SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número4-1Radical post-colonialism and universities in South AfricaFreedom and Idea: Antiphon for the university índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.4-1 Pretoria dic. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-1a5 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Transformasie en die universiteitswese

 

Transformation and the University Sector

 

 

Francois Venter

Buitengewone professor Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: Francois.Venter@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

"Transformasie" word nie in wetgewing of die Grondwet omskryf nie, maar die beleids-dokumente van die regering en die ANC beklemtoon dit sterk as doelwit. Die motivering vir transformasie word in die konteks van die "National Democratic Revolution" onverbloemd op grond van Marxisties-Leninistiese denke gemotiveer. Hoewel dit ongetwyfeld nie "polities korrek" is om die voortgesette benutting van die kommunistiese taal waarvan die ANC se beleidsdokumente deurdrenk is, te bevraagteken nie, kan ook nie eenvoudig aanvaar word dat dit maar net 'n leë woordespel is nie.
In sowel die 1993- en 1996-weergawes van die Grondwet word edele oogmerke ter ondersteuning van fundamentele sosiale en ekonomiese verandering gestel, wat - indien dit verwerklik sou kon word - die komplekse en gekonflikteerde Suid-Afrikaanse samelewing kan omskep in n stabiele burgery met gemeenskaplike verwagtinge van sosiale geregtigheid en stabiliteit.
Die huidige regswetenskaplike behandeling van die transformasiebegrip dra nie veel by tot die verheldering van die betekenis daarvan nie. Die wetgewing en beleidsdokumente waarin daar sprake is van transformasie, voorsien ook nie definisies nie en die howe se vertolking daarvan is nie eenduidig nie. Daardeur is die begrip blootgestel aan misbruik vir ideologiese doeleindes, wat die belofte van mislukking inhou wanneer die oorblywende hulpbronne uitgeput is.
Onomskrewe transformasie word ook vir die universiteitswese voorgeskryf, en die jongste wysiging van die betrokke wetgewing beoog om aan die Minister die gesag te gee om eensydig "transformasiedoelwitte" aan universiteite voor te skryf en af te dwing. 'n Verandering van die heersende magspatrone wat bevryding van die NDR kan meebring, kan die behoud en positiewe uitbou van die oorblywende eilande van uitnemendheid in die hoëronderwyssektor meebring.

Trefwoorde: Transformasie, Grondwet, National Democratic Revolution, ideologie, Marxisme-Leninisme, Critical Legal Studies, Konstitusionele Hof, African National Congress, hoër onderwys, indiensnemingsgelykheid, Swart ekonomiese bemagtiging, Afrikaans, taalbeleid


ABSTRACT

"Transformation" is not defined in parliamentary legislation or the Constitution. Nevertheless, the policy documents of the Government and the ANC bestow immense importance on the notion, which bears significant ideological, political, legal and constitutional implications. The dictionary meaning of transformation suggests change, conversion, modification, etc. The ANC (2012:3) has described its "principal task" as being "to mobilise all strata and classes, including the new social forces born out of our democracy, around the national programme of transformation to build a national democratic society". This choice of terminology is no coincidence, because it is based on the organisation's main strategy known as the "National Democratic Revolution" (NDR). Its essential goals are "the liberation of Africans in particular and Blacks in general from political and socioeconomic bondage" and "liberating the white community from the false ideology of racial superiority and the insecurity attached to oppressing others". The history and thrust of the NDR show that it is uncompromisingly founded upon the tenets of Marxism-Leninism. Although it is hardly politically correct to interrogate the continued communist rhetoric with which the ANC's policy documents are infused, one cannot assume that such rhetoric is merely hollow prolixity.
Sentiments supportive of fundamental social and economic change can be found in both the 1993 and 1996 Constitutions. No doubt these noble goals, if realised, could embody cornerstones in the transformation of the complex and conflicted South African society towards a stable citizenry with common expectations for social justice. These are, however, not the goals expressed in the NDR.
Legal academic discussion of transformation has not contributed much to the clarification of its meaning. A 1998 publication of Karl Klare, a prominent exponent of Critical Legal Studies, has strongly influenced academic and judicial thinking to understand transformation to be a project aimed at comprehensive social change to be brought about by employing the law to effect wholesale egalitarian social transformation beyond mere reform, stopping just short of revolution.
From a brief survey of legislation relating to schools, the fisheries industry and labour relations, it is clear that the legal meaning of transformation remains vague and undefined, causing the courts to be similarly ambiguous when called upon to correlate government policies with constitutional injunctions. Using the same vague and elastic term in ideological statements and in the law, provides politicians with the opportunity to pursue revolutionary goals under a cloak of constitutional propriety.
Although ideological transformation is useful to offer unspecified political promises of alleviation of past and present suffering, in reality it has thus far mostly promoted the interests of a relatively small black elite. Most of the electoral supporters of the ANC are poor and support the organisation "because of their material dependence on the ANC-controlled state" (Mbeki 2011:9). It is, however, becoming increasingly clear that the failure to build economic capacity among the growing number of poor South Africans through the predatory exhaustion of the means of a small component of society, renders ideological transformation self-destructive.
Undefined transformation of the university sector is the aim of higher education legislation, which is to be specifically enhanced by the amendment bill of 2015, by empowering the Minister to unilaterally prescribe "transformation goals" to universities. Government's approach to higher education has been described as a process of implementing the NDR "to erode university autonomy in the name of 'transformation'" (Jeffery 2014:399). Espousing the termination of Afrikaans as academic language is seldom acknowledged officially, but it is obvious that the protection or promotion of the language is at the very least not considered to be desirable measured against the demands for transformation.
Transformation is a rich and malleable concept useful for many purposes, both for selective advancement and retribution. The comprehensively beneficial potential of constitutionally sanctioned transformation has unfortunately been warped by the ANC's ideological conceptualisation of the notion and its subsequent implementation in the practice of the governments of the past two decades. Should the transformation of the university sector continue to be pursued according to this pattern, the future of higher education is bleak. Yet, it is not impossible that the political, economic and social configuration of power may change - if the remaining pockets of excellence in higher education could be saved from the ravages of the NDR, this might lead to a balanced process of transformation in the spirit of the Constitution.

Key words: Transformation, Constitution, National Democratic Revolution, ideology, Marxism-Leninism, Critical Legal Studies, Constitutional Court, African National Congress, higher education, employment equity, Black economic empowerment, Afrikaans, language policy


 

 

1. INLEIDING

"Transformasie" word nóg in parlementêre wetgewing, nóg in die Grondwet omskryf. Dat transformasie n baie prominente dryfveer van die regering is, is egter duidelik uit amptelike beleidstukke en die vermelding daarvan in verskeie stukke wetgewing. Maar waarvan is daar sprake wanneer "transformasie" aan die orde kom - wat behels dit en waarop is dit gegrond? Dit is werklik verbasend dat hierdie vraag so selde geopper word - en in elk geval nooit amptelik van owerheidsweë beantwoord word nie.

Die werklike toedrag van sake is dat transformasie oor die afgelope twintig jaar algaande ingeburger geraak het in die openbare diskoers. Meestal word dit as gegewe aanvaar dat transformasie "goed" is, dat dit noodsaaklik is in ons demokratiese bedeling wat gegrond is op n hoogs aangeprese Grondwet en dat die bedoeling daarmee is om sosiale opheffing en verbetering teweeg te bring. Voorstanders van transformasie is daarvan oortuig dat hulle die morele hoëgrond beset. Om enigsins oor die aard en wenslikheid daarvan navraag te doen, stel 'n mens (veral as jy 'n wit, manlike Suid-Afrikaner is van wie gesê word dat jy weens hierdie eienskappe vanselfsprekend by apartheid baat gevind het) outomaties bloot aan etikettering, byvoorbeeld as reaksionêr, onsensitief vir die voortdurende sosiale gevolge van die skandes van die kru diskriminasie van die verlede en vir die onverligte en toenemende lyding van miljoene Suid-Afrikaners. Om die vraag na die betekenis(se) van "transformasie" egter te ontwyk, veral nou uit die perspektief van die universiteitswese, is intellektueel oneerlik en moreel onverantwoordelik.

In die volgende afdeling word die manier waarop die begrip polities en juridies gebruik word, kortliks geskets, gevolg deur 'n beskrywing van hoe dit ontplooi het vanuit sy Marxisties-Leninistiese wortels tot 'n gerespekteerde akademiese en regterlike idee. In die vierde afdeling word die ideologiese beloftes van transformasie geweeg, gevolg deur die toepassing daarvan op die universiteitswese. In die laaste afdeling word twee moontlike toekomsprojeksies beskryf.

 

2. WAT IS "TRANSFORMASIE"?

Die woordeboekbetekenis van "transformasie" is "Gedaanteverwisseling; die oorbring in 'n ander vorm; verandering in die samestelling van iets" (HAT 2007:1196). Die manier waarop hierdie begrip in onderskeidelik die politieke retoriek van die ANC en in die konteks van wetgewing en regspraak aangewend word, vertoon belangrike verskille, maar hierdie verskille word selde uitgewys.

2.1 Transformasie as politieke projek

Volgens die beleidsdokumente van die ANC (ANC 2012:3) is dié organisasie se "principal task" die volgende:

[...] to mobilise all strata and classes, including the new social forces born out of our democracy, around the national programme of transformation to build a national democratic society.

Begrippe soos "all strata and classes" en "national democratic society" in hierdie taakstelling is nie toevallige keuses nie, maar staan op diep ideologiese fondamente. Die sentrale en rigtingbepalende aard van sulke begrippe blyk ook uit aard van die ANC se hoofstrategie, naamlik die "National Democratic Revolution" (NDR), wat volgens die jongste amptelike beplanningsdokument (ANC 2013:24, paragraaf 39) as hoofinhoud "the liberation of Africans in particular and Blacks in general from political and socioeconomic bondage" en "liberating the white community from the false ideology of racial superiority and the insecurity attached to oppressing others", het. Die onverbloemde Marxistiese grondslag van die ANC se transformasiedenke blyk ook uit stellings soos (ANC 2013:32, paragraaf 73):

The ANC must continue to exercise maximum vigilance against forces which seek to subvert social transformation . In addition, marginalisation and destitution inherited from apartheid and the kind of greed represented by organised crime do create fertile ground for lumpen elements [waarby Karl Marx se begrip '"Lumpenproletariat'' klaarblyklik bedoel word] whose actions can have counter-revolutionary implications.

Die wortels van die ANC se transformasie-ideologie is nie moeilik om na te spoor nie. Peter Hudson het byvoorbeeld dertig jaar gelede in die eerste uitgawe van n tydskrif wat op transformasie fokus, uitgewys dat Marx en Lenin die term "sosialisme" gebruik het om te verwys na die eerste fase van die proses van die oorgang van kapitalisme na kommunisme, en dat dit die transformasie behels na 'n staat waarin die werkersklas beslag lê op die produksiemiddele. Hy het verder daarop gewys dat die ANC-alliansie Suid-Afrika destyds reeds gekenmerk het as n voorbeeld van "kolonialisme van n spesiale tipe" wat meegebring het dat (Hudson 1986:21):

[...] the struggle to establish socialism must first assume the form of struggle to establish a national-democracy and that this struggle must be successful before there can be any transition to socialism in South Africa. Through the prism of this analysis the Freedom Charter appears as a 'national democratic' text.

Hudson het aangetoon dat hierdie sosialistiese oogmerke uitdrukking gevind het in die NDR, maar dat die klassieke sosialistiese konsep van klas deur die ANC gekortsluit is en vervang is met ras (Hudson 1986:27).

n Mens kry die indruk dat die prominensie van die NDR in ANC-denke nie konstant is nie en dat die wisseling van ekonomiese beleide daarmee verband hou. Teen die middel van die eerste dekade van hierdie eeu, toe GEAR ("Growth, Employment and Redistribution") prominent in die Mbeki-regering was, het COSATU en die SAKP dit gekritiseer as "neoliberaal". Uit die interne besprekingsdokumente van die ANC in daardie tyd blyk dit dat die kommunistiese elemente van die alliansie die ANC se toewyding aan die NDR bevraagteken het. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die ANC sy onderskrywing van die NDR moes herbevestig (ANC 2006). Tien jaar later is daar geen twyfel meer oor die sentraliteit van die NDR in die denke van die Zuma-regering nie (ANC 2016):

In pursuing the NDR during the current phase, the ANC understands the connection between political and socio-economic challenges and therefore we have crafted plans to lead the people in pursuing our common aspirations. We are ensuring that sectoral interests are linked to strategic objectives and national goals. Therefore, it is important that cadres and leaders of the ANC conduct themselves in accordance with the highest standards of revolutionary morality.

Die ANC se selfbeeld strook volledig met 'n onderskrywing van die NDR; dus met die siening dat die organisasie nie n politieke party is nie, maar n revolusionêre bevrydingsbeweging wat gefundeer is op die Marxisties-Leninistiese idees van n sosialistiese oorgangsfase na n kommunistiese samelewing. Dit blyk byvoorbeeld duidelik uit die verduidelikende strook op die ANC se webblad (ANC 2016):

The ANC, the leader of the Alliance, is a multiclass National Liberation Movement advancing the National Democratic Revolution, the primary objective of which is the establishment of the National Democratic Society which is united, nonracial, non-sexist, democratic and prosperous.

The SACP is the vanguard party of the working class, with the objective of advancing a socialist revolution aimed at creating a communist society underpinned by a classless society.

COSATU is a progressive trade union federation whose core objective is to fight for and defend the rights of workers and to protect workers from the super-exploitation of the capitalist class.

Die verband tussen die NDR en transformasie is duidelik, soos onder meer blyk uit die reeds aangehaalde taakstelling van die organisasie (ANC 2012:3).

Twintig jaar gelede het Dlamini gewys op die politieke aard van die idee van die transformasie van universiteite (Dlamini 1995:47):

[T]he idea of a people's university is not really new. It was advocated among a number of American and European universities in the Sixties and early seventies. This was part of a broader Marxist-socialist movement which was aimed at transforming society by empowering the masses who were perceived to be oppressed by the capitalist class.

Dat die universiteitswese se transformasie hoog op die revolusionêre agenda van die ANC is, is byvoorbeeld sigbaar uit opmerkings soos die volgende (wat nog voor die studente-aksies van laat 2015 gemaak is (ANC 2015:13)):

The frustrations relating to the slow pace of transformation on campuses have also been sharply expressed by students and this is a reality. Academic staff remains predominantly white and male.

Die gematigde beeld van transformerende beleidsdoelwitte wat meestal deur regeringslui (en universiteitsbestuurders) voorgehou word, mag diegene wat nie kennis neem van die onderliggende beleidstandpunte en -doelwitte soos dié waarna hierbo verwys is nie, daartoe bring om 'n analise soos hierdie as reaksionêre kommunistejagtery af te maak. 'n Mens moet jou egter die vraag afvra wat die eksplisiete voortgesette verbintenis van die ANC aan die gediskrediteerde Marxisties-Leninistiese retoriek dan in hulle interne diskoers beteken. Dit is moeilik om te glo dat die gereelde herverbintenis tot die NDR maar net leë woorde is.

2.2 Transformasie in die reg

Sedert 1994 is die transformasiebegrip oor 'n breë spektrum van dissiplines toenemend in parlementêre wetgewing en uitvoerende beleidsdokumente ingebou. Opvallende voorbeelde kom voor op die terreine van arbeidsregulering, eiendomsreg (veral op grond), staatsverkryging, en onderwys.

Die skerp ideologiese hoeke van transformasie word deurgaans vermurwe of vermom wanneer daar vir die implementering daarvan in parlementêre wetgewing voorsiening gemaak word. Daardeur word dit moontlik gemaak om statutêr geoorloofde transformasie voor te hou as die edele vorm daarvan waarvoor die tekste van die 1993 en 1996 Grondwette per slot van rekening, weliswaar sonder dat die woord self daar gebruik word, voorsiening maak.

Die buitengewone afsluitingswoorde van die 1993 Grondwet, waardeur die nuwe gekonstitusionaliseerde bedeling in Suid-Afrika ingelui is, het op aangrypende wyse uitdrukking gegee aan die gees waarin die historiese oorgang onderhandel is. Die eerste paragraaf het soos volg gelui:

Hierdie Grondwet bou n geskiedkundige brug tussen die verlede van n diep verdeelde gemeenskap wat gekenmerk is deur tweespalt, konflik, ongekende lyding en ongeregtig-heid, en n toekoms wat gevestig is op die erkenning van menseregte, demokrasie en vreedsame naasbestaan en ontwikkelingsgeleenthede vir alle Suid-Afrikaners, ongeag kleur, ras, klas, geloof of geslag.

Soortgelyke sentimente word in die voorrede tot die huidige (1996) Grondwet aangetref. Daarin word die oortuiging, met erkenning van die ongeregtighede van die verlede, uitgespreek dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons diversiteit. Verder is die stelling gemaak dat die Grondwet onder meer aangeneem is om die verdeeldheid van die verlede te heel en 'n samelewing daar te stel wat gefundeer is op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele regte, en om die lewenskwaliteit van alle burgers te verbeter en die potensiaal van elkeen te ontsluit. Die samelewing wat in die vooruitsig gestel is, is een waarin elke burger gelyke regsbeskerming geniet.

Al hierdie edele bedoelings wat op histories betekenisvolle wyse in die twee funderende grondwette tot uitdrukking gebring is, sou sonder twyfel, indien dit gerealiseer word, vaste hoekstene kon wees vir die transformasie van ons komplekse en gekonflikteerde Suid-Afrikaanse gemeenskap na n stabiele burgery met gemeenskaplike vooruitsigte vir sosiale geregtigheid en stabiliteit.

Die Konstitusionele Hof het by geleentheid ook inhoud hieraan gegee, byvoorbeeld in 'n uitspraak van 2001 (Hyundai 2001: paragraaf 21):

The Constitution is located in a history which involves a transition from a society based on division, injustice and exclusion from the democratic process to one which respects the dignity of all citizens, and includes all in the process of governance. As such, the process of interpreting the Constitution must recognise the context in which we find ourselves and the Constitution's goal of a society based on democratic values, social justice and fundamental human rights.

Weens die ideologiese kontaminasie van die transformasiebegrip word die grondwetlike ideale wat in die verhewe grondwetlike tekste uitgespreek word en wat rigtinggewend vir regeringsbeleid en sosiale gedrag behoort te wees, egter deurlopend polities verwring en misbruik.

 

3. DIE EVOLUSIE VAN 'N REVOLUSIONÊRE BEGRIP

Dit is merkwaardig hoe die ANC daarin kon slaag om transformasie enersyds in eie geledere te benut as opruiende motivering vir die voortsetting van n revolusie van die proletariaat (in Suid-Afrika verstaan as die verarmde swart massas wie se omstandighede aan apartheid gewyt word), en andersyds om akademici, juriste en die howe tot die oortuiging te bring dat daardie selfde ideologiese begrip 'n nastrewenswaardige maatskaplike doelwit daarstel. Dit is moontlik om hierdie evolusie van die revolusionêre taal tot in die akademiese regsliteratuur, wetgewing en die daaruit voortspruitende regspraak na te spoor (hier net in breë trekke).

In regsteoretiese konteks kan die artikel van Karl Klare (Klare 1998), gebaseer op twee konferensievoordragte in 1995 en 1996, as die beginpunt van die intellektualisering van transformasie aangemerk word. Klare is 'n prominente figuur in die Amerikaanse Critical Legal Studies skool, en was skynbaar in die 1970's taamlik nou geassosieer met die Amerikaanse debatvoering oor Marxistiese humanisme (Hunt 1986:10). In sy artikel het Klare "transformative constitutionalism" in die Suid-Afrikaanse konteks beskryf as (Klare 1998:150):

[A] long-term project of constitutional enactment, interpretation, and enforcement committed (not in isolation, of course, but in a historical context of conducive political developments) to transforming a country's political and social institutions and power relationships in a democratic, participatory, and egalitarian direction.

Dit behels volgens hom omvattende sosiale verandering wat met behulp van die reg grootskaalse, egalitêre sosiale transformasie moet bewerk op n wyse wat meer is as blote hervorming ("reform"), maar kort duskant revolusie is.

Akademiese publikasies uit die penne van 'n indrukwekkende lys gerespekteerde regswetenskaplikes het gereeld sedert Klare se artikel die lig gesien, maar die outeurs se fokus was nie daarop om helderheid te bring oor 'n juridiese (in teenstelling met 'n ideologiese) betekenis van die begrip nie.

In n bydrae oor die lotgevalle van die privaatreg in die nuwe grondwetlike bedeling, het André van der Walt gebruik gemaak van Klare se siening van transformasie, en onder meer aangetoon (Van der Walt 2005:659) dat die spanning tussen die sekerheid van die voorgrondwetlike (privaat)reg en transformasie gekompliseer word deur die morele en politieke dryfvere onderliggend aan transformasie.

Cathi Albertyn het die grondwetlike beskerming van substantiewe gelykheid as n fasiliterende faktor by sosiale en ekonomiese transformasie geïdentifiseer en geredeneer dat die reg 'n rol het om te speel in sodanige transformasie (Albertyn 2007:276).

Die vlakke van (postmoderne) abstraksie waartoe die transformasiekonsep gevoer kan word, word deur Karin van Marle gedemonstreer waar sy transformasie (saam met gelykheid en interafhanklikheid) as "waardes" beskryf en die onbepaalbaarheid daarvan tot uitdrukking bring wanneer sy skryf (Van Marle 2015:550): "Transformasie is nie iets wat eenmalig kan plaasvind nie, dit is 'n voortdurende proses wat in die lig van die verlede met die hede moet omgaan".

Nie net akademici nie, maar ook regters van die Konstitusionele Hof het tot die literatuur oor transformasie bygedra (Langa 2006; Moseneke 2009). Die regters se standpunte oor transformasie is ook toenemend in hulle uitsprake weerspieël. 'n Voorbeeld hiervan is 'n dictum van Regter Albie Sachs in 2010 (Joe Slovo, paragraaf 347):

[T]he Constitution does not, as some constitutions do, simply prescribe limits on the way government exercises its authority. It imposes duties on government to play a proactive role in bringing about social transformation and facilitating enjoyment of human rights by all.

Gegewe die uiteenlopendheid van moontlike betekenisse van die begrip, sou 'n mens verwag dat "transformasie" in die wetgewing wat sedert die aanvang van die bewind van die ANC reëlmatig gepromulgeer is, omskryf sou word. So 'n verwagting het egter tot dusver nie gerealiseer nie. Onvermydelik het die transformasiewetgewing gelei tot litigasie en 'n betreklik omvangryke corpus van regspraak.

Die eerste statutêre vermelding van transformasie het voorgekom in die lang titel van die Skolewet van 1996 (South African Schools Act 84 van 1996):

[T]his country requires a new national system for schools which will redress past injustices in educational provision ..., advance the democratic transformation of society ...

Wat "democratic transformation" in die onderwyskonteks behoort te beteken, is tot n mate deur die Konstitusionele Hof op 'n wyse toegelig wat moeilik vereenselwig kan word met die ideologiese betekenis wat die ANC daaraan gee (Hoërskool Ermelo paragraaf 55):

The new education system must lay a foundation for the development of all people's talents and capabilities and advance the democratic transformation of society and combat racism, sexism, unfair discrimination and the eradication of poverty. The preamble also expresses the intent to advance diverse cultures and languages and to uphold the rights of learners, parents and educators.

Wetgewing en die voortspruitende administratiewe optrede wat betrekking het op die transfor-masie van die seevisserybedryf (Marine Living Resources Act 18 of 1998), het aanleiding gegee tot heelwat regspraak. Artikel 2(j) vereis van diegene aan wie gesag en funksies ingevolge die Wet verleen word om in ag te neem "the need to restructure the fishing industry to address historical imbalances and to achieve equity within all branches of the fishing industry". Die Wet maak voorsiening vir die instelling van die "Fisheries Transformation Council", maar die naaste wat die Wet kom aan die presisering van wat met "transformasie" bedoel word, is in artikel 18(5) wat van die Minister vereis "to have particular regard to the need to permit new entrants, particularly those from historically disadvantaged sectors of society".

In 'n uitspraak van die Konstitusionele Hof (Bato Star) was 'n sleutelvraag of maatskappye aan wie visserykwotas toegestaan is, voldoende "getransformeer" was (dit wil sê of die rassedemografie van die land weerspieël is in die eienaarskap en bestuur van die maatskappy), al dan nie. Die hof het bevind dat die oogmerk van die wet dat die onregverdige status quo nie bloot in belang van die stabiliteit van die nywerheid gehandhaaf kan word nie, gestrook het met die voorrede en waardes van die Grondwet (Bato Star: paragraaf 34). Aangesien die betrokke beleid egter volle transformasie oor die medium en langtermyn in die oog gehad het, was die betwiste kwotatoekennings oor die korter termyn wel aanvaarbaar, as dit gedoen is in belang van stabiliteit (Bato Star: paragraaf 53).

In die konteks van arbeidsverhoudinge word transformasie geredelik met regstellende aksie geassosieer. Die wyse waarop dit deur verskillende staatsdepartemente aangepak word, het egter al tot langdurende litigasieprosesse aanleiding gegee, met wisselvallige uitkomste. Die Employment Equity Act 55 van 1998 gebruik weliswaar (soos die Grondwet) nie die uitdrukking "affirmative action" nie, maar is ooglopend bedoel om realisering te gee aan die veroorlowing deur die Grondwet se gelykheidsbepaling (artikel 9) van stappe om persone wat deur onbillike diskriminasie benadeel is, te beskerm en te bevorder. In 2013 het die Arbeidshof 'n saak beslis wat gehandel het met die ontneming van 'n Indiërvrou van die geleentheid om tot 'n senior offisierspos in die SA Polisiediens bevorder te word. Die SAPD se gelykheidsplan het slegs 2,5% Indiërverteenwoordiging toegelaat. Die Hof het bevestig dat die Wet bedoel is om die nadelige uitwerking van apartheid teen te werk, maar het dit gekwalifiseer (Naidoo paragraaf 117):

It is important to bear in mind that, while employment equity prohibits unfair discrimination, it promotes non-racialism and non-sexism. That is the essence of the transformation agenda envisaged in the Constitution.

Die Hof het die gelykheidsplan egter skerp gekritiseer, want (Naidoo paragraaf 177):

[I]n general, and the impugned measures in particular, patently undermine the constitutional objective of equality. Instead of promoting non-racialism it promotes - for want of a better phrase - perverse race rivalry; and instead of embracing non-sexism it proffers tokenism.

Daar is heelwat verdere voorbeelde uit die wetgewing, beleidsdokumente en regspraak waar transformasie ter sprake gekom het. Die beeld wat daaruit na vore kom, is egter nie eenduidig nie: waar parlementêre wetgewing vaag en omsigtig met die transformasiebegrip omgaan, is uitvoerende en administratiewe beleidsdokumente en optredes veel meer eksplisiet (en soms blatant) gekonsentreer op ras (en dus nader aan die ideologiese konsep) en meermale blootgestel aan judisiële sensuur. Die howe se hantering van transformasie is ook nie konstant nie. Oor die algemeen word transformasie in die regspraak gekoppel aan die gees en bepalings van die Grondwet en word eensydige rassefokusse vermy, maar dit is duidelik uit die soms woordryke uitwyding oor die onderwerp deur spesifieke regters dat hulle nie veel simpatie het met diegene wat aan die kortste end van transformasie trek nie. 'n Voorbeeld hiervan is die volgende uitlating van die Konstitusionele Hof (Bato Star paragraaf 76):

The measures that bring about transformation will inevitably affect some members of the society adversely, particularly those coming from the previously advantaged communities. It may well be that other considerations may have to yield in favour of achieving the goal we fashioned for ourselves in the Constitution.

In die lig daarvan dat die Konstitusionele Hof ingevolge artikel 167 van die Grondwet die finale vertolker van die grondwetlike teks is, bestaan die gevaar dat ideologies getransformeerde regters gesaghebbende apologete vir die NDR kan word (vgl. bv. Malan 2014). Tot dusver het dit nie gebeur nie, en kan steeds van die standpunt uitgegaan word dat die ANC se ideologies gedrewe konsep van transformasie nie versoenbaar is met die vorm van transformasie wat met die gees en bepalings van die Grondwet strook nie.

Dat transformasie, soos dit in Suid-Afrika gebruik word, diep wortels in revolusionêre denke het, is onmiskenbaar. Tegelyk is dit onteenseglik so dat daar duidelike aanknopingspunte in die bepalings van die Grondwet is wat n soort transformasie regverdig wat gebalanseerde sosiale herskikking van hierdie komplekse, diverse en gepolariseerde samelewing moontlik maak. Die vraag is egter hoe geïntellektualiseerde en gejurifiseerde transformasie met die revolusionêre transformasiebegrip versoen kan word. Die antwoord is duidelik: dit kan nie, want die transformasie-ideologie is ongrondwetlik diskriminerend, en dit is eensydig gerig op sosiale revolusie en nie maatskaplike stabiliteit nie. Dat die vaagheid en plooibaarheid van die begrip egter ruim geleentheid bied vir die politieke nastrewing van revolusionêre doelwitte onder die dekmantel van grondwetlike fatsoenlikheid, is egter duidelik: die woord op die tong van die politieke ideoloog is dieselfde as wat in akademiese geskrifte en in regspraak geskryf word - en selde word uitdruklik onderskei watter een van die twee teenoorstaande betekenisse daaraan geheg moet word.

 

4. DIE BELOFTES VAN IDEOLOGIESE TRANSFORMASIE

Vir steunwerwing onder Suid-Afrikaners wat onder armoede en beperkte vooruitsigte vir opheffing ly, is transformasie 'n briljante instrument. Dit hou 'n onspesifieke belofte van verligting, bevoordeling en verryking in, en impliseer, sonder dat dit geartikuleer hoef te word, die bestrawwing, as verdiende loon, van hulle wat verantwoordelik gehou moet word vir die ellende. So beskou, is transformasie die sleutel tot opheffing, herverdeling van rykdom, materiële en sosiale gelykheid, nuwe werksgeleenthede en beter onderwys.

Die wrede realiteit is egter anders. In haar insiggewende en deeglik nagevorste boek oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB), dui Anthea Jeffery byvoorbeeld oortuigend aan dat SEB meegewerk het tot die skepping van 'n relatief klein swart elite, maar dat die miljoene armes geen vooruitsig het om daardeur toegang tot die vrugte van transformasie te kry nie (Jeffery 2014:348-383).

In die inleidende hoofstuk van n versamelwerk oor die uitdagings wat die Afrika-kontinent in die gesig staar, skryf Moeletsi Mbeki (Mbeki 2011:8) dat die dominante swart politieke elite wat sedert 1994 aan bewind is se "main objective was to bring about equality between the races and to redistribute some of the existing, white-owned wealth to the blacks".

Ten spyte van die inburgering van die idee dat transformasie die armes en onderdruktes ophef (byvoorbeeld deur die weliswaar massiewe voorsiening van behuising, elektrisiteit, water en maatskaplike toelae), het dit aanwysbaar gelei tot voortgesette en groeiende ontmagtiging van miljoene (jong) Suid-Afrikaners. Volgens die jongste amptelike statistiek (Statistics South Africa 2016) faal die beleidsingrepe in die verbetering van die vooruitsigte van die jeug, veral wat die voorsiening van effektiewe opvoedkundige kwalifikasies betref.

Die Statistikus-generaal het met die vrystelling in April 2016 van die jongste verslag daarop gewys dat daar geen noemenswaardige verbetering tussen 2009 en 2014 waargeneem is in die ontstellende werkloosheidsyfers onder swart Suid-Afrikaners tussen 25 en 34 jaar oud nie en dat die ouer generasie beter toegerus is vir die arbeidsmark as hulle kinders (Merten 2016).

Die vraag wat ontstaan weens die opsigtelike mislukking van 'n staatsbeleid wat gebaseer is op die transformasie-ideologie, is waarom daar steeds daarmee volgehou word. Die antwoord moet daarin geleë wees dat ideologie inherent redeloos is: dit word deur emosie gedryf, nie deur redelikheid nie. Die werklikheid word deur Anthea Jeffery ontbloot wanneer sy opmerk (Jeffery 2014:383) dat SEB en die uitgebreide sosiaal staatlike stelsel van staatstoelaes vir die ANC 'n "vyeblaar" vir die vasberade nastrewing van die NDR geword het. Verder verduidelik Moeletsi Mbeki (Mbeki 2011:9) dat "[v]oters for the ANC do not vote for it for ideological reasons or for policy reasons; they vote for it primarily because of their material dependence on the ANC-controlled state", en wys daarop dat die oorgrote meerderheid van kiesers wat die ANC ondersteun, arm swartmense is met min of geen skoling nie.

Die veronderstelde verwagting van miljoene Suid-Afrikaners dat transformasie kompensasie vir hulle lyding weens diskriminasie sal meebring, sal nie bevredig kan word nie. Dit stel n toenemende bedreiging vir maatskaplike stabiliteit daar: transformasie bou nie kapasiteit nie, maar verbruik die middele en geleenthede wat nog voorhande is tot voordeel van 'n dun sosiale lagie van die bevolking - oor die langtermyn tot nadeel, en ontsteltenis, van die werklik behoewende miljoene.

 

5. TRANSFORMASIE VAN DIE UNIVERSITEITSWESE EN AFRIKAANS

Teen hierdie agtergrond kan afgelei word dat die studente-onvergenoegdheid wat in die laaste maande van 2015 opgekook het, n direkte uitvloeisel is van onder meer die vele onvervulde transformasiebeloftes. Die vanselfsprekende sleutel tot opwaartse mobiliteit is onderwyskwali-fikasies, maar vir 'n verarmde jeugbevolking is die onvermydelike koste verbonde aan veral tersiêre studie te hoog. In die tipies kortgeslote massadenke is die oplossing eenvoudig: die transformasiestaat moet die koste dek.

Dat gratis hoër onderwys nie haalbaar is nie, is selfs vir die huidige Minister van Hoër Onderwys en Opleiding (wat uit hoofde van sy politieke agtergrond n voorvegter vir revolusionêre transformasie is) duidelik. Nietemin bly die transformasie van die universiteits-wese - waarskynlik steeds verstaan as n belangrike stap op die pad na die verwesenliking van die NDR - hoog op die agenda van die Departement Hoër Onderwys.

Indien die Higher Education Amendment Bill van 2015 ongewysig aangeneem word, sal die Minister beklee word met die gesag om eensydig transformasiedoelwitte ("transformation goals") vir die hoëronderwyssektor voor te skryf, en om dan gepaste ("appropriate") oorsig-meganismes met die oog op die verwesenliking van sy doelwitte daar te stel (voorgestelde byvoeging tot artikel 3(3) van die Wet). Wat hier onder "transformasie" bedoel word, word weereens nie omskryf nie.

Ten beste is "transformasie" in die hoëronderwyskonteks n kode vir n reeks doelwitte wat afgelei moet word uit verskeie bronne. Die voorrede tot die Higher Education Act 101 van 1997 verklaar dat dit wenslik is dat programme en instellings geherstruktureer en getransformeer moet word. Heelwat meer oor transformasie kan gevind word in die Education White Paper 3 - A Programme for Higher Education Transformation van 1997. In die voorwoord daarvan het die destydse minister geskryf dat:-

The transformation of the higher education system to reflect the changes that are taking place in our society and to strengthen the values and practices of our new democracy is ... not negotiable. The higher education system must be transformed to redress past inequalities, to serve a new social order, to meet pressing national needs and to respond to new realities and opportunities.

Paragraaf 1.7 van die witskrif het dit byvoorbeeld oor "redistributive social policies aimed at equity"; in paragraaf 1.28 gaan dit oor die transformasie en "demokratisering" van die "governance structures of higher education"; in paragraaf 2.25 word klem gelê op die fokus van die sosiale en geesteswetenskappe op "social transformation"; in paragraaf 3.7 word dit duidelik gemaak dat die staat van voorneme is om algaande n stewiger greep op die hoëronderwyssektor te kry, en paragraaf 3.8 maak dit verder duidelik:

The Ministry will drive the transformation of the higher education system through policies and strategies that are guided by this view of the role of the government and its relationship to institutions of higher education.

Anthea Jeffery beskryf die regering se benadering tot die hoër onderwys as 'n proses waardeur die ANC as deel van die NDR toenemend die mag inpalm "to erode university autonomy in the name of 'transformation'" (Jeffery 2014:399).

Wat taal en transformasie betref, wil dit voorkom of die amptelike benadering tot dusver nie spesifiek van Afrikaans 'n primêre transformasieteiken gemaak het nie. Om die waarheid te sê, die steeds geldende hoëronderwystaalbeleid (Language Policy 2002) bevat bepaalde akkommoderende opmerkings wat die behoud en ontwikkeling van Afrikaans betref. Die departement het dié beleid ontwikkel nadat die histories Afrikaanse universiteite se besture geraadpleeg is en professor Jakes Gerwel n informele ondersoek na die aangeleentheid gelei het. Afrikaans word in die beleid as 'n nasionale hulpbron beskryf (Language Policy 2002:11):

The Ministry acknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource. It, therefore, fully supports the retention of Afrikaans as a medium of academic expression and communication in higher education and is committed to ensuring that the capacity of Afrikaans to function as such a medium is not eroded.

Volgens die beleid moet dit egter nie aan die verantwoordelikheid van enkele universiteite oorgelaat word nie, maar dit moet ook nie n struikelblok wees vir toegang vir enigiemand tot enige universiteit nie.

In die departement se beleid aangaande universiteitstaal figureer die transformasie van die universiteitswese ook prominent en word dit vir meer as n dekade lank van die histories Afrikaanse universiteite verwag om strategieë en tydsraamwerke daar te stel om te verseker dat die taal nie toegang tot onderrigprogramme verhinder nie (Language Policy 2002:13).

Ondanks die aangehaalde gerusstellende beleidsuitlatings van 2002, verg dit weinig verbeelding om in te sien dat transformasiedoelwitte sonder twyfel telkens die bevordering of beskerming van Afrikaans in die universiteitskonteks sal troef. Selfs al sou dit nie die eksplisiete bedoeling van die regering wees om Afrikaans as universiteitsmedium uit te faseer nie, is dit reeds deur die meeste van die rade en besture van die histories Afrikaanse universiteite bewerkstellig, eerstens deur interne beleide te aanvaar wat op die lange duur nie anders kon nie as om die plek van Afrikaans in die akademie en die bestuur van die betrokke instellings te reduseer en uiteindelik uit te skakel, en jongstens deur kapitulerend te reageer op studentedrukgroepe se aggressiewe aanvalle op Afrikaans as universiteitsmedium.

As uitsondering in hierdie verband geld nog n weldeurdagte en akkommoderende "funksionele taalbeleid" aan die Noordwes-Universiteit, wat onder meer inhou dat (NWU Taalbeleid 2012: paragraaf 9.1.1.2) "...die taaldemografie en taalvoorkeure van 'n bepaalde kampus binne 'n omgewing waar die taalregte van al die persone wat betrokke is, gerespekteer word".

Hoewel die huidige bestuur van die NWU nie prominensie verleen aan die uitfasering van Afrikaans nie, maak die jongste strategiese plan van die universiteit opsigtelik melding van transformasie (tipies ook sonder definisie van die betekenis en oogmerke daarvan) as 'n integrale strategiese element. In die Strategiedokument van die NWU wat deur die bestuur voorberei is en aan die einde van 2015 deur die raad goedgekeur is, word onder meer as deel van die "interne suksesmodel" die vereiste gestel dat leiers van die universiteit n "transformerende ingesteldheid (persoonlik en in eksterne kontekste)" moet hê (NWU Strategie 2015:27); in verband met die "eksterne suksesmodel", die ideaal om 'n "uitstekende voorbeeld van ware transformasie en nasiebou" te wees (NWU Strategie 2015:29); en wat die strategiese agenda van die NWU betref, die "versnelling van transformasie" (NWU Strategie 2015: 31).

 

6. ALTERNATIEWE TOEKOMSPROJEKSIES

Transformasie is n ryk en plooibare konsep, bruikbaar vir baie doeleindes en aanwendbaar sowel vir selektiewe bevoordeling as benadeling. Indien transformasie in ooreenstemming met die gees, waardes en beginsels van die Grondwet vertolk en toegepas sou word, sou dit kon meebring dat die Suid-Afrikaanse samelewing in sy kompleksiteit, uiteenlopendheid, diversiteit en historiese polariteit algaande gelei kon word in die rigting van balans, heling, voorspoed en verdraagsaamheid.

Ongelukkig het die ANC, en gevolglik die regerings sedert 1994, ideologies beslag gelê op die transformasiebegrip en word dit op briljante propagandistiese wyse ongedefinieerd uitgebuit om die twyfelagtige oogmerke van die NDR na te jaag. Daardie oogmerke het niks te doen met versoening, balans, herstel of nasionale identiteit nie, maar is klinkklaar gefokus op destabiliserende maatskaplike revolusie. In die hande van die huidige regering stuur dit (met 'n goeie dosis sinisme) af op selektiewe, rasgebaseerde bevoordeling van 'n bevoorregte elite - n dun swart sosiale lagie van ontplooide "kaders" wat sosialistiese dogma en taal gebruik om die massas te mobiliseer om verandering teweeg te bring; aangedryf deur n veranderingsdrang wat geen simpatie het met ander belange en behoeftes (soos taalbelange of kwaliteitsdienslewering) wat in die kruisvuur mag beland nie.

Dit is natuurlik nie moontlik om die toekoms van die Suid-Afrikaanse universiteitswese te voorspel nie, maar, gebaseer op die voorgaande en huidige tendense, kan alternatiewe toekomsprojeksies - negatief sowel as positief - gemaak word.

Met weinig uitsonderings bied die huidige patrone van regeringsbeleid, beleidsimplemen-tering, en politieke en ekonomiese fokus min rede tot optimisme vir n ommekeer weg van revolusionêre transformasie na n grondwetgefundeerde transformasieproses wat die versnellende agteruitgang van die samelewing kan stuit. Slegs 'n wereldvreemde en naïewe beoordeling van die status quo kan die eskalerende sosiale spanning, dalende staatsvermoë, blatante owerheidsekstremisme en wanadministrasie ontken. Sou hierdie tendense nie omgekeer kan word nie, dui die transformasie van die hoër onderwys daarop dat universiteite op 'n pad geplaas word weg van globale akademiese mededingendheid, na onderpresterende opleidingsinstansies wat as blote organe van n onbevoegde, dog voorskriftelike, staatsowerheid funksioneer.

Die Suid-Afrikaanse politieke, ekonomiese en sosiale magspatrone kan egter wel positief verander. Dit sal natuurlik n regeringsverandering verg - selfs al neem dit net die vorm aan van n drastiese interne herskikking van die ANC. 'n Veranderde regering sal egter, indien sake n positiewe wending neem, bevry moet wees van die NDR en van die ideale van sosialistiese transformasie. Wat die universiteitswese betref, het destruktiewe transformasie nog nie sodanige afmetings aangeneem dat die behoud van die eilande van uitnemendheid binne die sektor onmoontlik is nie. Waarvoor gewerk en gehoop kan word, is die terugkeer na realistiese ekonomiese en sosiale beleid - en effektiewe grondwetlike beskerming van akademiese vryheid met die hoop op die behoud en uitbou van kundigheid wat onmisbaar is vir konstruktiewe transformasie soos bedoel in die Grondwet.

 

BIBLIOGRAFIE

Albertyn, C. 2007. Substantive Equality and Transformation in South Africa. South African Journal on Human Rights, 23:253-276.         [ Links ]

ANC. 2006. Managing National Democratic Transformation. http://www.anc.org.za/show.php?id=2730 [19April 2016].         [ Links ]

ANC. 2012. Organisational renewal: Building the ANC as a movement for transformation and a strategic centre of power - A discussion document towards the National Policy Conference, Version 9. 10 April 2012.         [ Links ]

ANC. 2013. Strategy & Tactics of the ANC.http://www.anc.org.za/docs/pol/2013/strategyp.pdf [5 April 2016].         [ Links ]

ANC. 2015. Report of the Fourth National General Council, 8-11 October 2015. http://www.anc.org.za/docs/reps/2015/4thngcw.pdf [19 April 2016].         [ Links ]

ANC 2016. Statement of the National Executive Committee on the occasion of the 104th Anniversary of the African National Congress. http://www.anc.org.za/show.php?id=11874 [19 April 2016].         [ Links ]

Hudson, P. 1986. The Freedom Charter and the Theory of National Democratic Revolution. Transformation: Critical Perspectives on Southern Africa, 1(1):6-38.         [ Links ]

Bato Star Fishing v Minister of Environmental Affairs 2004 (4) SA 490 (KH).

Head of Department: Mpumalanga Department of Education v Hoërskool Ermelo 2010 (2) SA 415 (KH).

Hyundai 2001. Investigating Directorate: Serious Economic Offences v Hyundai Motor Distributors 2001 (1) SA 545 (KH).         [ Links ]

Hunt, A.1986.The Theory of Critical Legal Studies 1986. Oxford Journal of Legal Studies, 6(1):1-45.         [ Links ]

Jeffery, A. 2014. BEE - Helping or Hurting? Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Joe Slovo 2010. Residents of Joe Slovo Community, Western Cape v Thubelisha Homes 2010(3) SA 454 (KH).         [ Links ]

Klare, K. 1998. Legal Culture and Transformative Constitutionalism. South African Journal on Human Rights, 14:146-188.         [ Links ]

Langa, P. 2006. Transformative Constitutionalism. Stellenbosch Law Review, 17:351-360.         [ Links ]

Malan, K. 2014. Reassessing Judicial Independence and Impartiality Against the Backdrop of Judicial Appointments in South Africa. PER / PELJ, 17:1965-2040.         [ Links ]

Marine Living Resources Act 18 of 1998.

Mbeki, M. (red). 2011. Advocates for Change - How to Overcome Africa's Challenges. Johannesburg: Picador Africa.         [ Links ]

Merten, M. The Great Reversal: Stats SA claims black youth are less skilled than their parents. Daily Maverick,18 April.http://www.dailymaverick.co.za/article/2016-04-18-the-great-reversal-stats-sa-claims-black-youth-are-less-skilled-than-their-parents/#.VyIvlWNBiao [28 April 2016].         [ Links ]

Ministry of Education. 2002. Language Policy for Higher Education, November 2002. http://www.dhet.gov.za/HEDPolicies/LanguagePolicyforHigherEducation.pdf [6 Mei 2016].         [ Links ]

Moseneke, D. 2009. Transformative constitutionalism: Its Implications for the Law of Contract. Stellenbosch Law Review, 20:3-13.         [ Links ]

Naidoo v Minister of Safety and Security 2013 (3) SA 486 (LC).

Noordwes-Universiteit (NWU). 2012. Institusionele Taalbeleid van die Noordwes-Universiteit, 23 November 2012. http://www.nwu.ac.za/sites/www.nwu.ac.za/files/files/i-governance-management/policy/2P-2.5_Language_a.pdf [6 Mei 2016].         [ Links ]

Noordwes-Universiteit (NWU). 2015. Strategy / Togamaano / Strategie 2015 - 2025. http://news.nwu.ac.za/sites/news.nwu.ac.za/files/files/InstitutionalNews/Combined Book.pdf[6 Mei 2016].         [ Links ]

Odendal, F.F & Gouws, R.H. 2007. (Reds.). HAT - Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Maskew Miller Longman.         [ Links ]

Statistics South Africa. 2001. Vulnerable Groups Series I: The Social Profile of the Youth, 2009-2014. Report No. 03-19-01. http://www.statssa.gov.za/publications/Report-03-19-01/Report-03-19-012014.pdf [20 September 2016].         [ Links ]

Van der Walt, A.J. 2005. Transformative constitutionalism and the development of South African property law (Part 1). Journal of South African Law, 4:655-689.         [ Links ]

Van Marle, K. 2015. Denke as voorwaarde vir 'n gesonde samelewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(4):541-555.         [ Links ]

 

 

 

Francois Venter is 'n buitengewone professor verbonde aan die Fakulteit Regte van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Hy het tussen 2000 en 2012 as dekaan gedien, en was ook vir n paar termyne n senaatsverteenwoor-diger in die raad van die universiteit. Sy wetenskaplike fokus is op staatsregsvergelyking, waaroor verskeie boeke reeds uit sy pen verskyn het, die jongste hiervan is Constitutionalism and Religion (Edward Elgar Publishers, 2015). Tussen 1990 en 1996 was hy regstreeks as adviseur betrokke by die ontwikkeling van die grondwettekste van 1993 en 1996.
Francois Venter is an extraordinary professor at the North-West University, Potchefstroom Campus Faculty of Law. During 2000 to 2012 he served as Dean of the same faculty and was a senate representative on the NWU council. His scholarly focus is on constitutional comparison, a field in which he has authored extensively. His latest book is titled Constitutionalism and Religion (Edward Elgar Publishers 2015). During 1990 to 1996 he was directly involved in the development of the interim and final Constitutions of the Republic of South Africa.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons