SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a17 

TAALRUBRIEK

 

Oor die skryfwyse van Afrikaans I

 

 

Die Afrikaanse woordelys en spelreëls - algemeen bekend as die AWS - gee sedert 1917 die toon aan vir die spelling van Standaardafrikaans. Die AWS maak 'n onderskeid tussen spelling en skryfwyse. Spelling behels watter letters in 'n woord gebruik word en hoe, en 'n mens kan dus sê dat onmiddellik met twee d's en twee l'e gespel word. Daarenteen het skryfwyse dit oor die vraag of bepaalde kombinasies vas aan mekaar of los van mekaar geskryf word. Afrikaans, soos baie van sy stamgenote in die Germaanse taalfamilie, volg 'n stelsel waarin samestellings vas geskryf word, d.w.s. een woord uitmaak. (Ongelukkig is daar heeltemal te veel adverteerders wat graag Afrikaanssprekendes se klandisie wil bekom, maar hulle skynbaar nie steur aan hierdie eienskap van Standaardafrikaans nie.)

'n Mens sien natuurlik in skriftelike Afrikaans spelfoute, soos *finansieël (kyk AWS1reëls 5.1, 5.2), *onmiddelik of *lewensstyl (AWS rr. 11.30, 17.16), maar verreweg die meeste foute is skryfwysefoute, d.w.s. goed word los geskryf wat vas moet wees en vas geskryf wat los moet wees. Wat ons spelreëls betref, is dit vir my baie duidelik dat skryfwyse losweg die grootste probleme vir Afrikaansskrywendes oplewer. Hierdie indruk blyk ook uit die opeenvolgende uitgawes van die AWS, wat algaande al hoe meer ruimte aan die kwessie afgestaan het.

Ongelukkig sal 'n mens hierdie aspek van ons spelreëls beswaarlik onder die knie kan kry as jy nie 'n basiese kennis van woordsoorte het nie. Jy moet darem basies weet wat selfstandige naamwoorde (s.nw.), byvoeglike naamwoorde (b.nw.), voornaamwoorde (vnw.), bywoorde (bw.), werkwoorde (ww.), voegwoorde (voegw.), voorsetsels (voors.), lidwoorde (lidw.) en telwoorde (telw.) is. Of mense nog hierdie kennis het en of skoliere en studente dit nog geleer word, is 'n ope vraag.

Bowendien leef ons in noue kontak met Engels, waarin die skryfwyse van "samestellings" uiters onvas is. Soms groei sulke Engelse samestellings vas, ander word weer met koppeltekens verbind en dikwels kan stringe woorde eenvoudig ná mekaar ingeryg word (al is dit nie altyd goeie styl nie). Bowendien verskil Engelse bronne dikwels oor die skryfwyse van samestellings. Ek is oortuig daarvan dat dié eienskap van Engels deur analogiewerking na Afrikaans deursyfer.

In die eerste AWS (1917) is die kern van Afrikaans se skryfwysestelsel kort en kragtig soos volg saamgevat: "Wanneer die een of ander woordsoort - behalwe 'n bijvoeglike naamwoord

- 'n selfstandige naamwoord nader bepaal, word die twee aaneengeskrijwe: noordpool, seewater, möreson, uitspanplek." 'n Mens moet hierby ook onthou dat 'n koppelteken in 'n samestelling net 'n ander manier van vas skryf is; die naam koppelteken sê immers dat goed gekoppel of verbind word.

Dit is nie altyd so eenvoudig nie, en in die volgende taalrubriek of twee gaan ek 'n paar spesiale gevalle bespreek. Kom ons kyk egter - onder meer aan die hand van die jongste AWS - na enkele voorbeelde van hoe hierdie basiese reël in Afrikaans verwesenlik word (AWS r. 14.3).

 

 

Hierdie paar voorbeelde illustreer bloot hoe allerhande woordsoorte ander woordsoorte kan bepaal ("nader beskryf", "meer sê oor"), maar alle samestellings is natuurlik hoegenaamd nie so eenvoudig of net tweeledig nie. Die kernwoord van die samestelling kan uit meerdere woorde (na regte, stamme) bestaan of kan deur meerdere woorde van verskillende woordsoorte bepaal word.

Almal ken "gemaakte" lang samestellings (AWS r. 12.5) soos

makataankonfytkookkompetisiereëlingskomiteevoorsitster

of

kleinkalibermultipatroonmagasynagterlaaiergewere,

maar sulke gedermtes kom selde natuurlikerwys voor, en dit kan selde as goeie styl beskou word. Dit is gewoonlik beter (hoewel nie noodwendig altyd maklik nie) om sulke lang samestellings eerder om te stel, bv. "reëlingskomiteevoorsitster van die makataankonfytkookkompetisie" of "voorsitster van die reëlingskomitee van die makataankonfytkookkompetisie" en "agterlaaier-gewere van klein kaliber met multipatroonmagasyne". Oor die gebruik van koppeltekens in sulke lang samestellings, kyk AWS r. 12.5, asook opmm. (a) en (b) daarvan.

Soms kan 'n hele frase ook - volgens dieselfde basiese beginsel - as 'n bepaling optree, bv. iets soos "So 'n kom-ons-wag-en-kyk-wat-gebeur-houding bring niemand iets in die sak nie".

Die belangrikste uitsondering op die kernbeginsel wat hier bo aangehaal is, is die gedeelte tussen aandagstrepe: "behalwe 'n byvoeglike naamwoord". Hier is die verstekreël natuurlik dat b.nwe. gewoonlik of meestal los geskryf word van die s.nw. wat hulle bepaal. In die volgende rubriek kyk ons na enkele belangrike uitsonderings op hierdie die reël en op die vasskryfreël.

Lesers wat nie 'n AWS besit nie, kan gerus hierdie belangrike Akademie-publikasie aanskaf. Dit sal Afrikaansskrywendes beslis baat om ook die Spelreëls-afdeling daarvan minstens aandagtig deur te blaai sodat hulle kan kennis neem van wat daarin bereël word, en dan is die Woordelys-en die Afkortingslys-afdeling natuurlik nuttige kitsnaslaanbronne. Die AWS is heel toeganklik via die inhoudsopgawe, die indeks agterin, interne kruisverwysings, n termlys, en so meer.

 

JD (Tom) McLachlan

Vertaler en Taalversorger. tommcl@whalemail.co.za

 

 

1 Verwysings is na die tiende uitgawe van die AWS, 2009.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License