SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2-1A principal's perspective on professional development: a single case studyBOOK REVIEWS author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.2-1 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a9 

ARTICLES

 

Variasie en variëteit: 'n Voorlopige verkenning van die voorkoms en funksie van taalvariëteite in Kaar (Marlene van Niekerk)

 

Variation and variety: A provisional exploration of the occurrence and function of language varieties in Kaar (Marlene van Niekerk)

 

 

H.J. Pieterse

Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: PieterseHJ@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word die polifonie van tale in Kaar, Marlene van Niekerk se derde digbundel (2013), ondersoek. Standaardafrikaans en verskeie sosiolekte, dialekte en streeksvariëteite van Afrikaans word in die bundel gevind, asook leksikale items uit verskeie moeder- en sustertale van Afrikaans. 'n Aantal moontlike invalshoeke tot die bundel word eerstens bespreek. Die fokus verskuif dan na die verskeie tale in die bundel; die wyses waarop hulle gebruik word in die gedigte, word gelys in 'n uitgebreide Addendum. Die vraag word gestel waarom soveel items uit Afrikaans wat geëtiketteer word as onder meer "argaïes", "weinig gebruiklik", "verouderd" en "deftig" gebruik word om 'n heteroglossiese effek te skep. Die argument word gestel dat byna vergete items "losgemaak" word uit die vergetelheid en vir die leser opgehou word as lewende items om 'n verbygaande en verbygegane wêreld mee op te roep. Kommentaar word voorts gelewer oor die plek van Afrikaans binne en tussen hierdie polifonie van tale en 'n indirekte stelling word deur die digter gemaak dat Afrikaans se wortels in die Indo-Germaanse taalfamilie lê en nie in die Afrikatale nie. Ten slotte word Deleuze en Guattari (1986) se begrippe "majeur-" en "mineurtaal" deelteoreties gebruik om die register van talle gedigte in Kaar as 'n mineurtaal te verduidelik, 'n taal wat verby sy gewone morfologiese en sintaktiese grense gedruk word om te verseker dat die taal in 'n voortdurend nomadiese en dinamiese staat bly.

Trefwoorde: Marlene van Niekerk; Kaar; taalvariasie; ensiklopediese narratief; idiolek; sosiolek; streeksvariëteit; tussentaal; majeurtaal; mineurtaal


ABSTRACT

In this article the polyphony of languages discernible in Kaar, Marlene van Niekerk's third volume of poetry (2013), is investigated. Standard Afrikaans and various sociolects, dialects and regional varieties of Afrikaans are found in the volume, as well as lexical items from various mother and sister languages of Afrikaans such as Dutch, German and Latin. A number of possible points of entry to the volume is firstly discussed: Kaar can be analysed as an "encyclopedic narrative" (Mendelson 1976); the variety of scientific, literary and art-theoretical intertexts can be researched fruitfully; the conversation with Afrikaans poetics may be analysed; the variety of morphological and onomatopoeic and often playful creations and onomastics that are performed on the level of the wordplay in the poetry of Peter Blum, T.T. Cloete and Breyten Breytenbach deserve attention; the formation and function of reduction, combination forms, techno derivations and compounds, fusions and folk etimologies can serve as basis for a comprehensive morphological-literary investigation (cf. Combrink 1990:53-83); from an ecocritical animal and botanical perspective plant and animal onomastics - especially the many examples of regional names for plants and animals - could be analysed; the themes of political involvement and resistance deserve thorough analysis. The focus then shifts to the various languages in the volume; the ways in which they are used in the poems are listed in an extensive Addendum. The question is posed why so many items from Afrikaans labelled as "archaic", "seldom used", "obsolete", "dignified" and "poetical" are put to use to create a heteroglossic effect. After reasoning that these lexical items form part of the poet's day to day world, the argument is put forward that nearly forgotten items are "loosened" from oblivion and held up to the reader as living items to recall a passing and fugacious world. Commentary is furthermore given on the place of Afrikaans in and between this polyphony of languages and an indirect assertion is made by the poet that Afrikaans' roots are from the Indo-Germanic language family and not from the African languages; this forms part of the theme of estrangement in Africa, an important theme in the volume. Finally, Deleuze and Guattari's (1986) notion of "major" and "minor" languages is used to partially explain the register of many of the poems in Kaar as a minor language, a language that is pushed beyond its usual morphological and syntactic boundaries to ensure that it stays in a continuous nomadic and dynamic state.

Key concepts: Marlene van Niekerk; Kaar; encyclopedic narrative; idiolect; sociolect; regional variety; contact language; major language; minor language


 

 

1. INLEIDING

Marlene van Niekerk se derde digbundel, Kaar, word gepubliseer in 2013 en word uiters gunstig deur kritici ontvang. Henning Snyman (2013) noem dit "'n merkwaardige bundel", Marius Crous (2013) meen dat Suid-Afrikaanse poësie voortaan aan dié bundel gemeet gaan word, Helize van Vuuren (2014) is uiters positief oor die bundel, ook as "laatwerk" van die digter, en so ook Zandra Bezuidenhout (2013) wat die ensiklopediese aard van die bundel uitlig. Die bundel word bekroon met die Hertzogprys (2014) en die UJ Prys vir Poësie (2014).

Met die lees en herlees van die bundel word die leser getref deur die omvangryke taalspel, wye reekse intertekstuele verwysings en leksikale items uit verskillende tale en taalvariëteite in die gedigte. Bezuidenhout (2013) noem pertinent die gebruik van leenwoorde, Afrikaanse woorde met 'n lae gebruiksfrekwensie en ander wat grootliks in onbruik geraak het, vakterminologie uit die musiek, die natuurwetenskappe en filosofie en nuutskeppings met betrekking tot woordvervormings, woordsamestellings, volkse uitdrukkings en funksiewisseling. In hierdie artikel word geargumenteer dat die "ensiklopediese narratief" van Kaar deels in 'n idiolek gevoer word wat as 'n soort "mineurtaal" (vergelyk Deleuze & Guattari 1986) beskryf kan word.

Daar is 'n hele aantal moontlike invalshoeke om hierdie bundel mee te ontsluit:

Kaar kan as 'n "ensiklopediese narratief" ontleed word. Mendelson (1976:1268) omskryf 'n "ensiklopediese skrywer" soos volg:

[O]ne whose work attends to the whole social and linguistic range of his nation, who makes use of all the literary styles and conventions known to his countrymen, whose dialect often becomes established as the national language, who takes his place as national poet or national classic and who becomes the focus of a large and persistent exegetic and textual industry comparable to the industry founded upon the Bible.

Hy beskryf hierdie genre-tipe as

[...] among other things, an encyclopedia of narrative, incorporating, but never limited to, the conventions of heroic epic, quest romance, symbolist poem, Bildungsroman, psychomachia, bourgeois novel, lyric interlude, drama, eclogue and catalogue". [...] All include a full account of technology or science (1976:1270, oorspronklike kursivering).

Voorts skryf hy: "Each encyclopedic narrative is an encyclopedia of literary styles, ranging from the most primitive and anonymous levels of proverb-lore to the most esoteric heights of euphuism" (1976:1271). Hy is van mening dat "[n]o one could suppose that any encyclopedic narrative is an attractive or comfortable work" (1976:1272) en dat "[a]ll encyclopedias are polyglot books that provide a history of language" (1976:1273). Ten slotte skryf Mendelson oor hierdie genre: "All encyclopedic narratives, to a greater or lesser degree, originate in opposition to the cultures they later come to symbolize" (1976:1274). Alhoewel Kaar natuurlik 'n digbundel is, is daar verskeie aspekte van die ensiklopediese narratief wat klop met die inhoud van die bundel.

Die verskeidenheid literêre, wetenskaplike en kunsteoretiese intertekste sou met groot vrug ondersoek kan word.

Die gesprek met die hele Afrikaanse digkuns (en verskeie ander poëtikas) sou eweneens ondersoek kan word: daar is verwysings na onder meer Totius, D.J. Opperman, Breyten Breytenbach, C.M. van den Heever, N.P. Van Wyk Louw, Sheila Cussons, Ingrid Jonker, G.A. Watermeyer, P.J. Philander, Louis Eksteen, Wilma Stockenström, Boerneef en Peter Blum. Voorts is daar intertekstuele verbande met onder meer T.S. Eliot, Paul van Ostayen, Adriaan Roland Holst, Rainer Maria Rilke, John Keats en Hermann Hesse aan te toon.

Die verskeidenheid morfologiese en onomatopeïese en dikwels speelse skeppings- en naamgewingsprosesse en -spelle - wat op die skaal van die woordspel in die digkuns van Peter Blum, Breyten Breytenbach en T.T. Cloete uitgevoer word - verdien ook aandag. Die vorming, gebruik en funksie van reduksie, knipsels, truvorme, inkortings, kombinasievorme, tegnoafleidings- en -samestellings, versmeltings, volksetimologieë, samestellings en samestellende afleidings kan as basis dien van 'n deeglike morfologies-letterkundige ondersoek (vergelyk Combrink 1990:53-83 oor hierdie prosesse). Hierdie tipes skeppings kom in talle gedigte voor, maar "Oggend van 'n waterfiskaal", "Visioen", "joeliewoorde vir my pa", "Fagotvis", "Fantasie vir Monteverdi en die Maagd Maria", "Turdus merula" en dan, veral, "Oujaar Amsterdam 2007" en "rimram", kan in hierdie verband uitgesonder en verder ondersoek word. Dié werkswyse kan met die laaste afdeling, "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing", in Mede-wete van Antjie Krog (2014) vergelyk word, waarin soortgelyke morfologiese prosesse, nuutskeppings en vervormings aangetref word.

Vanuit 'n ekokritiese dier- en plantkundig- taksonomiese perspektief sou plant- en diernaamgewing - veral die talle voorbeelde van streeksname vir plante en diere - ondersoek kan word. Vergelyk onder meer Crous (2016) in hierdie verband.

Die temas van betrokkenheid en verset verdien deeglike ondersoek.

In hierdie artikel word daar, in aansluiting by die ensiklopediese aard van Kaar, 'n voorlopige ondersoek gedoen na die voorkoms van die polifonie van tale, oftewel heteroglossia, en spesifiek na die verskillende variëteite van Afrikaans wat in die bundel gebruik word. Daar word ten slotte gespekuleer oor die funksies van hierdie verskillende tale en variëteite.

 

2. TAALKUNDIGE VARIASIE

Volgens Hans du Plessis sluit taalkundige variasie

[...] voorbeelde [in] van tale, dialekte en selfs registers. [...] Binne [die] versamelterm [variëteit] kan 'n mens fynere onderskeidings maak, naamlik taal, dialek, styl, ensovoorts. Ons gebruik dus die oorkoepelende term variëteit om al die moontlike vorme van sistematiese variasie wat daar tussen tale en binne tale kan bestaan, in te sluit. Die term sou ruweg so gedefinieer kon word: 'n Variëteit van 'n taal is 'n patroonmatige sisteem van linguistiese items met ooreenstemmende sosiale en/of geografiese verspreiding. Variëteit sluit hiervolgens eenhede groter as dialekte (byvoorbeeld verskillende tale) en eenhede kleiner as dialekte (byvoorbeeld register) in. (1987:9). [...] Variasie "kan [...] dui op taal, dialek, sosiolek, register [en] styl". (1987:12, vergelyk ook Otto 2014:312)

Poësie sal, per definisie, as idiolektiese uitdrukking van 'n digter beskou word, asook alle skeppings wat binne hierdie idiolek manifesteer.

Uiteraard is die meeste leksikale items in Kaar Afrikaanse woorde (uit Standaardafrikaans en verskeie streeksvariëteite), maar items uit ten minste twintig ander tale, veral uit moeder- en sustertale van Afrikaans, word in die bundel gevind as leenwoorde, leenvertalings en verafrikaansings, sodat 'n tipe "tussentaal" as register in talle van die gedigte ontstaan.

Hierdie artikel maak nie aanspraak op 'n volledige indeksering van al die variëteite en hulle funksies nie en poog bloot om 'n verteenwoordigende deursnit van die verskillende tale te verskaf in die Addendum. Ter wille van ruimte word enkele items gelys en ook slegs enkele items wat as leenvertalings of verafrikaansings afgelei is uit die onderskeie tale. Talle skeppings verdien verdere ondersoek en oor verskeie items en hul oorsprong kan daar slegs gespekuleer word. Wat voorts vir die een leser 'n "verouderde" of "deftige" leksikale item is, sal nie noodwendig vir 'n volgende leser geld nie. Verder is die indeling van die tale nie waterdigte afbakenings nie - daar is talle leenwoorde en leenvertalings wat oor taalgrense heen spoel. Die tipe ondersoek wat in die artikel gedoen word, sou maklik uitgebrei kan word tot 'n MA-verhandeling.

Kaar bestaan merendeels uit woorde uit Standaardafrikaans. Voorts is daar items uit verskeie sosiolekte en streekstale soos Kaapse Afrikaans en Overbergse Afrikaans (laasgenoemde deur Hendricks 2012:47-48 as variëteit van Wes-Kaapse/Suidwestelike Afrikaans gelys). Wat opvallend is, is die talle weinig gehoorde en argaïese Afrikaanse woorde in die bundel (meer as 80), dikwels met 'n liturgiese en Ou-Testamentiese, Psalm- en Gesange-inslag. Dié tipe register is nie vreemd in Marlene van Niekerk se oeuvre nie en word ook in Agaat en veral in Die sneeuslaper gevind, vergelyk Stander (2012) in hierdie verband.

Verskeie van die Afrikaanse en Nederlandse items wat heel waarskynlik minder bekend sal wees aan die gemiddelde Afrikaanssprekende of -leser, word in WAT en/of HAT en Van Dale Nieuw Handwoordenboek der Nederlandse taal geëtiketteer as deftig, w.g. (weinig gebruiklik), veroud. (verouderd), verouderend, digt. (digterlik), arg. (argaïes), min gehoor, gemeens. (gemeensaam), geselst. (geselstaal), gewest. (gewestelik) en/of nie alg. (nie algemeen nie). In die volgende afdeling word die verskillende tale en variëteite onder die loep geneem.

 

3. DIE TALE IN KAAR

Soos vermeld, is daar meer as twintig tale in Kaar te bespeur naas Afrikaans. In die Addendum word verteenwoordigende items uit hierdie verskillende tale gelys. Die volgende tale kan in die bundel onderskei word: Afrikaans (honderde items; Standaardafrikaans, streeksvariëteite en ouer Afrikaans ingesluit); Nederlands (tientalle items; ook Middel- en Oudnederlands); Duits (minstens 16 items; ook Neder-, Middelhoog- en Oudhoogduits); Frans (minstens 20 items); Jiddisj/Hebreeus (minstens 10 items); Engels (tientalle items; ook as deel van die Kaaps-Afrikaanse register in "poets van ons vaderland unite" en "Hoekom moetie worldcup wê'k?"); Latyn (minstens 70 items); Grieks (minstens 20 items); Italiaans (4 items); Spaans (4 items); Mandaryns-Chinees (2 items); Zulu (1 item); Sjangaan (1 item); Indonesies/Javaans (3 items); Kelties (Iers/Gaelies) (3 items); Sanskrit (6 items); Noors/Oudnoors (4 items); Arabies (2 items); Turks (2 items); Turkies (1 item); Russies (1 item); Polinesies (2 items).

 

4. 'N BESINNING OOR DIE FUNKSIES VAN DIE TAALVARIËTEITE IN KAAR

'n Mens sou lank kon besin oor die redes vir die gebruik van al hierdie variëteite en items, waarvan sommiges oer-, moeder- of sustertale van Afrikaans is en ander sosiolekte, dialekte en idiolekte van en in Afrikaans, asook oor die verskeidenheid streeksname vir sekere plante en diere. 'n Kort antwoord hierop, sonder om psigologisties te wil wees, sou kon wees: al hierdie tale en variëteite kom uit Marlene van Niekerk se bekende leefwêreld: die Overberg, Wes-Kaap, en dan ook Europa (spesifiek Nederland) waar sy studeer en werk (1980-1985) en waar sy jaarliks lang tydperke deurbring (vergelyk onder meer Van Vuuren 2016:919); sy is uiteraard bekend met al die variëteite wat sy gebruik in haar tekste.

Soos 'n spieël in die eerste gedig ("Oggend van 'n waterfiskaal") opgehou word as 'n procédé om die bundel mee te ontsluit, word 'n ware spieël van tale en taalfamilies - spesifiek die Indo-Germaanse/Indo-Europese taalfamilie - in verwondering ("thaumazein") vir die leser voorgehou. Byna vergete items word as't ware "losgemaak" uit die vergetelheid en vir die leser voorgehou as lewende items. Daardeur word 'n verbygegane en verbygaande wêreld opgeroep - vergelyk "Die mandjie" - en kommentaar gelewer oor die gemeenskaplikheid van en tussen mense en tale in die breë.

Die verskillende variëteite van Afrikaans en minder bekende Afrikaanse woorde wat aan die bod kom, lewer voorts kommentaar, soos wat die geval is met die lyste Afrikaanse woorde in Die boek van toeval en toeverlaat van Ingrid Winterbach, oor die uitsterf van tale, spesifiek Afrikaans. Die argaïese, dikwels Ou-Testamentiese aanslag van talle Afrikaanse woorde is, soos reeds vermeld, opvallend: dit is dikwels woorde met etikette van arg./hist/w.g./deftig./veroud., ensovoorts.

Kommentaar word voorts gelewer oor die plek van Afrikaans in en tussen hierdie polifonie van tale en 'n indirekte stelling word gemaak dat Afrikaans se herkoms uit die Indo-Germaanse taalfamilie is en nie uit die Afrikatale nie; dit vorm deel van die tema van vervreemding en vreemd-maak in Afrika. Let in hierdie verband op die feit dat daar slegs twee items uit Afrikatale voorkom en die reëls "my vergelykings spreek/van onvermoë in Afrika" ("Sorry suide").

Uitgaande van die bundeltitel kan 'n "kaar" onder meer beskou word as 'n tydelike houer met gaatjies waarin 'n hele taalfamilie metafories bewaar word. Simbolies-metafories word die teks dan 'n vlegwerk van taal/tale wat tentoongestel word: "'n somber geskiedenis van strewes en rampe/beheer ons gesig/stom dui ons tekens, raadpleeg voorsate,/kodekse, konkordanse, etimologieë, genetiese spore" ("Waenhuiskrans"). Kultuurkritiese, taalsosiologiese kommentaar oor die herkoms, status en stand van Afrikaans asook, indirek, oor die verarming van die woordeskat, word gelewer.

Die gedigte in Kaar gaan tot in die vesels van die poësie en van Afrikaans in. Hier dink 'n mens aan "Chtoniese invokasie" waarin daar, soos deur 'n sjamaan, skald of bard uitgevoer, 'n ritualistiese aanroep van, in en tot die eerste en laaste wortels van taal gehoor word.

Lucebert se bekende stelling, "Poëzie is kinderspel", is voorts van toepassing op aspekte van die taalspel en -vermenging in Kaar, vergelyk die volgende reëls uit "rimram": "wantit makie saak/hóé ik tekieregan, in waffer taal/of hakkestomp, julle hôr my nie,/mar mit mine elp wat innie willig brillig/gat ekkit nou veranner, ik gat hom slánn!" Hier dink 'n mens ook aan poësie as die vreemd-maak, die ostranenie, die "mal-maak" van taal - "[...] [A] poet is nothing more or less than a divinely inspired madman" het Herman Charles Bosman (2002:61) immers geskryf. Aansluitend hierby skryf Van Niekerk self:

Dit is [die] kapasiteit van 'n taal om vreemd gemaak te (wil) word wat die uitdaging stel aan skrywers [...]. Want soseer moet die skrywer die taal probeer lig uit haar alledaagse voeë, uit die slagspreuke, die ideologieë en die kommunikatiewe gewoontes van die dag, dat daardeur nie net taal oopgedig word by wyse van spreke tot in haar moer nie, maar ook die besonderhede van ons tyd en dae oopgedek en hervind word; in hulle afgrondelikheid en afgryse soos in hulle wonderbaarlikheid en betowering (2009:134, oorspronklike kursivering).

Deur die vermenging en vervorming van tale en variëteite word tipes tussentale (basilekte, mesolekte, akrolekte, ensovoorts - vergelyk Du Plessis 1987:29) as registers van en in verskeie gedigte bereik. Conradie skryf in hierdie verband onder meer:

Soos enige lewende taal, is Afrikaans voortdurend aan verandering onderhewig. [...] In talle gevalle kan die Afrikaanse vorm [...] nie uit Nederlands verklaar word nie en moet daar na eksterne oorsake gesoek word, byvoorbeeld in die situasie van intense talekontak waaruit Afrikaans voortgekom het. Die rolle van taaloordrag van een geslag na 'n ander, enersyds, en van tussentale, substraatinvloede, kreolisering, ensovoorts, andersyds, moet teen mekaar opgeweeg word (2014:61).

Voortspruitend uit die vorige punt: Die geweldige variasie en getal variëteite kan ook deels vanuit die spanning tussen allochtoon en outochtoon verklaar word. Vanuit hierdie worsteling sê die liriese subjek byvoorbeeld: "vanuit my heupe in die woekerkruid/rank my taal die heelal in op soek na 'n gelykenis" ("Kommunie").

Een moontlike verklaring vir die geweldige taalvariasie en -verwringing in Kaar kan gevind word in Gilles Deleuze en Félix Guattari se nou reeds bekende sienings oor dominante majeurtale en mineurtale wat sonder mag is, soos verwoord in hoofstuk 2 van Kafka: Towards a Minor Literature (1986). Hulle verduidelik hoe Kafka - 'n Tsjeggiese Jood woonagtig in Praag - nie in Tsjeggies of Jiddisj geskryf het nie, maar in 'n stamelende, sintakties-gebroke Duits. Hy het Duits - 'n dominante taal wat ook deur 'n onderdrukte minderheid gepraat is - gedeterritorialiseer deur sy eie aksent daarop te plaas: dit is nie 'n standaardduits wat gebruik word nie, maar 'n Duits met talle grammatikale foute en sintaktiese verskrywings.

Van Niekerk skryf - in Kaar en ook in Die kortstondige raklewe van Anastasia W en veral Die sneeuslaper - in 'n mineurtaal, 'n stameltaal, 'n taal wat vervreem en sodoende vernuwend, eksperimenterend en dinamies oorkom.

'n Mineurletterkunde deterritorialiseer (Deleuze & Guattari 1986:16) - dit maak die majeurtaal of -letterkunde vreemd, laat dit stotter en struikel. Dit behels 'n strategiese losmaak van die oue sowel as die skep van nuwe kreatiewe vorms wat die potensiaal vir 'n literêre rewolusie bevat. Die stottering van Afrikaans in Die sneeuslaper (en dan ook in Kaar) is een gevolg van 'n taal wat onder geweldige politieke spanning verkeer en, in 'n poging om nie stom te word nie, begin om te deterritorialiseer, te varieer - om te verseker dat die taal in 'n voortdurend dinamiese staat bly (Stander 2012:112).

Van Niekerk vermeng nie net Afrikaans met ander tale nie, sy vervorm dit tot 'n vreemde taal - 'n tussentaal - wat voorheen nie bestaan het nie, vergelyk veral die gedig "rimram", waarvan die eerste paar reëls soos volg lui: "jirre ik wag net virre sonskiendag se ingewing/dan klim ek innie wierskynwilg/en soek my wiederligge watseding/wat my byrie gat moet bring/innie klienbrein warie klippe sing/innie gierputsdroem oppie mooiroemwoore/my wulk my hommel my kantele/wat wie wiet innie wilg/nog hang aan garingdrarre". Die spreektaalvervorming van woorde (soos by Boerneef) is opmerklik, so ook die gebruik van 'n verafrikaanste woord, "wiederligge", uit die Duits "widerlich" (lelik, aaklig). Die "stotterende" Afrikaans in Kaar - soos in Die sneeuslaper - gryp terug na die Europese tale waaruit dit ontstaan het en set dit doelbewus af teen die invloed van 'n bloedvergietende (Suid-)Afrika (vergelyk Stander 2012:10).

'n Mineurtaal is voorts altyd polities van aard (teenoor die majeur wat primêr op die individu ingestel is) en 'n vergestalting van die minderheid wat op sosiale en politieke vlak ook wil ontvlug van dié wat domineer en onderdruk (Deleuze & Guattari 1986:17).

Die gedig "grimoire" (p. 27-8) word vervolgens kortliks ontleed as voorbeeld van die inspan van verskeie tale om die inkantatiewe, towerspreuk-agtige aard wat verskeie gedigte in die bundel kenmerk en laat aansluit by die konsep van 'n mineurtaal, te bewerkstellig:

grimoire

hoe anders as jy ver weg slaap
kan ek jou naderraak
as met middernagsillabes
hoe anders as hul ligature
hermeties na jou oor te bind?

ek knip 'n kerkuil
uit jou laken
ent 'n tork
van krieke om jou hals
sout vinnig op jou stuitjie
my violiere ampersand

in die skoene langs jou bed
'n konsonant van heksedrek
sodat soggens in jou voete
alles brand wat ek na jou verhang
uit inkunabels van gemis

sose benreki
sose bluotreki
sose lidirenki
ben zi bena
bluot zi bluoda
lid zi geliden
sose gelimida sin

die hele kogelbergse fynbos
van katvoetjies tot sporrie dus
hoe anders as jy ver weg slaap
kan ek jou aanraak as met toorvokabels?
afwesigheid is beenkwetsuur
is bloedkwetsuur
na jou sal ek 'n weg vind of een maak
van karolingiese minuskels

"grimoire" volg op die reeks "limerence" (1-3) waarin die liriese subjek se bykans obsessiewe verlange na die verre geliefde kragtig vergestalt word. "limerence" beteken "smoorverliefdheid" en is 'n term geskep deur die Amerikaanse sielkundige Dorothy Tennov in 1979. Hierdie obsessiewe verlange en verliefdheid word in "grimoire" ('n handboek vir (swart) toorkuns waarin beskryf word hoe om talismans, spreuke en amulette te maak en hoe om bonatuurlike wesens op te roep) na 'n volgende vlak gevoer, waarin die geliefde by wyse van towerspreuke en -handelinge aan die liriese subjek gebind word. "middernagsillabes" (middernag = die hekse-uur) word in strofe 1 ingespan om die geliefde "nader te raak" (= naderhark) en hul "ligature" (afbindings van byvoorbeeld bloedvate - binding/verbinding) na haar oor te bind. In strofe 2 word 'n "kerkuil" (katuil) (Tyto alba) as tipe talisman van verbinding uit die geliefde se laken geknip en 'n "tork/van krieke" om haar hals gebind. "Tork" is 'n verafrikaansing van die Keltiese woord torc wat "silwernekring" beteken. Soos daar sout op 'n voël se stert gegooi word in die volksetimologiese geloof om die dier te vang, "sout" die liriese subjek haar "violiere ampersand" op die objek van begeerte se stuitjie in 'n poging om haar vas te vang. ('n "Violier" is 'n kruisblommige plant Matthiola annua, muurblom, angelier.) 'n "[K]onsonant van heksedrek" word voorts in die aangesprokene se se skoene geplaas sodat die brand in die voete herinnering kan versterk. "Verhang" kan gelees word as 'n intensivering van hang: anders hang, op 'n ander plek hang. "Inkunabels" is die oudste voortbrengsels van die boekdrukkuns - met los letters gedrukte boeke wat voor 1501 ontstaan het. Strofe 4 is 'n direkte aanhaling van reëls uit die Oudhoogduitse "Merseburger Zaubersprüche" (Spreuk 2: "Geneestowerspreuk vir 'n beseerde perd") en kan soos volg vertaal word: "soos die beenverstuiting/so die bloedverstuiting,/so die ledemaatverstuiting/been (teen)aan been/bloed (teen)aan bloed/ledemaat (teen)aan ledemaat/asof hulle gelym is" (vgl. Zickel & Thiel 1969:25). Hierdie spreuk sluit aan by die "toorvokabels" (< vokabulêr (w.g.), woordelys/woordeskat) en "minuskels" (kleinletters (<Lat. minisculus)) waarmee die liriese subjek in die laaste strofe die kwetsuur van afwesigheid mee wil besweer. As magiese plantmateriaal om die geliefde te betower word "die hele kogelbergse fynbos/van katvoetjies tot sporrie" ingespan. Sporrie is 'n streekstaalbenaming vir die plant Heliophila sp.

Al die magiese handelinge en woorde uit vreemde tale hang dan uiteindelik saam om, soos voorgeskryf in 'n toorkunshandleiding, die geliefde deur middel van inkantasies en toorvoorwerpe in 'n towerweb vas te vang, haar te bind, te "lym" aan die liriese subjek.

 

5. SLOT

Net soos die doel van die mineur in musiek is om die refrein - die konstante in musiek - te deterritorialiseer, is die doel van mineurliteratuur om die konstante in taal te laat varieer. Hierdie werkswyse is nie onbekend in Van Niekerk se oeuvre nie - vergelyk die reeds vermelde talle registers, variëteite, verskrywings en verwringings in die teks Die kortstondige raklewe van Anastasia W en veral in Die sneeuslaper; die taal word 'n soort literatuur wat tegelykertyd skaamteloos skree en protesteer teen die brutaliteit wat alledaags geword het in Suid-Afrika (vergelyk Stander 2012:4).

Die gebruik van Nederlands en verskeie ander voorgangers en variëteite van Afrikaans in Kaar hoef nie noodwendig 'n afkeer van Suid-Afrika, Afrikaans of die huidige veeltalige Suid-Afrikaanse samelewing en 'n voorkeur vir die Europese samelewing en tale te wees nie, dit kan eerder gelees word as 'n manier om standpunt in te neem teen plaaslike, huidige politieke en sosiale kwessies, byvoorbeeld die debat rondom die uitsterwing van Afrikaans (vergelyk Stander 2012:110).

Die wye verskeidenheid variëteite situeer Kaar nie slegs as (Suid-)Afrikaanse bundel nie, maar as poësie wat transnasionaal is, vergelyk Viljoen (2016) in hierdie verband.

Ten slotte kan Kaar inderdaad, soos Henning Snyman (2013) dit stel, beskou word as "'n klein monument vir die soepelheid van Afrikaans". Of daar weer so 'n bundel gaan verskyn wat die verskillende variëteite in en van Afrikaans, asook die herkomstale van Afrikaans uitlig, sal slegs deur die tyd bepaal word.

 

BIBLIOGRAFIE

Bezuidenhout, Zandra. 2013. Resensie van Kaar. Versindaba [www.versindaba.co.za], 25/11/2013.         [ Links ]

Bosman, Herman Charles. 2002. A Cask of Jerepigo. Cape Town: Human & Rousseau.         [ Links ]

Carstens, W.A.M. & Bosman, N. (reds.). 2014. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.         [ Links ]

Combrink, J.G.H. 1990. Afrikaanse Morfologie: Capita Exemplaria. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Conradie, Jac. 2014. Taalverandering in Afrikaans. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N. (reds.). 2014. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, pp. 61-89.         [ Links ]

Crous, Marius. 2013. Resensie van Kaar. Rapport, 19/12/2013.         [ Links ]

Crous, Marius. 2016. Die hadeda as liminale dier in Kaar van Marlene van Niekerk. Litnet-Akademies (Geesteswetenskappe), 2016-04-19.         [ Links ]

Cussons, Sheila. 2006. Versamelde gedigte. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

De Lange, Johann. 2012. Vaarwel, my effens bevlekte held. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

Deleuze, Gilles & Guattari, Félix. 1986. Kafka: Toward a Minor Literature. Translated by Dana Polan. Minneapolis: University of Minneapolis Press.         [ Links ]

Du Plessis, Hans. 1987. Variasietaalkunde. Pretoria: Serva-Uitgewers.         [ Links ]

Hendricks, F. 2012. Die potensiële nut van 'n gelykvlak-perspektief op die variëteite van Afrikaans. In: Prah, K.K. (red.). Veelkantiger Afrikaans: Streeksvariëteite in die standaardvorming. Kaapstad: Centre for Advanced Studies of African Society, pp. 44-63.         [ Links ]

Krog, Antjie. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Mendelson, Edward. 1976. Encyclopedic Narrative: From Dante to Pynchon. MLN 91(6): 1267-1275.         [ Links ]

Otto, Annél. 2014. Sosiolinguistiek. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N. (reds.). 2014. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, pp. 311-346.         [ Links ]

Prah, K.K. (red.). Veelkantiger Afrikaans: Streeksvariëteite in die standaardvorming. Kaapstad: Centre for Advanced Studies of African Society.         [ Links ]

Snyman, Henning. 2013. Kaar 'n merkwaardige bundel, 'n klein ensiklopedie van woord en digkuns. LitNet Akademies-resensie-essay, 2013-12-04.         [ Links ]

Stander, A.S. 2012. Taal wat stamel, stotter en struikel: Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper (2010) as mineurletterkunde. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Van Coller, H.P. (red.). 2016. Perspektief & Profiel. 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik Uitgewers. Tweede uitgawe.         [ Links ]

Van Niekerk, Marlene. 2009. Aanvaardingstoespraak by die toekenning van die Helgaard Steyn-prys. Stilet 21(1): 134-135.         [ Links ]

Van Niekerk, Marlene. 2013. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Van Vuuren, Helize. 2014. Resensie van Kaar. Die Burger, 2/1/2014.         [ Links ]

Van Vuuren, Helize. 2016. Marlene van Niekerk (1954-). In: Van Coller, H.P. (red.). 2016. Perspektief & Profiel. 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik Uitgewers. Tweede uitgawe, pp. 919-953.         [ Links ]

Viljoen, Louise. 2016. Intertalige en kruiskulturele verkeer tussen Afrikaans en Nederlands in Marlene van Niekerk se verhaalbundel Die sneeuslaper. LitNet Akademies 13(1):250-271.         [ Links ]

Zickel, E. & Thiel, H. 1969. Die Silberfracht. Sprachdenkmäler des Mittelalters. Frankfurt am Main: Hirschgraben-Verlag.         [ Links ]

Woordeboeke geraadpleeg

De Tollenaere, F. & Persijn, A.J. 1977. Van Dale Nieuw Handwoordenboek der Nederlandse Taal. 's-Gravenhage: Martinus Nijhoff. Achtste, opnieuw bewerkte en aangevulde druk.         [ Links ]

Odendal, F.F. & Gouws, R.H. (reds.). 2005. HAT. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson Education South Africa/Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Schoonees, P.C. (hoofred.). 1970-. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Pretoria: Die Staatsdrukker.         [ Links ]

Simpson, D.P. 1975. Cassell's New Latin-English English-Latin Dictionary. London: Cassell. Fifth Edition, Fifth Impression.         [ Links ]

Van Wijk, N. 1949. Franck's Etymologisch Woordenboek der Nederlandsche Taal. 's-Gravenhage: Martinus Nijhoff.         [ Links ]

 

 

 

H.J. PIETERSE is 'n professor in die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat waar hy Afrikaanse taal- en letterkunde en Kreatiewe Skryfkuns doseer. Hy publiseer vakartikels oor Afrikaanse taal- en letterkunde, asook poësie en kortverhale. Hy ontvang onder meer die Hertzogprys en die Nedbank-Akademieprys vir Vertaalde Werk.
H.J. PIETERSE is a professor in the department of Afrikaans and Dutch, German and French at the University of the Free State where he teaches Afrikaans linguistics and literature and Creative Writing. He has published papers on Afrikaans linguistics and literature, as well as poetry and short stories. He was awarded the Hertzog Prize and the Nedbank Academy Prize for Translated Work.

 

 

ADDENDUM: 'n Deursnit van leksikale items uit die verskillende tale in Kaar

Woordverklarings word telkens uit die HAT (2005), WAT, Van Dale Nieuw Handwoordenboek der Nederlandsche Taal (1977) en Etymologisch Woordenboek der Nederlandsche Taal (1949) oorgeneem en kursories aangepas.

Afrikaans (vergelyk ook Viljoen 2016:258 vir soortgelyke woorde in Die sneeuslaper): knukkels: kneukels <Ndl. knokkel; [oggend]kier: (deftig) nou opening/spleet; konter: teëgaan <Eng. counter; oewerkrui: (w.g.) kruid ("Oggend van 'n waterfiskaal"); hoognoen: (arg.) middag; krink: voorstel van 'n wa draai (ook "opkrink" in "Vir waterplas en sterre"); uitvier: (w.g.) laat skiet, skiet gee, laat loop; aangeswengel: <Ndl. zwengelen, 'n "zwengel" (handvatsel/arm waarmee mens iets in beweging bring) beweeg; teruggesmak: teruggeval, -gestamp, -geplof, neergegooi ("Seun wat visvang"); prekêre: onseker, haglik, bedenklik; ranke: (deftig) slank en fyngebou ("Rotstekening"); fratsig: skepping<frats, hansworserig; twielig < Eng. twilight, skemering; sinds: (deftig, ook in "Brief aan die roosmarynbos" en "Fonteinriet") sedert; worp: (w.g) die handeling van werp/dit wat gebaar is op een slag - tegelyk gebaarde kleintjies ("Soos aan die somerwind die waterbessie"); termult: (nie alg.) opskudding, geraas; skry: (w.g., deftig) statig loop; mimiek (ww.): <Eng. mimic, naboots; ampoelie: skepping <ampule, flessie; besweem: <sweem, skepping< Ndl., van ligte skyn, aanduiding, spoor voorsien ("Perskereën"); aanslib: deur die besinking en neersetting van slib (vaste stof wat deur water vervoer word) ontstaan of groter wordend; doupunt: temperatuur waarby konstant blywende dampdruk/kondensasie gebeur ("Woordverklaring"); skalmei: blaasinstrument van hout; krokus: irisagtige sierplant, saffraanblom; ylingse: (deftig) vinnig, snel, in groot haas ("Aan die swaan op die IJ in Februarie"); traseer: skets, nateken, ontwerp < Lat. trahere (ook in "Google Earth"); mangel (ww.): draai; gatjieponders: <gatjaponners, gemeens. vir lidmate van die NG Kerk; maansaad: saad van die maankop (papawer, slaapbol); keil (ww.): onderdompel ("keelhaul"); importeurs: (w.g.) mense wat goedere invoer; ("limerence 1"); langer (ww.): <Ndl. langen (nie alg., besondere styl), aangee, oorreik; iepe: bladwisselende bome Ulmus (elm) wat in die Noordelike halfrond groei; estiveer: somerslaap <Lat. aestis, somer; treurnis: < treurigheid; wak: swak plek, gat in ys ("limerence 2"); galjoen: (hist.) groterige Spaanse seilskip uit die 17de eeu ("limerence 3"); oepsedaisynooitgesien: speelse skepping; spinnaker: groot, driehoekige seil; hoegenoem: speelse skepping; striddelkriek: <striduleer (w.g.) < Fr. stridulation, kriek wat skerp/skril/deurdringende klanke voortbring; verskole: <Ndl. verscholen, verborge ("Eerste risky liefdesliedjie", "Klaproos"); gespreeu (s.nw.): skepping; wend: (deftig) draai/keer; konifeer: keëldraende gewas/naaldboom; soeks: skepping/inkorting <soekend ("memo 21 Junie 2009"); fornuis: (veroud.) vuuroond/stookplek; pook: (deftig) yster gebruik om as uit vuur te krap en kole om te keer; gebint: timmerasie waarop dakbedekking rus; baskule[brein]: <Ndl. bascule, weegskaal vir swaar laste of vir huishoudelike gebruik, die wip van 'n brug of swingel van 'n waterput; sider: appelbier ("Sot poempie"); Awendstil: Oud-Afr./arg.; getrede: (arg.) <getree; starre (adj.): styf/onbeweeglik; verglaas: tot glas verander, glaserig word ("Heraldiek van gemis"); wrong: bymekaar gevoegde en vas ineengedraaide voorwerp (ook waterwrong in "Tangaroa"); oggendstond: (digt, verouderd, deftig) oggenduur; rose (adj.): ligrooi < Ndl. roze; mette: middernag- of dagbreekgebed (< Lat. horae matutinae, oggendure) ("By die donker wrong van sterre"), reveil: < Fr., opwekking; brigantyne: (hist.) ligte vrag- of oorlogskip met twee maste; chagallend: skepping n.a.v. die skilder Marc Chagall; [vyeblaar-]ojiewe: (boukunde) lys met half hol, half bol dwarsprofiel ("januarie"); agteroogs: skepping ("Hollandse wandeling"); koen: (arg.) dapper/ondernemend/onverskrokke; omswagteling: verafr.<Ndl., omwikkeling; rosse (adj.): (digt., w.g.) rooibruin; es: boom van Noordelike Halfrond, Oleaceae; trembleer: verafr. <Ndl.<Fr., bewe; verniks: skepping, tot niks maak ("Wintervink"); skrewe (s.nw.): gleuwe; skulpture: (deftig) beelde; ontwind: oopdraai/afdraai <wind (deftig), omwikkel (ook "omwind" (w.g.) in "vir waterplas en sterre"); wiens: betr. vnw. ("Delicious monster"); bik: (arg.) 'n artefak versigtig los kap, hamer van omringende materiaal (ook in "Fagotvis"); wiekend: skepping< wiek (deftig), vlerk (ook wiek as ww. in "joeliewoorde vir my pa"); snikgrou: skepping; swerk: <Ndl. zwerk, aan die hemel drywende wolke/hemel/uitspansel ("Sewe klein variasies op wintertuin": "Rooivalk"); sitervrugte: metatesis < sitrus; latei: draagbalk bo venster of deur (< Fr. lattis) ("Fonteinriet"); agterjaart: (gemeens.); tjierieriep (ww.): onom. ("Jangroentjie"); swades: <Ndl. zwad(e), snit gras, <Eng. swathe; verpower: skepping, verswak ("Die valk"); dingel: < Eng. dangle, hang; balg: afgestroopte vel van 'n dier, leersak van harmonika, ens., plat buik, maag (van mens en dier); beatifikasie: <Lat., saligverklaring ("Visioen"); prokrastineer: verafr.<Eng.<Lat., uitstel; gomkolom: skepping, trapsuutjies se tong; peregrineer: verafr.<Eng.<Lat., rondswerf; bog: (digt., veroud.) draai, buiging, kromming; ginderse: dáár/daardie, op die plek<Ndl. ginders, Afr. ginds (deftig, veroud.) ("trapsuutjies"); nagspin (s.nw.)<Ndl. nachtspin, nagspinnekop; stuwadoors (mv. eintlik -e): vakkundiges wat die lossing en lading van seeskepe behartig; omfloers (ww.): met floers/lanfer bedek; akelei: ranonkelagtige Europese plant, Aquilegia/Duitse suring, sinnebeeld van ootmoed en liefde, met blou, geel en pienk blomme (ook in "Vraag oor transmigrasie aan 'n rondgaande kat"); loog (ww.): met loog behandel; kaparrings: (skerts.) <Javaans, Moslem-skoeisel, groot lomp skoen of stewel; kik: flou, sagte (keel)geluid ("Herfsmeditasie 2"); vermiljoen (s.nw.): helderrooi mineraal as verfstof gebruik en ook in rubber; filigraan: fyn edelsmeewerk met goud en silwer, met die voorkoms van kantwerk; vermiljoene (adj.): met die kleur van so 'n verfstof, helderrooi; palawer: (nie alg.) <Portugees, nuttelose pratery; swind (ww): < Ndl. zwinden (digt.), verdwyn; imkers: byeboere, ("Klaproos"); temperlose: sonder temper/matiging/versagting; dryfbalein: veerkragtige stafie/buigsame stof uit walvisbaard; verskote: (veroud.) <verskiet; redolente (adj.): <Eng., geurig/welriekend; wrik (ww.): (w.g.) heen en weer beweeg, wikkel om los te maak (vgl. onwrikbaar); lode rose: loodkleurige rose, <Ndl. loden; sog (s.nw.): kielwater, spoor (van 'n skip); koloriet: <It., effek van die gesamentlike kleure van 'n skildery of ander kunswerk; slink: (w.g., deftig) afneem, inkrimp, verminder; verdomp: (gemeens.) ("Postmoderne hadeda"); kaf: los papieromkleedsel, oortreksel om band van boek, stof-/boekomslag; skigte: pyle/strale; getwinkel: <Eng. twinkle ("Luiperdgedig"); fielte (s.nw.): (w.g.) skurke; habit: <Ndl. habijt, gewaad van kloosterling; kripte: ondergrondse kapelle; molmakramie: skepping/samestelling <makramie ("Tyto alba"); klare (adj.): (digt., deftig) helder, deurskynend ("Nagliedjie"); akant: doringagtige plant, Acanthus mollis (ook in "Vraag oor transmigrasie aan 'n rondgaande kat"); binte: lang, swaar vierkant gesaagde stukke hout, balk, staaf ("Brulpadda"); dingel, dienk: onom. ("Nagpsalm"); ontwenning: aflering, afwenning ("Vir waterplas en sterre"), [einder-]omvamende: <Ndl., met beide uitgestrekte arms omvat; bare (s.nw.): (digt.) brander, groot golf/staaf goud of silwer (ook in "Tangaroa"); frisp: onom. (ook gefrispel in "Turdus merula"); glimme (s.nw.): kortstondige glans, glimp; gebonk: onom.; [reën]bedolwe: bedekte ("Besoeker"); vervinniging: skepping, intensivering van "vinnig maak"; amarant: (digt.) Amaranthus, blom wat nie verwelk nie, simbool van onsterflikheid, met 'n purperrooi kleur ; globules: bolletjies, <Eng.; tamp: <Ndl. tampen, geslaan van klok; aangesweem: min of meer lyk op, ooreenkom met; togtige: <Ndl., trek van 'n lug(gie); konserf: (veroud.) konfyt ("Die mandjie"); vattinge: <Ndl. (metaal)-omlysting ("Vurk"); garansies: waarborge; spieëlneurone: selle wat senuwee-impulse begelei ("Breekgoed"); ombengel (verl.dw./adj.): "omlui" (deur klok) ("Brief aan die roosmarynbos"); premonisies: <Eng./Lat., voorgevoel; poppiesnôi: raaigras, soort hawergras; souffleer: <Fr., as souffleur optree; jobbelsee: (WAT: streeks.: Weskus) see met deining, golwe, swelling; HAT: joppel (nie alg.) brander in see, wat taamlik woelig is; vilet[blou]: <Fr., winterblom met skerp geur /violier, Cruciferae; lupine: "vlinderblommige" plant met blou, pers, wit of geel blomme ("Google Earth"); adel (adj.): (arg.)<adellike; someravond: verafr.<Ndl.; pierewiet (ww.): verbalisering van voëlsoort willie/bokmakierie; kroes (s.nw.): drinkbeker/houer waarin iets gesmelt word ("ek berei 'n slaai voor die oë van my vader"); kwiek: Sonder om te kwiek of te kwaak; pendoelie: skepping<pendule; toelie <tulle; tandebroelie: skepping<tandeborsel; foucault [se pendulum]: pendulum wat die rotasie van die aarde demonstreer; modoelies: skepping< melodieë; pa/edoelies: skepping<poeletjies, gamoel: skepping <gemoed; karnoelies: skepping <carnations; froelie: skepping <frille (Dalk dui hierdie woordespel op die kindertaal waarheen die pa regresseer - vergelyk die reëls "my vader wat langsaam uit sy woorde lek" en "jou mond waarmee jy kierie/sê vir broccoli,/en hanepoot vir hout/en rankroos,/rankroos,/vir rivier" in "Google Earth" en "my pa eet blare my pa eet gras en praat in tale" in "ek berei 'n slaai voor die oë van my vader") ("joeliewoorde vir my pa"); kalot: klein plat, ronde petjie wat slegs skedel bedek; rooi keëlvormige mussie deur Maleiers gedra <Fr. calotte; kês (adj.): (min gehoor, arg.) skielike gestol; leng (adj.): (w.g., arg.) draderig; hinderling: skepping, iemand wat hinder; bleekskeet: "witnerf " <Ndl. bleekscheet; gruttepap: (w.g.) gebreekte graan; bokwiet en hawer gemaal; trokar: mediese implement - saam met kanule - die term word ook in Agaat gebruik; kanule: buisie van metaal, glas of harde rubber wat in liggaamsholte geplaas word om vog af of toe te voer ("Strofes vir my pa"); herneuter: (verouderd) <herneutermes<Hernnhüternmesser, lang soort jagmes; opgebaar: <Ndl. op 'n baar neerlê (opgebaar lê); slink: (w.g., deftig) in omvang/krag afneem, inkrimp, verminder ("Waatlemoen"); welf (uit ww.): boog; kiel (ww.): (w.g.) hoekie maak, opening, hoek tussen twee vleuels van 'n gebou; klif: < Eng. cliff; gier: branderplank ry, skuins ry op 'n brander; silt: (w.g.) sout(agtigheid) (ook halfsilt in "Klipmuur"); smuk (s.nw.): (w.g.) opskik, sieraad, tooi ("Tangaroa"); erker (s.nw.): (w.g., arg.) uitgeboude venster, kwisp (ww.): inkorting/knipsel<kwispel; flankevere: skepping/versmelting<flankeer + vere; loess: sediment gevorm deur windgedrae slik; mediokere: < Fr./Eng. mediocre, middelmatige ("Fan mail Freddy Mercury"); sprankend: skepping<sprank (vonk); piek (ww.) <peak/of soos piek (hist.)/lans maak ("Herout", ook "gepiek" in "Fantasie vir Monteverdi en die Maagd Maria"); [rib-]staketsel: <Ofr. (ook in "Hollandse landskap"), heining van pale of ystertralies in water om vyand toegang te belet/palissade ("Hippocampus reidi"); singelbogte: draaipaaie <Ndl.; strikte: nougeset, presies, streng, stip ("Augur"); haperloos: (deftig) faalloos/ontbreekloos ("Mevrou Thaumazein"); sloom: langsaam, suf; slib: (ietwat deftig) agtergelate slyk, m.a.w. wat opdam, aanpak ("By die otoloog"); luguber: huiweringwekkend, somber, naargeestig; snode (adj.): (deftig, verouderd) sleg, deurtrap, misdadig, gemeen ("Besoek van die binnehuisversierder"); yle (adj.): <Ndl., haastige, vinnige, snel; jol (s.nw.): ligte roei- of seilvaartuig ("kaping in die suurlemoenboord"); gloor: (ww.<s.nw.): (digt.) skynsel, glans gloed; devosie: (deftig) vroomheid, godsvrug ("Bejaarde met mobiel"); vilein (bw.): vyandig/skurkagtig < Fr. vilain ("Allochtone anekdote"); Kadaster: register van vaste eiendom met beskrywing daarvan (Eur.); boukete: bourommel, mv.<Ndl.; hondswag: < Eng. dog watch; opgejut: < Ndl. (gemeens.), opjaag, aanspoor; hinderman: iemand wat pla, belemmer, skepping; fluim[kunskriminele]: (gemeens.) iemand sonder karakter ("Hollandse landskap"); snabber (ww.): onom. skepping; joert (ww.): onom. skepping; ty: inkorting< gety; fietel: (nie alg.) iets lustig, speel-speel, handig doen soos 'n bedrewe persoon dit doen; kwaf: hare <Fr. coiffe; klootsakke <Ndl. klootzakken (skeldterm: poepholle); festoen (ww.): inkorting<festoeneer; helleborus: (streekstaal) tipe ranonkel; pjirrrts (ww.): onom.; miniemer (bw.): vergrotende trap van miniem, buitengewoon klein; kavort: genot < Eng. cavort ("Oujaar Amsterdam 2007"); krokette: <Fr., pasteitjies; alvleisklier: pankreas ("Heavy metal in Bagdad"); sermoenade: (veroud.) vermanende preek ("Meditasie op die digkuns by die karwassery"); tries (ww.): < Fr. triste, treurig; gepikeerd (verlede dw.): (deftig) beledig, afgehaal, gekrenk, geraak; livrei: < Fr., spesiale uniform van lakei; subalternes: < Fr., ondergeskiktes ("Sorry suide"); toerneerderes: rondreisende <Fr. ("Gerbrand/Plascon"); falie: (hist.) kapmantel/swart sluier; falbala: val/valletjie; klavikel: sleutelbeen; min (s.nw.): (deftig) liefde <Mhd.; maretak: woekerplant/voëllym, Viscum album ("Fagotvis"); knus (ww.): geborge, veilig maak; libidineuser (adj.): vergrotende trap van libidineus - betreffende die libido ("Fantasie vir Monteverdi en die Maagd Maria"); "Etologie": studie van die karakter/lewensgewoontes en gedrag van diere; elektromaas: elektronetwerk, tegnoterm; verkrop (ww.): verafr.<Ndl. verkroppen, moeilik sluk, jou nie kan neerlê by iets nie; ligting: soldate wat gesamentlik opgeroep word <Ndl. ("Etologie"); "Hoekom moetie worldcup wê'k?" en "poets van ons vaderland unite": Kaapse Afrikaans as register regdeur die gedigte; vlere: inkorting<vleermuise; aantontelende: wat aan die brand gesteek word ("Chtoniese invokasie"); skram (s.nw.): krapmerk, skaafplek, litteken; prang (s.nw.): (w.g., deftig) druk, klem, (fig.) kwel, benou; strawaas: (geselst., verouderend) moeilikheid, struweling, lawaai< It. strapazzo ("Nagwaak vir Andries Tatane, Stellenbosch, Pase 2011"); adelwipagtig: <Mhd. adelwîp, adelvrou; drewel: <drewelpen, deurslagpen om spykers mee in te slaan; kruidnaels: <Ndl. speserye; jakobskulp: boonste, waaiervormige, geribde skaal van 'n oestersoort, Pecten jacobaeus (Sint Jakobskulp, Shell se handelsmerk) ("Teorie en praktyk van die digkuns in 'n era van aardgas"); bevroed <Ndl. bevroeden, begryp ("Augustus is die wreedste maand"); skilderlike: van 'n skilder (vgl. die item "bruinlik" by Blum in "Die klok in die newel"); miniatuur-bossiklaam: skepping uit siklaam, Alpeviooltjie ("Brief aan Suid-Afrika"), liewerlee: van liewerlee, langsamerhand, bietjie vir bietjie; vliet: (digt., w.g.) stroompie water, spruitjie, bekie ("Klipmuur"); skwinte: <Eng. squints, (argitekt.) dakvenstertjies; rap (bw.): (w.g., digt.) vinnig ("Besoekers in Kassiesbaai"); spigtig: smal en puntig; kapseis: (w.g.) omslaan, omkantel ("Weissenbruch"); kanvas: < Eng. canvas, skildersdoek ("Stillewe"); stoets: stoterig, nors, stuurs; kokarde: strik, roos, roset <Fr.; orifies: <Eng. orifice, opening; krepuskulêre <Lat., wegsterwende ("Turdus merula"); sier (s.nw): (veroud.) uiters min; aans: (nie alg., arg.) aanstons, netnou ("Vrou, wind, deur"); krogte: <Ndl. krochten, tussenvelde/verborge onderaardse ruimtes ("Vraag oor transmigrasie aan 'n rondgaande kat"); ligspigot: ligkraan < Eng. spigot; foedraal: sak-, doos- of kokervormige omhulsel om 'n voorwerp wat presies daarin pas, te bewaar ("Exit Octopus vulgaris").

Nederlands: rulle (adj., ook in "Google Earth"): baie los; frak: <Hd. rokjas/jas (Suidnederlands) (<Fr. frac, Eng. frock); bergkut: lett. "doos van die berg"; triest <Fr. triste, treurig ("Seun wat visvang"); gemekker: klaende gesanik ("Rotstekening"); bram: inkorting <bramra, lang, ronde spriet aan die "bramsteng" van 'n seilboot waaraan die bramseil geheg is; kien: byderhand/handig; bloedend ("Soos aan die somerwind die waterbessie"); soelaas: (veroud.) solaas<Fr. solace, vertroosting/verligting; ogentroost: Euphrasia stricta - tipe leeubekkie ("Ogentroost"); res (ww.): inkorting< resten, bly oor ("Perskereën"); kaar: bak met gaatjies waarin vis bewaar word (vergelyk ook die gedig "Woordverklaring" vir ander betekenisse van die woord); brem: geel "vlinderbloemig" heiplant, Sarothamus vulgaris/scoparius; orewoet: Mnl., mistieke term by Hadewijch - gloed, hitte, vurigheid, drif, geestelike gloed, ekstase, ligtende drif ("Woordverklaring"); balts (s.nw.): hofmaking/hofmakings-vertoning in paartyd ("Aan die swaan op die IJ in Februarie"); waag (s.nw.): weegtoestel; kade: kaai/gronddyk ("limerence 1"); lieve vrouwe bedstro: streekstaal vir Galium odoratum, kruidagtige plant uit die sterblaarfamilie met 'n soet reuk; grondelend: skepping, tw. dw. <grondel, 'n soetwatervissie, Gobius fluviatilis ("limerence 2"); melodiedeken: tipe Mnl./Vlaamse verkleiningsvorm van melodie; snoetske: Vlaamse verkleiningsvorm van snoet ("Eerste risky liefdesliedjie"); vloog: verlede tyd van vliegen ("memo 21 junie 2009"); ereprijs ("Sot poempie"); fuut: geslag duikvoëls, Podiceps (ook "Oossee-fuut" in "Klipmuur"); fok: hulpseil/onderste raseil aan voormas (Afr. fokseil); koete: geslag alkagtige voëls, Uria ("Hollandse wandeling"); vilte: adj. van vilt ("die jakaranda in oktober"); tureluurs: pluvieragtige waadvoëls met reguit snawel, Tringa tetanus ("Jangroentjie"); mugge-rei: <muggen, rei van muggies; uiterwaarde: (mv.) buitedykse grond, tussen dyk en somerkade van 'n rivier geleë ("Visioen", ook in "Google Earth"); vlytige liesje: (streekstaal) Impatiens walleriana ("Herfsmeditasie 2"); alsnog: versterking van nog, nou nog, toe nog, dan nog ("Postmoderne hadeda"); sleetse (adj.): verslete; stek: plankvloer vir kruiwaens/grondkruiers langs spoorweg ("Breekgoed"); deemster (adj.): (streeksvariant, Suidndl.) donker/duister ("Brief aan die roosmarynbos"); revers: <Fr., agterkant ("joeliewoorde vir my pa"); loos (adj.): leeg/vals ("Strofes vir my pa"); slab: morsdoekie van kinders, babaservet ("Besoek van die binnehuisversierder"); soetgevooisde: (streekstaal, Suidndl.) soet-gemelodiede ("kaping in die suurlemoenboord"); jan-van-gent: streeksnaam vir seevoël, Morus bassanus ("Bejaarde met mobiel"); berm: strook grond langs pad ("Allochtone anekdote"); florissante (adj.): bloeiende ("Hollandse landskap"); freule (s.nw.): adellike jongvrou; pindakaas: grondboontjiebotter; junk: (s.nw.) <junkie, sleng; griet: meisie, sleng; pooier: ruwe, gemene kêrel (koppelaar); wespejager: Vesparyer; hark: (fig.) onhandige, houterige persoon; getijsem: (sleng, streekstaal) gespuis, omstanders, skuim, skorriemorrie; klootjiesvolk: kudde, dom menigte ("Oujaar Amsterdam 2007"); paardekastanjes: Aesculus hippocastanum, blaarryke boom en sy vrugte ("Heavy metal in Bagdad"); kwibus: dwaas, sot; dolboom: hout ter versterking van bodem (van skip); rimram: bombas/flauwekul, geklets, hol klanke, nonsens (ook in "rimram"); maliekolder: harnas <Mnl. ("Fagotvis"); bremhaag: bremheining ("Fantasie vir Monteverdi en die Maagd Maria"); beduus: bedremmeld, beteuterd ("Etologie"); tengels: (gemeens.) vingers ("Nuwejaarsbrief aan die ringvinger van Nadine Gordimer"); slempend: brassend, smullend ("Chtoniese invokasie"); mangliet: Wes-Indiese hoë boom/Oos-Indiese vrug ("Teorie en praktyk van die digkuns in 'n era van aardgas"); kweeste:< Mnl. queeste, soektog ("Brief aan Suid-Afrika"); blikkerende: flikkerende ("By nooitverstuurde poskaarte"); roes: nagskuil-/lêplek van vlieënde diere ("Besoekers in Kassiesbaai"); labberhoed: slap/sagte hoed ("Weissenbruch"); tremulante (adj.): (mus.) triltoon ("Stillewe"); protserige: pronkerige ("Die perde van Velásquez"); fluitekruid: toeters, Anthriscus silvestris ("Mei").

Duits: minne: <Mhd., hoofse liefde ("Woordverklaring"); mund'ken: mondjie < Nederduits ("memo 21 junie 2009"); Umweltkas: skepping, "omgewing(s)kas" ("Etologie"); dreikanter: lett. "driekanter", tegnoterm, "ventrifak" verweer deur sand tot drie sye ("Gedig vir die wind").

Frans: debris: puin ("Perskereën"); [aandlig]craquelé: barsies in die verf- of vernislaag van 'n skildery ("heraldiek van gemis"); [kuns-]piste: baan/renbaan ("Hollandse wandeling"); luxe, calme et volupté: reël uit Baudelaire se gedig "Invitation au voyage", ook skildery van Matisse (1905); vilet[blou]: winterblom met skerp geur, violier, Cruciferae ("Google earth"); revers: agterkant ("joeliewoorde vir my pa"); assemblage: versameling/byeenkoms ("Mevrou Thaumazein"); broche (s.nw.): sierspeld; ("Oujaar Amsterdam 2007"); trottoirs: sypaadjies ("Heavy metal in Bagdad"); boeuf en daube: biefkasserol ("Meditasie op die digkuns by die karwassery"); rose voile: pienk sluier ("Gerbrand/Plascon"); chiffres: syfers, kodes, figure ("'n Boodskap uit die dode van Peter Blum"); décolleté (s.nw.): lae halslyn ("Fantasie vir Monteverdi en die Maagd Maria"); passepartout: sleutel, loper wat tot alles toegang verleen/plakband om 'n lys om portret te vorm ("Besoekers in Kassiesbaai"); Crepuscule: (aand-)skemer(ing) ("Najaarsbloei").

Jiddisj/Hebreeus: kippah: simboliese, godsdienstig-liturgiese hoofbedekking; yarmulke: baie dieselfde as die kippah, maar meer beperk tot die Asjkenazi-Jode; chametz: gesuurde kos, verbode tydens Pase; Behemoth: die dier van Job 40:15-24; Ziz: griffioenagtige voël (wat die son kan bedek) uit die Joodse mitologie; pesach: Pase ("Herout"); kantor: leier in sang en gebed ("Fantasie vir Monteverdi en die Maagd Maria"); golem: die mitiese reus, gemaak deur Rabbi Scholem in die Middeleeue, wat die Jode sou bevry uit onderdrukking ("Nagwaak vir Andries Tatane, Stellenbosch, Pase 2011", vergelyk ook Peter Blum se gebruik van hierdie gegewe); psiempsoem: skepping/vervorming <tzimtzum, konseptuele ruimte waarbinne eindige sfere kan bestaan. God het oneindige lig "saamgetrek" om daardie sfere daarbinne te kan laat bestaan. Vergelyk ook Johann de Lange se gedig "Tzimtzum" uit Vaarwel, my effens bevlekte held (2012) en Helize van Vuuren (2016:950) se omskrywing van die term: dit kom "uit die Kaballah (die almagtige Ein Sof se eerste skeppingshandeling van selfinkrimping sodat daar plek kan kom vir die geskape wêreld)".

Engels: akimbo: met hande in die sy staan; ("Oggend van 'n waterfiskaal"); strum: pluk/streel ("Eerste risky liefdesliedjie", "Brulpadda"); gezephyr: < zephyr, skepping (lit., digt.), lett. "gewind"; ardent: brandend, vurig, gloeiend (arg., digt.) ("Memo 21 Junie 2009"); poempie ("Sot poempie"); slippers ("Herfsmeditasie I"); conceit: vergesogte vergelyking, gekunstelde beeldspraak/metafoor ("Postmoderne hadeda"); gejinxte: skepping< jinx, getoorde ("Oujaar Amsterdam 2007"); spandrel: spasie tussen twee boë of tussen boog en vierkantige omhulling ("'n Boodskap uit die dode van Peter Blum"); talle Engelse items in "Hoekom moetie worldcup wê'k?"en "poets van ons vaderland unite" is deel van die Kaapse register in beide gedigte.

Latyn: Equuleus: klein perdjie; Celeris: vinnige ("Rotstekening"); Euphrasia stricta: "eyebright" ("Ogentroost"); Sint Ambrosius: 340-397n.C. Hy het bye op sy gesig gehad as kind, daar is 'n druppel heuning agtergelaat, daarom sy "heuningtong"/"honeyed tongue"; De bono mortis, de fuga saeculi: oor die goeie van die dood, oor die vlug van die wêreld; Gervasius en Protasius: martelare, deur Ambrosius behoue onder die vloer van 'n kerk ontdek ("Woordverklaring"); arborium: kweekhuis ("Skype"); gyrus singulatus: deel van die limbiese sisteem wat betrokke is by emosievorming en -prosessering, leer en onthou ("Sot poempie"); Terpsiphone viridis: paradysvlieëvanger ("Visioen"); mysterium/tremendum et fascinans: groot en fassinerende misterie; carnyx: blaasinstrument (bronstrompet) uit die Keltiese Ystertydperk ("Postmoderne hadeda"); "Tyto alba": kerkuil; Pyxicephalus adspersus: Afrika-brulpadda ("Brulpadda"); tintinnabuli: klokke ("Die mandjie"); sulkus: groef in die brein ("Tangaroa"); "Hippocampus reidi": langsnoet-seeperdjie; "Augur": godsdiensdige beampte wat natuurtekens (voëls) interpreteer; solvitur ambulando: dit word al lopend opgelos/probleem opgelos deur praktiese eksperiment; homo sacer: heilige mens ("Mevrou Thumazein"); deus absconditus/homo, neque ludens, neque symbolicus: verdwene god/ mens, nóg spelend, nóg simbolies ("Allochtone anekdote"); radiolarus: (mikroskopiese) straaldiertjie; pontifex graffiticus: pous-graffitiskrywer ("Hollandse landskap"); cauda pavonis: poustert; [motor]maenade: <Maenas (Bacchante = profetes); amigdala: amandelvormige nuclei in temporale lobbe wat betrokke is by geheue en besluitneming; Nephelae[-tinte]: vrou van Athamas, ma van Helle en Phrixus; Pollux [] Castor: tweelingbroers, seuns van Leda in Gr. en Romeinse mitologie ("Oujaar Amsterdam 2007"); Cythera: eiland heilig aan Venus/Kithira; perfide: verraaiend; infidel: ongelowig ("Sorry suide"); Gonimbrasia belina: motspesie, die mopaniewurm is sy ruspe ("'n Boodskap uit die dode van Peter Blum"); Dunkleosteus: prehistoriese vis uit die laat-Devoniese tydperk, 380-360 miljoen jaar gelede; favete linguis: bly stil ("hold your tongue") ("Fagotvis"); audi caelum, verba mea,/plena desiderio et perfusa gaudio: hoor die hemel, my woorde,/ vol verlange en rasende vreugde; in saecula saeculorum: vir altyd en altyd; "quilismas": tipe neume (musieknoot), tipe triller ("Fantasie vir Monteverdi en die Maagd Maria"); columbarium: duiwehok of tombe waarin urne met as gehou word ("Nagwaak vir Andries Tatane, Stellenbosch, Pase 2011"); Quercus: eik ("Brief aan Suid-Afrika"); Quercus ilex: eik ("By nooitverstuurde poskaarte"); scabiosapolle: pluisdistel; "Turdus merula": merel; "Exit Octopus vulgaris": die seekat gaan uit/vertrek.

Grieks: biotoop: plek waar 'n dier of plant heeltemal in sy omgewing ingepas is, homogene woon-/groeigebied ("Ogentroost"); petrichor: die geur van reën op droë grond, die geur van stof ná reën ("Perskereën"); sparagmos: uitmekaarskeur (binne Dionisiese konteks, ook t.o.v. Orpheus) ("Visioen"); hieros gamos: heilige huwelik, seksuele rite, huwelik tussen god en godin, uitgespeel in 'n simboliese ritueel waarin mense die gode voorstel ("Postmoderne hadeda"); mnemoniese: t.o.v. onthou ("Augur"); "[Mevrou] Thaumazein": die verwondering oor wat is; sigmoidoskope: skope wat binne-in die liggaam kyk, byna soos 'n kolonoskoop; katadroom: dier wat uit vars water trek na see om te gaan paar ("Mevrou Thaumazein"); otoloog: oorheelkundige ("By die otoloog"); makrobioot: iemand wat, deur die handeling van 'n bepaalde dieet volg, lank lewe (ook makrobioties, Oujaar Amsterdam 2007"); "Etologie": studie van karakter/van lewensgewoontes en gedrag van diere; "Chtonies[e invokasie"]: (Sheila Cussons gebruik ook die term ("Ktonies") in "Die etser" in Plektrum, 1970) wat betrekking het op die (vrugdraende) aarde, die onderaardse, die onderwêreld; Nyx: godin van nag: Erebos: (Erebus) onderwêreld/hel, god van die onderwêreld; Diktaion Andron: die grot waar Zeus gebore is in Kreta ("By nooitverstuurde poskaarte"), litofoon: klip-instrument (<lithos, klip) ("Klipmuur"); episkoop: projeksietoestel vir ondeurskynende voorwerpe ("Ruimtevaartbaan 2, Ijsselstein"); pleroma: totaliteit van goddelike krag "Weissenbruch"); [oer-]clematis: Ranunculaceae, klimplant, dotter, stinkblaar; metempsigose: sielsverhuising ("Vraag oor transmigrasie aan 'n rondgaande kat"); kripsiskunde: geheimkunde ("Exit Octopus vulgaris").

Italiaans: furore: opskudding ("Woordverklaring"); sordino: demper ("Memo 21 Junie 2009"); brio: (con brio) met lewendigheid/lewendig; stringendo: vinniger en vinniger ("Turdus merula").

Spaans: duende[-agtigs]: Spaanse elf of aardgees, ook verbind met sterk emosionele uiting t.o.v. die flamenco (vgl. ook Lorca se gebruik van die term) ("Postmoderne hadeda"); paso fino: perderas uit Spanje; estrapades: pogings van 'n perd om sy ruiter af te gooi ("Augur"); fandango: Spaanse volksdans ("Oujaar Amsterdam 2007").

Mandaryns-Chinees: koeng foe: tipe gevegskuns; kongsi: organisasie van Chinese mense met dieselfde vanne ("Oujaar Amsterdam 2007").

Afrikatale: hamba kahle: gaan in vrede (Zulu); tshetsha: Sjangaanmusiek ("Nagwaak vir Andries Tatane, Stellenbosch, Pase 2011").

Indonesies/Javaans: nasi (hier as ww.): rys; bami (hier as ww.): noedels; galangal (hier as ww.): (blou)gemmer ("Oujaar Amsterdam 2007").

Kelties (Iers/Gaelies): tork: < torc, halsband van metaal/metaalnekring ("grimoire", "Fagotvis"); larsach: Ierse harp ("Sot poempie"); Cernunnos: Keltiese god ("Fagotvis").

Sanskrit: om mani padme ha en hum: speelse verwerking van die bekende Sanskrit-mantra om mani padme hang ("Eerste risky liefdesliedjie"); sadhoe: verligte/wyse ("Herfsmeditasie 2"); Ahura Mazda: Avestaniese naam, oppergod, koning van natuur in Persies/Assiries/Babilonies wat geassosieer word met vuur ("Fan mail Freddy Mercury").

Noors/Oudnoors: Sleipnir: Odin se perd; Bragi: Skandinawiese god van poësie; Gundestrup: (plaat van Gundestrup) 'n silwer pot gevind in Denemarke uit die tydperk 150-1 v.C. ("Fagotvis"); skald: digter/bard ("Meditasie op die digkuns by die karwassery").

Arabies: Allahu akbar: God is groot ("Oujaar Amsterdam 2007").

Turks: döner kebab: vleis gaargemaak op 'n roterende spit, opgedien in 'n deegkoevert ("Oujaar Amsterdam 2007").

Turkies: yardang: steil wand, vaartbelynde heuwels deur wind en sand/stof afgeslyt uit rots ("Gedig vir die wind").

Russies zastrugi (mv.): skerp groewe op sneeu deur winderosie, saltasie en deposisie veroorsaak ("Gedig vir die wind").

Polinesies: Tangaroa: Hawaiiese god van die see; Teahupoo: 'n uiters gevaarlike seerif met hoë golwe, in Augustus 2000 gery deur Laird Hamilton ("Tangaroa").

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License