SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2The humanities background of the natural sciencesNature writing as ecosystem: An analysis of Boomkastele: 'n Sprokie vir 'n stadsmens (Schalk Schoombie). Part 1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a6 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

"'n Droewige laslap op die voos kombers van onreg": 'n Statistiese analise van konsentrasie-kampbewoners1

 

"A miserable patch upon a great wrong": A statistical analysis of concentration camp residents

 

 

Sophia du PlessisI; Johan FourieII

IDepartement Ekonomie, Stellenbosch Universiteit E-pos: sophia@sun.ac.za
IIDepartement Ekonomie, Stellenbosch Universiteit E-pos: johanf@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) wek steeds intense emosies op. Om dié rede is dit ook verstaanbaar dat 'n breë literatuur verskeie aspekte van die konsentrasiekampe en die lewe van die bewoners ondersoek. Vreemd genoeg, is een aspek wat wel agterweë gelaat is 'n kwantitatiewe ondersoek na die lengte van verblyf vir die meer as 100 000 wit mans, vroue en kinders in die kampe. Hoeveel dae is die gemiddelde kampbewoner gehuisves? Het bewoners uit die republieke of dié uit die kolonies langer aangebly? En wat was die kenmerke van bewoners wat voor die einde van die oorlog die kampe verlaat het? Duisende het ook in die kampe gesterf. Ons ontleed ook die kenmerke van hierdie groep, en werp lig op die redes vir hul tragiese einde. Deur gebruik te maak van 'n enorme datastel van kampbewoners en die statistiese hulpmiddel oorlewingsanalise, bied hierdie artikel 'n nuwe blik op n ou onderwerp en vra nuwe vrae vir toekomstige historiese navorsing.

Trefwoorde: Konsentrasiekampe, oorlewingsanalise, Anglo-Boereoorlog, Suid- Afrika, sterfgetalle, gesondheid


ABSTRACT

The Anglo-Boer War (1899-1902) still evokes intense emotions. The concentration camps that were built to house thousands of destitute men, women and children have especially received much scholarly attention in recent years. Many facets of these camps have been studied: children in the camps, education practices, camp testimonies, black inmates and their involvement, the camps in pictures, and the development of camp historiography, among others. Yet, strangely, statistical analysis of the camps has not yet been attempted. How long did the inmates stay in the camps? Why did they leave? How many died? And what did they die of? These are some of the questions we sought to answer.
Our investigation was made possible by the availability of information about each of the inmates, in the form of a data base compiled by Elizabeth van Heyningen. This data base includes dates of arrival and departure, reason for departure or cause of death, and biographical details such as age, gender, race, place of origin and occupation. The data required extensive manipulation and cleaning before we could begin our analysis. Most importantly, we had to merge several observations of the same individual into one observation. In order to do this, we used their first and last name and their place of origin. This method was not always perfect, as some names are misspelled or the place of origin changes. We nevertheless identified 104 688 unique individuals who lived in the camps. These form the basis of our analysis. Our summary statistics showed that most were farmers, although more than 1 000 different occupations are listed.The average stay in the camps was 278 days, and 23% of the inmates died there, with infection being the main cause of death. We used a statistical technique called survival analysis to investigate the length of stay. From Kaplan-Meier survival estimates we found that inmates who came from the Orange Free State, Transvaal and Cape Colony had a more than 50% likelihood of still being in a camp after 200 days, while for those from Britain, Swaziland, Natal and the European continent the likelihood was less than 30%. The standard survival analysis suggests that inmates from the Cape Colony remained in the camps the longest. Our competitive risk analysis, however, which controlled for the fact that some residents died in the camps, suggested that it was those from the Orange Free State who remained longest. We used regression analysis to investigate gender differences and found that of the men and women who died in the camps, one third did so in the first 100 days after arrival. Another third died within the first year, and another third within the first two years. In contrast to conventional wisdom, we found only a small gender difference in the likelihood of death in the camps. Although more women died in the camps, men and women suffered equally. It was children, though, who suffered most. Our findings raise many new questions for future research.

Key words: Concentration camps, survival analysis, Anglo-Boer War, South Africa, mortality, health


 

 

INLEIDING

Die Anglo-Boereoorlog wek steeds intense emosies op. Kontemporêre Afrikaanse musiek en films verwys gedurig daarna, en daar verskyn gereeld nuwe literêre en populêre werke met die Anglo-Boereoorlog as tema (Grundlingh 2007; Du Plessis 2008; Van der Waal & Robins 2011; Browne 2013; Bossenbroek 2012; Nasson & Grundlingh 2013; Wessels 2011; Van Heyningen 2013). Akademiese publikasies oor die oorlog ontbreek ook nie; sedert die 100-jarige herdenking het werke oor bykans elke aspek van die oorlog verskyn (Miller 2013; McCrachen 2015; Swart 2010; Labuschagne & Van Vuuren 2010; Popple 2012; Wassermann 2007; Denness 2012; Zietsman 2001).

Die konsentrasiekampe - of vlugtelingkampe - wat tydens die oorlog opgerig is, het eweneens 'n prominente plek in Afrikaanse literatuur en Afrikanergeskiedenis gevind.2 Net in die afgelope dekade is feitlik elke aspek van kamplewe en -herinnering ondersoek: kinders in die kampe (Duff 2014), onderrigstelsels (Van Heyningen 2010; Riedi 2005), kampgetuieniss (Dampier 2005; Siebold 2011), swart kampbewoners (Wessels & Wohlberg 2005; Kessler 2012), kampsiektes (Cirillo 2014), die kampe in beeld (Godby 2006), die voorgeskiedenis van konsentrasiekampe (Smith & Stucki 2011; Hyslop 2011), en kampgeskiedskrywing en -herinnering (Stanley 2005; Stanley & Dampier 2005; Van Heyningen 2008; Pretorius 2010; Van Heyningen 2010). En hierdie indrukwekkende navorsingsrekord bou alreeds op meer as ´n eeu se bevindinge (Wessels 2010).

Een faktor wat die afgelope dekade tot hierdie diskoers bygedra het, is die groter beskikbaarheid van elektroniese databasisse. Twee bydraes staan uit: Celeste Reynolds se genealogiese databasis van burgerlike sterftes tydens die Anglo-Boereoorlog, en Elizabeth van Heyningen se databasis van alle konsentrasiekampbewoners (Reynolds 2007; Van Heyningen 2009). Albei datastelle is saamgestel uit noukeurige argivale navorsing, en is elektronies beskikbaar.3 Dit is dan ook een van hierdie datastelle - Van Heyningen s'n - wat as onderbou van hierdie artikel dien.

Die gebruik van sulke groot, elektroniese datastelle - met inligting op die individuele vlak - tesame met gesofistikeerde statistiese analise is 'n redelik onlangse verskynsel in sosiale en ekonomiese geskiedenis, veral in die studie van die ontwikkelende wêreld se geskiedenis (Fourie 2016). Suid-Afrikaanse ekonomiese geskiedenis, waarin statistiese ontleding prominent figureer, het ná 'n bloeitydperk in die 1970's en vroeë 1980's in gewildheid afgeneem soos die politieke veranderinge van die laat 1980's die klem na meer kontemporêre geskiedskrywing geswaai het (Fourie & Schirmer 2012). Internasionaal het postmodernisme ook kulturele geskiedenis groter aansien gegee, terwyl ekonomiese geskiedenis in geskiedenisdepartemente gekwyn het weens die wiskundige en statistiese aard van ekonomie as vakgebied.

Dit was dus eers in die 2000's, met die groter beskikbaarheid van rekenaar harde- en sagteware met die nodige prosesseerkrag om groot datastelle te ontsluit, en die groter belangstelling van ekonome om die historiese ontwikkeling van Afrika te verstaan, dat Afrika se statistiese verlede weer opgediep is. Hierdie artikel spruit uit hierdie nuwe belangstelling om geskiedkundige feite en teorieë aan die hand van nuwe datastelle met meer gesofistikeerde tegnieke te toets.

Een van die tekortkominge van die huidige konsentrasiekampliteratuur is dat daar weinig statistieke oor die gemiddelde ervaring van kampbewoners beskikbaar is. Het bewoners van die Oranje-Vrystaat of Transvaal langer in die kampe gewoon as bewoners uit die Kaapkolonie? Was ryker kampbewoners meer geneig om korter aan te bly, of is húlle juis deur die Britte as kwaadstokers uitgesonder? Was dit mans of vroue wat tipies die langste in die kampe moes aanbly? Deur gebruik te maak van standaard statistiese tegnieke kan ons hierdie vrae, vir die eerste keer, antwoord.

Meer as 25 000 mense het, volgens die inligting in die datastel tot ons beskikking, in die konsentrasiekampe gesterf.4 Ons gebruik 'n bekende statistiese tegniek - oorlewingsanalise - om te bepaal wat die karaktereienskappe was van dié wat in die kampe gesterf het. Weens die aard van die data tot ons beskikking is meeste van hierdie inwoners wit kampbewoners. So maak ons 'n bydrae tot 'n beter begrip van die tragiese gebeurtenisse tydens, en gevolge van, die kampe - vir sowel die naasbestaandes as die nageslagte van dié wat gesterf het, asook vir diegene vir wie die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog steeds met 'n goeie dosis mitologie en volksoorlewering gepaardgaan.

 

DIE DATASTEL

Ons analise maak staat op Elizabeth van Heyningen se noukeurige insameling van individuele rekords vir elke konsentrasiekampbewoner tussen die begin van 1900 en die einde van 1902. Van Heyningen onderskei tussen volwasse mans en vroue, en tussen seuns en dogters. Ons voeg al vier hierdie groepe bymekaar in een databasis, en vind 139 266 unieke inskrywings. Van hierdie individue verskyn egter meer as een keer in die datastel. Sommige individue sou meer as een keer in die rekords verskyn omdat hulle tussen kampe beweeg het, of omdat die rekords moontlik oorvleuel. Ons skep dus 'n nuwe individu-ID deur die persoon se naam, van en plek van herkoms bymekaar te voeg. Hierdie metode is nie perfek nie en daar bly steeds enkele persone waarvoor daar meer as een observasie is. Dit is weens die verskillende spellings van die persoon se naam (hoewel Van Heyningen haar bes doen om die spelling te standaardiseer) asook omdat die plek van herkoms somtyds verander soos die persoon van kamp tot kamp beweeg. Tog is dit die beste manier om op 'n konsekwente manier individue met mekaar te verbind. Deur die gebruik van hierdie metode daal die totale aantal observasies van 139 266 na 104 688.5

Van Heyningen se datastel sluit nie net die naam, van en datum van aankoms van elke kampbewoner in nie, maar ook 'n veelheid ander persoonlike inligting: die geslag, ouderdom, huwelikstatus, ras, nasionaliteit, beroep, dorp van oorsprong, kampnaam, datum van ontslag, rede vir ontslag, of die individu gesterf het, en waarom die individu gesterf het, indien wel.

Die inligting is egter nie volledig vir elke individu nie. Tabel 1 gee 'n kort oorsig oor die hoeveelheid inligting wat beskikbaar is vir elk van die veranderlikes.

 

 

Ons gebruik hierdie inligting om ook 'n verskeidenheid ander veranderlikes te skep. Een van die belangrikste vir ons analise hier is die lengte van verblyf in die kampe. Omdat ons die datum van aankoms en die datum van ontslag weet, kan ons die verskil bereken as die lengte van verblyf. Die gemiddelde lengte van verblyf is 278 dae per individu.

Ons gebruik die inligting oor die beroep van elke kampbewoner om 'n HISCO-punt te bereken. HISCO verwys na die Historical International Classification of Occupations en orden verskillende beroepsvlakke op 'n 10-punt-skaal (Van Leeuwen, Maas & Miles 2002). Tabel 2 lys die verskillende kategorieë en toon hoeveel observasies ons in elkeen van die kategorieë vind.

 

 

Hoewel die data van minder as 20% van individue in die datastel enige inligting oor 'n beroep bevat, is daar steeds meer as 13 000 individue wat 'n beroep lys, en meer as 'n 1 000 unieke beroepe.

Die oorgrote meerderheid van hierdie individue was boere - byna 85% van die individue met beroepsinligting. Natuurlik was nie al hierdie boere ewe welgesteld nie; sommige was welvarend met groot plase, terwyl ander as bywoners geklassifiseer sou word. Maar daar was ook 'n hele paar wetenskaplikes en individue in ander professionele beroepe, asook klerke, handelaars, dienswerkers en meer as n 1 000 individue wat in die vervaardigingsektor werksaam was.

Ons skep ook n nuwe veranderlike om die inligting saam te vat wat as redes vir ontslag gegee is.6 Ons identifiseer 10 algemene redes, en tabel 3 toon hoe dikwels elke rede gegeld het. Van die kampbewoners met die toepaslike inligting in hul rekords het 26% die kampe verlaat omdat hulle verplaas is; 22% is terug na hul huis of familie, en 'n verdere 19% het in die kampe gesterf. Let daarop dat laasgenoemde slegs die sterfgevalle is wat in die redes vir ontslag gelys is; volgens ons datastel is daar altesaam 24 725 sterfgevalle (23.62% van die totaal).

 

 

Laastens gebruik ons inligting uit Van Heyningen se datastel om die 13 algemeenste oorsake vir sterfte te identifiseer. Tabel 4 lys die 13 verskillende redes, en gee ook die aantal keer wat elke rede gebruik is. Byna die helfte van die mense wat gesterf het waaroor inligting beskikbaar is, is dood aan infeksie. 'n Verdere 17% het gesterf weens siektes wat met die asemhalingstelsel verbind kan word.

 

 

Met hierdie opgeknapte datastel kan ons nou standaardstatistiese toetse gebruik om te bepaal watter kampbewoners meer geneig was om langer aan te bly, en wie 'n groter waarskynlikheid sou hê om in die kampe te sterf.

 

WIE WAS IN DIE KAMPE?

Die konsentrasiekampe het ongeorganiseerd ontstaan in reaksie op die oorlogsomstandighede.

Om hierdie rede is die kampe oorspronklik "beskermingskampe" genoem. Aanvanklik was dit slegs vir Boeremans en hul gesinne bedoel wat nie aan die oorlog wou deelneem nie, maar spoedig het vroue sonder heenkome weens die oorlogsomstandighede ook hulle weg na die kampe gevind of is teen hulle wil daarheen vervoer. Die kamp by Bloemfontein, byvoorbeeld, wat in 1900 tot stand gekom het, was spesifiek 'n kamp vir wapenneerlêers, asook die een in Pretoria. Die meeste van die kampbewoners sou egter met Kitchener se verskroeideaarde-beleid van 1901 arriveer, soos figuur 1 demonstreer.

 

 

Volgens ons datastel is daar 4 223 individue wie se datum van aankoms as voor 27 Desember 1900 aangetoon word, die datum waarop Emily Hobhouse aangeland het. Reeds met haar aankoms was sommige van die kampe onder swak bestuur en het n paar reeds, soos sy sê, heeltemal "uitmekaar geval". Stanley haal Hobhouse aan: "The authorities are at their wits' end, and have no more idea of how to cope [...] than the man on the moon. Crass male ignorance, stupidity, helplessness and muddling [...] it is a miserable patch upon a great wrong" (Stanley 2006:132). In die volgende jaar sou die kwaliteit egter nog beduidend afneem soos die getalle wat na die kampe gegaan het, toegeneem het. Reynolds verduidelik dat die verniel of vernietiging van dorpe, plase en voedselvoorrade veral verantwoordelik was vir die toename in getalle (Reynolds 2007:28-31).

Namate die Boere hulle tot guerrilla-oorlogvoering gewend het, het die Britse magte opdrag gekry om plaashuise as strafmaatreël af te brand. Op hierdie manier is die Boere se ondersteuning en skuilplekke aangeval. Vanaf Januarie 1901 is plaashuise onder Lord Kitchener voor die voet afgebrand, sonder om eers te wete te kom of diegene aan wie dit behoort militêre ondersteuning aan die Boere bied. Kitchener het gehoop dat dit die Boere vinniger sou dwing om oor te gee (Van Heyningen 2013:76).

Figuur 2 toon die teenwoordigheid van mans in die konsentrasiekampe. Alhoewel daar dus heelwat mans in die konsentrasiekampe was, word daar nie veel oor hulle geskryf nie. Stanley (2005: 64) skryf dit toe aan die verdeeldheid wat hulle teenwoordigheid onder Boere veroorsaak het. Hoewel daar beduidend meer vroue van die ouderdom 15 tot 59 jaar is, was daar steeds ´n groot aantal mans van hierdie ouderdomme in die kampe woonagtig (39 555 in totaal). Boonop is mans van 60 jaar en ouer 'n groter groep as vroue van dieselfde ouderdom.

 

 

Die rede hiervoor is dat baie mans wat wapens neergelê het nêrens anders 'n tuiste kon vind as in die kampe nie. Daar was beperkte plek vir hulle in dorpe en hulle het ook nie toegang tot hulle vee gehad nie, met die gevolg dat hulle op kampe aangewese was. Die wapenneerlêers is toegelaat om hul vee by hul plase op te pas, maar aangesien hulle bang was vir die Boeremagte, het hulle eerder van hulle vee naby die kampe laat wei (Pretorius 1985:56).

Nasson en Grundlingh (2013:60) verwys na sowat 40% van die Boeremagte wat tussen Maart en Junie 1900 oorgegee het. Hulle spekuleer oor die moontlikheid van 'n klasseverdeling tussen diegene wat oorgegee het en diegene wat voortgegaan het met oorlog voer. Welvarende Boere het vinniger oorgegee omdat hulle meer gehad het om te verloor. Aan die ander kant was daar getuienis van kleinboere wat nie wou veg nie omdat die meer gegoede Boere tuis gebly het. Ouer mans was ook meer geneig om oor te gee omdat hulle hul vroue en dogters wou beskerm. Volgens Van Heyningen (2013:23) was die meerderheid van die wit kampbewoners bywoners wat byna geen grond besit het nie. Hierdie stelling word egter betwis in die literatuur, maar ongelukkig laat die data ons nie toe om dit te bevestig of weerlê nie (Pretorius 2010).

Jong mans in die kampe was sentraal tot die ekonomiese onderhoud van die kampe (Van Heyningen 2013:234-236). Dié mans is gedwing om 'n sekere aantal ure per dag te werk om hulle besig te hou, maar is ook aangemoedig om meer te werk deur hulle met ekstra kos te vergoed. Die mans het skoonmaakwerk gedoen, opgetree as polisie en ook houtwerk gedoen.

Aanvanklik is weinig navorsing oor swart mense in die konsentrasiekampe gedoen. Die kampe was nie soseer verdeel nie, maar swart mense is hoofsaaklik vir arbeid gebruik en tussen verskillende kampe gestuur - hulle het gewerk as polisie, kokke, skoonmakers, vullisverwyderaars, ensovoorts (Stanley 2005:209). Daar is ongelukkig slegs 125 bruin en 146 swart kampbewoners in Van Heyningen se datastel, en daarom is dit baie moeilik om 'n statisties beduidende gevolgtrekking oor hierdie groepe te maak.7 Gevolglik fokus ons studie byna uitsluitlik op die wit kampbewoners.

Vrede is op 31 Mei 1902 gesluit en die Britse Oorlogskantoor het toegestem om die repatriasie van die kampbewoners tot einde Desember te befonds. Net soos met die instelling van die kampe, het die repatriasie ook baie ongeorganiseerd plaasgevind. Diegene wat hul eie vervoer gehad het, kon die kampe dadelik verlaat, maar diegene wat van treine en waens afhanklik was, moes wag op 'n geleentheid. Van Heyningen (2013:290) vertel hoe sommige mense sonder kos oor ver afstande moes trek om na hul plase terug te keer. Mans is aangeraai om so gou moontlik na hul plase terug te keer, maar die meeste van hulle wou nie hulle families agterlaat nie. Figuur 3 gee 'n aanduiding van die getalle wat tydens en ná die oorlog die kampe verlaat het.

 

 

Vroue is gesien as "afhanklik" en is nie toegelaat om die kampe op hul eie te verlaat nie. Alhoewel sommige na hul plase wou terugkeer om met die plantseisoen voort te gaan, is hulle nie toegelaat nie, tensy daar 'n man in die geselskap was. Hierdie situasie het troues vir weduwees aangemoedig, terwyl weeskinders meestal deur familie of vriende ingeneem is (Van Heyningen 2013:298-299). Ook families uit die Kaapkolonie het aangebied om van die weeskinders in te neem.

Soos figuur 3 toon, het repatriasie in die winter plaasgevind. Diegene wat gerepatrieer is, het nie noodwendig vee oorgehad nie, en het baie keer na die kampe teruggekom vir rantsoene. Dit het vinnig gelei tot 'n tekort aan voedsel. Die droogte wat op die oorlog gevolg het, het ook nie voedselproduksie aangehelp nie.

'n Verdere probleem was dat diegene wat siek was, nie toegelaat is om die kampe te verlaat nie. In die Bethulie-kamp, byvoorbeeld, het skarlakenkoors uitgebreek en is alle repatriasie uit die kamp gestaak weens die epidemie (Van Heyningen 2013:292).

 

HOE LANK MOES HULLE BLY?

Tot dusver is daar weinig statistiese bewyse beskikbaar wat kan bevestig waarom sommige mense langer in die kampe moes bly as ander. Ons maak gebruik van oorlewingsanalise (survival analysis) om die faktore te identifiseer wat gekorreleer was met die lengte van verblyf in die kampe. Oorlewingsanalise is 'n statistiese tegniek wat in 'n verskeidenheid vakgebiede, van ingenieurswese en die mediese wetenskappe tot ekonomie en sosiologie, gebruik word. Dit ontleed die tydsverloop voor 'n bepaalde gebeurtenis - soos 'n sterfte of die verlaat van 'n konsentrasiekamp. Die oorlewingsfunksie is die waarskynlikheid dat 'n individu 'n bepaalde gebeurtenis "oorleef" langer as tyd t. 'n Kaplan-Meier grafiek word normaalweg gebruik om hierdie funksie voor te stel.

Figuur 4 toon die waarskynlikheid om vir 'n spesifieke aantal dae in die kampe te bly, verdeel volgens die sewe breedweg gedefinieerde nasionaliteite in die datastel. Die grafiek kan as volg gelees word: Op 200 dae was die kans groter as 50% vir kampbewoners afkomstig van die Vrystaat, Transvaal of Kaapkolonie om steeds in die kampe te wees; vir kampbewoners uit Swaziland, Natal of die Europese vasteland was dit waarskynlik kleiner as 25%, en vir dié uit Brittanje kleiner as 30%. Daar was dus 'n baie groter kans dat Boere uit die Boererepublieke en Kaapkolonie langer in die kampe sou bly as kampbewoners afkomstig uit ander gebiede. Dit is wel interessant dat bewoners uit Brittanje wat in die kampe was gemiddeld langer gebly het as bewoners uit Natal, Swaziland of kontinentale Europa. Bewoners uit Brittanje - m.a.w. kampbewoners wat in Brittanje gebore is - was vermoedelik simpatiseerders met die Boere se saak, of Britse migrante wat reeds lank in Suid-Afrika woonagtig was.

 

 

Dit is egter nie net nasionaliteit wat gekorreleer is met die lengte van kampbewoners se verblyf nie. Ons gebruik die standaard-Cox-regressiefunksie kenmerkend van oorlewings-analise om te onderskei tussen die verskillende karaktertrekke wat die lengte van verblyf in die kampe gekenmerk het. Die resultate word in tabel 5 getoon.

 

 

Ons werk met vier verskillende spesifikasies. Die eerste sluit slegs 'n veranderlike in wat die persoon se ouderdom meet, en geslag voorstel. Die tweede spesifikasie voeg veranderlikes vir die persoon se ras, huwelikstatus en gesinstatus (hoof van gesin of nie) by. Die derde spesifikasie voeg die nasionaliteit van die individu by, terwyl die vierde spesifikasie die beroep van die individu byvoeg. Omdat ons so min observasies van beroep het, is die steekproefgrootte aansienlik kleiner in die laaste spesifikasie, en gaan ons dus minder op hierdie resultate staatmaak. Derhalwe is spesifikasie 3 ons voorkeurspesifikasie.

Tabel 5 vertoon die koëffisiënte van elk van die veranderlikes. 'n Positiewe koëffisiënt beteken dat die veranderlike met korter verblyf in die kampe geassosieer word; in spesifikasie 1, byvoorbeeld, sal die beduidend negatiewe koëffisiënt beteken dat vroue langer in die kampe woonagtig was. In spesifikasie 3, wanneer ander veranderlikes ingesluit word, word dié veranderlike onbeduidend, wat beteken dat vroue nie langer in die kampe gebly het as vir ander karaktereienskappe wat gekontroleer word nie.

Die nasionaliteit-veranderlikes toon dieselfde resultate as figuur 4 (die Oranje-Vrystaat is die verwysingskategorie). Kampbewoners van die Transvaal, maar veral van Swaziland, kontinentale Europa, Natal en Brittanje het korter in die kampe gebly as bewoners van die Oranje-Vrystaat en die Kaapkolonie. Spesifikasie 3 toon ook dat bruin kampbewoners nie beduidend langer of korter as wit kampbewoners gebly het nie, maar dat swart kampbewoners wel beduidend korter in die kampe woonagtig was. Dit is egter nodig om weereens te herhaal dat die steekproefgrootte beteken dat hierdie veranderlike versigtig geïnterpreteer moet word.

Dit wil wel voorkom of die hoof-van-die-huishouding-veranderlike beduidend positief is, wat beteken dat mans en vroue wat hoof van hul huishouding was, meer geneig was om korter in die kampe te bly. So ook is die huwelikstatus-veranderlike interessant. Dit wil voorkom of getroude individue langer as ongetroude individue in die kampe moes bly, en dat daar geen verskil tussen wewenaars/weduwees en enkellopendes is nie. Interessant genoeg, wanneer die geslag-veranderlike en die huwelikstatus-veranderlike saamgevoeg word in 'n interaksie-veranderlike (nie hierbo getoon nie), toon dit dat getroude mans relatief langer in die kampe gebly het as getroude vroue (hoewel vroue oor die algemeen langer gebly het as mans). Van die mans het duidelik in die kampe gebly om by hulle gesinne te wees. Laastens, in spesifikasie 4 sluit ons die beroepsklassifikasie ook in. Weens die groot aantal individue wat nie hul beroep gerapporteer het nie, daal dié steekproef aansienlik. Nogtans is dit interessant om te sien dat hoogs professionele persone korter in die kampe gebly het as laegeskoolde arbeiders (HISCO 7, 8 en 9). Ongelukkig is die kategorie vir boere en bywoners dieselfde, wat dit bemoeilik om tussen die twee groepe te onderskei.

Die probleem met hierdie standaardoorlewingsanalisebenadering is dat dit nie die moontlikheid in ag neem dat mense tydens die tydperk op n ander manier die kampe kon verlaat nie: hulle kon natuurlik ook gesterf het. Dit vereis dus 'n mededingenderisiko-analise, waar beide die moontlikheid van ontslag en die moontlikheid van afsterwe in ag geneem word. Hiervoor word Fine en Gray se model gebruik (Fine & Grey 1999). Sover ons kennis strek, is dit die eerste keer dat hierdie tegniek in ekonomiesegeskiedenis-analise toegepas word.

Figuur 5 toon die kumulatiewe insidensie van kampbewoners uit die verskillende streke. Dit is opvallend om daarop te let hoe hierdie resultate verskil van die voorafgaande analise, wat nie die waarskynlikheid om te sterf in ag neem nie. In plaas van Kaapkolonie-kampbewoners wat nou langer bly, is dit Vrystaatse kampbewoners wat langer in die kampe woon. Daarna volg Kaapkolonie-bewoners en dan bewoners uit die Transvaal. Die mededingenderisiko-analise toon dus dat, gegewe die feit dat mense ook tydens die kampe gesterf het, Vrystaatse bewoners die langste in die kampe gewoon het voordat hulle dit verlaat het.

 

 

WIE HET GESTERF IN DIE KONSENTRASIEKAMPE, EN WAAROM?

Volgens amptelike statistieke het ten minste 26 000 individue, waarvan die meeste kinders was, in die konsentrasiekampe gesterf. Volgens die datastel wat hier gebruik word het 'n totaal van 24 750 individue gesterf, wat nie ver van die amptelike syfer is nie. Die diskrepansie is waarskynlik weens vermiste inligting toe die individue in hierdie datastel se verskillende inskrywings geïntegreer is.

Die meeste Boerefamilies het iemand verloor. Indien die skattings van die bevolking korrek is, is meer as 12% van die wit bewoners van die twee Boererepublieke in die konsentrasiekampe dood.8 Reynolds (2007:41-46) verskaf 'n lys van die konsentrasiekampe en sterftes per kamp. Sy wys daarop dat bronne van mekaar verskil en dat dit dus moeilik is om 'n presiese syfer van die sterftes te verskaf. 'n Moontlike rede is die verskillende wyses waarop dieselfde vanne gespel is (byvoorbeeld Ackerman teenoor Ackermann, Claasen teenoor Claassen teenoor Claassens), soos ons ook in die Van Heyningen-datastel vind wat hier gebruik word.

Die vraag ontstaan of die sterftekoers onder Boere voor die oorlog nie ook hoog was nie. Die twee sensusse van 1880 en 1890 vir die Vrystaat, en 1890 vir die Transvaal, toon vir die Vrystaatse bevolking 'n verspreiding vergelykbaar met ander pre-industriële lande, maar wel 'n buitengewoon hoë persentasie mense ouer as 70 jaar. Die Transvaal-sensus is moeilik om te interpreteer weens die toestroming tot die goudvelde wat plaasgevind het. Wat wel blyk, is dat vroue konstant 'n hoër sterftekoers as mans toon (Van Heyningen 2013: 39).

Die sterftes in kampe het gedaal nadat die kamporganisasie verbeter is (Pretorius 1985:60).

Soos tevore genoem, was die onsekerheid oor verantwoordelikheid vir die kampe 'n rede vir die swak administrasie - was dit 'n siviele of 'n militêre aangeleentheid? Teen November 1901 is egter begin om die kampe as 'n siviele aangeleentheid te hanteer en het die toestande verbeter. Die filantropiese werk van Emily Hobhouse het hiertoe bygedra. Nadat Hobhouse in die middel van 1901 na Brittanje teruggekeer het en die Britse burgery oor die toestande in die kampe ingelig het, het die Britse owerhede teen einde 1901 hervormings begin aanbring, veral nadat die Britse Ladies Committee die kampe besoek het (Van Heyningen 2013:207). Verder het lord Kitchener ook besluit om nie meer mense tot die kampe toe te laat nie, en alhoewel daar net gedeeltelik gehoor aan gegee is, het die kampe stadiger gegroei.

Reynolds (2007:95) bespreek juis die hoë konsentrasie van mense as 'n belangrike oorsaak vir die hoë sterftekoers. Soos die tyd verloop het, is daar nie nuwe kampe opgerig nie, maar oues is verdig - nuwe tente is tussen ou tente opgeslaan. So 'n hoë konsentrasie van mense bymekaar het die moontlikheid van siektes laat toeneem. Sy beskryf ook die swak keuse van plekke waar kampe opgerig is as 'n bydraende faktor tot koue en nat toestande in die kampe.

Higiëne was 'n groot probleem, maar nie net in die kampe nie. Diere wat tydens (en as gevolg van) die oorlog gevrek het, se verrottende karkasse is in die veld agtergelaat. In die kampe was seep byvoorbeeld nie maklik verkrygbaar nie. Volgens Reynolds (2007:98-99) het die seeprantsoene eers in Januarie 1902 beskikbaar geraak. Sy skryf ook dat kampamptenare nie sindelikheid bevorder het nie en dat akkommodasie oor die algemeen gebrekkig was. Die wintermaande van 1901 was veral dodelik aangesien dit buitengewoon koud en nat was, en met die gebrek aan goeie tente het baie mense siek geword. Onhigiëniese toilette en water wat nie noodwendig skoon was nie, het menige maal tot kroniese diarree gelei.

Voedsel self het ook tot sterftes bygedra. Die voedsel was meestal van lae kwaliteit en van beperkte omvang. 'n Kampdieet het bestaan uit meel, sout, suiker, koffie en vleis (laasgenoemde meer vel en been as vleis en "meermale in 'n bedenklike toestand") (Nasson & Grundlingh 2013: 98). Die weerhouding en gee van kos is gebruik as straf of beloning (Van Heyningen 2013:124).

Hospitale in kampe was aan die begin net tente of hutte, maar is later uitgebrei. Sommige kampe was verdeel volgens "hospitaalsale" terwyl ander kampe 'n spesifieke hospitaal gehad het. Hospitale het onder die kampbewoners 'n slegte naam gehad as "'n plek waar mense sterf' (Stanley 2005:153).

Kinders in kampe het min weerstand gehad teen algemene siektes, soos byvoorbeeld die maselsepidemie van die winter van 1901. Stanley (2005:64) vind dit vreemd dat daar soveel oor die vroue geskryf word wat in die kampe gesterf het, maar nie oor die kinders nie. Mens sou die mans ook hier kan byvoeg. Sy verwys na die Vrouemonument in Bloemfontein wat ná die oorlog opgerig is, maar niks soortgelyks vir die kinders nie. Sy spekuleer dat 'n moontlike rede hiervoor die reeds hoë sterftekoers onder plaaskinders teenoor dié onder dorpskinders voor die oorlog is. 'n Ander opsie wat sy noem is dat kinders in terme van nasionalistiese oogmerke nie so belangrik soos vroue se voortplantingsrol was nie (Stanley 2005:113). Nog 'n moontlikheid is dat diegene wat ná afloop van die oorlog boeke geskryf het, nie kinders gehad het nie, en dus nie die dood van kinders direk ervaar het nie.

Met die data tot ons beskikking kan bepaal word watter groepe 'n hoër kans gehad het om tot sterwe te kom. Tabel 6 en 7 toon die aantal sterftes vir die verskillende geslagte, ouderdomme en nasionaliteite.

 

 

 

 

Die syfers is effens verrassend. Terwyl 15.7% van vroue ouer as 18 in die kampe gesterf het, het 11.1% van mans ouer as 18 ook gesterf. Die uitsonderlike fokus op vrouesterftes is dalk effens verwronge. Daarenteen het meer as 18 000 kinders gesterf, en teen baie hoë koerse: 30.8% van alle seuns en 31.3% van alle dogters. Tabel 7 toon ook dat hoewel baie meer Vrystaters en Transvalers in die oorlog gesterf het, die aantal sterftes vir kampbewoners afkomstig uit die Kaapkolonie (31.7%) en Natal (43.5%) hoër was.

Statistiese tegnieke laat ons toe om nie net die proporsie van sterftes te bepaal nie, maar ook hoe lank individue in die kampe gebly het voordat hulle gesterf het. Weereens kyk ons nou net na die bevolking wat afgesterf het. Figuur 6 toon die kumulatieweinsidensie-funksies van sterftes tussen mans en vroue. Die twee vertikale lyne van figuur 6 stel onderskeidelik een en twee jaar voor. Ná 100 dae in die kampe was die waarskynlikheid om te sterf reeds 10%. Ná 'n jaar het dit vermeerder na 20%, en ná nog 'n jaar na 30%. Dit wil ook blyk dat die mans wat wel gesterf het meer waarskynlik was om korter ná hul aankoms in die kampe te sterf as wat met vroue die geval was. (In resultate wat nie gewys word nie, blyk dit dat hierdie verskynsel vir alle ouderdomsgroepe geld.) Die verskil tussen mans en vroue is egter nie baie groot nie, soos gesien kan word in tabel 8, wanneer addisionele veranderlikes ingesluit word.

 

 

 

 

Dieselfde regressietegniek as in tabel 5 word toegepas om te bepaal watter veranderlikes gekorreleerd is met die lengte wat bewoners in die kampe gewoon het voordat hulle gesterf het. Net die inligting van mense wat wel in die kampe gesterf het word gebruik (en sluit dié wat die kampe verlaat het uit). Tabel 8 toon die resultate.

Die eerste twee veranderlikes toon die korrelasie tussen ouderdom en lengte van verblyf. Jonger en baie ouer kampbewoners was nie net meer geneig om te sterf nie (soos die beskrywende statistieke aantoon), maar hulle het ook korter in die kampe gebly voordat hulle gesterf het. Interessant genoeg, is vroue se koëffisiënt positief maar onbeduidend, wat beteken dat vroue nie 'n korter tydperk in die kampe gebly het voordat hulle gesterf het nie, in teenstelling met figuur 6 wat 'n klein voordeel vir vroue toon. Tabel 5 toon dat vroue langer as mans gebly het, en tabel 6 toon dat 'n groter proporsie gesterf het.

Weinig van die ander nasionaliteit-fopveranderlikes is beduidend, behalwe dié van Transvaal, wat beteken dat kampbewoners uit die Transvaal vinniger in die kampe gesterf het as Vrystaters. Getroudes, wewenaars/weduwees en gesinshoofde het langer in die kampe oorleef voordat hulle tot sterwe gekom het.

'n Derde van mans en vroue wat gesterf het, het in die eerste 100 dae ná aankoms in die kampe gesterf; nog 'n derde het tot aan die einde van jaar een oorleef, en nog 'n derde tot aan die einde van jaar twee. Daar was ook nie so 'n groot onderskeid tussen mans en vroue in die kampe nie. Tabel 5 toon dat vroue en mans ewe lank in die kampe gewoon het. Volgens figuur 6 blyk dit dat mans wat gesterf het korter gebly het, maar die resultate word in twyfel getrek deur die onbeduidende fopveranderlike in tabel 8 (wanneer ander veranderlikes dus ingesluit word). Hoewel meer vroue as mans in die kampe gesterf het, het albei groepe ewe swaar gedra aan die las van die kampe.

 

GEVOLGTREKKINGS

Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog het 'n prominente plek in Afrikanerge-skiedenis. Nogtans is dit verbasend dat daar weinig statistiese ontleding van die kampbewoners se demografiese en termynprofiele is. In hierdie studie gebruik ons Elizabeth van Heyningen se omvattend nagevorste lys van kampbewoners om twee aspekte van die konsentrasiekampe te ondersoek: die lengte wat die kampbewoners in die kampe woonagtig was (en die karaktereienskappe wat met hierdie lengte gekorreleerd is), en die omstandighede van kampsterfgevalle (en die faktore wat daarmee gekorreleerd was).

Ons identifiseer 104 688 unieke individue in die kampe, waarvan 24 725 gesterf het voordat hulle die kampe verlaat het. Meer as 80% van kampbewoners was boere. Infeksie (50%), asemhalingsprobleme (17%) en gastroïntestinale kondisies (10%) was die grootste redes vir sterftes in die kampe. Hoewel daar 'n groter aantal vroue tussen die ouderdom van 15 en 59 in die kampe woonagtig was, was daar meer mans in die jonger en ouer ouderdomsgroepe aanwesig.

Daar was ook n hele paar duisend mans van werksouderdom in die kampe.

Dit blyk dat daar wel verskille tussen die lengte van verblyf vir kampbewoners van verskillende nasionaliteite was. Verrassend genoeg het kampbewoners uit die Kaapkolonie die langste in die kampe gebly. Dit blyk egter weens die aantal bewoners van die Vrystaat te wees wat in die kampe dood is; wanneer die mededingenderisiko-model wat kontroleer vir die feit dat mense ook in die kampe kon sterf gebruik word, vind ons dat Vrystaters wel die langste in die kampe gebly het. Bewoners uit die Kaapkolonie het die tweede langste gebly, en bewoners uit die Transvaal die derde langste.

Die kombinasie van historiese data en statistiese tegnieke laat ons toe om hipoteses uit die verlede te hereksamineer. Die huidige analise is maar slegs die begin van die baie moontlikhede wat die beskikbare statistiek navorsers toelaat om te ondersoek, veral indien nuutgetranskribeerde datastelle vanuit ander bronne by die datastel gevoeg word wat ons hier gebruik het. Die effek van verblyf in die konsentrasiekampe op die lewensverwagtinge van bewoners of die kontrasterende gevolge van verskillende ervarings in die kampe is maar net van die toekomstige navorsingsvrae wat met die samevoeging en verwerking van groot hoeveelhede primêre mikrodata moontlik gemaak word. Sulke innoverende kwantitatiewe geskiedenis gee ons nie net n beter begrip van die "droewige laslap op die voos kombers van onreg" wat die Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekampe was nie, maar dit laat ons ook toe om dié tragiese gebeure te gebruik om hipoteses binne die mediese, demografiese, ekonomiese en opvoedkundige wetenskappe te toets.

 

BIBLIOGRAFIE

Bossenbroek, M.P. 2012. De Boerenoorlog. Amsterdam: Athenaeum-Polak & Van Gennep.         [ Links ]

Browne, R. 2013. Verraaiers: A reflection. Critical Arts, 27(4):449-453.         [ Links ]

Cirillo, V.J. 2014. Arthur Conan Doyle (1859-1930): Physician during the typhoid epidemic in the Anglo-Boer War (1899-1902). Journal of Medical Biography 22(1): 2-8.         [ Links ]

Dampier, H. 2005. 'Everyday Life' in Boer Women's Testimonies of the Concentration Camps of the South African War, 1899-1902. In: Godfrey, B. & Dunstall, G. (red.) Crime and Empire 1840-1940. Criminal Justice in Local and Global Context. Cullompton: Willan Publishing, pp. 202-23.         [ Links ]

Denness, Z. 2012. Women and warfare at the start of the twentieth century: the racialization of the 'enemy' during the South African War (1899-1902). Patterns of Prejudice 46(3-4):255-276.         [ Links ]

Duff, S.E. 2014. 'Capture the children': Writing Children into the South African War, 1899-1902. The Journal of the History of Childhood and Youth, 7(3):355-376.         [ Links ]

Du Plessis, P.G. 2008. Fees van die Ongenooides. Kaapstad:Tafelberg.         [ Links ]

Fine, J. & Gray, R. 1999. A proportional hazards model for the subdistribution of a competing risk. Journal of the American Statistical Association, 94:496-509.         [ Links ]

Fourie, J. & Schirmer, S. 2012. The future of South African economic history. Economic History of Developing Regions, 27(1):114-124.         [ Links ]

Fourie, J. 2016. The data revolution in African economic history. Journal of Interdisciplinary History, 47(2):193-212.         [ Links ]

Godby, M. 2006. Confronting horror: Emily Hobhouse and the concentration camp photographs of the South African War. Kronos, 32:34-48.         [ Links ]

Grundlingh, A. 2007. Die historiese in die hede: Dinamika van die De la Rey-fenomeen inAfrikanerkringe, 2006-2007. New Contree, 53:147-166.         [ Links ]

Hyslop, J. 2011. The invention of the concentration camp: Cuba, Southern Africa and the Philippines, 1896-1907. South African Historical Journal, 63(2):251-276.         [ Links ]

Kessler, S. 2012. The Black Concentration Camps of the Anglo-Boer War 1899-1902. Bloemfontein: The War Museum of the Boer Republics.         [ Links ]

Labuschagne, P.A.H. & Van Vuuren, C.J. 2010. The destiny of the Human family and Johannes Seseane during the Anglo-Boer War, 1899-1902. South African Journal of Cultural History, 24(1):35-57.         [ Links ]

McCrachen, D.P. 2015. The relationship between British war correspondents in the field and British military intelligence during the Anglo-Boer War. Scientia Militaria: South African Journal of Military Studies, 43(1): 99-126.         [ Links ]

Miller, S.M. 2013. The British Way of War: Cultural Assumptions and Practices in the South African War, 1899-1902. Journal of Military History, 77(4):1329-1347.         [ Links ]

Nasson, B. & Grundlingh, A. 2013. The War at Home - Women and families in The Anglo-Boer War. Kaapstad: Tafelberg Publishers.         [ Links ]

Popple, S. 2002. From 'Brother Boer' to 'Dirty Boers': Colonizing the colonizers through the popular representations of the Boer in the British illustrated journal 1899-1902. Journal of War & Culture Studies, 5(2):137-156.         [ Links ]

Pretorius, F. 1985. The Anglo-Boer War, 1899-1902. Johannesburg: D. Nelson.         [ Links ]

Pretorius, F. 1991. Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog: 1899-1902. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Pretorius, F. 2010. The white concentration camps ofthe Anglo-Boer War: a debate without end. Historia, 55(2):34-49.         [ Links ]

Reynolds, C. 2007. Die ontwikkeling van 'n elektroniese genealogiese databasis van burgerlike sterftes tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Tesis ter voltooiing van M.A. (Geskiedenis). Noordwes Universiteit, Vaaldriehoekkampus.         [ Links ]

Riedi, E. 2005. Teaching Empire: British and Dominions Women Teachers in the South African War Concentration Camps. The English Historical Review, 120.489 (2005): 1316-1347.         [ Links ]

Seibold, B. 2011. Emily Hobhouse and the Reports on the Concentration Camps during the Boer War, 1899-1902: Two Different Perspectives. New York: Columbia University Press.         [ Links ]

Smith, F. 2015. Kamphoer. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Smith, I.R. & Stucki, A. 2011. The colonial development of concentration camps (1868-1902). The Journal of Imperial and Commonwealth History, 39(3):417-437.         [ Links ]

Stanley, L. & Dampier, H. 2005. Aftermaths: Post/Memory, commemoration and the concentration camps of the South African War 1899-1902. European Review of History-Revue européenne d'Histoire, 12(1):91-119.         [ Links ]

Stanley, L. 2005. 'A Strange Thing is Memory': Emily Hobhouse, Memory Work, Moral Life and the Concentration System. South African Historical Journal, 52(1):60-81.         [ Links ]

Stanley, L. 2006. Mourning Become...: Post/Memory and Commemoration of the Concentration Camps of the South African War 1899-1902. Manchester: Manchester University Press.         [ Links ]

Swart, S. 2010. Horses in the South African War, c. 1899-1902. Society & Animals, 18(4):348-366.         [ Links ]

Van der Waal, K. & Robins, S. 2011. 'De la Rey' and the Revival of 'Boer Heritage': Nostalgia in the Post-apartheid Afrikaner Culture Industry. Journal of Southern African Studies, 37(4):763-779.         [ Links ]

Van Heyningen, E. 2008. Costly Mythologies: The Concentration Camps of the South African War in Afrikaner Historiography. Journal of Southern African Studies, 34(3): 495-513.         [ Links ]

Van Heyningen, E. 2009. The Concentration Camps of the South African (Anglo-Boer) War, 1900-1902. History Compass, 7(1): 22-43.         [ Links ]

Van Heyningen, E. 2010. 'Fools rush in': writing a history of the concentration camps of the South African War. Historia, 55(2):12-33.         [ Links ]

Van Heyningen, E. 2010. A tool for modernisation? The Boer concentration camps of the South African War, 1900-1902. South African Journal of Science, 106(5-6): 52-61.         [ Links ]

Van Heyningen, E. 2013. The concentration camps of the Anglo-Boer War - a Social History. Johannesburg: Jacana Media.         [ Links ]

Van Heyningen, E. 2013. The Concentration Camps of the Anglo-Boer War - A Social History. Johannesburg: Jacana.         [ Links ]

Van Leeuwen, M.H.D., Maas, I., & Miles, A. 2002. HISCO. Historical international standard classification of occupations. Leuven: Leuven University Press.         [ Links ]

Wassermann, J. 2007. 'Sowing the seeds of rebellion': Chief Bhambathaka Mancinza and the Anglo-Boer War, 1899-1902. African Historical Review 39(2):91-106.         [ Links ]

Wessels, A. & A Wohlberg. 2005. Black people and race relations in the largest Anglo-Boer War concentration camp: Merebank, 1901-1902. New Contree, 49: 33-47.         [ Links ]

Wessels, A. 2010. A Century of Postgraduate Anglo-Boer War (1899-1902) Studies: Masters' and Doctoral Studies Completed at Universities in South Africa, in English-speaking Countries and on the European Continent, 1908-2008. Stellenbosch: African Sun Media.         [ Links ]

Wessels, A. 2011. The Anglo-Boer War 1889-1902: White Man 's War, BlackMan's War, Traumatic War. Stellenbosch: African Sun Media.         [ Links ]

Zietsman, P. 2001. Die konsentrasiekampskole - ligbakens in die duisternis. In: Pretorius, F. (red.), Verskroeide aarde. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

 

 

 

Sophia du Plessis is 'n senior lektor in die Departement Ekonomie aan Stellenbosch Universiteit. Nadat sy haar PhD in 2005 in Institusionele Ekonomie voltooi het aan dieselfde universteit, spits sy haar toe op navorsing in Ekonomiese Geskiedenis en is ook betrokke by die uitbreiding van die vakgebied binne Suid-Afrika. Sophia publiseer in plaaslike en interna-sionale tydskrifte en lewer gereeld aanbiedinge by internasionale vakkongresse.
Sophia du Plessis is a senior lecturer in the Department of Economics at Stellenbosch University. Following the completion of her PhD in Institutional Economics at the same institution in 2005 she focused in her research on Economic History. She was also actively involved in the expansion of Economic History as research field in South Africa. Sophia publishes in local and international journals and regularly presents papers at international conferences.

 

 

Johan Fourie is medeprofessor in die Departement Ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy voltooi sy PhD in 2012 aan Utrecht Universiteit in Nederland, waarin hy die welvaart van die setlaarsbevolking in die agtiende-eeuse Kaapkolonie ondersoek. Hiervoor wen hy die "Beste verhandeling"-prys in die kategorie "Vroeë-moderne era" tydens die Wêreld Ekonomiese Geskiedenis-kongres in Kyoto, Japan in 2015. Johan publiseer gereeld in plaaslike en internasionale vaktydskrifte, en is ook 'n gereelde rubriekskrywer vir Rapport en Finweek. Hy bedryf ook 'n blog by johanfourie.com.
Johan Fourie is an associate professor in the Department of Economics at Stellenbosch University. He completed his PhD at the University of Utrecht in the Netherlands in 2012. In his dissertation, he investigates the wealth of the settler community in the eighteenth-century Cape Colony. He was awarded the "best dissertation"-prize in the category "Early modern era" at the World Economic History Congress in 2015 for this dissertation. Johan frequently publishes in local and international academic journals, and is also a regular columnist for the Afrikaans weekly Rapport and the financial magazine Finweek. He runs his own blog at johanfourie.com.
1 Vrylik vertaal uit Emily Hobhouse se "a miserable patch upon a great wrong" (Stanley 2006: 132). Ons dank aan Jan Greyling.
2 Sien byvoorbeeld Smith (2015) en talle ander romans.
3 Van Heyningen het haar datastel gratis aan die outeurs verskaf. Reynolds se datastel is aangekoop.
4 Volgens South African History Online [besigtig op 5 Oktober 2016], 'n gewilde aanlynbron vir inligting oor Suid-Afrikaanse geskiedenis, het 27 927 mense in die wit kampe gesterf. Daar is ook bronne wat die totaal op meer as 28 000 beraam. Ons wil nie hierdie vroeëre beramings in twyfel trek nie; ons fokus is op die datastel tot ons beskikking.
5 Ons verwyder ook 57 observasies waar ons algoritme beweer 'n individu het meer as 10 keer kampe verwissel. Dit is waarskynlik onwaar, en moontlik die gevolg van 'n naam wat meer as een keer herhaal word.
6 Ons gebruik die rede vir ontslag van die laaste kamp wat die individu bewoon het.
7 Volgens Kessler (2012) was daar 38 swart kampe in die Transvaal met 'n totaal van 75 400 swart bewoners en 28 kampe in die Oranje Vrystaat met 56 000 swart bewoners (bl. 289). Volgens Kessler is meer as 21 000 mense dood in hierdie kampe.
8 Omdat die hoë sterftes in die konsentrasiekampe rugbaar geraak het, het baie vroue en kinders in die veld bly swerf nadat hulle huise afgebrand is. Hiervan was die bekendste Nonnie de la Rey, die vrou van die boeregeneraal Koos de la Rey. Pretorius (1991: 333) suggereer dat daar ten tye van die vredesamesprekings benewens die ongeveer 10 000 Transvalers ook tussen 2000 en 4000 vroue en kinders in die Vrystaat in die veld rondgeswerf het. Sien ook Reynolds (2007: 96).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License