SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2-1The diminishing attractiveness of the academic profession in South AfricaRemuneration trends in the public sector during sustained inflation: an economic perspective author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.2-1 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a2 

ARTICLES

 

Die laaste projek van die "Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika": Die Vereenvoudigde Hollandse Spelling

 

The last project of the "Dutch language movement in South Africa": The Simplified Dutch Spelling

 

 

J.C. Steyn

Navorsingsgenoot: Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat Bloemfontein. E-pos: steynjaap@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Die Vereenvoudigde Hollandse spelling (VHS) waarna AWS1 in sy voorwoord verwys, was die laaste groot projek van die "Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika". Die aanhangers van dié beweging wou onder meer Hollands vereenvoudig om dit makliker lees- en skryfbaar vir Afrikaanssprekendes te maak. Hierdie strewe het gekom van die Zuid-Afrikaansche Taalbond in die Kaapkolonie, asook onderwysers en joernaliste in Transvaal en die Vrystaat, waar Hollands die amptelike taal was. Twee van die belangrikste figure in die Taalbond was die teoloog P.J.G. de Vos en die taalkundige, W.J. Viljoen, professor in moderne tale en geskiedenis op Stellenbosch. Ná 'n kongres in 1897 in Kaapstad is Suid-Afrikaanse voorstelle vir 'n vereenvoudigde Hollands aan 'n kongres in Nederland voorgelê, maar dit is verwerp. In 1903 is Viljoen na Nederland en hierdie keer het sowat twintig taalkundiges en die "Commissie voor Taal en Letteren bij de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden" hul steun aan die Suid-Afrikaanse voorstelle toegesê. Hierdie voorstelle het volgens die aanhangers 'n "nieuwe taalbeweging" laat begin wat "een machtige stroom" geword het. Ná die aanvaarding van Afrikaans as onderwystaal het die VHS sy nut verloor, maar by die opstel van Afrikaanse spelreëls is daarmee rekening gehou.

Trefwoorde: Vereenvoudigde Hollandse spelling, W.J. Viljoen, Zuid-Afrikaansche Taalbond, De Volksstem, Kollewijn-spelling, Afrikaanse woordelys en spelreëls, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, spelling-kommissie, Afrikaanse taalbeweging, Hollandse taalbeweging, Johannes Brill, F.V. Engelenburg, Hubert Elffers, P.J.G. de Vos


ABSTRACT

In the first edition of the Afrikaans Word List and Spelling Guidelines ("Afrikaanse Woordelys en Spelreëls"), the "Spelling-Commission" states five general principles that were assumed in setting the guidelines. The fourth is: "[Om] so weinig as moontlik van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling af te wijk" ("to deviate as little as possible from the Simplified Dutch Spelling"). The VHS was one of the most important projects of the Dutch language movement in South Africa. The project's supporters aimed at restoring the position of Dutch as a medium of education and as a public language in the Cape Colony in the last quarter of the nineteenth century.
To Afrikaners (and even the Dutch), Dutch was a difficult language to write by the end of the nineteenth century. Because of this, eminent Dutch language promoters aimed at simplifying Dutch as a written language. This movement came from the Zuid-Afrikaansche Taalbond (South African Language Association) in the Cape Colony, as well as teachers and journalists in the Free State and Transvaal, which both had Dutch as an official language.
The Language Association was founded in 1890 for the purpose of promotion of knowledge of the people's language and establishing an emerging sense of nationality). With 47 votes against 36, it was decided that the "language of the people" would be Dutch rather than Afrikaans. Two of the most important figures in the Language Association were the theologian P.J.G. de Vos and linguist, W.J. Viljoen, professor of modern languages and history at the Victoria College (forerunner of the University of Stellenbosch).
The Language Association realised that Dutch would be in a much stronger position to compete with English if its written form could be simplified. It was understood that they could tie in with one of the linguists in the Netherlands that also advocated for language simplification. It was R.A. Kollewijn, founder, in 1892, of the Association for the simplification of our Writing Language. According to him, Dutch spelling was too difficult and students had to spend unnecessary time mastering Dutch spelling.
A joint conference of Afrikaners from Cape Town and Stellenbosch, as well as Transvaal and the Free State, instructed an executive committee in 1897 to obtain a statement of support from Dutch linguists and linguistic bodies. A number of suggestions for simplification in the direction of the Kollewijn spelling were adopted.
The Anglo-Boer War (1899-1902) brought an end to language activities. However, soon after the war, simplification was again on the agenda when the Dutch movement met in Stellenbosch on 20 January 1903. This was as a result of a question from the Transvaal Education Department in 1902 whether the 1897 decisions were to be considered authoritative for the purpose of education.
The executive committee asked Viljoen to prepare a report on the simplification of the written language. He consulted with linguists and other experts in the Netherlands and Belgium and on 19 September 1903 the Commissie voor Taal en Letteren bij de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden ("Committee for Language and Literature in Leiden at the Society of Dutch Literature") held a meeting in which twenty professors participated. Viljoen received a very positive supporting statement from management on 5 October 1903.
A language conference was held on 28 December 1904 in Cape Town. The Language Association also invited delegates from the Transvaal, the Free State and Natal. All the education organisations were positive towards the recommendations and over the course of the following year, the VHS received additional support.
Viljoen, De Vos and the other simplifiers therefore had reason to feel satisfied by the end of 1906. Education authorities supported the VHS and it was introduced in Dutch-Afrikaans newspapers such as Ons Land. But for speakers of Afrikaans outside of this intellectual space, even this simplified Dutch remained a difficult language. De Waal expressed this difficulty as follows in the newspaper De Goede Hoop (October 1904: "Hebben wij Afrikaners het niet moeilijk genoeg om zowel Nederlandsch als Afrikaansch in dit Engelsche land in stand te houden? Laat de lieve Taalbond ons toch niet met een derde Hollandsche taal komen lastig vallen". ("Do us Afrikaners not have it difficult enough to maintain both Dutch and Afrikaans in this English country? Let the dear Language Association not trouble us with a third Dutch language".)
The South African Dutch written language underwent changes in 1904 that would only be accepted in the written language in the Netherlands in 1934. But the modernised spelling could not save Dutch in South Africa. Afrikaans won, but the VHS still exercised influence on the Afrikaans spelling guidelines.

Key words: Simplified Dutch Spelling, W.J. Viljoen, Zuid-Afrikaansche Taalbond (South African Language Association), De Volksstem, Kollewijn's spelling system, Afrikaans list of words and spelling guidelines, South African Academy for Science and Art, Afrikaans language movement, Dutch language movement, Johannes Brill, F.V. Engelenburg, Hubert Elffers. P.J.G. de Vos


 

 

INLEIDING

Die Spelling-kommissie van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst skryf in die Afrikaanse woordelijs en spelreëls van 1917 dat hy uitgegaan het van vyf grondbeginsels. Volgens die derde grondbeginsel moes die Afrikaanse spelling "so weinig as moontlik van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling [afwijk]" Hierdie spelling (voortaan VHS) het dus 'n belangrike invloed op die Afrikaanse spelwyse gehad.

Die VHS was die laaste groot projek van die "Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika" - 'n "beweging vir die bestendiging van die Hollandse Taal" (De Villiers 1936:88). Die "Suid-Afrika" waarna De Villiers verwys, was in die 19de eeu die twee Britse kolonies, die Kaapkolonie en Natal, en die twee Afrikanerrepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) en die Oranjevrijstaat (OVS of die Vrystaat). In die 20ste eeu was dit dieselfde vier gebiede, maar die ZAR en OVS was ná 1902 ook Britse kolonies. Die vier kolonies is in 1910 verenig in die Unie van Suid-Afrika.

Die bedoeling met hierdie artikel is om 'n oorsig te gee van pogings om Hollands as skryftaal in Suid-Afrika te vereenvoudig deur die VHS in te voer. Ten eerste word gelet op De Zuid-Afrikaansche Taalbond en sy leiersfigure, veral W.J. Viljoen. Dié bond het die inisiatief geneem om 'n eenvormige VHS te vestig. Daarna word die 19de- en 20ste-eeuse pogings tot taalvereenvoudiging behandel asook die "nieuwe taalbeweging" wat daaruit ontstaan het. Ten slotte word ingegaan op die invloed van die VHS op die Afrikaanse spelreëls, soos dit uiteengesit is in die AWS1 van 1917. Dit het alles gebeur in 'n tyd waarin Nederlands in die volksmond en in amptelike dokumente soos wette Hollands genoem is.1 Daarom word die benamings Hollands en Vereenvoudigde Hollandse Spelling hier behou.

 

DE ZUID-AFRIKAANSCHE TAALBOND EN W.J. VILJOEN

Die Hollandse en Afrikaanse taalbewegings was uitvloeisels van die Afrikanernasionalisme van die laaste kwart van die 19de eeu (Giliomee 2012 en Scholtz 1980: 6-9). Die "nasionale ontwaking en politieke bewuswording" van die Kaapse Afrikaners (Scholtz 1980:6) het die klimaat geskep vir die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 en De Zuid-Afrikaansche Taalbond in 1890. Hoewel die GRA gemeen het dat Hollands in Suid-Afrika "reddeloos verlore" was (Scholtz 1965:201) en geywer het vir Afrikaans as skryftaal, het die GRA-lede met die voorstanders van Hollands saamgewerk vir die herstel van die taalregte van Hollands (De Villiers 1936:98). Die GRA se mondstuk, Die Afrikaanse Patriot, het byvoorbeeld uit sy kantoor petisies versprei waarin vir die erkenning van Hollands as 'n taal van die Kaapse parlement gevra is (Du Toit 1917:129). Soos verderaan in hierdie artikel sal blyk, was heelparty voorstanders van Afrikaans betrokke by die vereenvoudiging van Hollands.

Vir dié vereenvoudiging het veral een liggaam hom beywer: De Zuid-Afrikaansche Taalbond. Die Taalbond is gestig op 'n kongres wat van 31 Oktober tot 1 November 1890 in Kaapstad gehou is. Die doel daarvan was die "bevordering van de kennis der Volkstaal en de aankweking van een ontwikkelde nationaliteits gevoel" (Scholtz 1980:10). Met 47 stemme teenoor 36 het die kongres besluit dat Hollands in plaas van Afrikaans die "volkstaal" is (Hofmeyr 1913:467). Die Taalbond het veral sterk gestaan op Stellenbosch. Die voorsitter was prof. P.J.G. de Vos van die kweekskool van die Nederduits Gereformeerde Kerk. Hy was 'n onvermoeibare taalaktivis, 'n vurige voorstander van Hollands en teenstander van Afrikaans as skryftaal. De Vos was die groot dryfkrag agter 'n vereenvoudigde Hollands.

Die belangrikste taalgeleerde in die Taalbond was W.J. Viljoen, professor in moderne tale en geskiedenis aan die Victoria College (voorloper van die Universiteit van Stellenbosch). As Taalbondlid was hy gekant teen die gebruik van Afrikaans as skryftaal, hoewel hy aanvanklik vir dié taal in die bresse getree het. Voor sy studie in Europa was hy onderwyser aan die Normaalkollege van die NG Kerk in Kaapstad. Daar was die voertaal vir alle vakke Engels. Aan Hollands is 'n halfuur per week afgestaan. By dié kollege het Viljoen se pad gekruis met dié van sy latere teenstander, die taalstryder J.H.H. de Waal. Hy was in sy laaste skooljare 'n leerling van Viljoen. Volgens De Waal (1939:26-27) was Viljoen in staat om geesdrif vir sy vak, Hollands, by die leerlinge te wek. Dit kon die Nederlanders wat die vak gedoseer het, nie regkry nie. Viljoen het ook "'n goeie woordjie vir Afrikaans gehad". Dit was buitengewoon "selfs vir Afrikaner-onderwysers". Hy het die jong De Waal entoesiasties vir Afrikaans gemaak en hom op 'n skoolkonsert twee kort versies in Afrikaans laat voordra. Viljoen en sy baas, die rektor, J.R. Whitton, het in De Waal se teenwoordigheid heftig en lank oor die wenslikheid van so 'n voordrag gestry - "die een so verontwaardig as die ander" (De Waal 1939:26-27). Afrikaans was by die Normaalkollege min of meer 'n verbode taal.

Viljoen is in 1891 met 'n studiebeurs na Europa en het gaan studeer aan die Universiteite van Amsterdam, Leiden en Straatsburg. By laasgenoemde het hy in 1894 sy Allgemeine Einleitung zur Geschichte der Cap-Holländischen Sprache - inaugural Dissertation2 voorgelê en in 1896 sy Ph.D magna cum laude behaal op grond van 'n proefskrif Beiträge zur Geschichte der Cap-Holländischen Sprache.3 Hy was in dié werk glad nie teen Afrikaans as skryftaal nie en merk op dat C.P. Hoogenhout met sy boekie, Die geskiedenis van Josef voor Afirkaanse Kinders en Huishoudings, in hulle eige Taal, geskrijwe deur een vrind, toon dat die taal ewe goed vir ernstige as grappige sake gebruik kon word. Hy stel die vraag: "As Afrikaans geskik is as voertaal van mondelinge gedagtewisseling, waarom kan hy nie net so geskik wees, of geskik gemaak word, om hom tot skryftaal te laat verhef nie?" (Le Roux 1953:80 en De Waal 1939:44).

Toe De Waal in 1894 in Londen aankom vir sy studie in die regte, was Viljoen een van die eerste mense wat hy daar ontmoet het. (De Waal meld nie waarom Viljoen daar was nie.) Die eerste belangrike saak waaroor hulle gepraat het, was Afrikaans. Viljoen het met baie geesdrif oor dié taal uitgewei maar sy houding teenoor Afrikaans as skryftaal het verander. Hy het gesê dat die tyd vir Afrikaans nog nie ryp was om as skryftaal te dien nie omdat dit in 'n nog te vroeë stadium van sy ontwikkeling was. De Waal het opgemerk dat S.J. du Toit die saak van Afrikaans bederf het deur sy "alte radikale afwyking van die Nederlandse spelwyse". Viljoen se antwoord was dat hy aanvanklik dieselfde gedink het, maar oortuig geraak het dat Du Toit se reëls "goed gegrond" is, "en hy kon nie genoeg sy bewondering uitspreek vir die filologiese kennis en deursig van die man wat nie juis 'n taalgeleerde was nie" (De Waal 1939:43-44).

Reeds terwyl Viljoen in Straatsburg was, is hy aangestel as professor aan die Victoria College, en hy het die pos in Januarie 1895 aanvaar. Volgens Erasmus (1972:835) het hy 'n groot invloed uitgeoefen weens "sy kragtige persoonlikheid, welsprekendheid en vurige liefde vir sy vak". 'n Letterkundige gespreksvereniging wat hy gestig het, "Ons Spreekuur", was gou die gewildste op Stellenbosch.

Viljoen, sedert 1897 bestuurslid van die Taalbond, en ander bestuurslede het besef dat die spelling van Hollands vereenvoudig moes word om toegankliker te wees vir Afrikaanssprekendes. Vir hulle was die spelling en ook "enkele van die stip-grammatikale vorme" (De Villiers 1936: 165) onnodig moeilik om aan te leer.

Die voorstanders van taalvereenvoudiging is in hul oortuigings gesterk deur die opvattings van die Vereeniging tot Vereenvoudiging van onze Schrijftaal. Dit is in 1892 in Nederland gestig deur deur R.A. Kollewijn. Die vereniging het hom beywer vir die vereenvoudiging van die Nederlandse spelling. Volgens Kollewijn was die bestaande spelreëls te moeilik en moes kinders onnodig baie tyd op skool daaraan bestee om die spelling baas te raak. Skrywers moes gedurig dié spelreëls raadpleeg om seker te maak wat die korrekte spelling is. Sy uitgangspunt was dat 'n mens in die skryftaal geen onderskeidings moet invoer wat nie in die spreektaal bestaan nie en geen onderskeiding moet handhaaf wat in die spreektaal verlore gegaan het en waarvan die toepassing voortdurend probleme veroorsaak nie. Die vereenvoudiging moet nuttig wees by die skryf en nie te veel opval by die lees nie (Van der Wal 1994:326).

Van der Wal (1994:327) en Van der Sijs (2004:289) noem 'n aantal punte in die program van Kollewijn se vereniging: die verskille tussen die e en ee en o en oo, wat op die etimologie gegrond is, word afgeskaf; sch word alleen geskryf wanneer die sch in die uitspraak gehoor kan word: schip, maar vis en wensen; -isch moet geskryf word as -ies; '"stom medeklinkers" word nie geskryf nie soos in tans en kersfees; -lijk word vervang deur -lik soos in gewoonlik. As gevolg van laasgenoemde voorstel is die bynaam die 'lik'-spelling soms gebruik. (Odendaal 2012:242, voetnoot 9, verstrek 'n lang lys van verskille tussen die destyds bestaande Nederlandse spelling en die Kollewijn-spelling.)

 

TAALVEREENVOUDIGING IN DIE 19DE-EEUSE SUID-AFRIKA

Die eerste vereenvoudigers het veral uit die onderwys en die joernalistiek gekom. De Volksstem van Pretoria het in 1894 'n vereenvoudigde spelling begin gebruik, waarvan Preller melding maak (Zietsman 1982:236). Die redakteur, dr. F.V. Engelenburg, was 'n voorstander van 'n vereenvoudigde spelling en het dit in sy koerant ingevoer ondanks die teenstand van baie lede van die groot Hollandse gemeenskap van Pretoria. Hy het ook verskeie artikels daaroor geskryf (Brink 2010:160-162). Odendaal (2012:242) noem naas dié blad Ons Land van Kaapstad (volledige naam De Zuid-Afrikaan vereenigd met Ons Land) en De Express van Bloemfontein. Hulle het almal 'n vorm van vereenvoudiging toegepas en daar was gevolglik verskeie spelwyses.

P.J.G. de Vos wou 'n verenigde front tot stand bring sodat die taalleiers in die verskillende state saam aan 'n eenvormige vereenvoudigde Hollands kon werk. Hy het Pretoria en Bloemfontein in Oktober 1895 besoek om sy strewe te propageer. Op sy aandrang is taalkomitees in die twee hoofstede gestig. Die lede was almal vooraanstaande Afrikaans- en Hollandssprekendes - 'n aanduiding van die waarde wat prominente figure op verskillende terreine aan hul skryftaal geheg het.

Die Bloemfonteinse komiteelede was dr. Johannes Brill, rektor van Grey-kollege, regter J.B.M. Hertzog en A. Francken, taalonderwyser by Grey en later 'n bekende taalkundige. Francken was toe al 'n yweraar vir Afrikaans en het in 1896 die eerste Afrikaanse taalkongres in die Paarl bygewoon. Ook Brill was 'n openlike voorstander van Afrikaans. Sy lesing "De landstaal" - hy het betoog Afrikaans, en nie Hollands nie, is eintlik die volkstaal van die Afrikaanssprekendes - was in 1875 'n stimulus vir die stigting van die GRA (Scholtz 1965:198).

In Pretoria het daar reeds van Maart 1895 af 'n komitee bestaan wat De Volksstem oor taalsake moes adviseer. Verskeie persone het daarin gedien. Engelenburg was voor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) 'n teenstander van Afrikaans as skryftaal (Brink 2010:162).

De Vos, Engelenburg en 'n paar ander Pretorianers het in Oktober 1895 in Engelenburg se huis vergader. Die lede van die Transvaalse komitee was naas Engelenburg onder andere I. N. van Alphen, gewese joernalis en later posmeester-generaal; ds. H.S. Bosman, NG predikant en oprigter van 'n Engelse meisieskool; J.F.E. Celliers, die latere digter wat toe bibliotekaris was; Nico Hofmeyr, onderwyser en skrywer; dr. N. Mansvelt, Transvaalse superintendent-generaal van onderwys en dr. Hendrik Reinink, rektor van die hoogaangeskrewe Staatsgimnasium. 'n Werkkomitee van dié groep het in April 1896 'n voorstel ingedien dat die Kollewijn-spelling in beginsel aangeneem word. Die komitee het die voorstel aanvaar op voorwaarde dat "de analoge beweging in Nederland officieele erkenning zal erlangen" (De Villiers 1936:165).

Ná heelwat voorbereidingswerk op inisiatief van De Vos is die Eerste Congres ter Vereenvoudiging van de Nederlandsche Taal op 4 en 5 Januarie 1897 in Kaapstad gehou. Die teenwoordiges was proff. De Vos, N.J. Hofmeyr van die kweekskool op Stellenbosch, W.S. Logeman en Viljoen, mnre. M.J. Stucki ('n bekende onderwyser), en J.H. ("Onze Jan" ) Hofmeyr (leier van die Afrikanerbond), asook die jong adv. F.S. Malan, redakteur van Ons Land, uit die Kaapkolonie; Bosman, Reinink en Hofmeyr uit die ZAR en Brill uit die Vrystaat.

De Vos was vasbeslote dat die kongres 'n eenparige besluit neem en dus sou 'n bespreking van Afrikaans nie toegelaat word nie. Om dubbel seker te maak daar is geen teenstemme teen 'n eenparige besluit nie, sou Brill slegs 'n raadgewende stem hê. Dit was bekend dat die Vrystaters 'n vereenvoudigde Hollands gesien het as 'n metode om Afrikaans onregstreeks te bevorder (Claassen 1977:52). In 'n verklaring van die sekretaris van die kongres is dit uitdruklik gestel dat die doel van die kongres die vereenvoudiging van Hollands sou wees (De Villiers 1936:167-168).

Dié sekretaris was Hofmeyr uit die ZAR, een van die afgevaardigdes wat vantevore al laat blyk het hy is 'n voorstander van Afrikaans. Hofmeyr het sy hartstogtelike liefde vir Afrikaans in 'n brief aan sy swaer, J.D. Kestell, bely terwyl Logeman, professor in moderne tale aan die South African College, die latere Universiteit van Kaapstad, op die eerste Afrikaanse taalkongres in 1896 in die Paarl opgetree het (Steyn 2014:27-28 en 36-37).

'n Goeie samevatting van die soort probleme waarmee skrywers geworstel het, verskyn in De Vos en Besselaar (1904:5-6) se weergawe van die toespraak van 'n ongeïdentifiseerde kongresganger. Die geskrewe of boek-Hollands lewer selfs vir die ywerige en bedrewe student "lastige kniksporen, doorslagplekken, slagijzers" waaruit 'n mens jou slegs kan red deur gedurig die spelreëls en woordeboek te raadpleeg. "Waarom moet ik als ik van een komkommer of een pompoen, of een aardappel, of een patat, of van een weg of straat schrijf, onderzoeken of het ding mannelijk of vrouwelijk is, of ik in den derden of vierden naamval 'de' dan wel 'den' er vóór moet plaatsen, of ik, wanneer ik daarnaar refereer, moet gewagen van een 'zij' of 'hij', of ik 'haar' dan wel 'zijn' of 'deszelfs' moet zeggen?" Die gehoor het gelag. Die mees beskaafde Hollander, het die spreker gesê, het daardie onderskeid in sy spreektaal al lankal afgeskaf en beskou iemand wat hom nog daarvan bedien in sy vriendekring as pedanties of 'n gek. Hy het vervolgens gevra: Waarom moet Afrikaners steeds onder die las swoeg? Waarom moet ons steeds gaan naslaan of die spelreëls eis dat ons in die een oop of lang sillabe een enkele O of E gaan gebruik, of in 'n ander geval 'n dubbele O of E? Waarom moet dit 'n doodsonde wees wanneer jy geloven spel met een O en eweseer as jy in belooven twee O's instop? "Waarom moet gij, jongkerels, wanneer gij een verlOvingsbrief aan het meisje uwer keuze wilt schrijven, eerst angstvallig gaan uitsnuffelen, of het gewichtig woord al of niet aan één O genoeg heeft?" (De Vos & Besselaar 1904:5-6).

Die spreker het gesê dat al hierdie fyn onderskeidings reeds in Nederland lastig is en daarom wil Kollewijn en ander die sukkelende leerling daarvan verlos, maar hier in Suid-Afrika, "in den strijd tusschen de talen", is dit presies soos 'n wedren waarin 'n mens die Engelse perd 'n "feather weight jockey" gee, maar die Hollandse perd met honderd pond swaarder maak. Wyd en syd word gekla oor so 'n ongelyke wedywering. Veral ons beste onderwysers kla - in Stellenbosch, Bloemfontein en Pretoria (De Vos & Besselaar 1904:6).

Die kongres het 'n uitvoerende kommissie (Viljoen, De Vos, Brill, Nico Hofmeyr en Reinink) opdrag gegee om by Nederlandse taalkundiges en taalliggame 'n verklaring van steun te verkry. Die kongreslede wou nie vereenvoudigings invoer wat in stryd sou wees met die Nederlandse taaleie nie (Scholtz 1980:12-13 en De Villiers 1936: 167). De Vos en Besselaar noem verskeie kongresgangers wat hulle positief oor die Kollewijn-rigting uitgelaat en aansluiting daarby gevra het, soos Reinink, Moorrees en Brill. Laasgenoemde was wel sterk gekant teen die skepping van 'n "tweede Nederlands" in Suid-Afrika. Die kongres het eenparig 'n aantal voorstelle vir vereenvoudiging in die Kollewijn-rigting aangeneem.

Die Suid-Afrikaanse voorstelle is inderdaad in Augustus 1897 in Dordrecht, Nederland, op 'n kongres van taal- en letterkundiges vir goedkeuring aan taalgeleerdes voorgelê. Maar in Nederland is 'n heftige stryd gevoer tussen die aanhangers van Kollewijn en die bestaande spelling. Die kongresgangers was aanhangers van laasgenoemde en die Suid-Afrikaanse voorstelle het woorde en uitdrukkings bevat wat die Nederlanders nie geken het nie, asook woorde wat Kollewijnagtig gespel is. Die kongres wou dus nie die voorstelle goedkeur nie (Claassen 1977:56-58).

De Vos het hom nie daardeur laat afskrik nie, maar voordat die saak verder gevoer kon word, het die Anglo-Boereoorlog 'n einde aan hierdie soort aktiwiteite gemaak. Die Taalbond het van Oktober 1899 tot Januarie 1903 nie vergader nie.

 

TAALVEREENVOUDIGING IN DIE 20STE-EEUSE SUID-AFRIKA

Ná die oorlog was vereenvoudiging die rede waarom leiers van die Hollandse beweging op 20 Januarie 1903 op Stellenbosch bymekaargekom en volgens De Villiers (1936:171) die Z.A. Taalbond "opnuut" opgerig het. Die vergadering is gehou om 'n brief te bespreek wat die Transvaalse onderwysdepartement in 1902 aan prof. De Vos gestuur het. Hy was voorsitter van die kongres van 1897, maar ook voorsitter van die Taalbond. Die departement het gevra of die 1897-kongresbesluite insake taalvereenvoudiging as gesaghebbend en bindend vir die onderwys beskou kon word (De Villiers 1936:170). Hollands is nie as onderrigmedium in die staatskole van die nuwe Britse kolonies, Transvaal en die Orange River Colony, toegelaat nie, maar Hollands was wel 'n keusevak. Die klagtes oor die gehalte van die onderrig daarvan as vak was juis een van die groot griewe van die Transvaalse Afrikaners (Zietsman 1992: 139-140). Die Hollandse spelling was ook belangrik vir die CNO-skole. Die beweging vir CNO ("Christelik Nationaal Onderwijs") het Hollands as die vernaamste onderrigmedium in sy skole gebruik.

Aangesien die Taalbond nie goedkeuring van die 1897-voorstelle uit Nederland kon kry nie, het die hoofbestuur Viljoen gevra om voorstelle aan die hand te doen vir die vereenvoudiging van Hollands. Hy het dit gedoen en daarby die erkenning van tipies Suid-Afrikaanse woorde en uitdrukkings deel van sy voorstel gemaak om die skryftaal nader aan die spreektaal (dus Afrikaans) te bring. Die hoofbestuur het dit in Maart 1903 aanvaar. Toe dit bekend word dat Viljoen na Europa op pad was, het die Taalbond hom gevra om sy voorstelle in Nederland en België met erkende taalkundiges en verenigings te bespreek en amptelike goedkeuring te probeer verkry. In 'n brief van De Vos is die Taalbond se standpunt weergegee. "Wij willen geen nieuwe taal gaan scheppen die den naam van Nederlandsch niet waardig zal zijn." Die Taalbond sê in die brief hy hou die oog op veranderings en vereenvoudigings wat ook in Nederland self burgerreg verkry het en wil daarvan gebruik maak vir sover hulle vir Suid-Afrika van diens kan wees, "en dienen daarin de ondersteuning te hebben van lichamen die op taalkundige gebied met gezag kunnen spreken" (De Villiers 1936:171).

Viljoen het in April 1903 na Europa vertrek. Sy taak was moeilik. Daar was in Nederland nog groot verskille onder die publiek, die onderwysers en regeringslede oor die spellingvraagstuk. Hy moes dus oppas dat hy nie die vereenvoudigers en die behoudendes met sy voorstelle die harnas injaag nie. Die Suid-Afrikaanse vraagstuk moes geen Nederlandse partykwessie word nie. Gevolglik het hy met verteenwoordigers van albei taalpartye beraadslaag en, waar moontlik, die betrokkenes privaat gaan spreek, onder meer in Brussel, Gent, Leiden, Utrecht en Amsterdam. Met party het hy gekorrespondeer.

Sommige van hulle moes besef het dat dit 'n vergeefse poging was om Hollands in Suid-Afrika te behou. Onder die lang lys mense wat hy geraadpleeg het (sien De Vos & Besselaar 1904:8-9) is ook D.C. Hesseling, privaat dosent aan die Universiteit van Leiden. Met hoeveel ironie sou die gesprek verloop het tussen Viljoen, wat 'n paar jaar tevore nog gemeen het Afrikaans kan 'n skryftaal word, en Hesseling, wat geglo het Hollands het geen toekoms in Suid-Afrika nie? Hy het in 1897 laat blyk dat al die pogings om Hollands in Suid-Afrika te bevorder, tot mislukking gedoem is. Hy het dit as onmoontlik beskou dat 'n skryftaal wat van buite aangevoer is en deur 'n kloof van twee eeue geskei is van die gesproke taal, ooit die voertuig kan word van 'n nasionale letterkunde, die enigste betroubare bolwerk teen die veldwinnende mag van Engels. Daar is maar een middel om so 'n nasionale letterkunde moontlik te maak: die skryf van die volkstaal, dus Afrikaans (Hesseling 1897:157-158). G. Kalff, professor in Nederlandse letterkunde in Leiden, het ná die verskyning van Oom Gert vertel en ander gedigte van C. Louis Leipoldt (1911) geskryf: "Een aan de Afrikaners opgedrongen Nederlands tegenover het Engels te willen stellen schijnt mij van een verkeerde inzicht te getuigen en bovendien een hopelose onderneming" (Kalff 1915:543-544).

Maar of die Nederlandse en Belgiese geleerdes almal oortuig was of nie, Viljoen het orals simpatie en erkenning gevind van die moeilikhede verbonde aan die Nederlandse skryftaal, spelling en grammatika in Suid-Afrika. Een beroemde (maar ongeïdentifiseerde) professor het aan Viljoen geskryf: "Bij uwe toestanden is behoud onzer spraakkunst en spelling onzinnig - en gevaarlijk" (De Vos & Besselaar 1904:9).

Op 19 September 1903 het die "Commissie voor Taal en Letteren bij de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden" 'n byeenkoms gehou waaraan 'n stuk of twintig professore deelgeneem het. Viljoen het op 5 Oktober 'n verklaring van die bestuur ontvang waarin die lede sê dat die manier waarop die ZA Taalbond te werk wil gaan, in ooreenstemming is met die wetenskaplike begrippe omtrent die eise van 'n taal. Die voorstelle vir die vereenvoudiging van die spelling is ook nie in stryd met die karakter en wette van die Nederlandse taal nie. Dit is ook heeltemal geregverdig om woorde en uitdrukkings wat algemeen bekend is in Suid-Afrika in die skryftaal te gebruik en dat kleiner wysigings in die woordgebruik en taalvorme, soos wat die Taalbond voorstel, geen afbreuk doen aan die "hoogere eenheid" van die Nederlandse taal nie. (De Vos & Besselaar 1904:10). Die Suid-Afrikaanse Nederlands, oftewel Hollands, is dus dieselfde taal as die taal van Nederland. Viljoen se sukses in die taalverdeelde Nederland was werklik 'n groot prestasie.

Viljoen het ná sy terugkeer op 30 Januarie 1904 op Stellenbosch aan die Taalbond verslag gedoen oor sy sending. Die vergadering het besluit om die verklaring as brosjure uit te gee, sodat onderwysers en professore dit kon raadpleeg. Met die publikasie is 'n goeie halfjaar gesloer - ten dele miskien vanweë 'n verkiesingstryd in die Kaapkolonie wat so heftig was dat Ons Land die taalkwessie met rus gelaat het (De Waal 1939:154-155). Die voorstelle is in September 1904 gepubliseer in die pamflet De Taalbond en de taalvereenvoudiging. Dit behels voorstelle oor die spelling, buiging (wat betrekking het op naamvalsuitgange), geslagsonderskeiding, voornaamwoorde, vervoeging van die werkwoorde en die woordeskat. Dit sou te veel ruimte in beslag neem om al hierdie voorstelle te behandel. Hier word volstaan met die hoofvoorstelle wat op die spelling betrekking het.

Die eerste voorstel raak die verdubbeling van klinkers in sommige woorde. Die reël lui dat lang of gerekte klinkers in oop lettergrepe nooit, in geslote lettergrepe steeds, deur die dubbele letterteken aangedui word: na, nu, zo, zodanig, jaar, meervoud jaren, uur, meervoud uren, derhalwe ook heer, meervoud heren, preek, meervoud preken, oor, meervoud oren, (ik) geloof, meervoud (wij) geloven, ensovoorts (De Vos & Besselaar 1904:15).

'n Tweede reël lui dat steeds ee geskryf word aan die einde van eenlettergrepige woorde en in die daaruit volgende afleidings en samestellings, asook in woorde wat deur sametrekking ontstaan het: twee, tweede, see, seevaart, mee, ensovoorts."

'n Derde reël lui dat, waar die n as tussenletter in samestellings nie gehoor word in die beskaafde uitspraak nie, dit ook nie geskryf word nie, soos in boerewoning, hondehok, paardeberg ensovoorts. Daarenteen skryf 'n mens die n wel in wagenhuis, ogenblik en goedendag.

In samestellings skryf 'n mens nie die s aan die einde van 'n lettergreep as die volgende lettergreep met 'n s begin nie, dus: handelschool, volkstem, volkstam ensovoorts (De Vos & Besselaar 1904:16). (De Volksstem het op 1 Januarie 1905 van een -s ontslae geraak - enkele dae ná die kongres hieroor.)

'n Taalkongres oor die voorstelle is op 28 Desember 1904 in Kaapstad gehou. Die aanwesiges was byna almal prominent in die onderwys, joernalistiek, kerk en politiek. Die Taalbond se verteenwoordigers was De Vos (voorsitter), prof. M.J. Besselaar (sekretaris), prof. J.I. Marais van die kweekskool, Viljoen, "Onze Jan" Hofmeyr, ds. A.M. Moorrees en F.S. Malan. Uit die Vrystaat was daar weer Brill, maar as rektor van die pas gestigte Grey-universiteitskollege, Francken en Hertzog, gewese Boeregeneraal en politieke leier van die Vrystaatse Afrikaners en toekomstige Vrystaatse minister van onderwys. Die Transvalers was dr. N.M. Hoogenhout, direkteur van die Eendracht-CNO-skool, H.H. van Rooyen as verteenwoordiger van die vereniging van CNO-onderwysers, N. Hofmeyr van die Transvaalse onderwysdepartement en dr. Engelenburg (De Villiers 1936:173-174 en Claassen 1977: 70).

Hoogenhout, seun van 'n stigterslid van die GRA, was ook in die eerste bestuur van die Afrikaanse Taalgenootskap wat in 1905 in die Volkstem-gebou in Pretoria gestig is. Engelenburg was een van die eerste lede van die ATG. Ná die oorlog het sy afkeer van Afrikaans plek gemaak vir "'n vurige simpatie vir die taal van die Boere", skryf Brink. "Hy het besef dat Afrikaans 'n regmatige aanspraak op erkenning gehad het en hy sou hom voortaan tot sy dood vir die bevordering van die Afrikaanse taal naas Nederlands beywer" (Brink 2010:164).

Die kongresgangers het nie almal Viljoen se voorstel vir vereenvoudiging gesteun nie. Die teenstanders was Malan (wat gemeen het die voorstelle sou verwarring veroorsaak), Moorrees (wat suiwer Hollands wou hê) en Hoogenhout (wat teen die opname van Afrikaanse woorde was). Daar was twee stemmings. In die eerste was 14 lede van die bestuur ten gunste van die VHS en twee daarteen. In die tweede stemming waaraan al die kongresgangers deelgeneem het, was 32 ten gunste van die voorstel en vier daarteen (Claassen 1977:73).

Volgens De Waal (1939:164) is twee vereenvoudigings bygevoeg: dat jy mensch, bosch ensovoorts ook sonder die -ch kon spel en dat jy die agtervoegsel -lijk in -lik verander. (Odendaal (2012: 244-246) en Elffers en Viljoen (1904 onder die opskrif "Hoofdpunten van de vereenvoudigde schrijftaal") gee 'n volledige en noukeurige lys van die aanvaarde voorstelle.)

Hofmeyr het die volgende voorbeelde van die verskillende skryfvorme gegee (Zietsman 1992:95-96):

Hollands

Ik heb het venster wijd open gezet, om den heerlijken blauwen hemel te zien en de lente komt binnen met zachten, frisschen morgenwind, met warmen, gouden zonneschijn en zij kijkt mij zoo vriendelijk aan.

Vereenvoudigde Hollands:

Ik heb het venster wijd open gezet, om de heerlike, blauwe lucht te zien en de lente komt binnen met zachte, frisse morgenwind, met warme, goude zonneschijn en het kijkt mij zo vriendelik aan.

Afrikaans

Ek het die fenster wijd ope gezet, om die heerlike, bloue hemel te sien en die lente kom binne met sachte, frisse morrewind, met warme, goue sonschijn en dit kijk mij so vriendelik aan.

De Waal was een van die teenstanders van die VHS. Hy sluit sy kommentaar in De Goede Hoop (Oktober 1904) soos volg af: "Hebben wij Afrikaners het niet moeilijk genoeg om zowel Nederlandsch als Afrikaansch in dit Engelsche land in stand te houden? Laat de lieve Taalbond ons toch niet met een derde Hollandsche taal komen lastig vallen". Tussen hom en Viljoen het in 1905 'n bitter pennestryd uitgebreek waaroor Claassen uitvoerig verslag doen in 'n hoofstuk oor die reaksie op die kongres (1977:45-74). Ook in die Taalbond was daar verdeeldheid. J.I. Marais, redakteur van die Gereformeerd Maandblad, het die VHS gekritiseer en uit die kommentaar van ds. D.S. Botha kan 'n mens aflei dat die moderatuur van die Kaaplandse NG Kerk ook ongelukkig was. Dit was in hierdie tyd dat Gustav Preller sy pleidooi vir Afrikaans in De Volkstem geplaas het met die boodskap: "Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen." Daar was dus drie groepe wat met mekaar oor die skryftaal verskil het. Ons Land het in 1905 twee "uiterstes" onderskei: die "anti-vereenvoudigers" en die "Afrikaans-schrijftalers". Die middegroep was die "taalvereenvoudigers" (Zietsman 1992:94).

 

BEGIN VAN DE NIEUWE TAALBEWEGING

Ondanks die polemiek het die aanhangers van die VHS die kongres in Kaapstad beskou as die begin van 'n nuwe taalbeweging. Dit blyk onder meer uit die "Voorbericht" van Hubert Elffers en Viljoen in hul Beknopt Nederlands woordenboek voor Zuid-Afrika (1908) - "beknopt", maar 'n hele 1350 bladsye. Die opstellers van die woordeboek skryf in die "Voorbericht" dat die "Nieuwe Taalbeweging" wat by die 1904-kongres begin het, "sedert tot een machtige stroom aangewassen [is]". Elffers en Viljoen skryf dat niks teen dié magtige stroom bestand is nie en dat dit nie tot rus sou kom nie "voordat hollands Zuid-Afrika een behoorlik omschreven en gevestigd alomerkende schrijftaal heeft erlangd".

Daar is twee "elemente" wat met mekaar wedywer, sê die skrywers. Die een is die VHS, die ander is "het zogenaamde 'Afrikaans' dat door het heersende spraakgebruik, meer dan door een bestaande letterkunde, vertegenwoordigd wordt". Die VHS het die voordeel dat dit aansluit by alles wat in Nederland bestaan en die magtige steun van die kerk en die skool geniet, meen die skrywers in die Voorbericht".

Dit het uit die kongresbesprekings van 1904 geblyk dat die Transvaalse en Vrystaatse onderwysdepartemente gewillig was om die vereenvoudigingsvoorstelle te aanvaar. 'n Interkoloniale komitee is aangestel om die voorstelle aan die departemente toe te lig. Die volgende stap van die Taalbond se hoofbestuur was om die Kaapkolonie se onderwysdepartement en die University of the Cape of Good Hope4 te nader en hulle het geen beswaar teen die vereenvoudiging gemaak nie omdat die taalkundiges in Nederland dit goedgekeur het. In Transvaal moes alle amptelike Hollandse kennisgewings in die staatskoerant van 1909 af in die VHS wees, "as it is considered that this style will be more intelligible and acceptable to the greater proportion of the Dutch-speaking public of South Africa" (Zietsman 1982:237; aangehaal uit 'n omsendbrief van die Transvaalse onderwysdepartement).

"Aangespoor deur geesdriftige onderwysers het die skoolkinders V.H.S. vinnig aanvaar", konstateer Zietsman (1982:237). In 1906 het ruim 90% van die kandidate in die Taalbond se Hollands-eksamens en in 1907 ongeveer dieselfde persentasie in die openbare skooleksamens van die VHS gebruik gemaak. Die kandidate is nie toegelaat om die VHS en die ouer spelling te meng nie en die kandidate moes voor in hul antwoordboeke meld watter spelling hulle gebruik. Verskeie skoolboeke is in die VHS gepubliseer. Een daarvan was Hubert Elffers se Nieuwe Hollandse spraakkunst (1906; hersiene uitgawe 1907), Elffers en Viljoen se English-Dutch and Dutch-English dictionary (1908) in twee dele, en die genoemde Beknopt Nederlandse Woordenboek voor Zuid-Afrika (1908) wat ook Afrikaanse woorde bevat.

'n Belangrike mylpaal vir die "nieuwe taalbeweging" was die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Onderwijzers-Unie (ZAOU) op 4 April 1905. Viljoen, die dryfkrag daaragter, het dit beklemtoon dat die ZAOU gestig is as gevolg van die stiefmoederlike wyse waarop die South African Teachers' Association die Hollandse taal behandel het. Hy het melding gemaak van Engelssprekendes wat 'n saal sou verlaat as iemand Hollands praat (Zietsman 1982:111). Die ZAOU het dus voortgekom uit die stryd teen Engels-eentaligheid, maar die vereniging en sy lyfblad, De Unie, opgerig in Julie 1905, het die VHS kragtig bevorder. In sy eerste nommer het De Unie dit onomwonde gestel dat hy hom uitsluitend van die VHS gaan bedien. (De Unie, Julie 1905, p. 15 in 'n hoofartikel).

Suid-Afrika het hierdie gemoderniseerde Nederlandse spelling aanvaar lank voordat Nederland dit self gedeeltelik aanvaar het. Viljoen, De Vos en die ander vereenvoudigers het omstreeks 1906 rede gehad om tevrede te voel oor die ondersteuning wat die VHS bo sy mededinger, Afrikaans, geniet het. Onderwysliggame het die VHS gesteun en dit is in koerante ingevoer. Baie Afrikaners was nog nie daarvan oortuig dat Afrikaans 'n geskikter skryftaal as die VHS was nie. Dit was ook die mening van die taalkundige T.H. le Roux, wat indertyd in die Boland op skool en kollege was en in 1953 kommentaar gelewer het op lesings wat D.F. Malherbe en Viljoen in Oktober 1906 op Wellington gehou het. Hulle het verskillend geoordeel oor die steun vir Afrikaans en Hollands. Le Roux (1953:80-81) meen dat Viljoen se siening dat "verreweg de meesten" teen die gebruik van Afrikaans as skryftaal was, nader was aan die waarheid as Malherbe wat die teenstanders op hoogstens 1% geskat het.

Een van die groot punte van kritiek op Afrikaans was die gebrek aan skoolboeke en 'n letterkunde. Viljoen of een van sy medestanders sou op 'n keer gesê het: "Jong, eintlik staan julle maar net met Johannes van Wyk op die Vlakte!" (Johannes van Wyk was De Waal se avontuurroman en "Die Vlakte" die bekende gedig van Jan F.E. Celliers.) Die gebrek aan Afrikaanse boeke was in die eerste jare van die naoorlogse taalbeweging die Achilleshiel van Afrikaans. Maar binne enkele jare het alles verander. Die digbundels wat in Hollands verskyn het - Zevenjaartjes van A. Moorrees, Pastoriebloemen van G.R. Keet en Uit mijn jonkheid van G.B.A. Gerdener - kon, weliswaar ook weens die inhoud, nie die Afrikaanse lesers raak nie. Maar die een na die ander Afrikaanse digbundel, veral Oom Gert vertel en ander gedigte van Leipoldt (1911), het dieselfde lesers geroer. Dit het ook lof en aanprysing van 'n hele aantal Nederlandse kenners ontvang. Koerante en tydskrifte het hul lesers hiervan op die hoogte gehou. Kollewijn is in De Volkstem soos volg oor Leipoldt aangehaal: "Het komt mij voor dat niets de Afrikaners zó kan verbinden, zózeer hun zelfvertrouwen kan sterken, als, het besef dat hun Afrikaans niet is een minderwaardig dialekt, waarvoor zij zich eigelik moeten schamen, maar de 'taal van een volk'; een taal die gesproken, geschreven wordt met hetzelfde recht waarmee zich de Nederlander van 't Nederlands, de Engelsman van Engels bedient" (vertaald aangehaal in Steyn 2014:102).

Daarby het die taalvereenvoudiging wel die spelling van Hollands makliker gemaak, maar die taal self het vir Afrikaanssprekendes moeilik gebly. Dit kos hulle, selfs vandag nog, aansienlike moeite om te leer watter selfstandige naamwoorde het- en watter de-woorde is. Elffers (1907) wy drie bladsye aan reëls vir het-woorde, wat gevolg word deur 'n lys van byna drie bladsye met woorde "die niet onder de regels vallen", en dáárna kom 'n bespreking van "dubbel geslacht" (de blik van 't oog teenoor het blik van metaal), samegestelde selfstandige naamwoorde en natuurlike geslag. Byna ewe moeilik is die vervoeging van die werkwoord en die swak en sterk verledetydsvorme.

Hoewel die VHS vir leerlinge makliker was as die ouer spelling, kon die VHS Hollands nie red nie. Dit het Viljoen later (in 1922) toegee. Hy het geantwoord op 'n vraag van Von Wielligh (1922:94). Die VHS het duidelik bewys dat, al was dit makliker as Nederlands, dit nooit die algemene spreektaal sou word nie en dat daar nog altyd betreklik baie moeilikhede van allerlei aard "in het wezen van de taal als zulks bestonden, die voor de Afrikaner onoverkomelik waren, omdat hij er hoegenaamd geen gevoel voor had" (Von Wielligh 1922:94).

Die VHS en AWS1

Ná die stigting van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in 1909 het spanning tussen voorstanders van Afrikaans en Hollands lank voortgeduur. Die skrywer Melt Brink het die Akademie in 1911 gevra om gestandaardiseerde spelreëls vir Afrikaans op te stel. Sy voorstel is op die jaarvergadering bespreek, maar die bespreking is gestaak uit vrees vir 'n twis tussen die twee groepe (Kapp 2009:111-114).

Spelreëls was egter deel van die sakelys op die Akademie se iaarvergadering van 1914. Op dié vergadering het C.J. Langenhoven 'n kommissie voorgestel wat Afrikaanse spelreëls moes opstel. Dit was 'n praktiese uitvloeisel van 'n besluit wat die provinsiale rade van Kaapland, die Vrystaat en Transvaal in daardie jaar geneem het. Op inisiatief van Langenhoven is die moedertaal-ordonnansies van dié provinsies gewysig sodat Afrikaans vir die doeleindes van dié ordonnansies as die moedertaal van Afrikaanssprekendes aanvaar word en nie Nederlands nie. Langenhoven se voorstel vir 'n spellingkommissie is aanvaar en die Akademie het op sy sitting van 18 September 1915 die spelreëls goedgekeur. In 1917 is dit saam met 'n woordelys in boekvorm uitgegee. Eksteen (1985:172) en Kapp (2009:115) beskou Le Roux as die "vader" van die Afrikaanse spelreëls.

Die Spelling-kommissie (voortaan SK) het, soos in die inleiding vermeld, so weinig as moontlik van die VHS afgewyk "om algemeen erkende redes" (Le Roux e.a. 1917b:ix). Die twee redes is die "vergemakliking van onderwijs" en "nasionale belang". Dit sou inderdaad onverstandig gewees het om by die oorgang van Hollands na Afrikaans in skoolboeke die leerlinge 'n heeltemal nuwe spelling te wou leer soos die radikale Patriot-spelling van v-woorde met f en ei-woorde met y of ij. Teen 1917 is wette, wetsontwerpe, Hansard- en ander verslae en ander dokumente in VHS gedruk. Ook vir dié soort dokumente sou 'n nuwe spelling onnodige teenstand uitgelok het.

In hierdie afdeling word ingegaan op spelvorme waarby die SK uitdruklik na die VHS verwys. ('n Volledige behandeling van al die uitgawes van die AWS is onnodig. Eksteen (1985) en Odendaal (2012) bespreek die Afrikaanse spelling in die verskillende uitgawes baie deeglik. Omdat die AWS1 sy voorbeelde in vet druk gee, verskyn alle voorbeelde in hierdie afdeling ook in vet druk.)

Die SK beroep hom op die VHS om te verduidelik waarom hy kinders skryf en ook die v naas die f behou "al sê ons kinners en al maak ons geen onderskeid, soos die Hollanders, tussen v en f nie. Om dieselfde rede behou ons ook ei naas ij, hoewel dit sowel in Hollands als Afrikaans dieselfde klank aandui" (ix). In opmerking 8 (xi) word herhaal: "Die spelling ei en ij word behou waar dit in die V.H.S. voorkom: lei naas lij (Holl. leiden naas lijden)."

Daarmee het dus 'n einde gekom aan sommige radikale spelvorme wat Die / Di Afrikaanse Patriot met verloop van tyd aangeneem het, naamlik i en ii vir ie, soos in di en hiir, die f vir v en die y vir ei. Die vernaamste hiervan het reeds in die spelreëls van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) in die slag gebly. De Waal het niks teen i gehad vir di nie en het self die skuilnaam Janni vir sommige van sy artikels gebruik. Op die ATV-kongres van 1907 was daar sterk teenstand teen di. Die SK verwys in opmerking 6 (xi) na hierdie ie. "In Afrikaanse en verafrikaanste vreemde woorde word die i-klank deur ie voorgestel, net soos in die V.H.S.: die, wiel, tiekel."

Die SK sê dat, waar 'n vereenvoudiging algemeen gebruiklik is, hy dan van die VHS afwyk. "So skrijwe ons z en au net in eiename en vreemde woorde: anders altoos s en ou (x). Ook waar die Afrikaanse uitspraak heeltemal afwyk van die Hollandse, gee die SK die Afrikaanse uitspraak so ver moontlik weer, byvoorbeeld nuwt en nuws vir Hollands nieuw en nieuws.

Wat 'n sterk VHS-agtige indruk in AWS1 maak, is die gebruik van ij in plaas van y. Slegs twee woorde begin in AWS1 met y: Yankee en ypsilon. "Die letter y word net gebruik in eiename en egte vreemde woorde: Egypte. hypotheek. Origens word y vervang deur i: dinamies, simpatie." (x, opmerking 1 (a) 2). Die Akademie het eers in Januarie 1920 besluit om ij te vervang deur y.

Soos gemeld, het die Taalbond op sy 1904-kongres van die uitgang -lijk afskeid geneem en dus -lik aanvaar. "Net soos in die V.H.S. word ij [...] vervang deur i in die uitgang -lik(e) maar behou in -rijk: waarlik, jaarliks, maar belangrijk, klankrijk (xi, opmerking 8).

Die hoofstuk "Afrikaanse spelreëls" is duidelik geskryf in 'n "owergangstijd", soos die kommissie dit ook noem. Die gebruikers van die AWS1 is Afrikaanssprekendes wat gewoond was aan die Hollandse spelling en die SK wys meermale op die verskil. Dit gebeur veral in die afdeling "Medeklinkers". "Waar d tussen klinkers nie uitgespreek word nie, word hij ook nie geskrijwe nie: broer, leier, wijer in plaas van broeder, leider, wijder" (xii, opmerking 13). "Waar t voor s in die Afrikaanse vorm van dieselfde Hollandse woord nie uitgespreek word nie, word hij in die spelling weggelaat: laas, plaas, geplaas, in plaas van laats(t), plaats, geplaats(t). (xii, opmerking 14).

Die AWS1 kon ook gebruik maak van die VHS by woorde wat in Hollands met th begin: tans, tee, termometer "maar thuis (omdat hier nog aan huis gedink word)" (xii, opmerking 15).

Die eerste uitgawe van die eerste Afrikaanse tydskrif vir vroue het verskyn toe AWS1 nog van krag was en die titel was dus Die Boervrouw, want die AWS1 spesifiseer: "w word als eindletter oral behou waar dit in die Hollandse spelling voorkom: vrouw, leeuw". AWS1 het dus ook 'n onderskeid gemaak tussen die spelling van die persoonlike en besitlike voornaamwoorde jou en jouw, u en uw en illustreer dit met die volgende voorbeelde: ek het jou (u) gesien, maar ek het jouw (uw) boek. (xiii, opmerking 20). In Januarie 1920 het die Akademie besluit dat die w moet wegval waar daar geen w-klank in die uitspraak gehoor word nie soos in gou, jou en vrou. Terselfdertyd is besluit dat uw moet plek maak vir uu, soos in nuus en nuut.

Spore van VHS is ook in die woordelys te vinde: affaire, als naas as, eigenlik of einlik of eintlik, ik naas ek, fysiek, verlies naas verloor as werkwoord (het verloor of verlies), verderfelik naas verderflik, verlogen naas verloën. Daar is baie ander. Die VHS is egter geïgnoreer in waanhuis, waentjie, vooltjie (klein voël), wat dan tog in latere uitgawes by VHS aangepas is: waenhuis, waentjie, voëltjie.

 

SLOT

Die Afrikaner-teenstanders van Afrikaans as skryftaal het een na die ander hul eie taal aanvaar. Le Roux, een van Viljoen se oudstudente, vertel dat hy Viljoen in sy vier jaar van studie onder hom, nooit Afrikaans hoor praat het nie. Le Roux het hom nooit in Afrikaans aangespreek nie, maar in Hollands - "aanvanklik baie gebrekkig, weldra beter en later redelik goed". Toe Le Roux in 1910 uit Nederland terugkom en sy werk in Pretoria aanvaar, het hy Viljoen steeds in Hollands bly aanspreek. "Maar op 'n goeie dag, enige jare later, wat sou ek hoor? Hy praat suiwer Afrikaans!" (Le Roux 1953:81).

Die verhaal van Viljoen en Afrikaans eindig so positief dat die anti-Nederlandse Langenhoven hom daarvoor eer. In 1925 moes Viljoen voor 'n gekose komitee van die parlement getuig oor die geskiktheid van Afrikaans as amptelike taal. Langenhoven, 'n lid van die komitee, was heel op sy hoede, want die teenstanders van Afrikaans het Viljoen as hul kampvegter beskou. "Ekself het gevrees dat sy getuienis vyandig sou wees en die uitwerking daarvan dodelik." Hy het hom goed voorberei en met Viljoen se proefskrif opgedaag. "En op die ou end het ek met 'n uitvoerige ondervraging [...] letterlik alles van Dr. Viljoen gekry wat ek wou hê en nie met steekse teësinnigheid van sy kant nie, maar hartlike samestemming. Ek dink vandag met erkentlike geneentheid aan Dr. Viljoen terug omrede van die diens wat hy daar voor die Gekose Komitee aan sy taal en sy volk bewys het" (Langenhoven 1956:409).

Hollands en die VHS het 'n alternatief vir verengelsing gebied in 'n tyd toe sommige Afrikaners, soos Le Roux (1953) suggereer, vermoedelik die voorkeur sou gegee het aan Engels bo Afrikaans. Bowendien het Viljoen en die ander vereenvoudigers, 'n bydrae tot die Afrikaanse beweging gelewer. Die VHS-invloed op die Afrikaanse skryftaal het die aanvaarding daarvan deur teenstanders makliker gemaak. Die twee tale vul mekaar aan; "Afrikaans sluit Hollands grotendeels in", sê die woordelijs-kommissie in AWS1. Die VHS het daartoe bygedra dat Hollands 'n hele tyd lank kon dien as "die onmisbare bron waaruit Afrikaans moet put, oral waar voorlopig nie deur eie taalmiddele in die behoeftes kan voorsien word nie" (Le Roux e.a. 1917a:iv).

 

BIBLIOGRAFIE

Brink, Linda. 2010. 'n Biografie van die taalstryder F.V. Engelenburg tot met die stigting van die Akademie. MA-verhandeling. Vaaldriehoekse kampus van die Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Claassen, L.H. 1977. Die ontstaansgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. MA-verhandeling. Randse Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

De Villiers, Anna J.D. 1936. Die Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika. Annale van die Universiteit van Stellenbosch. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

De Vos, P.J.G. & M.J. Besselaar (namens het hoofdbestuur van de ZA. Taalbond). 1904. De ZA. Taalbond en de taalvereenvoudiging. Kaapstad: ZA. Taalbond.         [ Links ]

De Waal, J.H.H. 1939. My herinnerings van ons taalstryd. Versamelde werke, deel I. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Du Toit, J.D. 1917. Ds. S.J. du Toit in weg en werk. Paarl: Paarl Drukpers Maatschappij Beperkt. (Faksimilee-heruitgawe deur Tafelberg, Kaapstad, in 1977).         [ Links ]

Elffers, Hubert. 1907. Nieuwe Hollandse spraakkunst voor de volkscholen van Zuid-Afrika. Kaapstad: Juta.         [ Links ]

Elffers, Hubert en W.J. Viljoen. 1908. Beknopt Nederlands woordenboek voor Zuid-Afrika. Kaapstad: Juta.         [ Links ]

Eksteen, L. C. 1985. Die rol van die akademie in die standaardisering van die Afrikaanse spelling. In: Botha, R. P. & M. Sinclair (red). Norme vir taalgebruik, Spil plus 10:169-200.         [ Links ]

Erasmus, O.C. 1972. Viljoen, Willem Jacobus. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel II, pp. 835-836.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 2012. Afrikanernasionalisme, 1875-1899. In Pretorius (red.) (2012):219-232.         [ Links ]

Hesseling, D.C. 1897. Het Hollandsch in Zuid-Afrika. De Gids 61, vierde serie, eerste deel, 138-162.         [ Links ]

Hofmeyr, J.H. 1913. Het leven van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan). Kaapstad: Van de Sandt de Villiers.         [ Links ]

Kalff, G. 1915. Zuid-Afrika in de letterkunde. Die Brandwag, 1 Maart 1915:541-544.         [ Links ]

Kapp, Pieter. 2009. Draer van 'n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 1909-2009. Hermanus: Hemel en See boeke.         [ Links ]

Langenhoven, C.J. 1932/1956. My aandeel aan die taalstryd, in U dienswillige dienaar (Versamelde werke, deel XII). Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Le Roux, T.H., D.F. Malherbe & J.J. Smith. 1917a. Afrikaanse woordelijs en spelreëls. Bloemfontein: Die Nasionale Pers (Le Roux e.a. 1917a).         [ Links ]

Le Roux, T.H., Jan F.E. Celliers, J.D. du Toit, C.J. Langenhoven, D.F. Malherbe, W.M.R. Malherbe & Gustav S. Preller. 1917. in Le Roux e.a. 1917a. (Le Roux e.a.1917b)        [ Links ]

Le Roux, T.H. 1953. Toeligting en beskouing oor D.F. Malherbe se lesing "Is Afrikaans 'n dialekt?" en Viljoen se antwoord daarop "Wat is nu eigenlik onze taal?" Hertzog-annale 1 (3):74-81.         [ Links ]

Odendaal, B.G. 2012. Die herstandaardisering van Afrikaans. 'n Praktiese benadering met die AWS as gevallestudie. Proefskrif vir die graad Doktor in die Wysbegeerte aan die Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Pretorius, Fransjohan (red.) 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, in opdrag van die Geskiedeniskomitee van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.         [ Links ]

Scholtz, J. du P. 1965. Die Afrikaner en sy taal 1806-1875. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Scholtz, J. du P. 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Smit, A.P. 1977. De Vos, Pieter Jacobus Gerhardus. In Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Deel III: 232-233.         [ Links ]

Steyn, J.C. 2014. 'Ons gaan 'n taal maak'. Afrikaans sedert die Patriotjare. Pretoria: Kraal.         [ Links ]

Van der Sijs, Nicoline. 2004. Taal als mensenwerk: het ontstaan van het ABN. Den Haag: Sdu Uitgevers.         [ Links ]

Van der Wal, Marijke & C. van Bree. 1994. Geschiedenis van het Nederlands. Utrecht: Aula.         [ Links ]

Von Wielligh, G.R. 1922. Eerste skrywers. Tweede en verbeterde uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Zietsman, P.H. 1982. Die stryd oor die Afrikaner se taal in die Kaapkolonie en Transvaal 1899-1908. D. Litt. Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

Zietsman, P.H. 1992. Die taal is gans die volk: woelinge en dryfvere in die stryd om die Afrikaner se taal. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

 

 

 

J.C. (JAAP) STEYN was verbonde aan Die Volksblad, die Universiteit van Port Elizabeth (tans Nelson Mandela-Universiteit), die Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) en die Universiteit van die Vrystaat. Hy het meer as 100 artikels in vaktydskrifte en boeke gepubliseer en is die skrywer van taalpolitieke, taal- en kultuurhistoriese boeke. Die vernaamste is Tuiste in eie taal (1980), Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1938 (1987) en 'Ons gaan 'n taal maak': Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014). Ook in sy drie biografieë, Van Wyk Louw: 'n lewensverhaal (1998), Pen vegter: Piet Cillié van Die Burger (2002) en Die honderd jaar van M.E.R. (2004) gee hy aandag aan die taalstryd en die betrokkenes se opvattings oor taal.
J.C. (JAAP) STEYN worked at Die Volksblad, the University of Port Elizabeth, the Rand Afrikaans University and the University of the Free State. He has published over 100 articles in journals and books and is the author of several works on language politics and language and cultural history. The most important of these are Tuiste in eie taal [Home in their own language] (1980), Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1938 [Loyal Afrikaners Aspects of Afrikaner nationalism and South African language politics], (1987) and 'Ons gaan 'n taal maak': Afrikaans sedert die Patriot-jare ['We make a language'. Afrikaans since the years of Die Afrikaanse Patriot] (2014). In three biographies he paid special attention to the language struggle and the views of the authors of Afrikaner nationalism. These books are Van Wyk Louw: 'n lewensverhaal [Van Wyk Louw - A biography] (1998), Penvegter: Piet Cillié van Die Burger ['Penvegter': Piet Cillié of Die Burger] (2002) and Die honderd jaar van M.E.R. [The hundred years of M.E.R.]. (2004).
1 Sien verder Steyn (2014::11-12, 107-108) vir die verskillende betekenisvariante van Hollands in dié tyd.
2 Algemene inleiding tot die geskiedenis van die Kaaps-Hollandse taal - intreeverhandeling.
3 Bydraes tot die geskiedenis van die Kaaps-Hollandse taal.
4 Die University of the Cape of Good Hope was nie 'n residensiële universiteit nie, maar 'n eksamenliggaam vir gevorderde skool- en universiteitseksamens.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License