dat sy slaaptablette in haar ouma se tee gooi op die dag wat hy sou aandui waarop die moord moes plaasvind.

Volgens Simone het die familievriend wat haar vroeër vir die guns genader het, die betrokke Saterdag by haar verby gery. Dit is onduidelik hoe sy geweet het sy moes uitgaan en of dit bloot toevallig was dat hulle mekaar gesien het. Volgens Simone het die vriend haar geroep en vir haar gewaai. Sy het dit as die teken beskou waarop hulle ooreengekom het om die moord te laat pleeg, teruggegaan na haar ouma se woning en haar ouma se slaaptablette in haar tee gegooi. Daarna het sy uitgegaan om die mans te soek wat haar ouma sou vermoor. Sy het twee mans op straat gesien wat by die beskrywing gepas het wat die familievriend vir haar gegee het en hulle genader. Sy was emosioneel en het gehuil. Die mans het later haar emosionele toestand bevestig. Sy het hulle gevra om haar ouma dood te maak omdat die ouma haar ouers vermoor het. In ruil vir hulle hulp kon hulle enige items uit die huis neem. Een van die mans het genoem dat hy ook seksuele omgang met haar as deel van die vergoeding vir die moord versoek. Simone het ingestem om na die moord aan sy versoek te voldoen. Die mans het saam met haar in die huis ingegaan. Sy het vir hulle kombuismesse gegee om haar ouma te vermoor. Die mans het na die kamer gegaan en een van hulle het haar slapende ouma verwurg. Hoewel die ouma reeds dood was, was Simone nie tevrede nie; sy het haar ouma ondersoek en daarop aangedring dat die mans haar ouma se keel afsny. Hulle het teruggegaan na die kamer en die ouma se keel afgesny met die messe wat aan hulle verskaf is. Simone het vir hulle juwele, 'n videomasjien, dekodeerder en klere gegee. Die twee mans is later gearresteer en het elk 25 jaar tronkstraf vir hulle aandeel in die moord gekry.

Simone het genoem dat sy hierdie moord slegs oorweeg het na aanleiding van die versoek en inligting wat die familievriend vir haar gegee het. Sy het egter nooit weer die familievriend gesien nie, en sy het hierdie verklaring eers aan die polisie gegee nadat die twee mans gearresteer is en haar betrokkenheid by die moord verduidelik het. Ofskoon die hof nie haar verduideliking van die familievriend se betrokkenheid by die moord aanvaar het nie, het sy in die jare na die moord nooit haar weergawe hieroor verander nie. Haar motief vir die moord was nie baie duidelik nie. Een moontlike verduideliking is dat sy met haar ouma geargumenteer het oor haar verhouding met die 20-jarige man en die hoë telefoonkoste, maar die maatskaplike werker het beweer dat die dood van die ouma Simone verlos het van 'n ontoereikende verhouding met haar ouma.

Simone is skuldig bevind en het 'n vonnis van 36 maande korrektiewe toesig gekry, opgeskort vir 7 jaar, vir haar aandeel in die moord. Sy was 36 maande onder huisarres. 'n Deel van haar vonnis was gemeenskapsdiens. Op daardie stadium was Simone Suid-Afrika se jongste vroulike medepligtige moordenaar. In die jare na die moord het haar pa se familie kontak met haar verbreek.

Die laaste berigte oor haar het genoem dat haar verhouding met haar ma verbeter het en dat sy getroud is en self kinders het. Haar destydse advokaat asook haar maatskaplike werker het beide genoem dat sy goed aangepas het in die samelewing na die moord en haar straf.1

 

4. BESPREKING

Soos vroeër genoem, is die bostaande geval een van dié wat in 'n PhD-studie ondersoek is. Oorsaaklike faktore behoort gesien te word as 'n sameloop van omstandighede wat tot die moord gelei het, en hierdie geval word gebruik ter illustrasie van die faktore wat dikwels met hierdie tipe moord gepaardgaan.

In hierdie geval was die binding tussen ma en dogter asook tussen pa en dogter problematies. Simone se verhouding met haar pa was ook gekompliseerd; hy het met sy eie sielkundige probleme geworstel en het Simone fisies mishandel. Na Simone se geboorte was haar ma sieklik en is Simone se fisiese versorging grotendeels deur haar ouma aan moederskant oorgeneem. Beide ouers het toegelaat dat die ouma grotendeels die kind se opvoeding oorneem. Navorsing toon dat alle normale babas binne die eerste agt maande van hulle lewe met hulle primêre versorger bind, maar in hierdie tydperk ook in staat is om met meer as een persoon te bind (Pearce 2009). Die bindingsproses ontwikkel stelselmatig oor die kind se eerste vier lewensjare (Pearce 2009:13). 'n Jong kind wat veilig voel, is gemaklik om sy leefwêreld te verken en kan sy/haar energie gebruik om sin te maak van nuwe ervaringe. Die kind wat angstige binding toon, voel egter onveilig en aggressief teenoor die versorger, aangesien daar nie 'n stabiele verhouding bestaan nie. Sulke kinders is bang om uiting te gee aan hulle gevoelens van angs en aggressie, aangesien dit dalk verdere verwerping kan veroorsaak. Gevolglik word emosies onderdruk. In hierdie geval was daar ook sprake van angstige binding tussen Simone en haar ouers enersyds en haar ouma andersyds. Sy is van een ouerhuis na 'n ander gestuur en haar verhoudinge met nabye familielede is gekenmerk deur straf, wat moontlik gevoelens van onderdrukte aggressie en angs tot gevolg gehad het.

Familieverhoudinge is uiters belangrik vir kinders om toereikend in die samelewing aan te pas. Die literatuur toon dat kinders wat familiemoord gepleeg het, op een of ander stadium in hulle lewens aan geweld en verwaarlosing blootgestel is (Dantas, Santos, Dias, Dinis-Oliveira & Magalhães 2014). Roe-Sepowitz (2009) het gevind dat 96% van die kinders wat moord pleeg, uit gebroke huise kom waar gesinswanfunksionering voorkom. Gesinswanfunksionering was opmerklik in Simone se geval. Die ouers het huweliksprobleme gehad en Simone se pa asook haar ouma het haar mishandel. Die ouers het toegelaat dat Simone se ouma haar opvoeding grotendeels oorneem. Simone het gesien hoe haar ouma haar pa fisies aanrand. Simone se pa het selfmoord gepleeg, en Simone se ouma het haar laat glo dat sy die oorsaak van die selfmoord was. Haar ouma het haar ouers gereeld afgekraak. Daarbenewens moes Simone vanaf die vroeë ouderdom van 9 jaar geld by nagklubs invorder.

Soos reeds genoem, is Simone blootgestel aan verskeie vorme van mishandeling deur haar pa en ouma. Haar pa het haar fisies mishandel en haar ouma sielkundig. Simone het gesien hoe haar ouma haar pa aanrand en haar broer fisies straf. Fisiese mishandeling het negatiewe fisiese asook sielkundige gevolge, wat met tye ook tot die dood kan lei. Kinders wat mishandel word, staan 'n groter kans om later in hulle lewens ook gewelddadig op te tree (Hollin 2013). Knight en Sims-Knight (2004) het bevind dat daar 'n korrelasie bestaan tussen mishandeling (verbaal en fisies) en persoonlikheidsafwykings in kinders. Angsversteurings, dwelmmisbruik en selfmoordpogings deur kinders word ook met fisiese mishandeling geassosieer (Norman, Byambaa, De, Butchart, Scott & Vos 2012). Volgens die dokumentasie het Simone selfmoord probeer pleeg.

Indien kinders liefde en aanvaarding van die primêre versorger ervaar, beleef hulle hulself as waardig en is hulle oop vir positiewe interaksie met ander persone. Hulle gedrag ontlok dan ook aanvaarding en versorging van die primêre versorger. Indien die teendeel waar is en die kind verwerping ervaar, is hulle geneig om hulself as onwaardig en ongeliefd te ervaar. Hulle verwag dan ook verwerping van ander en is ook vatbaar vir die latere ontwikkeling van depressie (Crockenberg & Lerkes 2003). 'n Verband bestaan tussen sensitiwiteit vir verwerping en aggressie (Bondü & Richter 2016). Downey en Feldman (1996) noem dat gevoelens van verwerping gepaardgaan met vyandigheid, jaloesie en neerslagtigheid. Simone se ouers het toegelaat dat haar ouma die opvoeding oorneem, en haar ma het nie vir haar ingetree toe die mishandeling en die herhaaldelike verskuiwing van een huis na 'n ander plaasgevind het nie. Mishandeling, verbale kritiek en die rondskuif van een ouerhuis na 'n ander het aanleiding gegee tot gevoelens van ongeliefdheid en verwerping.

Die invloed wat ouerskapstyle op kinders het, word reeds dekades lank bestudeer. Die outoritêre ouerskapstyl word gekenmerk deur rigiede strengheid, straf en min ondersteuning. Waar jeugdiges familiemoord gepleeg het, was 'n outoritêre ouerskapstyl van beide ouers redelik algemeen (Hill-Smith, Hugo, Hughes, Fonagy & Hartman 2002). Soos reeds genoem, is Simone blootgestel aan verskeie vorme van mishandeling. Die ouma was uitermate streng en het min warmte teenoor Simone getoon, wat tipies is van die outoritêre ouerskapstyl (Ihabe & Bentler 2016). Aan die ander kant het Simone se ouers 'n onbetrokke ouerskapstyl gehandhaaf, wat gepaardgaan met beperkte beheer en minimale warmte teenoor die kind (Ihabe & Bentler 2016): beide ouers, maar veral die ma, het toegelaat dat die ouma grotendeels Simone se opvoeding oorneem en haar tussen huise rondskuif. Die onbetrokke ouerskapstyl lei tot die meeste negatiewe aanpassingsprobleme vir die kind, soos wangedrag, dwelmmisbruik, sielkundige probleme en 'n swak selfbeeld (Boshier 2011). Dit word ook geassosieer met hoë vlakke van aggressie en antisosiale gedrag (Ihabe & Bentler 2016). Spraitz (2011) het in sy studie oor ouerskapstyle bevind dat kinders wat in ouerhuise grootword waar verwerping en verwaarlosing aanwesig is, meer geneig is tot kriminele optrede. Simone is dus aan twee ontoereikende ouerskapstyle blootgestel.

Die selfmoord van Simone se pa was vir haar 'n groot skok. Sy het dikwels na die selfmoord oor hom gedroom. Daar word beweer dat 'n permanente verandering van die identiteit plaasvind wanneer verlies ervaar word. Verlies en rou is oor die algemeen stresvol, en indien 'n persoon nie verlies toereikend hanteer nie, kan angs, depressie en selfs antisosiale gedrag ontwikkel (Sacks 1998). Persone wat veilige binding toon, vind dit makliker om verlies te verwerk as persone wat angstige, vermydende of ongeorganiseerde binding toon (Stroebe & Archer 2013). 'n Veilige en nabye band met haar ma was egter afwesig ten tyde van die pa se selfmoord; Simone se ouma het haar vir terapie geneem, maar dit gestaak toe dit na haar mening genoeg was. Sy het selfs Simone as die oorsaak van die selfmoord gesien.

'n Verskeidenheid faktore moet in ag geneem word wanneer daar na familiemoord wat deur kinders gepleeg is, gekyk word. Faktore soos hiperaktiwiteit, sosiale isolasie, ekstreme ouerskapstyle, swak binding met die ouer, bepaalde persoonlikheidstipes, mishandeling en antisosiale portuurverhoudinge word dikwels met aggressiewe gedragshandelinge geassosieer (Hill-Smith et al. 2002). 'n Kind wat vanaf 'n vroeë ouderdom aan geweld in die ouerhuis blootgestel word, het in adolessensie 'n verhoogde geneigdheid tot aggressie, antisosiale gedrag en geweld. Ander negatiewe langtermyngevolge kan ook depressie en 'n swak selfbeeld wees (Kemme, Hanslmaier & Pfeiffer 2014:129). Heide en McCurdy (2010) beweer dat kinders wat mishandel word en dan later familiemoord pleeg, dit moeilik vind om 'n emosionele band met ander persone te ontwikkel. Hierdie kinders ervaar ekstreme gevoelens van aggressie en haat. Hulle het dikwels nie empatie met ander persone nie en vind dit moeilik om deurdagte besluite te neem. In verskeie gevalle van familiemoord wat deur Mones (1991) en Heide (2013) ondersoek is, was daar sprake van mishandeling wat tot uitermatige stres en angs by die kinders aanleiding gegee het. Onsekere binding met die primêre versorger word dikwels verbind met angs (Bögels & Brechman-Toussaint 2006). Aangesien daar in die gevallestudie sprake was van problematiese binding, kan die afleiding gemaak word dat 'n verband tussen angs en bindingsprobleme bestaan. Dit skyn dus dat bindingsprobleme aanleiding tot angs kan gee by kinders wat uiteindelik familiemoord pleeg. In Simone se geval het haar onveilige en ongeborge huislike omstandighede aanleiding gegee tot angs. Die feit dat niemand vir haar ingetree of haar beskerm het nie, het haar aan die een kant onveilig laat voel, maar aan die ander kant het dit waarskynlik aanleiding gegee tot onderdrukte aggressie. Persone wat voel dat hulle deur hulle ouers verwerp word, ontwikkel dikwels gevoelens van aggressie om die stres van die verwerping te hanteer (Rohner 2004). Heide (2013) en Mones (1991) het 'n verband aangedui tussen mishandeling en uitermatige stres by kinders wat familiemoord pleeg. Soos reeds genoem, is Simone blootgestel aan mishandeling en uitermatige straf, wat gevoelens van angs en aggressie kon vererger.

Opsommend kan aangevoer word dat Simone 'n swak band met haar primêre sorggewers gehad het. Haar emosionele behoeftes is oorwegend misken of nie toepaslik deur haar familie hanteer nie. Dit het haar onseker en verwerp laat voel. Geborge huislike omstandighede het ontbreek. Verlies is nie toereikend hanteer nie. Gesinswanfunksionering was opmerklik in die gevallestudie. Die akkumulatiewe stressors het gevoelens van angs en onderliggende aggressie tot gevolg gehad, en die akkumulatiewe individuele en sistemiese gebeure wat oor jare plaasgevind het, het daartoe gelei dat Simone haar ouma laat vermoor het.

 

5. SLOTOPMERKINGS EN AANBEVELINGS

Die aantal geweldsmisdade in Suid-Afrika is kommerwekkend. Die gesin word beskou as die kernsisteem in die gemeenskap, en navorsing rakende geweld behoort geprioritiseer te word. Gesinswanfunksionering, verwerping en problematiese binding was opmerklik in die bogenoemde geval asook in die groter navorsingsprojek.

Die navorser kon geen ander opvoedkundige-sielkundige studies oor kinders wat familiemoord pleeg in Suid-Afrika opspoor nie, dus sal toekomstige studies wat spesifiek op hierdie fenomeen fokus, belangrik wees. Die akademiese kennis in Suid-Afrika behoort dus uitgebrei te word. Studies wat fokus op gesinswanfunksionering en die effek daarvan op die kind se ontwikkeling en gewelddadige gedrag word aanbeveel. Sielkundiges behoort opleiding te kry in die vroeë identifikasie van risikofaktore wat tot familiemoord deur kinders aanleiding kan gee.

Aangesien hierdie tipe moorde ook uitkring na die breëre gemeenskap word skolastiese programme wat fokus op veerkragtigheid en die vroeë identifikasie van huislike probleme aanbeveel. Gemeenskapsentrums wat hulp en ondersteuning bied aan families wat gesinsgeweld en gesinswanfunksionering beleef, behoort aandag te geniet ten einde gevalle soos dié van Simone te vermy.

 

BEDANKING

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Nasionale Navorsingstigting (NNS) word bedank vir ondersteuning van die navorsingsprojek wat kon uitmond in die PhD-studie, waarvan hierdie artikel 'n verwerkte uittreksel verteenwoordig.

 

BIBLIOGRAFIE

Bartol, C.R. & Bartol, A.M. 2014. Criminal behaviour: A psychosocial approach. (10th ed.). Boston: Pearson.         [ Links ]

Bauer, M.W. & Gaskell, G. 2000. Qualitative researching with text, image and sound: A practical handbook. London: SAGE.         [ Links ]

Bögels, S.M. & Brechman-Toussaint, M.L. 2006. Family issues in child anxiety: Attachment, family functioning, parental rearing and beliefs. Clinical Psychology Review, 26:834-856. doi:10.1016/j.cpr.2005.08.001.         [ Links ]

Bondű, R. & Richter, P. 2016. Linking forms and functions of aggression in adults to justice and rejection sensitivity. Psychology of Violence, 6:292-302.         [ Links ]

Boshier, P. 2011. Parenting and crime: An evidence-based review with implications for the New Zealand family and youth court. Family Court Review, 49: 8-15.doi:10.1111/j.1744-1617.2010.01349.         [ Links ]

Breakwell, G.M., Smith, J.A. & Wright, D.B. 2012. Research Methods in Psychology (4th ed.). London: SAGE.         [ Links ]

Creswell, J.W. 2014. Research design: qualitative, quantitative, and mixed methods approaches (4th ed.). Thousand Oaks, CA: SAGE.         [ Links ]

Dantas, S., Santos, A., Dias, I., Dinis-Oliveira, R.J. & Magalhães, T. 2014. Parricide: a forensic approach. Journal of Forensic and Legal Medicine, 22(3): 1-6. doi:10.1016/j.jflm.2013.11.008.         [ Links ]

Department of Correctional Services. (2015). Statistical information. http://www.dcs.gov.za/AboutUs/StatisticalInformation.aspx [10Maart 2015].         [ Links ]

Downey, G. & Feldman, S.I. 1996. Implications of rejection sensitivity for intimate relationships. Journal of Personality and Social Psychology, 70:1327-1343. doi:10.1037/0022-3514.70.6.1327.         [ Links ]

Evans, J. & Verster, J. 2016. Crime Stats 2016: Murder up 4.9%. News 24. http://www.news24.com/SouthAfrica/News/murder-up-49-20160902 [2 September2016].         [ Links ]

Crockenberg, S.C. & Leerkes, E.M. 2003. Parental acceptance, postpartum depression and maternal sensitivity: Mediating and moderating processes. Journal of Family Psychology, 17: 80-93. doi: 10.1037/0893-3200.17.1.80.         [ Links ]

Heide, K.M. 2013. Understanding parricide: When sons and daughters kill parents. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Heide, K.M. & McCurdy, J. 2010. Juvenile parricide offenders sentenced to death. Victim and Offenders, 5:76-99. doi: 10.1080/15564880903048545.         [ Links ]

Hill-Smith, A.J., Hugo, P., Hughes, P., Fonagy, P. & Hartman, D. 2002. Adolescent murderers: abuse and adversity in childhood. Journal of Adolescence, 25: 221-230.         [ Links ]

Hollin, C.R. 2013. Psychology and crime: An introduction to criminological psychology. (2nd ed.). Hove, East Sussex: Routledge.         [ Links ]

Ihabe, I. & Bentler, P.M. 2016. The contribution of family relationships to child-to-parent violence. Journal of Family Violence, 31: 259-269. doi:10.1007/s10896-0159764-0.         [ Links ]

Joubert, I., Hartell, C. & Lombard, K. 2016. Navorsing: 'n Gids vir die beginnernavorser. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Kearney, L. & Erasmus, J. 2008. Crime in South Africa. http://www.mediaclubsouthafrica.com/africa/34-democracy/developmentbg/117crime-in-south-africa?showall=1&limitstart [10 September 2016].         [ Links ]

Kemme, S., Hanslmaier, M. & Pfeiffer, C. 2014. Experience of parental corporal punishment in childhood and adolescence and its effect on punitiveness. Journal of Family Violence, 29:129-142. doi: 10.1007/s10896-013-9564-3.         [ Links ]

Knight, R.A. & Sims-Knight, J.E. 2004. Testing an etiological model for male sexual offending against females. Journal of child sexual abuse, 13(3-4): 33-35. doi:10.1300/J070v13n03 03.         [ Links ]

Kriegler, A. & Shaw, M. 2016. A Citizen's guide to crime trends in South Africa. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Lancaster, L. 2013. Where do murders occur in South Africa? http://www.issafrica.org/iss-today/where-do-murders-occur-in-south-africa [9 November 2015]        [ Links ]

McLeod, J. 2011. Qualitative research in counselling and psychotherapy (2nd ed.). London: SAGE.         [ Links ]

Mones, P.A. 1991. When a child kills: Abused children who kill their parents. New York: Pocket Books.         [ Links ]

Muntingh, L. & Ballard, C. 2012. Report on children in prison in South Africa. http://cspri.org.za/publications/research-reports/report-on-children-in-prison-in-southafrica [10 Maart 2015].         [ Links ]

Norman, R.E., Byambaa, M., De, D., Butchart, A., Scott, J. & Vos, T. 2012. The longterm health consequences of child physical abuse, emotional abuse, and neglect: A systematic review and meta-analysis. PLos Medicine, 9(11), e1001349.         [ Links ]

Pearce, C. 2009. Attachment and attachment disorder. London: Jessica Kingsley.         [ Links ]

Pillay, K. 2009. Family systems analysis of family murderers. (Unpublished master's thesis). University of South Africa, Pretoria.         [ Links ]

Roe-Sepowitz, D.E. 2009. Comparing male and female juveniles charged with homicide: Child maltreatment, substance abuse, and crime details. Journal of interpersonal Violence, 24: 601-617. doi: 10.1177/0886260508317201.         [ Links ]

Rohner, R.P. 2004. The parental "Acceptance-Rejection Syndrome": Universal correlates of perceived rejection. American Psychologist, 59:830-840.         [ Links ]

Rule, P. & John, V. 2011. Your guide to case study research. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Sacks, A.M. 1998. Bereavement: A special disorder of object loss, a comparison of two cases. Psychoanalytic Psychology, 15: 213-229. doi: 10.1037/07369735.15.2.213.         [ Links ]

Sallabas, M.E. 2013. Analysis of narrative texts in secondary school textbooks in terms of values education. Educational Research and Reviews, 8:361-366.         [ Links ]

Spraitz, J.D. 2011. Parenting styles and criminal involvement: A test of Baumrind's typology. (Doctoral dissertation). Retrieved from ProQuest. (3465872). http://search.proquest.com.uplib.idm.oclc.org/docview/884580405/previewPDF/8D4139D3FDC4729PQ/1?accountid=14717 [11 September 2016]        [ Links ]

Statistics South Africa. 2014. Victims of crime survey. http://www.statssa.gov.za/?s=crime&sitem=publications [10 Maart 2015].         [ Links ]

Stroebe, M.S. & Archer, J. 2013. Origins of modern ideas of love and loss: contrasting forerunners of attachment theory. Review of General Psychology, 17: 28-39. doi:10.1037/a0030030.         [ Links ]

 

 

MELANIE MOEN is 'n dosent in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy het haar PhD in 2017 voltooi en is 'n geregistreerde sielkundige. Haar PhD het gefokus op kinders wat familiemoord pleeg en haar meestersgraad het op die moeder-kind interaksiepatrone in die gevangenis gelet. Sy het ervaring as sielkundige in privaat praktyk. Sy het 19 gepubliseerde artikels in nasionale en internasionale joernale. Tans is haar fokusnavorsing op die gebied van jeugmisdaad.
MELANIE MOEN is a lecturer in the Faculty of Education at the University of Pretoria. She completed her PhD in 2017 and is a registered psychologist. Her PhD focussed on family murder committed by children and her master's degree dealt with mother-child interaction patterns in prison. She is an experienced psychologist in private practice. She has published 19 articles in national and international journals. Her current research focus area is within the field of youth violence.

 

 

CHRISTIAAN BEZUIDENHOUT verwerf die grade BA, BA Honeurs en MA in Kriminologie; asook 'n DPhil in Kriminologie. Hy verwerf ook 'n MSc-graad in Kriminologie en Kriminele Regspleging aan die Universiteit van Oxford. Tans is hy verbonde aan die Departement Maatskaplike Werk en Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria, waar hy op voor- en nagraadse vlakke psigokriminologie, kriminele regspleging en kontemporêre kriminologie doseer. Voorts is hy koördineerder van die Honneursprogam in Kriminologie en het hy ook as studieleier en promotor opgetree vir verskeie meesters- en doktorale studente. Psigokriminologie, polisiëring en jeugwangedrag tel onder sommige van sy navorsingsareas. Hy het 'n kruis-kulturele studie in samewerking met 'n Amerikaanse kollega voltooi, waarin veral gefokus word op die regs- en polisiëringsdilemmas rondom mensehandel. Hy is 'n NNS-gegradeerde navorser van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting. Hy het verskeie wetenskaplike artikels in eweknie-geëvalueerde joernale tot sy krediet en is die outeur van hoofstukke in 'n aantal boeke. Hy het ook opgetree as hoofredakteur vir verskeie wetenskaplike boeke. Voorts het hy deelgeneem aan nasionale en internasionale konferensies, was hy aktief betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte wat fokus op misdaadvoorkoming, en het hy ook die Suid-Afrikaanse regering bygestaan in die vestiging van verskillende misdaadvoorkomingsinisiatiewe. Christiaan tree op as spesialisgetuie in hofsake. Tans is hy president van die Kriminologiese en Viktimologie Vereniging van Suid-Afrika (CRIMSA).
CHRISTIAAN BEZUIDENHOUT holds the following degrees: BA (Criminology), BA Honours (Criminology), MA (Criminology), DPhil (Criminology), and an MSc in Criminology and Criminal Justice from the University of Oxford. He is currently attached to the Department of Social Work and Criminology, University of Pretoria, where he teaches psychocriminology, criminal justice and contemporary criminology at undergraduate and postgraduate levels. He is also the coordinator of the Criminology Honours degree programme at the University of Pretoria, besides having supervised several MA and DPhil students. Psychocriminology, policing and youth misbehaviour are some of his research foci. He has completed a cross-cultural study with an American colleague, focussing on the legal and policing dilemmas of trafficking in humans and he holds a research rating from the National Research Foundation in South Africa. During his academic career, Christiaan has published numerous scientific articles in peer reviewed journals and has authored chapters in several books. He has also acted as editor-in-chief for various scholarly works. He has participated in national and international conferences, has been actively involved in various community projects focusing on crime prevention, and has assisted the South African government in the development of different crime prevention initiatives. Christiaan also does court work as an expert witness. He is currently the president of the Criminological and Victimological Society of South Africa (CRIMSA).
1 CC 155/2003 Court document.
Pillay, A.L. Psychological report. Fort Napier hospital.
Singh, N. 2011. Baby for granny killer. IOL.http://www.iol.co.za/news/south-africa/kwazulu-natal/baby-for-granny-killer-1021999 [6 February 2016].
Skelton, A. (2016, February 23). Interview with advocate.
Van Niekerk, J.M. (2005). Report from social worker. Pietermaritzburg.
Van Niekerk, J.M. (2016, February 2). Telephonic interview with social worker.
Willows, C. (2003). Psychological report. Pietermaritzburg.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License