SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número4-1Freedom and Idea: Antiphon for the universityPerspectives on Afrikaans as a university language índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.4-1 Pretoria Dez. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-1a6 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Wat is die universiteit? Gedagtes oor die gemeenskapsuniversiteit

 

What is the university? Reflections on the community-based university

 

 

Danie Goosen

Departement Godsdienswetenskap en Arabies Universiteit van Suid-Afrika. E-pos: goosedp@unisa.ac.za

 

 


OPSOMMING

In die artikel word uitgegaan van die gedagte dat die toekoms van universitêre Afrikaans toenemend 'n funksie van die Afrikaanse taalgemeenskap self en in die besonder van die sogenaamde gemeenskapsuniversiteit sal wees. Ten diepste fokus die artikel op die vraag na die aard en wese van die gemeenskapsuniversiteit. Ons gaan uit van die standpunt dat die gemeenskapsuniversiteit verstaan moet word teen die agtergrond van die verskille én ooreen-komste daarvan met sowel die moderne Von Humboldt-universiteit as die postmoderne besigheidsuniversiteit. Met sy verbintenis tot Bildung sluit die gemeenskapsuniversiteit by die tradisie van die Von Humboldt-universiteit aan. In die hart van die ideaal van Bildung staan die gedagte dat studente gelei word om insig in die geheel van dinge te verwerf. Maar anders as by die Von Humboldt-universiteit is Bildung binne die konteks van die gemeenskapsuniversiteit nie daarop gefokus om outonome individue binne die konteks van die staatlike orde op te lewer nie. Volgens die gemeenskapsuniversiteit beteken Bildung veel eerder om "burgers" op te voed wat n deelnemende verhouding nie net met die openbare lewe as sodanig nie, maar ook met hulle veelheid van gemeenskappe handhaaf. Soos die postmoderne universiteit word die gemeenskapsuniversiteit "van onder af' moontlik gemaak en deur die werklikhede van die vrye mark bemiddel. Maar anders as die postmoderne besigheidsuniversiteit met sy fokus op die globale markte, gee die gemeenskapsuniversiteit nie sy verbintenis tot plaaslike gemeenskappe, kulture en ekonomieë prys nie. Nog belangriker, anders as die postmoderne universiteit, wat daartoe neig om die universitêre werklikheid uit ekonomiese oorwegings te fragmenteer (nie net tussen die veelheid dissiplines nie, maar ook binne dissiplines self), is die gemeenskaps-universiteit met sy verbintenis tot die moderne universitêre ideaal van Bildung daarop bedag om steeds 'n sin vir die geheel te kultiveer en oor te dra. Kortom, terwyl globale universiteite ingevolge hul naam veronderstel is om 'n blik op die geheel te bied, fragmenteer hulle ons wêreld. Die teenoorgestelde is waar van gemeenskapsuniversiteite. Terwyl hulle in ooreenstemming met hul naam aan die plaaslike vassit, is hulle ironies genoeg forums waarop n lewensbeskoulike blik op die geheel hoegenaamd moontlik is.

Trefwoorde: Gemeenskapsuniversiteit, die Von Humboldt-universiteit, Bildung, geheel, postmoderne universiteit, neoliberalisme, fragmentasie, Margaret Thatcher, tussenliggende instellings


ABSTRACT

The article is based on the presupposition that the future of Afrikaans as a language of instruction at tertiary level will largely depend on the Afrikaans-speaking community (and not on the state, as was the case during the past century). At the same time the article proposes that such a university, created by the language community itself, be founded on the community-based idea of the university. The aim of the article is to focus on the meaning and essence of the latter, namely the community-based university. In order to give effect to this rather ambitious aim, the article broadly distinguishes between three different (but in some respects overlapping) concepts of what the university as such implies, namely the modern Von Humboldt university, the postmodern business university, and lastly the community-based university. Like the Von Humboldt university, the community-based university is committed to the idea of Bildung as its telos. What features at the very centre of Bildung is the idea that the educational event is characterised by the search for and insight into the whole of being (and not only specialised knowledge of or expertise in the multiplicity of disciplines). But unlike the Von Humboldt university, Bildung in the context of the community-based university does not aim at the realisation of an autonomous individual existence at the service of the modern territorial state.
Its aim is rather to educate students to become fully fledged burghers, i.e. balanced and mature participants not only in public affairs generally speaking, but also in the affairs of the many and respective communities to which they belong. In addition, with respect to the so-called business university in postmodern times, some similarities and dissimilarities with the community-based university are identified. Like the postmodern university, the community-based university is made possible "from the bottom up" rather than from "the top down", as is the case with the modern state-centred university. In this regard the free market plays a determining role at both universities. But unlike the postmodern business university, with its typical focus on the supply and demand of students (read "clients") on the global market, the community-based university does not suspend its dependence on and commitment to local communities, cultures and economies. Even more importantly, while for economic reasons the postmodern university tends to fragment the coherence between the different disciplines (not only between but also within the disciplines), the community-based university maintains a commitment to the modern Von Humboldt idea of Bildung and the latter's aim to cultivate an understanding for the whole of being. In short, while the global university is focussed on the whole of being in terms of its self-portrayal, it is in fact fragmenting being. At the foundation of these events at postmodern universities lies not only the central place awarded to the student as hyper-individual consumer, but also the reduction of knowledge to be nothing but exchangeable information. In response it is argued that the community-based university, drawing on the experience and wisdom of tradition and community, can play an important role in restoring the search for the whole as an indispensable part of an education at a tertiary institution.

Keywords: Community-based university, the Von Humboldt university, Bildung, whole, postmodern university, neo-liberalism, fragmentation, Margaret Thatcher, intermediary institutions


 

 

1. AANLOOP

Vandag word 'n wydverspreide oortuiging gehuldig dat die toekoms van universitêre Afrikaans nie meer afhang van die bestaande staatsondersteunde universiteite nie. Alhoewel dié universiteite nog 'n belangrike rol met betrekking tot Afrikaans kan speel, lui die oortuiging, is die toekoms van universitêre Afrikaans nou in die hande van die Afrikaanse taalgemeenskap self.

Hieronder word uitgegaan van die standpunt dat daar inderdaad gronde vir so 'n oortuiging bestaan: die toekoms van universitêre Afrikaans sal op 'n toenemende grondslag 'n funksie van die taalgemeenskap self word. Maar, en dit is die vraag waarby ons wil stilstaan, watter vorm kan so 'n universiteit aanneem? Moet dit die voorbeeld van die bestaande staatsuniversiteite navolg, met die blote verskil dat dit nou die gemeenskap self en nie die staat is wat die leiding neem nie? Of is hier van 'n meer wesenlike verskil sprake? Moet dit ingevolge sy selfverstaan 'n gemeenskapsuniversiteit wees?

Indien bevestigend op laasgenoemde geantwoord word, is die vraag wat daarmee bedoel word: Wat is 'n gemeenskapsuniversiteit? Hoe verskil dit van die staatsuniversiteit? Nog meer, hoe verskil die gemeenskapsuniversiteit van die globale universiteit, dit wil sê dié universiteite wat vandag, in die historiese verlengde van die sogenaamde staatsuniversiteite, die pas aangee?

Om hierop te kan antwoord, sal ons in die eerste afdelings van die artikel by die moderne universiteitswese as sodanig stilstaan. In die besonder word aandag gegee aan die twee belangrikste manifestasies waarna reeds verwys is, te wete die moderne staatsuniversiteit en die hedendaagse globale universiteit. Ons sal kwalik oor die toekoms van die Afrikaanse universiteit kan nadink sonder om by die grondliggende vraag na die moderne universiteite as sodanig stil te staan. Hieronder word deurgaans uitgegaan van die gedagte dat die gemeenskapsuniversiteit inderdaad as 'n alternatief op beide verstaan kan word. Maar presies waar lê die verskille? Wat maak die gemeenskapsuniversiteit anders as die staatsuniversiteit sowel as die globale universiteit?

Om die gemeenskapsuniversiteit as 'n alternatief te beskou, impliseer dat die universitêre verbeelding as't ware oopgebreek moet word. Dit verg van ons om anders oor die universiteitswese na te dink. Maar in watter sin? In afwagting van die gesprek hieronder kan nou reeds op 'n belangrike onderskeid gewys word. Dit hou verband met die verskil tussen "abstrakte ruimte" en "konkrete plek". Staatsuniversiteite, en in die besonder die globale universiteite, is vandag "abstrakte ruimtes" waar studente, geabstraheer van hulle plekke van afkoms, tale, tradisies en ekonomiese agtergrond, studeer. Gemeenskapsuniversiteite, daarenteen, is "konkrete plekke" waar studente afkomstig vanuit partikuliere verbintenisse studeer. Terwyl eersgenoemde hulself ten dienste van beweeglikheid op sodanige abstrakte ruimtes verbind, verbind laasgenoemde hulself tot diens aan bepaalde plekke.

Engelse eentaligheid is by uitstek die "instrument" met behulp waarvan daar binne die abstrakte ruimtes van die globale universiteite gedoseer en navorsing gedoen word. Trouens, hul abstraktheid blyk uit die feit dat hulle hulself vanuit die veelheid van spesifieke (regionale) tale losgemaak en voortaan in die kunsmatige eendimensionaliteit van 'n globale taal "kommunikeer". Gemeenskapsuniversiteite doen daarenteen navorsing en dosering by wyse van spesifieke tale. Laasgenoemde gee aan gemeenskapsuniversiteite 'n gevoel van konkreetheid, 'n gevoel dat hulle trou aan die verwikkelde kontoere van geografie, taal, kultuur en klas wil wees. Breyten Breytenbach gee uitdrukking hieraan as hy in 'n toespraak voor die konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch homself so uitlaat: "Om te redeneer dat dit nié die taak van 'n universiteit is om die voortsetting van 'n taal se skeppingsmoontlikhede en bruikbaarheid te verseker nie, is onsin." Waar anders, vra Breytenbach, moet "bevoegde en besorgde denkers en daders" van bepaalde taalgemeenskappe saamkom as juis aan universiteite? (Breytenbach 2016). Binne die abstrakte ruimtes van die staats- en globale universiteite is Breytenbach se uitspraak onsinnig; binne die konkrete ruimte van gemeenskapsuniversiteite volg dit egter logies uit hul vertrekpunte. Onderliggend hieraan lê twee verskillende aansprake. Terwyl die staats- en globale universiteite daarop aanspraak maak om universiteite "vir almal" (wat dit kan bekostig) te wil wees, is die aanspraak van gemeenskapsuniversiteite meer beskeie: Hulle wil universiteite vir spesifieke geografiese gebiede, tale, kulture, klasse of selfs godsdiensgemeenskappe wees.

Ons staan in die eerste afdelings by die moderne universiteitswese stil. In die besonder word gefokus op die verskil tussen die moderne staatsuniversiteit en die hedendaagse globale universiteit. Ter wille van duidelikheid kan ook gepraat word van die verskil tussen die sogenaamde Von Humboldt-universiteit, wat as staatsuniversiteit die afgelope twee eeue die pas aangegee het, en die hedendaagse postmoderne universiteit. In die laaste afdelings staan ons by die derde moontlikheid stil, te wete die gemeenskapsuniversiteit.

 

2. DIE MODERNE UNIVERSITEIT

Die grondslae van die moderne universiteit is aan die einde van die 18de eeu en die begin van die 19de eeu deur verskeie vertolkers van die Duitse Idealisme gelê, onder meer figure soos Kant, Schiller, Fichte en Schleiermacher. Maar die naam wat ten nouste met die ontstaan van die moderne universiteit verbind word, is Wilhelm von Humboldt, wat die grondslae daarvan binne die raamwerk van die destydse Pruisiese staat neergelê het. In vele opsigte het die sogenaamde Von Humboldt-universiteit die model vir die moderne wêreld geword.

Ter wille van ons doeleindes is dit nie belangrik om 'n omvattende beskrywing van die Von Humboldt-universiteit te waag nie. Ons staan slegs by die doel daarvan stil, naamlik "opvoeding" (Bildung). Uit die bespreking van die gemeenskapsuniversiteit sal dit blyk dat laasgenoemde, ondanks die feit dat dit sigself as 'n alternatief op die staatsuniversiteit ervaar, steeds Bildung as n nastrewenswaardige oogmerk beskou. In hierdie sin kontinueer die gemeenskapsuniversiteit nog 'n belangrike kenmerk van die staatsuniversiteit. Ten minste twee samehangende aspekte van die ideaal van opvoeding moet hier beklemtoon word:

Eerstens, wanneer jy jou universiteitsloopbaan aan die Von Humboldt-universiteit voltooi het, is jy in staat gestel om die nasionaal-staatlike orde op 'n uitnemende wyse te dien. Hoe? Deur as 'n opgevoede (of gebildete) burger aan die openbare lewe deel te neem.

Tweedens, om jou universiteitsloopbaan te voltooi en 'n gebildete burger te wees, het beteken dat jy nie net 'n vakspesialis sal wees nie (alhoewel vakspesialisasie natuurlik ook vir die staatlike orde belangrik was). Om 'n ware opgevoede burger te wees, het beteken dat jy buite-om jou vakkennis ook insig in die geheel van dinge sal hê. Vakkennis is belangrik, maar dit is nog belangriker om jou vakkennis binne die geheel van dinge te plaas en dit van daaruit te verstaan. In hierdie sin het die Von Humboldt-universiteit homself as 'n ware "universiteit" verstaan, dit wil sê as dié instansie waar die geheel - die universum - aan die lig kan tree.

Waarom het die Von Humboldt-universiteit soveel klem op die ideaal van Bildung as insig in die geheel geplaas? Die antwoord daarop lê in die algemene gevoel van versplintering wat met die Europese Verligting van die 17de en 18de eeue gepaardgegaan het. Volgens 'n verskeidenheid denkers vanuit die Duitse Idealisme en die latere Romantiek het die Verligting tot gevolg gehad dat die werklikheid as't ware uiteengeval het in dinge soos die rasionele en die sintuiglike, die ideële en die materiële, die subjektiewe en die objektiewe, die universele en die partikuliere, die teoretiese en die praktiese, navorsing en dosering, asook die spanning tussen individu en gemeenskap. In plaas daarvan om hierdie dinge in hul samehang raak te sien, is die moderne mens eerder met die gevoel gelaat dat hierdie dinge as los stukke van mekaar wegdrywe. Volgens Pierre Manent het hierdie moderne verdelinge ook na vore getree in die destydse institusionele skeiding tussen die beroepe; in die skeiding tussen politieke magte (wetgewend, uitvoerend en regsplegend); in die skeiding tussen kerk en staat; in die skeiding tussen die burgerlike samelewing en die staat (of die skeiding tussen die private en die openbare), asook in die skeiding tussen die verteenwoordigde en die verteenwoordiger (Manent 2006:10-20).

Die destydse universiteite is nie hierdeur ongeskonde gelaat nie. Inteendeel, dieselfde neiging tot skeiding het onder meer na vore getree in die spanninge tussen dissiplines sowel as fakulteite. Binne die dissiplines self het dit onder meer geblyk uit die spanning tussen dié dissiplines wat op "waardes" fokus (o.a. die filosofie, die etiek en die teologie) en dissiplines wat daarenteen op "feite" fokus (o.a. die politieke wetenskappe, die ekonomie, die natuurwetenskappe, ensovoorts); of uit die spanning tussen die teologie en die filosofie, geloof en rede. In die proses is met die eeue-oue samehang tussen teologie en filosofie, geloof en rede weggedoen. In die teologie self het dit onder meer na vore getree in die spanning (wat tot vandag toe voortduur) tussen teologiese dissiplines wat sistematies te werk gaan, en andere wat uitsluitlik 'n historiese benadering volg. Tussen die fakulteite het ook 'n spanning geheers, soos die nou bykans onoorbrugbare spanning tussen die geesteswetenskappe en die natuurwetenskappe of tussen dié fakulteite wat hermeneuties te werk gaan (die geestes-wetenskappe) en diegene wat metodologies te werk gaan (die natuurwetenskappe).1

Ook wat betref die universiteite se belangrikste funksies, naamlik dosering en navorsing, het 'n skeiding ingetree. Terwyl navorsing en dosering (die teorie en die praktyk van universiteite) vroeër onskeibaar was, het universiteite nou na vore getree wat óf klem op dosering óf klem op navorsing geplaas het. Teorie en praktyk het in verskillende rigtings beweeg.

Om saam te vat: die lewensbeskoulike vermoë om die dinge in hul samehang raak te sien, was aan die verkrummel. Bildung het as universitêre oogmerk in 'n krisis beland. Geen wonder dat een van die bekendste denkers uit die Duitse Idealisme, naamlik Immanuel Kant, te midde van dié toestand van versplintering 'n boek met die titel Der Streit der Fakultäten (1798) gepubliseer het nie. Die toe reeds bejaarde Kant het daarmee gepoog om genoemde spanninge aan die orde te stel en 'n antwoord daarop te gee.

In vele opsigte het ook die Von Humboldt-universiteit gepoog om 'n antwoord op dié lewensbeskoulike versplintering te gee. Daarom ook sy klem op Bildung, wat ten doel gehad het om insig in die geheel van dinge te kultiveer. Of andersom geformuleer, deur Bildung moes voorkom word dat deelaspekte van die werklikheid (soos die rasionale of die sintuiglike, die teoretiese en die praktiese, behoort en is, ensovoorts) van mekaar geïsoleer en die dele self as die geheel uitgeroep word. In sy steeds belangrike analise van die sogenaamde "Duitse ideologie" rondom die Franse Rewolusie skryf Louis Dumont dan ook dat Wilhelm von Humboldt met sy projek van Bildung die versplinterings van sy tyd wou oorbrug. Von Humboldt het in sy nadenke oor die verskillende kante van die bewussyn (die rasionele, die verbeelding en die sintuiglike) gepoog om hulle in hul samehang en eenheid raak te sien - eerder as om die rasionele of die sintuiglike uit dié samehang te abstraheer en tot die enigste kenmerk van die self uit te roep.2 Von Humboldt het homself daarom ook so oor die ware doel van die mens uitgelaat:

The true aim of man, prescribed to him, not by a changing inclination, but by eternally immutable reason, is the highest and most proportioned formation (Bildung) of his strengths into a whole. (Dumont 94:94)

Vanuit 'n sin vir die samehang tussen die verskillende aspekte van die bewussyn het Von Humboldt voorspraak gemaak vir die gedagte dat die teoretiese insig wat aan universiteite gekultiveer word, eweneens in sy samehang met die praktiese wêreld van die nasionale staat gesien moet word. Teorie en praktyk, denke en handeling, navorsing en dosering, universiteit en staat: hierdie dinge het ineengegryp, sonder dat die verskille tussen hulle ontken is. Bill Readings beskryf dié eenheid soos volg in sy steeds buitengewoon belangrike werk oor die universiteitswese:

The University's social mission [aldus Von Humboldt] is not to be understood in terms of either thought or action. The University is not just a site for contemplation that is then to be transformed into action. The University, that is, is not simply an instrument of state policy; rather, the University must embody thought as action, as striving for an ideal. This is its bond with the state, for state and University are two sides of a single coin. The University seeks to embody thought as action toward an ideal; the state must seek to realize action as thought, the idea of the nation. The state protects the action of the University; the University safeguards the thought of the state. And each strives to realize the idea of national culture. (Readings 1996:69)

Uit hierdie aanhaling van Readings is dit duidelik watter noue samehang die Von Humboldt-universiteit nie net tussen die teoretiese en die praktiese (en in aansluiting daarby ook tussen navorsing en dosering) gesien het nie, maar ook tussen die universiteit self en die staat. Die Von Humboldt-universiteit was 'n staatsuniversiteit. Die belangrike vraag wat hieronder ter sprake gebring sal word, is of die ideaal van Bildung (met sy sin vir die geheel) ook deur dié universiteit nagejaag kan word wat homself juis as 'n alternatief vir die staatsuniversiteit ervaar, naamlik die gemeenskapsuniversiteit.

Ter afsluiting van hierdie kort bespreking van die Von Humboldt-universiteit is dit nodig om daarop te wys dat die gedagte van Bildung onder meer uitdrukking gevind het in die ideale rektor. Volgens Readings is die Von Humboldt-universiteit gekenmerk deur die verwagting dat die rektor 'n gebildete of opgevoede mens sal wees. 'n Bewys daarvan het geblyk uit die feit dat die rektor die samehang tussen die geesteswetenskappe en die natuurwetenskappe in sy amp as rektor kon beliggaam. 'n Rektor van die Von Humboldt kon met ander woorde homself op 'n kundige wyse oor sowel die geesteswetenskappe as die natuurwetenskappe uitlaat. Daarmee het hy bewys dat hy nie soos vakspesialiste in die dele van die geheel vasgevang is nie, maar dat hy die geheel self raaksien.

Volgens Readings verskil die rektor van die Von Humboldt-universiteit in daardie opsig op 'n wesenlike wyse van die hedendaagse rektor (Readings 1996:21-43). As die hoof van die sogenaamde postmoderne besigheidsuniversiteit beskik die nuwe rektor nie meer noodwendig oor insae in die geheel van dinge nie. Inteendeel, hy is nou eerder 'n "vakspesialis", en in die besonder n uitvoerende bestuurder (wat verkieslik van buite die universiteit en sy fakulteite aangestel word). Voortaan is dit die rektor se gespesialiseerde bestuursvermoë eerder as sy diepsinnige insae in die grondslae van sowel die geestes- as die natuurwetenskappe wat hom as rektor kwalifiseer. Trouens, lede van die administrasie van universiteite moet voortaan liefs uit die sogenaamde "managerial-technical class" as uit die dissiplines self kom (Readings 1996:38). Ons staan vervolgens by dié universiteit stil.

 

3. DIE POSTMODERNE UNIVERSITEIT

Die historiese oorspronge van die hedendaagse postmoderne universiteit kan na twee wyduiteenlopende bronne teruggevoer word, naamlik die sestigerjare (die studenteopstande) en die tagtigerjare van die twintigste eeu (tydens die Thatcher-bewind). Buiten dat daar ook na die postmoderne universiteit as die besigheidsuniversiteit verwys kan word, sou dit ook die Thatcher-universiteit genoem kan word. Alhoewel die Britse regering onder Thatcher noodsaaklike hervormings ten opsigte van die sosialistiese wanbestuur van die staat deurgevoer het, het haar herdefiniëring van die universiteitswese in neoliberale besigheidsterme niks minder as rewolusionêre gevolge gehad nie.3 Eeue-oue opvattinge oor wat die universiteit is, is daarmee van die tafel gevee. Phillip Blond vat dit bondig saam as hy skryf:

Mrs Thatcher, elected in 1979, instigated a much-needed modernisation of the British economy. Unfortunately, however, she threw the baby with the bathwater by completely surrendering the entirety of British public life and its related values [die universiteite met hulle waardes ingereken] to the dictates of a neo-liberalism whose consequences she would not have supported and the operations of which she clearly did not understand. (Blond 2010:18)4

Wat kenmerk die postmoderne universiteit? Die antwoord lê in sy doel opgesluit. Voortaan is die doel nie meer Bildung met die oog op deelname aan die openbare lewe nie, maar eerder ekonomiese mededingendheid binne die globale ekonomiese orde. As die moderne staat die mag ten grondslag van die Von Humboldt-universiteit was, verteenwoordig globale ekonomiese magte nou die werklike magte wat die agendas van universiteite dikteer. Dit is magte wat die wese van die universiteitswese tot in sy diepste vesels (navorsing en dosering) herdefinieer as besigheidsgeleenthede (en nie meer as die boustene van 'n opgevoede lewe nie).

Vervolgens word aandag gegee aan enkele eienskappe van die postmoderne universiteit. Ter aanvang word eers verwys na 'n sogenaamde uiterlike eienskap van dié universiteit. In 'n gewisse sin van die woord blyk die wese van die universiteit reeds daaruit.

3.1 Die universiteitsuniform

In aansluiting by Philippe Bénéton se kort antropologie van die moderne Von Humboldt-student kan aangevoer word dat laasgenoemde onder meer deur sy "universiteitsuniform" gekenmerk is. In die proloog onder die opskrif "The Indiscreet University" skryf Bénéton dat studente wat by die Von Humboldt-universiteit studeer het, hulle klasse sonder uitsondering met 'n das en pak klere bygewoon het (Bénéton 2004:xv-xix). Waarom? Binne die wêreld van die Pruisiese Von Humboldt-universiteit is die professor met belangrike simboliese gesag beklee. Niemand het die ideaal van Bildung so beliggaam as die professor (en uiteraard die rektor) nie. As sodanig het hy hoog in die nasionaal-staatlike hiërargie gestaan. Trouens, die professor was een van die heel belangrikste amptenare van die staat. Met jou das en pak klere het jy as student jou respek teenoor die staatlike hiërargie en die plek van die professor daarbinne betoon.

En die hedendaagse postmoderne universiteit? Laasgenoemde is ingevolge Bénéton se eie ervaring as professor die sogenaamde "indiskrete universiteit". Dit blyk uit die nuwe uniform. Vanaf die studenterewolusie van die sestigerjare, skryf hy, is die formele das en pak met die informele jean en T-hemp vervang. Die Pruisiese formaliteit het plek gemaak vir die informaliteit van die ongebonde student.

Maar wat van die Thatcher-universiteit tydens die tagtigerjare? Bénéton laat homself nie daaroor uit nie, maar hy sal bes moontlik saamstem dat laasgenoemde nie n verandering aan die nuwe indiskresie teweeggebring het nie. Alhoewel Thatcher waarskynlik self eerder 'n das en pak sou verkies het (nie noodwendig vir haarself nie), het die Thatcher-universiteit dieselfde neiging tot indiskrete informaliteit bevestig. Dit is ironies, want Thatcher was geen groot voorstander van 1968 en die rewolusie van informaliteit wat dit was nie. Nie net die studente nie, maar ook die professore het vanaf die sestigerjare begin om T-hemde enjeans te dra. Maar die informalisering aan die universiteite het egter nie net uit die kleredrag geblyk nie. Interpersoonlike verhoudinge is ook op n informele grondslag geplaas. n Tipiese voorbeeld hiervan is die feit dat studente voortaan nie meer in korrespondensie hul professore met die formele "Geagte Professor" groet nie, maar eerder met die informele "haai". Van die gesag van die professor kan daar kwalik meer sprake wees. 'n Mens kan slegs wonder wat die Pruisiese professore van die "haai" sou gesê het.

In die agtergrond van hierdie oënskynlik onskuldige gebeure lê 'n dieperliggende kulturele verskuiwing. Die ou staatlike hiërargie aan die moderne universiteit is met die demokratiese gelykheid van die postmoderne universiteit vervang. Studente en professore is voortaan gelyk. Professore huiwer daarom ook nie om met 'n "haai" terug te groet nie. Daarmee bevestig hulle dat daar nie meer enige sosiale afstand tussen hulle en die studente bestaan nie. Indien daar nog enige verskille sou wees, skryf Bénéton, is dit bloot geleë in die feit dat die professore voorlopig oor meer "inligting" as die studente beskik (en nie, kan ons byvoeg, oor meer wysheid met betrekking tot die geheel van dinge nie). Sodra die studente egter hul kursus voltooi het, is die inligtingsagterstand uitgewis. Voortaan is hulle volkome gelyk.

Om op te som, die gesagstruktuur van die postmoderne universiteit verskil enigsins dramaties van sy voorganger, die Von Humboldt. Die gesagstrukture van laasgenoemde was hiërargies van aard, n spieëlbeeld van die hiërargiese aard van die destydse nasionale staat. Daarteenoor is die gesagstruktuur van die postmoderne universiteit demokraties en gelyk. Ons het reeds verwys na die gelykheid tussen professor en student. Maar dit blyk ook uit iets soos die gelykheid van die dissiplines. Ten minste formeel gesproke is alle dissiplines voortaan gelyk. 'n Dissipline soos die filosofie, wat eens op 'n enigsins hiërargiese wyse as die hoeksteen van alle dissiplines beskou is, weeg voortaan net soveel as hotelbestuur. Die enigste onderskeidende faktor is nou hul ekonomiese gewig. Voldoen hulle aan die ekonomiese eise: ja of nee? Dissiplines wat hiervolgens nie die sogenaamde ekonomiese afbreekpunt haal nie, word nie meer - soos vroeër, vanuit 'n sin vir die geheel (of die universum) - met kruissubsidie ondersteun nie. Hulle word eerder afgeskaf. Ironies genoeg word n nuwe hiërargie egter so by die agterdeur ingevoer. Ondanks hulle formele gelykheid word die dissiplines in ooreen-stemming met hulle finansiële waarde gerangskik. Gemeet daaraan staan geesteswetenskaplike dissiplines soos die filosofie, die Klassieke tale, geskiedenis, ensovoorts, laer in die hiërargie as die sogenaamde winsgewende dissiplines.

3.2 Die student as individualistiese verbruiker

Die tweede eienskap van die postmoderne universiteit hou verband met n diepgaande verskuiwing in die doel van die universiteit. Die vraag is ter wille van wie die postmoderne universiteit bestaan. Is dit nog die opgevoede of gebildete burger soos in die Von Humboldt-universiteit? Alhoewel die postmoderne universiteit sy antwoord dikwels agter 'n gordyn van politiek korrekte frases versteek (en vanweë bemarkingsoorwegings voorgee dat hy nog die ou universiteitsideaal van opvoeding verteenwoordig), is sy oogmerk radikaal anders: nie die opgevoede burger nie, maar die individuele verbruiker en sy private belange staan nou in die kern van sy selfdefinisie. Ingevolge sy selfverstaan lewer die postmoderne universiteit deur middel van navorsing en dosering (nou herdefinieer as produkte) 'n diens aan studente (nou herdefinieer as verbruikers). Ter wille daarvan moet die gesag van ou staatlike en universitêre hiërargieë afgebreek word. Ingevolge die berekeninge van die nuwe besigheidsuniversiteit verhinder ou hiërargieë immers die beweeglikheid van die individu - en in die besonder die "keusevryheid" van die studenteverbruiker.

Maar dit bring ons by n belangrike vraag. Hierbo is die historiese oorspronge van die postmoderne besigheidsuniversiteit na twee verskillende bronne teruggevoer, naamlik die opstande van die sestigerjare en die Thatcher-bewind uit die tagtigerjare. Die vraag is of hierdie twee bronne nie radikaal onversoenbaar is nie. Kan beide inderdaad gesien word as kragte wat daartoe meegewerk het om die universiteitswese rondom die belange van die individuele verbruiker te definieer?

Met betrekking tot die Thatcher-bewind is die verband duideliker. Thatcher se liberale denke het per definisie op individualistiese uitgangspunte gerus. Ingevolge hierdie uitgangs-punte het haar bewind n proses ingelei waardeur openbare instansies geprivatiseer en die individu uiteindelik die fokuspunt daarvan geword het. Instellings wat vroeër na gemeenskappe groter as die individu omgesien het, is nou rondom die individu se "individualistiese belange" ingerig. "There is no room in the Thatcherist view for any social units larger than the individual, and the individual has his identity only as a unit of consumption or of labor, not as one who shares in the life of any institution - not even of the institutions of government," skryf Nicholas Boyle in sy interpretasie van die gevolge van Thatcherisme op die Britse universiteitswese (Boyle 1998:270). Daarmee het Thatcher, in weerwil van die feit dat sy as 'n konserwatiewe bekendstaan, die (in wese konserwatiewe) universiteitswese ironies genoeg aan 'n egte rewolusie onderwerp. Eeue-oue universiteite wat hulself verstaan het as verantwoordelik vir die oordrag van die universitêre gedagte aan volgende geslagte, het oornag verander in instellings wat individue en hul keusevryheid moes dien. John Gray beskryf die rewolusionêre implikasies soos volg: "... [Thatcher] destroyed conservatism as a political project in Britain ... In attempting to restore the past she erased its last traces" (Gray 2009:183-184).

Met betrekking tot die rewolusie van die sestigerjare is die verband met genoemde proses van individualisering met die eerste oogopslag nie so duidelik nie. Verteenwoordig die opstande van die sestigerjare nie juis die radikale teendeel van Thatcher se liberale individualisme nie? Anders gevra: Hoe is dit moontlik dat daar 'n verband tussen 1968 en die individu as verbruiker gelê kan word?

Jean-Claude Michéa gee in sy The Realm of Lesser Evil. An Essay on Liberal Civilization (2009) 'n antwoord hierop. As die politieke spanninge van die moderne wêreld vanuit 'n effense afstand bekyk word, blyk dit dat die oënskynlik onversoenbare verdeling tussen "links" en "regs" deur n gemeenskaplike verbintenis tot die moderne liberale erfenis gekenmerk word. Om dié spanning duideliker te verwoord, is dit volgens Michéa gepas om eerder te praat van links-liberaal en regs-liberaal as bloot van links en regs. Alhoewel hierdie kampe mekaar dikwels tydens die moderne era tot die dood toe beveg het, deel links en regs die "liberaal" met mekaar, en in die besonder die voorkeur van beide ten gunste van die moderne vryswewende individu.

Dit bring ons terug by die besigheidsuniversiteit. Met behulp van Michéa se onderskeid kan aangevoer word dat dié universiteit inderdaad deur twee kragte gevorm is, te wete die links-liberale kampusrewolusies van die sestigerjare, en die regs-liberale markrewolusie wat Thatcher tydens die tagtigerjare ingelei het. Alhoewel hierdie twee kragte meestal verstaan word as alternatiewe vir mekaar, steun beide op die moderne gedagte dat die mens van nature 'n onverbonde individu is (en dat hy of sy nie van meet af tot hierdie of daardie gemeenskap, tradisie, kultuur of klas behoort nie).

Kenmerkend van die individuele verbruikerstudent is dat hy of sy soos 'n nomade van universiteit tot universiteit kan beweeg, op soek na dié universiteit wat hul individuele belange die beste sal dien (net soos groot besigheid wat van land tot land beweeg agter die goedkoopste arbeid aan, sonder enige plaaslike of besondere verbintenisse). Universiteite wat op die globale mark meeding, is verbind tot hierdie nomadiese beweging van verbruikerstudente; maar ook tot die nomadiese beweging van professore, wat nou as geïndividualiseerde geleerdes van die een na die ander internasionale universiteit en kongres beweeg. Van universiteite wat op bepaalde gemeenskappe, tradisies of kulture toegespits is, is daar in ooreenstemming met dié definisie geen sprake nie. Indien universiteite hulself daarop sou wou toespits, word hulle van 'n enklave-mentaliteit beskuldig. Wat in dié beskuldiging misgekyk word, is die dodelike gelykvormigheid, die tirannie van akademiese clichés en die slaafse navolging van politiek korrekte voorskrifte wat die nomadiese bestaan aan die globale universiteite kenmerk - so asof die nomadiese bestaan deur die gebruik van politiek korrekte voorskrifte 'n soort pseudo-morele verwysingspunt vind vanwaar die beweeglikheid gerig kan word. Sowel die linksliberale vanuit die sestigerjare as die regs-liberale uit die tagtigerjare word gekenmerk deur die behoefte aan so 'n oriënterende verwysingspunt.

3.3 Die verbrokkeling van die dissiplines

Daar is reeds hierbo verwys na die derde eienskap van die hedendaagse universiteit. Dit hou verband met die verbrokkelde aard van die dissiplines - en in die besonder met die verlies aan 'n lewensbeskoulike insig in die geheel van dinge (dit wil sê die universum of gemeenskap van dinge).

Ten grondslag van die moderne Von Humboldt-universiteit se gerig-wees-op die geheel het twee belangrike lewensbeskoulike uitgangspunte gelê: eerstens, dat daar hoegenaamd 'n samehang ten grondslag van alle dinge lê; en tweedens, dat die verhouding tussen die verskillende dissiplines (in weerwil van hulle eiesoortigheid) hierdie samehang behoort te weerspieël.

In die postmoderne universiteit word daar pertinent afstand gedoen van hierdie uitgangspunte. In aansluiting by tendense uit die agtiende eeu waarna reeds verwys is, val genoemde samehang aan dié universiteit nou bykans volledig uiteen. In aansluiting by die verbrokkelingstendense uit die moderne era (trouens, as 'n radikalisering daarvan) word die dissiplines steeds skerper van mekaar geïsoleer. Dit rus op die vooronderstelling dat hul isolasie van mekaar nie hul inhoud sal verskraal nie. Nogtans is dit juis wat gebeur.

'n Voorbeeld hiervan is dissiplines soos die ekonomie en die etiek. Alhoewel dit binne die konteks van die Von Humboldt moontlik was om hierdie dissiplines van mekaar te onderskei, was dit tegelyk ondenkbaar om hulle van mekaar te skei. Vanuit hul interne samehang is raakgesien dat die ekonomiese en die etiese op mekaar ingryp en van mekaar afhanklik is. In en deur hul wedersydse betrokkenheid by mekaar is elkeen afsonderlik verryk. So word 'n etiek wat van die ekonomiese eise bewus is, van onrealisme gevrywaar; terwyl 'n ekonomie wat van die etiese eise bewus is tegelyk n ekonomie is wat sy wortels in die menslike onthou. Indien hulle egter van mekaar geskei word, word die etiek (veral onder links-liberale akademici) tot n politiek korrekte moralisme verskraal, terwyl die ekonomie (veral onder regs-liberale akademici) op sy beurt tot 'n harde ekonomisme ingekort word. In die proses word elke dissipline slegs n losstaande fragment wat op sy eie individuele voortbestaan bedag is. As daar nog n samehang tussen die dissiplines bestaan, is dit nou n blote funksie van iets wat van buite af meganies op hulle afgedwing word.

Aan die hedendaagse universiteit word dikwels gepoog om vir die verbrokkeling tussen die dissiplines te vergoed deur "interdissiplinariteit" te bevorder. Anders as wat egter dikwels voorgegee word, verteenwoordig dit nie noodwendig n antwoord op die fragmentasie nie, maar eerder 'n bevestiging daarvan. Die rede daarvoor lê opgesluit in die feit dat die interdissiplinêre benadering dikwels nie reeds by voorbaat na die intrinsieke samehang tussen die dissiplines vra nie, maar eerder slegs fokus op die vraag hoe dissiplines, wat per definisie op 'n ekstrinsieke vlak langs mekaar geplaas word, agterna (meganies) met mekaar in verbintenis gebring kan word. Ten grondslag daarvan lê n lewensbeskoulike gebrek aan insig in die gedagte dat ons blik op die werklikheid reeds by voorbaat deur n sug na die geheel van dinge gelei of gestuur word. In hierdie sin is die postmoderne universiteit 'n weerspieëling van die liberale ideologie. Net soos wat die mens in die liberalisme vanuit sy of haar gemeenskappe geabstraheer en tot onverbonde individu uitgeroep word, net so word die dissiplines vanuit hul samehang geabstraheer en as alleenstaande groothede hanteer.

3.4 Kennis verskraal tot uitruilbare inligting

Die herdefiniëring van die universiteitswese in besigheidsterme gaan met 'n verskraling van die aard en wese van kennis gepaard. Voortaan word kennis as ekonomies verhandelbare inligting ervaar (in plaas daarvan dat die verwerwing van kennis die weg na 'n opgevoede lewe versinnebeeld). So is dissiplines soos die filosofie en die geskiedenis vroeër as noodsaaklik vir 'n opgevoede lewe ervaar. In en deur die filosofie en die geskiedenis het jy insae in die sistematiese (die filosofie) en die historiese (die geskiedenis) geheel van dinge verwerf. Aan die besigheidsuniversiteit is dit anders: filosofie en geskiedenis word tot bronne van inligting verander wat ewegoed ge-Google kan word. Waarom dit dus nog bestudeer met die oog op 'n opgevoede lewe? Geen wonder dat die geesteswetenskappe vandag in 'n "doodstryd" gewikkel is nie. Ten diepste kan dissiplines soos die filosofie en die geskiedenis nie tot ekonomies verhandelbare inligting gereduseer en as sodanig verkoop word nie. Indien dit inderdaad gedoen word, word die rasionaal vir hulle "wees" onder hulle voete uitgepluk - en word hulle tot dodelik vervelige aangeleenthede verskraal: sake wat nie die studente op weg na groter insig meesleur nie, maar brokkies inligting wat hulle met die volgende behoefte aan inligting agterweë kan laat.

Kultuurkrities beoordeel lei die verskraling van kennis tot inligting daartoe dat studente se tydsbewussyn tot die hede ingekort word. Terwyl die verlede - die tradisie - as oriën-teringspunt met die oog op n gekultiveerde lewe wegval, het slegs my inligtingsbehoeftes in die hier en nou betekenis. Ten opsigte van die verlede en die appèl wat dit op my sou kon maak, word nou 'n gedistansieerde onverskilligheid - 'n stemming van "wat ook al" -gehandhaaf. Studente beland so in n solipsistiese kokon. Die eie identiteit word van groter verbintenisse losgemaak en tot die onskuldige privaatheid van die enkeling ingehok. Patrick Deneen beskryf die ingekorte tydsperspektief en die gevolglike onverskilligheid jeens groter kulturele verbintenisse onder sy eie studente in die volgende woorde:

My students are know-nothings. They are exceedingly nice, pleasant, trustworthy, mostly honest, well-intentioned, and utterly decent. But their minds are largely empty, devoid of any substantial knowledge that might be the fruits of an education in an inheritance and a gift of a previous generation. They are the culmination of western civilization, a civilization that has forgotten its origins and aims, and as a result, has achieved near-perfect indifference about itself. (Deneen 2016:1)

Volgens Deneen lei die verskraling van kennis tot inligting nie net daartoe dat studente hul lewe rondom hul eie individuele "belange" inkleur nie, maar uiteindelik lei n lewe sonder verwysingspunte na die verlede (die tradisie) tot 'n toestand wat met die idiotiese vergelyk kan word. Omdat dit so belangrik vir 'n begrip van die postmoderne universiteit is, haal ons Deneen enigsins breedvoerig aan:

Above all, the one overarching lesson that students receive is to understand themselves to be radically autonomous selves within a comprehensive global system with a common commitment to mutual indifference. Our commitment to mutual indifference is what binds us together as a global people. Any remnant of a common culture would interfere with this prime directive: a common culture would imply that we share something thicker, an inheritance that we did not create, and a set of commitments that imply limits and particular devotions. Ancient philosophy and practice heaped praise upon res publica - a devotion to public things, things we share together. We have instead created the world's first res idiotica - from the Greek word idiotes, meaning "private individual." Our education system excels at producing solipsistic, self-contained selves whose only public commitment is an absence of commitment to a public, a common culture, a shared history. They are perfectly hollowed vessels, receptive and obedient, without any real obligations or devotions. They have been taught to care passionately about their indifference, and to denounce the presence of actual diversity that threatens the security of their cocoon. They are living in a perpetual Truman Show, a world constructed yesterday that is nothing more than a set for their solipsism, without any history or trajectory. (Deneen 2016:3)

'n Omvattende gevolg hiervan is dat studente aan hedendaagse universiteite hul kritiese vermoë verloor om tussen die belangrike en die onbelangrike, die ware en die valse, die goeie en die slegte, die mooie en die afskuwelike te onderskei. Alle persone en gebeure uit die verlede kry dieselfde betekenis, wat 'n ander manier is om te sê dat hulle tegelyk ewe betekenisloos word. Inligting is immers bloot inligting. Voortaan maak geen inligtingsgreep, buite-om sy onmiddellike oomblik van verbruik, 'n groter indruk as ander grepe nie. Alhoewel die reduksie van kennis tot inligting nie noodwendig met "rewolusie" verbind word nie, is die implikasie niks minder as rewolusionêr nie. Dit is n rewolusie wat nie deur n oorweldigende patos aangevuur word nie, maar eerder deur n oorheersende stemming van onverskilligheid. Gereduseer tot blote inligting word alle betekenisvolle voorbeelde uit die verlede met die druk van n sleutel uitgevee en met ander vervang. Daniel Taylor vat dié rewolusionêre onverskilligheid in sy roman oor die hedendaagse universiteitswese goed vas. In die denke van sy hoofkarakter, n professor aan n vooraanstaande universiteit, word alles tot brokkies uitruilbare inligting (of in sy dekonstruktiewe taal, tot blote "betekenare") gereduseer. As gevolg daarvan maak niks buiten sy eie private belange 'n appèl op hom nie. Uitruilbare inligting gaan hom nie aan nie. Maar daarby eindig dit nie. Sy onverskilligheid lei daartoe dat hy uiteindelik die geestelike tradisie waaraan hy sy akademiese lewe te danke het - maar wat nou tot blote uitruilbare inligting verskraal is - met minagting verwerp. Geen wonder dat hy só deur die outeur beskryf kan word nie: "He knocked down whole cultural and intellectual systems in a few paragraphs, leaving you frightened and thrilled. He took apart your favorite novel and showed you how naïve you were to like it for the reasons you thought you liked it. Then, offhandedly almost, he did the same for your politics, your religion, your morals, and your favorite flavour of ice cream" (Taylor 2014:161).

Taylor maak ten slotte n belangrike gevolgtrekking. As dit so is dat kennis vandag bloot inligting is, is dit n vraag watter maatstaf gebruik word om tussen verskillende vorme van inligting te onderskei. Is dit nog die ware, die skone en die goeie? Nee, lui die antwoord, laasgenoemde ou maatstawwe waaraan kennis eens gemeet is, is nou blote tekens wat met die druk van n knoppie verwyder kan word. Inderwaarheid is dit nou mag wat die deurslag gee. Watter inligting aanvaarbaar is en watter nie, word 'n funksie van die magte wat (desisionisties, dit wil sê sonder 'n anker in die werklikheid) daaroor besluit: "Now we are told there's no such thing as Truth, Beauty, and Goodness. There's only power" (Taylor 2014:153). Tot sover die kwessie van kennis as inligting aan die hedendaagse universiteit.

Daar is egter ook, en daarmee sluit ons af, 'n derde alternatief anderkant die moderne Von Humboldt- en die hedendaagse postmoderne universiteit moontlik. Dit wil sê n alternatief anderkant die hiërargies-staatlike das en pak, maar ook anderkant die universele jean en T-hemp. Ons verwys na die gemeenskapsuniversiteit.

 

4. GEMEENSKAPSUNIVERSITEITE VAN DIE TOEKOMS

Binne die globale ekonomiese orde het die besigheidsuniversiteit die norm geword met behulp waarvan oor die universiteitswese nagedink word. Talle kleiner universiteite wat voorheen deur n eie gemeenskapsagtergrond gekenmerk is, volg hulle voorbeeld slaafs na. Te midde van die talle voorbeelde wat reeds genoem is, blyk dit ook uit hulle personeelbeleid. In onderwerping aan die globale eise word die sogenaamde "beste personeel" aangestel, ongeag wat hul gemeenskapsverbintenisse ook al mag wees. Daarmee word 'n spiraal ingelei wat aanleiding gee tot katastrofale gevolge vir die plaaslike gemeenskapskarakter van die universiteite. Kenmerkend van hierdie proses is dat die hedendaagse state die dienswillige dienare van die globale mark geword het (eerder as dat die mark - soos met die Von Humboldt-universiteit - die staat en sy universiteite dien). State dwing die globale voorbeeld aan die lokale op. Die navorsingsbeleid wat aan Suid-Afrikaanse universiteite gevolg word, is n tipiese voorbeeld hiervan. Globale navorsingsprestasies, soos die publikasie van navorsing in globale tydskrifte, word as normatief beskou, terwyl plaaslike navorsing as minderwaardig geag word.

Daar is egter 'n alternatief - die globale universiteitsdefinisie is nie die enigste lewens-vatbare definisie van die universiteitswese vandag nie. Inteendeel, gemeenskapsuniversiteite verteenwoordig vandag 'n derde weg. Soos wat uit die naam afgelei kan word, is die gemeenskapsuniversiteit by uitstek daarop gefokus om die universiteit van 'n bepaalde gemeen-skap(pe) te wees - hetsy n godsdienstige gemeenskap, n taalgemeenskap, n kultuur-gemeenskap, n plaaslike gemeenskap, of n ekonomiese gemeenskap (of selfs die gemeenskap van hierdie gemeenskappe).

Anders as wat egter uit bogenoemde afgelei kan word, verteenwoordig die gemeenskapsuniversiteit nie noodwendig iets totaal anders as óf die moderne Von Humboldt óf die postmoderne universiteit nie. In vele opsigte kan die gemeenskapsuniversiteit van die toekoms eerder gesien word as 'n universiteit wat, ondanks skerp verskille met sy voorgangers, tegelyk by enkele belangrike aspekte daarvan aansluit. Hopelik blyk dit uit die vier eienskappe van die gemeenskapsuniversiteit wat ons ter sprake bring:

Eerstens, soos die Von Humboldt-universiteit, word die gemeenskapsuniversiteit gekenmerk deur n verbintenis tot die aristokratiese ideaal van opvoeding (Bildung). In die besonder is ook die gemeenskapsuniversiteit tot die kultivering van 'n sin vir die geheel verbind. Negatief geformuleer, kan dit gestel word dat ook die gemeenskapsuniversiteit dit beskou as sy taak om te voorkom dat die denkende en opgevoede mens deelaspekte van die werklikheid met die geheel self verwar.

Tweedens, anders as die Von Humboldt, is die gemeenskapsuniversiteit egter nie 'n blote spieëlbeeld van die staatlike orde nie. Inteendeel, dit word eerder vanuit die gemeenskappe (van onder af) moontlik gemaak. In hierdie sin is die gemeenskapsuniversiteit demokraties van aard. As sodanig sluit dit by die hedendaagse universiteit aan. Dit word deur 'n soortgelyke demokratiese etos gekenmerk.

Maar ook hier lê weer 'n verskil. Anders as die hedendaagse universiteit, wat uit hoofde van n (oordrewe) sin vir die demokratiese met die aristokratiese Bildung wegdoen, skep die gemeenskapsuniversiteit as demokratiese universiteit juis ruimte daarvoor. Daarom word die gemeenskapsuniversiteit ook deur n egte paradoksale karakter gekenmerk: sowel die demokratiese as die aristokratiese is daarin aanwesig. Gemeenskapsuniversiteite hoef dit egter nie as n probleem te ervaar nie. Inteendeel, beide is tegelyk noodsaaklik: sonder die aristokratiese ideaal van opvoeding vergly alles tot n laagste gemene deler en word ons aan die tirannie van korrektheid, die dodelike verveling van die cliché en die verlies aan werklike insig uitgelewer; maar sonder die demokratiese inspraak van die gemeenskappe word alles daarenteen aan die versmorende voorskriftelikheid van sentrumsoekende magte oorgegee.

Kortom, binne die konteks van die gemeenskapsuniversiteit beteken Bildung dat op die belangrikheid van beide n beroep gedoen word: op sowel die demokratiese inspraak vanuit die gemeenskappe as die aristokratiese ideaal van uitnemendheid.

Derdens, soos die postmoderne universiteit word die gemeenskapsuniversiteit "van onder af" moontlik gemaak en deur die werklikhede van die vrye mark bemiddel. Gemeenskaps-universiteite word nie "sentraal begelei" en vanuit n soewereine mag tot stand gebring nie. Daarmee word nie gesê dat die gemeenskapsuniversiteit sy kritiese voorbehoude ten opsigte van n verabsoluteerde markbeginsel prysgee nie. Inteendeel, vanuit n voorkeur vir die gemeenskapsgedagte is die gemeenskapsuniversiteit maar te deeglik bewus van die vernietigende gevolge wat die mark vir gemeenskappe kan hê, en in die besonder vir die neiging om mense vanuit hul gemeenskapsbindinge los te maak, vanwaar hulle outonoom (vanuit n ekstrinsieke non-plek) oor alles beskik. Maar tegelyk weet die gemeenskapsuni-versiteit ook dat 'n markgedrewe benadering wat sy verantwoordelikheid jeens gemeenskappe nakom, steeds die beste wyse is waarop universiteite kan floreer.

Vierdens en in noue aansluiting by laasgenoemde, gee die gemeenskapsuniversiteit -anders as die postmoderne besigheidsuniversiteit met sy fokus op die globale markte - nie sy verbintenis tot lokale gemeenskappe, kulture en ekonomieë prys nie. Inteendeel (om die nou reeds vanselfsprekende te noem), hulle is juis daartoe verbind. Anders as die postmoderne universiteit is die gemeenskapsuniversiteit nie in die "belange" van die vryswewende individu gegrond nie, maar in die "vryhede" wat die veelheid van gemeenskappe verteenwoordig.

Vanuit hierdie perspektief beoordeel, verskil die gemeenskapsuniversiteit egter ook van die Von Humboldt-universiteit. Soos wat reeds telkemale hierbo geblyk het, is laasgenoemde tot die staatlike logika verbind. Wat egter tot dusver ongesê gelaat is, is dat dieselfde universiteit tegelykertyd ook tot die outonome individu verbind is, dit wil sê tot dié individu wat sigself in beginsel buite-om (of geabstraheer van) enige spesifieke gemeenskapsverbintenisse buiten die moderne staat verstaan. In sy kritiese analise van die Von Humboldt-universiteit skryf Brad Gregory daarom ook tereg dat dié universiteit reeds tot die tipiese moderne "outonome individu" verbind was (Gregory 2012:350). Bildung is van hieruit verstaan: opvoeding het ook ten doel gehad om die individu vir sy of haar eie outonome selfbeskikking vry te stel- dit alles binne die konteks wat die moderne staat daarvoor gebied het.

Maar hoe moet die Von Humboldt se verbintenis tot die staatlike paradigma verstaan word? Weerspreek die twee kragte waarvan hier sprake is, naamlik staat en outonome individu, nie mekaar nie? Robert Nisbet het in sy epogmakende The Quest for Community 'n betekenisvolle antwoord hierop gegee. Nisbet voer daarin aan dat staat en individu inder-waarheid geen historiese spanning verteenwoordig nie. Inteendeel, die moderne politieke werklikheid word juis deur n noue verbintenis tussen hulle gekenmerk. Waar ook al die moderne staat na vore tree, word die onverbonde individu ervaar as sy belangrikste vennoot. Trouens, die staat verstaan homself by uitstek as n kontrak tussen outonome individue. Gemeenskappe en hul veelheid van assosiasies word in ooreenstemming met dié kontrak nie noodwendig geag nie. Inteendeel, die kontrak wat die staat is, het juis ten doel om die gemeenskapsinstellings (gesinne, skole, universiteite, kerke, ensovoorts) aan sy gesag te onderwerp. In plaas daarvan dat dié instellings van staatlike beheer vrygestel word, poog die moderne staat eerder om hulle aan sy gesag te onderwerp (veral die kerk) en hul funksies oor te neem (soos in die geval van skole en universiteite, en toenemend ook gesinne). Geen wonder dat die moderne staat, skryf Nisbet, telkens weer die gemeenskappe as sy vyand ervaar het nie: "The real conflict in modern political history has not been, as is so often stated, between State and individual, but between State and social group" (Nisbet 2010:100).

Kortom, daar bestaan nie noodwendig 'n spanning in die mondering van die Von Humboldt-universiteit tussen sy verbintenis tot die opvoeding van die outonome individu en sy diensbaarheid aan die staat nie. Dié universiteit het beide tegelyk gedien.

Waar staan die gemeenskapsuniversiteit ten opsigte van bogenoemde uiteensetting? Dit kan kernagtig saamgevat word: met sy verbintenis tot Bildung sluit die gemeenskapsuniversiteit by die tradisie van die Von Humboldt-universiteit aan. Maar anders as by laasgenoemde, is Bildung nie in die eerste plek daarop bedag om die outonome individu binne die konteks van die staatlike orde te dien nie. Bildung binne die gemeenskapsuniversiteit beteken veel eerder om "burgers" op te voed wat 'n deelnemende verhouding met hulle veelheid van gemeenskappe aanknoop. Daarmee word die belangrikheid van die individu nie ontken nie. Tussen individu en gemeenskap speel eerder 'n verhouding van wedersydse ondersteuning af. Hiervolgens skep gemeenskappe die ooptes waarbinne die volwaardige individu na vore kan tree, terwyl die individu hom- of haarself tegelyk as gebonde aan hul veelheid van gemeenskappe ervaar. Individualiteit bestaan hiervolgens nie op 'n ekstrinsieke grondslag teenoor die gemeenskappe nie. Inteendeel, individualiteit kom juis tot sy reg in en deur deelname aan die sake van die gemeenskappe.

Gemeenskapsuniversiteite verteenwoordig vandag toekomsmusiek vir die universiteits-wese, en die rede daarvoor lê in wat Odo Marquard die "wet van kompensasie" noem.5Marquard se insig kan soos volg geformuleer word: Hoe meer die globale universiteitswese vandag die pas aangee (en ons aan die abstraherende werking daarvan uitlewer), des te meer is daar tegelyk universiteite wat vir die verlies kompenseer wat hulself rondom spesifieke kulturele, talige of ekonomiese vryhede definieer. Dié neiging tot kompensasie word vandag op verskeie lewensterreine sigbaar - en in die besonder in plekgebonde beweginge op die gebied van die ekonomiese, die sosiale en die politieke wat op groter vorme van selfstandigheid ten opsigte van die globale of staatlike sentrum aandring. Ten minste twee redes kan aangevoer word waarom die wet van kompensasie n werking in die globale wêreld het:

Eerstens, anders as wat die globale neoliberalisme glo - asook die globale besigheids-universiteit wat daarop gegrond is - is ons as mense nie net individuele verbruikers nie. As gemeenskapswesens is ons ook deel van hierdie of daardie lokaliteit, kultuur of ekonomie. Hoe meer ons deur die globale neoliberalisme tot individuele verbruikers gereduseer word, des te meer word tegelyk toevlug tot hierdie verbintenisse geneem. Om te kompenseer vir die hoëspoedlewenstyle op die globale markte word stabiliteit binne die lokale opgesoek. Terwyl talle deur die globale beweeglikheid meegesleur word, voel talle tegelyk die aantrekkingskrag van die lokale aan. Gemeenskapsuniversiteite moet teen hierdie agtergrond verstaan word. Trouens, hulle is n onvermydelike uitdrukking hiervan: hoe meer klem op die globale universiteit geplaas word, des te meer sal gemeenskapsuniversiteite na vore tree, wat vir die verlies aan lokaliteit kompenseer.

Tweedens is die wesenlike kenmerk van die ou Von Humboldt-universiteit opvoeding, as die lewensbeskoulike ideaal om insig te ontwikkel in die geheel van dit wat is. Net soos wat ons gemeenskapswesens is, so het ons ook die lewensbeskoulike begeerte om insig in die geheel van dinge te verwerf. Genoemde wet van kompensasie is ook hier werksaam, en kan soos volg geformuleer word: Hoe meer die globale wêreld ons - ironies genoeg, in weerwil van sy sogenaamde globaliteit - aan 'n lewensbeskoulike versplintering uitlewer, des te meer is daar die behoefte aan n lewensbeskoulike blik op die geheel van dinge. In dié wet lê hoop vir die gemeenskapsuniversiteite opgesluit.

Ten diepste is dit 'n behoefte waaraan besigheidsuniversiteite nie kan voldoen nie. As aanvaar word dat n blik op die geheel van dinge deur n (selfs minimale) ooreenstemming in lewensbeskoulike vertrekpunte moontlik gemaak word, kan met reg aangevoer word dat dié voorwaarde by besigheidsuniversiteite afwesig is. Vanweë die uiteenlopende kragte wat dit voed, ontbreek sodanige lewensbeskoulike ooreenstemming bykans volledig. Indien daar hoegenaamd 'n soort lewensbeskoulike ooreenstemming bestaan, is dit slegs in die kwantifi-seerbare groothede van die besigheidswêreld geleë. Daarteenoor kan so n lewensbeskoulike ooreenstemming juis by gemeenskapsuniversiteite aanwesig wees. Vanweë die feit dat hulle deur lokale of spesifieke gemeenskapsbronne gevoed word, beskik hulle oor 'n groter vermoë daartoe. En indien dit so is, beskik hulle tegelyk oor 'n groter vermoë om hulself tot die ou opvoedkundige ideaal van insig in die geheel te verbind.

Teen die agtergrond van bogenoemde opmerkings sluit ons met 'n ironiese opmerking ten opsigte van die verskil tussen die besigheids- en gemeenskapsuniversiteite. Terwyl globale universiteite ingevolge hul naam veronderstel is om n blik op die geheel te bied, fragmenteer hulle ons wêreld. Die teenoorgestelde is van gemeenskapsuniversiteite waar. Terwyl hulle ingevolge hul naam aan die lokale vassit, is hulle ironies genoeg forums waar n lewensbe-skoulike blik op die geheel hoegenaamd moontlik is. In plaas daarvan dat hulle allesinsluitend wil wees en daarom deur uiteenlopende eise versplinter word, beskik hulle oor genoegsame samehangende bronne van waaruit n strewe na die geheel nog hoegenaamd sin maak.

Alhoewel die globale universiteit dus daarop aanspraak maak om dié universiteit te wees, is dit vanweë sy gefragmenteerde aard dit nie. Die universele geheel kom nie daarin aan die bod nie. Dié eer kom vandag eerder die gemeenskapsuniversiteite toe. Anders as die globale universiteite kan hulle daarom ook "universiteit" in die egte sin van die woord wees: plekke waar 'n sin vir die geheel vanuit hulle eie plaaslike bronne gekultiveer en in stand gehou word. Hierin lê n sekere hoop vir die universiteitswese as sodanig opgesluit.

 

BIBLIOGRAFIE

Bénéton, P. 2004. Equality by Default. An Essay on Modernity as Confinement. Vert. deur Ralph Hancock. Wilmington, Delaware: ISI Books.         [ Links ]

Bond, P. 2010. Red Tory. How Left And Right Have Broken Britain and How We Can Fix It. Londen: Faber and Faber.         [ Links ]

Boyle, N. 1998. Who Are We Now? Christian Humanism And The Global Market From Hegel to Heaney. Edinburgh: T&T Clark.         [ Links ]

Breytenbach, B. 2016. US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos, 21 Januarie.Litnet. http://www.litnet.co.za/die-koei-in-die-bos/ [2 September 2016].         [ Links ]

Byrne, W.F. 2011. Edmund Burke For Our Time. Moral Imagination, Meaning, and Politics. DeKalb, Illinois: Northern Illinois University Press.         [ Links ]

Deneen, P. 2016. Res Idiotica, 23 Februarie. Front Porch Republic, http://www.frontporchrepublic.com/2016/02/res-idiotica/ [2 September 2016].         [ Links ]

Dumont, L. 1994. German Ideology. From France to Germany and Back. Chigaco: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Gregory, B.S. 2012. The Unintended Reformation. How a Religious Revolution Secularized Society. Cambridge, Mass.: The Belknap Press of Harvard University Press.         [ Links ]

Gray, J. 2009. Gray's Anatomy. Londen: Penguin Books.         [ Links ]

Manent, P. 2006. A World beyond Politics? A Defense of the Nation-state (Vert. deur Marc LePain). Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

Marquard, O. 1994. Skepsis und Zustimmung. Stuttgart: Reclam.         [ Links ]

Michéa, J. 2009. The Realm of Lesser Evil. An Essay on Liberal Civilization. Vert. deur David Fernbach. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Nisbet, R. 2010. The Quest for Community. Wilmington, Delaware: ISI Books.         [ Links ]

Readings, B. 1996. The University in Ruins. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.         [ Links ]

Taylor, D. 2014. Death Comes for the Deconstructionist. Eugene, OR.: SLANT.         [ Links ]

 

 

 

Danie Goosen is professor in die Departement Godsdienswetenskap en Arabies aan Unisa. Sy navorsing fokus op die Westerse metafisiese denke; op die sogenaamde teologies-politieke probleem, asook op die modernisme en die postmodernisme as idee-historiese verskynsels. Goosen se jongste boek is Oor gemeenskap en plek. Anderkant die onbehae (Pretoria: FAK, 2015).
Danie Goosen is a professor in the Department of Religious Studies and Arabic at Unisa. His research focuses on traditional Western metaphysical thought, the so-called theological-political problem, and modernism and postmodernism as idea-historical phenomena. Goosen's latest publication is Oor gemeenskap en plek. Anderkant die onbehae (Pretoria: FAK, 2015).
1 Hans-Georg Gadamer, die groot hermeneutiese filosoof van die 20ste eeu, het in sy beroemde werk, Wahrheit und Methode, gepoog om die hermeneutiese grondslae van die geesteswetenskappe van die metodologiese benadering van die natuurwetenskappe te onderskei, maar dan wel op so 'n wyse dat die samehang tussen hulle ook erken word. In hierdie sin kan Gadamer se werk ook verstaan word as 'n poging om 'n antwoord op die moderne verdelinge te gee.
2 Ondanks hul simpatie met die Franse Rewolusie het Humboldt en sy geslag in hul voorspraak vir Bildung, verstaan as "opvoeding met die oog op die geheel", skerp van die rewolusionêre verskil. In die Franse Rewolusie en onder rewolusionêre is daartoe geneig om die fakulteite uiteen te haal en die rasionele byvoorbeeld op 'n gespanne voet met die sintuiglike te plaas. Ten diepste wou hulle 'n samelewing inrig wat sigself aan die voorskrifte van die Rede (hoofletter) onderwerp. Edmund Burke het reeds in sy Reflections on the French Revolution uit 1790 die Von Humboldt-kritiek op die kultuur van versplintering vooruitgeloop deur onder meer daarop te wys dat die rewolusionêre klem op die Rede nie net werklikheidsvreemd is nie, maar dat die geloof in die "metafisiese spooksels" van rewolusionêre die afgryslike geweld van die Franse Rewolusie moontlik gemaak het. In antisipasie van Humboldt se klem op Bildung het Burke ook telkens die belangrikheid van n sin vir die geheel beklemtoon. William F. Byrne vat dit in sy werk oor Burke saam as hy skryf dat laasgenoemde geglo het dat "one must have a sense of a greater order in which one participates" (Byrne 2011:183).
3 Alex Mouton, historikus van Unisa, wys in private gesprekke daarop dat die veroordeling van die Thatcher-bewind vanuit linkse kringe tans weinig begrip toon vir die ekonomies-historiese konteks waarbinne sy haar "hervorminge" deurgevoer het, en in die besonder die mislukte sosialistiese beleid wat deur voorafgaande regerings gevolg is.
4 Blond is een van die beste vertolkers van die sogenaamde "Rooi Tory-beweging" in Brittanje. As Burkiaanse konserwatiewe denker neem Blond enersyds die tradisie (en in die besonder tradisionele instellings soos die universiteitswese) in beskerming, maar andersyds is hy uitgesproke in sy kritiek op die wyse waarop die Thatcher-bewind, ondanks haar konserwatiewe beeld, juis op 'n "rewolusionêre" wyse daarmee gehandel het (deur dit onder meer in besigheidsterme te herdefinieer).
5 Marquard gebruik deurgaans in sy werk die begrip kompensasie as n sleutel om kommentaar op algemene kulturele, sosiale en ekonomiese verskynsels van die moderne era te lewer. Te midde van die verlies aan ervaring kompenseer die moderne mens byvoorbeeld deur sy toevlug te neem tot die estetiese. Kyk in hierdie verband onder meer na Odo Marquard (1994).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons