SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2-1Who are the good Samaritans? Characteristics of volunteers in South AfricaThe causes of loneliness and the factors that contribute towards it: a literature review author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.2-1 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a5 

ARTICLES

 

Honderd jaar Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - 'n Oorsig en waardering. Deel 1: Die woordelys

 

One hundred years of Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - An overview and evaluation. Part 1: The wordlist

 

 

Nerina BosmanI; Elsabé TaljardII; Danie PrinslooIII

IDepartement Afrikaans,Universiteit van Pretoria. E-pos: nerina.bosman@up.ac.za
IIDepartement Afrikatale, Universiteit van Pretoria. E-pos: elsabe.taljard@up.ac.za
IIIDepartement Afrikatale, Universiteit van Pretoria. E-pos: danie.prinsloo@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

In 2017 sal die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (hierna afgekort as AWS) 'n volle eeu oud wees, en hierdie bydrae gedenk die mylpaal met 'n (her)waardering van veral die woordelysdeel van die AWS. Aanvanklik word ʼn historiese oorsig gegee oor die ontstaan en ontwikkeling van die woordelys met 'n fokus op sy funksie, aard en omvang. 'n Evaluasie van die spelreëls het buite die bestek van die artikel geval, maar daar word wel kortliks stilgestaan by die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling. Aspekte wat ondersoek is, was lemmakeuse, wat op sy beurt weer beïnvloed is deur beginsels van die Afrikaanse spelreëls soos 'n algemeen gebruiklike uitspraak, die bepaling van wat as "Standaardafrikaans" beskou kan of moet word en ander kwessies. Die doel en aard van die woordelys - kan dit byvoorbeeld as 'n spesiale soort woordeboek beskou word? - lemmaseleksie en mikrostrukturele bewerking, wisselvorme en die hantering van vreemde woorde, die normerende rol van die AWS en die omvang en volledigheid van die woordelys, kry aandag in hierdie eerste van twee artikels. Die gevolgtrekking waartoe gekom word, is dat die woordelys baie waardevol is as naslaanbron, maar wel tot 'n mate as belangrike gebruikersbron gekortwiek word deur sy aard: staties, onvolledig en voorskriftelik. Met die gebruiker in gedagte val die klem in Deel 2 dan op die nuwe moontlikhede wat 'n elektroniese woordelys sou kon bied.

Trefwoorde: AWS, oorsig, waardering, woordelys, grondbeginsels, lemmaseleksie, mikrostrukturele bewerking, wisselvorme, uitspraak


ABSTRACT

In 2017 the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) celebrates its centenary year. Our contribution commemorates this milestone with a (re)evaluation of this standard and well-known reference work - in particular of the wordlist sections of the AWS.
This article - the first of two - offers a historical overview of the function, nature and scope of the wordlist as revealed in the ten different editions of the AWS. For the overview we used the different editions (from 1917 to 2009) of the AWS as primary source texts. An evaluation of the Afrikaans spelling rules falls outside the scope of the article, but because these rules have an impact on which lemmas are included in the wordlist (one of the main functions of the wordlist being to help people with their spelling problems), we looked briefly at the way in which they have been defined since 1917.
The fundamental principles of the Afrikaans spelling system have essentially not changed, although they have periodically been reformulated. From 1917 to 1964 commonly used pronunciation and tradition (by which is also meant the ways in which the Afrikaans spelling system still reflects its history and relationship with Dutch spelling) remained two key criteria for the inclusion of words in the wordlist. In addition, the visible illustration and application of the spelling rules are important reasons for the inclusion (or elimination) of certain words. In the 2009 edition the main criterion for inclusion seems to be that the list must reflect contemporary written standard Afrikaans. No mention is made any longer of the commonly used pronunciation as guiding principle.
With respect to its nature, the question was raised whether the wordlist can be regarded as a special kind of dictionary - one with a limited lemma list and minimal microstructural information. Within the context of how best to describe this source, problematic or unclear aspects that were investigated were the basis for lemma selection - in other words, how exactly did the various language commissions determine what can or should be regarded as standard Afrikaans? This is arguably the most important criterion for inclusion.
Other issues that remained throughout the past 100 years were the treatment of two different spelling forms (so-called variant forms or "wisselvorme") like "more" and "môre" ("morning") and words of foreign origin ("krusifiks", "guillotine", "zero"/"sero"). In the treatment of these problematic cases the interaction between the three fundamental principles that inform the spelling rules are clearly illustrated.
The main purpose - to help with spelling problems and to set certain norms and standards - and the size and complexity of the wordlist were explored.
That the wordlist occupies a very important place in every AWS is not disputed, and we conclude that the wordlist is a very valuable reference work. Nevertheless, users' expectations when consulting the wordlist as an information source have to be realistic:
- The wordlist serves as an illustration and application of the spelling rules and as such is very valuable as a guideline for all users.
- The list is of course, due to various reasons, not comprehensive and it does not contain nearly as many standard Afrikaans words as do standard monolingual and bilingual dictionaries.
- It does not give guidance on the spelling of non-standard Afrikaans words. It is not clear whether all users are aware of this.
- By its very nature it is prescriptive and it provides a clear norm for language users.
- The 2009 wordlist is much more user-friendly than its predecessors, but the hard copies are in essence static documents that have not been updated frequently enough to satisfy all the information needs of its users. Users are therefore often forced to look for other sources of information on spelling issues.
With these characteristics in mind, we evaluate the electronic version of the wordlist in Part 2. This is done against the background of the current rapid development of theoretical lexicography and the increasing need of users to find the information that they need as quickly as possible. In Part 2 the focus is very clearly on the user and his or her needs.

Key words: AWS, overview, appreciation, word list, fundamental principles, lemma selection, microstructural treatment, variant forms, pronunciation


 

 

1. INLEIDING

In 2017 sal die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (hierna afgekort as AWS) 'n volle eeu oud wees, daarom dink ons dat dit gepas is om 'n (her)waardering van die AWS aan te bied. In hierdie artikel - die eerste van twee - word 'n historiese oorsig oor die AWS met besondere verwysing na die woordelysgedeelte en die funksie(s) daarvan aangebied. 'n Evaluasie van die spelreëls val dus buite die bestek van die artikel.

In Deel 2 van die uitgebreide artikel sal die woordelys as inligtingsbron - en spesifiek die aanlyn weergawe van die woordelys - onder die loep geneem word. Die twee artikels moet saam gelees word vir 'n geheelindruk.

 

2. DOELSTELLING

In hierdie eerste van twee artikels argumenteer ons dat daar bepaalde probleme is met die woordelysgedeeltes van die onderskeie AWS'e - probleme wat ʼn lang historiese aanloop het en wat oor die jare wel ten dele opgelos is. Die eerste artikel wil die problematiese aspekte aantoon en die huidige aard van die woordelys ontleed as voorbereiding vir die tweede deel, waar die klem val op die funksionele leksikografie met die gebruiker in fokus. Ons maak hoofsaaklik gebruik van inligting wat in die tien uitgawes tot en met die 2009-uitgawe van die AWS te kry is, maar verwys waar nodig na sekondêre bronne.

Ons begin deur in Deel 1 die grondbeginsels van die Afrikaanse spelreëls kortliks te belig en gee vervolgens ʼn oorsig oor die aard en doel van die woordelys deur die historiese ontwikkeling van die AWS te volg. Ons eindig deur die woordelys soos wat hy tans daar uitsien kortliks te karakteriseer. Ons is bewus daarvan dat daar moontlik 'n splinternuwe aanpak te siene mag wees in die 2017-uitgawe van die AWS.

In Deel 2 van die uitgebreide artikel word die woordelys as inligtingsbron - en spesifiek die aanlyn weergawe van die woordelys - onder die loep geneem deur veral die gebruiker en sy of haar inligtingsbehoeftes in ag te neem.

Die twee artikels moet saam gelees word vir 'n geheelindruk.

 

3. DIE DOEL EN AARD VAN DIE WOORDELYS 1917-20091

3.1 Inleidende opmerkings

Van 1917 tot 2009 verskyn daar tien uitgawes2 van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Die eerste spelreëls sien reeds die lig in 1915 nadat die sitting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns dit op 18 September van daardie jaar goedgekeur het (AWS1: iv, Eksteen 1985:170). By dié sitting besluit die Akademie tewens dat 'n woordelys so spoedig moontlik opgestel moet word.

In die Voorwoord tot elkeen van die tien uitgawes (van 1917 tot 2009) word daar telkens verwys na die insluiting van 'n woordelys en die redes hiervoor word ook gegee. Deur die loop van 92 jaar is daar ʼn aantal kernkwessies wat dieselfde gebly het. Op grond van die Voorwoord by elk van die tien uitgawes (en vanaf 1991 ook die gebruiksleidings- en toeligtings-gedeeltes), kan ʼn paar redes vir die noodsaak van 'n woordelys en die kriteria ten grondslag aan die opname van spesifieke woorde in so 'n lys geïdentifiseer word.

Die fokus van hierdie artikel is die woordelysgedeelte van die AWS, maar die kernwerksaamheid van die AWS is die Afrikaanse spelling en die insluiting van 'n woordelys ter aanvulling en illustrasie van die spelreëls staan in diens van hierdie funksie.

Die opstel van ʼn woordelys klink na 'n eenvoudige opgaaf, maar die samestelling van so 'n lys was nog altyd 'n lastige een (vergelyk reeds die Voorwoord by AWS1) en deur die jare was taalgebruikers dan ook taamlik krities oor die opname (en skrapping) al dan nie van sekere woorde (vergelyk hier ook afdeling 4.5.2 in Odendaal 2012). Die samestellers het kennelik met elke uitgawe van die AWS lank besin oor die keuse van die woorde wat ingesluit en sedert 1921 ook weggelaat sou word.

Aspekte wat die samestelling van die Woordelys vanaf 1917 ten nouste geraak het, was die vasstelling van 'n algemeen gebruiklike uitspraak; die bepaling van wat as "Standaardafrikaans" beskou kan of moet word; lemmaseleksie (wat saamhang met frekwensie) en lemmabewerking. Hierby kom ook die feit dat die samestellers sedert 1921 gewerk het met oorgeërfde lyste, wat telkens weer as die kernlys in opeenvolgende hersiene uitgawes gebruik is. Geen woordelys is dus nog ooit sedert 1917 van nuuts af saamgestel nie. Hierdie aspek van die werkwyse van die Taalkommissie is nie noodwendig problematies nie - hoogstens iets wat in gedagte gehou moet word by die beoordeling en waardering van die opeenvolgende woordelyste, met die jongste (ook elektronies beskikbare) woordelys as die nuutste verwysing.

Omdat daar in die volgende afdelings dikwels verwys gaan word na veral twee van die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling, staan ons eerstens baie kortliks by hierdie beginsels stil, al is die spelreëls as sodanig nie die onderwerp van ons ondersoek nie.

3.2 Grondbeginsels van die Afrikaanse spelling

Wesentlik verander die grondbeginsels nie sedert 1917 tot 1964 nie. Hulle word wel van tyd tot tyd aangepas wat betref formulering en die plek wat hulle (moontlik in volgorde van belangrikheid?) inneem, maar die strekking bly tog in hoofsaak dieselfde (AWS8:1). Op die geleidelike wegbeweeg van die spelling wat amptelik in Nederland erken word, word daar nie in hierdie artikel ingegaan nie. Die navolging van die Nederlandse spelling in bepaalde gevalle word later as deel van ons speltradisie beskou.

Ons haal uit drie AWS'e aan.

1917

In die eerste uitgawe is vyf algemene grondbeginsels geformuleer:

Om

1. so ver moontlik, elke klank deur 'n aparte letter voor te stel en geen onnodige letters te gebruik nie

2. dieselfde woord, voor- of agtervoegsel, so ver moontlik, altyd op dieselfde manier te skrywe

3. die geskiedenis net daar in ag te neem waar dit om praktiese redes noodsaaklik is

4. nie onnodig van die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling af te wyk nie

5. altyd die gebruiklikste uitspraak weer te gee, en dit as norm aan te neem.

1964

Die grondbeginsel dat daar nie afgewyk moet word van die Nederlandse spelling nie, is tot en met die 1953-uitgawe grootliks onveranderd gelaat. In die1964-uitgawe word die Nederlandse spelling egter nie meer as uitgangspunt geneem nie, maar word daar nog steeds rekening gehou met die spelling wat amptelik in Nederland erken word (Odendaal 2016:267).

Volgens AWS7wil die Afrikaanse spelling:

1. die algemeen gebruiklike uitspraak in beskaafde Afrikaans as grondslag aanvaar;

2. rekening hou met die spelling wat vandag amptelik in Nederland erken word;

3. sover moontlik die beginsel van gelykvormigheid, soos hieronder verduidelik, handhaaf.

In 1964 val die eerste en derde beginsel van 1917 dus weg en die vierde word anders geformuleer, maar dit adem steeds die gees van 1917.

1991

Die formulering wat betref die uitspraak asook dié van die tweede grondbeginsel van AWS7 verander in 1991:

1. Die spelling van Afrikaans in die AWS is gebaseer op die klankstelsel van Standaardafrikaans.

2. Vormlik verwante woorde word, sover moontlik, gelykvormig gespel.

3. Die huidige spelling en skryfwyse van woorde word in hoë mate bepaal deur die tradisie waarvolgens Standaardafrikaans gespel en geskryf word.

Die grondbeginsels word daarna, behalwe weer eens wat die rangskikking betref, (volgens belangrikheid?) onveranderd gelaat in die 2002- en 2009-uitgawe.

Soos ons hier onder sal aantoon, is uitspraak en tradisie (waarby onder andere die Nederlandse spelling veronderstel word) deurgaans twee belangrike kriteria vir die opname van woorde in die woordelys, maar die sigbare toepassing van die spelreëls is ook ʼn belangrike doel.

3.3 Die doel van die woordelys

3.3.1 Spellingprobleme

Woorde wat spellingprobleme bied (weens 'n hele spektrum van verskeie moontlike redes), word in die woordelyste opgeneem - 'n oorweging wat aansluit by die hooffunksie van die AWS, naamlik om spellingleiding te gee. Hierdie rede word in elke uitgawe pertinent genoem en hang veral saam met die grondbeginsels rakende die uitspraak en die nog waarneembare verband tussen sekere aspekte van die Afrikaanse en Nederlandse spelsisteme.

Oor die jare het die aard van die "spellingmoeilikheid" (AWS1:vi) waarmee taalgebruikers te kampe het, verander. 'n Omstrede aspek van die Afrikaanse spelling was nog altyd die feit dat die eerste kommissie besluit het om die Nederlandse spelling te volg. "Die beleid om so ná as moontlik aan Nederlands te bly, het van vroeg af tot verset gelei", skryf Steyn (2014:160) en Odendaal (2016) verwys na die "Nederlands-Afrikaanse stryd" wat gewoed het. Die verwysing na die Nederlandse spelling word vanaf 1991 uitgelaat en daar word bloot na 'n reeds sterk gevestigde tradisie waarvolgens Standaardafrikaans gespel en geskryf word, verwys. Hierdie tradisie hou onder andere rekening met sekere historiese Nederlandse spelwyses, soos ei naas y vir die [əi]-klank en f naas v vir die [f]-klank.

Ten spyte van ʼn tradisie wat in 2017 reeds stewig gevestig behoort te wees, bly verskeie spel- en skryfkwessies nog steeds 'n tameletjie vir opeenvolgende geslagte Afrikaanse taalgebruikers. Soos wat duidelik sal word in Deel 2, is spelprobleme steeds part en deel van die probleme waarmee Afrikaanssprekendes te kampe het en 'n woordelys wat hier baie volledig hulp en bystand bied, is in 2017 ewe nodig as gedurende die afgelope 100 jaar.

3.3.2 Uitspraak

In die Voorwoord van die 1917-AWS verduidelik T.H. le Roux, D.F. Malherbe en Johannes J. Smith (in 1917 staan hulle bekend as die "Woordelijs-Kommissie") dat die kwessie van 'n algemene uitspraak ʼn belangrike rede was vir die opname van ʼn woordelys ter aanvulling van die spelreëls. Die kommissie skryf uitvoerig oor die kwessie van die "mees algemene uitspraak" (AWS1:v en vi). Op grond van wat in die Voorwoord oor die woordelys gesê word, kan ʼn mens aflei dat die woordelys veral die vyfde grondbeginsel weerspieël: die Afrikaanse spelling wil naamlik die "algemeen gebruiklike uitspraak in beskaafde Afrikaans as grondslag aanvaar" (AWS1:ix).

Dat dit as sodanig makliker gesê is as gedaan, besef die eerste kommissie terdeë: "Wie 'n woordelijs saamstel van woorde wat nog in algemene gebruik is, en daarbij probeer om die mees algemene uitspraak weer te gee; m.a.w. wie 'n werk verrig waarbij die algemene publiek reg het om ook sij oordeel te laat hoor - so iemand neem 'n lastige taak op hom" (AWS1: v).

Sommer met die intrapslag plaas die eerste woordelyskommissie die idee van 'n "algemeen beskaafde uitspraak" in nugtere perspektief: "Laat ons ook nie vergeet dat daar eintlik nie so iets is als absolute beskaafdheid van uitspraak nie: wat gewoon is, is beskaaf; wat nie gewoon is nie, is onbeskaaf" (AWS1:v).

Sonder om die 1917-Woordelys in diepte te ontleed, is daar wel ʼn paar vrae oor hoe die "gebruiklikste uitspraak" in 1917 weergegee word, as ʼn mens na skryfwyses soos vrouw, leeuw, jouw, uw, nuwt, nuws, mogelijk, owerlewering, owerigens, theologie, thesis, thuis, soeloe (vir "Zoeloe" [skrywers]) en troubadour kyk (vergelyk ook Eksteen 1985:172).

Omdat klanke soos die w hierbo en die h naas die t nie uitgespreek word in Afrikaans nie, is dit nie duidelik hoe die spelling die gebruiklike uitspraak reflekteer nie. Op grond van die algemeen gebruiklike Afrikaanse uitspraak kan hierdie letters dus as onnodig beskou word. Die kombinasie ou (soos in troubadour) word nie in Afrikaans as [u] uitgespreek nie. Die spelling in die aangehaalde voorbeelde gee dus nie die uitspraak getrou weer nie. Die spelling van dié woorde verander reeds in 1921 en 'n vreemde woord soos troebadoer word nou gespel met die letters wat [u] voorstel in Afrikaans, naamlik oe. Die 1921-spelling volg dus veral die eerste en vyfde grondbeginsel van die 1917-uitgawe meer getrou na en probeer veral die uitspraak getrou weergee. Wat die w betref, lees ons byvoorbeeld op bladsy xi van die 1921-uitgawe: "W verdwyn in die Afrikaanse spelling orals waar dit nie gehoor word nie".

Die poging om grondbeginsels 1, 4 en 5, naamlik die vermyding van onnodige letters en die weergee van die gebruiklike uitspraak aan die een kant en die eis dat daar so weinig moontlik van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling afgewyk sal word aan die ander kant met mekaar te versoen, lei tot duidelike probleme in die woordelys van die eerste AWS.

Die algemeenste (dit wil sê die gebruiklikste) uitspraak word deur al die jare as riglyn aanvaar. Op grond hiervan verduidelik die Taalkommissie in 1964 dat spelvorme soos baiing, hiekel, iesel en loep byvoorbeeld uit die Woordelys "geweer" is omdat hulle 'n uitspraak verteenwoordig wat nie algemeen gebruiklik is nie (AWS7:1). In dieselfde AWS word spelvorme soos agint, sperskies en tarmtyn ook nog op grond van die vereiste van "beskaafde Afrikaans" afgekeur (AWS71). Sedert 1991 word 'n ander term verkies, naamlik "Standaardafrikaans" en 'n sekere uitspraaknorm word steeds voor oë gehou.

Die vraag bly hoe lede van die kommissie hierdie algemene gebruiklikheid vasgestel het en nog steeds vasstel, gesien in die lig van die gebrek aan 'n spraakkorpus. Die vermoede is dat hulle, as noukeurige waarnemers van die taal, op sowel hulle eie intuïsie as hulle goeie waarnemingsvermoë staatmaak. Alhoewel die besluitnemingsproses nie duidelik is nie,3 vermoed ʼn mens wel dat onderhandelde besluite ná ʼn goeddeurdagte proses telkens geneem is en word. Ter voorbereiding van die 1964-uitgawe was daar byvoorbeeld 15 lede van die kommissie wat moes saamstem oor die opname of nie van vreemde woorde, om maar een voorbeeld te noem. Gebruikers van die opeenvolgende AWS'e kon en kan steeds sekerlik ook hulle stemme laat hoor rakende hoe akkuraat die Taalkommissie telkens dié gebruiklikheid inskat.

In die afdeling waar die werkwyse by die saamstel van die 2009-woordelys verduidelik word (AWS1:xxiii), word ses maatstawwe gelys. Uitspraak word nie meer een van dié maatstawwe genoem nie. Hedendaagse geskrewe Standaardafrikaans is tans die rigsnoer.

Baie onsekerhede rakende die mees gebruiklike uitspraak word gedurende die afgelope 100 jaar uitgeklaar, sodat daar waarskynlik ʼn goeie weergawe van die fonetiek van een-en-twintigste-eeuse Standaardafrikaans in die Woordelys van die 2009-uitgawe gevind word. Ertappel is nog algemeen gebruiklik, so ook aalwee. In Standaardafrikaans sê die meeste sprekers nog more [mo:rə] of môre, skryf of skrywe, maar nie meer beginne of begint nie, kan 'n mens uit die woordelys aflei.

3.3.3 Wisselvorme

Die voorkoms van 'n aantal wisselvorme - vorme wat verskil wat uitspraak en spelling betref, maar wat dieselfde betekenis het - is pas aangetoon. Wisselvorme was van meet af aan 'n probleem wat in die woordelys opgelos moes word. Waaroor dit by wisselvorme gaan, is weer eens die beginsel dat die algemeen gebruiklike en ook beskaafde uitspraak weergegee moet word, maar dat dit dikwels "nie uit te maak is watter van twee en soms meer vorme as die gebruiklikste en tegelyk as beskaafde vorm erken moet word nie" (AWS7:1).

Taalgebruikers kan by wisselvorme kies watter spelling hulle wil volg, wat sekerlik nie 'n te groot probleem kan wees nie, maar deur die jare lewer die gebruikers van die AWS kritiek op die groot aantal wisselvorme en wil hulle meer sekerheid hieroor hê. In die Voorwoord tot die 1921-uitgawe noem die samestellers die besware van die publiek teen te veel dubbelvorme en te veel vryheid rakende vreemde vorme (AWS3:iii). Hier eggo hulle die opmerking in die 1917-Voorwoord: "Te veel vryheid kan nie gegee word; dit stig net verwarring" (AWS1:vi), maar "aan die ander kant mag ons nie ons taal in 'n dwangbuis forseer nie" (t.a.p.).

Eksteen (1985:189-197) dui verskeie problematiese aspekte rakende wisselvorme in die sewende AWS aan. Hy wys op die ineksakte manier waarop konsepte soos gebruiklikheid, regionale uitspraakverskille en chronolektiese wisselvorme gebruik word. Hy noem as voorbeeld van ʼn chronolektiese wisselvorm waar die slot-t (wat sistematies in Afrikaans verval het) behou is, agt x ag.

Die grootste probleem, volgens Eksteen (1985:194), is dat die alternatiewe uitspraakvorme nie altyd die toets van "gelyke gebruiklikheid" deurstaan nie. Hy gee 'n hele aantal voorbeelde, aangehaal uit Taljard (1984), wat die kwessie ondersoek het, en konkludeer voorlopig dat die kontinuum waarop wisselvorme van mekaar qua aard en gebruiklikheid verskil vanaf 'n wye verskeidenheid tot 'n merkbaar gelyke gebruik wissel. Hy sluit af deur te sê dat die kwessie noukeuriger en diepgaande ondersoek verdien.

Iets van hierdie noukeuriger en diepgaande ondersoek sien 'n mens in die 2009-uitgawe. Daar is 'n baie volledige en gedetailleerde uiteensetting in afdeling 17, "Wisseling en subkategorieë" (AWS10:160 e.v.) van onder andere wisselvorme maar ook ander soorte wisseling soos die gebruik al dan nie van ge- by voltooide deelwoorde. Ook verbindingsklanke en agtervoegsels kry aandag in hierdie afdeling. Vir die deeglike uitleg (en dus ook motivering) van spelwisseling verdien die 2009-uitgawe 'n definitiewe pluimpie.

Hoe groot weerstand teen wisselvorme onder die skrywende publiek inderdaad is, is moeilik om vas te stel. Of dit wel as 'n probleem deur die meerderheid ervaar word, is nie werklik seker nie. Met korpusondersoek kan voorkeurgebruike vasgestel word, maar of die minder gebruiklike vorme dan nie meer erken mag/moet word nie en nie meer in die woordelys opgeneem behoort te word nie, druis dalk weer in teen die taalgevoel van die meer individualistiese taalgebruiker wat 'n bepaalde voorkeur mag hê vir 'n vorm wat jare lank wel erken is in die woordelys.

Een voorbeeld waar (foutiewe) algemene gebruiklikheid ons insiens wel tot 'n bedenklike wisselvormopname in die woordelys gelei het, is dié van agterlosig. Op sy minste kon die grondbeginsel van tradisie (indien dan nie dié van semantiese en morfologiese korrektheid nie) hier die algemene gebruiklikheid getroef het.

3.3.3.1 s/z-wisseling by wisselvorme

In 'n baie klein steekproef wat net kyk na die s/z-wisseling as aanvangsklank by vreemde woorde, is die volgende tabel opgestel. Hieruit is voorbeelde van aanvanklike verafrikaansing op te merk (soeloe in 1917 staan uit) wat weer later laat vaar is. Opvallend is dat die voorkeur toenemend uitgaan na die s-spelling (byvoorbeeld in ʼn woord soos masurka). Interessant is dat die z-klank en nie die s-klank nie, by soem behou word, waarskynlik ter wille van sy klanknabootsende waarde. Die wisselvorme met z wat daar nog is, lyk nou redelik ingeburger. In die 2009-uitgawe word daar ook op bl. 183 die volgende leenwoorde uit Afrikatale ter illustrasie van die z-spelling gegee: kiza, kleza/klêza en woza.

Vir die volgende tabel het ons net na sekere uitgawes gekyk. Dit is die uitgawes van 1917, 1964 (die sewende uitgawe waaraan die grootste aantal Taalkommissielede deelgeneem het), 1991 en 2009 - die eerste uitgawe waar daar van korpusse gebruik gemaak is om die kennis van die Taalkommissielede aan te vul.

 

Tabel 1

 

'n Mens moet natuurlik in aanmerking neem dat nie alle Afrikaanse woorde (met of sonder 'n verafrikaanste spelling) in die verskillende opeenvolgende woordelyste opgeneem is nie.

Die afgelope 100 jaar is daar wel gepoog om die wisselvorme te verminder (vergelyk veral onder andere die volgende bladsye in Odendaal 2012: 337, 341, 344 en 375 asook Odendaal 2016:272) maar Odendaal (2012:345) wys ook op persmense se behoefte aan meer wisselvorme. Dit sal 'n interessante studie wees om die 2017-uitgawe se hantering van dié taaltameletjie te ondersoek. Die lastige vraag of wisselvorme verwarrend of juis akkommoderend is, is een wat waarskynlik nog lank bepeins kan word.

3.3.4 Normering en standaardisering

Die Akademie, as die oorsigliggaam wat die besluite van die Taalkommissie moet goedkeur, het onder andere ten doel om die Afrikaanse spelling te bereël, en binne dié opdrag word die Taalkommissie se rol gaandeweg uitgebrei om ook oor "breëre taalgebruiksaangeleenthede" (Eksteen 1985:174) uitsprake te lewer. Hieruit vloei voort dat 'n woordelys opgestel word "waarin daar onder meer konkreet aangedui word hoe bepaalde vorme gespel/geskryf moet word en waarin daar ook voorbeelde van moeilike en vreemde woorde opgeneem word" (Eksteen 1985:174). Vir gebruikers van die AWS is die Woordelys (ook) ʼn rigtingwyser vir wat as Standaardafrikaanse woorde beskou kan word.

Die normerende funksie van die AWS word die eerste keer pertinent genoem in die 1991-Voorwoord. Die samestellers van AWS8 noem byvoorbeeld dat opeenvolgende taalkommissies probeer het om die norme te erken waarvolgens taalgebruikers woorde en vorme as standaard beoordeel het (AWS8:2 [ons nadruk]). Ook die 2009-uitgawe verklaar dat die AWS veral gemoeid is met die standaardisering van die leksikon van Standaardafrikaans en dus sowel normatief as voorskriftelik is (AWS10:xxv). Woorde wat niestandaard bevind word, word derhalwe nie in die opeenvolgende woordelyste behou of opgeneem nie. In die afdeling waarin wisseling bespreek word, noem die 2009-Taalkommissie pertinent dat die Taalkommissie, as deel van die standaardiseringsproses van Afrikaans in die beginjare, nie net moes besluit hóé gespel moes word nie, maar ook wát gespel moet word (AWS10:160).

Hierdie rol van die Taalkommissie word oor die algemeen deur die breë publiek, leksikograwe, die koerant- en uitgewerswese, akademiese instellings en tydskrifte, en so meer, aanvaar. Die standaardiseringskrag van die AWS is nog nooit in twyfel getrek nie - as ʼn woord in die woordelys opgeneem is, is dit Standaardafrikaans. Die opstellers van die 2009-uitgawe ag dit dan ook nodig om dit duidelik te maak dat die voorbeelde van Omgangsafrikaans wat opgeneem is nie as Standaardafrikaans beskou moet word nie.

3.3.5 Vreemde woorde

Die kwessie van die spelling van vreemde woorde bly deurgaans problematies en 'n verskil van mening bestaan duidelik onder sowel die kommissielede as die publiek (vergelyk onder andere die Voorwoord in AWS4:iii). Vir die samestellers het die kwessie van die omvang en graad van verafrikaansing, soos gesien in die vreemde woorde, 'n "brandpunt van 'n spellingstryd" (AWS41:v) geword. In die Voorwoord van die 1931-uitgawe word daar vir die eerste keer stilgestaan by wat onder "vreemde woorde" verstaan moet word. Ook hier word "gebruiklikheid" as rigsnoer aanvaar om die graad van verafrikaansing te bepaal.

Oor die jare word daar telkemale in die Voorwoorde verduidelik dat vreemde woorde met 'n lae gebruiksfrekwensie geskrap word. In hulle plek kom toenemend tegniese en natuurwetenskaplike terme asook "streekspraakwoorde". Woorde wat as min of meer ingeburger in Afrikaans beskou kan word, word "woorde van vreemde herkoms" genoem (AWS7, paragraaf 5 van die Voorwoord).

Die 1964-uitgawe deel woorde van vreemde herkoms in drie klasse in. In die 1991-uitgawe word dieselfde drie klasse gevind en ons haal voorbeelde uit dié uitgawe aan:

- verafrikaanste woorde waar die gewone spelreëls geld (soos onder andere amoreus, krusifiks, boksendais, maroela, perestroika, tjek, sjampoe, sjiek, stres en zombie)

- vreemde woorde wat hulle vreemde spelvorm behou omdat hulle opvallend vreemd sou lyk met 'n verafrikaanste vorm (soos byvoorbeeld garage, avant-garde, worcestersous, cliché en ander)

- 'n tussenklas wat gedeeltelik volgens 'n vreemde en gedeeltelik volgens die gewone spelreëls geskryf word. Voorbeelde is Africana of Afrikana, chevron of sjevron, chronologies of kronologies, zero of sero (woorde wat dus wisselvorme het) asook woorde wat net een korrekte spelvorm het, soos giraf, kibboets, hidroulies en baie ander.

Alhoewel die spelling van woorde soos guillotine, guillotineer, croissant en crouton byvoorbeeld geen akkurate aanduiding gee van die manier waarop hulle deur Afrikaanssprekendes volgens die Afrikaanse klankstelsel uitgespreek word nie (vergelyk die eerste grondbeginsel), hou die Taalkommissie rekening met die feit dat 'n meer Afrikaanse spelling groot weerstand van die skrywende en lesende publiek wat reeds die vreemde spelwyse ken, sou kry. In AWS10(:xxvii) noem die Taalkommissie dan ook dat die grondbeginsels mekaar in 'n sekere sin aanvul, maar in ander opsigte strydig is met mekaar. Hierdie wisselwerking tussen die grondbeginsels word onder andere goed geïllustreer in die nie-rigiede hantering van vreemde woorde.

Benewens 'n nuwe oriëntasiedeel (afdeling 18, AWS10:174) wat verduidelik waarom daar aandag geskenk word aan woorde van vreemde herkoms, bly die drie klasse wat in 1964 onderskei is, dieselfde tot en met 2009.

Die opname al dan nie van vreemde woorde in die woordelys bly nietemin 'n ietwat lukrake saak. Ons moet met net 'n paar voorbeelde volstaan, maar wil daarop wys dat ook hierdie kwessie om deeglike historiese ondersoek vra. In 1964 word guttapertsja en gurjuneen opgeneem; in 1991, 2002 en 2009 oorleef slegs guttapertsja die valbyl. Ons kan slegs spekuleer oor die rede hiervoor.

3.3.6 Terme

Die prosedure rakende die opname van wetenskaplike en tegniese terme wissel deur die loop van die 92 jaar tot 2009. Vanaf 1917 word die terme stelselmatig meer, totdat die lys in 1991 weer verminder word omdat daar teen dié tyd voldoende tegniese woordeboeke bestaan (AWS8:2). Origens meld die Voorwoord van die tiende uitgawe niks rakende tegniese terme nie. Sommige terme word nog steeds opgeneem, maar gebruikers sal nie vir alle navrae rakende terminologiese kwessies antwoorde in hierdie naslaanbron vind nie - en dit is nie noodwendig iets wat alle gebruikers sal weet nie.

3.4 Die aard en omvang van die Woordelys

Dat die woordelys nie 'n woordeboek is nie, word in elke uitgawe van die AWS benadruk (kyk byvoorbeeld AWS10:186). Die primêre oogmerk van die woordelys is om spellingleiding te gee, en die woordelys moet in samehang met die spelreëls gebruik word. Vir dié doel word die voorbeelde wat ter illustrasie by reëls gebruik word, in die woordelys van die tiende uitgawe saam met ʼn verwysing na die toepaslike reël aangebied (soos verduidelik in die afdeling "Wenke vir gebruikers" (AWS10:xiii).

Oor die aard van die woordelys is daar wel verskillende opinies. Teenoor die samestellers van die AWS wat die woordelys tot nog toe nog nooit beskou het as 'n woordeboek nie, staan die oortuiging van Odendaal: "Die Afrikaanse woordelys en spelreëls kan as 'n woordeboek vir spesiale doeleindes beskou word, aangesien die bron 'n beperkte leksikale aanbod het, asook beperkte datakategorieë" (Odendaal 2016:260). Die woordelys verskil byvoorbeeld van ʼn vertalende of verklarende woordeboek wat betref die aantal lemmas (met ander woorde wat omvang en volledigheid betref) en die afwesigheid van ʼn konsekwente mikrostruktuur. Tog bied al die woordelyste vanaf 1917 wel in beperkte mate leksikografiese leiding en soos ander woordeboeke is hulle inligtingsbronne.

Reeds in 1917 gee die Woordelys morfologiese inligting, woordsoorte word in sommige gevalle aangedui, betekenisleiding word soms gegee en daar is ook hier en daar kollokasies - en so is dit ook tot en met die 2009-uitgawe. Aan die leksikografiese status van die Woordelys word in Deel 2 meer aandag gegee.

3.4.1 Omvang en volledigheid

Waarskynlik omdat Afrikaans se funksie as akademiese en skryftaal deur die loop van die 20ste eeu baie vinnig ontwikkel het, neem die omvang van die woordelys oor die jare toe: van 196 bladsye in 1917 tot 282 in 2009. (Die aantal bladsye kan nie as ʼn absolute aanduiding beskou word nie, omdat bladsy- en fontgroottes verskil.) Vanaf AWS8 is daar ook drie kolomme in plaas van twee. Eksteen (1985:179) verskaf wel die volgende syfers: 15,680 woorde in 1917 wat vermeerder tot 26,102 woorde in 1964. Odendaal (2012:417) noem dat die 1991-woordelys byna meer as die helfte meer lemmas as die vorige lys van 1964 het en die aanlyn weergawe van die woordelys, wat dieselfde is as dié van AWS10, bevat tans 33,049 lemmas.

Die samestellers van die 1917-woordelys maak dit duidelik dat dit nie hier gaan om 'n volledige lys van alle Afrikaanse woorde nie (AWS1:vi). (Hierdie uitspraak sal in elke volgende uitgawe van die AWS herhaal word.) Hulle sê wel dat 'n volledige woordelys in vele opsigte baie goed sou wees en dat so 'n lys heel moontlik by 'n later druk kan gebeur. Dié hoop het egter, om goed begryplike redes, beskaam.

Tog maak die samestellers in 1917 wel aanspraak op 'n "redelike mate van volledigheid" wat die woordelys betref (AWS1:vi), maar hoe volledig die lys regtig is en waaraan volledigheid presies gemeet word, kan moeilik 'n honderd jaar later vasgestel word, veral as 'n mens in berekening bring dat daar talle Nederlandse woorde in hierdie eerste lys opgeneem is. Die kwessie van volledigheid sal dan ook telkens in opeenvolgende AWS'e te berde gebring word.

Ons kan wel met stelligheid beweer dat geen woordelys oor die jare werklik volledig genoeg sou wees nie. Dit is byvoorbeeld moontlik dat iemand wat deesdae ʼn woord in die elektroniese woordelys op die webwerf opsoek, dikwels teleurgesteld sal wees. In Deel 2 word verwys na loglêers wat ʼn aanduiding gee van sulke soektogte. Hoe gebruikers met soektogte in die papierwoordelyste vaar, is nie bekend nie.

3.4.2 Lemmaseleksie

Eksteen (1985:180) se opmerking oor die manier waarop die woordelyste saamgestel is, bly vandag nog waar:

Dit sou 'n insiggewende studie wees om vas te stel op watter grondslag die betrokke vorme in die woordelys telkens gekies is. By 'n oppervlakkige deurgaan van die materiaal kry mens die indruk dat daar nie op grond van sekere vaste uitgangspunte besluit is om sekere tipes problematiese gevalle op te neem nie, maar dat die opnames eerder ad hoc van aard is. () Dit blyk egter wenslik te wees om die woordelys aansienlik uit te brei en om sorg te dra dat soveel probleemtipes as moontlik in die woordelys opgeneem word, aangesien die praktyk leer dat die AWS-gebruiker hoofsaaklik die woordelys naslaan, eerder as om die betrokke spelreël na te slaan en toe te pas.

Dit sou die moeite loon om die besluitnemingsprosesse, redenering en uitgangspunte van opeenvolgende Taalkommissiesittings deeglik te ondersoek om onder andere te kan vasstel tot watter mate die aard van die woordelys (as belangrike inligtingsbron) verreken is. So ʼn omvangryke ondersoek val egter buite die bestek van hierdie artikel.

In AWS8 word die volgende drie oorwegings vir opname in die Woordelys gebruik (AWS8:5-6):

- Woorde wat spellingprobleme bied word opgeneem

- Woorde word ter wille van erkenning opgeneem en daar word op die algemene gebruik gesteun

- Gelede woorde soos samestellings en afleidings word opgeneem ter aanduiding van die resultate van woordvormingsprosesse

In die Werkwyse-afdeling (AWS10:xxiii) word 'n aantal maatstawwe genoem waaraan die woorde wat in die Woordelys opgeneem word, moet voldoen. Een van die maatstawwe is dat die woorde moontlik spellingprobleme moet inhou. ʼn Ander maatstaf is dat die erkenning van die woorde as Standaardafrikaans nodig is.

In opeenvolgende uitgawes word verouderde, gespesialiseerde (tegniese) lemmas geskrap en nuwe woorde opgeneem. Vir die 2009-uitgawe maak die Taalkommissie gebruik van drie elektroniese korpusse en programmatuur om 'n wetenskaplike grondslag te vestig vir die keuse van lemmas. Dit verteenwoordig vir die eerste keer 'n skuif weg van die intuïsie van die Taalkommissielede. Soos ons sal aantoon in Deel 2, is lemmaseleksie egter nog steeds 'n groot probleem - dermate dat die samestellers hulle werkwyse dalk ernstig sal moet hersien.

3.4.3 Leksikografiese inligting

Die 1991-uitgawe verteenwoordig duidelik 'n meer moderne benadering wat gebruiksleiding betref. Vir die eerste keer is daar ook 'n toeligtingsafdeling oor die doel en aard van die woordelys. Hierdie agtste uitgawe verteenwoordig ʼn nuwe en ander blik op die taak van die Taalkommissie, soos wat Odendaal (2012:409 e.v.) tereg aantoon.

Alhoewel die woordelyste sedert 1917 wel in beperkte mate ekstra inligting by sekere lemmas verskaf, is daar pas vanaf 1991 gebruiksleiding wat die mikrostruktuur van die woordelys betref in die afdelings "Inligtingtipes" (vergelyk byvoorbeeld AWS8:7-8 en AWS10:xix-xv). Die volgende tipes inligting word aangebied:

- Morfologies (meervoude, verledetydsvorme, verbuiging van adjektiewe)

- Woordsoorte word soms aangedui of soms word die woordsoort implisiet by wyse van illustrasie duidelik gemaak: skaam (ek - my)

- Betekenisleiding: wei ("vreet") en wy ("plegtig in diens stel"), Shoa of Sjoa ("Jodeverdelging onder die Nazibewind")

- Kollokasies of voorbeeldfrases: swartman (die geskiedenis van die - in Afrika; swart man ('n - - van 1,78 m lank); verbode (vrug/geskrifte)

In 2009 word geloofs- en kultuurverwante woorde uit die Moesliemgemeenskap ingesluit en toegelig met kort verklarings in kursiewe skrif (AWS10ix). Voorbeelde is:

sjeg (Islamities) ("soort imaam")

tartiep (Islamities) ("ortodoks gelowig")

tasbie (Islamities) ("gebedstring")

trammakasie ("dankie")

'n Baie oppervlakkige steekproef toon aan dat dit voorkom asof inligtingtipes nie sistematies aangebied word nie - dit is nie duidelik op watter gronde daar byvoorbeeld besluit is om by ogief ("soort boog") en ojief ("soort lyswerk") betekenisinligting te verskaf, maar nie by lemmas soos imbawoela en rampatjaan nie. Ook hierdie aspek verg meer diepgaande ondersoek as waarvoor hierdie artikel ruimte laat.

 

4. SAMEVATTING

Op grond van die voorafgaande uiteensetting kan ons die volgende sê oor die woordelys: Dit is 'n eiesoortige lys wat, ten spyte van duidelike groot sorg en nadenke, tog soms op 'n ietwat onduidelike manier saamgestel is die afgelope honderd jaar. Hoe daar besluit is op die aantal lemmas wat opgeneem sal word en op grond waarvan hulle opgeneem (of weggelaat) is, is veral nie duidelik nie, alhoewel daar deur die jare wel riglyne en maatstawwe was. Ook die mikrostrukturele inligting wat slegs by sommige lemmas gegee word, kan dalk met groter sorg bedink word. Daar kan aanvaar word dat die onderskeie taalkommissies wat hieroor besluit het, kundiges is, maar terselfdertyd ook dat hulle oordeel, saam met die veranderende aard van Afrikaans, nie dieselfde gebly het die afgelope 100 jaar nie. Tog blyk 'n nugtere en oorwoë, en ook begryplik normatiewe aanpak, uit die 10 Voorwoorde en die toenemend langer wordende toeligtingsgedeeltes. Hiervoor moet 'n mens die hoogste waardering uitspreek.

Dat die woordelys 'n baie belangrike plek inneem in elke AWS kan ook aangeneem word, maar op die oomblik moet gebruikers se verwagtings by die raadpleging van die Woordelys as inligtingsbron oor ortografiese kwessies realisties wees:

- Die lys is kort en bevat nie naastenby soveel Standaardafrikaanse woorde soos standaard verklarende en vertalende woordeboeke nie.

- Die lys dien as belangrike illustrasie en toepassing van die spelreëls en is as sodanig ʼn waardevolle inligtingsbron.

- Niestandaardvorme sal nie gevind word nie. Ons is nie seker of alle gebruikers van hierdie beperking bewus is nie (vergelyk Deel 2).

- Alle woorde in die Woordelys is reg gespel en voorbeelde van Standaardafrikaans.

- Soms laat die woordelys 'n mate van vryheid toe maar dit is oorwegend voorskriftelik en gehoorsaam baie duidelike spelriglyne.

- Die 2009-woordelys is baie meer gebruikersvriendelik as sy voorgangers.

- Die papierweergawes van die woordelys is statiese dokumente. Hiermee word bedoel dat hulle nie gereeld bygewerk word nie (met gemiddelde tussenposes van 9 jaar die afgelope 100 jaar) sodat gebruikers hulle moet wend na ander inligtingsbronne. Woorde kom op ʼn baie gereelde grondslag die taal binne en geen woordelys kan hiermee tred hou nie.

- Gebruikers weet nie noodwendig van alle veranderinge wat in opeenvolgende uitgawes aangebring is nie. Wie nog met 'n 1991-uitgawe sit, byvoorbeeld, kan dalk met verontwaardiging en selfs ontnugtering reageer op gewysigde spelwyses (veral as hulle voorheen oor die vingers getik is oor iets wat nou volkome aanvaarbaar is, byvoorbeeld).

Tot dusver is sekere eienskappe van die Woordelys soos op te merk is in die papieruitgawes van die AWS vanaf 1917 tot 2009 ontleed. In die tweede artikel wil ons in die lig van die snelle ontwikkeling van die teoretiese leksikografie en die toenemende behoefte by (veral jonger?) gebruikers om so gou moontlik, met twee of drie klikke van 'n muis, by gesoekte inligting uit te kom, voorstelle aan die hand doen vir 'n beter aanpak. Ons fokus spesifiek op die elektroniese weergawe van die woordelys, soos dit by www.woordelys.co.za te vinde is.

 

DANKWOORD

Dr. Leti Kleyn en haar span by die Merensky-Biblioteek, Universiteit van Pretoria, het die AWS'e wat in die Merensky-versameling is, gedigitiseer. Ons het met dankbaarheid gebruik gemaak van hierdie gedigitiseerde tekste, waartoe ons met ʼn paar klikke van die muis toegang kon kry.

 

BIBLIOGRAFIE

Uitgawes van die AWS vanaf 2017 tot 2009

AWS1: Le Roux, T.H., Malherbe, D.F. & Smith, J.J., in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1917. Afrikaanse woordelijs en spelreëls. 1e uitgawe. Bloemfontein: Het Volksblad-Drukkerij.         [ Links ]

AWS2: Le Roux, T.H., Malherbe, D.F. & Smith, J.J., in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1918. Afrikaanse woordelijs en spelreëls. 2e uitgawe. Bloemfontein: De Nationale Pers.         [ Links ]

AWS3: Bosman, D.B., Le Roux, T.H., Malherbe, D.F. & Smith, J.J., in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1921. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 3e uitgawe. Bloemfontein: Die Nasionale Pers.         [ Links ]

AWS4: Boshoff, S.P.E., Bosman, D.B., Le Roux, T.H., & Malherbe, D.F., in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1931. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 4e uitgawe. Bloemfontein, Kaapstad & Stellenbosch: Nasionale Pers.         [ Links ]

AWS5: Boshoff, S.P.E., Bosman, D.B., Hiemstra, L.W., Le Roux, T.H., & Malherbe, D.F., in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1937. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 5e uitgawe. Bloemfontein, Kaapstad & Pretoria: Nasionale Pers.         [ Links ]

AWS6: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1953. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 6e uitgawe. Kaapstad, Bloemfontein & Johannesburg: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

AWS7: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1964. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 7e uitgawe. Kaapstad & Johannesburg: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

AWS8: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1991. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 8e uitgawe. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

AWS9: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2002. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 9e uitgawe. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

AWS10: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2009. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 10e uitgawe. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Ander bronne

Eksteen, L.C. 1985. Die rol van die Akademie in die standaardisering van die Afrikaanse spelling. SPIL plus, 10:169-200.         [ Links ]

Odendaal, B.G. 2012. Die herstandaardisering van Afrikaans: 'n Praktiese benadering met die AWS as gevallestudie. Ongepubliseerde proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Odendaal, G. 2016. Die rol van die US se Departement Afrikaans en Nederlands in die ontwikkeling van die Afrikaanse leksikografie: Die Nederlands-Afrikaans-stryd gedurende die aanvangsjare. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1):257-276.         [ Links ]

Steyn, J.C. 2014. 'Ons gaan 'n taal maak'. Afrikaans in die Patriotjare. Pretoria: Kraal Uitgewers.         [ Links ]

 

 

 

NERINA BOSMAN is medeprofessor in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Sy doseer voor- en nagraadse kursusse in Afrikaanse Taalkunde en nagraadse kursusse in Toegepaste Taalstudies. Haar navorsingsgebiede is in die eerste plek die Afrikaanse leksikologie en die leksikale semantiek. Binne die teoretiese raamwerk van die konseptuele metafoorteorie is sy tans besig met 'n projek oor eet- en- drinkmetafore in Afrikaans en ander tale. Danksy 'n navorsingstoekenning deur die Nasionale Navorsingstigting, is daar in 2014 onder haar leiding begin met 'n groot projek oor aanspreekvorme in Afrikaans, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Namibië. In 2017 verskyn, onder haar en prof. Wannie Carstens se redakteurskap, die tweede uitgawe van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde.
NERINA BOSMAN is an Associate Professor in the Department of Afrikaans at the University of Pretoria. She teaches undergraduate and postgraduate courses in Afrikaans Linguistics and postgraduate courses in Applied Language Studies. Her research areas are in the first instance Afrikaans lexicology and lexical semantics. Within the theoretical framework of conceptual metaphor theory, she is currently working on a project on eat and drink metaphors in Afrikaans and other languages. Courtesy of a research grant by the National Research Foundation, a big project on forms of address in Afrikaans was launched under her leadership. This project will involve participants in the whole of South Africa as well as in Namibia. In 2017 the second edition of Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde, co-edited by prof. Wannie Carstens, was published.

 

 

ELSABÉ TALJARD is professor in die Departement Afrikatale, Universiteit van Pretoria. Haar spesialistaal is Noord-Sotho en haar navorsingsareas is Noord-Sothotaalkunde, leksikografie, terminologie en menslike taaltegnologie. Haar navorsing is oorwegend korpusgebaseerd. Sy dien op die bestuur van AFRILEX (Tesourier), is lid van die Suid-Afrikaanse been van die ISO/TC37-komitee en dien ook op die kundigheidspaneel van mensliketaaltegnologie van die Departement van Kuns en Kultuur. Sy is die outeur of mede-outeur van 35 artikels in geakkrediteerde tydskrifte en lewer gereeld referate by nasionale en internasionale kongresse. Sy is mede-projekbestuurder van die Open Education Resource Term Bank, 'n multimiljoenrand projek, befonds deur die Departement van Hoër Onderwys vir die daarstel van 'n veeltalige, aanlyn termbank vir Suid-Afrikaanse studente. Sy is 'n NRF-gegradeerde navorser.
ELSABÉ TALJARD is professor in the Department of African Languages, University of Pretoria. Her language of specialization is Northern Sotho and her research interests are linguistics, lexicography, terminology and human language technology. Her research is mainly corpus based. She serves on the Board of AFRILEX (Treasurer), is a member of the South African version of the ISO/TC37 committee and also serves on the expert panel of human language technology of the Department of Arts and Culture. She has authored or co-authored 35 articles in accredited journals and regularly reads papers at national and international conferences. She is co-manager of the Open Education Resource Term Bank, a multi-million rand project funded by the Department of Higher Education for the creation of a multilingual, online term bank for South African students. She is an NRF-rated researcher.

 

 

DANIE PRINSLOO is professor in Afrikatale aan die Universiteit van Pretoria. Hy is 'n voormalige voorsitter van AFRILEX (African Association for Lexicography), Hoof van die Departement Afrikatale en voorsitter van die Skool vir Tale. Hy is nasionaal en internasionaal bekend vir sy baanbrekersnavorsing in korpusgebaseerde Afrikataal-leksikografie en is die outeur of mede-outeur van meer as 100 publikasies en 'n soortgelyke aantal kongresreferate oor die onderwerp. Die huidige fokus van sy navorsing is op die ontwikkeling van hulpmiddele vir elektroniese woordeboeke en die koppeling van elektroniese woordeboeke met verwerkte korpusdata. Hy is die ontvanger van verskeie toekennings as Uitnemende Akademiese Presteerder en as 'n Denkleier van die eeu van die Universiteit van Pretoria asook van 'n PanSAT-toekenning vir sy bydrae tot meertaligheid.
DANIE PRINSLOO is Professor of African Languages at the University of Pretoria. He is a former Chairperson of AFRILEX (African Association for Lexicography), Head of the Department of African Languages and Chair of the School of Languages. He is well known nationally and internationally for his groundbreaking research in corpus-based African language lexicography and is the author or co-author of more than 100 publications and an equal number of conference papers on this subject. The current focus of his research is on the development of support tools for electronic dictionaries and linking electronic dictionaries with processed corpus data. He received several awards as Exceptional Academic Performer, and as a Centenary Leading Mind from the University of Pretoria, as well as a PanSALB award for his contribution to multilingualism.
1 Vir 'n volledige oorsig oor al tien die AWS'e kan Odendaal (2012) geraadpleeg word.
2 Die 1918-uitgawe is nie
ʼn nuwe uitgawe nie, maar ʼn herdruk van die 1917-uitgawe (Odendaal 2012:322).
3 Vir hierdie artikel kon ons nie toegang tot notules van Taalkommissiesittings kry nie vanweë die bouwerk by die Akademiekantoor in Pretoria.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License