SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2Toward a Christian-philosophical analysis of evolution and evolutionism: The contribution of a consistent problem-historical methodA perceptual account of Afrikaans in Namibia: Between lingua franca and socially exclusive language author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a2 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die Nederlandse akademiese boikot teen Suid-Afrika: 'n Ontleding

 

The Dutch academic boycott against South Africa: An analysis

 

 

Otto Terblanche

Departement Geskiedenis, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth. E-pos: otto.terblanche@nmmu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die jare '60 en '70 in Nederland is gekenmerk deur 'n demokratiseringsproses. Dit sou daartoe lei dat die jeug medeseggenskap sou opeis in beleidsake. Dit was veral van belang wat die universiteitswese betref. Die links-radikale studentemassa was dus 'n faktor wat nie verontagsaam kon word nie. Nederlandse universiteite was onder druk om meer maatskaplik betrokke en relevant te word. Anti-apartheid het dus 'n populêre slagspreuk geword. Nederland en Suid-Afrika het toenemend vreemd geword vir mekaar.
Nederlandse universiteite in Amsterdam, Utrecht, Groningen en Leiden het almal hul akademiese bande met Suid-Afrikaanse universiteite verbreek. 'n Boikot- en isolasiebeleid is gevolg, aangevuur deur links-radikale studente en anti-apartheidsorganisasies. Nederlandse universiteite het eredoktorsgrade toegeken aan anti-apartheidsaktiviste soos C.F. Beyers Naudé, Govan Mbeki en Winnie Mandela, vanweë hulle uitgesproke teenstand teen apartheid. Die universiteite het ook noue bande met die ANC gesmee.
Blanke Suid-Afrikaanse studente en dosente was dus nie meer welkom op die kampusse van Nederlandse universiteite nie. Jonger Afrikaanssprekende akademici het hul rug al hoe meer op Nederland gekeer. Nederlands as akademiese taal het dus veld verloor in Suid-Afrika.
Daarenteen het Engels as akademiese taal veld gewen.

Trefwoorde: Nederland, Suid-Afrika, Kulturele Verdrag, apartheid, anti-apartheid, National Congress (ANC), akademiese boikot, Verenigde Nasies, Amsterdam, Anti-Apartheidsbeweging Nederland (AABN), Nederlandse universiteite, Potchefstroomse Universiteit


ABSTRACT

The year 1960 was a watershed in South Africa´s history. The shootings at Sharpeville, 21 March 1960, had a negative impact on South Africa's foreign relations. South Africa and the Netherlands became estranged. The boycott and sanctions movement would set in.
In 1962 the UN General Assembly set up the Special Committee against Apartheid. In 1968 the General Assembly asked all member states to suspend cultural, educational and sporting exchanges with South Africa. In 1980 the General Assembly adopted a resolution asking all member states to take steps to prevent all cultural, academic, sports and other exchanges with South Africa. A similar resolution was adopted in 1983. The European Community adopted a series of measures in 1985, inter alia to discourage cultural, sporting and scientific contacts with South Africa.
The Soweto uprising in 1976 and the death of Steve Biko in 1977 led to an outcry in the Netherlands. The Dutch government thus froze the Cultural Accord with South Africa in 1977 and it was finally abandoned in 1981.
The Anti-Apartheidsbeweging Nederland (AABN) (Anti-aparthed movement of the Netherlands) published in 1980 a Zwartboek over wetenschappelijke kontakten tussen Nederland en Zuid-Afrika (Black book concerning scientific contacts between the Netherlands and South Africa). The AABN strongly condemned scientific and academic contacts between the Netherlands and South Africa. They were also very supportive of the African National Congress (ANC). Dr. Zola Skweyiya of the scientific bureau of the ANC visited the Netherlands in 1980. He was received with open arms at Dutch universities.
The Dutch universities were a formidable ally in the anti-apartheid struggle. The Rev. C.F. Beyers Naudé received an honorary doctorate in 1972 from the Vrije Universiteit Amsterdam (VU). The VU severed its ties with Potchefstroom University in 1974 and 1976. White South African academics were no longer allowed to lecture at the VU.
The ANC stalwart, Govan Mbeki, received an honorary doctorate in 1978 from the Universiteit van Amsterdam (UvA). The ceremony was a demonstration of solidarity with the ANC and its leaders. The Govan Mbeki Fund was launched in 1977 to support South African students financially who could not complete their studies because of apartheid. The ANC was very much involved with the fund. The President of the ANC, Oliver Tambo, was invited to give a speech at the opening of the academic year in 1983.
The Rijksuniversiteit Utrecht (RUU) severed its ties with South African academic institutions in 1979. A bust of Paul Kruger was stolen from the Senate Chamber in 1979. Kruger was seen as a symbol of the apartheid policy. Winnie Mandela received an honorary doctorate from the RUU in 1986. This gesture was widely criticized. An anti-apartheid fund was also launched in 1986.
The Rijksuniversiteit Groningen (RUG) severed its ties with South African academic institutions in 1978. A follow up motion to that effect was accepted in 1985. The only contact that was acceptable was contact that was supportive of the anti-apartheid struggle. A Winnie Mandela Fund was launched in 1986 to support students that had to flee South Africa because of apartheid. The Rijksuniversiteit Leiden (RUL) severed its ties with South African academic institutions in 1978. The Dutch universities with the aid of the anti-apartheid organisations did their utmost to isolate and boycott white South Africa. In this process they were very supportive of the ANC.
The Dutch academic boycott had a negative effect in many ways. Many white South African students could no longer study at Dutch universities. Dutch as an academic language in South Africa would also lose ground. The same applied to Afrikaans in the Netherlands. The younger Afrikaans-speaking academics would pursue other academic avenues in the broader European and American context.

Keywords: The Netherlands, South Africa, Cultural Accord, apartheid, anti-apartheid, African National Congress (ANC), academic boycott, United Nations, Amsterdam, Anti-Apartheidsbeweging Nederland (AABN), Dutch universities, Potchefstroom University


 

 

1. INLEIDING

Die jaar 1960 was 'n waterskeiding in Suid-Afrika se geskiedenis. Op 21 Maart 1960 is 69 swartes deur die polisie doodgeskiet by Sharpeville buite Vereeniging. Dit was 'n doodskoot vir Suid-Afrika se internasionale betrekkinge. Nederland het met skok en verontwaardiging gereageer. Die anti-apartheidsbeweging in Nederland het momentum gekry. Die eerste anti-apartheidsorganisasie in Nederland, die Comité Zuid-Afrika (CZA), is in November 1957 gestig en in Maart 1960 heropgerig. Die CZA het eers ná Sharpeville sterk op die voorgrond getree (Muskens 2014: 48-53, 61). Dit was ook die begin van die sanksie- en boikotbeweging teen Suid-Afrika. Die druk op Suid-Afrika sou jaar na jaar toeneem (De Boer 1999:81-88).

Suid-Afrika en Nederland het in die jare sestig al hoe verder uitmekaar gedryf. Suid-Afrika was die toonbeeld van 'n konserwatiewe, nasionalistiese staat. Daarteenoor is die jare '60 in Nederland gekenmerk deur 'n kulturele revolusie. Dit was die era van vernuwing, modernisering en demokratisering. Dié jare is gekenmerk deur 'n generasiekloof, ' gesagskrisis, toenemendepolarisasie en opstandigheid by die jeug. Studente-opstande sou ook mettertyd volg. Die demokratiseringsproses sou daartoe lei dat die jeug medeseggenskap sou opeis in beleidsake.

Dit was veral belangrik wat die universiteitswese betref. Nederlandse universiteite was onder druk om meer maatskaplik betrokke en relevant te word. Dit is in die lig hiervan dat Schutte die volgende stelling maak: "Nederland en Zuid-Afrika waren elkaar inderdaad vreemd geworden" (Schutte 2005:462-470; Terblanche 1998:15-19).

 

2. OPTREDE VAN VERENIGDE NASIES EN EUROPESE GEMEENSKAP

Die Nederlandse akademiese boikot teen Suid-Afrika moet beoordeel word teen die agtergrond van die anti-apartheidsaksies wat deur die Verenigde Nasies (VN) en die Europese Gemeenskap (EG) veral ná 1960 onderneem is. Die Algemene Vergadering van die VN het reeds in 1962 die "Special Committee against Apartheid" opgerig. In 1968 het die Algemene Vergadering alle lidstate gevra om kulturele, opvoedkundige en sportbande met Suid-Afrika op te skort, en in 1973 het die Algemene Vergadering apartheid as "a crime against humanity" verklaar. Die Algemene Vergadering van die VN het in Desember 1980 'n resolusie aanvaar waarin 'n beroep op alle lidlande gedoen is "to take steps to prevent all cultural, academic, sports and other exchanges with South Africa". Alle kulturele en akademiese samewerking met Suid- Afrika moes gestaak word, "including the exchange of scientists, students and academic personalities, as well as cooperation in research programmes." 'n Beroep is op alle akademiese instellings gedoen om alle bande met Suid-Afrika te verbreek (United Nations 1994:66,73,355).

In Mei 1981 het die VN 'n "International Conference on Sanctions against South Africa" in Parys georganiseer. Alle lidlande is versoek om kulturele en wetenskaplike kontakte met Suid-Afrika op te skort. Die konferensie het klem gelê op die konstruktiewe betekenis van 'n kulturele en akademiese boikot. Die Algemene Vergadering het vervolgens in Desember 1983 'n "Programme of Action against Apartheid" goedgekeur. 'n Beroep is op alle lidlande gedoen om alle kulturele en akademiese samewerking met Suid-Afrika te staak. Dit sluit in die uitwisseling van wetenskaplikes, studente en akademici (United Nations 1994:366, 382).

Die Europese Gemeenskap (EG) se optrede teen Suid-Afrika was tot en met 1977 van 'n lae intensiteit en meer simbolies van aard. Die Soweto-opstand van 1976 sou egter vir 'n kentering sorg. Die EG het naamlik in September 1985 wydlopende sanksies ingestel wat kulturele, sport- en wetenskaplike kontakte met Suid-Afrika betref (Olivier 2006:26-30).

 

3. OPSEGGING VAN KULTURELE VERDRAG

Die Kulturele Verdrag tussen Nederland en Suid-Afrika is op 31 Mei 1951 in Den Haag onderteken. Die Verdrag is deur die Nederlandse parlement goedgekeur en in Mei 1953 bekragtig. Die Verdrag het as oogmerk gehad om "de vriendschappelijke betrekkingen, die steeds tussenbeide volken hebben bestaan, te bestendigen". Die Verdrag wou deur vriendskap-like uitwisseling en samewerking tussen beide lande kennis en begrip bevorder van die werksaamheid op geestelike, intellektuele, artistieke, wetenskaplike, opvoedkundige en tegniese gebied. Voorsiening sou gemaak word vir die uitwisseling van die wetenskaplike personeel van instellings van hoër onderwys, dosente, onderwysers, navorsers en studente. Boeke, tydskrifte en ander publikasies sou oor en weer geskenk word. Beurse sou ook beskikbaar gestel word aan studente en akademici (Stichting "VN-jaar voor de sankties tegen Zuid-Afrika" 1983:34-35).

Die Soweto-opstand wat op 16 Junie 1976 uitgebreek het, het die Kulturele Verdrag onder groot druk geplaas. Die Nederlandse regering het in 'n nota herbevestig dat hy apartheid prinsipieel afkeur. Die progressiewe kabinet van Den Uyl het bly glo aan die voer van 'n kritiese dialoog. Twee gebeure in September 1977 was egter vir die Nederlandse regering die laaste strooi. Eers was daar die dood van die Swartbewussynsleier, Steve Biko, en daarna is visums geweier aan drie verteenwoordigers van die Nederlandse Hervormde Kerk wat Suid-Afrika wou besoek. Op 23 September 1977 het die Nederlandse regering gevolglik besluit om die Kulturele Verdrag te bevries. Om verder sout in die wonde te vryf, het die Suid-Afrikaanse owerheid in Oktober 1977 alle Swartbewussynsorganisasies verbied, asook die voorste swart koerant in Johannesburg, The World, en die Christelike Instituut van Beyers Naudé. Die Nederlandse regering het daarop besluit om die Kulturele Verdrag met Suid-Afrika op te sê (Van der Watt 1992:1-4; De Boer 1999:334-336, 346-356).

Die wetlike proses om die Verdrag tot niet te verklaar, is daarna aan die gang gesit. Die wetsontwerp om die Verdrag amptelik op te sê is in April 1981 deur die Tweede Kamer en in Junie 1981 deur die Eerste Kamer aangeneem. Dit het baie implikasies vir Suid-Afrikaanse burgers gehad. Alle Suid-Afrikaanse burgers moes byvoorbeeld vanaf 1 Januarie 1983 aansoek doen om 'n visum om Nederland te besoek. Suid-Afrikaners wat Nederland wou besoek vir doeleindes van sport, kultuur en wetenskap het nie noodwendig 'n visum ontvang nie (Amandla 1983:25; Zuid-Afrika 1983:1).

'n Ander implikasie was dat Nederlandse regeringsbeurse vir akademici en studente verval het. Die uitwisseling van akademici is daardeur nadelig getref. Die visumbeleid is ook ná 1985 verder verskerp. Die Verdrag van Schengen, 1985, het dit vir Suid-Afrikaanse studente en dosente wat langer as drie maande in Nederland wou bly, baie moeilik gemaak (De Waard- Bijlsma & De Waard 2010:24, 31-33).

 

4. ZWARTBOEK OVER WETENSCHAPPELIJKE KONTAKTEN

Die Anti-Apartheidsbeweging Nederland (AABN), opgerig in 1971, het in Maart 1980 'n "Zwartboek over wetenschappelijke kontakten tussen Nederland en Zuid-Afrika" gepubliseer. Volgens die AABN word daar op universiteite en kolleges nie genoeg gedoen om die kontakte met Suid-Afrikaanse akademiese instellings te beëindig nie. Inteendeel, sedert die Kulturele Verdrag bevries is (1977), lyk dit asof die kontakte aansienlik uitgebrei het. In die voorafgaande twee jaar is daar byvoorbeeld by die AABN meer as twintig gevalle aangemeld van toenemende akademiese samewerking met "apartheidsinstellingen". Van hierdie gevalle is in die "Zwartboek" bespreek. Die AABN sou in hierdie verband as 'n waghond optree (AABN 1980:66).

Die AABN het selfs die indruk gekry dat die Nederlandse owerheid 'n aktiewe rol gespeel het by "het leggen van kontakten met 'apartheidswetenschappers'". Volgens die AABN was daar te veel geheimsinnigheid rondom hierdie "apartheidskontakten". Hulle pleit dus vir groter openheid wat wetenskaplike- en onderwyskontakte met Suid-Afrika betref. Besoeke van Suid-Afrikaanse akademici aan Nederlandse onderwysinstellings moet dus aangemeld word.

Die AABN het daarom gepleit dat wetenskaplike- en onderwyskontakte met Suid-Afrika beëindig word. Dit het beteken dat die Nederlandse regering nie meer betrokke moet wees by die lê van kontakte nie. Die AABN het ook gepleit dat die Kulturele Verdrag opgesê word en dat alle besoeke van Suid-Afrikaanse wetenskaplikes aan Nederland stopgesit moet word. Hulle het ook geëis dat Suid-Afrikaanse afgevaardigdes nie internasionale kongresse bywoon nie (AABN 1980:66-68).

Die AABN het die African National Congress (ANC) sterk ondersteun. Die verbreking van die bande met die "apartheidstaat" Suid-Afrika was slegs één kant van die munt. Daarnaas moes kontakte opgebou word met die ANC, die bevrydingsbeweging van Suid-Afrika. Die ANC het gestreef na 'n demokratiese staat, gebaseer op die wil van die hele volk, wit en swart, aldus die AABN. Die AABN het gepleit dat die onderwys- en navorsingsprogramme van die ANC ondersteun moet word. Universiteite en kolleges moes hiertoe 'n finansiële bydrae lewer.

Universiteite en kolleges moes ook die inhoud van hul navorsing en onderwys in diens stel van die bevryding van Suid-Afrika. In dié verband moes nou saamgewerk word met die ANC.

Dit was ook belangrik dat studente van die ANC, wat hul in die buiteland bevind het, hul universiteitsopleiding voltooi. Want ná bevryding van Suid-Afrika sal geskoolde kaders onontbeerlik wees (AABN 1980:65-68).

 

5. STEUN VIR DIE ANC

In die jare '70 het baie Nederlandse universiteite en tegniese kolleges mosies aangeneem waarin geëis is dat die kontakte met die apartheidstaat Suid-Afrika en sy wetenskaplike instellings verbreek word. Dikwels is daaraan toegevoeg: "tenzij deze kontakten een steun aan de strijd tegen apartheid betekenen". Die standpunt is naamlik gehuldig dat die stryd teen apartheid die beste ondersteun kan word deur die ANC met alle moontlike middele, ook vanuit Nederlandse wetenskaplike instellings, te ondersteun (Zuidelijk Afrika Nieuws, April 1980:14).

Dr. Zola Skweyiya van die wetenskaplike buro van die ANC het Nederland in Maart 1980 besoek. Sy besoek het saamgeval met die publikasie van die AABN se "Zwartboek over wetenschappelijke kontakten tussen Nederland en Zuid-Afrika: Steun het ANC." Sy besoek van twee weke, 6-21 Maart 1980, is deur die AABN georganiseer. Dr. Skweyiya het die universiteite en tegniese kolleges van Groningen, Enschede, Wageningen, Nijmegen, Delft, Utrecht, Leiden, die Vrije Universiteit Amsterdam en die Universiteit van Amsterdam besoek.

Hy het gepoog om meer permanente kontakte te lê tussen die ANC en die Nederlandse universitêre instellings. Hy is met groot geesdrif ontvang. Opvallend was die positiewe gesindheid jeens die ANC van die kant van die bestuur van die universiteite en kolleges (Zuidelijk Afrika Nieuws, April 1980:14).

Tydens dr. Skweyiya se besoek is 'n groot aantal moontlikhede vir steun aan die ANC vanuit universiteitsgeledere geopper. Beurse kon byvoorbeeld aan ANC-studente toegeken word vir verdere studie in Nederland of in Lusaka, Zambië. Die Solomon Mahlangu Vryheidskool van die ANC in Tanzanië kon op diverse maniere ondersteun word, sowel as die navorsingsafdeling van die ANC in Lusaka. ANC-wetenskaplikes kon ook gehelp word wat die finansiering van die drukkoste van hul verhandelinge betref. Navorsing kon ook aan Nederlandse universiteite gedoen word ten behoewe van die ANC (AABN, 11 April 1980: Verslag bezoek Skweyiya aan Nederland).

Die Universiteit van Amsterdam het in Januarie 1978 'n eredoktoraat aan die ANC-versetstryder, Govan Mbeki, toegeken. As uitvloeisel daarvan het die universiteit die Govan Mbeki Fonds ingestel. Die fonds beoog om oor 'n tydperk van tien jaar 'n bedrag van 10,000 gulden per jaar ter beskikking te stel. Die bedoeling was om finansiële ondersteuning te gee aan Suid-Afrikaanse studente wat as gevolg van apartheid nie hul studie in Suid-Afrika kon voltooi nie. Die fonds is op 21 Maart 1980 amptelik van stapel gestuur. Dr. Skweyiya het hierdie geleentheid by die Universiteit van Amsterdam bygewoon. Dit was 'n gepaste einde vir sy besoek aan Nederland (AABN 1980:73).

 

6. VRIJE UNIVERSITEIT AMSTERDAM

Die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys het sy volwaardige universi-teitstatus in 1951 verkry. In 1958 is 'n ooreenkoms onderteken tussen die Potchefstroomse Universiteit (PU) en die Vrije Universiteit te Amsterdam (VU). Die ooreenkoms het voorsiening gemaak vir die onderlinge uitwisseling van dosente. Die PU en VU was beide Gereformeerde instellings met die klem op 'n Christelike wetenskap. Die Suid-Afrikaanse apartheidsbeleid het weldra tot vervreemding gelei. Die eerste openbare debat oor apartheid by die VU het reeds in November 1959 plaasgevind. Die studentegemeenskap van die VU het meer en meer krities oor apartheid geword (Schutte 2005:394-395).

Nederland het in die jare '60 'n sosio-kulturele omwenteling ondergaan. Die universiteite is regstreeks daardeur geraak. Liberale en Marxistiese studente het 'n groter inspraak in die bestuur van universiteite geëis. Universiteite moes ook meer maatskaplik betrokke en relevant word. Daar was nou 'n groter klem op die Derde Wêreld en op menseregte. Teen 1970 het meer as die helfte van die studente aan die VU geen Gereformeerde agtergrond gehad nie. Dit is teen hierdie agtergrond dat die swart Amerikaanse burgerregteleier, Martin Luther King, in 1965 'n eredoktoraat van die VU ontvang het, tot die ontsteltenis van die NG Kerk-sinode. Voortvloeiend hieruit het die VU in 1971 'n nuwe doelstelling gekry, met klem op die rol van die Christen in die samelewing, gefokus op die nood van mense, kolonialisme en rassisme. Nederland en Suid-Afrika het inderdaad vreemdelinge vir mekaar geword Schutte 2005:462-470, 656; Schutte 2010:128-129).

Die bekende ds. C.F. Beyers Naudé, direkteur van die ekumeniese, nie-rassige Christelike Instituut, was vanweë sy radikale anti-apartheidsuitsprake hoog geag in Nederlandse anti- apartheidskringe. Die VU het gevolglik op 20 Oktober 1972 'n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Volgens die bekende Nederlandse historikus, prof. Gerrit Schutte, was dié eerbetoon "een afscheid van de oude traditie van 'stamverwantschap' en 'geestverwantschap'" (Schutte 2005:511-514; Schutte 2010:139-141). Dit het 'n duidelike boodskap gestuur: "De VU koos tegen de apartheid en voor solidariteit met de slachtoffers daarvan" (Schutte 2005:656; Schutte 2010:139-141). In sy dankwoord by dié plegtigheid het Naudé 'n beroep op Christene gedoen "to lend full support to the removal of all forms of racial discrimination and racial injustice" (Vrije Universiteit 1975:1-7). In sy outobiografie het Naudé gemeld dat die Afrikaners én die NG Kerk die eredoktoraat as "verraad" beskou het (Naudé 1997:12; Schutte 2005:511-514, 656; Schutte 2010:139-141; Vrije Universiteit 1975:1-7).

Potchefstroom was steeds nie bereid om afskeid te neem van apartheid nie. Die universiteitsraad van die VU het in April 1973 'n eenparige besluit geneem dat apartheid eties en polities onaanvaarbaar was. In Oktober 1974 het die universiteitsraad van die VU gevolglik besluit om die ooreenkoms met die PU vir CHO op te sê. In Augustus 1976 het die VU finaal besluit om al sy amptelike bande met die PU te verbreek. Daar sou dus voortaan géén amptelike kontak tussen die twee universiteite meer wees nie (Schutte 2005:536-543, 561-567; Schutte 2010:146-162; Beeld, 26 Augustus 1976).

Die opsegging van die ooreenkoms met Potchefstroom het vir alle praktiese doeleindes 'n einde gemaak aan die akademiese uitwisseling tussen die twee universiteite. Wit Suid-Afrikaanse gasdosente was ook nie meer welkom op die VU-kampus nie. Die VU sou bewus-telik daarna strewe om sedert 1973 meer kontak op te neem met swart Afrika. 'n Samewerkings-ooreenkoms is byvoorbeeld gesluit met die Universiteit van Botswana, Lesotho en Swaziland (UBLS). Bande is ook gesmee met universiteite in Zambië en Kongo/Zaïre (Trouw, 6 Oktober 1973; Schutte 2005:624-633).

Die taalwetenskaplike, dr. R.P. Botha van Stellenbosch, is in Januarie 1976 uitgenooi as gasdosent aan die VU. Die uitnodiging is egter afgekeur deur die subfakulteitsraad van die afdeling Algemene Taalwetenskap, omdat dit strydig was met die internasionale oproep tot isolering van die apartheidsbewind. Botha is in 1980 opnuut benoem as hoogleraar in die Algemene Taalwetenskap aan die VU. Daar is luidrugtig teen sy benoeming geprotesteer en in Mei 1980 het die fakulteitsraad van Lettere aan die VU sy benoeming afgewys, onder meer omdat hy 'n blanke Suid-Afrikaner was. Die VU wou ook nie sy betrekkinge met swart Afrika-state skaad nie (Trouw, 22 Januarie 1976; Die Burger, 30 Mei 1980; Zuid-Afrika, Junie 1980; Schutte 2005:594-596).

Ander Suid-Afrikaners sou ook slagoffers word van die boikotstrewe. Dr. A.B. du Toit, dosent in politieke filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch, is einde 1977 genooi om 'n reeks lesings aan die VU te gee. Du Toit was bekend as 'n teenstander van die apartheidsbeleid. Vanweë die politieke verwikkelinge in Suid-Afrika is die uitnodiging aan hom egter teruggetrek.

Dit het die indruk gewek dat "een gastdocent mag marxist zijn, maoïst, atheïst", maar nie 'n blanke Suid-Afrikaner nie. Die radikale studente sou Du Toit klaarblyklik aanvaar het as hy sou gekom het as verteenwoordiger van die ANC (AABN 1980:35-38; Zuid-Afrika, Januarie 1978; Amandla, Januarie 1978).

Die fakulteitsraad van die regsfakulteit aan die VU het in Oktober 1978 besluit om die Suid-Afrikaanse hoogleraar regsfilosofie, prof. J.D. van der Vyver, uit te nooi as 'n gasdosent aan die VU. Van der Vyver het kort tevore by die Potchefstroomse Universiteit ontslag geneem vanweë sy kritiese houding oor aspekte van apartheid. Radikale studente het daarteen in opstand gekom, want in hulle oë was Suid-Afrika "een land dat alleen maar geboycot mag worden". Van der Vyver het gevolglik die uitnodiging van die hand gewys. Sy pogings om gedurende 1985/1986 as gasdosent navorsing aan die VU te doen, is ook verydel. Volgens die boikotgesindes aan die VU was Van der Vyver "geen echt bestrijder van de apartheid" (AABN 1980:38-40; Amandla, Desember 1978; Zuid-Afrika, November/Desember 1978 en Junie 1984; Schutte 2005:596-598).

Die Potchefstroomse Universiteit het in 1979 besluit om 'n eredoktoraat toe te ken aan prof. H. van Riessen, hoogleraar filosofie aan die VU. Van Riessen, wat simpatiek was jeens aspekte van apartheid, het die eredoktoraat aanvaar. 'n Storm van protes het toe losgebars. Die universiteitsraad van die VU het die toekenning van die eredoktoraat ten sterkste afgekeur.

Die studenteraad het die aanvaarding van die eredoktoraat as 'n politieke daad beskou en 'n klap in die gesig van die aktiewe verset in Suid-Afrika. Van Riessen het op die ou end tog na Potchefstroom gegaan om die eredoktoraat persoonlik in ontvangs te neem (AABN 1980:17-18; Amandla, Mei 1979).

Die swart Suid-Afrikaner, J.M. (Johnny) Nchabeleng, het sy doktorale eksamen aan die VU in Desember 1978 geslaag. Direk daarna het hy in diens van die VU getree. In die woorde van Schutte: "Voor hem geen boycot, maar positieve discriminatie" (Schutte 2005:591-593).

 

7. UNIVERSITEIT VAN AMSTERDAM

Die Universiteit van Amsterdam (UvA) het ook 'n leidende rol gespeel in die stryd teen apartheid. Die moontlike besoek van prof. N.J. Rhoodie, sosioloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, in April 1973 aan Nederland het tot groot onmin aanleiding gegee. Hy sou ook lesings aan die UvA gegee het. Daar is in die Nederlandse pers na Rhoodie as die "apartheidsosioloog" verwys, omdat hy in sy boeke 'n voorstander van apartheid sou gewees het. Die UvA-studente was sterk teen sy besoek gekant. Hulle was van mening dat geen materiële en morele steun verleen moes word aan mense wat die apartheidsidee propageer en ondersteun nie. Die betrokke studiegroepe het gevolglik einde Maart 1973 besluit om die uitnodiging aan Rhoodie terug te trek (Folio Civitatis, 17 Maart 1973 en 31 Maart 1973).

Die eerste leerstoel Zuid-Afrikaanse taal- en letterkunde is in 1933 aan die UvA, toe nog bekend as die Gemeentelijke Universiteit, ingestel. Die bekende N.P. van Wyk Louw het die leerstoel van 1950 tot 1958 beklee as "buitengewoon hoogleraar." Hy is opgevolg deur H. van der Merwe Scholtz, 1959-1962. Ná Scholtz se vertrek was die leerstoel vir 40 jaar onbeset op professorale vlak. As gevolg van politieke druk en akademiese boikotaksies is die leerstoel in die jare '70 opgehef. Die "College van Bestuur" van die UvA het eers in April 2000 die nodige toestemming gegee vir die herinstelling van 'n "bijzondere" leerstoel Zuid-Afrikaanse letterkunde (Jansen 2014:385-395; Veltkamp-Visser 2003:50-53).

Die UvA het op 9 Januarie 1978 'n eredoktoraat aan die ANC-strydros, Govan Mbeki, toegeken. Hy het in daardie stadium lewenslange gevangenisstraf op Robbeneiland uitgedien. Die voorstel is gemaak in die kader van die dertigjarige bestaan van die fakulteit Sosiale Wetenskappe aan die UvA. Dit het in die teken gestaan van "de strijd tegen het fascisme". Die studentevakbond het binne 'n paar weke 1,000 handtekeninge versamel vir die toekenning van die eredoktoraat. Die AABN het die universiteit voorsien van die nodige inligting oor die ANC en Govan Mbeki. Die AABN het hulle ook beywer vir die vrylating van Mbeki en ander politieke gevangenes in Suid-Afrika. Die kollege van dekanen van die UvA het aanvanklik geweier om die eregraad te verleen. Die universiteitsraad het egter eventueel eenparig besluit om Mbeki te vereer (Muskens 2014:257-258; Zuid-Afrika, Januarie 1978).

Die verlening van die eredoktoraat het onder groot belangstelling in die Aula plaasgevind. Moeletsi Mbeki het die eregraad namens sy vader in ontvangs geneem. Die ANC is verteenwoordig deur sy sekretaris-generaal, Alfred Nzo. 'n Groot banier is ook in die Aula vertoon met die woorde: "Mbeki moet vrij". Die plegtigheid was 'n demonstrasie van solidariteit met die ANC en sy leiers. Die plegtigheid het in die teken gestaan van 'n politieke manifestasie.

Dit was "een konkrete, schitterende erkenning van het ANC". Opvallend was die feit dat die AABN intiem gemoeid was met die verlening van die eregraad aan Mbeki. Politieke druk was dus deurentyd aanwesig, vóór en ná die plegtigheid (Zuid-Afrika, Januarie 1978; Zuidelijk Afrika Nieuws, Desember 1977 en Februarie 1978).

Die instelling van die Govan Mbeki Fonds deur die UvA is gekoppel aan die toekenning van die eredoktoraat aan Mbeki. Die College van Bestuur van die UvA het in Desember 1977 'n besluit geneem om so 'n fonds te loods. Die College van Bestuur het besluit om oor 'n tydperk van tienjaar 'n bedrag van 10,000 gulden perjaar ter beskikking van die fonds te stel. Die doelstellings van die fonds was:

Die finansiële ondersteuning van Suid-Afrikaanse studente wat as gevolg van die apartheidsbeleid nie in staat was om hul studie in Suid-Afrika te voltooi nie.

Die stimulasie van wetenskaplike werk in ooreenstemming met die gedagtegang van Govan Mbeki, en die publikasie van die navorsingsuitsette.

Daar sal ook deurentyd oorleg gepleeg word met die ANC en die Mbeki-familie (AABN 1980:73).

Die eerste student wat finansieel ondersteun is deur die Govan Mbeki Fonds was M. Mancini. Hy het sy navorsing in Augustus 1982 voltooi by die Instituut vir Sosiale Studie. Sy publikasie het gehandel oor "A Survey of manpower training and development in South Africa" ( Report on Govan Mbeki Fund, June 1983).

Aan die UvA is dit tradisie dat by die amptelike opening van die akademiese jaar 'n rede gehou word deur iemand van "buite". In 1983 was dit vyf jaar sedert Govan Mbeki 'n eredoktoraat ontvang het; dit was ook vyf jaar sedert die instelling van die Govan Mbeki Fonds. Die UvA het dus reeds hegte bande met die ANC opgebou. Oliver Tambo, president van die ANC, is gevolglik gevra om die rede te hou op 5 September 1983. Dit was die eerste keer dat 'n president van 'n belangrike bevrydingsbeweging uitgenooi is. Die uitnodiging aan Tambo was "een politieke erkenning van het ANC als drager van het perspektief op een vrij Zuid-Afrika". 'n Studentekoor het swart strydliedere in die Aula van die UvA gesing. Na die rede van Tambo is Nkosi Sikelel' iAfrika gesing. Die verrigtinge het dus 'n sterk ANC stempel gedra (Zuidelijk Afrika Nieuws, Augustus 1983).

Die tema van Tambo se toespraak was "The role of Europe in the quest for peace in southern Africa". Hy het hom sterk uitgespreek teen die "Pretoria-regime, dat nog steeds wordt geleid door aanhangers van Adolf Hitler en de Nazi-Partij". Volgens Tambo ken apartheid "dezelfde intense raciale haat als Hitler". Hy was baie krities oor die Verenigde State wat slegs in eie belang handel, sonder om aandag te skenk aan die belange van die swart meerderheid in Suid-Afrika. Europa moes dus besluit of hy ondergeskik wil bly aan grote broer Amerika".

Hy het Wes-Europa uitgedaag om vriendskapsbande met die ANC te vorm, gebaseer op die menslike strewe na vryheid, vrede en demokrasie (Grewel 1983).

 

8. RIJKSUNIVERSITEIT UTRECHT

Dr. Jan Smit, kernfisikus van die Potchefstroomse Universiteit, was vir ses maande (Desember 1978 tot Mei 1979) werksaam by die kernfisika instituut van die Rijksuniversiteit Utrecht (RUU). Dit het tot protesaksies onder die natuurkundestudente gelei. 'n Artikel in 'n studenteblad het geëis dat die kontakte met Suid-Afrika verbreek moes word, veral op die gebied van die kernfisika. Die artikel het daarop gesinspeel dat Suid-Afrika planne het om 'n atoombom te maak. Die blad was ongelukkig oor die aanstelling van Smit, omdat die Nederlandse regering reeds in September 1977 besluit het om die Kulturele Verdrag met Suid-Afrika te bevries. 'n Aksiekomitee "Verbreek de banden met Zuid-Afrika" is opgerig en daar is ook besluit om met 'n handtekeningaksie te begin. Hierdie veldtog teen Smit het groot belangstelling uitgelok in die Nederlandse dagblaaie. Die aksiekomitee het die publisiteit gekry wat hulle gesoek het.

Die Smit-sage het tot in die Nederlandse parlement gedraai. Die Nederlandse minister van Onderwys, A. Pais, het in antwoord op 'n vraag verklaar dat hy geen stappe gaan doen oor die teenwoordigheid van Smit by die RUU nie. Ondanks die hele bohaai oor die aangeleentheid het Smit sy volle termyn van ses maande uitgedien (Koppenol 1979:1-5; AABN 1980:41-42).

Die universiteitsraad van die RUU het in Maart 1979 'n mosie aangeneem dat "het niet wenselijk is dat enig onderdeel van de RUU betrekkingen onderhoudt met in Zuid-Afrika gevestigde wetenschappelijke instellingen of met personen die aan deze instellingen werkzaam zijn". In Mei 1979 het die raad 'n verdere besluit geneem dat die kontakte met Suid-Afrikaanse universiteite verbreek moes word totdat die Nederlandse regering die Kulturele Verdrag met Suid-Afrika herstel het (Koppenol 1979:5; Van Rinsum 2006:152).

In Utrecht het die stryd teen apartheid op velerlei fronte voortgewoed. Op 6 Maart 1979 is 'n beeldjie van Paul Kruger uit die Senaatsaal van die RUU gesteel. Volgens 'n Nederlandse tydskrif was daar 'n "spektakulaire kidnapping" van Kruger se beeld. Groot publisiteit is aan die saak gegee. Die beeld is in 1936 aan Utrecht geskenk deur 'n Suid-Afrikaanse universiteit by geleentheid van die 300-jarige bestaan van die RUU. Volgens die universiteitsraad was die beeld ongeveer R20,000 werd. Die aksiegroep "Beeldenstorm tegen apartheid" het verantwoordelikheid vir die diefstal aanvaar. Die aksiegroep het die beeld beskou as 'n simbool van die apartheidspolitiek. Hulle het aanvanklik daaraan gedink om die beeld op die swartmark ten behoewe van die ANC te verkoop.

Die universiteitsraad het daarop aangedring dat die beeld eers teruggegee moes word voordat verder oor die aksiegroep se eise onderhandel kon word. Die beeld is toe teruggegee. Die raad het hom toe bereid verklaar om 'n Tanzaniese Makonde-beeld, simbool van die anti-apartheidstryd, aan te skaf. Fondse is daarna ingesamel om die Makonde-beeld aan te skaf. Die restant is gebruik vir onderwysprojekte in vlugtelingkampe van die ANC. Die Makonde-vryheidsbeeldjie is in Maart 1980 in die Senaatsaal onthul. Die Kruger-beeldjie is intussen veilig bewaar in die universiteitsmuseum. In 2004 het die Kruger-beeldjie 'n beskeie en onopvallende plek in die Academiegebouw van die RUU gekry. Die teenwoordigheid van die Kruger-beeldjie is tekenend van die ryklik geskakeerde verhouding tussen die RUU en Suid-Afrika (Van Rinsum 2006:150-158, 177-178).

Twee lede van die sielkunde departement aan die Randse Afrikaanse Universiteit, dr. J. Raubenheimer en F. Hugo, is in 1985 genooi na 'n simposium by die RUU. Van albei die akademici is egter verwag om vooraf skriftelik te verklaar dat hulle die universele verklaring van menseregte onderskryf. Dit het hulle gedoen. Toe moes hulle ook nog sertifiseer dat hulle apartheid verwerp. Hul verklarings is aanvaar en visums is toegestaan. In Nederland aangekom, is hulle egter by hul hotel ingelig dat hulle nie welkom is by die RUU nie. As verduideliking is aangevoer dat die universiteit reeds in 1979 besluit het teen enige wetenskaplike betrekkinge met Suid-Afrikaners. Na aanleiding van die voorval het die Suid-Afrikaanse ambassade ernstig beswaar gemaak by die RUU. Die universiteit is daarvan beskuldig dat hulle rassisties teen die twee akademici gediskrimineer het op grond van hul Suid-Afrikaanse burgerskap (Rapport, 28 Julie 1985).

Die voormalige Boeregeneraals, J.C. Smuts en J.B.M. Hertzog, het in 1936 by geleentheid van die 300-jarige bestaan van die RUU eredoktorate in Regsgeleerdheid ontvang (Van den Bergh 2001:49). Op 11 Junie 1986, by geleentheid van die 350-jarige bestaan van die RUU, het Winnie Mandela, vrou van Nelson Mandela, 'n eredoktoraat in Regsgeleerdheid ontvang. Winnie Mandela was in Suid-Afrika 'n verbanne persoon en kon dus nie die land verlaat nie. Haar ere-doktoraat is derhalwe in ontvangs geneem deur die ANC-verteenwoordiger in die Benelux. Die graad is aan haar toegeken omdat sy deur haar woorde en dade inhoud en betekenis gegee het aan die regte van die mens. Sy was 'n bron van inspirasie omdat sy haar beywer het vir die selfbeskikkingsreg en emansipasie van die swart bevolking, aldus die RUU (Van Rinsum 2006:160-161).

Mandela het in 'n onderhoud verklaar dat sy bly is dat universiteite 'n rol speel in die stryd teen apartheid. Daardeur is die res van die wêreld bewus van die toestand van die onderdrukte swartes in Suid-Afrika. Sy het haar weereens sterk uitgespreek ten gunste van die boikot en isolasie van Suid-Afrika op alle terreine (U-blad, 21 Maart 1986).

Daar is uit verskeie oorde kritiek uitgespreek op die eredoktoraat van Mandela. Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland, D.V. Louw, het in 'n verklaring verwys na die volgende uitspraak van Winnie Mandela: "Together, hand in hand with our boxes of matches and our necklaces, we shall liberate this country". Louw het daarby gevoeg: "Het ANC gaat te werk volgens de blauwdrukken van andere communistisch-geïnspireerde revolutionaire groepen, t.w. extreme vormen van geweld die moeten dienen om de lokale bevolking onder dwang te zetten" (Suid-Afrikaanse Ambassade, Den Haag, geen datum). Die rubriekskrywer, J.A.A. van Doorn, het die RUU verwyt dat hulle die eredoktoraat nie goed deurdink het nie. Hy was veral krities oor Mandela wat geweld teen die blankes openlik aanmoedig. Volgens Van Doorn was die eredoktoraat aan Mandela 'n premie op onbeheerste en onverantwoordelike geweld (NRC, 19 Junie 1986 en 10 Julie 1986).

'n Anti-apartheidsfonds is teen die einde van 1986 op inisiatief van 'n paar fakulteite opgerig. Die jaarlikse begroting was 35,000 gulden. Die fonds het as doelstelling gehad om 'n studiebeurs van twaalf maande toe te ken aan 'n student wat die slagoffer was van die apartheidsbewind in Suid-Afrika. Noue kontak is uiteraard met die ANC onderhou. Op 12 September 1988 is die eerste anti-apartheidsdag van die RUU georganiseer. By dié geleentheid is 'n anti-apartheidskoerant uitgegee (Van Rinsum 2006:163-164).

 

9. RIJKSUNIVERSITEIT GRONINGEN

In 1976 het die ekonoom, prof. H. de Haan van die Rijksuniversiteit Groningen (RUG), Suid-Afrika besoek. By sy terugkeer het hy te kenne gegee dat nie alles in Suid-Afrika afkeurenswaardig was nie. Hy het vervolgens sy Suid-Afrikaanse kollega, P. Strijdom, uitgenooi om in 1977 in Groningen lesings oor die Suid-Afrikaanse ekonomie te gee. Strijdom was geen voorstander van apartheid nie, maar van sy besoek wou die linkse studente niks weet nie. Pamflette is versprei waarin studente opgeroep word om nie sy lesing by te woon nie. Die anti-apartheidsproteste aan die RUG is veral geïnisieer deur die Groninger Studentebond wat geaffilieer was aan die Kommunistiese Party van Nederland. Daar was ook noue bande tussen die studentebond en die AABN (Muskens 2014:247-248).

In Januarie 1978 het die bestuur van die subfakulteit Wiskunde van die RUG besluit om 'n subsidie ter beskikking te stel vir 'n besoek van dr. L.C.A. van Leeuwen, wetenskaplike hoofmedewerker van die subfakulteit, aan Suid-Afrika. Hy sou onder meer lesings gee aan die universiteite van Pretoria en Bloemfontein. Linkse studente was erg verontwaardig hieroor en het 'n handtekeningaksie geloods. In hul petisie het hulle die toekenning van die subsidie skerp veroordeel en geëis dat die subfakulteit geen kontakte met Suid-Afrikaanse universiteite sou onderhou nie. Die uiteinde van die saak was dat dr. Van Leeuwen van sy omstrede reisplanne afgesien het (AABN 1980:45; Amandla, November 1978).

Die universiteitsraad het toe in April 1978 'n mosie aanvaar wat verklaar het dat die RUG "op geen enkele manier mag meewerken aan officiële betrekkingen met Zuid-Afrika, tenzij er sprake is van steun aan de strijd tegen apartheid" (Amandla, Augustus/September 1978).

In Februarie 1985 het die universiteitsraad 'n verdere mosie aanvaar: "een duidelijk 'nee' tegen bestuurlijke én wetenschappelijke kontakten met Zuid-Afrika, zolang deze niet bijdragen aan de anti-apartheidstrijd". Die nuwe mosie moes dus nie alleen voorkom dat Suid-Afrikaners die RUG besoek nie, maar moes ook voorkom dat studente of wetenskaplike medewerkers van die RUG na Suid-Afrika gaan (Amandla, Maart 1985).

Die Suid-Afrikaanse ekonoom, H.B. Falkena, het in Mei 1979 sy doktorsgraad aan die RUG verwerf. Sy proefskrif het gehandel oor "Die makro-ekonomiese verband tussen die openbare en privaatsektor in Suid-Afrika". Falkena het onder meer die ekonomiese haalbaarheid van die apartheidsbeleid ondersoek. Die proefskrif was erg omstrede. Anti-apartheidsaktiviste het Falkena daarvan beskuldig dat sy proefskrif 'n aantal openlike rassistiese en propagan-distiese uitsprake bevat. Die aktiviste het hom verwyt dat hy propaganda vir die apartheidsbeleid gemaak het: "In feite was zijn zg. 'genuanceerde' visie doodordinair racisme in een weten schappelijk jasje". Daar is ten onregte na Falkena verwys as 'n "pro-apartheidsfiguur" en 'n "racist". Sy proefskrif het juis vernietigende kritiek op die apartheidsbeleid bevat (AABN 1980:14-17; Zuidelijk Afrika Nieuws, Februarie 1980).

Die promosie-geleentheid is ontsier deur groot betogings. Anti-apartheidsaktiviste het vooraf vlugskrifte versprei waarin geprotesteer is teen die promosie van Falkena. Die verbreking van alle kontakte met Suid-Afrika is bepleit. Die vlugskrifte het dit baie duidelik uitgespel: "Apartheid is moord!" Studente het met plakkate betoog. Een van die plakkate het gelui: "Zuid-Afrika Moord Regiem". Die lawaai was onstigtelik, veral vanweë die gebruik van megafoons en dromme. 'n Student het selfs probeer om Falkena aan te rand. Die aktiviste het ook Nkosi Sikelel' iAfrika gesing (Zuid-Afrika, Mei 1979; Nederlandse Post, Julie 1979; Muskens 2014:246-247).

Die besoek van 24 Suid- Afrikaanse studente in Julie 1983 aan die RUG het 'n opskudding veroorsaak. Die studente was deel van 'n uitruilskema georganiseer deur die Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging en die Genootskap Nederland-Suid-Afrika. Daar was ontsteltenis rondom die besoek aan die universiteitsbiblioteek en die vakgroep Onderwijskunde. By laasgenoemde moes van die studente hoor dat hulle nie welkom was nie. Daar is gesê dat die besoeke in stryd sou wees met die besluit van die universiteitsraad in 1978 dat die RUG geen offisiële kontakte met Suid-Afrika onderhou nie. Ironies het dié groep studente bestaan uit wit én swart studente (de Volkskrant, 1 Julie 1983; Universiteitskrant, 31 Augustus 1983).

Die universiteitsraad van die RUG het in Februarie 1986 die Winnie Mandela Fonds ingestel. Dié fonds het voorsiening gemaak vir 'n bedrag van 30,000 gulden per jaar, ofte wel 90,000 gulden oor drie jaar. Die hele universiteitsgemeenskap is opgeroep om die fonds finansieel te ondersteun. Die bedoeling van die fonds was om 'n student wat om politieke redes uit Suid-Afrika gevlug het die geleentheid te bied om verder aan die RUG te studeer. Die fonds is bestuur in noue samehang met die ANC. Die RUG het hierdie fonds gesien as "een daad in die strijd tegen de apartheid in Zuid-Afrika". Die eerste begunstigdes van die fonds, Richard en Kathrine Jurgens, het in November 1987 in Groningen gearriveer. Hulle sou onder begeleiding van die vakgroep Algemene Pedagogiek 'n jaar lank navorsing doen oor die onderwys in Suid-Afrika (Universiteitskrant, 16 April 1986 en 12 November 1987).

 

10. RIJKSUNIVERSITEIT LEIDEN

Die Rijksuniversiteit Leiden (RUL) het ook by geleentheid sterk standpunt ingeneem teen apartheid. Lede van verskillende studente-organisasies het byvoorbeeld in September 1976 betoog teen die besoek van prof. E. Hamman, rektor van die Universiteit van Pretoria. Hy was op 'n inligtingsbesoek aan die RUL. Die studente was gekant daarteen dat 'n verteenwoordiger van 'n uitsluitend blanke universiteit deur die universiteitsraad ontvang is. Die studente het plakkate rondgeswaai met slagspreuke soos: "Weg met die Vorster-kliek" en "Geen rassis op besoek" (Beeld, 24 September 1976).

Die universiteitsraad van die RUL het in Februarie 1978 'n mosie aanvaar dat kontakte met Suid-Afrika deur organe van die universiteit en deur lede van die Leidse universitêre gemeenskap slegs onderhou sou word, "indien en voor zover deze een bijdrage kunnen leveren tot verbetering en herstel van de elementaire mensenrechten in Zuid-Afrika" (Muskens 2014:256).

Die Leidse universiteitsraad het ook in 1980 geweier om die benoeming van O.J. van Leer as buite-universitêre lid van die raad te aanvaar vanweë sy opvattings oor Suid-Afrika. Die Leidse Studentebond en anti-apartheidsorganisasies het die raad onder druk geplaas met hul bewering dat Van Leer 'n ondersteuner was van die apartheidsbewind. Dit was bekend dat Van Leer 'n genuanseerde uitkyk op Suid-Afrika gehad het. So iets was vir die linkse aksiegroepe totaal buite orde (Zuid-Afrika, September 1980).

Prof. J. Gouws van die Rhodes-Universiteit se besoek aan Leiden in September 1986 het ook vir 'n opskudding gesorg. Anti-apartheidsbetogers het deur middel van 'n blokkade-aksie probeer verhoed dat die publiek sy voorlesing bywoon. Die uiteinde van die saak was dat die polisie ingeroep is om 'n einde aan die blokkade-aksie te maak. Ironies genoeg, dit was bekend dat Gouws 'n teenstander van apartheid was. Die feit dat hy van Suid-Afrika gekom het, was genoeg rede vir die aktiviste om sake vir hom onplesierig te maak (NRC Handelsblad, 3 September 1986; Amandla, Oktober 1986).

 

11. SLOTBESKOUING

Nederlandse universiteite, en veral die linksgesinde studente, was 'n formidabele bondgenoot in die anti-apartheidstryd. Die aksies op die universiteitskampusse is meermale geïnisieer en gerugsteun deur die bekende anti-apartheidsorganisasies. In dié verband was veral die AABN baie betrokke en aktief. Wat boikotaksies teen Suid-Afrika betref, het die AABN byvoorbeeld konseptekste vir mosies by die universiteitsraad aan die studente voorgelê. Vanweë die informele bande tussen die AABN en die Communistische Partij Nederland (CPN), was die CPN ook op sommige kampusse aktief betrokke by studentebonde. Die meeste universiteite het dan ook op 'n gegewe moment die betrekkinge met Suid-Afrika verbreek (Muskens 2014:257, 260).

Die akademiese boikot van die jare sewentig en tagtig het groot skade aangerig. Gereelde akademiese en intellektuele kontak en uitruilprogramme het min of meer tot 'n einde gekom en die skakeling wat daar was, is tot die minimum beperk. 'n Hele generasie is op 'n intellektuele hongerdieet gevoer.

Min Suid-Afrikaanse studente het in die boikotjare die geleentheid en voorreg gehad om in Nederland te studeer. Oor 'n tydperk van 125 jaar, 1880-2005, het byna 500 Suid-Afrikaners aan die VU gestudeer. In die boikotjare, 1974-1989, was daar slegs 69 Suid-Afrikaanse studente aan die VU. In die jare 1903-1998 het byna 100 Suid-Afrikaners 'n doktorsgraad behaal aan die VU. In die boikotjare, 1974-1989, het slegs vier Suid-Afrikaanse studente 'n doktorsgraad aan die VU behaal (Schutte 2005:644, 697-703, 727). In 'n publikasie oor die Universiteit Utrecht wat in 2001 verskyn het, word genoem dat die laaste Suid-Afrikaanse doktorale promosie in 1980 plaasgevind het (Van den Bergh 2001:48).

'n Geslag Suid-Afrikaanse akademici het 'n Nederlandse studieperiode ontbeer weens hul kille afwysing. Vele jonger Afrikaanse akademici het ánder denkrigtings en akademiese geleenthede, binne die breër Europese én Amerikaanse konteks, benut. Afrikaanse studente het byvoorbeeld Amerikaanse of Engelse handboeke in plaas van Nederlandse boeke begin gebruik. Nederlands as akademiese taal het dus baie veld verloor in Suid-Afrika (Terblanche 1998:210-212).

 

BIBLIOGRAFIE

Anti-apartheidsbeweging Nederland. 1980. Zwartboek over wetenschappelijke kontakten tussen Nederland en Zuid-Afrika. Amsterdam: AABN.         [ Links ]

De Boer, S. 1999. Van Sharpeville tot Soweto: Nederlands regeringsbeleid ten aanzien van apartheid, 1960-1977. Den Haag: Sdu.         [ Links ]

Determeijer, B. 1988. Utrecht en Vrijheid: Symbool van boerse koppigheid. Utrecht: BSG.         [ Links ]

De Waard-Bijlsma, J. & De Waard, F. 2010. Thuis in de Mauritsstraat: Een huis voor Zuid-Afrikaanse studenten in Utrecht. Amsterdam: SAI.         [ Links ]

Fuchs, J.M. 1970. Amsterdam, een lastige stad: Rellen, Oproeren en Opstanden in de loop der eeuwen. Baarn: De Boekerij.         [ Links ]

Grewel, A. 1983. African National Congress. De Groene Amsterdammer, 14 September 1983 en 21 September 1983.         [ Links ]

Jansen, E. 2014. Oxford aan die Amstel: Leerstoel Suid-Afrikaanse letterkunde in Amsterdam 80 jaar oud. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September 2014.         [ Links ]

Klein, G.L. 2001. De strijd tegen apartheid: The role ofthe anti-apartheid organizations in the Netherlands, 1960-1995. MA dissertation, Pretoria:UP        [ Links ]

Koppenol, W. 1979. De stage van kernfysicus Jan Smit in Utrecht. Utrecht: Ong. manuskrip.         [ Links ]

Kromhout, B. 2015. The Vrije Universiteit and South Africa: An ever-developing friendship. Maandblad Zuid-Afrika, September 2015.         [ Links ]

Mak, G. 2001. Amsterdam: A brief life of the City. Londen: Vintage.         [ Links ]

Mak, G. 2005. De eeuw van mijn vader. Amsterdam: Olympus.         [ Links ]

Muskens, R. 2014. Aan de goede kant: Biografie van de Nederlandse anti-apartheidsbeweging, 1960:1990. Soesterberg: Aspekt.         [ Links ]

Naudé, C.F.B. 1995. My land van hoop: Die lewe van Beyers Naudé. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Naudé, C.F.B. 1997. Verzet en verzoening: Autobiografie. Baarn: Ten Have.         [ Links ]

Olivier, G. 2006. South Africa and the European Union: Self-interest, ideology and altruism. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Rozenburg, R. 1986. De Bloedband Den Haag-Pretoria: Het Nederlandse Zuid-Afrikabeleid sinds 1945. Amsterdam: KZA.         [ Links ]

Ryan, C. 1990. Beyers Naudé: Pilgrimage of Faith. Kaapstad: David Philip.         [ Links ]

Schutte, G.J. 1993. De roeping ten aanzien van het oude Broedervolk: Nederland en Zuid-Afrika, 1960-1990. Amsterdam: SAI.         [ Links ]

Schutte, G.J. 2005. De Vrije Universiteit en Zuid-Afrika, 1880-2005. Zoetermeer: Meinema.         [ Links ]

Schutte, G.J. 2010. A Family Feud: Afrikaner Nationalism and Dutch Neo-Calvinism. Amsterdam: Rozenberg.         [ Links ]

Stichting "VN-jaar voor de sankties tegen Zuid-Afrika". 1983. Verbreek kulturele kontakten met Zuid- Afrika. Amsterdam.         [ Links ],

Terblanche, H.O. 1997. Suid-Afrika en Nederland - Vreemdelinge vir mekaar. Die jare ná 1960. Historia, Mei 1997.         [ Links ]

Terblanche, H.O. 1998. Nederland en die Afrikaner: Gesprek oor apartheid. Die paginaruil tussen Trouw en Die Burger, 1963-1964. Port Elizabeth:UPE.         [ Links ]

Terblanche, H.O. 2012. Amsterdam as 'n anti-apartheidstad. Historia, November 2012.         [ Links ]

Terblanche, H.O. 2014. Die Nederlandse kulturele boikot teen Suid-Afrika: 'n Ontleding. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Maart 2014.         [ Links ]

United Nations. 1994. The United Nations and Apartheid, 1948-1994. New York: United Nations.         [ Links ]

Van Beurden, J. & Huinder, C. 1996. De vinger op de zere plek: Solidariteit met Zuidelijk Afrika, 1961-1996. Amsterdam: Babylon-De Geus.         [ Links ]

Van den Bergh, E. (red.). 2001. Over de banden tussen de UU en Zuid-Afrika. Utrecht: EZA/UU.         [ Links ]

Van der Watt, S.E. 1992. Die opsegging van die Kultuurverdrag Nederland/Suid-Afrika: 'n Kritiese ontleding. MA-verhandeling, Bloemfontein: UOVS.         [ Links ]

Van Lakerveld, C. (red.). 1994. Nederland tegen Apartheid. Amsterdam: Sdu.         [ Links ]

Van Rinsum, H.J. 2006. Sol Iustitiae en de Kaap: Een geschiedenis van de banden van de Utrechtse Universiteit met Zuid-Afrika. Hilversum: Verloren.         [ Links ]

Veltkamp-Visser, S. 2003. De eerste leerstoel Afrikaans in Amsterdam. Zuid-Afrika, April/Mei 2003.         [ Links ]

Vrije Universiteit. 1975. Memorandum on the relationship between the Free University Amsterdam and the Potchefstroom University for Christian Higher Education: An exchange of views on apartheid. Amsterdam: VU.         [ Links ]

Vrije Universiteit. 1976. Verslag van een samenspreking tussen delegaties van de Vrije Universiteit en de Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Amsterdam: VU.         [ Links ]

 

 

 

Otto Terblanche is in die Paarl gebore en het sy tersiêre opleiding by die Universiteit van Stellenbosch begin waar hy die BA en BAHons grade in Geskiedenis verwerf het. Sy MA en DPhil grade in Geskiedenis het hy by die Universiteit van Port Elizabeth (UPE) - tans die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) - verwerf. Hy is in 1976 as dosent in Geskiedenis by die UPE aangestel. Hy is sedert 1994 betrokke by navorsingsprojekte in Nederland en België (Vlaandere). Hy het sedertdien wyd gepubliseer oor die politieke en kulturele betrekkinge tussen Nederland/België (Vlaandere) en Suid-Afrika. Sy boek Nederland en die Afrikaner: Gesprek oor apartheid het in 1998 verskyn. Hy het in 2011 as medeprofessor in Geskiedenis afgetree. In 2012 is hy aangestel as navorsingsgenoot in Geskiedenis aan die NMMU.
Otto Terblanche was born in Paarl and started his tertiary education at the University of Stellenbosch where he obtained the BA and BAHons degrees in History. The MA and DPhil degrees in History were obtained at the University of Port Elizabeth (UPE) - currently the Nelson Mandela Metropolitan University (NMMU). He was appointed as lecturer in History at UPE in 1976. Since 1994 he has been involved in research projects in the Netherlands and Belgium (Flanders). He has published widely on the political and cultural relations between the Netherlands/ Belgium (Flanders) and South Africa. His book Nederland en die Afrikaner: Gesprek oor apartheid was published in 1998. He retired in 2011 as an associate professor in History. In 2012 he was appointed as a research associate in History at the NMMU.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License