SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2-2Ethical sensitivity of practising audiologists author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.2-2 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-2a1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Die etos van die hedendaagse kenniswerker

 

The ethos of the contemporary knowledge worker

 

 

Fanie De Beer

Departement Inligtingkundem, Universiteit van Pretoria. E-pos: Fanie.debeer@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel besin oor die etos van die hedendaagse kenniswerker en die relevansie daarvan vir die wetenskappe van die gees soos dit ontwikkel is in die boek van Alan Liu The laws of cool: knowledge work and the culture of information. Volgens hom is "die toon of stand van die hedendaagse samelewing" van so ʼn aard dat dit dringende herstel behoef. Die hedendaagse lewe, die hedendaagse samelewing ly, is siek; ons ervaar ʼn sosiopatologie van kennisverlies en word daarom bedreig deur ernstige katastrofes. Dit konfronteer ons met ʼn enorme uitdaging. Om hierdie uitdaging die hoof te bied en aan die herstelproses mee te werk moet daarna gesoek word om "goed in te lig of te informeer" waarvoor ʼn "lewe-informerende houding" die noodsaaklike voorwaarde is. Die aard van die informeringstaak word bepaal deur die begrip "lewe" en nie deur geld, of die Mark, of geïsoleerde probleme, of informasie nie, maar lewe. Dit wil sê omvattend en diepgaande informering is nodig. Dit is die taak van die geletterdes (wat geletterheidvolheid belewe en najaag): poëties, fiksioneel, wetenskaplik en wetevol, hipertekstueel en multi-mediamatig, op voorwaarde dat nie een hiervan verblind mag word deur en verbonde is aan ideologiese vertolkinge en verdraaiinge van die werklikheid nie wat op alle gebiede oorvloedig in omloop is. Hierdie "nuwe literêres" wat in die werk van Liu (2004) voorrang geniet, behoort versterk te word deur die ingesteldheid van diegene wat geestelik toegerus is met die meervoudig-konnektiewe intelleksie, "die troebadoer van kennis" van Michel Serres, wat terselfdertyd ook toegerus is met die etos van die onbekende. Wie ook al sodanig toegerus is, sal ideale kandidate wees vir die verlangde sosioterapeutiese taak, in die belang van die herinvensie van kennis in die volle sin van die woord.

Trefwoorde: Kenniswerker, etos, etos van nie-kenning, etos van die onbekende, lewe-informerende houding, sosiopatologie, sosioterapie, teen-informasionele fantasie, die nuwe literêre


ABSTRACT

This article reflects on the ethos of the contemporary knowledge worker and its relevance for the sciences of the spirit today as explored by Alan Liu in his book The laws of cool: knowledge work and the culture of information. According to him the tone of contemporary life needs repair. Why and what does this mean? Something must be wrong, but what? If one reads between the lines it may have to do with "the ethos of 'unknowing'", referring to what has been, in the framework of this ethos, abandoned through "creative destruction" (the established, the customary, the familiar, the comfortable), and to what has vanished in terms of "cool" (when cool is interpreted as the techno-informatic vanishing point of contemporary aesthetic, psychology, morality, politics, spirituality, and everything): the disastrous consequences of "an ethos of unknowing". In brief it can be stated that it is about the absence of or loss of insight and wisdom in favour of calculation.
The ethos of unknowing puts obstacles in the way of knowing; it forbids access to certain domains of knowledge; it reflects the culture of "creative destruction". This refers specifically to the currently forbidden domains of the sciences of the spirit, to the deeper senses of knowledge. These deeper senses of knowledge are disturbing factors to the flow of information and therefore it must itself be disturbed, even fatally if possible. These manifestations are all linked: This is the contemporary tone of life that characterises societies in desperate need of repair.
To help with this required repair it would be necessary to inform well. In order to inform well in such a way that the tone of contemporary life can be repaired, we have to accept the challenge posed by "the ethos of informationalism" with its focus on "creative destruction" (Castells) and with its solid involvement with operationalisation (Lash) and with the pertinent implication of "an ethos of unknowing". For this purpose a counter-ethos is suggested by Liu when he inverted the question of Castells: The question should not be What is the ethical foundation of the network enterprise or spirit of informationalism, but rather what ethical foundation enables identities to live an un-networked, and counter-informational fantasy within the spirit of informationalism? What room may there be for a counter-ethos within the dominant ethos of informationalism? Although this spirit cannot be escaped the struggle remains within it in order to overcome its absolutised position that can only materialise when a life-informing attitude provides the inspiration towards "destructive creation".
What is this life-informing attitude? It should be an attitude that does not primarily focus on needs of whatever nature, or on problems in isolation. The life-informing attitude is comprehensive and all-inclusive in nature and should focus on sense-giving and care-taking that involves the whole person in a whole world. This is where spirituality comes into the picture: wisdom is needed. Hereby emphasis is put on the capacity humans have, and only humans, to be life-informing beings. That is precisely why the position and presence of the sciences of the spirit ought to be non-negotiable.
What is the deepseated inspiration and mindset of the life-informing attitude? The answer is: an awareness of and an indulgence in the ethos of the unknown that refers to the imagination of the age of knowledge work, in other words to the capacity humans possess to penetrate right into what lies beyond it, and to what it does remind us of, as well as to what we can only dream about or fantasise about. This is the reason why a counter informational fantasy is necessary here - a fantasy about the currently forbidden domains or activities of the sciences of the spirit. It is almost a matter of the absolutisation of the incalculable. We have to re-introduce what is abandoned and what has vanished away, what is forbidden and what is forgotten: comprehension, meaning, care - the spiritual, in other words - and life in particular, a poetics of life.

Key concepts: Knowledge worker, ethos, the ethos of unknowing, the ethos of the unknown, life-informing attitude, socio-pathology, socio-therapy, counter informational fantasy, the new literary


 

 

INLEIDING

Die betekenis van "kenniswerker" het in die jongste tyd aansienlik in omvang toegeneem. Byna alle mense in professionele situasies kwalifiseer deesdae as kenniswerkers, en nie meer alleen of hoofsaaklik biblioteek- en inligtingkundiges nie. Terselfdertyd moet in gedagte gehou word dat die begrip kenniswerker verband hou met kennis en met bepaalde kennisopvattings. Hoewel hulle almal as kenniswerkers deurgaan, is sekere domeine besig om in belangrikheid as kennisdomeine ernstig in te boet. Hier is die geesteswetenskappe veral in die gedrang. Dit word ʼn kennisgebied wat veral om finansiële redes eintlik nie meer as kennisgebiede bekend behoort te wees nie. Eenvoudig gestel: Mense, maar veral instellinge, maak nie geld uit filosofie en letterkunde nie en omdat hierdie gebiede nie ekonomiese waarde het nie, het dit in dié opsig geen waarde nie. Die opvatting maak dus die geesteswetenskappe waardelose vakgebiede en studiegebiede. Dit vertel ouers ook aan hulle kinders. Hierdie artikel besin oor die geldigheid van hierdie opvattinge en die probleem wat met sodanige opvattinge verband hou en gehandhaaf word, veral aan die hand van die besonder aanbevelenswaardige en diepgaande studie van Alan Liu, professor van Engels aan die Universiteit van Kalifornië in Santa Barbara, VSA in hierdie verband: The laws of cool: knowledge work and the culture of information (2004).

Die implikasie van bogestelde standpunt waarteen Liu betoog is dan dat kenniswerk nie werk in die geesteswetenskappe insluit nie. Mense behoort hulle nie hiermee te bemoei nie. Eintlik is geesteswetenskaplike kennis volgens hierdie opvattinge nie egte kennis nie. Behalwe dat dit nie ekonomiese waarde het nie en dus nutteloos is, berus dit eintlik op spekulasie en bygeloof aangesien die gegewens wat hier ter sprake gebring word onmeetbaar, onweegbaar en onverifieerbaar is. Hierdie "waarhede" oor die geesteswetenskappe word luidkeels as onbetwisbaar van verhoë af en oor kateders heen verkondig.

Sekere ideologiese standpunte, veral ekonomisties en selfs suiwer metafisies van aard, speel ʼn belangrike rol in hierdie verband. Ons vergeet egter dat hierdie standpunte op hulle beurt ook niks anders is nie as versteekte geesteswetenskaplike of minstens geestesaktiwiteite wat min met geldmaak en kennisverwerwing in die volle sin te doen het. Die besinning oor "die etos van die hedendaagse kenniswerker" is dus ʼn besinning oor hierdie problematiek wat gepaardgaan met die feit dat sekere vakgebiede as 't ware oorbodig verklaar word en met ernstige skeptisisme bejeën word en daarom geen plek meer het of gegun word nie. Dit gebeur ondanks die feit dat aktiwiteite soos die poëtiese en die filosofiese, wat veral in hierdie proses in die slag bly, sulke vanselfsprekende wyses van menslike skeppende ekspressie is dat hulle kwalik enige motivering nodig het. In so ʼn besinning moet gekyk word na wat in die plek hiervan gestel word, wat in die proses van plekontkenning prysgegee word en dus verlore gaan en wat die moontlike gevolge daarvan kan wees selfs van katastrofiese omvang, indien ʼn mens Dupuy (2002) en Stengers (2009) ernstig kan opneem. Binne die universitêre en wetenskapkonteks word sekere keuses uitgeoefen ten opsigte van watter plek aan wat toegeken word en wat as van belang beskou word en wat nie; watter opvattinge aangaande kennis en wetenskap gehuldig en verkies word en watter verwerp word met watter soort aksente en argumente.

Terselfdertyd is dit nodig om deeglik na te dink oor die feit dat die hedendaagse universiteit en die wetenskapbeoefening wat daar bedryf word binne ʼn samelewing figureer en dus bydra tot die skepping van ʼn soort samelewing, maar ook die uitdrukking is van bepaalde heersende samelewings- en menskundige opvattings. Die hedendaagse kenniswerkers bevind hulle te midde van hierdie heersende opvattinge en is selfs uitgelewer daaraan in terme van die heersende beleid en fokus. Dit wil voorkom, wanneer geoordeel word aan wat in samelewings afspeel, dat samelewings oor die algemeen hulle in ʼn krisis van so ʼn omvang bevind dat dit volgens Liu inderdaad aan ʼn vorm van siekwees grens.

Samelewingspatologie bied groot uitdagings aan kenniswerkers met die vraag of hulle daarvoor opgewasse is en toegerus is om in die rigting van ʼn kuur te werk, gegee die opvattinge wat heersend is en wat sekere kardinale diskoersgebiede gewoon uitsluit omdat dit nie finansieel haalbaar is nie, of nie op feite gebaseer is nie, hoewel hulle beslis tog van deurslaggewende belang is.

Indien die siek samelewing ʼn vertrekpunt vir Liu is, waarmee hierdie artikel saamstem, is die vraag waaraan so ʼn samelewing herkenbaar is. Wat is dan die simptome en tekens van so ʼn patologie? Daar sou verder gevra kon word na die geneesmiddel vir sodanige toestande en ook die houding waarmee geneesmiddele aangebied word indien enige en wat die kernfokus van so ʼn benadering moontlik kan wees. Die aard van die siekte sou die aard en intensiteit van die geneesmiddel bepaal. Sou enige pasiënt bevoeg of toegerus wees met die nodige toerusting om die mede-pasiënt te help? Wanneer almal gevang is binne die raamwerk van dieselfde epidemie sou geneesmiddels bra in distorte vorme na vore gehaal kan word. Dit is hier waar die besonder insiggewende werk en ontledings van Alan Liu (2004) na vore gehaal word.

 

DIE WETTE VAN KOEL: ALAN LIU

Die titel van hierdie artikel is ontleen aan die reedsgenoemde hoogs stimulerende studie van Alan Liu (2004), waarvan hierdie artikel ʼn oorsig probeer gee. Die boek is ʼn studie van "die kulturele lewe van informasie", of breër verstaan, van hedendaagse kenniswerk. Die kernvraag van Liu is die volgende: Wat is die rol van letterkunde in hierdie kulturele lewe en opset en wat is die toekoms van letterkunde en literêre studie wanneer alle kultuur gaandeweg die kultuur van inligting is en wanneer selfs literêre geleerdes letterkunde onderwerp aan hierdie "inligtingkultuur"?

Wat verband hou met hierdie vraag is ʼn ander vraag, naamlik wat is die toekoms van die menswetenskappe, of die wetenskappe van die gees dan, en ook die kunste as eersgenoemde klaarblyklik slegs bestem is vir wat die inligtingindustrieë "inhoud" noem en laasgenoemde slegs waardevol is vir multimediavermaak. Nie soseer literêre werke nie, maar die onderliggende sin van die literêre, en dus die leef en vertoef in die lettere, is hier ter sake. Ons moet onthou: die inligtingindustrieë saam met die tegnowetenskappe verskaf die definisies wat hulle pas (skryf dit eintlik voor) en die res moet dit aanvaar. Dus is terme soos ontologie, narratief, geestelikheid, nadenke, om maar enkeles te noem, nie meer deel van die woordeskat nie tensy drastiese inhoudelike wysiginge en eie verskraalde inhoude daaraan gegee word, soos ontologie (die logos van die syn) wat in die verskraalde vorm daarvan min nog met Syn te doen het. Letterkunde en filosofie, soos tradisioneel verstaan word, word nie verder toegelaat om 'n outonome bestaan in eie reg te voer nie.

Wat nou van belang is, is wat Schumpeter (1975), met verwysing na die ekonomiese en die sosiale in sy klassieke frase oor kapitalisme "skeppende destruksie" noem, wat veral die wetenskappe van die gees insluit, wat vernietig moet word. Peter Drucker (1993:157) definieer hierdie uitdrukking as volg: "Creative destruction is innovation compelling the systematic abandonment of the established, the customary, the familiar, the comfortable." Hierdie hele kulturele toneel word deur Castells (1996:199) bevestig wanneer hy die volgende stel: "The spirit of informationalism is the culture of creative destruction." Die implikasie hiervan is dat kennis-gebaseerde produkte en netwerke vinnig kan verdwyn onder die impak van hierdie destruktiewe kultuur met die gevolg dat korporasies vinnig en voortdurend moet innoveer. Binne hierdie raamwerk van sistematiese innovering verdwyn die nosie van die literêre sowel as dié van die wetenskappe van die gees en word hulle met uitwissing gedreig, indien en waar dit nie alreeds verwesenlik is nie. Dit is nogtans merkwaardig hoe maatskappye se handleidings, webtuistes en advertensies wel wemel van terme wat binne die wetenskappe van die gees pas, soos byvoorbeeld gees en denke, sonder dieper bedoelinge en betekenisse, wat dus beteken dat hierdie groep wetenskappe se waarde verskraal word tot slegs uitlokkings- en vermaaklikheidwaarde, of as ons hulle darem nog wil vlei, kosmetiese waarde.

Die sogenaamde wette van "koel" word teen hierdie agtergrond so geartikuleer dat dit beide kante van hierdie aangeleentheid uitdruk. Enersyds kan koel die volgende beteken: "Cool is the techno-informatic vanishing point of contemporary aesthetics, psychology, morality, politics, spirituality, everything. No more beauty, sublimity, tragedy, grace, or evil: only cool or not cool" (Liu 2004:3). Hierdie verdwyning is in perfekte harmonie met die "kreatiewe destruksie" van die kultuur van informasionalisme, ekonomisme en kapitalisme.

Aan die ander kant, en dit is Liu se latere definisie, kan en behoort koel eintlik ook te beteken: "Cool is information designed to resist information - not so much noise in the information theory sense as information fed back into its own signal to create a standing interference pattern, a paradox pattern. Structured as information designed to resist information, cool is the paradoxical 'gesture' by which an 'ethos of the unknown' struggles to arise in the midst of knowledge work" (Liu 2004:179). Dit kom dus daarop neer dat hierdie positiewe nosie "koel" die ander definisie van "kreatiewe destruksie" op sy kop keer en die weg oopmaak na die alternatief, naamlik "destruktiewe skeppendheid of kreatiwiteit" ten gunste van 'n "etos van die onbekende", die kennis wat nie mag wees nie en in die Vallei van die Dood beland het (Kyk hfst. 12 van Liu 2004). Hierdie begrip van die term "koel" is van wesenlike belang vir die plek en onmiskenbare en ook onmisbare rol van die wetenskappe van die gees midde in die kultuur van informasionalisme of nie-kenning.

Die triomfantlike mag van die koel houding in die eerste sin met die disposisie van kreatiewe destruksie word soos volg deur Liu (2004:4) beskrywe:

It might be said with Kafkaesque irony: I went to sleep one day a cultural critic and woke the next metamorphosed into a dataprocessor. Perhaps the academic controversies of the past two decades were not really about supplanting the author or the canon with the deconstructive intertext or cultural context. Perhaps such controversies were really about recruting professional interpreters for an impending mental merger with the software-telecom-cable-Hollywood conglomerates now promising that ultimate intertext or context, high-bandwidth information.

Dit herinner aan die triomfantlike verabsolutering van netwerke soos deur Scott Lash (2002) voorgestel word, naamlik dat die Syn eenvoudig verskuiwe word tot ʼn posisie van synde, bloot ʼn terminaalpunt in ʼn netwerk (Lash 2002:ix), en dat wat werklik is (sonder enige kommentaar oor die skakeling tussen Syn en die werklike) (hulle is om een of ander rede teenoorgesteldes (Lash 2002:216) en Syn en Rede word met die grootste gemak "levelled into a wasteland" (Lash 2002:ix)). Teen hierdie agtergrond is die operasionele vraag vir Liu ten opsigte van die krag van die koel-houding in die tweede sin die volgende: Wat is die verhouding tussen die hoofsaaklik akademiese en ander kenniswerkers (selfs kreatiewe skrywers en denkers) wat gemoeid is met literêre waarde en dus ook geestelike waarde in ʼn kulturele konteks en die breër terrein van professionele, bestuursmatige en tegniese kenniswerkers wat inligtingwaardes in stelsels bestuur? Kan die goed-belesenes, wat eens die mag in die naam van die estetiese gehandhaaf het, nog steeds iets te lere bied aan die goed-ingeligtes wat nou die mag hou onder die dekmantel van koel?

Wat is die aannames waarmee ons deur die wette van koel in die eerste betekenis daarvan gekonfronteer word en wat is die implikasies daarvan?

1 Inligting-industrieë en hul definisies van kennis, waarde en moraliteit is die bepalende faktor. Hulle het die laaste en finale sê en vind dit heel maklik om van die wetenskappe van die gees ontslae te raak.

2 Die disposisie van kreatiewe destruksie wat onder andere die vernietiging van die wetenskappe van die gees en wat hierdie wetenskappe verteenwoordig najaag en ook bewerkstellig, word deurlopend gehandhaaf.

3 Daar is ʼn obsessie met innovering tot elke prys, sonder om die koste hiervan te bereken (kyk Liu 2004:385-389 (Epilogue)).

4 Informasionalisme skep verwarring tussen inligting en kennis en bring die verwringing van kennis mee. Hoe vergelykbaar is inligtingprodukte en kennisgebaseerde produkte?

5 Die beloftes van die hoogste vorm van interteks bied besondere uitdagings aan die leeshandelinge en aan die professionele interpreteerder.

6 Inligtingwaarde teenoor en tot voorkeur van literêre waarde met die afskaffing van laasgenoemde ondanks die onmiskenbare waarde daarvan.

7 Onderskei tussen die deeglike geïnformeerde (die etos van nie-kenning) en die goed-belesene (die etos van die onbekende) en bepaal die verskil in lewe-informerende houding hiertussen.

En oor watter krag beskik die tweede opvatting van koel? Kan dit hierdie aannames weerlê en weerstaan en "die onbekende" uit die Vallei van die Dood weer tot lewe bring en wat is die voorwaardes daarvoor? Liu se "nuwe literêre" kan die antwoord bied, maar vereis 'n nuwe "omhelsing van taal" in die volheid daarvan en alles wat taal verteenwoordig (watter taal ook al ter sprake en ter sake mag wees). Hiersonder sou die hele noodsaaklike oefening ondoenbaar wees. Hulle behoort in staat te wees om te doen wat slegs die wetenskappe van die gees kan doen en waarsonder ons intellektueel brandarm sal bly. Hiervoor moet die twee opvattinge van koel mekaar komplementeer en dit bring ons by die kern van Liu se verhaal.

 

DIE KERN VAN DIE VERHAAL

Die kern van die verhaal van Liu (2004) wat hier verder bespreek gaan word, kom op die volgende neer: Volgens hom is "die toon of stand van die hedendaagse samelewing" van so ʼn aard dat dit dringende herstel behoef. Die hedendaagse lewe, die hedendaagse samelewing ly, is siek; ons ervaar ʼn psigopatologie en word bedreig deur ernstige katastrofes soos Stengers (2009) op haar eie wyse dit beskrywe. Dit konfronteer ons met ʼn enorme uitdaging. Om hierdie uitdaging die hoof te bied en aan die herstelproses mee te werk moet daarna gesoek word om "goed in te lig of te informeer" waarvoor ʼn "lewe-informerende houding" die noodsaaklike voorwaarde is. Die aard van die informeringstaak word bepaal deur die begrip "lewe", nie geld of die Mark of die ekonomie of informasie nie, maar lewe, dit wil sê omvattend en diepgaande. Dit is die taak van geletterdheid (literatuurvolheid): poëties, fiksioneel, wetenskaplik en wetevol, hipertekstueel en multi-mediamatig, op voorwaarde dat nie een hiervan verblind mag word deur en verbonde is aan ideologiese vertolkings en verdraaiings van die werklikheid nie wat op alle gebiede oorvloedig in omloop is. Die nuwe literêre werk van Liu (2004), wat versterk behoort te word deur die ingesteldheid van "die troebadoer van kennis", die "onderrigte derde" (die geestelik toegeruste met die meervoudig-konnektiewe intelleksie) van Michel Serres (1997) wat ook direk betrokke is of hierby betrokke behoort te raak, sal ideale kandidate vir hierdie taak wees.

 

ONS LEWE IN GEVAARLIKE TYE

Die toon of stand van die hedendaagse lewe waaroor Liu skryf en wat ook op gevaarlike en siek tye neerkom, beteken nie in die eerste plek dat ons bedreig word deur burgeroorloë, wêreldoorloë, of atoombomontploffings, terreur van watter aard ook al en uiterste vorme van armoede en hongersnood en selfs psigopatologieë nie. Nee, alhoewel nie een hiervan ooit uitgesluit kan word van die lys van bedreiginge nie, en in intense vorme aanwesig is, is daar iets anders hier in die gedagte: die armoede aan kennis en denke, die bedreiging van onkunde en die barbaarse gevolge daarvan (Steiner 1999; Henry 2012)), die bedreiging daarvan deur die graad-nul van denke (Stiegler 2006). Lewensverwesenlikende kennis beland in die Vallei van die Dood omdat dit geen markwaarde het nie. Die werklike bedreiging is dat al die moontlik genoemde bedreiginge en nog veel meer voortvloei uit onkunde, stommiteit en gedagteloosheid, wat kan wissel van intellektuele armoede tot geestelike leegheid. Stiegler praat van en skrywe oor simboliese ellende wat ʼn totale bedreiging vorm. Iets wesenlik ernstig moet en kan ook hieraan gedoen word, hoofsaaklik op die gebied van kenniswerk as die beginpunt van alles. Mense stig brande en saai terreur om mag te demonstreer, maar eintlik omdat intellektuele krag vir ander soort optrede as hierdie ontbreek. ʼn Mens sou kon praat van die tyd van die katastrofe as die beste karakterisering van hierdie siekte - tyd van die katastrofe, want ons is reeds daarbinne volgens Stengers (2009). Vergelyk ook Dupuy (2002) en Nancy (2011) se sterk standpunte hieroor wat elkeen op ʼn eie manier die opvatting oor die gevaarlike, siek tye van Liu ondersteun. Die antwoord hierop is die stryd om intelligensie wat op sy beste aangepak kan word deur "goed in te lig of te informeer" met ʼn lewe-informerende houding.

 

OM GOED IN TE LIG OF TE INFORMEER MET 'N LEWE-INFORMERENDE HOUDING

Om goed in te lig het, volgens Liu, 'n ingeboude voorwaarde: daar moet 'n sekere, besonder spesiale houding of disposisie wees: die lewe-informerende houding. Hierdie houding bepaal die karakter, vermoë en gewilligheid om goed te informeer - die soort houding waarin lewe en wat vir lewe belangrik is die norm is, maar lewe vir almal en alles: mense, diere, plante, aarde en gode (die drie ekologieë van Guattari (2012)).

Wat word met hierdie lewe-informerende houding bedoel? Die antwoord op hierdie vraag lê in "die etos van die onbekende" (dit wat nie geken mag word nie, of die kennis wat ons veronderstel is om te hê, maar verbied word om te hê, die kennis wat veronderstel is om dood te wees (Liu 2004:6972) danksy beleide, die politieke ekonomie van kennis soos hedendaags gedefinieer en wat bepaal watter kennis doenbaar, betaalbaar en winsgewend is). Lewe oorskry die fisiese, die materiële, empiriese en positiewe. Sensitiewe kennis van lewe wat die verifieerbare oorskry konstitueer die onbekende; dit wat nie geken mag word nie, hierdie onbekende, vorm ʼn bedreiging vir die nie-kenning en die nie-wete en word daarom verban na die Vallei van die Dood. Van hierdie kennis kan gesê word dat dit die verbeelding is van die eeu van kenniswerk. Hierdie verbeelding begin met koel. Uiteindelik het ons egter ʼn kuns en literatuur nodig wat veel verder gaan en veel meer is as koel, in die eerste sin, die ander soort koel: die informasie wat ontwerp word om informasie teen te werk. Wat ons dus hier teëkom is ʼn beskrywing van ʼn sosiopatologie en voorstelle ten opsigte van ʼn sosioterapie. Die terapeutiese lê opgesluit in die lewe-informerende houding wat soek om goed te informeer, om ons dus juis uit te bring by "die verbode kennis" - informatisering is op ʼn heel besondere wyse hier ter sake. Liu raak hieraan in hoofstuk 3, veral in die meer negatiewe sin van informatisering. (Vergelyk veral Malabou (2012) se teorie van plastisiteit met haar beklemtoning van die ondergaan van vorm, die verwesenliking daarvan en die vernietiging van vorm en ook Simondon (2005) se grootse studie in hierdie verband, veral met sy klem op individuering in die lig van die nosies "vorm" en "informasie"). Hierdie verbode kennis is kennis aangaande sin, Syn en veral lewe. Ons keer later weer hierna terug.

Met ander woorde, die hedendaagse kenniswerker het ʼn terapeutiese verantwoordelikheid: die lewe behoef herstel. Die medikasie: om goed te informeer. Die vereiste voorwaarde: ʼn lewe-informerende houding, dit wil sê ʼn baie besondere ingesteldheid wat die kern en hart van die lewe raak. Wat beteken hierdie houding eintlik? ʼn Lewende verbeelding wat grense kan en wil oorskry, toegerus met die gees van invensie, die etos van die onbekende. Menslike kapasiteit van denke maak bevoeg hiervoor, met ander woorde denke in die grensoorskrydende vermoë daarvan wat nie deur empiriese feite beperk word nie. Hierdie denke wat die Syn verneem, is oorspronklike etiek (Heidegger 1973) en hierdie kennis bring verpligting mee (Canguilhem 2008). Die gemutileerde kennis waarvan Morin praat "bevry" mense van verpligting, verantwoordelikheid en etiek en dit maak ʼn samelewing siek. Dit verklaar dus ook Liu se verstaan van "die toon en stand van die hedendaagse samelewing" as ʼn siek samelewing wat herstel dringend nodig het.

 

DIE BELANGRIKHEID VAN KENNIS EN WAT DIE NOSIE "KENNIS" WERKLIK BETEKEN

Die sterk klem op kenniswerk en kenniswerker in Liu se boek en in hierdie artikel vereis ʼn deeglike verkenning van die begrip kennis en die belangrikheid daarvan. Vaardighede is belangrik maar die diepgaande en omvattende liefde vir kennis is ononderhandelbaar en dit is waar "die etiek van kennis" besonder ter sake is, veral omdat dit ook is waar denke ter sprake kom. Dit bly die belangrikste kwalifiserende kenmerk van die deelnemende hedendaagse kenniswerker met ʼn gevoeligheid vir samelewings wat ly aan kennisgebrek en wat dus ook in hierdie verband terapeutiese intensies koester (kyk Liu 2004:hfst. 11 & 12).

In die tyd en kultuur van "informasionalisme" waaroor Castells (1996) dit het, is dit gebiedend om deeglik te besin oor die ware aard van kennis omdat kennis maklik ingetrek kan word in hierdie kultuur, soos reeds die geval is, en daarvolgens beoordeel word. In die samelewingsituasie waarin ons ons bevind word oproepe gedoen om goed in te lig of te informeer en om dit met die regte houding te doen, ʼn lewe-informerende houding. Om goed te informeer, beteken dat daar ʼn soliede greep moet wees op die verstaan van kennis en wat dit werklik beteken. Sonder so ʼn begrip sal dit ongetwyfeld onmoontlik wees om goed te informeer. Hiervoor is dit nodig om kennis in die volheid daarvan te begryp soos dit in verhouding staan tot die werklikheid in die volheid daarvan en nie slegs klein deeltjies daarvan wat ook nie noodwendig in enige verhouding is nie - die soort kennis waarvan Canguilhem praat wat ʼn plig, ʼn verantwoordelikheid, op ons plaas, dus lewe-informerende kennis. Wat dus benodig word, is kennis aangaande kennis waarsonder kenniswerk tot mislukking gedoem sal wees (Kyk Morin (1986) en Naccache (2010) in hierdie verband.) Om met stukkies en brokkies kennis in isolasie te werk beteken om te werk met wat Edgar Morin (1986) gemutileerde kennis noem, dus ʼn patologie van kennis. Op die kort termyn mag dit suksesvol lyk, maar op die lang termyn bied dit ʼn sekere waarborg dat die uiteindelike uitkoms katastrofies en selfs barbaars mag wees.

Vir hierdie kennis aangaande kennis, wat iets anders is as epistemologie, is ʼn meer omvattende letter-kundigheid nodig as wat ooit tevore vereis was, naamlik die gewilligheid en ook gretigheid om alle geletterde ruimtes te ondersoek en nie slegs enkeles wat deur ideologiese vooroordele bepaal word nie. Hieroor is Liu eksplisiet in sy vurige pleidooi vir "nuwe literêres" wat veel wyer strek as die skryf van fiksie maar ook die historiese en die filosofiese insluit. ʼn Deeglike kyk na die ware, omvattende en diepgaande aard van kennis mag hierin help. Hiervoor moet "die blinde intelligensie" waaroor Morin (2008:1-6) skrywe doelbewus afgesweer word. Dit kom neer op ʼn patologie van kenning wat kennis vermink deur oorvereenvoudigings en veral deur die miskenning en selfs ontkenning van die komplekse aard daarvan soos van die werklikheid waaroor dit handel.

Die ware aard van kennis, wat Liu sterk beklemtoon en waarmee hierdie artikel dit eens is, word goed beskrywe en bevestig deur Stiegler (2010:110):

Teaching [like all other knowledge work activities] is not simply the transmission of knowledge, but of understanding. Understanding must be teachable - rational knowledge is the fruit of instruction. This does not mean that understanding has no longer anything to do with mystery. Understanding, in other words, goes beyond the object constructed as a knowable object, stripped of mystery. The object of understanding, of knowledge, can never fully be reduced to this construction: there is an irreducible inadequacy between knowledge and its object; this inadequacy or incompleteness is inscribed at the very heart of the individuation process that is based on a conception of understanding as desiring its object: the object of knowledge is infinite because it is the object of desire. Plato and Aristotle declare that knowledge is not reducible to a technique, a simple mode of production of its object, since the object of knowledge is also the object of love and desire. It is object-as-affect. If the understanding could become an automotizable technique, exactly reducible through an algorithm, and thus calculable, it would be because, as Husserl shows, it has lost its intuitive dimension and because this is irreducibly affective: reason is a motif that is initially an emotion.

Miskien kan die onderskeid en die verband tussen aesthesis en calculus wat deur Wersig (1990) uitstekend beklemtoon word, ook hier in berekening gebring word, want wat Stiegler hier doen is nie alleen ʼn versterking van Liu se standpunt nie , maar ook op 'n manier 'n duidelike bevestiging van Wersig se vroeëre artikel.

Stiegler gee ʼn voorbeeld van hoe hierdie affektiewe dimensie van kennis werk: waarheid, geregtigheid en skoonheid het ʼn uitwerking op my, dit oorskry my begrip as sodanig: dit transformeer my. Hierdie transformasie is slegs moontlik indien kennis verstaan word in die verhouding daarvan met waarheid, geregtigheid en skoonheid en nie as ʼn koue abstrakte, kliniese, bestuurbare objek, of stukkies en brokkies inligting nie. Hierdie kennis word genesend, terapeuties en die kenniswerkers terapeute vir ʼn siek samelewing. Kennis van hierdie aard genees. Sodoende word die anamnese, waardeur Plato, die denker of filosoof, maar ook die weter, die behoefte toets van die gees wat verstaan hoe om sigself te transformeer deur die vermoë om te verstaan, dus ook ʼn vorm van sorg (epimeleia) en van aandag wat openbaar word as ʼn vorm van sorgsaamheid vir die self, maar veral ook sorgsaamheid vir wat nie die self is nie, van wat die ander, die objek, die wêreld, die aarde of die "Syn" (alles wat is) genoem kan word ten einde die kapasiteit te ontwikkel wat die "dooie kennis" weer tot lewe kan bring. Hiervolgens is die hooftaak van die kenniswerker om ons in verbinding met die Syn (met dit wat ook al is of mag wees) te bring, om ons te leer om sorg te dra vir wat nie onsself is nie, om sorg te dra vir alles. Kenniswerkers met die lewe-informerende houding sal hulself indompel in die ware, die regverdige, die skone; hulle sal induik in die dieptes van kennis wat die noodsaaklike houding van sorg, wat hulle in staat sal stel om goed te informeer, sal genereer en versterk.

Die nadenke en besinning oor kollektiewe intelligensie deur Ballay (2010) en ietwat vroeër deur Dortier en Journot (2008) beklemtoon wat Stiegler (2015:210-214) van Husserl oorgeneem het as "kommunotisme", as gemeenskap van gelykes, van eweknieë, eweknieë van akademici, van intelligente gemeenskappe. Ons moet egter nie uit die oog verloor nie dat hierdie eweknieë nooit werklik gelykes kan wees nie hoewel hulle gelyke status het, nie meer of minder nie en nie slegter of beter nie, maar hulle het sekerlik nie gelyke begrip en insig oor dieselfde sake nie. Hulle het wel verskillende insigte. Kollektiewe intelligensie in die outentieke sin behoort te werk in die rigting van die effektiewe artikulering van nie die gelykheid nie, maar meer spesifiek oor hierdie verskille of gedifferensieerdheid, aangesien die weelde en rykdom van kennisse presies in hierdie verskille ge-investeer is. In hierdie weelde behoort die kenniswerkers te deel anders verval hulle met groot gemak in die etos van die nie-kenning, of on-kunde.

 

IN DIE LIG HIERVAN: WIE IS DIE EINTLIKE KENNISWERKERS?

Die aangewese groep wat aan hierdie enorme, katastrofiese bedreiging die hoof kan bied en die verantwoordelikheid daartoe het is daardie groepe mense wat hedendaags werk doen wat op een of ander manier met kennis verband hou: navorsers, navorsingsbestuurders, voorligters, inligtingkundiges ensovoorts. Al hierdie en nog meer is die sogenaamde kenniswerkers. Liu (2004:392) gee die volgende taksonomie van kenniswerk: "Knowledge workers = academic intellectuals + (technical + professional + managerial) intelligentsia + trailing edge of clerical work." Hulle bydrae tot die patologie is geensins gering nie. Let op die kennisopvattinge, die retoriek rakende wetenskap, kennis en inligting. Hulle skep ʼn etos en bepaal die aard daarvan. Let daarop dat dit nie hier gaan om die onpersoonlike nosie "kenniswerk" nie, maar "kenniswerker" - persone toegerus met al die relevante en ter sake kwaliteite waaroor persone ook al mag beskik. Binne die algemene milieu van kenniswerk en veral binne die kultuur van informasionalisme sou daar uitdaginge wees aan hierdie verskillende kategorieë van kenniswerkers om eerder as die etos van die nie-kenning en nie-wete die etos van die onbekende te bevorder. Daar moet ʼn keuse gemaak word binne die etos van nie-kenning. Dit is ʼn veeleisende uitdaging waarvoor nie elkeen opgewasse, toegerus of gewoon lus is nie. ʼn Sekere inspirasie is nodig om die stryd om intelligensie in ʼn milieu van nie-kenning, wat die atmosfeer hier skep, te bevorder. Ongelukkig moet dit binne hierdie milieu geskied.

Daar is voorwaardes: hierdie kenniswerkers moet hulle ingedompel vind in die "etos van die onbekende"; hulle moet die sentrale belangrikheid van outentieke, wesenlike kennis omhels; hulle moet veral ook die "etos van nie-kenning/onkunde" (onkundigheid, sorgeloosheid, informasionalisme en die verabsolutering van innovering) weerstaan; hulle moet hulle oorgee aan die verkryging van kennis, die delwing vir kennis en die invensie van kennis. Hulle moet toegerus wees met ʼn lewe-informerende houding wat begin met ʼn diepgaande gevoeligheid vir die wonder van lewe, dit voluit respekteer, omhels en bevorder wat uiteraard geïnspireerde verantwoordelikheid behels.

 

WAT WORD MET ETOS BEDOEL?

Liu beklemtoon dit dat etos ʼn buigsame term is, en afhangende van die konteks, so uitgebreid kan wees soos "tydgees", maar ook saamgetrek kan word in etiek en estetiek in die meer spesifieke sake waaraan hierin aandag gegee word.

It can be related to 'the structure of feeling' (Williams), 'habitus' (Bourdieu), 'life-world' (Habermas), and 'culture of critical discourse' (Gouldner). These concepts vary in their emphasis but it is precisely such variance that I mean ethos to designate because the concept is best understood dynamically. (Liu 2004:72)

Die Griekse ethos dui op blyplek, ge-woon-te van die mens, dit waar en waarmee mense tuis is. Heidegger (1973:67) gee vir ons ʼn uitstekende vertrekpunt wanneer hy soos volg hieroor skrywe:

Wanneer nu overeenkomstig de grondbetekenis van het woord 'ethos' de naam ethiek zegt, dat deze het verblijf van de mens overdenkt, dan is het denken, dat het waarheid van het Zijn als het oorspronkelijke element van de mens als van een eksisterende denkt, in zich reeds de oorspronklijke ethiek.

Die grondbetekenis van die woord etos is etiek, wat beteken die oordenking van die verblyf van die mens. Hierdie denke oor die verblyf van die mens moet in verband gebring word met die waarheid van die Syn as die mens se oorspronklike element en as sodanig is hierdie denke die oorspronklike etiek. Denke, mens, waarheid van die Syn en etiek is intens vervleg. Vir etos, dus etiek in hierdie sin, gaan dit om die bedink van en die vind van ʼn plek, ʼn tuiste vir menswees, midde in die geheel van dit wat is - wêreldskepping as tuisteskepping en in die lig van hierdie artikel gaan dit om die bepalende rol wat kennis in die skepping van wêreld en tuiste speel.

Volgens Stiegler (2013a:7-8) het etiek as vertaling van die Griekse ethos ook die fokus op die kennis van plek, verblyf en vertoef, met die sin van plek, en van die affekte in die gedagte en dus dan ook die verhoudinge tussen mense en selfs tussen geslagte. Dit gaan dus om kennis en wete in ʼn omvattende sin. Vanselfsprekend kan verwag word dat die verlies aan die etos, of die verwringing daarvan deur diegene wat nie in harmonie met die begrip is nie, kwade gevolge van ʼn aansienlike omvang sal hê. Dit kom neer op synsverlies, plekverlies, gevoelsverlies, mensverlies en uiteindelik sinverlies en lewensverlies. Aangesien dit wil voorkom asof die wêreld inderdaad ly aan die verlies van etos in die volle sin, bevestig dit die begin van die artikel waar gemeld word, na aanleiding van Liu, dat die toon en status van die hedendaagse wêreld siek is. Die herwinning van die etos in die grondbetekenis daarvan, as die oorspronklike element van denkende en kennende menswees, is presies wat gesoek moet word binne die konteks van die aktiwiteite van die hedendaagse kenniswerker. Die eerste toerusting wat gevra word, is ʼn etiese toerusting in hierdie dieper sin en nie in die sin van oppervlakkige maak van reëls en regulasies soos dit in al die toegepaste etieke voorkom nie. Die verlies aan die etiese bring gedisaffekteerde individue mee waarvan die affektiewe vermoëns verwoes is met die gevolglike vernietigde sosiale verhoudinge. Die uiteinde is geestelike ellende. Geestelike ellende beteken die verminking van die mens se vermoëns om geestesake soos waardering, sublimasie en liefde vir kuns, wetenskap, taal, kennis en wysheid hoog te ag wat alles saam lei tot die verlamming van die mens se psigososiale gees met skreiende implikasies:

[T]he noetic soul feels that, deprived of its premier faculty, thought, its capacity to discern and therefore to anticipate, and to want and act knowingly, is radically threatened - and with it the human species in totality. (Stiegler 2013a:4)

Hiermee word 'n verlies aan hoop ervaar en die motiewe vir lewe vernietig. Hierdie etos, hierdie denkende sin vir Syn, plek, verblyf, tuisheid en geestesfrisheid skep ʼn milieu waarbinne die hedendaagse kenniswerker kan floreer. Dit gee energie; dit rus toe met inspirasie. Terselfdertyd bied die tragiese verlies aan hierdie etos aan kenniswerkers hulle grootste uitdaging veral met die oog op die verwesenliking al dan nie van kennis in die volle sin in so ʼn omgewing.

Ongelukkig voldoen etos nie noodwendig aan hierdie beskrywing nie. In die lig van "die gees van informasionalisme" vra Castells (1996:199) byvoorbeeld:

What is this ethical foundation of the 'network enterprise' this 'spirit of informationalism'?

Dan antwoord hy hierop:

It is a culture of each strategic decision, a patchwork of experiences and interests, rather than a culture of rights and obligations. It is a multifaceted virtual culture The 'spirit of informationalism' is a culture of 'creative destruction'.

Wat egter hier gebeur is dat kennis binne die raamwerk van die kultuur van informasionalisme verwring word tot 'n inligtingagtige entiteit (verhandelbaar en uitdienbaar), beroof van die wesenlike karakter daarvan, en in die proses misvorm word tot nie-kenning of nie-wete aangesien die mees wesenlike wetes (die wete-om-te-teoretiseer en die wete-om-te-lewe) heeltemal buite rekening gelaat word. Dit verteenwoordig dan koel in die een sin van die woord soos Liu (2004:78) dit beskrywe: "[C]ool is the shadow ethos of knowledge work. It is the 'unknowing', or unproductive knowledge, within knowledge work " Dit bring ons dan by die etos van nie-kenning en nie-wete.

 

DIE ETOS VAN NIE-KENNING OF NIE-WETE

Hiermee raak ons aan die belangrike konflik tussen kennis en inligting en die verwarring wat rondom hierdie terme gaandeweg geskep is en nou voluit bestaan en kom ons digby dit wat katastrofes kan veroorsaak. Stiegler (2010:184), getrou aan sy vorige opmerkinge, onderskei op die volgende wyse tussen hulle:

Knowledge individuates and transforms the learner; interiorizing the history of individual and collective transformations. Information dis-individuates its consumer and cannot become the substance of thinking for the object of a knowledge capable of being the object of transformations. Knowledge and understanding must be psychically assimilated and made one's own, while information is merchandise made to be consumed and is therefore disposable.

Kennis in hierdie dinamiese sin kan nie bestuur word nie, terwyl inligting in die sin waarin dit hier beskrywe is - in die sin van die kultuur van informasionalisme van Castells - kan en moet bestuur word.

Daar lê veel meer opgesluit in hierdie differensiëring as wat Liu beskrywe. Dit is baie kragtiger. Verskuil agter die een benadering is die magtige politieke ekonomie van kennis. Kennis soos deur Stiegler beskrywe word, word ingedwing in ʼn domein of ʼn dimensie van die onbekende, om die waarheid te sê van die onkenbare en as sodanig ook die onbemarkbare en daarom die nuttelose (die kennis wat veronderstel is om dood te wees). Wat binne die politieke ekonomie van kennis geskep word, is meetbare en berekenbare stukkies en brokkies inligting, en hope daarvan, waarmee handel gedryf kan word. Dit toon geen belangstelling in hierdie dimensie, of etos, van die onbekende, die doodverklaarde nie, wat in werklikheid die ware plek, domein, of tuiste is van die volheid van kennis. Dit is oortollig verklaar ten gunste van "een [een-dimensionele] globale begrip van verstaan". Wie ook begerig is om goed in te lig, behoort, het ʼn verantwoordelikheid om, diep in te grawe in presies hierdie domein van die onbekende, om deur die versperringe, die teenstrydighede, te breek omdat die lewe-veranderende, lewe-transformerende faktore van waarheid, geregtigheid en skoonheid daar en slegs daar ontdek kan word. Hierdie faktore en met hulle nog baie ander word bedek, weggesteek agter die besorgdhede oor die Mark en oor berekenende denke. Die mark-informerende houding van berekenende redenering skep illusies van waarheid, geregtigheid en skoonheid. Mense wat mislei word deur hierdie retorieke en ideologieë beland in diep ellende, in die etos of land van nie-kenning, nie-wete, die wêreld van onkunde en sorgeloosheid nie alleen oor kennis en intelligensie nie, maar ook oor diegene wat werklik ly, byvoorbeeld siekes, armes, verdruktes, maar ook simbolies ellendiges. Hierdie etos van nie-wete bied die ware bedreiging. Dit raak betrokke by kennis maar sonder kennis, terwyl daar geswem word in onkunde, domheid en die totale afwesigheid van insig en wysheid - ʼn plek van sorgeloosheid. Die wil tot onkunde waaroor Lacan (2011) dit het "wanneer hy praat asof hy teen ʼn muur praat" is ʼn goeie illustrasie hiervan.

Wat hier gebeur, word soos volg deur Liu (2004:7) beklemtoon:

Wherever the academy looks in the new millennium, it sees the prospect of a world given over to one knowledge - a single, dominant mode of knowledge associated with the information [knowledge] economy and apparently destined to make all other knowledges, especially all historical knowledges, obsolete [hence useless]. Knowledge work harnessed to information technology will now be the sum of all worthwhile knowledge.

Wat hierdie kennis so belangrik maak is dat dit bestuurbaar word omdat dit meetbaar en dus beheerbaar is. Dit kan geweeg word en besit word en in handelsware omskep word wat verkoop kan word om ʼn inkomste te genereer. Dit word dan die bron van ons tyd wat Liu (2004:8) tipeer as "die eeu van totale innovering".

Die etos van nie-kenning is dus ook die etos van non-plek, verminking en verwarring van plek - distopie, dus verwronge plek.

Die vraag bly egter wie hieroor besluit, oor wat die moeite werd is, wat waardevol is en wat oortollig is? Hierdie een kennisvorm is solied gekonstrueer en lyk onweerlegbaar, goed ingemessel en ideologies sterk en veilig beskerm, bestand teen misbruik en verbruik. Dit blyk ondeurdringbaar te wees. Baie hedendaagse magte, ekonomies, polities en institusioneel, is ten gunste van hierdie kennisvorm. Hierteenoor moet ook besef word dat dit gevaarlik giftig is en die "kreatiewe destruksie", soos dit genoem word, is allesbehalwe onskuldig. Dit vernietig en maak dood waarvan dit nie hou nie. Vanweë die statiese aard daarvan skep dit en versterk dit die domheid en onkunde waaroor Ronell (2003) en Stiegler (2006) skrywe. Dit lei onmiskenbaar tot die onttowering van die wêreld, die disindividuering, desingularisering, en desosialisering van individue en skep stelselmatig die fatale graad nul van denke (Stiegler 2006). Dit skep ook die rede vir Michel Serres (1989) se byna desperate en wanhopige versugting: "Laat die nuwe kennis kom." Vandaar die sug na ʼn ander etos! Dit is dan inderdaad wat Liu voorstel met sy omkering van die vraag van Castells oor die etiese fundering van die gees van informasionalisme. Liu (2004:71) vra in hierdie omgekeerde sin: "What ethical foundation enables identities to live an un-networked and counter-informational fantasy within the spirit of informationalism?" Die kenniswerker kan kwalik onttrek aan die gees en kultuur van informasionalisme, maar kan wel uitkom by "'n regte lewe van informasie wat goed ge-informeerdheid meebring". Hierdie "regte lewe" is geleë in die paradoksale etos wat floreer binne die Vallei van die Dood van kontemporêre kennis met as taak om die reserwe van kennis wat onbekend geraak het en verban is weer na vore te haal.

It is upon such a contrarian 'ethos of the unknown' secreted within knowledge work, I believe, that the humanities and arts (and my special concern, literary study) must now come to bear or not at all. For the humanities and arts, this is where the contest for 'humanity' now lies: to educate the ethos of the unknown that broods within knowledge work so that it is not also the same as an ethos of unknowing, of resenting the fated life of knowledge work so that one could 'care less' for knowledge. (Liu 2004:72)

 

DIE ETOS VAN DIE ONBEKENDE

Hierdie bespreking noodsaak ons nou om te vra na die etos van die onbekende, van die doodverklaarde kennis, die kennis waarvan niemand mag praat en waaroor niks ge-opper mag word in goeie wetenskap- of liewer navorsingsgeselskap nie. Dit bied die ander perspektief op die etos van die hedendaagse kenniswerker waarop Liu die aandag vestig, naamlik "to install within the life of knowledge work an 'ethos of the unknown' able to mold 'cool' - the popular form of such ethos - into more experimental, expansive, diverse, active, and aware forms" (Liu 2004:371; lees hiermee saam ook hfst. 12, pp. 373-389). Die taak van hedendaagse kenniswerkers is dus om hulle uit die ervaring van die ellende te neem en te hou wat hierbo beskrywe is, maar om nog verder te gaan en die ellendiges op te hef ten einde aan hulle hoop te gee deur hulle bloot te stel aan rykdom en oorvloed van "die etos van die onbekende". Dit is wat dit beteken om goed te informeer (om die krag en energie te put uit volle kennis en wete), geïnspireer deur die lewe-informerende houding van sorg, besorgdheid en liefde, teen die magte van die Markplek wat met luide stemme roep: Weg met hierdie soort sentiment waarvoor daar hier geen ruimte of meegevoel bestaan nie. Wat dit inderwaarheid in konkrete terme beteken is dat rofweg bereken een miljoen van die volumes in ʼn biblioteek van twee miljoen volumes nutteloos en oortollig verklaar kan word en daargestel is deur mense wat nie van beter weet nie.

Hierdie sake lê aan die hart van die intelligente gemeenskap. In so ʼn gemeenskap word twee dinge vereis: sorg/liefde en kennis. Hierdie twee is verweefd. Hoe meer wete daar is en hoe groter die begrip des te meer intelligensie lewe daar in so ʼn gemeenskap en des te meer sal mense omgee en ook in staat wees en gewillig wees om om te gee en sorg te bied. In Stiegler (2010:179) se formulering lyk dit so:

In the strict sense that the truly educated learn to take care of themselves and thus of others, in taking care of objects of knowledge they have been given, knowledge by which they can and must take care of the world, this politics of care is in fact a metacare that, as it were, shapes care in the modern society in the strongest sense - as taking care of noetic action that is politically and economically organized.

Die probleem is egter dat hierdie kenniswerkers hulle in die samelewing van die etos van die nie-wete bevind en daar werksaam móét wees. Daarom beklemtoon Liu die volgende: "The ethos of the unknown is a zone where those who live and work nowhere but inside the system of contemporary knowledge work can paradoxically, and with more than the normal (and normalizing) irony of cool, seem to stand outside it" (2004:9). Slegs verrykte, gehersingulariseerde subjektiwiteite kan die bronne verskaf wat kragtig en onweerstaanbaar weerstand kan bied teen so 'n kultuur van nie-wete en berekende onkunde. Die herkonstituering van sodanige singuliere subjekte in die konteks van kenniswerk (kyk Wersig 1993) stel hulle in staat om outonome ruimtes te skep wat immuun is teen die aandrange van die opdringerige, mark-gedrewe kultuur van nie-wete. Hierdie "toekomstig literêre" van Liu met hul weerstand teen diegene wat kreatiewe vernietigers is, lê dit aan die dag met 'n mentaliteit van "destruktiewe skeppendheid". Destruktief met betrekking tot die mees "waardevolle" in kenniswerk, naamlik beheer. Liu (2004:8) skrywe: "Whether it is expressed as appropriation, sampling, defacement, or hacking, there will be nothing more cool - to use the term of the nascent, everyday aesthetics of knowledge work - than committing acts of destruction against what is most valued in knowledge work - the content, form, or control of information" (Liu 2004:8).

Volgens Liu (2004:179) is koel in hierdie sin

...the aporia of information. In whatever form and on whatever scale (excessive graphics, egregious animation, precious slang, surplus hypertext, and so on cool is information designed to resist information - not so much noise in the information theory sense as information fed back into its own signal to create a standing interference pattern, a paradox pattern. Structured as information designed to resist information, cool is the paradoxical gesture by which an ethos of the unknown struggles to arise in the midst of knowledge work. (My beklemtoning)

Liu vestig ook ons aandag, in aansluiting hierby, op dit waarmee hy hom vereenselwig naamlik "die geraas van kultuur" waaroor Paulson (1988) die sentrale punte soos volg saamvat: Eerstens, dat letterkunde die raserige transmissiekanaal is wat sy geraas aanvaar ten einde iets anders te word as 'n transmissiekanaal, en tweedens dat letterkunde wat so gekonstitueer is as die geraas van kultuur funksioneer, as die versteuring, of die bron van verskeidenheid in die sirkulasie van en die produksie van diskoerse en idees. Liu is dit ook eens met Hillis Miller wat dit stel dat literêre werke swart gate is in die internetgalaksie. Dit beteken: Die teenwoordigheid van letterkunde en die literêre verhinder ons om te dink aan die internet as 'n deursigtige elektroniese hoofwegsisteem waarop inligting vrylik heen en weer en sonder hindernis as 'n ope geheim kan beweeg. Dat die geesteswetenskaplike inhoude waaroor dit hier gaan steurnis en verduistering veroorsaak in die ongestoorde en heldere verloop van inligtingsirkulasie op netwerke binne die kultuur van informasionalisme veroorsaak vyandskap tot die dood toe teen hierdie wetenskappe.

Die Vallei van die Dood van kontemporêre kennis waaroor hierdie outeurs skrywe, verwys natuurlik na die dood van die geesteswetenskappe in ons tyd waaruit opgestaan moet word. Enigiets krities, skeppend en inventief wat die hoop het om hierdie sterk ontwikkeling om te keer in iets totaal verskillend wat uiteindelik die een kragtige verskil wat dit aan sy kern koester kan "inspireer" moet nagejaag word. Volgens Liu (hfst. 11 & 12) behoort kultuurkritiek en die skeppende kunste in hierdie verband 'n sleutelrol te speel. Iets drasties, iets met 'n impak, iets soos 'n sterk inspuiting word benodig en klaarblyklik is die twee bevoeg om dit te verrig op voorwaarde van 'n deeglike ondersoek na die algemene kultuurparadigma wat dit verteenwoordig. En waarom juis hierdie twee kan wel gevra word. Miskien is Felix Guattari (1995:135) reg wat in 'n ander konteks, maar met hopelik dieselfde effek, vra vir 'n meer dissiplinêre benadering waardeur akute en ter sake insette deur alle dissiplines gelewer kan en moet word.

Die drama van die herwinning en herinvensie van die wetenskappe van die gees kan nêrens anders deur kenniswerkers verrig word nie as midde in die nuwe politieke ekonomie van kennis, uitdagend soos dit mag wees. Liu (2004:8) formuleer dit soos volg:

Many intellectuals and artists will become so like the icy 'new Class' of knowledge workers that there will be no difference; they will be subsumed wholly within their New Economy roles as symbolic analysts, consultants, and designers. But some, in league with everyday hackers in the technical, managerial, professional, and clerical mainstream of knowledge work itself, may break through the ice to help launch the future literary. For it is the future literary that can serve as witness to the other side of creative destruction: not the boundless creation that has powered the market rallies of the New Economy, but the equally ceaseless destruction that produces historical difference.

Sterk kuns gaan oor hierdie "destruksie van destruksie", of anders gestel, dit gaan oor die erkenning van destruktiwiteit in skepping en invensie ten einde die vanselfsprekend aanvaarde mag van inligting te weerstaan. Ons moet onthou dat hierdie mag oor sy eie ingeboude paradokse beskik soos Dupuy al lank gelede aangedui het: Hoe meer inligting hoe minder sin en betekenis. Wat vereis word, is

the rejection of the aesthetic ideology of critical innovation ('make it new') [ten alle koste en vinnig] in favor of an ideology of critical destruction. Such an ideology of art will be intended to reorganize the residual avant-garde, sub-cultural, and counter-cultural elements in cubicle culture (psychedelic screensavers, and so on) into a cool that achieves what may be called 'an ethos of the unknown'. The ethos of the unknown is a zone where those who live and work nowhere but inside the system of contemporary knowledge [soos tevore reeds gedefinieer is] can paradoxically, and with more than normal (and normalizing) irony of cool seem to stand outside it. (Liu 2004:9) (kyk ook die belangrike voetnoot 32 op p 404).

Die gebruik van "ideologie" as 'n teen-ideologie is ongelukkig. Ideologie is altyd in alle omstandighede 'n verwringing en verdraaiing van die werklikheid. Dit sou veel eerder belangrik wees om 'n a-kritiese houding in te neem, dit wil sê 'n posisie anderkant die ideologiese. Die onderrig in die wesenlike verskil tussen kritiese en selfs a-kritiese destruksie van totale innovering in die naam van soliede en gesedimenteerde inligting en die meer duistere "ideologie van kreatiewe destruksie" wat geesteswetenskaplike kennis vir dood agterlaat, sal die spesifieke besorgdheid wees van sowel die opvoeders in die wetenskappe van die gees as skrywers en kunstenaars in die toekoms - "die toekomstige literêre" asook almal wat betrokke is by die opvoeding en vorming vir kenniswerk ten einde te bereik wat Liu noem "a more humane hack of contemporary knowledge" (Liu 2004:9).

Ons benodig 'n model van "destruktiewe kreatiwiteit" wat die post-industriële etos van "kreatiewe destruksie" kan ondermyn en teëwerk. Ons moet egter wakker bly vir die moontlikheid om die potensiaal raak te sien dat kreatiewe destruksie en destruktiewe kreatiwiteit gesien word as dele van dieselfde proses wat mekaar komplementeer. Hierdie saamwerk van vernietig en skep (p.375) sien ons volgens Liu veral duidelik gedemonstreer in historiese kennis (p.380). Die vernietigende mag van die een ten opsigte van die kennis van die wetenskappe van die gees moet vernietig word ten einde die ware skeppende mag van die tegnowetenskappe binne die politieke ekonomie van kennis te waardeer en na waarde te skat, die ondermynende mag daarvan aan die kaak te stel en terselfdertyd ook die ware weelde van die ander te beredeneer en sterk na vore te bring as twee domeine van komplementerende wetes wat onmisbaar vir mekaar is in hul strewe om die toekoms van die mensdom te verseker. Hiervoor sal "die toekomstig literêre", soos Liu die figure beskrywe, onmisbaar wees, maar hulle aktiwiteit sal veel verder moet strek as bloot kritiese denke en skeppende kunste. Alle wetenskappe van die gees sal oor alle grense heen kragte en insigte moet saamsnoer ten einde die uitdaging van siek samelewings, in die sin waarin hierdie verskynsel hier beskrywe word, die hoof te bied.

 

DIE LEWE-INFORMERENDE HOUDING AS VOORWAARDE VIR SOSIOTERAPIE

Die hedendaagse lewe en samelewing en die stemming daarvan behoef herstel, skrywe Liu. Waarom is dit nodig en wat beteken dit? Iets moet verkeerd wees maar wat? Indien 'n mens tussen die lyne lees dan moet dit, volgens Liu, iets te doen hê met "die etos van nie-kenning of nie-wete". Die etos van nie-kenning plaas hindernisse op die pad van wete en kenning en verbied toegang tot die domein van kennis. Hierdie verlies aan kennis in 'n dieper sin vorm die wesenlike oorsaak van die siek toon van die huidige samelewing. Dit vorm deel van die karakterisering van 'n samelewing wat herstel nodig het, herstel in terme van 'n lewens-informerende houding, want tans word die informerende aktiwiteit afgesny van die lewe.

Hierdie houding is egter nie 'n gegewene nie; dit is nie vanselfsprekend nie; dit is nie 'n professie of beroep nie. Dit moet gesoek word. Wat is hierdie lewe-informerende houding? Daar is reeds vlugtig hierop gelet. Let verder daarop: nie behoeftes nie; nie probleem-informerende houdings nie (wat die mode is), maar lewe-informerend, met ander woorde omvattend, singewend en sorgdraend. Dit kan nie stuksgewys gebeur nie, maar moet omvattend wees: wysheid wat in die Vallei van die Dood beland het moet herwin word. Dit is waar geestelikheid in die prentjie kom. Dit gaan dus nie om 'n behoefte-informerende houding, of 'n probleem-informerende houding of selfs 'n relevansie-informerende houding in die eerste plek nie, maar om 'n lewe-informerende houding. Wat beteken dit werklik? Dit moet omvattend en alles-insluitend wees, sin-makend en sorg-saam met betrekking tot die hele persoon in die hele wêreld. Die klem word hiermee geplaas op 'n kapasiteit waaroor mense en slegs mense beskik, naamlik om lewe-informerende wesens te wees wat deurentyd lewensinventief te werk gaan.

Wat is die diep-gesetelde inspirasie en die geestesgesteldheid van die lewe-informerende houding? Wat beteken dit? Wat is die toepasbare modus? Die antwoord is geleë in die bewus-wees van of die bewus-maak van en die indompeling in "die etos van die onbekende". Dit is dus nie 'n gewone vaardigheid nie; dit kan nie geleer word nie; alle menslike vermoëns moet daarvoor ingespan word. Dit is 'n houdingsaangeleentheid wat ons verby die posisie van beslaglegging op na die posisie van synsgerigtheid neem. Dit gaan dus nie oor 'n sekere manier van doen of handel nie, maar oor 'n manier van wees met dit wat is - 'n ander soort wete van of aangaande die onbekende, die vermoë om die Syn te verneem, om dit wat die lewe fluister te hoor en te gehoorsaam. Niks anders nie as die getransformeerde wetenskappe van die gees ("the New Humanities and the New Arts" in Liu (hfst. 12) se taal) en niks anders nie kan hier, in die eeu van opgeblaasde inligting en gemutileerde kennis, die leiding neem op voorwaarde dat dit gebeur in die voorgeskrewe terme van "die etos van die onbekende" (p.385). Michel Serres (2009:82-85) wys daarop dat filosofie, lertterkunde en die kunste (Rabelais, Diderot, Leibniz, Flaubert) ons op hierdie wêreld van verhoudinge, netwerke, informasies waarin ons nou lewe voorberei het. Wie ook al dink, skrywe en lewe word gou 'n komponis. Soos hierdie aktiwiteite oor 'n lang tyd hierdie wêreld, ons wêreld voorberei het, kon geen wetenskap doen nie. Dit is dan ook hierdie wetes of wetenskappe wat in hierdie konteks die lewe-informerende houding kan voed en daartoe kan opvoed. Kenniswerkers wil met feitekennis in die naam van nuttigheid en bekostigbaarheid alle ander kennis (nie-feitekennis) as nutteloos bestempel en na die Vallei van die Dood verwys (die proses van kreatiewe destruksie). Hiervoor is nodig om in die naam van verbeeldingvolle wete deur destruktiewe kreatiwiteit die sogenaamde nuttigheid en bekostigbaarheid as eensydig en ontoereikend te vernietig terwyl die verbanne "nuttelose" kennis uit die Vallei van die Dood herwin moet word en tot lewe herskep word ten einde deur 'n etiese begrip van inligting die waarde daarvan vir en tot lewe na vore te haal. Of soos Liu (2004:383) dit in die woorde van Shelley stel: "The poetry in these systems of thought is concealed by the accumulation of facts and calculation processes We want the creative faculty to imagine that which we know; we want the generous impulse to act that which we imagine; we want the poetry of life." Soos Serres vroeër die versugting uitgespreek het: "Laat die nuwe kennis kom", so bring Shelley die komplementerende versugting na vore: "Ons hunker na die poësie van die lewe". Die hoogtepunt van die sosio-terapie, as die mikpunt van die lewe-informerende houding van die wetenskappe van die gees, vind goeie uitdrukking in die ervaring van die herinvensie van die gees van die lewe in die woorde van Liu (2004:388): "the experience of a diffuse, saturated, reorigination of spiritual meaning in everyday life" (my beklemtoning).

 

SLOT

Alan Liu het beplan om te skrywe oor die lot van die kennisvorme waarvoor hy op die mees diepgaande wyse omgee en lief is - die historiese, die literêre, die artistiese, die humane (wat hopelik die filosofiese insluit) kennisvorme - binne die milieu van die nuwe arrogante wêreld van inligting en die heel resente, nuwe wêreld van data-verheerliking. Maar dan is hy egter vinnig om te beklemtoon: hy het baie bladsye hieroor geskrywe wat hom al verder weggevoer het van die waarheid en om hierdie bladsye te ont-skrywe ten einde terug te kom by wat hy werklik op diepgaande wyse voor omgee, die inhoude van die wetenskappe van die gees, was van die moeilikste skrifting waaraan hy hom ooit gewaag het. Dit is die lot wat hy deel met almal wat werklik omgee vir die wetenskappe van die gees en daaroor wil skrywe. Dit is nie alleen erg moeilik nie, maar dit is ook pynlik en soms vernederend - 'n mens weet jy moet en jy wil ook, maar jou pogings wat jy aanwend oor waarin jy glo word afgelag en verspot gemaak. Nie omdat jy so swak skrywe nie, want die ander skrywe ook maar erg swak, maar omdat jy vanuit die kubikel, waar niemand eintlik meer in staat is om behoorlik te skrywe nie, uitgelag word en irrelevant verklaar word. Dáár word geskrywe sonder woordeskat en sonder letteregevoeligheid. So voer Liu ons van die grot van Plato tot die ysterkou van Weber, tot die silikonkou van die tegniese eeu, tot die kubikel van intellektuele gevangenskap van die tegnobewonderaars (ongelukkig mis hy die sirkus van Serres), maar ook sonder om terug te kom by die andersoortige grot van Johannes op Patmos waarin Johannes op profetiese wyse deur die grotwande gebreek het om uit te kom by die "hoofsom van die geskiedenis" wat hy daarin saamgevat het (Miskotte 1945) en "die doel van alle dinge" (Frey 1962) wat hy daarin uiteengesit het - 'n oorskryding van alle gevangenemende en gevangehoudende metafisikas en 'n deurkruising van alle ideologieë, veral teologiese en kwasi-teologiese ideologieë. Dit is voorwaar lewe-informerend. Miskien sou Johannes se getuienis nog verder kon gaan (en Alan Liu - soos Paul Ricoeur - het respek vir die kenniswaarde van eeue se getuienisse (p. 381), presies dit wat deur die etos van nie-kenning gedood word), en selfs 'n ewige lewe-informerende houding openbaar wat selfs die grense van die geskiedenis oorskry, veral vir diegene wat nog kan en wil glo.

 

BIBLIOGRAFIE

Ballay, J. 2010. Le mythe de l'intelligence collective. http://arsindustrialis.org/le-mythe-de-lintelligence-collective-0 (toegang verkry op 25 Oktober 2010).         [ Links ]

Canguilhem, G. 2008. Knowledge of life. New York: Fordham University Press.         [ Links ]

Castells, M. 1996. The information age: Economy, society and culture. Malden (Mass.): Blackwell.         [ Links ]

Dortier, J-F. & Journot, N. 2006. L'intelligence collective. Sciences humaines, 169: 33-53.         [ Links ]

Drucker, P. 1993. Post-capitalist society. New York: Harper Collins.         [ Links ]

Dupuy, J-P. 1980. Myths of the informational society, in The myths of information: technology and postindustrial culture, edited by K. Woodward. New York: Routlegde and Kegan Paul.         [ Links ]

Dupuy, J-P. 2002. Pour un catastrophisme éclairé: quand l'impossible est certain. Paris: Seuil.         [ Links ]

Felman, S. 1987. Jacques Lacan and the adventure of insight. Cambridge (Mass.): Harvard University Press.         [ Links ]

Frey, H. 1962. Das Ziel aller Dinge. Stuttgart: Calwer Verlag.         [ Links ]

Guattari, F. 1995. Chaosmosis: an ethico-aesthetic paradigm. Bloomington: Indiana University Press.         [ Links ]

Guattari, F. 2012. The three ecologies. London: Continuum.         [ Links ]

Heidegger, M. 1973. Brief over het humanisme. Utrecht: Uitgeverij Lannoo.         [ Links ]

Henry, M. 2012. Barbarism. London: Continuum.         [ Links ]

Lacan, J. 2011. Je parle aux murs. Paris: Seuil.         [ Links ]

Lash, S. 2002. The critique of information. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Lévy, P. 1997. Collective intelligence: mankind's emerging world in cyberspace. New York: Plenum Trade.         [ Links ]

Liu, A. 2004. The laws of cool: knowledge work and the culture of information. Chicago: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Malabou, C. 2012. Ontology of the accident: an essay on destructive plasticity. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Miller, J Hillis. 1999. Black Holes. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

Miskotte, K.H. 1945. Hoofdsom der historie: voordrachten over de visioenen van den apostel Johannes. Nijkerk: G.F. Callenbach N.V. Uitgever.         [ Links ]

Morin, E. 1986. La Méthode 3. La connaissance de la connaissance 1. Paris: Seuil.         [ Links ]

Morin, E. 2008. On complexity. Cresskill (NJ): Hampton Press.         [ Links ]

Naccache, I. 2010. Perdons-nous connaissance? De la mythologie à la neurologie. Paris: Odile Jacob.         [ Links ]

Nancy, J-L. 2011. L'Équivalence des catastrophes (Après Fukushima). Paris: Galilée.         [ Links ]

Paulson, W.R. 1988. The noise of culture: literary texts in a world of information. Ithaca: Cornell University Press.         [ Links ]

Ronell, A. 2003. Stupidity. Urbana: University of Illinois Press.         [ Links ]

Schumpeter, J.A. 1975. Capitalism, socialism and democracy. New York: Harper & Row.         [ Links ]

Serres, M. 1989. Detachment. Athens, Ohio: Ohio University Press.         [ Links ]

Serres, M. 1997. The troubadour of knowledge. Ann Arbor: The University of Michigan Press.         [ Links ]

Serres, M. 2009. Écrivains, savants et philosophes font le tour du monde. Paris: Le Pommier.         [ Links ]

Simondon, G. 2005. L'individuation à la lumière des notions de forme et d'information. Grenoble: Éditions Jérôme Millon.         [ Links ]

Steiner, G. 1999. Barbarie de l'ignorance. La Tour d'Aigues: Éditions de l'Aube.         [ Links ]

Stengers, I. 2009. Au temps de catastrophes: résister à la barbarie qui vient. Paris: La Découverte.         [ Links ]

Stiegler, B. 2006. Le degré zéro de la pensée, in La télécratie contre la démocratie. Paris: Flammarion.         [ Links ]

Stiegler, B. 2010. Taking care of youth and the generations. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

Stiegler, B. 2013a. Disbelief and discredit, volume 2: Uncontrolable societies of disaffected individuals. Cambridge: Continuum.         [ Links ]

Stiegler, B. 2013b. Pharmacologie du Front National. Paris: Flammarion.         [ Links ]

Stiegler, B. 2015. States of shock: stupidity and knowledge in the 21st Century. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Wersig, G. 1990. The changing role of knowledge in an information society, in The information environment: a world view, edited by D.J. Foskett. Amsterdam: Elsevier Science Publishers.         [ Links ]

Wersig, G. 1993. Fokus Mensch: Bezugspunkte postmoderner Wissenschaft: Wissen, Kommunikation, Kultur. Frankfurt am Main: Peter Lang.         [ Links ]

 

 

 

C S (FANIE) DE BEER is Emeritus Professor van die Departement Inligtingkunde, Universiteit van Suid-Afrika en is tans Navorsinsgenoot in die Departement Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy het gegradueer in Landbou en Filosofie (doktorale werk) aan die Universiteite van Pretoria en Parys X, Nanterre, Frankryk, onderskeidelik. Hy het Inligtingkunde, Wysbegeerte en Kommunikasiekunde aan verskillende universiteite doseer, navorsing op al hierdie gebiede en verwante subgebiede onderneem, daaroor gepubliseer en konsultasiewerk gedoen oor kennisskepping, -benutting, en -disseminasie.
Hy doen tans ekstensief navorsing oor die volgende temas: die filosofie en teorie van inligting in die wydste sin van die woord; filosofieë en teorieë van tegniek en tegnologie; kennisinvensie, -disseminasie, -benutting en -bestuur; lees- en interpretasieteorieë en die bestaande geletterdheidsnood; en oor die her-invensie van menslike spiritualiteit, noölogie en noösfeer.
C S (FANIE) DE BEER is Professor Emeritus of the Department of Information Science, University of South Africa and is currently a research associate in the Department of Information Science at the University of Pretoria. He graduated in Agriculture and Philosophy (doctoral work) at the University of Pretoria and Paris X, Nanterre, France, respectively. He taught Information Science, Communications, and Philosophy, undertook research in all these disciplines and related sub-disciplines and was involved in consultation work in the area of knowledge utilization and information dissemination.
 He is currently extensively engaged in research on the following themes: the philosophy and theory of Information in the widest possible sense; philosophies and theories of technics and technology; knowledge invention, dissemination, utilization and management; reading and interpretation theories and existing literacy needs; and on the re-invention of human spirituality, noology and the noosphere.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License