SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-2The Dutch academic boycott against South Africa: An analysis author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-2 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-2a1 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Onderweg na 'n Christelik-filosofiese analise van evolusie en evolusionisme: Die bydrae van 'n konsekwent probleem-historiese metode

 

Toward a Christian-philosophical analysis of evolution and evolutionism: The contribution of a consistent problem-historical method

 

 

B.J. van der Walt

Skool vir Filosofie, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: benniejvanderwalt@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Hierdie bydrae soek na helderheid oor die filosofiese grondslae of uitgangspunte van die hedendaagse steeds gewilde evolusieteorieë en evolusionistiese lewensvisies asook die verskil tussen evolusie of wording en evolusionisme. Op dié wyse wil dit ook vir Christene en Christendenkers, onder wie daar nog steeds groot verwarring oor die aangeleentheid heers, van hulp wees. Met die oog daarop word drie nog ongepubliseerde lesings oor die evolusionisme wat die Christelike wysgeer, Dirk H. Th. Vollenhoven (1892-1978), in 1963 by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO gelewer het hier bekend gestel en ontleed. Om sy filosofiese analise goed te kan begryp, word ter inleiding eers die hoofkontoere van sy konsekwent probleem-historiese metode uiteengesit.
Die eerste hoofafdeling handel daarna oor vyf filosofiese voorvereistes vir die ontstaan van die evolusionisme in die algemeen, naamlik 'n genetiese denkwyse, vooruitgangsgeloof, 'n positivistiese en monistiese filosofie asook die aanvaarding van kontinuïteit tussen ten minste twee van die ryke van stof, plant, dier en mens. Die tweede afdeling toon aan hoe verskillende ontiese en antropologiese uitgangspunte tot 'n verskeidenheid evolusionismes lei. Onder hulle was ook dié van Hitler se rassistiese nasionaal-sosialisme. Die derde hoofafdeling bied Vollenhoven se eie standpunt teenoor die voorafgaande. Hy aanvaar wel evolusie of transformasie binne dieselfde ryk, maar nie evolusionisme of transformisme wat die ryke sou transendeer nie. Vanuit sy eie filosofie bied hy ook nuwe insigte oor die verskil tussen die stryd om bestaan en aanpassing.

Trefwoorde: Aanpassing, Christelike standpunt, evolusie, evolusionisme, eksperi-mentele metodes, filosofie, konsekwent probleem-historiese metode, kosmogoniese denke, kosmologiese denke, mitologiserende denke, monisme, nasionaal-sosialisme, parallelisme, positivisme, prioriteits-leer, rasionalisme, teties-kritiese metode, transformasie, transformisme, vooruitgangsgeloof, wisselwerkingsteorieë, wording.


ABSTRACT

This article intends to gain more clarity about the philosophical presuppositions underlying evolutionary theories and evolutionism as a worldview. In the light of the wide confusion and disagreement among Christians and Christian scholars it may be helpful toward a better understanding of these burning issues.
From about the middle of the previous century the evolutionary theory and evolutionistic worldview were hotly debated topics in the Netherlands as well as in South Africa. In 1963 the Christian philosopher, Dirk H. Th. Vollenhoven (1892-1978), delivered three guest lectures on this topic in South Africa, which have not yet been published in either English or Afrikaans. In spite of the fact that these three lectures could not cover the developments during the last fifty years, they are still relevant for the continuing debate today. Vollenhoven's special contribution was that he uncovered the basic ontological and anthropological presuppositions underlying evolution and evolutionism.
To enable a better understanding of Vollenhoven's analyses, the first section of this essay provides a brief overview of his approach - which is often complicatedfor non-philosophers - especially how his thetic-critical method is applied in his consistent problem-historical method of historiography. For the present issue the following four distinctions are important: (1) His division of Western intellectual thinking into four main periods, viz. pre-synthetic ancient philosophy, synthetic patristic and medieval thinking, post- or anti-synthetic Christian and anti-synthetic secular philosophy. (2) Vollenhoven's division of the history ofphilosophy according to different successive normative currents. Among these, positivistic rationalism is of special importance to understand the emergence of evolutionism. (3) His distinction according to his doctrine of modalities between the four kingdoms of matter, plants, animals and humans.(4) The difference between mythologising, purely cosmological (or structural) and cosmogono cosmological (or genetic) thinking, of which only the first and the last can accommodate evolution and evolutionism.
The second section is devoted to Vollenhoven's first lecture, dealing with the basic philosophical starting points required by evolutionism. Apartfrom acknowledging change or evolving in reality, they are the following four: (1) A belief in progress; (2) positivism (a sub-current of late rationalism); (3) a monistic ontology, and (4) a supposed continuity between at least two of the four kingdoms.
In his second lecture Vollenhoven indicates how various types of evolutionism developed from different ontological and anthropological presuppositions, especially in the case of monistic thinkers. These scholars accepted a basic unity as origin of reality which divides into a higher and a lower section. Consequently they had to explain the relationship between the higher and lower divergence, resulting in the following theories, each giving birth to a different kind of evolutionary theory: (1) a priority theory (instrumentalism and vitalism); (2) an interaction theory (with zoological and phytological sub-types); (3) parallelism (with unrestricted and restricted sub-types). Representatives of each of these viewpoints are mentioned. In the case of the zoological interaction theory among mythologising, monistic thinkers, special attention is given to the philosophical background of German national-socialism and racism of e.g. Adolf Hitler.
The fourth section deals with Vollenhoven's third lecture in which he sketches his own viewpoint. Since he acknowledged the dynamic, evolving nature of creation, Vollenhoven held a different viewpoint on evolution if compared to his predecessors in the Reformational tradition, like Kuyper, Bavinck andDiemer (cf. Van der Walt 2016a) as well as his contemporary, Dooyeweerd. They emphasised the fixed nature of species. Employing his theory of different modalities or aspects of reality and their subject-object relations, he explains the relations as well as the differences between the four kingdoms. He furthermore provides valuable insight into the difference between struggle for survival (a subject-subject relation) and adaptation (a subject-object relation).
Vollenhoven's conclusion was that Christian scholars need not reject evolution (he uses the term "transformation") in any one kingdom. However, evolutionism (called "transform-ism") should be rejected since it does not honour the ontic difference between (at least two of) the four kingdoms of matter, plants, animals and human beings.
As mentioned above, Vollenhoven's aim with these three lectures was not to cover every existing form or representative of evolution/evolutionism. (An impossibility to do so in merely 45 minutes per lecture.) Also, his cryptic style is often difficult to follow and needs explanation. Moreover, only short notes on his second and third lecture survived (see Addendum) and had to be reconstructed in the light of his other publications.
For his critical eye, and suggestions to accomplish the above "reconstruction" of Vollenhoven's lectures, I would like to thank the Vollenhoven expert, Dr. Kornelis A. Bril of the Netherlands. I do hope that our combined effort had rendered Vollenhoven's analysis accessible to a wider readership.

Keywords: Adaptation, Christian viewpoint, consistent problem-historical method, cosmogonic thought, cosmological thought, evolution, evolutionism, evolving, experimental methods, idea of progress, philosophy, mythological thought, monism, national-socialism, parallelism, positivism, priority theory, rationalism, theories of interaction, thetical critical method, transformation, transformism.


 

 

1. INLEIDING: LEEMTES IN DIE CHRISTELIKE NADENKE OOR EVOLUSIE EN EVOLUSIONISME

Hoewel baie - sowel Christene as mense van ander oortuigings - vandag evolusie en evolusionisme (die verskil tussen die twee sal in die verloop van hierdie artikel duidelik word) óf beide eenvoudig verwerp, óf eenvoudig as wetenskaplik bewese feite aanvaar, gaan die debat daaroor - n eeu nadat Charles Darwin die debat geopen het - op wetenskaplike vlak nog steeds voort. 'n Voorbeeld daarvan net uit Nederland is die onlangse werke van onder andere Klapwijk (2009), Driessen & Nienhuis (2010), Flipse & Harinck (2011), Kruyswijk (2011), Kwakkel & Van Houwelingen (2011).

In vorige bydraes oor hoe Christene met die evolusieteorie en evolusionisme omgaan, het alreeds die volgende drie gebreke duidelik na vore gekom (vgl. Van der Walt 2016a en 2016b).

Eerstens het hierdie denkers nie besef dat die evolusionisme ten diepste nie bloot 'n biologiese en/of teologiese probleem is nie. Dit is filosofies van aard, omdat dit daarin gaan om die verhouding van God tot die geskape aardse werklikheid (ontologie), die verhouding tussen die ryke van stof, plant, dier en mens (kosmologie) en oor n denker se visie op die mens (antropologie).1

Tweedens het hierdie wetenskaplikes, veral dié wat 'n sintese tussen Skrifgeloof en evolusie nagestreef het, dikwels van evolusie/isme in die algemeen uitgegaan sonder om duidelik te maak dat daar baie verskillende soorte evolusionismes bestaan. Strauss (2009:107) merk tereg op dat die baie verskillende menings in die hedendaagse biologiese wetenskappe dit onsinnig maak om die evolusieteorie as n enkele uniforme en samehangende standpunt te beskou.

Derdens het hulle meestal ook die (Christelike) lewensbeskoulike vertrekpunte waarvolgens hulle die evolusieleer beoordeel nie duidelik uitgespel nie.

In die lig hiervan is dit belangrik om nou aandag te gee aan die beskouing van 'n Christelike filosoof wat alreeds in die vorige eeu hierdie leemtes probeer oorkom het toe evolusie en evolusionisme ook n hewige debat uitgelok het.

 

2. AGTERGROND OOR VOLLENHOVEN EN SY FILOSOFIE

Gedurende die vyftiger- en sestigerjare het daar n uitruilskema van professore tussen die Pot-chefstroomse Universiteit vir CHO en die Vrije Universiteit (VU) van Amsterdam, Nederland bestaan. Een jaar het van die VU se bekendste professore in verskillende vakgebiede aan die PU vir CHO gaslesings aangebied. So byvoorbeeld die teoloë G.C. Berkouwer en J.H. Bavinck, die filosowe H. Dooyeweerd, S.U. Zuidema en H. Van Riessen, die bioloog J. Lever, die opvoedkundige, J. Waterink en die historikus, M.C. Smit. By n volgende geleentheid het byvoorbeeld die letterkundige G. Dekker, die filosoof, H.G. Stoker, die bioloog J.A. van Eeden en die ekonoom, F.J.J. Coetzee weer aan die VU lesings gegee (vgl. Schutte 2005:337 e.v.).

Die Christelike filosoof, Dirk H.Th. Vollenhoven (1892-1978) behartig vanaf 1 Augustus tot 30 September 1963 meer as 25 lesings op Potchefstroom en ook 12 op Pretoria en 11 op Bloemfontein (vgl. Stellingwerff 1992:224.)

2.1 Vollenhoven reeds bekend op Potchefstroom

Vollenhoven se filosofie was destyds nie onbekend in Potchefstroom nie. Prof. Jan A.L. Taljaard (1915-1994), dosent in Wysbegeerte aan die destydse PU vir CHO, het nie net in 1955 onder Vollenhoven gepromoveer nie (vgl. Taljaard 1955), maar ook van Vollenhoven se geskrifte vir sy studente in Afrikaans vertaal. Daaronder was Vollenhoven se sistematiese filosofie (vgl. Vollenhoven 2005a en 2010) asook sy probleem-historiese weergawe van die geskiedenis van die Westerse intellektuele denke (vgl. Vollenhoven 1956 en vir n latere Engelse weergawe daarvan Vollenhoven 2005d en 2005e). Ook sy hoofwerk skryf Taljaard (1976) in ´n Vollen- hoven-lyn. Hierbenewens het N. Theo van der Merwe (1932-2004) ook aan die VU sy doktorale eksamens afgelê en tree op as assistent van Vollenhoven. Deur sy inset verskyn die eerste druk van Vollenhoven (1962) se Schematische Kaarten (vgl. Vollenhoven 2000 vir ´n heruitgawe).

2.2 Vollenhoven se filosofie teen 1963

Vollenhoven het hom alreeds vroeg in die geskiedenis van die Westerse filosofie verdiep (vgl. Vollenhoven 1933:71-309). Hy beplan ook om (saam met sy promovendi) die hele geskiedenis in detail te behandel. Van homself het daar reeds n lywige werk (618 bladsye) oor die voor- Platoniese, antieke Griekse denke verskyn (Vollenhoven 1950). Vir sy studente in die Pedagogiek verskyn daarna n vereenvoudigde weergawe van die hele Westerse intellektuele geskiedenis (Vollenhoven 1956). Soos reeds genoem, word dit aangevul met sy Schematische Kaarten (1962) waarin die hele Westerse denke vanaf die Griekse tot op datum op n baie nuttige, oorsigtelike wyse weergegee word.

Hoewel prof. Vollenhoven aan die einde van 1963 aan die VU emeriteer, sou hy na sy aftrede nog (tot 1975) onverpoosd voortwerk en het hy ook die resultate van sy verdere navorsing by maandelikse privatissima (lesings vir belangstellendes) by die VU aangebied. Nogtans het sy lewenslange besinning oor sistematiese en historiese probleme teen 1963 n sekere mate van afronding bereik.

Die waarde van Vollenhoven (2011a) se gaskolleges lê ook daarin dat hy vir h gehoor (studente en dosente aan die PU) moes klasgee wat nie met sy metode op hoogte was nie. Hy het dus ekstra moeite gedoen om sy soms ingewikkelde historiografiese metode so duidelik en verstaanbaar moontlik oor te dra.Van die meeste van sy Potchefstroom-lesings is destyds bandopnames gemaak (vgl. Addendum).

2.3 Vollenhoven, 'n Christelike filosoof

Vollenhoven was nie net n oortuigde Christen wat daarby ook n filosoof was nie. Hy wou n Christelike filosofie daarstel. (In Vollenhoven 1933 noem hy dit nog n "Calvinistiese" filosofie.) Die "Christelike" het vir hom beteken dat hy Christus wou volg - ook in sy filosofie. Christus self verwys voortdurend na die "wet en die profete", die toenmalige Bybel (vandag ons Ou Testament). Daarom noem Vollenhoven sy eie filosofie ook n Skrifmatige of Skrifgehoorsame filosofie.

In een van sy lesings van 1963 op Potchefstroom (vgl. Vollenhoven 2011a:231 e.v.) omskryf hy sy eie wysbegeerte dus as 'n filosofie wat opgebou is in eerbied vir God se Woord en bewondering vir die veelkleurigheid van sy skepping.Soos uit die herpublikasie van sy geskrifte en vertalings daarvan in Engels (vgl. bibliografie) asook uit die publikasies van Tol (2010 en 2011) blyk vandag nuwe belangstelling in Vollenhoven se Christelike benadering. Hoe hierdie Christelik-Skrifmatige filosofie lyk, vind 'n mens ook duidelik in Vollenhoven se 1963-gaslesings.

2.4 Eers na 50 jaar gepubliseer

Vollenhoven se gaslesings op Potchefstroom het eers byna n halwe eeu later in druk verskyn (vgl. Vollenhoven 2011a). Hoe dit uiteindelik gebeur het, is nie net 'n interessante verhaal nie. (Dit word kortliks in 'n Addendum tot hierdie artikel beskrywe.) Dit herinner 'n mens daaraan dat kwaliteitswerk die tand van die tyd oor dekades - selfs eeue - kan oorleef.

2.5 Drie lesings oor die evolusionisme

Onder die lesings deur Vollenhoven aangebied, was daar nie minder nie as drie oor die evolusionisme. Die rede was ongetwyfeld omdat destyds in Nederland en Suid-Afrika warm debatte daaroor gevoer is (vgl. Van der Walt 2016a en 2016b).

Die vraag kan natuurlik gestel word of lesings van byna 'n halwe eeu gelede vandag nog enigsins aktueel en relevant kan wees. Aktueel is hulle beslis - die debat duur vandag onverpoosd voort (vgl. inleiding).Om die volgende vier redes bly Vollenhoven se bydrae oor die onderwerp ook nog relevant. Dit bied oplossings vir die leemtes hierbo (by die inleiding) vermeld.

In die eerste plek benader hy die evolusionisme vanuit 'n duidelike, eie tetiese vertrekpunt en tref byvoorbeeld n duidelike onderskeid tussen evolusie as teorie (transformasie) en evolusionisme as omvattende lewensvisie (transformisme).

In die tweede plek bevraagteken hy die moontlikheid van n geslaagde versoening of sintese tussen die Christelike geloof in God as Skepper en evolusionistiese denke (transfor- misme).

In die derde plek toon hy aan dat daar verskillende tipes evolusionisme bestaan en nie iets soos "die evolusionisme" (enkelvoud) nie.

In die vierde plek ontbloot hy die dieper filosofiese wortels van verskillende tipes evolusionisme. Die geheim van sy diepgaande kritiek lê in Vollenhoven se metodologie. Vir begrip oor Vollenhoven se standpunt is dit dus nodig om vooraf daaraan aandag te gee.

 

3. VOLLENHOVEN SE METODOLOGIE

Eers volg iets oor Vollenhoven se meer algemene teties-kritiese metode, waarna meer in besonderhede op sy historiografiese metode gelet sal word.

3.1 'n Teties-kritiese metode

Wat word met so 'n metode bedoel?2

"Teties" dui daarop dat 'n denker, om die probleme waarvoor die wetenskap 'n mens stel te verstaan, nie anders kan nie as om 'n voorlopige eie standpunt te formuleer. Om eenvoudig 'n ander standpunt óf te aanvaar óf van die hand te wys, is nie voldoende nie. Dit moet vanuit 'n eie posisie gemotiveer word.

In Vollenhoven se eie ontologie of werklikheidsvisie (2005a:14-16) sien hy 'n duidelike onderskeid, maar ook samehang tussen God, sy skepping en sy verordeninge wat vir sy skepping geld. Sy antropologie of mensvisie (2005a:61-62) behels onderskeid sowel as samehang tussen die prefunksionele menslike hart en verskillende liggaamlike funksies of modaliteite.Die hart, die sentrum van religie, bepaal die rigting van elke mens se lewe, sodat die mens nie as 'n ding (stof, plant of dier) beskou mag word nie.

Om net by die eie, tetiese te bly staan kan egter in dogmatisme ontaard. Om daarsonder die geskiedenis van die filosofie te probeer bestudeer, impliseer relativisme of eklektisisme. Laasgenoemde hou in dat 'n denker nie werklik tot 'n gestelde probleem deurdring nie, maar hier en daar enkele gedagtes optel en - sonder om eers te vra of hulle mekaar kan verdra - te aanvaar.

3.1.2 Krities

"Krities" impliseer om ernstig kennis te neem van hoe ander denkers probleme gestel en opgelos het. 'n Christelike filosoof mag nooit sweer by menslike meesters, hoe gewild ook al, nie. Sy voorgangers en tydgenote mag verkeerde antwoorde op korrek gestelde vrae bied of selfs met 'n heeltemal verkeerde probleemstelling begin het wat 'n juiste oplossing onmoontlik maak.

Om krities te wees beteken egter allermins die eenvoudige afwysing van n ander oor-tuiging. Dit kan ook tot die aanbeveling van 'n ander standpunt lei. Selfs al impliseer dit die handhawing van die eie filosofie, behels dit nogtans 'n waardevolle toets daarvan.

3.1.3 ´n Tweevoudige program

Vereenvoudig sou n mens kon sê dat Vollenhoven vanaf die begin n dubbele program wou volg. Aan die een kant 'n kritiese konfrontasie met die Westerse denkgeskiedenis. Reeds met sy inougurele rede op 26/10/1926 (vir 'n Engelse vertaling, vgl. Vollenhoven 2013) was dit al duidelik.

Aan die ander kant wou hy ook sy eie Christelik-filosofiese standpunt duideliker uitwerk.

Dit blyk uit die hele reeks uitgawes van sy Isagögè Philosophiae (Inleiding tot die filosofie) vanaf 1930 (vgl. Vollenhoven 2010. Vir 'n Nederlands-Engelse weergawe van die finale edisie van 1945, vgl. Vollenhoven 2005a.) Uiteindelik het Vollenhoven se navorsing oor die 2750-jarige geskiedenis van die Westerse denke volgens sy probleem-historiese metode soveel tyd in beslag geneem dat hy nie sy eie sistematiese wysbegeerte verder kon uitbou nie. Omdat geen metode neutraal kan wees nie, word sy eie filosofie egter duidelik in sy probleem-historiese metode gereflekteer.

3.1.4 Een metode met twee kante

Dit is duidelik dat die tetiese en kritiese nie twee afsonderlike metodes is nie, maar in wisselwerking saamgaan, een metode vorm. Vollenhoven (2005a:8) vat dit soos volg saam:

It is by maintaining that which is tenable in one's own position, by critically examining not only the result acquired by others but also the result of one's own thinking at an earlier time, and by having the courage to accept the implications of one's position, that one can make progress through struggle and attain a double profit: a reinforced position and a more definite rejection of whatever is inconsistent with it.

Om Vollenhoven se kritiese analise van die evolusionisme te verstaan en waardeer, is, behalwe sy eie filosofie (wat nie hier behandel kan word nie) veral 'n elementêre kennis van sy konsekwent probleem-historiese metode 'n vereiste. Daarsonder mag sy analise en terminologie abrakadabra vir oningewydes wees.

3.2 Hooftrekke van die konsekwent probleem-historiese metode

Toegepas op die historiografie van die filosofie van die Weste, heet Vollenhoven se teties-kritiese metode die konsekwent probleem-historiese. Eenvoudig gestel, het hy daarvolgens gepoog om (op konsekwente wyse) sowel aan die basiese ontiese en antropologiese filosofiese probleme aandag te gee soos wat hulle histories in die Westerse denke ontwikkel het. Net vier hoofkontoere van die metode word hier geskets.3 Verdere besonderhede volg later by Vollenhoven se analise van die evolusionisme.

3.2.1 'n Eerste onderskeiding: vier hoofperiodes

As Christelike filosoof stel Vollenhoven aan elke Westerse denker - vanaf die antieke Grieke van 750 v.C. tot ongeveer 1975 n.C. - heel eerste die vraag wat hy/sy se houding teenoor die Woordopenbaring van God was. (Hy doen dit nie om te veroordeel nie, maar slegs om die feitlike situasie vas te stel.)

Die antieke Griekse, Hellenistiese en Romeinse filosowe (tot ongeveer 100 n.C.) het die Woord nog nie geken nie. Die Christelike Kerkvaders (vanaf ongeveer 150 n.C.) en die Middeleeuse denkers (tot ongeveer 1500 n.C.) het 'n versoening of sintese tussen hulle Christelike geloof en die pagane antieke filosofieë probeer bewerkstellig. Daarom noem Vollenhoven die voor-Christelike denke voor-sintese denke en die Christelike daarna sintesedenke.

Vanaf die Renaissance (ongeveer die 16e eeu) val die sintesedenke uiteen en n tydperk van na-sintese of anti-sintese beheers die Westerse denke. In hierdie derde hoofperiode van die Westerse wetenskaplike geskiedenis was daar egter twee radikaal verskillende tendense. Die een, wat met die sestiende-eeuse Reformasie begin, het anti-sinteties gedink, omdat dit die antiek-heidense element binne die sintese verwerp het om weer ten volle reg aan God se Woord te laat geskied. Vollenhoven noem hierdie die anti-sintetiese regse of Christelike tradisie.

Die dominante tendens vanaf die Renaissance en daarna tot op vandag was egter 'n anti-sintetiese linkse of sekulêre beweging. Om presies die teenoorgestelde rede het hierdie denkers sintesedenke afgewys - hulle wou van die Christelike element daarin ontslae raak. Aanvanklik is probeer om die antieke pagane denke te laat herleef. Omdat repristinasie nie kon werk nie, neem die outonome menslike verstand later oor en vervang die plek van God se openbaring.

Soos nog sal blyk, is die evolusionistiese denke een van die vrugte van hierdie antisinteties-linkse, sekulêre rigting. Vollenhoven sê dit nie eksplisiet nie, maar veronderstel dit wel. Bril (1993:44) vestig uitdruklik die aandag daarop. Die God van die Bybel - as Skepper en Wetgewer - verdwyn uit die Westerse denke om deur 'n sekulêre (bv. evolusionistiese) lewensvisie vervang te word.

3.2.2 ´n Tweede onderskeiding: normatiewe strominge

Binne bogenoemde drie (eintlik vier) hoofperiodes onderskei Vollenhoven verder verskillende filosofiese strominge. Dit is normatiewe rigtings (vandag "waardes" genoem) deur denkers in verskillende filosofiese skole gedurende 'n bepaalde tyd voorgestaan

Alreeds die antieke Griekse denkers het klem gelê op wetenskaplike kennis, want kennis is mag. Sommige van hulle kan dus intellektualiste genoem word, maar hulle was nog nie rasionaliste nie. Laasgenoemde filosofiese rigting het eers vanaf ongeveer 1600 n.C. in die Westerse wêreld begin veld wen om daarna vir drie eeue die toon aan te gee.

Rasionalisme

Wat word met rasionalisme bedoel? Die woord is afgelei van die Latyn ratio wat "verstand" beteken. God het die mens met 'n verstand toegerus, maar die sekulêre Westerse denke het 'n Rede daarvan gemaak. Vollenhoven verduidelik:

... what then is reason (ratio)? Reason is the intellect supplied with apriori's. From whom do these apriori's come? Are they, like the intellect, a gift of God, or are they a mental invention of a philosophy adrift? And what does the overt or covert acknowledgement of "reason" imply? It implies that human thought contains the laws for the cosmos in itself. Therefore reason is no more than an idol. But in that case reason does not exist. Naturally this last statement does not imply that rationalism has not existed... For even if an idol is nothing, idolatry is a huge and dreadful power (Vollenhoven 2005d:75).

Die ratio was dus veel meer as net verstand. Dit was, soos Vollenhoven skryf, met apriories toegerus. Wat het dit ingehou?

Apriorisering

Behalwe dat kleure, geure en klanke nou vanuit die rede aan die werklikheid toegeskryf moes word, moes selfs begrippe en oordele (binne in die rede geplaas) die buitewêreld konstitueer (vgl. Bril 1986:228 e.v.). Rasionalisme het ook beteken (soos Vollenhoven skryf) dat die norme vir die hele lewe, wat vroeër as bestaande buite die rede beskou is, nou subjektivisties na binne die rede verskuif is. Die mens is outonoom verklaar - sy eie wetgewer en wetgewer vir alles buite homself. Enige norme van buite, soos die Christelike geloof in God as Wetgewer, word verwerp. Die verabsoluteerde menslike verstand is in alle opsigte beskou as dié leidster na vooruitgang en 'n eventuele paradys.

Verskillende strominge

Vanaf ongeveer 1600 tot 1830 het die ouere of vroeëre rasionalisme (in drie opeenvolgende substrominge) die toneel van filosofie, wetenskap en kultuur oorheers. Dit word deur die jongere of later rasionalistiese strominge (ongeveer 1830-1900) opgevolg (Vollenhoven 2005d:155). Die verskil tussen vroeëre en latere rasionalisme word later verduidelik.

Die eerste substroming was die positivisme. Eers gedurende hierdie tydperk word die evolusieteorie 'n moontlikheid by byvoorbeeld Lamarck (1744-1829) en Darwin (1809-1882) (vgl. Vollenhoven 2005d:80-81 en 2005e:86). Waarom dit die geval was, sal later duidelik word.

Omdat God se gebooie (saamgevat in die liefdesgebod) nie meer binne die outonome, sekulêre rasionalisme gegeld het nie, verval by die positivisme ook die Bybelse onderskeid tussen goed en kwaad. Alleen die sterkstes behoort te oorlewe (Darwin se "survival of the fittest").

3.2.3 'n Derde onderskeiding: ryke

Behalwe die normatiewe rigting, huldig elke denker ook n standpunt oor die vertikale ontiese struktuur van die werklikheid en gevolglik oor die verhouding tussen die ryke.

Volgens sy modaliteitsleer (vgl. Vollenhoven 2005a:25) onderskei Vollenhoven tussen fisies gekwalifiseerde materie, die biotiese gekwalifiseerde planteryk, die psigiese gekwali-fiseerde diereryk en die menslike ryk wat aan talle meer aspekte vanaf die analitiese tot by die pistiese of gelooffaset deel (vgl. Vollenhoven 2005a:63 e.v.). Hiervolgens kan bepaal word of ´n denker ´n duidelike onderskeid tussen byvoorbeeld dier en mens maak. Dit bepaal hoe ´n wetenskaplike se hele ontologie (werklikheidsvisie) en antropologie (mensvisie) daar uitsien.

Die groot verskeidenheid ontologieë en antropologieë sal hieronder nog ter sprake kom.

3.2.4 'n Vierde onderskeiding: strukturele en genetiese denke

Vollenhoven onderskei die volgende wysgerige visies oor die ontstaan en die aard van die werklikheid.

Eerstens die mitologiserende of teogonies-kosmogoniese denke. Dit maak gebruik van allerlei soorte mites om die ontstaan van die gode en hoe hulle die wêreld tot stand sou gebring het te verklaar (vgl. Vollenhoven 2000:342). Reeds die eerste vers van die Bybel (Gen.1:1) openbaar egter God se verset teen sulke geloofsfantasieë. Son, maan en sterre is byvoorbeeld nie gode wat gedien moet word nie. Hulle is skeppings van God en dien die mens deur tye en jare vas te stel. Sulke mitologiserende denke kan wel evolusionisme akkommodeer.

Tweedens was en is daar nog steeds die louter of suiwer kosmologiese denkers. Soos dié naam aandui, wil hulle nie teogonies-kosmogonies oor die ontstaan en die ontwikkeling van die gode en kosmos spekuleer nie, maar beperk hulle tot die bestaande vaste strukture wat van ewigheid af sou bestaan. So n tipe denker kan nie evolusionisties dink nie, omdat dit die statiese en nie die veranderlike in die werklikheid beklemtoon (vgl. Vollenhoven 2000:330).

Derdens was en is daar ook kosmogono-kosmologiese denkers. "Kosmogono" dui daarop dat genese of ontwikkeling binne die kosmos wel erken word, maar godegenerasies (soos in die mitologiserende denke) word ontken. Teenoor die suiwer kosmologiese denkers se fokus op die vaste strukture, erken hierdie soort denkers wording in die kosmos en die aktiewe handeling van die mens.4 Soos nog sal blyk, is kosmogono-kosmologiese denke een van die vereistes vir n evolusionistiese filosofie.

 

4. VERSKILLENDE UITSPRAKE VAN VOLLENHOVEN OOR EVOLUSIE EN EVOLUSIONISME

In verskillende van sy geskrifte is daar informasie oor Vollenhoven se standpunt ten opsigte van evolusie en evolusionisme versprei.5 Hoewel hierdie bronne ook in ag geneem sal word, word hier gefokus op Vollenhoven se mees breedvoerige en heel waarskynlik finale uiteensetting van sy standpunt in sy bogenoemde drie lesings van 1963. In die geval van die tweede en derde lesing (wat in Vollenhoven 2011a ontbreek), word gebruik gemaak van hulle rekonstruksie deur dr. Kornelis A. Bril met die oog op 'n uiteindelike Engelse publikasie (vgl. Addendum). Aangesien die finale teks van die gerekonstrueerde vertaling nog nie beskikbaar is nie, word hier n eie, voorlopige weergawe daarvan gegee, sodat Afrikaanssprekende lesers alreeds ´n voorproef kan hê.

Vollenhoven se drie lesings het oor die volgende gehandel: (1) die gemeenskaplike filosofiese grondslae of trekke van die evolusionisme in die algemeen; (2) die interne verskeidenheid onder evolusioniste en die probleme daaraan verbonde; (3) sy eie standpunt in dié verband.

 

5. TIPIESE FILOSOFIESE UITGANGSPUNTE VAN DIE EVOLUSIONISME IN DIE ALGEMEEN

Hierbo (3.2.1) is reeds vermeld dat evolusionistiese denke eers binne die sekulêre anti-sintetiese en dan alleen binne die genetiese kosmogono-kosmologiese en mitologiserende denke kon ontstaan (3.2.4). Daarbenewens noem Vollenhoven vier ander basiese voorwaardes vir die moontlikheid van evolusionisme. Die eerste twee hou verband met bepaalde normatiewe rigtings en die volgende twee vereis sekere visies op die struktuur van die werklikheid.

5.1 Vooruitgangsgeloof

Die geloof in die vooruitgang van mens en werklikheid kom reeds by die tweede substroming binne die vroeëre rasionalisme, die Aufklärung of verligting na vore. Volgens hierdie denkers het die voorafgaande scientialistiese intellektueles hulle te veel met die abstrakte wetenskap en te min met die konkrete praktyk besig gehou. Wetenskap het dan ook beperk gebly tot die boonste elite van die samelewing. Denkers van die Aufklärung wou hulle wetenskaplik-filosofiese denkbeelde ook op die breë samelewing toepas.

Omdat hulle rasionaliste was, was dit gevaarlik. Die feit dat hul filosofie die massas van die man op die straat beïnvloed het, het byvoorbeeld tot die Franse Revolusie (1789) gelei. Want, hoewel by sommige, soos byvoorbeeld Pascal (1623-1662) en Hamann (1730-1788), hul Christelike geloof hul rasionalisme tot 'n mate getemper het, was ander, soos byvoorbeeld Hume (1711-1776), Voltaire (1694-1778) en Rousseau (1712-1778), volledige sekulêre denkers.

Vooruitgang moes deur die menslike rede self bewerk word. Dit was selfvooruitgang en -vervolmaking deur die outonome mens.

Terloops moet ook vermeld word dat alle verligtingsdenkers ook nie die vooruitgangsgeloof gedeel het nie (vgl. Rousseau se leer van terug na die natuur). Die rede daarvoor was dat sommige van hulle louter kosmologies en nie kosmogono-kosmologies gedink het nie.

Vooruitgangsgeloof het ook nog nie noodwendig evolusie beteken nie. Die vooruitgang waarin die verligting geglo het, was menslike, kulturele vooruitgang. Die latere evolusieteorieë (binne n daaropvolgende rasionalistiese stroming) sluit daarby aan, maar pas hulle vooruitgangsgeloof ook op die natuur, dus die hele werklikheid toe.

Vir verligtingsdenkers soos Lessing (1729-1781), Hegel (1770-1831) en Kant (1724-1804) het dit oor die vervolmaking van die mens deur middel van kulturele vooruitgang gegaan. Laasgenoemde persoon deel die mensheid byvoorbeeld in die wittes, geles, rooies en swartes in, waarvan die laaste groep nog nie vanuit die natuur 'n kultuurstaat sou bereik het nie (vgl. Kant 1998, oorspronklik van 1800). Ook in die geval van Hegel vind ons dieselfde neerbuigende en vernederende hoogmoed van die Europese verligtingskultuur wat die menswees van Afrikane met 'n dik swart pen deurstreep het (vgl. Haenen 2016:54-60).

Toe hierdie soort filosofie later met die evolusionisme gekombineer word, is dit op talle ander vakgebiede toegepas. 'n Voorbeeld is die invloedryke werk van die antropoloog, Tylor (1870). Hy onderskei tussen ses ontwikkelingsfases by die mensheid: laere, gematigde en hoëre wildheid, laere, gematigde en hoëre barbarisme!

5.2 Aktiewe rasionalisme

'n Tweede normatiewe filosofiese stroming maak 'n evolusieteorie eers werklik moontlik. Dit was die eerste stroming binne die jongere of latere rasionalisme, die positivisme.

Vollenhoven noem dit aktiewe rasionalisme, want die latere rasionaliste se belangstelling in hoe kennis tot stand kom, het verskuif. Terwyl vroeë rasionaliste die denkresultaat (bv. oordele en konsepte) beklemtoon het, lê die klem by die latere op die kenaktiwiteit.

Metodes van ondersoek word dus belangrik. Net soos wat die keninhoud vroeër apriories geplaas is, is die metodes ook gesien as dinge wat apriories binne die rede sou lê en op die werklikheid toegepas moet word (Vollenhoven 2005d:76).

Om wetenskaplik aanvaarbaar te kon wees, moes 'n mens dus die regte metodes toepas. Vroeëre wetenskaplikes, wat volgens n kontemplatiewe metode die natuur beskou het, was uit die mode. Volgens die nuwe positivistiese denke moes die natuur met byvoorbeeld eksperimentele en statistiese metodes gemanipuleer word. Op dié wyse word natuurwette ontdek wat die wetenskap in staat stel om natuur en mens te beheers (vgl. Bril 1986:218 e.v. en 1993:34).

Die rede kon nou egter nie meer norme vir antwoorde op fundamentele lewensvrae bied nie. Die vroeëre aprioriese redelike kennis oor goed en kwaad het verdwyn.Ook die geloof in 'n aangebore (aprioriese) godsidee, waarin die vroeëre rasionalisme nog geglo het, is verwerp.

Die positivis, Darwin (1809-1882), ontken byvoorbeeld die godsbewyse van Paley (17431805) (vgl. Vollenhoven 1992:282). Hy erken dat hy 'n agnostikus geword het - hy weet nie meer of God bestaan of nie. Die sekularisasie van die Westerse denke neem met die positivisme in intensiteit toe.

Vollenhoven (2011:162) vestig egter ook in hierdie geval weer die aandag daarop dat nie alle positiviste evolusioniste kon wees nie, omdat nie almal kosmogonies-kosmologies gedink het nie.

5.3 Monisme

Behalwe normatiewe rigtings is ook twee beskouinge oor die strukture van die werklikheid noodsaaklik om evolusionisties te kan dink. Die eerste is 'n monistiese filosofie wat sewe verskillende tipes evolusionisme tot gevolg kan hê. Die monisme en dualisme staan voor die raaisel van die eenheid en verskeidenheid van die werklikheid en probeer daarvoor verklarings vind.

Kok (1996:31) verduidelik die verskil so: Diegene wat beweer dat die werklikheid essensieel tot slegs een beginsel gereduseer kan word, is moniste. Hulle wat twee basiese beginsels postuleer, is dualiste.

Moniste gaan dus uit van één oorsprong van alles wat vertikaal in n hoëre en laere afsplitsing verdeel.Die dualiste verklaar die oorsprong van die werklikheid uit twee korrelate beginsels (´n hoëre en ´n laere).6 Darwin was n duidelike monis.

Volgens Vollenhoven is altwee opsies onbybelse standpunte. In die geval van die monisme, omdat God en sy skepping nie onderskei word nie, maar as eenheid beskou word. Indien die monisme nog ´n god of die God erken, word hy met die kosmos vereenselwig. Spinoza (1632-1677), ´n monis, kon dus praat van deus sive natura (god of natuur) en die evolusionis, Ernst Haeckel (1834-1919) van theophysis, n soort goddelike natuur.

Ook die dualisme is vir ´n Skrifmatige filosofie onaanvaarbaar, omdat dit ook die skepping ontken en God en die wêreld as ewige korrelate beskou word (vgl. Vollenhoven 2005b:268).

Volledigheidshalwe moet hier bygevoeg word dat, hoewel Vollenhoven in sy analise van die evolusionisme die dualiste verontagsaam het, hy later die tekort in sy analise erken het (vgl. Bril 1993:38 en in Vollenhoven 2000:305). Hier onderskei hy dan tussen konsekwente en inkonsekwente evolusioniste. Volgens laasgenoemde tipe dualistiese evolusioniste (populêr onder Christene) sou die liggaam van die mens wel uit die diereryk ontstaan het, maar die siel word deur God daarin geskep (kreasianisme genoem). Hier word evolusie dus deur ´n digotomiese mensvisie - n onbybelse gedagte - moontlik gemaak.

Dit bring ons by die laaste (vierde) basiese vereiste vir evolusionistiese denke.

5.4 Kontinuïteit tussen ten minste twee ryke

Omdat nie alle denkers wat aan vooruitgang glo, positivisties en monisties dink nie noodwendig evolusioniste is nie, moet hierdie laaste karaktertrek nog bykom.

Soos so pas genoem, word daar by monistiese denkers (a.g.v. die afsplitsing uit die oorspronklike eenheid) tussen die hoëre en laere divergensie onderskei. Dit bepaal ook hoe hulle die ryke van stof, plant, dier en mens beskou, waar die grense tussen hierdie ryke lê. Soos nog hieronder sal blyk, kan die grens tussen wat hoër en wat laer sou wees op verskillende vlakke getrek word.

Omdat evolusioniste altyd progressie, vooruitgang leer en wel van n laere na n hoëre ryk, vereis dit die erkenning van ten minste twee ryke. Volgens Vollenhoven (1992:183) beteken so ´n evolvering egter n verkeerde visie op die ryke. Die korrekte verband is dié van vroeëre tot latere ryke wat mekaar wel veronderstel, maar nie uit mekaar voortvloei nie.

Indien (volgens die spesifieke tipe monisme) die menseryk as die hoogste ryk beskou word, is evolusie nie nodig nie, want dan staan die menslike teenoor die drie laere ryke (vgl. bv. die antropologiese wisselwerkingsteorie onder 6.1.2). Word die grens egter op laere vlakke geplaas, bestaan daar geen ontiese of wesentlike verskil tussen mens en dier nie (ook die mens is 'n soogdier) en is (soos binnekort sal blyk), verskillende vorme van evolusionisme moontlik.

Nou volg ´n kort weergawe van Vollenhoven se tweede lesing.

 

6. DIE INHERENTE PROBLEMATIEK EN INTERNE VERSKEIDENHEID VAN DIE EVOLUSIONISME

Dikwels is evolusioniste self nie bewus van die verskille wat tussen hulle bestaan nie. Gewoonlik skryf hulle - om n eenheidsfront na buite te toon? - ook nie graag daaroor nie. Meestal is Christene wat n kompromie tussen hulle Christelike geloof en die evolusionisme voorstel nog minder van die interne verskille onder evolusioniste bewus - "evolusionisme" word n sambreelbegrip.

Hierbo is reeds duidelik gemaak dat die evolusionisme ook by mitologiserende denkers voorkom, maar meestal by genetiese (kosmogono-kosmologiese), monistiese denkers. Hier word dus eers aan die verskillende soorte evolusionismes, aandag gegee wat laasgenoemde konsepsie toelaat.

6.1 Drie hooftipes by die monistiese kosmogoniese denke

Omdat moniste moet besluit wat die verhouding tussen die hoëre en die laere afsplitsing uit die eenheid is, het drie verskillende teorieë ontstaan: prioriteitsleer, wisselwerkingsteorie (wwkt) en parallelisme. Volgens eersgenoemde beïnvloed die hoëre die laere; volgens die wwkt is daar wedersydse wisselwerking tussen die hoëre en laere; volgens die parallelisme ontwikkel die hoëre en laere parallel, sodat die een nie die ander beïnvloed nie.7

6.1.1 Prioriteitsleer

In hierdie geval bestaan daar vier verskillende tipes (vgl.Vollenhoven 2011a:272).

Diegene sonder impetusteorie het geleer dat die hoëre die laere kontroleer (okkasionalisme) of net beskou of beoordeel (ennoëtisme). Omdat 'n fundamentele, ontiese verskil tussen dier en mens veronderstel word, is evolusionisme nie moontlik nie.

´n (Primêre) impetusteorie impliseer dat die laere 'n impetus of stoot uit die hoëre divergensie ontvang, sodat daar geen impuls vir evolusie vanuit die laere na die hoëre is nie.

Omdat daar by die volgende twee tipes prioriteitsleer (die instrumentisme en die vitalisme) nie 'n wesentlike ontiese verskil tussen dier en mens bestaan nie, kan hulle evolusionisme akkommodeer.

By die instrumentisme (vgl. Vollenhoven 2011a:11) is daar twee ryke in die hoëre afsplitsing uit die eenheid, naamlik die psigiese en bewussyn. In die geval van H. Bergson (1859-1941) se skeppende evolusie streef die dierlike instink as instrument na hierdie hoëre menslike sfere.

Ook in die geval van die vitalisme bestaan daar nie 'n grondige verskil tussen die psigiese (wat ook by diere voorkom) en die menslike bewussyn nie. E. Spranger (1892-1963) sien 'n duidelike oorgang tussen die laere, vitale en die hoëre, psigiese.

'n Tweede tipe teorie binne die monistiese denke is verskillende wisselwerkingsteorieë.

6.1.2 Wisselwerkingsteorie

Daar bestaan drie variasies van hierdie teorie. Maar omdat die evolusionisme ten minste twee ryke veronderstel, is dit nie moontlik in die eerste tipe nie.

Antropologiese wwkt. Hier staan die hoogste menseryk alreeds teenoor die laere ryke, sodat dit nie uit die laere hoef te ontwikkel nie. Dit gebeur wel by die volgende twee tipes.

Fitologiese wwkt. Die naam (fitologies) dui aan dat dit hierin oor die planteryk gaan en dus 'n soort biologisme is. Die mens se evolusionêre oorsprong lê in die planteryk. Charles Darwin (1809-1882) en Thomas Huxley (1825-1895), Darwin se "bulldog" genome, het hierdie teorie voorgestaan. Volgens Darwin word daar 'n groter nageslag gebore as wat kan oorleef, sodat uiteindelik net die sterkste oorbly (sy leer van natuurlike seleksie). So 'n teorie het vanselfsprekend gevaarlike implikasies vir menslike norme.

Soölogiese wwkt. Hierdie teorie kan ook "animalisme" genoem word omdat die mens daarvolgens uit die dier (Latyn: animal) sou evolveer het. Omdat in die diereryk 'n stryd om oorlewing heers, sou dit ook van die mens geld. Stryd, konflik en oorlog word as normaal en essensieel beskou - dit is 'n natuurlike snoeimes. Lamarck (1744-1829) was 'n vroeëre verteenwoordiger van hierdie rigting en later ook figure soos sir Arthur Keith (1866-1950) en S.R. Steinmetz (1862-1940). Om oorlog te verbied, sou beteken om die kollektiewe stryd in sy oorspronklike, essensiële vorm op te hef - 'n idee wat invloed aan die begin (1914) van die Eerste Wêreldoorlog gehad het (vgl. Bril 1993:39).

Dit is duidelik dat hierdie soort evolusionisme een van die gevaarlikstes is. God se liefdeswet asook sy skeppingsorde (struktuurwette) is oorboord gegooi in die vertroue dat "die natuur" (die diereryk) vir alle menslike verhoudinge die normatiewe koers sou aandui. Dit word nog skrikwekkender wanneer hierdie soort evolusionisme in die mitologiserende denke voorkom (vgl. hieronder by 6.2.2).

6.1.3 Parallelisme

Hier onderskei Vollenhoven twee subtipes. Die beperkte parallelisme sien 'n deterministiese parallel tussen liggaam en siel, soos by Samuel Alexander (1859-1938). By onbeperkte of volledige parallelisme is daar sprake van bewussyn (siel) selfs in die geval van atome. Alles is besiel (panpsigisme). Verteenwoordigers hiervan was onder andere Ernst Haeckel (18341919), C. Lloyd Morgan (1852-1936) en P. Theilhard de Chardin (1881-1955). (Vgl. ook die emergensieteorie, Bril 1986:138 e.v.)

6.2 Evolusie by monisties-mitologiserende denkers

Hier bestaan net een tipe monistiese evolusieteorie. Dit is analoog aan die hierbo genoemde soölogiese wwkt - en het nog gevaarliker morele implikasies vir menswees.

6.2.1 Friedrich Nietzsche (1844-1900)

Hierdie filosoof gaan in die finale voorlaaste fase van sy ontwikkeling (1883-1900) oor na die lewensfilosofiese stroming binne die irrasionalisme. Daarby dink hy mitologiserend en monisties met n soölogiese wisselwerkingsteorie (vgl. Vollenhoven 2005b:290-293). Hy glo dus aan die wil tot mag wat tot die Uebermensch sou lei en wat aan geen (ander) norm as die wil tot mag gehoorsaam hoef te wees nie. Hoewel hy nie n anti-Semiet was nie, word hy dikwels as n voorloper beskou van verskillende Duitse ideoloë van die Derde Ryk in Nazi- Duitsland.

6.2.2 Nasionaal-sosialisme van Adolf Hitler (1889-1945)

Was die uitwissing van ses miljoen Jode en ander "donker" mense deur die Nazi's tydens WOII ´n toevallige gebeurtenis? (In totaal sterf ongeveer 48 miljoen soldate en burgerlikes in die oorlog.) Nee, want andersins sou die verskriklike wreedhede teen die mens onbegryplik wees. Iets daarvan kan n mens slegs verstaan as daarmee rekening gehou word dat die Nazi's eenvoudig hulle soort evolusionistiese filosofie (as n afgedwonge ideologie) konsekwent en konkreet op die samelewing toegepas het. Hulle idees het voete gekry. Dit geld veral van die Führer, Adolf Hitler.

Hitler se filosofie

Hitler het dieselfde tipe filosofie as Nietzsche (vgl. hierbo) gehuldig, naamlik ´n mitologiserende en monistiese met n soölogiese wisselwerkingsteorie. Sy denke ressorteer ook onder die tweede substroming binne die irrasionalistiese hoofstroom (vanaf die begin van die twintigste eeu), die lewensfilosofie. (Die eerste was die pragmatisme en die derde die eksistensialisme. Vollenhoven 2005d:159). Die norm binne die lewensfilosofie was desisionisme. Dit hou in dat die bron van reg en geregtigheid eenvoudig n aksie gegrond op '´n menslike magsbesluit sou wees. Menslike outonomie en subjektivisme in die geval van die vroeëre rasionalisme word hier ver oortref.

Verskillende invloede op Hitler se denke

Vollenhoven (2005b:276-279) beskryf die filosofiese agtergronde van die nasionaal-sosialistiese ideologie van Nazi-Duitsland soos volg. Hans Heyse (1891-1976) en Alfred Rosenberg (1853-1946) het dieselfde tipe filosofie as Nietzsche gehuldig. Heyse het die mens dus as ´n produk van die diereryk beskou. Rosenberg neem Nietzsche se teëstelling tussen die swak en sterk menslike nature oor. Hitler volg in dieselfde filosofiese lyn (vgl. Vollenhoven 2000:242).

Daar was ook ander soortgelyke invloede op Hitler werksaam. Een daarvan was dié van ´n Oostenrykse denker, Josef Lanz (1874-1954). Hy huldig n rassistiese filosofie van "Kampf ums Dasein". Hitler het nie net sy geskrifte versamel en bestudeer nie. (Verskeie van Lanz se geskrifte is in sy biblioteek gevind toe Duitsland deur die geallieerde magte aan die einde van WOII beset is.) Op twintigjarige ouderdom het Hitler Lanz persoonlik besoek. Ook van Hitler se medestanders, soos Heinrich Himmler (die latere hoof van die SS), is deur Lanz beïnvloed. Daar is verder okkulte, mitologiese trekke in Hitler se denkwêreld. Onder andere in sy verheer-liking van die Ariese ras teenoor ander donkerder rasse soos die Slaviese en Joodse (vgl. Vollenhoven 2005b:278).

Sekulêre norme

Maar genoeg om aan te toon watter verskriklike gevolge sekere tipes evolusionistiese denke kan hê. n Vraag wat nog oorbly, is hoe dit moontlik was dat Hitler, sy voorgangers en medestanders, so suksesvol kon wees om hulle ideologie deur die meerderheid van die Duitse volk te laat aanvaar. Dat dit ook afgedwing is, is waar, maar heel waarskynlik bestaan daar n belangriker rede. Eenvoudig omdat miljoene mense se norme, as gevolg van die voortgaande sekularisering van die Westerse denke en kultuur, so gedisoriënteerd geraak het dat hulle bereid was om die goeie vir die bose te verruil.

Na Vollenhoven se analise van die verskillende vorme van evolusionisme en sy (implisiete) verwerping daarvan, sal n mens graag wil weet wat sy eie standpunt inhou. Dit bied hy in sy derde (gerekonstrueerde) lesing met die titel:

 

7. TRANSFORMASIE EN TRANSFORMISME

Dit wil lyk asof Vollenhoven alreeds teen 1945 en nie eers in 1957 of 1963 nie n duidelike standpunt oor evolusie gehuldig het.

7.1 Sy visie teen 1945

Vollenhoven (2005a:21-22) skryf in die Nederlandse teks (met n latere Engelse vertaling) van die uitgawe van 1945 van sy Isagögè philosophiae eers dat hy (volgens Gen. 1:1) aanvaar dat

God in die begin die hemel en aarde geskep het. Dan volg die volgende woorde:

The word "earth" only implicitly refers to the wealth created in it by God. Holy Scripture denotes the relationship of "earth" to this variegated multiplicity as a relationship of that which was initially encompassing to that which was initially encompassed (Genesis 1:2) and the evolving of the latter out of the former as the work of the Spirit of God, who guides all of this, reciprocally connected, to development.

Tipies van Vollenhoven is dit 'n baie kriptiese uitspraak en dus nie maklik verstaanbaar nie. Dit hoef egter nie in stryd te wees met sy latere visie nie. Vollenhoven dink toe alreeds nie louter kosmologies nie, maar erken ontwikkeling of evolvering hoewel hy eers in 1963 eksplisiet onderskeid tussen evolusie en evolusionisme sou maak.

Na bostaande uitspraak volg daar twee opmerkings. Die eerste lui dat die evolvering (afgelei van die Latyn evolvere wat "ontrol" beteken) nie op God van toepassing is nie. Vollenhoven dink dus ook nie mitologiserend waarvolgens gode ook sou ontwikkel het nie.

Tweedens word opgemerk dat hierdie evolvering nie met die gangbare idees oor evolusionisme vereenselwig moet word nie, want laasgenoemde veronderstel die afleibaarheid van die hoëre (ryke) uit die laere (ryke), van die latere uit die eerdere.

7.2 Verdere verduideliking

Behalwe die derde Potchefstroom lesing (van 1963) bied Vollenhoven in die 1992 heruitgawe van sy geskrifte (bladsy 181-184 en 320-322) verdere informasie. (Die twee artikels waarin dit voorkom, dateer uit 1963 en waarskynlik 1964). Dit en Vollenhoven (2005c) word in die hiervolgende rekonstruksie verwerk.

Kernagtig vat Vollenhoven sy eie standpunt (vertaal) soos volg saam: "Evolusie is n progressie van transformasie, terwyl evolusionisme progressie van transformisme is" (Vollenhoven 1992:181). Wat presies hy met die onderskeid bedoel, verg verduideliking. Vooraf volg egter eers n intermezzo om die aandag te vestig op Vollenhoven se verskil met sy voorgangers in die reformatoriese tradisie.

7.2.1 Vollenhoven erken evolusie

Volgens Vollenhoven (2011b:159) het sy voorgangers en tydgenote (Kuyper, Bavinck, Diemer en Dooyeweerd) in 'n Aristotelies-skolastieke tradisie louter kosmologies gedink.8 Hulle kon dus nie reg laat geskied aan die genetiese of wordende element van die skepping nie. (Volgens Vollenhoven bestaan daar nie net 'n stand van sake nie, maar ook 'n gang.) Gevolglik het hierdie reformatoriese denkers se eie wysgerige visies hulle nie toegelaat om transformasie binne dieselfde ryk te aanvaar nie.

7.2.2 Ooreenkoms en verskil met geesgenote

Vollenhoven en Dooyeweerd verwerp wel albei die evolusionisme as lewensvisie.9 Vollenhoven erken egter evolusie of transformasie binne dieselfde ryk, terwyl dit vir Dooyeweerd onaanvaarbaar was, omdat hy van konstante, onveranderlike soorte in die plante- en diereryke uitgaan (vgl. o.a. Dooyeweerd, 1959).

Volgens Vollenhoven (1992:181) is die soortbegrip egter nie net vaag nie, maar ook te star, omdat soorte nie onveranderlik hoef te wees nie. Die onderskeid tussen die ryke van stof, plant, dier en mens is duideliker as dié tussen soorte, omdat hulle aan verskillende modaliteite deel en daarvolgens duidelik van mekaar onderskei kan word (vgl. 3.2.3 hierbo en 7.4.1 hieronder).

7.3 Darwinistiese evolusionisme

Soos nou geblyk het, erken Vollenhoven wording, evolusie of transformasie binne dieselfde ryk van stof, plant of dier. Dit beteken egter nie dat Vollenhoven die gangbare evolusionistiese teorieë sonder meer oorneem nie.

In die algemeen kan gesê word dat in die vroeëre en latere Darwinistiese leer aanpassing by die omgewing, die stryd om bestaan en die oorlewing van die sterkste belangrike gedagtes was. Soos aangetoon, is die stryd ook op die mens van toepassing gemaak - oorlog is as iets noodsaaklik beskou. Volgens die latere Sosiaal-Darwinistiese Sosiobiologie moet die mens ook in ander opsigte soos die dier lewe (vgl. Van der Walt 2007).

Vollenhoven tipeer hierdie Darwinistiese strydteorie as 'n subjek-subjek-verhouding, maar verkies eerder 'n aanpassingsteorie wat 'n subjek-objek-verhouding veronderstel.

7.4 Subjek-objek-verhouding

Om te verstaan wat Vollenhoven op die oog het, volg hier eers 'n verduideliking van wat hy (en ook Dooyeweerd) met subjek- en objekfunksies bedoel.

7.4.1 Subjekfunksies

Volgens sy modaliteitsleer (vgl. 3.2.3 hierbo) sien Vollenhoven 'n ander soort verband tussen die hoëre/latere en die laere/vroeëre ryke.As subjekte vertoon stoflike dinge 'n aritmetiese of getalsaspek, 'n ruimtelike en fisiese. Bo en behalwe die drie, is plante ook organiese dinge en diere psigiese wesens. Die mens vertoon nog veel meer modaliteite of funksies: die analitiese, historiese, linguale, sosiale, ekonomiese, estetiese, juridiese, etiese en pistiese of geloofsfunksies (vgl. Vollenhoven 2005a:37 en 38). Hierdie is almal subjekfunksies, behorende tot die vier ryke wat hulle verskille aandui. Daarbenewens is slegs die mens met 'n (prefunksionele) hart toegerus, sodat hy/sy tussen goed en kwaad kan kies.

7.4.2 Objekfunksies

As gevolg van objekfunksies bestaan daar egter ook n verband tussen al die ryke. Die volgende twee voorbeelde maak duidelik wat hier bedoel word.Vir 'n insek (n biologiese wese) kan 'n klip (iets fisies) waaronder dit kan skuil, 'n biologiese objekfunksie vervul. Op die oog af is 'n trouring slegs 'n stukkie goud of platinum, 'n metaal - 'n fisiese subjek. Maar in werklikheid is dit ook ekonomies waardevol, esteties mooi en dra dit veral die etiese boodskap van wedersydse trou tussen man en vrou - objekfunksies in die menslike ryk. Elke ding in elk van die vier ryke het dus deel aan alle aspekte van die werklikheid, indien nie as subjek nie, dan wel as objek.

7.4.3 Subjek-objek-verhoudings en evolusie

Dit gaan volgens Vollenhoven by transformasie of evolusie van soorte nie om stryd of 'n subjek-subjek-verhouding nie, maar om aanpassing, dit wil sê 'n subjek-objek-relasie. As byvoorbeeld, as gevolg van klimaatsverandering, 'n diersoort in 'n kouer omgewing kom ('n gewysigde subjek-objek-verhouding), het diere met 'n digter vag of wol 'n groter oorlewingskans. 'n Soort-gelyke aanpassing kan plaasvind wanneer plantsaad aan die warmer noordelike of kouer suidelike kant van 'n bergreeks versprei. Na 'n langer of korter tyd, kan genetiese veranderings, 'n nood-saaklike voorwaarde vir evolusie, plaasvind.

Vollenhoven merk verder op dat so 'n transformasie positiewe evolusie, maar ook nega-tiewe devolusie kan inhou. So byvoorbeeld die verlies van gesigsvermoë van diere wat in grotte begin woon. (Hy is egter nie seker of selfs so 'n devolusie ook as positiewe aanpassing beskou moet word nie.)

7.5 Mens en evolusie

Die derde lesing van Vollenhoven handel ook oor die mens en evolusie, maar soos reeds genoem, is daar van hierdie toespraak slegs kriptiese notas beskikbaar. Daaruit blyk egter wel dat Vollenhoven se visie van 1963 'n duidelike ooreenkoms toon met sy vroeëre standpunt (Vollenhoven1957). Eerstens huldig Vollenhoven 'n eie visie op menslike norme en waardes en tweedens op die menslike struktuur.

7.5.1 Norme

Volgens hom (Vollenhoven 1992:209-210) is die evolusionisme een van die uitlopers van die historisme wat alle norme as relatief beskou. In die geval van die evolusionisme bestaan nogtans die vertroue dat die "natuur" uit ape mense sou voorbring. Dit lei egter tot die verdierliking van menslike norme, nie alleen in die verhouding tussen man en vrou nie, maar ook in ander menslike relasies - 'n uiters gevaarlike standpunt.

Dit hang daarmee saam dat die evolusionisme die werklikheid (wat alleen die aardse werklikheid sou insluit) onder een noemer tuisbring (monisties dink) en die bestaan van God ontken. Dit kan gevolglik ook nie reg laat geskied aan God se verordeninge vir die mens nie.

Ook menslike verantwoordelikheid kom in gedrang.

7.5.2 Liggaam en siel

In hierdie verband wys Vollenhoven op twee verskille met die evolusionisme.

In die eerste plek op die modale verskille tussen mens, plant en dier. Soos hierbo reeds vermeld (vgl. 7.4.1), vertoon die mens talle addisionele fasette of funksies (vanaf die analitiese tot die geloof) in vergelyking met die dier.

In die tweede plek erken 'n evolusionistiese mensvisie ook nie die prefunksionele hart of siel van die mens nie. Daarin word 'n religieuse keuse gemaak tussen gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God se verordeninge, saamgevat in sy liefdesgebod, word rigting gekies tussen goed en kwaad.

Daar kan volgens Vollenhoven nie tussen liggaam en siel (of hart) aanpassing of evolusie bestaan nie (vgl. die inkonsekwente evolusionistiese denke by dualisties-denkende Christene onder 5.3 hierbo). Dit is volgens hom onmoontlik, omdat die verhouding tussen prefunksionele hart en die liggaamlike nie 'n subjek-objek-verhouding is nie. Dit is nie eers 'n subjek-subjek- verhouding nie - die mens is één in hart en liggaam (funksiemantel).

 

8. GEVOLGTREKKING

Sowel vanuit sy eie tetiese visie, as vanuit sy kritiese analise van die wysgerige (ontiese en antropologiese) uitgangspunte van die evolusionisme, het Vollenhoven die volgende geleer. Hy erken ten volle die genetiese of wordingsproses in die gang van die skepping. Evolusie of transformasie deur byvoorbeeld aanpassing binne dieselfde ryk is dus moontlik. Evolusionisme of transformisme wat die ryke oorskry deur 'n ontiese kontinuïteit tussen hulle te veronderstel, is nie vir hom as Christenfilosoof aanvaarbaar nie. Dit berus op spekulasie (Vollenhoven 1992:321). Hy lê gevolglik klem daarop dat Christendenkers nie moet probeer om verkeerde (evolusionistiese) teorieë met die Bybelse skeppingsgedagte te versoen of "Christelik" te probeer doop nie (vgl. Vollenhoven 1992:183).

In sy derde gaslesing van 1963 benadruk hy egter dat, hoewel gelowige Christene hulle nie deur die evolusionistiese mode moet laat meesleur nie - wat gangbaar is, is nie noodwendig aanvaarbaar nie - hulle nie net die evolusionisme bloot intuïtief moet verwerp nie, maar duidelike filosofiese gronde moet verskaf waarom hulle dit afwys. Hoewel heelwat vrae nog onbeantwoord bly, is dit veral in hierdie opsig wat Vollenhoven se bydrae waardeer kan word.

Addendum: Hoe dit gebeur het dat Vollenhoven se 1963-Gaslesings in 2011 in Nederlands gepubliseer is en binnekort ook in Engels sal verskyn

Die meeste van Vollenhoven se 25 lesings op Potchefstroom is op 'n destydse Uhrer bandmasjien opgeneem. (Dit het twee groter en twee kleiner rolle beslaan, n totaal van 2340 meter met ´n speeltyd van altesaam 18 uur.) Die skrywer het die voorreg gehad (nog as teologiese student) om die meeste van die lesings by te woon en notas te maak. Die bande is in 1970 oorhandig aan dr. Kornelis Bril van Nederland. Bril laat die bande gedurende 1970-1971 by die destydse Centrale Interfaculteit van die VU oortik. Maar, omdat die tikster nie bekend was met die name van al die baie filosowe, asook Vollenhoven se terminologie nie, was dit nie vir publikasie bruikbaar nie.

Teen 2007 was die ou tipe bandopnamemasjiene nie meer beskikbaar nie. Die geluidsbande moes - met moeite - omgesit word op 3 DVD's. Eers daarna kon dr. Bril die moeisame werk begin om, terwyl hy na Vollenhoven luister, die getikte teks (van 1970-1971) te korrigeer en redigeer. Uiteindelik - byna 50 jaar nadat die oorspronklike lesings gelewer is - kon Vollenhoven se Gastcolleges, erfenis voor het heden by ´n spesiale Vollenhoven Symposium aan die VU (Augustus 2011) in ontvangs geneem word.

By hierdie geleentheid is besluit dat Vollenhoven se 1963-lesings nog steeds waardevol is en daarom n wyer leserskring in Engels regverdig. Die Vollenhoven Stichting (met Nederlandse borge) en die Skool vir Filosofie op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit het dus ooreengekom om elk die helfte van die vertaalkoste te dra.Probeerslae met verskillende vertalers het die proses vertraag totdat ´n Vollenhoven-kenner, prof. John Kok (vgl. Kok 1992) ingewillig het en tans reeds ver gevorder het met die Engelse vertaling. Dit word deur Bril (alreeds 84 jaar) en andere gekontroleer en sal heel waarskynlik deur Dordt College Press in die VSA uitgegee word.

Ongelukkig is slegs Vollenhoven se eerste lesing oor evolusionisme in 1963 op band vasgelê en kon net dit later (vgl. Vollenhoven 2011b:159 e.v.) in Nederlands gepubliseer word.

Terwyl aan die vertaling van al die lesings in Engels gewerk is, ontdek my vrou in my biblioteek my destydse kriptiese aantekeninge van die oorspronklike lesings van Vollenhoven. Daaronder was gelukkig nog ook my notas van Vollenhoven se tweede en derde lesing oor die evolusionisme. Hoewel onvolledig, kon Bril, 'n bioloog, met behulp van hierdie notas en met sy kennis nie alleen van Vollenhoven se denke nie (vgl. Bril 1986 en 2005), maar ook die evolusionisme (vgl. Bril 1993) die twee ontbrekende lesings ten dele rekonstrueer, sodat hulle nou ook deel van die beoogde Engelse publikasie sal word.

 

BIBLIOGRAFIE

Bril, K.A. 1986. Westerse denkstructuren; een probleemhistorisch onderzoek. Amsterdam: VU Uitgeverij.         [ Links ]

Bril, K.A. 1993. De opkomst en de ontwikkeling van het evolutionisme en de probleemhistorische methode van Vollenhoven. Philosophia Reformata, 58:28-48.         [ Links ]

Bril, K.A. 2005. Vollenhoven 's problem-historical method; introduction and explanations. Sioux Center, Iowa: Dordt College Press.         [ Links ]

Dooyeweerd, H. 1959. Schepping en evolutie. Philosophia Reformata, 24:113-159.         [ Links ]

Driessen, A. & Nienhuis, G., reds 2010. Evolutie: wetenschappelijk model of seculier geloof? Kampen: Kok.         [ Links ]

Flipse, A. & Harinck, G., reds 2011. Waar komen we vandaan? Anderhalve eeu evolutiedebat in protestants-christelijk Nederland. Amsterdam: VU Dokumentatie Centrum.         [ Links ]

Haenen, H. 2016. Ubuntu en Nelson Mandela; Afrikaanse filosofie van versoening. Budel: Damon.         [ Links ]

Kant, I. 1998. Bestimmung des Begriffs einer Menschenrasse. In Weischedel, W., red. Immanuel Kant; Werken in sechs Bäden. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft. Band 6, pp. 67-80.         [ Links ]

Klapwijk, J. 2009. Heeft evolutie een doel? Over schlepping en emergente evolutie. Kampen: Kok.         [ Links ]

Kok, J.H. 1992. Vollenhoven: his early development. Sioux Center, Iowa: Dordt College Press.         [ Links ]

Kok, J.H. 1996. Patterns of the Western mind; a reformed Christian perspective. Potchefstroom: Institute for the Reformational Studies. (Reprint 1998 by Dordt College Press, Sioux Center, Iowa).         [ Links ]

Kruyswijk, H.H. 2011. Baas in eigen Boek. Evolutie en Schriftgezag bij de Gereformeerde Kerke in Nederland (1881-1981). Hilversum: Verloren.         [ Links ]

Kwakkel, G. en Van Houwelingen, P.H.R. 2011. In den beginne en verder. Groningen: De Vuurbaak.         [ Links ]

Schutte, G. 2005. De Vrije Universiteit en Zuid-Afrika 1880-2005. (2 dele). Zoetemeer: Uitgeverij Meinema.         [ Links ]

Stellingwerff, J. 1992. D.H.Th. Vollenhoven (1892-1978); reformator der wijsbegeerte. Baarn: Ten Have.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2004. Paradigms in Mathematics, Physics and Biology - their philosophical roots. Bloemfontein: Tekskor.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2009. Philosophy, discipline of the disciplines. Grand Rapids, Michigan: Paideia Press.         [ Links ]

Taljaard, J.A.L. 1955. Franz Brentano as wysgeer; ´n bydrae tot die kennis van die Neo-Positivisme. Franeker: T. Wever.         [ Links ]

Taljaard, J.A.L. 1976. Polished lenses; a philosophy that claims the sovereignty of God over creation and also over every aspect of human society. Potchefstroom: Pro Rege Pers.         [ Links ]

Tol, A. 2010. Philosophy in the making; D.H.Th. Vollenhoven and the emergence of Reformed Philosophy. Sioux Center, Iowa: Dordt College Press.         [ Links ]

Tol, A. 2011. Reformational philosophty in the making.Philosophia Reformata, 76(2): 187-215.         [ Links ]

Tylor, E.B. 1871. Primitive culture; researches into the development of mythology, philosophy, religion, art and custom. London: John Murray.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2007. Contemporary guidance on the relationship between male and female: reflections on an evolutionistic ethic. In Van der Walt, B.J. Transforming power. Potchefstroom: Institute for Contemporary Christianity in Africa, pp. 378-415.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2014a. A Scriptually oriented perspective on the history of Western intellectual thinking: the origin, contours of and questions about the consistent problem-historical method. In Van der Walt, B.J. Constancy and change; historical types and trends in the passion of the Western mind. Potchefstroom: Institute for Contemporary Christianity in Africa, pp. 18-37.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2014b. At the cradle of a Christian philosophy in Calvin, Vollenhoven, Stoker and Dooyeweerd. Potchefstroom: ICCA.         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2016a. Kontra of pro evolusie? Drie Christelike bioloë se besinning oor die ontstaan van die wêreld. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, vir publikasie aanvaar in jg.52(3).         [ Links ]

Van der Walt, B.J. 2016b. Die wêreldbeeld van die gereformeerde bioloog, Jan Lever (1922-1010). Van evolusieteorie na evolusionistiese geloof? Koers, jg.81, nr. 1, beskikbaar by http://dx.doi.org/10.19108/KOERS.81.1.2253.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 1933. Het Calvinisme en de reformatie van de Wijsbegeerte. Amsterdam: H.J. Paris.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 1950. Geschiedenis der Wijsbegeerte. Deel 1: Inleiding in de geschiedenis der Grieksche Wijsbegeerte vóór Plato en Aristoteles. Franeker: T. Wever.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 1956. Kort overzicht van de Geschiedenis der Wijsbegeerte voor den Cursus Paedagogiek MOA. Amsterdam: Uitgeverij THEJA.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 1957. De wijsbegeerte van het evolutionisme. Mededelingen van de Vereniging voor Calvinistische Wijsbegeerte, Januarie: pp. 8-9.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 1962. Schematische Kaarten met register behorend by "Kort overzicht van de Geschiedenis der Westerse Wijsbegeerte". Amsterdam: Vrije Universiteit.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 1992. Vollenhoven als wijsgeer; inleidingen en teksten. (Reds A. Tol & Bril, K.A.). Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2000. Schematische Kaarten; filosofische concepties in probleemhistorisch verband. (Reds Bril, K.A. & Boonstra, P.J.). Amstelveen: De Zaak Haes.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2005a. Isagógè philosophiae; introduction to philosophy. (Eds Kok, J.H. & Tol, A.). Sioux Center, Iowa: Dordt College Press.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2005b. Wijsgerig Woordenboek. (Red Bril, K.A.). Amstelveen: De Zaak Haes.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2005c. Evolutie. In Vollenhoven, D.H.Th. Wijsgerig Woordenboek (Red K.A. Bril). Amstelveen: De Zaak Haes, pp. 142-143.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2005d. The problemhistorical method and the history of philosophy. (Ed Bril, K.A.) Amstelveen: De Zaak Haes.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2005e. De probleem-historische metode en de geschiedenis van de Wijsbegeerte. (Red Bril, K.A.). Amstelveen: De Zaak Haes.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2010: Isagógè philosophiae 1930-1945; filosofie in de traditie van de Reformatie. (Tekskritische uitgave deur Tol, A.). Amsterdam: VU Uitgeverij.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2011a. Gastcolleges Wijsbegeerte: erfenis voor het heden. (Reds Bril, K.A. en Nijhoff, R.A.). Amstelveen: De Zaak Haes.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2011b. Evolutionisme. In Vollenhoven, D.H.Th. Gastcolleges Wijsbegeerte; erfenis voor het heden. Amstelveen: De Zaak Haes, pp. 159-166.         [ Links ]

Vollenhoven, D.H.Th. 2013 (oorspronklik 1926 in Nederlands). Reformed epistemology; the relation of Logos and Radio in the history of Western Epistemology. (Transl. and introd. by Tol, A., ed by Kok, J.). Sioux Center, Iowa: Dordt College Press.         [ Links ]

 

 

 

Bennie van der Walt studeer aan die (destydse) Potchefstroomse Universiteit vir CHO en die Vrije Universiteit van Amsterdam en behaal die grade ThB en DPhil (Filosofie). Vanaf 1970 tot 1974 was hy senior lektor in Filosofie aan die Universiteit van Fort Hare, vanaf 1975 tot 1999 direkteur van die Instituut vir die Bevordering van die Calvinisme, later herdoop tot die Instituut vir Reformatoriese Studie, en (vanaf 1980) ook professor in Filosofie. Sedert sy emeritaat (1999) is hy navorsingsgenoot - tans by die Skool vir Filosofie op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Deesdae skryf hy heelwat artikels vir geakkrediteerde tydskrifte in Afrikaans en publiseer ook monogra-fieë in Engels. Van sy geskrifte is ook vertaal in onder andere Hongaars, Nederlands, Koreaans, Spaans, Portugees, Xhosa en Tswana. Hy het twee eregrade van instellings in Korea en Hongarye asook die Stalsprys (vir Filosofie) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.
Bennie van der Walt studied at the Potchef-stroom University for Christian Higher Education and at the Free University of Amsterdam and obtained the degrees of ThB (Theology) and DPhil (Philosophy). From 1970 to 1974 he was senior lecturer in Philosophy at the University of Fort Hare; from 1975 to 1999 he was director of the Institute for Reformational Studies and also (from 1980) professor in Philosophy at the Potchef-stroom University for Christian Higher Education. After his retirement (1999) he was appointed as research fellow of the School of Philosophy at the North-West University (Potchefstroom Campus). He has written many books and articles in refereed journals. Some of his writings were translated into the English, Dutch, Hungarian, Korean, Spanish, Portuguese, Xhosa and Tswana languages. He received two honorary degrees from institutions in Korea and Hungary and also the Stals Prize (for Philosophy) from the South African Academy for Science and Arts.
1 Strauss, 'n Suid-Afrikaanse filosoof, is een van die weiniges wat in talle publikasies (vgl. Strauss 2004 en 2009:106-118, 479-491 en verder Van der Walt 2016a se bibliografie) baie huidige vorme van die evolusionisme vanuit 'n reformatories-Christelike filosofie beskryf en ontleed het.
2 Vir besonderhede, vgl.onder andere Vollenhoven 2005a:6-8, 2010:16-18 asook Tol 2010:30-32, Kok 1996:8-19 en Van der Walt 2014a:24-25.
3 Vir die detail vgl. Vollenhoven 2000, 2005d en 2005e asook die verduidelikings deur Bril 1986, 2005 en Van der Walt 2014a. Laasgenoemde bron bespreek ook enkele punte van kritiek op Vollenhoven se historiografie van die Filosofie.
4 Hoewel Vollenhoven self nie hierdie soort wysbegeerte aanvaar nie, voel hy hom van die drie opsies die naaste daaraan verwant.
5 Vgl. bv. Vollenhoven 1957; 1992:180-183 en 320-321; 2005a:21 en 2005b:142-143.
6 Die monisme kan diagrammaties voorgestel word met 'n punt (die oorspronklike eenheid) en 'n hoëre en laere pyltjie daaruit; die dualisme met 'n horisontale lyn met bokant die lyn die transendente en onderkant die lyn die nie-transendente (vgl. Vollenhoven 2011a:270).
7 Diagrammaties: weer die monisme - 'n punt met twee pyle daaruit wat boontoe en ondertoe wys. By die prioriteitsleer slegs 'n pyl van die hoëre na die laer afsplitsing; in die geval van die wwkt 'n pyl van bona onder sowel as van onder na bo; by die parallelisme geen pyle nie, maar twee horisontale lyne vanuit sowel die hoëre as die laere (vgl. Vollenhoven 2011a:271).
8 Vir Vollenhoven se tipering van Dooyeweerd se filosofiese konsepsie, vgl. Van der Walt 2014b:147 e.v.
9 Dieselfde by Strauss (2009:106), wat onderskei tussen evolusie as die geleidelike ontwikkeling binne sekere grense en evolusionisme wat 'n kontinue ontwikkeling vanaf nie-lewende materie na plante, diere en die mens veronderstel.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License