SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2-1Innovative public sector education and training in a developing South Africa: the impact of and responses to globalisationWho are the good Samaritans? Characteristics of volunteers in South Africa author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.2-1 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n1a3 

ARTICLES

 

Ná honderd jaar: Die Afrikaans van die eerste taalkommissie

 

After a hundred years: The Afrikaans of the first Language Commission

 

 

Christo Van Rensburg

Navorsingsgenoot: Navorsingseenheid Tale en literatuur in die SA konteks ,Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. E-pos: christovanrensburg100@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel bekyk die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die manier waarop die eerste Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls van 1917 die Afrikaanse spelling bereël het, en die gevolge daarvan.
W.J. Viljoen het in 1903 die voorstanders van die VHS (Vereenvoudigde Hollandse Spelling) in Nederland en België besoek om by hulle leiding te kry vir 'n eenvoudiger Nederlandse spelling vir Suid-Afrika, wat nog steeds Nederlands sou wees. Hulle het ooreengekom dat Die Taalbond die vereenvoudigde spellingsisteem van die VHS in Suid-Afrika kan volg,
ʼn reëling wat in Desember 1904 op 'n kongres van die Taalbond aanvaar is, en wat van 1915 af sy neerslag in die vroeë uitgawes van die Woordelys en Spelreëls gevind het.
Met hierdie spellingbesluit is die Afrikaanse skryfpogings van die negentiende eeu verbygegaan, en desnieteenstaande latere verafrikaansings, kan die gevolge van die vernederlandse spelling van Afrikaans steeds in geskrewe Afrikaans waargeneem word.

Trefwoorde: Afrikaanse Woordelys en Spelreëls,dialekte, Khoi-Afrikaans, standaardisering, stigmatisering, Taalkommissie, verafrikaansing, vernederlandsing


ABSTRACT

After a hundred years the Afrikaans of the first Taalkommissie (Language Commission) of 1917 differs radically from the Afrikaans that is covered by the rules contained in the eleventh issue of the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (Afrikaans Word List and Spelling Rules) (AWS 11). These differences will in future probably become even greater. The Afrikaans that before 1917 had run its natural course towards becoming the written form, was passed over and a Dutchified Afrikaans was standardised. How did this happen?
Circumstances beyond the control of the Afrikaans linguistic community resulted in the standardisation of Afrikaans in 1917.
The change in government in Britain in 1905 gave rise to a series of reactions which in 1910 resulted in Unification in South Africa. In the new constitution of the time, English was no longer retained as the only official language but recognition was given to two languages: English and Dutch. Dutch, which then unexpectedly became one of the two official languages of the Union of South Africa, could be accommodated culturally in the Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (the South African Academy for Language, Literature and Art) (hereafter referred to as "the Academy"), which was founded in 1909. The language of the Academy was Dutch (in terms of the draft statute). At the founding meeting of the Academy it was proposed that Afrikaans be one of the languages of the Academy. This proposal was not accepted and Afrikaans was perforce included in article 2 of the founding charter with the explanation that it was included with Dutch.
The Academy inter alia strove to promote the teaching of Dutch ("'t onderwys van 't Holland") (article 3).
Afrikaans was not recognised in the Constitution of the Union or in the Statute of the Academy as an independent language, even though it was the language spoken in the largest area in South Africa during the nineteenth century, by more people than either Dutch or English. Various groupings of Afrikaans-speakers wrote Afrikaans in different ways: in the Bo-Kaap as a religious language (with an adapted Arabic and Malay orthography), in Genadendal, in the Paarl, where middle-class Farming Afrikaans was written - a variety that was customarily used during the nineteenth century and was significantly influenced by Khoi Afrikaans - at mission stations and by newspaper editors and entertainment entrepreneurs. How to standardise these various ways in which Afrikaans was written? This was still music of the future.
C.J. Langenhoven in 1914 convinced three of the four Provincial Councils to introduce Afrikaans on the first levels at primary schools, and he undertook to obtain the support of the Academy for this. The Academy had a stated educational responsibility in respect of Dutch. C.J. Langenhoven lay claim to this, but he did so on behalf of Afrikaans. The 1914 annual meeting of the Academy supported C.J. Langenhoven's plan with Afrikaans as language of education and appointed a commission to take care of the writing and spelling of Afrikaans.
The use by the pro-Dutch Zuid-AfrikaanscheTaalbond (South African Language Association) of the Simplified Dutch Spelling ("VHS") dominated language education (except for English) in South Africa from 1904.The pro-Afrikaans Afrikaanse Taalvereniging (Afrikaans Language Society) ("ATV") also to a large extent used the VHS spelling system.
The Academy's spelling commission was compromised by agreements that C.J. Langenhoven and his supporters had made with the Taalbond and the ATV before the 1909 Annual Meeting so as to obtain their cooperation in order to carry through his education plan, and they had to adhere to the current Dutch writing conventions during the compilation of AWS1, which agreement was protected in a Principle until 1992.
These spelling concessions by C.J. Langenhoven resulted in Dutchified written Afrikaans. Afrikaans-speakers continued to speak their different types of Afrikaans, which differed in many respects from the written Standard Afrikaans, and which were increasingly influenced by it. The language of Afrikaans dialects, particularly with a basis of Khoi and Malay, was quite different from Dutch. The Afrikaans of these varieties differed significantly from Standard Afrikaans and was kept out of the standard variety, inter alia on the basis that it was not "customary" or "civilised".
Language Commissions, from AWS 3, continued "Afrikaansifications" in the Word Lists, but the consequences of the 1914 Dutchification are still to be found in the spelling of Afrikaans.
And AWS 11, after a 100 years? For the first time, after a full century has elapsed, the Preface to AWS 11 confirms that the different varieties of Afrikaans form part of Standard Afrikaans and that the Language Commission encourages the development and use thereof, and that in the long run it may change and modify Standard Afrikaans.

Key words: Afrikaans word list and spelling rules, Afrikaansification, dialects, Dutchification, Khoi-Afrikaans, Language commission, standardising, stigmatizing


 

 

1. AANLOOP: 'N REGERINGSBESLUIT EN TWEE TAALRIMPELINGS DAARNA

1.1 Die besluit

In Desember 1905 het ʼn regeringsverandering in Brittanje plaasgevind. Die Liberale party het die regering by die Konserwatiewe Party oorgeneem. Die Britse kiesers wat die Konserwatiewe regering se bedenklike oordele oor oorlogsvoering tussen 1899 en 1902 in Suid-Afrika veroordeel het (vgl. Giliomee 2003:267; James 1998:319-323), het ʼn rol in die regeringsverandering gespeel. Die nuwe regering in Engeland (vgl. Steyn 2014:77) was meer genaakbaar teenoor die politici uit Suid-Afrika se Boeregeledere as wat dit die geval was met die vorige regering.

J.C. Smuts het gou munt geslaan uit die moontlikheid wat hom hier voorgedoen het. "No sooner had the Liberals won power", skryf Steyn (2015:46), "than he [Smuts] was on his way to London on behalf of Het Volk" (die politieke party waaraan hy behoort het). Hy het in Januarie 1906 die nuwe Eerste Minister, H. Campbell-Bannerman, in Downingstraat 10 ontmoet, en sy steun gevra vir ʼn plan van verantwoordelike selfregering vir die vorige Boererepublieke, waaroor politieke leiers in Suid-Afrika ook aan praat was (Kapp 2009:21). Die volgende dag het die Britse Premier ʼn voorstel daaromtrent aan sy kabinet voorgelê, en hulle het dit goedgekeur. Die implementering daarvan is in 1910 gevolg deur die vorming van die onafhanklike Unie van Suid-Afrika (vgl. Giliomee 2003:257).

 

2. TWEE TAALRIMPELINGS

Die gesprek tussen J.C. Smuts en H. Campbell-Bannerman in 1906, het gevolge op verskillende fronte gehad, en kon ook op die taalterrein in Suid-Afrika waargeneem word.

2.1 Die tale van die Unie van Suid-Afrika

Watter tale moes die tale van die Unie van Suid-Afrika wees, is ʼn vraag wat kort voor 1906 nie voorsien kon word nie. Taalyweraars vir onderskeidelik Afrikaans en Nederlands is taamlik onverhoeds betrap met die situasie wat opgeduik het toe Engels se posisie as die enigste ampstaal in die na-oorlogse Suid-Afrika statutêr beëindig is. Claassen (1977:121, 131) wys daarop dat die Nederlandse kamp beter georganiseer was as die voorstanders van Afrikaans. Die NederlandsgesindeTaalbond het die Transvaalse en Vrystaatse onderwysdepartemente in 1904 sover gekry om voorstelle te aanvaar om die VHS te gebruik, wat ook die geval was met die University of the Cape of Good Hope. Die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) was nie op hierdie vlak mededingend nie. (Vgl. Le Roux 1968a: 167 en Steyn 2014:92) oor die beperkings van die ATV.

Sou daardie taal wat naas Engels moes funksioneer, dalk Afrikaans kon wees, en nie Nederlands nie? (Vgl. 4 hierna. Dit was nie die geval nie, soos die Nederlandse vertaling (uit die oorspronklike Engels) van die gedeelte van die 1910-grondwet oor daardie taalbesluit lui:

De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiele talen van de Unie. Zij worden op een voet van gelijkheid behandeld en bezitten en genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten.

2.2 Die taal van die "Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns"

2.2.1 Net drie moontlikhede?

Die "Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns" (hierna die Akademie) was met sy stigting in 1909 (vgl. Kapp 2009:5-7) vir die pro-Nederlandsgesinde taalaktiviste ʼn geleentheid om die status van Nederlands in Suid-Afrika te konsolideer. Hulle het die Akademie gesien as ʼn liggaam om die skryfvorm en kultuurprestasies van Nederlands in Suid-Afrika te stimuleer en te organiseer.

Gesien die vreemdheid van Nederlands vir die deursnee Afrikaanssprekende, en die beperkte gebruik van Nederlands, kon die vraag ook hier gevra word: kon Afrikaans nie die Akademietaal gewees het nie?

Tydens ʼn byeenkoms op 5 Januarie 1909 in Kaapstad oor die beoogde totstandbrenging van die Akademie (Kapp 2009:28-29) is Afrikaans nie aangewys as die Akademietaal nie. J.B.M. Hertzog het ʼn voorstel gemaak dat die te stigte liggaam hom ten doel moet stel om die "Hollandse taal en letteren in Zuidafrika" te bevorder. Wat van "beide taalrichtingen... in Zuidafrika", het ʼn amendement van J.H. Hofmeyr gelui? Die amendement is nie aanvaar nie. Afrikaans is later bygesleep soos Ons Land op19 Januarie 1909 met voortydige binnekennis vermeld het dat Afrikaans wel in die Akademiebesluite geïmpliseer sal word, al het die oorspronklike amendement, misluk (De Villiers 1934:249). Artikel 2 van die Konsepstatuut het toe vermeld dat Hollands "beide taalvormen gebruiklik in Zuid-Afrika" sal insluit (Jaarboek 1:14).

In die praktyk het daar vir die volgende jare niks van die paaibelofte van "beide taalvormen" tereggekom nie. Eers in 1921 het die Akademie sy Jaarboek met ʼn Afrikaanse voorblad gepubliseer, maar met nog heelwat Nederlandse gedeeltes daarin. Die eerste Akademiebesluit wat in Afrikaans geneem is, is na Langenhoven se voorstel vir die reglementering van Afrikaans in 1914 geneem (Bosman 1959:118). Dit het egter nie die algemene gang van besprekings in Nederlands verander nie.

Kapp (1909:7) noem drie taalmoontlikhede wat die Akademie met sy stigting kon oorweeg het: hy kon besluit het om op te gaan "in die groter Engelse wêreld, vashou aan die verswakkende Nederlandse band of nuut skep". Dit gebeur dat reglementeringsliggame soms amper "nuut skep", soos wat met die omgangstaal in Nieu-Guinee in die tweede helfte van die twintigste eeu gebeur het (Crystal 1987:335). Volgens daardie nuwe skryfwyse is die titel van die padveiligheidshandleiding van 1972: Rot Sefti Long Niugini (Padveiligheid in Nieu-Guinee).

Afrikaanssprekendes was al gewoond daaraan dat Nederlands in hulle leefwêrelde die administratiewe rol moet speel, soos die besluite illustreer wat oor die administrasietale van die Republieke geneem is, oor die taal van die Unie, en oor die Akademie se gebruik van Hollands (Bosman 1959:118). (Hollands word naas Nederlands in hierdie artikel gebruik, afhangende van die konteks.) In 1897 verwys S.J. du Toit na die taalomstandighede van die regeringsinstansies van daardie tyd, en sê "in die Volksrade en Parlemente word Hollans nie mar Afrikaans gepraat" (Steyn 2014:35).

2.3 Sulke groothartigheid

ʼn Opvallende gees van behoedsame verdraagsaamheid tussen voormalige opponente het ná die maak van die Britse toegewings in 1906 geheers. J.C. Smuts het hom byvoorbeeld afgevra: "Has such a miracle of trust and magnanimity ever happened before?" (Steyn 2015:47). Sy verbasing oor dié Britse groothartigheid laat dink dat hy die uitkoms nie te wagte was nie. Die gebaar van toegeeflikheid het verrassend op selfstandige regering uitgeloop, het wyd uitgekring, is versigtig vertroetel en op meer terreine toegepas. Met die stigting van die Akademie is opinieverskille oor die taal van die Akademie byvoorbeeld nie op die spits gedryf nie. "Die nuwe gees van samewerking" (Kapp 2009:28), is ook aan pro-Afrikaanssprekendes en pro-Nederlandssprekendes voorgehou. W. Postma en dr. W.J. Viljoen het in 1908 toegewyd versoening tussen Nederlandse en Afrikaanse voorstanders verkondig (Kapp 2009:27). Dat sulke versoeningsgesprekke ten gunste van Nederlands sou uitloop, kon goed voorspel word as in gedagte gehou word dat F. C. L. Bosman (1959:77) na W.J. Viljoen verwys het as "die hoëpriester van die VNS" in Suid-Afrika (Vereenvoudigde Nederlandse Spelling, vgl. 7 hierna).

 

3. DOELWITTE

Die doelwitte van die artikel, in die lig van die tema van die bundel waarin dit sal verskyn, is om ná verloop van honderd jaar, met die besluite oor die taal van die Unie van Suid-Afrika, en van die Akademie in gedagte, opnuut te kyk na die volgende:

1 die stand van Afrikaans teen die tyd van die besluitneming oor die genoemde nuwe taalreëlings in Suid-Afrika,

2 die omstandighede wat gelei het tot die aansluiting van die Spelreëls by die Nederlandse spelling, en

3 die implikasies van die besluite wat toe oor die Afrikaanse spelling geneem is.

 

4. WAT VAN 'N VIERDE MOONTLIKHEID?

Naas die drie taalmoontlikhede vir die Akademie waarvan Kapp (hierbo) melding maak, kan daar aan die bestaan van ʼn vierde moontlikheid aandag gegee word: Kon Afrikaans nie die taal van die Unie van Suid-Afrika en van die Akademie gewees het nie?

4.1 Om voort te bou op negentiende-eeuse Afrikaans

4.1.1 Stabilisering

Afrikaans was voor die twintigste eeu, teen die tyd van die stigting van die Akademie, al lank bekend. Heelwat Afrikaanshede is al so vroeg soos in die eerste helfte van die sewentiende eeu opgeteken (vgl. Van Rensburg 2016; Den Besten 1989). Die verskeidenheid van grammatikapatrone wat Afrikaans met sy ontstaan vertoon het, het in die negentiende eeu sodanig gestabiliseer dat Scholtz (1980:80) strukture kon uitwys wat reeds teen "die begin van die agtiende eeu" vasgelê is (wat Viljoen 1896:29,56 ook aantoon). Teen "die einde van die 18de eeu", voer Raidt aan, het Afrikaans "reeds" sy "beslag gekry" (Raidt 1976:198).

4.1.2 Afrikaans?

Die taalnaam Afrikaans is eers van 1875 af deur die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gebruik, maar in hierdie studie word terugskouend van Afrikaans gepraat, wanneer die taal met kenmerke wat oorwegend met huidige Afrikaans ooreenkom, ter sprake is, of wanneer die sosiolinguistiese omstandighede van die sprekers, soos tydstip, plek en identiteit, hulle as hoogs waarskynlik Afrikaanssprekend sou klassifiseer.

4.1.3 ʼn Karakterisering van negentiende-eeuse Afrikaans

Hoe kan die Afrikaans gekarakteriseer word wat bestaan het teen die tyd toe die nuwe taalreëlings aan die begin van die twintigste eeu getref moes word? Kon negentiende-eeuse Afrikaans belangriker funksies vervul het?

Afrikaans was in die negentiende eeu:

4.2 ʼn Afsonderlike taal

In die negentiende eeu is daar meermale uitsprake gemaak wat daarop gedui het dat Afrikaans as ʼn afsonderlike taal beskou is. Tromp wys daarop "dat wij" Afrikaans (wat hy so noem) "als taal zullen erkennen" en verwys ook na sy status as hy praat van "deze niet onbelangrijke taal" (Tromp 1879:23; vgl. ook Franken 1953:175 e.v.).

Voor 1875 was Afrikaans onder verskeie name bekend, wat ook sy bestaan bevestig. "Afrikanisch" (Afrikaans), merk Viljoen (1896:17) op, is teen die einde van die negentiende eeu deur "die Engländer noch immer ... Cape Dutch" genoem. (In sy Fergelijkende Taalkunde van Afrikaans en Engels, vertaal S.J. du Toit (1902) Afrikaans ook as "Cape Dutch"). Tromp (1879:22) wys daarop dat Afrikaanssprekendes hulle taal soms "Laag-Hollandsch" noem, en Van Rijn (1914:13) vermeld dat "Boere-Hollands", naas ander name, ook goed bekend was.

4.3 ... wat wyd versprei is

Etlike waarnemers, soos Burchell (1967 vol. I :29, 77), het aan die begin van die negentiende eeu opgemerk hoeveel van Suid-Afrika se inwoners Afrikaans praat: "All the inhabitants use the Dutch language, and many slaves and Hottentots speak no other". Die Nederlands (Dutch) wat hulle praat, was niks anders as variëteite van Afrikaans waartoe sy Nederlands hom (beperkte) toegang gegee het nie. Viljoen (1896:25) het agtergekom dat Afrikaans die "eigentliche Form der südafrikanischen Umgangs- undVolkssprache" is (Viljoen 1896:24). In ʼn Mededeling in die Pall Mall Gazette van 4 Junie 1894 kry hy ondersteuning vir sy waarneming: "that language [Afrikaans] has permeated all South Africa", is daar gesê. Steyn (2015:49) praat van die "the almost unilingual Orange River Colony", wat ʼn idee gee dat dit in die ZAR ook die geval was. Giliomee (2003:213) bevestig hierdie waarnemings: "by 1875 Afrikaans ... was spoken across most of the present SouthAfrica".

Burchell (1967 I:13) het sy ervaring van die wye verspreidheid van Afrikaans aan die begin van die negentiende eeu met voornemende reisigers gedeel: hy het hulle aangeraai om gerus iets van Afrikaans te leer voordat hulle die binneland aandurf. In Augustus 1811 het hy ervaar hoe "Kosas" hulle op Afrikaans se waarde as binnelandse kommunikasietaal verlaat het. Uit ʼn groep van vyf wat deur die Bruintjieshoogte-gebied getrek het, was daar twee wat in Afrikaans ʼn gesprek kon voer (Burchell 1967 I: 269). Afrikaans se waarde as reisigerstaal in die Suid-Afrikaanse binneland van die negentiende eeu (en in die eerste dekades van die twintigste eeu) was algemeen bekend. Die titel van Elffers se Afrikaanse grammatika van 1908 staan ook in die trant van Burchell se advies: The Englishman's Guide to the speedy and easy acquirement of Cape Dutch for the use of Travellers, Settlers and MilitaryMen.

4.4 ... met ʼn verskeidenheid dialekte

Met die bestaan van Afrikaans moet mense maar verlief neem, het Changuion in 1844 agtergekom, toe hy die Afrikaans wat hy in Kaapstad gehoor het, sonder sukses nader na Nederlands toe wou gebring het (Van der Merwe 1971:viii). Teen die einde van die negentiende eeu het Afrikaans bestaan uit "verschillende dialecten van het hoofddialect", het Tromp (1879:21) opgemerk, wat "in de verschillende deelen van Zuid-Afrika" gepraat word. Die verskillende dialekte het elkeen sy eie geskiedenis, wat gesamentlik Afrikaans se geskiedenis vorm.

Burchell (1967:13) het in 1810 iets van Afrikaans se verskeidenheid raakgesien, wat "according to the Cape dialect" gepraat is, en in die binneland weer volgens die "dialect of the Hottentots", aan die Oranjerivier. Hiermee het hy Khoi-Afrikaans bedoel, soos die voorbeelde illustreer wat hy uit Klaarwater (later Griekwastad) opgeteken het. Khoi-Afrikaans was die aanleerdersvariëteit van die Khoi-Khoin wat Khoi teen die begin van die agtiende eeu verplaas het (Van Rensburg 2016:456).

Lichtenstein (1928:116), het Afrikaans (African Dutch) aan die begin van die twintigste eeu in die Hantam gehoor waar hy na twee jong inwoners van die gebied se kampvuurstories geluister het. Hulle het dit in ʼn ander taal as Nederlands vertel. "[T]he effect was exceedingly increased by the concise, yet expressive, African Dutch language, in which the relation was given", skryf hy. In die omgewing van Swellendam het hy sy bejaarde landgenoot, die Duitse plantkundige Auge, raakgeloop, en merk hy op dat Auge nie meer Duits praat nie, maar "the corrupted Dutch of the colonists" (Lichtenstein 1928-30:170). Die "corrupted Dutch" van daardie streek was Afrikaans, soos afgelei kan word uit taalhistorici se karakterisering van die taal van "Die Lied ter eere van de Swellendamsche en diverse andere helden bij de bloedige actie aan Muisenberg in dato 7 Aug. 1795" (Raidt 1976:138, 139; Scholtz 1965:143).

Lichtenstein het ook ʼn geletterde boer, S. de Beer, in die Paarl raakgeloop (Lichtenstein 1928-30: 87), wat diglossies ʼn versigtige Nederlands gebruik het, anders as sy Kaapse "African Malay dialect, in which he was educated". Sprekers van Khoi-Afrikaans se taal kon ook uitdagings aan Europeërs stel wat meer Nederlands by hulle gespreksgenote verwag het omdat herkenbare Nederlands in die Afrikaans met ʼn Khoi-basis maar skaars kon wees. Die Griekwa-Afrikaans wat Burchell (1967:156) se handlangers in 1811 gebruik het, was buite bereik van die Nederlands waaroor hy beskik het. Dit "was so peculiar", dat hy die hulp van ʼn tolk moes inroep.

Die drie Boereleiers, Botha, De Wet en De la Rey, wat Europa in 1902 besoek het om hulp vir die heropbou van hulle land te verkry, se Nederlands het in Nederland en België nogal kommentaar ontlok. Dit was eintlik maar negentiende-eeuse Afrikaans, soos Paul Kruger se taal ook (Zietsman 1992:124-125), wat met ʼn bietjie Nederlands gepoets was.

4. 5 ... waarin daar geskryf is

Sprekers van die variëteite van Afrikaans het gedurende die negentiende eeu in ʼn klompie gevalle self hulle dialekvorme weergegee wanneer hulle geskryf het. In ander gevalle het waarnemers weer geskryf hoe daardie soorte Afrikaans vir hulle geklink het.

In die Bo-Kaap, en later ook in Port Elizabeth, het sprekers van ʼn subvariëteit van Kaaps, van 1865 af, of miskien selfs vroeër (Davids 2011:89), Afrikaans as ʼn godsdienstaal in Arabiese en in Romeinse skrif geskryf. In navolging daarvan het ʼn tradisie ontstaan waarin die variëteit vir lank informeel geskryf is (Davids 2011:33-150). Op Genadendal, "in die 19de eeu" (Belcher 1987:29; Steyn 1914:39), het sprekers van Khoi-Afrikaans meegewerk om hulle Afrikaans in gedrukte vorm bekend te stel, danksy die drukpers daar. Noord van die Oranjerivier (Stals & Ponelis 2001:11) was sendinggemeenskappe belangrike uitstralingsentrums van Khoi-Afrikaans (Freund 1989:340). Die Khoi-Khoi het ʼn hoër status aan Khoi-Afrikaans gekoppel as aan Khoi (Freund 1989:342), wat rigtinggewend was vir die drift, waar Khoi-sprekers wegbeweeg het van die laaste Khoi-reste af, nader na Khoi-Afrikaans toe.

Kenmerke van die Khoi-onderbou van Khoi-Afrikaans is merkbaar in die briewe wat Carolus en Jan Bastert van die Zakrivier-sendinggemeenskap self geskryf het. Den Besten (2005:31) verwys daarna as ʼn vorm van "acrolectal Afrikaans" "met een ten dele bewust aangebracht Nederlands vernis" (2005:25), wat in die meerderheid tekste van Afrikaanssprekendes voorgekom het, en toegeskryf kan word aan die trek-effek van die status van Nederlands. Roberge (2003:21) praat van sulke tekste as "orthograp hicfiction".

Verskeie skrywers het aan negentiende-eeuse Transvaalse koerante, in die tweede helfte van daardie eeu, briewe geskryf waarvan die redaksies nie die taal gewysig het nie (Van Rensburg & Combrink 1983:142 e.v.). Die briewe bevat woorde soos:

ek/ik, wen/win, (ge)wenk, assablief, asemblief, banja, moet/mot, genog, moes/mos, stoor/steur, streukel/struikel, speul, beusem, seuwe, veul, ommers, moi, mit/met, ken/kan, tien/teen, wor, morre, (be)sorre, follende, oek, oer/oor, oempi, yster, en -heid/-geit, waarmee afleidings gevorm is.

Uit die briewe van vrouens uit die agtiende eeu wat Raidt (1986:157-257) ondersoek het, kom woorde voor wat hiermee ooreenstem.

Boniface (van 1830 af) en Meurant (van 1844 af) het die Afrikaans wat hulle gehoor het, ook in hulle koerante probeer skryf sodat die boere dit makliker kon volg. (Scholtz 1965:31 e. v.:76 e. v.:259 e. v. en Ponelis 1993:51, 83-84.) Scholtz (1965:101) wys op die "onmiskenbare" Khoi-aard van die Afrikaans in Boniface se bydraes, en wys ook (Scholtz 1965:77-99) op ooreenkomste daarvan met latere Afrikaans. Meurant het Afrikaans propagandisties gebruik om sy lesers te beïnvloed om sy planne vir 'n onafhanklike Oos-Kaap te steun. Die aard van sy skryfwerk, en die lesers se skriftelike reaksies daarop, het nuwe funksies vir die gebruik van Afrikaans ontsluit.

Die Genootskap van Regte Afrikaners (hierna die GRA), het van 1875 af ʼn Afrikaans begin skryf wat gebaseer was op die middelklas se Boerdery-Afrikaans. Ander moontlikhede wat hulle kon oorweeg, was om "Here-Afrikaans" (wat met Nederlands verdeftig is) te kodifiseer, of Khoi-Afrikaans, laer op die sosiale leer. Die middelklas se Boerdery-Afrikaans was algemeen gebruiklik in die negentiende eeu, beduidend beïnvloed deur Khoi-Afrikaans, en het ook dié deel van die taal se geskiedenis gereflekteer.

Die GRA het aandag aan die skryf van Afrikaanse grammatikas gegee (S.J. du Toit en C.J. van Rijn), en van 1875 af, vir die volgende stuk of dertig jaar, is GRA-Afrikaans betreklik sistematies volgens die GRA-spelreëls geskryf: die grootste skryfprestasie van Afrikaans in die negentiende eeu.

Dit is opmerklik dat die GRA se bedrywighede vir J.H. Hofmeyr "op die gedagte gebring het om ʼn dergelyke poging aan te wend om die Hollandse taal te bevorder" (De Villiers 1934:98). J.H. Hofmeyr het later die dryfveer agter die pro-Hollandse beweging in Suid-Afrika geword, en het nie net van die GRA verskil oor hulle Afrikaans nie, maar ook van S.J. du Toit se politieke sienings, deurdat hy oortuig was dat dit in die beste belang van die Kaapkolonie was dat die Afrikaanssprekendes lojaal aan die Britse Ryk bly (Giliomee 2009:221), terwyl S.J. du Toit, toe nog uitgesproke nasionalisties was (De Villiers 1934:100), en die teenoorgestelde siening gehuldig het.

 

5. DIE WÊRELD VAN NEGENTIENDE-EEUSE AFRIKAANS

5.1 Sosiolekte en stigmatisering

5.1.1 Diversiteit

Negentiende-eeuse Afrikaans het ʼn wye geskakeerdheid vertoon: tussen die Afrikaans van die twee hooftaalgroepe, die Veeboere en die Khoi-Khoin, het ʼn verskeidenheid variëteite daartussen voorgekom.

Die Veeboere het "hun nasionaal character voor dat van dezen landaart verwisseld" (Stavorinus 1770, in Scholtz 1965:244), maar nogtans ʼn vervloë Nederlandse taal- en kultuurfase as ʼn verbeelde verlede gekoester, waaraan hulle waarskynlik nooit deel gehad het nie. Dit pas by die aard van Voorposmense, soos Du Plessis (2013) dit uiteensit. Die Khoi-Khoin het ook hulle idees van die taal wat hulle voormense gepraat het voor die taalverskuiwing na Khoi-Afrikaans toe getroetel, en kultuuruitings bewaar wat met ʼn vroeë leefwyse gepaardgegaan het.

5.1.2 ʼn Veelrassige taal

Die wedersydse taalbeïnvloeding tussen die twee hooftaalgroepe laat Ponelis (1993:39) tereg opmerk "[t]he incorporation of the Khoi was the single most important demographic contribution to the Afrikaans speech community during the eighteenth century". Hofmeyr (1987:97) praat daarvan as Afrikaans se "colouredness". Hierdie gekleurdheid waarna Hofmeyr verwys, slaan op die taalbeïnvloeding in die binneland waar sprekers van die twee taalgroepe Afrikaans as "ʼn veelrassige taal" gedeel het, wat ʼn stoot-effek gehad het, en "ʼn verkeerde sein gegee [het] in ʼn samelewing wat al meer ʼn obsessie ontwikkel het met rasse en klasse-onderskeidings", skryf Steyn (2014:20, met verwysing na Giliomee). Die grense tussen die Afrikaanssprekende taalgemeenskappe was betreklik poreus. Ontlenings het wedersyds plaasgevind, al was die taalvorme gemerk, soos die geskiedenis van ons as onderwerp aandui, en ek (vir Nederlands ik), wat Khoi-Afrikaans gestigmatiseer het (Van Rensburg 2015:329 e.v.).

Die sosiale gelaagdheid van sy sprekers het in negentiende-eeuse Afrikaans gewys. Viljoen (1896:24) het verskillende Afrikaanse sosiolekte geïdentifiseer soos wat "unter den Buren, den Dienstboten, auf dem Felde, in der Familie und im gewöhnlichen Verkehr" gebruik is (Viljoen 1896:24), variasie wat ook deur Teenstra in 1825 geïllustreer is in ʼn gesprek wat hy weergegee het (Franken 1953:175 e.v.; Raidt 1976:139-140, 1991).

In die Afrikaanssprekende taalgemeenskappe van die negentiende eeu het ʼn groot aantal sprekers in armoede gelewe. Ds. Andrew Murray het in 1893 herhaaldelik die aandag daarop gevestig (Steyn 2014:235). Hofmeyr (1987:96) het die verband tussen die sprekers se gebrek aan welvaart en hulle taal oorsigtelik saamgevat as "[t]he poorer the community, the more their language varied from that of the'civilised' Western Cape", wat beteken het dat sulke gemeenskappe ook verder van die skrifbeeld van versorgde Nederlands af gestaan het.

Sprekers wat hoër op die sosiale leer gestaan het, kon hulle nie altyd vereenselwig het met die Afrikaans wat met armoede en sosiale onderklas geassosieer is nie (vgl. ook Giliomee 2003:224), en met die ruheid van byvoorbeeld ʼn Kaatjie Kekkelbek se geïmproviseerde taal nie (Scholtz 1965:59-67). Distansiëring van die skryf van GRA-Afrikaans, en van briewe in koerante waar Afrikaans geskryf is, die stoot-effek, was normaal, vgl.: "Het is geen Afrikaansh Boer Hollandsch maar de taal van de Platbergsche Hottentots ..." (Nienaber 1982:28; vgl. ook Zietsman 1992:9 vir voorbeelde van neerhalende opmerkings oor Afrikaans).

 

6. DIE DINAMIEK VAN NEGENTIENDE-EEUSE AFRIKAANS

6.1 Koerante

In ʼn grootliks passiewe Afrikaanse negentiende-eeuse taalgemeenskap was daar tog sprekers van Afrikaans wat aktief deelgeneem het aan ʼn tradisie van briefskryf aan koerante, aan die Bode in Genadendal, Nederlandstalige koerante, en die GRA-tydskrifte. "Kaapse nie-akademies geskoolde Afrikaners het Afrikaans gebruik, maar slegs vir briewe aan en gedigte in die Patriot en Ons Klyntji, skryf Steyn (2014:29). Hierdie betrokkenheid het in die binneland aansteeklik gewerk, wat meegebring het dat die GRA se Afrikaanse koerant, die Patriot, se sirkulasie "in die vroeë 1880's groter [was] as die van die Hollandse koerante" (Steyn 2014:23). Tot aan die einde van die negentiende eeu het hulle 81 000 boeke gepubliseer (Steyn 1980:139) wat oor die hele land gelees is.

6.2 Literatuur

Tussen 1876 en 1896 het die byblad van die GRA se tydskrif Die Patriot aandag gegee aan Afrikaans se letterkunde, terwyl "Nederlands in Suid-Afrika geen noemenswaardige inheemse literatuur opgelewer [het] nie" (Zietsman 1992:103). Twintig jaar ná die stigting van die GRA het die nuwe pro-Engelse politiek van S.J. du Toit die Patriot se lesers begin vervreem (Antonissen 1965:34). Ons Klyntji is toe op 15 en 16 Januarie 1896 geloods, ʼn letterkunde tydskrif wat "o'rpoletiek...ni praat ni" (Ons Klyntji I (I):1). Bydraes van letterkundige en wetenskaplike aard is geplaas (Lätti 1978:7-9), en lesers se eie bydraes is nie afgeskeep nie. Wanneer dit in Ons Klyntji geplaas is, was dit ʼn "bewys dat daar in Afrikaans geskryf kon word", het Lätti (1978:5) opgemerk. In 1897 was Ons Klyntji se oplaag 3000 eksemplare (Steyn 2014:37). Nadat Du Toit sy politieke standpunt verander het, het dit onsekerheid by sy volgelinge oor die posisie van Afrikaans gelaat, wat deur die pro-Nederlandse taalaktiviste uitgebuit is tot voordeel van Nederlands.

Negentiende-eeuse Afrikaans was voortdurend besig om sy grense te versit, en is vir al hoe meer funksies gebruik. Tydens die taalkongres ter viering van die GRA se twintigjarige bestaan, is daar saans musiek gemaak (Rocco de Villiers, ʼn bekende uit musiekkringe van daardie tyd), vertellings aangebied (J. Celliers, die seun van Sarel Celliers) en is voordragte gelewer. Die opvoerings waarby Melt Brink betrokke was, het De Waal opgemerk, het die publiek laat voel dat Afrikaans ʼn aparte taal was (Steyn 2014:36-37).

In die laaste kwart van die negentiende eeu het verskeie belanghebbendes ernstig oor Afrikaans nagedink en hulle in die openbaar daaroor uitgelaat. Sal Afrikaans nie toenemend meer funksies kan vervul nie? F.W. Reitz het in 1880 argumente oor die outonomie van Afrikaans gevoer, terwyl J. Brill in 1875 dit weer oor die erkenning van Afrikaans gehad het. Soms is daar gereageer op gesigspunte wat onrealistiese voorstellings gemaak het oor Nederlands as die taal van Suid-Afrika (vgl. Nienaber en Heyl II, 1960). In hulle studentedae het J.C. Smuts in 1890 (Giliomee 2009:271) en J.B.M. Hertzog (Kapp 2009:11) hulle ook positief uitgelaat oor die toekoms van Afrikaans. Was dit nie tekens dat negentiende-eeuse Afrikaans besig was om sy grense te toets nie?

Afrikaans was in elk geval op erkenning geregtig, volgens ʼn hoofartikel van De Express van 3 Februarie 1891. Dit is geskryf in reaksie op ʼn oproep aan "Voorstanders der Hollandsche Taal in Zuid-Afrika", en het beweer dat Hollands nie so belangrik as Afrikaans nie: "nie Hollands nie maar wel Afrikaans en Engels [is] die tale van Suid-Afrika" (De Villiers 1934:238).

ʼn Pro-Afrikaanse gees het ook aan die einde van die negentiende eeu in onderwyskringe begin posvat. Leyds het aan die begin van 1899 ʼn insiggewende opmerking in dié verband gemaak: "Sinds ik weg ben, begint jong Afrika te regeeren en de Hollanders beginnen zich onzeker te gevoelen" (Ploeger 1951:235). ʼn Beswaar van Afrikaanssprekendes in die doodsnikke van die negentiende eeu teen die onderwysbeleid van Mansveld was dat hy "op verhollandsing afgestuur het wat ewe erg as verengelsing was" (Zietsman 1992:14). Dit was ook ʼn teken van die "oplewing van nasionalisme" van daardie tyd, waarvan F. Pretorius (1998:9; 2012: 236) praat.

6.3 Die Afrikaanse Beweging

"Daar was teen 1914 al 'n taamlike skryftradisie in Afrikaans", sê Steyn (2014:154). "In die Kaapkolonie het ʼn beweging vir ʼn eenvormige Afrikaanse spelling reeds teen Julie 1904 begin vorm aanneem", wys Kapp (2009:14) uit - die ATV-spelling (Steyn 2014:154; Le Roux 1926:256-269). Die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) het in 1905 ook planne gemaak om ʼn grammatika vir Afrikaans te skryf en spelreëls daarvoor op te stel (Kapp 2009:14), en die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) wat op 5 November 1906 in Kaapstad gestig is, het ook spelreëls vir Afrikaans opgestel (Kapp 2009:14), wat, hoewel nog onvolledig, in 1908 op sy Jaarkongres aanvaar is en wyd gepropageer is (Steyn 2014:154), en waarin die ATG in Bloemfontein ook belang gestel het (Kapp 2009:27).

Die Afrikaanse Taalbeweging het nooit die omvang van sy Nederlandse eweknie bereik nie, en dit was ook nooit so goed georganiseer nie. Die Anglo-Boereoorlog het hulle planne omvergegooi. Die haas met die reglementeringsplanne aan die einde van die eerste dekade van die twintigste eeu het hulle ook in ʼn hoë mate onkant betrap.

6.3.1 Nederlands was te moeilik

Die voorstanders van Nederlands wou Nederlands as taal in Suid-Afrika hê, naas Engels. Een van die groot besware van die Afrikaanssprekendes met die Nederlandse planne was dat dit so moeilik was om Nederlands aan te leer. J.J. Smith, die latere Taalkommissielid, laat hom in 1907 uit oor die onhoudbare situasie waarin Afrikaanssprekendes hulle moedertaal tuis hoor, "maar op school leren wij het moeilike Hoog Hollands dat voor ʼn Afrikaner verder af staat dan 't Engels" (Kapp 2009:116). Die Nederlandse Beweging wou hierdie geldige beswaar uit die weg ruim deur dieselfde Kollewijn-vereenvoudigingsreëls in te voer as wat in Nederland vir die vereenvoudiging van die Nederlandse spelling voorgehou is. Hulle het nie daarmee rekening gehou dat vereenvoudigde Nederlands nog steeds Nederlands moes wees nie, soos ʼn Nederlandse afvaardiging met Viljoen ooreengekom het (sien afdeling 7 hierna), en dat dit nie die Afrikaanse taalgemeenskap se taal is nie.

6.3.2 Twee Taalbewegings?

In die loop van die negentiende eeu was daar twee gedagterigtings oor die taal wat naas Engels in Suid-Afrika gekodifiseer moet word: die rigting wat die bevordering van Afrikaans voorgestaan het, en die Nederlandse beweging. Hierdie twee rigtings het steeds teen mekaar meegeding. Die beskrywing van die wedywering tussen voorstanders van Afrikaans en Nederlands as ʼn Eerste en ʼn Tweede Taalbeweging, waar die een doodloop en ʼn ander een sou begin, laat nie reg geskied aan die volgehoue strewes van die voorstanders van sowel Afrikaans as Nederlands, asook die komplekse saamhang daarvan met verskillende politieke en sosio-ekonomiese strominge nie (vgl. Conradie & Groenewald 2014:53).

Die Nederlandse Beweging se verband met die VNS en die aantreklikheid daarvan vir onderwysdoeleindes en vir koerante (sien 7 hierna), met die status van Nederlands as rugsteun, en die ondersteuning van Afrikaanssprekendes wat in Nederland studeer het, en na hulle terugkeer invloedryk simpatiek teenoor Nederlands gestaan het (Pont 1935), het vir die eerste dekades van die twintigste eeu die oorhand oor die Afrikaanse taalstrewe gehad. "Aanvanklik is die hegte inskakeling by Nederlands nog opvallend aanwesig, maar mettertyd is daar 'n al hoe groter beweging in die rigting van verafrikaansing" skryf Eksteen (1985:180, 1984). Die tabel wat McLachlan (2016:487) verskaf, illustreer hierdie verafrikaansingsproses ook.

Hoewel die voorstanders van Nederlands ʼn greep op die nie-Engelse taalaktiwiteite in Suid-Afrika gehad het, het die visie by hulle ontbreek om Nederlands stewig naas Afrikaans in Suid-Afrika te vestig. Het dit gebeur, kon die latere Suid-Afrikaanse taalwêreld en taallewe onteenseglik veel daarby gebaat het.

 

7. DIE ANDER KANT VAN DIE MUNT

7.1 Die Vereenvoudigde Nederlandse (VNS) spelling1

Die VNS waarna AWS 1 in sy voorwoord verwys, was die laaste groot projek van die Hollandse taalbeweging soos Anna de Villiers dit noem.Die aanhangers van dié beweging wou nie alleen die regte van Hollands in die Kaapkolonie herstel nie, maar het ook probeer om Hollands te vereenvoudig. Hollands was vir Afrikaans- en ook Hollandssprekende Afrikaners aan die einde van die 19de eeu 'n moeilike taal om te skryf. Gevolglik het toonaangewende taalliefhebbers daarna gestreef om Hollands as skryftaal te vereenvoudig.

Hierdie strewe het gekom van die Zuid-Afrikaansche Taalbond (gestig in 1890) in die Kaapkolonie, asook die onderwysers en joernaliste in Transvaal en die Vrystaat, waar Hollands die amptelike taal was. Twee van die belangrikste figure in die Taalbond was die teoloog prof. P.J.G. de Vos en die taalkundige, prof. W.J. Viljoen, professor in Hollands aan die Victoria-kollege (voorloper van die Universiteit van Stellenbosch). Die Taalbond het aansluiting probeer vind by een van die taalkundiges in Nederland wat hom eweneens vir taalvereenvoudiging beywer het. Dit is R.A. Kollewijn, stigter, in 1892, van die Vereniging tot Vereenvoudiging van onze Schrijftaal. In Transvaal was daar omstreeks 1895 'n komitee van vooraanstaande Afrikaners en Hollanders wat gereeld oor taalkwessies vergader het en in 1896 besluit het om die Kollewijn-spelling in beginsel aan te neem mits die Nederlandse beweging erkenning daaraan gee. 'n Gesamentlike kongres van Kapenaars, Transvalers en Vrystaters het in 1897 'n uitvoerende kommissie opdrag gegee om by Nederlandse taalkundiges en taalliggame 'n verklaring van steun te verkry. Die kongreslede wou nie vereenvoudigings invoer wat in stryd is met Nederlands nie. 'n Aantal voorstelle vir vereenvoudiging in die Kollewijn-rigting is aangeneem.

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het 'n einde gemaak aan taalaktiwiteite van dié aard. Maar die vereenvoudiging van Hollands was die rede waarom van die leiers van die Hollandse beweging op 20 Januarie 1903 op Stellenbosch bymekaargekom het. Aanleiding daartoe was 'n vraag van die Transvaalse Onderwysdepartement in 1902 aan die Taalbond of die 1897-kongresbesluite insake taalvereenvoudiging as gesaghebbend vir die onderwys beskou kan word. Die hoofbestuur het W.J. Viljoen gevra om 'n rapport oor die vereenvoudiging van die skryftaal op te stel. Hy het in Nederland en België met taalkundiges en ander gesaghebbendes beraadslaag en op 19 September 1903 het die "Commissie voor Taal en Letteren bij de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden" 'n byeenkoms gehou waaraan twintig professore deelgeneem het.

W. J. Viljoen het op 5 Oktober 'n baie positiewe goedkeurende verklaring van die bestuur ontvang. 'n Taalkongres is op 28 Desember 1904 in Kaapstad gehou. Die Taalbond het ook afgevaardigdes uit Transvaal, die Vrystaat en Natal genooi. Al dié onderwysorganisasies was positief teenoor die voorstelle en in die volgende jaar of wat het die VNS verdere steun ontvang. W. J. Viljoen, P. J. G. de Vos en die ander vereenvoudigers het teen die einde van 1906 dus rede gehad om tevrede te voel. Onderwysliggame het die VNS gesteun en dit is in die Hollands-Afrikaanse koerante soos Ons Land ingevoer. Maar vir die Afrikaanssprekendes buite hierdie intellektuele dampkring het ook die vereenvoudigde Nederlands 'n moeilike taal gebly.

Die Suid-Afrikaanse Nederlandse skryftaal het in 1904 veranderings ondergaan wat die skryftaal in Nederland eers in 1934 sou aanvaar. Maar die gemoderniseerde spelling kon Nederlands in Suid-Afrika nie red nie. Afrikaans het geseëvier, maar op die Afrikaanse spelreëls het die VNS tog 'n invloed uitgeoefen.

 

8. AGTER DIE SKERMS

8.1 Spelreëls vir Afrikaans

Melt Brink het in 1911 voorgestel dat die Akademie "gestandaardiseerde" spelreëls moet opstel. Dié voorstel het nêrens heen gelei nie. "[D]ie brose verhouding tussen die voorstanders van Nederlands en Afrikaans het meegebring dat daar besluit is om van die saak af te stap omdat dit net twis tussen die twee groepe sou aanblaas", skryf Kapp (2009:111). Onderwysliggame en koerante het alreeds die VNS gebruik vir die Nederlands in Suid-Afrika, soos wat die Taalunie wou hê. Hoekom moes die Akademie nou ook met skryfreëls begin?

8.2 Om Langenhoven te ondersteun

Op die taalfront in Suid-Afrika het daar drie jaar ná Melt Brink se voorstel, in 1914, belangrike woelinge plaasgevind. C.J. Langenhoven se visie om Afrikaans as voertaal in die laerskole te laat invoer, was besig om goed te vorder. Indien ʼn kultuurliggaam met die statuur van die Akademie hom ondersteun, kon die Provinsiale Rade voortgaan met die plan om Afrikaans as onderwystaal in die laerskole in te voer (vgl. Bosman 1959:118). In ʼn dinamiese toespraak waarin hy Afrikaans se lof besing het (Akademiejaarboek 5/1914:104-139), het hy die Akademie oorreed om sy planne te ondersteun.

Sy een voorstel het daarop neergekom dat hy die Akademie se goedkeuring gevra het vir die genoemde plan om Afrikaans as voertaal in laerskole te laat invoer. Hy het die ondersteuning op twee teenstemme na gekry. Daarnaas het die Akademie ʼn voorstel van hom aanvaar om die Departement van Onderwys behulpsaam te wees met leermiddele in Afrikaans, waarvan die voortsetting van sy plan afhanklik was. Die neerslag hiervan is nog in die voorwoord van AWS 1 van 1917 (:iii) te sien, waar Le Roux dit stel "dat ons in die eerste plaas ons oog rig op die onderwijs."

 

9. DIE EERSTE TAALKOMMISSIE

9.1 Nie ʼn skoon lei nie

Langenhoven het ook ʼn derde voorstel gemaak, oor die reglementering van Afrikaans. In sy voordrag het hy verwys na die "regels wat hierbij gaan en onderteken is deur dr. T.H. le Roux en andere" (Jaarboek 5, Zuid Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst 1914;104-139). Dit was spelreëls, en hy het versoek dat ʼn Akademiekommissie dit verfyn, maar die inhoud onveranderd laat.

Hierdie Akademiekommissie was die eerste Taalkommissie, wat toe die "Die Woordelijs-Kommissie" genoem is (AWS 1:vi), en deur T.H. le Roux saamgestel is. Hulle het nie ʼn skoon lei gekry om mee te werk nie.

Korrespondensie van F. Engelenburg dui daarop dat heelwat oortuigingswerk agter die skerms gedoen is voordat Langenhoven se voorstelle voorgelê is (Akademie-argief: Engelenburgkorrespondensie, 4 Junie 1914). Die spelreëls "wat hierbij gaan", waarvan hy in sy toespraak gepraat het, val onder die werk wat die Jaarvergadering voorafgegaan het. Daarvoor was T.H. le Roux en "andere", heel moontlik een of meer lede van die kommissie wat die Woordelys later opgestel het, verantwoordelik: C.J. Langenhoven self, J.F.E. Celliers, D.F. Malherbe, W.M.R. Malherbe, G.S. Preller en J.D. du Toit.

9.2. Die sluit van nog ʼn kompromie

Wie het nog ʼn sê gehad in die opstel van hierdie spelreëls waarmee die eerste Taalkommissie verlief moes neem? In sy dankwoord aan die Akademie in 1915 by die aanvaarding van die voorlopige spelreëls sê Le Roux "[d]it resultaat was verkregen met medewerking en raadpleging van alle betreffende autoriteiten". "Met "autoriteiten" het Le Roux waarskynlik gesaghebbende taalmense in gedagte gehad: joernaliste, skrywers (wat hy die aand voor die vergadering ontmoet het (Le Roux 1926:270)), ensovoorts, maar beslis ook die Taalunie en die ATV.

Die Taalunie se spelreëls, wat skole alreeds gebruik het, en Ons Land ook, was gebaseer op die VHS. Langenhoven wou gehad het dat die Akademie beheer oor die spelreëls kry. Dit sou sy argumente oor die invoer van Afrikaans op laerskoolvlak by die Provinsiale Rade sterk, maar dan moet die "brose verhouding" (vgl. 8.1 hierbo) tussen die pro-Afrikaanse faksies en die pro-Nederlandse faksies nie weer hierdie planne tot stilstand rem en daarmee ʼn indruk van verdeeldheid skep nie.

9.3 "dat die Hollandse manier van spel volmaak was"

Wat was die kompromie wat in die versoeningsgees van daardie tyd bereik is? Gebruik die Taalunie se VHS-grondbeginsel, was 'n moontlikheid. (Daarna verwys AWS 6 in 1953). G.R. von Wielligh, een van die lede van die GRA, het vroeër gewys op die persepsie wat bestaan het "dat die Hollandse manier van spel volmaak was" (Steyn 2014:23). Sake sou miskien nie so sleg afloop vir Afrikaans nie. Die "Woordelijs-Kommissie" kan in elk geval oor die toepassing van die VNS beheer uitoefen. Dit is opmerklik dat die lede van daardie eerste Woordelyskommissies gelaai was met lede wat hulle aan die kant van die pro-Afrikaanse faksie geskaar het. Was dit om die VNS-transaksie te beheer en mettertyd te neutraliseer?

Langenhoven het sy sin gekry, maar toe sit die Taalkommissie (van AWS 1) met Grondbeginsel (d), waaroor gevra kon word: hoe effektief kon so ʼn Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls die Nederlands van die skole vervang het?

In die loop van die volgende dekades het verafrikaansings steeds plaasgevind, maar die gevolge van die spel- en skryfwyse van AWS 1 kon nooit heeltemal ongedaan gemaak word nie.

Die spelreëls wat Le Roux tydens Langenhoven se toespraak gereed gehad het, is met inspraak van die "Woordelijs-Kommissie" op 18 September 1915 deur die Akademie goedgekeur (Le Roux AWS1:iv), en as voorlopige Spelreëls gepubliseer (Jaarboek 5, Suid Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst 1915;80-87), sodat "die lastige en belemmerende spellingverwarring onder ons", het Le Roux gehoop, hiermee beëindig sal word (Le Roux AWS1:iv).

Le Roux se hoop was gedoem om te beskaam. Watter Nederlands moes Afrikaanssprekendes aanleer? Naas die tradisionele Siegenbeeck-Nederlands van die skoolboeke, en die De Vries en Te Winkel-Nederlands wat as onderrigmedium gebruik is (Kapp 1909:12), het VNS-Nederlands in twee gedaantes verskyn: dié van die Taalunie in die skole, en van 1917 af kon die AWS-skryfwyse ook nog bygetel word! Spellingverwarring sou aan die orde van die dag gewees het.

9.4 ʼn Agent vir vernederlandsing

"'n Woordelijs, bevattende die aangenome spelreëls en op grond daarvan", was na 1915 op die Akademie se agenda (Jaarboek 6 van die Zuid Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst 1915:15), en daarvoor is 'n "Spelling-kommissie" benoem wat bestaan het uit T.H. le Roux ("konvener"), J.J. Smith en D.F. Malherbe. Die gesamentlike "woordelijs" met die spelreëls het in 1917 vir die eerste keer verskyn (AWS 1), en is onveranderd "met wegneming van die drukfoute" in 1918 herdruk (AWS 2) (Le Roux 1918:vii). Die kommissie word in AWS 2 die "Woordelijs-kommissie" genoem, en die spelvorm woordelijs word behou. (Die GRA sou moontlik woordelys geskryf het, volgens die aanwysers wat Du Toit gee (Du Toit 1902:7)). J. C. Steyn skryf daaroor (persoonlike mededeling 20/08/2016): "Die GRA het -y- gebruik. Ek dink die -ij- is uit blote konserwatisme weer ingevoer, miskien ook omdat dit so 'n Nederlandse aanskyn aan 'n teks gee?"

Die Akademie het hom verbind aan die Nederlandse skryfvoorbeeld as model vir die Afrikaanse spelling, en het daarmee sy agentstatus vir die vernederlandsing van Afrikaans bevestig. (Vir die vernederlandsing van Afrikaans vgl. Odendaal 2014:659-660; Uys 1983).

9.5 Wat het van die VHS-grondbeginsel geword?

9.5.1 ʼn Verontskuldiging?

Op die 1953-Taalkommissie wat die VNS-koppeling in die formulering van die Grondbeginsels na 1904 toe teruggevoer het, het twee van die oorspronklike Taalkommissielede steeds gedien: T.H. le Roux en D.F. Malherbe. (T.H. le Roux, die eerste Taalkommissievoorsitter, het in 1965 na 50 jaar van Taalkommissiediens bedank, en Malherbe het sy laaste vergadering in Julie 1966 bygewoon. Hulle het geweet hoe hierdie grondbeginsel oorspronklik in die AWS beland het.)

Waarom die byvoeging van die stukkie geskiedenis, "soos in 1953 in Suid-Afrika aanvaar" by Grondbeginsel (2) in 1953? Die druk om die AWS te verafrikaans, was toe al aan die oplaai. Langenhoven het reeds in 1906 gewys op die onhoudbaarheid daarvan om Nederlands voor te hou as ʼn Suid-Afrikaanse taal, toe hy aangedui het dat "Afrikaners nie in staat is om Hollands te praat of te skryf nie" (Steyn 1989:219). In 1953 het die taal Nederlands nie meer ʼn rol gespeel in Suid-Afrika nie. Oorgeblewe Nederlandshede in Afrikaanse tekste het meer en meer gemerk geraak. Om die grondbeginsel oor Afrikaans se gedwonge aansluiting by Nederlands in 1953 te skrap, in plaas daarvan om dit te probeer regverdig, sou te radikaal teen die behoudende aard van Taalkommissies ingedruis het.

Kon die twee lede te kenne gegee het dat hulle nie as Taalkommissielede in 1917 vir dié Grondbeginsel verantwoordelik was nie? D.F. Malherbe (1959:41) skryf later dat hy in elk geval nie ʼn lid van die Nederlandse kamp was nie. Hy skryf dat hy hom in 1906 by die Afrikaanse Taalvereniging geskaar het, en het die pro-Nederlandsgesindes "andersdenkendes" genoem! T.H. le Roux het sy ongemak met die verbintenis om Nederlands te spel in die voorwoord tot AWS 1 gewys, waar hy dié publikasie as die vrug van die werk van die GRA beskryf het, wat nie die geval was nie. Die GRA wou met sy stigting in 1875 juis nie "Hollans-getinte Afrikaans" (Steyn 2014:23) skryf nie. Le Roux het later ook die vervanging van "algemeen Afrikaanse vorme" soos verjaarsdag en eers met die Nederlandse verjaardag en eens bevraagteken (Le Roux 1968b:23).

9.5.2 Die VNS in Nederland

In AWS 7 (1964) staan die grondbeginsel wat die skakeling met die Nederlandse spelling verpligtend maak, dié keer sonder die verduideliking wat in AWS 6 (1953) gegee is. Die AWS 7-Taalkommissie het ook daarvan kennis geneem dat die oorspronklike VNS-voorstelle in elk geval net gedeeltelik in Nederland gevolg is (Van der Horst & Van der Horst 1999:355 e.v.), wat heel moontlik aan die insigte van "die uitgebreide" nuwe ledetal wat sitting op die 1964-Taalkommissie gehad het, toegeskryf kan word (Eksteen 1985:171). Met die nuwe 1964-perspektief op die VNS se beperkte rol in die spelling van Nederlands in Nederland is die betrokke Grondbeginsel in AWS 7 so geformuleer dat die Afrikaanse spelling "rekening [wil] hou met die spelling wat vandag amptelik in Nederland erken word". Die VNS-geskiedenis was nie nou meer belangrik nie.

Hierdie formulering van dié Grondbeginsel in AWS 7 (1964) was die laaste vermelding van ʼn moontlike verbintenis tussen die Afrikaanse en die Nederlandse spelling in die Grondbeginsels van die AWS'e. Dié Grondbeginsel het daarna weggeval. Opvallend gryp AWS 8 (1991:11, 12) effens desperaat daarna terug en verklaar die spelling v en f, ei en y, ensovoorts op grond van aansluiting "by Nederlands", terwyl Grondbeginsels 1 en 3 juis daarop wys dat die Afrikaanse speltradisie al gevestig is. In AWS 10 (2009:113-114) kom die beweerde Nederlandse herkoms van Afrikaans weer ter sprake, op grond waarvan die vasskryf van goedkoop, handdoek en landkaart geregverdig word.

9.6 ʼn " [V]ertraagde, verafrikaansing ... " (Eksteen)

Eksteen (1985: 172, 173) maak ʼn opmerking waaruit heelwat van die behoudendheid van die AWS'e oor die jare, asook "die geleidelike, maar soms ook vertraagde, verafrikaansing van die spelreëls", verstaan kan word. Dit is te wyte aan die "lang tydperk" van diens van sommige lede op die Taalkommissie, impliseer Eksteen, met reg. (T.H. le Roux het 51 jaar lank as Taalkommissielid gedien, en Malherbe vir 52 jaar.) Behalwe die reeds genoemde twee stigterslede noem hy ook die name van D.B. Bosman (1918-1948), S.P.E. Boshoff (1931-1969) en L.W. Hiemstra (1937-1969).

9.6.1 Verafrikaansing van die AWS'e

Ná 1964 het ʼn nuwe geslag Taalkommissielede die vorige lede geleidelik vervang. In 1970 is daar ook besluit op ʼn ouderdomsperk van 70 jaar vir Taalkommissielede. Vir ʼn jonger Taalkommissie het verafrikaansing van die AWS toenemend belangrik geword (Eksteen 1985:173). Vernuwing het in die Grondbeginsels neerslag gevind, waar Nederlands nie meer die toetssteen gebly het om Afrikaans aan te meet nie. Gesien die onbekendheid van Nederlands in Suid-Afrika, en die groot afstand tussen Nederlands en Afrikaans (vgl. Du Plessis 2016), was dit eintlik hoog tyd dat dié besluit geneem is. Standaardafrikaans, en die tradisie wat met die skryf daarvan sedert 1915 geskep is, word in AWS 8 (1991) in twee van die grondbeginsels genoem as die verwysingspunt vir die spelling van Afrikaans, vgl.:

Die spelling van Afrikaans in die AWS is gebaseer op die klankstelsel van Standaardafrikaans, en

Die huidige spelling en skryfwyse van woorde word in ʼn hoë mate bepaal deur die tradisie waarvolgens Standaardafrikaans gespel en geskryf word.

9.7 Die gevolge van die VHS/VNS-episode

9.7.1 Spelling en Afrikaans se herkoms?

ʼn Gevolg van die AWS-Grondbeginsel dat Afrikaans volgens die VHS/VNS-uitgangspunte gespel moet word, het die Afrikaanse skrifbeeld nader aan die Nederlandse skryftaal gekry, en is aangehelp met ʼn groot aantal woorde wat in AWS 1 se woordelys opgeneem is, via die "VHS-woordeboeke van Elffers-Viljoen en Van Rijn", vermoed Nienaber (1973: 4). Dit het die onderlinge leesverstaanbaarheid tussen Nederlands en Afrikaans aangehelp, maar die Nederlandse en Afrikaanse spreektale het nog net so ver van mekaar af bly staan, en Afrikaanse woorde soos "worre" (volgens die GRA-spelling), en "suffel" (vgl. AWS 1) het spreektaalwoorde gebly.

Die gedwonge spellingverbintenis met Nederlands het nog ʼn gevolg gehad. Dit het die idee van ʼn genealogiese verwantskap tussen die twee tale versterk, wat aangesluit het by die leë bewering dat Afrikaans by Nederlands/Hollands ingesluit sou wees. Hierdie beeld is ook gebruik as ʼn argument vir die verkryging van ampstaalstatus vir Afrikaans. Dit was beter politiek as taalkunde, en het hardnekkig bly voortleef, selfs al is daar al op die onhoudbaarheid daarvan gewys (vgl. Zietsman 1992:9).

Deur Afrikaans en Nederlands tot 1991 aan mekaar te koppel in ʼn Grondbeginsel van die AWS'e, het die voorstellings dat Afrikaans hom in ʼn dogtertaalstatus ten opsigte van Nederlands sou bevind (soms sustertaal), ook ingehou dat Nederlands in ʼn taalevolusieproses oorgegaan het tot Afrikaans. Daarmee is besonderhede van Afrikaans se eiesoortige ontstaansgeskiedenis wat nie ʼn taalevolusieproses illustreer nie, geïgnoreer (Van Rensburg 2016).

9.7.2 Afrikaans se nie-Europese dialekte

Dialeksprekers van Afrikaans, veral diegene wat ʼn Afrikaans praat met ʼn Khoi- of Maleise onderbou, se taal was maklik herkenbaar op grond van hulle afstand met Nederlands, en is uit die AWS'e geweer, al het hulle oor ʼn breë spektrum ʼn beduidende rol in negentiende-eeuse Afrikaans gespeel (soos die bekendheid van verbindings met -goed, vgl. Pa-goed, aantoon). Zietsman (1992:9) skryf dat "voorvegters vir Afrikaans sy Germaanse karakter beklemtoon het en die bruin bydraes tot sy ontstaan en ontplooiing grotendeels misken het".

Die Grondbeginsels van die eerste AWS, en AWS'e net na hom, het as filters gedien waarmee nie-Nederlandse vorme wat van sy ontstaan af kenmerkend was van Afrikaans, geïgnoreer kon word. Hulle was nie "om praktiese redes noodsaaklik" nie, en waar hulle alreeds gespel is (soos byvoorbeeld deur die GRA), is besluit dat hulle meer as wat toegelaat is "van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling" afgewyk het (soos kinners, AWS 1). Daar kon ook (subjektief) besluit word of sulke woorde "die mees gebruiklike uitspraak" verteenwoordig (geseg, Ndl. gezicht). Laasgenoemde uitgangspunt het gebruiklikheid aan beskaafdheid gekoppel, waaraan onlogies nog ʼn normatiewe etiket van "die beste" gehang is (AWS 1). Die norm Algemeen Beskaafd kom uit die denksfeer van die Nederlandse tydskrif Taal en Letteren, tussen 1895 en1900. Die begrip VNS het sy oorsprong ook in daardie denkklimaat (Van der Horst & Van der Horst 1999: 356, 361) vanwaar dit deur die AWS'e oorgeneem is. AWS 1 (1917) gebruik nie die term "beskaaf" in die Grondbeginsels nie, maar wel in die Voorwoord (AWS 1:V). In 1931 (AWS 4) is Algemeen beskaaf in die Grondbeginsels opgeneem.

Volgens ʼn korpus wat uit negentiende-eeuse binnelandse koerante saamgestel is, blyk dit dat die skryfwyse met die hoë geronde voorvokaal [u] in oek en oer baie meer voorgekom het as die spellings ook en oor (respektiewelik 348 keer teenoor 62, en 331 teenoor 53 gevalle (Van Rensburg & Combrink 1983:143 e.v.). Hierdie spelwyse (oek en oer) het nie in die AWS'e neerslag gevind nie, asook ander vorme wat as "afwykinge van die 'algemeen gebruiklike' Afrikaanse uitspraak" beoordeel is (AWS4:ix).Talle Afrikaanssprekers se taal was as ras- en klasonderskeidend gemerk (vgl. die verwysings daarna in Steyn 2014:53), en het dit vir normeerders maklik gemaak om sulke vorme uit te ken. Ponelis (1993:125) merk op:

Some vernacular features (in all probability the vernacular stereotypes) were stigmatised so heavily that they entered neither more refined colloquial speech (the Hollands koine) nor Afrikaans.

Die beperkte mate waarin AWS'e die omvang van Afrikaans gereflekteer het, is al in die afgelope dekades meermale gekritiseer, en herstandaardiseringsgedagtes het juis hierom gewentel.

Deesdae lyk die prentjie anders. Ná konsultasie met belangegroepe is daar in die afgelope tyd al heelwat aandag gegee aan die vul van hiate in die AWS, en verder kan die TK tans ʼn groot versameling digitale tekste (ongeveer 57 miljoen woorde) raadpleeg om te help om besluite te neem (vgl. Van Huyssteen 2016).

Of herkomsgetuienis sowel as sosiale differensiasie met die vroeg-twintigste-eeuse standaardisering van Afrikaans meer simpatiek hanteer kon gewees het, al was dit sonder moderne hulpmiddels? Dan kon die resultaat ʼn kodifisering gewees het wat ooreenstem met Deumert (2004:2) se voorstelling dat "standard languages have 'multiple ancestors' and their history is shaped by various types of language contact". Die ondertone van rasonderskeidings lê ook vlak in vroeë Kuisafrikaans.

9.7.3 Toe die geleentheid om voort te bou, verpas is.

Toe die eerste Akademie-spelreëls gemaak is, het Afrikaans alreeds ʼn skryftaalgeskiedenis gehad (vgl. 4.5 hiervoor, en Kapp 1909:7). Die nuwe spelreëls van die twintigste eeu kon met ʼn goeie Afrikaanse taalwil beter by die bestaande verskriftelikings aangesluit het: met die wete dat ʼn voorstelling wat die afstand wat ʼn eeu bring, kleiner besonderhede van oorsaak en gevolg maklik oorsien.

Die beplande bevrugting van Afrikaanssprekendes se taal deur Nederlands het net ʼn beperkte tyd geduur. Daar was geen onderbou om dié aksie in stand te hou nie. Van 1914 af het Afrikaans skooltaal geword, en van 1925 af regeringstaal, waardeur Nederlandse invloed stelselmatig verklein is. In die tydperk tussen 1925-1941 het Nederlands finaal die vlag voor Afrikaans gestryk, skryf Kapp (2009:114).

9.7.4 Die reglementering van ʼn eie taal

Verafrikaansing was nie dieselfde as die reglementering van Afrikaans nie. Dié geleentheid om met die reglementering van negentiende-eeuse Afrikaans voort te gaan, was finaal verby, met die verlies van die erflating van die mense wat hulle omgewing en hulle geskiedenisse onlosmaaklik ingevleg het in die maniere waarop Afrikaans in die negentiende eeu geskryf is.

Die maak van ʼn skryftaal is ʼn aktiwiteit wat naby staan aan die sprekers, en deel het aan die wisselwerking van spraak en menswees, dit is die ervaar van ʼn eie wêreld op skrif, en die deel daarvan met nageslagte.

Oor die pad van vernederlandsing wat Afrikaans geloop het, sê Hofmeyr (1987:105), "that Afrikaans needed massive injections of Dutch to save it from the English and 'Coloured' structures which permeated it".

Sou die sprekers van negentiende-eeuse Afrikaans nie self hulle reëlings goed genoeg kon tref nie?

 

10. SAMEVATTING

Taalkommissies, van AWS 3 af, het Verafrikaansings steeds in die AWS'e deurgevoer, maar die gevolge van die 1914-Vernederlandsing kan steeds in die spelling van Afrikaans waargeneem word.

En AWS 11, na 100 jaar? Vir die eerste keer, na die verloop van ʼn eeu, bevestig die Voorwoord van AWS 11 dat Afrikaans se verskillende variëteite deel het aan Standaardafrikaans, dat die Taalkommissie die ontwikkeling en gebruik daarvan aanmoedig, en dat dit op die lange duur Standaardafrikaans kan verander en wysig.

 

BIBLIOGRAFIE

Akademie vir wetenskap en kuns. Jaarboek 1, (1910), 5, (1914), 6, (1915), 12 (1922).         [ Links ]

Antonissen, R. 1965. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Belcher, R. 1987. Afrikaans en kommunikasie oor die kleurgrens. In Du Plessis, H. & T. du Plessis (reds.). Afrikaans en taalpolitiek. Pretoria: HAUM, pp. 17-36.         [ Links ]

Bosman, F. C. L. 1959. Geskiedkundige oorsig van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In Feesalbum 1909-1959. Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Pretoria, pp. 73-166.         [ Links ]

Claassen, L.H. 1977. Die ontstaansgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir taal, lettere en kuns. M A-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Conradie, J. & Groenewald, G. 2014. Die ontstaan en vestiging van Afrikaans. In Carstens, W.A.M. & N. Bosman (reds). Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik, pp. 27-60.         [ Links ]

Crystal, D. 1987.The Cambridge encyclopedia of language. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Davids, A. 2011.The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Den Besten, H. 1989. From Khoekhoe Foreignertalk via Hottentot Dutch to Afrikaans: The Creation of a Novel Grammar, in M. Pütz, & R. Dirven, (eds.). Wheels within wheels. Papers of the Duisburg Symposium on Pidgin and Creole Languages. Frankfurt am Main: Peter Lang, pp. 207-209.         [ Links ]

Den Besten, H. 2005. Neerlandismen, pidginismen en Afrikaans in brieven van twee Khoekhoen uit 1800. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 12(1):25-42.         [ Links ]

Deumert, A. 2004. Language standardization and language change. The dynamics of Cape Dutch. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

Deumert, A. & W. Vandenbussche. 2003. Standard Languages. Taxonomies and histories. In Deumert, A. & W. Vandenbussche (eds). Germanic standardizations. Past to present. Amsterdam / Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

De Villiers, A. 1934. Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika. Annale van die Universiteit van Stellenbosch XIV, Reeks B, Aflewering 2. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2013. Die Groot Trek 175: Storie of historie? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 53(3):437-451.         [ Links ]

Du Plessis, H. 2016. Hoe Nederlands is Afrikaans? LitNet. Seminare en essays 2016-07-13.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1902. Fergelijkende Taalkunde fan Afrikaans en Engels. Paarl: D. F. du Toit.         [ Links ]

Eksteen, L.C. 1984. Die rol van die Akademie in die standaardisering van Afrikaans. In Moll, J.C. et al. (reds). Akademie 75. Pretoria: S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns, pp. 56-66.         [ Links ]

Eksteen, L. C. 1985. Die rol van die akademie in die standaardisering van die Afrikaanse spelling. In: Botha, R. P. & M. Sinclair (red). Norme vir taalgebruik, Spil plus 10:169-200.         [ Links ]

Elffers, H. 1908. The Englishman's Guide to the speedy and easy acquirement of Cape Dutch for the use of Travellers, Settlers and Military Men. Cape Town: Juta.         [ Links ]

Franken, J.L.M. 1953.Taalhistoriese bydraes. Amsterdam / Kaapstad: Balkema.         [ Links ]

Freund, W. M. 1989, 2nd ed. The Cape under transitional governments, 1795-1814, in R. Elphick & H. Giliomee (eds). 1989. The shaping of South African Society, 1652-1840. Cape Town: Maskew Miller Longman, pp. 342-357.         [ Links ]

Giliomee, H. 2009.The Afrikaners. Cape Town: Tafelberg.         [ Links ]

Hofmeyr, I. 1987. Building a nation from words: Afrikaans language, literature and ethnic identity, 1902-1924. In Marks, S. & S. Trapido (eds). The politics of race, class and nationalism in twentieth-century South Africa. London & New York: Longman, pp. 95-123.         [ Links ]

James, L. 1998.The rise and fall of the British empire. London: Abacus.         [ Links ]

Kapp, P.H. 2009. Draer van ʼn droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 1909-2009. Hermanus: Hemel en see boeke.         [ Links ]

Lätti, M. C. 1978. Die taalgebruik in Ons Klyntjie 1896-1906. Ongepubliseerde M. A. Universiteit van die Witwatersrand.         [ Links ]

Le Roux, T. H. 1926. Die geskiedenis van die Afrikaanse spelling. In Gedenkboek ter eere van die Genootskap van regte Afrikaners. Potchefstroom: Die Weste-Drukkery, pp. 256-277.         [ Links ]

Le Roux, T. H. 1968 (a). Die geskiedenis van die Afrikaanse spelling. In Pienaar P. de V. (red). Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Nasionale Boekhandel: Kaapstad, pp. 163-174.         [ Links ]

Le Roux, T. H. 1968 (b). Afrikaanse Taalstudies. Pretoria: J. L. Van Schaik.         [ Links ]

Lichtenstein, H. 1928-30 [1812-15]. Travels in Southern Africa in the years1803, 1804, 1805, 1806; by Henry Lichtenstein. (Vertaal deur A. Plumptre.) Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging.         [ Links ]

Malherbe, D. F. 1959. Herinneringe in verband met die Akademie. In Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Feesalbum 1909-1959. Pretoria: Van Schaik, pp. 40-43.         [ Links ]

Meiring, A. G. S. 1956. Die Afrikaanse Taalbewegings. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

McLachlan, J. D. 2016. Standaardafrikaans, standaardspelling en die AWS. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 56, (2-1):477-502.         [ Links ]

Newton-King, S. 1999. Masters and servants on the Cape Eastern frontier. New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

Nienaber, G. S. 1973. Taalkommissieopdrag oor die wyse waarop woorde in die AWS opgeneem is. Agenda van die Taalkommissie, 2 Julie tot 6 Julie 1973, Bylae 73.2.4, pp. 1-15.         [ Links ]

Nienaber, P.J. & J.A. Heyl. 1960. Pleitdooie in belang van Afrikaans. Deel II. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Nienaber, P.J. 1982. Vroeë Afrikaans in die Vrystaat tot 1875. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Odendaal, G. 2014. Moet Afrikaans geherstandaardiseer word? Tydskrif vir Geesteswetenskappe 54(4):656-674.         [ Links ]

Ploeger, J. 1952. Onderwys en onderwysbeleid in die Suid-Afrikaanse Republiek onder Ds. S. J. du Toit en dr. N. Mansveld (1881-1900). Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis 15 (1). Parow: Staatsdrukker.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 1993.The development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang.         [ Links ]

Pont, J. W. 1935. Het studiefonds voor Zuid-Afrikaansche studenten 1885-1935. Overzicht van zijn geschiedenis. Amsterdam: Keizersgracht 141.         [ Links ]

Pretorius, F. 1998. Die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Kaapstad: Struik-uitgewers.         [ Links ]

Pretorius, F. 2012. Almal se oorlog: die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). In Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 235-254.         [ Links ]

Raidt, E. 1976. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Raidt, E. 1991.(3de uitgawe). Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Raidt, E. 1986. Taalvariasie in agtiende eeuse vrouetaal. In Historiese Taalkunde. 2001. Johannesburg: Witwatersrand University Press, pp. 217-257.         [ Links ]

Roberge, P. 2003. Afrikaans. In Deumert, A. & W. Vandenbussche (reds.). Germanic standardizations. Past to present. Amsterdam / Philadelphia: John Benjamins, pp. 15-40.         [ Links ]

Scholtz, J. du P. 1965. Afrikaans uit die vroeë tyd. Studies oor die Afrikaanse taal en literêre volkskultuur van voor 1875. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Stals, E.L.P. & Ponelis, F.A., 2001. So het Afrikaans na Namibië gekom. Windhoek: Gamsberg Macmillan.         [ Links ]

Steyn, J. C. 1980.Tuiste in eie taal. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Steyn, J. C. 2014. Ons gaan ʼn taal maak. Afrikaans sedert die Patriot-jare. Centurion: Kraal uitgewers.         [ Links ]

Steyn, R. 2015. Jan Smuts. Unafraid of greatness. Johannesburg: Jonathan Ball.         [ Links ]

Tromp, T. M. 1879. Herinneringen uit Zuid-Afrika ten tijde der annexatie van de Transvaal. Leiden, E. J. Brill. In Van der Merwe H J J M. 1971. Vroeë Afrikaanse woordelyste. Pretoria: Van Schaik, pp. 19-28.         [ Links ]

Van der Horst, J. & K. Van der Horst. 1999. Geschiedenis van het Nederlands in de twintigste eeuw. Antwerpen. Standaard Uitgewerij.         [ Links ]

Van der Merwe, H J J M. 1971. Vroeë Afrikaanse woordelyste. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Van Huyssteen, G. 2016. Taalkommissiesitting. Beeld, 1/10/2016.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2015. Oor die eerste 50 jaar se maak aan Standaardafrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(3):319-342.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2016. Die vroegste Khoi-Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2-1):454-476.         [ Links ]

Van Rensburg, M.C.J. & Combrink, J.H.1984, 1ste uitgawe. Transvaalse Afrikaans. In T.J.R. Botha, (red). Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 107-133.         [ Links ]

Van Rijn, C. J. 1914. Het zeer nauwe verband tussen het Afrikaans en het Nederlands. Vooral voor onderwijzers. Kaapstad: C. J. Van Rijn.         [ Links ]

Viljoen, W. J. 1896. Beiträge zur Gescichte der Cap-Holländische Sprache. Strassburg: Karl J. Trübner.         [ Links ]

Uys, M. 1983. Die vernederlandsing van Afrikaans. Ongepubliseerde D. Litt-proefskrif. Pretoria. Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Zietsman, P. H, 1992. Die taal is gans die volk. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

Uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls:

AWS1: Le Roux, T. H., Malherbe, D. F. & Smith, J. J., in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1917. Afrikaanse woordelijs en spelreëls. Bloemfontein: Het Volksblad-Drukkerij.         [ Links ]

AWS2: Le Roux, T. H., Malherbe, D. F.& Smith, J. J., in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. 1918. Afrikaanse woordelijs en spelreëls. Bloemfontein: De Nationale Pers.         [ Links ]

AWS6: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1953. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad, Bloemfontein & Johannesburg: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

AWS7: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1964. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad & Johannesburg: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

AWS8: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 1991. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

AWS10: Taalkommissie (samest.), in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2009. Afrikaanse woordelys en spelreëls. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

 

 

 

CHRISTO VAN RENSBURG was vir dertien jaar lank ʼn lid van die Taalkommissie, en het hom meermale uitgespreek oor die problematiek wat inskrywings uit Afrikaans se dialekwoordeskat in die Afrikaanse Woordelyste en Spelreëls onderlê het. Die Afrikaans in briewe wat onveranderd in negentiende-eeuse koerante geplaas is (wat hy saam met J.H. Combrink ondersoek het), en die gesproke Afrikaans van Afrikaanse dialekgemeenskappe, het moeilik in die AWS'e tereggekom.
Hy het saam met nagraadse studente daarna vrae gevra oor hoe dit gebeur het dat die eerste Kommissies van die "Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst" wat na die Afrikaanse spelling moes omsien, hulle aan Nederlands verbind het, eerder as aan Afrikaans.
CHRISTO VAN RENSBURG was a member of the Language Commission for thirteen year, and on several occasions expressed his opinions regarding the problematic nature of including entries from the vocabulary of Afrikaans dialectal varieties in the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. The Afrikaans of letters published unaltered in nineteenth century newspapers (which he investigated with J.H. Combrink) and the spoken Afrikaans of communities using Afrikaans dialects were included with great difficulty in the AWS's, even though they continued to be used on various levels.
A question that subsequently followed, was how it had come about that the first Commissions of the Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, which had to take care of the spelling of Afrikaans, committed themselves to Dutch rather than to Afrikaans.
1 7.1 is 'n opsomming van 'n ongepubliseerde studie van J. C. Steyn, en is deur hom geskryf, op versoek van die outeur.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License