SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número2-2Gebroke land: armoede in die afrikaanse gemeenskap sedert 1902 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 no.2-2 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-2a12 

BOEKBESPREKINGS  BOOK REVIEWS

 

 

Outeur: Gerhardus Pool
Titel: Die Herero-opstand 1904-1907
Uitgewer: Protea Boekhuis, Pretoria, 2016.
Tweede uitgawe, eerste druk
Bladsye: 360pp
ISBN: 978-1-4853-0594-1

Hierdie magisterstudie deur Gerhardus (of Gerrit) Pool is die eerste keer in 1979 deur HAUM gepubliseer. Dat dit ʼn werk van hoogstaande gehalte was, word bevestig deur die feit dat dit daarna verskeie kere herdruk is en nou deur Protea Boekhuis heruitgegee word. Dit het die toets van die tyd deurstaan en geld steeds as die beste weergawe van die stryd van die Hererovolk teen die Duitse koloniale bewind in die destydse Suidwes-Afrika, nou Namibië. Daar het destyds ook ʼn Duitse en Engelse weergawe verskyn. Dat daar nou weer ʼn behoefte aan ʼn Afrikaanse uitgawe ontstaan het, verkondig die welkome boodskap dat goeie geskiedskrywing in Afrikaans ʼn goeie rakleeftyd kan hê en dit behoort as aanmoediging te dien vir Afrikaanse historici om dié leserspubliek se historiese bewussyn te bly voed.

By die herset van die teks het ʼn klompie foute ingesluip. Origens het die skrywer ʼn addisionele Voorwoord by hierdie uitgawe gevoeg, waarin hy ʼn effens wyer perspektief vir die leser oopmaak as in die eerste uitgawe.

Daar is by die destydse verskyning van die boek reeds op die verdienstelike aspekte van die studie gewys: Dit was ʼn oorspronklike bydrae, getrou aan die eise van deeglike bronnebenutting en sober stelwyse. Veral belangrik was die uiteensetting van die oorsake van die Opstand - dinge soos ontnugtering by die Herero oor grondverliese weens skuld en Duitse inmenging met die opvolgingsvraagstuk - en die gedetailleerde beskrywing van die verloop van die stryd. In die besonderhede word die tipiese karakter van ʼn botsing tussen die inheemse bevolking en die koloniserende moondheid weerspieël. Dit bied ʼn ryke aarde vir vergelyking met soortgelyke gebeure in ander dele van die koloniale ryke van Europese magte.

Vroeëre resensente het ook enkele leemtes uitgewys, waaronder ʼn behoefte aan groter duidelikheid oor die opstandsleier Samuel Maharero se karakter en beweegredes, asook te min aandag aan die gevolge van die oorlog. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die aard van ʼn magisterstudie bepaalde beperkings meebring. Op die tydstip toe hierdie studie gedoen is, was wetenskaplike werke oor die geskiedenis van Suidwes-Afrika (nou Namibië) nog ʼn betreklik skaars artikel en die navorser het min goeie studies tot sy/haar beskikking gehad om ʼn breër agtergrond en verwysingsraamwerk te voorsien.

Pool was nie hiervan onbewus nie. Hy het daarna met nog twee uitstekende geskiedeniswerke voortgegaan, naamlik Pionierspoorweë in Duits-Suidwes-Afrika 1897-1915, as doktorale proefskrif en gepubliseer in 1982, en Samuel Maharero, in 1991. Veral in laasgenoemde werk het hy die vroeëre leemtes in ʼn groot mate aangevul en sy werk oor die Herero-opstand behoort vandag in samehang daarmee gelees te word. Hy maak self daarvan melding dat die feit dat hy op ʼn later stadium toegang tot die private dokumente van generaal Lothar von Trotha, die uiteindelike bevelvoerder van die Duitse magte tydens die Herero-opstand, gekry het, ʼn belangrike aanvulling tot sy kennis en insigte was.

Die Engelse skrywer Thomas Hardy sê by monde van sy karakter die Boosaardige Gees: "War makes rattling good history; but Peace is poor reading". Pool het op hierdie golf gery met hierdie interessante en verdienstelike studie. Die mate van vrede wat op die Herero- en Nama-opstande in die Duitse kolonie gevolg het, het egter ʼn nuwe fase in die gebied se geskiedenis gevorm en moet as ʼn direkte uitvloeisel van die opstande gesien word. In die ingrypende hervorming van Duitse koloniale beleid en administrasie wat hierna plaasgevind het, is waarskynlik die belangrikste betekenis van die tragiese gebeure, met die geweldige verliese aan lewens en eiendom, geleë.

Die geskiedenis van Namibië roep om meer navorsing. Belangrike werk is reeds deur Britse, Amerikaanse en Duitse akademici gelewer, waaraan erkenning verleen moet word. Gerrit Pool se werk illustreer egter die feit dat ʼn Suider-Afrikaanse perspektief essensieel is om hierdie wêrelddeel se verlede goed te begryp. Dit is jammer dat hy gedurende die afgelope kwarteeu nie verdere bydraes op hierdie terrein gelewer het nie.

 

Elp Stals

Windhoek
E-pos: stals@mtcmobile.com.na

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons