SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue1Is applied linguistics part of linguistics?The contemporary Afrikaans poetry system: In search of the most representative model of the role player relationship which it contains author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.1 Pretoria Mar. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n1a12 

NAVORSINGS-EN OORSIGARTIKELS/RESEARCH AND REVIEW ARTICLES(2)

 

Natuurgesentreerde skryfwerk as ekosisteem: 'n Ondersoek na Boomkastele: 'n Sprokie vir 'n stadsmens (Schalk Schoombie). Deel 2

 

Nature writing as ecosystem: An analysis of Boomkastele: 'n Sprokie vir 'n stadsmens (Schalk Schoombie). Part 2

 

 

Susan Meyer

Vakgroep Afrikaans, Opvoedingswetenskappe Noordwes-Universiteit Potchefstroom. E-pos: Meyer.Susan@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

David Barnhill stel 'n nuwe benadering tot natuurgesentreerde skryfwerk voor. Op grond van bepaalde nadele in die sisteme van klassifikasie waarop meestal gesteun word in die beskrywing van natuurgerigte skryfwerk, stel Barnhill voor dat 'n natuurgesentreerde woordwerk beskou word as 'n ekosisteem. Die kategorieë waarin natuurgerigte skryfwerk geplaas word wanneer die taksonomie-benadering gevolg word, word beskou as veelvoudige elemente wat in individuele werke saam- of op mekaar inwerk, soos die organismes in 'n ekosisteem. Dié benadering het ten doel om die interne kompleksiteit en diversiteit van die werk te onleed en sodoende tot 'n genuanseerde beskrywing daarvan te kom. In die vorige afdeling van hierdie studie, wat in die Desemberuitgawe van hierdie tydskrif gepubliseer is, is 'n deeglike teoretiese begronding vir Barhnill se benadering gebied. In hierdie afdeling word die teoretiese gereedskap wat Barnhill se benadering bied, getoets. Schalk Schoombie se debuutroman, Boomkastele: 'n sprokie van 'n stadsmens (2015) word bestudeer vanuit die hipotetiese uitgangspunt dat die teks 'n ekosisteem is ten opsigte van die kenmerkende elemente van natuurgesentreerde skryfwerk daarin. Verskillende elemente wat aan natuurgesentreerde skryfwerk sy unieke aard gee, word in Boomkastele geïdentifiseer en die besonderhede omtrent hierdie elemente word verken. Aandag word geskenk aan die interaktiewe samehang tussen hulle, aan hoe elk van die elemente ontwikkel en met sekere anderes geïntegreer word. Hieruit word sigbaar hoe die beeld van 'n ekosisteem uit die roman te voorskyn tree. Uit die toepassing van Barnhill se benadering vloei 'n verskerpte bewustheid van die aard van natuurgerigte skryfwerk asook waardering vir Boomkastele as 'n ryk geskakeerde roman.

Trefwoorde: Schalk Schoombie, Boomkastele, natuurgesentreerde skryfwerk as ekosisteem, David Barnhill, ekokritiek


ABSTRACT

In the first part of the present study, published in the December edition of this journal, I explored the theoretical underpinning of a new concept of viewing nature writing, introduced by David Barnhill. Barnhill attempts to improve on taxonomies of nature writing that do not acknowledge the inner complexity and diversity of individual works.
He calls his scheme an ecosystem, reminding us that such a system involves the interactions between a community and its non-living environment as well as interactions between the elements in it. According to Barnhill (2010:279) each piece of nature writing is an ecosystem in which various elements of nature writing are developed and integrated in a unique way. The abstract categories into which works are placed in a taxonomy become multiple elements within individual works, working in concert with or influencing each other, such as the organisms in an ecosystem. The internal qualities of such works are analysed and described in order to discover the interplay between different elements and how the character of an ecosystem emerges from this. Barnhill (2010:279-282) distinguishes several elements of nature writing: accounts or descriptions of nature, personal experience in nature, social experience of nature, philosophy of nature, spirituality in nature experiences, ecological consciousness, concern with language in representing nature, and ecosocial politics - the latter a term reflecting the interconnectedness of environmental and social issues.
Boomkastele: 'n sprokie vir 'n stadsmens (2015) is Schalk Schoombie's first novel and Barnhill's theoretical approach to nature writing is directly relevant to studying this novel. A prominent narrative line is constructed around Hannes Moerdyk, the researcher in the novel, and his affectionate ties with the trees in his backyard in suburban Johannesburg. These trees, which grow on the boundary between his and his neighbour's premises, are unexpectedly cut down to make way for the new flats that the neighbour is planning to build and lease. This enrages the researcher, who estimates the trees to be more than half a century old and blames the neighbour for his short-sightedness and hisfinancial greed. This incident leads to a private war; the researcher sets his heart on avenging the death of the trees and this obsession eventually comes to dominate his mind
This analysis of Boomkastele puts Barnhill's theoretical instrument to the test. The hypothetical point of departure is that the novel resembles an ecosystem comprising the characteristic elements of nature writing found in it. This method of approximation focuses on analysing the internal complexity and diversity of Schoombie's novel and arriving at a more complete understanding and a more nuanced description of this work.
This investigation firstly aims at determining which elements of nature writing are presented in Boomkastele. Close attention is paid to the content and detail of these elements, the relative emphasis of each, the interrelationships among them and the way in which each element is developed and integrated in the whole of the ecosystem to be found in the novel.
Eco-social criticism, a dominant element in Boomkastele, functions in support of various other elements. Criticism against the destruction of trees is linked with the researcher'spersonal experience of nature: trees are his friends and he obsessively focuses on avenging their death. The eco-social criticism in this novel also emphasises the description of trees as treasures of nature. The significance of trees, which are described as having limbs and lives, is being ironised by the criticism on their fate, namely losing those lives and limbs because of man's short-sightedness.
The researcher decides to plant new trees and to build a wooden cabin in one of them as a way to celebrate the splendour oftrees and to bring back something of a glorious partnership between humans and trees. The construction process of this cabin is planned carefully so as not to harm the tree at all; it will sit like a nest between the branches and will naturally mingle with the tree itself. The eco-social ideals that are included in this tree-friendly way of building a cabin, function in support of another element, namely ecological consciousness. This is expressed in the novel by means of details about the researcher's growing identification with and deep-felt respect for the trees. The element of eco-social critique is also integrated strongly with the focus on language to represent unique experiences in nature, especially when the wounding of the trees is depicted.
Barnhill's approach to nature writing creates a sharpened awareness of the qualities that characterise this genre. Applying his method of describing and evaluating texts to Boomkastele has led to the discovery of the interactive connection between diverse elements in the novel, which lends it the nature of an ecosystem and affirms its multifaceted character.

Keywords: Schalk Schoombie, Boomkastele, nature writing, ecosystem approach, David Barnhill, ecocriticism


 

 

INLEIDING

Natuurgerigte skryfwerk word gedefinieer as 'n kombinasie van wetenskaplike verslaggewing en artistieke uitdrukking (Lilley 2013; Stephenson 1995:171). In hierdie soort skryfwerk word na getrouheid gestreef ten opsigte van die wetenskaplike waarheid - "scientific names, data, and explanations are routinely provided as comments to the immediate observations or natural phenomena" (Tuur & Reilatu 2012:10). Terselfdertyd staan die waarnemer se subjektiewe teenwoordigheid en interpretasie sentraal in die uitbeelding van die onderlinge verbintenis van alles in die geskape werklikheid. Burton-Christie (1993:161) beklemtoon die belang van laasgenoemde aspek: "(N)ature writers seek to [...] reveal subtle and complex patterns found in relationships among various species, [...] patterns (that) ultimately radiate outward to include the human observer." Uit die bewustheid van hierdie patrone sou 'n groter morele gevoeligheid en dieper vlakke van ekologiese verantwoordelikheid kon kom, redeneer Burton- Christie (1993:162).

Natuurgesentreerde skryfwerk is dus 'n poging om met 'n wetenskaplike oog te kyk en met literêre effek te skryf. Dit sluit verskillende tekstipes in: onder andere essays, memoires, reisbeskrywings, verhale en romans - werke waar die subjektiewe toon en eerstepersoons-belewing persoonlike kleur aan die feitelike komponent daarin gee (Cowley 2008:10; Stephenson 1995:170).

Thomas Lyon en Patrick Murphy het belangrike werk gedoen met die ontwikkeling van modelle van klassifikasie om tot 'n meer volledige omskrywing van natuurgesentreerde skryfwerk te probeer kom. Beide steun sterk op die nalatenskap van Henry David Thoreau, die voorloper van natuurgesentreerde skryfwerk soos dit vandag beoefen word; beide se taksonomieë het ten doel om groter begrip vir die diversiteit en reikwydte van die genre te probeer daarstel (Burton-Christie 1993:157; Stephenson 1995:170). Hulle taksonomieë vind sterk aansluiting by mekaar en behels 'n sisteem van ordening tussen twee pole: aan die een punt werk hoofsaaklik toegespits op inligting oor die natuurwêreld en aan die ander punt werk wat hoofsaaklik persoonlike reaksies op die natuur en filosofiese interpretasies daarvan uitbeeld (Lyon 1989:3, Murphy 2000:5). Die nut van taksonomieë in die beskrywing van natuurgesentreerde skryfwerk lê daarin dat die verskeidenheid van genres, onderwerpe en ook die verskeidenheid van reaksies op die natuur beklemtoon word; hierdie modelle word ook sinvol benut in die teenargument wanneer natuurgerigte skryfwerk gekritiseer word as naïef, simplisties, oppervlakkig of sentimenteel (Burton-Christie 1993:159; Barnhill 2010:278).

Barnhill beklemtoon egter ook die nadele verbonde aan die klassifikasie van werk in duidelik gedifferensieerde afdelings: eerstens verleen sisteme van klassifikasie geen erkenning aan die interne kompleksiteit en diversiteit van individuele werke nie; tweedens word met sisteme van rangskikking geïmpliseer dat werke in een kategorie wesentlik en volkome verskil van werke in 'n ander kategorie (Barnhill 2010:278). Dit bring Barnhill te staan voor die uitdaging om te verbeter op bestaande taksonomieë deur 'n manier te vind om natuurgesentreerde tekste te beskryf op 'n wyse wat ook die diversiteit in 'n spesifieke werk erken.

Barnhill (2010:279) se benadering tot die natuurgesentreerde teks is nuut en behels dat hy so n werk beskou as 'n ekosisteem. Sy uitgangspunt is dat kenmerkende elemente in 'n natuurgerigte woordwerk nie behoort te dien as riglyne om die teks te klassifiseer nie, maar as elemente wat binne die individuele teks saam- of op mekaar inwerk, dus wedersyds invloed uitoefen, soos die organismes in 'n ekosisteem. Hy verkies om die verskeidenheid binne-in die individuele werk te ondersoek eerder as die diversiteit wat in die groot kategorieë van werke gevind kan word.

Die elemente wat Barnhill (2010:279-282) onderskei as kenmerkend van natuurgerigte skryfwerk, is: natuurbeskrywing en -verslag, persoonlike ervaring van die natuur, sosiale ervarings binne natuuromgewings, filosofiese beskouings van die natuur, spiritualiteit in die natuurbelewing, ekologiese bewustheid en -ingesteldheid, taal as uitdrukkingsmiddel vir natuurbesonderhede en -belewing, en ekososiale politiek. Barnhill (2010:284) se standpunt is dat werke met 'n fokus op die natuur ons aandag ook behoort te vestig op die binnewêreld van die gees: op ons bewustheid van en reaksie op die natuur, op innerlike refleksie ten opsigte van die omgewingskade wat op die mens se rekening staan asook op positiewe alternatiewe in terme van persoonlike waardes en sosiale strukture.

Wanneer 'n natuurgesentreerde teks benader word as 'n ekosisteem, is die doel om vas te stel watter van die kenmerkende elemente teenwoordig is in die spesifieke teksinhoud, op watter wyse hierdie elemente ontwikkel en geïntegreer word asook hoe die onderlinge verbande en wisselwerking tussen elemente beklemtoon word.

Hierdie proses word in die volgende afdeling aangepak as strategie om Boomkastele te analiseer en te beskryf. Dus word Barnhill se teoretiese apparaat getoets. Schoombie se roman met sy sterk natuurgerigte aksente word bestudeer vanuit die hipotetiese uitgangspunt dat die teks 'n ekosisteem is ten opsigte van die elemente daarin wat vroeër tot indeling in 'n breë kategorie sou lei. Barnhill se model word gebruik om die interne kompleksiteit en diversiteit van Boomkastele te ontrafel en om sodoende tot vollediger begrip en waardering vir hierdie teks te probeer kom. Dis egter eers nodig om die romaninhoud in vlugtige hale te skets en om Boomkastele in die konteks van die Afrikaanse prosawêreld te plaas met verwysing na enkele ander tekste met tematiese ooreenkomste.

Hannes Moerdyk, in die roman bekend as "die navorser", het 'n unieke band met die bome in sy voorstedelike agterplaas wat hom daagliks ná werk help om sy kalmte te herwin en waaronder hy sou wou aftree (Schoombie 2015: 27). Dié bome, op die grens tussen hom en die bure, word onverwags afgesaag om plek te maak vir die garages van die tweeverdiepingwoonstelle wat die buurman wil bou. Dit lei tot die navorser se woedende tirade oor bome van minstens 'n halfeeu oud, "lewende goed" wat neergevel word as resultaat van die mens se kortsigtige ekonomiese ideale terwyl hulle - volgens die navorser se oordeel - meer bydra tot die omgewing as die buurman "wat net afbreek en afsaag en fokken vernietig!" (Schoombie 2015:37). Hierdie insident skep 'n vete met die bure; die navorser sou die dood van die bome wreek, "al neem dit jare, dekades" (Schoombie 2015:52). Sy woede rig uiteindelik sy hele lewe en dit lei tot 'n obsessie waarin hyself vernietig word.

Boomkastele herinner die leser aan twee ander Afrikaanse romans waarin besonderse uitbeeldings van mens-boomverbintenisse voorkom en wat tematies by mekaar aansluiting vind, naamlik Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie (1981) en Lien Botha se Wonderboom (2015). In eersgenoemde is die verteller 'n slavin wat ná 'n mislukte reis haar laaste lewensdae in 'n kremetartboom-holte êrens in Afrika deurbring. In Wonderboom pak Magriet 'n reis aan - in 'n ongespesifiseerde toekoms, nadat wet en orde in die land in duie gestort het - na haar familie en plek van herkoms en sy ontdek ontnugterd dat die reis geen werklike einde het nie. Net soos vir die slavin in Die kremetartekspedisie is hierdie ekspedisie vir Lien 'n poging om die verlede onder woorde te bring, dis 'n reis na buite én na binne.

Nog 'n noemenswaardige uitbeelding van die belewing van en betrokkenheid by bome word aangetref in Toorbos van Dalene Matthee. In laasgenoemde is Karoliena Kapp 'n boskind wat deur haar huwelik met 'n dorpenaar die geleentheid gegun word om uit die greep van armoede te kom, maar terugkeer na die bos om te leer hoe dit is om 'n boom te wees. Sy is 'n magtelose toeskouer van die vernietiging van die boomreuse in die Knysnabos en die ontworteling van die bosmense in daardie omgewing in die 1930's. Iets van Karoliena se verslaentheid word herhaal in die woorde van die navorser in Boomkastele: "Hoe keer 'n mens die grootskaalse verwoesting van natuurlike bronne en skoonheid op jou drumpel?" (Schoombie 2015:38).

In die volgende afdeling word die teoretiese gereedskap wat Barnhill se benadering bied, in die ontleding van Boomkastele benut. Daar moet vasgestel word watter aspekte van natuurgesentreerde skryfwerk in die roman teenwoordig is - nie om hulle as kategoriserende elemente te hanteer nie, maar as elemente wat afsonderlik, hoewel in samehang en wisselwerking met mekaar, die komponente vorm van die ekosisteem waarvan die beeld op bewysbare wyse tot stand moet kom in hierdie teks. Dus word die besonderhede omtrent die elemente waartussen verbande bestaan, verken. Aandag word geskenk aan die wyse waarop hierdie elemente ontwikkel en hoe die relatiewe belangrikheid van elk beklemtoon word. Die einddoel is om die mate van wedersydse inwerking op en wisselwerking tussen die elemente vas te stel en die veronderstelling dat natuurgesentreerde skryfwerk die aard van 'n ekosisteem openbaar in hierdie roman te bevestig.

 

BOOMKASTELE:: DIE ROMAN AS EKOSISTEEM

Twee parallelle verhale ontvou in Boomkastele. Die navorser versamel vermaaklike koerantstories wat, volgens hom, 'n manier is "om al die groot lewenswaarhede in verteerbare brokkies te verpak" (127). Hy probeer 'n hanteerbare wêreld rondom homself skep, maar die bure se besluit om die bome wat op die rand van sy erf staan, af te kap, meng liederlik in met hierdie gefabriseerde orde. Sy woedende reaksie is om twee nuwe bome te plant, genaamd Oorwinnaar en Sfinks. Só begin 'n fassinasie, selfs 'n obsessie, vir die navorser. 'n Paar kilometer daarvandaan werk sy dogter, Ina, die misdaadverslaggewer. Sy het haar eie obsessie: om uit te vind wie is die sogenaamde Sirkelman, die graffiti-kunstenaar wat Da Vinci se Vitruviaanse Man op geboue en stadsmure verf.

In die verhaallyn wat rondom die navorser se obsessie met bome gebou word, openbaar die roman sy natuurgesentreerde aard. Die identifisering van karakteriserende elemente en die soektog na bewyse van 'n patroon van onderlinge beïnvloeding en samewerking tussen hulle rig die ondersoek verder en sal dien ter bevestiging van die hipotese dat die roman die beeld van 'n ekosisteem vertoon.

 

NATUURBESKRYWING EN -VERSLAG

In die proloog van die roman word 'n buurt beskryf "met baie bome [...]. Dis wat jou opval, die bome" (7). Die saamleef van mens en boom word dadelik beklemtoon: "'n Bielie van 'n akkerboom staan op 'n straathoek teen 'n steilte byna ín 'n besige straat. Om sy dik stam loop, jaag, pendel en raas die lewe lustig voort" (7).

Dit is 'n stadsomgewing wat beskryf word, met spesiale aandag aan die teenwoordigheid van bome: onder straatbrüe seil 'n spruit met wilgerbome op sy oewers deur, daar steek 'n radiotoring tussen die bome uit, 'n selfoontoring, mynhope (8). Wat opval, is die "repies veld wat nie mooi by die dorpsbeplanners se netjiese kaartpatroon wou inpas nie" (8). Die roman staan dus binne die konteks van stedelike ekokritiek, met die fokus op stadsomgewingskwessies en die aanduidings van die konflik van ekonomiese en ekologiese belange.

Die boomryke buurt is ook die plek waar "honderde, duisende klein dramatjies" afspeel: inbrake, familietwis, misdade en vriendskappe, afloerdery en vetes en hartseer (8). Wat dadelik teenwoordig is, saam met die opvallend baie bome, is die "prentjie van 'n samelewing wat saam leef, saam sterf' (9). Hierdie werkwyse maak Boomkastele relevant vir die gesprek wat Barnhill (2010:275) voer oor die belang van die sosiale dimensie in werk met 'n natuurgesentreerde aard, en vir die vraag oor hoe in sulke tekste aansluiting gevind word by ons sosiale wêrelde: ons bure, gemeenskap en vriende. Die vervlegting van die sfere van boom-/ natuurlewe en van sosiale sisteme wat in die roman sal plaasvind, is reeds duidelik wanneer daar in die proloog gesê word: "Die bome [...] verbreek die simmetrie van eenderse lewens, vul die groter spasies in" (9).

"Die bome omsoom, verfraai en definieer die landskap", word voorts gesê, "dit gee amper iets sag en vriendelik daaraan. Dit laat jou glimlag, want dit vang jou oog [...] (D)ie bome maak alles mooi" (9). Die gevoelswaarde wat in hierdie beskrywing aan die bome gekoppel word, suggereer 'n vorm van persoonlike verwantskap. Aanvanklik word die waardering van die hele gemeenskap geïmpliseer - "Hulle het die hele buurt leefbaar gemaak" (27) - maar die persoonlike verbintenis tussen die navorser en die bome wat sy agterplaas domineer, word gou duidelik. Hy sien uit na die somer, "wanneer die blare dig en ondeurdringbaar oor sy agterplaas wieg en ruis"; hy beplan om af te tree "onder die swaar takke van die vriendelike bome" (27).

Daar is bewondering te vind in die navorser se beskrywing van die fisieke eienskappe van hierdie bome, hulle "gespierde takke" (30), die "misterieus vloeiende lewensritme" van hierdie "oergode in die hart van die voorstad" (27). Sy beskrywing verraai hoe hy ook op intellektuele vlak deur hulle betower word, die bome is vir hom "'n simbool van iets groters, iets wat hy nie kon begryp nie, iets net buite bereik van sy verstarde intellek" (27-28).

Die rasionele belewing en die analitiese aspek in die navorser se waarneming van bome is dikwels duidelik; ons word daaraan herinner dat feitelike inligting oor die verskynsels en patrone in die natuurwêreld deur Barnhill (2010:279) beskou word as deel van natuurbe-skrywing en -verslag. Die uitgebreide beskrywing van Tipuana tipu, oftewel die tipuanaboom wat die navorser aanskaf en waaroor hy opgewonde Google en lees, is boeiend om twee redes. In die eerste plek boei die feite wat die navorser raakloop omtrent die boom se geweldige grootte en aggressiewe groeiwyse (52). Tweedens word die beskrywing daarvan 'n duidelike demonstrasie van die sosiale aspek wat betrek word in sy denke rondom die boom - hierdie reus gaan hom help in sy vete teen die bure en om sy "groen vriende" se "dood" (39) te wreek. Die tipuana is "'n pes wat hope sade produseer", sy geel blommetjies "oorvloediglik mors" in die somer, met 'n aggressiewe wortelstelsel wat sement kan oplig en breek (52-53). Met groeiende entoesiasme ontdek die navorser hoe 'n sekere gogga, wat dié boomspesie as voedsel gebruik, die effek het dat dit lyk of die boom huil - egter "allesbehalwe skoon boomtraantjies [...]. (D)is die deurskynende slym van insekte wat uitbroei. Goggakwyl." (53) Dat die boom verder ook water suip "soos 'n hele trop beeste" en met groot moeite uitgewis word, aangesien die afsaag van 'n tak lei tot 'n nuwe, sterker tak, maak daarvan "'n soort bestiering, 'n wonderbaarlike regstelling" (53). Elke stukkie inligting is "tot die navorser se vreugde" (52); dié boom kan maar "groei en suip en mors en oorvat, solank dit ook by die buurman mors en oorvat" (53).

Die navorser word ook getref deur die verouderingsproses by bome, "streng na binne, 'n onsigbare, geheimsinnige proses" (234), wat in die jaarringe van hulle stamme sigbaar is. Hy bepeins die jaarringe van bome wanneer sy navorsing hom lei na inligting oor 'n oerboom met wortels wat 9 550 jaar oud is, "die oudste vorm van lewe wat die mens nog ooit op aarde kon vind" - vir hom voldoende bewys dat bome "die belangrikste wesens op aarde" is (241). Hulle jaarringe word met groot ontsag beskryf: "Die beknopte geskiedenis van die boom in laag op laag op laag, saamgepers in sikliese patrone en vogkartels wat die maer en vet jare grafies karteer. [...] 'n Lewensplaat waar die geskiedenis van die planeet en klimaat gespeel, herhaal en gewysig word" (234).

In hierdie beskrywing, gerig deur die noukeurige en deernisvolle waarneming van die navorser, vind die leser die verklaring vir die omvang van sy wrok en vir die vasberadenheid waarmee hy vergelding beplan. Die verwoesting wat die bure kon aanrig aan bome, vir die navorser "lewende simbole van onverganklikheid" (241), lei tot die obsessie om boom met boom te vergeld. Die wese van natuurgesentreerde skryfwerk word ook deurentyds ten toon gestel: die aandag aan wetenskaplik kontroleerbare waarhede in verband met natuuritems, terwyl die waarnemer se subjektiewe teenwoordigheid en interpretasie daarvan sentraal staan in die uitbeelding.

 

PERSOONLIKE ERVARING VAN DIE NATUUR

Barnhill (2010:279) wil die idee dat persoonlike natuurervarings ook afgesonderde ervarings is, uit die denkwyse oor natuurgerigte skryfwerk verwyder en beklemtoon die gedeelde aard wat persoonlike belewings in natuuromgewings kan hê. In Boomkastele is daar aanvanklik 'n unieke en hoogs individuele element in die ervaring van begeestering wat die navorser uit persoonlike kontak met Sfinks put. Wanneer hy die eerste maal in hierdie boom klim, voel hy "'n nuwe energie in hom", dit is "iets nuuts en ligs, 'n inspirasie, 'n droom" (216). Die droom wat die groeiende boom in hom laat ontkiem, behels 'n houthuis tussen die takke daarvan, iets "fabelagtigs", "'n vennootskap tussen mens en boom wat iets nuuts en beeldskoon tot stand kan bring" (219, 220). Die konstruksie van hierdie boom word sorgvuldig beplan om geen skade aan te rig nie, dit sal gebou word om "soos 'n nes" in die takke te sit, soos "iets natuurliks" - en hierdie planne laat hom voel soos "'n koning in sy eie sprokie", dit laat hom glo: (E)nigiets is moontlik! Enige droom kan gebou word" (223).

Persoonlike ervaring brei egter uit en word 'n droomervaring wat ook ander insluit. Die navorser droom dat sy oorlede ouma in die boomhuis kom woon. Sy is "dalk die enigste mens wat hom onvoorwaardelik liefgehad het" (30), en hy beleef die boomhuis as 'n soort nadoodse geskenk aan haar waaroor sy baie opgewonde is. "Hulle het glimlaggend deur die groen web van takke afgekyk", onthou die navorser, en dit was "die gelukkigste droom van sy lewe" (30,31). In hierdie droom word 'n verskerpte bewustheid geskep van sy bure en dat interpersoonlike verhoudings en goeie gesindhede belangrik is. Sy ouma wys die bure daar onder vir hom uit: "Sien, dis hoe mense kan saamwoon en met oop harte uitreik en omgee vir mekaar [...]. Dis medemenslikheid in sy suiwerste vorm ..." (32).

Die idee van waardevolle persoonlike ervarings waar die natuur sentraal staan en waar die oomblik met ander gedeel word, word in die slot van die roman herhaal. Die navorser kom aan sy einde wanneer hy 'n stormagtige nag in die boom deurbring. In sy sterwensoomblikke beleef hy sy ouma se vertroostende teenwoordigheid en sy wys hom, in haar handpalm, 'n bonsaiboompie met 'n klein kasteel in die boomtoppe en 'n wuiwende mannetjie wat hy as homself herken (293). In hierdie droomervaring is iets te vind van die suggestie dat drome aan die mens se gees 'n tydlose dimensie gee, sterflike liggaam ten spyt.

Die uitbeelding van natuurervarings waarby ander individue ook betrek word, gebeur in Boomkastele op die wyse wat Barnhill (2010:280) as belangrik in natuurgesentreerde skryfwerk ag. Die natuur is méér as agtergrond vir interpersoonlike verhoudings, en die karakters wat hierdie ervarings deel, skep nie slegs die konteks vir die eie ervaring nie - hulle vorm volledig deel daarvan.

Barnhill (2010:279) benadruk twee aspekte in sy benadering tot die natuurgesentreerde teks as ekosisteem. Net so belangrik as om vas te stel hoe die karakteriserende elemente van hierdie genre in 'n bepaalde teks ontwikkel, is dit om die patroon wat tussen verskillende elemente ontstaan, te ondersoek.

Die twee aspekte van natuurgesentreerde skryfwerk in Boomkastele wat só ver beskryf is, ontwikkel asof in samewerking en met die funksie van wedersydse versterking. Die beskrywing van bome en hulle besonderhede geskied met die insluiting van sosiale aspekte - boom-"lewens" word met menselewens en -verhoudings vervleg, soos gedemonstreer deur die navorser by wie gestorwe bome soveel leed en vyandskap met ander meebring dat dit sy lewe later oorheers. Hierdie praktyk, naamlik dié van natuurbeskrywing waarby 'n sosiale komponent betrek word, resoneer in die uitbeelding van persoonlike ervarings waarin die klem óók val op die vervlegting daarvan met natuurbelewing. Vergelding op sosiale vlak (teenoor die bure wat bome uitwis), vind plaas deur 'n "regstelling" op die vlak van natuurervaring - deur euforiese oomblikke tussen die takke van die massiewe tipuana, deur die "viering" van bome (235) en die "vennootskap tussen mens en boom" waarvan die boomhuis simbool is (220). Die navorser kry selfs 'n blik op die moontlikheid van beter sosiale betrekkinge wanneer 'n gedroomde ouma saam met hom vanuit die natuurnes van boomtakke na die bure kyk.

Die elemente van natuurbeskrywing en persoonlike natuurbelewing, soos in die twee afdelings só ver bespreek is, groei saam in die roman, in die sin dat hierdie aspekte mekaar ooglopend versterk. Iets van die aard van 'n ekosisteem word dus reeds in die teks gevind.

 

EKOLOGIESE BEWUSTHEID EN -INGESTELDHEID

Barnhill (2010:282) beskryf ekologiese bewustheid en -ingesteldheid as belewenisse soos die volgende: respek vir die natuurwêreld, waardering daarvoor en 'n verknogtheid daaraan, om tuis te wees in en deel te voel van die natuur, selfs te identifiseer daarmee. Dit behels ook insig in die mens se plek ten opsigte van die groot skeppingsgeheel. Die kwessie van ekologiese ingesteldheid, wat opvallend is by die hoofkarakter in Boomkastele, word uitgebeeld in samehang met die aspek van natuurbeskrywing en -verslag, aangesien daar in die beskrywing van die bome (in 'n vorige afdeling bespreek) reeds veel sigbaar word omtrent die navorser se verknogtheid aan hulle, sy respek vir hulle en 'n gevoel van vereenselwiging met hulle en hulle lot. Deur die patroon wat sigbaar word tussen die elemente, die onderlinge samewerking tussen en beklemtoning van mekaar, word die idee van die roman as 'n ekosisteem al sterker gevestig.

Die navorser vind aansluiting by bome op 'n feitlik intuïtiewe vlak; wanneer hy oor bome lees, kan hy "iets soos 'n verlange of 'n groen verwantskap in hom voel roer" (34). Die ingesteldheid van waardering teenoor sy boom-"vriende" (27) word 'n baie akute pynbelewing wanneer hy die aanslag van sae op die bome op die grens van sy erf beleef. Die geknars van brekende takke laat sy tande se stopsels pyn (35); hy sper sy mond oop om "diep uit sy maag (te) skreeu" saam met die bome se "gekerm", want hy sien hulle "doodbloei" - die "krom, kaal lyke van bome" (36).

Hy vind dit uiters moeilik om die verlies te verwerk: "In sy gedagtes het hy twee rou boomstompe met rooi jaarringe gesien, bevlek met taai boombloed. Lelike knoetse, kankers in sy siel" (50). Dit stem hom "ontroosbaar, onbeskryflik nietig" (39), hy bly staar na die "stomp afgekapte armpies waar gespierde takke was" (36). In hierdie belewing van die gebeure demonstreer die navorser duidelike begrip omtrent die mens se plek in die natuurgeheel en gee hy uitdrukking aan sy ontsag vir die "oergode" wat hom "daagliks herinner aan die onstuitbare natuur" (27). Agter sy erkentenis van nietigheid en verplettering lê 'n diep emosionele band met die natuurwesens van wie hy kon sê: "Met sulke bome in die agtertuin het jy nie vriende nodig gehad nie" (27).

Die twee nuwe boompies wat hy gaan koop, is aanvanklik 'n skrale troos, "onvoltooide lyntekeninge van verlies" (50), maar daar blyk reeds nuwe tekens van verknogtheid wanneer hy huis toe ry "met sy twee boomkinders wat by die karvensters uitsteek", die witstinkhoutjie nog "'n kleuter" van ongeveer 'n meter lank (49). Aan hierdie bome beloof hy sy beskerming; "aanvalle" op die takke wat aan die bure se kant oorhang, laat die woede en vasberadenheid in hom herleef: "Ek sal jou regdokter [...]. Dit sal nie weer gebeur nie, dit belowe ek jou" (124). Hy roep die hulp van 'n botanis in wat haarself 'n "mediese biochemikus" noem (168) en verduidelik die situasie as 'n noodgeval, sy boom is "ernstig gewond en getraumatiseer" (169).

Die navorser se empatie met en intense betrokkenheid by die bome laat hom op 'n stadium wonder oor sy eie rasionaliteit: "Is dit 'n aanduiding dat hy eksentriek is, selfs mal?" (54). Die proses van identifikasie met die bome verloop egter sonder keer. Hy beland as gevolg van die swak herstel van ou sportbeserings op krukke, "gespalk in lenige wit hout", en vind ook in hierdie ervaring 'n vorm van identifikasie met bome: "Só voel dit as 'n boom op sy wortels begin loop" (98). In die najaag van sy boomhuis-droom, bewus van opwinding en vrees wat "'n dawerende val voorspel", vereenselwig hy in 'n steeds toenemende mate met bome: "Trots is hy, trots sal hy ondergaan... 'n onbekende boom in 'n woud wat knarsend na benede sidder..." (99).

Uiteindelik brei die belewing van die geesteseenheid met bome uit na 'n ervaring van tuis wees ook in die groter natuuromgewing rondom die boom waarin sy boom-"nes" is. Hy vertoef al langer in sy huis daar bo, tussen die "krapgeluide van pootjies en pikkende bekkies", bly met groot tevredenheid doenig tussen janfrederikke en houtkappers, mossies en loeries, en verloor homself vir lang tye in die "skynbaar sinlose roetines van voëlwees" (239).

Die epiloog beeld uit hoe die navorser se as gestrooi word in 'n buurt met baie bome: blommende jakarandas en seringbome, bloekoms en eike "wat die lente met ope arms verwelkom" (315).

 

TAAL AS UITDRUKKINGSMIDDEL VIR NATUURBESONDERHEDE EN FILO-SOFIESE BESKOUINGS OOR DIE NATUUR

Nog twee elemente van natuurgerigte skryfwerk wat geïntegreerd ontwikkel word in Boomkastele en mekaar onderling versterk, is die besondere gebruik van taal in die uitbeelding van natuurbesonderhede of -belewing en filosofiese beskouings oor die natuur. Wat al duideliker gedemonstreer word, is die sisteem-aard van 'n natuurgesentreerde roman waarin kenmerkende elemente met mekaar verbind is en deurgaans op mekaar inspeel.

Die navorser betrag die gebeure: "Dit het begin met 'n wit moerbeiboom en 'n wit stinkhoutboom. Hartvormige blaar en blinkgroen dun blaar" (26). Fyn visuele besonderhede omtrent die blare word verskaf in treffend kompakte taal; die essensie van die skoonheid wat in die blinkgroen, hartvormige blare lê, word oorgedra deur die kernagtige woordgebruik. Deur besonderse taalgebruik word dadelik gekommunikeer dat die bome nie slegs die agtergrond vorm vir die ruimtelike situering van die gebeure nie, maar op sigself esteties besonders en van groot waarde is.

In die daaropvolgende sinne word beeldryke taal die instrument om die navorser se behae in hierdie bome te bevestig, en 'n soort hunkering wat hy beleef na die twee reuse wat met verloop van dekades "inmekaar gewroet het", hulle takke "verstrengel soos minnaars wat intiem mekaar se leefruimte binnedring" (26).

Die aandag aan taal om die gevoelswaarde wat die navorser aan die bome koppel, uit te druk, vestig ook ons aandag op 'n spesifieke aspek van filosofiese en etiese beskouings oor die natuur wat Barnhill (2010:281) as belangrik beskou, naamlik ons idees omtrent die intrinsieke waarde van die natuur en, daaruit voortspruitend, ons morele verantwoordelikheid daarteenoor.

Wanneer die lieflike bome afgesaag word, is filosofiese idees oor die mens se verantwoor-delikheid nie net te vind in wat oor die uitroei van die bome gesê word nie, maar in hoe taal gebruik word om die mens aan te kla. Die gevelde bome word beskryf as "lyke", die bas "afgeskil soos die groen vel van kadawers" (51). Deur hierdie taalgebruik word bome gelyk gestel aan mense met die duidelike funksie om boom-"lewens" gelykwaardig aan menselewens uit te beeld. Wat verder uitgebeeld word - en weens die wyse waarop dit taalmatig gebeur - is soveel te meer interpreteerbaar as 'n onreg: die "doodsbleek, nakende stompe" word in die buurman se tuin geplant as basis vir 'n kuierplek met grasdak (51). Die mens se behoeftes en gerief word blatant bó die belang van die natuur gestel.

Hierdie twee kwessies, dié van taal toegespits op die beklemtoning van unieke natuurbesonderhede en -belewing en van die filosofiese besinning oor die natuur, is - soos die organismes in 'n ekosisteem - met mekaar in interaksie, vestig die aandag op mekaar en werk saam om elk se belangrikheid te beklemtoon in die oordra van die sentrale boodskap in die roman: bome is belangrik, dalk belangriker as die mens, "lewende monumente wat waarskynlik talle generasies mense sal oorleef" (241).

'n Ander filosofiese beskouing waarvan daar tekens in die roman te vind is, is die siening dat die natuur 'n aktiewe rol as subjek kan vertolk. Volgens Barnhill (2010:281) behels dit die idee dat die natuur geen passiewe aard het of in 'n ondergeskikte rol hoort nie, maar 'n aktiewe teenwoordigheid kan uitoefen en die mag van beïnvloeding kan openbaar.1 In Boomkastele word die wild groeiende tipuana 'n medepligtige in die wraakpoging, 'n karakter op sy eie. Dit gebeur deur die naam, Sfinks, wat die navorser hom gee - 'n sfinks is 'n raaiselagtige, ondeurgrondelike persoon (Odendal & Gouws 2005:994) - en deur die taalgebruik wat van die boom 'n moorddadige wese maak.2 Sfinks word gepersonifieer as "monsteragtig" (92), met "'nkrom neus" (93) en met "ledemate wat [...] knoetserige, gretige vingers uitsteek na die huis" terwyl dit, in die "wraaksege teen die boommoordenaar", die fondamente van die huis agter die tuinmuur laat kraak (91-92). Weer word gedemonstreer hoe twee elemente van natuurgesentreerde skryfwerk saam- en op mekaar inwerk: die filosofiese beginsel dat 'n boom(natuurelement) 'n aktiewe teenwoordigheid kan uitoefen, en die taalgebruik deur middel waarvan hierdie idee gevestig word, sodat die beeld van 'n ekosisteem uit die roman verskyn.

Die idee dat die natuur aktiewe mag kan uitoefen, selfs oor menslike lewens, word ook deur die gebeure in die slot van die roman gesuggereer. 'n Weerligstraal tref die boom en boomhuis, en die navorser word geëlektrifiseer. Hier word taal weer besonder beeldend aangewend: deur die natuurgeweld word die navorser verander in "'n spiraal van rook en sterre" (292), in "'n vurige gevoëlte" (293). Hierdie natuurbeelde word benut om die idee tuis te bring dat die mens deur die natuur verswelg word en as't ware weer in die natuurwêreld opgeneem word. In sy sterwensoomblikke word die navorser 'n metafisiese boomwese, "verrys hy uit die blare" soos "'n blou fantoom" (292). Hier word die proses van vereenselwiging en eenwording met bome, wat bespreek is as 'n aspek van ekologiese ingesteldheid in 'n vorige afdeling, voltooi. Die roman vertoon nogmaals die beeld van 'n ekosisteem waarin die elemente van 'n natuurgesentreerde werk mekaar aanvul en op mekaar inspeel: filosofiese beskouings oor die natuur, die rol van taal in die uitbeelding en aksentuering van natuurervarings, en die ekologiese ingesteldheid van eenheid met die natuuromgewing.

'n Nuwe groeiseisoen word aangekondig in die natuur wat onstuitbaar sy gang gaan - 'n idee wat vroeër deur die navorser verwoord is met: "Bome bly. Bome is." (242) - terwyl die seremonie met die strooi van die as die mens se geringe en tydelike aard onderstreep.

 

EKOSOSIALE POLITIEK

Barnhill (2010:289) gebruik die term ekososiale politiek om te verwys na die onderlinge verbintenis van omgewings- en sosiale kwessies, soos hy dit in toenemende mate teenwoordig vind in natuurgerigte skryfwerk. Hy vind dit sinvol om te onderskei tussen ekososiale kritiek, kommentaar gemik teen omgewingsbeskadiging en -krisisse, en ekososiale ideale, wat voorstelle en bespiegelings behels oor positiewe alternatiewe vir ons omgewingsvernietigende praktyke en wat die aandag vestig op gedrag, waardes, lewensbeskouings en sosiale strukture wat 'n wyser en gesonder verhouding met die aarde en met mekaar veronderstel (Barhhill 2010:282).

In Boomkastele word kritiek baie direk verwoord wanneer die manne met sae onder die bome invaar: "Hierdie bome is [...] ouer as ek en jy! [...] Bome is lewende goed. [...] Het jy geen gevoel vir lewende goed nie?" (37). Terwyl die navorser die bome betreur, kom hy af op ander ontstellende inligting, hy ontdek hoe die "grootste, taaiste, mooiste bome wat ooit op aarde gestaan het", afgekap is - "'n holocaust wat spreek van [...] die hele mensdom se oneerbiedige, onsensitiewe onkunde" (235). In hierdie gebeure, net soos in die ekonomiese verontskuldiging deur die buurman vir die verwydering van die bome, sien die navorser die herhaalde patroon van "vooruitgang" wat die mens eintlik nie bevoordeel nie:

Daardie "vooruitgang" van lank gelede raak ons almal vandag ten diepste; saam met die natuur is ons daardeur ontneem, ontwortel en verwond. [...] Skakels is verwoes wat 'n leemte en wanbalans bewerkstellig het wat ons op elke vlak van ons bestaan benadeel en ontwrig. (235)

Met die beplanning van die boomhuis word die navorser se ekosososiale ideale duidelik. Die navorser soek na die regte bouer, totdat hy "gerusgestel" voel deur die man in wie se oë "diep kennis (loop) van bome, mense en die see" (221). Hierdie bouer verduidelik:

(E)k maak baie seker om nie die boom te beskadig nie, ek meen, niks inkap of afsaag wat die boom seermaak nie. Ek maak plek vir takke en vergroeisels. [...] Soms gebruik ek sterk toue [...] eerder as skroewe en spykers, wat beter is vir wanneer die boom groei of beweeg. (222)

Die navorser twyfel aanvanklik of hy hom nie skuldig maak aan 'n vorm van magsvergryp teenoor Sfinks nie. "Nee, nee," besluit hy dan, "dis juis die teenoorgestelde, [...] 'n viering van bome eerder as hulle onderwerping. Só sal hy eerbied, deernis en liefde toon" (235).

Ekososiale kritiek, 'n sterk element in Boomkastele, funksioneer ondersteunend ten opsigte van al die elemente wat tot dusver bespreek is om die eienskappe van 'n ekosisteem in die roman uit te wys. Die kritiek teen die verwoesting van bome sluit aan by die kwessie van die navorser se persoonlike ervaring van bome as vriende en by sy obsessie om hulle dood te wreek, dit beklemtoon die filosofiese beskouing ten opsigte van die intrinsieke waarde van die bome, "die belangrikste wesens op aarde", en ten opsigte van ons morele verantwoordelikheid daarteenoor.

Die ekososiale kritiek in die roman speel ook in op die beskrywing van bome, wat gedoen word asof hulle bloed, ledemate en lewens het (36,50). Deur die beskrywings kom die besonderse betekenis van bome onder die aandag; deur die kritiek op hulle lot word hierdie betekenis geïroniseer: daardie "ledemate" en "lewens" word as gevolg van die mens se kortsigtigheid verloor.

Die ekososiale ideale, vervat in die boomvriendelike metode om 'n boomhuis te bou, ondersteun die kwessie van ekologiese ingesteldheid, uitgebeeld deur die gegewe van die navorser se identifikasie met bome en sy respek vir hulle. Die element van ekososiale kritiek is ook sterk geïntegreer met die fokus op taal om uitdrukking te gee aan natuurbesonderhede en -ervarings, spesifiek wanneer die verwonding van die bome uitgebeeld word: die saagmerke bly sit soos "lelike knoetse, kankers in sy siel" (50), die takke is "grusaam tot in die grein afgeskeur (is), [...] wit wonde soos die bytmerke van 'n hondsdol reus" (123).

Al hierdie elemente wat saam- of op mekaar inwerk, bevestig dat Boomkastele hoedanighede en karaktertrekke besit van 'n ekosisteem, dat die roman 'n gedifferensieerde maar geïntegreerde geheel is van die aspekte van natuurgesentreerde skryfwerk.

"Ons kry wat ons verdien," sê die navorser wanneer swaar reën aan die einde van die roman uitsak en oorstromings en oorspoelings daarop volg. "Seisoene rafel uit en ruil selfs om, onherstelbaar [.]. Sekerhede kalwe al vinniger weg [.], want almal het die kanse verspeel om wal te gooi" (286). Die nietigheid van die mens binne die groter konteks van bestaan word gesuggereer in die gevolgtrekking waartoe die navorser kom: "Mense kom en gaan, [...] en ontwortel alles in hul besete vooruitgang. Bome bly. Bome ís" (242).

 

TEN SLOTTE

Barnhill se benadering skep 'n verskerpte bewustheid van die eienskappe wat aan natuurge-sentreerde skryfwerk sy unieke aard gee. Aandag aan daardie eienskappe wat Boomkastele soos 'n ekosisteem laat vertoon, het gelei tot die beskrywing van die diverse en boeiende aard daarvan. Die wyse waarop hierdie diverse elemente saamgroei in die roman, op mekaar inwerk, mekaar wedersyds beklemtoon en aanvul, is ontleed en beskryf.

Barnhill (2010:289) meen dat aandag aan die sosiale en politieke dimensies van natuurgesentreerde skryfwerk ons lei tot 'n duideliker begrip van die belang van hierdie genre op kulturele gebied. Boomkastele is bestudeer met fyn aandag aan sosiale aspekte, aan die lewens onder die bome en aan menslike strewes wat met natuurbelewing verknoop is. Die vyandskap wat tussen bure ontstaan as gevolg van boomsloping ter wille van digter behuising, die ekonomiese dryfvere wat dié proses stuur en die botsende oortuigings ten opsigte van die hantering van die bome op die erfgrens, vorm deurgaans deel van die hoofkarakter se belewing van bome, hulle rol en waarde. Só word sosiale en ekonomiese faktore in die gedeelde verblyfplek van mens en boom uitgelig en die sosiale relevansie van natuurgesentreerde skryfwerk gedemonstreer.

'n Ander vraag waarmee Barnhill (2010:274) ons konfronteer in die beoordeling van die relevansie van 'n roman soos Boomkastele is: Hoe kan natuurgesentreerde skryfwerk help om 'n proses van verandering ten opsigte van die waansin en vernielsug gekoppel aan ekonomiese en politieke doelwitte te inspireer? Hoewel daar waarskuwings opklink teen die gevaar om die effek van natuurgerigte literêre werke op die mens se optrede of beskouings te oordryf (Macfarlane 2013:167), is Burton-Christie (1993:180), Cowley (2008:12) en Moran (2014:61) oortuig dat hierdie genre van groot hulp kan wees ten opsigte van die benadering van "being in the non-human world in ways that are about cohabitation rather than ownership Moran" (2014:61).

Macfarlane (2013:167) verwys na die onbedoelde gevolge wat literêre werke dikwels het - "It stirs the sediments of thought and morals" - en na die wyse waarop hierdie tekste van wetenskaplike skryfwerk verskil. Hier word bedoel dat letterkunde ons deel kan maak van die bewussyn van ander, ook van ander spesies, en ons kan help om ander uitkomste vir die toekoms te visualiseer. Boomkastele gee 'n unieke literêre stem aan die oortuiging wat die navorser enduit huldig: "Al gaan dit (die mens se vernielsug) vir ewig so aan, hy sal terugveg, hom altyd skaar aan die kant van die bome" (125). Hierdie boodskap word uitgebeeld in die romangeheel van gelyktydig ontwikkelende elemente wat mekaar wedersyds ondersteun en versterk, soos die organismes in 'n ekosisteem, en as 'n samehangende eenheid 'n kragtige effek het: natuurbeskrywing en -verslag, persoonlike natuurervarings, taal as uitdrukkingsmiddel vir natuurervarings, filosofiese natuurbeskouings asook die aspek van ekososiale ideale en kritiek.

Die roman skep 'n ervaring wat aansluit by Macfarlane (2013:167) se beskrywing: "It makes us feel things in the gut: fear, loss and damage, certainly, but also hope, beauty and wonder [...] - the most important emotions in terms of our environmental future". Uit hierdie ondersoek het insig gekom ten opsigte van die merkwaardige rykdom van 'n enkele teks, maar ook waardering vir natuurgesentreerde skryfwerk as 'n genre met groot relevansie vir ons tyd.

 

BIBLIOGRAFIE

Alaimo, S. & Hekman, S. 2008. Introduction: Emerging models of materiality in feminist theory. In Alaimo, S & Hekman, S. (eds). Material feminisms. Bloomington and Indianapolis: Indiana University Press, pp. 1-20.         [ Links ]

Barnhill, D.L. 2010. Surveying the Landscape: A New Approach to Nature Writing. Interdisciplinary Studies in Literature and Environment, 17(2): 273-290.         [ Links ]

Botha, L. 2015. Wonderboom. Kaapstad: Queillerie.         [ Links ]

Burton-Christie, D. 1993. 'A feeling for the natural world': spirituality and contemporary nature writing. Continuum,2(2-3):154-180.         [ Links ]

Cowley, J. 2008. The new nature writing. Granta: The Magazine of New Writing, 102:7-13.         [ Links ]

Lilley, D. 2013. Recovering Nostalgia in Nature Writing. Alluvium,https://www.alluvium-journal.org/2013/05/13/recovering-nostalgia-in-nature-writing/ [23 Oktober 2015]        [ Links ]

Lyon, T.J. 1989. This Incomparable Land: A Book of American Nature Writing. Boston: Houghton Mifflin.         [ Links ]

Macfarlane, R. 2013. New words on the wild: Robert Macfarlane reflects on the recent resurgence in nature writing. Nature, 498(7453):166-167.         [ Links ]

Matthee, D. 2003. Toorbos. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

Moran, J. 2014. A Cultural History of the New Nature Writing. Literature & History, 23(1):49-63.         [ Links ]

Murphy, P.D. 2000. Farther Afield in the Study of Nature-oriented Literature. Charlottesville: University Press of Virginia.         [ Links ]

Oppermann, S. 2013. Feminist ecocriticism: The new ecofeminist settlement. Feminismo/s, 22:65-88.         [ Links ]

Schoombie, S. 2015. Boomkastele: 'n sprokie vir 'n stadsmens. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Stephenson, W.C. 1995. A new type of nature writing? The Midwest Quarterly, 36(2):170-177.         [ Links ]

Stockenström, W. 2004. Die kremetartekspedisie. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Tuur, K & Reitalu, T. 2012. Botanical nature writing: an ecocritical analysis. Estonian Journal of Ecology, 61(1):9-19.         [ Links ]

Van Wyk, G.J. (red.). 2007. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die WAT.         [ Links ]

 

 

 

Susan Meyer is 'n senior lektor in Afrikaans aan die Fakulteit Opvoedingswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. Sy het in 1990 die graad MA in Afrikaanse letterkunde verwerf aan die Universiteit van Pretoria en in 1993 die DLitt et Phil-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sedert 2003 doseer sy Afrikaanse letterkunde vir onderwysstudente en is sy deel van die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in Suid-Afrikaanse konteks aan die Noordwes-Universiteit. Haar navorsingsbelangstelling lê hoofsaaklik by die ekokritiese benadering tot die eietydse Afrikaanse prosa en by die analitiese en hermeneutiese moont-likhede wat opgesluit lê in die ontsluiting van tekste vanuit 'n ekokritiese perspektief. Sy fokus graag op die literêre vergestalting van mens-natuurverbintenisse en op die wyses waarop mens-like lewe en identiteit beïnvloed word deur die natuurlike omgewing. Sy ondersoek die wye spektrum van menslike reaksies op die natuur, die talle dimensies waarin en die gevarieerde wyses waarop die mens met die natuur in interaksie tree en betekenis daaraan toeken, soos uitgebeeld in hedendaagse Afrikaanse narratiewe. Haar navor-singsresultate word gepubliseer in verskeie akademiese vaktydskrifte en sy lewer referate by nasionale sowel as internasionale konferensies.
Susan Meyer is a senior lecturer in the Faculty of Education Sciences at North-West University, Potchefstroom. She obtained a MA degree in Afrikaans literature at the University of Pretoria in 1990 and the D Litt et Phil degree at the University of South Africa in 1993. She lectures Afrikaans literature and is part of the Research Entity Language and Literature in South African context at the North-West University. Her research interests include an ecocritical approach to contemporary Afrikaans prose, resulting in her exploration of the analytic and hermeneutical possibilities disclosed in an ecological reading of literary texts. She focuses on aspects of the literary manifestation of the relation between man and nature, and the ways in which human life and identity are influenced by the natural environment. She investigates all facets of human reactions to nature, the full scope of dimensions and the varied ways in which humans interact with nature and allot meaning to nature as portrayed in contemporary Afrikaans narratives. Her research results in regular publications in academic journals and she delivers papers at conferences nationally and internationally.
1 Hierdie idee is goed bekend binne die denkraamwerk van die nuwe materialisme, 'n intellektuele beweging wat 'n wegkeer van die abstrakte tekstuele siening van die werklikheid bepleit om die dematerialisering van die wêreld tot linguistiese en sosiale konstruksies te voorkom, en die belangrikheid van die materieel tasbare werklikheid beklemtoon.Binne die teoretiese raamwerk van hierdie beweging word die natuur nie beskou as 'n passiewe sosiale konstruksie nie, maar as 'n vitale krag ("agentic power") wat interaksie met en verandering van ander elemente teweegbring, ook van die mens (Alaimo & Hekman 2008:7; Oppermann 2013:72).
2 Die sfinks is 'n mitologiese monster wat in verskillende kulture voorkom en kennis hiervan verruim die betekenis van die boom se naam. In die Griekse Oeidipus-mite het die sfinks van Thebe, 'n moorddadige wese met die liggaam van 'n leeu en die bolyf van 'n vrou, mense die angs op die lyf gejaag.'n Raaisel is aan verbygangers gevra en wie hierdie raaisel nie kon oplos nie, is verwurg of van die hoogte afgegooi om hulleself te pletter te val op die rotse (Van Wyk 2007:117).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License