SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número3Surrogate equivalence in bilingual dictionaries with specific reference to zero equivalence in dictionaries for African languagesDevelopment and integration of multimedia teaching and learning support material (LTSM) to support reading skills índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 no.3 Pretoria Set. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n3a5 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Radikalisering van die politiek - ʼn gevaar vir die demokrasie

 

The radicalization of politics - a threat to democracy

 

 

Marinus Schoeman

Departement Filosofie, Universiteit van Pretoria. E-pos: marinus.schoeman@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die afgelope twee dekades word gekenmerk deur ʼn toenemende ideologisering en radikalisering van die politiek. Dit kom neer op ʼn miskenning van die pluraliteit en veelstemmigheid van die mensdom, en as sodanig hou dit ʼn groot gevaar in vir die demokrasie. Politiek (en die begrip "demokrasie") word verskraal tot ʼn postkoloniale stryd teen rassisme en diskriminasie oftewel uitsluiting van die "Ander" as dit wat aan die wortel sou lê van alles wat boos en verkeerd is in die samelewing. Politiek word basies vereenselwig met die uitsluiting van alle uitsluitings. Die enigste wat binne hierdie logika uitgesluit mag, en inderdaad uitgesluit moet word, is diegene wat uitsluit en grense wil handhaaf. In die naam van "bevryding" en "progressiwiteit" word daar genadeloos proses gevoer teen diegene wat nog aandring op erkenning van die verskeidenheid van gemeenskappe, en wat nie (polities korrek) wil meedoen aan die transformasie-agenda van die radikale politiek nie. Diesulkes word beskou as struikelblokke in die opmars na ʼn geluksalige toekoms vir die mensdom en gebrandmerk as "vyande van die mensdom", as oorblyfsels uit ʼn agterhaalde verlede wat liefs uit die weg geruim moet word.
Wesentlik bestaan ideologieë en radikale politiek altyd in
ʼn negering van konkrete gegewenhede, feite en gebeurtenisse ten gunste van ʼn simplistiese morele basis-skema, naamlik ʼn digotomie (fundamentele kloof of skeiding) tussen goed en kwaad: "toleransie" versus "stigmatisering", "rassisme" versus "antirassisme", "samehorigheid" versus "segregasie", "openheid" versus "etnosentrisme", "onderdrukkers" teenoor "onderdruktes". Die asimmetriese morele kodering van teenstellings en konflikte tussen groepe mense hou ʼn ernstige bedreiging in juis vir dié sfeer waarbinne dit tradisioneel hanteer en so goed as moontlik opgelos word: die politieke sfeer waarin daar politieke vriende en vyande moontlik is, oorloë, maar ook die sluiting van ʼn kompromie en ʼn vredesverdrag. Radikale politiek wil ʼn einde maak aan politiek as die kuns van die moontlike wat rekening hou met objektiewe grense soos histories gegroeide verhoudinge asook nasionale en plaaslike eienaardighede. Sodoende word politiek die kompromislose voltrekking van ʼn taak, ʼn noodsaak, ʼn universele bestemming.

Trefwoorde: radikale politiek, demokrasie, antirassisme, vyande van die mensdom, slagofferkultus, ressentiment, Alain Finkielkraut, Carl Schmitt, wanopvatting van gelykheid, verdraagsaamheid, respek, kollektiewe skuld, Frantz Fanon


ABSTRACT

The past two decades are characterised by a growing radicalization of politics and a resurgence of ideologies. This inevitably leads to a disregard for the plurality and multifariousness of people(s), thereby posing a serious threat to democracy. Politics (and the concept of "democracy") is reduced to a post-colonial struggle against racism and discrimination, against the exclusion of the "other", which allegedly lies at the bottom of all that is bad and evil in society. Politics basically becomes synonymous with the exclusion of all exclusions. The only exclusion which is acceptable and indeed propagated in terms of this logic, is the exclusion of those who exclude, i.e. all those who want to maintain borders. In the name of "liberation" and "progressiveness" a witch hunt is launched against those who insist on recognition of the plurality/diversity of communities. All those who do not succumb to "political correctness", and who are not willing to subject themselves to the transformation agenda of the radicals, are relentlessly hounded down, stigmatised and persecuted. They are seen as stumbling blocks in the march toward a blissful future for mankind. As such they are branded as "enemies of the people", reactionaries, remnants of a bygone era who should best be eliminated.
Basically, all ideologies and forms of radical politics tend to neglect, or even to completely negate concrete realities, facts and events in favour of a simplistic moral scheme of judgment, i.e. a dichotomous scheme of arbitrating between good and evil: "tolerance" versus "stigmatising", "racism" versus "anti-racism", "solidarity" versus "segregation", "universality" versus "particularity/ethnocentrism", "oppressors" over against the "oppressed". The asymmetric moral coding of differences and conflicts between groups of people poses a serious threat to the very sphere in which they were traditionally dealt with and settled as best as possible: the political sphere where it is possible to have political friends and enemies, wars, but also to reach a compromise and a peace accord. Radical politics wants to make an end to politics as the art of what is possible, which takes into consideration things such as objectively given borders, historically grown relationships, as well as national and local peculiarities. By rejecting politics in this traditional sense, the radicals opt for a kind of politics as uncompromising and ruthless execution of a task, a mission, a universal destiny. Thus they forget that the worst forms of violence do not result from the tension and conflict between people(s), but rather from the firm belief that one can once and for all liberate them from violence in a state of universal brotherhood. According to Alain Finkielkraut, following the German political thinker Carl Schmitt, this amounts to a far reaching moralisation of politics, which in turn can lead to the end of the political. Indeed, the political distinction friend/enemy is replaced by the distinction between the absolutely good versus the demonic "enemy of the people". When that happens, there is nothing further to discuss or negotiate. The figure of the enemy is replaced by and degraded to the figure of the inhuman, a monster that must be eradicated once and for all.
The ideology of anti-racism has been gaining ground over the past few decades among Western liberal democracies. Confronted by the global phenomenon of mass immigration, saddled with feelings of guilt due to their colonial past, and profoundly impressed by the terrifying impact of Nazism and fascism, the Western nations have seemingly become soft targets or even a fertile breeding-ground for the ideology of anti-racism. Several factors have contributed to this situation. I briefly discuss a few of these factors, such as 1) the tendency to mistake pity or compassion for respect, resulting in double standards and second-class citizenship, both of which are irreconcilable with a genuine democracy; 2) a distorted sense of equality; 3) a one-sided emphasis on tolerance; and 4) an obsession with racism and fear of racial conflict.

Key concepts: radical politics, democracy, anti-racism, enemies of the people, cult of the victim, resentment, Alain Finkielkraut, Carl Schmitt, misconception of equality, tolerance, respect, collective guilt, Frantz Fanon


 

 

Die afgelope twee dekades word gekenmerk deur die terugkeer van die radikale politiek. Dit blyk onder meer duidelik uit die opkoms van radikaal-Islamitiese terreurbewegings, waarop ek hier nie verder wil ingaan nie.1 Ek wil eerder aandag gee aan die hedendaagse neiging om alle menslike probleme toe te skryf aan of te reduseer tot rassisme en diskriminasie. Dit het gaandeweg ontwikkel in die nuwe ideologie van ons tyd: die ideologie van antirassisme wat wêreldwyd aangehang word deur links-progressiewe of links-radikale groeperings.

Soos enige ander ideologie maak ook hierdie ideologie hom skuldig aan ʼn reduksionisme: dit reduseer alle menslike verskille en konflikte - sosiaal, kultureel en polities - tot rassisme en diskriminasie. Dit kom neer op ʼn miskenning van die pluraliteit en veelstemmigheid van die mensdom, en as sodanig hou dit ʼn groot gevaar in vir die demokrasie. Politiek (en die begrip "demokrasie") word verskraal tot ʼn postkoloniale stryd teen rassisme en diskriminasie oftewel uitsluiting van die "Ander" as dit wat aan die wortel sou lê van alles wat boos en verkeerd is in die samelewing. Politiek word basies vereenselwig met die uitsluiting van alle uitsluitings. Die enigste wat binne hierdie logika uitgesluit mag, en inderdaad uitgesluit moet word, is diegene wat uitsluit en grense wil handhaaf. In die naam van "bevryding" en "progressiwiteit" word daar genadeloos proses gevoer teen diegene wat nog aandring op erkenning van die verskeidenheid van gemeenskappe, en wat nie (polities korrek) wil meedoen aan die transformasie-agenda van die radikale politiek nie. Diesulkes word beskou as struikelblokke in die opmars na ʼn geluksalige toekoms vir die mensdom en gebrandmerk as "vyande van die mensdom", as oorblyfsels uit ʼn agterhaalde verlede wat liefs uit die weg geruim moet word.

Wie homself beroep op misdade teen die mensdom, sê daarmee aan die ander: oordeel nie oor my nie. Hy nestel homself in die mees behaaglike, byna onaantasbare posisie: die status van "slagoffer" of "onderdrukte" wat aan hom skynbaar outomaties die reg verleen om beskerm te word teen iets wat wel as die absolute kwaad (boosheid) gereken moet word. Volgens die Franse filosoof Alain Finkielkraut (2004:21) word sosiale, kulturele en politieke konflikte gedefinieer as ʼn teenstelling tussen rassistiese daders en hulle slagoffers. Met hierdie teenstelling gaan iedere konkrete kompleksiteit en subtiliteit verlore, want so absoluut as wat die appèl van die "ander" is, so verwerplik is by voorbaat diegene wat as rassisties gebrandmerk word.

Wesentlik bestaan ideologieë en radikale politiek altyd in ʼn negering van konkrete gegewenhede, feite en gebeurtenisse ten gunste van ʼn simplistiese morele basis-skema, naamlik ʼn digotomie (fundamentele kloof of skeiding) tussen goed en kwaad: "toleransie" versus "stigmatisering", "rassisme" versus "antirassisme", "samehorigheid" versus "segregasie", "openheid" versus "etnosentrisme", "onderdrukkers" teenoor "onderdruktes". Die asimmetriese morele kodering van teenstellings en konflikte tussen groepe mense hou ʼn ernstige bedreiging in juis vir dié sfeer waarbinne dit tradisioneel hanteer en so goed as moontlik opgelos word: die politieke sfeer waarin daar politieke vriende en vyande moontlik is, oorloë, maar ook die sluiting van ʼn kompromie en ʼn vredesverdrag. Radikale politiek wil ʼn einde maak aan politiek as die kuns van die moontlike wat rekening hou met objektiewe grense soos histories gegroeide verhoudinge asook nasionale en plaaslike eienaardighede. Sodoende word politiek die kompromislose voltrekking van ʼn taak, ʼn noodsaak, ʼn universele bestemming.

Demokrasie - dit is ʼn regime waarin pluralisme fundamenteel is, waarin alles aan debat onderhewig is. Wat vantevore beslis is op grond van dwang en dogmas, is in ʼn demokrasie onderwerp van diskussie. Dit beteken dus ook dat niemand weet watter argumente uiteindelik sal wen nie, maar wel dat geen enkele opinie by voorbaat die juiste een is nie. Dit beteken dat demokrate voortdurend beskeie moet wees. Hulle weet dat hulle nie alles weet nie, dat ander ook gelyk kan hê.

Tans word hierdie opvatting van demokrasie egter deur steeds minder mense gedeel. Met name in links-radikale geledere het ʼn nuwe begrip ontstaan. Demokrasie is vir hulle ʼn proses wat lei na ʼn voorafgegewe uitkoms. Spesifiek in Suid-Afrika beteken demokrasie vir hulle sake soos gratis owerheidsdienste en tersiêre onderwys, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, herverdeling van grond, "postkoloniale" onderwys en wetenskapsbeoefening - kortom: alles wat inpas in hulle radikale transformasie-agenda oftewel hulle program vir ʼn "nasionale demokratiese rewolusie". Feitlik is dit dus ʼn demokrasie wat al uit die staanspoor saamval met sy uitkoms; ʼn demokrasie sonder diskussie, sonder pluralisme, sonder die moontlikheid dat jy ongelyk het. En wie aan die voorafgegewe uitkoms twyfel, of wie ʼn heel ander toekoms voor oë het, dié is geen demokraat en mag nie meer meedoen nie.

Soos by ander rewolusionêre ideologieë van die moderne tydvak word ook hier die tradisionele Christelike idee van die erfsonde verlaat ten gunste van die gedagte van ʼn oorspronklike misdaad. Die idee van die kwaad as ʼn ewigdurende menslike moontlikheid word gereduseer tot ʼn in beginsel oplosbare probleem. Dit word dan die rol van die politiek om die misdadiger, synde die onderdrukker, skuldig te verklaar en te straf. Die slagoffer is daarenteen outomaties onskuldig. Siedaar die swart-wit-skema van die radikaliste - inderdaad ʼn gevaarlike skema, want dit maak van die politiek iets messiaans. Die politiek word dié antwoord op alle probleme van die kwaad in die wêreld. Politiek is nie langer ʼn manier om alles wat met gesamentlike sake te make het ook gesamentlik te bespreek nie, maar die voltrekking van ʼn program wat veronderstel is om die nasie of selfs die mensdom as geheel tot sy bestemming te bring. Die politiek is dan ook nie ʼn relatief selfstandige en begrensde domein nie, maar ʼn allesomvattende botsing van teenstrydige kragte en wilsuitinge of, soos Finkielkraut (2004:71) dit stel, ʼn "manicheïstiese botsing tussen die broederlike mensheid en die vyande van die mensheid". In die proses word vergeet dat die ergste geweld nie voortkom uit die teenstellings en vyandskap tussen mense nie, maar uit die vaste oortuiging dat jy hulle vir goed daarvan sal verlos in ʼn staat van universele broederskap. Volgens Finkielkraut (ibid.:78), en hier sluit hy aan by die Duitse politieke denker Carl Schmitt, kom dit neer op ʼn verregaande vermoralisering van die politiek, wat op sy beurt kan lei tot die einde van die politiek. Immers, die politieke onderskeid vriend/vyand word vervang deur die onderskeid tussen die volstrek-goeie teenoor die demoniese "vyand van die mensdom". Vanaf daardie moment val daar niks meer te onderhandel nie. Die onversoenlike dikteer hier sy wet. Die figuur van die vyand word vervang deur en gedegradeer tot die figuur van die onmens, ʼn monster wat eens en vir altyd uitgedelg moet word.

Die ideologie van antirassisme is vir ʼn geruime tyd reeds besig om veld te wen in die Westerse liberale demokrasieë. Gekonfronteer met die globale verskynsel van massa-immigrasie, opgesaal met skuldgevoelens vanweë hulle koloniale verlede, en sterk onder die indruk van die verskriklike gevolge van nazisme en fascisme, het die Westerse lande skynbaar ʼn sagte teiken of selfs ʼn vrugbare teelaarde geword vir die ideologie van antirassisme. Verskeie faktore het daartoe bygedra. Ek bespreek baie kortliks enkele van dié faktore:

 

1. DIE NEIGING OM RESPEK TE VERWAR MET MEDELYE, WAT AANLEIDING GEE TOT DUBBELE STANDAARDE EN TWEEDE-KLAS BURGERSKAP, WAT ONVERSOENBAAR IS MET DIE WESE VAN DIE DEMOKRASIE

Volgens die Amerikaanse denker Christopher Lasch (1995:105, 210) het die Westerse liberale demokrasieë geswig voor wat hy bestempel as ʼn "ideology of compassion". Dit het aanleiding gegee tot ʼn slagofferkultus waar respek verwar word met medelye:

A misplaced compassion degrades both the victims, who are reduced to objects of pity, and their would-be benefactors, who find it easier to pity their fellow citizens than to hold them up to impersonal standards, attainment of which would entitle them to respect. We pity those who suffer, and we pity, most of all, those who suffer conspicuously; but reserve respect for those who refuse to exploit their suffering for the purposes of pity. We respect those who are willing to be held accountable for their actions, who submit to exacting and impersonal standards impartially applied. (Lasch 1995: 105)

Die siening word vandag wyd aangehang dat standaarde inherent onderdrukkend is, dat dit allermins onpersoonlik is en inderdaad diskrimineer teen vroue, gekleurdes en minderhede in die algemeen. Standaarde, só word betoog, weerspieël die kulturele hegemonie van "dead white European males", terwyl medelye ons bring tot die erkenning van die onreg wat andere aangedoen word wanneer ons hierdie standaarde op hulle afdwing. Dit is hierdie siening wat dan ook ten grondslag lê van die huidige ophef oor "multikulturalisme" en wat wesenlik indruis teen die demokrasie. Soos John Dewey nog in sy werk The Public and its Problems (1927) oortuigend aantoon, het demokrasie altyd gestaan vir verset teen enige vorm van dubbele standaarde omdat dit 'n resep is vir tweedeklas burgerskap.2 Vandag aanvaar ons dubbele standaarde in die naam van humanitêre besorgdheid. Daarmee versaak ons dit wat vroeër gereken is as die waarmerk van 'n demokrasie, naamlik die inspanning om die algemene peil van mense se bevoegdhede en vermoëns te verhoog.

Lasch staan tereg uiters skepties teenoor 'n politiek wat gebaseer is op morele verontwaardiging en selfvoldaanheid wat nogtans almal - veral die histories-benadeeldes - wil vryspreek van verantwoordelikheid en blaam deur die bestaande ongeregtigheid te wil toeskryf aan 'n onpersoonlike oorsprong soos geïnstitusionaliseerde rassisme of 'n dergelike sistemiese boosheid.3 'n Politiek van jammerhartigheid lei net tot afguns en haatdraendheid (Nietzsche praat van "ressentiment") wat niks konstruktiefs bydra tot die verbetering van die behoeftiges en veronregtes se lot nie. Die laer middelklas, wat normaalweg aangetrokke is tot populistiese bewegings, is dikwels juis die mense wat neig om hulleself oor te gee aan gevoelens van haat en afguns, en (so beweer Lasch 1991a:68) "it is for this very reason that a 'spiritual discipline against resentment', in Reinhold Niebuhr's phrase, has been such a prominent feature of populist movements at their best."

 

2. 'N VERWRONGE SIN VIR GELYKHEID

Die erkenning van gelyke regte vir almal is 'n noodsaaklike maar nietemin onvoldoende voorwaarde vir demokratiese burgerskap. Gelyke regte is in sigself nog geen waarborg vir selfrespek nie, behalwe as dit gepaardgaan met gelyke toegang tot die middele wat mens nodig het om jou bevoegdhede en vermoëns te verbreed. Dit is waarom dit verkeerd is om die demokrasie te verdedig op grond van die sentimentele aanname dat "alle mense dieselfde is".

Mense is eenvoudig nie gelyk vir sover dit hulle vermoëns en bekwaamhede betref nie. Hannah Arendt (1958:215) het gewaarsku dat mens nie die kar voor die perde moet inspan nie: dit is burgerskap wat gelykheid bewerkstellig, nie gelykheid wat die reg tot burgerskap daarstel nie. "Sameness is not equality, and political equality, therefore, is the very opposite of the equality before death...or of equality before God." Politieke gelykheid - burgerskap - maak mense wat andersins ongelyk is in hulle vermoëns tot mekaar se gelykes, en die toekenning van burgerskap aan almal het slegs betekenis as dit gepaardgaan nié slegs met 'n formele opvoeding in die kuns van burgerskap nie, maar ook met maatreëls om te verseker dat ekonomiese en politieke verantwoordelikhede so wyd as moontlik onder almal versprei word. Dit veronderstel 'n formele opvoeding in goeie oordeel, helder en logies steekhoudende taalgebruik, en die bereidwilligheid om die gevolge van ons handelinge en besluite te aanvaar. Dit is in hierdie sin dat universele burgerskap 'n hele wêreld van gemeenskaplike helde of rolmodelle impliseer. So 'n wêreld is 'n vereiste vir demokrasie indien mens enigsins wil voorkom dat burgerskap bloot 'n leë formaliteit word (sien Dewey 1927).

 

3. 'N EENSYDIGE KLEM OP VERDRAAGSAAMHEID

Demokrasie vereis ook 'n lewenskragtiger etiek as dié van blote verdraagsaamheid. Verdraagsaamheid is 'n goeie ding, maar dit is slegs die beginpunt van 'n demokrasie, nié die eindbestemming nie. Ons het heeltemal te bedrewe geraak in die kuns om verskonings te maak vir onsself, of erger nog, om verskonings te maak vir die "benadeeldes". Ons is so besig om ons regte te verdedig dat ons min aandag gee aan ons verantwoordelikhede. Ons sê selde wat ons dink uit vrees dat ons mag aanstoot gee. Ons het goeie voornemens om aan almal respek te betoon, maar ons het vergeet dat respek iets is wat verdien moet word. Respek is nie maar net 'n ander woord vir toleransie of vir 'n waardering vir "alternatiewe" lewenstyle en gemeenskappe nie.4 Respek is wat ons ervaar in die teenwoordigheid van bewonderenswaardige prestasies, merkwaardig gevormde karakters, natuurlike gawes wat voortreflik aangewend word. Dit behels goeie oordeel en onderskeiding, nié blindelingse aanvaarding nie.

 

4. OBSESSIE MET RASSISME EN VREES VIR RASSEKONFLIK

Westerse samelewings is vandag vasgevang in die greep van 'n verlammende vrees vir rassekonflik. Die gevaar van rassisme moet tot elke prys lewend gehou word. Tydig en ontydig word dit by gesprekke ingesleep in die veronderstelling dat meeste mense (veral die laer middelklas witmense) verbete rassiste is.

Nie dat rassekonflik aansienlik afgeneem het of geen faktor is om mee rekening te hou nie, maar soos Christopher Lasch (1995:91) tereg vanuit 'n Amerikaanse konteks opmerk:

It is a serious mistake to interpret every conflict as evidence of the retrograde outlook of ordinary Americans, as a revival of the historic intolerance that has played a part in our country's history. The new racism is reactive rather than residual, let alone resurgent. It is a response, however inappropriate and offensive, to a double standard of racial justice that strikes most Americans as unreasonable and unfair.

Since opposition to an "affirmative" double standard is routinely dismissed as racist, one reaction to this insult, from working- and lower-middle-class people harassed by affirmative action and busing and now from college students harassed by attempts to enforce politically correct language and thought, is to accept 'racism' as a badge of honor, to flaunt it, with studied provocation, in the face of those who want to make racism and minority rights the only subject of public discussion.

Opsommend kan dan gestel word dat die Westerse demokrasieë ʼn neiging openbaar tot misplaaste medelye, ʼn verwronge sin vir gelykheid, ʼn eensydige klem op verdraagsaamheid en ʼn obsessie met rassisme. Vir hulle beteken demokrasie bo alles die nastreef van sosiale geregtigheid ("social justice"), wat gelykgestel word met restitusie vir die voorheen benadeeldes. Maar in ʼn ware demokrasie is daar ook ander, myns insiens belangriker kwessies wat aangespreek moet word: die ontstellende verval in standaarde en die vermoëns van tallose gewone mense wat die gaping tussen ryk en arm steeds groter laat word; die groeiende apatie en versmorende sinisme; die morele verlamming onder diegene wat "openheid" bo alles stel en dit boonop verwar met standpuntloosheid; die skynheiligheid van liberaal-gesindes se morele verontwaardiging te midde van 'n stelsel - die welsynstaat - wat kennelik nie werk nie maar nogtans deur hulle in stand gehou word.5

 

SLOTOPMERKINGS: QUO VADIS?

Wat staan ons te doen in hierdie land, in ʼn postapartheid situasie, en gekonfronteer met toenemende radikalisme? Een ding staan soos ʼn paal bo water: Ons (en hiermee bedoel ek primêr die blankes, en meer spesifiek die Afrikaners) sal onsself moet bevry van verlammende skuldgevoelens en die wroeging wat daarmee gepaardgaan. Ons grootste fout of mistasting lê nie in wat ons of ons voorgeslag in die verlede gedoen het nie, maar in wat ons teenswoordig nie doen nie. Te veel van ons is geneig om liewer die skuld as die verantwoordelikheid op ons te neem: die skuld weeg minder swaar; met ʼn slegte gewete kan mens gemakliker omgaan. Pleks van die onreg in ons huidige samelewing aktief te bestry, leer ons om daarmee saam te leef.

Niks is méér verraderlik nie as die idee van ʼn kollektiewe skuld wat van geslag tot geslag oorgedra word en ʼn ewige smet werp op ʼn volk of gemeenskap. Slagofferskap is net so min erflik oordraagbaar as die status van ʼn beul: solank as wat verwantskap nie as misdaad gereken word nie, impliseer die "plig tot herinnering" nie dat kinders, kleinkinders of agterkleinkinders outomaties onbesoedeld of verdorwe sou wees nie. Die geskiedenis is nie verdeel in sondige nasies en deugsame kontinente of vervloekte rasse en onaantasbare volke nie, maar tussen demokrasieë wat hulle wandade beken en diktature wat dit verberg deur dit te verhul in die kleed van slagofferskap.

Dit is ʼn misvatting om te dink dat selfveragting en boetvaardigheid soos ʼn towerstaf die pad na versoening met die ander sal open, en ons die weg na die goeie en na dialoog sal aanwys. In selfveragting en wroeging is daar nie werklik plek vir die ander nie. Dit getuig eerder van narsisme, van selfkoestering. Laat ons dan liewer weer vriendskap met onsself sluit sodat ons dit ook met ander kan doen. ʼn Volk kan homself nie ewig met sy dwalinge en misdade identifiseer of bly dweep met sy slagoffers en martelare nie. Hy moet in die eerste instansie sy helde en die edelste momente in sy geskiedenis in ere hou en sodoende homself in die geleentheid stel om opnuut weer op te staan en sy trots en selfrespek te herwin. Dink aan die gebod van Herodotos: in antieke Griekeland het die geskiedskrywing begin opdat die heldedade van uitsonderlike mense nie in die vergetelheid sou raak nie. Hierdie uitsonderlike mense was self verdag, verwikkeld in twyfelagtige ondernemings en gevegte. Die verleiding is groot om hulle agteraf aan ʼn kritiese ondersoek te onderwerp sodat hulle gemakliker van hulle voetstukke gestoot kan word. Vir vele onder ons het slegs die slagoffers ʼn reg op meegevoel en verering. Hulle panteon bestaan slegs uit verdruktes en vertraptes, en hulle probeer mekaar oortref in verdriet of medelye.

Die geskiedenis leer ons twee dinge: dat ʼn volk kan verdwyn, maar ook dat ʼn volk kan herrys, dat gemeenskappe soms gelouterd uit die ergste dwalinge kom en aan ons pragtige voorbeelde van opstanding lewer. Ons kan in angs en wanhoop verval, of ons kan volhard in vertroue, moed en vasberadenheid. Die eerste verpletter ons onder die onvermydelike, terwyl die tweede ons daarvan verlos en ons oproep om die wêreld van alle fatalisme te vrywaar. Moed en vertroue beteken die vermoë om oor twyfel en angs heen te stap en onvermoede kragte aan te spreek. Dit verg daadkrag en die geloof dat die wêreld ʼn plek is waarin elkeen hom- of haarself optimaal kan ontplooi - iets wat alleen kan gedy vir sover ons meewerk aan die verstewiging van die demokrasie en die waardes waarop dit berus. Dink aan die woorde van Raymond Aron, waarvan die ganse werk van die ekonoom en Nobelpryswenner Amartya Sen ʼn illustrasie skyn te wees: die vernaamste struikelblok vir ontwikkeling is nie die ekonomiese stelsel nie, maar ʼn gebrek aan vryhede, aan verantwoordelike deelname aan die politiek en die burgerlike samelewing, aan sorg vir die algemene welsyn. Belangrik om in gedagte te hou is ook die volgende uitspraak van niemand minder nie as Frantz Fanon:

[E]k wil nie die verlede besing ten koste van my huidige lewe en my toekoms nie... Het ek op dees aarde niks beters te doen as om die swartmense uit die sewentiende eeu te wreek nie? As kleurling het ek nie die reg om te wens dat daar by die blanke ʼn skuldgevoel sal ontstaan oor die verlede van my ras nie. Ek het nie die reg of die plig om genoegdoening te vra vir my geknegte voorouers nie... Moet ek die teenswoordige blanke man vra om die verantwoordelikheid vir die sewentiende-eeuse slawehandelaar op homself te neem? ... Ek is geen slaaf van die slawerny wat my voorvaders ontmenslik het nie. (Fanon 1972:183, 186 - my vertaling, MS.)

 

BIBLIOGRAFIE

Arendt, H. 1958. The Human Condition. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Arendt, H. 1973. On Revolution. Harmondsworth: Penguin.         [ Links ]

Bauman, Z. 1997. Postmodernity and its Discontents. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Bauman, Z. 1993. Postmodern Ethics. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Dewey, J. 1927. The Public and its Problems. New York/London: George Allen &Unwin.         [ Links ]

Fanon, F. 2008 (1972). Black Skin, White Masks (trans. R. Philcox). New York: Grove.         [ Links ]

Finkielkraut, A. et al. 2004. Dubbelzinnige democratie. De opmars van radicale politiek. Nijmegen: Damon Budel.         [ Links ]

Finkielkraut, A. 2014. Ongelukkige identiteit. De ontsporing van de multicultuur (vert. K. Vandenberghe). Antwerpen: De BezigeBij.         [ Links ]

Fukuyama, F. 1992. The End of History and the Last Man. London: Penguin.         [ Links ]

Lasch, C. 1991. The True and Only Heaven: Progress and its Critics. New York: W W Norton.         [ Links ]

Lasch, C. 1991a. Liberalism and Civic Virtue. Telos 88:57-68.         [ Links ]

Lasch, C. 1995. The Revolt of the Elites and the Betrayal of Democracy. New York: W W Norton.         [ Links ]

Schoeman, M. 2010. Die liberale welsynstaat - demokrasie of meritokrasie? Tydskrif vir Geesteswetenskappe 50(1):1-14.         [ Links ]

Schoeman, M. 2017. Kritiese opmerkings oor ons tyd en sommige van sy gevaarlikste illusies. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 57(1):22-33.         [ Links ]

Sen, A. 1999. Development as Freedom. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

 

 

 

MARINUS SCHOEMAN (MA Pretoria, DPhil Nijmegen) is 'n emeritus-professor in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. In sy navorsing spits hy hom veral toe op die geskiedenis van die moderne wysbegeerte, sosiale filosofie, etiek en strominge in die kontemporêre (hoofsaaklik kontinentale) filosofie. Op bykans al hierdie terreine het tientalle publikasies van hom verskyn in boeke en vaktydskrifte. Hy is lid van verskeie vakverenigings en ook van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Tans dien hy nog op die redaksionele raad van die gesaghebbende Leuvense Tijdschrift voor Filosofie. Prof Schoeman beywer hom vir die uitbouing en verstewiging van bande met Nederlandse en Vlaamse universiteite en is 'n stigterslid van die Nederlands-Afrikaanstalige Wysgerige Genootskap.
MARINUS SCHOEMAN (MA Pretoria, DPhil Nijmegen) is emeritus professor in Philosophy at the University of Pretoria. In his research he specialises in the history of modern philosophy, social philosophy, ethics and contemporary (especially continental) philosophy. He is the author of more than fifty publications in scholarly journals and books. Prof Schoeman is a member of several learned societies, including the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Currently he still serves on the editorial board of the esteemed Tijdschrift voor Filosofie. Prof Schoeman endeavours to expand and strengthen ties with Dutch and Flemish universities and is a founder member of the Nederlands-Afrikaanstalige Wysgerige Genootskap.
1 Meer hieroor in Schoeman (2017).
2 Lasch (1995: 88) beaam dié siening: "Common standards are absolutely indispensable to a democratic society. Societies organized around a hierarchy of privilege can afford multiple standards, but a democracy cannot".
3 "[I am] unimpressed by claims of moral superiority advanced in the name of the oppressed. I reject a'preferential option for the poor,' if that means treating the poor as helpless victims of circumstance, absolving them of accountability, or excusing their derelictions on the grounds that poverty carries with it a presumption of innocence" (Lasch 1995: 106).
4 Laasgenoemde is 'n 'toeristiese' benadering tot moraliteit (sien Bauman 1993 hfst. 8 en 1997 hfst 6; sien ook Lasch 1995: 87 oor die estetisering van moraliteit).
5 Sien meer hieroor in Schoeman (2010).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons