SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2Slaafs - 'n verhaal van menslike handelVerwoerd: Só onthou ons hom (Hersiene uitgawe) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a15 

BOEKBESPREKING BOOK REVIEW

 

 

Outeur: Karel Schoeman
Titel: Swanesang. Die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap, 1771-1795
Uitgewer: Protea Boekhuis
Bladsye: 624
Prys: R350

Hierdie boek is die agste en laaste deel van die reeks Kolonie aan die Kaap, geskryf deur Karel Schoeman. Die boek dek die tydperk vanaf die dood van Rijk Tulbagh in 1771 tot en met die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795. Die boek volg naatloos op sy voorganger Hoogty: die opbloei van 'n koloniale kuituur aan die Kaap, 1751-1779. Die drie goewerneurs van die laaste tydperk van die VOC was die aanvanklik waarnemende goewerneur J.A. van Plettenberg (1771-1785), C.J. van de Graaff (1785-1791) en A.J. Sluysken (1793-1795). Schoeman skryf:

In die betragting van die verlede is dit moeilik om die gelyktydigheid van gebeure te besef, aangesien hulle oorsigtelikheidshalwe grotendeels in afsondering van mekaar moet beskryf en ondersoek word. So is dit nie altyd maklik om te besef dat die bewind van Goewerneur Van de Graaff, die algemene misnoeë oor die opeenvolgende fiskaals, die Europese oorlog met die langdurige aanwesigheid van buitelandse regimente wat daardeur nodig gemaak is ... die oprigting van elegante woonhuise, die besoekende skepe met slawe en bandiete ... alles deel van die werklikheid uitgemaak het, en dat hierdie onderskeie gebeure nie van mekaar losgemaak kan word of in isolasie beskou behoort te word nie (p. 303).

Die inhoud is dus nie streng kronologies gerangskik nie, maar soos in Hoofstuk 7 en 8 wat oor enkele families gaan, eerder tematies.

Aanvanklik is Pieter, baron Van Rheede van Oudtshoorn wat alreeds 25 jaar aan die Kaap diens gedoen het, as Tulbagh se opvolger benoem. Van Oudtshoorn het inderdaad met die skip Azië na die Kaap vertrek, maar toe die skip in die Kaap aankom, is verneem dat hy aan boord ná 'n siekte van negentien dae oorlede is en dat daar 'n verdere 62 dooies en dertig siekes aan boord was! J.A. van Plettenberg word in sy plek aangestel as goewerneur, 'n relatief jong man van slegs 35 jaar oud wat glo as geheel nie korrup op administratiewe vlak was nie! Die nuwe goewerneurspaar het volgens besoekers aan die Kaap in dié tyd 'n luukse leefstyl gehandhaaf en was albei nogal geset en selfingenome. Juis die feit dat Schoeman, benewens al die toepaslike argivale bronne, ook gebruik maak van die tekste van besoekers aan die Kaap in genoemde tydperk, skep 'n lewendige beeld van die goewerneurs, ander amptenare in diens van die VOC en die inwoners aan die Kaap.

In die dekade ná Tulbagh se dood is die binneland deur 'n aantal buitelandse reisigers verken en dié togte is goed gedokumenteer in welbekende publikasies. Die reisigers het twee plantkundiges, naamlik Anders Sparrman en C.P. Thunberg ingesluit, asook die Skot William Patterson en die Fransman Frangois de Valliant en nog andere wat in Hoofstuk 2 bespreek word. Schoeman wy Hoofstuk 3 aan die Patriote en ander bewegings en noem die hoofstuk Die wêreld van idees. Schoeman het hierin nie net die standaardwerk van C.F. Beyers oor die Patriote-beweging gebruik nie, maar ook baie ander meer gebalanseerde bronne bygewerk sodat dit 'n besonder interessante hoofstuk is.

Van Plettenberg is in 1785 terug na Nederland en C.J. van de Graaff was die volgende goewerneur. Hy was 'n kundige militaris wat onmiddellik aandag gegee het aan die verdedigingstelsel aan die Kaap en dit opgeknap het. Hy het ook in kartografie belanggestel en het dus behoorlike militêre kaarte vervaardig (Hoofstuk 4). Hoofstuk 5 heet dan ook Die tyd van die regimente (1781-1788). Omdat Engeland en Nederland van 1780 af in 'n staat van oorlog was en Frankryk 'n bondgenootskap met Nederland gesluit het, was daar vir korter en langer tydperke Franse regimente aan die Kaap wat met die verdediging moes help. Dit het 'n groot invloed op die samelewing gehad, sodat die Kaapse kerk hom oor die "wêreldsheid" van die inwoners bekla het. Veral die geskiedenis van die Wurtemberg-regiment wat in 1788 ná die vertrek van die Franse regiment na die Kaap gekom het, word onderhoudend en interessant beskryf.

In Hoofstuk 7 en 8 word die lewens van drie amptenaarfamilies beskryf, naamlik die van Westpalm, Möller en Heijning, asook die burgerfamilie Van Reenen. Die familie Möller was meer uitgebrei en in verhouding beter gedokumenteer as die nakomelinge van Michiel Westpalm en het ook sterker verbintenisse met die Kaap gehad. Dit was veral hul luukse lewenswyse en oorvloed aan aardse besittings wat opval. Hierdie is 'n heerlike stukkie familiegeskiedenis. Een van die afstammelinge van die Nederlandse immigrant Nicolaas Heijning was met 'n Möller getroud. Die familiegeskiedenis van die Van Reenens lees soos een van Schoeman se romans. Daar word vertel van 'n poging tot vergiftiging asook van 'n swaar straf teen Jacob van Reenen omdat hy te ver gegaan het met "domestieke koreksie" van die slaaf wat hy van die vergiftiging verdink het. Dit gee 'n goeie beeld van die gewone mense in die breër Kaapse samelewing.

Maar die wêreld het verander, ook in Europa en Nederland. Dit is dan ook die opskrif van Hoofstuk 9 waarin Schoeman beskryf wat van 1783 tot 1792 gebeur het. In Frankryk het die Franse Revolusie plaasgevind en dit sowel as ander politieke veranderinge het Nederland verswak en tot die oorname van die Kaap deur die Britte gelei. Ná die sogenaamde Revolusionêre Oorlog van 1792 teen Frankryk het die 43-jarige Duitse digter Goethe, wat sy werkgewer die hertog van Sakse-Weimar-Eisenach as amptenaar op die veldtog vergesel het, teenoor sy metgeselle opgemerk:

Vanaf hier en vandag begin daar 'n nuwe tydvak in die wêreldgeskiedenis, en julle kan sê dat julle daarby was (p. 404).

Inderdaad was dit die einde van die era van die VOC se beheer oor die Kaap en 'n nuwe tydvak het begin. Die VOC sou in 1798 finaal onder 'n berg van skuld vergaan. Daar was ook korrupsie - in die laaste jare is spottenderwys na die VOC verwys as Vergaan Onder Corruptie!

Die laaste vier hoofstukke in die boek (pp. 332-469) gaan oor die belangrike jaar 1795. Dit is ook die titel van Dan Sleigh se pasverskene roman 1795 (2016). Hoe het die Kaap gelyk toe die Engelse dit oorgeneem het? Schoeman begin deur 'n fisiese beskrywing van Kaapstad te gee en dan beskryf hy aan die hand van 'n aantal boedelinventarisse hoe die huise van binne daar moes uitgesien het. Hy volg dit op met 'n beskrywing van die agterland van die Tafelvallei. weer eens deur boedelinventarisse te raadpleeg.

Die verowering van die Kaap is 'n geskiedenis op sy eie wat Schoeman in twee hoofstukke saamvat. Hy verlig dié droewe geskiedenis deur aan te haal uit 'n satiriese gedig van daardie tyd, naamlik Historie van de Kaap zeer krachtig (pp. 417, 429, 447, 449, 453). Die laaste aanhaling van die anonieme skrywer van die gedig is sy wrange kommentaar op die selfmoord van kolonel Gordon.

Daarmee is die swanesang van die VOC se laaste jare aan die Kaap afgehandel. Die ou "Hollandse" Kaap het moontlik nog tot die middel van die negentiende eeu bestaan, totdat die laaste bejaarde Kapenaars wat die VOC-bewind meegemaak het en kon onthou algaande uitgesterf het.

Swanesang is in 'n stewige hardeband gebind met 'n tydgenootlike skildery van 'n waardige egpaar op die skutblad. Elke hoofstuk is ruim van endnote voorsien wat op sigself interessante inligting bevat. Verder is daar 'n omvattende bronnelys en 'n register van name en plekke.

Die lees van hierdie boek is 'n genot. Dit is 'n mengsel van geskiedenis en kultuur-geskiedenis, deurvleg met menslike verhale oor die inwoners aan die Kaap. Dit dek 'n uiters belangrike tyd van die geskiedenis van Suid-Afrika. Die boek word aanbeveel aan alle lesers wat in die geskiedenis belangstel.

 

Linda Zöllner

Pretoria. E-pos: lindazoll@vodamail.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License