SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue4Oliver Tambo and communismThe role of NSFAS in facilitating access to higher education for students from poorer communities in South Africa author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.4 Pretoria Dec. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n4a6 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Die wegbeweeg vanaf gematigdheid na 'n radikale grondherverdelingsbenadering as transformasieprioriteit in Suid-Afrika

 

The move away from a moderate to a radical land redistribution approach as transformation priority in South Africa

 

 

Herman Van Der Elst

Politieke Wetenskap, Noordwes-Universiteit, Vaaldriehoekkampus. E-pos: Herman.vanderelst@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

'n Prioriteitskonsep wat deesdae gereeld gekoppel word aan radikale sosio-ekonomiese transformasie in Suid-Afrika (SA) is die oproep om versnelde grondherverdeling. In hierdie verband is daar konsensus onder akademici en meningsvormers dat grondhervorming in SA, met 'n spesifieke fokus op herverdeling, uiters traag plaasvind, en nie noodwendig die voorheen benadeelde massas bevoordeel nie. Vanuit verskillende oorde word geargumenteer dat die regering tot op hede 'n baie gematigde benadering tot grondherverdeling gevolg het. Dit is juis hierdie gematigde benadering wat bygedra het tot die trae pas van grondherverdeling. Teen die agtergrond van oproepe om radikale sosio-ekonomiese transformasie word daar toenemend gesinspeel dat daar wegbeweeg gaan word van 'n gematigde na 'n meer radikale grondherverdelingsbenadering. Dit is dan ook die doel van hierdie artikel om die regering se gematigde benadering tot grondherverdeling in oënskou te neem en te kontrasteer met die elemente van die ontvouende meer radikale beleids- en implementeringsbenadering. Die vraag word gestel: Wat is/was die rasionaal agter die huidige gematigde regeringsbenadering tot grondherverdeling, en watter faktore en beleidselemente gaan moontlik rigtinggewend wees vir die ontvouende meer radikale benadering?

Trefwoorde: Beleid, grondherverdeling; Washington konsensus, trae vordering, gematigde benadering, radikale sosio-ekonomiese transformasie, radikale benadering, voogdyskap, Grondwet


ABSTRACT

A key reason for the establishment of the African National Congress (ANC) in 1912 was ensuring and securing access to land for the landless masses. Since then land redistribution remained key concepts in the ANC's policy vocabulary. This importance of redistribution and access to land was also emphasized in the 1955 Freedom Charter of the movement, and again in the 1994 ANC election manifesto. In 2017 the objective of access to land and redistribution has however not yet been realised. A contemporary priority concept that is therefore frequently linked to the notion of radical socio-economic transformation in South Africa (SA) is the call for accelerated land redistribution towards black economic empowerment. In this respect there is consensus amongst most academics and opinion formers, that land reform with a specific emphasis on the pace of redistribution is slow and does not necessarily benefit the previously disadvantaged masses. It is argued from different angles that government has, up to now, followed a moderate approach to land redistribution. This moderate approach contributed to a large extent to the current slow pace of land redistribution. In line with calls for radical economic transformation the SA government is currently under pressure to move away from this moderate school of thought to a more radical land redistribution approach. It is the purpose of this article to analyse the reasons for this moderate approach and contrast it with the elements of the evolving more radical policy and implementation approach. In effect the following question is being addressed: What is die rationale behind the current moderate government approach to land redistribution and which factors and elements will have an influence on the evolving radical approach?
In order to answer the above question the article will be divided into three levels. On a macro level, and as contextual background, the focus briefly falls on the origins and nature of the contemporary moderate approach to land redistribution and the meaning of socio-economic transformation as a development objective.
On a micro level the article will be narrowed down to the transformation pressure that the SA government is currently experiencing and the now familiar, nature and scope of land expropriation during the apartheid timeframe as well as redistribution progress that has been made since 1994. Against this background emphasis is placed on land redistribution as a contemporary transformation priority in SA.
On the application level the article is comparatively narrowed down to the move away from a moderate school of thought to the causal factors that led to the evolving more radical approach to land redistribution. In conclusion possible key elements that will influence the unfolding of the more radical approach are identified, highlighted and analysed. In the final analysis the aim is therefore to provide a predictive scenario analysis that points towards the consequences and unfolding of the mind shift to this more radicalised approach to land redistribution.

Keywords: Policy, Land redistribution; Washington consensus; Slow progress; moderate approach; radical socio-economic transformation; radical approach; Custodian; Constitution


 

 

INLEIDING

Die oneffektiwiteit van die huidige beleid van grondherverdeling in SA word aan 'n verskeidenheid interne en eksterne faktore toegeskryf. Vir die doeleindes van hierdie artikel word die trae pas van herverdeling, as hoofkomponent van grondhervorming, egter verbind met die SA regering se, tot nou toe, gematigde benadering tot beleids- en implementeringstrategieë, wat sedert 1994 nagevolg is. Die Oxford-woordeboek (2017) definieer gematigdheid as kenmerk van 'n persoon of instansie wat gekant is teen ekstreme perspektiewe, opinies en optredes. Dit word spesifiek verbind met politiek of religie.

Die SA regering se gematigde benadering tot grondherverdeling is tans steeds geanker in die neo-liberale denkwyse van die post-Koue-oorlog Washington-konsensus wat internasionale ontwikkelingsdebatvoering gedurende die 1980's en middel 1990's gedomineer het (Marangos 2009:197). Teen die agtergrond van die einde van die Koue-oorlog en die val van Marxisties georiënteerde sosialisme is daar veral binne Westerse kringe geglo dat vryemarkkragte en minimale staatsinmenging die enigste oorblywende wyse is waarop ontwikkeling, in veral ontwikkelende lande, gestimuleer kon word. Hierdie denkwyse het dan gekristalliseer in die Washington-konsensus en is ondersteun deur prominente Westerse ekonome, die Europese Unie (EU), die Verenigde State van Amerika (VSA), die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF). Die uitgangspunte van die Washington-konsensus wat gebaseer is op minimale staatsinmenging, voortgesette demokratisering en vryemarkkragte was dan ook sigbaar in die finansiële bystandsvoorwaardes van ontwikkelingsorganisasies soos die IMF en die Wêreldbank (O' Brien & Williams 2013:268; en Pettinger 2013). Ontwikkelende state wat voldoen het aan die voorskrifte van die Washington-konsensus, het dan ook gekwalifiseer vir bystand- of ontwikkelingshulp van die IMF, Wêreldbank of individuele ontwikkelde state (Driver 2007:67). Die gematigde Suid-Afrikaanse grondherverdelingsbeleid is tot 'n groot mate geskoei op die post-1994 navolging van die Wêreldbank se liberale sogenaamde vryemark-ondersteunde voorskriftelike model vir onderhandelde grondherverdeling soos ontwikkel in die 1990s. Die hoofkenmerke van hierdie model kan volgens Pilipinas (2000:4-5) soos volg opgesom word:

a) In lyn met die gewillige-koper-verkoper beginsel moet daar onderhandelings met die oog op prysvasstelling wees;

b) Die rol van die staat moet beperk word tot die verskaffing van tegniese finansiële bystand;

c) Daar mag nie ekplisiete teikendatums vir die afhandeling van grondherverdeling wees nie;

d) Die grondherverdelingsproses moet markgedrewe wees en potensiële begunstigdes moet die proses inisieer;

e) Begunstigdes moet spesifieke projekte identifiseer voor post-vestigingsondersteuning in die vorm van finansiële bystand verskaf sal word; en

f) Die privaat sektor en nieregeringsorganisasies moet aktief betrokke wees.

Die SA regering het dus werklik geglo dat toepassing van die breë beginsels van die Washington-konsensus, grondhervorming sou bevorder. In hierdie verband is Changuion (2012:559) van mening dat die regering tot so onlangs as 2010 ʼn realistiese benadering tot grondhervorming nagevolg het. Hier gaan dit spesifiek oor die noodsaaklikheid van oordragte van vaardighede sowel as realistiese teikendatums vir die oordrag van grond.

Ander belangrike redes vir hierdie aanvanklike gematigde benadering was om die negatiewe ekonomiese en maatskaplike gevolge van grondvergrype wat in ander Afrikastate soos byvoorbeeld Angola, Kenia en Zimbabwe tydens dekolonisasie plaasgevind het, te voorkom (Boyle 2001:695). Verder wou die regering buitelandse investeringsvertroue behou, kweek en uitbou deur die navolging van ʼn liberaal-georiënteerde grondherverdelingsmodel. In bogenoemde verband is dit ook as uiters belangrik beskou om bestaande stabiele vlakke van voedselsekerheid te handhaaf. Hierdie benadering moet dan oorhoofs gesien word teen die agtergrond van die versoenende benadering van die Nelson Mandela-era en tewens beskou word binne die konteks van SA se hertoelating tot, en verhoogde aansien in, die internasionale gemeenskap.

Binne die Suid-Afrikaanse konteks vind die gematigde benadering spesifiek vergestalting in die geïnstitusionaliseerde grondwetlike beginsels van die beskerming van private eiendom en die gewillige-koper-verkoper-beginsel soos vervat in artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Suid-Afrika 1996:13). Dit beteken dat niemand verplig word om grond te verkoop nie en dat die waarde van grond bepaal word deur markkragte of deur die grondbesitter. Huidige wetgewing maak wel voorsiening vir onteiening in sekere gevalle maar dit kan nie lukraak plaasvind nie, en is onderworpe aan deeglike konsultasieprosesse en onderhandeling.

 

TRANSFORMASIE AS 'N ONTWIKKELINGSDOELSTELLING IN DIE SUID-AFRIKAANSE POLITIEKE LANDSKAP

Die konsep (politiek-ekonomiese) transformasie is 'n sogenaamde sponsbegrip en kan op verskillende wyses en binne spesifieke kontekste en dissiplines, geïnterpreteer word. Daar kan egter met sekerheid aanvaar word dat transformasie die wegbeweeg vanaf 'n spreekwoordelike politieke-ekonomiese punt A na 'n punt B impliseer. Riggs (1964:12-30) beskou transformasie as die algehele oorgang van 'n tradisionele na 'n moderne samelewing. Binne die Suid-Afrikaanse konteks gaan dit spesifiek oor die wegbeweeg van die apartheidsbedeling (punt A) na 'n allesinsluitende demokratiese bedeling (punt B). In baie gevalle word transformasie gekenmerk deur 'n tydperk van politieke en ekonomiese onstabiliteit, aldus Riggs.

Volgens Duvenhage (2009:716) behels transformasie tendense van politieke veranderinge in 'n gemeenskap of staat. Dit vind plaas in die vorm van rewolusie, ewolusie, transisie of politieke ontwikkeling. In SA is daar tans sprake van radikale sosio-ekonomiese transformasie in terme van regeringsbeleidsoogmerke. Die betekenis en formaat van hierdie transformasie is nog nie duidelik deur die regering gedefinieer nie. Radikalisme verwys egter na die gedrag van mense wat ten gunste is van ekstreme veranderinge, binne veral 'n regeringsopset sowel as die beleidsdoelstellings van daardie regering (Cambridge woordeboek 2017). Volgens Davies R. (2014), die Suid-Afrikaanse Minister van Handel en Nywerheid, hou radikale transformasie binne die SA konteks verband met die fundamentele aard van 'n verskynsel. Dit gaan oor verreikende en weldeurdagte optredes waartydens wegbeweeg moet word van tradisie na progressiewe innovering.

Die dringendheid van radikale sosio-ekonomiese transformasie kom vervolgens steeds meer akuut voor binne alle bemagtigings- en diensleweringsfere van Suid-Afrikaanse politieke debatvoering. In hierdie verband bly grondhervorming met sy klem op herverdeling 'n sleuteltransformasieprioriteit vir die regering.

 

DIE AARD EN OMVANG VAN GRONDONTEIENING GEDURENDE DIE APARTHEIDSTYDVAK (1913-1991)

Gedurende die apartheidsjare het 'n beraamde 3.5 miljoen Suid-Afrikaners, spesifiek in landelike gebiede, hulle grond ingevolge die bepalings van 'n verskeidenheid apartheidswette verloor (Williams 1994:14-18). In hierdie verband het die Naturellen grondwet van 1913 en die Naturellentrust en -grondwet in 1936 'n prominente rol gespeel. Ingevolge die 1913-wet is dertien persent van SA se grondoppervlakte as sogenaamde "swart reservate" of tradisionele areas afgebaken (Richter 1975:14). Daar is aanvaar dat swart mense oorspronklik in hierdie areas gewoon het. Swart mense is slegs toegelaat om grond binne die afgebakende gebiede te koop en te verkoop. Eiendom wat aan swart mense buite die gereserveerde areas behoort het, is geklassifiseer as sogenaamde "swart kolle", en die oorspronklike inwoners is gevolglik gedwing om na tuislande of reservate te verskuif (Malan & Hattingh 1975:25). Voorts is gesamentlike inisiatiewe soos die aankoop van grond, boerdery of die huur van blanke plase deur swart mense onwettig verklaar en vice versa (Deininger 1999).

Ingevolge die 1936-wetgewing is die bepalings van die 1913-wetgewing herbevestig en verskerp (McClintock 1999:9,14). Hierdie wetgewing het nou ingehou dat alle aspekte van swart ekonomiese bedrywighede, insluitende die boerderybedryf, beheer en gereguleer kon word (Richter 1975:18). Sedert 1948 het die regering op grond van die 1936-wetgewing die gesag en infrastruktuur binne die land so geïnstitusionaliseer dat dit die oogmerke van segregasie moes bevorder (Suid-Afrika 1994:19-20). Met die oog hierop is mense verder hervestig in tuislande soos die Transkei, Venda, Ciskei en Bophuthatswana (Boyle 2001:675). Die tuislande was egter in die meeste gevalle oorbevolk, onderontwikkeld en nie geskik vir landbouproduksie of selfs bestaansboerderye nie. Verder was daar 'n gebrek aan infrastruktuur wat volhoubare ontwikkeling gestrem het.

Ook binnelandse nasionale en internasionale investeringsinisiatiewe het ontbreek (Lahiff 2003:1-6). Benewens die realiteit dat mense hulle eiendom en persoonlike waardigheid verloor het, is hulle tradisionele bestaanswyse en oorlewingsmetodes ook vernietig. Grondonteiening het dus nie net mense se menswaardigheid aangetas nie maar ook gelei tot 'n verlies aan inkomste met gevolglike onderontwikkeling en armoede.

Bogenoemde gebeurtenisse het daartoe gelei dat die ongelyke toegang tot ekonomiese en sosiale hulpbronne tussen wit en swart verder geïnstitusionaliseer is. Die geïnstitusionaliseerde vorme van grondbesit het beteken dat swart Suid-Afrikaners blootgestel is aan 'n kettingreaksie van agteruitgang en onderontwikkeling wat gepaardgegaan het met die uitbreiding en formalisering van die apartheidstelsel (Xulu & Maharaj 2004:48-57).

In wese was die grondwetgewing sedert 1913 dus so gestruktureer dat die grootste gedeelte van alle bewerkbare grond in blanke besit moes bly (Kostiv 2008:7). Die stigting van die ANC in 1912 was dan ook, soos genoem, 'n direkte reaksie teen die destydse Suid-Afrikaanse regering se wette rakende grondbesit wat in effek gerig was op die skeiding tussen wit en swart mense (Walshe 1987:31). Sedert die stigting van die ANC was grondherverdeling reeds vir die organisasie 'n transformasieprioriteit. Om hierdie rede stel die ANC se Vryheidsmanifes van 1955 dit dus duidelik dat alle grond herverdeel moet word onder diegene wat dit bewerk het (Qalam & Lumet 2012:1).

 

KONKRETE VORDERING EN BESTAANDE KONTRASTERENDE PERSEPSIES TEN OPSIGTE VAN GRONDHERVERDELING

In sekere opsigte kan die Suid-Afrikaanse grondhervormingsproses, sedert 1994, wel gedeeltelik as suksesvol beskryf word. Wat betref beleidsimplementering is byvoorbeeld formele beleidsriglyne, wetgewing, strukture en prosesse gevestig waardeur grondeise ingedien kan word, herverdeling kan geskied, sekuriteit van verblyf beding kan word of grond aan oorspronklike eienaars teruggegee kan word (Boyle 2001:694-695).

Ondanks bogenoemde gedeeltelike suksesse was en is die regering se gematigde beleids- en -implementeringsbenadering egter gekenmerk deur uitgerekte diskussies, administratiewe oponthoude sowel as voortslepende hofsake. Die praktiese uitkoms was dat die pas waarteen grondherverdeling sedert 1994 plaasgevind het as uiters traag en selfs as oneffektief beskryf kan word.

Daar is egter ook uiteenlopende opinies oor hoeveel grond nou werklik al verdeel is, en watter omvang dit aanneem en aangeneem het. Du Preez (2017) is byvoorbeeld van mening dat minder as sestig persent van alle bewerkbare landbougrond steeds in die besit van blanke boere is. Volgens Nel (2017:4) is daar talle voorbeelde van plase wat op 'n onregmatige wyse toegeken is aan sogenaamde "naweekboere" wat nie noodwendig daarvoor kwalifiseer nie. Die Demographic Information Group and Population of SA beweer dat een kwart van alle grond in besit van munisipaliteite is (Van Staden 2017). Lahiff en Li (2012:9) maak die stelling dat daar nie akkurate statistieke bestaan oor die geografiese verspreiding van verdeelde grond, die soort grond wat aangekoop is en oor die soort projekte wat aangepak is nie. Oor die finansiering wat vir die aankoop van grond gebruik is, is daar ewemin duidelikheid. Groenewald (2014) beweer dat tot sewentig persent van alle bewerkbare grond in die besit van kommersiële boere is. Dit is onduidelik hoeveel van hierdie kommersiële boere swart is.

Ondanks bogenoemde onsekerheid word daar vir die doeleindes van die artikel gefokus op die regeringspersepsie rakende die eienaarskap van grond, en stand van grondherverdeling in SA. Dit is per slot van sake hierdie persepsie wat as dryfveer dien vir die wegbeweeg van gematigdheid na 'n ontvouende radikale regeringsbenadering.

Daar word beraam dat daar sewe-en-tagtig miljoen hektaar bewerkbare landbougrond in SA is. Alhoewel daar oënskynlik nie betroubare statistieke is nie, is daar wye konsensus dat die meerderheid van alle bewerkbare landbougrond steeds deur kommersiële boere besit word. Die aanvanklike post-1994- grondherverdelingsdoel was dat ses-en-twintig miljoen hektaar landbougrond teen 2014 herverdeel moes wees. Dit verteenwoordig dertig persent van alle landbougrond. Tot op hede is slegs agt miljoen hektaar daarvan verdeel. Dit verteenwoordig sewe-en-twintig persent van die 2014-doelwit en ʼn skrale sewe persent van die totale herverdelingsdoelwit. Daar is ook genoegsame bewyse dat die lewensgehalte van baie begunstigdes van grondherverdeling nie werklik verbeter het nie. Cousins en Aliber (2013) meen ook dat begunstigdes tot dusver blootgestel is aan onwerkbare projekontwerpe en landboumodelle. Die doelwit van produktiewe grondgebruik en effektiewe armoedeverligting is dus nie bereik nie. Teen die agtergrond van die breë transformasiedruk wat daar tans op die regering is, en die genoemde trae pas van grondherverdeling is daar 'n denkskuif vanaf gematigdheid na radikalisme in terme van die beleids- en -implementeringstrategieë van die regering sigbaar. In praktiese terme beteken dit dat die pas van grondherverdeling in die komende jare dramaties gaan versnel (Brown & Van Rensburg 2017). Hierdie neiging is ook opmerklik in onlangse uitsprake deur politieke leiers en bewegings soos mnr. Julius Malema, pres. Jacob Zuma, die ANC-Jeugliga, die ANC-Vroueliga en andere.

 

GRONDHERVERDELING EN DIE AANLOOP TOT DIE WEGBEWEEG VAN GEMATIGDHEID NA RADIKALISME

Die onmiddellike tydperk na die Koue-Oorlog is gekenmerk deur internasionale optimisme rakende die ontwikkelingsvooruitsigte vir veral ontwikkelende state. Daar is geglo dat liberaal-demokratiese ontwikkeling nou kon voortgaan in die afwesigheid van ideologiese motiewe gekombineerd met minimale staatsinmenging in die sosio-ekonomiese strukture van ontwikkelende state (Manuel 2003:18). Hierdie beleidstrategie het dan ook neerslag gevind in die postapartheid gematigde (neo-liberale) grondherverdelingsbeleid van die SA regering.

Die mislukking van strukturele aanpassingsprogramme (SAPs) en ontwikkelingsinisiatiewe sowel as 'n eskalerende skuldlas, in veral Subsahara Afrika gedurende die 1990s, het egter globaal 'n demper op die optimistiese benadering van die Washington-konsensus geplaas. Binne ontwikkelende state is daar toenemend tot die besef gekom dat "vryemarkfundamentalisme" in die vorm van die Washington-konsensus nie toereikend is om ontwikkeling in veral ontwikkelende state te stimuleer nie (Manuel 2003:18). In hierdie verband het baie ontwikkelende state stelselmatig begin wegbeweeg van minimale staatsinmenging in die ekonomie na 'n beleid van konstruktiewe staatsinmenging.

Die wegbeweeg van gematigdheid in die SA grondherverdelingsbenadering het dus ook globale oorsake en is nie iets wat slegs intern gedrewe is nie. Teen die agtergrond van bogenoemde internasionale gebeure het die voormalige president, Thabo Mbeki, hom reeds in sy staatsrede van 2006 uitgespreek ten gunste van 'n meer sentrale regeringsrol in die grondherverdelingproses sowel as die hersiening van die gewillige-koper-verkoper beginsel (Mbeki 2006). In die aanloop tot die 2011 nasionale verkiesing het pres. Jacob Zuma byvoorbeeld aangedui dat landelike ontwikkeling en grondherverdeling een van die regering se vyf sleutelprioriteite is (Zuma 2016; en Brown & Van Rensburg 2017).

 

DIE ONTVOUING VAN 'N MEER POPULISTIESE BENADERING

Die Suid-Afrikaanse Grondwet stel dit duidelik dat grond wel onteien mag word. Dit is egter onderhewig aan die volgende vereistes (Suid-Afrika 1996:13):

Dit moet in die openbare belang wees en vir 'n openbare doel aangewend word; en

Vergoeding, bedrag en tyd van betaling moet aanvaar word deur diegene wat geraak word, of die vergoeding moet deur 'n hof vasgestel, of goedgekeur word.

Teen die agtergrond van die erosie van die beginsels van die Washington-konsensus sedert die 1990s is die regering genoop om met verloop van tyd ʼn meer radikale en populistiese benadering te volg. Vanweë die trae pas van grondhervorming in kombinasie met internasionale gebeure het die regering geleidelik onder druk gekom om sekere sleutelinisiatiewe te neem om die proses te wysig en spesifiek herverdeling te versnel naamlik:

a) In terme van wysiging 48 van 2003 van die Wet op Restitusie van Grondregte van 1994 het die Minister van Grondsake ook die bevoegdheid om grond sonder 'n lasbrief te onteien indien die proses onnodiglik vertraag word (Suid-Afrika 2003). Bogenoemde bepalings beteken dat die betrokke minister reeds die gesag het om in ekstreme gevalle grond sonder vergoeding te onteien tot voordeel van die eiser; en

b) Tydens die 2005 NASREC Grondberaad (Suid-Afrika 2007:13-15) is daar konsensus bereik dat beperkings geplaas moet word op die vryemarkbenadering. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal byvoorbeeld dat vergoeding aan huidige grondeienaars wat in terme van die grondherverdelingsprogram onteien word, nie noodwendig markverwant hoef te wees nie. Soos genoem, kan 'n hof bepaal watter bedrag aanvaarbaar en billik is.

Bogenoemde twee inisiatiewe sou as rigtinggewende aanwyser dien vir die verdere ontvouing van kontemporêre beskouings rakende grondherverdeling in SA. Toekomstige inisiatiewe sou dan hoofsaaklik sentreer rondom hersiene voorwaardes vir onteiening en die herbesinning oor die relevansie van die gewillige-koper-verkoperbeginsel.

 

GRONDHERVERDELING AS 'N SLEUTELTRANSFORMASIEPRIORITEIT EN DIE ONTVOUENDE FORMAAT VAN RADIKALISME

Meer as honderd jaar na die stigting van die ANC bestaan die persepsie binne regeringskringe steeds dat sewe-en-tagtig-persent van alle bewerkbare landbougrond nog steeds, soos genoem, in besit van blanke boere is. Hierdie opvatting bestaan steeds ondanks die pro-aktiewe grondherverdelingsprogram wat sedert 1994 in plek gestel is.

Die toenemende dringendheid van grondherverdeling word bevestig in hoofstuk 6 van die 2009 Nasionale Ontwikkelingsplan (Suid-Afrika 2009). Hier word dit uitgestippel dat Suid-Afrikaanse landelike gemeenskappe beter geïntegreer moet word in die ekonomie. Daar word klem gelê op grondherverdeling, werkskepping en armoedeverligting as instrumente tot bemagtiging (Suid-Afrika 2009 en Suid-Afrika 2011). Kortom die lewenskwaliteit van mense moet dus ook daadwerklik verbeter. Ondanks bogenoemde maatreëls en beleidsoogmerke bestaan die persepsie egter steeds dat grondherverdeling in SA in vele opsigte nie aan die verwagtinge van die breë bevolking voldoen nie. Vanuit ʼn regeringsperspektief is dit te wyte aan die volgende faktore (ANC 2012b):

Die vestiging van die "gewillige-koper-verkoper-beginsel" wat op kapitalistiese beginsels gebaseer is en sodoende die grondverdelingsproses duur maak en vertraag; en

Die gebrek aan armoedeverligting in veral landelike gebiede. Met ander woorde die gebrek aan volhoubare ontwikkeling nadat grond toegeken of teruggegee is.

Teen die agtergrond van die belangrikheid van grond en afwesigheid van vordering met grondherverdeling is dit dan ook verstaanbaar dat 'n radikale oplossing vir die grondkwessie ʼn gegewe geword het. Met betrekking tot kontemporêre grondhervorming gaan sosio-ekonomiese transformasie dus steeds oor die herverdeling van bewerkbare landbougrond wat nog steeds nie plaasgevind het nie (Changuion 2012:559). Om hierdie rede is grondherverdeling 'n sleutel en emosionele transformasieprioriteit vir die ANC en die regering. Hierdie gegewe is ook beklemtoon tydens pres. Zuma se staatsrede van Februarie 2016. In sy staatsrede van 2017 het hy dit ook benadruk dat die regering die pas van radikale sosio-ekonomiese hervorming gaan versnel. Dit sal spesifiek gedoen word om bestaande vorme van rasgebaseerde eienaarskap van die ekonomie te beëindig. Daar sal ook gefokus word op die herverdeling van grond in plaas van finansiële vergoeding aan begunstigdes (Zuma 2017). Ook in die begrotingsrede (2017) van die voormalige Minister van Finansies, Pravin Gordan (Gordan 2017), is radikale sosio-ekonomiese transformasie ook gekoppel aan eiendomsbesit en 'n dringendheid om grondherverdeling te versnel. In effek is grondherverdeling weereens uitgewys as 'n belangrike faktor in die strewe na sosio-ekonomiese gelykheid en versoening in SA. Die presiese aard, inhoud en omvang van hierdie radikale grondherverdelingsbenadering is egter, soos genoem, nog vaag (Brown & Van Rensburg 2017). Daar is dus nog nie werlik uitgewei oor hoe hierdie radikale benadering prakties gaan realiseer nie. Daar is wel enkele elemente identifiseerbaar wat in die toekoms as sleuteldryfveer vir voortgesette radikale grondherverdeling sal dien. Hierdie elemente word vervolgens opgesom.

Die opbou en invloed van antikoloniale sentiment rakende grondherverdeling

Die Groenskrif vir Grondhervorming verbind grondbesit in SA met kolonialisme en stel dit duidelik dat 'n meer radikale regeringsbenadering tot grondherverdeling op die kort termyn in die vooruitsig gestel moet word (Suid-Afrika 2011). In die Groenskrif beklemtoon die SA regering die rol wat die herstel van grondregte vertolk in die herstel van wanbalanse tussen rasse-, geslag- en klasongelykhede. Hierdie radikale en versnelde benadering word vervat in die antikoloniale trant van die Groenskrif (Suid-Afrika 2011):

Alle antikoloniale stryde/konflikte draai, in wese, rondom twee dinge: om grond wat onder dwang of bedrieglike wyse verloor is terug te neem, en om die sentrale rol van die inheemse kulture te bevestig

Die noodsaak van ʼn radikale benadering tot grondherverdeling is herbevestig tydens die ANC se beleidskonferensie in 2012 en is soos volg verwoord (ANC 2012a):

Land reform must represent a radical and rapid break from the past without significantly disrupting production and food security

In aansluiting hierby is Heydenrych (2012:492-493) van mening dat SA as ʼn tipiese konstitusionele staat steeds binne Westerse waardes opereer wat inderwaarheid koloniale oorblyfsels is. Dit is dan juis die Westerse beginsels van byvoorbeeld gewillige-koper-verkoper, private eiendomsreg en die rule of law binne die Afrikakonteks en meer spesifiek SA wat ontwikkeling kompliseer en vertraag. Volgens Heydenrych moet daar wegbeweeg word van tradisionele Westerse beginsels (soos die gewillige-koper-verkoper-beginsel) aangesien dit nog deel is van die nalatenskap van kolonialisme. ʼn Meer radikale benadering tot die problematiek van grondherverdeling, met 'n antikoloniale sentiment as onderbou, word derhalwe in die vooruitsig gestel ten einde 'n regverdige bestel en versoening te bevorder.

Die invloed van ubuntu op grondherverdelingsoogmerke

Alles dui daarop dat die regering deur ʼn gewysigde beleids- en implementeringsbenadering die proses van grondherverdeling gaan versnel. In aansluiting by die antikoloniale sentiment is dit duidelik dat die gedagtegang van ubuntu 'n wesentlike impak op hierdie beleidsformulering sal hê. Voorts vorm die oogmerke van ubuntu die fondasie van grondherverdelingsdoelstellings. Dit word soos volg in die Groenskrif vir Grondhervorming (Suid-Aftika 2011) verwoord:

Dit (ubuntu) is 'n oorkoepelende lewenswyse van die Afrikamense wat onafskeidbaar aan grond gekoppel is. Enige poging om ubuntu te herstel sonder om terselfdertyd grond terug te gee, sou nutteloos wees

Nussbaum (2003) beskou ubuntu as 'n kollektiewe lewenswyse en gedragskode wat geanker is in die Afrikakultuur. Dit gaan oor die respektering van die waardigheid van alle individue wat betrokke is by die ontwikkeling, handhawing en uitbouing van menslike interaksie en verhoudings. Volgens Dandala (in Nussbaum 2003:2) is die beginsel van ubuntu gebou op menslike interafhanklikheid. Daar bestaan egter nie 'n spesifieke metodologiese prosedure vir die implementering van ubuntu nie. Dit is eerder 'n spesifieke optimistiese denkwyse, lewenswyse of kultuur wat menslike interaksie en verhoudings binne sosiale, gemeenskaplike en korporatiewe omgewings moet rig en lei. Sindane en Liebenberg (2000:38) beskryf ubuntu weer as:

A humanistic experience of treating all people with respect, granting them their human dignity.

It is a way of life that sustains the wellbeing of a people/community/society.

'n Bekende voorbeeld van ubuntu ter bevordering van ontwikkeling was Nelson Mandela se besluit om een derde van sy salaris aan die Nelson Mandela-kinderfonds te skenk (Nussbaum 2003). Dit is dus 'n optimistiese denkwyse wat staatmaak op die goedheid van die mens. Dit is dan ook hierdie optimistiese denkwyse wat vanuit 'n beleidmatige hoek 'n invloed sal hê op die beantwoording van die volgende kritieke vrae (Cousins 2016):

Hoe lank moet grondherverdeling nog voortduur?

Hoeveel grond moet nog herverdeel word?

Watter voorwaardes moet aan onteiening gekoppel word? en

Hoe moet voedselsekerheid verseker word?

Teen bogenoemde beredeneringsagtergrond is dit duidelik dat die ondertoon van antikoloniale sentiment gepaard met die ideale van ubuntu 'n belangrike motiveringsfaktor in grondherverdeling sal bly.

Grondherverdeling as ruimte vir politieke wedywering

Binne enige demokratiese politieke bestel word regeerders deur geregistreerde kiesers verkies. Dit beteken dat regeerders verkies word op grond van gemeenskaplike doelwitte wat nagestreef word namens die kiesers. Regeerders word dan ook bemagtig om besluite te neem en op te tree ten einde hierdie gemeenskaplike doelwitte te bereik (Ranney 1987:23). Soos aangedui, blyk dit dat grondhervorming oneffektief is weens die trae pas van herverdeling. Dit beteken dat daar steeds meer druk is op die regering om die pas van grondherverdeling te versnel ten einde gestelde doelwitte te bereik. Heydenrych (2012:593-594) is van mening dat grond juis om hierdie rede ʼn sogenaamde ruimte vir politieke wedywering en stryd in SA geword het. In aansluiting hierby bevestig Joubert (2012:593-594) dat die grondkwessie ʼn emosionele kwessie is en tussen 2004 en 2011 na die middelpunt van die Suid-Afrikaanse politieke landskap beweeg het. Vanuit partypolitieke kringe word daar ook steeds meer druk op die regering geplaas om die pas van grondherverdeling te versnel. Tydens die bekendstelling van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se verkiesingsmanifes op 30 April 2016 het die party byvoorbeeld geëis dat tagtig persent van alle grond, sonder vergoeding, aan voorheen benadeeldes oorgedra moet word (Eybers 2016:6). Die Demokratiese Alliansie (DA) fokus weer op voedselsekerheid en die opbou van effektiewe regeringstrukture. In terme van grondherverdeling is die party voorstanders van samewerking tussen die regering, landbousektor, privaat sektor en begunstigdes. Hierdie samewerking moet tot voordeel van alle Suid-Afrikaners strek en moet plaasvind binne die raamwerk van liberale doelstellings (vryemarkbeginsels en demokratiese waardes) (DA 2013). In effek is politieke partye toenemend besig om die grondkwessie te gebruik ten einde hulle steun by die stembus te verhoog. Vanuit ʼn regeringsperspektief speel grondherverdeling dus steeds ʼn sleutelrol in die herrangskikking van die Suid-Afrikaanse politieke, ekonomiese en sosiale landskap.

Die afname in ANC kiesersteun as dryfveer agter algemene radikale sosio-ekonomiese transformasie

Binne die Suid-Afrikaanse konteks gaan transformasie spesifiek oor die wegbeweeg van die apartheidsbedeling (punt A) na 'n allesinsluitende sosio-ekonomiese demokratiese bestel (punt B). Gedurende die afgelope aantal jare is die transformerende Suid-Afrikaanse politieke landskap egter gekenmerk deur kritiek vanuit die samelewing teen die regerende party en politiek-ekonomiese onstabiliteit (ISS 2016). Hierdie onstabiliteit het gepaardgegaan met wydverspreide protesaksies saam met geweld en selfs lewensverlies. Baie protesaksies is aangevuur deur veronderstelde swak dienslewering, aantygings van korrupsie en die algemene persepsie onder die Suid-Afrikaanse bevolking dat sosio-ekonomiese transformasie te traag is, en nie die gewenste resultate lewer nie (ISS 2016). Afgesien van protes teen trae grondherverdeling hou prominente brandpunte byvoorbeeld verband met aspekte soos onvoldoende swart ekonomiese bemagtiging, onrus op die myne, onderwys, taalregte, behuising, sport, water, sanitasie, kragvoorsiening, openbare vervoer ensovoorts.

Sedert 1999 het bogenoemde neigings terselfdertyd gepaardgegaan met 'n merkbare afname in kiesersondersteuning vir die regerende ANC. In hierdie verband is steun afgestaan aan beide die linker- en regterkant van die politieke spektrum. Op nasionale vlak staan die regerende party se steun tans op twee-en-sestig persent. Op plaaslike vlak het hierdie steun verder gedaal na afloop van die 2016 plaaslike verkiesing tot rondom vier-en-vyftig persent (Mahr & Pilling 2016). Teen hierdie agtergrond kan met reg gesê word dat die Suid-Afrikaanse regering onder toenemende politieke druk verkeer om sosio-ekonomiese transformasie te versnel en om dienslewering aan die bevolking binne alle sfere van die samelewing daadwerklik te verbeter. Dit is dan radikale sosio-ekonomiese transformasie op alle terreine met die klem op grondherverdeling. Laasgenoemde kan dan inderwaarheid aangewend word as 'n poging deur die ANC om die ooglopende daling in kiesersteun te stuit en terselfdertyd kiesersteun te verhoog met die oog op die 2019 algemene verkiesing.

Die ewolusionêre erosie van die vryemarkstelsel as onderbou tot grondherverdeling in SA

Die eerste stap in grondherverdeling was die onmiddellike afskaffing van die destydse diskriminerende wette wat bepaal het wie grond mag besit en hoe dit gebruik mag word. In effek het dit beteken dat voorheen benadeelde indiwidue en gemeenskappe in landelike gebiede, na 1994, nou ook toegang tot grond deur middel van vryemarkpraktyke verkry het. Met ander woorde indiwidue en gemeenskappe is sodanig bemagtig dat hulle nou na willekeur grond kon koop, verkoop en gebruik ingevolge liberale vryemarkbeginsels (De Villiers 2003:45). Tydens die apartheidsjare is baie mense blootgestel aan byvoorbeeld gedwonge verskuiwings, swak dienslewering, algemene onderontwikkeling en armoede. Die realiteit was en is dat die meerderheid mense wat veral in landelike gebiede gewoon het, en nog steeds woon, nie oor die koopkrag beskik om grond ingevolge vryemarkbeginsels te bekom nie. Diegene wat wel grond kon aankoop, het in vele gevalle nie oor die tegniese (landbou) kundigheid en geldelike vermoë beskik om grond op ʼn volhoubare wyse te benut nie (Xulu & Maharaj 2004:48-57). Teen bogenoemde agtergrond stel May (2000:21-24) dit dat die blote skrapping van apartheidswetgewing in kombinasie met die vryemarkstelsel nie sou verseker dat voorheen benadeelde gemeenskappe en indiwidue toegang tot grond sou kry of bemagtig word nie. Hierdie gegewe word soos volg verder verwoord in die regering se 1994 Heropbou en Ontwikkelingsprogram (Suid-Afrika 1994:19-20).

The abolition of the Land Acts cannot redress inequities in land distribution. Only a tiny minority of black people can afford land on the free market.

Binne regeringskringe is dit derhalwe aanvaar dat die blote afskaffing van wette onvoldoende was en dat ʼn meer pro-aktiewe grondherverdelingsbenadering gevolg moet word. Binne die transformerende Suid-Afrikaanse konteks veronderstel pro-aktief dat daar wegbeweeg word van minimale staatsbetrokkenheid soos voorgeskryf deur die Wêreldbank na staatsintervensie wat weer die erosie van die Washington-konsensus weerspieël (Meyer & Van der Elst 2014: 75-79). Met ander woorde, die staat is nie slegs meer ʼn fasiliteerder van grondherverdeling nie maar is verantwoordelik vir beleidsformulering sowel as die implementering daarvan. Hierdie proses moet spesifiek gerig word op voorheen benadeelde indiwidue en gemeenskappe ten einde die nalatenskap van apartheid effektief uit te wis. Hierdie pro-aktiewe benadering word dan ook soos volg verwoord in die regering se 1994 HOP (Suid-Afrika 1994:19-20):

The RDP must implement a fundamental land reform programme. This programme must be demand-driven and must aim to supply residential and productive land to the poorest section of the rural population and aspirant farmers.

Ter erkenning van die voorafgaande aannames gee artikel 25 (1-9) van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Suid-Afrika 1996:13-14) ʼn duidelike mandaat aan die post-apartheidsregering om ʼn pro-aktiewe grondherverdelingsprogram, met spesifieke doelwitte te formuleer en te implementeer, ten einde die ongelykhede van die verlede reg te stel. Hierdie program moet gefokus word rondom die teruggee van grond aan voorheen benadeeldes asook die bemagtiging van diegene wat grond ontvang het. Grond moet dus nie net teruggegee of herverdeel word nie. Mense moet ook bemagtig word om grond te benut.

Die bekragtiging van die voorgestelde 2015 wetsontwerp op grondonteiening en die reg op privaat besit

Om eiendom te besit, is die hoeksteen van enige demokrasie en vryemarkekonomie. Binne demokratiese bedelings is dit egter internasionaal geregverdig om voorsiening te maak vir die onteiening van grond deur die regering onder sekere omstandighede. In terme van die beleidsriglyne van die artikel 25 van die SA Grondwet (Suid-Afrika 1996:13) kan onteiening plaasvind indien dit vir ʼn openbare doel aangewend moet word, of in openbare belang is. Onteiening van grond in SA vind egter tans steeds plaas ingevolge die bepalings van die 1975-wet (Suid-Afrika 1975). Hierdie wetgewing bepaal dat eiendom slegs vir 'n openbare doel onteien mag word. Hier gaan dit spesifiek oor byvoorbeeld die bou van paaie, infrastrukturele ontwikkeling, kraglyne en ander vorme van ontwikkeling wat onder openbare doeleindes ressorteer. Inderwaarheid word die 1975-wet beskou as verouderd aangesien dit die regering se reg tot onteiening beperk en in effek openbare belang negeer. Die voorgestelde 2008-wysigingswetsontwerp vir onteiening soos geïnisieer deur pres. Thabo Mbeki was gerig op die bevordering van openbare belang, en dus in effek ʼn opgradering van die 1975-wet, asook ʼn belyning met die grondwet (Jeffrey 2013). Die doel van die voorgestelde 2008-wetsontwerp was om die magte van die howe te beperk tydens die onteienings- en vergoedingsproses. Dit het egter hewige kritiek ontlok vanuit opposisiekringe en investeerders en is derhalwe onttrek (Steward 2016).

Die 2015-konsepwetsontwerp word allerweë beskou as 'n verbetering op die 2008-weergawe en is reeds goedgekeur deur die Nasionale Vergadering van die Parlement. Dit moet nog deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur word alvorens dit deur die president bekragtig kan word (Jeffrey 2016). Samevattend word redes vir onteiening nou gekoppel aan die dringendheid van sosio-ekonomiese transformasie soos vervat in die HOP. Die konsepwet is dus in effek ʼn reaksie op die trae pas van grondherverdeling. Ingevolge die nuwe voorstelle kan grond nou ook onteien word indien dit in openbare belang is. Dit strek dus verder as slegs openbare doeleindes (Steward 2016). Openbare belang sinspeel op aangeleenthede wat in die belang van die bevolking as geheel is. In hierdie geval gaan dit spesifiek oor grondherverdelingsoogmerke. ʼn Sleutelaspek van die konsepwet is egter om alle landbougrond so gou moontlik onder voogdyskap van die staat te plaas (Genis 2015; en Steward 2016). In klousule 3.2 van die 2015-konsepwetsontwerp op die bewaring en ontwikkeling van landbougrond word voogdyskap soos volg gedefinieer (Suid-Afrika 2015):

As the Custodians of the nation's agricultural land, the Department, acting through the Minister, Intergovernmental Committee or MEC's, concerned or as the case may be, may approve, reject, control, administer and manage any rezoning or subdivision of agricultural land

Volgens Jeffrey (2015) bedreig die konsepwetgewing op onteiening om hierdie rede die reg op privaat besit soos vervat in artikel 25 van die Grondwet. Pogings om landbougrond onder voogdyskap van die staat te plaas, is soortgelyk aan die bepalings van die 2002 Petroleum Hulpbronne-ontwikkelingswet. Ingevolge hierdie wet behoort alle minerale in die land aan die bevolking. Hiervolgens word die staat aangestel as voog oor alle minerale hulpbronne in die land. Die staat het dus die reg om minerale te administreer, te beheer en te bestuur in nasionale belang (Van der Schyf 2005:131). Met verwysing na voogdyskap is dit dan ook die oogmerk met die toekomstige formaat van grondbesit indien die wysigingswetsontwerp finaal goedgekeur en aanvaar word.

 

SAMEVATTING

Teen die agtergrond van die kabinetskommelinge van Maart 2017 en hernieude oproepe tot veral radikale sosio-ekonomiese transformasie is dit onseker wat die formaat, effek en uiteinde van grondherverdeling in SA sal wees. Na afloop van die plaaslike verkiesings van 2016 het dit egter duidelik geword dat daar ʼn verskuiwing binne die politieke magsbalans in SA besig is om plaas te vind. Die afname in kiesersvertroue in die aanloop tot die nasionale verkiesing van 2019, en die formaat en omvang van bogenoemde magsverskuiwing sal uiteraard die beleids- en implementeringsriglyne van die regering beïnvloed. Enersyds is die radikalisering van grondherverdeling 'n poging om te voldoen aan die 1912-stigtingsbeloftes van die ANC maar andersyds is dit ook 'n poging om verlore kiesersteun te herwin en uit te bou.

Inderwaarheid kan met reg gesê word dat grondherverdeling in SA in snelrat geplaas is. Hier is dus sprake van ʼn kwantumsprong wat daarop gerig is om die formaat van grondbesit en die gebruik daarvan drasties, op die kort termyn, te verander. Ondanks die veronderstelde radikale regeringsdenkskuif tot grondherverdeling bly artikel 25 van die SA Grondwet egter steeds van krag. In effek beteken dit dat die reg tot die privaat besit van eiendom steeds beskerm word. Geen grond mag dus aangekoop of onteien word sonder deeglike konsultasie nie (Van Wyk 2015:2-3). Grondbesitters kan hulle nog steeds beroep op artikel 25 van die Grondwet indien daar sprake is van onreëlmatighede of onbillikheid. Vanuit 'n beleidmatige oogpunt sal die volgende elemente egter in die toekoms deurslaggewend wees vir die aard en formaat van grondherverdeling:

a) Antikoloniale sentiment;

b) Die gees van ubuntu;

c) Politieke wedywering;

d) Verskuiwing in kiesersteun;

e) Wysiging van onteieningswette en privaat besit; asook

f) Die erosie van die vryemarkstelsel as meganisme vir grondherverdeling.

Ten slotte kan die stelling met reg gemaak word dat daar 'n sterk moontlikheid bestaan dat die voortgesette radikalisering van grondherverdeling uiteindelik gepaard kan gaan met die wysiging, aanpassing of selfs skrapping van spesifiek artikel 25 van die Grondwet.

 

BIBLIOGRAFIE

ANC. 2012a. Recommendations from the 4th national policy conference, Junie. http://www.anc.org.za/docs/pol/2012/policy_conferencev.pdf [12 Mei 2016].         [ Links ]

ANC. 2012b. ANC conference resolution on economic transformation http://www.politicsweb.co.za/party/anc-conference-resolution-on-economic-transformation [13 Augustus 2016].         [ Links ]

Boyle, H. 2001. The land problem: What does the future hold for for South Africa's land reform programme. Indiana international & comparative law review, 11.         [ Links ]

Brown, J. & Van Rensburg, D. 2017. http://www.fin24.com/Economy/South-Africa/how-radical-will-zuma-really-be-20170210 [17 Feb 2017].         [ Links ]

Cambridge woordeboek. 2017. Radicalism. http://dictionary.cambridge.org/dictionary/english/radical [17 April 2017].         [ Links ]

Changuion, L. 2012. Die Suid-Afrikaanse grondvraagstuk - Is daar 'n oplossing? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52(4):552-565. Desember.         [ Links ]

Cousins, B. 2016. Land reform in South Africa is sinking. Can it be saved? https://www.nelsonmandela.org/uploads/files/Land__law_and_leadership_-paper_2.pdf [25 April 2017].         [ Links ]

Cousins, B. & Aliber, M. 2013. Unworkable land reform project designs offer inappropriate farming models to rural dwellers. http://www.plaas.org.za/blog/unworkable-land-reform-project-designs-offer-inappropriate-farming-models-rural-dwellers#sthash.BFaGLP5n.dpuf [12 Mei 2016].         [ Links ]

DA. 2013.DA policy on land reform. http://www.da.org.za/wp-content/uploads/2014/01/Land-Reform1.pdf [10 Februarie 2017].         [ Links ]

Davies, R. 2014. What we mean by radical economic transformation. http://www.politicsweb.co.za/documents/what-we-mean-by-radical-economic-transformation--r [24 Maart 2016].         [ Links ]

Deininger, K. 1999. Making negotiated land reform work: Initial experience from Colombia, Brazil and South Africa. http://web.worldbank.org/archive/website01066/WEB/IMAGES/11351332.PDF [21 April 2016].         [ Links ]

De Villiers, B. 2003. Land reform issues and challenges: A comparative overview of experiences in Zimbabwe, Namibia, South Africa and Australia. Johannesburg: Konrad Adenauer stigting.         [ Links ]

Driver, T. 2007. South African land reform and the global development industry. African studies quaterly, 9(4):67, Herfs.         [ Links ]

Du Preez, M. 2017. Stop the alternative facts about land reform. http://www.news24.com/Columnists/MaxduPreez/stop-the-alternative-facts-about-land-reform-20170221[24 Februarie].         [ Links ]

Duvenhage, A. 2009. Die ANC en die nasionale demokratiese rewolusie: Polities strategiese perspektiewe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4) Desember.         [ Links ]

Eybers, J. 2016. Malema praat na sy kiesers se hart, Rapport: 6, 1 Mei.         [ Links ]

Genis, A. 2015. Nuus: Grondhervorming: Meer tyd vir kommentaar op voogdskap-wet. https://www.google.co.za/?gfe_rd=cr&ei=KZ81V9eZO4ap8weiwo3ADQ#q =konsep+bewaring+en+ontwikkeling+van+landbougrond+wet [17 Maart 2015].         [ Links ]

Gordan, P. 2017. Minister Pravin Gordan: 2017 budget speech. http://www.gov.za/SPEECHES/MINISTER-PRAVIN-GORDHAN-2017-BUDGET-SPEECH-22-FEB-2017-0000 [17 April 2017].         [ Links ]

Groenewald, Y. 2014. Who owns the land. http://city-press.news24.com/News/Who-owns-the-land-Ownership-by-numbers-20150503 [17 Feb 2017].         [ Links ]

Heydenrych, P.W. 2012. Grond as ruimte van politieke stryd in Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52(4):492-493, Desember.         [ Links ]

ISS. 2016. ISS: Desperate and divided - South Africa has had enough. http://www.defenceweb.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=42281:iss-desperate-and-divided-south-africa-has-had-enough&catid=49:National%20Security&Itemid=115 [27 April 2017].         [ Links ]

Jeffery, A. Flaws in the current expropriation bill. http://www.bdlive.co.za/national/law/2013/06/27/business-day-tv-flaws-in-the-current-expropriation-bill [5 Mei 2016].         [ Links ]

Jeffrey, A. 2015. Encouraging expropriation. https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2015-03-03-encouraging-expropriation/#.WQBRatyxWUk [27 April 2017].         [ Links ]

Joubert, J.J. 2012. Die demokratiese puberteit, 2004-2011. (In Pretorius, F.J. ed. 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 593-594.         [ Links ]

Kostiv, P. 2008. The progress of land reform in South Africa: Two case studies for Kwazulu-Natal. UKZN (mini verhandeling M.A.) 106.         [ Links ]

Lahiff, E. 2003. Land reform and sustainable livelihoods in South Africa's Eastern Cape Province. Brighten: Institute of development studies.         [ Links ]

Lahiff, E., Li. G. 2012. Land redistribution in South Africa: A critical review http://documents.worldbank.org/curated/en/525981468302460916/pdf/ 808740WP0South0ox0379822B00PUBLIC0.pdf [21 Julie 2016].         [ Links ]

Mahr, K. & Pilling, D. 2016. South Africa's ANC suffers worst election result since end of apartheid. https://www.ft.com/content/a4d6f4c2-5a03-11e6-9f70-badea1b336d4 [13 Oktober 2016].         [ Links ]

Malan, T. & Hattingh, P.S. Swart tuislande in Suid-Afrika. Pretoria: Afrika instituut van Suid-Afrika.         [ Links ]

May, J. 2000. The structure and composition of rural poverty and livelihoods in South Africa (in Cousins, B. At the crossroads: land and agrarian reform in South Africa into the 21st century) Kaapstad: PLAAS.         [ Links ]

Manuel, T. 2003. Africa and the Washington consensus. Finance and development: 18, Sept.         [ Links ]

Marangos, J. 2009. What happened to the Washington consensus? The evolution of international development policy. The journal of socio-economics, 38:197. Julie.         [ Links ]

Mbeki, T. 2006. Staatsrede deur Thabo Mbeki, President van die Republiek van Suid-Afrika http://www.dfa.gov.za/docs/speeches/2006/mbek0203.htm [17 April 2016].         [ Links ]

McClintock, L. 1999. 'n Eksplorerende ondersoek na die impak van die apartheidsbedeling op die swart gesin. Johannesburg. RAU (Verhandeling M.A.) 213.         [ Links ]

Meyer, D.F. & Van der Elst, H.J. 2014. The interventionist role of the state in the socio-economic and political development in democratic South Africa (1994-2014), Mediterranean journal of social sciences. May.         [ Links ]

Nel, J. 2017. Ryk naweekboere kry plase verniet. Rapport: 4, Mrt.         [ Links ]

Nussbaum, B. 2003. African culture and ubuntu: Reflections of a South African in America. World business academy, 17 (1): 1-12. Februarie.         [ Links ]

(NDP) National development plan. 2011. Chapter 6: An integrated and inclusive rural economy. http://www.gov.za/sites/www.gov.za/files/devplan_ch6_0.pdf [14 Mei 2015].         [ Links ]

O'Brien, O. & O. Williams 2013. Gobal political economy. New York: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

Oxford woordeboek. 2017. Moderate. https://en.oxforddictionaries.com/definition/moderate [21 Maart 2017].         [ Links ]

Pettinger, T. 2013. Washington consensus - definition and criticism.http://www.economicshelp.org/blog/7387/economics/washington-consensus-definition-and-criticism/ [26 April 2017].         [ Links ]

Pilipinas, K.M. 2000. The World Bank's market-assisted land reform: Obstacle to Rural Justice. http://www.geocities.ws/kmp_ph/reso/wb/wbandar.pdf [14 Maart 2017].         [ Links ]

Ranney, A. 1987. Governing: An introduction to political science. New Jersey: Englewood Cliffs.         [ Links ]

Richter, D.1975. Swart ontwikkeling. Pretoria: Benbo.         [ Links ]

Riggs, F.W. 1964. Administration in developing countries. Boston: Houghton Mifflin company.         [ Links ]

Sindane, J. & Liebenberg, J.C.R. 2000. Reconstruction and the reciprocal other: The philosophy and practice of ubuntu and democracy in African society. Politeia, 19 (3):38.         [ Links ]

Steward, D. 2016. http://www.politicsweb.co.za/opinion/consequences-of-expropriation-bill-will-be-catastrophic [25 Feb 2017].         [ Links ]

Suid-Afrika. 1975. Onteieningswet 63 van 1975 (afdeling 2). Pretoria: Regeringsdrukker.         [ Links ]

Suid-Afrika. 1994. The RDP: A policy framework. Johannesburg: Umanyano.         [ Links ]

Suid-Afrika. 1996, Grondwet van die Republiek van SA, no. 108 van 1996 soos aanvaar deur die Grondwetlike vergadering op 8 Mei 1996 en gewysig op 11 Oktober 1996.         [ Links ]

Suid-Afrika. 2002. Minerale en petroleum hulpbronne ontwikkelingswet 28 van 2002. Pretoria: Regeringsdrukker.         [ Links ]

Suid-Afrika. 2003. Wysiging 48 van 2003 wat die Restitusie van Grondregte wet van 1994. Pretoria: Regeringsdrukker.         [ Links ]

Suid-Afrika. 2007. Manual for the implementation of the proactive land acquisition strategy. http://www.ruraldevelopment.gov.za/phocadownload/Land_Acquisition_ Warehouse/manual%20for%20the%20implementation%20 vof%20the%20proactive%20land%20acquisition%20strategy.pdf [17 April 2017].         [ Links ]

Suid-Afrika. 2009. The national development plan. Pretoria. Regeringsdrukker.         [ Links ]

Suid-Afrika. 2011. Departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Groenskrif vir grondhervorming. http://www.ruraldevelopment.gov.za/phocadownload/Green-Papers/Languages/groenskrif_afrikaans.pdf [24 November 2015].         [ Links ]

Suid-Afrika. 2015. Konsepwetsontwerp op die bewaring en ontwikkeling van landbougrond. http://www.nda.agric.za/docs/media/Draft%20Preservation%20and%20Development%20of %20%20Agricultural%20Land%20Framenwork%20Bill.pdf [12 April 2016].         [ Links ]

Van der Schyf, E. 2005. South African mineral law: A historical overview of the state's regulatory power regarding the exploitation of minerals New Contree, 64, Julie.         [ Links ]

Van Staden, M. 2017. Government land is central to land reform. http://www.freemarketfoundation.com/article-view/government-land-is-central-to-land-reform [17 April 2017].         [ Links ]

Van wyk, J. 2015. Hou die drie elemente dop in die onteieningswet. http://landbou.com/nuus/hou-drie-elemente-dop-in-onteieningswet/ [17 April 2016].         [ Links ]

Walshe, P. 1987. The rise of African nationalism in South Africa. London: Christopher Hurst & Co.         [ Links ]

Williams, G. 1994. Land and freedom. Durban: Centre for social and development studies.         [ Links ]

Qalam, I. & Lumet, J. 2012. The failure of land reform in South Africa. http://www.wsws.org/en/articles/2012/12/06/land-d06.html [19 April 2016].         [ Links ]

Xulu, B. & Maharaj, B. 2004. Land restitution during apartheid's dying days. Africa insight, Junie-September.         [ Links ]

Zuma, J.G. 2016. Staatsrede deur Jacob G Zuma, President van die Republiek van SA, Februarie 2016. http://www.gov.za/af/speeches/president-jacob-zuma-state-nation-address-2016-11-feb-2016-0000 [9 Mei 2016].         [ Links ]

Zuma, J.G. 2017. Staatsrede deur Jacob G Zuma, President van die Republiek van SA, Februarie 2016. http://www.gov.za/speeches/president-jacob-zuma-2017-state-nation-address-9-feb-2017-0000 [21 April 2017].         [ Links ]

 

 

 

HERMAN VAN DER ELST is 'n medeprofessor en voorsitter van die vakgroep Politieke Wetenskappe by die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). In 2000 verwerf hy 'n magistergraad in Internasionale Politiek aan die Universiteit van Pretoria (UP) en in 2008 'n PhD in Openbare Bestuur en Regering by die Potchefstroomkampus van die NWU met 'n tesis oor "Grondhervorming in Suid-Afrika en die oogmerke van post-vestiging: die ontwerp van 'n bestuursmodel vir volhoubare ontwikkeling". 'n Gedeelte van sy navorsing is by die Vrije Universiteit van Amsterdam (VU) gedoen. Hy is outeur van 'n aantal nasionale en internasionale artikels in vakwetenskaplike tyskrifte en hoofstukke in boeke met 'n fokus op volhoubare ontwikkeling in die kontemporêre transformerende Suid-Afrikaanse, en Afrika politieke landskap.
HERMAN VAN DER ELST is an associate professor and chair of the subject group Political Sciences at the Vaal Triangle campus of the North West University (NWU). He obtained a master's degree in International Politics at the University of Pretoria (UP) in 2000, followed by a PhD in Public Management and Governance at the Potchefstroom campus of the NWU in 2008. The title of his thesis was "Post settlement support land reform objectives in South Africa: towards a management model for sustainable development". Part of his research was completed at the Vrije Universiteit van Amsterdam (VU). He is the author of a number of articles in local and international academic journals, as well as chapters in books with a focus on sustainable development in the contemporary transforming South African, and African political landscape.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License