SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número4-1Transformation and the University SectorWhat is the university? Reflections on the community-based university índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.4-1 Pretoria dic. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/V56N4-1A6 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Vryheid en idee: Beurtsang vir die universiteit

 

Freedom and Idea: Antiphon for the university

 

 

Michael Heyns

Skool vir Filosofie Noordwes-Universiteit Potchefstroom. E-pos: Michael.Heyns@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Aan die einde van 2015 het studenteprotes deur Suid-Afrika gespoel - hoër onderwys is té duur. Dit het universiteite in 'n finansiële krisis gelaat. Die indruk is dat een van die grondoorsake van die krisis 'n etos van ekonomistiese dwang is. In die artikel word geargumenteer dat 'n dualistiese dialektiek tussen n natuurnoodwendig-agtige ekonomisering en menslike vryheid nie veel doen om hierdie krisis te ontknoop nie. Vir laasgenoemde sal n veel duideliker raamwerk van die normatiewe soortlikheid van universiteite, of dan die idee van 'n universiteit, weer deel van die openbare gesprek oor die saak moet word.

Trefwoorde: Idee van 'n universiteit, Ekonomisering, Vryheid, Nie-reduksie, Normatief, Rigting, Soortlikheid


ABSTRACT

The economisation of universities includes processes like the commodification and commercialisation of knowledge as well as the corporatisation of the institutional structure and authority hierarchy of universities. The reasons given for this economisation are that it will make universities major participants in the economic growth of nations or simply enable them to survive financially. The question however, is whether this economisation will indeed serve the economic health of higher education. South Africa, with its 2015 student revolt against tuition fees that are too high, looks like a case in point where economisation had the opposite effect. Moreover, economisation is instrumental in eradicating the definitive distinction between universities and economic institutions, as well as eroding the age-old idea of academic freedom. On a deeper level of evaluation, the economic aspect of universities seems to have become the battle ground for modern ideas about human freedom and compelling forces. Hence the question of this paper: Where is the battle for the soul of the university between the forces of economisation and freedom taking us, and where should we be taken?
A first step towards an answer is to get a clearer perspective on the modern idea-polarity between economisation (as a compelling force) and freedom (including academic freedom). Modern ideas about the economy assume free human agency but also a coercive power in the form of a compelling invisible hand. This invisible hand forms an order on which supposedly self-creating human beings should try to impose their agency. Inherent to this (post)modernist "projection theory" is a tension in which the self-creation of human agents is threatened by the coercive force of the economy. The latest (so-called postmodern) version of modernism reacts to this by (again) affirming that all positions and normativity are mere human projection. Postmodernists have a more pessimistic approach than the Enlightenment modernists, who believed in human self-emancipation through reason. Rationalism gave rise to modern ideas about education. However, in the 1960s, this faith was challenged and a shift towards an intense criticism of the ideas of emancipation through reason took place. This shift towards irrationalism, however, did not imply the redundancy of education. The postmodern view is that the younger generation needs to be equipped with especially information technology as well as managerialist skills to compete in the jungle of the market. The undercurrent of assuming a compelling order, lingers.
This tension is also visible when the current university is compared to its predecessors. Historicists presuppose that there is no universal and timeless essence for universities (although socio-economic conditions, and change itself, become a kind of constant essence for postmodern historicists). Those who deal in a non-reducing and normative way with the historicity of the university are more cautious: They do not necessarily want rigid and reductionist essentialism for universities, but do not want to succumb to rampant historicism either. The university should at least portray a moment of identity by simultaneously preserving and transforming the idea of a university. The enduring idea of a university that differentiated in the course of history portrays at least three functional dimensions: The first of these, the agogic moment, sees the university as an institution for transferring knowledge to a new generation. The second dimension emphasises the expansion ofthat knowledge. The third aspect is the pragmatic or instrumentalist side, which emphasises the practical relevance of, and context for knowledge. If non-reduction is taken seriously, none of these dimensions will be arbitrarily deified, but it will rather be attempted to weave them into a normative idea of a university. We should therefore not be blackmailed by the dualist model which currently venerates the economic side of the university above freedom ("freedom" being interpreted in a self-creationist and autonomist sense). A non-reducing and normative freedom for the university will rather try to uncover the moments of direction and type into a cohering structure called the idea of a university.
This normativity for universities will involve seeing universities as institutions of unity between lecturers and students, where expression is given to the attempt to pass knowledge to a next generation, and thus to also uncover knowledge appropriate for this agogic task. A totalitarian economisation implies enslavement by an instrumentalist element in the idea of a university. According to this kind of rationality "maximum efficiency" is - ironically - a compelling measure of freedom. Accordingly, market forces want to ensure that only the best universities survive, with "best" being defined as those that are cost-effective. The argument for freedom based on a normative type-ness for the university and a definitive decision to move towards the latter will have to be rediscovered in the public discourse on the university. In this discourse, freedom must be a destination, although not a supreme goal. It needs to be a goal next to, or in antiphony (turn-singing) with others, such as "peace", "truth", "justice" and "structure". Thus, the freedom of the university will manifest only if there is antiphony between the salient conditions captured in the idea of a university.

Key words: Idea of a university, Economisation, Freedom, Non-reduction, Normative, Direction, Type-ness


 

 

1. EKONOMISERING

Die ekonomie geld toenemend as transformasiedrywer en identiteitsaanwyser vir universiteite van die een en twintigste eeu. Universiteite is in dié opsig nie anders as die res van die samelewing waar 'n aggressiewe ekonomisering,1 wat inderdaad 'n ekonomisme genoem kan word, elke funksie, instelling en verhouding binnegedring het nie.2 Hierdie ekonomisering van universiteite sluit 'n aantal spesifieke prosesse in; onder andere die kommodifisering en kommersialisering van kennis, asook die korporatisering van die struktuur en gesagshiërargie van universiteite.

Kommodifisering en kommersialisering van kennis het momentum gekry toe Amerika gedurende die 1970's ekonomiese agteruitgang beleef het en die kommersialisering van universiteite voorgestel is om die verval teen te werk (Vale 2011:26) en modernisering aan te moedig (Wolhuter & Mushaandja 2015:216-217). Die oënskynlike rede wat aangevoer word, is dat universiteite n deurslaggewende komponent kan wees in pogings om die ekonomiese groei van nasies aan die gang te kry. Akademici konformeer toenemend aan hierdie rasionaal, omhels die winsmotief en toon markgedrag deur middel van onder andere konsultasie, die aanbied van kursusse ter wille van wins en die doen van toegepaste navorsing vir die private en openbare sektore.3

Die meer onlangse argument vir kommodifisering en kommersialisering lê direk klem daarop dat universiteite self moet probeer om finansieel te oorleef. Die situasie in die noordwestelike halfrond noodsaak in sommige gevalle dat universiteite wat voorheen aansienlike uitbreiding ondergaan het, tans gekonfronteer word met dalende inskrywings as gevolg van demografiese veranderinge. Om die finansiële gevolge van hierdie afname te hanteer, moet hulle óf nuwe maniere vind om hul inkomste aan te vul óf getalsgewys verklein. Die gekose aanpassing is in heelwat gevalle toegepaste navorsing in diens van groot besighede (Lynch 2006:6; Yusuf 2007:7). In Suid-Afrika sou voorheen wit universiteite ook deur die spook van inkrimping bedreig gewees het, maar hulle het in die proses van demokratisering die pad van massifikasie ingeslaan - soos dit die geval is in die res van die wêreld (Wolhuter & Mushaandja 2015:217). Die Suid-Afrikaanse probleem is eerder om kwaliteit aan te bied te midde van 'n groot aantal studente wat akademies nie goed voorberei is nie en wat dit moeilik vind om hoër onderwys te bekostig. Dié situasie veronderstel egter óók 'n stryd om finansiële oorlewing.

Benewens kommodifisering en kommersialisering manifesteer die ekonomisering van universiteite ook in die opkoms van die korporatiewe bestuurstyl by universiteite. Ook hierdie faset van ekonomisering is oënskynlik die gevolg van die finansieringsinkortings deur regerings sedert die 1980's asook die finansiële krisisse sedert die 2000's. Hierdie nuwe strukture het as newe-effekte n groter kontingent administrateurs, n groter aantal swak betaalde deeltydse dosente en die verwoestende afskaal van die geesteswetenskappe. Mag en rykdom word "opwaarts" herversprei na die top administrateurs terwyl diegene wat die onderrig en navorsingswerk doen (dosente) al hoe meer uitgerangeer word uit die rigtingbepaling van universiteite - n rigting wat al hoe meer geartikuleer word ten opsigte van die arbeidsmark en die aandelebeurs (Nealon 2012:66-69).4

Die onmiddellike vraag is daarom: Gaan hierdie toenemende en radikaliserende ekonomi-sering van die idee van n universiteit beantwoord aan die doel wat daarvoor gestel word, naamlik ekonomiese oorlewing en groei?

Kommerwekkend is dat daar volgens Kimberly en Bouchikhi (2016:6-8) aanduidings is dat hoër onderwys n borrel is wat kan bars soortgelyk aan die borrel in die eiendomsmark in 2007/2008 in die VSA. Hulle identifiseer faktore soos die eskalerende koste van hoër onderwys (wat die ondergang van sommige instellings gaan meebring), nuwe ontwikkelings in tegnologie wat 'n bedreiging vir tradisionele universiteite inhou, die uitwerking van rangordelyste, politieke eise, en die toenemende invloed van alternatiewe universiteitsmodelle soos "winsgedrewe universiteite" ("for-profit universities"). Suid-Afrika is waarskynlik kort duskant hierdie Armageddon. Die land is aan die einde van 2015 getref deur 'n vlaag studenteprotes: té duur studiefooie is 'n ernstige probleem in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor. Die meeste Suid-Afrikaners in lae en middel inkomstegroepe (om nie eens van die werklik armes te praat nie) het groot simpatie met hierdie sentiment en selfs met die studente se aanvanklike protesaksie.

Die negatiewe waarskuwingstekens oor toenemende ekonomisering gaan egter verder/ dieper as net 'n moontlike finansiële inploffing: Een van die belangrikste kwessies in hierdie artikel sal die bekommernis wees dat 'n definitiewe onderskeid tussen universiteite en ekonomiese instellings, soos besighede, aan die verdwyn is.5 Die motivering is oënskynlik effekti-witeit. Die korporatisering van die bestuur van universiteite ten koste van die kollegiale model word byvoorbeeld gerasionaliseer met die argument dat besluitneming op die kollegiale manier 'n té oneffektiewe bestuur van universiteite in die hand werk.6 Die vraag is egter of hierdie korporatisering (en gepaardgaande kommersialisering en kommodifisering van kennis) werklik die akademie gaan dien.

Hierdie dieper laag bekommernis oor die ekonomisering van die universiteit word deur die bekende Katolieke filosoof Alasdair MacIntyre (2009, Location 2245-2261) beargumenteer as hy stel dat die moderne navorsingsuniversiteit suksesvol was op drie maniere maar tegelyk ook drie ernstige krankhede ontwikkel het: Baie navorsing word gedoen, maar teen die prys dat navorsingsdoelwitte nie deur die navorsers self bepaal word nie, maar wel deur die befondsers daarvan. Tweedens voorsien hierdie instellings goed in die behoefte van 'n ontwikkelde kapita-listiese samelewing aan professionele mense en vermoëns. Die neweproduk is egter 'n gefragmenteerde kurrikulum wat toenemend lyk na n blote saamgooi van dissiplines wat in relatiewe onafhanklikheid van mekaar aan studente oorgedra word - universiteite het die "uni" verloor en blote "multiversiteite" geword. Kennis staan bloot in diens van die ekonomie of die loopbane van studente. Dit gaan nie meer oor 'n gedeelde verstaan van die wêreld nie. Derdens het universiteite ryker en ryker geword maar tegelykertyd al hoe duurder en duurder omdat hulle finansieel vra wat hul mark bereid is om te betaal (die primêre aspirasie is toenemend bloot ekonomiese wins). Universiteite se identiteit mik daarna om suksesvolle besigheids-korporasies (gesubsidieer deur belastinggeld) te wees.

MacIntyre suggereer dat daar 'n menslik gekose motief onderliggend aan die ekonomisering van universiteite is. Nietemin laat die beskrywing van ekonomisering hierbo ook die indruk dat dit onderneem word om die finansieringspook vir universiteite te verjaag. Meer nog, die persepsie is dat ekonomisering die onafwendbare toekoms is. Dit begin selfs lyk of die Verlig-tingsideaal van menslike vryheid deur n oënskynlik onontkombaarheid in gedrang kom. n Totalitêre ekonomisering afgedwing deur so 'n onontkombaarheid kan die goeie bedoeling om hoër onderwys bekostigbaar te maak, juis neem na 'n verlies van dit wat universiteite waardevol maak.7 Die besture van universiteite, studente, ouers en die regering bevind hul oënskynlik in 'n meedoënlose finansiële ystergreep waaraan hulle weinig kan doen. Universiteite en die regering het byvoorbeeld op die studenteprotes van 2015 in Suid-Afrika gereageer deur klasgeld vir 2016 nie te verhoog nie. Die vryheidsverwagting wat hiermee geskep is, het universiteite in n finansiële krisis gedompel waarvan n suksesvolle uitkoms nog nie in sig is nie. Universiteitsbesture en die regering is in n wedloop gewikkel om die gebrek aan bekostig-baarheid vir studente en 'n gebrek aan finansiële volhoubaarheid vir universiteite te probeer afweer, en toenemende ekonomisering sal sekerlik na n baie aantreklike strategie lyk.

In die wêreld van idees beteken dit dat die ekonomiese aspek van universiteite toenemend 'n slagveld word waarop twee van die belangrikste magte van die modernisme - naamlik menslike vryheid en n natuurnoodwendig-agtige ekonomiese noodsaak - dit uitspook. Die belangrike vraag is gevolglik: Waarheen neem hierdie ontvouende stryd tussen natuur en vryheid vir die siel van die universiteit ons, en waarheen behoort ons geneem te word?

Die argument hieronder wil die idee van 'n onontkombare noodwendigheid en die invloed daarvan op ons idee van die universiteit ondermyn. Die agterdog is dat druk ter wille van ekonomisering beslis ook gedryf word deur die neoliberale (en dus 'n vry gekose) winsmotief.8

Tog sal in gedagte gehou word dat die idee van vryheid nie gegewenhede soos ekonomiese eise bloot kan afskaf nie. Om die waarheid te sê, om die idee van 'n vrye universiteit te artikuleer, kan nie bloot 'n kwessie van keuse vir selfskeppende en outonomistiese vryheid gemaak word nie, netso min as wat n keuse vir n radikale ekonomisering verlossing gaan bring. Vryheid het eerder te make met die oopdek van n meer gedifferensieerde identiteit en normatiwiteit vir universiteitwees as die reduksionistiese manifesteringe waarmee ons in die dialektiek tussen natuur en vryheid gekonfronteer word. Ter wille van so 'n meer gesofistikeerde en komplekse standpuntinname gaan geargumenteer word dat vryheid verbind moet word met die ideë van n nie-reduksionistiese maar soortlike universiteitwees - en daarom die idee van beurtsang tussen twee gelykhede, naamlik vryheid en die idee van 'n universiteit - eerder as die huidige hiërargiese dualisme van natuur en vryheid.

 

2. NATUUR EN VRYHEID

As universiteite n slagveld is waar die stryd tussen die moderne motiewe van natuurnoodwendigheid en menslike vryheid uitwoed, is dit nodig om n perspektief te kry op hierdie ideëpolariteit.

2.1 'n Bifokale modernisme

Die onlangse geskiedenis van die orde wat die moderne wêreld veronderstel, toon 'n bifokaliteit. Volgens die Kanadese filosoof Charles Taylor (2004:70,74-76) is die een kant van dié bifokaliteit 'n oënskynlik willose natuur. Die premoderne sosiale orde was gebaseer op die soeke na "harmonie" of "gelykluidendheid" van die samelewing met die (Griekse idee van) vorme (dit wil sê, n teleologiese visie). In die moderne konsep gaan dit egter daaroor dat individue se doelwitte met mekaar moet "vermeng" (dit is, n meganistiese of organistiese veroorsakings-motief), hoe verskillend hierdie doelwitte ook al mag wees. Dié veroorsaking sal veral plaasvind wanneer daar n uitruil van dienste is, soos dit by uitstek in die ekonomie gebeur. Taylor (2004:76,78-79) argumenteer dat as die ekonomie as motief met die ander twee belangrike modern sosiale motiewe (publiekheid en selfregering) vergelyk word, n tweede kant van die moderne orde verskyn: In die twee nie-ekonomiese motiewe verstaan mense hulself as agente - natuurnoodwendigheid gee nie die deurslag nie, maar wel menslike vryheid. In die ekonomie speel die idee van n onsigbare hand egter n belangrike rol. Dié onsigbare hand is n spontane maar supramenslike orde wat tussen korrupte en suiwer selfgerigte akteurs ontstaan. Taylor (2004:76-78) sien laasgenoemde as n soort natuurproses waarop mense dan wel wilsbesluite probeer afdwing. Hy benoem hierdie afdwingproses 'n "projeksieteorie" - die mens se wil word op n oënskynlik willose natuur geprojekteer. Hierdie bifokale visie was nie moontlik solank die sosiale inbeelding dié was van die Platonies-Aristoteliese teleologie nie - om die samelewing te gesien het as georganiseer volgens n normatiewe vorm. Die veronderstelde lewelose natuur kon in die premoderne perspektief gewoon nie raakgesien word nie.9

'n Belangrike opmerking van Taylor (2004:80) is dat die moderne bifokale orde 'n inge-boude spanning, of dualisme, huisves: Die motivering vir die verwerping van premoderne normatiwiteit is die moderne idee dat mense gesien moet word as die ambagslui ("artificers") wat hul eie sosiale wêreld ontwerp en daaraan vorm gee. In die bifokale perspektief kom hierdie vryheid van die ambagsman egter in die gedrang as hy gekonfronteer word met 'n brute natuur. Volgens Taylor (2004:80-82) het die oorgang na die huidige kommersiële samelewing vroeg reeds vir kritici gelyk na n verlies aan vryheid. In sommige gevalle - soos byvoorbeeld in die werk van Nietzsche - lei dit selfs tot 'n felle veroordeling van die moderne morele orde. Neo-Nietzscheane (veral Franse postmoderniste) huldig volgens Taylor (1998:99-100,102) egter steeds 'n versie van die bifokale "projeksieteorie". Alle posisies en sieninge is ewe geldig of ongeldig - alles is bloot gebaseer op geprojekteerde menslike bevel ("fiat"). Volgens hierdie siening word alle sentrale motiewe gediskrediteer en staatgemaak op 'n radikale subjektiwisme of mensgesentreerdheid. 'n Voorhande ironie is derhalwe dat alle motiewe diskrediteerbaar is (uitgesonderd die motief van menslike subjektiwiteit). Neo-Nietzscheane is wel intens bekommerd dat idee-motiewe ("spiritual outlooks") gekoppel kan word aan vorme van ongelykheid en die onderdrukking van veronderstelde mindere wesens. Hiermee word dit duidelik dat die neo-Nietzscheaanse postmodernisme nie so n ongenormeerdheid en ongedwongenheid van buite die menslike self veronderstel as wat hul projeksievertrekpunt voorgee om die geval te wees nie. Hierdie innerlike spanning - 'n postmoderne paradoks - is waarskynlik 'n voortsetting van die moderne dualisme tussen natuur en vryheid.10

Hierdie spanning kan gesien word in die bekende Franse filosoof Jean-Frangois Lyotard se opmerkings oor hoër onderwys in sy ewe bekende The Postmodern Condition. Volgens Lyotard (1984:37-38,41-44) bestaan die groot verhaal wat kennis moet legitimeer uit 'n kombinasie van twee komponente, naamlik die "spekulatiewe narratief' en die "narratief van emansipasie". Hierdie gekombineerde narratief word nie meer aanvaar nie omdat tegniek en tegnologie die fokus geskuif het vanaf die doel na die middele. In die plek van spekulasie en emansipasie is nou performatiwiteit ("performativity"). Die vraag is na wat n wetenskaplike waarneming konstitueer. Die onmiddellike antwoord is dat die sintuie die feite registreer (wat die voortsetting van die bifokale en projeksiemotief onderstreep - sou mens kon byvoeg). Maar die sintuie is bedrieglik; daarom word nou grootliks staatgemaak op die prostetiese hulp wat die tegnologie bied. Die argument is dat persepsie geoptimaliseer moet word (dus, performatiwiteit). 'n Klemverskuiwing vind wel plaas: Dit gaan nie meer oor die ware, regverdige of die skone nie maar oor effektiwiteit; die goeie is wanneer 'n spesifieke tegniese skuif minder energie as enige ander gebruik - die natuurkant kry die oorhand, sou bygevoeg kon word.

Die (post)moderne bifokaliteit wys sy sterkste kleure egter as, soos Lyotard (1984:44-47) verduidelik, hierdie instrumentalistiese siening van kennis (dit is, die oorheersing van effektiwi-teit; die nastreef van die minimum inset en maksimum uitset met die hulp van die tegnologie) bykomende finansiële uitgawes verg. Instrumentalisme veroorsaak dat wetenskap 'n spel word waarin die rykes die beste kans het om reg te wees want hulle kan die tegnologie bekostig. Volgens hierdie logika gaan die organiese verhouding tussen tegnologie en wins die huidige unie met die wetenskap vooraf; tegnologie het belangrik geword in wetenskap as gevolg van n algemene gees van performatiwiteit. Die praktiese implikasie is dat kapitalisme begin het om navorsing direk te finansier omdat performatiwiteit en kommersialisering navorsing dwing in die rigting van produkte wat van die tegnologie afhang en wat n tegnologiese toepassing het. In die proses (en dit is waar die moderne dualisme duidelik tande wys) laat vaar beide die staat en besigheid die idealistiese en humanistiese legitimeringnarratief van bevryding en word 'n meer bedeesde strewe na "mag" uitgeoefen. Hiervolgens word wetenskap en tegnologie nie gebruik om waarheid en geregtigheid te vind nie maar om mag te versterk. Die nastreef van mag bevestig Taylor se waarneming dat die postmodernisme sigself bedien van 'n subjektivisme in die vorm van 'n projeksieteorie. Ook studente, aldus Lyotard (1984:50-51), gaan nie meer uit van die ou legitimeringsbeginsel van waarheid en emansipasie nie, maar van die performatiwiteitsbeginsel. Hulle vind dit byvoorbeeld nie problematies as leermeesters deur tegnologie uitgeskakel word nie. Hierdie ongeërgdheid oor dosente is omdat studente primêr op soek is na mag en vra of iets nuttig is - 'n vraag wat baie gou ontwikkel in die vraag of dit koop- en verkoopbaar is en of kennis aldus effektief is. Hiervolgens sien ons wel nie die einde van (weliswaar die postmoderne definisie van) kennis nie. Inteendeel, juis die teenoorgestelde gebeur: Dit gaan nou oor die vermoë van navorsers om data op n nuwe manier te organiseer; om dit wat voorheen as onafhanklik gesien is, met mekaar te verbind. Laasgenoemde word dan "verbeelding" genoem.11 Die belangrike opmerking van Lyotard is dat die doel nie die bevryding van die mensdom is nie maar dat dit gaan om 'n komplekse konseptuele en materiële "masjinerie" en diegene wat voordeel trek uit die performatiewe vermoëns van hierdie "masjinerie".

Goheen (2002:41-44) interpreteer die postmoderne stand van sake vir ons as dat verligtingmoderniste geglo het dat hulle die helder lig van vryheid aangeskakel het met die klem op die rede en wetenskaplike metode. Dit is onder leiding van hierdie gees dat moderne onderwys gebore is. Die droom was dat onderwys rasionele individue sou produseer wat hulself en die wêreld verstaan en bevry. Hierdie rasionele wêreld moes prakties veral gekenmerk word deur die tegnologie wat die wetenskap tot stand bring - n tegnologie waardeur die mag van die natuur beheer kan word. Dié optimistiese geloof is in die 1960's egter uitgedaag deur 'n kontrakultuur (die New Left) wat die modernistiese kapitalisme en tegnokrasie verantwoor-delik hou vir alle ekologiese, psigologiese, ekonomiese, militêre en sosiale probleme waarmee ons gekonfronteer word. Die ideaal van bevryding deur wetenskap, tegnologie en ekonomie het volgens hierdie kontrakultuur omgeslaan in gevaar en lyding wat deur hierdie magte van die rede self voortgebring word. Dit was die begin van 'n skuif in die rigting van 'n subjektivisme wat alle vertroue in die groot verhale verloor het.

2.2 'n Pragmatiese (post)modernisme

As die Verligting dan faal, beteken dit dat opvoeding ook oorbodig word? Gaan ons enigsins vordering maak deur 'n nuwe geslag met die gevaar van die rede op te saal? Die postmoderne "noodsaak" (soos reeds hierbo deur Lyotard opgemerk) is dat studente steeds toegerus moet word met die vaardighede - veral die vaardighede van die inligtingstegnologie en bestuurs-wetenskappe - om te kompeteer in die oerwoud van die mark. Ons wêreld word gekenmerk deur die oënskynlike onontkombaarheid van globale verbruikerskapitalisme en tegnisisme (n nuwe oorheersing van die natuurmotief). Onderwys moet mense voorberei om in hierdie wêreld te oorleef. Voorheen is gevra na vaardighede wat n algemene model vir die lewe sou daarstel en dit is gelegitimeer deur 'n emansipasie-narratief. Laasgenoemde het 'n verskuiwing ondergaan want hoër onderwys is nie meer daarop ingestel om n elite op te lei wat die nasie tot bevryding sal lei nie. Van hoër onderwys word nou eerder verwag om die sisteem te voorsien van agente wat hul kant kan bring in die sisteem se instellings. Maar, weereens, die doel vir hoër onderwys is nie meer waarheid en emansipasie nie maar performatiwiteit (Lyotard 1984:47-48, Goheen 2002:45-47; Wolhuter & Mushaandja 2015:216). Hierdie verskuiwing in narratief het ook 'n effek op studente, aldus Lyotard (1984:48-49): 'n Humanisme vir emansipasie het die demokratiese universiteit vereis wat weinig toegangsvereistes sou moes hê, studente min sou kos en groot getalle inskrywings sou moes akkommodeer. Hierdie ideaal dra egter weinig by tot die huidige eis vir performatiwiteit. Die huidige eis is wel steeds vir 'n liberale elite om te voorsien in 'n "professionele intelligentsia", maar daar is ook 'n groeiende vraag na 'n "tegniese intelligentsia" wat vaardig is in nuwe tegnieke en tegnologie. Die behoefte aan die kunste en geesteswetenskappe is krimpend en die oorproduksie gaan nie emplojeerbaar wees nie. Hierdie dissiplines kan hoogstens n rol speel in die voortgaande opleiding van mense; dit is om mense wat alreeds werk n aantal ekstra vaardighede te laat aankweek om hul kanse op bevordering aan te help en ook om hul horisonne te verbreed.

Daar is 'n ondertoon aan hierdie antwoord wat 'n dwang suggereer wat nie direk teengestaan kan word nie. Daarom word veronderstel dat ons eerder moet kyk of daar nie iets van vryheid gered kan word deur met die noodwendigheid saam te werk nie. Hierdie houding verteen-woordig 'n pragmatiese en instrumentalistiese manier van dink. Jeffrey Nealon (2012:IX-XI) beskryf homself byvoorbeeld as n post-postmodernis en linksgesinde denker. Met hierdie selfidentifisering bedoel hy nie dat hy die postmodernisme agtergelaat het en hom nie toelê op n modernistiese stryd vir die werkersklas nie. Dit is uiteindelik wel duidelik dat hy mik vir n intensivering van die verekonomiseerde mutasie binne die postmodernisme. As post-postmodernis wil Nealon (2012:69-75) byvoorbeeld nie die korporatisering van die universiteit direk konfronteer nie. Hy wil eerder wys hoe hierdie ekonomisering n nuttige strategie beskikbaar maak waarmee gereageer kan word op die finansiële krisisse en dus moontlike onvryheid. Dit moet aanvaar word dat universiteite sal moet afskaal om finansieel te oorleef. Hoe om hierdie afskaling teweeg te bring, is wat universiteite nie reg doen nie en waar hulle sal moet leer by die suksesvolle korporasies sedert die 1980's. Laasgenoemde het veral middelbestuurders afgedank en so n platter struktuur en groter winste vir die topbestuurders en aandeelhouers bewerkstellig. Maar die teenoorgestelde het by universiteite gebeur: Voltydse uitvoerende administrateurs het sedert die laat 1970's eksponensieel gegroei, sodat 'n bestuurdersklas aan universiteite tot stand gekom het. Die kapitaal wat na universiteite vloei, kom nie by studente uit in die vorm van laer studiegeld of by dosente in die vorm van laer ladings doseerwerk nie. Die geld verdwyn in die doolhof van die administratiewe burokrasie. Akademiese personeel het natuurlik hiertoe bygedra deur hul mag te abdikeer ten gunste van die bestuursklas. Vroeër is die onderriglading en administratiewe las verdeel tussen akademiese personeel. Tydens die proses van korporatisering het die administrateurs n aanbod gemaak wat dosente nie kon weier nie: Dosente sal van die meeste administratiewe take en heelwat doseerlaste verlos word sodat hulle die "publish-or-perish" spook van 'n navorsingsgedrewe akademie kan hanteer. Maar dan moet dosente stilswyend instem dat die burokratiese klas ongehinderd tot stand kom en besluitneming oorneem.

Die oënskynlike punt wat Nealon (2012:75-76,78-79,83) wil maak, is dat enige oplossing vir die finansiële probleme van universiteite moet begin met 'n terugneem van die mag deur die akademiese personeel en n verwoestende afskaal van die kontantmorsende burokrasie. Die korporatiewe universiteit is nie korporatief genoeg nie omdat dit nie konformeer aan die ekonomiese voorskrif om heel eerste om te sien na die welsyn van diegene wat sorg vir die kapitaalbou van die onderneming nie. Die grootste probleem van huidige universiteite, volgens Nealon, is n burokratiese klas wat glo dat die universiteit bestaan ter wille van hierdie klas. Die burokratiese klas het dit op hul beurt reggekry om onderrig en navorsing uit die kern van die universiteit te definieer en die debat oor hoër onderwys so te plooi dat personeel en studente die hoofprobleem word - n probleem wat slegs opgelos kan word as dit bestuur word.12

Belangrik egter vir die doeleindes van hierdie artikel, is dat die postmoderne moment aan Nealon se analise die verskerping van die nie-onderskeid tussen 'n besigheid en die universiteit veronderstel. In dié trant (en nie onnatuurlik vir 'n linkse denker nie13) val Nealon in by die dwingende ekonomiseringsmotief vir universiteite en sien hy selfs kans om dit te intensiveer met meer onlangse besigheidspraktyke. Tog moet ook opgemerk word dat hy deurgaans onderliggend veronderstel dat vryheid die saak is waaroor dit gaan, en dat iets daarvan gered kan word deur eerder met die dwingende mag van ekonomisering saam te werk as om dit direk te konfronteer. 'n Konsekwente ekonomiese instrumentalisering en finale abdikering van vryheid is derhalwe nie op die agenda van sy post-postmodernisme nie: die bifokale - wat oorgaan in n dialekties-dualistiese orde - draal steeds.

2.3 'n Vrye universiteit

Hoe kan gedink word oor die vryheid van die universiteit buite-om die bifokaal-dualistiese model?

Johan van der Hoeven (1993:130,144), in lewe filosoof van die Vrije Universiteit (Amsterdam), vra of vryheid wel "kan figureren in die eigennaam van een bepaalde organisatie" soos die Vrije Universiteit. Hy antwoord dat vryheid dalk "te groot en te universeel is om straffeloos een dergelijke toeëigening te ondergaan". Maar dan sou bygevoeg kon word, en Van der Hoeven sou sekerlik nie beswaar hê nie, dat hierdie universaliteit van vryheid juis dit is wat nie verlore moet gaan in die universele idee van n universiteit nie.

Hoekom sou so 'n beklemtoning belangrik wees? Die kort antwoord is dat ons tyd té swaar dra aan 'n bewustheid van 'n orde van noodsaak. Taylor (2003:4-5) wys op 'n voorrang aan die "instrumentele rede". Hiervolgens is "maksimum effektiwiteit" of "die beste koste-uitset ratio" die maatstaf vir sukses. Taylor (2003:7-8) verduidelik dat daar oënskynlik "magtige meganismes" is wat ons op hierdie manier verkneg. Dit kan byvoorbeeld gesien word wanneer 'n bestuurder wat ten spyte van haar oriëntasie tog geforseer voel dat die voorwaardes van die mark van haar verwag om 'n koste-effektiewe of winsgewende strategie te volg wat sy wel as destruktief sien. Taylor haal Max Weber aan, wat laasgenoemde meganisme beskryf het as 'n "ysterhok"- dit is die gevolgtrekking dat die meganismes wat ons in die gesig staar, so dwingend is dat ons totaal magteloos daarteenoor staan. Taylor het hier veral die moderne staat en markte as magtige meganismes van noodsaak in gedagte.

Die Stellenbosse filosoof Hennie Rossouw (1993:21) noem dit 'n "fundamentele vraag" of dit wat by 'n universiteit oorleef, "uitsluitlik" deur "koste-effektiwiteit" bepaal moet word en of die "intrinsieke kulturele en intellektuele waarde van studiegebiede ook die nodige erkenning" gaan ontvang. Indien n universiteit as blote sakeonderneming bedryf word en volgens suiwer rekenkundige oorwegings beoordeel word, sal die "nie-berekenbare" waarde van "wetenskapsbeoefening" en die "kultuurfunksie" van 'n universiteit buite rekening geplaas word. Wat Rossouw hier as 'n negatiewe moontlikheid tydens die vroeë 1990's opmerk, word deur Kimberly en Bouchikhi (2016:8) beskryf as tans een van die landskapveranderende tendense in hoër onderwys. Hulle is van mening dat markkragte - wat onder andere deur die "winsgedrewe universiteite" ("for-profit universities") sonder huiwering geaktiveer word -oënskynlik gaan sorg dat net die "beste" (ten opsigte van winsgewende effektiwiteit) univer-siteite oorleef. Kritici plaas wel vraagtekens agter die uitkomste van hierdie soort universiteite: Handhaaf dit 'n toepaslike toelatingsbeleid en geloofwaardige deurset, en gaan afgestudeerdes werklik waarde kry uit die kwalifikasies wat hulle hier verwerf?

Tipies menslik kan die sug na vryheid nie so maklik uitgedoof word nie - dit is die ander kant van die (post)moderne bifokaliteit. Daarom moet gevra word of die Suid-Afrikaanse studenteprotes nie dalk geïnterpreteer moet word as die stormvoël van 'n dreigende rewolusie vir vryheid nie. Van der Hoeven (1993:46) verduidelik die metaforiese verwysing na die stormvoël waarvan "men meende dat zo 'n vogel storm aankondigde": Dit is "vogels met zeer lange vleugels, die het niet hielden in het (vaar)water van hun tijd, maar intens voelden dat dat water in heftige beroering zou raken door een storm en die als voorboden daarvan zich boven het water verhieven". In hierdie trant kan die 2015- Suid-Afrikaanse studenteverset lyk na die stormvoël wat aanvoel dat ons al hoe nader aan die oog van 'n storm vir vryheid beweeg.

Dit was veral die gedig van Maksim Gorky, Russiese skrywer van "Pesnya o burevestnike" ("Lied van die stormvoël") wat in ongeveer 1902 daarvoor gesorg het dat die stormvoël n metafoor geword het vir die aankondiging van bevrydende rewolusie. In sy verhaal kom baie skerp die (post)moderne paradoks aan die orde: Volgens Levin (1967:84-86) is die naam van die stormvoël in Russies letterlik "boodskapper van die storm". Met sy gedig het Gorky ineens "die Hermes van die komende revolusie" geword. Etlike miljoene kopieë van sy gedig het in revolusionêre Rusland in omloop gekom. Dit het die atmosfeer geskep van 'n evangelie waarin morele protes (die stryd teen outokrasie) en die loslaat van ongebreidelde emosie tot enige-iets kon lei. Dit het die strategie van Lenin soos 'n handskoen gepas.14 Gorky is by hierdie revolusionêre ywer betrek want "watter groter, edeler en meer verlossende doel is daar vir n rebelse dromer as om 'n instrument in 'n magtige, idealistiese Saak te wees". Hingley (2016) wys egter daarop dat Gorky homself nie kon versoen met Lenin en Stalin se diktatuur nie - en is selfs vir 'n tyd uit Rusland verban. Die belangrike punt van hierdie klein verhaal: Gorky het geleidelik alle illusie dat daar vryheid in Sowjet Rusland sou wees, verloor.

Waarom faal die vryheidsideaal wat Gorky nagestreef het?

In 'n standpuntstelling oor vryheid stel Van der Hoeven (1993:140-144) dat Isiah Berlin se idee van negatiewe vryheid ons meesleurend aanspreek in die stelling dat vryheid beteken om vry te wees van kettings en dwang. Van der Hoeven voeg dadelik by dat hierdie perspektief ons nie moet verhoed nie om op te merk dat negatiewe vryheid in die moderne sin ook vra om afsonderlike individu te wees, selfbeskerming, selfbevestiging ensovoorts. 'n Mens sou kon byvoeg dat negatiewe vryheid 'n sware las in die vorm van selfskeppende en outonomistiese individualismes, maar ook kollektiwismes dra - die idee van vryheid kry n gereduseerde betekenis omdat dit in die moderne tyd bloot gaan oor vryheid van bande vir die individu of 'n bepaalde kollektiwiteit. Die betekenis van vryheid behoort nie vas te steek by die blote afwesigheid van verknegting vir nét n individu of nét n kollektiwiteit nie. Van der Hoeven beklemtoon dat vryheid ook moet insluit 'n openheid ná. Ons moet vryheid (daarom ook n vrye universiteit, sou n mens kon byvoeg) in noue verband met keuse, lewensrigting en verantwoordelikheid kan bring. Met so n keuse gee n mens n antwoord, n "verantwoordelijkheid t.o.v. een oproep" - dit wil sê menswees veronderstel om "tot vrijheid geroepen" te wees.

Wat word bedoel met hierdie geroepenheid tot vryheid?

Taylor maak vir ons 'n venster hierop oop as hy (Taylor 2003:5-7,10) skepties oor die (post)moderne instrumentele rede, stel dat sy bekommernis is dat dit veroorsaak dat "dinge wat deur ander kriteria bepaal behoort te word", bloot gedetermineer word ten opsigte van effektiwiteit of 'n "kostevoordeel-analise" en dat niemand oënskynlik iets daaraan kan doen nie. Hy is veral beswaard oor die feit dat die "eis om uitset te maksimaliseer" 'n verduisterende effek het op "onafhanklike doelwitte wat ons lewens behoort te lei". Vryheid beteken om n positiewe antwoord te gee op hierdie onafhanklike doelwitte. Vryheid is nie bloot om te skipper tussen vrywees van dwang en vrywees tot menslike (individuele of kollektiewe) outonomie nie. Meer nog, dit beteken, soos Van der Hoeven uitwys, dat vryheid nie n hoogste doel word nie maar 'n doel "náást, a.h.w. in beurtzang met, andere, soals 'vrede', 'waarheid', 'geregtigheid'". Die vryheid van die universiteit, sou 'n mens kon byvoeg, sal slegs verskyn as daar beurtsang is tussen vryheid en die belangrikste voorwaardes wat in die idee van 'n universiteit geartikuleer word.

 

3. IDEË VIR DIE UNIVERSITEIT

3.1 Historisiteit en durendheid

Wat is dié voorwaardes wat in die idee van n universiteit ingebou is? Anders gestel: Is daar enige onafhanklike doelwitte waarna ons kan kyk in die strewe na n vrye universiteit? Op die diachroniese agenda - dit is as die huidige universiteit met sy voorgangers vergelyk word -word soms nie veel verder gevorder as die bifokale (post)moderne orde in n historistiese toonaard nie.

De la Rey (2015:4-5) veronderstel byvoorbeeld 'n nie-essensialistiese vervloeiing van identiteite as sy sê dat universiteite nie sou oorleef het as hulle deur tyd dieselfde gebly het nie en nie gereageer het op (dwingende) veranderende omstandighede nie. Sy verduidelik dat die universiteit aanvanklik gekonseptualiseer is as instelling wat die intellek kultiveer. In die industriële tyd het die klem begin val op professionele opleiding, wat in die twintigste eeu voluit nagestreef is as gevolg van 'n groot klem op die verband tussen hoëvlakvaardighede en ekonomiese ontwikkeling. Regerings verwag van universiteite om die wetenskaplikes, ingenieurs en professionele mense op te lei wat deur n hoogs ontwikkelde ekonomie benodig word. Tot laat in die twintigste eeu het hierdie toenemende klem op professionele opleiding volstaan met die Von Humbolt-model, waarvolgens n eenheid tussen navorsing en onderrig veronderstel word. In die 1990's het die situasie egter verander. Klem is al hoe meer gelê op 'n wyer sosiale bydrae en relevansie of nut van onderrig en navorsing asook 'n toerekenbaarheid aan die breëre publiek. Dit het aanleiding gegee tot konsepte soos die entrepreneuriese universiteit, die betrokke ("engaged") universiteit en dat daar 'n "triple helix" verhouding tussen die universiteit, industrie en die staat moet wees.

Daar moet opgemerk word dat laasgenoemde derde ontwikkeling die sterk ondertoon van ekonomisering daarmee saamdra. Hierdie indruk word al hoe sterker in die mees onlangse mutasie van die universiteit, waarin nuttigheid en aanpassing by die omgewing oënskynlik die hoofmotief is. De la Rey (2015:7) kondig 'n vierde fundamentele verandering aan, naamlik dié van die GRU ("Global Research University"). Globalisering beteken vir universiteite die mobiliteit van idees, tegnologie en mense (personeel en studente). Dit gaan tot gevolg hê dat daar meerdere kampusse is vir dieselfde universiteit, sowel as virtuele netwerke en aanlynaflewering van akademiese programme. Die idee van 'n nasionale universiteit word al hoe meer uitgediend.15 Globalisering is egter daarvoor bekend dat dit omslaan in 'n blote globalisme - dit is globalisering wat volledig uitverkoop is aan n neoliberale agenda van ekonomisering.

Volgens De la Rey (2015:5) toon die veranderinge wat in die geskiedenis van universiteite opgemerk kan word, dat "there is no universal and timeless essence in the nature of universities. Instead universities' missions change with changing times and context". In hierdie opmerking draal egter 'n ondertoon van die postmoderne paradoks: 'n Essensie aan universiteitwees word ontken alhoewel die sosio-ekonomiese omstandighede wat die identiteit van universiteite afdwing, en verandering self, konstanthede en selfs 'n soort essensie word vir universiteitwees.

Dit is daarom opvallend dat Rossouw (1993:31) versigtiger met die historisiteit van die universiteit omgaan wanneer ook hy opmerk dat "die universiteit nie 'n onveranderlike grootheid is nie, maar 'n geskiedenis van hervertolkings ondergaan het".16 Vir Rossouw gaan dit egter oor verskillende "paradigmatiese sienings oor die aard en die funksie van die universiteit wat in verskillende tydvakke en in verskillende kulturele omgewings tot ontwikkeling gekom het". Rossouw wil nie dat n strakke essensialisme vir universiteitwees geld nie. Maar hy wil ook nie toegee aan 'n ongebreidelde historisme nie, omdat hy byvoeg dat die universiteit wel 'n "kontinue konseptuele tradisie" vorm "waarin reeds gevormde betekenisse telkens weer tegelyk gekonserveer is én 'n transformasie ondergaan het, tegelyk oorskry is én 'n relatiewe geldigheid behou het". 'n Mens sou Rossouw kon herinterpreteer en 'n bewustheid artikuleer waarvolgens aan universiteite 'n komplekse durende identiteit toegeskryf word wat in die loop van tyd ontvou.

Rossouw (1993:25-29) identifiseer drie paradigmas wat as konstanthede in die vorm van 'n idee van 'n universiteit aan ons oorgedra is. Die eerste kan die agogiese17moment genoem word. Dit is die oudste motief en beklemtoon dat 'n universiteit 'n "sentrum van opvoeding of algemene vorming deur hoër onderwys" sal wees. Dit gaan hier oor "onderwys in die vaardighede, die waardes en die reeds verkreë resultate van die mens se intellektuele strewe na kennis". Hy noem enkele van hierdie waardes en resultate: Dit gaan oor 'n "breë akademiese vorming en ontwikkeling", die vermoë tot "gegronde oordeelsvorming", die "oorweging van alle beskikbare getuienismateriaal" en die "oop gesprek".18 Die klem is hier nie soseer op die uitbreiding van kennis nie. Vir laasgenoemde moet eerder gekyk word na wat Rossouw die kognitivistiese paradigma noem waarin die uitbreiding van kennis moet geskied volgens die eise van die sogenaamde wetenskaplike metode, waarvan die voorbeeld van die natuurweten-skap uitstaande is. In teenstelling met die agogiese model gaan dit hier om "metodies verworwe en metodies kontroleerbare kennisresultate, en nie in die eerste plek intellektueel vormende dialoog nie". Die derde paradigmatiese benadering kan die instrumentele19 benadering genoem word. Vir hierdie benadering is die "praktiese nuttigheid en benutbaarheid" - dit is die "eis van praktiese relevansie" - van die produkte van 'n universiteit belangrik. Anders as die vorige twee motiewe maak dit van die universiteit n "instrument vir die bevordering van die een of ander eksterne doeleinde" soos "ekonomiese vooruitgang, tegnologiese ontwikkeling, sosiale geregtigheid of die opheffing van 'n volksgroep".

Daar sou sover gegaan kon word om hierdie drie motiewe as aspekte van die idee van 'n universiteit te tipeer. Rossouw (1993:29-30) self is van mening dat daar nie noodwendig gekies moet word tussen die drie paradigmas nie omdat hulle saam 'n "kontinue konseptuele tradisie" veronderstel wat in die konteks van die heterogeniteit wat universiteite vertoon, normerend kan wees. Meer spesifiek, Rossouw wil hê dat universiteite nie net een van die paradigmas vasgryp en die ander laat val nie maar dat almal gelyktydig in die lug gehou moet word. Hiermee sluit hy nie alleen aan by n anti-historistiese siening nie, maar ook by die nie-reduksionistiese sentiment, wanneer hy stel dat "waar n bepaalde siening in so n mate verabsoluteer word dat dit alle besluite dikteer, kan die universiteit gevaar loop om óf sy identiteit óf sy funksionaliteit aan ernstige erosie bloot te stel".

3.2 Rigting en soortlikheid

Om te verabsoluteer of nie te verabsoluteer nie, is van deurslaggewende belang: Goudzwaard (Goudzwaard et al. 2007:26,33,35-36,39,43) maak die opmerking dat fundamentele verbinte-nisse tot bepaalde idees in die hantering van globale probleme (soos die finansiële krisis) meer aandag moet kry as ons die krisisse grondig wil verstaan en oplossings daarvoor evalueer. Goudzwaard verwys na begrondende idees wat inspeel op "mense se diepste verlangens, drome, en verpligtinge". As 'n mens 'n oog hiervoor ontwikkel, word die ideologieë van die vorige twee eeue meer verstaanbaar. Taylor (1989:62,92-93) wys ook daarop dat mense geneig is om geraak te word deur 'n groot verskeidenheid motiewe maar gewoonlik een identifiseer as die belangrikste.20

Absolute/verabsoluteerde motiewe het veral 'n rigtinggewende invloed. Die diepgaande ekonomisering van universiteite het byvoorbeeld so n rigtingimplikasie. Volgens Taylor (1989:45-46) het ons hier met 'n radikale ja of nee te make. Dit gaan nie oor hoe naby of ver ons van die sentrale motief is nie. Dit gaan oor die rigting van ons lewens, ná die sentrale motief óf weg daarvan. Tog gaan dit nie net oor 'n enkele losstaande motief wat fundamenteel rigtinggewend is nie. Taylor (1989:27-29) praat van 'n "horison" van waaruit 'n persoon in staat is om 'n standpunt in te neem - n veelheid van evaluerings wat n raamwerk vorm, vervul die oriëntasierol. As iemand hierdie horison sou verloor, sou hy n "identiteitskrisis, n akute vorm van disoriëntasie" ervaar. In n verdere byvoeging wat op die kompleksiteit van hierdie rigtinggewende grondmotiewe dui, gebruik Taylor (2004:23-28) die term "sosiale inbeelding" ("social imaginary") wat die verstaanshorison n kollektiewe horison maak. So n inbeelding is nie n teorie nie en dui eerder op 'n wydaanvaarde idee-kompleks wat werksaam is in 'n gemeenskap, 'n meesal ongestruktureerde en ongeartikuleerde kollektiewe verstaan van 'n mens se totale situasie. Die idee van 'n universiteit bestaande uit 'n aantal maar definitief gestruktureerde idees as omvattende kollektiewe verstaan van die universiteit, is waarskynlik so 'n sosiale inbeelding.

Die motiewe en veral die sentrale motiewe is vir Taylor (1989:30) iets subjektief maar beslis nie iets wat op n volslae selfskeppende (outonome) wyse tot stand kom nie. Dit is ant-woorde op vrae waarmee ons "onontkombaar" gekonfronteer word. Taylor praat van 'n "ruimte" wat onafhanklik bestaan van ons sukses of mislukking om onsself in die ruimte te oriënteer. Hierdie uitgangspunt is die teenoorgestelde as dié van die moderne instrumentalisme, wat volgens Taylor (2003:5) geen "heilige orde" het nie omdat die mens self die ontwerper van sy geluk en welsyn en die pad daarheen word. Taylor (2003:7) haal egter vir Hannah Arendt aan, om te maan dat die "realiteit en betroubaarheid" van ons wêreld afhang van iets "meer permanent as die aktiwiteit waarmee dinge geproduseer word". Dit is duidelik dat Taylor n kritiese stem wil laat hoor oor n bedeling waarin die middele belangriker as die doel word. n Mens sou kon sê dat 'n dimensie van normatiwiteit iets is wat hy wel deeglik mis in die huidige instrumentalistiese klimaat. Ons kan kennis neem van Taylor se sentiment wat impliseer dat as ons vrae soos "wat is 'n universiteit" en "waarvoor is daar 'n universiteit" moet beantwoord, ons gebruik sal moet maak van 'n maatstaf of kompas wat relatief onafhanklik aan ons rigting gee. Dit is alleen met so n kompas waarmee ons sal herken dat ekonomisme n ekonomisering is wat skeefgeloop het omdat dit n totalitêre rigting ingeslaan het.

Motiewe gee dus rigting maar maak volgens Taylor (2004:23-28) ook 'n verdere onderskeid moontlik, naamlik tussen 'n feitelike (of 'n voorhande) weergawe en 'n dieper vlak waarin die normatiewe idees wat die eerste vlak onderlê, ingebed is. 'n Inbeelding is dus 'n mengsel van die voorhande en norme, oor hoe dinge oënskynlik is en hoe hulle behoort te wees.

Ons het op die normatiewe vlak onder andere te make met wat Rossouw (1993:33) die "soortlike identiteit van die universiteit" noem. Hierdie identiteit maak dit moontlik "om n universiteit enersyds sinchronies van ander instellings te onderskei, en andersyds diachronies as dieselfde soort instelling in verskillende tye te herken". Die "sentrale verwysing" in hierdie soortlike identiteit is na die universiteit as n "akademiese inrigting" wat uitdrukking gee aan "die menslike strewe na wetenskaplike kennis".21 Hierdie strewe, nog nader gedefinieer, is "eerstens die poging om nuwe wetenskaplike kennis deur n proses van navorsing sistematies in te win, en tweedens die behoefte om bestaande wetenskaplike kennis (en die intellektuele kapasiteite om self op n skeppende wyse wetenskaplik bedrywig te wees) deur onderrig en studie vir jouself toe te eien". Hy voeg verder by dat alhoewel daar in die geskiedenis verskillende prioriteite aan hierdie twee sentrale funksies rondom kennis (navorsing en onderrig) toegeken is, 'n "simbiose" tussen die twee tog altyd veronderstel is, en sou "één van hierdie twee funksies eksklusief beoefen word, is dit te betwyfel of ons nog met 'n universiteit te doen het".

Dit sou gestel kan word dat die soortlike identiteit van n universiteit deur twee momente oorheers word: as n sosiale instelling behoort dit duidelik n unie tussen studente en dosente te wees, met die duidelike doel vir die unie die verwerwing en oordrag van wetenskaplike kennis.22

3.3 Soortlik en instrumenteel

Rossouw (1993:34-37) voeg twee voorwaardes tot die soortlike identiteit van die universiteit by. Die eerste is dat wetenskaplike kennis 'n "intrinsieke kulturele waarde" het omdat dit "bevry [is] van vooroordele, bygeloof'. Die tweede is dat akademiese kennis "nooit uitsluitlik ter wille van sigself" beoefen kan word nie. Dit het ook n "instrumentele waarde in die sin dat dit die mens se oriëntasievermoë ten opsigte van die werklikheid op verskillende wyses verhoog deur die praktiese uitwerking wat dit het en die toepassingsmoontlikhede wat dit bied".23 Die eerste sodanige instrumentele funksie is om n "kritiese openbare debat" en daarmee ook n "kritiese openbare mening" te ondersteun. Op hierdie manier word steun gebied vir n "betroubare lewensetos en n toereikende lewensbeleid". Tweedens help dit om die "denkvaardighede" te ontwikkel waardeur mense hul "maatskaplike funksies en take" beter kan vervul. n Derde funksie is om deur "wetenskaplike kennis insig in sosiale, ekonomiese en politieke prosesse" te kry sodat hierdie prosesse in n "wenslike rigting" gestuur kan word. Wetenskaplike kennis kan, vierdens, 'n instrument wees in die ontwikkeling van "tegniese middele en metodes waardeur die mens sy fisiese omgewing kan beheers en omvorm".

Die instrumentele kant van universiteite is vroeër in die geskiedenis heelwat minder beklemtoon as wat tans die geval is. Die groter klem maak relevansie wel n omstrede eis omdat dit kan omslaan in 'n totalitêre eis. Vir Rossouw (1993:35-37) is die instrumentele eis n eis wat "juis aan die sukses van die universiteit toe te skryf" is. Die instrumentele invloed wat universiteite gehad het, het universiteite "onmisbaar" begin maak. Die eis word byvoorbeeld al hoe meer gestel deur die ekonomie. Daar word bygevoeg dat instrumentele nut sal verseker dat universiteite hulle nie met esoteriese en vrugtelose praktyke besig hou nie en dat hulle dit die moeite werd maak om openbare fondse daarin te belê. Dit is laasgenoemde argumente wat heftige reaksie kry van diegene wat die volledige soortlikheid van universiteite raaksien. Rossouw (en hierin moet hy luid ondersteun word) dring aan op die nie-reduksionistiese vashou aan beide die ander twee komponente van die soortelike identiteit en die instrumentele waarde van die universiteit, deur "met één oogopslag" beide die "onmiddellike praktiese behoeftes" en "wyer strekkende ... teoretiese denke" raak te sien. Dit bly egter 'n vraag of die instrumentele n gelyke gewig behoort te dra. Beteken n beurtsang tussen vryheid en idee so 'n gewigsverdeling, of moet kennis en die unie van dosente en studente swaarder weeg in ons idee van vryheid wat die (post)moderne paradoks wil vermy?

 

4. SLOT

Dit is duidelik dat daar tans 'n felle aanslag vanuit n eksklusief instrumentalistiese paradigma vir die siel van die universiteit gevoer word. Hierdie aanslag het 'n sterk onderbou in die vorm van die (post)moderne bifokaliteit/dualisme wat, benewens n beklemtoning van vryheid, ook n orde van noodsaak veronderstel - 'n noodsaak wat tans in die ekonomiese aspek van universiteite gesetel word. Hierdie kombinasie van instrumentalisme en noodsaak berei die grond voor vir 'n reduserende ekonomisering van universiteite. 'n Nie-reduserende maar identiteithandhawende universiteitsidee bevraagteken hierdie kompleks van bifokaliteit en instrumentalisering. Kan ons afgepers word deur die bifokale model van oorbeklemtoonde idees oor natuur en vryheid wat mekaar en die grotere verskeidenheid wedersyds tot niksheid wil reduseer? 'n Instrumentalisme waarin dit wat meesal op materiële en ekonomiese vlak as nuttig voorkom, kan tog nie as enigste onontkombare bestemming afgedwing word nie? 'n Argument vir vryheid gebaseer op 'n komplekse maar definitiewe soortlikheid van die universiteit, en 'n definitiewe keuse om na laasgenoemde te beweeg, sal in die huidige openbare debat oor universiteite gevoer moet word.

In die loop van die differensiëring van die universiteit as afsonderlike identiteit die afgelope eeue staan twee soortlike funksies veral uit (en word tans veral op die agtergrond geskuif deur die instrumentalistiese ekonomisering van universiteitwees): (a) Universiteite moet die onblusbare soekers wees van n breër en 'n dieper verstaan van kennis. (b) Universiteite, behoorlik bemagtig met hierdie breëre en diepere kennis, moet die agente wees wat hierdie kennis oordra aan 'n volgende geslag. Dit moet onderstreep word dat die gelyktydigheid en interaksie tussen onderrig en navorsing aan n universiteit as unie tussen studente en dosente 'n unieke identiteit gee. Sonder hierdie interaksie en gelyktydigheid het ons waarskynlik te make met óf 'n onderrigkollege óf 'n navorsingsinstituut.

Ekonomisering wat deel vorm van die instrumentele ontvouing van universiteite het egter onlangs n essensie geword waarin n hoogste ("ultimate") verbintenis gekoppel word aan die instrumentele kant van universiteitwees. Hiervolgens het die ekonomie as n middel sigself in so n mate tot doel verhef dat dit deformatief begin funksioneer het - universiteite sterf hul soortlikheid af en in die proses word n fundamentele rigtingverandering teweeg gebring. n Argument teen die ekonomisering van die universiteit het gevolglik nie die bedoeling om byvoorbeeld kommersialisering te ontken as middel om universiteite te finansier nie, maar om by te dra tot die ondermyning van n totalitarisering van die middel-tot-n-doel funksies van universiteite. n Heldere openbare bewustheid van die totalitêre en reduksionistiese aard van enige etos waarin die instrumentele funksies van n universiteit tot sentrale idee vir n universiteit verhef word, moet deel vorm van die ontsnappoging uit die onontkombaarheid van ekonomiese noodsaak.

 

BIBLIOGRAFIE

Academy of Science of South Africa (ASSAf). 2011. Consensus study on the state of the humanities in South Africa: Status, prospects and strategies. Pretoria: Academy of Science of South Africa (ASSAf).         [ Links ]

Bartholomew, C.G. 2009. In Goheen, M.W. & Glanville, E.G. (reds.). The emperor's (not-so) new clothes: postmodernity, globalization and the "triumph" ofmodernity. Vancouver: Regent College Publishers, pp. 91-110.         [ Links ]

Conradie, E.M. 2011. Knowledge for sale? The impact of a consumerist hermeneutics on learning habits and teaching practices in higher education. Koers 76(3):423-446.         [ Links ]

Crow, M.M. 2008. Building an entrepreneurial university. Third annual Kauffman Foundation - Max Planck Institute Entrepreneurship Research Conference, Munich, Germany, June 8, 2008, pp. 1-17. http://economiceducation.us/dotAsset/693823.pdfl6 September 2013].         [ Links ]

De la Rey, C. 2015. The changing idea of a university. Journal of the Helen Suzman Foundation, 76, September 2015, pp.4-7.         [ Links ]

Deem, R. 2004. In Tight, M. Globalisation, new managerialism, academic capitalism and entrepreneurialism in universities: is the local dimension still important? Londen: Routledge Falmer, pp. 287-302.         [ Links ]

Duvenage, A.P.C. 1972. Die agogiese moment in die pastoraat. In die Skriflig / In Luce Verbi, 6(22):36-50.         [ Links ]

Etzkowitz, H. 2004. The evolution of the entrepreneurial university. International Journal of Technology and Globalisation, 1(1):64-77.         [ Links ]

Goheen, M. 2002. Who turned out the light? Education in a dark world. Journal of Education & Christian Belief, 6(1):41-55.         [ Links ]

Goosen, D. 2011. Die teoretiese lewe. Perspektiewe vanuit die tradisie. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 51(4):490-506.         [ Links ]

Goudzwaard, B., Van der Vennen, M., Van Heemst, D. 2007. Hope in troubled times: A new vision for confronting global crises. Grand Rapids, Mich.: Baker Academic.         [ Links ]

Habib, A. 2015. Accelerating transformation for an inclusive and competitive Wits. Journal of the Helen Suzman Foundation, 76, September 2015, pp. 8-14        [ Links ]

Hart, H. 1984. Understanding our world: An integral ontology. Lanham: University Press of America.         [ Links ]

Hingley, R.F. 2016. Maksim Gorky. Encyclopedia Britannica Online. http://global.britannica.com.nwulib.nwu.ac.za/biography/Maksim-Gorky [15 April, 2016].         [ Links ]

Kerr, C. 2001 (Eerste Uitgawe: 1963). The uses of the university, Vyfde uitgawe. Cambridge, Mass.: Harvard University Press. [Kindle uitgawe].         [ Links ]

Kimberly, J.R. & Bouchikhi, H. 2016. Disruption on steroids: Sea change in the worlds of higher education in general and business education in particular. Journal of Leadership & Organizational Studies, 23(1):5-12.         [ Links ]

Levin, D. 1967. Stormy petrel: The life and work of Maxim Gorky. Londen: Frederick Muller.         [ Links ]

Lynch, K. 2006. Neo-liberalism and marketisation: The implications for higher education. European Educational Research Journal, 5(1):1-17.         [ Links ]

Lyotard, J-F. 1984. The postmodern condition: A report on knowledge. Manchester: Manchester University Press.         [ Links ]

MacIntyre, A. 2009. God, philosophy, universities. Lanham: Rowman & Littlefield. [Kindleuitgawe]        [ Links ]

Nealon, J.T. 2012. Post-postmodernism; or, the cultural logic of just-in-time capitalism. Stanford, Cal.: Stanford University Press.         [ Links ]

Nussbaum, M.C. 2010. Not for profit: Why democracy needs the humanities. Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

Nussbaum, M.C. 2011. Creating capabilities: The human development approach. Cambridge, Mass.: The Belknap Press of Harvard University Press.         [ Links ]

Rhoades, G. & Slaughter, S. 2004. Academic capitalism in the new economy: challenges and choices. American Academic, pp. 37-59. https://69.18.221.209/pdfs/highered/academic/june04/Rhoades.qxp.pdf [19 April 2014].         [ Links ]

Rossouw, H.W. 1993. Universiteit, wetenskap en kultuur: Opstelle oor die krisis, uitdagings en geleenthede van die moderne universiteit. Saamgestel en ingelei deur Anton van Niekerk. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Sandel, M. 2012. What money can't buy: The moral limits of markets. London: Allen Lane.         [ Links ]

Steger, M.B. & Roy, R.K. 2010. Neoliberalism: A very short introduction. Oxford: Oxford University Press. [Kindle uitgawe].         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 1998. Being human in God's world. Bloemfontein, South Africa: Tekskor BK.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2004. How "postmodern" is "postmodernism"? Koers, 69(2):259-276.         [ Links ]

Taylor, C. 1989. Sources of the self: the making of the modern identity. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Taylor, C. 2003. The ethics of authenticity. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.         [ Links ]

Taylor, C. 2004. Modern social imaginaries. Durham & Londen: Duke University Press.         [ Links ]

Vale, P. 2011. Instead of a defence: Thoughts on the humanities at home and abroad. Theoria, 58(128):21-39.         [ Links ]

Van der Hoeven, J. 1993. In Van Woudenberg, R. Griffioen, S. Geertsema, H.G. (reds.). Filosofische reflecties en ontmoetingen: Opstellen van dr. J. van der Hoeven. Kampen: Kok Agora.         [ Links ]

Wolhuter, C.C. & Mushaandja, J. 2015. Contesting ideas of a university: The case of South Africa. Humanities, 2015 (4):212-223.         [ Links ]

Yusuf, S. 2007. In Yusuf, S & Nabeshima, K. (reds.). University-industry links: policy dimensions. Washington DC: Wereldbank, pp. 1-25.         [ Links ]

 

 

 

Michael Heyns het Filosofie aan die PU vir CHO en die Vrije Universiteit (Amsterdam) gestudeer en 'n inleiding in die Teologie aan die Universiteit van Pretoria ondergaan. Hy het Filosofie gedoseer aan die Universiteit van Zoeloeland en die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Hy is tans mede-professor in Filosofie verbonde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Sy navorsingsbelangstelling is in die Filosofie van Charles Taylor en aansluitend hierby kultuur- en sosiaal-filosofiese temas soos ideologiekritiek en die universiteit vanuit 'n standpunt van nie-reduksionisme en normatiewe pluraliteit.
Michael Heyns studied philosophy at the PU for CHE and the Vrije Universiteit (Amsterdam) and underwent training in the field of Theology at the University of Pretoria. He lectured in Philosophy at the University of Zululand and the Potchefstroom University for CHE. Currently, he is an associate professor in Philosophy at the Potchefstroom Campus of the North-West University. His research interests include the philosophy of Charles Taylor as well as cultural and socio-philosophical themes such as: critique of ideologies and the university from a nonre-ductionist and normative and plurality point of view.
1 Die betekenis van "economization" volgens die Oxford English Dictionary is onder andere "the establishment of an organization or other structure on economic principles".
2 Die bekende Harvardfilosoof Michael Sandel (2012:10-11) maak die opmerking dat "we drifted from having a market economy to being a market society". Met hierdie onderskeid bedoel hy dat 'n markekonomie 'n waardevolle en effektiewe instrument is om produktiewe aktiwiteit te weeg te bring maar dat 'n "market society is a way of life in which market values seep into every aspect of human endeavor".
3 Die beskrywings van Deem (2004:288,291); Lynch (2006:7) en Tuunainen & Knuuttila (2009:687), kom tot dié gevolgtrekking. Kimberly en Bouchikhi (2016:5) stel dat dit reeds in die vroeë 2000's duidelik was dat akademiese entrepreneurskap die toonaangewende mode in hoër onderwys gaan word.
4 Nealon het die Amerikaanse situasie in gedagte. Dit geld egter ook vir Suid-Afrika.
5 Hierdie identiteitsverlies is alreeds in die jare sestig van die vorige eeu deur Kerr (2001:68) opgemerk: "... university and segments of industry are becoming more alike" as byvoorbeeld 'n "professor - at least in the natural and some of the social sciences - takes on the characteristics of an entrepreneur".
6 Die neoliberale rasionaal agter hierdie identiteitsverlies word soos volg deur Steger en Roy (2010: location 537) ten opsigte van die staat verwoord maar geld ook vir die gelykmaking tussen besighede en universiteite: "If private enterprises must nurture innovation and enhance productivity in order to survive in the competitive marketplace, why shouldn't government workers [or academics] embrace neoliberal ideals to improve the public [or university] sector?"
7 Hart (1984:427) maak die opmerking dat mense se "hoogste verbintenis" tot 'n doel ook ondergrawend ten opsigte van so 'n doel kan funksioneer. 'n Hoogste verbintenis tot nasionale veiligheid kan byvoorbeeld lei tot die atoombom wat die aarde in totaliteit kan vernietig. 'n Hoogste en totale verbintenis tot ekonomiese groei kan lei tot endemiese ekonomiese stagnasie.
8 Sien onder andere Kerr (2001:xi-xii); Rhoades & Slaughter (2004:38); Crow (2008); Goosen (2011:491,496); Nussbaum (2010:10, 2011:ix) asook die Consensus study on the state of the Humanities in South Africa (2011:38-42,56) vir 'n negatiewe uitwys van die winsmotief op universiteite.
9 Dit is egter nie sonder meer duidelik dat byvoorbeeld die premoderne skolastiese genade-natuurperspektief so onverwant is aan die moderne natuur-vryheidmotief dat eersgenoemde nie die teelaarde vir laasgenoemde gevorm het nie.
10 Taylor (1989:99) formuleer die spanning in die postmoderne paradoks soos volg: "The point of view from which we might constate that all orders are equally arbitrary ... is just not available to us humans. It is a form of self-delusion to think that we do not speak from a moral orientation which we take to be right". Ons huldig almal een of ander vorm van "hypergood" soos die eise van "universal and equal respect and of modern self-determining freedom". Strauss (2004:371,273274) merk ook op dat die postmodernisme diepliggend selfweersprekend is. Dit is 'n oorbeklemtoning van die individuele en historiese kante van die werklikheid ter wille van die aanspraak dat daar geen "conditioning order (universal structures) for ... entities" is nie. Die ironie is dat alhoewel die postmodernisme pretendeer om skepties te wees oor die legitimiteit van groot verhale of enige universele aansprake, die groot verhaal wat hierdie beskouing onderlê, juis is dat "everyone only has his or her partial story without any 'universal' claim to truth". Ook Bartholomew (2009:96,100) merk hierdie paradoks op: Hy stel dat alhoewel postmoderniste gewoonlik met groot agterdog na sogenaamde groot verhale kyk, daar een ding is waarvan selfs die mees radikales tog baie seker is, en dit is dat daar geen groot verhale of wêreldbeskouings is nie. Hulle ontkenning daarvan is egter juis 'n bevestiging van 'n eie wêreldbeskouing. Bartholomew noem 'n verdere voorbeeld: Om te stel dat ons geen waarheid oor die wêreld kan weet nie, is om jouself in 'n posisie te plaas waar baie duidelik gesien kan word dat geen waarheid moontlik is nie.
11 Vir hierdie doel sien ons ook die huidige klem op interdissiplinêre studies.
12 Die manier om dit te doen, is om dosente en studente meer gereeld en meer intensief te toets of te evalueer. Hierdie najaag van kwaliteitversekering gaan natuurlik meer en intensiewe administrasie verg.
13 Steger en Roy (2010: location 519) noem die ekonomistiese verband tussen 'n neoliberale en linkse denke by name: "... it makes sense to think of neoliberalism as a rather economistic ideology, which, not unlike its archrival Marxism, puts the production and exchange of material goods at the heart of the human experience."
14 Lenin het die beeld van die gedig veral gebruik om gematigdheid en kompromie te verwerp. Levin (1967:86) haal Lenin aan: "Let the cowardly liberals motion with their heads at the oncoming storm, let these limited meschanye put all their 'mind and feelings' into awaiting new elections - the proletariat is preparing for struggle, in friendship and vigor it goes to meet the storm, rushes into the very thick of battle. Let the storm break!"
15 Die rektor van De la Rey se buuruniversiteit, die universiteit van die Witwatersrand, naamlik prof. Adam Habib, maak oënskynlik versigtiger maar tog definitief ook van die GRU die sentrale doel van wat onder die transformasie van universiteite bedoel word. Habib (2015:10) stel naamlik dat enige "initiative must be compatible with the University's fundamental mandate to be a globally competitive, research intensive institution". Hy voeg wel die pre-globalisme motief by, naamlik dat so 'n universiteit "responsive to local development imperatives" moet wees. Onder plaaslike imperatiewe verstaan Habib die gewone lys wat vir Suid-Afrikaanse universiteite gestel word naamlik, demografie (meer swart studente en veral dosente, alhoewel die ideaal van "diversiteit" ook genoem word), kurrikulum (dekolonialisering, waaronder dan sekerlik veral Afrikanisering bedoel word, terwyl oënskynlik net die byvoeg van Afrika kontekste en teoretici genoem word), institusionele kultuur (swart studente en dosente, selfs al is hulle die meerderheid, voel oënskynlik ontuis op kampusse en die fisiese afdrukke van die verdrukkers soos name en standbeelde moet verwyder word, alhoewel net gestel word dat name en standbeelde die diversiteit moet weerspieël), taal (die taal moet almal bemagtig om te kan studeer en ná studie te kan werk - wat dan sekerlik die amper eksklusiewe gebruik van Engels beteken) en finansiering (waarvan daar oënskynlik nie genoeg is vir studie in Suid-Afrika nie).
16 Etzkowitz (2004:65,76) vertel dieselfde historiese verhaal as De la Rey en maak 'n gevolgtrekking met 'n sterk ekonomistiese en historistiese strekking as hy stel dat die "capitalization of knowledge" die "heart of a new mission for the university" sal wees, "linking universities more tightly to users of knowledge and establishing the university as an economic actor in its own right". Etzkowitz is wel versigtiger deur ook te suggereer dat dit n nuwe byvoeging tot die idee van n universiteit is en nie noodwendig 'n totale identiteitverandering nie. 'n Standpunt tussen dié van De la Rey en Rossouw is dus moontlik.
17 Rossouw self gebruik die term pedagogiese, maar in hierdie artikel word verkies om die meer oorspronklike term agogiese te gebruik. Duvenage (1972:36) wys naamlik op die algemene betekenis van die sogenaamde agogiese moment waarvolgens agögë dui op "die konkrete aktiwiteit van voer of lei" soos dit gebeur in "die stuur van mens of dier". Vir elite Griekse huishoudings was daar "dikwels 'n slaaf aan wie die agögë van die kind opgedra is". Agögë kom voor in die verbindingsvorme "pedagogiek (die wetenskap hoe om aan die kind leiding te gee, kinderopvoeding of kinderonderwys), demagogie (volksleiding) en psigagogie (n sielkundige rigting wat hom toespits op heropvoeding)". In die agogiese moment gaan dit "om die leiding wat gegee word". Vir die Grieke het dit gedui op 'n "dieper betekenis van onderrig of onderwys" en het min of meer saamgeval met die betekenis van "didaskalia, wat onderwys beteken".
18 Rossouw (1993:26) lê ook klem daarop dat dit vir die pedagogiese paradigma belangrik is dat "rasionele denke" en "onbevooroordeelde oorweging" sal plaasvind. Die onlangse wetenskapsfilosofie sal 'n blote idee van "onbevooroordeeldheid" en "objektiwiteit" in die oorweeg van nuwe idees wel bevraagteken. Dit sou waarskynlik meer sin maak om van 'n 'billike' oorweging en evaluering van ander se idees en kennis te praat.
19 Rossouw praat van n pragmatiese benadering maar wat hy dan beskryf, kom ook neer op n instrumentele benadering, wat tans die gekose konsep is en immers verwant is aan die konsep pragmaties.
20 Populêre kandidate vir 'n hoogste idee is selfuitdrukking, geregtigheid, gesinslewe, die aanbidding van God, gewone ordentlikheid, of sensitiwiteit. Die ja/nee-vraag word duidelik gestel in godsdienstige tradisies maar is nie eie aan net hierdie tradisies nie. Ook sekulêre tradisies veronderstel so 'n absolute vraag oor 'n basiese oriëntasie. 'n Gesekulariseerde persoon besluit byvoorbeeld op 'n 'eens en vir altyd standpuntinname' waar hy of sy breek met godsdiens, bygeloof, en die soort wêreldbeskouings wat 'die sober werklikheid van die menslike kondisie in 'n onttowerde ("disenchanted") heelal' probeer vermy. (Taylor 1989:45-46,62,92-93).
21 Beide Collini (2012: location 61 & 177) en Rhoades en Slaughter (2004:55-56) maak opmerkings wat die unie tussen studente en dosente en kennis in die sentrum van die identiteit van die universiteit plaas.
22 Strauss (1998:113-114,117) spel hierdie identiteit myns insiens die duidelikste uit as hy stel dat 'n universiteit se "common and underlying constant structural principle" bestaan uit die "organization of the university into a specific societal institution" wat beskryf kan word as die "bringing together of teachers and students" met as doel "scientific knowledge by way of scientific teaching".
23 Taylor (2003:104-105) wys daarop dat Francis Bacon alreeds in die vroeë moderne tyd beklemtoon het dat wetenskap wat nie in diens is van n verbetering van die menslike situasie nie, nie veel waarde het nie. Bacon se uitgangspunt kan gesien word as die geboorte van 'n "model of science whose criterion of truth would be instrumental efficacy" in diens van die "production of life in ever-greater abundance and the relief of suffering on ever-wider scale".

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons