SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a16 

BOEKBESPREKING BOOK REVIEW

 

 

 

Samesteller: Wilhelm J. Verwoerd
Titel: Verwoerd: Só onthou ons hom (Hersiene uitgawe)
Uitgewer: Pretoria: Protea Boekhuis
Bladsye: 320
ISBN: 978-1-4853-0609-2
Prys: R250.00 (BTW ingesluit)

Op 6 September 2016 was dit presies vyftig jaar gelede dat Demitrio Tsafendas tydens 'n Volksraadsitting met vier dolksteke 'n einde aan dr. H.F. Verwoerd se lewe gemaak het. Dit was dus gepas dat Verwoerd: Só onthou ons hom, wat in 2001 by geleentheid van die honderdste herdenking van dr. Verwoerd se geboortedag, 8 September 1901, verskyn het, 'n bygewerkte heruitgawe beleef het. In dieselfde week waarin ek hierdie resensie-eksemplaar ontvang het, het ek ook in my posbus 'n eksemplaar van Stephen M. Goodson se Hendrik Frensch Verwoerd: South Africa's Greatest Prime Minister (Selfuitgawe, 2016 - verkrygbaar by abolishhusury@sonicmail.co.za) gevind. Die saamlees van hierdie twee publikasies was 'n verrykende ervaring.

Soos die samesteller, prof. Wilhelm J. Verwoerd, die eersgeborene van die Verwoerd-egpaar, dit in die voorwoord tot die 2016-uitgawe stel: "Hierdie is nie 'n verdediging of ontleding van dr. Verwoerd se politieke rol of prestasies nie. Dit is bedoel as persoonlike indrukke deur mense wat hom geken het, al was nie almal geesdriftige ondersteuners nie," Ter wille van balans sou meer bydraes van laasgenoemdes dalk nie onvanpas gewees het nie, maar dan is dit ook duidelik dat hierdie publikasie beslis 'n soort huldebundel is. In die samesteller se voorwoord tot die 2001-uitgawe het hy tereg gemeld: "Alhoewel dr. Verwoerd se lewe en persoonlikheid van verskillende kante belig word, was dit nie moontlik om alle aspekte van so 'n komplekse onderwerp aan te raak nie."

Die boek begin met 'n briljante biografiese skets van dr. Verwoerd deur dr. H.O. Terblanche, 'n historikus wat aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth verbonde was. Aan die einde van die lewenskets het Terblanche hierdie belangrike paragraaf ingevoeg: "Verwoerd was, soos ander historiese figure, 'n kind van sy tyd. Mense en gebeure moet in konteks van hulle tyd verstaan word. Die verlede mag daarom nie beoordeel word deur die toepassing van vandag se maatstawwe nie. Die verlede kan nie vanuit die hede beoordeel word nie. Dit is veral die geval wanneer omstrede politieke figure soos Verwoerd onder die historiese vergrootglas geplaas word."

Die bydraes tot die bundel is in vier sinvolle afdelings verdeel. Wat hierna volg, is enkele feite en menings uit die onderskeie bydraes wat die resensent by die lees van die boek opgeval en bygebly het en maak dus nie aanspraak op objektiwiteit nie, maar is eerder 'n weergawe van dit wat vir my nuut was en my 'n nuwe blik op die persoonlikheid, lewe en werk van dr. Verwoerd gegee het.

Deel I handel oor die familiekring en bevat bydraes van dr. Verwoerd se naverwante, diegene wat die naaste aan hom was: sy suster, sy eggenote, sy kinders, 'n skoondogter en 'n skoonseun. Sy suster, Lucie Cloete (née Verwoerd), meld dat hulle vader gou Afrikaans leer praat het, maar dat haar moeder moeiliker in Suid-Afrika aangepas het en tot haar dood in 1940 'n Hollandse huisvrou gebly het wat haar met haar eie dinge besig gehou het.

Uit mev. Betsie Verwoerd (née Schoombee) se bydrae verneem die leser dat die Verwoerds op Stellenbosch blanke diensmeisies gehad het om te help kook en kinders op te pas en dat sy en dr. Verwoerd besluit het dat 'n moeder se eerste plig by haar huisgesin lê en dat sy dus nooit na haar troue 'n voltydse werk sou beoefen nie. Mev. Verwoerd beskryf ook die minder bekende insident toe lede van die Ossewa-Brandwag in die nag van 22 Oktober 1940 'n mislukte aanval op dr. Verwoerd geloods het omdat hulle hom as een van hulle vernaamste teenstanders beskou het. In 'n slotparagraaf tipeer mev. Verwoerd haar man soos volg: "Hendrik was by uitstek 'n idealis. As ek gevra sou word waar sy idealisme vandaan gekom het, dan sou ek dit in die eerste plek terugvoer na sy ouerhuis. Hy het grootgeword in 'n atmosfeer van roepingsbewustheid. Dit is ongetwyfeld versterk deur die invloede van sy jeugjare toe hy die strewe van die agtergeblewe Afrikaanse gemeenskap sy eie gemaak het. Vir hom was nasionalisme iets edels en onselfsugtigs wat die beste in die mens na vore kon bring. Vir my was hy 'n lewensmaat."

Uit die sewe Verwoerd-kinders se bydraes kry die leser 'n goeie indruk van watter soort vader dr. Verwoerd was, maar ook veel meer, soos die volgende aantoon. Wilhelm het aan sy pa gevra of apartheid moreel geregverdig kan word: "Hierop het hy [dr. Verwoerd] gesê dat dit tipies van die liberaliste is om voor te gee dat hulle, en slegs hulle, 'n hoë moraliteit handhaaf. Hulle het egter nie die monopolie op moraliteit nie. Daar is dikwels moraliteit aan weerskante van 'n saak." Wilhelm meld ook dat sy pa, ten spyte van sy nederigheid, besonder gesteld op die waardigheid van sy amp as Eerste Minister was. Anna het geskryf dat volgens haar pa die sistematiese uitvoering van enige taak uit 'n goed geordende gedagtewêreld moes voortvloei en dat deeglike beplanning met betrekking tot tyd en geld vir hom belangrik was. Spaarsaamheid was vir hom 'n deug. Sy sin vir ordening en beplanning, wat ook sy latere staatsmanskap gekenmerk het, was volgens Anna haar vader se vernaamste karaktertrek. Daniël onthou sy pa vir sy onkreukbare eerlikheid en afkeer van enigiets wat na korrupsie kon lyk, beginselvastheid, dryfkrag, vreesloosheid, toewyding en sy vermoë om visie met realisme te kombineer. Elsabet het haar vader as 'n regte gesinsman beskryf wat ten spyte van sy bedrywige lewe altyd oop en toeganklik vir sy kinders was. Vir Hendrik was dit vreemd dat sy pa nooit op 'n kerkraad gedien of aan gemeentelike aktiwiteite deelgeneem het nie. Hulle het ook nie daagliks huisgodsdiens gehou nie. Hendrik het dus daaraan getwyfel of sy pa in sy diepste wese gelowig was. Christiaan het onthou hoe sy pa so dikwels as wat hy kon oor naweke na sy plaas uitgery het en hom daar totaal van die stremming van die week se werksaamhede losgemaak het. Volgens Wynand is hulle as kinders nie op enige manier deur dr. Verwoerd se posisie bevoorreg nie.

Daar is twee bydraes oor dr. Verwoerd as skoonvader. Een van Elise Verwoerd (née Smit), eggenote van Wilhelm Verwoerd, se sterkste herinneringe aan haar skoonpa was dat hy altyd beskikbaar was indien 'n kind 'n probleem gehad het of hom wou raadpleeg. Prof. Carel Boshoff, eggenoot van Anna Verwoerd, het dr. Verwoerd as sy mentor beskou. Volgens Boshoff het dr. Verwoerd nie 'n tradisionele of emosionele benadering tot nasionalisme gehad nie, maar was rasioneel, modern en toekomsgerig. Verder het sy werk- en redeneervermoë sy skoonseun geweldig beïndruk.

Tog jammer dat die samesteller van die bundel nie ook aan sommige van die kleinkinders van dr. Verwoerd die geleentheid gegee het om hulle herinneringe aan of siening van hulle oupa op skrif te stel nie, want onder hulle is daar vaardige woordvoerders en selfstandige denkers.

Deel II dek dr. Verwoerd se Johannesburg-periode en handel hoofsaaklik oor sy redakteurskap van Die Transvaler, en sy samewerking met adv. J.G. Strijdom en hulle gemeenskaplike republikeinse ideaal. Die persone wat oor hierdie periode gerapporteer het, was almal persone wat dr. Verwoerd goed geken of redaksielede van Die Transvaler was.

Dr. Albert Hertzog, destyds kampvegter vir die regte van blanke Afrikaanse mynwerkers, het lojaliteit as een van dr. Verwoerd se beste karaktertrekke uitgesonder. Volgens Hertzog het dr. Verwoerd nie die politieke voordele van emosie na waarde geskat nie en daaraan toegevoeg dat Verwoerd vir baie mense te intellektueel en te hard in sy oordeel was. Volgens Carl Basson, 'n lid van die eerste redaksie van Die Transvaler, was dit nie altyd maklik om met dr. Verwoerd klaar te kom nie, want hy was 'n koppige baas wat hom nie maklik laat oorreed het nie. Bowendien was hy 'n man met ambisie en doelgerigtheid gepaard met 'n verstommende werkywer. Maar tog was hy met 'n sjarme en 'n glimlag bedeeld wat hom onder mense geliefd gemaak het. 'n Ander lid van die eerste redaksie van Die Transvaler was Gus Cluver. Volgens hom het dr. Verwoerd altyd vir sy personeel opgekom en vir hulle as 'n skild teen die buitewêreld gedien wanneer hulle van buite gekritiseer en aangeval is. Cluver is van mening dat dr. Verwoerd in die eerste plek 'n kampvegter vir die Nasionale Party was en slegs in die tweede plek 'n koerantman. As sodanig het Cluver Verwoerd as die eintlike krag agter Strijdom beskou. Hans Abraham, wat later die eerste kommissaris-generaal van die Xhosa-volkseenheid sou word, was in 1939 een van die "Jong Turke" van die Ossewa-Brandwag. Volgens hom was dr. Verwoerd aanvanklik simpatiek gesind teenoor die beweging, maar nadat dr. Hans van Rensburg die O.B. in 'n nasionaal-sosialistiese rigting gestuur het, het die verhouding versuur. Volgens Abraham was dr. Verwoerd se toesprake lank, maar nie vervelig nie en het van sy onaantasbare logika getuig. Later voeg hy daaraan toe: "Hy was 'n idealis, nie 'n ideoloog nie." M.D.C. de Wet Nel, die latere Minister van Bantoe-administrasie en Ontwikkeling, meld dat hyself en adv. J.G. Strijdom aanvanklik nie ten gunste van die aanstelling van dr. Verwoerd as redakteur van Die Transvaler was nie, maar dat hulle siening later verander het toe hulle uitgevind het dat dr. Verwoerd, soos hulle, met die republikeinse ideaal besield was. Dr. Cas Bakkes, 'n lid van die redaksie van Die Transvaler en later direkteur van die Instituut vir Geskiedenisnavorsing van die R.G.N., het dr. Verwoerd onthou as 'n man van matelose energie met 'n fenomenale kennis van enige onderwerp onder die son. Bakkes het wel die idee gehad dat dr. Verwoerd nie altyd geslaag het in sy oordeel oor persone en hulle vermoëns nie. Hy het gevoel dat as dr. Verwoerd foute sou maak dit nie oordeelsfoute sou wees ten opsigte van beleid nie, maar oordeelsfoute oor persone wat hy aanwys om hom te help met die uitvoering van sy taak. Dr. G.D. Scholtz, Afrikaanse historikus en latere redakteur van Die Transvaler, verwys ook na dr. Verwoerd se botsing met die Ossewa-Brandwag terwyl Hans van Rensburg die kommandant-generaal van die organisasie was. Scholtz wys ook daarop dat Verwoerd en Strijdom albei vurige republikeine was, maar dat hulle verskil het oor wanneer die Republiek 'n werklikheid moes word. Scholtz sluit sy bydrae af met: "Ek beskou die tweejarige seuntjie, Hendrik Frensch Verwoerd, as die grootste gawe wat Suid-Afrika ooit uit die hand van 'n stamland ontvang het."

Deel III handel oor die politieke arena waarin dr. Verwoerd hom bevind het en belig diverse aangeleenthede, soos die Wêreldhof in Den Haag, binnelandse veiligheid, Bantoe-onderwys en die Loskopdam-toespraak.

In sy bydrae skryf Fanie Botha, later veral bekend as Minister van Waterwese en Bosbou, dat dr. Verwoerd beslis 'n aanvoeling vir die dramatiese gehad het, soos toe hy in die Parlement die referendum vir Republiekwording aangekondig het. Louis Botha, sekretaris in die Departement van die Eerste Minister, het dr. Verwoerd leer ken as 'n nederige persoon wat nie aan valse beskeidenheid gely het nie. Volgens Botha is dr. en mev. Verwoerd deur mense op 'n verhewe vlak geplaas, maar hulle het hulself nie verhef nie. Vir hom het hulle die adel van die Afrikanervolk verpersoonlik. Dr. Brand Fourie, onder meer Suid-Afrika se ambassadeur by die Verenigde Nasies en later sekretaris van Buitelandse Sake, gee 'n boeiende beskrywing van Dag Hammarskjöld, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, se besoek aan Suid-Afrika en die goeie verstandhouding wat daar tussen hom en dr. Verwoerd bestaan het. Fourie haal ook hierdie betekenisvolle woorde van dr. Verwoerd aan: "Eventueel sal die kleurling sy politieke toekoms saam met die blanke moet vind. Maar die tyd is nog nie reg nie." Adv. "Lang" David de Villiers, leier van die Suid-Afrikaanse regspan by die Wêreldhof in Den Haag, skryf dat dr. Verwoerd niks van die woord "apartheid" gehou het nie, maar aan "afsonderlike ontwikkeling" voorkeur gegee het. Dr. Verwoerd se verbasende vlugheid van begrip en besondere intellektuele vermoëns het De Villiers beïndruk en wat dit betref, het hy hom op dieselfde peil as 'n Jan Smuts of 'n Jannie Hofmeyr geplaas. Bowendien was Verwoerd volgens hom die toonbeeld van hoflikheid en het hy nooit sy humeur verloor of rusie gemaak nie. Adv. Flip Coetzer, direkteur-generaal van die Departement van Justisie, skryf dat dr. Verwoerd 'n reuse-aandeel gehad het in die beplanning van die strategie wat deur die Suid-Afrikaanse regspan by die Wêreldhof in Den Haag gevolg is. Volgens Johan Mills, opsteller van die Transkeise grondwet van 1963, is dr. Verwoerd se premierskap gekenmerk deur streng en uiters effektiewe finansiële bestuur en was hy baie gesteld daarop dat die Minister van Finansies nie deur die kabinet oordonder word nie. Gilles van der Wall, 'n voormalige landboukundige by die Departement Naturellesake, het dr. Verwoerd en dr. W. W.M. Eiselen as die twee groot mentors in die Departement Naturellesake beskou. Van der Wall beweer dat die apartheid wat in 1948 gekom het nie regtig 'n nuwe ding was nie. Hy erken dat daar miskien binne die Departement paternalisties opgetree is, maar voeg daaraan toe dat dit 'n goedgesinde paternalisme was. In sy slotparagraaf skryf Van der Wall oor dr. Verwoerd: "Niemand het 'n groter bydrae gelewer om die swart bevolking op te hef as hy nie. Hy was 'n ware hervormer." Joubert Rousseau, voormalige direkteur-generaal van die Departement Bantoe-onderwys, wys daarop dat die inheemse tale aanvanklik nêrens tot hulle reg gekom het nie en dat alles deur medium Engels geskied het. Soos deur die Eiselen-kommissie aanbeveel, is die erkende beginsel van moedertaalonderrig van substanderd A tot standerd VI ingestel. Tonie Viljoen, wat aan die kantoor van die Staatsdienskommissie verbonde was, was in 1965 die ondervoor-sitter van die Transvaalse Nasionale Jeugbond toe dr. Verwoerd sy toespraak voor die kongres van dié jeugbeweging op 4 September 1965 by die Loskopdam-vakansieoord gelewer het. In sy rede het dr. Verwoerd hom onder meer oor gemengde sportspanne uitgelaat, wat heel gepas woordeliks in Viljoen se bydrae aangehaal word. Prof. Willem Kleynhans, dosent in Staatsleer aan die Universiteit van Suid-Afrika en latere kritikus van dr. Verwoerd, verwys na dr. Anton Rupert, ekonoom en nyweraar van wêreldformaat, wat vroeg reeds sekere basiese gebreke in die apartheidsbeleid raakgesien en dit met dr. Verwoerd gaan bespreek het en voorstelle tot verbetering daarvan gemaak het. Rupert was ten gunste van vennootskap, maar Verwoerd was daarteen gekant omdat hy gevrees het dat die wit man swartes in gebiede soos die Transkei sou uitbuit. Kleynhans sluit sy bydrae so af: "Hy is weggeruk voordat hy sy lewenstaak, soos hy dit gesien het, kon voltooi. Sy standbeelde kan verwyder word en sy politieke strukture afgetakel word, maar sy naam sal in die geskiedenis van Suid-Afrika opgeteken bly."

Deel IV bestaan uit 'n sestal bydraes waarin dr. Verwoerd se optrede in 'n wyer kring ter sprake kom en die politiek 'n ondergeskikte plek inneem.

Die eerste bydrae in hierdie afdeling is dié van prof. Carl van Heerden, voormalige hoof van die Amanzimtoti Zoeloe-Opleidingskool (die ou Adams Mission), en sy eggenote Rita. Mev. Van Heerden se bydrae vertel van die noue band wat daar tussen die twee gesinne bestaan het, terwyl prof. Van Heerden vertel van sy jare in Bantoe-onderwys en gesprekke wat hy met dr. Verwoerd gevoer het. Hy het dr. Verwoerd geken as 'n man van groot integriteit en 'n menslike leier met wie jy letterlik oor enigiets kon praat. Mimi Coertse, Suid-Afrika se voorste operasangeres en twee dekades lank verbonde aan die Weense Staatsopera, se bydrae is beslis een van die boeiendste in hierdie bundel. Haar beskrywing van haar verbasing en uitgesprokenheid oor die feit dat dr. Verwoerd nie 'n tafelgebed voor ete gedoen het nie, is kostelik. Sy meld dat dr. Verwoerd goeie musiek kon waardeer. Sy begin haar slotparagraaf met die eenvoudige, maar veelseggende woorde: "Ek was regtig baie na aan dr. Verwoerd." Dr. James Howell, dr. en mev. Verwoerd se tandarts, onthou dat Verwoerd groot waardering vir die optrede van sir Robert Menzies van Australië tydens die geskiedkundige Statebondskonferensie van 1961 gehad het en dat hy koningin Elizabeth II simpatiek gevind het. Howell verklap ook die geheim [?] dat toe dr. Verwoerd na die eerste aanslag op sy lewe in 1960 in die Pretoriase Algemene Hospitaal behandel is, hulle so bedag op 'n verdere sluipmoordpoging was dat hulle van die dienste van 'n apteker gebruik gemaak het om elke tablet wat voorgeskryf is, uit te ken voordat dr. Verwoerd dit ingeneem het en elke inspuiting ook aan die strengste kontrole onderwerp is. Willie Dyason, destyds hoof van die huishouding by die premierswonings Groote Schuur in Kaapstad en Libertas in Pretoria, se bydrae is, wat hierdie resensent betref, verreweg die beste in hierdie bundel. Vir Dyason was dr. en mev. Verwoerd se nederigheid en bedagsaamheid teenoor die personeel opvallend. Dr. Verwoerd het respek afgedwing omdat hy respek betoon het. Dr. Verwoerd het self bepaal wie na formele onthale genooi sou word en het ook die sitplekke van die nooit meer as 32 gaste op tafelplanne aangedui. Dyason gee ons 'n treffende kykie in die intiem huislike lewe van die Verwoerds. Dr. Verwoerd was skynbaar nie suinig nie, maar spanbadelheid kon hy nie veel nie. Dyason beskryf sy jare saam met die Verwoerds as "die goue jare van my lewe". Die voorlaaste bydrae is dié van Annatjie Boshoff, privaat sekretaresse van mev. Verwoerd en suster van prof. Carel Boshoff. In haar Sekretaresse vir die Verwoerds (Kaapstad, 1974) en Betsie Verwoerd, die vrou (Orania, 1993) het Annatjie Boshoff reeds breedvoerig oor haar verbintenis met die Verwoerds gerapporteer, maar hier het sy dit kernagtig saamgevat. Wat in haar bydrae opval, is die feit dat die Verwoerd-kinders geleer is om selfstandig te wees en verantwoordelikheid te aanvaar. Die Verwoerd-egpaar het geen erg aan luuksheid gehad nie en spaarsaamheid is as 'n deug beskou. Die laaste bydrae is dié van Fred Barnard wat van 1952 tot 1965 die privaat sekretaris van dr. Verwoerd was. In sy inleidingsparagraaf skryf Barnard oor dr. Verwoerd dat dit veral die klein dingetjies is wat bo alles uittroon: "Sy innemende glimlag, sy reguit manier van dinge sê en doen, sy regverdigheid teenoor almal om hom heen, en ook sy sin vir eerlikheid. In alles wat hierdie man verrig het, was daar 'n ouwêreldse korrektheid -iets wat vandag blykbaar oudmodies geraak het."

Die bydraes in Verwoerd: Só onthou ons hom is vanselfsprekend van wisselende gehalte, maar die samesteller het daarin geslaag om 'n bundel saam te stel wat vriend en vyand van dr. Verwoerd, vakman en leek ure van louter leesgenot sal verskaf. Hierdie bygewerkte uitgawe deur Protea Boekhuis is keurig uitgegee, bevat 'n dertigtal toepaslike foto's, 'n geselekteerde bibliografie en 'n deeglike bladwyser en word van harte aanbeveel.

 

O.J.O. Ferreira

Knysna. E-pos: ojof@lantic.net

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License