SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2Anderkant verstaatlikte konstitusionalismeSlaafs - 'n verhaal van menslike handel author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a13 

BOEKBESPREKING BOOK REVIEW

 

 

Outeur: Hans Heese
Titel: Amsterdam tot Zeeland: Slawestand tot Middestand? 'n Stellenbosse slawegeskiedenis, 1679-1834 (2016)
Uitgewer: SUN Press
Bladsye: 196
ISBN: 978-1-928357-09-4
Sagteband: ISNB: 978-1-928357-09-4
Prys: R225-00
E-boek: ISNB: 978-1-928357-10-0
Prys: R180-00

Soos hierdie resensent in 'n resensie van hierdie boek wat op 6 September in Die Burger gepubliseer is genoem het, het dr. Hans Heese in die algemene volksbewussyn met sy opspraakwekkende boek Groep sonder grense: Die rol en status van die gemengde bevolking aan die Kaap, 1652-1795 (eerste uitgawe 1984) sy merk gemaak. Ook sy baanbrekers-navorsing wat die mees gemarginaliseerde groep in ons geskiedenis, die slagoffers van slawerny blootstelling gee - soos in Reg en Onreg: Kaapse Regspraak in die Agtiende Eeu - word waardeer. Nou het hy nogmaals 'n belangrike toevoeging tot die gepubliseerde werke oor slawegeskiedenis met Amsterdam tot Zeeland: Slawestand tot Middestand? 'n Stellenbosse slawegeskiedenis, 1679-1834 gemaak.

Oor die titel sê die skrywer by 'n bekendstelling van die boek by Erfurthuis, Stellenbosch op 28 Julie 2016: "Die boek handel oor Stellenbosch, maar in 1834 het die distrik ook Paarl, Wellington, Franschhoek en Hottentotsholland ingesluit. 'Amsterdam' en 'Zeeland' het betrekking op die name van slawe en die slawefamilies wat hierdie vanne dra. So 'n week of wat gelede is daar 'n mnr. Amsterdam in die Boland dood. 'Zeeland' is ook 'n algemene bruin familienaam wat uit die tyd van slawerny stam." Hy het bygevoeg dat sy eerste kennismaking met die woord "slaaf' in die 1950s was met 'n familiebesoek op die plaas Tussenbeide op Caledon. Toe is hy vertel van 'n ou swart man met die naam Masala, wat daar op die plaas gewoon het. Masala was glo 'n kind van Mosambiekse slawe en omdat die ou man vir die skrywer nes 'n afbeelding van 'n slaaf in een van sy laerskool leesboeke gelyk het, het die ontmoeting 'n blywende indruk op hom gemaak.

Verdere inligting oor slawe aan die Kaap het hom geboei - hy het geleer dat slawe reeds vroeg in die bestaan van die Kaapse besetting ingevoer is om 'n arbeidstekort te verlig, dat slawerny daar in 1834 afgeskaf is en dat dit een van die vernaamste redes vir die Groot Trek was. Later het sy ervarings as Geskiedenisonderwyser in Malawi gedurende die 1960s hom verder onder die indruk van die impak van slawerny gebring, en sedertdien het hy besef dat die herinnering aan slawerny steeds groot pyn onder swart mense veroorsaak.

Hierdie relatief onlangse geskiedenis van ontheemding en verontmensliking van die bedryf van slawerny lê inderdaad so vlak in die kollektiewe geheue van talle kultuurgroepe dat daar nie sommer daaroor gepraat word nie. Vir wit mense is dit skaars moontlik om hiermee te empatiseer, aangesien dit eeue gelede was wat dieselfde lot Kaukasiërs getref het - sou die ontvoering en misbruik van vroue van alle rassegroepe wat steeds in onder andere die Midde-Ooste voorkom buite rekening gelaat word. Dit is egter juis die rasse-dinamika van Suid-Afrika wat die persepsie van slawerny as meganisme van onderdrukking voorstel, en daarom is deeglike navorsing daarvan, soos in hierdie boek, belangrik.

Wat Stellenbosch en omstreke van 1679 tot 1834 betref, gaan dit daaroor dat wyn en graan hoofsaaklik daar verbou is. Dus het die arbeidsbehoeftes daar verskil van dié in die binneland, waar die fokus op veeboerdery was en min van slawe-arbeid gebruik gemaak is. Die bruin nakomelinge in die wynbougebied vandag is hoofsaaklik van slawe-afkoms (uit Afrika en Asië) en die Khoi het hier 'n mindere rol gespeel, aldus Heese. Dít op sigself, kan grondeise vandag nogal kompliseer, ook volgens die skrywer, wat heelwat ondervinding van navorsing in verband met daardie aktiwiteite het.

Hoewel Amsterdam tot Zeeland uit akademiese navorsing gebore is, word dit toeganklik aangebied; die teks is maklik leesbaar (nie in 'n tipies akademiese register geskryf nie) vir selfs diegene vir wie die onderwerp dalk nog relatief onbekend is, want Dr. Heese skets die agtergrond van slawerny aan die Kaap deur te verduidelik hoe en wanneer dit tot stand gekom het en beweeg dan aan na die fokuspunt, nl. die Stellenbosch-omgewing. Vandaar ook die subtitel 'n Stellenbosse slawegeskiedenis, 1697-1834. Terloops, die datum 1697 dui op die ontstaan van die dorp en 1834 verwys (soos genoem) na die amptelike beeïndiging van slawerny in Suid-Afrika.

Heese bespreek die invloed van die kerk, regstatus, kriminaliteit, die vryswartes as afsonderlike klas, met spesiale nadruk op landbou en die destydse arbeiderstekort, en hoe die situasie verander het toe die Britte by die Nederlanders oorgeneem het. Nie baie mense besef dat nie-rassigheid teen 1700 in die uitgebreide Stellenbosse distrik geheers het (die grense van dié distrik het heelwat verander tussen die jare 1679 tot 1979; eers uitgebrei en toe weer ingekrimp, soos met kaarte in die boek aangedui word). Vryswartes het ook plase in daardie omgewing besit.

Die kwessie van identiteit is 'n interessante aspek van die boek - ras was eers nie 'n twispunt nie, maar stand (en religie), soos die slawestand wat uiteraard die laagste stand was, hier en oorsee, oor eeue heen. Rassediskriminasie sou later deur wetgewing "gestalte vind" (ook in die V.S.A. en Australasië). Hier het dit ná 1948 gegroei tot apartheid die hele maatskaplike sfeer oorheers het. Sekere bruin mense wou hulle status na "wit" verander, sodat families uitmekaar geskeur is - en swart mense wou "bruin" word om hulle nie pasboeke hoef te dra nie.

Heese vermeld dat soos die historikus W.M. Macmillan in sy boek The Cape Colour Question (1927) uiteensit, die nageslag van slawe langtermynverloorders is - soos ook die Khoi se nasate - het hulle 'n "buitengewone agterstand" gehad omdat hulle grondloos was en geen of weinig skoolopleiding gehad het nie. Hierdie agterstand word inderdaad vandag onder die term "agtergeblewenes" in die breë geskets as regverdiging vir aksies soos B.E.E., wat nogmaals omstredenheid genereer.

Oor die nalatenskap van slawerny en kolonialisme het Heese gekonstateer dat die Victoriaans-Brits koloniale mentaliteit die lae status van die gewese slawe onnodig lank laat voortduur het - hoewel daar veel gemaak word van die Britte se rol in die beëindiging van slawerny. In die V.S.A., sê Heese, is daar vanaf 1800 nie meer 'n koloniale erfenis nie, maar steeds is daar vooroordele. Die letsels is daar nog net-net sigbaar, terwyl die pyn hier nog vlak onder die oppervlak lê. Om 'n wond wat nog sweer te laat genees, moet dit oopgemaak word. En om dit te vermag, moet dit op 'n eerlike en gebalanseerde wyse gedoen word - en deeglike navorsing is die grondslag vir so 'n proses. Ook moet dié werk deur erkende navorsers gedoen word, ter wille van geloofwaardigheid.

Geskiedskrywing in Suid-Afrika gaan deur fases, soos oral in die wêreld, en tans is dit die geval dat daar 'n sterk behoefte aan "debunking" (bevraagtekening en herskrywing) bestaan. Ook is daar reaksie en teenreaksie in hierdie verband en die aandag wat historiese romans geniet (dink aan Ester, Buys, Brandwaterkom en 1795). Daarom beklemtoon hierdie resensent die noodsaaklikheid van primêre navorsing, waarvoor Heese bekend is, in teenstelling met ander skrywers wat veel meer boeke publiseer, maar meestal sekondêre bronne gebruik en in die proses maklik foute kan herhaal en 'n mate van oppervlakkigheid openbaar (dog steeds 'n belangrike bydrae maak). Heese het 'n verskeidenheid bronne geraadpleeg, maar ekstensief van primêre bronne uit die Kaapse Argiefbewaarplek, die Algemeen Rijksargief in Den Haag en die N.G. Kerkargief op Stellenbosch gebruik gemaak.

Soos genoem in die resensie in Die Burger: diegene wat meer wil weet oor hoe die huidige Suid-Afrikaanse samelewing tot stand gekom het, kan gerus Heese se boeke lees. In sy Inleiding gee Heese ook erkenning aan ander historici wat tot die "slawe-oeuvre" bygedra het, soos Clinton Crais, Nigel Penn, Nigel Worden, John Mason, Laura Mitchell, Wayne Dooling en Gerald Groenewald, asook Robert Shell, Diko van Zyl, Hermann Giliomee en die argivaris Victor de Kock.

Die aantal groot name hierbo vermeld ten spyte, is die oeuvre van "slawepublikasies", soos Amsterdam tot Zeeland, nog beperk, soos helaas reeds ook die geval is met kenners van Heese se kaliber. Afrikaanse lesers is boonop gelukkig om steeds sulke boeke in hulle moedertaal te kan lees. Amsterdam tot Zeeland is Africana weens die unieke aard daarvan en is boonop uiters insiggewende - en relevante - leesstof.

By die slapbandboek ingesluit is daar 'n CD waarop heelwat ekonomiese gegewens vasgelê is, en biografiese gegewens, bv. die doop- en trourekords van die Pniël, naby Stellenbosch.

Befondsing vir die boek is verskaf deur Het Jan Marais Nationale Fonds.

 

Francois Verster

E-pos: Francois.Verster@media24.com

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License