SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2-1Innovative public sector education and training in a developing South Africa: the impact of and responses to globalisation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.2-1 Pretoria Jun. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/V57N2-1A1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Voorwoord

 

 

Die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hou direk verband met die strewe om anglisering teen te werk. Aanvanklik is Nederlands gesien as die kultuurtaal waarmee weerstand gebied sou kon word, maar gou was daar 'n swaai na Afrikaans wat nog in sy kinderskoene gestaan het, veral ná 'n kragtige pleidooi deur C.J. Langenhoven in 1914 (Kapp 2009:111).

Standaardisering van die Afrikaanse spelling is reeds in 1911 bepleit deur die skrywer Melt Brink. Weens die spanning tussen voorstanders van onderskeidelik Nederlands en Afrikaans het dit eers 'n werklikheid geword ná Langenhoven se rede in 1914. Die eerste spelreëls word in die Jaarboek van 1915 gepubliseer en in 1917 verskyn die eerste Afrikaanse Woordelijs en spelreëls. Kapp (2009:111) wys daarop dat hierdie reëls destyds nie slegs deur taalkundiges goedgekeur is nie, maar deur alle lede op die jaarvergadering. Spelreëls raak immers alle taalgebruikers.

In sy geskiedenis van die eerste eeu van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Draer van 'n droom (2009), skryf Pieter Kapp (2009:156 e.v.) ook uitvoerig oor die eerste toekenning van die Hertzogprys in 1917 én die stormagtige politieke konteks waaruit dit voortgespruit het. Vir die eerste toekenning is manuskripte direk voorgelê aan die Akademieraad en die beoordeling is opgedra aan die "Kommissie voor Taal en Letteren". Die spesifieke rol van die kommissie (en hulle beslissingsbevoegdheid) was onduidelik en in die jare daarna het dit dikwels tot botsings gelei tussen die letterkundiges wat moes beslis en die Raad wat moes goedkeur.

Om hierdie twee besondere gebeurtenisse 'n honderd jaar gelede te herdenk, het die redaksie van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe dit goed gedink om 'n spesiale uitgawe van die tydskrif te wy aan eerstens die Taalkommissie en verbandhoudende aspekte, waarvan die gereelde uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (oftewel die AWS) die belangrikste is, en tweedens aan die Letterkundekommissie en sy rol as bekroner van literêre gehalte. Proff. Nerina Bosman (Taalkunde) en H.P. van Coller (Letterkunde) het opgetree as gasredakteurs van hierdie spesiale uitgawe.

 

DIE BYDRAES

AFDELING 1

Die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) sien, soos gesê, in 1917 die lig en vanjaar verskyn die 11e uitgawe. In sewe artikels val die soeklig op verskillende aspekte van dié 11 uitgawes. Dat daar taamlike oorvleueling sal wees tussen die sewe artikels, is onvermydelik. Slegs een bron (sy dit dan in verskillende uitgawes) was per slot van sake die onderwerp van ondersoek. Tog bied elke artikel sy eie perspektief.

In die eerste twee artikels gee Jaap Steyn en Christo van Rensburg aandag aan die ontstaansjare van die Afrikaanse spellingsisteem en val die fokus op die heel eerste AWS, terwyl die ander vyf artikels die soeklig laat val op veral die woordelysgedeeltes sedert 1917 tot nou toe.

In 'n tyd waarin die teoretiese en praktiese leksikografie baie sterk gebruikersgerig is, word besin oor die aard van die AWS as spesiale, ortografiese woordeboek en inligtingsbron. Verskillende outeurs het opnamekriteria en die leksikografiese bewerking van die lemmas as belangrike kwessies ondersoek (Otto; die twee artikels deur Van Huyssteen; Bosman, Taljard & Prinsloo en Taljard, Prinsloo & Bosman). Ook die elektroniese woordelys kom aan bod (Taljard, Prinsloo & Bosman). Daar is veral aandag vir die aard van die leiding wat die AWS (sowel die gedrukte weergawes as die elektroniese woordelys) aan een-en-twintigste-eeuse gebruikers bied.

Van Huyssteen, die huidige voorsitter van die Taalkommissie, gee in sy twee artikels gedetailleerd aandag aan die praktiese besluitnemingsprosesse en kriteria rakende die opname of weglating van woorde in die woordelys en bied so ʼn waardevolle blik op die werkswyse van die Taalkommissie.

 

AFDELING 2

Hierdie deel bestaan uit vyf artikels wat almal verband hou met die belangrikste werksaamheid van die Letterkundekommissie, naamlik die toekenning van diverse literêre pryse met die doel om gehaltewerk te bekroon. Marlene van Niekerk se digbundel is in 2014 bekroon met die Hertzogprys. Henning Pieterse maak in sy artikel 'n saak uit dat Van Niekerk se bundel van 'n "argeologiese" aard is deurdat vergete taalitems (soos woorde) aan die vergetelheid ontruk word en 'n saak word daarvoor uitgemaak dat Afrikaans se wortels in die Indo-Germaanse taalfamilie lê.

Die dramatoekenning het in die verlede vir talle bekroningsprobleme (en -polemieke) gesorg weens die spesifieke aard van hierdie genre wat nie net 'n literêre leesteks is nie, maar ook eers op die verhoog tot sy reg kom. In haar artikel neem Anthea van Jaarsveld hierdie kwessies, asook die aktualiteit van hierdie genre en sy besonder groot gekontekstualiseerdheid onder die loep, ook met verwysing na enkele van die Akademie se drama-bekronings in die verlede. Phil van Schalkwyk, en H.P. van Coller en Joanita Erasmus-Alt vestig in hul bydraes eerder die aandag op werk wat nie bekroon is nie, of nie genoeg aandag van die toekenners van literêre pryse ontvang het nie. Van Schalkwyk fokus op die werk van die skrywer, Eben Venter - veral sy roman, Wolf, wolf (2013). Hiervoor gebruik hy veral die teorieë van Julia Kristeva ter stawing van sy standpunt dat die wolf-motief (wat in bepaalde resensies as ongemotiveerd bestempel is), sentraal in hierdie, volgens hom, ondergewaardeerde teks is.

Van Coller en Erasmus-Alt fokus in hulle analise van S.J. Naudé se kortverhaalbundel, Alfabet van die voëls (2011), op die wyse waarop die afsonderlike verhale op 'n kreatiewe manier saamhang en mekaar komplementeer. Daarvoor word bepaalde teorieë oor bundel-eenheid krities bespreek in die eerste en in die tweede artikel toegepas op die verhale met die slotsom dat hierdie werk na regte deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon moes gewees het.

Al die artikels in hierdie festschrift is oënskynlik 'n huldebetoning aan die Taal- en Letterkundekommissies en hul werksaamhede oor 'n tydperk van honderd jaar. Tog is almal eintlik 'n implisiete huldiging van 'n lewenskragtige taal waarin, ten spyte van aanslagte op verskeie fronte, artistieke en wetenskaplike werk van besondere gehalte gelewer is. Dié taal is nie klein te kry nie en om Totius se woorde in 'n ander verband te siteer, "groei maar aldeur aan".

 

Hennie Van Coller En Nerina Bosman

Gasredakteurs

April 2017

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License