SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue4-1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 n.4-1 Pretoria Dec. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-1a4 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Radikale postkolonialisme en die Suid-Afrikaanse universiteitswese

 

Radical post-colonialism and universities in South Africa

 

 

Wynand Greffrath

Navorsingsfokusarea: Sosiale Transformasie Noordwes-Universiteit Potchefstroom E-pos: Wynand.Greffrath@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word onlangse studenteprotes gekontekstualiseer teen die agtergrond van politieke tendense in die Suid-Afrikaanse staat en samelewing. Die verstryking van die postapartheidstydperk word oorweeg, tesame met die gelyktydige ontluiking van 'n radikale en postkoloniale sosiopolitiese tydsgees. Laasgenoemde word as vertrekpunt gebruik vir 'n evaluasie van studenteprotes en die eise wat aan hoër onderwys en universiteite in Suid-Afrika gestel word. Gevolglik word die universiteit se funksie en verhouding teenoor staat en samelewing oorweeg en word daar gedemonstreer hoe hierdie verhoudings moontlik sal verander in 'n postkoloniale milieu. Die plek en rol van Afrikaans by universiteite word ook spesifiek bespreek.

Trefwoorde: #FeesMustFall; Postapartheid; Postkolonialisme; Radikale politiek; Studenteprotes; Suid-Afrikaanse universiteite


ABSTRACT

This article concerns the wave of student protests that swept across South African universities during 2015 and 2016. The phenomenon of student protest at universities is approached and analysed against the backdrop of several macro-political trends that are currently emerging in the South African context. It is argued that the most pronounced of these emergent trends is the radicalisation of South African politics and society. Widespread dissatisfaction with service delivery and the rendering of public goods by government have intensified calls for quicker and more radical political solutions to perceived socio-economic hardships. In this regard, the culture of service delivery protest stands out as a significant barometer of social dissatisfaction, despite the strides that have been made since 1994 in the improvement of basic quality of life in South Africa. Furthermore, and related to the aforementioned trend of radicalisation, there has occurred a clear burgeoning of the political left in South African politics. As social dissatisfaction has escalated over the last three to four years, new progressive and radical political actors have emerged in the landscape of institutionalised politics in order to capitalise on the prevalent alienation among citizens. Concurrently, established political parties have also adopted more progressive, and in some cases radical, policy and ideological positions. Together, these developments point towards a political playing field that is "shifting to the left", as it were. Furthermore, the aforementioned developments have taken place during an epochal change in the South African psyche, namely the expiration of the period known as "post-apartheid". The guiding values of tolerance, reconciliation and "rainbow nationalism" that characterised the post-apartheid period and political engagement are now conspicuously absent in South African politics. Instead, racial and economic class tensions have re-emerged and the political climate has become more confrontational and militant. Whereas the post-apartheid period was premised on forgiving the transgressions of apartheid and adopting a prospective orientation of future consolidation, South African society is now engaged in a retrospective re-interrogation of its colonialist past. Because of the confluence of these trends and circumstances, this article argues that it is possible to speak of the emergence of a post-colonial epoch in South Africa's historical trajectory. The notion of post-colonial South Africa is premised on numerous aspects which exist in a dialectical relationship with the history of the state and society. Among the most significant manifestations of this dialectic is the manner in which the post-colonial society engages critically with its institutions in an attempt to change and transform. Thus, as universities have become increasingly subject to such critical engagement by society, but specifically by students, instability and conflict have arisen in the process of change and transformation. Various possible outcomes of such instability and change are considered in the article as universities, and formerly Afrikaans universities in particular, are faced with the challenges of responding to the demands of post-colonial politics and society. These demands include that universities become activist institutions that promote social justice, Africanisation and indigenisation, and the decolonisation of knowledge. In the process, it appears that the utility and value of Afrikaans as a medium of instruction and institutional language is disparaged with the purpose of annihilation, and furthermore that universities may increasingly become domains of ideological, and not intellectual, contestation. The article concludes by positing that the future of the university in a post-colonial local context will require a commensurate reconceptualisation of the role and functions of a university.

Keywords: #FeesMustFall; Post-apartheid; Post-colonialism; radical politics; student protest; South African universities


 

 

1. INLEIDING

Dit is reeds meer as 'n jaar gelede dat die standbeeld van Cecil John Rhodes onder skoot gekom het op sy staanplek by die Universiteit Kaapstad. Dié standbeeld is tydens protes bestook met menslike ontlasting deur 'n student, wat daarmee gepoog het om die kultuur van "koloniale dominasie" op die kampus aan die kaak te stel. In die loop van 2015 het die #RhodesMustFall-veldtog genoegsame steun verwerf om die Rhodes-beeld permanent van die kampus te verwyder. Hierdie geskiedkundige oomblik sou egter oorskadu word deur die uitkringende momentum van die breër #FeesMustFall-beweging regoor die land se universiteitskampusse, wat in November van daardie jaar 'n hoogtepunt bereik het buite die Parlement in Kaapstad. Toe die 0%-studiegeldverhogings vir 2016 uiteindelik deur minister Nzimande aan studente toegestaan is, was dit reeds duidelik dat die beweging se doelwitte beide verder en wyer gestrek het as bloot studentegelde. Bykomende maatskaplike kwessies soos studentebehuising en die uitkontraktering van personeel is op verskeie kampusse uitgewys as verdere doelwitte vir transformasie.

Bogenoemde onluste op universiteitskampusse het tegelykertyd plaasgevind teen die agtergrond van breër politieke onstuimigheid, waarvan baie voorvalle nou al as alledaags beskou word. Hierby word ingesluit diensleweringsproteste, arbeidsonrus en stakings, politieke korrupsie en skandale (waaronder die Nkandla- en Gupta-sagas prominent figureer), ekonomiese onsekerheid en spesifiek die skok-afdanking van minister Nhlanhla Nene in Desember 2015.

Die doel van hierdie artikel is om op 'n verkennende wyse 'n perspektief te verskaf op die huidige Suid-Afrikaanse politieke tydsgewrig, asook hoe verbandhoudende sosiopolitiese tendense die Suid-Afrikaanse universiteitswese kan beïnvloed. Ten einde hierdie doel te verwesenlik, sal daar aan die volgende aspekte aandag gegee word:

Die sosiopolitiese radikalisering van die Suid-Afrikaanse samelewing

Die verstryking van die postapartheidsbegrip en -tydperk

Die ontluiking van n postkoloniale tydsgees

Die invloed van die radikale en postkoloniale neigings in die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel en universiteitswese.

 

2. DIE SOSIOPOLITIESE RADIKALISERING VAN DIE SUID-AFRIKAANSE SAMELEWING

Die Suid-Afrikaanse politieke landskap word grootliks in progressiewe terme gedefinieer. Die term "progressief word hier gebruik in 'n politieke sin, waarin dit 'n vooruitbeweging veronderstel vanaf 'n onvoldoende huidige werklikheid in die strewe na 'n geïdealiseerde, beter toekoms (Scruton 1982:380). Hierdie progressiewe agenda word polities vergestalt deur die ANC, as die historiese "nasionale bevrydingsbeweging" wat gekant was teen apartheid, en wat gevolglik die dominante politieke dryfkrag in die demokratiese era geword het. Die ANC se Marxistiese ideologiese karakter, wat dig verweef is in die beweging se identiteit, verseker ook dat n progressiewe impetus n onontbeerlike eienskap van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing sal wees vir die voorsienbare toekoms.

Sentraal tot die identiteit van dié party staan die begrip van 'n Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR), wat die ideologiese middel is tot die uiteindelike doel van 'n Nasionaal Demokratiese Samelewing - wesenlik die teenoorgestelde samelewingsbeeld as dié van 'n apartheidsbestel. Die ANC (2007) beskryf die NDR soos volg:

A process of struggle that seeks to transfer power to the people and transform society into a non-racial, non-sexist, united, democratic one, and changes the manner in which wealth is shared, in order to benefit all the people.

Hierdie beskouing verklap die ANC se sterk progressiewe en sosialistiese karakter, terwyl dit terselfdertyd die transformasiebegrip voorstel as n middel tot verandering. Die ANC se eiesoortige en grootliks rasgedrewe beskouing van transformasie is op sigself 'n gekontesteerde konstruk (sien Duvenhage 2007; Van der Merwe 2010; Hermann 2013) maar is ook een wat die Suid-Afrikaanse staatsbestel sedert die negentigerjare ingrypend deur middel van regstellende aksie verander het.

Die konstruktiewe maatskaplike uitwerking van die ANC se progressiewe oriëntering is sedert 1994 te bespeur in die ongekende ontwikkeling en materiële vooruitgang van die meeste Suid-Afrikaanse burgers, wat voorheen gemarginaliseerd was as gevolg van apartheid. Toegang tot behuising, die uitbreiding van basiese dienste soos lopende water en elektrifikasie en die daarstelling van 'n omvattende welvaartstaat verteenwoordig die vrugte van die ANC se progressiewe missie, gegrond in die NDR.

 

 

Hierdie tasbare uitkomste, tesame met die oorgeblewe legitimiteit van die ANC as bevry-dingsbeweging, het genoegsame politieke momentum opgewek vir die party (en opeenvolgende regerings) om heerskappy te verseker. Hierdie feit word weerspieël in kiesersteun vir die party wat nog nooit onder 60% in 'n nasionale verkiesing gedaal het nie. Dit het die ANC se selfbeskouing as die gesaghebbende vertolker van progressiewe waardes in Suid-Afrika gesteun, tesame met die NDR as die volkome bron van hierdie waardes (sien ANC 2000).

 

 

Hierdie patroon van volgehoue kiesersteun is vir die eerste keer tydens die 2016 plaaslike regeringsverkiesing onderbreek, waartydens die ANC net minder as 54% van landswye steun verwerf het (vergeleke met 61.9% tydens die 2011 plaaslike verkiesing). Dié drastiese steunverliese was hoofsaaklik afkomstig uit stedelike gebiede, met die gevolg dat die ANC politieke beheer oor ten minste 15 stadsrade regoor Suid-Afrika verloor het.

Dit is dus ironies dat die relatiewe suksesse van die ANC na 1994 die saadjie bevat van die party se moontlike verlies aan politieke dominansie en selfs politieke mag, as die 2016 plaaslike verkiesing enigsins 'n aanduiding is. Hierdie prognose is gegrond op die politieke dinamika van eskalerende verwagtinge, wat deur Davies (1962) se teorie van rewolusie geïllustreer word. Kortliks behels dit dat vlakke van ontevredenheid met sosio-ekonomiese omstandighede en politieke frustrasie na aanvanklike behoeftebevrediging, eerder toeneem as afneem. Vir dié wat blootstelling gehad het aan verhoogde materiële welvaart en die uitbreiding van sosio-ekonomiese vooruitgang, is die verwagtinge aangaande soortgelyke toekomstige voordele daarom veel hoër as vir dié wat nie daaraan blootgestel is nie. Hierdie skynbare teenstrydigheid is reeds op die vooraand van die Franse rewolusie uitgelig deur de Tocqueville (1982:229):

It is a singular fact that this steadily increasing prosperity, far from tranquilizing the population, everywhere promoted a spirit of unrest. The general public became more and more hostile to every ancient institution, more and more discontented.

'n Meer onlangse bevestiging van hierdie wetmatigheid in die Suid-Afrikaanse konteks word deur Turok (2012) verskaf as hy in New Agenda skryf dat:

It is possible to demonstrate that South Africa has achieved more in improving the lives of its people than many within the country admit. So why do we have the opposite impression from press reports, especially concerning service delivery protests? [The] answer accords with academic writing on revolution: people are stimulated to struggle when there seems to be a turn of the tide of misery. When the masses sense the opening of new possibilities, they gain in confidence and resort to mass action.

Hierdie "wet van eskalerende verwagtinge" verklaar hoekom ANC-ondersteuners en landsburgers wat blootgestel is aan die vrugte van progressiewe regeringsbeleid en n welvaartstaat nou vinniger en meer omvattende verandering eis, in teenstelling met die konvensionele wysheid dat behoeftevoldoening permanente bevrediging bring. Vandaar die toename in gewelddadige diensleweringsproteste, uitgebreide en voortslepende arbeidsonrus, asook die ontluiking van nuwe progressiewe en (toenemend) radikale politieke akteurs.

 

3. DIE SUID-AFRIKAANSE POLITIEK SE SKUIF NA LINKS

Die ontwaking van 'n nuwe radikale bewussyn in die Suid-Afrikaanse politiek is die noodwendige uitkoms van 'n politieke omgewing waar progressiewe (in plaas van sentristiese) waardes die ideologiese status quo verteenwoordig, en waar die sosio-ekonomiese verwagtinge vinniger ontstaan as wat dit bevredig kan word (Greffrath & Duvenhage 2014). Te midde van so 'n dinamiese en plofbare politieke klimaat word politieke akteurs en partye voor 'n eenvoudige keuse geplaas - herposisioneer ideologies en beleidmatig na links, of kwyn. As gevolg van hierdie realiteit was die nasionale verkiesing in 2014 'n waterskeiding in die Suid-Afrikaanse politiek. 'n Daadwerklike "skuif na links" wat geantisipeer is in die aanloop tot die verkiesing. is bevestig deur die finale uitslae. Waar die ANC (as leidende lid van die drieledige alliansie saam met die SAKP en COSATU) vantevore die enigste noemenswaardige rolspeler in die progressiewe en soms radikale linkervleuel van die Suid-Afrikaanse politiek was, het die Demokratiese Alliansie ook voor die verkiesing takties beleidmatig en simbolies herposisioneer as 'n sosiaal-demokratiese party. Hierdie skuif is voltrek ten koste van die party se klassieke liberale karakter, wat bloot net nie dieselfde aantrekkingskrag en charisma kan opwek in die huidige politieke tydsgewrig nie (sien Van Onselen 2013). Die uitslae het dit bevestig, en die DA se stempersentasie het gegroei van 16% tot 22%. Natuurlik was die duidelikste radikale trompetgeskal van die 2014-verkiesing die debuut van die Economic Freedom Fighters, wat die verkiesingslagveld betree het met skynbaar perfekte tydsberekening. Die party het 'n miljoen stemme ingepalm en sodoende die politieke landskap onherroeplik verander. Vir die eerste keer word die ANC deur opposisiepartye doeltreffend uitgekryt as reaksionêr en n struikelblok tot spoedige sosio-ekonomiese verandering, aldus die ideologiese idioom van die EFF (2015):

The ANC is fundamentally reformist and over the past twenty one years it has been a neoliberal reactionary entity in pursuit of a corrupt nationalist comprador bourgeois nationalism.

Beide die DA en die EFF het tydens die 2016 plaaslike regeringsverkiesings hulle steun suksesvol uitgebou, wat die voltrekking van die linkswaartse skuif in opposisiegeledere bevestig. Dié twee partye het deur middel van pragmatiese samewerking daarin geslaag om die ANC in die metro's van Nelson Mandelabaai, Johannesburg en Pretoria te ontsetel.

Dit beteken egter nie dat die ANC verwyderd staan van sodanige radikale getyverandering nie. Ingevolge die NDR word die "struggle" vir Suid-Afrikaanse bevryding voltrek in twee fases. Die eerste fase was die suksesvolle politieke oorname van mag in 1994 en die grondwetlike demokrasie wat daaruit voortgespruit het. Binne die verwysingsraamwerk van die NDR word hierdie oorgang (tesame met die 1996-grondwet) beskou as 'n politieke kompromie wat aangewend is om politieke mag te bekom. Die grondwet word beslis nie beskou as die onaantasbare hoeksteen van n outentieke Suid-Afrikaanse Rechtsstaat nie, en ook nie verhewe bo die party nie - die ANC hou vol dat "the constitution and the state system provide the requisite wherewithal to implement the objectives of the NDR" (ANC 2007). Die eerste fase behels ook die verowering van die sogenaamde "levers of power" van die staat en staatsinstellings, deur middel van kaderontplooiing, demografiese transformasie en die toenemende vervlegting van party en staat. President Zuma se uitlatings dat die ANC eerste geplaas moet word, voor landsbelang (Quintal 2015), is gegrond op hierdie ideologiese beskouing.

Met verwysing na die verstryking van die eerste fase verduidelik die ANC die volgende:

[...]our first transition embodied a framework and a national consensus that may have been appropriate for political emancipation, a political transition, but has proven inadequate and inappropriate for our social and economic transformation phase. (Radebe 2012)

Gevolglik word n nuwe, tweede fase van die NDR aangevuur deur "a vision for a second transition that focuses on the social and economic transformation of South Africa over the next 30 to 50 years" en wat klem plaas op "the character and values of the ANC as a revolutionary peoples' movement" (ANC 2012:4). Hierdie visie word voltrek deur die ANC se vyf "key priorities" in die beleidsarena, naamlik gesondheid, onderwys, landelike ontwikkeling en grondhervorming, werkskepping, en die stryd teen misdaad (Zuma 2014). Hierdie tweede, sosio-ekonomies rewolusionêre fase is die dryfkrag agter hernude pogings tot grondhervorming, -onteiening en -ontneming, en versnelde swart ekonomiese bemagtiging na die party se 2012-Mangaungkonferensie (Jeffery 2015).

As gevolg van die linkswaartse skuif binne die ANC asook die opposisiepolitiek het die Suid-Afrikaanse politieke landskap n verandering ondergaan sodat dit nou tot n groot mate n speelveld van radikale wedywering verteenwoordig.

 

4. DIE ONTSTAAN, BETEKENIS EN VERSTRYKING VAN DIE POST-APARTHEIDSTYDPERK

Tesame met die skuif na links in die geïnstitusionaliseerde politiek, vind daar 'n ewe ingrypende verandering in die psige van die Suid-Afrikaanse samelewing plaas. Welke fenomeen op hierdie stadium die rol vervul van oorsaak of gevolg is nie duidelik nie, maar dit blyk dat die radikalisering van die politieke bestel hand aan hand gaan met die afswering van die postapartheidstydsgees en 'n postkoloniale ontwaking. Alhoewel laasgenoemde verband hou met 'n bepaalde politieke klimaat, is dit 'n meer diepliggende en potensieel ingrypende fenomeen waarvan die invloed verder strek as net die politiek.

Daar is toenemend tekens dat die Suid-Afrikaanse postapartheidsnarratief besig is om stoom te verloor (sien BBC News 2015; Business Day 2016; Jadoo 2016; Haffajee 2015). Tog is dit steeds belangrik om die inhoud van die postapartheidsbegrip te verken, veral omdat die postkoloniale ontwaking ten dele as n reaksie teen postapartheid beskou kan word. Sentraal tot die uitpak van die postapartheidsbegrip is die feit dat die "post-" voorvoegsel nie dui op bloot dít wat kronologies na apartheid gevolg het nie, maar eerder op 'n poging om die wesenlike teenoorgestelde uitkoms van n apartheidsamelewing te bewerkstelling. Die oorsprong van hierdie projek is te vinde in die unieke politieke tydsgewrig van die vroeë negentigerjare.

Op die vooraand van apartheid se afskaffing was daar twee deurslaggewende internasionale realiteite wat verreken moes word. Eerstens was die Koue Oorlog verby, die kommunisme is verslaan en die liberaal-demokratiese-vryemarkdrieledigheid het hoogty gevier. Tweedens was die politieke ontwikkeling en verval van postkoloniale Afrika n alombekende en diepbetreurde realiteit. Vir 'n bevrydingsbeweging wat daarna gehunker het om as regerende party die land uit isolasie te bring en te midde van applous weer n deel te word van die internasionale orde, was hierdie twee realiteite bepalend gewees. Dit het beteken dat, in teenstelling met die ANC se ideologiese beginsels, n vryemark- en neo-liberale ekonomiese houding ingeneem moes word en dat 'n nuwe regering homself sou moes toespits op versoening, eerder as vergelding. Volgens die ANC (2000) se eie formulering:

Our transition took place in the context of a dynamic and changing political process with the end of the Cold War and the collapse of the socialist community of states on the one hand and the social and economic realities of globalisation, on the other hand... We accomplished a qualitative element [lees "eerstefase"] of the National Democratic Revolution [but] the balance of forces at the time dictated that the path to the full transfer of power would be protracted and tortuous.

Hierdie koers was egter in stryd met militante en radikale denkstrome binne die party wat n ander uitkoms ten tyde van apartheid se ondergang verwag het. Gevolglik is die voorhoedeparty van n werklike rewolusie ontneem, en so ook die bevrydingsvegters wat die materiële en simboliese infrastruktuur van wit bevoorregting wou vernietig om n gesuiwerde, nuwe orde in te lyf. In die plek van rewolusionêre verandering was daar die Waarheid- en Versoenings-kommissie, n onderhandelde grondwet en n nuwe, burgerlike nasionalisme gebaseer op versoening en vergifnis - nie n volwaardige, radikale en militante Afrika-nasionalisme nie, maar 'n gesaniteerde reënboognasionalisme - wat Jeremy Cronin (1999) destyds beskryf het as "a candy-coated myth of peace". Dit is na hierdie teenstrydigheid en teleurstelling wat Mbembe (2015) verwys as hy skryf dat "This is the only country on earth in which a revolution took place which resulted in not one single former oppressor losing anything".

Daar word vandag erken dat die versoeningsgerigtheid van die party en regering in die onmiddellike postapartheidsjare grootliks te danke was aan die invloed van Nelson Mandela en sy persoonlike en politieke statuur, maar selfs Mandela se nalatenskap word nou toenemend krities bevraagteken (sien Hlope 2015). Die radikale EFF se Julius Malema het sover gegaan om te verklaar dat "The Nelson we celebrate now is a stage-managed Mandela who compromised the principles of the revolution, which are captured in the Freedom Charter" (aangehaal in Meintjies 2015). Dit is egter belangrik om te erken dat die ANC se ideologiese kern ook nooit voorsiening gemaak het vir dié tipe postapartheid-reënboognasionalisme nie.

Vir die ANC was dit tydens die struggle-jare deurgaans belangrik om die stryd teen apartheid te vereenselwig met die antikoloniale winde van verandering wat die res van die Afrika-kontinent beleef het. Vandaar die deftige konseptualisering van apartheid as "colonialism of a special type" (oorspronklik in SAKP 1962, en gevolglik in ANC 1987 en andere). Met die kwyn van Mandela se wesenlike invloed in die party teen die laat 1990's het die ANC begin heroriënteer na n ortodokse Afrika-nasionalistiese beskouing wat meer belyn was met die progressiewe sosialistiese karakter van die party se kernideologie. Die aggressiewe (dog dikwels ondoeltreffende) implementering van beleid soos Swart Ekonomiese Bemagtiging, regstellende aksie en 'n beheptheid met die nabootsing van rassedemografie op soveel terreine as moontlik, was tekenend van die verskuiwing vanaf versoening en burgerlike nasionalisme tot 'n nouer gedefinieerde etniese Afrikanisering. Vir die politieke elite wat hierdie agenda gedryf het, het hierdie periode n versnelling van die moontlikhede tot selfverryking verteenwoordig. Die geskiedenis sal moontlik leer dat dit tydens hierdie tydperk in die vroeë 2000's was dat herhaalde politieke skandale en korrupsie tot so 'n mate toegeneem het dat die burgery grootliks gedesensiteer is teenoor politieke knoeiery en vergrype. Dit was ook tydens hierdie tydsgewrig dat die eerste saadjies van 'n egte postkoloniale Suid-Afrika begin ontkiem het, soos vervolgens in hierdie artikel bespreek sal word.

Ter afsluiting van hierdie punt is dit belangrik om weer te beklemtoon dat die werklike postapartheidstydperk nie net dít was wat na apartheid gevolg het nie, maar inderdaad dit wat gepoog het om die antitese van apartheid te vergestalt. Waar apartheid gefundeer was op beginsels van uitsluiting, segregasie en diskriminasie, is die postapartheidsetos gebou op waardes van inklusiwiteit, integrasie en versoening - dit het, met ander woorde, gepoog om 'n "nuwe Suid-Afrika" te vergestalt wat die wesenlike teenoorgestelde was van die verlede. Vandag is dit duidelik dat so n postapartheidsbedeling nooit werklik gekonsolideer is nie en dat die unieke gees wat dit veronderstel het, ook nie blywend kon wees nie. Veral onder radikale en studentegeledere word die postapartheidsbegrip afgemaak as n mislukking en n onreg op sigself. Die mees kragdadige uitdrukking van hierdie gevoel brandmerk selfs vir Mandela as 'n verraaier van progressiewe swart belange - 'n voorheen ondenkbare beswaddering van die struggle se heiligste ikoon.

 

5. DIE ONTLUIKING VAN 'N POSTKOLONIALE REALITEIT

Met die uitfasering van die postapartheidsperiode is Suid-Afrika besig om n postkoloniale era te betree. Die afgelope dekade getuig van n sosiopolitiese omgewing wat al meer die bekende postkoloniale realiteit van ander state in Afrika weerspieël (Piper 2009:105). Politieke konflik is alomteenwoordig, omdat disfunksionele politieke instellings nie kan (of wil) bemiddel tussen politieke behoeftes en aansprake nie - oorweeg byvoorbeeld die parallelle tussen gewelddadige diensleweringsproteste op straat, en die skermutselinge in die Nasionale Vergadering.

Politieke leiers word lamgelê te midde van die oorweldigende uitdagings van die staat en samelewing, en n nimmereindigende kringloop om partylojaliteit te konsolideer. Staatsinstellings se kapasiteit word dermate uitgehol dat daar toenemend na 'n "disfunksionele" en "gekweste" staat verwys word (sien Oosthuizen 2016). Intussen groei die geledere van die armes en verontregtes en word gewelddadige protes n aanvaarde en alledaagse wyse van politieke deelname. Dit weerspieël op 'n onheilspellende wyse Huntington (1968:196) se praetoriaanse samelewing, waar "the wealthy bribe; students riot; workers strike; mobs demonstrate; and the military coup". Sodanige frustrasie vind egter nie net n uitlaatklep in gewelddadige protes nie, maar ook in die identifisering van 'n "ander" waarop blaam geplaas kan word vir onvervulde verwagtinge en terugslae. Gevolglik word buitelanders van ander Afrikastate geteiken in xenofobiese aanvalle, terwyl rassespanning en onderlinge blamering onder Suid-Afrikaners toeneem. Die versoeningsgees van die postapartheidstydperk is weliswaar verby. Die interlude wat Suid-Afrika uitgesonder het as n "wonderwerk", het verstryk, en die kenmerkende sosiopolitiese patrone en tendense van die postkoloniale tree al sterkter na vore.

Net soos met die postapartheidsbegrip, lê die betekenis van die postkoloniale veel dieper as bloot dít wat outomaties na kolonialisme ontstaan. Die postkoloniale het 'n doelbewuste, krities-konseptuele inhoud wat veel meer omvangryk is as die blote verloop van tyd. Ter illustrasie hiervan verskaf Mazrui (1996:28) 'n insiggewende perspektief:

We used to think that decolonization consisted of the nationalist struggle against colonialism, the granting of independence, and the replacing of colonial symbols of authority with national flags and national anthems. Decolonization was complete, we thought, when colonially educated members of the African elite, the author included, came to the fore, and when some of us [.] inherited the reins of the colonial state from our colonial masters. The question that has arisen lately, however, is whether real decolonization is not the winning of formal independence, not the changing of the guard on independence day, the raising of new flags, or the singing of new national anthems, but the collapse of the colonial state itself, the cruel and bloody disintegration of colonial structures. Liberation and decolonization can no longer be equated.

Wat Mazrui hier oorweeg, is of die toksiese nalatenskap en "strukture van oorheersing" van kolonialisme enigsins verwyder kan word alvorens dit nie "gesuiwer" word nie - deur bloed, indien nodig. In hierdie opsig eggo Mazrui die denke van vroeëre antikoloniale denkers soos Guevara en Fanon se tipering van geweld as onontbeerlik in die verloop van dekolonisering. Sartre skryf byvoorbeeld in die voorwoord tot The Wretched of the Earth (Fanon 1967:21) dat:

He [Fanon] shows clearly that this irrepressible violence is neither sound and fury, nor the resurrection of savage instincts, nor even the effect of resentment: it is man recreating himself. (eie klemplasing)

Volgens hierdie denke kan n egte en outentieke postkoloniale samelewing net verrys uit die puin van n verwoeste kolonialisme, soos n spreekwoordelike feniks uit die as. Vir die voornemende erfgenaam van hierdie bedeling lê daar dus 'n plig om die simboliese, geestelike en materiële manifestasies van koloniale instellings te vernietig, en in sy/haar eie gelykenis te herskep. Dit beteken, tot 'n mindere of meerdere mate, die afswering van "die Weste" (immers die oorsprong van kolonialisme) en die voltrekking van verinheemsing en Afrikanisering (Zabus 1995:315) asook die verwerping van hegemoniese "whiteness" en die herontdekking van swart bewussyn (Biko 1978:68).

Die 2014 nasionale verkiesing het die politieke mondigwording van die sogenaamde vrygebore generasie verteenwoordig. Van hierdie generasie moet daar die volgende verreken word: hulle het nie die geleefde ervaring van die einde van apartheid, die demokratiese oorgang en die postapartheidsversoeningsgees nie; die meeste van hulle het, ten spyte daarvan dat hulle vry gebore is, in armoede grootgeword; en hulle is nou oud genoeg om die politieke stelsel te konfronteer met hulle eise van behoeftebevrediging. Verder beskou baie vrygeborenes die voortslepende sosio-ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika as n mislukking van post-apartheidspolitiek.

 

 

Hierdie sosio-ekonomiese en politieke realiteite maak dié generasie veral vatbaar vir die logika van radikale politieke akteurs. Sodanige uitkoms is egter ver verwyder van die hoop wat gekoester is van 'n jeug wat onder 'n demokratiese bestel gebore is en wat sodoende outomaties (hetsy deur middel van gerieflike geheueverlies of histories-kulturele ontkoppeling) onaangeraak sal wees deur apartheid. In hierdie verband meen Ferial Haffajee (2015) dat:

We have a lot of South Africans, I think more than we would care to acknowledge or admit, who really believe that the Mandela-era, the rainbow nation, the transition from apartheid to democracy hasn't really meant anything.

Dit is op hierdie stadium moeilik om akkuraat te bepaal wat die nagevolge gaan wees van hierdie ontnugtering van die vrygeborenes. Dit is egter duidelik, na afloop van #FeesMustFall, dat dit een van die toonaangewende invloede gaan wees in die politieke landskap vir die voorsienbare toekoms.

 

6. TENDENSE VERVLEG: RADIKALE POLITIEK, POSTKOLONIALISME EN DIE AANSLAG OP DIE VERLEDE

Tot dusver is daar klem geplaas op twee afsonderlike maar verwante tendense, naamlik die radikalisering van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing en die aanvang van wat beskryf kan word as n postkoloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse samelewing. Tans aanskou ons hoe die onderskeie dinamikas van die politieke, staatkundige en samelewingsdomeine vervleg, asook hoe die twee strominge mekaar beïnvloed, aandryf en hervitaliseer op verskeie ander terreine - insluitend die universiteitswese.

Bogenoemde is tans duidelik op die vlak van politieke simboliek te siene. Met die noodsaak vir versoening gegrond in die postapartheidsverlede, word die oorblyfsels van koloniale en apartheidsimboliek opnuut in die visier gestel. Om dié rede het die #RhodesMustFall-inisiatief so vinnig momentum gegenereer, en is die gees van studenteprotes so effektief nageboots op ander universiteite en kampusse. Terselfdertyd is ander standbeelde regoor die land weens koloniale of apartheidsassosiasies beskadig. In die proses word die koloniale erfenis vir die eerste keer daadwerklik afgebreek en verwoes - nie verdra deur vergifnis en versoening nie. Tog strek hierdie beweging veel verder as net die simboliese. Ook op die terrein van die politiek kan mens verwag dat die radikale impuls sal versnel en verdiep. Nuwe politieke akteurs sal opportunisties inspeel op die eise van 'n vervreemde jong generasie, terwyl die ANC die tweede fase van die NDR met meer dringendheid sal aanpak in die hoop om steun te behou. Sake wat opnuut onder die politieke vergrootglas geplaas gaan word, sluit in die "resilient faultlines" (ANC 2012:7) van grondhervorming, voortdurende ekonomiese ongelykheid, rassespanning en die plek en rol van minderhede.

6.1 Die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel

Die bogenoemde dinamika en tendense het n beduidende invloed nie net op die politiek van die dag nie, maar ook op die breër Suid-Afrikaanse staatkundige bestel. Max Weber (1947:156) het die moderne staat gesaghebbend gedefinieer as 'n administratiewe en wetlike orde wat oor 'n monopolie van legitieme geweld beskik binne 'n vasgestelde grondgebied en wat daarvolgens bindende gesag uitoefen. LJ du Plessis (1941:3) definieer die staat, meer spesifiek ten opsigte van sy regeerkundige doel, as 'n organisasie van mense in die samelewing, 'n "eenheidsreëling" gekenmerk deur die onderskikking van die burgery tot n heersende elite.

In die essensie van die staat as "eenheidsreëling" of "ordereëling" ressorteer die menslike belang aan oorlewing en sekuriteit in die kern. State het deur die loop van die geskiedenis hierdie belang op andersoortige wyses nagestreef, dikwels gerig deur n bepaalde ideologie (geïnterpreteer deur die heersende elite) in die verwesenliking van n ideaaltipiese gemeenskaplike bestaan. In Suid-Afrika was apartheid voorheen so n ideologie, terwyl die NDR tans hierdie funksie verrig. Die kerneienskappe van die NDR as ideologie is reeds bespreek en daar is aangedui hoe die versmelting van party en staat sentraal staan in daardie allesomvattende transformasieprojek. Hierdie dinamika het reeds n uitwerking op die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel gehad, waarvan die totstandkoming van n ambisieuse welvaartstaat die vernaamste voorbeeld is. Tog is dit so dat die ANC se transformatiewe doelwitte op staatkundige vlak ook belemmer is op talle terreine oor die afgelope twintig jaar. Die mislukkings rondom sleutelkwessies soos landelike ontwikkeling en grondhervorming dui op n gebrek aan institusionele vermoëns in die uitvoering van makrotransformasiedoelwitte. Sodanige tekortkominge in staatsvermoë beïnvloed ook toenemend die staat se vermoë om openbare goedere aan burgers te voorsien, wat insluit basiese dienslewering, gesondheidsorg en veiligheid en sekuriteit - funksies wat as deel geag word van die staat se kernmandaat. As gevolg hiervan word die staatkundige bedeling deur sommige bestempel as "disfunksioneel", met Greffrath (2015:354) wat argumenteer dat verdere staatsverval waarskynlik sal volg, gegewe die duidelike omvang van disfunksionaliteit in Suid-Afrika se politieke en staatsinstellings.

Die problematiek van verval en disfunksionaliteit in die Suid-Afrikaanse staatsbestel word tans op die spits gedryf deur die eskalerende verwagtinge van die burgery en die veeleisende aard van strukturele transformasie. Laasgenoemde verg nie bloot funksionerende instellings nie, maar "buitengewone moeite en insig" vanuit politieke en staatsinstellings (Human 1998:23). Daar kan derhalwe gevra word: Hoe affekteer hierdie staatkundige vraagstuk Suid-Afrikaanse universiteite as instellings, wat óók openbare goedere lewer en óók tot 'n mate as staatsinstellings funksioneer?

6.2 Die universiteit in 'n postkoloniale Suid Afrika

Alvorens die moontlike gevolge van die huidige politieke klimaat op universiteite bespreek word, is dit eerstens nodig om die rol van die universiteit in die samelewing kortliks te omskryf. Daar is al baie oor hierdie tema geskryf, met konflikterende beskouings oor die aard, funksies en samestelling van die ideale universiteit (sien byvoorbeeld Kerr 1963; Newman & Turner 1996; Maskell & Robinson 2001). Konflik bestaan dikwels tussen voorstanders van "tasbare" en "bruikbare uitsette" en "ontwikkeling" as uitkomstes van universiteitsopleiding en navorsing, teenoor diegene wat die meer abstrakte en kwalitatiewe voordele van universiteite beklemtoon, soos 'n dieper verstaan van die mensdom en die vermoë om onbeperkte ondersoek in 'n spesifieke rigting na te streef. Die eersgenoemde beskouing word dikwels deur regeringslui, politici, die privaat sektor en, toenemend, universiteitsbesture gehuldig, terwyl laasgenoemde ondersteun word deur akademici, veral vanuit die geledere van die geesteswetenskappe en kunste. Gevolglik ontstaan daar wrywing tussen uitkomste soos "relevansie", "impak" en "kommersia-lisering" aan die een kant, en waardes soos "weetgierigheid", "insig" en "Bildung" aan die ander kant. Hierdie dichotomie van universitêre beskouings figureer gereeld in debatte oor die rol en funksies van universiteite, ook in ontwikkelende state, waar die behoefte aan materiële "uitkomste" ter bevordering van nasionale prioriteite dikwels ten koste van die minder instrumentele voordele van hoër onderwys gepropageer word. Wat egter selde bevraagteken word, is die sentrale en definiërende eienskap van 'n universiteit - 'n eksplisiete kennistaak. Laasgenoemde word goed geïllustreer in Collini (2012:7) se beskrywing van die minimum kriteria vir n universiteit:

1. Dit moet n vorm van naskoolse opvoeding bied, waar "opvoeding" verder strek as bloot professionele opleiding.

2. Dit moet n vorm van gevorderde geleerdheid bevorder waarvan die inhoud nie gerig is op onmiddellike praktiese aangeleenthede nie.

3. Sodanige aktiwiteite moet bedryf word in meer as een geleerde dissipline of 'n eng-gedefinieerde groep dissiplines.

4. Die instelling moet oor n mate van outonomie beskik sover dit intellektuele en kennisaktiwiteite betref.

Hierdie kennistaak word onderskraag deur die beginsel van intellektuele of akademiese vryheid, wat op sy beurt beskerm word deur n gesonde mate van institusionele outonomie, soos hierbo gemeld. Om terug te keer na die fokus van hierdie artikel, moet die vraag gevra word: Wat is die implikasies vir hierdie kernkriteria en die kennistaak van plaaslike universiteite, gegewe die huidige Suid-Afrikaanse staatkundige omgewing en onlangse studenteprotes?

Wat die staatkundige omgewing betref, is daar twee beduidende tendense wat op die universiteitswese kan inspeel. Die eerste tendens behels die ideologiese karakter van die ANC, wat sterk klem plaas op die samesmelting van party en staat. Die gevolg is dat staats- en semistaatsinstellings toenemend volgens partypolitieke (en dus ideologiese) vereistes bestuur word, hetsy deur kaders of deur regeringsdiktaat. Insover universiteite se unieke en waardevolle samelewingsrol gefundeer is op die vrye nastreef van kennis en geleerdheid, het ideologiese beheer n skadelike impak op die universiteitswese. Daar bestaan dan n werklike gevaar dat universiteite toenemend geag sal word as verlengstukke van die staat, en dat hulle staatsfunksies moet verrig, gerig volgens staatsprioriteite. In hierdie verband is die Wysigingswet op Hoër Onderwys, wat op 24 Mei 2016 deur die Nasionale Vergadering aanvaar is, n moontlike voorbeeld van toenemende staatsbeheer oor universiteite. Ingevolge die Wysigingswet sal die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding bykomende bevoegdhede verkry wat insluit die vasstelling van transformasieteikens en die daarstelling van meganismes om hierdie teikens af te dwing, die mag om interne universitêre prosesse en prosedures te bepaal, en die mag om fondse van universiteite te weerhou onder sekere omstandighede (sien DvHOO 2015). Volgens die Departement Hoër Onderwys en Opleiding is die wysigings nie daarop gemik om die institusionele of akademiese outonomie van universiteite aan te tas nie, terwyl opposisiepartye vrees dat die veranderinge as Trojaanse perd gebruik sal word om die bestuur van universiteite te verpolitiseer (Presence 2016; Bozzoli 2016).

Tweedens, en verbandhoudend met toenemende staatsintervensie, behels die tendens van Suid-Afrikaanse staatsverval dat alternatiewe instellings en hulpbronne gemobiliseer moet word om sosio-ekonomiese vraagstukke te hanteer. As instellings wat in openbare belang funksioneer, is universiteite besonder vatbaar vir hierdie tipe institusionele "herappropriasie" vanaf die tradisionele kennisfunksie tot n samelewingsdiensrol. Dit word in die algemeen aanvaar dat samelewingsdiens deel van n universiteit se kernbesigheid uitmaak, maar hoofsaaklik insover dit deel vorm van die instelling se primêre kennistaak. Deur n materiële maatskaplike welvaartfunksie egter voorop te stel word die kennistaak van n universiteit misken, sowel as die unieke institusionele- en vaardigheidsprofiel wat universiteite met 'n unieke voordeel toerus in die uitvoering van hierdie kennistaak. Daar is inderdaad 'n legio ander staats- en samelewingsinstellings wat omsien na maatskaplike kwessies, en om universiteite onder hierdie geledere te reken as staatsinstrument is n denkfout wat die unieke doel en bydrae van universiteite ondermyn.

Tog is dit duidelik vanuit die 2015/16-studenteprotes dat daar toenemend van universiteite verwag word om maatskaplike funksies en voordele te bied. Die studente-eise van die #FeesMustFall-veldtog op die Universiteit van die Witwatersrand sluit in dat klas- en registrasiegelde in geheel afgeskaf moet word; agterstallige studenteskuld afgeskryf moet word; oorskietkos gratis aan arm studente verskaf moet word; en dat akkommodasie sonder enige betaling onvoorwaardelik ten tyde van registrasie beskikbaar gestel moet word (Makitla 2016). By die Universiteit Kaapstad het die #FeesMustFall-beweging in Februarie 2016 geëis dat elke student van kos en akkommodasie voorsien word (Narsee 2016). Selfs die Universiteit van Fort Hare het tydens dié instelling se hoëprofiel-eeufeesvierings in Mei 2016 onder gewelddadige studenteprotes deurgeloop oor kwessies soos studieskuld en gratis kosvoorsiening (Ngubeni & Koyana 2016). Terselfdertyd was die kwessie van uitkontraktering van universiteitswerkers prominent in feitlik alle studenteprotesbewegings. Alhoewel die #FeesMustFallen ander bewegings ook akademiese griewe gehad het, is dit oorskadu deur simboliese en sosio-ekonomiese eise. Dit blyk dat terwyl die universitêre sektor se verhouding met die staatkundige bestel toenemend onder druk geplaas word deur politieke en regeerkundige veranderlikes, daar verder van universiteite verwag word om maatskaplike kwessies te takel en sosio-ekonomiese verligting aan studente en werknemers te verskaf. Wat die impak van hierdie tendense op die universiteit se kennisfunksie gaan hê, is tans onduidelik - maar beperkte hulpbronne in die hoëronderwyssektor sal moeilike kompromieë afdwing in dié verband.

Terugskouend hoef dit geensins te verbaas dat die eerste salvo van 'n ontluikende postkoloniale bedeling op universiteitskampusse afgevuur is nie. Dit het egter nie noodwendig gebeur omdat universiteite tradisioneel "ruimtes vir kritiese argumentasie en strydende waardes" is nie (Pusser 2005). Veel eerder was dit as gevolg van demografiese en sosio-ekonomiese redes dat universiteite bestem was om die episentrum van n radikale en postkoloniale ontwaking te wees.

Ten eerste is dit belangrik om te onthou dat die vrygebore en nou postkoloniale generasie bloot aanspraak maak op dit wat voorheen belowe is in die vryheidsmanifes - "the doors of learning and culture shall be opened!" (ANC 1955). Hierdie belofte word nie deur hulle geïnterpreteer met n klousule van onderhandeling of met voorwaardes nie. n Tweede rede hou verband met die inherente karakter van universiteite as elite-instellings (Calhoun 2006:14). Die eksklusiewe karakter van universiteite spruit uit twee voor die handliggende faktore. Eerstens word aansoekers op grond van vasgestelde kriteria volgens meriete gekeur en aanvaar. Dit geskied enersyds omdat universiteite nie logisties onbeperkte studentegetalle kan toelaat nie, en andersyds as gevolg van die basiese akademiese vermoëns waaroor studente moet beskik alvorens toelating toegestaan word. Tweedens is die kostes verbonde aan hoër onderwys hoog, en is dit gevolglik nie binne die finansiële bereik van elke aspirant nie. Nietemin, te midde van n radikale en postkoloniale tydsgees waarin die status van die elite en die voortgesette voorregte van die verlede bevraagteken word, kom die inherent eksklusiewe karakter van die universiteit toenemend onder skoot.

Verder beskik die meeste Suid-Afrikaanse universiteite (en beslis die mees gesogte van dié instellings) oor 'n noodwendige Westerse institusionele etos, met dominante taal-kulturele komplekse wat óf 'n wit Engelse óf wit Afrikaanse erfenis weerspieël. Binne 'n radikale postkoloniale paradigma verteenwoordig sulke universiteite die institusionele voortsetting van kolonialiteit, in beide die fisiese en kennisdomeine. Laastens is universiteite openbare instellings wat afhanklik is van staatsbefondsing. Vanuit n radikale beskouing is hierdie nominale openbare karakter van universiteite nie versoenbaar met instellings wat beskou word as sosio-ekonomies en kultureel eksklusief nie.

Kortom vergestalt universiteite die mees ooglopende teikens vir 'n jong generasie wat streef na die radikale hervorming van n ongelyke samelewing en smag na die bemagtiging wat met tersiêre opvoeding gepaardgaan. As universiteite (binne die radikale postkoloniale paradigma) dan bydra tot die voortsetting van koloniale patrone van bevoorregting en die marginalisering van arm, jong en swart Suid-Afrikaners, moet dit op rewolusionêre wyse herskep word - hindernisse ten opsigte van toegang moet verwyder word; klasgelde moet geskrap word; institusionele kultuur moet verinheems word; kurrikula moet gedekoloniseer word en ver-Afrikaniseer; universiteite moet instrumente word van maatskaplike ontwikkeling en die akademie moet sigself aktivisties beywer vir sosiale geregtigheid (sien UCT RMF 2015). Gevolglik ontstaan die vraag of daar, binne hierdie paradigma, ruimte is vir 'n Afrikaanse universiteit.

As deel van die radikale studentebeweging oor die afgelope jaar is die plek en rol van Afrikaans as onderrigtaal opnuut onder die vergrootglas geplaas by voorheen Afrikaanse instellings. Terwyl hierdie artikel nie oor taal- of bestuurskwessies gaan besin nie, word daar ten slotte 'n stel kritieke aspekte aangeraak wat die toekoms van Afrikaans sal raak in 'n radikale postkoloniale universiteitsbestel.

Eerstens word die Afrikaanse taal in die radikale postkoloniale paradigma beskou as n koloniale oorblyfsel (spesifiek die taal van "colonialism of a special type"). Hierdie persepsie het as gevolg dat Afrikaans gemarginaliseer word in die openbare domein en dat die bona fides van die taal as onderrigmedium misken word. Die argument dat Afrikaans 'n rol het as n hoë funksionerende taal van wetenskap en onderrig, word bestry met oordrewe politieke standpunte, wat onder meer insluit dat Afrikaans hoofsaaklik dien as 'n middel tot die behoud van wit bevoorregting, asook dat konsentrasies Afrikaanssprekendes "apartheidsenklawes" vergestalt, aldus Blade Nzimande (News24 2014). Sulke ras- of etnies gesentreerde uitlatings oor Afrikaans word gewoonlik in onakkurate stereotipes gefundeer. Volgens sulke stereotipes is n Afrikaanse universiteit outomaties n Afrikaner-universiteit, wat eksklusiewe Afrikanerbelange dien. Hierdie denkfout misken die feit dat die meeste Afrikaanssprekendes bruin is, en dat die bruin gemeenskap ook aanspraak maak op onderrig in Afrikaans.

Tweedens word minderhede toenemend gemarginaliseer in die openbare domein. Omdat openbare instellings grootliks deur die staat befonds word, weerspieël sodanige besteding ook die staat se ideologiese prioriteite. In die konteks van die ANC-regime behels dit die ideologiese voorvereistes van die NDR, en in besonder die konsep van demografiese verteenwoordigend-heid. Gevolglik moet die demografiese samestelling van openbare instellings (soos universiteite) getransformeer word om n vasgestelde verhouding te weerspieël wat voldoen aan die NDR se oogmerk van "nierassigheid". In die praktyk beteken dit dat minderheidsgroepe nêrens in die domein van openbare instellings 'n kultuur- of taalgedefinieerde meerderheid kan vorm nie. Dit sluit natuurlik die moontlikheid tot institusionele differensiasie ook uit, waarvolgens aangewese universiteite na die behoeftes van "nismarkte" kan omsien. Terwyl demografiese verteenwoordigendheid in die meeste staatsinstellings voltrek is oor die afgelope twee dekades, is universiteite die uitsondering. Die noodwendig stadiger pas van transformasie van veral die personeelkorps weens die unieke aard en vereistes van die universiteitswese word egter tans voorgehou as 'n politieke teiken, en aangeval as 'n poging tot die behoud van wit bevoorregting en rassisme in die openbare domein.

Derdens het die amalgamasie van 'n radikale politieke momentum en ontluikende postkolonialisme beteken dat daar toenemend klem geplaas word op die verinheemsing en ver-Afrikanisering van die universiteit se kennisfunksie. Die bedoeling agter sogenaamde dekolo-nisering van die kurrikulum is om vakinhoud, wat gegrond is op 'n Westerse verwysingsraam-werk, meer toeganklik te maak vir die student in die inheemse, Afrika-konteks. Die doel is dus om die geleefde samelewing, kultuur en waardes van die Suid-Afrikaanse student te versoen met die akademiese vakinhoud en daardeur die student te bemagtig tot beter intellek-tuele deelname. Hierdie beginsel is gegrond op geldige aannames, siende dat die heersende wetenskapsbeskouings gefundeer is in n Westerse kultuurparadigma wat nie noodwendig as waardevry of universeel beskou kan word nie. Die najaag van verinheemsing kan ook beskou word as 'n reaksie op intellektuele globalisering en imperialisme wat gereeld aangetref word in regeringskringe, maar nou ook by universiteite, deur slagspreuke soos "Afrika-oplossings vir Afrika-probleme" (Nathan 2013:2) voorkom. Tog bly die besondere praktiese implementering van 'n de- of postkoloniale kurrikulum onduidelik. Terwyl 'n verinheemsde paradigma moontlik in die geesteswetenskappe kan ontwikkel, waar normatiewe veranderlikes n beduidende rol speel, is dit moeilik om n soortgelyke projek in die natuurwetenskappe te voorsien. Indien 'n verinheemsde geestes- of sosiale wetenskappe wel tot stand gebring word, sal dit gedurig moet stry teen die provinsialistiese tendense en intellektuele bysiendheid wat inherent is aan n etnies- of kultureel-gefundeerde wetenskapsbeskouing. Sal Suid-Afrikaanse universiteite hul vermoë om in die internasionale kennisdomein te kompeteer, kan behou of uitbou indien die akademie en institusionele kultuur in hoër onderwys toenemend insulêr ontwikkel en verinheems? Die grootste risiko verbonde aan hierdie proses is egter die ruimte wat geskep word vir die opsetlike ideologiese infiltrasie van die akademie.

Laastens noodsaak die bogenoemde aspekte n heroorweging van n Suid-Afrikaanse universiteitsbeskouing. Gegewe die agtergrond wat reeds geskets is, blyk dit dat die konven-sionele universiteitsbeskouing van 'n geregverdigde elite (d.w.s. meritokratiese) instelling met 'n oorheersende kennistaak, toenemend as polities uitgedien beskou word. Dit is reeds duidelik dat 'n postkoloniale universiteit n meer ontwikkelingsgerigte en aktivistiese karakter sal vergestalt. In hierdie verband is die Noordwes-Universiteit se doelstelling onlangs gewysig tot: "To transform and position the NWU as a unitary institution of superior academic excellence, with a commitment to social justice" (eie klemplasing) (NWU 2016).

Terwyl so 'n universiteit sal dien as 'n instrument van sosio-ekonomiese opheffing, bemagtiging en sosiale geregtigheid, sal dit waarskynlik ook in diens staan van n bepaalde staatsbeskouing of ideologie. Terwyl daar geen twyfel moet wees dat universiteite n ontwikkelings- of samelewingsdiensrol kan vervul nie (inderdaad, meeste universiteite doen dit reeds) kan hierdie funksie nie die primêre bestaansrede van 'n universiteit wees nie. Die akademie en universiteitswese is oor eeue heen evolusionêr geïnstitusionaliseer om n hoogs gespesialiseerde kennisfunksie te vervul, terwyl daar menigte ander instellings bestaan wat ontwikkelings- en opheffingsrolle speel - waarvan die staat die mees bekwame versameling van sodanige organisasies verteenwoordig.

 

7. SLOTPERSPEKTIEF: 'N ALTERNATIEWE UNIVERSITEITSBESKOUING

Die doel van hierdie artikel was om 'n perspektief te verskaf op die huidige Suid-Afrikaanse politieke tydsgewrig en hoe die verbandhoudende sosiopolitiese tendense die Suid-Afrikaanse universiteitswese kan beïnvloed. Twee beduidende tendense is in hierdie verband geïdentifiseer, te wete die radikalisering van die Suid-Afrikaanse politiek en die ontluiking van 'n Suid-Afrikaanse postkolonialiteit. Daar is geargumenteer dat universiteite tans in die episentrum staan van die uitwerking van hierdie tweeledige dinamika in die samelewing.

Gegewe die tendense wat tot dusver in hierdie artikel geïdentifiseer is, mag dit selfs moontlik wees om ten slotte 'n tentatiewe nuwe beskouing van die Suid-Afrikaanse universiteit te postuleer. Aan die hand van die politieke radikalisering en die militante instink wat intrinsiek is tot die postkoloniale jeug (en wat gedemonstreer is tydens die #FeesMustFall-en verbandhoudende veldtogte op verskeie kampusse) is dit moontlik dat universiteite ten minste gedeeltelik 'n metamorfose sal ondergaan vanaf akademiese instellings tot politieke instellings. Hiermee word nie bedoel "polities" ten opsigte van 'n spasie waar robuuste maar verantwoor-delike diskoers en debat plaasvind nie; ook nie ten opsigte van 'n instelling waar teenstrydige intellektuele strominge die degens kruis oor dringende kwessies, in die soeke na oplossings nie. In stede daarvan is dit moontlik dat die universiteit nog n domein gaan word, eerstens, vir die kontestering van mag en, tweedens, die uitoefening van mag in lyn met die ideologie van politieke magshebbers. In beide hierdie uitkomste word universiteite bloot verlengstukke van die politieke domein. In die konteks van so 'n uitkoms, sal akademiese vryheid, universitêre waardes en selfs die kennisfunksie ondergeskik wees aan die tipe ontwrigtende magspolitiek wat reeds te bespeur is in die hoofstroompolitiek.

 

BIBLIOGRAFIE

ANC. 1955. Vryheidsmanifes.Freedom Charter. Soos aanvaar op 26 Junie, te Kliptown. http://www.anc.org.za/show.php?id=72 [31 Maart 2016].         [ Links ]

ANC. 1987. Apartheid South Africa: Colonialism of a SpecialType. http://www.anc.org.za/show.php?id=4518 [23 Maart 2016].         [ Links ]

ANC. 2000. Tasks of the NDR and the Mobilisation of the Motive Forces. Umrabulo, Mei.http://www.anc.org.za/show.php?id=2356 [18 Maart 2016].         [ Links ]

ANC. 2007. Strategy and Tactics of the ANC (As amended at the 52nd National Conference). Johannesburg: ANC Luthuli-huis.         [ Links ]

ANC. 2012. The second transition? Building a national democratic society and the balance of forces in 2012. www.anc.org.za/docs/discus/2012/transition.pdf [22 Maart 2016].         [ Links ]

BBC News. 2016. Why South Africa's born-free generation is not happy. 26 Oktober. http://www.bbc.com/news/world-africa-34570761 [23 Maart 2016].         [ Links ]

Biko, S. 1978. I write what I like. Londen: Bowerdean Press.         [ Links ]

Bozzoli, B. 2016. New Higher Education Amendment Bill threatens academic freedom. 11 Mei, Business Day Live. http://www.bdlive.co.za/opinion/2016/05/11/New-Higher-Education-Amendment-Bill-threatens-academic-freedom1[1 Junie 2016].         [ Links ]

Business Day. 2016. Letter: Rainbow Nation myth. 3 Maart. http://www.bdlive.co.za/opinion/letters/2016/03/03/letter-rainbow-nation-myth [23 Maart 2016].         [ Links ]

Calhoun, C. 2006. The university and the public good. Thesis Eleven, Nommer 84, Februarie 2006: 7-43.         [ Links ]

Collini, S. 2012. What are universities for? Londen: Penguin.         [ Links ]

De Tocqueville, A. 1982. Alexis de Tocqueville on Democracy, Revolution, and Society. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. 2015. Higher Education Amendment Bill. B36-2015. Pretoria: Staatsdrukkers.         [ Links ]

Du Plessis, L.J. 1941. Die Moderne Staat. Pretoria: Pro Ecclesia.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2007. Politieke transformasie as 'n ideologiese denkraamwerk: 'n beleidsdinamiese analise en perspektief. Koers, 72(3):377-404.         [ Links ]

Economic Freedom Fighters. 2015. EFF rejects Zuma's comments that "ANC comes first before South Africa" as utterly ignorant and irresponsible. 8 November. http://effighters.org.za/eff-rejects-zumas-comments-that-anc-comes-first-before-south-africa-as-utterly-ignorant-and-irresponsible/ [ 18 Maart 2016].         [ Links ]

Fanon, F. 1967. The Wretched of the Earth. Harmondsworth: Penguin.         [ Links ]

Greffrath, W. 2015. State dysfunction: The concept and its application to South Africa. Ongepubliseerde proefskrif. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Greffrath, W. & Duvenhage, A. 2014. South Africa and the 2014 national election: a shift to the left?Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 39(2):196-224.         [ Links ]

Haffajee, F. 2015. What If There Were No Whites In South Africa? Johannesburg: Picador Africa.         [ Links ]

Hermann, D. 2013. Affirmative tears. Pretoria: Kraal Uitgewers.         [ Links ]

Hlope, D. 2015. Madiba legacy a liberal construct. Independent Online, 13 Desember. http://www.iol.co.za/sundayindependent/madiba-legacy-a-liberal-construct-1959587 [23 Maart 2016]        [ Links ]

Human, P. 1998. Yenza: A blueprint for transformation. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

Huntington, S. 1968. Political Order in Changing Societies. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

IRR. 2015. Born free but still in chains. Spesiale verslag voorberei deur die IRR. 29 April.http://irr.org.za/reports-and-publications/occasional-reports/born-free-but-still-in-chains-south-africa2019s-first-post-apartheid-generation [31 Maart 2016].         [ Links ]

Jadoo, Y. 2016. Racism "clouds rainbow nation". Citizen, 15 Maart. http://www.citizen.co.za/1033950/racism-clouds-rainbow-nation [23 Maart 2016].         [ Links ]

Jeffery, A. 2015. The Expropriation Bill is back - and it's still unconstitutional. @Liberty-The policy bulletin of the IRR, Nommer 17:1-12.         [ Links ]

Kerr, C. 1963. The Uses of the University. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Makitla, E. M. 2016. Wits "Fees MustFall - Student" Demands. 11 Januarie. http://www.feesmustfall.joburg/2016/01/11/students-demands-2/ [1 Junie 2016].         [ Links ]

Maskell, D. & Robinson, I. 2001. The New Idea of a University. Londen: Haven Books.         [ Links ]

Meintjies, M. 2015. EFF's Malema takes aim at "sellout black billionaires" in Oxford address, Business Day, 26 November. http://www.bdlive.co.za/national/politics/2015/11/26/effs-malema-takes-aim-at-sellout-black-billionaires-in-oxford-address [23 Maart 2016].         [ Links ]

Nathan, L. 2013. African solutions to African problems: South Africa's foreign policy. South African Foreign Policy Initiative nuusbrief, Nommer 51, November 2013: 1-5.         [ Links ]

Narsee, A. 2016. Students demand food and shelter for all at UCT. Times Live, 2 Februarie. http://www.timeslive.co.za/thetimes/2016/02/02/Students-demand-food-and-shelter-for-all-at-UCT[1 Junie 2016].         [ Links ]

Newman, J.H. & Turner, F. 1996. The Idea of a University: Rethinking the Western tradition (herdruk). New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

News24. 2014. NWU Potchcampus an "apartheid enclave" - Nzimande. http://www.news24.com/SouthAfrica/News/NWU-Potch-campus-an-apartheid-enclave-Nzimande-20140926[1 April 2016].         [ Links ]

Ngubeni, N. & Koyana, X. 2016. Violence erupts at Fort Hare amid centenary celebration preparations. Eywtiness News, 17 Mei. http://ewn.co.za/2016/05/19/Fort-Hare-student-protests-hijacked [1 Junie 2016].         [ Links ]

Noordwes-Universiteit. 2016. Strategy / Togamaano / Strategie 2015 - 2025. Beskikbaar op die NWU intranet [3 Junie 2016].         [ Links ]

Oosthuizen, J. 2016. US Woordfees: Wat nou, Suid-Afrika? Litnet, 8 Maart. http://www.litnet.co.za/us-woordfees-wat-nou-suid-afrika/[24 Maart 2016].         [ Links ]

Piper, L. 2009. The Zuma watershed: from post-apartheid to post-colonial politics in South Africa. Representation, 45(2):101-107.         [ Links ]

Presence, C. 2016. Controversial Higher Education Amendment Bill passed. Independent Online, 24 Mei. http://www.iol.co.za/news/politics/controversial-higher-education-amendment-bill-passed-2025767 [1 Junie 2016].         [ Links ]

Pusser, B. 2005. Reconsidering Higher Education and the Public Good. Ongepubliseerde referaat. Universiteit van Virginia, Charlottesville.         [ Links ]

Quintal, G. 2015. The ANC comes first, not the country: Zuma. Times Live, 8 November 2015. http://www.timeslive.co.za/politics/2015/11/08/The-ANC-comes-first-not-the-country-Zuma[2 Junie 2016].         [ Links ]

Radebe, J. 2012. Statement by the head of the ANC NEC policy sub-committee on the release of policy discussion documents, 5 Maart. http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71656?oid =284036&sn=Detail&pid=71656> [6 November 2014].         [ Links ]

SAKP. 1962.The Road to South African Freedom. Londen: Inkululeko Publications.         [ Links ]

Scruton, R. 1982. A Dictionary of Political Thought. Londen: Macmillan.         [ Links ]

UCT Rhodes MustFall. 2015. Uctrhodesmustfall mission statement. Facebook-blad, 25 Maart. https://www.facebook.com/RhodesMustFall/posts/1559394444336048 [1 April 2016].         [ Links ]

Van der Merwe, J.P. 2010. Die Afrikaner se belewing van transformasie en nasiebou in 'n postapartheid Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 50(3):313-326.         [ Links ]

Van Onselen, G. 2013. An erosion of the DA's liberal values? Politicsweb, 21 January. http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71639?oid=351746 &sn=Detail&pid=71639 [18 Maart 2016].         [ Links ]

Zabus, C. 1995. In Ashcroft, Griffiths &Tiffin (reds.). Relexification. Londen: Routledge.         [ Links ]

Zuma, J. 2014. Toespraak gelewer by die New Age/MorningLive besigheidsontbyt oor die ANC verkiesingsmanifes. Nelspruit, 13 Januarie. http://www.politicsweb.co.za/party/on-the-ancs-2014-election-manifesto--jacob-zuma [2 Junie 2016].         [ Links ]

 

 

 

Wynand Greffrath is 'n navorser verbonde aan die Navorsingsfokusarea: Sosiale Transformasie op die Potchefstroomkampus van Noordwes-Universiteit. Sy navorsingsfokus en belangstellingsvelde sluit in politieke instellings, institusionalisering, die staat in die ontwikkelende en postkoloniale wêreld asook staatsverval.
Wynand Greffrath is a researcher in the Research Focus Area: Social Transformation at the Potchefstroom Campus of the North-West University. His research interests include political institutions and institutionalisation, the state in developing and postcolonial contexts, and state dysfunction.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License