SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número2-2RedakteursnotaDie Herero-opstand 1904-1907 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 no.2-2 Pretoria jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-2a11 

AKTUEEL: DEBAT

 

Besinning oor staat en samelewing

 

Reflecting on state and society

 

 

Danie Strauss

Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit. Potchefstroom Kampus. E-pos: dfms@cknet.co.za

 

 


OPSOMMING

In die klassieke oudheid en gedurende die middeleeuse era was die politieke lewe in koninkryke en ryke georganiseer waar die heerser (koning of keiser) nog nie gesien is as iemand wat 'n publiekregtelike amp beklee nie. Nogtans is nadenke oor staat en samelewing deurlopend deur twee teoretiese sienings gedomineer, naamlik 'n atomistiese (individualistiese) en 'n holistiese (universalistiese) benadering. Hierdie oriënterings het in die weg gestaan van 'n behoorlike begrip van die verhouding tussen staat en samelewing. In sy bydrae tot die diskussie oor staat en samelewing wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is, verduidelik Goosen (2016a) dat ons nie kan terugkeer tot die Griekse polis (stadstaat) nie maar dat dit ons kan herinner aan die grense van die staat. Die diepste motivering van die Griekse filosofie, gegee in die dialektiese grondmotief van materie en vorm, is kortliks verduidelik met verwysing na die wyse waarop die polis gerig is op die vorming van sy burgers in alle samelewingsfere. Wat vreemd is aan die Griekse kultuur is die erkenning van die soewereiniteit-in-eie-kring van uiteenlopende samelewingsvorme. Eers veel later sou die Calvinistiese regsgeleerde, Johannes Althusius, al was dit nie heeltemal konsewent nie, besef dat samelewingsvorme soos kerke en huwelike nie egte dele van die staat vorm nie, aangesien slegs provinsies en munisipaliteite ware dele van die staat is. Hierdie kwessies word lewendig gehou in die denke van Goosen en Malan. Aandag word aan die bydrae van Goosen tot die diskussie gegee, maar ongelukkig blyk dit dat die besware wat hy geopper het nie steekhoudend is nie. Dit word saaklilk toegelig deur te let op Goosen se opmerkings rakende die invloed van ander denkers op Dooyeweerd, waar dit in werklikheid Dooyeweerd self was wat dit in die kensketsing van die ontwikkelingsgang van sy denke vermeld het, naamlik dat hy "was strongly under the influence first of the Neo- Kantian philosophy, later on of Husserl's phenomenology." Goosen toon geen besef van die feit dat ek waarskynlik die persoon is wat die ernstigste kritiek op sleutel-aspekte van Dooyeweerd se transendentale kritiek, sy epistemologie en sy teorie van die Gegenstand-relasie uitgeoefen het nie. Hy besef ook nie dat Dooyeweerd se kritiese ontleding van die moderne filosofie in die eerste plek as self-kritiek bedoel is nie. Die tekortkominge in Goosen se beroep op die hermeneutiek word vervolgens verduidelik alvorens aandag gegee word aan die relasie tussen Goosen, Dooyeweerd en Thomas Aquinas. Daar word aangetoon dat Goosen nie sy aanspraak kon substansieer dat Dooyeweerd sy (sogenaamde neo-Thomistiese) interpretasie van Thomas se denke tot dié standaardsiening verhef het nie. 'n Resente proefskrif wat by die Radboud (Katolieke) Universiteit in Nijmegen voltooi is, bevestig die waarde van Dooyeweerd se kritiek op die Thomistiese substansiebegrip. Goosen maak hom ook skuldig aan 'n totale misverstaan van insigte wat deur Münch, Rawls en Habermas ontwikkel is en positief deur my waardeer is omdat dit na aan die beginsel van soewereiniteit-in-eie-kring is. Wat Goosen nie in my benadering opgemerk het nie, is dat ek die gelyktydige aanwesigheid van beide atomistiese en holistiese elemente in the denke van Rawls uitgewys het. Hierdie kwessies sal verder ontleed word in onafhanklike navorsingsartikels toegespits op die wysgerige voorveronderstellinge wat in nadenke oor staat en samelewing teenwoordig is.

Trefwoorde: ryk, staat, wysgerige strominge, grondmotiewe, individualisme, universalisme, soewereiniteit-in-eie-kring


ABSTRACT

In classical antiquity and during the medieval era political life was organized in kingdoms or empires in which the ruler (monarch or emperor) was not yet appreciated as occupying a public-legal office. But throughout the history of reflection on state and society two theoretical orientations dominated the scene, namely atomism (individualism) and holism (universalism). These approaches hampered a proper understanding of the relationship between state and society. In his contribution to the discussion of state and society published by the Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Goosen (2016a) explains that we cannot return to the Greek polis (city state) but that it can remind us of the limits of the state. The ultimate motivation of Greek philosophy, given in the dialectical basic motive of matter and form, is briefly explained with reference to the way in which the polis intended the cultural formation of a person in all areas of life. What is foreign to Greek culture is the acknowledgment of the sphere-sovereignty of diverse societal entities. It was only much later that the Calvinist legal scholar, Johannes Althusius, though inconsistently, realized that societal institutions such as churches and marriages are not integral parts of the state for only provinces and municipalities are true parts of the state. These issues are kept alive in the thought of Goosen and Malan. The contribution of Goosen to the discussion receives attention, unfortunately showing that the crucial objections raised by him are misdirected. This is illustrated by briefly looking at Goosen's remark regarding the alleged influence of other philosophers on the thought of Dooyeweerd, while in fact it was Dooyeweerd himself who explained his own intellectual development by stating that he "was strongly under the influence first of the Neo- Kantian philosophy, later on of Husserl's phenomenology." Goosen does not show an awareness of the fact that I am perhaps the one who has exercised the most severe criticism on crucial aspects of Dooyeweerd's transcendental critique, epistemology and theory of the Gegenstand-relation. He also does not realize that Dooyeweerd's critical analysis of modern philosophy is in the first place meant as self-criticism. The shortcomings in Goosen's appeal to hermeunetics are then articulated before attention is given to the relation between Goosen, Dooyeweerd and Thomas Aquinas. It is shown that Goosen did not substantiate his claim that Dooyeweerd elevated his (alleged neo-Thomistic) understanding of Thomas Aquinas to be the standard interpretation contributed by him. A recent dissertation completed at the Radboud (Catholic) University in Nijmegen still affirms the value of Dooyeweerd's critique of the Thomistic substance concept. Goosen also totally misunderstood insights advanced by Münch, Rawls and Habermas which I appreciated positively because they approximate the idea of sphere-sovereignty. What is not noticed by Goosen is my statement about the simultaneous presence of both atomistic and holistic elements present in the thought of Rawls. These issues will be further explored in independent research articles, dedicated to the philosophical presuppositions present in reflecting on state and society.

Key concepts: empire, state, philosophical trends, basic motives, individualism, universalism, sphere-sovereignty


 

 

1. ORIËNTERING

Die ontstaan van die moderne staat gedurende die 17de,18deen 19deeeue het tegelyk daartoe gelei dat toenemend van die monargale erfenis afskeid geneem is. In 'n koninkryk behoort die owerheidsamp nog aan die monarg omdat dit nog nie as 'n publiekregtelike amp waardeer is nie. Dit was 'n gegewe wat tot die privaat-vermoë van die vors behoort het. Gevolglik was dit nog 'n handelsitem wat in die ekonomiese verkeer verhandel kon word (dit was 'n "res in commercio").

Die opvallende van hierdie ontwikkeling is dat die nadenke oor staat en samelewing grootliks in terme van die teenstelling tussen atomistiese (individualistiese) en holistiese (universalistiese) samelewingsbeskouings verstaan is. Hierdie teenstelling het egter in die weg gestaan van pogings om die reg en die staat te begrens.1 Beide hierdie benaderings word weliswaar dwarsdeur die geskiedenis aangetref. Die filosoof Kallikles het reeds in die vroeg-Griekse era sienings gehuldig wat later in die moderne tyd deur Hobbes en Nietzsche gekontinueer is. Origens is beide die Griekse kultuur en die Middeleeue deur universalistiese beskouings gedomineer. Dat die Grieks-Middeleeuse sienings die aard van gemeenskappe positief waardeer het, soos tereg deur beide Goosen en Malan beklemtoon word, moet egter nie ons oë sluit vir die gebreke daarvan nie. Goosen verantwoord 'n verrekening van die Griekse erfenis deur tegelyk ook te wys op die distansie wat ons hedendaagse situasie van die polis era onderskei, naamlik "dat daar [nie] na die polis teruggekeer kan word nie. Die oogmerk daarmee is eerder om die moderne staat so aan sy grense te herinner" (Goosen 2016a:1248).

Hierdie opmerking roep egter tegelyk 'n vraagteken op, want dit is juis die lewensomvattende en derhalwe onbegrensde aard van die Griekse polis (stadstaat) wat met goeie reg gekritiseer kan word. Hoe kan 'n totalitêre polis ons herinner aan die grense van die moderne staat?

Die Griekse kultuur, waarby inbegrepe die Griekse filosofie, was immers in die greep van die grondmotief van materie en vorm, die motief van die ewig-vloeiende lewenstroom as dialektiese teenpool van die kultuur-religie van vorm, maat en harmonie. Die totalitêre aard van die Griekse stadstaat (polis) is daarom 'n uitdrukking van die Griekse vorm-motief wat ook die basis van Plato se opvatting van die ideale staat en van Aristoteles se siening van die polis as "outarke" gemeenskap vorm. Daarin is die mens veronderstel om tot sy hoogste vlak van vorm-volmaking (vervolmaking) te kom, naamlik sedelike deugsaamheid. Hierdie ideale aard van Plato se staat moes as model vir alle reële (werklik-bestaande) state dien. Plato het egter 'n toenemende proses van verval voorsien wat in laaste instansie onderworpe is aan die Anankē (die blinde, huiweringwekkende noodlot as uitdrukking van die materie-motief). Ten spyte van al die gebreke in Plato se opvatting van sy ideale staat moet ons tog waardering daarvoor hê dat sy teorie 'n tuiste bied vir twee deurslaggewende strukturele eienskappe van die moderne idee van die staat, naamlik die rol van geregtigheid en die funderende funksie van die soldatestand. Beide hierdie fasette belig tewens sleutel-elemente van die moderne staatsbegrip. Tog moet ons vermeld dat hierdie insigte ongelukkig in 'n teoretiese denkraamwerk ingeweef is wat as gevolg van die (universalisties-)totalitêre aard daarvan nie sinvol kon rekenskap gee van die verhouding tussen publiekreg en privaatreg nie.2

In sy omvattende werk oor die Griekse wysbegeerte verduidelik Dooyeweerd hierdie situasie soos volg:

For, as the vehicle of the culture religion, the polis is simultaneously the earthly vehicle of the form principle, which governs this religion. Paideia, in the sense of the forming of the free Greek into a citizen, meant for the popular Greek mind of classical times, and for Plato as well, the cultural formation of a person in all areas of life. Indeed, according to this view, the polis is the all-encompassing sphere of human society, which lays claim to all terrains of human life. The notion that each distinct component of society possesses a sovereignty in its own sphere that is rooted in its internal nature and created structure, a view that arose only from the ground-motive of the Christian religion, is completely foreign to the world of classical antiquity. (Dooyeweerd 2012:164-165)

Aan die einde van hierdie aanhaling vermeld Dooyeweerd die beginsel van soewereiniteit-in-eie-kring wat deur Kuyper op die voetspoor van tentatiewe formuleringe van Groen van Prinsterer ingevoer is om erkenning aan die eie-aard van verskillende tipes samelewingsvorme te verleen. Dit was egter Althusius wat vir die eerste keer besef het dat nie alles deel van die staat kan wees nie. Sosiale entiteite, soos kerke en gesinne, is nie dele van die staat soos munisipaliteite en provinsies nie (sien Althusius 1604:16). Hiermee verleen Althusius erkenning aan die aard-eie struktuurbeginsels van uiteenlopende samelewingsvorme. Hy praat van leges propriae waarvolgens "particular associations are ruled" soos deur hul eie natuur benodig word (Althusius soos vertaal in Carney 1995:16 - sien ook Woldring 1998:129-130).

Hierdie siening van Althusius is egter nog steeds verweef met 'n simbiotiese opvatting, waarvolgens hy die staat soos volg omskryf: "an imperium, realm, commonwealth, and people united in one body by the agreement of many symbiotc associations and particular bodies, and brought together under one right. For families, cities and provinces existed by nature prior to realms and gave birth to them" (Althusius 1995:66).

In hierdie opvatting leef nog iets na van die federatiewe inslag van die beginsel van subsidiariteit wat in die Rooms-Katolieke samelewingsleer aangetref word. Subsidiariteit betref die relatiewe outonomie van laere en hoëre dele van die staat (vergelyk die ontleding van subsidiariteit en soewereiniteit-in-eie-kring in Strauss 2013). Wanneer Goosen Althusius se federalisme teenoor die sentralistiese staat stel (Goosen 2016a:1248) skenk hy ongelukkig nie aandag aan Althusius se siening van "leges propriae" nie.

In die lig van die voorgaande beligting van belangrike kontoere uit die geskiedenis van die besinning oor staat en samelewing is dit begryplik waarom kontemporêre denkers, soos Goosen en Malan, nog steeds aandag aan hierdie dilemma skenk.3 Goosen en Malan se bersorgdheid oor die praktiese politiek in Suid-Afrika verdien uiteraard ondersteuning ook vanuit die oogpunt van teoretiese oorwegings. Dit sluit die erkenning van die wederkerige verbondenheid van "individu" en "gemeenskap" in - hoeseer hierdie insig ook op 'n meer genuanseerde wyse verantwoord kan word (sien Strauss 2002, 2004, 2006a en 2007). Ons onderskryf ook almal 'n kritiese ingesteldheid teenoor individualistiese samelewingsbeskouings. Wanneer "die politieke geheel" egter deur Goosen as 'n "gemeenskap van gemeenskappe" verstaan word (Goosen 2016:247), kom maatskapsverhoudinge in die gedrang en tesame daarmee 'n implisiete miskenning van die aard van die burgerlike privaatreg.

Wie egter die reaksie van Goosen en Malan op my kort toetrede tot die gesprek oor staat en samelewing lees, sal onmiddellik merk dat daar nie werklik tot 'n sinvolle gespreksvoering gekom is nie.

 

2. DIE EISE VAN GESPREKVOERING?

Dit is jammer dat daar van die beloofde "gesprek" nie werklik iets sinvol tereg gekom het nie. Malan beskuldig my daarvan dat persone in die Dooyeweerd tradisie "met ʼn abstrakte, soms esoteriese skema" werk en dat dit nie die moeite loon "om in besonderhede met hulle in debat te tree nie" (Malan 2016:1253). Op sy beurt maak Goosen (2016a) kategoriese stellings sonder om die nodige stawende uitsprake van my of Raath (of Dooyeweerd) aan te haal.

2.1 Enkele voorbeelde van ongefundeerde kritiek

Goosen skryf onder meer: "Grondliggend aan wat nie anders as 'n onhermeneutiese hermeneutiek beskryf kan word nie, lê die gedagte dat daar slegs één Plato, slegs één Aristoteles, één Aquinas of slegs één Hegel is, naamlik hul eie Dooyeweerdse vertolking" (Goosen 2016a:1246) - en dit terwyl ek nêrens in my kort gespreksbydrae 'n "vertolking" van die denke van Plato, Aristoteles, Aquinas of Hegel aanbied nie.

Aangesien Dooyeweerd nooit iewers beweer dat sy eie interpretasie van filosowe die onfeilbare waarheid oor enige ander denker bevat nie, sou Goosen minstens moes aandui waarna hy verwys, want ook ekself het Dooyeweerd nog nooit in enige opsig gekanoniseer nie. Soos hieronder nog sal blyk, is ekself waarskynlik die skerpste kritikus van Dooyeweerd. In my proefskrif oor die onderskeiding tussen Begrip en Idee skryf ek reeds pertinent dat "alle menslike insigte voorlopig, feilbaar en verbeterbaar" bly (Strauss 1973:86). Dit is egter 'n logiese sprong om hieruit te konkludeer dat aangesien menslike denke feilbaar is, bepaalde insigte of onderskeidinge inderdaad foutief is - sonder om die meriete van die saak te beredeneer. Oorweeg byvoorbeeld die probleem wat die Griekse filosofie het met syn en wording - en Plato se insig oor duursaamheid en verandering wat hieronder vlugtig vermeld word.

Goosen skryf voorts oor akademici uit die Dooyeweerd tradisie: "Implisiet aan hulle aansluiting by Dooyeweerd is 'n ontkenning van die feit dat laasgenoemde self deur die filosofiese strominge van sy eie tyd (die neo-Kantianisme, Husserl en die fenomenologie, ensovoorts) beïnvloed is. In plaas daarvan om die onvermybare historiese aard van sy denke te erken, word Dooyeweerd eerder op 'n soort tydlose podium staangemaak vanwaar hy aan ons voorskryf hoe die tradisionele denke eintlik (ten diepste, wesenlik) aanmekaar getimmer is" (Goosen 2016a:1247).

Die vraag wat hier gestel moet word is of die invloed van wysgerige strominge op Dooyeweerd ontken word?

Goosen beweer kategories dat "implisiet aan" ons "aansluiting by Dooyeweerd [is] 'n ontkenning van die feit dat laasgenoemde self deur die filosofiese strominge van sy eie tyd (die neo-Kantianisme, Husserl en die fenomenologie, ensovoorts) beïnvloed is".

(a) Dit is onjuis om Husserl en die fenomenologie naas mekaar te plaas, want Husserl is 'n fenomenoloog - hy word tewens as die grondlegger van die fenomenologie gesien. Gevolglik behoort Goosen na "Husserl SE fenomenologie" te verwys en nie na "Husserl EN die fenomenologie" nie.

(b) Voorts suggereer Goosen dat ek (en Raath) die feit "ontken" dat Dooyeweerd "self deur die filosofiese strominge van sy eie tyd ...beïnvloed is". Implisiet vervat in hierdie stelling van Goosen is die gedagte dat Dooyeweerd self ook nie besef dat hy met verskillende (eietydse) denkstrominge geworstel het of daardeur beïnvoed is nie. Ongelukkig is hierdie opmerking van Goosen nie steekhoudend nie. Ons hoef slegs te let op wat Dooyeweerd sélf in die Voorwoord van sy Magnum Opus skryf (A New Critique of Theoretical Thought, [NC] Vol.I, bladsy v):"Originally I was strongly under the influence first of the Neo- Kantian philosophy, later on of Husserl's phenomenology" (sien Dooyeweerd 2016-I:v).

In sy haas om Dooyeweerd se denke histories te relativeer (sonder om enige stawende aanhalings uit Dooyeweerd se werke te gee of om daarmee in gesprek te tree) formuleer hy 'n ongegronde aanklag, want Dooyeweerd het hom vooruitgeloop deur self-krities na die invloed van die neo-Kantianisme en die fenomenologie in sy intellektuele ontwikkeling te verwys.

(c) Goosen dra klaarblyklik ook geen kennis van die feit dat ekself in my bogemelde proefskrif die mees indringende kritiek op Dooyeweerd se transendentale kritiek en op sy ken-teoretiese siening van die sogenaamde Gegenstands-relasie uitgeoefen het nie. Ek onderken in Dooyeweerd se opvatting van die Gegenstand-relasie 'n Kantiaanse res (sien Strauss 1973:128-129). Kort voor sy afsterwe (in 1977) het Dooyeweerd nog vir oulaas op my kritiek gereageer. In 1983 het die Redaksie van Philosophia Reformata my gevra om die epistemologiese debat saam te vat (sien Strauss 1984).

(d) Dooyeweerd se self-kritiese ingesteldheid blyk onder meer ook uit die wyse waarop hy die groot keerpunt in sy denke beskryf. Hy stel dit soos volg:

The great turning point in my thought was marked by the discovery of the religious root of thought itself, whereby a new light was shed on the failure of all attempts, including my own, to bring about an inner synthesis between the Christian faith and a philosophy which is rooted in faith in the self-sufficiency of human reason. (Dooyeweerd 2017-I:v)

Dooyeweerd se kritiek op die moderne filosofie - wat iets wat immanent in die skepping is tot allesomvattende verklaringsbeginsel verhef 4 - moet volgens hom allereers as self-kritiek beskou word omdat hy die problematiek daarvan self eksistensieel deurworstel het:

I wish to repudiate any self-satisfied scientific attitude in confronting immanence-philosophy. The detailed criticism of the Humanistic immanence-philosophy in the second part of the first volume, must be understood as self-criticism, as a case which the Christian thinker pleads with himself. Unless this fact is understood, the intention of this philosophy has not been comprehended. I should not judge immanence-philosophy so sharply were it not that I myself have gone through it, and have personally experienced its problems. I should not pass such a sharp judgment on the attempts at synthesis between non-Christian philosophy and the Christian truths of faith, had I not lived through the inner tension between the two and personally wrestled through the attempts at synthesis. (Dooyeweerd 2016-I:viii)

Beteken die standpunt wat Goosen inneem dat wanneer 'n denker 'n nuwe interpretasie van enige historiese figuur ontwikkel dit noodwendig uitloop op en afgemaak moet word as "onhistories" en "hermeneuties vasgevang" te wees in 'n "tydkapsule"? En is hierdie opmerking nie sélf 'n miskenning van "die onvermybare historiese aard" van Goosen se eie denke nie? (sien Goosen 2016a:1247).

Goosen se benadering plaas eintlik 'n verbod op die onthulling van enige insigte of gegewens met 'n duursame strekking - wat dan tegelyk 'n vraagteken plaas by sy eie poging om bepaalde positiewe gesigspunte aan die Griekse polis te verbind. Oordink byvoorbeeld Plato se worsteling met Herakleitos se oortuiging dat alles voortdurend verander. In sy dialoog Kratylos soek Plato na 'n oplossing vir hierdie probleem deur daarop te wys dat indien alles voortdurend verander ons nooit iets sal kan ken nie, want die oomblik waarin ons meen om iets te ken het dit immers reeds in iets anders verander (vgl. Kratylos 339e-440a). Daarom postuleer Plato dat die dinge in die sigbare wêreld van verandering (genese) 'n "eie wese" (auto to eidos) besit wat in 'n transendente ryk van ewige, statiese vorme (ideë) hul tuiste vind. Die insig wat Plato geopenbaar het hou egter nog steeds stand, naamlik dat ons verandering slegs op die basis van duursaamheid (konstansie) kan vasstel.

Hieruit volg dit dat die blote historiese gesitueerdheid van 'n denker geensins beteken dat die betrokke denker nie op stande van sake kon stuit waarvan ons vandag nog steeds rekenskap moet gee nie. Die vrugbaarheid van Dooyeweerd se ontledings en onderskeidinge is toeganklik vir enige denker - vanuit watter agtergrond ook al - wat tewens verklaar waarom denkers vanuit verskillende lewensbeskoulike agtergronde waardering vir Dooyeweerd kan uitspreek. Enkele voorbeelde daarvan word in 'n inligtingstuk van die Dooyeweerd Center vermeld.5 Voeg hierby die gegewe dat die "Stichting voor Christelijke Filosofie" aan vyf staatsuniversiteite in Nederland "Bijzondere Leerstoelen in Reformatorische Wijsbegeerte" in stand hou.6

Om terug te keer tot die reaksie van Goosen moet gestel word dat dit opvallend is dat hy hom nie verwerdig om op enige van die onderskeidinge wat ek in my kort bydrae na vore bring te reageer nie. Hy tree grootliks met Dooyeweerd in gesprek in plaas van met my - so asof ek 'n klakkelose epigoon van Dooyeweerd is. Van my eie selfstandige wysgerige ontwikkelingsgang sedert 1965 dra Goosen oënskynlik geen kennis nie. Ook nie van die feit dat ek waarskynlik, soos hierbo vermeld, van die mees indringende kritiek op Dooyeweerd gelewer het (onder meer op sy transendentale kritiek, sy kennisleer en sy siening van die Gegenstand-relasie).

2.2. Goosen, Dooyeweerd en Thomas Aquinas

Hoewel ek in my besprekingsbydrae nie eers na Thomas Aquinas verwys nie, merk Goosen op: "Dooyeweerd se neo-Thomistiese interpretasie van Aquinas van die eerste helfte van die vorige eeu is kennelik deur die neo-Thomistiese vertolking van Aquinas uit die moderne era beïnvloed" (Goosen 2016a:1247). Na sy mening het Dooyeweerd "dié moderne vertolking tot standaard-vertolking verhef - en dit tegelyk ook afgeskiet" (Goosen 2016a:1247). Volgens hom neem ons nie kennis van die "enorme verskuiwinge wat tydens die afgelope dekades met betrekking tot ons verstaan van Aquinas ingetree het" nie, want "Dooyeweerd se vertolking [word] eenvoudig as dié vertolking toegeëien" (Goosen 2016a:1247).

Hoe enige denker 'n bepaalde interpretasie "tot standaard-vertolking" kan verhef, begryp ek nie. Goosen ken hier supra-rasionele hermeneutiese vermoëns aan Dooyeweerd toe, wat laasgenoemde vriendelik van die hand sou wys. Nog minder verstaanbaar is die aanklag dat hierdie sogenaamde "standaard vertolking" deur Dooyeweerd "afgeskiet" is maar tegelyk steeds as "dié vertolking toegeëien" word. En nog steeds weet die leser van Goosen se artikel nog glad nie wat presies die neo-Thomistiese vertolking is wat deur Dooyeweerd tot standaard-vertolking verhef is en tegelyk afgeskiet is nie.7

Die blootlegging van die diepste radikale en integrale dryfkragte wat die Westerse beskawingsgeskiedenis gerig en gestuur het word in talle geskrifte deur Dooyeweerd uiteengesit (vgl. allereers Dooyeweerd 2012d). Wie daarmee in gesprek wil tree, sal minstens grondig moet kennis neem van sy geskrif oor die ontwikkelingsgang van die Griekse wysbegeerte tot en met Plato. Hierdie werk bevat een van die mees omvattende analises van die dialektiese ontwikkeling van Plato se denke waaroor ons beskik (Dooyeweerd 2012a:147-323). Tegelyk sal Goosen in hierdie werk van Dooyeweerd sy vroeër-vermelde verduideliking vind van hoe die polis-gedagte in die Griekse grondmotief ingebed is. Aristoteles en Thomas Aquinas kom uitvoerig in die tweede Volume van hierdie trilogie ter sprake (Dooyeweerd 2012b).

Die kern van Dooyeweerd se bemoeienis met die denke van Aristoteles en Thomas Aquinas is geleë in sy blootlegging van die Grieks-heidense grondmotief van vorm en materie wat aan die wortel van Aristoteles se denke lê en die grondmotief van natuur en genade waarin 'n poging aangewend is om die Griekse grondmotief met die Bybelse grondmotief van skepping, sondeval en verlossing te versoen.8 Dit gaan hier oor oorspronklike nuwe insigte wat Dooyeweerd ontwikkel het - wat juis nie by die neo-Thomisme aangetref word nie. Dooyeweerd se idee van 'n sentrale grondmotief asook sy idee van individualiteitstrukture (sy alternatief op die onhoudbare substansiebegrip van Aquinas), is afwesig by die neo-Thomisme.

Dit is interessant dat daar meer resent 'n proefskrif by die (Katolieke) Radboud Universiteit van Nijmegen verskyn het wat op hoogte is met die ontwikkelinge gedurende die tweede helfte van die vorige eeu (waarna Goosen verwys), maar wat ondubbelsinnig verklaar dat sy kritiek op Thomas se substansie-begrip 'n bevestiging is van die kritiek wat Dooyeweerd reeds in die jare veertig van die vorige eeu op Aquinas se denke na vore gebring het. Ter Horst verklaar:

Geleidelijk aan werd mij daarbij duidelijk dat mijn kritische vraagstelling in belangrijke mate verwant was aan een vroeger reeds door Herman Dooyeweerd geformuleerde Thomas-kritiek. Hoewel ik niet kan bogen op een uitvoerige Dooyeweerd studie, is mijn werk met name schatplichtig aan Dooyeweerds vierdelige artikel over het thomistisch substantiebegrip (zie de Bibliografie) (Ter Horst 2008:Voorwoord).9

Hier is dus iemand wat volkome op hoogte is met ontwikkelinge in die Thomas-verstaan na Dooyeweerd maar wat pertinent verklaar dat hy by Dooyeweerd in die skuld is ten opsigte van sy kritiek op die substansie-begrip van Thomas.10

Ons let vervolgens op nog 'n voorbeeld van die ontsporing van die gesprek met Goosen. Hy skryf:

Terwyl die Dooyeweerdse denkers telkens voorgee om op 'n kritiese afstand teenoor die liberale modernisme te staan, omhels hulle belangrike aspekte daarvan. Tekenend daarvan is hulle beroep op sommige van die belangrikste hedendaagse vertolkers van die liberale modernisme soos Rawls en Habermas. Laasgenoemde denkers is daarvoor bekend dat hulle die politieke (ook die politiek van gemeenskapselfstandigheid) met sy tipiese soeke na antwoorde binne die wêreld van die praktiese met 'n teoretiese vertroue in die juridiese vervang. (Goosen 2016a:1250)

Hierdie paragraaf van Goosen is geskryf in reaksie op my kort toetrede tot die gesprek. Dit volg op my afwysing beide van 'n individualistiese en 'n universalistiese benadering en my aansluiting by Kuyper en Dooyeweerd wat die treffende bogemelde uitdrukking "soewereiniteit-in-eie-kring" ingevoer het om van verskillend-geaarde samelewingsvorme se interne (en derhalwe begrensde mags-)bevoegdhede rekenskap te gee (Strauss 2016:879). Ek vermeld drie figure: Münch, Rawls en Habermas.

Ek wys allereers daarop dat die rasionalisering van die moderne samelewing volgens Münch toenemend gelei is deur die "inner laws" van verskillende samelewingsfere. Dit vind aansluiting by "Weber's theory of the rationalization of modern society into spheres that are guided to an increasing extent by their inner laws" (Münch 1990:442).

Die gedagte van "inner laws" gaan die dilemma van individualisme (atomisme) en universalisme (holisme) te bowe - 'n spanningsverhouding wat origens nog steeds in die denke van Rawls en Habermas aanwesig is. Daarom verwys ek (sien Strauss 2016:879) ondubbelsinnig na die feit dat "Rawls se denke uiteen gebreek word deur die gelyktydige aanwesigheid van atomistiese en holistiese tendense" (sien Strauss 2006).

My vervolg-opmerking op bladsy 879 (van Strauss 2016) lui dat "hy tog soms daarin [slaag] om bo hierdie dilemma uit te styg - naamlik wanneer hy besef dat verskillende wette van toepassing is op onderskeie soorte subjekte: "But it is the distinct purposes and roles of the parts of the social structure, and how they fit together, that explains there being different principles for distinct kinds of subjects" (Rawls 1996:262).11

My opmerking dat "Rawls se denke uiteen gebreek word deur die gelyktydige aanwesigheid van atomistiese en holistiese tendense" ontgaan Goosen volkome. Klaarblyklik veroorsaak die blote verskyning van die name "Rawls" en "Habermas" dat Goosen 'n rooi vlag sien, want hy konkludeer onmiddellik [en volkome ten onregte] dat "die Dooyeweerdse denkers 'belangrike aspekte' van hul [Rawls en Habermas se] denke 'omhels'." Reeds in 2006 het ek egter uitvoerig op die dominante individualistiese en holistiese (universalistiese) oortuigings van Rawls ingegaan (sien Strauss 2006:67 e.v. en 73 e.v.).

Goosen besef nie dat ek die besware wat hy teen die liberale individualisme opper ondersteun nie en ewe min gee hy blyke daarvan dat hy my eie kritiek op die individualisme verstaan het. 'n Raakpunt van saamstem word dus kunsmatig en sonder begrip tot 'n teenstelling verhef. Langs hierdie weg word geen bydrae tot 'n sinvolle "gesprek" gemaak nie.

Eers wanneer in meer besonderhede aandag gegee word aan die onvermydelike boustene van 'n genuanseerde (en nie-reduksionistiese) samelewingsfilosofie sal die tekortkominge van 'n individualistiese en universalistiese samelewingsbeskouing aangetoon kan word. Dit sal egter moet geskied in verdere navorsingsartikels.

 

BIBLIOGRAFIE

Althusius, J. (1604). Politica Methodice Digesta [Collection of Systematic Political Views] (1604, 3rd Edition 1614), The Politics of Johannes Althusius; an abridged translation of the 3rded. of Politica Methodice Digesta, Atque exemplis sacris et Profanis illustrata / Althusius, Johannes; translated, with an introduction by Frederick S. Carney, 1965 (reprint 1995). London: Eyre and Spottiswoode.         [ Links ] See also the complete translation: Althusius, J. 1979. Politica Methodice Digesta of Johannes Althusius (Althaus), with an introduction by Carl Joachim Friedrich. New York: Arno Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 1943-1946. "De idee der individualiteits-structuur en het thomistisch substantiebegrip. Een kritisch onderzoek naar de grondslagen der thomistische zijnsleer." In: Philosophia Reformata 8 (1943): 65-99 (I); 9 (1944): 1-41 (II); 10 (1945): 25-48 (III); 11 (1946): 22-52 (IV).         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2012. Roots of Western Culture. Pagan, Secular, and Christian Options. The Collected works of Herman Dooyeweerd, Series B, Volume 15 (Hoofredakteur: D.F.M. Strauss).         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2012a. Reformation and Scholasticism in Philosophy. The Collected works of Herman Dooyeweerd, Series A, Volume 5/1 (Hoofredakteur: D.F.M. Strauss).         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2012b. Reformation and Scholasticism in Philosophy. The Philosophy of the Cosmonomic Idea and the Scholastic Tradition in Christian Thought. The Collected works of Herman Dooyeweerd, Series A, Volume 5/2 (Hoofredakteur: D.F.M. Strauss).         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 2016. A New Critique of Theoretical Thought, Collected Works of Herman Dooyeweerd, A Series Vols. I-IV, Hoofredakteur, D.F.M. Strauss. Grand Rapids: Paideia Press. (Herdruk van die oorspronklike uitgawe - 1953-1958).         [ Links ]

Goosen, D. 2016. Die werklikheid as deelnemende gebeure, of die verwikkelde samehang tussen eenheid en veelheid. In: Duvenhage, P. 2016. Afrikaanse Filosofie, Perspektiewe en dialoë. Bloemfotein: Sun Press, pp. 221-248.         [ Links ]

Goosen, D. 2016a. Hermeneutiek, sisteme en state. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-2):1246-1251.         [ Links ]

Malan, K. 2011. Politokrasie: 'n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir 'n antwoord daarop. Pretoria: Pretoria University Law Press.         [ Links ]

Plato, 1973. Edited by E. Hamilton & C. Huntington: The Collected Dialogues of Plato; Including the Letters. Princeton: University Press.         [ Links ]

Raath, A. 2015. Political Naturalism and the French "Nouvelle Droite": Reflections On Politocratic Communitarianism in Contemporary Afrikaans Political Literature. Journal for Contemporary History / Joernaal vir Eietydse Geskiedenis 40(2):110-132.         [ Links ]

Raath, A.G.W. 2016. Politieke en regsfilosofiese perspektiewe op politokratiese kommunitarisme: ʼn Diskoers met Danie Goosen en Koos Malan. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 56 No. 2-2: Junie 2016:573-591 - doi.10.17159/2224-7912/2016/v56n2-2a4.         [ Links ]

Raath, A.G.W. 2016a. Regs- en staatsosiologiese grondslae van politokratiese kommunitarisme. 'n Gesprek oor enkele aspekte van die meta-etiese historisme in die Afrikaanse politieke en regsliteratuur. Tydskrif vir Christelike Wetenskap/Journal for Christian Scholarship - 52(1):55-90.         [ Links ]

Strauss, D.F.M 1973. Begrip en Idee. Assen: Van Gorcum.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 1984. An analysis of the structure of analysis, (The Gegenstand-relation in discussion). Philosophia Reformata. 49(1): 35-56.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2002. Is it meaningful to juxtapose "individual" and "society"? Society in Transition. 33(1):96-115.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2004. Transcending the impasse of individualism and universalism in sociological theory, Society in Transition, 35(1): 165-182.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2006. The mixed legacy underlying Rawls's Theory of Justice. Journal for Juridical Science, 31(1):61-79.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2006a. Beyond the opposition of individual and society, Part I, Acknowledging the constitutive social function of being an individual and 'de-totalizing' the idea of 'society', South African Review of Sociology, December 37(2):143-164.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2007. Beyond the opposition of individual and society, Part II, The 'category-mistake' entailed in this opposition, South African Review of Sociology, 2007 38(1):1-19.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2012. A history of attempts to delimit (state) law. Journal for Juridical Science, 37(2):35-64.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2013. Sphere sovereignty, solidarity and subsidiarity. Tydskrif vir Christelike Wetenskap 49(3):93-123).         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2016. Die debat oor die moderne staat.Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(3):876-880.         [ Links ]

Ter Horst, G. 2008. De Ontbinding van de substantie, Een deconstructie van de beginselen van vorm en materie in de ontologie en de kenleer van Thomas Aquinas. Delft: Uitgeverij Eburon.         [ Links ]

Woldring, H.E.S. 1998. The Constitutional state in the Political Philosophy of Johannes Althusius. European Journal of Law and Economics, 5:123-132.         [ Links ]

 

 

 

DANIE STRAUSS word in 1971 as senior lektor in Wysbegeerte aan die destydse UOVS aangestel. Vanaf Januarie 1976 is hy bevorder tot medeprofessor en in Oktober 1977 word hy aangestel as professor en hoof van die Departement Wysbegeerte aan die UOVS. In 1994 vertrek by na Kanada waar hy as eerste Direkteur van die Dooyeweerd Centre die publikasie van die versamelde werke van Herman Dooyeweerd in Engels van stapel stuur. Hy keer in 1997 terug na Suid-Afrika en vanaf April 1998 tot 31 Desember 2001 ageer hy as Dekaan van die nuwe Fakulteit van Geesteswetenskappe aan die UVS. Benewens 15 selfstandige publikasies, 42 internasionale konferensievoordragte en 20 bydraes tot versamelde werke het meer as 290 vakartikels in nasionale en internasionale tydskrifte uit sy pen verskyn. In 2005 is 'n werk oor die wysgerige grondslae van die moderne natuurwetenskappe deur die Duitse Uitgewer Peter Lang gepubliseer, Paradigmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 het 'n werk oor die sosiologie ook by Peter Lang verskyn - Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford: New York). In 2009 het sy werk, Philosophy: Discipline of the Disciplines by Paideia Press, Grand Rapids, USA verskyn (715 pp.). In 2011 is dit in Amsterdam deur die Stichting Reformatorische Filosofie beloon as die mees omvattende uitbouing van die sistematiese erfenis van hierdie filosofie. Sedert 2013 is Danie Strauss Navorsingsgenoot by die Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Kampus.
DANIE STRAUSS was appointed as senior lecturer in Philosophy at the then University of the Orange Free State (UOFS) in 1971. He was promoted to associate professor in January 1976 and in October 1977 he became professor and head of the Department of Philosophy at the UOFS. In 1994 he went to Canada, where as the first Director of the Dooyeweerd Centre, he initiated the publication of the collected works of Herman Dooyeweerd in English. He returned to South Africa in 1997 and from 1 April 1998 to 31 December 2001 he was Dean of the new Faculty of Humanities at the UFS. Apart from 15 independent publications, 42 international conference papers and 20 contributions to collected works, he has published 290 articles in national and international journals. In 2005 his work on the philosophical foundations of the modern natural sciences was published by Peter Lang Publishers - Paradigmen in Mathematik, Physik und Biologie und ihre philosophische Wurzeln (216 pp.) (Frankfurt am Main). In 2006 Peter Lang published his work Reintegrating Social Theory - Reflecting upon human society and the discipline of sociology (310 pp.) (Oxford New York). In 2009 his work, Philosophy: Discipline of the Disciplines was published by Paideia Press, Grand Rapids, USA (715 pp.). In 2011 this book received the award for work in the fields of systematic philosophy or the history of philosophy for advancing the cause of the "Philosophy of the Cosmonomic Idea". Since 2013 Danie Strauss is a Research Fellow at the School of Philosophy, North West University, Potchefstroom Campus, South Africa.
1 Vergelyk vir hierdie beredenering Strauss (2012); asook Strauss (2016).
2 In werklikheid ontken Plato enige kruissnydende verbindingslyne tussen hierdie twee regsfere: die twee publieke stande is uitgesluit van die privaat sfeer terwyl die derde stand op sy beurt geensins deel het aan die publieke sfeer nie.
3 Die debat hieroor is intussen verder gevoer deur Andries Raadt - in verskeie tydskrifte (Raath 2015, 2016a en 2016b). Sien ook Goosen (2016a) en Malan (2016).
4 Hy noem so 'n benadering "immanensie-filosofie" en vind dit vergestalt in die talle ismes wat die geskiedenis van die filosofie en die verskillende vakwetenskappe deurkruis - soos byvoorbeeld aritmetisisme, fisikalisme, vitalisme, psigologisme, logisisme, historisme, estetisisme, legalisme en moralisme.
5 ". . . the most original philosopher Holland has produced, even Spinoza not excepted" - Prof. G.E. Langemeijer (former Attorney General of the Dutch Appeal Court and a former Chairman of the Royal Dutch Academy of Sciences - he is not a Christian - 1965). (2) ". . . the most profound, innovative, and penetrating philosopher since Kant" - Giorgio Delvecchio (a well-known Italian neo-Kantian philosopher). (3) "Herman Dooyeweerd is undoubtedly the most formidable Dutch philosopher of the 20th century.
As a humanist I have always looked at 'my own tradition' in search for similar examples. They simply don't exist" - Dr. P.B. Cliteur (President of the 'Humanist League' in The Netherlands and Professor of philosophy at the Technical University of Delft - 1994). (4) An internationally well-known Dutch philosopher, C.A. Van Peursen (who was practically throughout his life-time a critical conversation-partner radically differing from Dooyeweerd and who influenced many philosophers worldwide), at the end of his life remarked that many books written within the domain of philosophy of science should not have been written had the authors familiarized themselves with Dooyeweerd's insights (1995).
6 Vergelyk die volgende web-tuiste: https://nl.wikipedia.org/wiki/Stichting_voor_Christelijke_Filosofie#Bijzondere_leerstoelen waar die volgende besondere leerstoele wat tans bestaan vemeld word: Prof. dr. Marc de Vries (Delft); Prof. dr. Maarten Verkerk (Eindhoven en Maastricht); Prof.dr. Henk Jochemsen (Wageningen); Prof. dr. Renée van Riessen (Leiden); Prof. dr. Jan Hoogland (Twente). Die eerste Leerstoele is reeds in 1947 gevestig). Studente kan by hierdie Universiteite promoveer. Laastens: gedurende die afgelope 35 jaar is daar ongeveer elke vyf jaar 'n internasionale konferensie iewers in Nederland (in 2016 ook in België) gehou wat normaalweg deur tussen 150 en 200 akademici wêreldwyd (uit 20 tot 25 lande) bygewoon word.
7 Goosen se volledige uitspraak is: "Dooyeweerd se vertolking van Aquinas is kennelik deur die neo-Thomistiese vertolking van Aquinas uit die moderne era beïnvloed. Laasgenoemde is ook dié vertolking wat tydens die eerste helfte van die twintigste eeu 'n buitengewoon prominente (en bygesê, versmorende) rol in die Aquinas-resepsie gespeel het. Dooyeweerd het dié moderne vertolking tot standaard-vertolking verhef - en dit tegelyk ook afgeskiet. In plaas daarvan dat ons eie Dooyeweerdse denkers op 'n grondige wyse kennis geneem het van byvoorbeeld die enorme verskuiwinge wat tydens die afgelope dekades met betrekking tot ons verstaan van Aquinas ingetree het, word Dooyeweerd se vertolking eenvoudig as dié vertolking toegeëien. Is hulle hermeneuties in 'n tydkapsule vasgevang?" (Goosen, 2016a:1247).
8 Die moderne humanistiese grondmotief van natuur en vryheid (natuurwetenskapsideaal en persoonlikheidsideaal) het uit die smeltkroes van die Renaissance ontstaan as 'n poging om die pas-vermelde drie grondmotiewe te transformeer en in 'n nuwe sintese, gerig op die outonome vryheid van die mens, op te neem.
9 Ter Horst verwys na die volgende geskrifte van Dooyeweerd (sien Ter Horst, 2008:410): DOOYEWEERD, H., "De idee der individualiteits-structuur en het thomistisch substantiebegrip. Een kritisch onderzoek naar de grondslagen der thomistische zijnsleer." In: Philosophia Reformata 8 (1943) 65-99 (I); 9 (1944) 1-41 (II); 10 (1945) 25-48 (III); 11 (1946) 22-52 (IV). DOOYEWEERD, H., "Het substantiebegrip in de moderne natuurphilosophie en de theorie van het enkaptisch structuurgeheel" In: Philosophia Reformata 15 (1950) 66-139. DOOYEWEERD, H., A New Critique of Theoretical Thought (vol. III: The Structures of Individuality of Temporal Reality), Paideia Press LTD - Ontario 1984 (1969).
10 Ter Horst gebruik die verhouding tussen konstansie en dinamiek (syn en wording) om die Griekse dialektiek te tipeer: "Historisch liggen de verhoudingen namelijk omgekeerd en wortelt het substantiebegrip in het Griekse denken in het probleem van wording en verandering: hoe kunnen we zeggen dat iets ís, wanneer de ervaring ons leert dat alles voortdurend verandert? De oplossing van Parmenides en in mindere mate van Democritus is om het worden te herleiden tot het zijn. De oplossing van Heraclitus is om het zijn te herleiden tot het worden. Plato's oplossing is om zowel het worden als het zijn te behouden door ze over verschillende domeinen te verdelen. Aristoteles' oplossing tenslotte poogt beide te behouden door ze op een heel bepaalde wijze met elkaar te verenigen" (Ter Horst, 2008:68).
11 Van Habermas haal ek aan: "In sy bespreking van globalisasie verbind Habermas die 'klassieke leerstuk van die staat' aan die idee van private lewensfere: "the state maintains law and order within the borders of its own territory and guarantees security for citizens within their own private spheres of life" (Habermas 2001:81).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons