SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue3Swartskaap: Odette Schoeman author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.3 Pretoria Sep. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n3a14 

TAALRUBRIEK

 

Oor deeltekens en koppeltekens

 

 

Twee skryftekens wat besonder prominent in Afrikaans is, is die deelteken en die koppelteken. Omdat hulle gebruik soms ooreenstem en soms verskil, lewer hulle onderskeie gebruike dikwels probleme. Hoewel hulle name reeds hulle primêre gebruike noem, naamlik dat die deelteken deel of verdeel en die koppelteken koppel of verbind, is dit nie altyd net so eenvoudig nie. In hierdie rubriek gee ek aandag aan die belangrikste gebruike van elk.

Die deelteken word om veral twee redes gebruik: eerstens om by ʼn opeenvolging van vokale (klinkers) wat tot verskillende lettergrepe behoort, die twee lettergrepe te skei deur aan te dui waar die tweede lettergreep begin, en tweedens om historiese of etimologiese redes. ʼn Deelteken kan op enigeen van die vyf tradisionele vokaalletters van Afrikaans voorkom (ʼn deelteken kom selde op ʼn y voor en ek het dit nog nooit ter wille van lettergreepskeiding op ʼn y gesien nie; die van Van Wÿk word wel soms só gespel, maar dit kom moontlik daarvan dat die gebruikliker ij in handskrif soos ʼn ÿ lyk).

Tipiese gevalle van lettergreepverdeling is afgel, gmigreer, tatoeëer, Alger, alkal (naas alkali's), finansle, gnspekteer, psigol, heroïen, altrs, rnie, rne en so meer (hier is die betrokke vokaalopeenvolgings wat tot verskillende lettergrepe behoort, telkens onderstreep). Dit is duidelik dat by afwesigheid van die deeltekens die betrokke vokaalkombinasies verkeerd uitgespreek kan word of minstens verwarrend sal wees.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat nie alle vokaalopeenvolgings waarin vokaalletters tot verskillende lettergrepe behoort, deeltekens vereis nie. Die opeenvolging ae, ea en eo verg byvoorbeeld nie deeltekens nie: dae, vlae, beantwoord, gealfabetiseer, geolie, beoog en so meer.

Wat egter nie so bekend is nie, is die opeenvolging van twee i's. Dit is heel algemeen as die eerste i die slot van ʼn diftong of tweeklank uitmaak, soos fraiing, draaiing en goiing, maar dit geld ook indien dit nié die geval is nie, byvoorbeeld antiinflammatories, diisopropielfluoorfosfaat, fenoksatiien of poliioon. Die rede hiervoor is dat die kombinasie ii nie ʼn klankverlenging voorstel soos byvoorbeeld by mak teenoor maak, wet teenoor weet, bog teenoor boog of nut teenoor nuut nie, en ook nie ʼn ander klank soos byvoorbeeld ai, oe, ei, ie, ui of oi nie.

Daar is ook heel dikwels (nie altyd nie) geen deelteken nodig nie indien een deel (hetsy in die eerste of tweede lettergreep) van die vokaalopeenvolging bestaan uit óf ʼn klank wat deur twee letters voorgestel word óf ʼn diftong. Daarom is dit finansieel (maar finansiële), kopieer (maar kopiëring), dieet (maar diëte), geuiter, luier, weier, wyer en so meer.

Woorde wat op ʼn -a eindig en met die agtervoegsel -agtig verbind, kan óf met ʼn deelteken óf met ʼn koppelteken geskryf word, soos in die volgende:

ʼn swastikaägtige OF swastika-agtige ontwerp

ʼn kobraägtige OF kobra-agtige slang

haar divaägtige OF diva-agtige gedrag

Die tweede belangrike rede waarom deeltekens in sekere woorde gebruik word, is histories van aard en het te doen met ʼn besluit wat die Akademie reeds voor die verskyning van die eerste Afrikaanse woordelys en spelreëls in 1917 geneem het, naamlik om die Afrikaanse spelling op ʼn vereenvoudigde Nederlandse spelling te baseer. Op grond van byvoorbeeld die Nederlandse woorde kogel, leger, regen, zegen, zegevieren, spiegel en dergelike, waarin Afrikaans die g tussen die ander vokaalletters in uitspraak weglaat, maak ons tog nog die kniebuiging na die Nederlandse spelling deur die oorspronklike twee lettergrepe deur ʼn deelteken te suggereer: koeël, leër, reën, seën, seëvier (waarin die seë- steeds nog tweelettergrepig gehoor word) en spieël.

Daarbenewens lei die klassieke herkoms van woorde en die manier waarop hulle in Afrikaans weergegee word, ook soms tot die behoud van ʼn deelteken, byvoorbeeld aërobies, hiërargie en hiërogliewe.

Let op dat wanneer ʼn deelteken gebruik word om ʼn bepaalde vokaalletterkombinasie in twee lettergrepe te verdeel, ʼn mens te doen het met ʼn grondwoord (ofte wel ʼn stam) plus die een of ander voor- of agtervoegsel.

ʼn Ander opvallende eienskap van Afrikaans is, soos in die vorige drie taalrubrieke bespreek, die feit dat samestellings vas geskryf word. In dié verband moet ʼn mens onthou dat ʼn koppelteken ʼn manier van vas skryf is, maar dat koppeltekens net gebruik moet word wanneer dit nodig is, nie sommer lukraak nie. Nou gebeur dit soms dat vokaalopeenvolgings soos dié hier bo genoem, kan voorkom wanneer twee woorde tot ʼn samestelling gekoppel word. Indien ʼn vokaalopeenvolging wat tot verkeerde lees of uitspraak kan lei, by die verbindingspunt van die samestelling ontstaan, word ʼn koppelteken gebruik, en nie ʼn deelteken nie. Dit kan geïllustreer word deur toe-eien, waarin die twee stamme ("woorde") deur ʼn koppelteken verbind word, maar toegeëien, waarin daar geen koppelteken tussen die eerste e en die g nodig is nie, maar die begin van die lettergreep wat op die voorvoegsel ge- volg, met ʼn deelteken aangedui word.

Voorbeelde van samestellings waarin problematiese vokaalopeenvolging voorkom, is kamera-assistent, sleepwa-agteras, na-aap, studie-eenheid, drie-enig, mede-erfgenaam, bo-op, bevolkingsburo-opname, kleurfoto-ontwikkeling, trou-uitrusting of Zulu-uitdrukking, maar ook gevalle soos riksja-unielid, kommando-uniform, mede-insamelaar, ubuntu-ingesteldheid, agenda-inskrywing, taxi-eienaar, ghwano-ekstrak. Dit is duidelik dat by afwesigheid van die koppeltekens die samestellings verkeerd of moeilik gelees kan word of dat die kombinasies tot verkeerde uitspraak kan lei.

Ook hier geld wat by deeltekens gesê is, naamlik dat nie alle vokaalopeenvolgings koppeltekens nodig maak nie, byvoorbeeld Boereoorlog, boereorkes, seweuur, ruolie, boaan, studieobjek, sakeadres, seeys of syingang, en ook dat die opeenvolging ii in samestellings nie noodwendig ʼn koppelteken verg nie, byvoorbeeld soesjiintoleransie of Israeliinstrukteur. By sulke samestellings het skrywers egter die keuse om ook soesji-intoleransie of Israeli-instrukteur te skryf.

Daar is ʼn spesiale kategorie woorde waarin koppeltekens óf deeltekens gebruik kan word. Dit behels woorde (meestal van tegniese aard) waarin daar ná ʼn een- of meerlettergrepige voorvoegsel van klassieke herkoms ʼn problematiese vokaalopeenvolging ontstaan. Dit behels woorde soos die volgende:

antiëlektron OF anti-elektron      kontraïndikasies OF kontra-indikasies

biëtileen OF bi-etileen      mikroörganisme OF mikro-organisme

koöperatiewe OF ko-operatiewe      sosioëkonomies OF sosio-ekonomies

preüniversitêr OF pre-universitêr      reïnkarnasie OF re-inkarnasie

In hierdie kategorie is enkele sake belangrik:

(i) Indien daar geen problematiese vokaalopeenvolging is nie, word sulke voorvoegsels VAS geskryf, byvoorbeeld antibiotikum, predestinasie, mikroskoop.

(ii) Waar daar wel sulke problematiese vokaalopeenvolgings is, is die deeltekenskryfwyse die voorkeurvorm.

(iii) Ondanks (ii) is daar by baie skrywers ʼn geneigdheid om sulke voorvoegsels wat eenlettergrepig is, makliker met ʼn deelteken vas te skryf as die meerlettergrepiges.

(iv) Sommige selfstandige woorde, soos radio en foto, lyk net soos van die voorvoegsels, wat, soos bo uiteengesit, kan bepaal of ʼn deelteken dan wel ʼn koppelteken gebruik moet of kan word (bv. foto-uitslag maar fotoëlektries).

Die koppelteken het ook ander funksies, byvoorbeeld om sekere betekenisverhoudings aan te dui, soos in regter-president, of om as weglaatteken op te tree, soos in Smit- en Kerkstraat, of om woordafbreking aan reëleinde aan te dui, maar sulke funksies is nie nou ter sake nie.

Gebruikers word aangemoedig om vollediger besonderhede oor deelteken- en koppeltekengebruik na te lees in onderskeidelik hoofstukke 5 en 12 van sowel die 10de as die pas verskene 11de uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Laasgenoemde is die eeufeesuitgawe van hierdie ikoniese Akademiepublikasie, want die eerste AWS is in 1917 gepubliseer.

 

JD (TOM) MCLACHLAN
Vertaler en Taalversorger
E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License