SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-1 Pretoria Dec. 2016

 

(b) Wil kan, anders as ander modale werkwoorde, as oorganklike hoofwerkwoord gebruik word, vergelyk

(14) Die toeval het dit so gewil. (HAT)

Hierdie gebruik moet onderskei word van die elliptiese gebruik in Hulle wil nie, Dit sou kon, ens. Die nie-elliptiese gebruik van wil as hoofwerkwoord kom in Nederlands Ik mag hem niet 'Έk hou nie van hom nie" voor en moontlik in Afrikaans Ek kan nie daarteen nie, wat egter Neerlandisties aandoen (Ik kan er niet tegen).

Nederlands willen is volgens Van der Horst (2008: 875) nog nie so ver soos zullen gegrammatikaliseer nie, onder meer omdat dit, anders as zullen, nog met 'n nominale objek gebruik word en 'n voltooide deelwoord het. Vanweë sy oorganklikheid, het wil - en slegs wil - in Afrikaans dan ook 'n voltooide deelwoord; Nederlands het naas gewild nog gekund, gemoeten en gemogen/ gemoogd.

(c) Met welwillende is wil ook die enigste modale werkwoord met 'n ongeveer gelykbeteke-nende teenwoordigedeelwoord-afleiding.

(d) In passiewe sinne met 'n menslike subjek bly wil subjekgerig, met ander woorde die subjek behou 'n inisiërende of agensfunksie met betrekking tot wil, ondanks 'n moontlike patiensverhouding met die hoofwerkwoord:

(15) Die verkenners wil die vyand sien, maar nie self gesien word nie.

(e) Slegs by wil wissel wees af met word as passiewe hulpwerkwoord, vergelyk

(16) Sy wil gesien word/wees deur die mense,

waar die deur-setselgroep, wat gewoonlik as agens funksioneer, ook met wees 'n agenslesing waarskynlik maak, en in die segswyse Dit wil gedoen wees! is slegs wees moontlik. (Vergelyk ook Duits etwas will getan sein "something needs/ has got to be done"; das will gelernt sein "it has to be learned", CGD). Sin (17) is wel aanvaarbaar as die modale werkwoorde 'n epistemiese lesing het ("Dit sal die geval wees dat mense haar sien", ens.), maar in hulle wortelbetekenisse is moontlik net moet aanvaarbaar.

(17a) ? Sy sal vandag gesien wees (deur die mense).

(17b) ? Sy kan (= is in die geleentheid om) gesien (te) wees.

(17c) ? Sy mag (= word toegelaat om) gesien (te) wees.

(17d) ? Sy moet (= Dit is noodsaaklik dat sy) gesien wees.

By 'n wortel interpretasie van die modale werkwoorde is word steeds aanvaarbaarder as wees, en wees soms uitgeslote. Met wil is sowel die dinamiese word-passief as die meer statiese is/wees-passief moontlik. In één koerantberig - oor 'n swerwende hond met die naam Ben - word sowel word as wees gebruik; met word (in samehang met die agens deur g'n mens) word 'n proses uitgedruk, met wees 'n toedrag van sake:

(18) Hulle is almal mal oor Ben, maar verstaan dat hy deur g'n mens "gehê" wil word nie. ... Welgemoed sê sy het aanvaar dat Ben nie "gehê" wil wees nie. (Beeld 14.ix.2015).

(f) Reduplikasie (ook bekend as die iteratiefkonstruksie) kom in Afrikaans uitgebreid by verskillende woordsoorte - onder meer werkwoorde - voor, maar onder die modale werkwoorde is dit slegs wil wat redupliseer: Dit wil-wil reën, teenoor Dit *sal-sal, *kan-kan, *mag-mag, *moet-moet, ens. reën.

Vervolgens kyk ons na redes waarom wil as aksiewerkwoord beskou kan word.

 

4. WIL AS AKSIEWERKWOORD

Wil kan beskou word as 'n aksiewerkwoord in eie reg, nouer verwant aan woorde soos probeer, begeer, besluit of (jou) voorneem as byvoorbeeld aan kan, moet, mag en sal, wat bloot 'n oordeel, houding of moontlikheid uitdruk. Om iets te wil, is reeds om 'n handeling te verrig, al lê die resultaat moontlik ver in die toekoms, vergelyk "Ek wil graag eendag Everest beklim." En al is die inisieerder van die wilsaksie identies met dié van die beklim-aksie, is die inisiëringsaksies in tyd geskei. (Onder "wilsaksie"word dan ook voortaan verstaan "wil as aksie" en nie enige aksie wat deur wil geïnisieer word nie.) As die uitdrukking willens en wetens "met opset" (uit die teenwoordige deelwoorde willend en wetend) die parameters van iemand se optrede beskryf, dan word 'n kontras tussen aksie ("doen") en die epistemiese ("weet") gesuggereer, met willens aan die "doen"-kant. Talle leksikale items verbind wil met krag of aksie (of 'n gebrek daaraan), byvoorbeeld wilskrag, wilsdaad, wilsbesluit, gewilligheid, willoos en wilsinspanning. 'n Dikwels gehoorde uitspraak soos: "Dit gebeur nie, want die politieke wil ontbreek" sinspeel op 'n gebrek aan aksie.

Onder "aksie" word verstaan 'n gebeure wat kan strek van 'n psigiese tot 'n natuurgebeure, en wat gekenmerk word deur verandering. Volgens Talmy (1985: 310) dui "wanting" in He wants to open the window op "a kind of psychological 'pressure', 'pushing' toward the realization of some act or state". In Dit wil reën speel "verandering in die natuur" 'n duidelike rol, maar selfs in Sy wil wen word verandering geïnisieer. In die performatief Ek wil wen! (met eerstepersoonson-derwerp) is die verband met aksie selfs duideliker.

In sy ondersoek na die rol van krag (force) in taal, sê Talmy (1985: 296) oor Engels want (die naaste ekwivalent van Afrikaans wil) in "that John wants to go out", dat dit verstaan kan word as "a force-like tendency toward that act". "Krag" is egter 'n minder geskikte benadering, aangesien dit op potensiële of latente aktiwiteit kan dui (soos brandstof in 'n tenk); "aksie" veronderstel "krag", maar nie omgekeerd nie. Die aksionele verhouding tussen wil en sy komplement is sodanig dat die aksie enersyds tot wil beperk is (Ek wil wen beteken nog nie Ek wen nie), maar andersyds dat die aksie bepaal, omskryf, gedefinieer, van inhoud voorsien word deur sy komplement, omdat wil altyd op iets gerig moet wees (om te wil is om iets te wil). Selfs

(19) My ma wil mos ... sy wíl mos ... (A. Botes)

wat op 'n persoon met 'n sterk eie wil dui, sinspeel op moontlike aksie of 'n toedrag van sake wat uit die wilsaksie voortvloei. Samevattend kan wil beskryf word as "voorbereidende aksie": aksie in eie reg wat gerig is op die uitvoer van 'n ander aksie of die bereiking van 'n bepaalde toedrag van sake.

Dit is egter opmerklik dat die verhouding tussen 'n wilsaksie en sy komplement, asook die aard van die wilsaksie as sodanig, ver van voor die hand liggend is. In

(20) Ek wil eendag Everest beklim

wil en beklim temporeel ver uitmekaar, maar in

(21) Sy het by die huis gebly omdat sy wou werk

kan die wil en die werk parallellopend wees en die inisiëringsaksies van wil en werk saamval. Maar selfs ons verstaan van Ek wil as "ek neem my voor, ek besluit om" mag 'n illusie wees; in eenvoudige eksperimente met breingedrag kon bepaal word dat breinprosesse wat 'n beweging beplan al 'n breukdeel van 'n sekonde vóór die bewuste begeerte om te beweeg - die wilsaksie - aanwesig is (vergelyk Blackmore 2005: 87).

Daar is ook verdere heenwysings na die verband tussen wil en "aksie".

(i) In

(22) Ek kan/moet wen; ek wil wen; ek gaan/sal wen; ek het gewen.

kan 'n implikasionele reeks of progressie waargeneem word, waar elke stelling telkens die vorige omvat of veronderstel: oorwinning (hetgewen) bring die voorneme (gaan wen) in vervulling; die voorneme (gaan wen) is 'n bevestiging van die wilsuiting (wil wen) en die wilsuiting (wil wen) veronderstel 'n bepaalde vermoë (kan wen) of noodsaak (moetwen). Ander volgordes, byvoorbeeld Ek gaan wen en ek wil wen, skep oorbodigheid, omdat die gaan wen reeds die wil wen impliseer. Die plek wat die wil-proposisie in die reeks inneem, is die fase waarin die uiteindelike oorwinning geïnisieer word - vergelyk ook die uitdrukkings Wie wil, dié kan en Waar 'n wil is, is 'n weg (uit Engels Where there's a will there's way).

(ii) Die feit dat wil, anders as ander modale werkwoorde, ook in passiewe sinne die sinsonderwerp as agens behou, soos in

(23) Was byna of die gedierte geskiet wóú word. (W. Anker)

is 'n verdere aanduiding dat wil 'n aksiewoord is. Dit is opmerklik dat die inisieerder van wou en van skiet nie identies is nie. Die sin is 'n samestelling van

(24a) Iemand (= agens) wil die gedierte skiet, en

(24b) Die gedierte (= agens) wil dit so hê.

Die wil-aksie en die skiet-aksie het nie dieselfde oorsprong nie; uiteraard kan die gedierte nie homself skiet nie. Die wil-aksie staan egter nog steeds in 'n oorsaaklike verband tot die skiet-aksie: die gedierte wens/begeer (skynbaar) dat hy geskiet word.

(iii) As ons aanneem dat uitgesproke of versweë wense gewoonlik om aksie vra, dan is dit opvallend dat die weglaat van wil (vergelyk 25a, 25b) in die volgende gevalle geen betekenisverskil teweegbring nie, dit wil sê (25a) (met wil) en (25b) (sonder wil) is sinoniem, terwyl vervanging met 'n ander modale werkwoord, soos kan of moet, wel nuwe betekenis toevoeg (vergelyk 25c) ("Ek wens jy word verplig om weg te gaan"):

(25a) Ek wens jy wil weggaan! (I. Roggeband)

(25b) Ek wens jy gaan weg!

(25c) Ek wens jy moet weggaan!

Net so kan wil in die volgende sinne weggelaat word (soms met geringe omskrywing) sonder dat lees, inval, praat of slag ophou om aksies uit te druk:

(26) Sy wens hy wil haar storie oor die plaaswerkers lees. (R. Rust)

(27) Soos sy nou voel, wens sy amper sy wil onder die wa inval. (H. du Plessis)

(28) As hy net wil ophou praat! (A. Ferreira)

(29) "Pa kan nie vir Lammie wil slag nie, hy is Ansie sinne." (J. van Tonder)

(iv) Wil is nie alleen regstreeks by aksieskepping betrokke nie, maar kan deur 'n perspektiefverskuiwing van spreker na aangesprokene "spreker se wil" omsit in "aangesprokene se verpligting", soos in die Engelse uitdrukking "your wish is my command". Hierdie pragmatiese aanpassing maak selfs eksplisiete grammatiese bindmiddels soos voegwoorde onnodig. 'n Direktief soos "Jy moet by my kom bly!" is vervat in:

(30) "Ek wil hê jy moet by my kom bly," sê sy. (L. van Nierop)

Ook in die volgende word een se wil omgesit in 'n ander se verpligting:

(31) "Ek het gedink hy is dood, dis wat hy wou hê ek moes dink. Dis wat hy wou hê álmal moes dink.(C. Karsten)

(32) "Wou jy hy moet iets vir jou doen?" vra Lourens. (H. du Plessis)

(v) Wil is ook 'n noodsaaklike onderdeel in 'n idiomatiese uitdrukking wat "beweer" beteken, vergelyk

(33) Die gerug wil dat ..."beweer" (HAT)

en sy Nederlandse ekwivalent

(34) men wil, dat hij plotseling gestorven is (GK)

Die uitroep "Ek wil dit hê!" waarmee sterk instemming uitgedruk word, wys ook heen na die spreker se mening. Die gebruik van wil hê as "beweer", soos aangetref in 'n koerantberig van 1848 oor die perdereisies te Durbanville (Nienaber 1971: 130), is egter waarskynlik nie meer gangbaar in Afrikaans nie:

(35) "Daar leg hy! wat het ik gezeg? Ik wil hae hy's mors dood."

(vi) Nog 'n - sy dit indirekte - aanduiding van wil as aksie is die hedendaagse vervanging van wil hê deur soek,4'n onmiskenbare aksiewoord:

(36) die kolonel soek almal in die konferensiekamer (D. Jordaan)

(vii) Met welwillend(e) is wil ook die enigste modale werkwoord met 'n teenwoordige deelwoord; as aktiewe deelwoorde druk teenwoordige deelwoorde aksie uit.

Die gedagte dat wil, anders as ander modale werkwoorde, 'n aksie beskryf, bied 'n verklaring vir waarom dit nie epistemies gebruik kan word nie, soos hierbo aangedui. Dit maak ook die selfstandige gebruik daarvan as oorganklike hoofwerkwoord moontlik ("X wil iets hê/ doen"), en as sodanig moet dit soos ander hoofwerkwoorde oor 'n voltooide deelwoord beskik ("X het dit so gewil")(vergelyk hierbo).

Samevattend kan gestel word dat wil 'n vorm van aksie in eie reg is,'n psigiese of ander aksie wat afgestem is op 'n ander aksie of 'n toestand wat mag realiseer, maar dat dit vir sy betekenis nie van die realisering daarvan afhanklik is nie en dus 'n voorbereidende karakter het. 'n Vraag wat hieruit voortvloei, is wat die aard van die wilsaksie is en hoe dit geken kan word.

 

5. WIL1: 'N BINNEPERSPEKTIEF

Volgens Jaworski (2011: 28), "(e)xponents of a subjective conception of mental phenomena ... claim that your access to my mental states is indirect and inferential, whereas your access to your own mental states is direct and noninferential". Hiervolgens het 'n persoon net tot sy eie psige direkte toegang en kan 'n ander persoon dit slegs indirek te wete kom - moontlik deur middel van taal - of afleidings maak uit die gedrag van 'n ander mens wat "wil" suggereer, of selfs uit 'n ander lewende wese se gedrag waar dit "menslik" voorkom. Nog 'n aanduiding dat ons die betekenis van wil van binne uit en deur taal ken, is dat daar vir wil - en daar word aanvaar dat dit eintlik maar alle woorde geld - nie 'n presiese sinoniem is nie; dit het iets van "begeer", "jou iets voorneem", "besluit", "gewillig wees om", "soek", ens., maar stem nie presies ooreen met een daarvan nie, en tog meen die gebruiker dat die betekenis daarvan absoluut helder is. Dit is egter by nader insiens allermins die geval. In 'n uiting soos

(37) Ek wil vandag die wedstryd wen!

ag die spreker waarskynlik die betekenis van wil volkome deursigtig - moontlik as 'n bewuste psigiese handeling of ingesteldheid wat deur 'n persoon geïnisieer word en wat intensionaliteit5of gerigtheid op, of oorsaaklikheid ten opsigte van 'n ander proses (of 'n toestand) veronderstel. Jaworski (2011: 24) wys egter daarop dat dit onjuis is "to suppose that mental and physical are mutually exclusive categories". Wil in 'n uiting soos

(38) Ek wil nog drank hê!

is heel moontlik op 'n kontinuum van psigies tot fisies al veel nader aan laasgenoemde, met liggaamlike drange eerder as koue, kognitiewe ambisie as dryfveer.

'n Sintaktiese aanduiding dat die wilsaksie in die besonder met mense as inisieerders saamhang - maar vergelyk voorbeeld (23) - vind ons in die feit dat wil selfs in 'n passiewe sin die sinsonderwerp as inisieerder behou, soos in

(39) Sy wil gesien word deur die mense.

Selfs in 'n geval soos

(40) Sy moet gesien word deur die mense

is sy nie duidelik agens nie. In die interpretasie "Sy is verplig om gesien te word ..." is sy patiens, en in die interpretasie "Sy het die innerlike drang om gesien te word ..." is sy eerder onderhewig aan 'n drang (dus patiens) as om 'n wilsaksie uit te voer.

Wanneer die menslike subjek nie die absolute inisieerder van die wilsaksie is nie, kan die "wil" van (41a) oorgaan in "gewilligheid, bereidheid", soos in (41b), waar die subjek ook instrument word:

(41a) Kom hier, ek wil jou graag help.

(41b) Ek wil jou wel help, maar my geld is ongelukkig op.

Volgens Talmy se kragmodel tree in laasgenoemde geval 'n teenkrag of "antagonist" op, as 'n "hindrance to the Agonist's motion" (Talmy 1985:298). Die subjek wek - tereg of ten onregte - die indruk dat die wil om te help by hom/haar aanwesig is.

Die moontlikheid bestaan ook dat "menslike wil" op ander mense of entiteite geprojekteer kan word - in laasgenoemde geval as 'n soort personifikasie, metafories of deurdat die spreker aanneem dat die proses nie verskil van 'n menslike wilsaksie nie. Die volgende vertoon projeksies van die wilsaksie op 'n gespreksgenoot:

(42) Jy wil nie weet wat hierdie rok kos nie!

(43) Wil jy (nie) asseblief die deur toemaak (nie)?

In die eerste geval loop die spreker die gespreksgenoot se reaksie, moontlik

(44) Ek wil nie weet wat hierdie rok kos nie!

vooruit deur 'n usurpering van 'n spreker se alleenreg op 'n wilsaksie. In die tweede geval word dieselfde tegniek gebruik om 'n versoek te rig, naamlik deur 'n proposisie soos

(45) Ek wil die deur toemaak/is gewillig om die deur toe te maak

hoopvol in te klee as 'n vraag. Palmer (1979:110) werp lig op hierdie proses: "WILL is also used in requests, but here there is little doubt that an interpretation in terms of conventional implication is correct; asking if someone is willing is taken as a request for action." Deur die klem op wil as voorbereidende aksie te plaas, word die versoek versag. Die onderskeid tussen 'n direktief en 'n blote wens is volgens Lyons (1977: 53) nie altyd duidelik nie; dit is "not always possible to draw a sharp distinction between utterances expressive of the speaker's wishes and utterances which serve as directives imposing on the addressee some obligation". Dit staan die gespreksgenoot egter vry om dit te interpreteer soos dit hom/haar pas:

(46) "Wil jy nie tafel gaan dek nie, asseblief?"....."Actually wil ek nie gaan nie, ek wil meer weet". (A. Ferreira)

Wil as voorbereidende in plaas van die bedoelde aksie word ook aangewend om die direktheid van taalhandelinge soos waarskuwings (47) en selfs dankwoorde (48) te versag, en om onsekerheid te verberg (49, 50):

(47) Ek wil jou nou vir die laaste maal waarsku.

(48) Ons wil julle van harte bedank vir gisteraand.

(49) Ek wil my verbeel dat ek dit al êrens gehoor het.

(50) Dit wil my so voorkom.6

Die projeksie van die menslike wilsaksie kan egter verder gevoer word. Blackmore (2005:94) wys daarop dat "we treat other people (or computers, clocks, and cartoon characters) as though they had minds". Sê ek, op grond van my kennis van muskiete en hulle gewoontes, dan dig ek nie noodwendig bewussyn aan hom toe nie, maar heel moontlik intensionaliteit. Die muskiet word behandel asof hy toerekeningsvatbaar is, nie soos 'n organisme wat instinktief handel nie. Intussen is die muskiet se behoefte aan bloed nie noodwendig verskillend van die alkoholis se behoefte aan drank nie. Ook op 'n natuurkrag, soos wind, kan "wil" geprojekteer word, in (52) met toeligting oor die status van die wind as inisieerder van 'n wilsaksie:

(51) Daardie muskiet wil my byt!

(52) Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. (Bybel - Direkte vertaling: Joh. 3:8)

Op grond van ons verwagting kan ons selfs onwilligheid (en dus "wil") aan 'n nie-lewende entiteit toedig:

(53) My kar wil nie vat nie!

Die projeksie raak abstrakter wanneer ons 'n innerlike krag aan 'n verhaal toeken:

(54) Dis 'n storie wat vertel wíl wees. (A. Botes)

Die uitdrukking Dit wil gedoen wees!, geïnterpreteer as "dit verg 'n groot inset", sluit by hierdie tipe projeksie aan.

Samevattend kan gesê word dat dit 'n algemene kenmerk van proposisies met 'n binneperspektief op wil is dat hulle ontken kan word (vergelyk 55), tensy hulle taalhandelinge is (56) of vaste uitdrukkings (57). In versoeke (58) dien ontkenning as illokusionêre versagter; 'n retoriese vraag soos (59) bevat 'n implisiete ontkenning.

(55) Hy wil nie nog drank hê nie.

(56) * Ons wil julle nie van harte bedank vir gisteraand nie.

(57) *Dit wil nie gedoen wees nie!

(58) Wil jy nie tafel gaan dek nie, asseblief?

(59) Vir wat wil ek nou op 'n plaas in die middel van nêrens gaan sit? (K.Breytenbach)

'n Tweede kenmerk van proposisies met hierdie perspektief is dat wil1nie redupliseer nie (60, 61):

(60) *Ek wil-wil eendag Everest beklim.

(61) * Wil-wil jy asseblief die tafel gaan dek?

Hierdie kenmerk kom verderaan aan die orde.

 

6. WIL2: 'N WAARNEMINGS- OF BUITEPERSPEKTIEF

'n Algemene betekenis van wil in Afrikaans, is "op die punt wees om,7 neig om, dreig om", soos in

(62) ...die son wil deurkom (D. Meyer)

Willen het reeds in Middelnederlands "op het punt zijn, dreigen" as een van sy betekenisonderskei-dings gehad8 (MW). Ook vir die WNT kan willen 'n aanduiding wees "van het begin of een zeer nabij zijn van een handeling of gebeurtenis: op het punt staan; beginnen, dreigen; gaan", byvoorbeeld Mijn kint wil sterven. In 1950 se VD word dat wil vallen "is op het punt om te vallen" slegs nog as "gewestelijk" aangedui.

In die geval van wil1was die perspektief een van innerlike en intersubjektiewe toegang tot die betekenis of gebruik van wil. Wil kon dan op psigiese of mentale aksie dui wat verdere aksie inisieer of 'n bepaalde toedrag van sake as resultaat het. Ons raak bewus van die wil-aksie op grond van byvoorbeeld 'n verbale mededeling deur die subjek of inisieerder. Die gebeurtenis wat beskryf word deur Dit wil reën (of Die son wil deurkom), daarenteen, val as natuurkrag of -aksie buite die ervaringsveld van die waarnemer, en omdat die inisieerder dan eweneens onwaarneembaar is ("Die wind waai waar hy wil en ... jy weet nie waarvandaan hy kom ... nie"), kan ons sê dat die aksie en die bron daarvan prakties saamval of 'n eenheid vorm.

Die uiting Dit wil reën is slegs waar as verandering in die natuur waargeneem word (byvoorbeeld donker reënwolke, koue windstote). Die "op-die-punt-wees"-betekenis9 van Dit wil reën ten opsigte van die reën-gebeure hang dus pragmaties saam met die feit dat ons dit net kan konstateer wanneer dit eintlik al begin het om te gebeur. Terwyl wil1regstreeks as 'n oorsaaklike aksie verstaan kan word, is wil2ook oorsaaklik, maar word slegs die gevolge daarvan deurskou. Deurdat ons ook nie sig op 'n moontlike inisieerder het nie en moet aanneem dat die inisieerder van wil en reën saamval en die inisiëring van albei één proses of aksie is - in teenstelling met (37) -, grammatikaliseer wil2as hulpwerkwoord verder tot 'n aspektuele partikel wat anterioriteit aandui ten opsigte van die hoofwerkwoord.10

Deurdat die spreker die wilsaksie, wat hy in eerste instansie direk as 'n innerlike krag ken, nou van buite waarneem, hanteer hy twee perspektiewe tegelyk, 'n interne en 'n eksterne, in 'n proses van dubbelverplasing of double displacement wat volgens Leiss (2012: 45-46) eie is aan aspek, tempus en modus. Om afstand te neem, is volgens haar die tipies menslike vermoë onderliggend aan al drie, met aspek die "basic building block" hiervan: "Aspect divides the speaker into two persons of different locations", waarvan een in die sin van Bühler die origo van die spreker (of sy "hier-nou-ek"-punt) is. In die geval van wil wil dit voorkom asof afstand op twee maniere ter sprake is: (i) die vermoë om aksie van "buite" af interpreterend waar te neem en (ii) 'n begrip van voorbereidende (of voorwaardelike) aksie, dus aksie wat op daaropvolgende aksie (of 'n resultaat) gemik is - die oorsprong van anterioriteit as grammatikale kategorie wat wil2kenmerk.

Omdat wil2 dan nie alleen 'n hulpwerkwoord is nie maar bowendien 'n aspektuele funksie verkry het, val dit in die kategorie van 'n reeds gegrammatikaliseerde item wat verdere grammatikalisasie ondergaan het. Traugott (1994:1481) beskryf grammatikalisasie soos dit uit 'n diachroniese perspektief gesien word, as "that subset of linguistic changes whereby a lexical item used in specific discourse contexts becomes a grammatical item, or whereby a grammatical item becomes more grammatical"(my kursivering).

Die "op-die-punt-wees"-betekenis bring ook mee dat ons anders as in die geval van wil1 die stelling nie kan ontken nie: iets wat nie (gaan) gebeur nie, kan nie op die punt wees om te gebeur

- of dan, nié te gebeur nie. Terwyl Dit wil reën beteken "Dit is op die punt om te reën", is Dit wil nie reën nie nie die ontkenning daarvan ("Dit is nie op die punt om te reën nie") nie, maar eerder wil1op die weer geprojekteer: "Daar is niks wat reën voortbring nie" of "Daar heers droogte".

Soos die psigiese aksie van wil1op ander lewende wesens, natuurgebeure en selfs masjiene geprojekteer kon word, kan die anterioriteit van wil2weer op werkwoorde met menslike subjekte

- en selfs die spreker - toegepas word, vergelyk:

(63) Sy druk die foon dood. Sy wil huil. (I. Roggeband)

(64) Frieda se hart wil breek. (M. Volschenk)

(65) Ek is so moeg ek wil omval, ... (A. Ferreira)

(66)... dit voel of ek wil verstik of huil, maar nie kan nie. (C. Morton)

Samevattend is die kenmerke van wil2dan (i) dat dit anterioriteit uitdruk (via betekenisse soos "op die punt wees om", "neig om" en "dreig om"), (ii) dat dit nie ontken kan word nie (*Frieda se hart wil nie breek nie, ens..) en (iii) dat reduplikasie telkens moontlik is (Sy wil-wil huil). Die reduplisering van wil word vervolgens ondersoek.

 

7. WIL EN REDUPLIKASIE

Onder die werkwoorde wat gewoonlik as "modaal" bekend staan, is wil die enigste een wat reduplikasie11 toestaan, naas die bykans onbeperkte produktiwiteit van reduplikasie by ander Afrikaanse werkwoorde (en in ander woordsoorte). 'n Eerste waarneming is dat in die geval van Dit wil-wil reën, dit miskien meer "op die punt" is om te reën, meer "dreig" as net "neig" om te reën as in die geval van ongeredupliseerde wil, met ander woorde reduplikasie versterk die onmiddellikheid van die aksie.

Die verband tussen wil-wil en die funksies van reduplikasie in Afrikaans, is moontlik te vinde in een van die ikoniese herhalingsfunksies van Afrikaanse reduplikasie, naamlik die uitbeelding van herhaling as kenmerkend van 'n poging om 'n doel te bereik (vergelyk Conradie 2003:203224), dus 'n pragmatiese parallelisme tussen "op die punt wees" en "poging". 'n Sintaktiese kenmerk van hierdie tipe reduplikasie is die aanwesigheid van voorsetselvoorwerpe wat 'n minder omvattende inwerking op 'n objek veronderstel, vergelyk:

(67) Desperaat voel-voel sy weer aan die diamantring. (E. van Rooyen)

(68) Hulle peusel-peusel aan die maalvleis en noedels (J. Vermeulen)

(69) Moersleutel skreeu en hap-hap na sy aanvaller. (T. Dreyer)

Vergelyk ook, met nie-werkwoorde:

(70) hy het haar byna-byna laat val (E. van Rooyen)

(71) Die geluid ... is net-net verstaanbaar. (D. Meyer)

In

(72) Wel, ek wou net-net wegraak toe die luidspreker buite aangaan (M. Leroux-Van der Boon)

is wil2("op die punt wees") en reduplikasie van die bywoord net ("byna") in een konstruksie verweef. In die volgende is die verband tussen die fisiek waarneembare en anterioriteit nog duidelik:

(73) Partykeer is dit 'n lag wat wil-wil oorsit in huil (A. Botes) (74)... haar met knieë wat wil-wil swik aangestaar (P. Stamatélos)

(75) "Ek is bang," sê hy. Sy onderlip wil-wil bewe. (J. Nell)

(76) Die kleure en geure in Istanboel se markte ... wil-wil jou oorweldig. (Beeld, 8.viii.2015)

Deurdat 'n persoon telkens aan die ontvangkant van psigiese gewaarwordings is, is 'n wilsaksie (wil1) steeds uitgeslote:

(77) Hy ... wil-wil verlig voel (I. Roggeband)

(78) Dis 'n lawaai wat Bibi I wil-wil laat vlug (M. Volschenk)

(79) Haar beeld wil-wil terugkom in sy geheue. (L. van Nierop)

(80) Kleinpiet se gedagtes wil-wil ontspoor (K. Breytenbach)

Anterioriteit as sodanig en selfs graadaanduiding word benader in

(81) iets van die ou tant Stienie wil-wil deurslaan (H. du Plessis)

(82) Almal duik vir skuiling. ... Dit wou-wou lelik word. (J. Miles)

(83) Sy wenkbroue wil-wil te dik raak. (L. van Nierop)

(84) krullerige hare wat aan haar skouer wil-wil raak (J. Aggenbach)

Opsommend kan ons sê dat "poging"-reduplikasie in die geval van wil-wil en wou-wou semanties "vertaal" in aspektuele anterioriteit. Wil-wil druk bloot groter onmiddellikheid (nog meer "op die punt"-wees) as wil uit, en miskien "dreiging" eerder as "neiging".

Wil2word, in teenstelling met wil1, daardeur gekenmerk (i) dat reduplikasie moontlik is en (ii) dat ontkenning uitgeslote is. Ten slotte word gewys op die moontlikheid van 'n kontinuum tussen wil1 en wil2.

 

8. 'N KONTINUUM TUSSEN DIE BINNE- EN DIE BUITEPERSPEKTIEF

Die binne- en die buiteperspektief stem ooreen in die sin dat die wilsaksie nie realiseer in sy komplement, dit wil sê die aksie of toestand waarop dit gerig is nie (Ek wil wen Ek wen nie; Dit wil reën Dit reën nie). Verder kan die aspektuele anterioriteit van wil2 vergelyk word met die voorwaardelikheid van wil1, dit wil sê die wilsaksie as voorwaarde vir aksie as sodanig. In albei gevalle is daar sprake van 'n kousale voorafgaan van die wen- of reën-aksie deur 'n wilsaksie. 'n Belangrike verskil tussen die binne- en buiteperspektief is dat ons in laasgenoemde geval onmiddellike realisering te wagte is, terwyl realisering by eersgenoemde selfs heeltemal agterweë kan bly. Dit kan verklaar word deurdat konstatering by wil2 - anders as by wil1- deur waarneming voorafgegaan word: dit is slegs op grond van ons waarneming van verandering dat ons die aanwesigheid van 'n aksie of proses kan konstateer. Die verskil tussen wil as "begeerte" of "voorneme", enersyds (wil1), en as "neiging, op die punt wees", andersyds (wil1), is 'n funksie van ons perspektief op die aksie. Omdat - soos hierbo aangetoon - (i) die wesenlike aard van wil1minstens deur illusie omgewe is en (ii) die aard van wil2 per definisie nie direk kenbaar is nie, kan nie sonder meer aangeneem word dat wil1en wil2kategories verskil nie, en per slot van rekening is albei "natuurkragte". Daarbenewens het ons ook gesien dat ons enersyds wat ons meen ons onder menslik geïnisieerde wil verstaan, aan ander lewende wesens en selfs nie-lewende entiteite toedig (My kar wil nie vat nie), en andersyds die anterioriteit van wil toepas op menslike subjekte en hulle psigiese gewaarwordings (Frieda se hart wil-wil breek). In 'n geval soos die volgende kan die twee perspektiewe egter by mekaar aansluit:

(85) Soms lyk dit asof hy sy oë wil-wil oopmaak, maar of die inspanning te groot is (I. Winterbach)

' n Moontlike scenario is dié van ' n man wat begin bykom uit 'n koma; hy is onder swaar verdowing en beweeg heen en weer tussen bewusteloosheid en bewus wees. Aanvanklik bied slegs die uiterlike waarneming van sy liggaamsbewegings leidrade ten opsigte van sy bewussynstoestand, uiteraard eers as hy "op die punt" is om te ontwaak: Sy oë wil-wil oopgaan. Namate hy sy bewussyn herwin, is daar al hoe meer sprake van 'n innerlike wilsaksie (vergelyk "inspanning") en besef die toeskouer: Hy wíl sy oë oopmaak. Dit regverdig die aanname van 'n kontinuum, klien of geleidelike oorgang tussen die binneperspektief (wil1) en die buiteperspektief (wil2), wat soos in figuur 1 voorgestel kan word.

 

 

9. GEVOLGTREKKINGS

Die Afrikaanse modale werkwoord wil kan beter verstaan word as aksiewerkwoord dan as modale werkwoord in die ware sin van die woord; om te wil, is om 'n aksie uit te voer eerder as om 'n houding in te neem. Die aksie kan beskou word as voorbereidende aksie, wat enersyds verdere aksie of 'n nuwe toedrag van sake tot gevolg het, of 'n voorwaarde is daarvoor. Al wil dit op die eerste gesig voorkom asof hierdie aksie kan uiteenloop van psigiese of mentale aksie tot natuurkrag, is die presiese aard daarvan in menige konteks nie peilbaar of deursigtig nie.

'n Hoofverdeling kan gemaak word tussen vorme van aksie wat "van binne uit" verstaanbaar is vir elke taalgebruiker (en selfs net in en deur taal geken kan word) en aksie buite die mens wat net deur waarneming geken kan word. Omdat van-buite-waargenome aksie net herken kan word deur verandering, kan wil anterioriteit uitdruk. Deur die aanneem van 'n aspektuele funksie benewens dié van hulpwerkwoord, het wil2'n tipe sekondêre grammatikalisasie ondergaan, dit wil sê dié van 'n grammatikale item wat "meer grammatikaal" geraak het.

Die anterioriteit van wil2kan versterk word deur reduplikasie, wat ook in Afrikaans die funksie het om 'n "poging" aan te dui. Terwyl van-binne-gekende aksie geprojekteer kan word op nie-menslike lewensvorme en selfs op nie-lewende entiteite, kan aspektuele anterioriteit - wat op eksterne waarneming berus - ook op menslike gemoedstoestande van toepassing gemaak word.

Die twee tipes aksie skakel met mekaar in 'n kontinuum (is aaneenlopend), met oorvleueling waar 'n binne- of 'n buiteperspektief albei moontlik is.

 

BIBLIOGRAFIE

ANS = Haeseryn, Romijn, K., Geerts, G., De Rooij, J. & Van den Toorn, M.C. 1997. Algemene Nederlandse spraakkunst. Tweede uitgawe. Groningen/Deurne: M. Nijhoff/ Wolters Plantyn.         [ Links ]

Blackmore, S. 2005. Consciousness: A Very Short Introduction. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Breed, Adri. 2016. Aspek in Afrikaans: 'n teoretiese beskrywing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 56(1): 62-80.         [ Links ]

CGD = Clark, M. & Thyen, O. (eds). 2009. Concise Oxford German Dictionary. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Conradie, C.J. 1980. Aspects of semantic change in Dutch modal auxiliaries. In H. Rupp & Roloff, H.G. (eds). Akten des VI. Internationalen Germanisten-Kongresses Basel1980. Bern: Peter Lang, pp.488-93.         [ Links ]

Conradie, C.J. 2003.The iconicity of Afrikaans reduplication. In Müller, W.G. & Fischer, O. (eds). From Sign to Signing - Iconicity in Language and Literature 3. Amsterdam: John Benjamins, pp. 203-224.         [ Links ]

De Villiers, M. 1971. Die grammatika van tyd en modaliteit. Kaapstad: A.A. Balkema.         [ Links ]

EZE = Doke, C.M., Malcolm, D.M., Sikakana, J.M.A. & Vilakazi, B.W. 1996. English-Zulu Zulu-English Dictionary. Johannesburg: Witwatersrand University Press.         [ Links ]

GK = Koenen, M.J. & J.B. Drewes. 1986. Wolters' woordenboek eigentijds Nederlands.Grote Koenen. Groningen: Wolters- Noordhoff.         [ Links ]

Gordon, E.V. 1968. An Introduction to Old Norse. Revised edition by A.R. Taylor. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

HAT = Odendal, F.F. & Gouws, R.H. 2010. HAT Handwoordeboek van die Afrikaanse taal, 5de uitgawe. Pinelands: Pearson Education.         [ Links ]

Jaworski, W. 2011. Philosophy of Mind. A Comprehensive Introduction. Oxford: Wiley-Blackwell.         [ Links ]

Leiss, Elisabeth. 2012. Epistemicity, evidentiality, and Theory of Mind. In Abraham, W. & Leiss, E.(eds). Modality and Theory of Mind Elements across Languages. Berlin/Boston: Walter de Gruyter, pp. 39-65.         [ Links ]

LLD = Handford, S.A. & Herberg, M. 1966. Langenscheidt's Shorter Latin Dictionary. London: Hodder and Stoughton.         [ Links ]

Lyons, J. 1977. Semantics. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

MW = Verwijs, E., Verdam, J. & Stoett, F.A. 1929. Middelnederlandsch woordenboek.''s-Gravenhage: M. Nijhoff.         [ Links ]

Nienaber, G.S. 1971. Afrikaans in die vroeër jare. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Palmer, F.F. 1979. Modality and the English Modals. London & New York: Longman.         [ Links ]

Sellars, W. 1976. Volitions re-affirmed. In Brand, M. & Walton, D. Action theory. Dordrecht/ Boston: D. Reidel, pp. 47-66.         [ Links ]

Traugott, E.C. 1972. A History of English Syntax. A Transformational Approach to the History of English Sentence Structure. New York: Holt, Reinhart & Winston.         [ Links ]

Traugott, E.C. 1994. Grammaticalization and Lexicalization. In R.E. Asher (red.). The Encyclopedia of Language and Linguistics. Oxford, ens.: Pergamon Press, pp. 1481-1486.         [ Links ]

Van den Toorn, M.C. 1975. Nederlandse grammatica. Groningen: Tjeenk Willink.         [ Links ]

Van der Horst, J.M. 2008. Geschiedenis van de Nederlandse Syntaxis. Leuven: Universitaire Pers.         [ Links ]

VD = Kruyskamp, C. & De Tollenaere, F. 1950. Van Dale's Nieuw groot woordenboek der Nederlandse taal. 's-Gravenhage: M. Nijhoff.         [ Links ]

Visser, F. Th. 1969. An Historical Syntax of the English Language, Part 3. Leiden: E.J. Brill.         [ Links ]

WNT = De Vries, M. & Te Winkel, L.A. 1882-1998. Woordenboek der Nederlandsche taal. 's-Gravenhage: Martinus Nijhoff.         [ Links ]

Wright, J. 1968. Grammar of the Gothic Language. Second edition by O.L. Sayce. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License