SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-1 Pretoria Dec. 2016

 

^rND^1A01^nRonel^sWasserman^rND^1A01^nRonel^sWasserman^rND^1A01^nRonel^sWasserman

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Moet en must: 'n Geval van Afrikaanse invloed op Suid-Afrikaanse Engels

 

Moet and must: A case of Afrikaans influence on South African English

 

 

Ronel Wasserman

Skool vir Tale, Vaaldriehoekkampus Noordwes-Universiteit Vanderbijlpark. E-pos: Ronel.Wasserman@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel ondersoek die effek van die unieke kontaksituasie tussen gebruikers van Afrikaans en die moedertaalvariëteit van Suid-Afrikaanse Engels (SAfE) op die verspreiding van die kenmerkende makro- en mikrosemantiese eienskappe van must in SAfE. Ekstra-linguistiese motivering, sowel as linguistiese (sinchroniese en diachroniese) motivering aan die hand van korpusdata, word ten gunste van die invloed van Afrikaanse moet op must in SAfE gebied. Die ekstra-linguisitiese bespreking verken die komplekse sosiopolitiese verhouding tussen gebruikers van Afrikaans en SAfE, sowel as kwessies rakende ras en identiteit, en tweetaligheid en die onderwyssisteem. Die linguistiese bespreking ondersoek die mate waartoe must in SAfE aan die kriteria vir kontakgeïnduseerde verandering voldoen en lê in hierdie verband eerstens klem op die ooreenkomste tussen moet en must op grammatikale en semantiese vlakke. Die mate waartoe moet en must gegrammatikaliseer is (spesifiek rakende negatiewe vorme) word veral ondersoek en vergelyk. Op kwantitatiewe vlak getuig die sinchroniese en diachroniese resultate van die ondersoek van die trekkrag van Afrikaanse moet op must in SAfE in terme van gebruiksfrekwensie, en hierdie trekkrag word deur die kwalitatiewe diachroniese resultate ondersteun. Die kwalitatiewe diachroniese analise bevind dat moet in Afrikaans en must in SAfE soortgelyke verskuiwings in die makro- en mikrosemantiek vanaf die 1910's-1950's tot die 1990's-2010's in die geskrewe register ondergaan, veral ten gunste van die oordrag van mediumvlakke van verpligting met 'n objektiewe deontiese bron. Must in SAfE volg dus 'n Afrikaans-soortige semantiese patroon wat sterk van die tendens in ander moedertaalvariëteite van Engels in die wêreld afwyk.

Trefwoorde: Afrikaans, Suid-Afrikaanse Engels, modale hulpwerkwoord, modaliteit, semantiek, taalverandering, semantiese verandering, grammatikalisering, taalkontak, identiteit, sosiolinguistiek, historiese linguistiek, korpus-linguistiek, historiese korpus


ABSTRACT

This article investigates the effect of the unique contact situation between users of Afrikaans and the native variety of South African English (SAfE) on the propagation of the distinctive macro- and microsemantic properties of SAfE must. This modal verb has gradually become less face-threatening in SAfE over the course of the 19th and 20th centuries, conveying a median (weaker) degree offorce just as frequently as a higher degree offorce by the 1990s, which has in turn led to its increased use in deontic (personal) contexts (Wasserman 2014).These semantic changes differ greatly from the changes that occurred in other native varieties of English in the world (cf. Leech et al. 2009). The primary question this article seeks to answer is whether these distinctive properties of SAfE must have developed due to the contact that this variety has maintained with Afrikaans over the course of the 19th and 20th centuries. The discussion firstly provides extralinguistic motivation, and secondly linguistic (synchronic and diachronic) motivation based on corpus data, in support of the influence of Afrikaans moet on SAfE must.
The extralinguistic discussion explores the complex sociopolitical relationship between users of Afrikaans and SAfE, along with issues of race and identity, and bilingualism and the education system. It is argued that the periods of fluctuating enmity and friendliness that the English and Afrikaans communities have maintained, as well as the somewhat forced contact situation instituted by racial segregation during the latter part of the 20th century, has allowed these communities to interact in such a way as to affect the mutual influence of their languages, even without the alignment of their identities. The social trend of Afrikaans-speaking teachers instructing English-speaking children during the 20th century has further contributed to the influence of Afrikaans on SAfE.
The linguistic discussion on the other hand investigates if and how SAfE must fulfils the linguistic criteria for contact-induced change. This part of the discussion firstly emphasises the similarities between moet and must on grammatical and semantic levels, seeing that Afrikaans and English are close West-Germanic relatives. Special attention is devoted to a comparison between the levels of grammaticalisation of moet and must, especially regarding their respective negative forms moenie and mustn't. Both the synchronic and diachronic quantitative results clearly show the "pull" of Afrikaans moet on SAfE must in terms of usage frequency, which is also confirmed by the diachronic qualitative results. The diachronic qualitative analysis reveals a move toward the expression of very similar macro- and micromeanings by Afrikaans moet and SAfE must in the written register during the course of the 1910's-1950's to the 1990's-2010's, especially in favour of the expression of a median-degree of obligation via an objective deontic source. SAfE must therefore does follow an Afrikaans-like semantic pattern, confirming the influence of Afrikaans on this English variety. The close, yet complex, relationship that SAfE and Afrikaans have maintained over the course of two centuries is not truly matched anywhere else in the world, and has indeed given rise to a usage pattern of must that is unique among other English varieties.

Key words: Afrikaans, South African English, modal verb, modality, semantics, language change, semantic change, grammaticalisation, language contact, identity, sociolinguistics, historical linguistics, corpus linguistics, historical corpus


 

 

1. INLEIDING1

Die historíese profiele van die gebruikers van Afrikaans en Suid-Afrikaanse Engels (SAfE) is ten nouste saamgevleg op 'n sosiolinguistiese vlak (bv. Hooper 1951; Lanham 1978; Branford 1996). Binne die openbare en akademiese diskoers oor Afrikaans, en veral dan rakende kwessies van taalsuiwerheid, word die historíese en hedendaagse invloed van Engels op Afrikaans beklemtoon, en dié invloed word gereeld in die lig van verval ofbedreiging beskou (sien bv. Anon 1909; Rousseau 1937; Terblanche 1946; Coetsee 1957; Posthumus 1967; Donaldson 1988/1991; Gottlieb 2010:195). Hierdie artikel ondersoek die omgekeerde hiervan - die invloed van Afrikaans, by name die standaardvariëteit wat histories hoofsaaklik deur wit sprekers gebruik word, op die moedertaalvariëteit van Engels in Suid-Afrika, oftewel die sprekers van SAfE,2 veral dan wat die verspreiding van die minder bedreigende gebruik van die modale hulpwerkwoord must betref. Twee temas sal ter ondersteuning van hierdie argument bespreek word, naamlik ekstra-linguistiese (sosiohistoriese) motivering, sowel as linguistiese (kwantitatiewe en kwalitatiewe) motivering. Die bespreking sal op beide sinchroniese en diachroniese vlakke fokus, ten einde 'n geheelbeeld van hierdie invloed daar te stel. My uitgangspunt is eerstens sosiolinguisties (deskriptief) en lê klem op taalverandering en -variasie as natuurlike gevolge van taalkontak, en stel dus nie 'n normatiewe perspektief daar nie. Gesproke en geskrewe korpusdata vorm tweedens die basis van die linguistiese analises, met die doel om 'n gebruiksgebaseerde en empiriese benadering te ondersteun.

Vorige navorsing rakende die ontwikkeling van die modale sisteem van SAfE (van die 1820's tot 1990 's) het bevind dat must in SAfE nie statisties beduidend in frekwensie gedurende die 20ste eeu afgeneem het nie, maar eerder 'n mate van stabiliteit toon (Rossouw & Van Rooy 2012; Wasserman 2014; Wasserman & Van Rooy 2014), teenoor die bevinding dat die frekwensie van hierdie modale hulpwerkwoord3 sterk statisties beduidend gedaal het in sommige ander moedertaalvariëteite van Engels in die wêreld, naamlik Amerikaanse Engels (AmE) en Britse Engels (BrE) (Leech 2011; Mair 2014). Teen die einde van die 20ste eeu is die gebruiksfrekwensie van must in SAfE nie net dramaties hoër as dié van die twee bogenoemde moedertaalvariëteite nie, maar ook dié van die ander moedertaalvariëteite van die suidelike halfrond, naamlik Australiese Engels (AusE) en Nieu-Seelandse Engels (NZE) (Leech 2011; Collins 2005; 2009), tot die mate dat must in SAfE teen die 1990's die mees frekwente opsie is in vergelyking met die alternatiewe modaal en kwasi-modaal4 binne die betekeniskluster van verpligting en noodsaaklikheid,5 naamlik should en have to (Wasserman 2014).

'n Verdere aspek waarin SAfE van ander variëteite verskil is dat must meer frekwent in gesproke as in geskrewe SAfE is, waar dit grootliks beperk is tot gebruik in geskrewe kontekste in die ander variëteite (Mair & Leech 2006; Leech 2011; Collins 2009; Leech et al. 2009). Die motivering vir hierdie verskille in algehele hedendaagse frekwensie, asook in frekwensie tussen registers, lê daarin dat must in SAfE 'n unieke semantiese verandering ondergaan het (Wasserman 2014). Teen die 1990's is dit die dominante opsie om die deontiese betekenis in die betekeniskluster van verpligting en noodsaaklikheid oor te dra, waar should die dominante opsie vir hierdie oordrag in ander variëteite van Engels is (Collins 2005; 2009). Must dra in SAfE geleidelik meer gelyke proporsies van hoër en mediumvlakke van verpligting gedurende die verloop van die 19de en 20ste eeu oor, wat beteken dat dié modaal met die verloop van tyd minder bedreigend tot die "gesig" (die sosiale selfbeeld) van die aangesprokene geword het (Wasserman 2014; cf. Brown & Levinson 1987). Hierteenoor het must in ander moedertaalvariëteite gedurende die 20ste eeu geleidelik beperk geword tot kontekste waar 'n hoë mate van verpligting oorgedra word (Leech et al. 2009; Myhill 1995).

Die bogenoemde bevindinge van Wasserman (2014) lewer die eerste klinkklare korpus-gebaseerde bewys van Bowerman (2004) se vroeëre bewering dat must minder sosiale impak in SAfE het as in ander variëteite van Engels, as gevolg van sy verminderde illokusionêre sterkte, en dat dit gereeld as 'n plaasvervanger vir die beleefde should gebruik word, soos vervat in die voorbeeldsin: you must turn left at the robots (2004:477). Dit is dan die vraag wat hierdie artikel wil beantwoord: is dit as gevolg van die invloed van Afrikaans dat must so uiters verskillend gebruik word in SAfE as in ander variëteite?

 

2. EKSTRA-LINGUISTIESE MOTIVERING

Met die verloop van die 19de en 20ste eeue het 'n komplekse verhouding tussen die die Engelsen Afrikaanssprekende gemeenskappe van Suid-Afrika ontwikkel (Gouws 1995:298-9; Branford 1996:37-8). Binne die raamwerk van die dinamiese model van Schneider (2003) wat die fases in die evolusie van 'n nuwe Engelse variëteit beskryf, behoort hierdie gemeenskappe onderskeidelik tot die STL-string (settler strand) en die IDG-string (indigenous strand). Laasgenoemde word as 'n aparte IDG-string beskou teenoor die IDG-string wat die inheemse Afrikavolke beslaan (Schneider 2007:176; Van Rooy 2014). Die feit dat hier 'n aparte IDG-string in noue kontak met die STL-string kom is 'n unieke situasie in die wêreld, veral in die lig daarvan dat hierdie stringe naby-verwant is, aangesien beide Engels en Afrikaans Wes-Germaanse tale6 is (Trudgill 2004:26). Op sosiohistoriese vlak blyk die verhouding tussen wit Afrikaanssprekendes en wit Engelssprekendes in die land kompleks en onontkenbaar verreikend te wees. Afrikaans en SAfE kan inderdaad as teenstanders beskou word binne veral 19de- en vroeë 20ste-eeuse samelewings. Hierdie teenstand is sigbaar in verskeie gedaantes, soos die algemene stigmatisering van Afrikaans (in al sy historiese vorme) deur die wit Engelssprekende Suid-Afrikaner, asook die (deels) taalgebaseerde kompetisie, diskriminasie, uitsluiting en konflik wat daar gereeld tussen hierdie twee sosiopolitiese stringe ontluik het (Steyn 1980; Cochrane 1987:3; Branford 1996:37-40). Die vraag onstaan dan of 'n "opponent" soos Afrikaans 'n invloed op die grammatika en semantiek van SAfE kon en steeds kan hê. Grammatikale en semantiese verandering verg immers noue, langtermynkontak om (grootliks onbewustelik) oorgedra of geïntegreer te word, anders as bv. leksikale verandering (Mair & Leech 2006:318). Die ekstra-linguistiese antwoord op hierdie vraag, ten spyte van die bogenoemde stand van sosiale verhoudinge, is 'n sterk "ja"7 (cf. Conradie, 2004). Dit moet in gedagte gehou word dat die verhouding tussen die sprekers van Afrikaans en SAfE nie nét vyandig van aard was nie. Die volgende bondige bespreking oor die komplekse aard van dié verhouding motiveer die stelling dat Afrikaans oor die jare 'n invloed op SAfE gehad het en steeds het.

2.1 Komplekse sosiopolitiese verhoudinge

Op beide kollektiewe en individuele vlakke is die sosiopolitiese verhouding tussen hierdie twee groepe in stand gehou gedurende tydperke van fluktuerende antagonisme en simbiose. Wedersydse vyandigheid tussen sprekers van Afrikaans-Hollands8 en sprekers van Engels het vroeg in die 19de eeu aan die Kaap ontvlam toe Nederlandse beheer van die gebied deur Britse anneksasie beëindig is. Hierdie spanning is vererger deur die Britse imperiale ambisie om die Kaapkolonie te verengels, wat toenemend sosiopolitiese uitsluiting van die Afrikaner in die hand gewerk het (Branford 1996:38; Steyn 1980:127-8). Die sterk gevoel van marginalisering wat die Afrikaner tydens hierdie era beleef het, weens die feit dat probleme soos te min grond (weiveld), arbeid en veiligheid sonder verteenwoordiging op regeringsvlak nie aangespreek kon word nie, het uiteindelik aanleiding gegee tot die Groot Trek van die middel 1820's tot die laat 1830's (Giliomee & Mbenga 2007:108; Johnson & Jacobs 2012:131). Met die vestiging en onafhanklikheidwording van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in 1852 en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) in 1854 is Nederlands die amptelike taal in die noorde van die land verklaar, maar Britse belangstelling in die republieke is kort daarna gewek met die ontdekking van diamante in die Oranjeriviergebied (1860's-70's) en goud aan die Witwatersrand (1886) (Giliomee & Mbenga 2007:151;158;184). Dit het opnuut spanning tussen die twee gemeenskappe laat posvat.

Voor die minerale-revolusie was wedersydse, taalgebaseerde diskriminasie reeds algemeen, veral binne die onderwyssisteme van die Kaapkolonie en die ZAR (Branford 1996:38), maar dit het vererger met die sosiale, kulturele en ekonomiese uitsluiting wat die Afrikaner in die nuwe, noordelike stedelike gebiede beleef het (Lanham & MacDonald 1979:77). Die daaropvolgende Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog) (1899-1902) was die hoogtepunt van die antagonisme tussen die Afrikaanse en Engelse sosiopolitiese gemeenskappe (Giliomee & Mbenga 2007:206-10). Tog was verhoudinge op individuele vlak minder spanningsvol as dié op regeringsvlak tot die laaste kwart van die 19de eeu - tot die mate dat daar selfs gereeld huwelike oor die twee gemeenskapsgrense plaasgevind het (Hooper 1951:83; Steyn 1980:127-8; Branford 1996:38-9; Giliomee & Mbenga 2007:108). Die Afrikaanse gemeenskap het egter hul eie identiteit behou en nie 'n taalverskuiwing na Engels ondergaan nie, grootliks as gevolg van hul isolasie in plattelandse areas ná die Groot Trek en die gebeure rondom die oorlog (Steyn 1980:130-1; Giliomee & Mbenga 2007:108).

Ná die oorlog het Alfred Milner met sy moderniserings- en angliseringsbeleid gestreef om Suid-Afrika tot 'n moderne, kapitalistiese staat, met Johannesburg as ekonomiese sentrum, te omvorm. Die doel hiermee was om die swart Suid-Afrikaner en veral die Afrikaner se pre-moderne, pastorale bestaan te beëindig en een progressiewe, Britse nasie uit die "twee wit rasse" te skep (Louw 2004:8;19; Kriel 2013:237). Die beleid het egter die teenoorgestelde effek gehad: anglisering het bygedra tot die vorming van 'n nóg sterker Afrikaner-identiteit en die ontwikkeling van die Die Afrikaanse Taalgenootskap en die Afrikaanse Taalvereniging deur die voormalige Boere-republieke (Kriel 2013:237; cf. Pienaar 1920:29-47).

Kriel (2013:54) noem dat sogenaamde "wit politiek" die hooffokus was tussen 1910 en 1948, by name die land se verhouding met Brittanje en die verhouding tussen plaaslike Engels- en Afrikaanssprekendes (hoewel die sg. Naturellevraagstuk ("native question") ook geleidelik meer aandag geniet het). Die goewerneur-generaal van die nuutgevormde Unie van Suid-Afrika (1910) het 'n Afrikaner, genl. Louis Botha, as eerste minister aangestel, en ironies genoeg sou Suid-Afrika ook nooit weer 'n Engelstalige regeringshoof hê nie (cf. Kriel 2013:27); trouens, al die regerings-hoofde tot en met 1994 was Afrikaans. Die prominensie van Afrikaners in die politieke arena gedurende die vroeë 20ste eeu is egter nie in die publieke sektor weerspieël nie, en 'n Anglo-imperiale ekonomiese en kultuur-hegemonie het steeds geheers (Louw 2004:21; Kriel 2013:27). Giliomee en Mbenga (2007:272) voer aan dat Engelssprekendes "die boonste vlakke van die staatsdiens, die geskoolde arbeid en die sakewêreld oorheers" het, waarteenoor die Afrikaners "boere, laevlak-staatsamptenare en half- en ongeskoolde arbeiders" was.

Verskeie sosiopolitiese gebeure het gedurende die Unietydperk die samewerking van Engelsen Afrikaanssprekende gemeenskappe bevorder, soos die Suid-Afrikaanse Party (1910-1924) se intra-wit versoeningsbeleid, die samewerking tussen Engelse en Afrikaanse mynwerkers tydens die stakings op die Witwatersrand in 1922 (Rand Revolt) en die verdrag tussen die Nasionale Party (oorheersend Afrikaans) en die Arbeidersparty (oorheersend Engels) in 1923 (Giliomee 2004:32; Giliomee & Mbenga 2007:245; Kriel 2013:33). Terselfdertyd was daar oomblikke van spanning tussen dié twee gemeenskappe, soos die Afrikanerrebellie van 1914 teen die Unieregering se oorlogsbeleid jeens Duits-Suidwes-Afrika (Namibië), asook die verdeeldheid in die 1939-debat oor Suid-Afrika se betrokkenheid by die Geallieerdes gedurende die Tweede Wêreldoorlog: Engelssprekende LP's het saam met Jan Smuts vir deelname gestem en Afrikaanssprekende LP's saam met Barry Hertzog daarteen (Giliomee & Mbenga 2007:238; Kriel 2013:42-3). Met die oorwinning van die Nasionale Party in die 1948-verkiesing het Malan gesê: "Vandag behoort Suid-Afrika weer aan ons". Giliomee en Mbenga (2007:310) meen dat Malan in hierdie uitspraak nie "die stryd tussen swart en wit in gedagte gehad [het] nie, maar die mededinging tussen die Afrikaner- en Engelse gemeenskap".

Teen republiekwording in 1961 was "wit politiek" egter sekondêr op die politieke agenda. Die wisselvallige verdeeldheid en samewerking tussen Afrikaanse en Engelse gemeenskappe wat die vroeë 20ste eeu oorheers het is omvorm tot 'n vreemde soort mutalisme in die laaste helfte van die 20ste eeu. Met die opgang van die era van (Pan-) Afrikanasionalisme, was die Nasionale Party se mag onder bedreiging sonder die behoud van apartheid, en Afrikanernasionalisme het die plaaslike Engelssprekendes herdefinieer tot potensiële bondgenote teen die swart gevaar, ten spyte van taalverskille (Kriel 2013:66).

2.2 Die kwessie van ras en identiteit

Een van die gevolge van apartheidswetgewing was 'n toename in kontak tussen Engels- en Afrikaanssprekende blankes in Suid-Afrika (Giliomee & Mbenga 2007:338). Hierdie kontak-situasie was onvermydelik as gevolg van die beleid van rassesegregasie - alhoewel dit grootliks onnatuurlik was - en is uniek in die postkoloniale, Engelssprekende wêreld. 'n Voorbeeld van hoe die verhouding tussen die twee gemeenskappe op 'n geforseerde wyse gesmee is, is die kontaksituasie wat as gevolg van die militêre konteks van die middel tot latere 20ste eeu, veral die 1970's, tot stand gekom het. Die lotingstelsel wat die Suid-Afrikaanse Weermag in die tydperk ná die Tweede Wereldoorlog gebruik het, het teen 1967 omvorm tot 'n stelsel wat "diensplig voortaan as 'n plig en voorreg van elke medies geskikte jong blanke burger van die RSA beskou [het] en nie meer op 'n persentasie of lotingsgrondslag berus het nie" (Meyers 1986:10; my beklemtoning). Teen 1977 was die duur van die verpligte dienstermyn opgedeel tussen 8 maande van opleiding en aanvanklik 16, maar later 24 maande van dienslewering (Meyers 1986:11). Die gedeelde kwartiere, ideale en take van die mans in die Suid-Afrikaanse Weermag gedurende hul diensplig het die gevolg gehad dat Engelssprekendes Afrikaans as offisiële militêre taal, maar ook vir kommunikasie met hul medesoldate, moes aanleer. Afrikaans was dus 'n aanwyser van groepsidentiteit binne die Weermag, wat 'n eksentrieke soort kontaksituasie met SAfE teweeg- gebring het (Wasserman 2014:117).

Gereelde kontak tussen die twee gemeenskappe in byvoorbeeld die openbare en militêre sektor ten spyt, was verhoudinge gedurende die apartheidsjare steeds kompleks. Alhoewel die Nasionale Party gedurende die 1960's en 70's algaande meer Engelse kiesers gewerf het, grootliks as gevolg van die party se apartheidsbeleid, het apartheid geensins wit Suid-Afrikaners verenig nie (Kriel 2013:68). Die meeste (maar nie alle) kritici van die beleid was inderdaad Engelssprekend, en die Engelse gemeenskap is dikwels beskou as 'n bedreiging tot die stelsel (Kriel 2013:69). Gedurende hierdie tyd het Engels dan ook algaande meer opgang gemaak onder swart gemeenskappe as die taal van die bevrydingstryd.

Met die eerste demokratiese verkiesing in 1994, is die kontak tussen Afrikaans- en Engelssprekende blankes wat deur die segregasiebeleid meegehelp is natuurlik nie direk beëindig nie, en selfs in die 21ste eeu blyk die pad na sosiopolitiese stabiliteit in die vorm van meer geïntegreerde gemeenskappe geleidelik te wees (Giliomee & Mbenga 2007:433-7). Ten spyte van die blywende effek van die vorige politieke situasie handhaaf hierdie twee gemeenskappe steeds vandag aparte sosiale identiteite, en is daar geen klinkklare bewyse dat daar tans 'n beduidende taalverskuiwing van Afrikaans na Engels as eerstetaal plaasvind nie (Coetzee-Van Rooy 2013:189). Onlangse navorsing dui egter daarop dat die grootskaalse sameloop van identiteite nie noodwendig 'n voorwaarde vir (a) die oordrag van 'n kenmerk/verskynsel vanuit Afrikaans na SAfE (Wasserman 2014:503) óf (b) tale wat groter ooreenkomste begin vertoon (Van Rooy 2014:36) in Suid-Afrika is nie, waarskynlik omdat die aard van identiteitskonstruksie in die land baie anders is as in ander kontekste waar variëteite van Engels ter sprake is (Coetzee-Van Rooy 2014:54).

2.3 Tweetaligheid en die onderwyssisteem

Eras van tweetaligheid op individuele en regeringsvlak is tydens die totstandkoming van SAfE in stand gehou, en die verskynsel is steeds vandag 'n prominente een (Coetzee-Van Rooy 2013; 2014; cf. Hauptfleisch 1979). Tweetaligheid was reeds in die 19de eeu algemeen onder meer opgevoede Afrikaners (cf. Schneider 2007), maar in die tydperk ná die Suid-Afrikaanse Oorlog was selfs die armer en minder opgevoede Afrikaner gretig om Engels te leer, aangesien daar gereeld geen ander keuse was as om vir 'n Engelssprekende te werk nie (Steyn 1980:178; cf. Branford 1996:39). Die tendens is ook verder deur die Unieregering se amptelike tweetaligheids-beleid versterk (Giliomee & Mbenga 2007:253).

Tydens die grootskaalse verstedeliking van die vroeë tot middel 20ste eeu is tweetaligheid eerstens veral onder Afrikaanssprekende kinders in die stede bevorder, en tweedens veral onder die Engelssprekende kinders in kleiner, geïsoleerde plaasgemeenskappe in die platteland onderhou (Hooper 1951:81). Daar was dus algaande meer geleentheid vir Afrikaans om SAfE te beïnvloed, en natuurlik ook omgekeerd. Hierdie invloed word versterk deur die kenmerkende 20ste-eeuse tendens dat die meerderheid onderwysers wat Engels as tweede- en selfs eerstetaal in wit skole onderrig het Afrikaanssprekend was, veral op die platteland, maar selfs ook in die groter dorpe (Hooper 1951:81). Die rede hiervoor is sosiaal van aard: die professie geniet histories meer prestige in die Afrikaanse kultuur, en die karige salaris het ook nie juis Engelssprekende onderwysers gelok nie (1951:81). Hooper (1951:82), wat reeds in die 1950's die tendens beskryf, meen dat die Afrikaanse onderwysers meestal baie bekwaam was, maar dat die invloed van hul woordeskat, uitspraak en idioom op SAfE onvermydelik en onmiskenbaar was (en is). Hierdie ekstra-linguistiese bespreking bied dus sosiohistoriese motivering ten gunste van die invloed van Afrikaans op SAfE, maar met die oog op empiriese motivering bespreek die volgende afdeling die linguistiese sy van sake.

 

3. LINGUISTIESE MOTIVERING

Buiten uitgebreide leksikale beskrywings in woordeboeke (Branford & Branford 1991; Silva 1996), soos byvoorbeeld die aantekening van leenwoorde en ander geïntegreerde oordragsvorme vanuit Afrikaans, bestaan daar enkele empiriese bydraes rakende die grammatikale en semantiese invloed van Afrikaans op SAfE. Jeffery en Van Rooy (2004) voer aan dat 'n konstruksie wat van Afrikaans afkomstig is (die uitgebreide gebruik van now tot 'n "beklemtoner") in SAfE geïntegreer is. Schneider (2007) lys 'n aantal komplementasiepatrone en uitsonderlike voorsetselgebruike wat almal moontlik uit Afrikaans oorgedra is. Wat die unieke gebruik van die busy + progressief-konstruksie in SAfE betref, aanvaar Lass en Wright (1986) en Mesthrie (2002) nie direkte oordrag vanaf Afrikaans na SAfE as die rede vir hierdie spesifieke gebruik nie, maar aanvaar albei Afrikaans as 'n indirekte invloed op twee afsonderlike linguistiese vlakke. Mesthrie (2002:345) se argument teen die invloed van direkte taalkontak in hierdie geval is daarop gegrond dat die struktuur van hierdie konstruksie endogeen ontwikkel het, wat beteken dat dit afhanklik is van bestaande opsies binne die interne Engelse taalstruktuur. Hy noem wel dat die effek van Afrikaanse kontak op 'n kwantitatiewe vlak indirek verantwoordelik kan wees vir die toename in die gebruik van hierdie konstruksie (Mesthrie 2002:358; cf. Lanham 1982). Die argument van Lass en Wright (1986) is anders as dié van Mesthrie: hulle meen dat Afrikaans verantwoordelik kon wees vir die opheffing van die semantiese beperking in Engels, wat Afrikaans dan op 'n kwalitatiewe vlak as invloed erken - 'n geval van sogenaamde verspreide innovasie ("diffused innovation"). Hierdie studies is die bestek van navorsing (vóór bv. Rossouw & Van Rooy 2012; Wasserman 2014) wat die grammatika en semantiek van SAfE, en die invloed van Afrikaans daarop, ondersoek.9 Die enigste ander bron wat die grammatika van SAfE direk behandel is Bowerman (2004), wat verskeie eienaardige gebruiksvorme in SAfE beskryf, waarvan baie toegeskryf word aan Afrikaans as moontlike oordragsbron. Afrikaanse invloed word egter nie in Bowerman se bewerings rakende must in SAfE oorweeg nie.

Ten einde met sekerheid vas te stel of Afrikaanse moet 'n invloed op must in SAfE het, bo en behalwe op die vlak van ekstra-linguistiese motivering, is dit noodsaaklik om die kriteria vir 'n kontak-geïnduseerde verandering in ag te neem. Thomason (2007:42) defineer só 'n verandering breedweg as 'n spesifieke verandering wat ten minste gedeeltelik deur taal- of dialekkontak veroorsaak is, indien dit minder waarskynlik sou wees om buite daardie kontaksituasie voor te kom. Levey en Poplack (2010) meen egter dat hierdie effens vae definisie hersiening benodig en stel alternatiewe kriteria voor. Hulle beweer dat 'n kandidaat vir kontak-geïnduseerde verandering in 'n kontakvariëteit teenwoordig is in die voorgenome bronvariëteit, en óf (a) afwesig is in die pre- of non-kontakvariëteit, óf (b) indien dit teenwoordig is (deur bv. intertalige toeval), dit nie op dieselfde manier gekondisioneer is as in die bronvariëteit nie, en (c) dit ook bewys kan word dat dit op een of ander nie-oppervlakkige wyse parallel is aan die gedrag van 'n ooreenstemmende verskynsel in die bronvariëteit (2010:398). Vir hierdie kriteria is daar sterk linguistiese motivering rakende moet en must.

3.1 Eienskappe van moet en must

As verwante Wes-Germaanse tale deel Afrikaans en Engels vanselfsprekend vele einskappe, insluitende 'n modale sisteem10 (cf. Mortelmans et al. 2009:11). Aangesien must11 en moet verwant is aan dieselfde Proto-Germaanse stam, *mot (vergelyk bv. Nederlandse moeten en Duitse müssen) (Onions 1966:598; Mortelmans et al. 2009), deel hul hedendaagse vorms verskeie linguistiese eienskappe, soos byvoorbeeld dat beide nie meer vir persoon inflekteer nie, soortgelyke betekenisse oordra, en 'n mate van fonologiese ooreenstemming geniet (cf. Abraham 2001; Conradie 1976; Traugott 2006). Die linguistiese gedrag van must en moet voldoen dus aan Levey en Poplack (2010) se kriterium (c). Aangesien kriterium (a) nie van toepassing is nie, moet kriterium (b) ondersoek word deur vergelykings in die leksikogrammatika en semantiek te tref.

Die gebruik van hierdie twee modale kan vergelyk word in terme van taal-interne opsies, dit is die mate waartoe daar leksikale of gegrammatikaliseerde items beskikbaar is om sekere semantiese elemente oor te dra. Die klem in hierdie bespreking word gelê op die deontiese betekenis van must en moet/moes, dit is verpligting en versoek, eerder as epistemiese of dinamiese noodsaaklikheid, wat afsonderlik noodsaak wat spruit vanuit 'n proposisie oor die werklikheid en 'n interne of eksterne behoefte uitdruk (Van der Auwera & Plunigan 1998:80-1; Huddleston 2002:177-9; Collins 2009) (sien voorbeelde 4 tot 9 in §3.4). In Afrikaans is moet die sentrale en ongemerkte/neutrale modaal om opdragte en versoeke oor te dra, hetsy in die negatiewe (1), die gevestigde, klitiese negatiewe (2) of die positiewe vorm (3) (Ponelis 1979:251) (my vertalings).

(1) Jy moet nie hier sit nie.

'You must/should not sit here / Don't sit here'.

(2) Moenie die goed hier wegvat nie.

'You mustn't/shouldn't take the things away from here / Don't take the things away from here.'

(3) Ons vra dat jy dit asseblief tog moet doen.

'We ask that you must/should please just do it /(We ask you to) please just do it.'

Aangesien die voorbeelde hierbo vertaalbaar is met must, sowel as should, en selfs met 'n modaallose konstruksie wat ieder geval die meer natuurlike opsie is, kan daar afgelei word dat Afrikaanse moet meer gereeld vir versoeke ingespan word as Engelse must.

Die leksikale opsies vir die uitdruk van verpligting is inderdaad beperk in Afrikaans: moet dra 'n betekenis oor wat basies ekwivalent is aan verskeie modale in Engels. Du Plessis (2005:356) lys meerdere vertalingsopsies vir moet tot ander modale en nie-modale konstruksies in Engels, naamlik "must, have to, be compelled/forced/obliged to; should, ought to", "[have] got to", "need be", "is supposed to", "had better" en "need to". Hierdie lys bevat basies die totale kontinuum van modale sterkte: van die tradisionele sterk must tot die baie swak ought (cf. Leech et al. 2009). Verder word die verledetydsvorm moes, buiten dat dit ook as "must have" en "should have" vertaal word, in sommige vaste uitdrukkings selfs as "could" en "would" vertaal (Du Plessis 2005:356). Die negatiewe Afrikaanse konstruksie moenie word konsekwent vertaal as don 't (Du Plessis 2005:355-6), wat my vertalings in (1) en (2) ondersteun. Formules wat die negatiewe vorms moet nie of moenie saam met die beleefde asseblief bevat (soos in "[moet] asseblief nie") word vertaal as "please do not", "kindly abstain from" en "please refrain from" (2005:356), wat daarop dui dat genegativeerde moet moontlik as deel van beleefdheidsformulues in Afrikaans gebruik kan word. Moet is daarom 'n modaal wat in 'n wye verskeidenheid kontekste gebruik kan word, waarvan baie tradisioneel met verskeie ander modale of konstruksies in Engels geassosieer word. Dit suggereer alreeds dat Afrikaanse moet meer gegrammatikaliseerd is as Engelse must, veral rakende die gebruik van moet in negatiewe bevele (moenie). Daar is egter klinkklare bewyse hiervoor.

Ponelis (1993:459) voer in sy historíese bespreking van die negatiewe imperatief (verbieding) in Afrikaans aan dat moet nie in hierdie verband klitiseer tot moenie, en ooreenstem met Engelse don 't (wat Du Plessis [2005:355-6] se vertaling hierbo ondersteun). Op grond daarvan dat Nederlands die opsie van 'n aanvanklike werkwoord (Doe het niet) en in die verbiedende gebruik van moet slegs die opsie met 'n subjek het (Je moet het niet doen), bevind Ponelis (1993:459-60) dat die Afrikaanse verbiedende gebruik met 'n aanvanklike gegrammatikaliseerde moet of moenie (Moet nie/moenie dit doen nie) 'n geleende oordragsvorm óf van die Lae-Portugese namisti ("not must"), óf die Maleise jangan ("don't") is. In sy studie van historíese dokumente vind hy geen eksemplare van die verbiedende gebruik met aanvanklike moet/moenie in 18de-eeuse Afrikaans-Hollands nie, maar hy bevind dat die vroegste gebruik van moe nie aan die begin van die 19de eeu (1832) verskyn. Hierdie vroeë gebruik vind nie lank ná die Britse setlaars se koms plaas nie, maar dus vroeg genoeg om reeds teen hierdie tyd gevestig te wees as 'n gebruiklike negatiewe vorm in Afrikaans, veral in die lig daarvan dat dit hier selfs in die geskrewe register sy verskyning maak (op grond van die veronderstelling dat nuwe gebruiksvorme in die spreektaal ontstaan en eers baie later in die meer gereguleerde geskrewe register hul verskyning maak [cf. Biber et al. 1999]).

Op grond van Bybee (1998:2-3) en Heine (2003:578-9) se besprekings van grammatikali-sering, is dit duidelik dat die genegativeerde, klitiese vorm van moet die mees gegrammatikaliseerde vorm van hierdie modaal is: moenie is 'n fonetiese en morfologiese gereduseerde vorm wat semantiese en pragmatiese veralgemening ondergaan het. Dit is daarom semanties erg verbleik (bleached), wat beteken dat dit baie van sy semantiese sterkte of impak verloor het as gevolg van gereelde, gewoontevormende en uiteindelik geritualiseerde gebruik (Bybee 1998:2; cf. Heine 2003). Dit is dus 'n sterk moontlikheid dat moenie die dryfveer agter die verminderde illokusionêre sterkte van moet oor die algemeen is, en dat dit gevolglik vir must in SAfE in dieselfde rigting agternasleep.

Volgens die bespreking hierbo kan deontiese moet in kontekste met 'n medium sowel as 'n hoër vlak van verpligting gebruik word (nes bevind is vir must in SAfE, [cf. Wasserman, 2014]), maar daar is tot dusver vir moet geen korpusgebaseerde bewyse gelewer nie, wat Levey en Poplack (2010) se kriterium (b) ongetwyfeld sou staaf, aangesien moet dan anders as prototipiese Engelse must gekondisioneer sou wees (cf. Myhill 1995). Indien die genegativeerde vorm mustn 't in SAfE soortgelyke gedrag as die hoogs gegrammatikaliseerde vorm moenie toon, sal die argument vir die invloed van Afrikaans op SAfE selfs sterker wees.

3.2 Data en metode

Ten einde diachroniese modale ontwikkeling oor ooreenstemmende periodes en in ekwivalente geskrewe registers te ondersoek, is 'n seleksie eerstens vanuit die historíese korpus van Afrikaans12(sien Kirsten 2015; 2016 [hierdie uitgawe]) en tweedens vanuit die historíese korpus van SAfE (sien Wasserman 2014) gemaak. Die Afrikaanse datastel (485 000 woorde) verteenwoordig die periodes vanaf die 1910's-1950's tot die 2000's-2010's, en bevat persoonlike en formele briewe, verslaggewing, fiksie en informatiewe nie-fiksie. Die SAfE-datastel (300 000 woorde) bevat ekwivalente registers (sosiale en besigheidsbriewe, verslaggewing, fiksie en nie-fiksie) en verteenwoordig die periodes vanaf die 1910's-1950's tot die 1990's. Die ontwikkeling van moet en must vanaf die vroeë tot middel 20ste eeu, tot die laat 20ste of vroeë 21ste eeu, word gevolglik vergelyk. Die geskrewe en gesproke sinchroniese data wat hedendaagse Afrikaans verteenwoordig is onderskeidelik die Taalkommissiekorpus (57 miljoen woorde) (sien De Wet et al. 2011) en die NWU-korpus van gesproke Afrikaans (72 000 woorde) (sien Wasserman 2014:209). Die ooreenstemmende data wat hedendaagse SAfE verteenwoordig, beslaan die geskrewe (153 000 woorde) en gesproke komponente (407 000 woorde) van ICE-SA (International Corpus of English - South Africa) (sien Aarts et al. 2002; Jeffery 2003).

Die data is in Wordsmith verwerk en per 100 000 woorde genormaliseer. In die historiese korpusdata is 'n ewekansige steekproef van 100 konkordansiereëls per periode wat alle vorme van moet (insl. moes en moenie) en must (insl. mustn 't) bevat semanties geanaliseer. Die semantiese analises is op makrovlak (breë betekenis [deonties, epistemies, dinamies]) en mikrovlak (modale sterkte [slegs deonties]) uitgevoer en word as persentasies uitgedruk. Die mikrosemantiese analises is spesifiek gedoen aan die hand van die ses parameters vir die analise van modale sterkte (aangedui as "P"), soos uiteengesit deur Wasserman (2014:215) (sien ook Wasserman en Van Rooy 2014:36), naamlik subjek/hoofwerkwoord (bv. aanduiding van status) (P1), adjunkte/uitdrukkings (P2), kloustipes (P3), polariteit/temporaliteit (P4), pragmatiese funksies (P5) en breë tekstuele analise (P6). Waar daar voorbeelde bespreek word, sal die aanwesigheid van 'n parameter soos bo volgens nommer aangedui word. Die resultate bied motivering ten gunste van die invloed van Afrikaanse moet op must in SAfE op kwantitatiewe en kwalitatiewe vlakke.

3.3 Kwantitatiewe motivering (sinchronies en diachronies)

Sinchroniese kwantitatiewe motivering is die enigste vlak van bespreking wat reeds deur korpusdata gedek is. Wasserman en Van Rooy (2014) bewys dat die algemene kwantitatiewe patrone wat hedendaagse must in SAfE uniekheid teenoor ander moedertaalvariëteite van Engels verleen, deur hedendaagse moet gedeel word: beide must in SAfE en moet in Afrikaans is nie net die mees frekwente modale in hul betekeniskluster nie, maar moet is ook meer frekwent in die gesproke as in die geskrewe register, nes daar bevind is vir must in SAfE (2014:38;41) (sien Tabel 1). Die resultate van die diachroniese, kwantitatiewe ondersoek rakende moet lewer verder bewys dat die kwantitatiewe patrone wat must in SAfE histories uniekheid verleen (soos voorheen genoem) óók deur moet gedeel word (Tabel 1).

 

 

Moet daal effens in frekwensie vanaf die 1910's-1950's tot die 1990's-2000's (van 487,8 tot 438,6 voorkomste per 100 000 woorde; Λ = 2,59, p>0,05, i.e. nie statisties beduidend13). Daar is dus hier 'n mate van stabiliteit wat die unieke patroon vir must in SAfE oor die 20ste eeu heen weerspieël, teenoor die sterk afname van hierdie modaal in ander moedertaalvariëteite van Engels (cf. Wasserman 2014; Leech 2011). Beide moet en must is verder ook die mees frekwente opsies in hul betekeniskluster teenoor onderskeidelik behoort te en hoef te in Afrikaans (regdeur die 20ste eeu) en should en have to in SAfE (teen die einde van die 20ste eeu [cf. Wasserman, 2014]).

Op kwantitatiewe vlak getuig die sinchroniese resultate van Wasserman en Van Rooy (2014), sowel as die nuwe diachroniese resultate, van die ooreenstemmende verspreiding van Afrikaanse moet en must in SAfE in terme van frekwensie. Dit is dus duidelik dat hierdie twee tale mekaar beïnvloed, maar die sterk leidende rol van Afrikaans in hierdie verband word bevestig deur die veel hoër frekwensie van moet in die sinchroniese en diachroniese data as dié van must in SAfE (cf. Wasserman 2014:337-8). Die veronderstelling dat die hoër frekwensie van 'n item in een taalvariëteit 'n aanduiding is van 'n leidende tipe trekkrag op die frekwensie van die ooreen-stemmende item in 'n ander variëteit is immers een wat reeds wyd gebruik word binne die taalveranderings- en grammatikaliseringsdiskoers in Engelse variëteitstudies, veral in terme van die leidende rol wat AmE in modale frekwensie-tendense in moedertaalvariëteite speel (sien bv. Mair & Leech 2006; Leech et al. 2009; Collins 2009). Hoër gebruiksfrewensie is een van die tekens van geritualiseerde gebruik en dus meer gevorderde grammatikalisering (sien bv. Hopper & Traugott 2003; Bybee 1998; Mair 2004) (moet is nie net die mees frekwente modaal in sy betekeniskluster nie, maar inderdaad ook die modaal met die tweede hoogste gebruiksfrekwensie in Afrikaans, naas kan [Wasserman 2014:337]), wat daarop dui dat die meer gegrammatikaliseerde moet die katalisator is vir die grammatikalisering van must in SAfE. Die kwantitatiewe resultate bevestig dus die stelling dat Afrikaanse moet die invloed is wat aanleiding gee tot die unieke frekwensiepatroon van SAfE in vergelyking met ander moedertaalvariëteite van Engels.

3.4 Kwalitatiewe, diachroniese motivering

Met die meer diepgaande ondersoek na die historíese Afrikaanse data is daar bevind dat daar selfs sterk ooreenkomste tussen die semantiese ontwikkeling van must in SAfE en moet in Afrikaans tydens die verloop van die 20ste eeu is. Op makrosemantiese vlak is die deontiese opsie oor die algemeen die mees frekwente uitdrukking van modaliteit vir beide moet en must (teenoor die dinamiese en epistemiese betekenisvlakke) (cf. Wasserman 2014:517). Die deontiese betekenis (4 en 5) impliseer 'n eksterne gesag of norm (persoonlik, sosiaal of eties) wat die aangesprokene tot iets verplig of versoek, waarteenoor die dinamiese betekenis 'n noodsaaklikheid uitdruk wat spruit vanuit interne of eksterne behoeftes of omstandighede (6 en 7), en die epistemiese betekenis die spreker tot veronderstellings oor die waarheid van 'n stelling verbind (8 en 9) (cf. Van der Auwera & Plunigan 1998:80-1; Huddleston 2002:177-9; Collins 2009; sien ook § 3.1).

(4) Kom, laat ons nou die tweede skof vat in die strijd oor loon. Besadigd maar beslist moet ons aanspraak maak op 'n verhoogde skaal, en daarbij staan tot ons dit het. (1910's; Verslaggewing)

(5) I came away feeling that we in S.A. must solve our own prison problems with our own intelligence. (1940's; Persoonlike brief)

(6) "Neem jy vir Annemie, ek sal Herrie bring. "Maar die gedagte dat Chris haar moet tent toe dra, is net een te veel vir Annemie. (2000's; Fiksie)

(7) ...the male spins a special mating thread on to which he must lure the female with more plucking and tweaking movements (1990's; Nie-fiksie [W2B-023])

(8) Sy verf wat sy sensueel vind. My dadelike aanname dat dit kurwes moet wees, is verkeerd. 'n Stukkie toon of 'n deel van 'n oor kan glo net so sensueel wees. (2000's; Nie-fiksie)

(9) "This must be the boy. ... Miss Ellie said he was quite big." (1990's; Fiksie [W2F-013])

Die proporsionele waarde van die deontiese betekenis neem gedurende die 20ste eeu toe ten koste van die ander betekenisvlakke vir beide moet (van 55% na 67%) en must (van 60,6% na 73,6% [cf. Wasserman 2014:517]), waarteenoor die epistemiese betekenis meer opgang maak in ander moedertaalvariëteite van Engels (Smith 2003; Collins 2005; Leech et al 2009; Millar 2009). Wat die makrosemantiek betref is motivering vir die trekkrag van Afrikaanse moet se gebruikspatrone op dié van must in SAfE gevolglik vasgestel, na aanleiding van kriterium (b) vir kontak-geïnduseerde verandering (aangesien Afrikaanse moet inderdaad anders as prototipiese Engelse must gekondisioneer is). Die mees merkbare bewysstuk ten gunste van hierdie invloed lê egter in die deontiese mikrosemantiek.

Die proporsionele frekwensie van die uitdrukking van 'n mediumvlak van verpligting neem toe vir moet gedurende die 20ste eeu (ten koste van die hoër vlak), net soos vir must (cf. Wasserman 2014:522). Die hoër vlak van verpligting word in (10) en (11) geïllustreer saam met die toepaslike parameters.

(10) U personeel het my meegedeel dat die skool aansoek moet doen om die sypaadjie langs die skoolgrens in T-straat teen R1 500,00 aan te koop. (2000's; Formele brief)

(11) A will is a formal document and you must make sure every page is signed or at least initialled by you, and the final page signed by you... (1990's; Nie-fiksie [W2D-004])

In (10) is die dorpsbestuur die bron van verpligting (soos vroeër in die spesifieke brief genoem word), wat 'n statusverskil tussen die bron en die ontvanger, die skool, (P5) asook 'n regulerende konteks (P6), aandui. Voorbeeld (11) bevat ook regulerende, en spesifiek wetgewende inhoud (P6), wat daarop dui dat die aksualisering van hierdie verpligting vereis word (P5). Hierdie analise word verder ook gesteun deur die adjektief every en die vaste uitdrukking at least (P2).

Die mediumvlak van verpligting in moet (12 en 13) styg proporsioneel van 55% in die 1910's-1950's tot 63% in die 2000's-2010's binne die deontiese betekenis (teenoor die daling in die hoër vlak van 40% na 34%), en in SAfE (14 en 15) styg die mediumvlak proporsioneel van 34% in die 1910's-1950's tot 41% in die 1990's binne die deontiese betekenis (teenoor die kleiner proporsionele styging in die hoër vlak van 38% na 44%). Teen die 1990's is die proporsies van hoër en medium gebruike van must in SAfE dus baie nader aan mekaar as voorheen, teenoor die bevindinge in ander moedertaalvariëteite, waar must beperk is tot die uitdrukking van hoër vlakke, soos bo genoem (cf. Wasserman 2014; Leech et al. 2009; Myhill 1995). Aangesien die stygende proporsie van mediumvlakke van verpligting dus ooreenstem tussen moet en must, kan daar afgelei word dat die gebruikspatrone van moet 'n trekkrag op must in SAfE uitoefen gedurende die 20ste eeu. Die volgende voorbeelde van die mediumvlak van verpligting kom in fiksie voor:

(12) Dit word nou al tijd dat ons van die middag ete 'n bietje moet gaan geniet. (1910's; Fiksie)

(13) " 'Hou jou stupid aanmerkings vir jouself!" "Toe, toe, kinders. Ons is byna by die aftreeoord. Moenie nou baklei nie." Ouma klink nie juis baie kwaai nie en sy glimlag liefies vir ons. (2000's; Fiksie)

(14) "And you must come and tell me how she is, eh?" There was no answer, and then she began to cry. "But what's the matter, my girl," I said. "What's wrong? You mustn't cry." (1950's; Fiksie)

(15) "Duifie, you must read what he says after he came back from America. One of those dom sisters of his married a whatchamacallit... you know... am... ambassador." (1990's; Fiksie [W2F-005])

In (12) is die illokusionêre impak of sterkte van moet baie laag (die uitdrukking 'n bietje dra hiertoe by [P2]), in so 'n mate dat dit selfs aan 'n dinamiese geval grens, en in (13) kan die vriendelike, nie-bedreigende versoek (P5, P6) met 'n modaallose konstruksie in Engels (met behulp van don't) vertaal word. Die beskrywing van die spreker (Ouma) se stemtoon en gesigsuitdrukking dui op 'n mediumvlak van verpligting, selfs ten spyte van die negativering (P4) en statusverskil (P1). Die gebruike van must in SAfE is baie soortgelyk. In (14) is beide gebruike van must nie bedreigend tot die "gesig" van die aangesprokene nie (P5), maar vorm dit deel van trooswoorde (P6), ten spyte van die negatiewe vorm van die tweede gebruik van must (P4). In (15) druk must 'n vriendelike en informele versoek (P5, P6) uit, wat grens aan 'n emfatiese formule (P6). In (14) en (15) dra die toegeneë aanspreekvorme my girl en Duifie verder ook by tot die vriendelikheid van die onderskeie sprekers aan die woord (P5).

Daar is verder ook bevind dat die meer duidelike dominansie van objektiewe (eksterne) bronne van verpligting by die gebruik van hoë-vlak moet (16) konstant bly regoor die 20ste eeu (van 77,3% tot 78,3%), wat grootliks met die patroon vir must ooreenstem, waar objektiewe bronne (17) heelwat meer gebruiklik word in die 1990's as voorheen (van 57,5% tot 66,1%) (cf. Wasserman 2014:354) (teenoor die geneigdheid van hoë-vlak must in ander variëteite om meer gereeld subjektiewe (persoonlike) bronne te hê [Collins 2009:38]). In (16) is die objektiewe bron godsdienstige tradisie/regulasie, en in (17) is dit wetgewing (P6).

(16) Om hul bereidwilligheid hiertoe te toon, asook verootmoediging en afhanklikheid, moes hulle drie keer per dag (later vyf keer) buig in rituele gebed. (2000's; Formele brief)

(17) ...from the provisions of subsection (2), all official languages must enjoy parity of esteem and must be treated equitably. (1990's; Nie-fiksie [W2D- 003])

Die subtiele proporsionele verskuiwing wat oor die 20ste eeu binne mediumvlak moet voorkom, waar subjektiewe bronne effens verminder (van 56,7% tot 54,8%) en objektiewe bronne (18) effens toeneem (van 43,3% na 45,2%), vind ook binne mediumvlak must plaas, waar presiese gelyke proporsies (50%) van die twee bronne in die 1910's-1950's in die guns van objektiewe bronne (54,7%) verskuif in die 1990's (19) (cf. Wasserman 2014:356) (wat ooreenstem met die geneigdheid van mediumvlak must in ander variëteite [Collins 2009:38]). Die objektiewe, mediumvlak gebruike van moet en must word gekenmerk deur 'n hipotetiese betekenislaag (P6):

(18) Hulle vertel mos die eintlike plan is dat elke soort mense hulle eie plek en hulle eie grond moet hê waar hulle self kan besluit hoe hulle wil lewe en wat hulle daar gaan doen. (2000's; Nie-fiksie)

(19) "When black people are invited to sit on boards they must not just function as a token black, but must shake and move things," he said. (1990's; Verslaggewing [W2C-010])

Die unieke patroon vir beide hoë- en mediumvlak must in SAfE om toenemend meer objektiewe bronne van verpligting te hê (teenoor die duidelike voorliefde vir die een of die ander afsonderlike bron vir hoë en mediumvlakke in ander variëteite), stem dus ooreen met die patroon vir moet, wat nog 'n laag van motivering bydra ten gunste van die invloed van moet op must in SAfE.

Wat die gebruik van genegativeerde vorms betref, is daar bevind dat alle voorkomste van moenie en moet nie in Afrikaans en mustn 't en must not in SAfE regoor die 20ste eeu (30 voorkomste altesaam) die deontiese betekenis oordra.Tabel 2 toon die persentasies van hoë en mediumvlakke van verpligting, asook skryfformules14 (bv. "it must not be forgotten that..."), in terme van alle genegativeerde deontiese vorme15 binne elke tydperk.

 

 

Die vernaamste verandering wat binne die genegativeerde vorme oor die 20ste eeu plaasvind is die proporsionele verskuiwing van 'n voorkeur vir must not na mustn t: 'n proporsie wat presies dié van moenie/moetnie in die vroeëre 20ste eeu reflekteer (50/50). Moenie is teen die 1990's-2010's die duidelike voorkeur vir die oordrag van die Afrikaanse negatiewe imperatief teenoor moet nie, en mustn t word in dieselfde rigting agternagesleep, veral dan wat betref die frekwensieverskuiwing van mustn t na die gebruik in kontekste waar 'n mediumvlak van verpligting oorgedra word (ten koste van die oordrag van 'n vlak van hoë verpligting deur enige negatiewe vorm)(sien voorbeelde 13 en 14). Beide moenie en mustn't beweeg ook oor die algemeen van voorkomste met slegs subjektiewe bronne in die 1910's-1950's na meer gebalanseerde voorkomste van subjektiewe en objektiewe bronne teen die 1990s-2010's. Teen die laat 20ste/vroeë 21ste eeu word mediumvlak moenie (44,4%) en mustn t (50%) in baie meer soortgelyke proporsies gebruik as voorheen, wat dan verdere en selfs nog sterker motivering bied ten gunste van die leidende rol wat hoogs gegrammatikaliseerde Afrikaanse moenie in die grammatikaliseringsproses van must en veral mustn t in SAfE (semantiese verbleiking in die vorm van verminderde illokusionêre sterkte) oor die 20ste eeu heen gespeel het.

 

4. IMPLIKASIES EN GEVOLGTREKKING

Afrikaanssprekendes is in hierdie artikel bevestig as 'n invloedryke sosiale groep wat die verspreiding van 'n nuwe kenmerk van SAfE betref, naamlik die minder bedreigende gebruik van must. Hierdie invloed is ekstra-linguisties aan die hand van die komplekse sosiohistoriese verhouding tussen Afrikaans- en Engelssprekendes, sowel as linguisties, aan die hand van kwantitatiewe en kwalitatiewe (makro- en mikrosemantiese) frekwensies, gemotiveer, en daar is vasgestel dat must in SAfE aan al Levey en Poplack (2010) se kriteria vir kontakgeïnduseerde verandering voldoen. Afrikaans blyk 'n deurslaggewende rol te gespeel het in die opheffing van must se semantiese beperking deur die loop van die 20ste eeu, selfs al het die opsie in die interne taalstruktuur van Engels (mediumvlak must) vóór die kontaksituasie reeds minimaal bestaan (cf. Wasserman 2014:495).

Op kwantitatiewe en kwalitatiewe vlak getuig die resultate van die trekkrag van Afrikaanse moet op must in SAfE in terme van gebruiksfrekwensie (sinchronies en diachronies) en die makro-en mikrosemantiek (diachronies), veral dan wat die invloed van hoogs gegrammatikaliseerde moenie gedurende die 20ste eeu betref. Die potensiaal vir mediumvlak gebruike om in SAfE te versprei is dus deur kontak met Afrikaans ontsluit of geaktiveer, wat aansluit by Lass en Wright (1986:201) se konsep van verspreide innovasie. Dit is dus vasgestel dat 'n "teenstander" soos Afrikaans sy "opponent", in dié geval SAfE, inderdaad selfs op grammatikale en semantiese vlak kan beïnvloed, veral in die lig daarvan dat die sosiolinguistiese verhouding tussen die sprekers van Afrikaans en SAfE gedurende die 19de en 20ste eeue kompleks (antagonisties én mutualisties), langdurig, standhoudend en verreikend was. Die verspreiding van 'n toenemend minder bedreigende must in SAfE is eindelik aangevuur deur kontak tussen twee identiteite - 'n konneksie tussen twee sisteme wat deur tweetalige sprekers gemaak is (cf. Van Rooy 2010:9). Hierdie konneksie is immers wat SAfE 'n unieke moedertaalvariëteit van Engels maak, nie net in die suidelike halfrond nie, maar ook in die wêreld.

 

BIBLIOGRAFIE

Aarts, Bas, Gerald Nelson & Sean Wallis. 2002. Exploring Natural Language: Working with the British Component of the International Corpus of English. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

Abraham, Werner. 2001. How far does semantic bleaching go? About grammaticalization that does not terminate in functional categories. (In Faarlund, Jan Terie, ed. Grammatical Relations in Change. Amsterdam: John Benjamins, pp.15-64.         [ Links ])

Anon. 1909. De Invloed van de Engelse Taal op het Hollands van Zuid-Afrika met een Alfabeties Gerangschikte Lijst van Anglicismen en Barbarismen. Unie, 4(11): 401-404.         [ Links ]

Baugh, Albert, C. & Thomas Cable. 1978. A History of the English Language. Tenth Edition. London & New York: Routledge.         [ Links ]

Biber, Douglas, Stig Johansson, Geoffrey Leech, Susan Conrad & Edward Finnegan. 1999. The Longman Grammar of Spoken and Written English. Harlow: Pearson.         [ Links ]

Bowerman, Sean. 2004. White South African English: Morphology and Syntax. (In Kortmann, Bernd, Edgar W. Schneider, Kate Burrage, Rajend Mesthrie & Clive Upton, eds. A Handbook of Varieties of English:Morphology and Syntax. Berlin: Mouton de Gruyter, pp. 472-478.         [ Links ])

Branford, Jean & William Branford. 1991. A Dictionary of South African English. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Branford, William. 1996. English in South African society: a preliminary overview. (In de Klerk, Vivian, ed. Focus on South Africa. Amsterdam: Benjamins, pp. 35-51.         [ Links ])

Brown, Penelope & Stephen Levinson. 1987. Politeness: Some Universals in Language Usage. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Bybee, Joan. 1998. The evolution of grammar. Paper prepared for the symposium Darwinian perspectives on the origins of language. AAAS, Philadelphia.         [ Links ]

Cochrane, James R. 1987. Servants of Power: the Role of the English-speaking Churches in South Africa, 1903-1930. Braamfontein: Ravan Press.         [ Links ]

Coetsee, D.J. 1957. Suiwer taal openbaar 'n suiwer gees. Taalgenoot, 26(3): 27.         [ Links ]

Coetzee-Van Rooy, Susan. 2013. Afrikaans in contact with English: endangered language or a case of exceptional bilingualism? International Journal for the Sociology of Language, 224:179-207.         [ Links ]

Coetzee-Van Rooy, Susan. 2014. The identity issue in bi- and multilingual repertoires in South Africa: implications for Schneider's Dynamic Model. (In Buschfeld, Sarah, Thomas Hoffman, Magnus Huber and Alexander Kautzsch, eds.The Evolution ofEnglishes: The Dynamic Model and Beyond. Amsterdam: John Benjamins, pp.39-57.         [ Links ])

Collins, Peter. 2005. The modals and quasi-modals of obligation and necessity in Australian English and other Englishes. English World-Wide, 26(3):249-273.         [ Links ]

Collins, Peter. 2009. Modals and Quasi-modals in English. Amsterdam: Rodopi.         [ Links ]

Conradie, C. Jac. 1976. Die modale werkwoord in Nederlands en Afrikaans. Taalfasette, 20(4): 62-68.         [ Links ]

Conradie, C. Jac. 2004. Afrikaans as Suid-Afrikaanse Lingua Franca. (In Van Rensburg, FIJ, red. Afrikaans: Lewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik Uitgewers,pp.147-155.         [ Links ])

De Wet, Febe, Alta de Waal & Gerhard B. van Huyssteen. 2011. Developing a broadband automatic speech recognition system for Afrikaans. Paper delivered at the 12th Annual Conference of the International Speech Communication Association (Interspeech 2011), Florence.         [ Links ]

Donaldson, BC. 1988/1991. The Influence ofEnglish on Afrikaans. Pretoria: Serva Publishers.         [ Links ]

Du Plessis, Madaleine, red. 2005. Pharos Afrikaans-Engels & English-Afrikaans Woordeboek/Dictionary. Eerste Uitgawe. Kaapstad: Pharos Woordeboeke.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 2004. The rise and possible demise of Afrikaans as public language. Nationalism and Ethnic Politics,pp. 10:25-58.         [ Links ]

Giliomee, Hermann & Mbenga, Bernard. 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Gottlieb, Henrik. 2010. Multilingual translation vs. English-fits-all in South African media. Across Languages and Cultures, 11(2): 189-216.         [ Links ]

Gouws, Rufus H. 1995. Dictionaries and the dynamics of language change. (In Kachru, Braj B & Kahane, Henry, eds. Cultures, Ideologies, and the Dictionary: Studies in Honor of Ladislav Zgusta. Berlin: Walter de Gruyter, pp. 297-314.         [ Links ])

Hauptfleisch, T. 1979. Language Loyalty in South Africa. Volume 3: Motivations to language use: Opinions and attitudes of white adults in urban areas (Report no. TLK/L-10). Pretoria:Human Sciences Research Council.         [ Links ]

Heine, Bernd. 2003. Grammaticalization. (In Joseph, Brian and Janda, Richard, eds. The Handbook of Historical Linguistics. Oxford: Wiley-Blackwell, pp. 575-677.         [ Links ])

Hooper, A.G. 1951. English in South Africa. (In Clark, John W. & Eric Partridge, eds. British and American English Since 1900. London: Andrew Dakers Limited, 80-84.         [ Links ])

Hopper, Paul & Traugott, Elizabeth. 2003. Grammaticalization. Second Edition. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Huddleston, Rodney. 2002. The verb. (In Rodney Huddleston & Geoffrey K. Pullum, eds. The Cambridge Grammar of the English Language. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 71-212.         [ Links ])

Jeffery, Chris. 2003. On compiling a corpus of South African English. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 21(4): 341-344.         [ Links ]

Jeffery, Chris & Bertus van Rooy. 2004. Emphasiser now in colloquial South African English. World Englishes, 23(2): 269-280.         [ Links ]

Johnson, K. & Jacobs, S., eds. 2012. Encyclopedia of South Africa. Scottsville: KwaZulu-Natal University Press.         [ Links ]

Kirsten, Johanita. 2015. The use of was in Afrikaans passive constructions: a diachronic corpus study. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 33(2): 159-170.         [ Links ]

Kirsten, J. 2016. Veranderinge in adverbiale tydsverwysing in Afrikaans van 1911 tot 2010. Tydskrif vir Geesteswetenskape, 56(1):45-61.         [ Links ]

Kriel, Mariana. 2013. Loose Continuity: The Post-Apartheid Afrikaans Language Movement in Historical Perspective. Bloemfontein: UFS. (Thesis - PhD).         [ Links ]

Lanham, Len W. 1978. South African English. (In Lanham, Len W. and K. P. Prinsloo, eds.Language and Communication Studies in South Africa. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ])

Lanham, Len W. 1982. English in South Africa. (In Bailey, R. W. and Manfred Görlach, eds. English as a World Language. Ann Arbor: University of Michigan Press, pp. 324-52.         [ Links ])

Lanham, Len W. & MacDonald, Carol A. 1979. The Standard in South African History and its Social History. Heidelberg: Groos.         [ Links ]

Lass, Roger. 1987. The Shape of English: Structure and History. London & Melbourne: J. M. Dent & Sons Limited.         [ Links ]

Lass, Roger & Wright, Susan. 1986. Endogeny vs. contact: 'Afrikaans influence' on South African English. English World-Wide, 7(2): 201-223.         [ Links ]

Leech, Geoffrey. 2011. The modals ARE declining: Reply to Neil Millar's "Modal verbs in TIME: Frequency changes 1923-2006". International Journal of Corpus Linguistics, 16(4): 547-564.         [ Links ]

Leech, Geoffrey, Marianne Hundt, Christian Mair & Nicholas Smith. 2009. Change in Contemporary English: A Grammatical Study. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Levey, Stephen & Shana Poplack. 2010. Contact-induced grammatical change: A cautionary tale. (In Auer, Peter & Jürgen Erich Schmidt, eds. Language and Space: An International Handbook of Linguistic Variation. Theories and Methods. Berlin: Mouton De Gruyter, pp. 391-418.         [ Links ])

Louw, P.E. 2004. The rise, fall, and legacy of apartheid. Westport, Conn.: Praeger.         [ Links ]

Mair, Christian. 2004. Corpus Linguistics and grammaticalization theory: Statistics, frequencies and beyond. (In Lindquist H. & Mair, C., eds. Corpus Approaches to Grammaticalization in English. Amsterdam: John Benjamins, pp. 121-150.         [ Links ])

Mair, Christian. 2014. Fluctuating statistics, volatile genres, and structural change: modality in the extended Brown family of corpora. Paper delivered at ICAME 35 (Corpus Linguistics, Context and Culture), Nottingham.         [ Links ]

Mair, Christian & Geoffrey Leech. 2006. Current changes in English syntax. (In Aarts, Bas & April McMahon, eds. The Handbook of English Linguistics. Oxford: Blackwell, pp.318-342.         [ Links ])

Mesthrie, Rajend. 2002. Endogeny versus contact revisited: aspectual busy in South African English. Language Sciences, 24: 345-358.         [ Links ]

Mesthrie, Rajend & Paula West. 1995. Towards a grammar of Proto-South African English. English World- Wide, 16: 105-133.         [ Links ]

Meyers, E.M. 1986. Drie Eeue van Militêre Diensplig in Suid-Afrika. Scientia Militaría, South African Journal of Military Studies, 16(2): 1-19.         [ Links ]

Millar, Neil. 2009. Modal verbs in TIME: frequency changes 1923-2006. International Journal of Corpus Linguistics, 14(2): 191-220.         [ Links ]

Mortelmans, Tanja, Kasper Boye & Johan van der Auwera. 2009. Modals in the Germanic languages. (In Hansen, Björn and Ferdinand de Haan, eds. Modals in the Languages of Europe. Berlin/New York: Mouton de Gruyter, pp.11-70.         [ Links ])

Myhill, John. 1995. Change and continuity in the function of American English modals. Linguistics, 33: 157-211.         [ Links ]

Onions, C.T, ed. 1966. The Oxford Dictionary of English Etymology. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License