SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a8 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

"Landskapverinniging" as sentrale motief in die gedig "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog

 

Landscape endearment as central motive in the poem "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" in Mede-wete (2014) by Antjie Krog

 

 

Susan Smith

Department of Afrikaans, University of Fort Hare, East London campus E-pos: ssmith@ufh.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word daar ondersoek ingestel na die wyse waarop die slotgedig van die bundel, "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog, sentraal staan tot die ekopoëtiese tematiek en werkwyse van ingeplaast-heid wat deurlopend in die bundel na vore kom. Daar word ook na enkele ander verband houdende gedigte in die bundel verwys.
Benewens die ooglopende sentrale tema van mede-menslikheid, mede-deelsaamheid en medemens-wees wat deur die bundeltitel geaktiveer word en waarop resensies (Taljard 2014, Van Vuuren 2014, Hambidge 2014 en Jacobs 2015) van die teks oorwegend gefokus het, tref Visagie (2015:229) in sy resensie-artikel onderskeid tussen die veelvuldige sinapse, oftewel "verbindings" of "samevoegings" wat ten grondslag van die bundel lê, waaronder ook verbindings met die niemenslike omgewing. Die Ander, wat implisiet deur die bundeltitel geaktiveer word, is ook die aarde en dié wat van die aarde is. Daar sal aangetoon word dat Krog ook in hierdie gedig en bundel die grense ophef tussen die menslike en die niemenslike en dat die gedig voorspraak maak vir 'n verinniging in verhoudings tussen alle materialiteite, beide menslik en niemenslik.
Die teoretiese raamwerk waarbinne ek hierdie gedig ondersoek, is dié van die ekokritiek en ekopoësie waarin daar na die verhouding en interaksie tussen die mens en sy omgewing gekyk word. Aan die hand van 'n aantal kernbegrippe van die ekokritiek, naamlik vervlegting, transliggaamlikheid, die vreemde vreemdeling en vreemdmaking, ingeplaastheid, deelnemende verbeelding en diffraksie, word daar gefokus op mede-natuur en mede-omgewing en die wyse waarop dit in die slotvers funksioneer.

Trefwoorde: Antjie Krog, Mede-wete, Synapse, ekokritiek, ekopoësie, ingeplaastheid, vervlegting, deelnemende verbeelding, diffraksie, transliggaamlikheid, materialiteit, vreemde vreemdeling


ABSTRACT

This article investigates the way in which the closing poem, "tesis in gestapelde sillabe-versteurings oor ingebedheid" in the volume of poetry, Mede-wete (2014) by Antjie Krog becomes central to both the ecopoetic theme and the methodology of emplacement which permeates the text.
The central themes of co-humanity, sharing, co-connectivity and co-existence (mede-menslikheid, mede-deelsaamheid and medemens-wees) which are activated by the title, have been the focus of a number of previous investigations (Taljard 2014, Van Vuuren 2014, Hambidge 2014 and Jacobs 2015). The title allows a multi-referential interpretation which includes the nonhuman environment (as indicated by Visagie 2015:229), an aspect which specifically resonates in the last section of the text and in the closing poem. Visagie comments on the multiplicity of synapses, or connections and junctures which are central to the text, also indicating how the translated title of the text, Synapse (2014) emphasises the ideas of conjunction and bridging between two objects.The Other, who is implicitly activated by the title of the Afrikaans text, also includes nonhuman beings and non-living things. This article explores how in the selected text and poem, Krog suspends boundaries between human and nonhuman bodies through an inter- and intra-active modus operandi through which transcorporeality and exchange and interchangeability of roles occur.
The obvious meta-textual nature of this section and the intense involvement with language becomes a modus operandi to create "verinniging" (closeness, endearment), not only in the knowing/knowledge of a fellow human being, but also by means of co-being and co-existence within the landscape and natural environment.
The long title of the poem includes the word "ingebedheid" (embeddedness, emplacement), in which aspects of co-corporeality and trans-corporeality are already implicated. It closely relates to the theory of emplacement (Buell 2005:65; Smith 2012b:901), described in the Oxford Dictionary as "a structure on or in which something isfirmly placed" and in ecocritical terms defined as being immersed in the physical materiality of place which requires a sensory, emotive and intellectual consciousness from the poet, a so called in-the-body experience (Smith 2012b:902). It also requires attachment to place and alliance to place with the poet.
The theoretical framework for the discussion of the poem is ecocriticism and ecopoetics. By using a number of central ecocritical concepts, entanglement, transcorporeality, the strange stranger and estrangement, emplacement, participating imagination and diffraction, the article focuses on the co-nature and co-environment and the way in which these key concepts function in the final poem.

Keywords: Afrikaans poetry, Antjie Krog, Mede-wete, ecocriticism, ecopoetry, emplacement, entanglement, participating imagination, diffraction, transcorporeality, materiality, strange stranger


 

 

INLEIDING

Die slotgedig in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog, "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid", vorm deel van 'n afdeling met die titel, "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" (opgedra aan Jakes Gerwel). Tereg noem Andries Visagie hierdie gedigreeks "manjifieke slotverse" (2015:232) weens die reikwydte en allesomvattende tematiek en maak melding van Krog se "verbluffende omgang met taal" (2015:233). Die bespreking van die slotgedig kan bykans as 'n vertrekpunt gesien word vir die besinning oor verwante kwessies in die res van die bundel. Die gedigafdeling vorm in velerlei opsigte'n grondslag vir die lees van die bundel, soos ook gesuggereer word deur die bundeltitel van die vertaalde teks, Synapse (2014, vertaal deur Karen Press). Dit veronderstel 'n poging tot sinapsvorming, oftewel samebinding en die opsporing van samebindende faktore deur die digter met die ander/ Ander wat buite die self teenwoordig is. Die woord sinapse verwys na die "senuselbrug", oftewel die aansluitingspunt tussen senuselle (Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek 2005:1416), 'n minimale gaping waartussen impulse en boodskappe deur middel van neuronoordrag moet spring. Sinapse is dus die plekke van kontak en oordrag van senuboodskappe, wat die emotiewe en liggaamlike broosheid van oordrag beklemtoon.

Krog skryf vervolgens vier gedigte in hierdie reeks, "in gebreke bly binne-aars", "sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas", "ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS" en "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid".

Die motto-gedig van hierdie gedigreeks kan gelees word as 'n werkskode om die daaropvolgende gedigte in die slotafdeling te interpreteer:

die oopboor van verstopte sillabes die verstelling

van 'n uitgebrande tweeklank die afsaag

van medeklinkers 'n volgehoue plaakafbeiteling

van klinkers sodat erbarmlose verstokte woorde gedaag

word skielik kan lug instroom 'n nuwe geluid

benader vreemd sal die nuwe taal moet lê uitasem

en omgee omgewend apartwees dood begin sê

in die haat wat so bloedgrondritmies dawer (111)

In die motto-gedig stel Krog 'n vernuwende werkwyse in die vooruitsig: sy wil die "verstopte sillabes" "oopboor", 'n "verstelling maak aan "'n uitgebrande tweeklank" en medeklinkers "afsaag". Die opdrag van die afdeling kan in hierdie verband saamgelees word en aktiveer die meertalige en polifoniese aard van die gedigreeks, waardeur die lewe en werk van Jakes Gerwel in herinnering geroep word. Benewens die feit dat Gerwel 'n bekende anti-apartheidsaktivis was, was hy ook 'n gerespekteerde akademikus wat homself veral met die konsep van meertaligheid bemoei het. Taalfokus en -variasie, vertaling en uiteindelikheid "mede-taligheid" word die voertuig waardeur mede-belewing en mede-bestaan uitgedruk word.

Krog is met kragtige, aktiewe, alles-insluitende taalvernuwing besig. Dit sal 'n taal wees wat "omgee omgewend apartwees dood begin sê" (111). Die woord "omgewend" in hierdie gedig dui eerstens op kwessies rondom menswees en medemenswees, dit dui op begrip en "omgee" vir mekaar, vir die Ander - dus, om deur die bemiddeling van taal 'n mens te wees wat "omgewend" word, nie apart van die ander nie, tussen ander, ook in die omgewing van ander. Hierdie aspek sluit aan by een van die sterkste deurlopende motiewe in Krog se oeuvre, naamlik die verhouding tussen mens en mens, kleurkwessies, die gevolge van apartheid en saam- en medebestaan in hierdie land. Mede-bestaan en mede-menslikheid word alreeds in die bundeltitel veronderstel. Dit plaas 'n soeklig op die gebrek aan "wete" van mekaar, die insig in of gebrek daaraan wat ons van mekaar se wêrelde het, ons saambestaan op dieselfde plek, en ons mede-deelsaamheid al dan nie.

Soos Jacomien van Niekerk (2014) tereg in haar resensie opmerk, aktiveer die meerduidige bundeltitel ook die woord "gewete", waardeur die introspeksie en aandadigheid van die Afrikaner binne die breë sosiale konteks onder oë geneem word. Terselfdertyd word van die veronderstelling uitgegaan dat die mens ook 'n "gewete" behoort te openbaar teenoor die niemenslike omgewing en wesens waarin die mens hom bevind. 'n Verdere aktivering is die woord "weet" of "wete" - om kennis te dra van.

Daar is egter 'n tweede betekenis in die woord "omgewend" wat in die bundel geaktiveer (en 'n sinaps wat opgespoor) word, naamlik dié van "omgewing" - met inbegrip van plek en grond (as 'n uitgebreide bundeltema) - waarop hierdie artikel wil fokus, en wel hoe dit in die geselekteerde gedig aan bod kom. Die fokus op die mede-natuur en mede-omgewing word gedoen aan die hand van 'n aantal kernbegripppe in die teoretiese raamwerk van die ekokritiek, waaronder vervlegting en transliggaamlikheid, die vreemde vreemdeling en vreemdmaking, ingeplaastheid, deelnemende verbeelding en diffraksie. Hierdie terme lê ten grondslag van die ekokritiese diskoers waarin die kultuurprodukte, in hierdie geval die literêre tekste, ondersoek word aan die hand van die wyse waarop dit die verhouding tussen die mens en al die organismes van die natuurlike wêreld wat hom omring, uitdruk.

In 'n vorige artikel (Smith 2012a:512) definieer ek ekopoësie onder andere as "die beweging wat spruit uit die spanning waar die verhouding tussen mens en natuur 'n kruispunt bereik" en daar gepoog word om "die sistematiese samehang en ordening van die geheel uit te druk, dikwels deur die destabilisering van die gedig". Die destabilisering van die gedig hou direk verband met die tegniek van sillabeversteuring wat Krog in die slotgedig aanwend. Sillabeversteuring kan dus inherent as destabiliseringstegniek gesien word, wat daarin slaag om die leser op 'n nuwe manier na die gedig en die omgewing te laat kyk en vooropgestelde idees oor skoonheid en natuur omverwerp deur nuwe verbande te skep, ook deur die opheffing van grense tussen skoonheid en nieskoonheid, en tussen natuur en kultuur. Die ekogedig fokus op die menslike kreatiewe skryfaksie waarin die fisiese omgewing van die mens en sy verhouding met alles wat hom omring, ondersoek word. Ekopoësie is uiteindelik konneksie: dit is 'n manier om met die omringende wêreld in verbinding/verbintenis te tree deur middel van taal.

Om die sinapse of verbindings wat in die bundel en in die slotgedig gevorm word te ondersoek, neem ons 'n tree terug en werp eerstens 'n blik op die visuele aanbod van die buiteblad.

 

DIE VISUELE SINAPS VAN DIE BUITEBLAD

Die leser word deur die kunswerk van Otobong Nkanga met die titel "Social Consequences" op die buiteblad (versprei oor die voor- en agterplat) paratekstueel voorberei op die belangrike rol wat plek, aarde, grond en grondbesit in sosiale verband en dan ook in die bundel speel. Paratekstualiteit, kortliks, is 'n term wat gemunt is deur Gérard Genette in sy teks, Paratexts: thresholds of interpretation (1997:1-2), waarmee bedoel word die addisionele inligting, insluitende die buiteblad, wat die teks omring en wat bydra tot die interpretasie van die teks. In die geval van Krog, wat benewens digter ook 'n bekende openbare figuur is, speel die parateks dus 'n bydraende rol tot die interpretasie van die teks. Die kunswerk beeld twee pertinent manlike figure uit (met 'n prominente uitbeelding van die geslag) wat besig is om twee stukkies aarde te manipuleer. Die manlike figure, wat bykans spieëlbeelde van mekaar is, is koploos (by implikasie sonder rede) en beskik elk oor verskeie pare arms wat die werk moet doen. Die uitoefening van krag deur die veelvuldige arms word die enigste rede en logika: dit vervang die logika van helder denke en deurdagte optrede en dui op brutale, instinktiewe krag. Daar word tougetrek, wat 'n sug na mag en oorheersing en besitterskap oor die aarde/ grond/land suggereer. Die stukke aarde pas in 'n brose web van tou (nog 'n sinaps-beeld) en kan op enige oomblik kantel, of soos 'n woer-woer gespin word, terwyl die rooi tou steeds die brose verbondenheid en gebondenheid tussen die twee figure maar ook tussen die figure en die aarde bevestig. As opponente is hulle egter onherroeplik spieëlbeelde van mekaar.

Die leser word in die tersaaklike slotgedig, "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" gekonfronteer met hierdie lang titel wat aansluit by die bykans akademiese benadering wat reeds sigbaar is in die titel van die gedigreeks, wat voortgesit word in die derde gedig, "ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS" en in die tersaaklike gedig 'n hoogtepunt bereik. Drie kernterme bied hulself in die titel aan: "tesis", "gestapelde sillabeversteuring" en "ingebedheid".

 

"GESTAPELDE SILLABEVERSTEURING"

Die opstapeling van 'n lang lys van taalvariante, samestelling, nuutskeppings en afwykings word deur die digter ingespan as 'n manier om die "verstopte sillabes" "oop te boor" (111) en die grense van taalstrukture uit te daag. Dit dien as 'n sinapsopsporing - 'n wyse om morfologies en semanties nuwe verbintenisse op te spoor en te aktiveer, terwyl die opstapelingstegniek letterlik die herhalende, immer bewegende en voortstuwende aard van beide taalkonstruksie en betekenisverruiming beklemtoon. Interessant genoeg tree die kragdadige "oop [ ] boor" van "sillabes" intertekstueel in gesprek met Loftus Marais se lugdrukboorbeeld uit die gedig "Die digter as rockstar" in Staan in die algemeen nader aan vensters (Marais 2009:40), waarin korte mette gemaak word met Van Wyk Louw se "beiteltjie" in die gedig "Die beiteltjie" (Brink 2009:161).

Die woord "sillabeversteuring" veronderstel bepaalde veranderinge of versteuringe wat doelbewus ingespan word om wyer betekenismoontlikhede of -afwykings tot stand te bring. Die sillabeversteurings, vervormings, klankomwisselings en samevoegings dui op deelnemende betekenisskepping en deelnemende verbeelding in die Krog-gedig. Dit dui op die proses waardeur die digter die "vibrerende" moontlikhede van die konkrete taal (taal as materie) op so 'n wyse benut dat dit afwyk van die norm. In die bundel vind verskeie toespelings op Paul Celan (bekend vir sy kreatiewe en onortodokse taalaanwending) plaas, waaronder dan ook die verset teen gesag, die bemoeienis met die Ander en eksperimentering met taal. Die eerste gedig in die afdeling begin juis met 'n aanhaling deur Celan waarin sy eie spel met taal en sillabewisseling voorkom, waardeur die aanvanklike betekenis van "estrange" verruim en selfs omvergewerp word om die teenoorgestelde van die oorspronklike betekenis in te sluit, bedoelende dat die kennis jou te binne moet gaan - 'n bewustelike proses van inname en binnetoe-wending, selfs ingebedheid, wat terselfdertyd vervreemding teweegbring:

Instrange yourself, /deeper. (112)

Die fokus op ingang binne die self, en daarmee gepaardgaande vervreemding, word deurlopend in die bundel aangetref:

om te ver-jy (112, r46-47)

So ook veral die volgende:

as jou gesig begin sterrefiseer

                                         bomefiseer

                                                         halmkleurig leeuefiseer (112, r49)

Hierdie kragtige werkwoord-nuutskeppings dui op meer as 'n uitreik na die natuurlike wêreld; dit dui op 'n wordingsproses en op materiële uitruil. Dit wys op eenwording en transliggaam-likheid waardeur normale liggaamlike grense getransendeer word; dus liggaamlike transfor-masie deur middel van taaltransformasie - ster word, boom word, leeu word. Dit vorm sinapse regdeur die bundel, tot in die slotgedigreeks: "vergras vermier verwolk verswartwitpens // Kabbo landskapverinniging enkelmensvel-opgee-end" (117).

Taalversteurings en -vreemdmaking is deel van 'n groter konsep van vervreemding en vreemdelingskap van die self wat nie net in die slotgedig nie, maar deurlopend in die bundel plaasvind. Dit gaan gepaard met 'n toenemend ander/Ander-wordende en allesinsluitende ervaring van die digter. Sy stel die "metodologie" daartoe voor, naamlik dat sy die ander - haar "verbonde verbande" - "moet [...] bly pla" om te "ontsnap uit die enkele mond van w(a) onde"; sy moet dus voortdurend bemoeienis maak met alles en almal waarmee sy verbind is, om die wonde en mure wat afsondering, enkeltaligheid en enkel-benoeming ("enkele mond") teweegbring, te ontsnap. Waarop gehoop word, is 'n "vrymakende kantelduik" (119, r33), "die salige sillabe opstygend vanuit enkel ha(o)ltes", die "vrymaak-verslinding na veelvoud" waardeur die digter tot "uiteindelike kwalitatiewe diskoers" "aflosbaar" word - beide oplosbaar in en omruilbaar met die materie wat haar omring. Veelvoudigheid en veeltaligheid word as doelwit gestel; daardeur bereik die digter 'n staat van betrokkenheid en vervlegting; dus die daarstelling van 'n elementêre opposisie van enkel teenoor mede-; en van een- teenoor veelheid.

 

VERVLEGTING

Verwikkeling en vervlegting van lettergrepe en sillabes bring vervlegting met die omgewing mee. Karen Barad praat van "entanglement" as "[m]atter and meaning [that] are not separate elements" (Barad 2007:3) as gevolg van hul vervlegte intra-verhouding (Barad 2007:ix) en die herdefiniëring van realisme, waardeur die Cartesiese subjek/objek-onderskeiding uitgedaag word. Om te "sterrefiseer", te "bomefiseer" of te "leeuefiseer" fokus op die materialiteit van beide menslike en niemenslike liggame en die bewussyn van die liggaamlikheid van alle materie. Die agentskap van realisme is uiteindelik nie die teenwoordigheid van onafhanklike realiteite nie, maar die gevolge, ingrypings en kreatiewe moontlikhede van intra-aksie daarvan in die wêreld. Die vervlegting waarvan Barad praat, vind weerklank in Stacey Alaimo se konsep van transliggaamlikheid (Alaimo 2008:238), wat gedefinieer kan word as die kartering van die vloei van materie en diskoers regoor menslike en niemenslike liggame. Grense tussen die materiële liggame word hierdeur geherdefinieer. Dit lei tot vrae soos: waar eindig die mens? Waar begin die boom? Hoe is ons deel van mekaar? Die "mede-lug" en die "asemhaalmekaar" (2014:57) wat die digter aan bod stel, dui op die verskuiwing en opsegging van tradisionele grense. Die digter voel haar bewus van die skeidslyne wat al dunner word - die "aflosbaar"-heid (119, r55) van alle dinge (oplosbaar en vervangbaar, omruilbaar), die "dun danheid" (r54) (wesenlikheid) van "eweningspunt en newel-aar", die punt of skeidslyn waar die ewewig van dinge na enige kant kan kantel. Op soortgelyke wyse word die grense van taal as kommunikasiemiddel uitgedaag deur die digter:

... ek praat leeu [ ] ek

sneeu ek [ ] hoor die boom teen die saag skreeu - onverleë

die einde van liedletsels en die begin van getweë

asem (r42-45)

Die digter bewerk transliggaamlikheid deur die vermoë om in die taal van die dier te kommunikeer (leeuefisering), om tot sneeu te transformeer en die aksie daarvan uit te voer, om die boom te hoor (bomefisering). Die asem van die digter word getwyn, dus, soos drade ineengevleg, met die asem van alle ander dinge - 'n vervlegte transliggaamlike interaksie tussen alle menslike en niemenslike liggame en materiële uitruil van elemente, om alles en almal tot "soomloses te vernu" (r51) en letsels te heel.

Die materialiteit van liggame, beide menslik en niemenslik, lewend en nielewend, wat in die gedig op die voorgrond gestel word, is 'n meervlakkige konsep. Dit veronderstel "'n dig verstrengelde en meervoudige weefsel wat sowel sosiolinguistiese konstruksies en kulturele verteenwoordiging (die diskursiewe praktyke) as die materialiteit van ekologiese verhoudings en ervaring insluit. Materie veronderstel 'n terrein van kennis en aksie waar materiële formasies ontstaan; dus, menslike en niemenslike liggame wat in samehang en vervlegting met mekaar optree" (Smith 2014:755).

Die fokus op materialiteit is deel van 'n internasionale teoretiese beweging wat die nuwe materialisme en die objekgeoriënteerde ontologie insluit, laasgenoemde veral bekend gemaak deur die werk van Timothy Morton, waaronder Ecology without nature (2007) en The ecological thought (2010). In 'n vorige artikel som ek die nuwe materialisme soos volg op:

Nuwe materialisme as teoretiese raamwerk sien die natuur nie as 'n passiewe sosiale konstruksie nie, maar eerder as 'n bemiddelende krag wat interaksie met en verandering van ander elemente teweegbring, insluitende die mens. (Smith 2012b:892)

Materie kan gesien word as 'n meervlakkige konsep wat die materialiteit van sowel die menslike as die niemenslike en nielewende liggame insluit. Dit bring 'n klemverskuiwing mee vanaf 'n passiewe geobjektiveerde beskouing van die niemenslike wêreld na 'n beskouing wat fokus op 'n lewende, vitale materialiteit waarby die mens interaktief betrokke is en waarvan hy deel is.

Die waarde van teorieë oor materialiteit en objekgeoriënteerde ontologie lê vir die ekokritiek daarin dat die antroposentriese posisie van die mens bevraagteken en omvergewerp word. Grense van materialiteit, insluitende die menslike materiële liggaam, word geherdefinieer.

 

DIFFRAKSIE EN DEELNEMENDE BETEKENISSKEPPING / DEELNEMENDE VERBEELDING

Diffraksie word deur twee ekokritici, Karen Barad en Donna Haraway ondersoek en beide beskryf diffraksie as 'n lees- en skryfmetodiek wat op fisiese fenomene gebaseer is, 'n deelnemende breuk of skeuring in die lineariteit van individuele elemente se eienskappe (Barad 2003:803). Barad sien diffraksie as die teenoorgestelde van refleksie; volgens haar is laasgenoemde slegs 'n herhaling op 'n ander plek, terwyl diffraksie elemente op 'n nuwe wyse in patrone (Haraway 1997: 33) kombineer wat nuwe eksperimentele voorwaardes tot stand bring. Deelname geskied intra-materieel: materie-betekenis en dus materie-diskoers, wat die mens insluit, word geproduseer. Om te weet, is volgens Barad om op direkte wyse met materie betrokke te raak, om te besef dat subjekte en objekte verweef is met mekaar en dat objektiwiteit ook te make het met 'n verantwoordelikheid teenoor die verweefdhede waarvan ons deel is. Diffraksie is dus op 'n manier om die representasie van die werklikheid te hanteer: die verwagte lineariteit van oorsaak en gevolg word omvergewerp deur nuwe patrone wat interaksie, ingryping en bevestiging opteken.

In die gedig ter sake kan diffraksie waargeneem word wanneer 'n breuk in die verwagte lineariteit van die gedig plaasvind wanneer bestaande perspektiewe opgehef word. Taal, as 'n stel vooropgestelde konsepte wat ons benadering tot die werklikheid beïnvloed, word deur ingryping (van die digter) verander en verruim, waardeur die verwagte lineariteite opgehef word. Deur te "leeuefiseer", te "bomefiseer" en te "sterrefiseer" word die taal/woord as blote representasie van die werklikheid gebuig om interaksie, intra-aksie en 'n nuwe materie-diskoers tot stand te bring. 'n Nuwe "allesherstellende begrip / van boomwees" (r21-22) kom tot stand. Die onderlinge verweefdhede van materie word in berekening gebring en deelnemende kennisskepping, wat nuwe ervaringsmoontlikhede inhou, is die gevolg.

Die deelnemende en aandaggewende aard van die mens se bestaan, soos veral verwoord deur David Abram se seminale teks, Becoming Animal (2010), sluit by bogenoemde aan. Abrams lê klem op die sensuele realiteit van die aarde, "the directly sensed world [which] is still explained by reference to realms hidden beyond our immediate experience" (Abram 2010:5). Hy verwys veral na die domein van dendriete, neurongeleiers en sinapse, tot by die mees verborge subatomiese ruimtes van kwarke, daardie komponente van atomiese nuklei en fundamentele boustene van alle materie, wat hy sien as "the deepest source and truth of the apparent world" (2010:5). Die aarde, "earth", behoort volgens Abram eerder "eairth" te wees, waarin die woord "air" ingebed is - "i" of "I", vir "self", want lug is geheel deel van aarde, net soos die self, wat ten volle ingebed is in die vloeibare element lug (2010:101). Hiermee bedoel Abram dat aarde en lug deel uitmaak van die geheel wat die mens omring, en waarvan die mens ook deel is. Die liggaam van die mens is veel minder self-ingeslote en -afgeslote as wat dit 'n ruim is waarin diverse materie op subatomiese vlak konvergeer: "[t]he body is a place where clouds, earthworms, guitars, clucking hens, and clear-cut hillsides converge, forging alliances, mergers, and metamorphoses" (Abram 2010:229):

opwarrelend ontmoet ek dele van myself

in wolke waar ek lankal reeds duikel as asem (102)

Die metamorfiese aard van die menslike liggaam (soos ook alle ander dinge) word op die voorpunt gestel - "shapeshifting" genoem deur Abram (2010:229) - deur te "bomefiseer", te "leeuefiseer" en te "sterrefiseer"; deur "landskapverinnigend" te "vergras vermier verwolk verswartwitpens", en daardeur die "verbonde verbande" van "veelwees" ervaar. 'n Bykomende vooropstellingstegniek, die v-alliterasie, versterk die verbandlegging tussen die nuutskeppings, waardeur die mens uiteindelik deelnemend word, deur middel van deelnemende verbeelding:

die inverbeel in 'n bosbakermat die heilig nooit-

gehoorde te beskryf nuwe woorde moet download (92)

om woordondeurswerfbare bome te tolk (92)

Hierdie frase sluit aan by die poging tot begrip wat deurgaans in die gedig op die voorgrond gestel word. Om "bome te tolk" suggereer iets van die spreker se drang, nie net om bome te verstaan nie, maar ook uit te lê wat die bome, as "ander", sê.

 

DIE VREEMDE VREEMDELING

In die proses van taaltransformasie en sillabeversteurings word beide taal en mens al vreemder. Vreemdmaking sluit ten nouste aan by die vreemde vreemdeling -konsep van Timothy Morton. Morton sê:

Strange stranger names an uncanny, radically unpredictable quality of life-forms. Life-forms recede into strangeness the more we think about them, and whenever they encounter one another - the strangeness is irreducible. Ecological philosophy that does not attend to this strangeness is not thinking coexistence deeply enough. (Morton 2011:165)

Die vreemde vreemdeling is volgens Morton die dier waarvan die vreemdheid sodanig is dat die dier nie deur die mens verabsoluteer en gedefinieer kan word nie; die mens kan nie die dier van 'n etiket voorsien nie want die mens kan nooit die dier ten volle begryp nie. Net so met ander vorme van niemenslike dinge: as die digter praat van "bomefiseer" (49), is sy besig om die "allesherstellende begrip / van boomwees molmneutig mosbassig" (118, r22) aan te gryp, om haar "boomlinggeliefdste" en die "bloedgreep wat tussen sy wortels begrawe / lê" "aflosbaar" (dus, oplosbaar/vervangbaar) met haarself te sien. Die grense en beperkinge, die etikettering van wat boomwees beteken, word oplosbaar en vervangbaar; dit word uitruilbaar met die digter terwyl die digter algaande self die vreemde vreemdeling word. Sy is nie meer haarself nie; algaande word sy die vreemde Ander. Hoewel daar geargumenteer kan word dat die digter se strategie van "bomefiseer" en haarself "aflosbaar" van/met die natuur sien, juis kennis, innigheid en liefde en dus minder vreemdheid bewerkstellig, moet daarop gewys word dat die vreemde vreemdeling-konsep van Morton juis ook die bekende insluit wat toenemend onbekend word.

Die sillabeversteurende aard van die gedig en die volgehoue spel daarmee in die bundel is 'n sleutel wat nie net taalverruiming en transformasie deur taalvervreemding uitdruk nie, maar op 'n verdere vlak veral werk met die uitdaging van konsepte van enkelheid teenoor mede-bestaan, van Self teenoor Ander, van lewend teenoor nielewend en van menslik teenoor niemenslik. Uiteindelik daag dit ook die grense van materialiteit uit.

Die tweede kernterm in die slotgedig is "tesis".

 

DIE GEDIG AS TESIS

Die slotgedig neem die vorm aan van 'n tesis met inspeling op die navorsingsvoorstel wat voorgele word deur 'n voornemende nagraadse student by die aanvang van sy of haar studies. Die gedig bied die onderafdelings van 'n navorsingsvoorstel aan deur die subtitels (in skuinsdruk en hakies) van die onderskeie strofes. Daar word onder andere aandag gegee aan die tipe navorsing wat gedoen moet word (kwalitatief of kwantitatief) ("die onkwantifiseer-bare", (r1)), die navorsingsvraag ("die kritieke vraag", (r8)), definiëring van kernbegrippe ("definiërings van onderlinge verbinding", (r19)), metodologie ("vraag oor metodologie", (r29)), die navorsingstelling (" 'n verontrustende postulaat", (r32)) en die teoretiese begronding ("teorie anderkant die sogenaamde aard van denke", (r41)). Die digter neem die proses verder deur voorsiening te maak (in die twee laaste subtitels) vir die verwagte diskoers ("uiteindelike kwalitatiewe diskoers", (r52)) en moontlike interpretasie ("voorspraakmakende interpretasie", (r59)) wat op die navorsing volg. In alle gevalle word die subtitels in hakies geplaas, wat wys op 'n voorlopige aard van die waarnemings en neerpen van die "tesis". Dit sluit ten nouste aan by die idee dat die woord tesis die betekenis dra van 'n voorlopige postulaat, 'n stelling wat reg of verkeerd bewys moet word deur die navorser.

Dit word vir die leser duidelik dat hierdie gedig as 'n raamwerk gelees kan word vir die hele bundel en dat die kerntemas van die bundel hier aangespreek word. In die eerste strofe wil die digter 'n filosofiese agtergrond daarstel, naamlik "die ontologie van ansigbaarheid" (r2). In die woord "ansigbaarheid" skuil die verwysing na Kant se siening van "das Ding an sich", oftewel die ding/fenomeen in die natuurlike wêreld soos dit op sigself bestaan en die feit dat dit nie ten volle deur menslike sensasie geken kan word nie (Kant 2007). Deur sillabeversteuring word die woord onsigbaarheid in "ansigbaarheid"omskep, wat eweneens kan sinspeel op aansig en sigbaarheid, en daardeur beide sigbaarheid en onsigbaarheid aktiveer, wat spanning tussen die kenbaarheid al dan nie, van die omringende werklikheid bewerkstellig. Voorts betrek die woord ook die kyker, vir wie dit moontlik word om te kyk en te probeer ken en herken. Die digter leer geleidelik om die ontologie (wordingsleer, wysgerige leer oor die syn) van onsigbaarheid te lees en om daardeur "onsekerheid" (r4) en "allenighede" (r5) en selfs "die gryp van mortaliteit" (r6) te ontwyk. Dit doen sy deur "heelhei(l)dswordende vibrasies" (r4) en "op(p)erlug" (r5). Die eensaamheid en onsigbaarheid van die mens (en sy "wees") word die hoof gebied (tot "onfinaliteit" (r7) gemaak) deur lug - wat nie net oop is nie, maar ook die opperheerser is - en vibrasies wat beide heelmakend en heilsaam is. Die werkwoorde "wordende" en "wees" plaas die gegewe binne die ontologiese konteks wat in die eerste strofe veronderstel word en word verder gevoer in "midde-syn" (r10), "word-deurwarde" (r13-14), "wesenheid" (r25), "veelwees" (r26), "wesende gewordendes" (r27), "is" (r42) - al die taalpermutasies van wees. Ook hier dra die alliterasie by tot die trefkrag van onkonvensionele taalgebruik.

Wat gesuggereer (en onkwantifiseerbaar) is in die eerste twee strofes, word in die derde strofe by die naam genoem: die verbintenis van die mens aan die natuur, naamlik "berg" (r9), bome (r20-22, 43, 56), "leeu" (r42), "sneeu" (r43), "jasmyn" (r45), "wimpelvlerknaguile" (r49), "koedoe" (r55), "ster" (r58) en "duiwe" (r64). Die digter sê:

:die berg strik die kleur van gestoofde pienkgeprikte kweper

in ons midde-syn (118, r8-9)

Die digter bevraagteken uiteindelik, in die strofes met die subtitel, "(die kritieke vraag)", (wat inspeel op die navorsingsvrae van die tesis), haar emosionele reaksie ("onkodeerbare pyn"(r10)), haar vervoering met en behoefte tot uitreik en deelname en deel 'n skrams hou uit na die "inhomse filosowe", waardeur beide die plaaslike (inheemse) sowel as manlike geïmpliseer word.

In die volgende strofe, met die subtitel, "(definiërings van onderlinge verbinding)", bou die digter voort op die akademiese formaat van die gedig. Die toonaard is egter nou emosioneel gelade en onakademies. Sy breek weg van die formele teoreties-wetenskaplike gegewe van die eerste twee strofes deur hierdie uiters liriese beskrywing van plek. Die blik verskuif na die persoonlike vlak van die digter as die self deur die herhaling van "my", waardeur sy haar sterk persoonlike verbintenis tot die natuurgegewe bevestig. En daarmee word die tema van ingeplaastheid betrek, met die fokus op gedeelde besit/belewing, geaktiveer deur "ons middesyn". As "definisie" oorskry hierdie strofe die formele en feitelike van definiëring; dit word 'n loflied aan bome en klip en sterre:

jirre my takkerasie my boomlinggeliefdste -

hoe sjarmantogig waak jou allesherstellende begrip

van boomwees molmneutig mosbassig (118, r20-22)

Ook in die opvolgende reëls word die sterk eenheidsbelewenis van beide "ek" en "jy" met die omgewing as teenvoeter vir "allenighede" belig, en die digter voel die "wesenheid" (bestaanswese) van haarself en die mense om haar ingeslote, ingebed, "ín" die natuur, moontlik as fragment of splinter (splint = "skerp afgesplitste stukkie hout", Odendal en Gouws 2005:1080):

en iets wat voorlopig bloedbeeks splint

ek is daar ín

én jy jy's opgeraap tot die radiogolwe van wesenheid

ook besig om veelwees te huidig om heelsaamheid

van al ons wesende gewordes [...] (118, r23-26)

Die woord "huidig" as 'n volgende sillabeversteuring (met die betekenislae van "huldig" en "huidig") veronderstel 'n omarming en viering van die "veelwees", in die huidige moment. Die digter speel ook in op die woord "huid" as vel (van menslike en niemenslike wesens), wat eweneens kan dui op oppervlak of begrensing, wat die leser bewus maak van die arbitrêre aard van hierdie grens. Die ingeslotenheid (ingebedheid) van almal saam ín die natuur, lei tot "heelsaamheid" (heelheid/heelwording, heilsaamheid en samesyn) van die "ons".

Vervolgens word 'n werkwyse daargestel in "(vraag oor metodologie)": die digter dui aan dat sy die omringende wêreld sal "bly pla" - 'n werkwyse wat dui op herhaalde bevraagtekening van die bestaande orde. Dit bring haar by 'n "verontrustende postulaat", naamlik die hoop op vrywording ("vrymakende kantelduik", "snikstase / van die vrymaak-verslinding") en 'n wonderwerk ("mirakelmakendheid") wat "hoop" (herhaling in reël 33 en 39) en verbinding moet bring. Dat dit verontrustend is, bevraagteken nogeens die hoop op 'n positiewe uitkoms.

In die volgende afdeling, "(teorie anderkant die sogenaamde aard van denke)" rig die digter haar opnuut tot konsepte van samesyn, van mede-wesenheid en soomloosheid tussen materiële liggame. Die deelnemende materiële verbeelding van die digter skep 'n mede-wete met die lewelose en niemenslike dinge wat haar omgewe. Dit plaas prosesse van voortdurende verskuiwende verhoudings tussen wees en fisiese konteks op die voorgrond, hetsy die fisiese materialiteit van mense, plek of lewende en nielewende liggame waardeur die digter uiteindelik toetree tot die "kwalitatiewe diskoers" (subtitel) tussen wesens.

Die slotafdeling van die gedig, "(voorspraakmakende interpretasie)" skets egter 'n realiteit wat "wegstammel" (stamel, strompel, van die stam wegbeweeg) van die hoopvolle verbeeldingscenario's wat tevore deur die digter tot stand gebring is. Dit keer terug na die werklikheid van mense wat "ontkannend" en "botmakend" is, wat "haatdorwend" en net op die self aangewese, vol "handgooiende hatery" - wat die hoop op mede-wesenheid ontken. Die slot is 'n bykans wanhopige oproep of voorspraak tot mede-wetendheid, tot mede-lewing en mede-wees met alle mense en met alle lewende en nielewende liggame waarmee die mens omgewe is.

 

"INGEBEDHEID", "LANDSKAPVERINNIGING" EN INGEPLAASTHEID

Die woord "landskapverinniging" word gevind in die voorlaaste gedig van die siklus (117). Hierdie samestelling tussen landskap+verinniging suggereer 'n emotiewe verbintenis (sinapsvorming) tussen mens en landskap/natuur, terwyl die woord "ingebedheid" sinoniem is met ingeplaastheid en die hele teoretiese agtergrond van ingeplaastheid oproep.

Die term ingeplaastheid word gedefinieer in terme van die fisieke materialiteit van plek wat 'n sensoriese, emotiewe en intellektuele bewussyn van die digter verg, 'n sogenaamde binne-die-liggaam ervaring (Smith 2012b:902). Dit vra eweneens om 'n bepaalde plekverbondenheid en plekgehegtheid van die digter. Ingeplaastheid aktiveer al drie die dimensies wat Lawrence Buell (2005:63) aan plek toeken, naamlik die materiële, fisiese ingeplaastheid van die digter (en uiteindelik ook die leser) in 'n spesifieke plek; tweedens suggereer dit die verband en persoonlike kontak van die digter met plek en derdens maak die term ook voorsiening vir 'n "taalbewuste skryfaksie, waardeur taal as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrument ingespan word" en waardeur die sosiale dimensie van taal geaktiveer word (Smith 2012b: 902). Ingeplaaste skryf behels 'n aktiewe en sensoriese bewussyn van die digter vir die plek waar sy haar bevind; 'n bewussyn van die plek wat die liggaam fisies in beslag neem, die spesie-spesifiteite van die materiële liggame wat haar omring.

Buell noem plek 'n "spatial container" (2005:63) waardeur die suggestie van behouering uitgedruk word. Eweneens het ingeplaastheid, en daarmee saam "ingebedheid", ook te make met hoe die digter taal as raamwerkskeppende instrument inspan om ingeplaastheid te bewerkstellig. Sowel materiële as linguistiese, sosiale en persoonlike ingeplaastheid vorm die agtergrond waarvan die digter haarself nie kan losmaak nie, 'n ingeplaastheid wat opnuut erkenning gee aan die materialiteit en sentraliteit van die menslike liggaam binne die totaliteit van sy omgewing. Want die konteks van plek sluit ook in die menslike konteks en liggaam, die sosiale en kulturele kontekste van plek (die komplekse Suid-Afrikaanse landskap, almal wat daarin woon en hul verhoudings met mekaar) en die taal-spesifieke kontekste, waarbinne die taalverruimende aanbod van die digter werksaam is.

Wat Buell pleksensitiwiteit noem (Buell 2005:66) en wat vra om 'n bewussyn van die fisiese plek, is ewenseens van toepassing op plek- en omgewingsensitiwiteit ten opsigte van die verbeelde plek, die omgewing van die bewussyn. Wanneer die digter bewustelike verbindings en vervlegting, uitruil en interaksie skep tussen haarself en die materiële liggame waaruit plek bestaan, soos bome en sterre en uile, vind dit plaas ingebed in die groter konteks van behorende tot, omsluit in, omring van, maar ook manifesteer dit uiteindelik as verbeelde plek, 'n deelnemende materiële verbeelding, "iets méér as invoelende verbeelding méér as erbarming" (r35) wat uitreik en aanhits en voorspraak maak vir 'n soomlose vernuwing van denke en optrede, tussen mense, en veral ook tussen spesies en tussen alle materiële liggame.

 

SLOT

'n Bewussyn en verwoording van die interaksie en selfs die hunkering na eenwording tussen die mens en sy omgewing is reeds in vorige bundels van Krog merkbaar, soos byvoorbeeld uitgewys in ontledings (Smith 2015:1-24) van die gedigte "Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg" en "rondeau in vier dele" in Verweerskrif (2006), waarin die fokus op die materialiteit van alle dinge, menslik en niemenslik, en materiële uitruil ter sprake was. Met die bundel Mede-wete bevestig Krog haar omvattende blik op die omringende werklikheid en die samehang van alle dinge. Die relasionaliteit tussen menslike subjek en omgewing kan egter nie sonder meer tot eendimensionele eenheidsbegeerte gereduseer word nie. Die onderliggende spanning tussen verskil en die hunkering na omvattende en samehangende gehele, tussen mens en mens, en tussen mens en omgewing, is deurgaans sigbaar.

Mede-wete strek soveel verder as net die konteks van mede-menswees. Dit omsluit al die liggaamlike dimensies van plek, naamlik die fisiese, die sosiale en die taalkundige. In die gedig "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" lewer die digter kommentaar op die verweefde intra-aktiewe, transliggaamlike wêreld waarin die mens leef - een materiële liggaam in samehang en vervleg met al die materiële liggame wat ons omring en bied sy 'n raamwerk of postulaat waarbinne daar na die werklikheid gekyk kan word.'n Ideologie van apart-wees en selfs antroposentries in-die-middel-wees, maak plek vir 'n voorgestelde ideologie van wisselwerking, insluiting, vervlegting en mede-afhanklikheid - van mede-bestaan en mede-wete.Die digter bied 'n alternatief wat vernuwing kan bewerkstellig, 'n verinnigende verhouding met alle materiële liggame wat die mens omring en waarvan hy deel is.

 

BIBLIOGRAFIE

Abram, D. 2010. Becoming Animal. An Earthly Cosmology. New York: Pantheon.         [ Links ]

Alaimo, S. 2008. Introduction: Emerging models of materiality in feminist theory. In Alaimo & Hekman (eds). 2008:1-22.         [ Links ]

Alaimo, S. & S. Hekman (eds). 2008. Material feminisms. Bloomington: Indiana University Press.         [ Links ]

Barad, K. 2003. Posthumanist Performativity: Towards an Understanding of How Matter Comes to Matter. SIGNS, 28(3):801-831.         [ Links ]

Barad, K. 2007. Meeting the Universe Halfway: Quantum Physics and the Entanglement of Matter and Meaning. Durham, N.C.: Duke University Press.         [ Links ]

Brink, André P. (red.). 2008. Groot Verseboe kDeel 1. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Buell, L. 2005. The Future of Environmental Criticism. Environmental Crisis and Literary Imagination. Oxford & Malden: Blackwell Publishing.         [ Links ]

Genette, G. 1997. Paratext: Thresholds of Interpretation. Translated by J.E. Lewin. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Hambidge, J. 2014. Mede-wete (Antjie Krog). Woorde wat weeg. Internet. http://joanhambidge.blogspot.co.za/2014/11/antjie-krog-mede-wete-2014.html [13 Julie 2016].         [ Links ]

Haraway, D. 1997. Modest_Witness@Second_Millenium: FemalMan_Meets_OncoMouse: Feminism and Technoscience. New York & London: Routledge.         [ Links ]

Jacobs, I. 2015. Resensie: Mede-wete (Antjie Krog). Tydskrif vir Letterkunde, 52(2):235-237.         [ Links ]

Kant, I. 2007 [1781]. Critique of Pure Reason. Translated by M. Weigelt. London: Penguin Books Ltd.         [ Links ]

Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Krog, A. 2014. Synapse. Translated from Afrikaans by Karen Press. Cape Town:Human & Rousseau.         [ Links ]

Marais, L. 2009. Staan in die algemeen nader aan vensters. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.         [ Links ]

Morton, T. 2007. Ecology without nature. Cambridge, Massachusetts & London: Harvard University Press.         [ Links ]

Morton, T. 2010. The ecological thought. Cambridge, Massachusetts & London: Harvard University Press.         [ Links ]

Morton, T. 2011. Here comes everything. The promise of object-oriented ontology. Qui Parle, 19(2): 163-190.         [ Links ]

Odendal, F.F. & Gouws, R.H. (reds.). 2005. HAT. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Oxford Dictionaries. 2016. Oxford University Press. http://www.oxforddictionaries.com/definition/english/emplacement[16 Junie 2016].         [ Links ]

Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek English-Afrikaans Dictionary. 2005. Kaapstad: NB Uitgewers.         [ Links ]

Smith, S. 2012a. Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman. LitNetAkademies, 9(2):500-523.         [ Links ]

Smith, S. 2012b. Plek en ingeplaaste skryf. 'n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887-928.         [ Links ]

Smith, S. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme: 'n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies, 11(2):740-774.         [ Links ]

Smith, S. 2015. Liggaam as plek en plek as liggaam: Tendense van die Nuwe Materialisme en interaksie tussen mens en plek in enkele tekste uit Verweerskrif (2006) van Antjie Krog. LitNet Akademies, 12(2):1-24.         [ Links ]

Taljard, M. 2014. Resensie: Mede-wete (Antjie Krog). Versindaba. http://versindaba.co.za/2014/12/08/resensie-mede-wete-antjie-krog/ [13 Julie 2016].         [ Links ]

Van der Tuin, I. 2010. A Different Starting Point, a Different Metaphysics: Reading Bergson and Barad Diffractively. Hypatia, 26(1):22-42.         [ Links ]

Van Niekerk, J. 2014. http://www.netwerk24.com/vermaak/2014-12-07-lewe-sonder-wete-van-anderLewesonder wete van ander. Media24. https://www.academia.edu/9686508/Lewe_sonder_wete_van_ander_-_Resensie_van_Mede-wete_deur_Antjie_Krog [14 Julie 2016].         [ Links ]

Van Vuuren, H. 2014. LitNet Akademies Resensie-essay: Mede-wete deur Antjie Krog. http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-mede-wete-deur-antjie-krog/ [13 Julie 2016].         [ Links ]

Van Wyk Louw, N.P. 2009. Die beiteltjie. In Brink, A.P. (red.). 2009:161.         [ Links ]

Visagie, A. 2015. Sinaps-opsporing tussen self en ander in Antjie Krog se Mede-wete (2014). Tydskrif vir Letterkunde, 52(2):225-234.         [ Links ]

 

 

 

Susan Smith woon en werk in Oos-Londen waar sy professor in Afrikaans is aan die Universiteit van Fort Hare (UFH). Sy tree voltyds toe tot die akademie in 2005 en speel in daardie jaar 'n deurslaggewende rol in die tot stand bring van 'n Afrikaans departement op die Oos-Londenkampus ná die sluiting van die departement op die Alicekampus. Die departement floreer sedertdien en lewer 'n belangrike bydrae tot Afrikaans in 'n oorwegend Engelse omgewing.
Susan is ten nouste betrokke by die herskryf van die taalbeleid (2012) by UFH waarinAfrikaans, naas Engels en IsiXhosa, as amptelike taal aanvaar en erken word, wat 'n platform skep vir 'n multitalige universiteit.
Die navorsingsterrein wat Susan verken, is ekokritiek en ekopoësie. Dit is veral die ondersoek na plek en ingeplaastheid waarmee sy 'n bydrae lewer. Sy is ook 'n digter: in 2012 verskyn haar debuutbundel, In die afwesigheid van sin en in Oktober 2016 Die aarde is 'n eierblou ark, beide van Protea Boekhuis. Susan is onlangs verkies tot sekundus van die Letterkundekommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Susan Smith lives and works in East London where she is a professor at the University of Fort Hare (UFH). She joins academia fulltime in 2005 and in that year she is instrumental in establishing an Afrikaans department at the East London campus after the closure of the Afrikaans department at the university's Alice campus. Since then the department has flourished and continues to play an important role in contributing to Afrikaans in a predominantly English environment.
Susan has been intensely involved in the rewriting of the language policy at UFH (2012), a policy in which Afrikaans, in addition to English and IsiXhosa, is recognised and adopted as an official language of the university, thereby paving the way for a multilingual university.
Susan's research fields of interest are eco-criticism and ecopoetics. In particular, her contribution to the discourse on ecocritcism and eco-poetics is realised in her investigation of place and emplacement in literature. She is also a poet: in 2012 her first volume of poetry, In die afwesigheid van sin is published, followed in October 2016 by Die aarde is 'n eierblou ark, both from Protea Boekhuis. Susan has recently been elected as secundus to the Literature Commission of the SA Academy of Science and Arts.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License