SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue1Why Kant never mentioned paedophillia. A Foucaultian hypothesisNature writing as ecosystem: An analysis of Boomkastele: 'n Sprokie vir 'n stadsmens (Schalk Schoombie). Part 2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.57 n.1 Pretoria Mar. 2017

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n1a11 

NAVORSINGS-EN OORSIGARTIKELS/RESEARCH AND REVIEW ARTICLES(2)

 

Is die toegepaste taalkunde 'n onderdeel van die linguïstiek?

 

Is applied linguistics part of linguistics?

 

 

Albert Weideman

Senior navorsingsgenoot Kantoor van die dekaan, Geesteswetenskappe Universiteit van die Vrystaat. E-pos: albert.weideman@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die redelik onlangse ontstaan van die toegepaste taalkunde as dissipline verklaar waarom die definisies daarvan soveel stryd ontlok. Daar is 'n veelheid van wyses waarop die veld gekonseptualiseer word. Tans is multi- of inter- en selfs transdissiplinariteit weereens gewilde terme in sulke definisies. Merkwaardig genoeg verbind sommige huidige beskouings die veld eksklusief aan die taalkunde, net soos by die aanvang van die dissipline sowat 60 jaar gelede. Hierdie artikel bespreek 'n reeks onlangse herbesinnings oor die definisies vir die dissipline. Die argument word gevoer dat daar nie konseptuele kontinuïteit tussen die linguistiek en die toegepaste taalkunde bestaan nie. Die filosofiese idee word benut dat dissiplines optimaal gedefinieer kan word - nie met verwysing na konkrete entiteite (soos "taal") nie, maar eerder deur te verwys na die teoreties onderskeibare modaliteite of aspekte. Daardie aspekte funksioneer as konseptuele invalshoeke vir dissiplinêre begripsvorming. Die tersaaklike modaliteite hier is respektiewelik die linguale aspek, wat begripsvorming in die linguistiek omskryf, en die tegniese dimensie van ons ervaring, wat sentraal staan in toegepaste taalkundige begripsvorming. Daar is historiese redes waarom sommige taalkundiges ongemaklik was binne die linguistiek, en verkies het om eerder as "toegepaste" taalkundiges te werk. Sulke ongemak is egter nie voldoende rede om helderheid oor die aard van hul teoreties analitiese arbeid te vermy nie. Dissiplinêre definisies bly belangrik: modernistiese en postmodernistiese idees onderliggend aan die linguistiek en die toegepaste taalkunde hou gevolge vir sulke werk in. Dissiplinêre bewustheid, veral van paradigmaverskille, beskerm akademici teen naïewe opinies of die klakkelose navolg van intellektuele modes.

Trefwoorde: definisie van die toegepaste taalkunde, geskiedenis van die toegepaste taalkunde, paradigmas, grondslae van die toegepaste taalkunde, modernisme, postmodernisme, transformasioneel-generatiewe grammatika


ABSTRACT

In historical perspective applied linguistics is a fairly recent discipline, which may explain some of the contestation that still surrounds its definition. There is in fact a multiplicity ofways in which it is conceptualised: each of at least seven different traditions of working in the field defines applied linguistics differently. Today, multi-, inter- and even trans-disciplinarity are once again fashionable terms in applied linguistics. It is surprising, then, tofind views ofapplied linguistics that tie it closely and sometimes exclusively to linguistics, as at its inception 60 or more years ago. A discipline cannot claim to have both a singular and a multi-source base. In fact, viewing applied linguistics as part of linguistics or positing linguistics as its "mother discipline" has clearly modernist roots, as was acknowledged as far back as 1985, when it became evident that the exclusive link between linguistics and applied linguistics was untenable.
In a recent (2015) volume of the journal Applied Linguistics (36[4]) seven specialists and their editor bring together a number of conceptualisations of the field under the theme of "Definitions for applied linguistics". In assessing these contributions, as well as other recent attempts to conceptualise the field, the paper employs a systematic argument that refutes the notion that there is a conceptual continuity between linguistics and applied linguistics. The argument utilises the philosophical idea that disciplines are best defined with reference not to concrete entities, such as "language ", but rather by referring to theoretically distinguishable modalities or aspects of experience that function as conceptual entry points or angles. These modalities may be identified respectively as the lingual or semiotic aspect, which circumscribes linguistic conceptualisation, and the technical dimension of experience, that is at the centre of applied linguistic concept formation.
What reasons can then be found for the contradictory and sometimes self-contradictory current definitions of applied linguistics? One is that at its inception the name chosen for the field suggested, in keeping with its then modernist approach, that there were linguistic subdisciplines and insights that might readily be "applied" in the design of language teaching. This perspective did not endure, however, but the modernist pretence that "science" would show the way to the ultimate solution to language teaching design did. The current definition offered by the international applied linguistics organisation (AILA), for example, does nothing to dispel this pretence. There is a second historical reason for the continuing linkage of linguistics and applied linguistics. This is that some linguists, especially those working on sociolinguistic themes and interests, at one stage felt uncomfortable within the confines of linguistics, and so opted to work rather as "applied linguists". The historically dominant linguistic paradigm of the end of the 20th century, transformational-generative grammar (TGG), defined linguistics in such a way that their work was unwelcome in that discipline. However, while it may explain the organisational or institutional choice of another disciplinary locality, such discomfort does not warrant the suspension of conceptual clarity as to the character or the theoretical focus of both disciplines.
A third reason for the lack of conceptual clarity about the disciplinary focus of applied linguistics lies in the vagueness that accompanies current callsfor multi- or inter-disciplinarity. In fact, one of the dissenting opinions among those being reviewed contains an observation that those who urge applied linguists to embrace an inter-disciplinary base are merely attempting to persuade them to use philosophically inspired postmodernist paradigms that are already operative in otherfields, such as anthropology and sociology. Embracing the same methodology or paradigm acrossfields is a trans-disciplinary rather than a multi-disciplinary endeavour. The fact is that inter- or multi-disciplinarity, when left undefined, gives no clear conceptual understanding or guide to how one should or might legitimately or even appropriately proceed as applied linguist.
The question might be asked why one would in the first instance want to have a clear idea of the disciplinary boundaries of a field. Might working in an undefined manner not perhaps be more exciting, creative or productive? The renewed current attempts to define applied linguistics imply, however, that its practitioners do seek clarity, and do in fact value it. Moreover, if one s conceptualisation of a field is not clear, then naïve, unsophisticated or intuitive interpretations of what its work comprises may continue to flourish to the detriment of the quality ofwhat it can deliver. The paper will conclude with a consideration of why disciplinary definitions matter, and of how modernist and postmodernist conceptualisations of linguistics and of applied linguistics have effects on the work being done under their respective umbrellas. Paradigm choice and disciplinary awareness are central in avoiding becoming a victim of intellectual fashion, or of naïve interpretations of the nature of one's work.

Keywords: definition of applied linguistics, history of applied linguistics, paradigms, foundations, applied linguistic fundamentals, foundations of applied linguistics, modernism, postmodernism, transformational-generative grammar


 

 

1. UITEENLOPENDE DEFINISIES VAN DIE TOEGEPASTE TAALKUNDE

Die verskeidenheid en uiteenlopendheid van definisies vir die toegepaste taalkunde kan byna in dieselfde mate toegeskryf word aan die resentheid van die ontstaan van die dissipline (Hellermann 2015:419; Cook 2015:426) as aan opponerende paradigmatiese perspektiewe op die werk wat in die veld gedoen word.

As ons aanvaar dat die relatiewe kort bestaan daarvan die eerste rede is waarom daar nog geen algemeen aanvaarde definisie vir die veld is nie, het ons inderdaad een moontlike verklaring vir die veelheid van wyses waarop dit al konseptualiseer en gedefinieer is. In daardie kort geskiedenis, wat nie verder terugdateer as 1925 nie, verbind die aanvanklike idees by die vestiging van die toegepaste taalkunde die nuwe dissipline baie nou aan die taalkunde self. Sodanig beskou, is die toegepaste taalkunde 'n onderdeel van die linguistiek. Dit plaas die verantwoordelikheid op laasgenoemde om 'n wetenskaplike basis te bied vir werk deur die toegepaste taalkunde wat in die openbare belang onderneem word ten einde maatskaplike probleme op te los (Tarone 2015:445).

Na die vestiging van die toegepaste taalkunde was daar ontwikkelinge binne die linguistiek self ten gevolge waarvan die definisie van die taalkunde verbreed is om sosiolinguistiese perspektiewe deel daarvan te maak. In ooreenstemming hiermee sien ons terselfdertyd op grond van hierdie verbreding in die toegepaste taalkunde 'n validering van die nuwe sosiale klem in die taalkunde. Die beklemtoning van taalgebruik ter wille van interaksie met ander besorg aan ons 'n meer uitgebreide en ontslote idee van hoe ons sin maak en beteken deur middel van taal. Die aanname was dat taal nie bloot uit die boustene van grammatika, vorm, klank en betekenis bestaan nie, maar eerder en veral groter, sosiaal-relevante linguale eenhede soos tekste en diskoerse omvat (Weideman 2009a; 2013c).

Die perspektief wat die dissiplinêre tuiste van die toegepaste taalkunde binne die linguistiek geplaas het, het helaas op die lange duur uitgedien geraak, selfs al was dit 'n siening behorende tot daardie soort verruimde linguistiek wat meer reg laat geskied het aan die sosiale en interaktiewe kante van taal (Shuy 2015:435). Weldra, veral ná die publikasie van die belangwekkende bydrae van Van Els, Bongaerts, Extra, van Os en Janssen-van Dieten (1984), vind ons 'n ontwikkeling wat multidissiplinariteit as die eintlike kenmerk van die toegepaste taalkunde nie net erken het nie, maar ook aktief bevorder het.

Dit was hierdie ontwikkeling binne die toegepaste taalkunde self wat die greep van die linguistiek daarop laat verslap het. Met een of twee noemenswaardige uitsonderings is hierdie verskuiwing weg van die linguistiek daarna in bykans alle wyses van toegepaste taalkundige werk bevestig. Ons merk dit reeds op uit die onderskeidings wat ons kan tref tussen sewe histories-opeenvolgende tradisies of paradigmas in die toegepaste taalkunde (aangepas en oorgeneem uitWeideman 2013a:4481) in Tabel 1.

 

 

Die definisies van die toegepaste taalkunde in hierdie tradisies maak óf die veld afhanklik van die linguistiek, óf omskryf die taak van die toegepaste taalkunde met verwysing na 'n veelheid van dissiplines, wat gewoonlik die linguistiek insluit. Op dieselfde tydstip dat die derde geslag van toegepaste taalkundige werk, naamlik die multidissiplinêre manifestasie daarvan, in die middel 1980's na vore getree het, het 'n selfs vroeëre gedagtegang ook weer prominent begin word. Dit was die nosie dat die toegepaste taalkunde "medieer" tussen teorie en praktyk. Die tekortkoming van hierdie idee was dat die aard van die mediasie nooit uitgeklaar is nie. Op welke wyse sou die toegepaste taalkunde medieer tussen teorie en praktyk? En wat sou die fokus van die "mediasie" of die doel daarvan wees? Dit was wel teen daardie tyd duidelik dat die toegepaste taalkunde op geen manier meer gekonsipieer kon word as die onverdunde toepassing van taalkundige insigte of analises nie, soos wat ter aanvang oënskynlik die geval was in die hoogbloei van die oudiolinguale metode van taalonderrig. In daardie eerste generasie van werk in die toegepaste linguistiek is die beginsels afkomstig uit die strukturalistiese taalkunde in kombinasie met insigte uit die behavioristiese sielkunde "toegepas" om "wetenskaplike" ontwerpe as oplossings van taalprobleme te kan oplewer.

Weliswaar kon navorsing op die gebied van tweedetaalverwerwing tesame met konstruktivistiese perspektiewe op die aanleer van taal steeds in die laat 1980's teoretiese regverdiging verskaf vir die ontwerp van taalonderrig. Ons vind voorbeelde hiervan in die regverdiging vir die gebruik van informasiegaping-tegnieke in kommunikatiewe taalonderrig. Die regverdiging wat die teorieë verskaf het, was egter mosterd na die maal: die tegnieke was reeds in gebruik voor die teorie stewig beslag gekry het. Die regverdiging het inderdaad op die ontwerp gevolg, en nie andersom nie (Weideman 2013d, 2017).Tog is die aard en tipe mediasie waarvan daar gewag gemaak is, alhoewel dit potensieel 'n nuwe visie op die rol van die toegepaste taalkunde in die taalonderwys behels het, nooit helder uitgespel nie (Weideman 2017).

In die tabel hierbo sien ons dus duidelik hoe daar onderskeie benaderingswyses was tot dit wat in die veld van die toegepaste taalkunde gedoen kan word. Hierdie werkswyses begin by 'n linguistiese tradisie, maar verskuif weldra na die model van 'n uitgebreide paradigma, en vandaar na 'n klem op multi-dissiplinariteit, konstruktivisme, en 'n verskeidenheid ander perspektiewe. Dus bied die kort maar geskakeerde geskiedenis van die veld van die toegepaste taalkunde ook 'n verklaring vir die gebrek aan 'n algemeen aanvaarde definisie daarvan.

Nog meer belangwekkend is dat in die ontwikkelings wat hierbo uiteengesit is, daar so vroeg soos die middel 1990's 'n verskuiwing merkbaar is wat die veld weggeneem het uit die modernistiese beginpunte daarvan, en nader laat beweeg het aan oorwegend postmodernistiese uitgangspunte (Weideman 2003, 2007a, 2007b, 2013b). Die eerste, hoofsaaklik historiese verklaring vir die houvas wat die linguistiek op die toegepaste linguistiek uitgeoefen het, word dus gou verplaas deur 'n besef dat daardie houvas nie standhoudend was nie. En inderdaad is daar 'n meer as historiese verklaring vir die verslapping van die houvas van die linguistiek op die toegepaste taalkunde.

Hierdie verklaring bied 'n sistematiese rede vir die wending: die relativisme en kritiese perspektiewe wat postmodernistiese benaderings aan die toegepaste taalkunde besorg het. 'n Postmodernistiese beginpunt verwerp sonder meer die idee dat wetenskaplike teorie toegepas kan word om probleme op te los; dit verteenwoordig in daardie perspektief 'n onaanvaarbare modernistiese hubris, asook 'n progressivisme wat die postmodernisme sterk moet teenstaan. Die oorgang in die toegepaste linguistiek van 'n modernistiese paradigma na postmodernistiese uitgangspunte verteenwoordig derhalwe 'n tweede, ewe belangrike verklaring vir die stryd rondom die definisie van die toegepaste linguistiek. Soos Cook (2015:429) tereg opgemerk het:

Across the supposedly unified field of applied linguistics, there is... an unbridgeable divide... between those who maintain a broadly rationalist, modernist, structuralist enlightenment approach to knowledge, and those who have rejected such a stance in favour of a post-modernist post-structuralist approach... These two directions are logically incompatible.

Van besondere belang vir die argument van hierdie artikel is die herbeklemtoning van multi-en interdissiplinariteit wat 'n mens tans in definisies van die toegepaste taalkunde vind (Mauranen 2015:488; Cook 2015:430; Tarone 2015). Die hernude beklemtoning daarvan is besonder prominent in 'n hele aantal opinies wat verskyn in 'n resente uitgawe van 'n belangwekkende tydskrif in die veld, Applied linguistics (Hellermann 2015). In daardie spesiale uitgawe lug sewe vakspesialiste en hul redakteur onder die tema "Definitions for applied linguistics" hul menings oor 'n aantal wyses waarop die veld volgens hulle gekonseptualiseer kan word. Hierdie bydrae sal ook verwys na ander, soortgelyke resente pogings (bv. Paltridge 2014; De Bot 2015).

Die doel van hierdie bydrae is derhalwe tweeledig: eerstens om hierdie meer resente pogings tot die definiëring van die toegepaste taalkunde krities te evalueer, en daarna om 'n sistematiese argument te ontwikkel vir die dissiplinêre onderskeid tussen die taalkunde en die toegepaste taalkunde.Ten einde groter begrip te bied van die aard van die soeke na 'n algemeen aanvaarde definisie van die toegepaste linguistiek, sal dit nodig wees om eers te kyk na wat oor die afgelope paar dekades in die linguistiek self gebeur het. Dit is die dissipline wat sommige steeds, en dikwels met innerlike teenstrydigheid, as die moederdissipline van die toegepaste taalkunde beskou (vgl. McNamara 2015:475). Dit is waarskynlik so dat ons in die onlangse geskiedenis van die linguistiek self 'n verdere rede mag ontdek vir die gebrek aan duidelikheid wat steeds die definisie van die toegepaste linguistiek kenmerk.

 

2. ONLANGSE INVLOEDRYKE STROMINGS IN DIE LINGUÏSTIEK

Dit behoort uit bogaande duidelik te wees dat dit 'n komplekse en betwiste onderneming is om die toegepaste taalkunde te probeer definieer. Daarom is dit des te meer te betreur dat sommige kommentators dit illustratief en katoliek probeer benader, asof alles wat as toegepaste linguistiek aangebied word, dit terselfdertyd sou kon definieer (Strevens 1980a, 1980b). Cook (2015:425) is reg dat "making everything and anything 'applied linguistics'" volkome waardeloos is. 'n Mens kan ook nie die veld afbaken deur bloot na die twintigstuks belange- groepe - navorsingsnetwerke genoem - van die internasionale vakorganisasie AILA te verwys nie (AILA 2015). Hierdie groepe sluit duidelik en onomwonde taalkundige belange in, soos korpuslinguistiek, medialinguistiek, sosiokulturele teorie, en gebruiksgebaseerde linguistiek. Inbegrepe hierby is ook emergentisme, veeltaligheid en komplekse sisteemteorie in die aanleer van taal, tesame met ander navorsingsgroeperings wat ewe duidelik toegepaste taalkundige subdissiplines bestryk, soos taalbeleidstudies, taalonderrig en -aanleer, en akademiese skryfwerk.Voeg daarby dat die internasionale organisasie self geen sistematiese kriteria aanwend om die toegepaste linguistiek te definieer nie, behalwe 'n duidelike vooroordeel wat blyk in sy eie formulerings vir die toepassing van linguistiese teorieë - en dan nog sommer met 'n hoofletter L (vgl. McNamara 2015:471). Hierdie organisasie blyk sonder enige rede te aanvaar dat werk vanuit enige vakhoek, en wat op sy drumpel aanmeld, 'n legitieme navorsingsnetwerk onder sy vaandel sou kon uitmaak. Eerder as om groter duidelikheid te bewerkstellig, maak die breë definisie van die toegepaste linguistiek wat daar aangebied word dit moontlik om enigiets in te sluit wat min of meer verband sou kon hou met "problems related to language and communication".

Waarom is dit so? Hoekom vind subdissiplines en temas wat duidelik taalkundig van aard is, 'n institusionele vastrapplek binne die toegepaste linguistiek?

Die eerste rede daarvoor is reeds genoem: by die aanvang van die toegepaste taalkunde het almal gereken dit is sonder meer 'n onderdeel van die linguistiek. Derhalwe het daardie taalkundige subdissiplines en temas wat mees relevant en toepaslik gelyk het om "toepassing" te kon hê, 'n gemaklike vastrapplek binne die toegepaste linguistiek verkry. Ons moet egter daarop let dat so 'n idee van toepassing en relevansie 'n duidelike modernistiese ondertoon daarmee saamdra. Die behavioristiese en strukturalistiese wortels van hierdie sienings het teweeggebring dat die toegepaste taalkunde beskou is as afhanklik van hierdie modernistiese instelling in die linguistiek: in effek dat die toegepaste linguistiek bloot die "wetenskaplike" (en derhalwe gesaghebbende) voorskrifte van die linguistiek moes aanvaar om die "korrekte" taalonderrigmetode of toets van taalvermoë te kan voortbring. Die huidige definisie wat die internasionale vakorganisasie (AILA) voorhou, en wat McNamara (2015:471) bespreek en analiseer, verroer nie 'n vinger om hierdie siening óf te weerlê óf te betwis nie. Eintlik stap dit maar steeds op die voetspoor van die modernistiese beginpunt van die toegepaste taalkunde, deur bloot die modernistiese ondertone en aanpak wat die historiese begin van die veld gekenmerk het, te beaam.

Die tweede rede waarom subdissiplines van die linguistiek institusioneel tuis geraak het binne die toegepaste linguistiek het te doen met ontwikkelings binne die linguistiek self in die laaste drie dekades of so van die vorige eeu. Nie net was dit 'n tydperk waarin die struktura-listiese en behavioristiese paradigmas in die taalkunde die wyk moes neem voor die kragtige aanslag van die transformasioneel-generatiewe grammatika (TGG) nie: binne die TGG self was die definisie van wat legitiem ondersoekbaar in die taalkunde was, uiters beperkend (Weideman 2013 c). Die dominante posisie van die TGG het gelei tot die uitsluiting van daardie taalkundiges wat dit nie aanvaar het nie. Dit het hul geleenthede vir publikasie van hul analises, vir die verkryging van werk as taalkundiges, en ook ander institusionele geleenthede meteens weggeneem. Hierdie uitsluiting het veral die taalkundiges geraak wat belangstelling getoon het in die sosiale dimensies van taalgebruik, en in 'n breër gekonsipieerde, verruimde en meer ontplooide visie op linguale entiteite, gebeure en sake (kyk ook McNamara 2015:472; Shuy 2015:434f.).

Dit is dus glad nie toevallig nie dat sommige spesifiek sosiolinguistiese idees, temas en subdissiplines wat op die AILA-webwerf (2015) gelys word, 'n gelukkiger en meer verwel-komende institusionele tuiste binne die georganiseerde toegepaste linguistiek gevind het. Om dit eufemisties te stel: daar is min taalkundiges wat hulle akademiese loopbane in die laaste drie dekades van die 20ste eeu begin het, wat onaangeraak gelaat is deur die historiese invloed van die generativisme. Vele non-konformerendes is direk verhoed om hulle vak, die linguistiek, openlik te bedryf, en nog meer het eerstehands die onverdraagsaamheid van die generativisme aan eie lyf gevoel, of die hoon waarmee die TGG alternatiewe sienings begroet het.

Dit is daarom nogal ironies dat die definisies van beide die ondersteuners van die TGG (Fromkin, Rodman & Hyams 2013:315) en die definisies van toegepaste taalkundiges uit postmodernistiese of selfs poststrukturalistiese stal (bv. McNamara 2012:473) appelleer op die betrokkenheid van hulle onderskeie dissiplines, respektiewelik die eng gedefinieerde taalkunde en die toegepaste taalkunde, by "taal" as definiërende eienskap. Aangesien "taal" die gemeenskaplike element in die verskillende definisies is, kan dit vanselfsprekend nie terselfdertyd ook die onderskeidende element of fokus van die onderskeie velde wees nie.

As beide linguistiek en toegepaste linguistiek gekenmerk word deur 'n bemoeienis met "taal", kan 'n mens dus verstaan waarom die analise van drie komplekse grondidees in die taalkunde - die verhouding tussen linguale norm en linguale feit; die relasie tussen die oorsprong, groei, ontwikkeling, volwassewording en afbraak van of verlies aan taal; die verhouding tussen linguale subjek en objek - so geredelik beskou is as behorende by enigeen van die twee dissiplines, of, indien hul analise dan kwansuis nie legitiem binne die taalkunde gedoen kon word nie, hoekom hulle net sowel by die toegepaste taalkunde kon tuishoort.

Dit was in die reël nie te moeilik om die eerste van hierdie drie komplekse grondidees in die taalkunde te behou nie, want binne die TGG staan die onderskeiding tussen taalnorm en taalfeitelikheid, oftewel taalvermoë en taalgebruik, eintlik sentraal. Die uitsluitlike fokus op die normatiewe kant van die linguale ("competence"), tesame met die TGG se belydenis van sy onvermoë om iets sinnigs oor feitelike taalgebruik ("performance") te sê, het dit weliswaar minder aantreklik vir toegepaste taalkundiges gemaak - te meer nog omdat die TGG ook huiwerig was om die komplekse relasie tussen linguale subjek en linguale objek met oorgawe te ondersoek. Dié relasie is terstond uit die linguistiek verban en na die sosiolinguistiek uitgeskuif. Die TGG het die grootskaalse belangstelling in taalverwerwing, die ander komplekse linguistiese idee hierbo genoem, nietemin nie geheel en al agtergelaat nie. Maar selfs in hierdie geval kon die TGG geen verdere bydrae lewer nie toe die idee van 'n taalverwerwings-meganisme verryk is deur insigte wat taal-in-interaksie vooropgestel het. Hierdie verryking behels spesifiek die idee dat taalverwerwing verstaan moet word as "a social process involving learning by doing with social support" (Tarone 2015:447).Vir sommige was taalontwikkeling, soos opgeneem in die perspektiewe van diegene wat ywerig werksaam was in die steeds baie invloedryke vierde tradisie van wat in Tabel 1 hierbo vermeld is, eintlik maar slegs toegepaste taalkunde (vgl. De Bot 2015). Dit geld veral waar taalontwikkeling betrekking gehad het op die aanleer van addisionele tale, en waar die analises insig kon bied in die ontwerp van taalonderrig.

Nogtans verdien dit vermelding dat van die vroegste tot die mees resente tye daar nog altyd tussen diegene wat hul met taalverwerwing bemoei uiteenlopende beskouings oor die aard van hul veld en hul werk was. Aan die een kant kry ons navorsers wat van mening is dat dit 'n veld behels wat op sigself die moeite werd is om te ondersoek, met ander woorde te analiseer met behulp van linguistiese insigte en as analise van 'n komplekse linguistiese idee. Maar daar was ook, aan die ander kant, akademici wat 'n direkte en noodwendige verbinding wou sien tussen taalverwerwingstudies en taalonderrig. Tot die eerste groep behoort analitici soos Selinker (1972). Selinker ag die outonomie van navorsing oor tweedetaalverwerwing so hoog dat hy selfs geen noodwendige verbinding sien tussen die teoreties relevante eenhede van sulke werk en die elemente van linguistiese teorieë nie (Selinker 1972:224f.). Terselfdertyd onderskei hy skerp tussen 'n "psychology of second language learning" en 'n psigologie van leersukses in 'n taal wat deur middel van taalonderrig bereik kan word. Ons tref soortgelyke perspektiewe aan in die vroeëre werk van Schumann (1984), en kontrasterende latere en vroeëre gedagtes by Krashen (1979, 1980) en by Skehan (2008). Skehan (2008:411) verklaar selfs dat die intertaalstudies wat Selinker gegrondves het, en steeds voortgaan, nie slegs 'n beduidende impak op tweedetaalverwerwing gehad het nie, maar dat die insigte daarvan 'n grondige invloed moet hê op keuses in taalonderrig, soveel so dat "developmental stages need to be incorporated in any SLA-informed account of syllabus design". 'n Meer onlangse bespreking van hierdie standhoudende kontrovers en debat oor taalverwerwingstudies kan gevind word in Davies (2013:36ff.).

Die belangrikste gevolgtrekking is dat ons soektog na 'n kenmerkende fokus of unieke karaktertrek van óf die linguistiek óf die toegepaste linguistiek tevergeefs sal wees as ons slegs "taal" as kriterium gebruik. Wat moet gebeur, is dat ons die tipe betrokkenheid by "taal"wat elke dissipline kenmerk, moet identifiseer - die invalshoek dus, of die perspektief van waaruit die betrokkenheid ontspring. Daarsonder sal die velde moeilik onderskeibaar wees. Voordat hierdie stelling verder ontleed word, oorweeg ek egter eers so bondig moontlik 'n aantal ander resente beskouings oor die aard van die toegepaste taalkunde, en waarna reeds in die voorafgaande verwys is.

 

3. IS INTERDISSIPLINÊRE EN MULTIDISSIPLINÊRE ONDERSKEIDINGS VOLDOENDE?

Dit blyk duidelik uit die voorafgaande dat die oproep vir die toegepaste taalkunde om multidissiplinêr te werk en interdissiplinêre oplossings vir taalprobleme na te jaag, al heel vroeg in die geskiedenis van die veld na vore getree het (Van Els et al. 1984). By oorweging van die uitgenooide opinies van gevestigde toegepaste linguiste wat bydraes gelewer het vir die spesiale uitgawe van Applied linguistics (Hellermann 2015) is dit ewe duidelik dat hulle drie dekades later steeds glo dat hierdie idees genoegsame traksie en impak het om as kenmerkend van die veld aangemerk te word.

Presies wat interdissiplinariteit en 'n multidissiplinêre aanpak behels, blyk minder duidelik te wees. Heel dikwels is die vae oproep slegs vir die toegepaste taalkunde om te put uit ("draw upon") enige ander dissipline wat relevant geag word (Kramsch 2015:456; McNamara 2015:473; Tarone 2015:451; Mauranen 2015:489). Cook (2015:429) vestig egter ons aandag daarop dat die blote oorname van epistemologieë en oortuigings uit ander dissiplines soos die sosiologie, die antropologie en die filosofie nie genoegsame gronde bied vir "claims for a federal identity" nie, aangesien hierdie nuwe metodologieë en aannames slegs ten gevolge het dat die toegepaste linguistiek "gekoloniseer" word deur ander dissiplines. Inderdaad vind ons weinig pogings in hierdie perspektiewe selfs om onderskeid te tref tussen multidissiplinariteit, interdissiplinariteit of pluridissiplinariteit. Dit is vreemd, want in die lig van onlangse besprekings van filosofiese invloede op die toegepaste linguistiek (McNamara 2012, 2015) sou 'n mens verwag om 'n ernstiger behandeling aan te tref van die interdissiplinêre trefkrag van filosofiese paradigmas wat deur 'n paar dissiplines gedeel word (vgl. ook Mauranen 2015:490).

Wat nog meer opmerklik is, is dat geeneen van die bydraers tot die spesiale uitgawe die moeite doen om te verwys na die idee van transdissiplinariteit nie, waaroor die nuutste paradigma in die veld, dinamiese sisteemteorie (DST), waarna somtyds ook verwys word as komplekse sisteemteorie (KST), hoog opgee.1 Terselfdertyd, en by tye kontradiktories in die lig van die konsensus wat daar amper oor die sg. multidissiplinêre aard van die toegepaste linguistiek blyk te bestaan, vind ons merkwaardig genoeg in sommige van die bydraers se opinies oortuigings oor die aard van die toegepaste linguistiek wat dit in die besonder, en selfs eksklusief, steeds slegs aan 'n enkele dissipline, die taalkunde, verbind (Shuy 2015; Kramsch 2015; kyk ook Mauranen 2015:489). Hierdie opinie strook wel volledig met dié van die aanvanklike grondleggers van die toegepaste taalkunde 'n goeie 60 of meerjare gelede. Kramsch (2015:459) loof byvoorbeeld die "unwavering determination [by applied linguistics] to maintain strong links to linguistics". Daarenteen praat Shuy (2015:437) op sy beurt van beide die toegepaste linguistiek en die linguistiek sonder meer as blote gebiede en onderdele van die taalkunde, en dan sonder die geringste aanduiding dat 'n alternatiewe siening moontlik sou wees.

Die gebrek aan duidelikheid oor wat multi- en interdissiplinariteit behels, staan egter uit. Die vraag wat onbeantwoord in hierdie beskouings bly, is wat die aard van die bemoeienis van die toegepaste taalkunde met ander dissiplines sou behels, en wat die fokus sou uitmaak van sy eie unieke dissiplinêre aanpak. Indien dit 'n onderskeibare dissipline is in lyn met die (soms kontradiktoriese) beredenering van die meerderheid bydraers tot meer onlangse debatte, met die moontlike uitsondering van Cook (2015), is daar 'n klaarblyklike behoefte om die uniekheid daarvan behoorlik te artikuleer. Miskien verwag 'n mens te veel van 'n debat met opinies wat op uitnodiging gegee word. So 'n aanpak blyk meer waarskynlik die geykte of selfs naïewe menings weer op te haal, en op die bekende en gebaande weë te wandel, as om gesien te word as 'n geleentheid om opwindende en potensieel verhelderende insigte na vore te bring. As daar enige algemene kritiek teen die bydraes waarna hier verwys word, gemaak kan word, is dit inderdaad dat daar nie 'n enkele nuwe insig in hulle na vore tree om die terrein van die toegepaste taalkunde te omskryf nie.

 

4. 'N ALTERNATIEWE PERSPEKTIEF

Daar is inderdaad 'n stel alternatiewe perspektiewe tot dié wat hierbo bespreek is, en wat die moeite werd is om op te haal. Dit is tegelyk perspektiewe wat die potensiaal besit om reg te laat geskied aan sowel die onafhanklike dissiplinêre aard van die linguistiek en die toegepaste linguistiek, as aan hulle historiese ontwikkelingsgang. So 'n perspektief is te vinde in die filosofiese idee wat sistematiese begrippe en idees, die grondbegrippe binne 'n vakgebied, vooropstel as verklaring vir die historiese ontwikkeling van dissiplines.

In die geval van die toegepaste linguistiek sal so 'n perspektief byvoorbeeld aanvaar dat dit geen toevalligheid is nie dat die volhoubaarheid van die toegepaste taalkunde volledig te doen het met die verhouding daarvan met taalonderrig (McNamara 2015:467). As 'n mens verder ekstrapoleer, kan dit aanvaar word dat die dissipline te doen het met die assessering en meting van taalvermoë, asook met taalbeleidsformulering en -bestuur. Aanvaar ons hierdie historiese gegewe, kan ons eerder as om te poog om die veld te rek en uit te brei om bykans elke soort ondersoek wat op sy drumpel arriveer te probeer inkorporeer, die sistematiese vraag vra: wat is die fokus van die toegepaste linguistiek? Wat vertel die geskiedenis van die veld ons van hierdie fokus? Hoe bring die veld sy primêre artefakte voort - taalkursusse, taaltoetse en taalbeleide? Dan kan ons daarna voortgaan om 'n saak uit te maak van wat by hierdie dissiplinêre definisie pas, en wat nie. Dit behoort ook 'n aanduiding te gee van hoe robuus so 'n formulering van die fokus van die veld is, asook of dit histories enige sin uitmaak en regverdig kan word met behulp van die grondliggende idees van die veld.

Indien ons gebruik maak van die filosofiese idee (Strauss 2009) dat dissiplines liefs gedefinieer moet word deur nie bloot na konkrete entiteite of objekte te verwys nie, soos in die huidige geval na die objektiewe taalvorme of voorbeelde van taal, maar eerder na modaliteite as konseptuele beginpunte of invalshoeke vir die analises van die entiteite, dan het ons potensieel 'n meer produktiewe onderskeid waarmee ons kan werk.

Kyk ons byvoorbeeld na die linguistiek (Weideman 2009a, 2011, 2013c), merk ons dat as ons dit beskou as die studie en analise van die linguale of semiotiese modus van ons ervaring (Van Lier 2008; cf. ook Kramsch 2008), ons geweldig baat vind by die konsepte wat jy dan kan hanteer: so 'n invalshoek bied niks minder nie as 'n kriterium vir die aard van jou dissiplinêre werk op hierdie gebied. In die geval van die linguistiek kan jy dan verder onderskei hoe die vakgebied histories geïnteresseerd geraak het in linguistiese konsepte en idees wat afkomstig is uit die analogiese relasies tussen die linguale dimensie en ander dimensies van ons ervaring. Daardie sig op sake bied in so 'n geval vir die taalkundige 'n verklaring van hoe die linguistiese analise van taalsisteme en taalfeite (soos ontleed in die linguistiek vanaf De Saussure tot by Chomsky), onderskeidelik gekonseptualiseer kan word. Die skakel tussen die linguale en die numeriese maak dit moontlik om taalsisteme en taalfeite begripsmatig vas te vat as 'n eenheid binne 'n veelheid van linguale norme wat die eenheid binne die veelheid van linguale objekte en feite reguleer.

Hierdie analise gaan duidelik daarvan uit dat daar 'n analogiese verhouding is tussen die linguale en die numeriese modaliteit, in welke ervaringswyse die idee van eenheid en veelheid vir die eerste keer na vore kom. Dieselfde analogiese relasie geld tussen die oorspronklik ruimtelike idee van 'n linguale geheel en sy onderskeie dele, wat histories gesproke die strukturalisme ten grondslag gelê het. As ons daarby dink aan die transformasie en beweging van sulke linguale dele na ander posisies op verskillende vlakke van linguale struktuur, kry ons sig op die konseptuele grondslag van die begrippe waaraan die TGG in die taalkunde prominensie kom gee het, begrippe wat ontspring uit die skakel tussen die linguale dimensie en die kinematiese. Insgelyks, wanneer ons onderskei tussen verskillende tipes diskoers en allerlei ander sosiaal-relevante analitiese eenhede soos taalhandelinge ("speech acts"), wisselende gespreksbeurte, registers, genres, en tekste, vind die linguistiese analise daarvan sy basis in die analogiese relasie tussen die linguale en die sosiale ervaringswyses. In hierdie vier kort voorbeelde uit die geskiedenis van die taalkunde vind ons dus 'n verklaring van die basis vir linguistiese begripsvorming in die analogiese relasies tussen die linguale modaliteit en, respektiewelik, die numeriese, die ruimtelike, die kinematiese en die sosiale (vir 'n meer uitgebreide analise, raadpleeg Weideman 2009a).

Indien 'n mens beweer dat die konseptuele invalshoek van die linguistiek te vinde is in die linguale aspek, soos wat hierbo gedoen word, beteken dit vanselfsprekend nie dat die linguistiek sake slegs op hierdie vlak van abstraksie hanteer nie. Binne die linguale ervaringswyse vind ons nie slegs linguale objekte soos foneme, morfeme, grammatikale frases, klouses, sinne, uitinge, taalhandelinge, gespreksbeurte, registers, tekste, diskoerse en ander feitelike, objektiewe linguale vorme nie, maar ook die linguale subjekte wat as taalagente daardie objekte voortbring. Inderdaad, met'n breër ("semiotiese") perspektief op die saak kan ons selfs subjektiewe en objektiewe linguale feite in die visier kry, byvoorbeeld die betekenis van ons (subjektiewe) gebruik van gebare, en die (objektiewe) gebare self. Daar word dan van ons linguistiese analise vereis om 'n interpretasie aan die subjektiewe taalfeit te gee (die gebruik van die gebaar, sê maar die knik van 'n kop) en die objektiewe taalfeit, net soos dit ons feitelike taaluitinge (ons "woorde") se betekenis moet kan verklaar.

Om dit so te bekyk, vorder ons terselfdertyd konseptueel, want ons het die konkrete, alledaagse objekte, vorme, fenomene, stande van sake en gebeurtenisse met linguistiese begrippe en idees benader. Ons het dit nie as bloot fisiese, of organiese, gevoelsmatige of psigiese, sosiale, juridiese of etiese groothede hanteer nie. Alhoewel alle konkrete groothede potensieel deel het aan alle aspekte van ons ervaring, het ons deur ons invalshoek te identifiseer, tegelyk ook die tipe begripsvorming in die veld van die linguistiek onderskei van die wyses van konseptualisering in ander velde, soos die fisika, die biologie, die sielkunde, die sosiologie, die regswetenskap en die etiek.

Die vraag is dus: indien dit moontlik is om die taalkunde op hierdie wyse te omskryf, wat dan van die toegepaste linguistiek? Dis merkwaardig dat, in lg. geval, daar ooreenstemming is by sommige toegepaste taalkundiges uit sowel die modernistiese kamp (Corder 1972:6f.) as uit postmodernistiese hoek (bv. Janks 2000:177).2 Hierdie alternatiewe siening behels dat die toegepaste taalkunde op die voetspoor van Schuurman (1972; en voor hom Van Riessen 1949) omskryf kan word as 'n dissipline wat gekenmerk word deur ontwerp. In hierdie siening is die toegepaste linguistiek se fokus en invalshoek op die ontwikkeling, beplanning, vormgewing en voorbereiding van ingrepe gerig, wat kan dien as oplossings vir potensieel grootskaalse of ten minste wydverspreide taalprobleme. Kortom, die ervaringswyse, die gesogte invalshoek wat die aanpak van die toegepaste linguistiek onderskei en uniek maak, is die tegniese dimensie van ontwerp (Weideman 2013d, 2017).

As daardie funksie van ons ervaring, naamlik die tegniese, ons toegepaste taalkundige werk definieer, dan beteken dit dat dit die fokus van die toegepaste linguistiek is om vorm te gee en te ontwerp aan oplossings vir taalprobleme. Dit beteken voorts dat daardie modaliteit, kortweg die tegniese genoem, die toonaangewende is in sulke ontwerp en fasilitering. Dit gee die leiding en vervul die rol van gidsfunksie in die ontwerp van sulke ontwerpte ingrepe ("language interventions").

Hierdie bewering word gestaaf deur wat histories as die primêre artefakte van die toegepaste linguistiek beskou is: taalkurrikula en taalkursusse vir taalonderrig, assesserings van taalvermoë (taaltoetse) en hul spesifikasies, en taalbeleide en -planne, tesame met die implementeringstrategieë wat met lg. gepaardgaan. Hierdie ontwerpte artefakte is op twee vlakke werksaam: 'n normatiewe vlak wat die voorwaardes vir die tweede-vlak artefakte uitspel, die formate waarin die eindgebruiker van die ontwerpe daarmee kennis maak (aangepas uit Weideman 2011:14):

 

 

Soos in die geval van die linguistiek, verwys die modale omskrywing van die sfeer van die toegepaste taalkunde ook na 'n abstrakte (eintlik abstraheerbare) modaliteit of ervaringswyse, en nie na 'n konkrete, feitelike objek of objekte nie. Insgelyks bemerk ons as toegepaste taalkundiges binne die tegniese aspek van ons ervaring 'n hele aantal konkrete, feitelike entiteite, verskynsels, stande van sake en verhoudings. Die definiërende maatstaf, die tegniese dimensie van ons bestaan, verskaf weereens aan ons 'n invalshoek vir begripsvorming. En kyk ons na die feitelike vorme van ons ontwerpe vir die oplossing van taalprobleme, na die taalkursusse, die taaltoetse en die taalplanne wat ons maak, vind ons bowenal by hulle twee kritiek belangrike eindpunt- oftewel terminale funksies.

Hierdie twee eindpuntfunksies, die analitiese en die tegniese, staan uit; in elke toegepaste taalkundige ontwerp is daar 'n wisselwerking tussen die leidinggewende tegniese ontwerps-funksie en die begrondende of basisfunksie wat die ontwerp ondersteun vanuit die analitiese of teoretiese basis daarvan, soos voorgestel in Figuur 1 hieronder (Weideman 2013d, 2017). Tussen die vele moontlike dimensies van toegepaste taalkundige ontwerpe opereer hierdie twee funksies, die tegniese en die analitiese, as leidende en funderende modusse:

 

 

Wat meer is, en weereens soos dit in die linguistiek die geval is, verleen die hoek waaruit ons begripsvorming in die toegepaste taalkunde aanpak aan ons 'n potensieel produktiewe perspektief op vroeëre en latere dispute binne die vakgebied. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die gebrek aan helderheid oor die begrip "geldigheid" binne die subdissipline van taal-assessering.

Die onduidelikheid oor wat geldigheid ("validity") en wat geldigmaking ("validation") behels, kan grootliks opgeklaar word indien ons die debat in verband bring met die konseptuele basis daarvan in die analogiese verhouding tussen die tegniese modaliteit en die fisiese. In hierdie analogiese relasie vind ons byvoorbeeld in ons begripsvorming die nosie van tegniese krag. Dit stel ons in staat om te begryp hoe, in die aanwending van 'n tegnies ontwerpte meetinstrument soos 'n taaltoets, die tegniese kragte werksaam is wat dien as tegniese oorsake vir die verlangde (geldige) gevolge, of wat ons noem die resultate van die meting (Weideman 2012).

En, soos in die linguistiek, vind ons in die ontwerp van taalingrepe 'n tegnies-gestempelde subjek-objekverhouding, hierdie keer tussen die ontwerper as tegniese agent of subjek en die plan wat as die objektiewe en feitelike gevolg van die subjektiewe ontwerpproses ontstaan. Voorspelbaar genoeg, as 'n mens in ag neem wat elders ook kenmerkend is van tegniese subjek-objekverhoudings, speel die oorweging van die skaarsheid van middele waarmee die plan bereik moet word binne die tegniese proses - of die hulpbronne nou tyd, fondse, of institusionele ondersteuning behels om taal te beplan, te toets of te onderrig - altyd 'n beduidende rol. In tegnies gekwalifiseerde ontwerpe is daar onvermydelik 'n skakel tussen die beskikbare tegniese hulpbronne en die tegnies gestempelde doelwitte wat met die ontwerp bereik moet word.

Dis juis hier waar die paaie van modernistiese en postmodernistiese benaderingswyses skei: modernistiese ontwerp-oortuigings beklemtoon die middele, en spesifiek die rasionele middele waarmee die ontwerp regverdig kan word, terwyl postmodernistiese uitgangspunte die klem laat val op die doeleindes of eindresultate van die ontwerpe.

Daarom behoort ons nie verbaas te wees nie dat hierdie twee verskillende beklemtonings telkens die bron is van die kritiek wat die een aanpak op die ander laat neerkom. Gewoonweg word die kritiek verwoord as die keuse tussen die doel om die ontwerp te laat staatmaak op 'n kwantitatiewe of empiriese analise, teenoor 'n aanpak wat dit primêr afhanklik stel van sosiale, politieke of etiese oorwegings. Met verwysing na modernistiese idees in die toegepaste taalkunde moet ons daarop wys dat ontwerp geen "objektief-begronde" handeling is nie. Tog is daar geen twyfel nie dat enige taalplan of taalontwerp ook deeglik teoreties begrond moet word. Sodanige teoretiese regverdiging word bereik deur te verwys na die logiese of analitiese onderbou van die tegniese ontwerp, wat inderdaad die funderingsfunkie van die plan is.

Derhalwe is verwysing na teorie noodsaaklik in die ontwerp van taaloplossings, alhoewel ons tog moet onthou dat hierdie begronding daarvan, al oefen dit 'n appèl uit op die gewaande (maar onbereikbare) "objektiwiteit" van die wetenskaplike teorie en logiese analise, steeds op sigself 'n subjektiewe, tegnies-gekwalifiseerde handeling is.

Die tegniese begrippe en idees wat in hierdie bydrae geartikuleer word ten einde die toegepaste taalkunde te omlyn, bied 'n verdere verduideliking vir die tweespalt tussen daardie modernistiese paradigmas en postmodernistiese benaderings in die veld waarna daar reeds hierbo verwys is (Cook 2015:429; Mauranen 2015:490). In die tipiese geval oorbeklemtoon die modernistiese oortuigings die funderende funksie van die ontwerp deur die aandrang dat die ontwerp slegs met verwysing na die analitiese modus begrond moet word. Dit plaas 'n stel onbehoorlike en voorskriftelike verwagtings op ontwerpers oor wat die rol van teorie in die bedink van die taaloplossing moet wees. Aan die ander kant oorbeklemtoon die postmodernisme die ontplooiing en vrymaking van die tegniese fantasie van die ontwerper en die oorheersende rol wat sosiale, politieke en etiese faktore speel, asook die deurslaggewende oorwegings wat sulke faktore na hul mening in die ontwerp van taalplanne moet uitmaak.

Dit maak dus saak vir die ontwerpers, ten minste betreffende die verwagtings wat hulle mag koester oor die effek van toegepaste taalkundige oplossing wat voorgestel gaan word, om te weet waar hulle keuse lê of moet lê: by die modernistiese verwagting (dat die wetenskap die wêreld reg sal maak), of by die postmodernistiese relativisme wat dit verwerp, en politieke gedienstigheid die septer laat swaai by die bedink van taaloplossings.

Wat bowenal nie ontken kan word nie, is dat toegepaste taalkundige ontwerpe vandag eers agterna regverdiging soek vir die ontwerpe wat voorgestel word. Die ontwerpproses verwys wel na die teorie vir rugsteun, of dit gebruik analise vir verfyning, maar die teorie skryf op geen manier meer vandag die ontwerp voor nie, soos aan die historiese begin van die dissipline vermeend moontlik was. Derhalwe neem die tegniese verbeelding van die oplossing-ontwerpende toegepaste linguis altyd in die bedink van die oplossing die voortou, en met reg (Schuurman 1972:404). En daarom is die naïewe siening dat die toegepaste taalkunde bloot vanweë die naam waaraan dit histories swaar dra, en wat suggereer dat dit eintlik slegs die toepassing van die taalkunde behels, presies dit: 'n verouderde siening, wat aanhaak by die historiese begin van die dissipline in die modernistiese trant, maar geen sig het op die verdere historiese ontwikkeling daarvan nie. 'n Meer realistiese perspektief op die verhouding tussen die leidinggewende tegniese funksie van 'n toegepaste taalkundige ontwerp en die rasionele regverdiging daarvan, wat gewoonlik bewerkstellig word met verwysing na die mees resente teorie of selfs veelheid van teorieë, is dat dit 'n wederkerige relasie is, soos hierbo grafies uiteengesit.

 

5. SAMEVATTING: WAAROM DISSIPLINÊRE DEFINISIES SAAKMAAK

Die keuse vir óf 'n modernistiese óf 'n postmodernistiese aanpak tot die ontwerp van 'n toegepaste taalkundige oplossing vir 'n taalprobleem beïnvloed dus aan die een kant direk die verwagtings wat jy koester vir die begronding van die oplossing, of, aan die ander kant, die impak op die samelewing wat jy by die implementering daarvan voorsien.

Daar is nog 'n rede waarom dissiplinêre definisies belangrik is. Dit behoort uit bostaande duidelik te wees dat die modale afbakening van die linguistiek en die toegepaste linguistiek as synde 'n fokus op respektiewelik die linguale en tegniese modaliteite van ons ervaring, die ietwat simplistiese (maar blykbaar standhoudende) siening weerspreek dat daar die een of ander begripsmatige kontinuïteit tussen hul onderskeie velde bestaan. Hierdie simplistiese siening is ongelukkig steeds in selfs van die mees resente debatte teenwoordig, insluitend die diskussie in een van die onlangse toonaangewende vaktydskrifte waarna daar in hierdie bydrae verwys is.

Inderdaad maak die afbakening van die terrein van die toegepaste taalkunde wat in my argument hier uiteengesit word, dit moontlik om dit te beskou as 'n afsonderlike dissipline, onderskeibaar van die linguistiek. Indien dit verder beskou word as 'n multi- of interdissiplinêre aangeleentheid, bied die argument hier nog 'n verdere konseptuele bonus, want die aard en die invalshoek sowel as die doel waarom die toegepaste taalkunde ander dissiplines betrek, kan dan bepaal word: dit word gedoen ter wille en ter ondersteuning van die ontwerp van 'n taalingreep. Dit glo ek is 'n genoegsaam praktiese en lofwaardige doel vir die toegepaste taalkunde om na te streef, want dit beteken dat sy ontwerp van taaloplossings betrokke kan wees in gevalle waar daar benadeling is deur taal, waar verligting van swaarkry as gevolg van taalgebrek moontlik is, en waar die planne en ingrepe wat die dissipline mag voorstel, kan poog om taal te ontwikkel waar dit gebiedend noodsaaklik vir die menslike welsyn is.

Die siening van die toegepaste linguistiek as 'n dissipline in eie reg, en losstaande van die taalkunde, hou dus geen risiko of verlies van status (Shuy 2015) vir die toegepaste taalkunde in nie. Inteendeel, al wat dit kan verloor, is die modernistiese vooroordeel wat van die begin af sy grondslae ondermyn het, en wat veroorsaak het dat die veld 'n naam moet dra wat op sigself aanvegbaar is, ten minste as dit op sigwaarde opgeneem word, en op 'n naïewe of intuïtiewe wyse geïnterpreteer en verstaan word.

Dit lei geen twyfel nie dat die toegepaste linguistiek voortdurend gekonfronteer gaan bly met die onmoontlike paradigmatiese keuse waarna Cook (2015) verwys. Toegepaste taalkundiges sal moet aanvaar dat hierdie keuse tussen 'n tegnokratiese en modernistiese, of 'n revolusionêre en postmodernistiese definisie van die veld 'n blywende een is. Die bestryding van een paradigma binne 'n veld deur 'n ander gaan nie in die niet verdwyn nie, maar begrip oor hoe die veld omskryf kan word, gaan ons wel bewus maak van die slaggate daarin. Of ons nou gesoute professionele beoefenaars van die toegepaste linguistiek is, of nuwelinge in die veld, behoort ons onsself dit te gun om ingeligte besluite te kan neem oor hoe ons in die dissipline werksaam wil wees, en hoe daardie keuse belyn is met ons eie professionele oortuigings en aanpak (Paltridge 2014).

Debatte soos dié waarna in hierdie artikel verwys word, is slegs nuttig en relevant as hulle ons professioneel meer bewus maak van waar ons staan. Uiteindelik is die keuse van die paradigma waarin ons wil werk en dissiplinêre bewustheid die belangrikste bestanddele in die stryd om te voorkom dat ons blote slagoffers van intellektuele modes word.

 

ERKENNINGS

Ek wil graag vir Gini Keyser vir die aanvanklike versorging, en vir Stef Ferreira van Magic Camel Communications vir die uiteindelike redigering en stylversorging bedank, asook vir Anna Weideman vir die belyning van die verwysings met die voorskrifte van die tydskrif.

 

BIBLIOGRAFIE

AILA (Association Internationale de Linguistique Appliquée). 2015. About research networks: List of ReNS. http://www.aila.info/en/research/list-of-rens.html [13 August 2015].         [ Links ]

Applied Linguistics, Special issue: Definitions for Applied Linguistics, 36(4). http://applij.oxfordjournals.org/content/36/4.toc [26Julie 2016].         [ Links ]

Beckner, C., Blythe, R., Bybee, J., Christiansen, M.H., Croft, W., Ellis, N.C., Holland, J., Ke, J., Larsen- Freeman, D., & Schoenemann, T. 2009. Language is a complex adaptive system: Position paper. Language Learning 59 (supplement 1):1-26.         [ Links ]

Cook, G. 2015. Birds out of dinosaurs: The death and life of applied linguistics. Applied Linguistics 36(4):425-433. doi:10.1093/applin/amv038 [15 September 2015].         [ Links ]

Corder, S.P. 1972. Problems and solutions in applied linguistics. In J. Qvistgaard, H. Schwarz &H. Spang-Hanssen (eds). 1972.Proceedings of the Association Internationale de Linguistique Appliquée, Third Congress, Copenhagen, Vol. III: Applied linguistics: Problems and solutions. Heidelberg: Julius Groos Verlag, pp. 1-23.         [ Links ]

De Bot, K. 2015. A history of applied linguistics: From 1980 to the present. London: Routledge.         [ Links ]

De Bot, K., Lowie, W. & Verspoor, M. 2007. A dynamic systems theory approach to second language acquisition. Bilingualism: Language and Cognition 10(1):7-21.         [ Links ]

Davies, A. 2013. Native speakers and native users: Loss and gain. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Fromkin, V., Rodman,R. &Hyams, N. 2013. An introduction to language. 9th edition. Singapore: Cengage Learning.         [ Links ]

Hellermann, J. 2015. Three contexts for my work as co-editor: Introduction to the special issue. Applied Linguistics 36(4):419-424. doi:10.1093/applin/amv043 [15 September 2015].         [ Links ]

Janks, H. 2000. Domination, access, diversity and design: A synthesis for critical literacy education. Educational Review 52 (2):175-186.         [ Links ]

Kaplan, R.B. (ed.). 1980. On the scope of applied linguistics. Rowley, Massachusetts: Newbury House.         [ Links ]

Kramsch, C. 2008. Ecological perspectives on foreign language education. Language Teaching41(3):389-408.         [ Links ]

Kramsch, C. 2015. Applied linguistics: A theory of the practice. Applied Linguistics 36(4):454-465. doi:10.1093/applin/amv039. [15 September 2015].         [ Links ]

Krashen, S. 1979. A response to McLaughlin, "The monitor model: some methodological considerations". Language Learning 29(1):151-167.         [ Links ]

Krashen, S. 1980. Relating theory and practice in adult second language acquisition. Offprint from S. Felix (ed.). Recent trends in research on second language acquisition. Tubingen: Gunter Narr Verlag, pp. 185-204.         [ Links ]

Larsen-Freeman, D. & Cameron, L. 2008. Complex systems and applied linguistics. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Lee, N., Mikesell, L, Joaquin, A.D.L., Mates, E.W. & Schumann, J.H. 2009. The interactional instinct: The evolution and acquisition of language. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Mauranen, A. 2015. Closing summary. Applied Linguistics 36(4):488-492. doi:10.1093/applin/amv045 [15 September 2015].         [ Links ]

McNamara, T. 2012. Poststructuralism and its challenges for applied linguistics. Applied Linguistics 33(5):473-482.         [ Links ]

McNamara, T. 2015. Applied linguistics: The challenge of theory. Applied Linguistics 36(4):466-477. doi:10.1093/applin/amv042 [15 September 2015].         [ Links ]

Paltridge, B. 2014. What motivates applied linguistics research? AILA Review 27:98-104. doi: 10.1075/aila.27.05pal.         [ Links ]

Schumann, J.H. 1984. Art and science in second language acquisition research. Language Learning 33(5): 49-75.         [ Links ]

Schuurman, E. 1972. Techniek en toekomst: Confrontatie met wijsgerige beschouwingen. Assen: Van Gorcum.         [ Links ]

Selinker, L. 1972. Interlanguage. International Review of Applied Linguistics10(2):209-231.         [ Links ]

Shuy, R.W. 2015. Applied linguistics past and future. Applied Linguistics 36(4):434-443. doi:10.1093/applin/amv016 [15 September 2015].         [ Links ]

Skehan, P. 2008. Interlanguage and language transfer. In Spolsky & Hult (eds). The handbook of educational linguistics. Malden, MA: Blackwell, pp. 411-423.         [ Links ]

Spolsky, B. & Hult, F.M. (eds). 2008. The handbook of educational linguistics. Malden, MA: Blackwell.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2009. Philosophy: Discipline of the disciplines. Grand Rapids, MI: Paideia Press.         [ Links ]

Strevens, P. 1980a. Toward a redefinition of applied linguistics (statement). In Kaplan (ed.) On the scope of applied linguistics. Rowley, MA.: Newbury House, pp.17-20.         [ Links ]

Strevens, P. 1980b. Who are applied linguists and what do they do? A British point of view offered upon the establishment of AAAL. In Kaplan (ed.). On the scope of applied linguistics. Rowley, MA.: Newbury House, pp.28-36.         [ Links ]

Tarone, E. 2015. Second language acquisition in applied linguistics: 1925-2015 and beyond. Applied Linguistics 36(4): 444-453. doi:10.1093/applin/amv035 [15 September 2015].         [ Links ]

Van Els, T., Bongaerts, T., Extra, G., Van Os, C. and Janssen-van Dieten, A. (translated by R.R. van Oirsouw) 1984. Applied Linguistics and the learning and teaching of foreign languages..London: Edward Arnold.         [ Links ]

Van Lier, L. 2008. Ecological-semiotic perspectives on educational linguistics. In Spolsky & Hult (eds). The handbook of educational linguistics. Malden, MA: Blackwell, pp. 596-605.         [ Links ]

Van Riessen, H. 1949. Filosofie en techniek. Kampen: J.H. Kok.         [ Links ]

Weideman, A. 2003. Towards accountability: A point of orientation for post-modern applied linguistics in the third millennium. Literator 24(1):1-20.         [ Links ]

Weideman, A. 2007a. The redefinition of applied linguistics: Modernist and postmodernist views. Southern African Linguistics and Applied Language Studies 25(4):589-605.         [ Links ]

Weideman, A. 2007b. Towards a responsible agenda for applied linguistics: Confessions of a philosopher. PerLinguam 23(2):29-53.         [ Links ]

Weideman, A. 2009a. Beyond expression: A systematic study of the foundations of linguistics. Grand Rapids, MI: Paideia Press in association with the Reformational Publishing Project.         [ Links ]

Weideman, A. 2009b. Uncharted territory: A complex systems approach as an emerging paradigm in applied linguistics. Per Linguam 25(1):61-75.         [ Links ]

Weideman, A. 2011. Straddling three disciplines: Foundational questions for a language department. Acta Varia 1. 30th D.F. Malherbe Memorial Lecture. Bloemfontein: University of the Free State.         [ Links ]

Weideman, A. 2012. Validation and validity beyond Messick. Per Linguam 28(2):1-14.         [ Links ]

Weideman, A. 2013a. Positivism and postpositivism in applied linguistics. In C.A. Chapelle (ed.). The encyclopedia of applied linguistiics, Volume 7. Oxford: Wiley-Blackwell, pp. 4479-4485. Also available online. doi: 10.1002/9781405198431.wbeal0920        [ Links ]

Weideman, A. 2013b. Applied linguistics beyond postmodernism. Acta Academica 45(4):236-255.         [ Links ]

Weideman, A. 2013c. The modal delimitation of the field of linguistics. Journal for Christian Scholarship 49(4):95-122.         [ Links ]

Weideman, A. 2013d. Innovation and reciprocity in applied linguistics. Literator 35(1):1-10. doi: 10.4102/ lit.v35i1.1074        [ Links ]

Weideman, A. 2017. Responsible design in applied linguistics: Theory and practice. Cham: Springer Publishing International. DOI 10.1007/978-3-319-41731-8.         [ Links ]

 

 

 

Albert Weideman is 'n professor in toegepaste taalstudies en senior navorsings-genoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy akademiese werk fokus op die assessering van taalvermoë, en spesifiek op die ontwerp en ontwikkeling van taaltoetse. Hy is 'n gegradeerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting, het reeds meer as 50 artikels in geakkrediteerde tydskrifte gepu-bliseer, en is die outeur van verskeie boeke. Sy Beyond expression: A systematic study of the foundations of linguistics (2009) is baie positief deur resensente ontvang, asook A framework for the study of linguistics (2011). Hy dien op die redaksies van drie geakkrediteerde vaktydskrifte. Hy het kon-gresreferate en programredes gelewer by verskeie internasionale en nasionale kongresse, en gaslesings aangebied by 'n reeks universiteite in die VSA, Duitsland, België, en Nederland, asook in Singapoer en Nieu-Seeland. Sy bydraes oor verantwoordelike ontwerp bring taaltoetsing telkens in verband met die grondslae van sy vakgebied, die toegepaste taalkunde. Sy jongste boek, Responsible design in applied linguistics: Theory and practice, het pas verskyn by Springer, en ontlok reeds positiewe kommentaar.
Albert Weideman is a professor of applied language studies and senior research fellow at the University of the Free State. His academic work focuses on the assessment of language ability, and specifically on the design and development of language tests. He is a rated researcher with the National Research Foundation, and has already published more than 50 articles in accredited journals. His Beyond expression: A systematic study of the foundations of linguistics (2009) has been positively received by reviewers, as has his book A framework for the study of linguistics (2011). He serves on the editorial boards of three accredited scholarly journals. He has delivered keynotes and papers at various national and international conferences, and guest lectures at a range of universities in the USA, Germany, Belgium, the Netherlands, as well as in Singapore and New Zealand. His contributions on responsible design relate language testing to the foundations of his discipline, applied linguistics. His latest book, Responsible design in applied linguistics: Theory and practice, has just been published by Springer, and is already attracting positive responses.
1 Kyk Lee, Mikesell, Joaquin, Mates & Schumann (2009); De Bot, Lowie & Verspoor (2007); Larsen-Freeman & Cameron (2008); Beckner, Blythe, Bybee, Christiansen, Croft, Ellis, Holland, Ke, Larsen-Freeman, & Schoenemann (2009); Weideman (2009b).
2 Vir 'n analise en bespreking, raadpleeg Weideman 2007b.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License