SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2-1Remuneration trends in the public sector during sustained inflation: an economic perspectiveThe use of body maps by educators in fulfilling their pastoral role author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.2-1 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a4 

ARTICLES

 

'n Kritiese waardering van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - AWS (2009)

 

A critical appraisal of the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - AWS (2009)

 

 

Anna Nel Otto

Departement Tale en Lettere, Nelson Mandela Universiteit, E-pos: anna.otto@nmmu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die AWS is 'n normatiewe naslaanwerk oor spelling, waarvan die doel is om gebruikers te help met teksproduksie en tekskorrigering. In hierdie artikel word die soekvraag van die potensiële gebruiker as uitgangspunt geneem om die AWS in terme van sy funksies te evalueer. Daar word eerstens gekyk na verskillende moontlike motiverings vir lemmaseleksie. Hoewel korpora nuttig kan wees, moet dit volgens Asmussen (2013:1081) met omsigtigheid geraadpleeg word. By e-woordeboeke kan log-lêer-analise data verskaf oor watter leksikale items deur gebruikers nageslaan word, hoewel dit nie kan bevestig of die gebruikers dit as suksesvolle konsultasie ervaar het nie (Nesi 2013:65). Navorsers soos Wiegand (2001:235), Helbig en Osswald (2013:1141), Barnhart (1967:161), Tarp (2013:463), Storrer (2013:1245) en Müller-Spitzer (2013:369) het die waarde van die soekvraag as belangrike element by die saamstel van naslaanwerke bevestig. Die AWS gee aandag aan 'n wye verskeidenheid tipiese spelprobleme. Die navorser ondersoek dan ook, aan die hand van 40 soekvrae, tipiese vrae wat gebruikers sou kon vra. Daar word bevind dat die AWS tans die meeste van hierdie vrae beantwoord, hetsy in die woordelys of in die spelreëlgedeelte, maar dat daar steeds onbeantwoorde vrae is, veral met betrekking tot kosterme.

Trefwoorde: AWS, naslaanwerk, gebruikersbehoeftes, normatiewe bron, lemmaseleksie, soekvraag, rou gebruikersvraag, gebruikersituasievraag, betekenisonderskeiding, log-lêer-analise


ABSTRACT

The AWS (Afrikaanse woordelys en spelreëls) is a normative source of information on spelling with the intention to assist the user with text production and text correction. The point of departure in this article is taking into account the potential user's point of view to evaluate the AWS in terms of its functions. Firstly, the different possible motivations for lemma selection is examined. Although corpora are useful, they must, according to Asmussen (2013:1081), be consulted with great circumspection.
With e-dictionaries logfile analysis can provide valuable data about which lexicographic items are looked up by users, although it cannot confirm that the user will experience it as a successful consultation (Nesi 2013:65). It appears as if researchers increasingly follow a mixed-method approach to compensate for the limitations of individual methods to determine lemma selection and the treatment thereof. Researchers like Wiegand (2001:235), Helbig and Osswald (2013:1141), Barnhart (1967:161), Tarp (2013:463), Storrer (2013:1245) and Müller-Spitzer 2013:369) have confirmed the value of the search question as one of the important elements related to the compilation of reference works, i.e. in the form of a use situation question where the user, as it were, poses a question to the work of reference, e.g. what is the plural of word x?
In a communicative metalexicography such as the theory of lexicographic communication (cf Beyer 2014) the concept of the user question is also a key component as the reference work consultation process is an act in which the user, as it were, poses a question to the reference work by consulting this type of resource. In the theory of lexicographic communication a distinction is made between a raw user question and a user situation question (Beyer 2014:56, 70-71). A raw user question is a user question as the user would have formulated it as a consultation stimulus, e.g: What is the part of speech of boek? or: Is boek a noun? A user situation question is an abstraction of one or more raw usage questions into an illocution in terms of Searle's (1969:31) expression of illocutions against the background of his principle of expressibility. The two raw user questions mentioned above can be reduced to the following user situation question: (The part of speech of boek is?). The concept of the user question can be used as empirical research tool in real or simulated user situations. A limitation of this study is that it was not investigated in a real situation, however, the current data types of the AWS were taken as point of departure to investigate possible user situation questions.
The present AWS already pays attention to a wide variety of typical spelling and punctuation problems, for example what the plural is of a certain noun and where capital letters, hyphens, diaeresis, etcetera must be used. For a full set of data types the index of the AWS can be consulted.
The article subsequently examines forty search questions that can be regarded as typical questions that a user could ask. The finding is that the AWS at present answers most of these questions, whether in the word list or via the rules, but that there are still unanswered questions, especially with regard to food terms. The compilers of the new AWS (to be released in 2017) should take note of these limitations in AWS (2009). Since meaning discrimination is essential in determining the spelling of certain lexical items, it is extremely important that contextual guidance is provided, e.g. aan een (two words if the meaning is "for one") but aaneen (one word if the meaning is continuously). The compilers of the forthcoming AWS should also take note of the fact that the spelling of learners and students have deteriorated to such an extent that for instance all words containing ei, ui and y are potentially problematic for these users.

Key concepts: AWS, reference work, users' needs, normative source, lemma selection, search question, raw user question, user situation question, meaning discrimination, log file analysis


 

 

INLEIDING

In hierdie artikel sal die AWS beoordeel word in terme van sy funksie as normatiewe naslaanwerk oor spelling. Die AWS word nie deur die Taalkommissie as woordeboek beskou nie, maar baie van die stellings wat in hierdie artikel oor woordeboeke gemaak word, byvoorbeeld oor die belang van die soekvrae van woordeboekgebruikers, kan op enige naslaanwerk van toepassing gemaak word, hoewel die spesifieke soekvrae natuurlik van naslaanwerk tot naslaanwerk sal verskil.

Wat van belang is by die raadpleeg van enige naslaanwerk, is dat gebruikers moet voel dat hulle soektogte suksesvol is deurdat hulle soekvrae/gebruikersvrae met die minimum moeite beantwoord word.

 

METODOLOGIE

In hierdie artikel sal kwalitatiewe navorsing gedoen word deur middel van 'n literatuurstudie waartydens die soekvraag van die gebruiker gemotiveer word as uitgangspunt by die beoordeling van die AWS (2009) nadat verskillende moontlikhede oor byvoorbeeld lemmaseleksie en data-aanduiders bespreek is. Veertig potensiële soekvrae sal ook gebruik word om die AWS (2009) te evalueer in terme van of antwoorde verkry word en indien nie in die woordelys nie, watter roete gevolg moet word om by antwoorde uit te kom.

'n Aanhanger van die funksieteorie, Tarp (2008:40), is van mening dat die behoeftes in die gemeenskap die inhoud van naslaanwerke moet bepaal en dat daar nie slegs gekyk moet word na of die soekvrae van werklike gebruikers in 'n spesifieke gebruiksituasie deur middel van 'n bestaande naslaanwerk beantwoord word nie. Tarp (2008:77) verskaf 'n tabel, waarin hy al die behoeftes wat volgens die funksieteorie benodig word vir die funksies begrip, produksie, proeflees en nasien, aandui. Dit geld spesifiek vir moedertaalsprekers. Ten opsigte van produksie, proeflees en nasien, dui hy wat spelling betref, die volgende behoeftes aan: ortografiese variante as lemmata, ortografiese foute as lemmata en spesifiek met betrekking tot produksie en proeflees, plaaslike taalbeleidbeperkings. Die mate waarin hierdie behoeftes in die AWS verreken sou kon word, sal nie in hierdie artikel bespreek word nie, hoewel byvoorbeeld foutiewe vorme, veral in die aanlyn weergawe, van hulp sou kon wees waar gebruikers by vreemde woorde nie kan raai met watter letter 'n bepaalde woord begin nie. Die gebruiker mag byvoorbeeld dink dat ceasar-slaai met die letter s begin. Daar sal in so 'n geval wel oral verwysings na die korrekte lemma moet wees en die aanlyn weergawe sou moontlik deur middel van kleur ook foutiewe vorme van korrekte vorme kan onderskei. Sodanige konvensie sal prominent aangedui moet word sodat gebruikers hiervan kennis moet neem voordat hulle die AWS gebruik.

Die behoeftes, soos aangedui deur Tarp (2008), impliseer onder andere ook dat daar gekyk moet word na die vaardighede van die verskillende gebruikersgroepe, aangesien die gebruikers sekere afleidings moet kan maak op grond van die spelreëls. In hierdie artikel word daar nie gefokus op die verstaanbaarheid van die spelreëls en die mate waarin bepaalde gebruikersgroepe vertroud is met die AWS nie, hoewel die belang hiervan nie ontken word nie.

Die fokus in hierdie artikel is gerig op of die gebruiker se soekvrae beantwoord kan word en hoe gebruikersvriendelik die data-aanbod is.

Tydens die beplanning van enige naslaanwerk behoort 'n gids saamgestel te word wat riglyne vir die opname en bewerking van leksikale items uitspel. Een van hierdie besluite behoort te handel oor 'n deskriptiewe, preskriptiewe of dalk selfs proskriptiewe benadering. Volgens die funksieteorie bepaal die funksie(s) van naslaanwerke die belangrikste benadering wat gevolg moet word (vergelyk Bergenholtz & Gouws 2010:38). In hierdie verband noem hulle dat waar teksproduksie die tersaaklike funksie is, daar gefokus behoort te word op preskriptiewe of proskriptiewe inskrywings ten einde onder andere voorsiening te maak vir innoverende taalgebruik, om die huidige bestaande variante te behou of om veranderinge aan te bring.

Ongeag van watter benadering oorwegend in 'n bepaalde naslaanwerk gevolg word, is daar altyd 'n element van gesag en taalpolitiek betrokke wanneer die normatiewe rol van taal ter sake is. Die ortografiese vorms van die lemmas in 'n woordeboek word in baie lande indirek gereguleer deur 'n amptelike liggaam wat die gesag het om te besluit hoe woorde gespel moet word (Tarp-Jensen 2013:39-40). In die geval van Afrikaans is dit natuurlik die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Hierdie liggaam gee, vanweë die normatiewe aard van die AWS, slegs riglyne oor Omgangsafrikaans en neem nie hierdie items in die alfabetiese lys op nie. Wat die Standaardafrikaanse items betref, kan gespekuleer word oor die rol van frekwensie binne korpusverband as faktor om te bepaal of 'n bepaalde leksikale item opgeneem behoort te word, al dan nie. Korpora as sodanig moet egter met groot omsigtigheid geraadpleeg word, soos Asmussen (2013:1081) aandui: "Occasionally, they may even give mistakable or self-contradictory answers to user questions." (my beklemtoning)

By E-woordeboeke kan log-lêer-analise waardevolle data verskaf oor watter leksikale items deur gebruikers nageslaan word. Tarp-Jensen (2013:43) dui aan dat studies wat in hierdie verband gedoen is, suggereer dat daar min korrelasie is tussen korpusfrekwensie en naslaanfrekwensie in die geval van woordeboeke.

Net soos ander vorms van waarneming, kan log-lêer-analise nie baie insig gee in die konteks en doel van woordeboekkonsultasie nie. Dit kan nie bevestig of die gebruiker dit as suksesvolle konsultasie ervaar het nie (Nesi 2013:65). Dit wil voorkom asof navorsers toenemend 'n gemengde metode-benadering volg om te vergoed vir die beperkinge van elke individuele metode en dit dra by tot die betroubaarheid van die bevindings (Nesi 2013:65).

Die moderne neiging is om een databasis te hê waaruit verskillende woordeboeke onttrek kan word (vergelyk onder andere Bergenholtz & Gouws 2010: 49). Woordeboeke moet aan inligtingsbehoeftes voldoen en versigtig gekose data verskaf. Dit is in ooreenstemming met Sternberg (1988:58) wat deur Nielsen (in Jackson 2013:361) aangehaal word, se algemene beginsels van kommunikasie: "The best way to inform your reader is to tell them what they are likely to want to know - no more and no less."

In hierdie verband sê Helbich en Osswald (2013:1137 - my beklemtoning) oor elektroniese databasisse:

"Some approaches regard it therefore as reasonable in this case to reduce the linguistic coverage of the system by imposing syntactic and lexical restrictions on the user questions [...]".

 

'N MOTIVERING VIR SOEKVRAE/GEBRUIKERSVRAE OM LEMMASELEKSIE EN AANDUIDERTIPES TE BEPAAL

Barnhart het reeds in 1967 op die belang van die gebruiker se soekvrae gewys:1

It is the function of a popular dictionary to answer the questions that the user of the dictionary asks, and dictionaries on the commercial market will be successful in proportion to the extent to which they answer these questions of the buyer. This is the basis on which the editor must determine the type of information to include. The editor's very first concern, therefore, must be to determine the probable buyer of a particular book. (Barnhart 1967:161)

Hoewel Barnhart se beskrywing van die funksie hier bo slegs op "populêre" (dit is algemene) en kommersiële woordeboeke afgestem is, verwoord dit die kern van enige gebruikersgerigte leksikografie.

Selfs Tarp (2013:463) skryf: "Dictionaries are basically an answer to specific types of need registered in society among specific types of users in specific situations." [my beklemtoning]

Hoe kan inligtingsbehoeftes anders waargeneem word as dat daar op die een of ander manier na gevra word?

In e-woordeboeke begin woordeboekgebruikers met 'n spesifieke soekvraag en konsulteer net daardie items van woordeboekartikels wat hierdie soekvraag op die beste manier beantwoord (Storrer 2013: 1245 - my beklemtoning).

Müller-Spitzer (2013: 369) dui ook verder aan dat gebruikers hul soekvraag begin beantwoord deur 'n soekitem in die soekboks in te tik ten einde die soekprosedure in die databasis aan die gang te sit.

Soekvrae as konsep in die teksteorie van Wiegand word onder andere soos volg verwoord: "They are then regarded as an ordered set of potential search targets for a number of search questions regarding a fixed topic" (Wiegand, Beer & Gouws 2013:63 - my beklemtoning). Wiegand (2013:193) dui verder aan dat die soekvrae beantwoord kan word deur na die woordvorm te kyk, of deur die kommentaar oor die woordvorm te bestudeer.

Gebruikersvrae in 'n kommunikatiewe metaleksikografie

In 'n kommunikatiewe metaleksikografie soos die teorie van leksikografiese kommunikasie (TLK - vgl. Beyer 2014) vorm die konsep van die gebruikersvraag ook 'n kernkomponent, aangesien die woordeboekgebruiksproses 'n kommunikatiewe handeling is waartydens die gebruiker as't ware 'n vraag aan die woordeboek vra deur die woordeboek te raadpleeg. In die TLK word tussen sogenaamde rou gebruikersvrae en gebruikersituasievrae onderskei (Beyer 2014:56, 70-71). 'n Rou gebruikersvraag is 'n gebruikersvraag soos wat 'n gebruiker dit sou formuleer as naslaanstimulus, byvoorbeeld:

(1a) Wat is die woordsoort van boek?

(1b) Is boek 'n selfstandige naamwoord?

'n Gebruikersituasievraag is 'n abstraksie van een of meer rou gebruikersvrae tot 'n illokusie in terme van Searle (1969:31) se uitdrukking van illokusies, teen die agtergrond van sy beginsel van uitdrukbaarheid. So kan die twee rou gebruikersvrae in (1a) en (1b) tot die volgende gebruikersituasievraag afgelei word:

(2) ?(Die woordsoort van boek is ...)

Die konsep van die gebruikersvraag kan by uitstek as empiriese navorsingsmiddel benut word in werklike of gesimuleerde gebruikersituasies. Gebruikers kan gevra word om die vrae wat by hulle opkom tydens die tersaaklike gebruikersaktiwiteit hardop of op skrif te stel. Met 'n goed gedefinieerde potensiële gebruiker en potensiële gebruikersituasie kan die navorser ook potensiële gebruikersvrae deur logiese afleiding identifiseer of as deel van 'n gevallestudie opteken.

Die waarde van die illokusie-formulering van gebruikersituasievrae is dat die waarskynlike toegangselement tot die antwoord op die gebruikersvraag sowel as die aard van die antwoord bepaalde sintaktiese posisies inneem. As die proposisionele funksie p in ?(p) in navolging van Searle (1969:31) as 'n (elliptiese) stelsin geformuleer word, bevat die onderwerpsnaamwoordstuk (O-NS) die twee komponente wat tot die antwoord op die vraag lei in 'n bepaalde struktuur: (1) Die kernnaamwoord (N) impliseer die aard van die gesogte inligting en by uitbreiding die omvang van die versameling moontlike mikrostruktuurelemente wat die leksikografiese boodskap met die antwoord op die gebruikersvraag sal bevat; (2) die nabepaling bevat die waarskynlikste spesifieke behandelingseenheid wat die gebruiker sal opsoek om die gebruikersvraag te beantwoord, of dit kan daarvan afgelei word.

Skryf mens Plockwurst of Blockwurst?
= ?(Die korrekte spelling tussen Plockwurst en Blockwurst is ...)

Wat beteken Parorexie?
= ?(Die betekenis van Parorexie is ...)
à NS = Die betekenis van Parorexie
Die kernnaamwoord gee die inligting wat gesoek word.
Die nabepaling bevat die waarskynlikste internettoegangstruktuurelement.

Wat is die teenoorgestelde van aanhoudend?
= ?(Die teenoorgestelde van aanhoudend is ...)

Wat is die Afrikaanse ekwivalent vir to be up a tree?
= ?(Die Afrikaanse ekwivalent vir to be up a tree is ...)

By watter lekseme in hedendaagse Afrikaans tree die suffiks -es op?
= ?(Die lekseme waarby die suffiks -es in hedendaagse Afrikaans optree, is ...)

Watter voorsetsel volg op verlief?
= ?(Die voorsetsel wat op verlief volg, is ...)

Vergelyk die weergawe van die bostaande formuleringsbeginsels en resultate in die volgende tabel:

 

 

Potensiële gebruikersvrae van AWS-gebruikers

Aangesien relevansie (vergelyk Bothma & Tarp 2012:86-106) uiters belangrik is by die beoordeling van enige naslaanbron en daar altyd deur uitgewers beperkings op die aantal toegelate bladsye geplaas word, behoort die soekvraagitems in die gedrukte weergawe beperk te word tot daardie aspekte wat die gebruiker kan help om beter te spel. 'n Mens kan nie reg spel as jy nie weet: waar om 'n woord op skrif af te breek nie, waar om 'n afkappingsteken te gebruik nie, wat die erkende afkorting is vir 'n bepaalde woord nie, wat die meervoudsvorme van selfstandige naamwoorde is en of wisselvorme by bepaalde woorde moontlik is nie, hoe om die akuutteken korrek te gebruik vir beklemtoning, of waar dit noodsaaklik is nie, waar die deelteken gebruik moet word nie, watter diftonge waar gebruik moet word nie, byvoorbeeld woorde met ui, y en ei, hoe getalle, syfers en simbole saam met naamwoorde gespel word nie, waar die gravisteken gebruik moet word, wanneer jy 'n hoofletter of kleinletter moet gebruik nie, waar kappies gebruik moet word nie, waar koppeltekens gebruik moet word nie, waar jy los en waar jy vas moet skryf nie, wat die korrekte verkleiningsvorme is nie, waar jy een en waar meer as een vokaal gebruik moet word nie, hoe woorde van vreemde herkoms gespel word nie, wat die byvoeglike naamwoord en inwoner is van buitelandse plekname nie en hoe om Russiese en ander Slawiese name wat gebruikers in die oorspronklike taal of in Engels teëkom in Afrikaans weer te gee nie.

Die AWS gee aan al bogenoemde aspekte aandag en daar kan sekerlik nie verwag word dat aandag aan elke enkele woord, wat potensieel spelprobleme kan oplewer, gegee word nie. Deur foute-analise kan 'n mens wel vasstel watter woorde meestal verkeerd gespel word en dit is veral hierdie woorde wat opgeneem behoort te word.

In die AWS gaan dit hoofsaaklik oor spelling, maar spelling kan nie altyd in isolasie beskou word nie, want dit is dikwels gekoppel aan die betekenis van die betrokke woord of woordgroep, waar daar dikwels 'n vorm is wat vas geskryf word en een wat los geskryf word.

In die oorgrote meerderheid gevalle dui die AWS die verskillende spelvorme, naamlik los of vas, wat veroorsaak word deur verskillende betekenisse, volledig aan.

'n Paar tipiese soekvrae in hierdie verband is soos volg:

1) Hoe spel ek aaneen/ aan een in die betekenis "aanhoudend"?

Die gebruiker sal die antwoord in die AWS kry, waar aangedui word:

aan een (vir een)

aaneen (aanhoudend)

2) Hoe spel ek al daar/aldaar in die betekenis "daar"?

Die gebruiker sal die antwoord in die AWS kry, waar aangedui word:

al daar (reeds daar)

aldaar (daar)

3) Hoe spel ek een maal/eenmaal in die betekenis "een keer"?

Die gebruiker sal die antwoord in die AWS kry, waar aangedui word:

een maal (dit het net - - gebeur)

eenmaal (- was daar 'n koning)

Daar is nietemin ander gevalle waar die gebruiker nie die antwoorde sal kry nie, soos in die volgende voorbeelde:

4) Hoe spel ek aanstryk/aanstreik/aanstruik in die betekenis "nader/verder loop/stap"?

Aanstryk is nie in die AWS opgeneem nie.

5) Hoe spel ek aankruip/aankreip/aankryp in die betekenis "verder kruip"?

Aankruip is nie in die AWS opgeneem nie en dit is verder problematies omdat kruip ook nie opgeneem is nie.

Oor die algemeen maak studente dikwels foute ten opsigte van die onderskeid ui versus ei versus y in woorde wat hierdie letters bevat, gevolglik behoort alle woorde wat ui/ei/y bevat, vir opname oorweeg te word, dit wil sê woorde soos: aanbrei, aandagafleibaarheidsindroom, aandryf, aanprys, aansluit, aangryp, aanlêsteier, aanry, aanstruikel, aansuiwer, aanvly, aardrykskunde, aartslui, allersyds, alleruiterste, alruin, alsydig, ambagsgeheim, ambrosyn, ampsgeheim, angorakonyn, appelwyn, appelluis, arduin en armsein (met betrekking tot die letter a).

Soekvrae kan ook verband hou met die meervoudsvorme van woorde of woordgroepe.

6) In die meeste gevalle kan meervoudsvorme in die AWS opgespoor word by die

selfstandige naamwoorde wat wel opgeneem is, bv.

Wat is die meervoud van a?

Die antwoord word in die AWS aangedui as a's en die verkleiningsvorm a'tjie word ook aangedui.

7) Wat is die meervoud van acre?

Die antwoord word aangedui as acre of acres.

8) Wat is die meervoud van johannesbrood?

Die antwoord dui aan dat dit nie meervoud het nie.

In ander gevalle sal die gebruiker soms nie die antwoord in die woordelys kry nie, want die stam is nie opgeneem in die AWS nie, soos in die volgende gevalle:

9) Wat is die meervoud van aanbeveling?

Die woord is nie opgeneem in die AWS nie, gevolglik sal die gebruiker nie die antwoord in die woordelys kry nie. Die gebruiker moet gevolglik die Spelreëlgedeelte raadpleeg. Na aanleiding van Reël 13.3 kan die gebruiker dan sien dat woorde wat op ng eindig en voorafgegaan word deur 'n onbeklemtoonde vokaal, asook...'n meervoudsvorm met -s kry. Indien die gebruiker wel Opmerking (d) lees, sal hy/sy sien dat daar soms wisselvorme is, byvoorbeeld verbeteringe of verbeterings en dan waarskynlik raai dat aanbeveling se meervoude wisselvorme met onderskeidelik -s en -e kan wees, wat inderdaad die geval is.

10) Wat is die meervoud van alkoof?

Die woord is nie opgeneem in die AWS nie, gevolglik sal die gebruiker nie die antwoord in die woordelys kry nie. In hierdie geval moet die gebruiker eweneens die Spelreëlgedeelte raadpleeg en die relevante reël, naamlik Reël 13.1 op die woord toepas.

11) Wat is die meervoud van aas in die betekenis "voedsel om iets aan te lok, karkas"?

Die woord aas is wel opgeneem en die meervoud word aangedui as ase, maar die verskillende betekenisse, en die implikasies wat dit het vir die meervoudsvorme, word nie aangedui nie. 'n Beter inskrywing sou wees:

Aas, - (voedsel om iets aan te lok, karkas)

aas, ase (kaart, dobbelsteen met 'n aas daarop)

Gebruikers het dikwels 'n probleem met die gebruik van die deelteken en kan dus soekvrae soos die volgende vra:

12) Moet ek finansiële met 'n deelteken spel of nie?

Die antwoord verskyn in die AWS, naamlik dat dit wel met 'n deelteken gespel word.

13) Moet ek reünie met 'n deelteken spel of nie?

Die gebruiker sal die antwoord in die woordelys kry, tesame met al die reëls wat op die spelling van hierdie woord betrekking het en wat daartoe aanleiding gee dat dit ook met 'n koppelteken gespel kan word. Die onus rus dus byvoorbeeld op 'n onderwyser wat opstelle korrigeer om die reëlverwysings na te gaan sodat 'n leerder wat re-unie met 'n koppelteken spel, se spelling aanvaar word.

14) Moet ek harmonieer met 'n deelteken spel of nie?

Die gebruiker sal die antwoord in die AWS kry, naamlik sonder 'n deelteken.

Gebruikers het ook dikwels vrae oor die trappe van vergelyking van adjektiewe.

15) Wat is die trappe van vergelyking van arbitrêr?

Die gebruiker sal die antwoord kry in die AWS, naamlik -der, -ste.

16) Wat is die trappe van vergelyking van elasties?

Die gebruiker sal nie die antwoord onmiddellik by die lemma kry nie, want dit word nie in die AWS aangedui nie, hoewel daar wel gespesifiseer word dat ongemerkte/normale vorme met -er en -ste nie in die AWS aangedui word nie. Die gebruiker moet dus die flapteks lees om te weet dat dit die geval is.

17) Wat is die trappe van vergelyking van tevrede?

Die gebruiker sal die antwoord in die AWS kry, want dit word aangedui as -ner of meer -, -nste of mees -.

Die spelling van woordgroepe, veral leenwoorde, kan problematies wees. Die volgende soekvrae is dus relevant:

18) Hoe spel ek à la carte?

Die gebruiker sal nie die antwoord in die AWS kry nie.

19) Hoe spel ek al fresco?

Die gebruiker sal nie die antwoord in die AWS kry nie.

20) Hoe spel ek bona fides?

Die gebruiker sal wel die antwoord in die AWS kry.

Koppeltekens al dan nie kan gebruikers ook hoofbrekens gee. Die volgende soekvrae is dus relevant:

21) Spel ek gou-gou met of sonder 'n koppelteken?

Die gebruiker sal die antwoord in die woordelys kry asook by Reël 12.14 as een van die voorbeelde van reduplikasie.

22) Spel ek doemdoempie met of sonder 'n koppelteken?

Die gebruiker sal die antwoord in die woordelys kry, naamlik dat dit sonder 'n koppelteken gespel word.

23) Spel ek pietretiefbroodboom met of sonder 'n koppelteken?

Die gebruiker sal die antwoord in die AWS kry.

Kos is deesdae in die kollig en baie tydskrifte en koerante verskaf resepte. Veral joernaliste kan dus soekvrae soos die volgende hê:

24) Hoe spel ek bagel, bain-marie, baklava, basmatirys, béarnaisesous, beaujolais, béchamelsous, bief/bees stroganoff, bel paese-kaas, blini, blintz, bordelaisesous, bouchéee, bouillabaise-sous, brijani, bruschetta, barain-marie-geregte, brulée,cannelloni, cassata, ceasar-slaai, chantillyroom, chateaubriand, chelseabolletjie, chipolataworsie, chop suey, choux-deeg, chow mein, coq au vin, crudité, daiquiry, dhal, Dom/Don Pedro, duchesse-aartappels, duxelles, eiers foe jong/joeng, en croûte, escalope, falafel/felafel, fettuccini, fransering, frappé, gâteau, gazpacho, genuakoek, gewürztraminer, ghi, glogg, gnocchi, grappa, hoemoes, hollandaisesous, jaffalemoen, jakitori, jus, linguini, marengohoender, marron glacé, mascarponikaas, meunière, mousse, moussaka, nacho, nasi goreng, navarin, noisette, nouvelle cuisine, ouzo, pancetta, pasjka, patisserie, pawlowa, pecorinokaas, pepperoni, pesto, piña colada, zarzuela en zabaglione?

Die gebruiker sal nie antwoorde op hierdie vrae in die AWS (2009) kry nie. Aangesien die AWS se gedrukte weergawe ruimtebeperkings het, sal die Taalkommissie hier bepaalde keuses moet uitoefen. In die huidige AWS (2009) is suurlemoensponspoeding byvoorbeeld opgeneem, maar suurlemoenskuimtert nie. 'n Gebruikersvriendelike benadering sal wees om veral aandag te gee aan die woord wat potensieel makliker verkeerd gespel kan word, byvoorbeeld eerder suurlemoenskuimtert, waar die -ui- maklik verkeerdelik as -ei- of -y- gespel kan word. Indien suurlemoenskuimtert opgeneem word, sal ook erkenning gegee word aan die korrekte vertaling van lemon meringue, waarvan baie gebruikers waarskynlik nie die korrekte Afrikaanse vertaalekwivalent ken nie. Dit is waarskynlik ook 'n woord wat frekwenter gebruik word as suurlemoensponspoeding, aangesien die produk verkoop word en dus op spyskaarte behoort te verskyn.

25) Hoe spel ek croissant?

Die gebruiker sal die antwoord in die AWS kry, maar slegs indien hy/sy weet dat die woord met 'n c begin.

26) Hoe spel ek peperment?

Die gebruiker sal die antwoord in die AWS in die woordelys kry en verder ook kan kennis neem dat pipperment 'n wisselvorm is.

27) Hoe spel ek coulis in die betekenis "dun vrugte- of groentepuree, gebruik as 'n sous"?

(vergelyk HAT6:171)

Die gebruiker mag dalk die foutiewe spelvorm coulisse gebruik, aangesien dit die enigste vorm is wat in die AWS (sonder enige betekenistoeligting) verskyn en wat naastenby lyk soos 'n moontlike spelling. Betekenistoeligting is hier noodsaaklik want coulisse beteken "beweegbare syskerm op 'n verhoog/ens." (HAT6:171)

28) Is die inwoners van Australië Australianers of Australiërs? Die gebruiker sal die antwoord, naamlik Australiërs op p. 525 in die "Lys buitelandse geografiese name met afleidings" vind.

29) Wat is die korrekte pleknaamekwivalent vir die Engelse woord "Poland" - is dit Poland of Pole? Die korrekte antwoord is Pole en die antwoord is op p. 539. Foute-analise toon dat die verkeerde opsie soms gekies word.

30) Wat is die byvoeglike naamwoord en inwoner van Maputo? Die antwoord word indirek aangedui op p. 535 deur die simbool (O). Indien die gebruikers nie die oriëntasie op p. 523 gelees het nie, sal hulle nie weet wat die simbool beteken nie. Gebruikers moet dus bewus gemaak word van waar hulle data kan kry en hoe om dit te interpreteer.

31) Waar kan die woord vergroeiing oral afgebreek word in lettergrepe? Die gebruiker sal die antwoord op p. 3 kry by Reël 1.6. Daar is ook 'n voorbeeld na analogie waarvan die reël geïnterpreteer kan word, naamlik besproei-ing.

32) Waar kan die woord potpourri afbegreek word? Die gebruiker sal die antwoord kry op p 5.

33) Waar kan die woord mangel afgebreek word? Die gebruiker kan die antwoord kry by Reël 1.11.

34) Wat is die afkorting vir handskrif?

Die antwoord, naamlik hs. kan op bladsy 487 gekry word.

35) Wat is die afkorting vir Suid-Afrikaanse Amateur-Gimnastiekunie?

Die gebruiker sal nie die antwoord, naamlik SAAGU, in die AWS kry nie.

36) Moet Ma met 'n hoofletter gespel word in 'n sin soos "My ma kom môre kuier."

Die gebruiker sal die antwoord kry op bladsy 46 by die opmerking.

37) Wat is die voltooide deelwoord van aanbied en hoe spel mens dit?

Die gebruiker sal nie die antwoord in die woordelysgedeelte kry nie.

38) Wat is die voltooide deelwoord van aanwys en hoe spel mens dit?

Die gebruiker sal nie die antwoord in die woordelysgedeelte kry nie.

39) Wat is die voltooide deelwoord van kies en hoe spel mens dit?

Die gebruiker sal nie die antwoord in die woordelysgedeelte kry nie.

40) Moet die lidwoord die voor Eoseen gebruik word of nie?

Die gebruiker sal nie die antwoord in die AWS kry nie.

Indien die AWS, in enkele gevalle, konsekwenter leiding per kategorie bied, sal gebruikers se soekvrae beantwoord word en hulle nie potensieel verwar word nie. Daar word byvoorbeeld by bepaalde woorde aangedui dat die verpligtend is voor die betrokke woord, vergelyk die hantering van die hakietoeligting by Ooste/ooste, Noorde/noorde, Suide/suide, Weste/weste, maar hierdie hakietoeligting word nie verskaf by Nabye Ooste, Verre Noord-Transvaal, Verre Ooste, Ystyd of Ystydperk, Eoseen, Jura, Pleistoseen en Mesosoïkum nie.

 

BEPERKING VAN DIE NAVORSING

Hierdie artikel het nie aandag geskenk aan 'n vraelys of groeponderhoude met AWS-gebruikers tydens konsultasie nie.

 

GEVOLGTREKKING

Hoewel die meeste soekvrae van die gebruiker beantwoord sal word in AWS (2009), is daar tog 'n paar aspekte wat nog aandag moet geniet, byvoorbeeld kosterme. Daar kan verwag word dat die Taalkommissie aandag sal skenk aan die enkele aangetoonde leemtes wanneer die nuwe uitgawe saamgestel word.

 

BIBLIOGRAFIE

Afrikaanse woordelys en spelreëls. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2009. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Asmussen, J. 2013. Combined products: Dictionary and corpus. In Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds). Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/Boston: De Gruyter Mouton, pp. 1081-1090.         [ Links ]

Barnhart, C.L. 1967. Problems in Editing Commercial Monolingual Dictionaries. In Householder, F.W. & S. Saporta (eds). Problems in Lexicography. Second, revised edition. Bloomington: Indiana University, pp. 161-181.         [ Links ]

Bergenholtz, Henning & Rufus H Gouws. 2010. A Functional Approach to the Choice between Descriptive, Prescriptive and Proscriptive Lexicography. Lexikos, 20:26-51.         [ Links ]

Beyer, H.L. 2014. Explaining dysfunctional effects of lexicographical communication. Lexikos, 24:36-74.         [ Links ]

Bothma, Theo J.D. & Tarp, S. (eds). 2012. Lexicography and the Relevance Criterion. Lexikos, 22:86-108.         [ Links ]

Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/Boston: De Gruyter Mouton.         [ Links ]

HAT Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Sesde uitgawe. Luther, J., Pheiffer, F. & Gouws, Rufus H. 2015. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Helbich, H. & Osswald, R. 2013. Electronic dictionaries for question answering and natural language database access. In Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds). Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/Boston: De Gruyter Mouton, pp. 2013:1136-1149.         [ Links ]

Jackson, Howard (ed). The Bloomsbury Companion to Lexicography. London, New Delhi, New York, Sydney: Bloomsbury.         [ Links ]

Müller-Spitzer, C. 2013. Textual structures in electronic dictionaries compared with printed dictionaries: A short general survey. In Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds). Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/Boston: De Gruyter Mouton, pp. 367-381.         [ Links ]

Nesi, Hilary. 2013. Researching Users and Uses of Dictionaries. In Jackson, Howard (ed). The Bloomsbury Companion to Lexicography. London, New Delhi, New York, Sydney: Bloomsbury, pp. 62-74.         [ Links ]

Searle, J.R. 1969. Speech Acts. An Essay in the Philosophy of Language. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Storrer, A. 2013. Representing (computational) dictionaries in hypertextual form. In Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds). Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/Boston: De Gruyter Mouton, pp. 1244-1253.         [ Links ]

Tarp, S. 2008. Lexicography in the Borderland between Knowledge and Non-Knowledge. Tübingen: Max Niemeyer.         [ Links ]

Tarp, S. 2013. Lexicographic Functions. In Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds). Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/Boston: De Gruyter Mouton, pp.460-468.         [ Links ]

Tarp-Jensen, L. 2013. Researching Lexicographical Practice. In Jackson, H. (ed.). 2013. The Bloomsbury Companion to Lexicography. London, New Delhi, New York, Sydney: Bloomsbury, pp. 35-47.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 2001. Was eigentlich sind Wörterbuchfunktionen? Kritische Anmerkungen zur neueren und neuesten Wörterbuchforschung. Lexicographica, 17:217-248.         [ Links ]

Wiegand, H.E. 2013. Microstructures in printed dictionaries. In Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds). Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/Boston: De Gruyter Mouton, pp. 149-214.         [ Links ]

Wiegand, H.E., S. Beer & R.H. Gouws. 2013. Textual structures in printed dictionaries: An overview. In Gouws, R.H., Heid, U., Schweickard, W. & Wiegand, H.E. (eds). Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/Boston: De Gruyter Mouton, pp. 31-73.         [ Links ]

 

 

 

ANNA NEL (ANNÉL) OTTO doseer Afrikaanse taalkunde aan die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth. Sy spits haar veral toe op die sosiolinguistiek en leksikografie. In hierdie verband het sy onder andere 'n hoofstuk oor die sosiolinguistiek geskryf in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014 en 2017), met Wannie Carstens en Nerina Bosman as redakteurs. Sy het al haar grade aan die US verwerf en haar doktorale proefskrif handel oor die kriteria vir 'n Afrikaanse aanleerderwoordeboek. Sy skryf gereeld artikels oor 'n verskeidenheid leksikografiese onderwerpe, byvoorbeeld die hantering van kollokasies, vaste uitdrukkings, voegwoorde, antonieme, ensovoorts in woordeboeke. Sy dien op die redaksiekomitee van Lexikos en was voorheen 'n Taalkommissielid.
ANNA NEL (ANNÉL) OTTO lectures Afrikaans linguistics at the Nelson Mandela University in Port Elizabeth. She focuses especially on sociolinguistics and lexicography. In this regard she wrote, amongst others, a chapter on sociolinguistics in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014 and 2017), with Wannie Carstens and Nerina Bosman as editors. She received all her degrees at the US and her doctoral thesis deals with the criteria for an Afrikaans learner's dictionary. She regularly writes articles on a variety of lexicographical topics, for example the treatment of collocations, fixed expressions, conjunctions, antonyms, etcetera in dictionaries. She serves in the editorial committee of Lexikos and was previously a member of the Taalkommissie.
1 Die insig om die soekvraag as uitgangspunt te gebruik het ek te danke aan prof. Herman Beyer van UNAM en ek bedank hom ook graag vir al die literatuur oor die soekvraag, wat 'n reusebydrae gemaak het tot hierdie artikel. Enige foute wat begaan is, is natuurlik my eie.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License