SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número2-1The use of body maps by educators in fulfilling their pastoral roleUbuntu values: societal and educational expectations índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 no.2-1 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a6 

ARTICLES

 

Honderd jaar Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - 'n oorsig en waardering. Deel 2: Die gebruiker in fokus

 

One hundred years of Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - An overview and evaluation. Part 2: The user in focus

 

 

Elsabé TaljardI; Danie PrinslooII; Nerina BosmanIII

IDepartement Afrikatale, Universiteit van PretoriaE-pos: elsabe.taljard@up.ac.za
IIDepartement Afrikatale, Universiteit van Pretoria E-pos: danie.prinsloo@up.ac.za
IIIDepartement Afrikaans. Universiteit van Pretoria, E-pos: nerina.bosman@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel vorm die tweede deel van 'n reeks van twee oor die Woordelysgedeelte van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Die aanlyn weergawe van die woordelysgedeelte van die AWS is in 2010, net nadat die tiende uitgawe van die AWS in 2009 die lig gesien het, aan gebruikers beskikbaar gestel. Hierdie weergawe van die 2009-Woordelys word in die artikel vanuit ʼn gebruikersperspektief beskou en wel teen die agtergrond van die snelle ontwikkeling van e-leksikografie en die moontlikhede wat aanlyn beskikbaarheid aan leksikografiese naslaanwerke bied. Ons begin met 'n kritiese evaluering vanuit 'n gebruikerperspektief van die Woordelys. Tweedens kyk ons na die status van die Woordelys as leksikografiese inligtingsbron. In die derde plek stel ons die gebruiker van die Woordelys in fokus, en wel teen die breër agtergrond van die inligtingsbehoeftes van die woordeboekgebruiker in die inligtingsera. Gebaseer op ons ondersoek, wat onder andere gebruik gemaak het van loglêers en'n korpus van ongeredigeerde studenteskryfwerk, kom ons tot die gevolgtrekking dat die huidige elektroniese Woordelys - alhoewel dit ʼn waardevolle naslaanwerk is - nouliks aan die moderne gebruiker se inligtingsbehoeftes voldoen. In terme van die funksieteorie - een van die moderne leksikografiese teorieë - moet leksikografiese inligtingsbronne byvoorbeeld naas kognitiewe inligting ook sterk leiding bied ten opsigte van teksproduksie. Die gee van hierdie tipe leiding is iets wat die samestellers van die Woordelys in die toekoms miskien ook in gedagte sou kon hou. Ten opsigte van lemmakeuse stel ons voor dat die gebruik van 'n leksikografiese liniaal bykomende hulp sou kon verleen. Ons bied wenke aan oor hoe ʼn beter aanlyn weergawe van die ou bekende Woordelys by die aanvang van die tweede honderd jaar van die AWS daar sou kon uitsien.

Trefwoorde: Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, e-leksikografie, gebruikersperspektief, spelleiding, loglêeranalise, inligtingsbehoeftes, leksikografiese liniaal, lemmakeuse, gebruikersleiding, aanlyn woordeboeke


ABSTRACT

This article is the second in a series of two concerned with the word list section of the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). The online version of the word list section was released to users in 2010, shortly after the tenth version of the AWS was published in 2009. This version of the 2009 Woordelys is the focus of the current article. We investigate the Woordelys from a user perspective and contextualise our study against the background of the rapid development of e-lexicography, and the possibilities opened up by the availability of online lexicographic reference sources. We start our investigation with a critical evaluation from the perspective of the user of the Woordelys. In our evaluation we refer to the implications of the unavailability of the Afrikaans spelling rules to the online user, the inadequacy of the software underpinning the online version of the Woordelys, and lastly, we comment on the fact that no typographical distinction is made within the articles between different data types. Secondly, we discuss the status of the Woordelys as lexicographic information source. In the third section we focus on the user of the Woordelys viewed against the backgound of the information needs of the user in the information era. Analysis of logfiles is a relatively new technique for obtaining information on the real information needs of the user. Based on such analysis, we conclude that the needs of the user of the Woordelys are not restricted to seeking information on spelling of specific words only - users of the Woordelys have far more sophisticated needs than those pertaining exclusively to spelling. By compiling a corpus of unedited writing by Afrikaansspeaking students, we were able to identify words which are often misspelled and which consequently are suitable candidates for inclusion in future versions of the Woordelys. We conclude that the current online version of the Woordelys - despite being a valuable reference work - does not provide adequately for the information needs of the modern user. In terms of the function theory - one of the modern theories of lexicography - lexicographic information sources should not only provide cognitive information, but should also provide clear guidance with regard to text production. Provision of this kind of information should be a consideration when a revised version of the Woordelys is planned. Apart from making a number of recommendations with regard to a more functional lemma selection, we also recommend the use of a lexicographic ruler, although the relevance of such a ruler for the Woordelys, which could be seen as a kind of special dictionary, has not yet been ascertained. Currently, there is a good correlation between the predictions made by the ruler for Afrikaans and the actual alphabetical stretches covered in the Woordelys. We conclude with a number of suggestions which could assist in the creation of an improved online version of the old familiar Woordelys, which could serve its users well in the next hundred years.

Key words: Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, e-lexicography, user perspective, spelling guidance, log file analysis, information needs, lexicographic ruler, lemma selection, user guidance, online dictionaries


 

 

1. INLEIDING

Die aanlyn weergawe van die woordelysgedeelte van die AWS, tesame met ʼn elektroniese gebruikersgids, is in 2010 aan gebruikers beskikbaar gestel (Odendaal 2012:311). In hierdie artikel - die tweede in ʼn reeks van twee - word hierdie weergawe van die woordelys (hierna Woordelys) (http://www.woordelys.co.za/) vanuit ʼn gebruikersperspektief beskou. Dit word gedoen teen die agtergrond van die snelle ontwikkeling van e-leksikografie en die moontlikhede wat aanlyn beskikbaarheid aan leksikografiese naslaanwerke bied. Ons begin met 'n kritiese evaluering vanuit 'n gebruikersperspektief van die Woordelys. Tweedens kyk ons na die status van die Woordelys as leksikografiese inligtingsbron. In die derde plek stel ons die gebruiker van die Woordelys in fokus, en wel teen die breër agtergrond van die inligtingsbehoeftes van die woordeboekgebruiker in die inligtingsera. Ons sluit af met aanbevelings vir 'n nuwe benadering tot lemmakeuses en spellingleiding.

 

2. KRITIESE EVALUERING VAN DIE WOORDELYS

Die aanlyn weergawe van die Woordelys is 'n tipiese voorbeeld van wat Tarp (2011:59) 'n "faster horse" noem: 'n leksikografiese naslaanwerk waarin die samestellers wel van nuwe beskikbare tegnologie gebruik maak, "but only in a very restricted way in order to provide quicker access to their data by means of links or search strings, () and which might recognize not only inflectional forms but also parts of words, orthographic variants and even mistakes". Die Woordelys bied dus wel vinniger toegang tot leksikografiese data, maar verken nie volledig die moontlikhede wat deur die elektroniese medium gebied word nie. Die data is steeds gerangskik in tradisionele en statiese inskrywings, wat presies ooreenstem met die inskrywings in die papierweergawe - uit die oogpunt van die gebruiker kan dit as 'n onkritiese oorname van die papiermodel beleef word. Enkele aspekte van die onderbenutting van die moontlikhede van die e-medium word vervolgens bespreek.

Die eerste ooglopende frustrasie vir die gebruiker is die verwysing na spelreëls waartoe die gebruiker nie aanlyn toegang het nie. Trouens, die onervare gebruiker sal waarskynlik geen benul hê van die betekenis van die syfers wat ná sommige van die inskrywings gegee word nie, terwyl die logiese oplossing gewoon is om die betrokke spelreël deur middel van 'n klikbare skakel aan gebruikers beskikbaar te stel. Sou gebruikers die gebruikersgids raadpleeg deur op die skakel Belangrike gebruiksinligting1 oor die Woordelys te klik, vind hulle die volgende verduideliking onder punt 2:

Die primêre oogmerk van die Woordelys is om spelleiding te gee, en dit moet dus in samehang met die Spelreëls gebruik word. Vir dié doel word die voorbeelde wat ter illustrasie by reëls gebruik word, in die Woordelys saam met die toepaslike reëlverwysing(s) aangebied. 'n Reëlnommer bestaan uit die hoofstuknommer gevolg deur die volgnommer van die reël, byvoorbeeld 5.1. Indien daar na 'n bepaalde opmerking by 'n reël verwys word, volg die opmerkingnommer ná die reëlnommer, byvoorbeeld 5.1 (a).

Die gebruikers van die Woordelys baat geensins by die verwysing na die spelreëls waartoe hulle geen toegang het nie - dit kan lei tot erge frustrasie aan die kant van die gebruiker. Dit is onwaarskynlik dat gebruikers wat die elektroniese weergawe raadpleeg, 'n papierkopie van die AWS waarin die spelreëls vervat is, ter hand sal hê - hulle raadpleeg waarskynlik die e-weergawe, juis omdat hulle nie die papierweergawe byderhand het nie. Die opmerking in die Veel Voorkomende Vrae (VVV) dat "(d)ie lyste op hierdie webblad dien as aanvulling tot die AWS en nie as ʼn vervanging van die AWS nie" bied nie veel troos nie - aanvulling impliseer dat bykomende inligting verskaf word - iets wat nie die geval is nie. Verderaan onder VVV word aangedui dat 'n volledige elektroniese weergawe van die AWS, die e-AWS, met die spelreëls ingesluit, op 'n betaalbasis in die toekoms beskikbaar gestel gaan word. Daar word aangedui dat meer inligting oor die e-AWS in 2011 bekend gemaak sal word. Hierdie belofte het egter tot nog toe nie tot uitvoer gekom nie.

In die tweede plek is die rekenaarmatige onderbou van die Woordelys gebrekkig wat daartoe lei dat soektogte vreemde en soms verwarrende resultate oplewer. Enkele lukraak gekose voorbeelde word vervolgens bespreek.

Wanneer voltooide byvoorbeeld as soekwoord ingetik word, is daar 'n enkele soekresultaat, naamlik volt.dw. as lemma, gevolg deur die verklaring "voltooide deelwoord". Vergelyk die volgende skermskoot:

 

 

Die soekresultaat is om verskeie redes vreemd. In die eerste plek verskyn daar in die blokkie aan die regterkant van die skerm 'n lewendige skakel volt.dw. Wanneer daarop geklik word, egter, verleen dit nie toegang tot enige nuwe inligting nie. Tweedens word daar in dieselfde blokkie die syfer 58% verstrek, maar nóg in die gebruikersgids, nóg in die Veel Voorkomende Vrae word enige aanduiding gegee van wat die betekenis van dié syfer is. In die derde plek is dit ook nie duidelik waarom die soekresultaat as volt.dw. aangegee word nie, terwyl volt. voltooid(e) vroeër in die alfabetiese strek voorkom. Die soekresultate is egter irrelevant vir die gebruiker se soektog. Dit wil dus voorkom of die programmering wat die soekfunksie onderlê nie meer gesofistikeerde soektogte ondersteun nie - die soekfunksie is soortgelyk aan dié wat in woordverwerkingspakkette aangetref word, met dié verskil dat hierdie funksie in die Woordelys nie aan die gebruiker die opsie bied om byvoorbeeld heelwoorde of slegs gedeeltes van woorde te soek of kassensitiewe soektogte uit te voer nie. Die program kan ook nie 'n kombinasie van soekfunksies hanteer nie. Die soekfunksie is afgestem op die blote masjienmatige herkenning van ortografiese eenhede wat tot onbevredigende soekresultate kan lei.

Bogenoemde leemte in die sagteware word verder duidelik wanneer "tersprake" as soekwoord ingetik word. Dit lewer geen resultate op nie, wat die gebruiker op een van twee maniere kan interpreteer: dit kan naamlik impliseer dat die woord korrek geskryf is, maar nie in die Woordelys opgeneem is nie, of dit kan beteken dat die skryfwyse foutief is. Geen verdere gebruikersleiding word verskaf nie. Sou die gebruiker vermoed dat die korrekte skryfwyse ter sprake is en dit as soekwoord intik, is daar nie minder nie as 84 resultate. Van die 84 resultate bevat 15 die voorsetsel ter, maar ter sprake is nie in die resultate te vinde nie. Die gebruiker word verder onkant betrap wanneer die lemma promp onder die soekresultate verskyn. Wanneer daarop geklik word, blyk dit dat die verboë vorm en trappe van vergelyking as "promp, -te, -ter, -ste" aangegee word. Hoewel die soektog dus 84 resultate opgelewer het, bly die gebruiker se inligtingsbehoefte onbevredig. 'n Pluspunt is dat die sagteware wel soektogte met behulp van die sogenaamde Booleaanse soekwysigers (Boolean Search Modifiers) * en " " ondersteun, maar selfs hierdie funksie is nie sonder frustrasie vir die gebruiker nie. Sou die gebruiker byvoorbeeld *tjie intik om 'n lys van alle verkleinwoorde te kry wat op -tjie eindig, word aangedui dat daar 258 resultate is. Van die 285 kan die gebruiker egter net die eerste 10 sien en daar is skynbaar geen manier waarop toegang tot die res van die soekresultate verkry kan word nie.

'n Derde tekortkoming in die aanlyn Woordelys is dat daar nie (tipografies) onderskei word tussen verskillende inligtingtipes wat deurgaans in hakies en kursiewe druk ná die lemma gegee word nie: soms is dit woordsoortaanduiding, soms is dit betekenisleiding, soms dui dit 'n bepaalde vakgebied of gebruikskonteks aan, soms is dit 'n sinoniem van die soekwoord en soms word 'n vaste uitdrukking of idioom gegee waarin die soekwoord tipies voorkom. Enkele voorbeelde word ter illustrasie aangebied.

mag (ww.): woordsoortaanduiding

maerman (soort plant): betekenisleiding

souffleer(drama): vakgebied

madras (Islamities): gebruikskonteks, moontlik selfs bedoel as etimologiese inligting?

maermerrie (skeen): sinoniem

baat (- vind by): vaste uitdrukking

Daar kan nie sonder meer aanvaar word dat gebruikers die nodige diskriminasie aan die dag sal lê met die interpretasie van sodanige inligting nie. Daar is verwarring oor of daar etikette gebruik word en of ander inligting gegee word. By die lemma magie byvoorbeeld, word "toorkuns" in hakies verskaf. Dit is nie duidelik of "toorkuns" 'n sinoniem vir magie is, en of magie 'n woord is wat tot die terrein van die toorkuns behoort nie en dit dus gebruikskonteks aandui nie. Dat enige addisionele inligting wat verstrek word, potensieel nuttig is, val nie te betwyfel nie, maar alvorens hierdie inligting op 'n beter gestruktureerde en gebruikersvriendelike wyse aangebied word, kan die gebruiker nie maksimaal daaruit voordeel trek nie. Vanuit 'n sagtewareperspektief is een of ander vorm van tipografiese diskriminasie tussen verskillende inligtingtipes 'n relatief eenvoudige prosedure.

In die vierde plek is daar heelwat interne mikrostrukturele inkonsekwentheid. Dieselfde inligtingtipes word naamlik verskillend hanteer. Wanneer betekenisleiding gegee word deur na die superordinaat van die betrokke lemma te verwys, word hierdie hiponimiese verhouding meestal aangetoon deur aan te dui dat lemma X 'n "soort Y" is, vergelyk byvoorbeeld baar ("soort seevis"), rabas ("soort plant"). Tog word voorbeelde aangetref waar dieselfde leksikale verhouding geld, maar dit word op 'n ander wyse gemerk, bv. babala ("gras"), radioliet ("fossiel"). Veral laasgenoemde voorbeeld is potensieel verwarrend omdat daar - soos in die voorafgaande paragraaf aangetoon - geen tipografiese onderskeid tussen verskillende inligtingtipes getref word nie. Die gebruiker kan daarom verkeerdelik aanneem dat "fossiel" 'n sinoniem vir radioliet is. Verder word lemmas wat tematies verwant en morfologies ooreenstemmend is, verskillend behandel. Vergelyk in dié verband die volgende voorbeelde:

Basotho (die -)

Barolong (lid van 'n bevolkingsgroep), -s

Bapedi (die -)

Volgens die gebruikersleiding moet Basotho en Bapedi saam met 'n bepaalde lidwoord gebruik word. Daar word geen aanduiding gegee ten opsigte van meervoudsvorming nie. Hoewel dieselfde reël ten opsigte van die gebruik van die bepaalde lidwoord by Barolong geld, word dit nie aangedui nie en word daar aangetoon dat die meervoud daarvan Barolongs is. Benewens die inkonsekwente behandeling van gelyksoortige lemmas is die korrektheid van laasgenoemde meervoudsvorm debatteerbaar.

Daar is egter wel gebruikersvriendelike elemente in die Woordelys. Een hiervan is die voorspellende teks. Sodra die gebruiker 'n soekwoord begin intik, verskyn 'n lys woorde wat met die letters wat deur die gebruiker ingetik word, begin. Hierdie eienskap ondervang tot 'n mate die probleem van soekwoorde waarvan die spelling foutief is. Sou die gebruiker bv. paralel as soekwoord intik, verskyn die korrekte spelling (parallel) wel in die lys woorde wat outomaties "voorspel" word, en kom die gebruiker tog by die korrekte spelling uit. Dit is egter nie altyd die geval nie: sou die gebruiker teroris intik, bied die program geen keusemoontlikhede aan nie, en die gebruiker kry slegs 'n nul-resultaat. Verdere verfyning van hierdie funksie is dus nodig.

Dit is dikwels die geval dat gebruikers nie weet hoe om deeltekens of kappies rekenaarmatig aan te dui nie. Die soekfunksie maak hiervoor voorsiening: ʼn soektog na "beindruk" lei die gebruiker wel na die korrekte spelling, naamlik "beïndruk".

Vir die Woordelys om in navolging van Tarp (2011) se metafoor van 'n "faster horse" na 'n Model T-Ford en uiteindelik tot 'n Rolls-Royce te vorder, is 'n paar modifikasies nodig. In die eerste plek moet die moontlikheid ondersoek word om inskrywings dinamies te maak, dit wil sê om die gebruiker die geleentheid te bied om sy eie profiel te skep en die aktiwiteit of funksie waarvoor hy die Woordelys wil gebruik, te spesifiseer. Leksikografiese Model T-Fords bied gebruikers ook die opsie om deur middel van lewendige skakels toegang tot bestaande inligting op die internet te kry om sodoende die gebruiker se spesifieke inligtingsbehoefte te bevredig. Ons dink byvoorbeeld hier aan skakels na die aanlyn grammatika van Afrikaans soos dit op die taalportaal van die ViVA-webblad (http://viva-afrikaans.org/index.php) verskyn. Hoewel Tarp (2011:61) daarop wys dat die kategorie van leksikografiese Rolls-Royces tans nog 'n leë een is, is dit die toekoms van leksikografiese inligtingsbronne. Hierdie toekomstige inligtingsbronne sal pasgemaakte oplossings vir individuele gebruikers in spesifieke gebruiksituasies bied; dit sal toegang tot geselekteerde data in 'n databasis met internetsoektogte kombineer en sodoende dinamiese oplossings, gebaseer op 'n herbewerking en hervoorstelling van die data in die databasis, aan gebruikers bied.

 

3. DIE WOORDELYS AS (LEKSIKOGRAFIESE) INLIGTINGSBRON

Die huidige status van die AWS is dié van 'n preskriptiewe leksikografiese inligtingsbron, wat 'n aanslag reflekteer wat kontrasteer met die moderne leksikografiese benadering - veral wat betref algemene woordeboeke, waar die oorheersende benadering deskriptief van aard is. Spesiale woordeboeke oftewel vakwoordeboeke is egter tot 'n groter mate preskriptief, juis vanweë die leidende rol wat hulle ten opsigte van normering en standaardisering speel. Juis in terme van hierdie rol van die AWS sou geargumenteer kon word - soos Odendaal (2016) inderdaad doen - dat die AWS 'n woordeboek vir spesiale doeleindes is. Dit word naamlik spesifiek gebruik om spellingleiding aan gebruikers te verskaf en kan derhalwe as 'n spel- of ortografiese woordeboek beskou word wat as verwysingspunt vir korrekte spelling gebruik word. Hoewel algemene woordeboeke ook dikwels geraadpleeg word vir korrekte spelwyses, lê die verskil daarin dat 'n ortografiese woordeboek geen ander leksikografies relevante inligting verstrek nie.

Teenoor Odendaal se mening dat die AWS 'n woordeboek is, haal ons aan uit die gebruikersgids van die aanlyn weergawe van die woordelys, die eerste punt: "Die Woordelys is nie 'n volledige lys van alle bestaande Afrikaanse woorde nie. Dit is ook nie 'n woordeboek nie en moet dus nie as een gebruik of beskou word nie." Die gebruiker word dus eksplisiet gewaarsku om nie enige inligting benewens leiding ten opsigte van spelling en ander ortografiese aangeleenthede in die Woordelys te verwag nie. Belangriker as die tipologiese status van die Woordelys as spesiale woordeboek al dan nie, is die vraag of die tipe inligting wat in die Woordelys verskaf word noodwendig beperk moet word tot spellingleiding. Spellingleiding kan kwalik as 'n geïsoleerde leksikografiese aktiwiteit gesien word - dit kan dikwels nie geskei word van ander tipes gebruikersbehoeftes nie, soos verderaan deur die analise van die loglêers uitgewys word. Die sentrale rol wat die gebruiker en sy inligtingsbehoeftes in die moderne leksikografie speel, kom vervolgens onder die loep.

 

4. DIE GEBRUIKER IN FOKUS

4.1 Die gebruikersperspektief in die inligtingsera

Dit is duidelik dat die Woordelys - waarskynlik as gevolg van historiese redes en die feitlik uitsluitlik preskriptiewe en normerende aard daarvan - nie die gebruiker en dié se behoeftes ten opsigte van inligting en die verkryging daarvan vooropstel nie. Dit blyk duidelik uit die instruksies wat in die gebruikersleiding van die Woordelys gegee word. Die onus word dikwels op die gebruikers geplaas om te sorg dat die inligting wat hulle uit die Woordelys herwin het, korrek en gepas vir 'n bepaalde situasie is: "Die lys bevat ook heelwat geografiese name wat om verskeie redes as histories beskou kan word en van tyd tot tyd nog in publikasies opduik. Sulke name en afleidings word nie gemerk nie en dit berus by die gebruiker om te verseker dat die gekose naam of afleiding gepas is vir die betrokke konteks". (Ons kursivering) Só 'n benadering is uit pas met ʼn moderne leksikografiese benadering waar klem op die gebruiker geplaas word en dit as die leksikograaf se plig geag word om toe te sien dat gebruikers so vinnig as moontlik die korrekte inligting verkry ten einde in hul inligtingsbehoefte(s) te voorsien.

Ons wil juis in ons herwaardering die AWS en spesifiek die Woordelys vanuit 'n gebruikersperspektief benader. Ons argumenteer dat die normerende en standaardiserende funksie van die AWS en 'n sensitiwiteit vir die behoeftes van sy gebruikers nie noodwendig onderling uitsluitend hoef te wees nie. 'n Deeglike kennisname van die sentrale rol wat die gebruiker en sy inligtingsbehoeftes speel, is nodig indien 'n hersiening van die aanlyn AWS en spesifiek die Woordelys oorweeg sou word.

In die afgelope ongeveer twee dekades het die gebruikersperspektief, en spesifiek die gebruiker se inligtingsbehoeftes, sterk na vore gekom en die oorheersende kriterium vir die beoordeling van die kwaliteit van woordeboeke en by implikasie enige leksikografiese inligtingsbron geword.

The user-perspective, so prevalent in modern-day metalexicography, compels lexicographers to compile their dictionaries according to the needs and research skills of well-defined target user groups. The dominant role of the user has had a definite effect on the compilation of dictionaries as well as on the evaluation of their quality. Good dictionaries do not only display a linguistically sound treatment of a specific selection of lexical items. Good dictionaries are products that can be used as linguistic instruments by their respective target user groups. The better they can be used, the better dictionaries they are. (Gouws & Prinsloo 2005:39)

A good dictionary is one in which you can find the information you are looking for - preferably in the very first place you look. (Haas 1962:48)

Die gebruiker en spesifiek sy inligtingsbehoeftes is nie net van kardinale belang vir woordeboeke nie - dit is belangrik vir die saamstel van enige leksikografiese inligtingsbron, vergelyk Bergenholtz en Gouws (2010:106) in dié verband:

For the user the type of information source is not important. Important is that he/she retrieves the exact required information as quickly as possible.

In die lig hiervan is dit ook nie verbasend dat die toonaangewende leksikografievereniging Euralex se kongrestema in 2016 The user in focus was nie.

4.2 Die woordeboekgebruiker in die inligtingsera

In die inligtingsera is gebruikers toenemend daarop ingestel om inligting maklik en vinnig aanlyn te bekom. Daar word dikwels hierna verwys as die eenmalige gebruiker ("on the fly user") se behoefte aan die onmiddellike verkryging van die korrekte inligting ("information on demand"). Inligting oor spelling en ander skryfprobleme kan deesdae ook byvoorbeeld deur middel van skakels na ondersteunende webwerwe of programme soos skryfhulpe en verwerkte korpusdata verkry word.

The e-dictionary could, for example, link to a writing assistant in order to solve text production problems of users, and to provide specific information on demand. (Bothma et al. 2016:110)

In terme van die funksieteorie - een van die moderne leksikografiese teorieë - moet leksikografiese inligtingsbronne naas kognitiewe inligting ook sterk leiding bied ten opsigte van teksproduksie. Daar kan nie vandag sonder meer aanvaar of vereis word dat gebruikers lang teksgedeeltes in ʼn woordeboek of grammatika moet deurwerk alvorens hul inligtingsbehoeftes bevredig is nie.

Die vereistes van die inligtingseeu en die toename in die omvang en kwaliteit van inligtingsbronne op die internet moet in gedagte gehou word by toekomstige samestellings van die Woordelys. Soos met ander naslaanbronne loop woordelyste en spelreëls die gevaar om irrelevant te raak indien gebruikers die inligting wat hulle benodig makliker en vinniger kan bekom deur bloot te google. ʼn Gesofistikeerde spelkontroleerder vir Afrikaans en ʼn aanlyn vertalingsprogram soos Google Translate kan byvoorbeeld ʼn groot persentasie spellingleiding wat in die verlede slegs deur die AWS voorsien is, ondervang en vir die gebruiker maklik die voorkeuropsie bó die gebruik van die aanlyn AWS word. Toekomstige weergawes van die AWS moet na ons mening hulleself dus as hulpmiddels onderskei ten opsigte van veral dié inligtingstipes wat nie deur spelkontroleerders of ander hulpmiddels soos aanlyn vertaalpakkette, korpuskonkordansies en ander skryfhulpmiddels gebied word nie.

Die voorgestelde verandering in die benaderingswyse tot die samestelling van veral die Woordelys wat in hierdie artikel voorgehou word, stel dus die gebruikersfokus, en in besonder die behoeftes van dié gebruiker, wat vinnig en direk die regte antwoord verlang, voorop.

4.3 Inligtingsbehoeftes van die Woordelysgebruiker

Die aard van die AWS en spesifiek dié van die Woordelys dui daarop dat dit nóú afgestem is op teksproduksie, een van die kommunikatiewe funksies van leksikografiese inligtingsbronne. Die funksie van enige leksikografiese inligtingsbron word vanuit die perspektief van die samesteller daarvan gedefinieer. Wat egter belangrik is, is dat daar belyning tussen die bedoelde funksie van so 'n naslaanwerk en die inligtingsbehoefte van die teikengebruiker is. Tarp (2009: 283) identifiseer 'n aantal strategieë deur middel waarvan gebruikers se inligtingsbehoeftes bepaal kan word, en een hiervan is die analise van loglêers2 - 'n relatief nuwe prosedure wat moontlik gemaak is deur die beskikbaarheid van die elektroniese medium.3

Daar is verskeie voordele verbonde aan die ontleding van loglêers. Eerstens beïnvloed dié tipe waarneming nie die gebruiker of die leksikografiese konsultasieproses nie. Dit voorsien verder die navorser van 'n groot hoeveelheid data wat die werklike gebruikersgroep verteenwoordig, en op grond van empiriese data kan afleidings gemaak word ten opsigte van die werklike inligtingsbehoeftes van die gebruiker. Die kwantitatiewe analise van die data is relatief eenvoudig. 'n Analise van die loglêers van die gebruikers van die Woordelys kan dus meehelp om 'n betroubare aanduiding te gee van die inligtingsbehoeftes van die gebruiker. Vir die doel van hierdie artikel is die loglêers van die Woordelys van 4 Junie 2010 tot 14 Maart 2012 ontleed. 'n Totaal van 41 653 soektogte is vir hierdie tydperk gedokumenteer.

Bergenholtz en Johnsen (2007:2) toon aan dat een van die voor die hand liggendste gebruike van die loglêeranalise is om gapings in die lemmaseleksie in woordeboeke te identifiseer en aan te vul deur woorde wat opgesoek is, maar nie gevind is nie, in te sluit. De Schryver en Joffe (2004) rapporteer byvoorbeeld dat die opname van woorde waarvoor daar onsuksesvol gesoek is in die SeDiPro-projek ('n aanlyn, tweetalige Noord-Sotho-Engelse woordeboek) die suksesvolle soektogte van 67% na 75% opgestoot het. Soos Bergenholtz en Johnsen (t.a.p.) tereg opmerk, hang die insluiting van lemmas af van onder meer die funksie van die woordeboek, die teikengebruiker en die werklike doel van die naslaanwerk. 'n Eerste, oppervlakkige analise van die soektogte soos in die loglêers van die Woordelys opgeneem, bring aan die lig dat 14 431, d.w.s. 34.6% uit die totaal van 41 653 soektogte 'n nulresultaat opgelewer het. Die bespreking verderaan fokus op hierdie onsuksesvolle soektogte, omdat ons van mening is dat 'n behoorlike analise van dié data die persentasie suksesvolle soektogte beduidend kan verhoog en so waarde tot die Woordelys kan toevoeg.

Uit die loglêeranalise is dit duidelik dat daar verskillende permutasies ten opsigte van die aard van die soektog, die resultaat daarvan en die opname al dan nie in die Woordelys is:

soekwoord korrek gespel, maar nie in die woordelys opgeneem nie

soekwoord verkeerd gespel, korrekte vorm in die woordelys opgeneem

soekwoord verkeerd gespel, korrekte vorm nie in die woordelys opgeneem nie

Ten opsigte van die eerste kategorie is dit belangrik om in gedagte te hou dat die soektog onsuksesvol was en die gebruiker se inligtingsbehoefte gevolglik onbevredig gelaat is. Die blote feit dat die woord opgesoek is, is 'n aanduiding dat die gebruiker óf onseker is oor die korrekte spelling, óf op soek was na bevestiging dat die woord wel as Standaardafrikaans beskou word. Die gebruiker se inligtingsbehoefte en die gevolglike soektog is dus in lyn met die gestelde funksies van die Woordelys. Om klakkeloos alle woorde wat deur gebruikers opgesoek word, in te sluit, is waarskynlik nie haalbaar of sinvol nie en vra vir die oordeel van die samestellers. 'n Oorweging vir die opname van sulke woorde sou byvoorbeeld kon wees hoeveel keer die betrokke woord (deur verskillende gebruikers) opgesoek is. Ter illustrasie: die woorde sexy en postapartheid, is sewe en vier maal onderskeidelik opgesoek, en sou op grond hiervan vir opname oorweeg kon word, al is dit dan in die geval van sexy met ʼn aanduiding dat dit nie Standaardafrikaans is nie. 'n Verdere oorweging sou ook die algemene gebruiksfrekwensie van die woord wees. Met die beskikbaarheid van groot datakorpusse is dit relatief eenvoudig om vas te stel wat die gebruiksfrekwensie van enige woord is. ʼn Soektog in die 48 miljoen Taalkommissiekorpus (TK) dui byvoorbeeld daarop dat "sexy" ʼn gebruiksfrekwensie van 349 het. Die samestellers van die woordelys sou argumentsonthalwe op 'n minimumfrekwensie in die korpus kon besluit waaraan kandidaatwoorde moet voldoen om te kwalifiseer vir opname.

In gevalle waar die soekwoord verkeerd gespel is, en die korrekte vorm wel in die Woordelys opgeneem is, is die soektog ook nie altyd suksesvol nie. Die teksvoorspellingsfunksie lei die gebruiker soms na die korrekte woord, maar dit is slegs van nut wanneer die foutiewe spelling en die korrekte weergawe na aan mekaar binne dieselfde alfabetiese strek val. In die meeste gevalle is daar geen leiding wat die gebruiker by die korrekte spelwyse uitbring nie; trouens, soms kan die teksvoorspelling misleidend wees: "nogsteeds" is byvoorbeeld 16 keer opgesoek, en sodra die gebruiker "nog" inlees, verskyn die woorde "nogmaals" en "nogtans" in die kieslys. Na analogie hiervan kan die gebruiker die foutiewe aanname maak dat "nogsteeds" inderdaad een woord is. Verdere voorbeelde sluit in: "aantuiging" (sewe maal gesoek), "soesjie" (nege maal gesoek), "bestandeel" (ses keer gesoek) en "ensomeer" (11 keer gesoek). Voorbeelde soos hierdie is goeie kandidate vir 'n geïntegreerde outomatiese speltoetser wat alternatiewe aanbied indien die soekreeks nie gevind word nie - die tipiese "Did you mean?"-funksie. So 'n funksie sou die gebruiker na die korrekte inskrywing begelei en so die gebruiker se inligtingsbehoefte bevredig.

Die sterkste kandidate vir opname in die woordelys, is waarskynlik dié wat tot die laaste kategorie behoort, veral indien dit blyk dat so 'n lemma herhaaldelik opgesoek is. So is onverskoning agt keer en omverskoning sewe keer opgesoek, maar die korrekte vorm verskyn nie in die Woordelys nie, vuurmaak is vier keer gesoek, maar vuur maak is nie opgeneem nie. Ook hier behoort gebruiksfrekwensie 'n rol te speel in die besluit of so 'n woord opgeneem behoort te word of nie.

Benewens die vul van gapings ten opsigte van lemmaseleksie, kan die analise van die loglêers ook 'n aanduiding gee van die aard van die inligtingsbehoeftes van die gebruiker. 'n Analise van die loglêers dui daarop dat die gebruiker ook van die Woordelys verwag om in kognitiewe inligtingsbehoeftes te voorsien. Hierdie tipe inligtingsbehoefte verwys na gevalle waar die gebruiker kennis oor 'n spesifieke verskynsel wil inwin. Soektogte soos die volgende bevestig dat die inligtingsbehoeftes van die gebruiker van die Woordelys verder as die soeke na spellingleiding vir teksproduksie gaan:

deelteken

wanneer een woord of twee

wanneer gebruik jy y of ei

verkleinwoorde spelreëls

koppelteken reëls

betekenis van webtuiste

antoniem spyt

ander woord skurk

Die feit dat die gebruiker deelteken as soekwoord intik, dui daarop dat hy inligting nodig het oor die gebruik van die deelteken, en nie soseer op soek is na die korrekte spelling van 'n spesifieke woord waarin daar 'n deelteken voorkom nie. Die aard van die inligtingsbehoefte van die gebruiker in die laaste drie gevalle spreek vanself.

Die besluit tot watter mate daar aan inligtingsbehoeftes soos blyk uit die soektogte hierbo gelys, aandag gegee gaan word in toekomstige weergawes van die Woordelys, is uiteraard vir die diskresie van die samesteller(s) van die Woordelys. ʼn Baie belangrike vraag hier is: kan daar aangeneem word dat ʼn toekomstige besluit oor die aard en omvang van ʼn aanlyn woordelys nog steeds die tradisionele doel en aard van die lys, soos uiteengesit in Deel 1, in ag behoort te neem?

 

5. 'N NUWE BENADERING TOT LEMMAKEUSE EN SPELLINGLEIDING

Die benadering tot lemmakeuse vir 'n woordelys moet verskil van die lemmakeuse van 'n gewone woordeboek. By laasgenoemde val die klem op die oeroue probleem rakende watter woorde ingesluit en watter weggelaat kan word. By gewone woordeboeke val die klem ook sterk op lemmatisering, dit wil sê die keuse van 'n lemma wat in werklikheid 'n abstraksie is en wat 'n bepaalde paradigma (moet) verteenwoordig. So, byvoorbeeld, word hond (die ongemerkte vorm) as lemma gekies vir die paradigma hond, honde, hondjie, hondjies. Om ekonomiese redes gebruik die gewone woordeboek dikwels ook sekere konvensies, byvoorbeeld deur slegs die enkelvoudsvorm op te neem en meervoudsaanduiding op 'n verkorte wyse te gee, man(s) of man, ~s. Die gebruiker van 'n gewone woordeboek of woordelys kan nie verwag om alle afleidings van 'n spesifieke woord in die naslaanbron, veral nie as lemmas nie, te vind nie.

Die klem in 'n aanlyn, elektroniese woordelys behoort egter anders geplaas te word. In teenstelling tot betekenisinligting as hoofdoel in 'n gewone woordeboek, (hetsy deur betekenisomskrywing in ʼn verklarende woordeboek of vertaalekwivalente in ʼn vertalende woordeboek), staan spellingleiding voorop in 'n woordelys. Betekenisinligting moet egter gegee word in dié gevalle waar verskillende spellings van 'n woord verskillende betekenisse impliseer, byvoorbeeld wyer (breër) versus weier (toestemming weerhou).

Tweedens moet die woordelys sensitief wees vir woorde wat gereeld verkeerd gespel word en kategorieë van problematiese spelaspekte. Voorbeelde van sulke kategorieë is ei versus y (wyer/weier), f versus v (fel/vel), met of sonder deelteken of kappie, (finansieel/finansiële), enkel- of dubbelletters (*plakaat/plakkate), ens. 'n Uiters belangrike aspek van inligtingsoektogte is die versekering/bevestiging ("reassurance/confirmation") dat die gebruiker die woord reg gespel het en dat die gebruiker korrek gespelde woorde fisies in die lys moet kan sien. Daarvoor word 'n omvattende woordelys van byvoorbeeld die mees gebruikte, korrek gespelde 50 000 Afrikaanse woorde in die elektroniese weergawe benodig.

Só 'n woordelys moet dan deur 'n spelkontroleerder ondersteun word. Die gebruiker wat wil seker maak en die woord onmiddellik intik, vind die woord in die lys en kry daardeur bevestiging en vertrou dat die woordelys hom daarop attent sou maak indien daar 'n ander spelling was met 'n verskil in betekenis. Die gebruiker wat *onmiddelik of *onmidellik intik word deur die spelkontroleerder die opsies onmiddellik, onmiddellike, ensovoorts aangebied. In gevalle waar verskillende spellings op verskillende betekenisse dui, moet daar klikbare skakels wees na ʼn teks met meer betekenis- en produksie-inligting. So, byvoorbeeld, moet gebruikers wat wyer opsoek daarop bedag gemaak word dat hulle ook rekening moet hou met weier wat ʼn totaal ander betekenis het en bowendien ʼn werkwoord is.

 

6. GEBRUIKERSLEIDING VIR DIE KORREKTE SPELLING VAN WOORDE

Vir die doel van hierdie artikel is 'n Afrikaanse korpus van 1.3 miljoen woorde saamgestel uit taakopdragte van voorgraadse Afrikaanssprekende studente en is ondersoek ingestel na woorde wat tipies verkeerd gespel word.4 Enkele voorbeelde is uitgesonder vir bespreking hieronder. (Die frekwensietelling van woorde in die korpus word tussen hakies aangegee.)

Dit is opvallend dat woorde dikwels op meer as een wyse verkeerd gespel word. So, byvoorbeeld, kom drie foutiewe spellings vir plakkate en twee elk vir professioneel en interessante voor.

Die Woordelys gee die volgende resultate:

Die konvensie om die meervoud aan te dui as ..kate kan op sigself misleidend wees vir relatief onervare woordeboekgebruikers. Dit mag wees dat hulle nie seker is of ..kate vervangend optree vir -kkaat of -kaat nie en gebruikers kan moontlik tot die foutiewe gevolgtrekking kom dat die meervoud van plakkaat, *plakate is as -kkaat met ..kate vervang word.

Bloot prakties of leksikografies gesproke begaan die Woordelys geen fout om nie foutiewe vorme soos *plakkaate en *profesioneel op te neem nie, maar gegewe die groot aantal foutiewe spellings in die korpus sou dit raadsaam wees om *plakaat en selfs *plakate op te neem met ʼn waarskuwing en riglyn na die korrekte spelling, byvoorbeeld *plakaat*: foutiewe spelling van plakkaat, of *plakaat*: korrekte spelling = plakkaat. Hierdie beginsel is nie onbekend in woordeboeke nie. In die Oxford Bilingual School Dictionary: Northern Sotho and English (De Schryver 2007) word vorme wat gereeld verkeerd gespel word, in die lemmalys opgeneem met 'n verwysing na die korrekte vorm. Vergelyk byvoorbeeld:

waka Correct spelling = wa ka

yaba Correct spelling = ya ba

Die lemma *plakaat kan byvoorbeeld in die alfabetiese posisie plak gelemmatiseer word met verwysing na die korrekte spelling, plakkaat. Na ons mening is dit ʼn tekortkoming in die woordelys dat dit nie gebruikersleiding voorsien waar die gebruiker die verkeerde spelling in gedagte het en in die woordeboek opsoek nie. ʼn Gebruiker wat vermoed dat die korrekte spelling *plakaate is, sal meer as een poging moet aanwend om by die korrekte spelling uit te kom. In hierdie geval sou die gebruiker meer gebaat het by ʼn goeie spelkontroleerder van Afrikaans. Gebruikers kan byvoorbeeld plakkate op enige manier verkeerd spel soos *plakate, *plakaate, of *plakkaate soos hierbo en die spelkontroleerder sal onmiddellik korrekte opsies aanbied of die spelling outomaties korrigeer.

Meer problematies is gevalle waar verkeerde spelling en alternatiewe spellings met verskillende betekenisse gelyktydig voorkom soos weier/wyer, verassing/verrassing, fel/vel, lei/ly, voorkeer/voorkeur, waardeer/waardeur, ens. Tabel 1 gee ʼn aanduiding van die korrekte versus foutiewe spelling in die studentekorpus van enkele willekeurig gekose woorde wat binne konteks beoordeel is vir korrektheid al dan nie.

In die geval van wyer (breër) is die woord in meer as 40% van die gevalle verkeerd gespel omdat die gebruiker weier (toestemming weerhou) bedoel het. Vergelyk die volgende uittreksel van konkordansielyne uit die korpus:

N Concordance

1 te bewerkstellig, en in die wyer /I sin die struktuur te ver

2 partheidsregering het egter wyer gestrek as bloot net die aa

3 ksamen toetse. Hier moet ek wyer dink om my les te beplan omr

4 die wat is nou fout, hoekom wyer jy om jou skool klere aan t

5 rbeeld: lank, kort, langer, wyer ensovoorts. Lewensvaardighe

6 toe dit by tandeborsel kom wyer Trudie om haar tande te bor

7 nder vakke. Dit het my laat wyer dink aan moontlikhede wat g

8 s handel oor om leerders 'n wyer perspektief te gee oor die

9 iese kanon, en ook binne 'n wyer intertekstuele konnteks" (Litn

10 houding te kry, asook om 'n wyer perspektief te kry. Liggaam

11 swart leerlinge, dit 'n wyer veld van leer oopgemaak 'n

12 wees om die situasie uit 'n wyer perspektief te beskou en ai

13 staan vir skoal. Die oggend wyer Trudie nie om wakker te wor

14 ngrik omdat dit ons leer om wyer te soek vir interessante kl

15 ngrik omdat dit ons leer om wyer te soek vir interessante kl

16 er staan Trudie op, maar sy wyer om haar skool klere aan te

17 t die bed te klim nie en sy wyer ook nie om haar skool klere

18 eet nie lekkers nie. Trudie wyer toe om op te staan en sy ho

19 beur dieselfde ding, Trudie wyer om skool toe te gaan as haa

20 hul Engels as 'n taal van wyer kommunikasie aanleer. Onde

Die Woordelys gee wyer as deel van die afleidingsparadigma vir wyd.

Die gebruiker word nie daarop gewys dat die risiko bestaan dat wyer met weier verwar kan word nie. Omdat die betekenis van "wyd" of "wyer" nie hier gegee word nie en daar ook nie 'n kruisverwysing na "weier" is nie, kan die gebruiker wat "weier" bedoel maklik konkludeer dat daar net een spelling, naamlik "wyer" is. Gebruikersleiding is hier noodsaaklik by wyse van ʼn kruisverwysing, byvoorbeeld "sien ook weier", óf deur ʼn hiperskakel na ʼn opspringkieslys ("pop-up menu") óf direkte konteksleiding, wyer (breër) vergelyk weier (toestemming weier). Die feit dat weier glad nie in die Woordelys opgeneem is nie, is beslis ʼn leemte.

Gebruikers wat weier in die sin van "toestemming weerhou" wil gebruik maar onseker is oor die spelling daarvan, kan byvoorbeeld probeer om albei vorme wyer en weier op te soek. Die feit dat hulle dan slegs wyer teëkom, kan veroorsaak dat daar verkeerdelik aangeneem word dat wyer die korrekte spelling vir weier is.

Vergelyk ook verassing (verbranding) versus verrassing (onverwagte gebeurtenis). Verassing of ʼn afleiding van hierdie woord kom tien keer in die studentekorpus voor, naamlik verassing (3), verassings (3) en ?verassende (4).

Die gebruiker wat verassing opsoek vind die resultaat: verassing, -e of -s. Indien hy egter verrassing opsoek is daar geen resultate nie:

In al tien gevalle waar studente verassing/verassings/?verassende gebruik het, was die bedoeling ʼn handeling wat verras en nie die verbranding van ʼn lyk nie.

1 sy wou graag weet wat die verassing is. Bennie vertel haar t

2 die manier versier geen verassings nie en alles wat gebeur

3 ders gepak het. Die groot verassing van die dag was die Towe

4 Bennie vir Lettie van 'n verassing. Dit het Lettie baie nuu

5 Wolf vra: "Hou julle van verassings?" Thandi en Nina se ja 'n

6 Verseboek is steeds vol verassings en sal altyd 'n digbunde

7 van die karakter. "Die verassende kompleksiteit word bygev

8 n kom die skrywer met 'n verassende einde. Dit bevat element

9 se aandag te hou met 'n verassende oplossing waar die skuld

10 karakters en kan lei tot verassende aspekte van die karakter

In ʼn koerantkorpus is verassing 50 keer in die eerste honderd voorkomste, dit wil sê in 50% van die gevalle verkeerd gebruik, naamlik om na verrassing te verwys, en selfs in die korpus van die Taalkommissie self is verassing 3 uit 31 (10%) keer verkeerd gebruik.

Statistiek soos hierdie beklemtoon die omvang van die probleem en die dringende behoefte aan duidelike en sterk gebruikersleiding in ʼn woordelys, en spesifiek dat daar kruisverwysings tussen veras en verras en hulle afleidings gegee moet word.

Daar kan geargumenteer word dat die Woordelys wel voorsiening maak vir verassing en verrassing in die sin dat dit uit die alfabetiese konteks afgelei kan word met die inskrywings vir veras, verras en hulle afleidings.

Daar kan egter nie van die gebruiker wat inligting onmiddellik en direk verlang, verwag word om die alfabetiese kontekste vir veras en verras, wat nie onderling van eksplisiete kruisverwysings voorsien is nie, raak te sien nie. Die gevaar hier is dus dat gebruikers wat onseker is oor die spelling van die veelgebruikte woord verrassing, en dit direk opsoek, (verrassing en nie via verras nie), nie gewaarsku word dat hulle by die laefrekwensie-woord wat "lykverbranding" beteken in die Woordelys beland het nie. Die voorkomste van verras versus veras in die Taalkommissiekorpus dui daarop dat die frekwensie van verras 30 keer hoër is as veras, vergelyk verras (950) versus veras (31) en in die koerantkorpus 5 445 keer teenoor 352. Die Woordelys moet sodanige direkte toegang bied vir die eenmalige gebruiker ("casual" of "on the fly user"), dit is die gebruiker wat nie noodwendig die woordvormings-/spellingreëls wil bestudeer of selfs bereid is om tipiese leksikografiese lemmatiseringsreëls of selfs die alfabetiese konteks te bestudeer nie. Gebruikers wil bloot weet of hulle verrassing, in die betekenis "onverwagte gebeurtenis", reg spel. In hierdie geval is die grootste leemte dus dat verrassing nie in die Woordelys gelemmatiseer is nie. Die gebruiker kan dus verkeerdelik aflei dat verassing die korrekte spelling vir verrassing is.

Die gebruiker sou in hierdie spesifieke geval meer baat gevind het by Google Translate wat vir verrassing die vertaalekwivalent surprise aanbied en vir verassing cremation. Gebruikers benodig egter ʼn betroubare inligtingsbron wat hulle nie sal mislei of soms die verkeerde antwoord gee nie. Google Translate sit byvoorbeeld die pot mis ten opsigte van wyer en weier wat albei met refuse vertaal word, voorkeer met for once en lei met slate. 'n Hersiene Woordelys kan hierdie leemte vul.

Die krag van die Woordelys lê in sy gesag as normeerder vir korrekte spelling in Afrikaans. Dit moet beslag vind in reëls maar ook ondersteun word deur ʼn omvattende woordelys van korrek gespelde woorde waardeur gebruikers seker kan wees dat hulle nie alleen die reël reg toegepas het nie, maar dat die eindproduk wel korrek gespel is en die toepaslike spelling is vir die betekenis wat hulle in gedagte gehad het. ʼn Woordelys van byvoorbeeld die mees gebruikte 50 000 Afrikaanse woorde met hiperskakels waar toepaslik, sou uitnemend hieraan voldoen. ʼn Moontlike benadering sou wees om frekwensielyste handmatig deur te werk en met ʼn spelkontroleerder te vergelyk.

 

7. DIE WOORDELYS IN VERGELYKING MET LEKSIKOGRAFIESE LINIALE VIR AFRIKAANS

Heelwat navorsing is deur Prinsloo en De Schryver (2002, 2003) oor leksikografiese liniale vir Afrikaanse woordeboeke gedoen. Hierdie liniale gee 'n aanduiding van die relatiewe grootte van Afrikaanse alfabetiese strekke in verhouding tot mekaar. So, byvoorbeeld, is die kategorieë B, K, S en V relatief groot terwyl C, J, Q, X en Z relatief klein is. Vir die doel van hierdie artikel is 'n leksikografiese liniaal vir die AWS saamgestel en met liniale vir die TK korpus en 'n koerantkorpus vergelyk. Daar is bevind dat die drie liniale tot 'n groot mate ooreenstem en dat die AWS gevolglik in terme van hierdie liniale die nodige balans ten opsigte van woorde in die verskillende alfabetiese kategorieë gehandhaaf het.

 

Figuur 1

 

 

Tabel 2

 

Daar kan uiteraard nie sonder meer verwag word dat daar 'n eksakte korrelasie tussen woorde in 'n korpus en die woorde wat geselekteer is met die oog op spellingleiding in die AWS sal wees nie. By gebrek aan ander duidelike riglyne vir die opname al dan nie van woorde in die Woordelys, sou so ʼn liniaal wel één van die kriteria kon wees. ʼn Mens sou dan kon verwag dat 'n groter kategorie soos S ook meer woorde sal bevat waarvoor spellingleiding nodig is as 'n kleiner kategorie soos J.

 

8. SAMEVATTING

Dat die AWS en spesifiek die Woordelys van groot waarde vir die Afrikaanssprekende en -skrywende is, val nie te betwyfel nie. Vir 'n eeu reeds dien dit as gesaghebbende bron vir standaardisering en normering van Standaardafrikaans. Deur 'n aanlyn weergawe van die woordelysgedeelte aan gebruikers beskikbaar te stel, gee die samestellers reeds 'n eerste tree om te voorsien in die behoeftes van die gebruikers van leksikografiese inligtingsbronne wat in die inligtingsera daaraan gewoond geraak het om korrekte inligting direk en vinnig te bekom. Om in die snel ontwikkelende era van e-leksikografie relevant te bly, staan die samestellers van die Woordelys onder 'n verpligting om die moontlikhede wat deur die elektroniese media gebied word, maksimaal te ontgin. Ideaal gesproke, behoort die Woordelys 'n kombinasie te wees van 'n standaardlys van die 50 000 mees frekwente, korrek gespelde Afrikaanse woorde, aangevul met woorde wat dikwels verkeerd gespel word, soos deur korpusondersoek uitgewys en woorde waar verskillende spellings verskillende betekenisse impliseer. Dié lys kan ook verder uitgebrei word deur woorde wat introspektief deur die samestellers as problematies geïdentifiseer is.

Aangesien die Standaardafrikaanse uitspraak sedert 1917 pertinent genoem word as ʼn rede vir die insluiting van woorde, stel ons laastens voor dat toekomstige weergawes van die AWS meer uitspraakleiding verskaf. Die aanlyn webwerf kan dan ook klanklêers aanheg van problematiese woorde soos byvoorbeeld weliswaar, sinister en veras.

 

BIBLIOGRAFIE

Bergenholtz, H. & Gouws, R. H. 2010. A new perspective on the access process. Hermes. Journal of Language and Business Communication, 44:103-127.         [ Links ]

Bergenholtz, H. & Johnsen, M. 2007. Log files can and should be prepared for a functionalistic approach. Lexikos, 17:1-20.         [ Links ]

Bothma, T.J.D., Gouws, R.H. & Prinsloo, D.J. 2016. The role of e-lexicography in the confirmation of lexicography as an independent and multidisciplinary field. Kongresverrigtinge van die 17de Internasionale EURALEX Kongres, 6-10 September 2016. Tbilisi. Georgië         [ Links ].

De Schryver, G-M. 2007. Oxford Bilingual School Dictionary: Northern Sotho and English/Pukuntšu ya Polelopedi ya Sekolo: Sesotho sa Leboa le Seisimane. E gatišitšwe ke Oxford. Cape Town: Oxford University Press Southern Africa.         [ Links ]

De Schryver, G-M & Joffe, D. 2004. On How Electronic Dictionaries are Really Used. Williams, G. & S. Vessier (eds). 2004. Proceedings of the Eleventh EURALEX International Congress, EURALEX 2004, Lorient, France, July 6-10, 2004:187-196. Lorient: Faculté des Lettres et des Sciences Humaines, Université de Bretagne Sud.         [ Links ]

Fuertes-Olivera, P. & Bergenholtz, H. (eds). 2011. e-Lexicography: the internet, digital initiatives and lexicography. London: Continuum International Publishing Group.         [ Links ]

Gouws, R.H. & Prinsloo, D.J. 2005. Principles and practice of South African lexicography. Stellenbosch: African Sun Media.         [ Links ]

Haas, M.R. 1962. What belongs in the bilingual dictionary? In: Householder, F.W. & S. Saporta (eds). Problems in Lexicography. Bloomington: Indiana University. 1962:45-50.         [ Links ]

Odendaal, B.G. 2012. Die herstandaardisering van Afrikaans: 'n Praktiese benadering met die AWS as gevallestudie. Ongepubliseerde proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Odendaal, G. 2016. Die rol van die US se Departement Afrikaans en Nederlands in die ontwikkeling van die Afrikaanse leksikografie: die Nederlands-Afrikaans-stryd gedurende die aanvangsjare. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1):257-276.         [ Links ]

Pharos. 2010. Afrikaanse woordelys en spelreëls.         [ Links ] [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.woordelys.co.za/[11 November 2016].

Prinsloo, D.J. & de Schryver, G-M. 2002. Designing a Measurement Instrument for the Relative Length of Alphabetical Stretches in Dictionaries, with special reference to Afrikaans and English. Tenth Euralex International Congress, Copenhagen, Denmark, August 2002: 483-494.         [ Links ]

Prinsloo, D.J. & de Schryver, G-M. 2003. Effektiewe vordering met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal soos gemeet in terme van 'n multidimensionele Liniaal. In Botha, W. (red.). 2003. 'n Man wat Beur: Huldigingsbundel vir Dirk van Schalkwyk, pp. 106-126.         [ Links ]

Tarp, S. 2009. Reflections on lexicographic user research. Lexikos, 19:257-296.         [ Links ]

Tarp, S. 2011. Lexicographical and other e-tools for consultation purposes: towards the individualization of needs satisfaction in Fuertes-Olivera, P. & Bergenholtz, H. (eds), pp. 54-70.         [ Links ]

ViVA Virtuele instituut vir Afrikaans http://viva-afrikaans.org/index/php        [ Links ]

 

 

 

ELSABÉ TALJARD is professor in die Departement Afrikatale, Universiteit van Pretoria. Haar spesialistaal is Noord-Sotho en haar navorsingsareas is Noord-Sothotaalkunde, leksikografie, terminologie en menslike taaltegnologie. Haar navorsing is oorwegend korpusgebaseerd. Sy dien op die bestuur van AFRILEX (Tesourier), is lid van die Suid-Afrikaanse been van die ISO/TC37-komitee en dien ook op die kundigheidspaneel van mensliketaaltegnologie van die Departement van Kuns en Kultuur. Sy is die outeur of mede-outeur van 35 artikels in geakkrediteerde tydskrifte en lewer gereeld referate by nasionale en internasionale kongresse. Sy is mede-projekbestuurder van die Open Education Resource Term Bank, 'n multimiljoenrand projek, befonds deur die Departement van Hoër Onderwys vir die daarstel van 'n veeltalige, aanlyn termbank vir Suid-Afrikaanse studente. Sy is 'n NRF-gegradeerde navorser.
ELSABÉ TALJARD is professor in the Department of African Languages, University of Pretoria. Her language of specialization is Northern Sotho and her research interests are linguistics, lexicography, terminology and human language technology. Her research is mainly corpus based. She serves on the Board of AFRILEX (Treasurer), is a member of the South African version of the ISO/TC37 committee and also serves on the expert panel of human language technology of the Department of Arts and Culture. She has authored or co-authored 35 articles in accredited journals and regularly reads papers at national and international conferences. She is co-manager of the Open Education Resource Term Bank, a multi-million rand project funded by the Department of Higher Education for the creation of a multilingual, online term bank for South African students. She is an NRF-rated researcher.

 

 

DANIE PRINSLOO is professor in Afrikatale aan die Universiteit van Pretoria. Hy is 'n voormalige voorsitter van AFRILEX (African Association for Lexicography), Hoof van die Departement Afrikatale en voorsitter van die Skool vir Tale. Hy is nasionaal en internasionaal bekend vir sy baanbrekersnavorsing in korpusgebaseerde Afrikataal-leksikografie en is die outeur of mede-outeur van meer as 100 publikasies en 'n soortgelyke aantal kongresreferate oor die onderwerp. Die huidige fokus van sy navorsing is op die ontwikkeling van hulpmiddele vir elektroniese woordeboeke en die koppeling van elektroniese woordeboeke met verwerkte korpusdata. Hy is die ontvanger van verskeie toekennings as Uitnemende Akademiese Presteerder en as 'n Denkleier van die eeu van die Universiteit van Pretoria asook van 'n PanSAT-toekenning vir sy bydrae tot meertaligheid.
DANIE PRINSLOO is Professor of African Languages at the University of Pretoria. He is a former Chairperson of AFRILEX (African Association for Lexicography), Head of the Department of African Languages and Chair of the School of Languages. He is well known nationally and internationally for his groundbreaking research in corpus-based African language lexicography and is the author or co-author of more than 100 publications and an equal number of conference papers on this subject. The current focus of his research is on the development of support tools for electronic dictionaries and linking electronic dictionaries with processed corpus data. He received several awards as Exceptional Academic Performer, and as a Centenary Leading Mind from the University of Pretoria, as well as a PanSALB award for his contribution to multilingualism.

 

 

NERINA BOSMAN is medeprofessor in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Sy doseer voor- en nagraadse kursusse in Afrikaanse Taalkunde en nagraadse kursusse in Toegepaste Taalstudies. Haar navorsingsgebiede is in die eerste plek die Afrikaanse leksikologie en die leksikale semantiek. Binne die teoretiese raamwerk van die konseptuele metafoorteorie is sy tans besig met 'n projek oor eet- en- drinkmetafore in Afrikaans en ander tale. Danksy 'n navorsingstoekenning deur die Nasionale Navorsingstigting, is daar in 2014 onder haar leiding begin met 'n groot projek oor aanspreekvorme in Afrikaans, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Namibië. In 2017 verskyn, onder haar en prof. Wannie Carstens se redakteurskap, die tweede uitgawe van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde.
NERINA BOSMAN is an Associate Professor in the Department of Afrikaans at the University of Pretoria. She teaches undergraduate and postgraduate courses in Afrikaans Linguistics and postgraduate courses in Applied Language Studies. Her research areas are in the first instance Afrikaans lexicology and lexical semantics. Within the theoretical framework of conceptual metaphor theory, she is currently working on a project on eat and drink metaphors in Afrikaans and other languages. Courtesy of a research grant by the National Research Foundation, a big project on forms of address in Afrikaans was launched under her leadership. This project will involve participants in the whole of South Africa as well as in Namibia. In 2017 the second edition of Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde, co-edited by prof. Wannie Carstens, was published.
1 Let op dat die bladsy wat oopmaak, egter die opskrif "Oriëntasie" het.
2 'n Loglêer is 'n lêer wat alle soektogte aanteken. Dit stoor onder andere inligting rakende die IP-adres van die gebruiker, die tyd waarop die soektog gedoen is en inligting oor die soektog self.
3 Ons dank aan die Taalkommissie wat die loglêers van die aanlyn Woordelys aan ons beskikbaar gestel het.
4 Ons dank aan kollegas wat die data wat in die korpus opgeneem is, aan ons beskikbaar gestel het: prof. Rinelle Evans, me. Annelie Botha en me. Linette van der Merwe.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons