SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2The Dutch academic boycott against South Africa: An analysisThe lived experiences of primary school teachers within a culture of performativity author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a3 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

'n Perseptuele verslag van Afrikaans in Namibië: Tussen lingua franca en sosiaal-ekslusiewe taal

 

A perceptual account of Afrikaans in Namibia: Between lingua franca and socially exclusive language

 

 

Gerald StellI; Gerald GroenewaldII

INavorsingsgenoot, Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria E-pos: geraldstell@gmail.com
IIDepartement Historiese Studies, Universiteit van Johannesburg E-pos: ggroenewald@uj.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die geskiedenis van Afrikaans in Namibië begin in die laat 18de eeu, toe Kaap-Hollands oor die Oranjerivier heen versprei is deur noordwaarts-migrerende Oorlams uit die Kaapkolonie. Kaap-Hollands, en later Afrikaans, het van dié tyd af ontwikkel tot 'n medium vir interetniese kommunikasie, waarvan die oorwig verder versterk is onder die Suid-Afrikaanse bewind (ca. 1920-1990). Vandag moet Afrikaans wedywer met Engels, wat Namibië se enigste amptelike taal geword het ná die land se onafhanklikheid in 1990. Op grond van perseptuele gegewens wat verkry is by 'n steekproef vanjong Windhoekse inwoners, wys hierdie artikel dat Afrikaans in die stedelike konteks aansienlike bedekte prestige besit as 'n medium vir interetniese kommunikasie, terwyl Engels tipies gebruik word binne formele kontekste en vir kommunikasie met onlangse migrante uit die noordelike distrikte, waar Afrikaans histories minder sigbaar is. Die artikel toon ook aan dat die Kleurlingvariant van Afrikaans groter potensiaal het as Standaardafrikaans om as 'n neutrale taalkeuse te fungeer binne die interetniese konteks van kommunikasie tussen "nie-wit" etniese groepe omdat Standaardafrikaans gesien word as 'n kenmerk van lidmaatskap van die wit groep. Die posisie van Afrikaans as 'n lingua franca kan in die toekoms bedreig word deur ononderbroke migrasiestrome uit die noorde. Maar aanduidings dat taalverskuiwing dikwels plaasvind na Afrikaans (en Engels) onder lank reeds verstedelikte lede van noordelike etniese groepe, dui daarop dat daar nog ruimte is vir die status quo.

Trefwoorde: Namibië, sosiolinguistiek, Afrikaans, Engels, etnisiteit


ABSTRACT

Afrikaans was first introduced in Namibia's current territory by migrant Oorlam and Baster groups who imposed it in its Cape Dutch form as a prestige language and inter-ethnic medium of communication. The status of Afrikaans in Namibia was consolidated during the South African regime which systematically promoted it while preventing indigenous languages from spreading out of their intra-ethnic contexts of use. A linguistic consequence of independence, which Namibia gained in 1990, was that English suddenly became the country's only official language, as well as the dominant language in education. Despite the hegemonic status that English acquired in Namibia, Afrikaans is today still popularly represented as the main lingua franca in Namibia, or at least as an important one. However, the position of Afrikaans in urban areas could nowadays be under threat from the sustained influx of migrants from Namibia's northern districts, including those that constitute the traditional homeland of the Ovambo, the country's numerically dominant group, where English is better known than Afrikaans. An indication of the pressure that Afrikaans might be subject to in Windhoek, Namibia's capital city, is the demographic preponderance that the Ovambo group has locally acquired within the last three decades. Based on a qualitative survey conducted among an ethnoracially representative sample of young Namibians, this article provides a description of the status and use of Afrikaans in contemporary Windhoek, as well as a reflection on its potential for locally maintaining itself as a lingua franca. It generally shows that Afrikaans has to compete with English in that function, while indigenous languages are still largely restricted to intra-ethnic contexts of use. Afrikaans is clearly perceived as the lingua franca with more "covert prestige" in that it is associated with informality and a sense of local identity. By contrast, English is generally associated with overt prestige andformalfunctions, and it is characteristically used as a lingua franca within groups that do not understand Afrikaans, such as among particular Ovambo migrants. It is not enough, however, to give an account of Windhoek's sociolinguistic profile in which English and Afrikaans are presented as the two main lingua francas without specifying which form of Afrikaans is used in which contexts as a lingua franca. Standard varieties of Afrikaans do not seem to possess enough neutrality to function as a medium of inter-ethnic interaction as they are perceptually amalgamated with "White Afrikaans", that is, the linguistic marker of an ethnoracial group, namely, the Afrikaners, that is still largely seen as self-insulating in the context of Windhoek. Those varieties of Afrikaans perceived as more neutral for the purpose of inter-ethnic communication are Coloured varieties of Afrikaans, with which various Non-Coloured ethnic groups seem to identify. However, there are indications that English rather than those varieties tends to be used by Non-Whites in communication with Whites, even when Afrikaans is notionally shared as a native language. Where Standard Afrikaans is used in inter-ethnic communication, it is mostly unilaterally by Afrikaners, as it is apparently not widely used in informal contexts outside of that group. Also relevant to a description of the uses of Afrikaans as a lingua franca in the context of Windhoek is the practice among Non-Whites of combining it with English in the form of Afrikaans-English mixed codes. As regards the long-term prospects of Afrikaans in Windhoek, the data suggest that Afrikaans in its local Coloured varieties has potential for spreading as an attribute of a local urban identity among migrant groups, as it already has done among Ovambo born in the city or in the southern districts in general, to the point that language shift might be taking place among them from Oshiwambo to combinations of Afrikaans and English.

Keywords: Namibia, sociolinguistics, Afrikaans, English, ethnicity


 

 

1. INLEIDING

Afrikaans het gedurende die laat 18de en vroeë 19de eeu die suidelike deel van Namibië binnegekom as gevolg van die migrasie van verskillende Oorlamsgroepe. Deurdat dit deur die Suid-Afrikaanse owerheid stelselmatig bevorder is, het Afrikaans teen die middel 20ste eeu 'n sosiaal-hegemoniese posisie in die land verwerf, selfs al was die taal op geen stadium die huistaal van meer as 'n klein minderheid mense in die land nie. Ten spyte van die onafhanklike Namibië se "Engels-dominante" taalbeleid word Afrikaans vandag steeds dikwels beskryf as Namibië se mees prominente lingua franca wat saam met Engels en die inheemse Namibiese tale bestaan. Hierdie status maak die sosiolinguistiese situasie in Namibië baie anders as in Suid-Afrika, waar Afrikaans gesien word as kwynend. Die algemene vraag wat hierdie artikel stel, is waarom Afrikaans skynbaar 'n bevoorregte opsie in Namibië bly ten spyte van die institusioneel ongunstige konteks, asook tot watter mate mens kan verwag dat die taal hierdie posisie sal kan handhaaf in die afsienbare toekoms. Soos duidelik sal word, kan die antwoord op hierdie vraag nie geformuleer word sonder om voortdurende etniese/rassige fragmentasie as 'n deurlopende faktor te erken nie. Ten einde hierdie feit en sy taalkundige implikasies te illustreer, maak hierdie artikel gebruik van kwalitatiewe perseptuele data wat versamel is deur middel van onderhoude wat in 2011 en 2012 gevoer is met 'n etnies/rassig verteenwoordigende groep jong Windhoekse inwoners.

Hierdie artikel is soos volg georganiseer: afdeling 2 verskaf 'n kort historiese agtergrond vir die teenwoordigheid en status van Afrikaans in Namibië. In afdeling 3 word die vrae rakende Afrikaans in Namibië geïdentifiseer. Die steekproef en die onderhoudsprotokol wat in die studie gebruik is, word ook bekendgestel. Afdelings 4 tot 7 verskaf 'n analise van die versamelde data. In afdeling 8 word ten slotte die mate waartoe die versamelde data die stabilisering oftewel verdere transformasie van Namibië se huidige veeltalige omgewing, asook die rol wat Afrikaans daarin kan speel, bespreek.

 

2. HISTORIESE AGTERGROND EN HUIDIGE SITUASIE

Toe die Nederlanders die Kaapkolonie in die 17de eeu gestig het, het die omgewing van die huidige Namibië bestaan uit 'n hoofsaaklik Khoe-sprekende bevolking in die suidelike helfte (daar word generies na hulle verwys as die "Namas") en 'n hoofsaaklik Bantu-sprekende bevolking in die noordelike helfte. Die verskyning van sogenaamde Oorlamsgroepe (verwesterde Khoekhoen wat 'n vorm van Nederlands gebruik het) in die binneland van die Kaapkolonie en hul noordwaartse migrasie oor die Oranjerivier vanaf die laat 18de eeu, het daartoe gelei dat 'n vorm van Nederlands grondgevat het in die suidelike en sentrale dele van Namibië (Groenewald 2010:72-78; Stals & Ponelis 2001). In die eerste fase van hierdie uitbreiding het Nederlands gedien as 'n taalkundige merker van sosiale prestige eerder as 'n inter-etniese lingua franca. Die Oorlamsgroepe was hoofsaaklik diglossies, bestaande uit 'n tweetalige Nederlands-Nama Oorlams elite, en 'n toenemende Nederlands-Nama tweetalige onderklas (Dedering 1997:163-4). Die gebruik van 'n Nederlandse variëteit as inter-etniese lingua franca dateer vanaf die middel-dekades van die negentiende eeu toe Jonker Afrikaner se Oorlamsgroep die politieke oppergesag in sentraal Namibië verkry het, wat gelei het tot toenemende kontak met die naburige Bantu-sprekende bevolkings, veral die Herero's. Gedurende hierdie periode het ook heelwat Duits- en Nederlandssprekende sendelinge en handelaars hulle in hierdie gebied gevestig, wat gelei het tot die gebruik van 'n vorm van Nederlands as die taal van godsdiens, onderrig, regering en diplomasie - ook met nie-Oorlamsgroepe (Groenewald 2010:78-92; Stals & Ponelis 2001). Vanaf die 1870's af het die emigrasie van die sogenaamde "Basters" ('n groep met 'n gemengde Khoekhoen/Europese agtergrond) vanaf die Noord-Kaap na Rehoboth (suid van Windhoek) 'n sterk fondasie gelê vir die totstandkoming van 'n vorm van Nederlands as 'n plaaslike gevestigde moedertaal (Groenewald 2010:92-93). Daar moet daarop gelet word dat hierdie fondasie vanuit 'n demografiese perspektief hoofsaaklik "nie-Europees" was aangesien Europese moedertaalsprekers van Nederlands (of Afrikaans) baie min was, en hoofsaaklik yl verspreid in die suidelike dele van die land gewoon het (Groenewald 2010:93-95; Stals 2009:17-21). Toe die Duitse protektoraat, Südwestafrika, in 1884 uitgeroep is, het die Duitse bewindhebbers gevind dat Nederlands so wydverspreid onder die plaaslike bevolking was, dat hulle besluit het om dit as die de facto amptelike lingua franca te gebruik (Groenewald 2010:95-97; Steyn 1980:154). Gedurende die era van Duitse bewind (1884-1915) was daar ook 'n betekenisvolle toename in die Nederlandssprekende Europese bevolking, veral in die suidelike helfte van die land (Trümpelmann 1948:109).

Ná Duitsland verslaan is in die Eerste Wereldoorlog, het die Unie van Suid-Afrika die administrasie van die gebied (herdoop tot "Suidwes-Afrika") oorgeneem, wat sou duur tot 1990. 'n Taalkundig belangwekkende maatreël wat die Suid-Afrikaanse bewindhebbers geneem het, was die aanmoediging van wit Suid-Afrikaanse immigrasie, wat daartoe gelei het dat die aantal Afrikaanssprekendes geleidelik die Duitse koloniale bevolking verbygesteek het (Coetzee 1982). Die posisie van Afrikaans as moedertaal in die gebied is verder versterk toe "kleurling"-immigrante van die Kaapprovinsie daar gevestig is (Bruwer 1964:226). Nog 'n taalkundig belangrike maatreël wat die Suid-Afrikaanse bewindhebbers geneem het, was die implementering van 'n taalbeleid gemodelleer op dié van Suid-Afrika, wat daartoe gelei het dat Afrikaans en Engels die gebied se amptelike tale geword het (Steyn 1980:195-6). Afrikaans het egter vanaf die 1950's 'n hegemoniese status bereik met die plaaslike implementering van Suid-Afrika se apartheidsbeleid. Bevorderlik vir hierdie uitkoms was die skep van etniese gebiede in die vorm van "tuislande" en aparte woongebiede, asook die afdwing van aparte opvoedkundige geriewe wat slegs voorsiening gemaak het vir die veronderstelde huistale en Afrikaans as onderrigmediums en taalvakke (UNIN 1981). Albei hierdie faktore het effektief verhoed dat die inheemse tale oor etniese grense versprei het, waardeur net Afrikaans 'n praktiese opsie vir inter-etniese kommunikasie kon bied. Die oorgang na onafhanklikheid, wat begin het met die aanbreek van "tuisregering" in 1978, het egter gelei tot 'n grootskaalse transformasie van die plaaslike sosiolinguistiese landskap. Die eerste teken hiervan was die uitfasering deur die plaaslike regerings van Owamboland en Damaraland van Afrikaans as 'n onderrigmedium ten gunste van Engels (Steyn 1980:303). Ná onafhanklikwording is Afrikaans deur Engels vervang as Namibië se amptelike taal, en is dit in die onderwys gereduseer tot die rang van opsionele onderrigmedium in die laer primêre fase en as opsionele taalvak daarna (Maho 1998:185-91; Tötemeyer 2010).

Die verspreiding en status van Afrikaans en ander tale teen die einde van die Suid-Afrikaanse bewind word aangedui in die taalkundige opnames van die RGN, wat in 1978 en 1980 gehou is, soos opgesom in Prinsloo (1984). Uit hierdie ondersoek blyk dit dat Afrikaans as eerste huistaal gebruik is in 18% van huishoudings, en "betekenisvol gebruik" is in 32% van huishoudings.1 Die etniese groepe wat Afrikaans genoem het as die taal wat hulle verkieslik gebruik, was die "Blankes" (72%), die "kleurlinge" (72%), en die "Basters" (98%). Onder die ander etniese groepe het die ekwivalente persentasies gewissel tussen 8% en 0%, met die Herero's, Namas, Damaras en Tswanas wat die hoogste persentasies verteenwoordig; en die Kavango's, Owambo's en Capriviane die laagstes. Hierteenoor is Engels slegs deur 4% van huishoudings gebruik as ' n eerste taal, en is slegs deur die Herero 's en Capriviane geïdentifiseer as 'n taal wat bo Afrikaans verkies word. Laastens is geen inheemse taal beduidend as 'n huistaal buite die etniese groepe waarmee hulle geassosieer is gebruik nie. Die RGN-opname het ook vrae bevat oor taalstatus. Afrikaans is genoem as die gebied se belangrikste taal deur die meeste wittes, kleurlinge en Basters, en deur 'n groot gedeelte van die Namas en Damaras, "Boesmans", Kavango's en Tswanas. Hierteenoor is Engels beskou as belangriker as Afrikaans deur die Herero's, Capriviane en Owambo's, ten spyte daarvan dat die taal grootliks onbekend was. Elke inheemse taal is beskou as die belangrikste taal deur die etniese groep waarmee dit geassosieer is. Opsommenderwys: Afrikaans was inter-etnies gesproke die mees wydverspreide taal terwyl dit oor die algemeen 'n hoë sosiale status beklee het in die periode voor onafhank-likheid. Die posisie van Afrikaans was swakker en dié van Engelse sterker in die noorde, histories die tuiste van die Owambo's, Kavango's en Capriviane.

 

 

Ná onafhanklikwording het die nuwe regering Engels tot Namibië se enigste amptelike taal verklaar. As gevolg hiervan het Afrikaans die meeste van sy vorige sigbaarheid in die openbare lewe verloor, terwyl dit in die onderwys grootliks afgegradeer is na die informele funksies van 'n addisionele onderrigmedium, soos ook die geval met Namibië se inheemse tale (cf. Harlech Jones 2001; Tötemeyer 2011). Afrikaans was die huistaal van slegs 9% van die bevolking ten tye van die 2011-sensus, en was steeds grootliks geassosieer met die suide (sien tabel). Naas Afrikaans was die hoofhuistale van die land, volgens grootte: Oshiwambo (48.9%), Khoekhoegowab (11.3%), Kavango (8.5%), Otjiherero (8.6%), terwyl Engels die huistaal was van slegs 'n klein minderheid van 3.4%. Die voortgesette posisie van Afrikaans as 'n belangrike inter-etniese lingua franca kan afgelei word uit die feit dat dit die land se tweede grootste geletterdheidstaal is, met 37.5% van Namibiërs wat daarin geletterd is, wat dit plaas net na Engels en voor Oshiwambo (cf. Namibia Statistics Agency 2003). Hierdie status kan egter benadeel word deur die dinamika van noord-suid migrasie wat oorspronklik aan die gang gesit

is deur die opheffing van instromingsbeheer, en wat sedertdien onverpoos voortgeduur het. Een van die gevolge van noord-suid migrasie is dat die Owambo's nou demografies gesproke die belangrikste groep in die hoofstad, Windhoek, geword het, terwyl hulle hul steeds in groot getalle in ander stedelike sentra in die suide vestig (cf. Namibia Statistics Agency 2003; Peyroux 2004; Pendleton 1993:45-6). Aangesien hulle histories gesproke nie baie blootgestel was aan Afrikaans nie, is dit moontlik dat Owambo's tans meer met Engels identifiseer as met Afrikaans, aangesien Engels die enigste taal is wat konsekwent ondersteun word deur die onderwysstelsel. Hierdie faktor kan daartoe lei dat Engels houvas kry as 'n inter-etniese lingua franca waar Owambo's in groot getalle verteenwoordig is, tensy Owambo-migrante onder druk kom om Afrikaans aan te leer. Mens wonder ook of Oshiwambo self die potensiaal besit om 'n moontlike opsie te word vir inter-etniese kommunikasie, veral tussen Owambo's en ander etniese groepe wat verwante Bantu-tale praat. Hoe ook al, die periode ná onafhanklik- wording het 'n nuwe sosiolinguistiese landskap geskep met onafwendbare implikasies vir die posisie van Afrikaans in die land.

 

 

3. DIE VERKRYGING VAN PERSEPTUELE DATA OOR AFRIKAANS IN NAMIBIË

Wat die huidige status van Afrikaans in Namibië is, en wat die vooruitsigte is om sy historiese rol as lingua franca voort te sit, is die algemene vraag wat hierdie artikel probeer beantwoord deur middel van kwalitatiewe perseptuele data. Die plek wat gekies is om hierdie data te versamel, is die hoofstad van Namibië, Windhoek, waar Afrikaans die gevestigde lingua franca was teen die einde van die Suid-Afrikaanse periode (Ohly 1987). Die plaaslike status van Afrikaans het onder heelwat druk gekom as gevolg van sy afgenome sigbaarheid op regeringsvlak en in die onderwysstelsel ten gunste van Engels. Die uitbreiding van Engels is waarskynlik aangehelp deur die groot instroming van Owambo's wat deesdae omtrent 'n van die stad se bevolking uitmaak (Namibia Statistics 2011). Dit het ook daartoe gelei dat Oshiwambo 'n belangrike taal in Windhoek geword het, indien nie op institusionele en opvoedkundige vlak nie, dan ten minste in terme van die aantal sprekers. Hoe Windhoekse inwoners regoor die plaaslike etniese spektrum Afrikaans ondervind, en wat hulle houding is teenoor die taal, is die algemene temas wat ons aangepak het in 'n reeks semi-gerigte onderhoude wat gevoer is met 'n etnies-verteenwoordigende steekproef van die bevolking.derde

Die deelnemers het bestaan uit 32 manlike en vroulike studente op die hoofkampus van die Universiteit van Namibië (UNAM) in Windhoek, almal tussen 19 en 24 jaar oud, gekies op grond van hulle self-verklaarde etnisiteit. Die volgende etniese kategorieë is uitgekies: Owambo ("NO"/"SO"), Herero ("HE"), Damara ("DA"), Nama ("NA"), Kleurling ("KL")2 en Afrikaners ("AF").3 Op grond van die feit dat die Owambo's inmiddels die demografies-dominante groep in Windhoek geword het, is daar besluit dat die Owambogroep oorverteenwoordig moet word (8 informante in plaas van 4 soos met die ander groepe), en is hulle onderverdeel in twee sub-kategorieë, naamlik dié wat onlangs uit die streke na die stad migreer het ("Noordelike Owambo's", afgekort as "NO") en dié wat in Windhoek of elders in die suidelike streke grootgeword het ("Suidelike Owambo's", afgekort as "SO"). Soos later sal blyk, is hierdie onderskeid sosiolinguisties relevant op grond van die verkleinerende etiket "Ombwiti" wat deur die Noordelike Owambo-informante gebruik word wanneer hulle verwys na enige Owambo wat in die suide grootgeword het, en wat as gevolg daarvan vlotheid in Oshiwambo verloor het ten gunste van ander tale, gewoonlik Afrikaans en Engels. Die vergelykende kleiner demografiese verteenwoordiging van die ander etniese groepe op die UNAM-kampus het dit nie moontlik gemaak om 'n soortgelyke interne onderskeid te tref tussen +landelik en +stedelike oorsprong nie. Behalwe vir die Noordelike Owambo-groep, het al die groepe vlotheid in Afrikaans gerap-porteer, terwyl Engels aan almal bekend is.

Met die opstel van die onderhoudsvrae is daar verwag dat gedetailleerde nadenke oor taal in die algemeen moeilik mag wees om te ontlok. Om hierdie rede is daar besluit dat die onderhoude voorsiening behoort te maak vir beide taalkundige temas en nie-taalkundige temas met moontlike taalkundige implikasies. Sentraal onder hierdie nie-taalkundige temas was dié oor intergroepverhoudinge, wat daarvoor bekend is dat hulle oor die algemeen korreleer met taalhoudings. Taalkundige vrae in verband met taal het vrae ingesluit oor taal in die algemeen, en oor Afrikaans in die besonder. Die vrae oor taal in die algemeen het hoofsaaklik die volgende onderwerpe gedek:

Huistaal of -tale, en die mate van identifikasie met hierdie taal of tale

Tale wat buite die huis verwerf is, en die mate van identifikasie met hierdie tale

Medium(s) van onderrig en sosialisering op skool

Die taal of tale wat meestal gebruik word binne vriendekringe

Die taal of tale wat meestal gebruik word met vreemdelinge

Die taal of tale wat meestal in formele situasies gebruik word, of vir die bespreking van tegniese onderwerpe

Persepsies van etniese verskille in die gebruik van tale

Vrae oor Afrikaans het meestal die volgende aspekte gedek:

Die belangrikheid en bruikbaarheid van Afrikaans teenoor Engels

Die kontekste waarbinne Afrikaans in Namibië gebruik word

Die soorte Afrikaans in Namibië

Die informante se antwoorde het 'n aansienlike hoeveelheid perseptuele inligting oor intergroep-verhoudinge en taal opgelewer. Die verslag wat ons lewer van hierdie inligting word verdeel in vier afdelings. Afdeling (4) handel oor groepe en intergroep-grense, afdeling (5) oor taalstatus in die algemeen, afdeling (6) oor die gebruike en funksies van Afrikaans in daaglikse kommunikasie, en afdeling (7) oor die etniese variëteite van Afrikaans.

 

4. SIENINGS OOR GROEPE EN INTERGROEP-GRENSE

Die onderhoudsdata dui daarop dat etniese/rassige grense beskou word as opvallend en uitstaande in Windhoek. Etniese en rassige stereotipering is wydverspreid, en reflekteer die stereotiperende praktyke wat Pendleton (1996) en LeBeau (1991) opgemerk het onder die inwoners van Windhoek kort ná onafhanklikwording. Die feit dat hierdie praktyke geneig is om te steun op 'n negatiewe basis, dui daarop dat etniese/rassige grense nie net opvallend nie, maar ook in 'n groot mate ondeurdringbaar is. Dit word onder andere geïllustreer deur die feit dat die informante die mees onmiddellike komponent van hul sosiale netwerke as enkel-etnies beskryf, wat veral die geval is onder blankes en Herero's. Die "hardheid" van intergroep-grense is geneig om tot uitdrukking te kom in persepsies van onwettigheid in intergroepverhoudinge (Giles et al. 1977; Giles 1979). Voorbeelde van hierdie persepsies is NO-informant 4, wat Herero's kwalik neem omdat hulle dink "hulle besit Namibië", of DA-informant 2 wat die spot dryf met kleurlinge omdat "hulle dink hulle het die beste van albei wêrelde". Daar bestaan 'n algemene persepsie dat die Owambo's "te veel" is, en "te veel in beheer is" ten koste van ander etniese groepe, soos geïllustreer word in Uittreksel 1 van die onderhoud met HE-informant 2 wat Owambo-dominansie opsom in terme van 'n ontwikkelingswanbalans ten gunste van die Owambo-hartland.

"You only find Windhoek, Walvis Bay and Swakop are developing, and then after these places then it is only Owamboland like in Oshakati. Those places are developing fast. And if you go back to those places where you find Damaras, Hereros and Namas, it is still like normal towns, you won't find much development."

Daar is 'n tendens onder die informante om ras as 'n etniese grens te sien. Die wit Afrikaansssprekende informante maak geen onderskeid tussen die onderskeie "nie-wit" etniese groepe nie, behalwe vir kleurlinge, wat uitstaan omdat hulle Afrikaans as 'n moedertaal deel. Vanuit die perspektief van "nie-wit" informante word Windhoekse wittes oor die algemeen bymekaargegooi. Hulle tree "rassisties" op en hou hulle afsydig van ander etniese groepe: "They don't come to our parties" (KL-informant 4), "they go for lunch with their parents while we stay on campus" (DA-informant 2). Hul gedrag gaan terug na die ou apartheidsnorme, soos NO-informant 3 dit in Uittreksel 2 opsom:

(2) "They are still stuck in the past because their parents and grandparents colonized Namibia, so some of them are still stuck in that age of black servants, maids and stuff like that."

In 'n konteks van opvallende inter-etniese grense kan mens verwag dat etniese groepe 'n simboliese gehegtheid aan taal as 'n attribuut van etniese identitiet sal openbaar. Die meeste informante openbaar dan ook 'n simboliese gehegtheid aan hul onderskeie groepe se erfenistale. Hierdie simboliese gehegtheid word veral bewys deur die informante se algemeen positiewe antwoorde op die vraag of hulle van plan is om hul erfenistaal oor te dra na hul toekomstige kinders. Die idee van taal as 'n etniese attribuut kom sterk na vore in Uittreksel 3, waarin DA-informant 2 'n neerhalende beskrywing gee van wat sy sien as die etnosentriese gedrag van Herero's, waarvan die gebruik van Otjiherero sigbaar deel uitmaak.

(3) "You would sit at a table with different tribes, but they [the Hereros] would prefer to speak in their language. They don't like to diverge from their culture (...) They are too proud to let go of their ancestors, beliefs and what not."

Etniese grense het 'n talige dimensie. Dit geld ook grense tussen etniese groepe wat skynbaar dieselfde taal deel. Afrikaans en Khoekhoegowab, skynbaar gedeel deur verskillende etniese groepe, vertoon etniese variasie volgens die informante wat hierdie tale praat (sien verder afdeling 7). Taalkundige verskille word ook opgemerk binne die Owambogroep deur die Owambo informante, die mees opmerklike hiervan is die verskil tussen die twee dialekte van Oshiwambo, naamlik Oshidonga en Oshikwanyama, wat elk geassosieer word met twee historiese "sub-stamme" van die Owambogroep.

Etnosentriese geneigdhede skyn daartoe te lei dat informante oor weinig betekenisvolle kennis beskik van inheemse etniese tale behalwe hulle eie. In die ondervinding van die informante word kennis van inheemse etniese tale buite die etniese ingroep (behalwe in die geval van Afrikaans en Khoekhoegowab) meestal verwerf deur "enkelwoord aanlering" (cf. Blommaert & Backus 2012). Die Herero informante ken enkele Khoekhoegowab-woorde, terwyl die Namas en Damaras enkele Otjiherero-woorde ken, soos ook die geval met een van die wit informante. Maar oor die algemeen hou kennis van meer as een inheemse taal, volgens die informante, verband met 'n "gemengde" etniese agtergrond, of die feit dat 'n mens grootgeword het onder 'n etniese groep anders as jou eie. Dié kategorie van Owambo's na wie die Noordelike Owambo informante minagtend verwys as "Ombwiti" (sien afdelings 3 en 6) is 'n goeie voorbeeld van die laasgenoemde stereotipe (bv. "Some of them [Ombwiti] can speak Damara and Herero", NO-informant 3).

Die etnolinguistiese groepe onder dié wat in hierdie studie verteenwoordig is, wat oor die hoogste potensiaal beskik vir kennis van 'n ander inheemse etniese taal naas hulle eie, is die Owambo's en Herero's, aangesien hul onderskeie tale nou verwant is. Gevolglik is dit nie verbasend nie dat die Herero- en Owambo-informante aanspraak maak op verskeie vorme van bevoegdheid in mekaar se tale nie. Waar geen betekenisvolle sosiale kontak plaasvind met sprekers van Otjiherero of Oshiwambo nie, bly die bevoegdheid gedeeltlik (bv. "I could perhaps pick up a few things [of Otjiherero] but not the whole conversation", NO-informant 1; "I can't hear a whole sentence, only minor words like 'mother', 'child'...", NO-informant 3). Waar betekenisvolle sosiale kontak wel plaasvind, soos in die geval van NO-informant 3 en HE-informant 2, is bevoegdheid meer ontwikkeld (bv. "I understand when my Herero friends talk to me in Herero, NO-informant 3; "Owambo and Herero it's like mostly similar languages (.) We understand them.", HE-informant 2), maar nooit tot die punt waar die gebruik van óf Engels, óf Afrikaans nie genoodsaak word nie.

 

5. SIENINGS OOR TAALSTATUS

Volgens die informante speel beide Engels en Afrikaans 'n belangrike rol as lingua francas weens die lae vlakke van kennis van inheemse tale oor etniese grense heen. Die data onthul aansienlike verskille in die respektiewe status wat aan Engels en Afrikaans toegeken word. Op grond van die feit dat dit 'n onmisbare hoë-status taal in die Namibiese samelewing is, besit Engels duidelik "openlike prestige". Dit word gesien as 'n essensiële medium vir sosiale bevordering, en as sodanig word sy oorwig in die openbare lewe en in die opvoedkundige sisteem meestal as legitiem beskou, selfs al geskied dit ten koste van die beperkte ruimte vir moedertaalonderrig. Hierdie siening word goed geïllustreer deur Uittreksel (4) waar NO-informant 2 haar besorgdheid te kenne gee oor die belangrike rol wat Oshiwambo in die noorde speel, wat sy as nadelig beskou vir suksesvolle tersiêre studie, wat by verstek Engels is.

(4) "If you go to school in the north and then come to UNAM then it will be very difficult for you to put something in English because you were taught in Oshindonga (...) it's not good."

Alhoewel die meeste informante Afrikaans as 'n belangrike taal beskou, het nie een van hulle 'n begeerte openbaar om Afrikaans te sien op gelyke wetlike vlak as die amptelike taal, Engels, nie. Onder die redes wat hiervoor aangevoer is, is dat dit nie kan wedywer met Engels as 'n "wereldtaal" nie (bv. "everybody speaks English in the world", KL-informant 3), en dat dit 'n negatiewe historiese konnotasie het gekoppel aan die apartheidsbewind (bv. "Afrikaans has bad memories", HE-informant 1). Wat die plek van Afrikaans in die onderwysstelsel betref, is wit Afrikaanssprekendes die enigste groep wat hul ontevredenheid met die huidige taal-in-onderwysbeleid uitspreek. Volgens hulle behoort Afrikaans beter verteenwoordig te word as 'n onderrigmedium vir moedertaal-Afrikaanssprekendes.4 Interessant genoeg word die wit informante se retoriese gehegtheid aan Afrikaans as 'n onderrigmedium nie gereflekteer in die kommentaar van die eweneens moedertaal-Afrikaanssprekende kleurlinginformante nie, soos dié van KL-informant 3, volgens wie Afrikaans as 'n "sub-taal" behandel moet word, aangesien dit slegs 'n "daaglikse ding" is wat "by die werk opgetel kan word."

Afrikaans behou nogtans 'n mate van prestige. Selfs waar hulle dit hoofsaaklik as 'n tweede taal verwerf het, beskryf sommige informante Afrikaans as 'n noodsaaklike onderdeel van hul sosiale identiteit, asook 'n taal wat oor 'n groter uitdrukkingskrag beskik as Engels (bv."I don't like English. I can express myself more easily in Afrikaans", DA-informant 1; "I prefer to speak Afrikaans with my friends. English doesn't flow too easily", HE-informant 1). Volgens die Noordelike Owambo-informante, wat nie vlot daarin is nie, dra Afrikaans nie noodwendig negatiewe konnotasies nie. Dit het praktiese waarde in Windhoek se konteks wat dit die moeite werd maak om te leer (bv."If you don't speak it [Afrikaans], you kind of feel left out", NO-informant 2). Hierdie persepsies dui daarop dat Afrikaans oor meer "bedekte prestige" beskik as Engels. Hulle weerspieël ook die bevindinge van die RGN se taalopnames van 1979 en 1980, waarvolgens Afrikaans oor die algemeen gesien is as die gunsteling gesproke taal na inheemse etniese tale (Prinsloo 1984, sien verder afdeling 2).

Die enigste formele domein waarbinne inheemse etniese tale skynbaar steeds gebruik word, is die onderwys, sy dit meestal op primêre vlak. Dié informante wat in Windhoek skoolgegaan het, kan die onderrig van inheemse tale net onthou as taalvakke (altyd aan leerders wat moedertaalsprekers van daardie tale is), of andersins as tale wat deur onderwysers gebruik word vir humoristiese doeleindes of om Engelse of Afrikaanse inhoud te verduidelik (sien verder afdeling 4). Dit blyk dat die onderrigmediums hoofsaaklik Engels, of dan Engels in kombinasie met Afrikaans, is. Engels as enkelmedium lyk na die dominante norm in die noordelike skole wat deur die Noordelike Owambo-informante bygewoon is. Ander informante rapporteer dat hulle Engels-mediumskole in meer suidelike gebiede bygewoon het, naamlik Walvisbaai en Windhoek. Die dominante norm in sentraal en suid-Namibië skyn egter verskeie kombinasies van Afrikaans en Engels te wees, met moontlik 'n mate van ruimte vir inheemse tale as mediums vir primêre onderwys in enkel-etniese landelike gebiede, soos byvoorbeeld gerapporteer deur dié twee Nama informante (NA 1, 3) wat dieselfde primêre skool in Tses, 'n oorwegend Khoekhoegowab-sprekende omgewing, bygewoon het. Afrikaans word weinig genoem as 'n dominante onderrigmedium. As illustrasie van dié enkele gevalle waar dit so is, het SO-informant 2 genoem dat Afrikaans die hoofonderrigmedium was by die multi-etniese skool wat sy in Tsumeb bygewoon het. Afrikaans was die enigste onderrigmedium by die privaat skool in Windhoek wat bygewoon is deur W-informant 2.

Vanuit 'n geografiese oogpunt word Afrikaans grotendeels geassosieer met sentrale en suidelike Namibië. Sy posisie skyn die sterkste te wees in die Khoekhoegowab-sprekende suidelike streke. In Keetmanshoop, die grootste stedelike gebied in die suide, funksioneer Afrikaans blykbaar as 'n onbetwisbare hoë-statustaal, terwyl - volgens KL-informant 4 wat 'n plaaslike primêre skool bygewoon het - Engels omtrent nooit plaaslik gehoor word nie. Dieselfde geld Lüderitz, nog 'n belangrike stedelike sentrum in die suide, waar - volgens NA-informant 2 wat daar grootgeword het - Afrikaans die mees sigbare taal is. Afrikaans skyn meer saam te leef met Engels in die stedelike sentra van sentraal Namibië. Afrikaans word in alle gevalle geassosieer met informele inter-etniese sosialisering, en word as sodanig meestal verwerf deur interaksie met ander etniese groepe op skool indien dit nie 'n moedertaal is nie. Engels word egter gemeld as 'n medium van inter-etniese sosialisering waar onlangse Owambo-migrante betrokke is. Bowendien lyk dit asof Engels Afrikaans oorskadu het in sommige multi-etniese skoolomgewings, soos gerapporteer deur die Damara informante met betrekking tot die (histories wit Afrikaanssprekende) hoërskool wat hulle in Windhoek bygewoon het. Dit kan 'n rede wees waarom ook Engels skynbaar 'n informele medium van interaksie geword het, soos toegelig in ons data deur DA-informante 2 en 3 wat daarop aanspraak maak dat hulle Engels gebruik wanneer hulle met mekaar praat (sien verder afdeling 6).

Opsommenderwys: Drie Namibiese veeltaligheidspatrone kom na vore uit die informante se kommentaar, wat elk Engels betrek as 'n taal wat algemeen met formaliteit geassosieer word. Die mees komplekse patroon neem die vorm aan van 'n triglossiese taalrepertoire wat die inheemse etniese tale (oor die algemeen geassosieer met informaliteit en intra-etniese kommunikasie), Afrikaans (oor die algemeen geassosieer met informaliteit en inter-etniese kommunikasie) en Engels (oor die algemeen geassosieer met formaliteit) omvat. Hierdie patroon word meestal geassosieer met suidelike etniese groepe, waarvan die Herero-, Nama-en Damara-informante die verteenwoordigers is. Die ander twee veeltaligheidspatrone is essensieel tweetalig. Owambo's wat onlangs vanuit die noorde gemigreer het, is geneig om diglossies in Oshiwambo en Engels te wees, terwyl die taalrepertoires van wittes en kleurlinge geneig is om slegs Afrikaans en Engels te bevat.5 In die volgende afdeling fokus ons in besonderhede op die spesifieke gebruik en funksies wat die informante assosieer met Afrikaans in daaglikse kommunikasie.

 

6. DIE GEBRUIK EN FUNKSIES VAN AFRIKAANS IN DAAGLIKSE KOMMUNIKASIE

As gevolg van die feit dat Engels die taal is wat universeel deur die huidige regering bevorder word, het Afrikaans die hoër funksies verloor wat dit besit het voor dit afgeskaf is as amptelike taal en afgeskaal is in die onderwysstelsel (sien afdeling 5 hierbo). Hierdie feit word gereflekteer deur die manier waarop die informante hul onderskeie taalrepertoires gebruik, waarin Engels gewoonlik gebruik word vir formele en Afrikaans vir informele doeleindes. Maar die funksionele onderskeid tussen die twee skyn nie so duidelik afgebaken te wees nie. Dit word bewys deur die informante se self-gerapporteerde taalkeuse(s) in informele kontekste, waarvan die voorbeeld wat ons gebruik het, die konteks is van interaksie met 'n dokter (nl. "If you were on an appointment with a local doctor, which languages would you use with her/him?"). Taalkeuses in so 'n konteks blyk aansienlik te varieer. Die gebruik van 'n enkeltalige Afrikaanse kode skyn die eerste keuse te wees vir wit Afrikaanssprekendes, en vir een van die kleurlinginformante. Die meerderheid van die ander informante sê dat hulle Engels sal kies, behalwe in die geval van een kleurlinginformant (KL-informant 2) wat sê hy sal beide Engels en Afrikaans gebruik, elk vir spesifieke funksies, waarvan hy die rasionaal in Uittreksel (5) verduidelik:

(5) "Whenever I go to my doctor, we sit down, we have a conversation in English, but as soon as it comes to describing like let's say I have a flu and I sit down with him and I tell him doctor 'I have a flu can you give me something?' and he asks me, this is in English by the way, 'what's wrong?', then as soon as he asks that my brain goes into overdrive and I'd be like 'ja my neus is geblok, my tong is seer' and so on.. .I would switch to Afrikaans for the descriptive part".

Die ander informante sinspeel ook op die afsonderlike funksies wat Afrikaans en Engels verrig. Afrikaans word duidelik gekoppel aan ongenormeerde, spontane vorme van uitdrukking en Engels aan streng genormeerde vorme van uitdrukking, omdat "there are so many ways of expressing oneself in Afrikaans", terwyl "English has only precise words" (DA-informant 2). Daar is aanduidings dat Engels tegelykertyd die kenmerke besit van beide 'n meer formele en meer neutrale taal aangesien dit gebruik kan word "to keep things clear, and to keep things calm" (DA-informant 3). Laaste, maar nie die minste nie, Afrikaans is meer geneig om landelike waardes en Engels stedelike waardes te indekseer in 'n konteks van kodewisseling tussen hierdie twee tale en inheemse etniese tale (sien verder afdeling 8).

Taalkeuse in ontmoetings met vreemdelinge is nog 'n aanwyser van die sosiale status van 'n taal: Watter taal die eerste gebruik word in sulke kontekste dui aan dat dit funksioneer as 'n simbolies neutrale kode, wat beskou word as 'n hoë-status taal wat waarskynlik deur elkeen verstaan sal word (Myers-Scotton 1993; Bourhis 1984). Op grond van die antwoorde op die vraag: "What language would you use at first with a stranger in town?", lyk dit asof Afrikaans en/of Engels gesien word as die mees neutrale taalkeuses. Behalwe in die geval van die Noordelike Owambo's, vir wie Engels die enigste bruikbare taal is in so 'n situasie, blyk dit dat die "nie-wit" informante se antwoorde op hierdie vraag tot 'n groot mate bepaal word deur die veronderstelde ras van die gespreksgenoot. Daar is 'n sterk geneigdheid om wit vreemdelinge in Engels aan te spreek, en "nie-wit" vreemdelinge (swartes en kleurlinge) in Afrikaans. Engels word onderskeidelik gebruik deur drie Damara informante en een wit informant, en Afrikaans deur een kleurling en een wit informant.

Waarom Engels verkies word in die omgang met wit vreemdelinge word oor die algemeen nie verduidelik deur die informante nie. Dit kom egter na vore uit ander dele van die onderhoude dat om Engels eerder as Afrikaans met vreemdelinge te praat, simbolies gelade is. Dit neem byvoorbeeld duidelik 'n simboliese waarde aan as 'n vernederende handeling in die perspektief van HE-informant 2, wat daarvan hou om wittes in Engels aan te spreek "to tease them because they are not good at English". KL-informante 2 en 3 erken albei dat hulle ongemaklik voel in die geselskap van wit Afrikaanssprekendes. Meer spesifiek, KL-informant 3 beskryf sy gevoel van ongemak wanneer hy "Kleurlingafrikaans" praat met wittes: "Our Afrikaans is different from theirs. I feel like I am offending them when I speak Afrikaans to them". In hierdie geval, deur wittes in Engels aan te spreek, wat KL-informant 3 inderdaad doen, is duidelik 'n taalkundige kompensasiestrategie wat daarop gemik is om negatiewe sosiale oordele, veroor-saak deur 'n histories-gestigmatiseerde variëteit van Afrikaans, te probeer verhoed (sien verder afdeling 7).

Taalkeuses met vreemdelinge dui daarop dat Afrikaans - of eerder spesifieke variëteite daarvan, soos ons verder daarop sal uitwei in afdeling 7 - funksioneer as 'n neutrale kommuni-kasiemedium tussen "nie-wit" etniese groepe. Die variëteite van Afrikaans wat as sodanig funksioneer word volgens die informante gewoonlik op skool verwerf. Deurslaggewend in die verwerwingsproses is die gebruik van Afrikaans-Engels gemengde kodes in die klaskamer deur die onderrigpersoneel en, ewe belangrik, sosialisering in die skole se multi-etniese omgewings. Sommige informante maak daarop aanspraak dat hulle Afrikaans primêr verwerf het deur hul blootstelling aan kleurling- of Basterleerders, wat deur sommige van die Herero en Damara-informante beskryf word as sosiaal en taalkundig inklusief: DA-informant 1, byvoorbeeld, beskryf sy skoolvriendekring as hoofsaaklik kleurling, en voeg by dat "they always helped me out with my Afrikaans". In ander gevalle skryf die informante hul verwerwing van Afrikaans toe aan die feit dat Afrikaans eenvoudig die dominante taal op die skool se speelgrond was, sonder dat dit duidelik met een spesifieke etniese groep geassosieer is ("everybody spoke Afrikaans at school", HE-informant 2). Multi-etniese sosialisering is die proses wat die beste verduidelik waarom die "nie-wit" informante, behalwe vir die Noordelike Owambo's, Afrikaans beskou as 'n kenmerkende taalkundige verskynsel van hul interaksie met vriende. Interessant genoeg word Afrikaans en/of Engels skynbaar soms gebruik in intra-etniese kontekste deur individue wat dit nie as hulle moedertaal beskryf nie. Dit word gerapporteer deur DA-informant 4, wat daarop aanspraak maak dat sy meestal Afrikaans gebruik in haar interaksies met DA-informante 2 en 3, met wie sy bekend is sedert haar skooldae (sien verder afdeling 5).

Te oordeel aan die informante se mees generiese opmerkings oor taalfunksies, skyn Engels en Afrikaans geassosieer te word met funksies wat hulle afsonder van inheemse etniese tale. Daar is egter tekens dat al drie tale nie noodwendig apart gehou word tydens gesprekke nie, veral in informele kommunikasiekontekste. Drie van die vier kleurlingdeelnemers erken dat hulle 'n gemengde Afrikaans-Engelse kode met mekaar gebruik. Die rasionaal van hierdie taalgedrag word vasgevang in Uittreksel (6), waarin KL-informant 2 dit verduidelik as 'n onbewustelik gebruikte middel om Engels te memoriseer:

(6) "It [Afrikaans-English code-switching] is not controllable, it comes out like that. I think it is a self-defence mechanism so that you know we don't forget our English because sometimes our Afrikaans overpowers us. So I think the English comes in you know so that we don't forget that we have to speak English and know the correct terminologies rather than Afrikaans because Afrikaans is a daily thing."

Afrikaans-Engels gemengde kodes word duidelik geassosieer met die skoolomgewing: SO-informant 1 onthou byvoorbeeld dat "Afrikaans en Engels" die norm was in haar hoërskool in Walvisbaai, terwyl Afrikaans buite die skool gedomineer het. Dit blyk dat die kombinasie van Engels en Afrikaans, volgens die siening van die "nie-wit" informante (behalwe vir die Noordelike Owambo's) oor die algemeen 'n taalkundig-neutrale funksie in inter-etniese kontekste vervul, wat óf Engels óf Afrikaans nie op hul eie sou kon vervul nie. Selfs tussen Damaras en Namas, wat veronderstel is om 'n gemeenskaplike taal te deel, skyn AfrikaansEngels gemengde kodes verkieslik te wees in bepaalde kontekse omdat, in die woorde van DA-informant 4, "[Namas] pretend to not understand Khoekhoegowab" in hul gewone pogings om as kleurlinge beskou te word.6 In die konteks van intra-etniese kommunikasie is kodewisseling wat gelyktydig Engels, Afrikaans en 'n inheemse etniese taal betrek, wydverspreid onder alle swart groepe behalwe vir die Noordelike Owambo's. Oor die algemeen word geen generiese verduideliking vir hierdie gedrag gegee nie, aangesien dit meestal beskryf word as onbewustelik ("It just comes automatically", DA-informant 2). Skynbaar bestaan daar 'n kontinuum van taalpatrone wat wissel tussen gemengde kodes en meer enkeltalige kodes waaraan elk spesifieke omstandigheidsfunksies toegeken word wat meestal afhang van die identiteit van die gespreksgenoot. DA-informant 2 verduidelik byvoorbeeld dat sy tuis meestal Khoekhoegowab gebruik om met haar ouers te kommunikeer, terwyl sy eerder Engels praat met haar broers en susters, en 'n gemengde kode wat Khoekhoegowab, Engels en Afrikaans insluit, met haar vriende (sien verder afdeling 7).

Daar is ook aanduidings uit die informante se kommentaar van die begin van taalverlies en moontlike taalverskuiwing. Sommige informante erken dat hulle nie meer vlot is nie, of besig is om vlotheid te verloor, in hul erfenistaal as gevolg van te veel Afrikaans of Engels praat, soos byvoorbeel NA-informant 2 wat erken dat sy "Namawoorde" vergeet as gevolg daarvan dat sy altyd Afrikaans praat in haar tuisdorp, Lüderitz, waar "almal Afrikaans praat" (sien verder afdeling 5). Taalverskuiwing van Oshiwambo na Afrikaans en Engels blyk die norm te wees onder die Suidelike Owambo informante, wat almal sê hulle gebruik meestal hierdie twee tale tuis. Onder die mees spesifieke hiervan is SO-informant 2 wat sê dat sy na "ouer mense" luister wat haar in Oshiwambo aanspreek, maar hulle in "Engels en Afrikaans" antwoord, terwyl sy haar eie Oshiwambo as "nie baie goed nie" beskou. Die skuif na Afrikaans en Engels onder die Suidelike Owambo's blyk 'n funksie te wees van hul sosiale netwerke, wat hulle almal beklemtoon etnolinguisties heterogeen te wees. Ons Suidelike Owambo-informante se lewensverhale van grootword in die suidelike distrikte reflekteer die "Ombwiti"-stereotipe (sien afdelings 3 en 4). Die feit dat die begrip "Ombwiti"'n negatiewe waarde besit hou dalk verband met die lae status van migrante, en die gebrek aan taallojaliteit wat tipies gekoppel is aan migrasie (Ehala 2010). Maar taalhandhawing skyn ook nie 'n kenmerk te wees van Owambo's wat in die Owambo-hartland woon nie: die feit dat Engels die enigste huistaal is wat by haar familie in Ondangwa gebruik word, is volgens NO-informant 2 'n aanduiding van 'n taalverskuiwende geneigdheid onder die plaaslike middelklasse.

 

7. ETNIESE VARIËTEITE VAN AFRIKAANS

Die feit (soos beskryf in afdeling 6) dat Engels soms bo Afrikaans verkies word deur "niewittes" vir kommunikasie met wittes, dui daarop dat daar 'n waarneembare onderskeid bestaan tussen "nie-wit" en wit variëteite van Afrikaans. Selfs al het dit nie veel openlike prestige behou in die huidige Namibiese konteks nie, word "Wit Afrikaans" steeds beskou as 'n "beter" variëteit van Afrikaans. Dit word byvoorbeeld gesien as "hoë-vlak" of "korrek", wat die gewone kenmerke is van 'n standaardtaalvariëteit. Hierdie onderskeid lei soms tot onverstaanbaarheid want "hulle [die wittes] gebruik daardie snaakse woorde" (HE-informant 3). Interessant genoeg, is onverstaanbaarheid nie wederkerig nie, aangesien beide wit informante daarop aanspraak maak om "nie-wit" variëteite van Afrikaans te verstaan. W-informant 2 som die skynbare paradoks op in Uittreksel (7):

(7) "Dis partykeer moeiliker vir hulle [die "nie-wittes"] om abstrakte konsepte te verstaan. Dis moeiliker vir hulle om ons te verstaan as wat dit is vir ons om hulle te verstaan."

Al erken hulle wel kleurlinge as taalkundig verwant ("Dis makliker om met hulle te kommunikeer op grond van taal", W-informant 2), onderskei die wit informante oor die algemeen nie tussen "nie-wit" T2-sprekers van Afrikaans nie. Die "nie-wit" informante maak egter soms wel onderskeid tussen die T2-variëteite wat deur "nie-wittes" gepraat word. Die Herero's, byvoorbeeld, praat 'n eiesoortige variëteit van Afrikaans, volgens KL-informant 3, wat onder andere gekenmerk word deur kodewisseling met Otjiherero:

(8) "When they speak it [Afrikaans] it is lazy, due to their mother tongue being lazy. When a Herero speaks, it would be like 'moshavi bra?' [how are you brother?] you know they always mix with Otjiherero. They are very lazy".

Die T2-Afrikaanssprekende informante bevestig dat hulle Afrikaans meng met hul onderskeie erfenistale. Waar dit binne 'n intra-etniese konteks gebeur, bly die basistaal gewoonlik die erfenistaal waarby Afrikaanse leksikale elemente ingevoeg word, of waaraan Afrikaanse sinsdele gevoeg word ("You would start with ek weet mos and then carry on in your own language [Khoekhoegowab]", DA-informant 2; "I add jy weet to the end of my [Otjiherero] sentences because of the schools I attended", HE-informant 2). Waar dit binne 'n inter-etniese konteks gebeur, word die basistaal gewoonlik Afrikaans (dikwels in kombinasie met Engels), waarby woorde uit inheemse etniese tale soms ingevoeg word om spelenderwys mens se eie etniese identiteit aan lede van ander etniese groepe te vertoon ("People laugh if you use Herero words in Afrikaans. They ask you what it means", HE-informant 3). Die gebruik van taalelemente uit inheemse etniese tale in 'n inter-etniese konteks skyn ook op versoek te gebeur, soos verduidelik deur DA-informant 2 in Uittreksel (9):

(9) "I would not use Damara [Khoekhoegowab] words when I speak to Coloureds, but they are interested in Damara [Khoekhoegowab] words. They would ask 'How do you say this in your culture ?'"

"Veretniseerde" vorme van Afrikaans kan ook gebruik word in 'n konteks van intra-etniese kommunikasie, soos opgemerk deur DA-informant 4, wat erken dat sy "Afrikaans met Damara-[Khoekhoegowab-]woorde" met DA-informante 2 en 3 gebruik.

Dit lyk asof dit die teenwoordigheid van elemente uit inheemse etniese tale is wat iets 'n etniese variëteit van Afrikaans maak, volgens die informante se sienings. Dit opper die vraag of daar enige neutrale variëteit van Afrikaans is wat gebruik word vir die doeleindes van interetniese kommunikasie, en watter vorm dit aanneem. Te oordeel aan die taalkundige etikette wat deur die meeste T1- en T2-Afrikaanssprekende "nie-wit" informante gebruik word, is "Kleurlingafrikaans" die Afrikaanse variëteit wat as basis deur "nie-wittes" gebruik word. Hierdie variëteit van Afrikaans skyn verwerf te word deur sosialisering met kleurling- en Basterleerders op skool, asook met kleurlingonderwysers, wat in alle gevalle die enigste T1-Afrikaanssprekendes is wat spesifiek genoem is deur die T2-Afrikaanssprekende informante as mense wat 'n rol gespeel het in hul verwerwing van Afrikaans (sien verder afdeling 6). Die sentrale rol van die skool in die verwerwing van Afrikaans word verduidelik deur HE-informant 2 in Uittreksel (10), wat te kenne gee dat daar skole is waar mens "Wit Afrikaans" leer, en ander waar mens "Kleurlingafrikaans" leer.

(10) "Primary school I was in a White school so I got used to their Afrikaans ['White Afrikaans'] on primary school. So the Afrikaans I came to changed when I came to Jan Möhr [High School] because there were Coloureds and White Afrikaans and Coloured Afrikaans are very different. So when I came to Jan Möhr, my Afrikaans also changed, I got used to that one ['Coloured Afrikaans'].

Die siening van die kleurlinginformante oor die saak van wie "Kleurlingafrikaans" praat, staaf grootliks dié siening van T2-Afrikaanssprekende "nie-wittes", behalwe in die geval van die Herero's wat, volgens KL-informant 3, 'n eiesoortige variëteit van Afrikaans praat (sien hierbo). Wat die ander "nie-wit" T2-Afrikaanssprekende groepe betref, noem KL-informant 3 byvoorbeeld dat "Namas speak the same sort of Afrikaans as we [Coloureds] do" ('n indruk wat die Nama-informante deel). Hy merk ook in Uittreksel (11) op dat sommige Owambo's hulle in so 'n mate Kleurlingafrikaans toegeëien het, dat hulle taalkundig gesproke ononderskeidbaar is van die kleurlinge, wat daarop dui dat - wanneer hulle na Afrikaans skuif - Owambo's wat in die suide grootgeword het, na Kleurlingafrikaans skuif.

(11) "Their Afrikaans is sometimes better than our Afrikaans, sometimes at the same level as ours. Out of all ethnic groups I'd say Wambos can speak the best Afrikaans next to Coloureds. They have a very close Coloured accent, so if you were to stand behind the wall, you would think I am talking to another Coloured."

Indien Kleurlingafrikaans die ongemerkte Afrikaanse variëteit onder "nie-wittes" is, wat is die ongemerkte Afrikaanse variëteit vir kommunikasie tussen "nie-wittes" en wittes? Indien "wit Afrikaans" steeds gesien word as die "korrekte" variëteit van Afrikaans, m.a.w. die Afrikaanse variëteit met "openlike prestige" en standaardstatus (sien hierbo), beteken dit dat T2-Afrikaanssprekende "nie-wittes" onder druk is om bevoegdheid in dié variëteit te ontwikkel ter wille van interaksie met wit Afrikaanssprekendes? Antwoorde op hierdie vraag is tentatief ontlok deur middel van die vraag: "Kan jy 'n wit Afrikaanse aksent namaak?" Die feit dat reaksies op dié vraag hoofsaaklik negatief was (behalwe vir KL-informant 3: "It would be tiring, but I could pull it off"), dui daarop dat Standaardafrikaans nie gesien word as 'n ongemerkte taalmedium vir kommunikasie met wit Afrikaanssprekendes nie, en nie beskou word as 'n geldige opsie in só 'n konteks nie.

Indien "nie-wit" Afrikaanssprekendes nie daaraan gewoond is om hul Afrikaanse variëteite aan te pas wanneer hulle met wittes kommunikeer nie, beteken dit dat wit Afrikaanssprekendes omgekeerd onder druk voel om hul gewone Afrikaanse variëteite aan te pas wanneer hulle kommunikeer met "nie-wittes"? Die feit dat W-informant 2 bewus daarvan is dat "nie-wittes" sukkel met sekere "konsepte" (sien hierbo), dui miskien daarop dat wit Afrikaanssprekendes dalk hul leksikon aanpas in 'n konteks van inter-etniese kommunikasie. Meer as dit, soos om 'n kleurlingaksent na te maak, skyn nie 'n opsie te wees nie, aangesien "they may think we are making fun" (W-informant 3). Die geneigdheid onder wit Afrikaanssprekendes om oorvereenvoudigde weergawes van Afrikaans te gebruik wanneer hulle kontak het met "niewittes", word genoem deur W-informant 1, wat verwys na van haar familielede wat "gebroke Afrikaans met swartes praat" - 'n praktyk wat sy afkeur weens die "vernederende" aard daarvan, instede waarvan sy aanspraak maak daarop dat sy"normale Afrikaans" gebruik. Met ander woorde, deur te hou by "wit Afrikaans" in interaksie met "nie-wittes" kan deur wit Afrikaanssprekendes gesien word as die mees neutrale opsie anders as om Engels te gebruik.

 

8. BESPREKING

Ten spyte daarvan dat Engels Afrikaans vervang het as openbare taal, het Afrikaans aansienlike "bedekte prestige" in Namibië behou. Dit word deur baie mense as minder formeel as Engels gesien. Dit word ook beskou as 'n neutrale taalkeuse in die konteks van inter-etniese kommunikasie, waarvoor geen inheemse etniese taal beskikbaar is nie as gevolg van die huidige taal-in-onderwysbeleid en die relatief "harde" grense tussen etnolinguistiese groepe (vgl. afdelings 2 en 4). Afrikaans word nie net geassosieer met inter-etniese kommunikasie nie; dit is ook aanwesig in intra-etniese kontekste van kommunikasie buite daardie Namibiese gemeenskappe (nl. Afrikaners, kleurlinge en Basters) waarvan dit as die erfenistaal beskou word. In sommige gevalle lyk dit selfs asof daar 'n verskuiwing plaasvind weg van erfenistale na Afrikaans, veral in die geval van dié individue wat deurgaan vir "Ombwiti" (vgl. afdeling 6). Daar is twee belangrike sosiale faktore wat dit tans moontlik maak vir Afrikaans om sigself as 'n etnies-neutrale lingua franca te handhaaf. Die eerste faktor is die rol wat dit speel as 'n sosialiseringsmedium in etnolinguisties-diverse omgewings, veral in skole waar mens daaraan blootgestel word via interaksies met kleuring-/Basterleerders en onderrigpersoneel. Die tweede faktor is wat 'n sterk geneigdheid blyk te wees onder die demografies-belangrikste etnolinguistiese groep, naamlik die Owambogroep, om na ander tale te skuif, insluitende Afrikaans. Hierdie geneigdheid kan verduidelik word as 'n funksie van die Owambo's se lae sosiale prestige, wat oorgeërf is van hul historiese lae status as migrante en die daaraan gekoppelde landelike stigma wat aan hulle opgelê is (vgl. Sohn 2002; Peyroux 2000). Die uiteindelike sosiolinguistiese impak van voortdurende in-migrasie van die noordelike streke na sentrale en suidelike Namibië is egter moeilik om te voorspel. Ons Owambo-informante wat eers onlangs in Windhoek aangekom het, sê dat hulle slegs Engels in inter-etniese kommunikasie gebruik omdat Afrikaans grootliks onbekend aan hulle is. Of groter getalle landelike Owambo's in stedelike gebiede uiteindelik die potensiaal van Afrikaans om as lingua franca te dien, sal benadeel, en daartoe sal lei dat Engels die funksies van Afrikaans oorneem, is 'n vraag wat mens op hierdie stadium stellig nie kan beantwoord nie.

Wat die toekoms ook al inhou vir Afrikaans, is dit belangrik om te beklemtoon dat wat mens in Windhoek "Afrikaans" noem, dikwels nie die tradisionele sienings van wat Standaardafrikaans is, weerspieël nie. Afrikaans word dikwels gelyktydig gebruik met Engels in spontane gespreksituasies. Wat ons informante, veral ons "nie-wit" informante, etiketteer as "Afrikaans", kan dus miskien die beste beskryf word as 'n gemengde kode wat beide Afrikaans en Engels insluit (en waarskynlik ook inheemse etniese tale in kontekste van intra-etniese kommunikasie). Verstrengeling met Engels lyk onafwendbaar in 'n algemene onderwysmilieu waar enkeltalige Engelse kodes baie meer waarskynlik gehoor word as enkeltalige Afrikaanse kodes, behalwe in periodes waar Afrikaans as 'n vak onderrig word. Daar is egter aanduidings in ons data dat Afrikaans-Engels gemengde kodes nie as bruikbaar beskou word in die spesifieke konteks van kommunikasie tussen "nie-wittes" en wittes nie, waarvoor ons "nie-wit" informante meestal Engels beskryf as die mees neutrale taalopsie. Die gebruik van Engels in dergelike kontekste het 'n hoogs simboliese funksie: Sowel die persepsie van 'n sosiale gaping tussen "nie-wittes" en wittes as die histories hoër status van wittes in die Namibiese samelewing dui daarop dat Engels as 'n moontlike taalkundige strategie vir statuskompensasie kan dien.

Afrikaans kan in die konteks van interetniese kommunikasie tussen "nie-wittes" nie van Engels geskei word nie. Maar watter soort Afrikaans word gebruik in die gemengde kodes wat deur Windhoekse "nie-wittes" gehanteer word? In die Suid-Afrikaanse konteks dra wit variëteite van Afrikaans 'n stigma van sosiale eksklusiwiteit (vgl. McCormick 2002). Op grond van hierdie stigma het die begrip Standaardafrikaans problematies geword omdat Standaard-afrikaans histories gebaseer is op wit variëteite van Kaaps-Hollands (vgl. Ponelis 1993; van Rensburg 1989). Hierdie soort van stigmatisering is ook waarneembaar in ons Namibiese data. Die feit dat ons "nie-wit" informante Wit Afrikaans (en "korrekte" vorme van Afrikaans) sien as 'n attribuut van 'n moeilik genaakbare sosiale groep (vgl. afdeling 4), verklaar hoekom hulle nie Wit Afrikaans (en implisiet Standaardafrikaans) as 'n wenslike komponent van hul taalrepertoires beskou nie. Die Afrikaanse variëteit wat in stede daarvan deur "nie-wittes" as neutraal beskou word, is wat ons informante as "Kleurlingafrikaans" beskryf, nl. die variëteit van Afrikaans wat geassosieer word met sy kleurling- en Baster-moedertaalsprekers, en wat reeds sedert die negentiende eeu in groot dele van die huidige Namibië as lingua franca gevestig is. Engels het Standaardafrikaans onttroon en dit afgeskaal na 'n merker van wit wees. Intussen bewaar "Kleurlingafrikaans" sy status as 'n vooraanstaande opsie om 'n neutrale vorm van informaliteit te indekseer in interetniese kommunikasie onder die grootste deel van die bevolking.

 

9. GEVOLGTREKKING

Uit ons beperkte steekproef van informante se kommentaar kom 'n algemene sosiolinguistiese beeld tot stand waarin Afrikaans in Namibië verwys na 'n verskeidenheid taalkundige verskynsels. Dit kan verwys na óf 'n enkeltalige kode, óf 'n verskeidenheid gemengde kodes wat Engels en inheemse etniese tale kan insluit. Dit kan ook verwys na óf wit variëteite, perseptueel geassosieer met "Standaardafrikaans", óf "nie-wit" variëteite, wat oor die algemeen as "kleurling" geëtiketteer word. Wat die taalpersepsies is in ander gebiede, veral in die noordelike distrikte, en ook in die suidelikste streke wat direk grens aan die Noord-Kaap, moet vasgestel word voordat mens tot 'n meer stelselmatige beskrywing van die status van Afrikaans in Namibië sal kan kom. Wat ons voorlopige gevolgtrekking is vir die status van Afrikaans in Namibië, gegrond op ons Windhoekse steekproef, is soos volg: Die taalbeleid wat die regering ná onafhanklikheidswording gevoer het, het waarskynlik daartoe gelei dat Afrikaans op formele terreine met Engels vervang is. Dit het ook dalk daartoe gelei dat Standaardafrikaans as 'n doeltaal onherstelbaar ondermyn is. Maar dit het dit ook moontlik gemaak vir "Kleurlingafrikaans" om sigself te vestig as 'n komponent van neutrale Namibiese taalrepertoires, wat tans gebruik word onder die "nie-wit" meerderheid van die Windhoekse bevolking, en moontlik ook onder die suidelike distrikte se bevolking. Of "Kleurlingafrikaans" hierdie status sal behou of nie, hang tot 'n groot mate af van die langtermynkapasiteit van die sentrale en suidelike distrikte om Owambo-migrante taalkundig te absorbeer, soos hulle in die verlede gedoen het.

 

BIBLIOGRAFIE

Blommaert, Jan & Ad Backus. 2012. Super diverse repertoires and the individual. Tilburg Papers in Culture Studies 24.         [ Links ]

Bourhis, R. Y. 1984. Cross-cultural communication in Montreal: Two field studies since Bill 101. International Journal of the Sociology of Language, 46:33-47.         [ Links ]

Bruwer, J.P. van S. 1964. Kleurlinge in Suidwes-Afrika. In: E. Theron & M.J. Swart (reds.). Die Kleurlingbevolking van Suid-Afrika.'n Verslag van 'n komitee van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede (Sabra) insake die Kleurlinge. 219-232. Stellenbosch: Universiteitsuitgewers.         [ Links ]

Coetzee, E.R. 1982. Die geskiedenis van landelike vestiging van Blankes in Suidwes-Afrika, 1915-1931. M.A.-verhandeling. Johannesburg: Rand Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

Dedering, Tilman. 1997. Hate the Old And Follow the New. Khoekhoe and Missionaries in Early Nineteenth Century Namibia. Stuttgart: Steiner.         [ Links ]

Düsing, Sandra. 2002. Traditional Leadership and Democratisation in Southern Africa. A comparative study of Botswana, Namibia, and South Africa. Hamburg: LIT.         [ Links ]

Ehala, M. 2010. Ethnolinguistic vitality and intergroup processes. Multilingua 29:203-221.         [ Links ]

Giles, H., Bourhis, R., & D. Taylor. 1977. Towards a theory of language in ethnic group relations. In H. Giles (ed.). Language, ethnicity and intergroup relations. 307-348. London: Academic Press.         [ Links ]

Groenewald, Gerald. 2010. Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800-1920. LitNet Akademies, 7(3): 65-102.         [ Links ]

Harlech-Jones, Brian. 2001. Some prevalent assumptions in language policy, with contextualisations from Namibia. In Richard Trewby and Sandra Fitchat (reds.). Language and Development in Southern Africa. Making the Right Choices. 25-37. Kaapstad: Gamsberg McMillan.         [ Links ]

Kleinz, N. 1984. Deutsche Sprache in Kontakt in Südwestafrika: der heutige Gebrauch der Sprachen Deutsch, Afrikaans und Englisch in Namibia. Stuttgart: Steiner.         [ Links ]

Maho, Jounie F. 1998. Few people, many tongues. The languages of Namibia. Windhoek: Gamsberg Macmillan.         [ Links ]

McCormick, K. 2002. Language in Cape Town's District Six. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Mesthrie, R., Swann, J., Deumert, A. & W.L. Leap. 2009. Introducing Sociolinguistics. Edinburgh: Edinburgh University Press.         [ Links ]

Myers-Scotton, Carol. 1993. Social motivations for codeswitching: Evidence from Africa. Oxford: Clarendon.         [ Links ]

Namibia Statistics Agency. 2003. Namibia 2001. Population & Housing Census. Windhoek: National Planning Commission.         [ Links ]

Namibia Statistics Agency. 2013. Namibia 2011. Population & Housing Census. Main Report. Windhoek: Namibia Statistics Agency.         [ Links ]

Pendleton, Wade. 1993. Katutura: a Place Where we Stay. Life in a Post-Apartheid Township in Namibia. Katutura Before and Now. Windhoek: Gamsberg McMillan.         [ Links ]

Peyroux, E. 2000. Politiques d'habitat et pratiques résidentielles à Windhoek (Namibie): recompositions sociales et spatiales des peripheries d'une ville post-apartheid. Proefskrif. Université de Paris X-Nanterre.         [ Links ]

Peyroux, Elisabeth. 2004. Windhoek, capitale de la Namibie. Changement politique et recomposition des peripheries. Johannesburg: IFAS.         [ Links ]

Ponelis, Fritz A. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Lang.         [ Links ]

Prinsloo, Karel P. 1984. Die status van Afrikaans en ander hooftale in SWA/Namibië. In Karel P. Prinsloo & Christo van Rensburg (reds). Afrikaans: Stand, Taak en Toekoms. Pretoria: HAUM, pp. 124-134.         [ Links ]

Pütz, Martin. 1995. Official monolingualism in Africa: A sociolinguistic assessment of linguistic and cultural pluralism in Namibia. 155-174. In Martin Pütz (red.). Discrimination through language in Africa? Perspectives on the Namibian experience. Berlyn: Mouton de Gruyter.         [ Links ]

Sohn, C. 2003. Changement gestionnaire et recompositions urbaines post-apartheid. La question foncière à Windhoek. Proefskrif. Strasbourg, Frankryk: Université Blaise Pascal.         [ Links ]

Stals, Ernst & Fritz Ponelis. 2001. Só het Afrikaans na Namibië gekom: Afrikaans-Hollands in Namibië vóór die koloniale tyd. Windhoek: Gamsberg McMillan.         [ Links ]

Stals, Ernst L.P. 2009. Mórewind oor die Karasberge. 'n Kultuurhistoriese verkenning van die Karasstreek van die laat negentiende eeu. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Tötemeyer, A.J. 2010. Multilingualism and the language policy for Namibian schools. PRAESA Occasional Papers, 37.         [ Links ]

Trümpelmann G. P. J. 1948. Die boer in SWA. Argiefjaarboek vir geskiedenis, 11(2). Kaapstad: Die Staatsdrukker.         [ Links ]

Van Rensburg, M. C. J. 1989. Soorte Afrikaans. In T. J. R. Botha, F. A. Ponelis, F. F. Odendal, J. G. H. Combrink (reds.). Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 436-467.         [ Links ]

UNIN 1981. Towards a language policy for Namibia. Lusaka: United Nations Institute for Namibia.         [ Links ]

 

 

 

Gerald Stell is medeprofessor in taal-wetenskap aan die University of the West Indies en navorsingsgenoot aan die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria. Hy verwerf sy doktorsgraad in 2008 by die Vrije Universiteit Brussel. Sy proefskrif handel oor taalvariasie in die informele Afrikaanse gespreks-taal. Sy fokusgebiede sluit die verhouding tussen etnisiteit en taal, taalkontak, fonologiese en morfosintaktiese variasie in. Jongste publikasies omvat onder meer "Multilingual Accommodation in Namibia: An Examination of Six Ethno-linguistic Groups, Language Use in Intra- and Intergroup Interactions" (2016), "Ethnicity in discourse: The interactional negotiation of ethnic boundaries in post-apartheid Namibia" (2015), "Code-switching: Between Structural and Socio-linguistic Perspectives" (2015). Hy werk tans aan verskeie projekte, waaronder een wat handel oor die distinktiewe fonologiese en grammatikale kenmerke van informele variëteite van Afrikaans en Engels in Namibië.
Gerald Stell is an assistant professor of linguistics at the University of the West Indies and a research fellow in the Afrikaans Department of the University of Pretoria. He received his doctoral degree from the Free University of Brussels in 2008. His research so far has focused on language contact and language variation in Southern Africa with a specific focus on language variation in informal spoken Afrikaans. His focus areas include the relationship between ethnicity and language, language contact, phonological and morphosyntactic variation. Latest publications include "Multilingual Accommodation in Namibia: An Examination of Six Ethnolinguistic Groups Language Use in Intra- and Intergroup Interactions" (2016), "Ethnicity in discourse: The interactional negotiation of ethnic boundaries in post-apartheid Namibia" (2015), "Code-switching: Between Structural and Socio-linguistic Perspectives" (2015). He is currently working on several projects, including one that deals with the distinctive phonological and grammatical features of informal English and Afrikaans varieties used in Namibia.

 

 

Gerald Groenewald is 'n medeprofessor in die Departement Historiese Studies aan die Universiteit van Johannesburg. Hy het onder meer 'n MA in Afrikaans en Neerlandistiek en 'n PhD in Historiese Studies aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Hy doen navorsing oor die sosiale, ekonomiese en kulturele geskiedenis van die Kaap de Goede Hoop gedurende die 17de en 18de eeue, en het wyd hieroor gepubliseer, onder meer Trials of Slavery, 1705-1794 (saam met Nigel Worden). Hy stel ook belang in die ontstaan en historiese ontwikkeling van Afrikaans waaroor hy reeds etlike artikels en hoofstukke gepubliseer het.
Gerald Groenewald is an associate professor in the Department of Historical Studies at the University of Johannesburg. He graduated with inter alia a MA in Afrikaans and Dutch Studies and a PhD in Historical Studies from the University of Cape Town. His research focuses on the social, economic and cultural history of the Cape of Good Hope during the 17 and 18centuries, about which he has produced numerous publications, among others Trials of Slavery, 1705-1794 (with Nigel Worden). He is also interested in the origins and historical development of Afrikaans, and he has already published several articles and chapters focusing on these topics.
1 Hierdie persentasie sluit huishoudings in wat Afrikaans genoem het as 'n eerste, tweede of derde taal.
2 Die term "kleurling" word in hierdie artikel gebruik as 'n etniese kategorie, eerder as een wat ras aandui. As 'n etniese groep, is Namibiese kleurlinge histories te onderskei van die Basters (cf. Bruwer 1964; Marais 1962).
3 Hierdie etnolinguistiese kategorieë is die belangrikste etnolinguistiese kategorieë met 'n beduidende historiese teenwoordigheid in Windhoek. Kavango's, "Boesmans" en Tswanas is so skaars in Windhoek dat hulle gewoonlik in die kategorie "Ander" tuisgebring is, en laasgenoemde groepe het geen spesifieke residensiële areas gehad wat vir hulle opsygesit is nie (Pendleton 1996). Dieselfde geld die "Basters", wat oorweldigend in Rehoboth gewoon het gedurende die apartheidstyd. Duitssprekende Namibiese studente kon nie op die UNAM-kampus gevind word nie.
4 Dié siening is die sterkste uitgedruk deur W-informant 2, wat toevallig die enigste bestaande Afrikaans-medium skool in Windhoek ('n privaat skool) bygewoon het.
5 Die Namibiese Duitssprekende bevolking vorm histories 'n triglossiese onderdeel van die blanke gemeenskap, met Engels, Afrikaans en Duits as hul basiese taalrepertoire (Kleinz 1984).
6 Om as kleurling beskou te word (om "deur te gaan vir kleurling") was 'n algemene praktyk onder Namas gedurende die apatheidsbewind aangesien herklassifisering as "Kleurling" geassosieer is met ekonomiese voordele. Herklassifikasie was dikwels 'n opsie aangesien die fenotipologiese en kulturele verskille tussen die Namas en Baster-subgroep van die "kleurling"-raskategorie histories nie duidelik afgebakend was nie.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License