SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número4-1The nature, essence and role of the South African universities in a developing countryRadical post-colonialism and universities in South Africa índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.4-1 Pretoria dic. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-1a3 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing: Enkele strategiese perspektiewe

 

The South African political environment: Strategie perspectives

 

 

André Düvenhage

Navorsingsfokusarea: Sosiale Transformasie Noordwes-Universiteit Potchefstroom. E-pos: Andre.Duvenhage@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel het as fokus die rekonstruksie en interpretasie van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing in 2016 en die strategiese implikasies hiervan. Daar is konsensus vanuit talle oorde dat die politieke omgewing in Suid-Afrika tans besig is om meer onstabiel te raak. Daar word selfs van 'n "perfekte storm" gepraat. Uitkomstes van hierdie politieke trajek sluit in patrone van politieke en sosiale onstabiliteit, die sekurokratisering van die staat en 'n postkoloniale dinamika wat homself laat geld met as fokus 'n sterk anti-koloniale en anti-westerste sentiment. Kombinasies van hierdie faktore skep tans 'n omgewing van groot politieke onstabiliteit en onsekerheid met verreikende implikasies vir alle sosiale instellings met inbegrip van hoëronderwysinstellings in die algemeen en universiteite in besonder. Tot onlangs was universiteite slegs op 'n beperkte en soms indirekte wyse blootgestel aan die dinamiese kragte wat hulself in die politieke omgewing begin vestig het. Dit het egter onherroeplik tydens 2015 verander met die #RhodesMustFall en #FeesMustFall veldtogte in samehang met die aandrang op die radikale transformasie van die universiteitsomgewing. Met die finalisering van hierdie artikel het #FeesMustFall 2 begin en is patrone van rewolusionêre geweld besig om drasties te eskaleer en word bykans alle universiteite direk of indirek hierdeur geraak. Verreikende politieke, ekonomiese en sosiale drywers van verandering is tans prominent met as uitkoms n patroon van dinamiese ekwilibrium ("punctuated equilibrium"). Hierdie artikel analiseer die bogenoemde drywers van verandering en die moontlike uitkomstes hiervan. Die implikasies hiervan vir Universiteite word ten slotte toegelig.

Trefwoorde: Politieke onstabiliteit, onderbroke ekwilibrium, sekurokratisering, Suid-Afrikaanse politiek, Universiteite


ABSTRACT

This article is concerned with reconstructing and interpreting the South African political environment in 2016 and the strategic implications thereof. There is currently widespread consensus that the South African political environment is becoming increasingly unstable. Some have even labelled the current political situation "a perfect storm". The resulting outcomes of this state of affairs include patterns of political and social instability, the securocratisation of the state, and a postcolonial dynamic manifesting in anti-colonial and anti-Western sentiments. The manner in which the aforementioned factors interact with each other creates a politically unstable environment with far reaching consequences for public institutions in general, and universities in particular. Until recently, universities were relatively insulated from the dynamic and disruptive political forces in society. This situation changed irrevocably after 2015 with the advent of the #RhodesMustFall and#FeesMustFall campaigns and demands for rapid transformation of the higher education sector. At the time of finalising this paper, a second wave of #FeesMustFall has commenced with revolutionary violence affecting virtually all university campuses across South Africa. Prominent political, economic and social drivers of change currently define a scenario of punctuated equilibrium in the political environment. These drivers, and their possible outcomes, are analysed with specific reference to South African universities.

Key words: Political instability, punctuated equilibrium, securocratisation, South African politics, universities


 

 

1. INLEIDING

Twintig jaar vir 'n nuwe bewind (lees veral bevrydingsbewegings binne 'n postkoloniale konteks) word telkens geassosieer met die moontlikheid van groter makro politieke verandering binne die onderskeie politieke en staatkundige kontekste van state. Nuwe bewinde (bevrydings-bewegings) begin hul glans verloor as gevolg van eiesoortige redes wat soms verband hou met n onvermoë om politieke beloftes suksesvol uit te voer, nuwe belangegroepe wat in die politiek gemobiliseer word, faksiegevegte, etno-kulturele en sektariese belange/geweld en ander patrone van politieke onstabiliteit. Nuwe oorlewingstrategieë moet dan geformuleer word om die bewind(regime), die politieke elite en gepaardgaande leierskap se belange te beskerm. Soms manifesteer bogenoemde in vorme van niedemokratiese politieke verandering en selfs patrone van sekurokratisering en "praetoriaanse politiek". Praetoriaanse politiek (in navolging van die denke van SP Huntington) beklemtoon 'n omgewing van politieke onstabiliteit waarin die rol van veiligheidsinstellings meer prominent word en selfs tot 'n vorm van regering deur sekurokrate aanleiding kan gee.1 Aspekte van bogenoemde het na vore gekom in postkoloniale kontekste in state soos Zimbabwe, Zambië, Burundi, Nigerië en Kenia. Sedert Jacob Zuma die politieke bewind in Suid-Afrika oorgeneem het, het bogenoemde perspektief ook groter betekenis begin ontwikkel binne die Suid-Afrikaanse politieke omgewing en was die uitspeel hiervan aanvoelbaar op elke terrein van die groter samelewing met inbegrip van Universiteite.

Politici, akademici, kommentators en denkers is dit eens dat die politieke omgewing in Suid-Afrika tans besig is om drasties te versleg. In sommige kringe word daar selfs gepraat van en bespiegel oor die moontlikheid van 'n "perfekte storm" (Zibi 2016:2-5). Hiervan getuig sake soos staatkundige en institusionele verval, konflikte en gevegte binne die regerende alliansie, n onderpresterende ekonomie, eskalerende sosiale uitdagings waaronder armoede, werkloosheid en ongelykheid, korrupsie en nepotisme en hoë misdaadvlakke - om enkele sake te beklemtoon. Uitkomstes hiervan sluit in patrone van politieke onstabiliteit (diens-leweringsproteste, arbeidsonstabiliteit), sosiale onstabiliteit (xenofobie en vigilantisme, ras- en etniese konflikte), die sekurokratisering van die staat en 'n postkoloniale dinamika wat homself laat geld met as fokus 'n sterk anti-koloniale en anti-westerse sentiment. 'n Einde van 'n politieke fase (die reënboogfase) is betree - een wat na my oordeel baie negatiewe elemente en "onopgeloste kwessies" na die oppervlak gaan bring en waarvan die huidige onstabiliteit slegs die begin is.

Vir byna twintig jaar was universiteite slegs op 'n beperkte en soms indirekte wyse blootgestel aan die dinamiese kragte wat hulself in die politieke omgewing begin vestig het. Hierdie toedrag van sake het egter drasties tydens 2015 verander met die #RhodesMustFall / #FeesMustFall-kampanjes in samehang met die aandrang op die radikale transformasie van die universiteitsomgewing met besondere verwysing na veral die voormalige Afrikaans-sprekende Universiteite. Hoewel universiteite nooit heeltemal los gestaan het van die groter politieke omgewing nie, het die gebeure van 2015 die universiteitsomgewing n sentrale politieke fokus gemaak en het dit myns insiens ook n einde gebring aan n bepaalde fase in die geskiedenis van universiteite in Suid-Afrika. Hierdie tendens staan in die teken van die einde van die reënboognasie in Suid-Afrika en 'n bedeling waarin staatsintervensie, op ander terreine van die samelewing, meer prominent gaan wees. Wat duidelik is, is dat universiteite toenemend die politieke, ekonomiese en sosiale werklikhede van die groter samelewing gaan reflekteer met 'n sterker ontwikkelingsoriëntasie as eis. Die verstaan van 'n komplekse politieke dinamika is daarom van kernbelang vir enige toekomsbeplanning van universiteite aangesien die oorlewing van universiteite (ten minste hoe dit histories beslag gekry het en ontwikkel het) myns insiens hier ter sprake is.

Binne die raamwerk van die groter spesiale tema van hierdie tydskrif wat konsentreer op studente-onluste en die implikasies vir Afrikaans aan hoëronderwysinstellings fokus hierdie aanbieding op n rekonstruksie en interpretasie van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing (2016) en wat dit impliseer vir universiteite in die algemeen en in besonder vir Afrikaanse universiteite.2 Aangesien talle aanbiedings fokus op laasgenoemde aspek (universiteite), val die soeklig in hierdie aanbieding op die verstaan van die Suid-Afrikaanse politieke konteks soos wat dit tans daar uitsien.3 Die metodologiese benadering is 'n makro-verkenning van die politieke omgewing en die soms moeilik voorspelbare dinamika wat hier aanwesig is. Dit sal wel as 'n konklusie herlei word na die betrokke universiteitsomgewing met perspektiewe vir Afrikaanse Universiteite.

Fokuspunte van die navorsing sluit in:

Teoretiese vertrekpunte en analitiese raamwerk.

Die drywers van politieke verandering.

Die uitkomstes van politieke verandering.

Perspektiewe vir Universiteite.

Die Suid-Afrikaanse politiek betree tans 'n fase wat as gebroke ekwilibrium ("punctuated equilibrium") aldus Human (1998:9-13) beskryf kan word. Ooreenkomstig hierdie perspektief word lang periodes van relatiewe politieke stabiliteit (met verwysing na n gevestigde en legitieme status quo, polities gesproke 'n regime) vervang met korter, dinamiese en soms epogmakende momente waarin die bestaande orde plek maak vir iets nuuts of iets anders. In die woorde van Human (1998:14): "Punctuations are unpredictable. They constitute unexpected breaks in the pattern; deviations from the norm. Punctuations are, by nature, abnormal events in history". Hierdie oorgange ("punctuations") gaan dikwels gepaard met 'n akademies-kritiese (her)besinning oor die status quo (lees ook die politieke regime), die waardes waarvolgens dit funksioneer en/of die beleidsmatige toepassing hiervan. Hierdie diskoers is daagliks aan die orde en is deesdae ook baie prominent binne die media. (Die verpolitisering van die SAUK in die aanloop tot die 2016-plaaslike verkiesing is tans hoog op die agenda en baie kontroversieel.) In samehang met die openbare diskoers is hier ook duidelike vorme van 'n politieke herskikking aan die orde wat die stabiliteit van die huidige stelsel ondermyn.

Hierdie verandering kan verreikende implikasies hê vir bestaande politieke waardesisteme en die interpretasie hiervan, die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele, die plek en rol van politieke elites in die groter samelewing en dit kan selfs 'n vorm van "regime verandering" impliseer. Die uitspeel van die Arabiese Lente in state soos Egipte en Tunisië, politieke hervorming in Suid-Afrika (1985-1993) en patrone van rewolusionêre verandering wêreldwyd, is voorbeelde in hierdie verband (Greffrath & Duvenhage 2013:378-397;2014:28-29). Dit is 'n periode waarin strategiese leierskap van kardinale belang is en waarin besluite geneem word wat die toekoms op 'n langer termyn drasties kan beïnvloed. In bepaalde omstandighede van rewolusionêre hervorming of selfs radikale ewolusionêre hervorming kan regimeverandering (politieke stelselverandering) ook in die visier wees. 'n Regime verwys in hierdie opsig na 'n "system of rule" verantwoordelik vir die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele (aldus David Easton) en kan slegs plaasvind deur middel van eksterne militêre intervensies, radikale politieke hervorming (transformasie) of rewolusionêre verandering (vergelyk Heywood 2013:266). Die veranderingsproses waarna hier verwys word, is heelwat meer kompleks as bloot 'n regeringsverandering wat te weeg gebring is deur byvoorbeeld 'n demokratiese verkiesing of selfs 'n staatsgreep. Bogenoemde argumentasie impliseer regimeverandering of aspekte in hierdie verband wat heelwat meer omvangryk is as bloot 'n regeringsverandering.

Die Suid-Afrikaanse politiek is tans vasgevang in 'n greep van ingrypende verandering ('n vorm van gebroke ekwilibrium) wat vooruitskouend al beskryf is in terme van 'n tweede transformasie; die noodsaak en behoefte aan 'n opvolgskikking, 'n Tunisië-moment; "[A] ticking time bomb waiting to explode" (vergelyk Duvenhage 2016a:1-2; vergelyk ook Habib 2013). Die uitspeel van hierdie veranderingsproses is tans onseker en rigtinggewende besluite is aan die orde of gaan pragmaties deur 'n stel omstandighede afgeforseer word. Besluite wat tans hangend is, is die posisie van Jacob Zuma as president terwyl die toepassing van wetgewende besluite soos die toepassing van die onteieningswet en versnelde grondhervorming ook in die visier is - om net na enkele kontroversiële sake te verwys. Die groot veranderlikes en die uitspeel hiervan kan diagrammaties soos volg voorgestel word:

 

 

Die uitspeel hiervan in die ekstreem gesien, kan wees demokratiese konsolidasie (die beste saak-scenario) of n korrupte staat (die slegte saak-scenario). Verskeie vorme van niedemo-kratiese bewinde met inbegrip van praetoriaanse politiek kan ook nie uitgesluit word nie.4Hierdie toekomsperspektief kan beter toegelig word deur te konsentreer op die groot drywers (klusters) van politieke verandering.

Die drywers van politieke verandering

Die groot drywers van politieke verandering kan in 4 kategorieë (klusters) verdeel word. Aan elkeen van hierdie kategorieë word vervolgens kortliks aandag gegee.

 

2. SOSIALE DINAMIKA

Dit is bekend dat die politiek en staatkundige dinamika nie los gesien kan word van sosiale omstandighede binne die betrokke staat/samelewing nie. Die Suid-Afrikaanse samelewing kan op n makrovlak voorgehou word as n diep verdeelde samelewing met diepliggende ras, etniese en klasverskille. Dit verskaf 'n grondslag vir die daarstelling van patrone van konflik met as voorbeelde rasinsidente, etnies-kulturele konflikte, klassestryd, taxigeweld, politieke sluipmoorde, plaasmoorde ens. Kortom, met bogenoemde as vertrekpunt is dit nie verbasend nie dat die Suid-Afrikaanse samelewing as een van die mees gewelddadige ter wêreld gereken word.

In samehang met bogenoemde konflikpotensiaal kan die Suid-Afrikaanse samelewing ook as 'n "oorgangsamelewing" beskryf word. Volgens Palmer (1989:79-151) kan 'n oorgang-samelewing voorgehou word as 'n samelewing met konflikterende waardestelsels (tradisioneel versus modern) en reflekteer dit demografiese-, groeps-, ekonomiese (rykdom, prestige en klas) asook ander diskontinuïteite. Op 'n makrovlak impliseer hierdie toedrag van sake 'n konflik tussen kultuur en struktuur met onstabiliteit en onewewigtigheid as uitkoms. Dit bring n dimensie van permanensie in onstabiliteit wat vroeër as dinamiese ekwilibrium beskryf is.

Met die aanvaarding van die nuwe grondwet (1994-1996) het die Suid-Afrikaanse samelewing net minder as 40 miljoen mense gehad - sowat 23 063 910 miljoen stemgeregtigdes. Tydens die 2009-verkiesing was die getal stemgeregtigdes reeds 31 673 238 (Statistics South Africa 2015:1). Ten opsigte van die 2015-bevolkingsyfers wys dit dat 30,2% jonger as 15 jaar is en net 8% (4,42 miljoen) sestig jaar en ouer is (Statistics South Africa 2015:1). Waar 56,9% van die bevolking tydens 2000 verstedelik was, staan dit tans op 64,3% (South African Survey 2016:30). Uit die voorafgaande syfers is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse demografie sedert 1994 drasties verander het - n verandering met implikasies vir elke terrein van die groter samelewing.

'n Veranderende demografie beteken 'n dinamiese politieke omgewing waarin die organisasie en mobilisasie van nuwe belange en eise op n deurlopende basis geakkommodeer en soms herakkommodeer moet word. Gemobiliseerde politieke eise vanuit die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) en die NUMSA-groepe kan binne hierdie verband geplaas word. Veranderende demografiese patrone binne die raamwerk van diep verdeeldheid (ras, klas en kultuurverskille) is meestal sinoniem met konflik en geweld - veral waar die amptelike beleid van transformatiewe verandering primêr funksioneer op basis van demografiese verteenwoor-digendheid wat soms boonop selektief toegepas word (Duvenhage 2007:377-403).

Die Suid-Afrikaanse samelewing word dikwels voorgehou as een van die mees gewelddadige in die wêreld met patrone van etniese-, raskundige-, xenofobiese- en vigilante geweld as voorbeelde. Die onlange vlaag van studenteproteste en die gepaardgaande #FeesMustFall / #RhodesMustFall moet teen die agtergrond van 'n gevestigde kultuur van protes, konflik en geweld beoordeel word. Die gewelddadige kant van die Suid-Afrikaanse samelewing word duidelik gereflekteer in misdaadsyfers (meestal vêr bokant die wêreldnorm), xenofobiese geweld, vigilante optredes en diensleweringsproteste. In die periode 2001/22013/14 was daar sowat 7 096 plaasaanvalle waarin 790 mense gedood is (South African Survey 2016:776).

Sosiale onstabiliteit, konflik en geweld as eskalerende fenomeen kan goed geïllustreer word met die toename van private sekuriteitsinstellings die afgelope meer as 'n dekade. Tydens 1997 was daar 4 437 sodanige instellings wat werk aan 115 331 mense gegee het met 'n ratio van 1 veiligheidswag tot 351 mense. In 2014 het die getal firmas gegroei tot 8 144 en het werk vir 487 058 mense teen 'n ratio van 1:222 verskaf (South African Survey 2016:843). Kortom, die Suid-Afrikaanse samelewing reflekteer al die kenmerke en eienskappe van 'n gewelddadige oorgangsamelewing wat in 'n meer permanente vorm van gebroke ekwilibrium (soos vroeër teoreties beskryf) verkeer. Sowat 450 politieke sluipmoorde in Suid-Afrika sedert 1994 ('n produk van intra- en interparty konflik in veral KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en andere) is stille getuienis van die gewelddadige Hobbesiaanse aard van die Suid-Afrikaanse samelewing (Wikipedia 2016:1-5). In die aanloop tot die 2016-plaaslike verkiesing het die getal sluipmoorde in veral KwaZulu-Natal boonop drasties toegeneem.

Die verstaan van sosiale dinamika en die impak daarvan op die politiek van die dag sal onvolledig wees as die ontwikkelende aard hiervan nie ook in oënskou geneem word nie. Hoë vlakke van armoede en werkloosheid lei daartoe dat groot dele van die bevolking afhanklik is van onder meer sosiale toelae. Die toekenning van sosiale toelaes as persentasie van die nasionale bevolking het van 6% in 1996 tot 31% tydens 2015/16 toegeneem. In begrotingsterme beteken dit 'n toename van R32 biljoen (2001/2) tot R147 biljoen (2015/16) (South African Survey 2016:624-625). Dit word bereken dat tussen 16 en 17 miljoen mense maandeliks sosiale toelaes ontvang waarsonder hul letterlik nie sou kon oorleef nie. Hierdie toedrag van sake word beklemtoon deur die feit dat tydens 2013 bevind is dat sowat 50% van die kinderbevolking in armoede lewe en dat daar bykans 3 miljoen weeskinders en 7.34 miljoen kinders met enkelouers is. Boonop is 11% van die bevolking MIV-positief (South African Survey 2016:633). Hierdie omstandighede (soos statisties beskryf) beklemtoon die afhanklikheid van groot dele van die bevolking van die staat en ondersteuning van die staat om letterlik fisies te kan oorleef. Polities gesproke definieer hierdie toedrag van sake egter die bestaan van patroonmaatskap-verhoudings ("patron-clientrelationship" aldus Bratton & van de Walle 1998:61-89) wat polities manipuleerbaar is, maar inherent ontstabiel kan raak met verreikende politieke implikasies. (Polities gemobiliseerde verwagtinge wat nie vervul word nie, lê dikwels aan die hart van patrone van politieke onstabiliteit.) Hiervolgens word maatskaplike toelaes toegeken op grond van die veronderstelling dat die begunstigdes politieke steun aan die regerende politieke party (veral tydens verkiesings) moet gee. 'n Onvermoë van die kant van die staat om die sosiale sekuriteit van kwesbare dele van die bevolking te waarborg, het egter die inherente potensiaal van patrone van politieke onstabiliteit en selfs rewolusie. Die uitbreek van rewolusionêre en gewelddadige protes op die oomblik in Zimbabwe kan ook Suid-Afrika se voorland wees indien vorme van sosiale sekuriteit (toelaes, gesondheid, munisipale dienslewering ens.) nie volhoubaar gehandhaaf kan word nie. Gebrekkige voedselsekerheid (tans ook 'n probleem in Suid-Afrika en Suider-Afrika) was bepalend vir patrone van politieke onstabiliteit in state waar die Arabiese Lente voorgekom het (vergelyk Greffrath & Duvenhage 2014:27-33).

Uit die voorafgaande ontleding is dit duidelik dat die groter samelewingsdinamika en verbandhoudende vraagstukke 'n bepaalde tipe politiek definieer waarin gebroke ekwilibrium en politieke onstabiliteit 'n belangrike kenmerk is. 'n Behoefte aan sosiale- en maatskaplike kohesie is van die groot uitdagings waarmee tans op sosiale vlak geworstel word. Dit skep ook 'n scenario waarbinne studentegeweld verstaan moet word en vestig 'n belangrike grondslag waarvolgens Universiteite hul toekoms sal moet beplan.

 

3. DIE ANC DINAMIKA

Die African National Congress (ANC), Afrika se oudste bevrydingsbeweging, is tans vasgevang in sy grootste uitdaging sedert die organisasie se ontstaan in 1913. Na meer as 20 jaar aan bewind begin die organisasie sy politieke glans te verloor en is weerstand teen die organisasie besig om toe te neem. Die krisis hou verband met konflik en die disintegrasie van strukture, leierskapskonflikte, uiteenlopende ideologiese oriëntasies, verlaagde steunvlakke en politieke uitdagings op 'n staatkundige vlak (die ANC as regering).5 Organisatoriese vernuwing, met as eis transformasie van n bevrydingsbeweging na n volwaardige politieke party binne die raamwerk van n konstitusionele demokrasie, is die makro-eis wat tans aangespreek moet word. Dit blyk tans dat die party polities gesproke op n ander trajek gelei word wat nie die konsep van n konstitusionele demokrasie as grondliggende vertrekpunt het nie. Enkele aspekte word toegelig om die nuwe trajek van die ANC aan te dui en die implikasies hiervan vir n toekomstige staatkundige bedeling te beklemtoon.

3.1 Die disintegrasie van die "Breë Kerk"

Die "Breë Kerk" (Broad Church) bestaan primêr uit die ANC; die Jeugliga en Vroueliga, Congress of South African Trade Unions (COSATU), die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die South African Civics Organisation (SANCO).6 Die herkoms van die konsep (verwysing) dateer uit die tyd voor die stryd ("struggle") toe verskeie politieke-, arbeids-, kerken instellings vanuit die burgerlike samelewing hande gevat het in die stryd teen apartheid. Die struktuur van die "Breë Kerk" as politiek koherente instelling (met die ANC as Voorhoede Party) is tans onder geweldige druk en as politieke verwysing (die institusionele konteks) is die instelling in 'n fase van disintegrasie. Reeds tydens die Mbeki-bewind was daar ernstige verdeeldheid binne die Drieledige Alliansie ten opsigte van Growth, Employment, and Redistribution: A Macro Economic Strategy (GEAR) en later Accelerated and Shared Growth Initiative for South Africa (ASGISA) rakende die uitvoering van transformasie. (Dit het onder meer bygedra tot die ontseteling van Mbeki as president van die ANC en Suid-Afrika.) Verwydering tussen die ANC, SAKP en COSATU was ook aan die orde van die dag in die aanloop en afloop van die Polokwane Konferensie waarin Zuma tot president verkies is. Onder die Zuma-bewind was die wittebrood van samewerking teen Mbeki van korte duur en het die disintegrasie van die "Breë Kerk" versnel. Verwydering tussen die ANC, SAKP en COSATU was aan die orde van dag en was instrumenteel tot die stigting van die Economic Freedom Fighters (EFF) en die sogenaamde National Union of Metal Workers of South Africa (NUMSA)-moment waaruit n Werkersparty links van die sentrum tot stand kan kom. n Politieke en ideologiese breuk binne COSATU, nuwe konkurrente waaronder COPE, die EFF en NUMSA (Werkerspary/United Front), leierskapstryde en konflikte op talle vlakke, die Zulufikasie (soms Zumafikasie) van die ANC; en die Zuma-dinamika as leier het effektief 'n einde gebring aan makro strategiese vennootskappe (voorgehou as die Breë Kerk van die ANC). Tans is hierdie struktuur slegs n skadu van wat dit vroeër as "politieke impakspeler" was.

Die groter staatkundige dinamika waaronder patrone van politieke onstabiliteit (byvoor-beeld diensleweringsproteste), die opvolgstryd ten opsigte van n nuwe staatspresident, ekonomiese en finansiële uitdagings en die opbou na die 2016-plaaslike verkiesings is 'n omgewing wat die krisis binne die ANC vergroot en waarvan die onlangse Tshwane-geweld 'n sprekende voorbeeld is. Selfs die konflikte en magstryde wat tans woed binne die South African Broadcasting Corporation (SABC) is simptomaties van ernstige verdeeldheid binne die ANC-familie.

Vir die eerste maal sedert 1994 het die ANC n verkiesing betree waarin daar nie gereken kon word op die gekonsolideerde steun van sy vennote en ondersteuners binne die groter familie van instellings nie. Met groter politieke onsekerheid en risiko's val die ANC deesdae sterker terug op sy tradisie as 'n bevrydingsbeweging en word daar meer kovert en sekurokraties opgetree. Toenemend word daar afgewyk van die norm van n sosiaal demokratiese party wat funksioneer binne die raamwerk van n grondwetlike demokrasie.

3.2 Leierskapskonflikte

Die finalisering van wykskandidate en partylyste vir die plaaslike verkiesing op 3 Augustus 2016 is oor die algemeen begroet met groot ontevredenheid, konflik en selfs geweld in talle provinsies en ook plaaslike distrikte. Die aanwysing van Thoko Didiza as burgermeesterskandidaat vir Tshwane het gelei tot konflik, geweld, chaos en plundery in die hoofstad. Soortgelyke konflikte, hoewel van 'n minder ernstige aard, was ook aan die orde in die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap. In reaksie op die aanwysing van kandidate en die finalisering van partylyste het die meeste onafhanklike kandidate in die geskiedenis van plaaslike regeringsverkiesings hulself verkiesbaar gestel - simptomaties van ontevredenheid met plaaslike regering in die algemeen, maar veral konflik binne die ANC self asook die geledinge van die ANC (Jeugliga; Vroueliga ens.).

Die opvolgstryd (wie moet Jacob Zuma as ANC-president asook staatspresident vervang?) woed tans fel binne die ANC en sal verskerp in die aanloop tot die 2017 Nasionale Konferensie van eersgenoemde. Die Zuma-groepering, met Nkosozana Dlamini-Zuma as voorkeurkandidaat, staan in direkte konflik met die anti-Zumagroepering waar Cyril Ramaphosa en Gwede Mantashe as kroonprinse beskou word. Buiteperde waaronder Kgalema Motlanthe en Baleka Mbete maak die magstryd nog meer kompleks. Met eiesoortige mags- en steunbasisse binne die "Breë Kerk" enersyds en die groter politieke regime andersyds word een van die heftigste leierskapstryde in die kontemporêre geskiedenis van die ANC in die vooruitsig gestel.7 Die uitkoms hiervan (na alle waarskynlikheid) gaan 'n meer verdeelde ANC wees met verdere breuke wat nie uitgesluit kan word nie. 'n Verdere faktor wat bydra tot verdeeldheid is diepliggende ideologiese verskille.

3.3 Ideologiese verskille

Met die Nasionaal Demokratiese Rewolusie-idee8 as grondliggende ideologiese raamwerk en vertrekpunt is verskeie transformasieplanne soos die Heropbou en Ontwikkelingsplan, GEAR, ASGISA en tans die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) van stapel gestuur. Transformasie beteken in hierdie verband die snelle, progressiewe, omvangryke en fundamentele verandering van die samelewing, voortspruitend uit n onaanvaarbare verlede wat onder die leiding van n politieke hegemonie (die Voorhoede Party) ten uitvoer gebring word (vergelyk Duvenhage 2007:377-403).

Met die eerste fase van die "rewolusie" (lees politieke oorgang ("transition") afgehandel, is die fokus nou op die tweede fase, te wete ekonomiese en sosiale transformasie (Strategy and Tactics 2012:13). Sake soos armoedeverligting, werkskepping, sosiale sekuriteit, onderwys, gesondheid en grondhervorming word nou tot strategiese prioriteite verhef met as vertrekpunt gelykheid en gelyke geleentheid/toegang. 'n Ontwikkelingsgerigte staat moet die uitkoms wees en beteken "an activist state that intervenes decisively in the economy with a general progressive agenda" (Strategy and Tactics 2012:68).

Ideologie en beleidstoepassing was 'n ernstige bron van konflik binne die ANC en die sogenoemde "1996 Class Project" en die raakpunte met die GEAR en ASGISA-programme is geassosieer met n "pseudo revolutionary style" (en) "neo- capitalist relations" en was by-draend tot die val van Mbeki as president van die ANC en later ook as staatspresident. Die Polokwane Konferensie en die oorname van Jacob Zuma was nie net 'n waterskeidingsmoment vir die ANC nie, maar het ook n meer radikale en populistiese fase ingelei. Die fokus word nou n "comprehensive anti-poverty and social security strategy" bestuur vanuit die staat en verantwoordelik aan die party (Duvenhage 2013:3-6).

In die opbou tot die Mangaung Konferensie het die "korrekte interpretasie" van die NDR egter weer sterk ter sprake gekom. Die NOP as strategiese raamwerk vir transformasie is vir COSATU, die SAKP en linkse groeperinge binne die ANC onaanvaarbaar. n Meer radikale benadering word bepleit en Jacob Zuma en sy groepering word toenemend die slagoffer van kritiek teen die NOP. Die uitkoms hiervan is ideologiese en beleidsonsekerheid; interne konflik en onstabiliteit; asook verdere olie op die vure wat woed in terme van leierskapstryde en veral die opvolgstryd. Aanduidings van verlaagde steunbasisse (histories en toekomstig) kompliseer die posisie van die ANC as regering, bring onsekerheid en bevorder patrone van konflik en geweld.

3.4 Steunbasisse

Die afgelope nasionale, provinsiale en plaaslike verkiesings beklemtoon die werklikheid van dalende steun vir die regerende ANC. Hierdie dalende steun manifesteer op twee vlakke, te wete laer reële steun (stemme vir die ANC tydens verkiesings), maar ook verhoogde vlakke van politieke apatie (potensiële kiesers) andersyds. Die volgende grafiek beklemtoon die dalende steun van die ANC tydens nasionale en provinsiale verkiesings. Die vergelyking ten opsigte van die DA as amptelike opposisie beklemtoon die tendens:

 

 

Selfs meer kommerwekkend as bogenoemde is die verhoogde vlakke van politieke apatie soos wat die volgende syfers duidelik aandui:

 

 

Op plaaslike regeringsvlak is die vlakke van apatie selfs nog meer kommerwekkend hoog. Van die 33.7 miljoen potensiële kiesers (2011-verkiesing) het 23.6 geregistreer en slegs 13.6 miljoen kiesers gestem. Dit verteenwoordig slegs 40.5% van die potensiële stemgeregtigdes wat wel gestem het (South African Survey 2016:865).

In die opbou na die 2016-plaaslike verkiesings was daar sterk aanduidings dat die steunvlakke van die ANC onder verdere druk kan kom. Dit is veral in die Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandela metropole (die swart middelklas) waar die ANC merkbare steunverliese ervaar soos reeds geïdentifiseer in meningspeilings.9 Die redes vir die steunverliese hou verband met komplekse redes wat insluit faksiegevegte en leierskapstryde op alle vlakke van die organisasie, die Jacob Zuma-profiel en kontroversie, 'n politieke skuif na links,10 nuwe politieke konkurrente links van die sentrum, swak dienslewering op alle vlakke en ideologiese en beleidskonflikte. In samehang met bogenoemde is die konflikterende identiteite van die ANC as leier van die "Breë Kerk" n bevrydingsbeweging, politieke party binne n konstitu-sionele demokrasie, party in regering en verteenwoordigers van die massa n groot uitdaging wanneer dit kom by die suksesvolle organisasie en mobilisasie van steun. Die verswakkende ekonomie (dit word later breedweg bespreek) en die impak wat dit het op lewenstandaard en gehalte asook die breë kultuur van konflik en geweld en die uitspeel hiervan op die groter samelewing, reflekteer negatief op die ANC, sy beleid en leierskap. Hierdie konflikte manifesteer tans ook binne die groter regime en impliseer instellings soos die South African Broadcasting Corporation (SABC), Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (OKOSA), die Openbare Beskermer, die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), Electrical Supply Commission ESKOM, die Menseregtekommissie en Petro-SA op 'n direkte of indirekte wyse (Johnson 2015:146-149).

Bogenoemde voorspellings en die onderliggende redes hiervoor was verantwoordelik vir drastiese steunverliese vir die ANC tydens die 2016 plaaslike verkiesings waar steunvlakke in die groot metropole selfs tot onder 50% gedaal het.

Skematies kan hierdie uitslae soos volg voorgestel word:

 

 

Die 2016-plaaslike verkiesing kan as 'n waterskeidingsmoment vir die ANC-regering, maar ook opposisiepartye vertolk word. Die politieke landskap het letterlik oornag verander en nuwe spelreëls van koalisiepolitiek het oornag hul weg gevind in sowat 27 munisipaliteite waar geen party 'n absolute meerderheid kon behaal nie (Rooi 2016:4).

Universiteite staan ook nie los van die dinamika afkomstig vanuit hierdie omgewing nie. Kampusonstabiliteit kan ten minste gedeeltelik verstaan word vanuit die dinamika afkomstig vanuit die ANC en die "Breë Kerk". Die impak van die staatkundige konteks definieer 'n verbandhoudende, maar ander, dimensie van die politieke omgewing wat ook 'n direkte invloed op universiteite uitoefen.

 

4. DIE STAATKUNDIGE KONTEKS

Verskeie indekse met inbegrip van die Failed State Index, Rainbow Index en Mo Ebrahim Index (met spesifieke regeerkunde kriteria) beklemtoon die oorhoofse tendens van staatkundige verswakking in Suid-Afrika (Greffrath 2015:29-30). Met staatsverswakking word bedoel 'n verswakkende vermoë om grondwetlike pligte en verantwoordelikhede (uitgebou in terme van wetgewings) suksesvol uit te voer. n Swak staatdinamika dui op n beperkte vermoë om politieke spelreëls af te dwing en daardie instelling te wees wat soewerein is soos gemeet in terme daarvan om waardes en skaars middele suksesvol toe te wys (vergelyk Migdal 1988:4; Duvenhage 2006:17-19 en Geldenhuys 1999:37-56).11

'n Tendens van institusionele en politieke verval binne die groter institusionele raamwerk van die staat (die regime) raak toenemend endemies, manifesteer op alle vlakke van die stelsel met inbegrip van semi-staatsinstellings (vergelyk Greffrath 2015:333-364; Johnson 2015:238). Die toestand van plaaslike regering in die algemeen, maar veral in die Noordwes, Limpopo en die Oos-Kaap bereik reeds krisisafmetings. Hoewel ouditverslae van plaaslike regerings 'n verbetering as tendens in sommige omgewings aandui, kon slegs 54 van die 278 munisipaliteite wat geoudit is skoon oudits behaal. Hierdie 54 munisipaliteite bestuur sowat 39% van die totale begroting vir alle plaaslike regerings wat beteken dat sowat 61% van die begrotingspanderings in 'n mindere of meerdere mate problematies is (Auditor General of South Africa 2016:22-24). Ernstige bestuursprobleme en finansiële uitdagings staan ook die SAL, die Poskantoor, Transnet, Eskom en Petro-SA in die gesig (vergelyk Johnson 2015:146149 vir besonderhede oor uitdagings in hierdie onderskeie sektore).

Binne die groter raamwerk van politieke en institusionele verval is 'n aantal uitkomstes belangrik om te vermeld, waaronder korrupsie12 (veral tenderkorrupsie en die sogenaamde tenderpreneurs), nepotisme in terme van kaderontplooiings, eskalerende dienslewerings-proteste, n toename in buitelandse immigrante as gevolg van swak grensbeheer en swak ekonomiese prestasie - om die belangrikste sake te beklemtoon. Die onderstaande grafiek ten opsigte van diensleweringsproteste vertel boonop n verhaal in eie reg:

 

 

'n Kommerwekkende staatkundige tendens is wat genoem kan word die sekurokratisering van die staat (van den Berg 2014; Duncan 2014:3-11). 'n Tendens waarvolgens veiligheidsin-stellings, veral die veiligheidskluster (Polisie, Weermag, Intelligensiedienste, Justisie en Korrektiewe Dienste) optree as die beskermer van die belange van die "sterk man" tree al hoe sterker na vore soos onder meer geïllustreer deur die Nkandla-skandaal, die Spioenasiebande-saga en wat as Guptagate beskryf is. Na hierdie tendens word verwys as "neo patrimoniale praetorianisme"13 en bevestig patrone van politieke en institusionele verval (Duvenhage 2016b:112-134).

Binne 'n omgewing van eskalerende konflik is daar tans groot druk op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) om n vrye en regverdige verkiesing te waarborg met niegeverifieerde kieserslyste as een van die groot uitdagings. Hierdie verkiesingsdinamiek plaas tans groot druk op die stelsel van die OVK, en laat vrae oor of die Suid-Afrikaanse demokrasie besig is om te konsolideer en of daar onvermydelik beweeg word in die rigting van praetoriaanse politiek en selfs 'n korrupte staat.14 Hierdie makro-tendens, hoe dit ook al uitspeel, gaan bepalend wees vir hoe ook universiteite vorentoe bestuur gaan word.

Die politieke ekonomie van Suid-Afrika is tans n bepalende faktor vir die politieke omgewing in die algemeen en universiteite in besonder. Hierdie drywer van verandering word ten slotte hanteer.

 

5. DIE POLITIEKE EKONOMIE

'n Suksesverhaal van die post-1994 bedeling was hoë vlakke van ekonomiese groei en groter toegang tot basiese dienste. In die periode 2004-2007 het die ekonomie byvoorbeeld met n gemiddeld van sowat 5% per jaar gegroei. Dienslewering was bydraend tot verhoogde lewenstandaarde en kan so voorgestel word:

 

 

Inderdaad kan hier van 'n "goeie storie" gepraat word. Hierdie omstandighede het egter die terrein voorberei wat Cronje (2014:1) as "the crisis of rising expectations" beskryf.15 Sedert 2008/9 het die prentjie egter drasties verander en is ekonomiese groei bykans konstant afwaarts aangepas en het die IMF sy groeivooruitskatting onlangs op 0.1% gestel (Joubert 2016:13). Dit is heelwat laer as hul vooruitskatting van 1.3% (Oktober 2015) en 0.6% (April 2016) vir die jaar 2016. Volgens die IMF is die risiko's vir die Suid-Afrikaanse ekonomie geleë in die koppeling met die Sjinese ekonomie wat tans druk ervaar, internasionale wisselvalligheid, Brexit, die aard van plaaslike politiek en beleidsonsekerheid. Die IMF is oortuig dat staats- en semi-staatsinstellings hervorm moet word en dat meer gedoen moet word om die ekonomie te laat groei (Joubert 2016:13). Kortom, die ekonomie onderpresteer tans op so 'n vlak dat net die handhawing van die status quo reeds n reuse uitdaging geword het - om nie eens te praat van 'n ekonomie wat werk kan skep en eskalerende verwagtinge kan akkommodeer nie.

Ekonomiese en finansiële uitdagings manifesteer op verskillende terreine waaronder eskalerende staatskuld, die inploffing van die mynbedryf en gepaardgaande werksverliese, arbeidsonstabiliteit en stakings wat n demper plaas op goeie vooruitsigte en werkskepping, n verslegtende wisselkoers, die krisis binne die vervaardigingsektor en die swak bestuur en niefinansiële volhoubaarheid van semi-staatsinstellings soos vroeër aangedui (Vergelyk Johnson 2015:146-174 vir besonderhede oor hierdie betrokke uitdagings). Indien die droogte van die afgelope aantal jare in berekening gebring word en die implikasies hiervan vir voedselpro-duksie en watervoorsiening van kwesbare gemeenskappe verder in ag geneem word, voltooi dit 'n ongunstige politiek-ekonomiese scenario. Johnson (2015:151-152) se makro-perspektief op die politieke ekonomie van die land is soos volg:

The story of South Africa's economy since 1994 is one of decline towards lower growth, lower investment and higher unemployment. The problem which will thus have to be faced before long is whether the ANC's tolerance of capitalism will stretch to being willing to take the tough, even harsh measures required to restore health to the system.

Universiteite is tans met die #FeesMustFall-kampanjes onder geweldige druk as verreken word dat tussen 1994 en 2016 studentegetalle van 'n half miljoen tot een miljoen toegeneem het - 'n verhoging in deelnamekoers van 12% - 20%. Dit opgeweeg teen die agtergrond van 'n begroting wat vêr onder norm is en met die huidige ekonomiese en finansiële werklikhede nie maklik verhoog sal kan word nie (Shay 2016:1-2).16

n Onderpresterende ekonomie enersyds en eskalerende politieke verwagtinge andersyds is 'n resep vir patrone van politieke onstabiliteit veral binne die raamwerk van 'n verswakkende staat. Hierbenewens word die huidige bedeling verder gekonfronteer met die swakste verkiesingsuitslae vir die ANC-regering sedert 1994 soos vroeër beklemtoon. Inderdaad 'n politieke ekonomie wat onstabiel is met die vooruitsig van verdere onstabiliteit. In eie reg dra die studenteprotes en die #FeesMustFall-inisiatief (wat in die oorblywende maande van 2016 tot verdere hoogtes gevoer gaan word) by tot die reeds bestaande patrone van onstabiliteit met reuse implikasies vir die voortbestaan van universiteite in Suid-Afrika. Skematies kan die makro-prentjie so voorgestel word:

 

 

5.1 Die uitkomstes van politieke verandering

Die voorafgaande ontleding beklemtoon die aard en kompleksiteit van dit wat vroeër as "gebroke ekwilibrium" beskryf is en die manifestering hiervan binne die Suid-Afrikaanse konteks. Enkele belangrike uitkomstes van hierdie dinamika kan so geformuleer word:

Sosiale, ekonomiese en politieke dryfvere (en/of omstandighede) lê ten grondslag van patrone van onstabiliteit met die vooruitsig dat hierdie patroonmatigheid vorentoe kan vererger of versleg.

Die endemiese aard van sosiale, ekonomiese en politieke geweld is besig om binne die groter politieke kultuur van die Suid-Afrikaanse samelewing te institusionaliseer. (Politiek word bedryf deur middel van geweld!)

Breë samelewingsgeweld (via onder meer die "Breë Kerk") vind sy weg na die regering en die groter politieke regime en is in eie reg vir onstabiliteit en onbestendigheid verantwoordelik. Huntington (1965:416) se beskrywing van 'n "praetoriaanse samelewing" is tiperend van die huidige Suid-Afrikaanse samelewing wat hy soos volg formuleer:

A society which lacks law, authority and discipline and consensus, where private interests dominate public ones, where there is an absence of civic duty, where in short political institutions are weak and social forces strong.

In reaksie op patrone van politieke onstabiliteit is die regime besig om toenemend te sekurokratiseer en beslag te gee aan vorme van praetoriaanse politiek.

Nie net word die vorm van regering (demokraties sowel as nie-demokraties) bedreig nie, maar in die ekstreem en op die langer termyn ook die staat as staat - dit wil sê die graad van regering (Vergelyk Huntington 1968:1-8 vir die onderskeiding tussen "graad" en "vorm" van regering).

Tendense binne die huidige omgewing is verantwoordelik vir patrone van politieke en institusionele verval.

Die ANC as bevrydingsbeweging sal toenemend vorentoe by die stembus getoets word en dat 'n demokratiese nederlaag in wese sal konflikteer met die "DNA" van die organisasie. (Kortom, 'n demokratiese nederlaag sal gepaardgaan met patrone van politieke onstabiliteit.) Die swak vertoning van die ANC tydens die 2016-plaaslike verkiesing in veral die groot metro's en die wyses hoe dit vorentoe bestuur gaan word, asook die potensiële impak hiervan op die leierskapskonflikte binne die "Breë Kerk", beklemtoon groter onsekerheid wat die bestaan en potensiaal vir verdere patrone van onstabiliteit raak.

In wat gesien kan word as "doemprofesieë" ten opsigte van die Suid-Afrikaanse politieke toekoms redeneer RW Johnson (2015:240,242-243) dat:

The country is set up for a huge and obvious failure...Indeed, everything suggests that South Africa under the ANC is fast slipping backward and that even the survival of South Africa as a unitary state cannot be taken for granted. The fundamental reason why the question of regime change has to be posed is that it is now clear that South Africa can either choose to have an ANC government or it can have a modern industrial economy. It cannot have both.17

Hoewel 'n ekstreme beskouing, beklemtoon hierdie ontleding ten minste dat Suid-Afrika tans met groot uitdagings te make het.

Ongeag optimisme, of pessimisme is dit duidelik dat Suid-Afrika in die nabye toekoms groot uitdagings sal moet trotseer. Soos gemeld, gaan hierdie oorgange telkens gepaard met 'n akademies kritiese (her)besinning oor die status quo (lees die groter regime), die waardes waarvolgens dit funksioneer en/of die beleidsmatige toepassing hiervan. Hierdie proses is tans in volle gang en kan uitloop op n groter politieke, ekonomiese en sosiale herskikking - soms voorgehou as n opvolgskikking.

Die teenvoeter vir eskalerende konflik en geweld (die Johnson-projeksie) is geleë in 'n inklusiewe proses van onderhandelinge en skikkings vergelykbaar met die aanloop tot die totstandbrenging van die nuwe grondwetlike bedeling van 1994 - n vorm van n "opvolgskikking". Binne die raamwerk van die "Breë Kerk" is daar tans ook n indringende besinning en herbesinning aan die gang waarin intellektueles, vakbondleiers, kerkleiers, politici en andere die afgelope tyd insette gelewer het. (Frank Chikane se dokument Saving the soul of the ANC is 'n voorbeeld in hierdie verband.) Dit is egter ook duidelik dat verskeie kwessies staatkundig van aard (eerder as party polities) ontwikkel. Oplossings moet hier op n staatkundige vlak gesoek word vir sake soos transformasie en die beleidsmatige toepassing hiervan; sosio-ekonomiese kwessies waaronder armoedeverligting, werkskepping, sosiale sekerheid, landelike ontwikkeling en grondhervorming; arbeidsverhoudinge en die regulering (deregulering) hiervan; demokratiese konsolidasie; politieke institusionalisering; waardesisteme en moreel-etiese kwessies; asook die regte en kultuur van minderheidsgroepe. Binne hierdie konteks (eerder as die bestaande trajek) met die betrek van alle rolspelers moet daar ook na antwoorde vir die universiteitsomgewings gesoek word.

Met die voorafgaande politieke omgewingsverkenning as vertrekpunt kan die volgende op universiteitswese in die algemeen en Afrikaanse Universiteite in besonder van toepassing gemaak word:

Die politieke omgewing word toenemend onstabiel en universiteite is en sal vorentoe meer en meer die slagoffer word van patrone van politieke onstabiliteit en 'n ontwrigte staatkundige bedeling.

Eise ten opsigte van vermelde politieke transformasie (met as fokus ekwiteit, toegang, nuwe leerplanne ens) gaan meer doelgerig toegepas en versnel word. Afrikaanse Universiteite in die besonder sal as teikens uitgesonder word.

'n Sterker ontwikkelingsgerigte benadering is van toepassing op universiteite met as fokus die aanspreek van ontwikkelingsgerigte vraagstukke soos armoedeverligting, werkloosheid ens.

Algemene ekonomiese omstandighede (met spesifieke verwysing na finansiële beperkinge) kan in eie reg die voortbestaan van universiteite (en selfs die universiteitswese) in gevaar stel.

Die kombinasie van bogenoemde is nie net verreikend vir universiteite nie, maar bedreig die universiteitswese in Suid-Afrika soos wat instellings histories tot stand gekom het.

 

6. UNIVERSITEITE - QUO VADIS

Universiteite is samelewingsinstellings en word gerig en bepaal deur toestande in die groter samelewing en uiteraard ook hul verhoudings met ander instellings en in besonder die staat. Binne die raamwerk van die staat is dit veral die politieke stelsel (regime) waarin ideologie en finansies belangrik is, wat rigtinggewend kan inwerk op die toekoms van universiteite. Kortom, universiteite staan nie los van die ekonomiese en sosiale omstandighede binne die groter samelewing nie, terwyl die polities-staatkundige konteks in eie reg die toekoms van hierdie instellings kan bepaal. Met bogenoemde as vertrekpunt ervaar Suid-Afrikaanse Universiteite diverse vorme van sosiale, ekonomiese en politieke konflikte, die ergste onstabiliteit sedert 1994, n duidelike geformuleerde en gedetailleerde politieke ideologie in toepassing (transformasie in terme van verteenwoordigendheid soos afdwingbaar in terme van taal, ekwiteit, sillabusse ens) en boonop ernstige finansiële druk wat die voortbestaan van selfs toonaangewende universiteite in gevaar stel. Dit is interessant (selfs ironies) dat Nic Grové (registrateur van die Universiteit van Pretoria)18 beklemtoon dat

Our universities are required to provide much more than teaching and research - they must create a one-stop socio-economic solution for all the needs of students [...]The current funding crisis in Higher Education is brutal. #FeesmustFall 2 is probably on its way [...]The current SA model of residential universities is no longer sustainable.

Die makro-beleidsraamwerk en sy toepassing van n getransformeerde universiteit kan soos volg saamgevat word:

Reflekteer sosiale demografie op alle vlakke van die groter samelewing.

Is bemagtigend en ondersteunend ten opsigte van die groter samelewing.

Staatsgedefinieerde hoër onderwys. (Tans het die regering 'n kommissie van ondersoek geloods na die moontlike afskaffing van klasgelde en moet binne enkele maande verslag doen.)

Eentalig Engels met min of geen ruimte vir ander tale nie.

Toegang en ondersteuning vir veral die voorheen benadeelde kategorieë van die samelewing. (Vergelyk Grové 2016; Duvenhage 2015:22-26)

Uitgaande van bogenoemde vertrekpunte moet die universiteit funksioneer binne n bevryde omgewing waarin n nuwe stel waardes, norme en prioriteite vooropgestel word, n nuwe kliënte-korps gediens word, onderrig moet gerig word deur nuwe leermeesters en navorsings-uitsette moet die onmiddellike belang van die groter samelewing vooropstel (Duvenhage 2015:22-26, 2016a:6-7). 'n Postkoloniale konteks met 'n sterk Afrikagerigte akademiese benadering word beklemtoon, wat moet afsien van koloniale praktyke, filosofieë en teorieë.

Universiteite en ander instellings van hoër onderwys wat nie aan bogenoemde norme voldoen nie (en wat soms met die ou bedeling verbind word) moet op n intervensionistiese wyse gedwing word om sodoende aan bogenoemde gestelde eise te voldoen. Werkswyses in dié verband is divers en sluit in sake soos nuwe wetgewing waarvolgens universiteite sentrad bestuur moet word (vergelyk die voorgestelde sentrale werwing en toewysing van studente aan kampusse), asook vorme van staats- en politieke intervensies deur politieke partye, studente-organisasies, kommissies van ondersoek en finansiële beperkinge of dreigemente in hierdie verband. In die woorde van Nic Grove (2016):

From State Capture to the Capturing State: Universities are the last of the major public activities funded by the State that are not directly controlled by the State [...] We will start seeing a progressive decline in the autonomy universities enjoy.

Die groter politieke omgewing, die normatiewe en beleidskonteks met die gepaardgaande strategieë vir die transformasie van hoër instellings het groot implikasies vir die outonomie van universiteite, hul finansiële volhoubaarheid, akademiese gehalte en op volhoubare veeltalige hoër onderwys.

Met universiteite wat steeds mank gaan aan die #FeesMustFall I (2015) word 'n selfs meer gekoördineerde #FeesMustFall II (2016) in die vooruitsig gestel, met verreikende implikasies nie net vir spesifieke universiteite nie, maar ook vir die universiteitswese in die algemeen. Binne hierdie verband is die universiteit van die toekoms een met groot getalle ("massification"), 'n negatiewe dosent-student verhouding, lae klasgelde, swak kwaliteit en baie beperkte navorsing (vergelyk Grove 2016). Die bestuursmodel soos onder meer tans in wetgewing voorberei word, is vergelykbaar met dié van semi-staatsinstellings soos SAL, die Poskantoor, Transnet en andere. Die bestuursuitkomstes, soos gemeet aan die groter patroonmatigheid, is voorspelbaar.

Dus, die Suid-Afrikaanse universiteit van môre (soos gedikteer vanuit die sosiale, ekonomiese en staatkundige omgewings) is getransformeer, postkoloniaal in sy oriëntasie en bestuursmatig soortgelyk aan n semi-staatsinstelling. Die norm en praktyk is n Afrika-universiteit (nie 'n Universiteit van Afrika nie) en nie 'n toppresterende universiteit met 'n hoë gradering in 'n wêreldkonteks nie. In 'n neutedop kan universiteite óf 'n funksionele en legitieme kennisinstelling wees óf 'n politieke instelling waar ideologie die kernbesigheid definieer. Dit kan ongelukkig nie beide wees nie.

In 'n omgewing van toenemende politieke onstabiliteit (tans prominent in Suid-Afrika en ook kenmerkend van talle Afrika-state) word universiteite verder ook al hoe meer aangewese daarop om hul eie veiligheid en sekuriteit te verseker. Politieke onstabiliteit met as voorbeelde diensleweringsproteste, politieke sluipmoorde, studenteproteste en arbeidsonstabiliteit dwing universiteite toenemend om meer sekurokraties op te tree. In 'n praetoriaanse omgewing waar "...the wealthy bribe; students riot; workers strike; mobs demonstrate; and the military coup" (aldus Huntington 1968:196) het universiteite nie veel van 'n keuse anders as om te sekurokratiseer nie - al gaan dit teen die wese van universiteitswees. Die rol van sosiale media ("virtual gangs on social media" - aldus Grove 2016) kan binne hierdie konteks ook nie onderskat word nie en word n faktor wat die universiteitsomgewing ernstig kan destabiliseer. Toenemend word beslag gegee aan n "praetoriaanse universiteit" - sekurokraties beveilig en afgesper met doringdraad, "firewalls", politieke intelligensie en heinings van juis die samelewing wat ondersteun en bemagtig moet word. Dit is ironies dat in die tye waarin universiteite hulself vandag in Suid-Afrika bevind die praetoriaanse universiteit (waar die beveiliging van kampusse, mense en eiendom n universiteitsprioriteit geword het in belang van die universiteit en sy waardes) juis noodsaaklik is vir akademiese vryheid en die beveiliging van die stryd om idees. Hierdie is maar een van talle paradokse wat tans bestuur moet word en ook versoen moet word in die voorgestelde postkoloniale Afrika-konteks. Tereg kan die vraag gevra word: Wat van die Afrikaanse Universiteite?

6.1 "Afrikaanse Universiteite"

Die voorafgaande politieke omgewingsverkenning en die uitspeel hiervan ten opsigte van die universiteite is tans lotsbepalend vir hierdie instellings. "Afrikaanse Universiteite" (tot die mate dat dit steeds 'n praktiese konsep in toepassing is) verteenwoordig 'n omgekeerde simboliek wat ooreenkomstig bepaalde ideologiese opvattings uitgedien is en selfs uit die samelewing "verwyder" moet word. Die huidige politieke omgewing enersyds, en sosiale en finansiële werklikhede andersyds, definieer tans van die grootste uitdagings vir die universiteitswese in Suid-Afrika - in hul relatief kort geskiedenis. Wanneer dit by hoër onderwys in Afrikaans kom, is dit uitdagings voortspruitend uit sosio-ekonomiese omstandighede, finansiële beperkinge en, selfs meer belangrik, ongunstige politieke sentimente selfs heelwat groter as ander universiteitsbedelings wat die toekoms tans baie duister laat lyk. Die fokus van die debat het die afgelope tyd ook verskuif van die oorlewing van "Afrikaanse Universiteite" na die oorlewing van Afrikaans as taal vir hoër onderwys en in die ekstreem selfs die oorlewing hiervan as basiese akademiese taal.

Die oorlewing van Afrikaans as akademiese taal (en die uitkoms hiervan in terme van instellings van hoër onderwys) is eventueel in die hande van die Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. 'n Perspektief vanuit die denke van Karl Marx kan hier van toepassing wees naamlik: "The philosophers have only interpreted the world in various ways. The point however is to change it". Die tyd van akademiese debat en diskoers oor "Afrikaanse Universiteite" en Afrikaans as taal vir hoër onderwys is myns insiens verby (of tans dalk van mindere belang) en die Afrikaanse gemeenskap (indien die saak belangrik genoeg is) sal daadwerklik moet handel as uitkoms vir al die diskoerse van die afgelope aantal jare. Is die Afrikaanse gemeenskap gereed en bereid om die uitdaging te aanvaar en te volvoer? Die volgende kan die sukses hiervan (al dan nie) bepaal:

Die vermoë om substantiewe politieke steun oor rassegrense heen te organiseer en te mobiliseer in belang van Afrikaans en Afrikaanse instellings.

Die huidige dinamiese ekwilibrium (en die geleenthede wat dit bied) te gebruik tot die voordeel van Afrikaans as taal van hoër onderwys.

Ten tyde van n herskikking (soos wat vorentoe waarskynlik sal plaasvind) die saak van Afrikaans as taal van hoër onderwys en meer spesifiek 'n "Afrikaanse Universiteit" sterker te beding.

Hofsake om die saak van veeltaligheid (soos in die Grondwet vervat) nog verder te voer. (Sukses is onlangs hiermee behaal ten opsigte van Afriforum se saak teen die Universiteit van die Vrystaat.)

Demografiese profiele (en die nierigiede toepassing hiervan) te gebruik om 'n saak uit te maak vir meer as een eksklusiewe "Afrikaanse Universiteit".

Maak die groter Afrikaanse gemeenskap en selfs die breë samelewing n strategiese vennoot in die beskerming van Afrikaans as onderrigtaal en die instellings wat dit moet waarborg.

Uiteindelik sal die "politieke wil" van Afrikaanssprekendes eerder as die akademiese diskoers deurslaggewend wees om in die onstuimige tye van 2016 en vorentoe die lot van Afrikaans as taal vir hoër onderwys te bepaal. Dit is die uitdaging vir vandag en more. Die maklikste weg is waarskynlik die aanvaarding van eentalige onderrig en berusting in die lot van dit wat "nie verander kan word nie" of selfs emigrasie na die buiteland.

 

BIBLIOGRAFIE

Auditor General of South Africa (AGSA) 2016. Consolidated general report on the audit outcomes of Local Government 2014-15. http://www.agsa.co.za/Documents/Auditreports/MFMA20142015.aspx. [20 Julie 2016].         [ Links ]

Anon. 2016. South Africa unemployment is worse than at the end of apartheid. http://businesstech.co.za/news/government/95983 [17 Augustus 2016].         [ Links ]

Bratton, M. & van de Walle, N. 1997. Democratic experiments in Africa: Regime transitions in comparative perspective. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Cronjé, F. 2014. A time traveller's guide to our next ten years. Kaapstad: NB.         [ Links ]

Duncan, J. 2014. The rise of the Securocrats: The case of South Africa. Johannesburg: Jacana.         [ Links ]

Duvenhage, A. 1994. Die transformasie van politieke instellings in oorgangstye: 'n Rekonstruksie, interpretasie en evaluasie van S.P. Huntington se teoretiese bydrae. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Bloemfontein: UOVS.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2005. Political transformation - A conceptual orientation and South African application. Journal for Contemporary History, 29(3):19-41.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2007. Politieke transformasie as 'n ideologiese denkraamwerk: 'n beleidsdinamiese analise en perspektief. Koers, 72(3):377-403.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2013. Die Nasionaal Demokratiese Rewolusie vandag: Strategiese perspektiewe en grondwetlike implikasies. Ongepubliseerde referaat voorberei vir die Afrikanerbond.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2014. Die postverkiesingsomgewing: 'n Perspektief vir die Afrikaner en die Afrikanerbond. Ongepubliseerde referaat voorberei vir die Afrikanerbond.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2015. Transformasie in die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika. Woord en Daad, 54(427):22-6.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2016a. n Strategiese ontleding van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing en die implikasies vir universiteite in Suid-Afrika. LitNet. http://www.litnet.co.za/'n-strategiese-ontleding-van-die-suid-afrikaanse [23 September 2016].         [ Links ]

Duvenhage, A. 2016b. Die sekurokratisering van die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel - 'n tendensbepaling. LitNet, 13(1):112-137.         [ Links ]

Geldenhuys, D. 1999. Staatverval. Politeia, 18(2):37-56.         [ Links ]

Greffrath, W.N. 2015. State dysfunction: The concept and its application to South Africa. Ongepubliseerde proefskrif. NWU: Potchefstroom.         [ Links ]

Greffrath, W.N. & Duvenhage, A. 2013. The Arab spring: Societal and institutional insights for the South African context. Botswana Journal of African Studies, 27(2):378-97.         [ Links ]

Greffrath, W.N. & Duvenhage, A. 2014. South Africa and the 2014 National Elections: A shift to the left. Journal for Contemporary History, 39(2):196-224.         [ Links ]

Grove, N. 2016. Akademiese vryheid: Die reg tot protes versus kampusveiligheid. Referaat gelewer by die PUK-Forum aangebied deur die Skool vir Filosofie. NWU: Potchefstroom.         [ Links ]

Habib, A. 2013. South Africa's suspended revolution: Hopes and prospects. Johannesburg: Wits University Press.         [ Links ]

Heywood, A. 2013. Politics. New York, NY: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

Human, P. 1998. Yenza: A blueprint for transformation. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Huntington, S.P. 1965. Political development and political decay. World Politics, 17(2):386-130.         [ Links ]

Huntington, S.P. 1968. Political order in changing societies. Londen: Yale University Press.         [ Links ]

Johnson, RW. 2015. How long will South Africa survive: The looming crisis. Kaapstad: Jonathan Ball.         [ Links ]

Joubert, N. 2016. IMF sien swarigheid vir SA. Sake Beeld, 8 Julie 2016. Bl.13.         [ Links ]

Migdal, J.S. 1988. Strong societies and weak states: State-society relations and state capabilities in the Third World. Princeton, NJ: Princeton University Press.         [ Links ]

Onafhanklike Verskiesingskomissie (OVK). 2016. Municipal Elections Results. http://www.elections.org.za/content/Elections/Municipal-elections-results[12 Augustus 2016].         [ Links ]

Palmer, M. 1989. Dilemmas of political development. Itasca, IL: Peacock.         [ Links ]

Rooi, J. 2016. DA het nog baie werk met sy koalisies. Rapport, 14 Augustus 2016. Bl.4.         [ Links ]

Shay, S. 2016. Higher education in South Africa hangs in the balance: Here are four scenarios. The Conversation.http://theconversation.com/higher-education-in-south-africa-hangs-in-the-balance-here-are-four-scenarios-63233 [23 September 2016].         [ Links ]

South Africa Survey. 2016. South Africa Survey 2016. Johannesburg: Institute of Race Relations.         [ Links ]

Statistics South Africa. 2015. Mid-yearpopulation estimates. www.statssa.gov.za [12 Augustus 2016].         [ Links ]

Stategy and Tactics. 2012. Strategy and tactics of the ANC. http://www.anc.org.za/docs/pol/2013/strategyp.pdf [12 Augustus 2016].         [ Links ]

Swanepoel, E. 2016. Selfs studente wat kan, wil nou nie betaal. Rapport, 14 Augustus 2016. Bl.6.         [ Links ]

The Economist. 2012. Cry the beloved country/Over the rainbow. 20 Oktober 2012 Bl.22-24.         [ Links ]

Van den Berg, M.A. 2014. The intelligence regime in South Africa (1994-2014): An analytical perspective. Ongepubliseerde MA verhandeling. Potchefstroom: NWU.         [ Links ]

Wikipedia. 2016. Political assassinations in post-apartheid South Africa. https://en.wikipedia.org/wiki/Political_assassinations_in_post-apartheid_South_Africa [20 Augustus 2016].         [ Links ]

Zibi, N. 2016. Unembargoed: A perfect storm. Business Day, 18 Januarie 2016. Bl.1-3.         [ Links ]

 

 

 

André Düvenhage is tans die Navorsings-direkteur: Navorsingsfokusarea Sosiale Trans-formasie aan Noordwes-Universiteit en professor in Politieke Wetenskap. Sy akademiese spesialis-areas sluit in Politieke Teorie, Politieke Trans-formasie, Regeerkunde en scenario-ontledings. Duvenhage het tot dusver 38 bydraes in Nasionale en Internasionale vaktydskrifte gelewer, en sowat 150 Nasionale en Internasionale akademiese referate en/of hoë profielaanbiedings gedoen. Hy is 'n gewilde politieke kommentator, en word gereeld deur die media aangehaal. Hy voer gereeld onderhoude met meer as 20 verskillende mediahuise. Hy het ook die "North-West University Spokesperson of the Year"-toekenning verskeie kere ingepalm. Gedurende 2006 was hy 'n besoekende dosent aan die Universiteit van Saskatchewan in Kanada waar hy 'n akademiese kursus oor die Suid-Afrikaanse politiek aangebied het.
André Düvenhage is currently the Research Director: Research Focus Area Social Transformation at the North-West University and professor of Political Science. His academic specialist areas include Political Theory, Political Transformation, Government Science and scenario analyses. To date Duvenhage has published 38 articles in national and international subject magazines; in addition, he has delivered about 150 national and International academic papers and/or high profile presentations. He is a popular political analyst and is frequently interviewed by the media, regularly conducting interviews with more than 20 different media houses. He has received the award of "North-West University Spokesperson of the Year" several times. During 2006 he was a visiting lecturer at the University of Saskatchewan in Canada where he presented an academic course on South African politics.
1 Vergelyk Duvenhage (2016b:112-137) vir besonderhede oor praetorianisme binne die Suid-Afrikaanse konteks.
2 Dit was ook die fokus van my referaat by die Spitsberaad op 17 Februarie 2016 met as tema, Studente-onluste en die implikasies vir Afrikaans aan hoëronderwysinstellings. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
3 Die fokus is dus nie primêr hoër onderwys en Afrikaans as taal van hoër onderrig nie, maar 'n ontleding van die politieke speelveld wat 'n invloed op eersgenoemde het en vorentoe sal hê.
4 Talle Afrikastate het gefluktueer van nuwe demokrasieë (waarna soms verwys is as verkiesings-demokrasieë) na vorme van niedemokratiese bedeling en telkens praetoriaanse (veiligheids) bewinde. Tussen 1970 en 1985 was daar byvoorbeeld suksesvolle staatsgrepe in Uganda, Ghana, Rwanda, Niger, Burkina Faso, Nigerië, Burundi, die Seychelles en Benin (Palmer 1989:233-235).
5 Laasgenoemde aspek word meer volledig toegelig wanneer die staatkundige konteks hanteer word.
6 Ander organisasies waaronder organisasies vanuit die burgerlike samelewing (soos die SARK) maar ook staats- en semi-staatsinstellings en aanstellings (kaders) is soms invloedryk binne die "Breë Kerk".
7 Die Zuma-groepering se belangrikste magsbasisse sluit in meerderheidsteun binne die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC, die sogenaamde Premiersliga (KwaZulu-Natal, Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwesprovinsie), die Sekuriteitskluster (Intelligensiedienste, Polisie, Weermag en Korrektiewe Dienste); asook kaders in strategiese posisies binne die groter regime. Die anti-Zumagroepering word gesteun vanuit Luthuli Huis (Gwede Mantashe); die OosKaap, Limpopo en Gauteng met ondersteuning vanuit die geledings van COSATU, die SAKP en ander ontevredenes vanuit die "Breë Kerk". Dit is interessant dat die Zumagroepering sterker appelleer op tradisionele steunbasisse, terwyl die anti-Zumagroepering weer groter steun geniet in die stedelike omgewings.
8 Volgens die ANC se Strategy and Tactics-dokument (2012:70) kan die NDR voorgehou word as "...a process of struggle that seeks to transfer power to the people and transform society into a non-racial, non-sexist, united, democratic one and changes the manner in which wealth is shared, in order to benefit all the people."
9 Die IPSOS-Markinorpeilings van Junie-Julie 2016 het gewys op dalende steunvlakke vir die ANC en selfs beduidende agterstande teen die DA in die genoemde metropole. Dit is bevestig met die 2016-verkiesings. Die ANC se steunvlakke het in die plaaslike verkiesing van 3 Augustus 2016 van 62.44% (2011) tot 53.9% gedaal. In 27 munisipaliteite ontbreek absolute meerderhede (50% +1) met inbegrip van 4 metropole, Tshwane, Ekhurhuleni, Johannesburg en Nelson Mandela Baai. (Vergelyk Rooi 2016:4; OVK 2016).
10 Vergelyk Greffrath & Duvenhage (2014:196-220) vir besonderhede oor die politieke skuif na links. (Contemporary History, 39(2):196-224).
11 Staatsverswakking kan in terme van kategorieë uitgedruk word:
Sagte State (verdraagsaam ten opsigte van korrupsie, nepotisme en grensbeheer).
Swak State (kompeteer en konflikte onder magsbasisse ten opsigte van die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele).
Ingeplofde State (verloor verder ook beheer van die staatsterritorium as gevolg van burger-oorloë, krygsbeheer ens.)
(Duvenhage 2006:17-19; Geldenhuys 1999:37-56.)
12 Johnson (2015:169) verwys selfs na die "criminalization of the state" as die uiterste waartoe korrupsie en nepotisme reeds ontwikkel het.
13 Vergelyk Duvenhage (2016b:112-134) vir besonderhede oor die sekurokratisering van die Suid-Afrikaanse staat en spesifiek die konseptualisering van "neo-patrimoniale praetorianisme". (LitNet, 13(1):112-137).
14 Die tema van politieke en institusionele verval enersyds en demokratiese konsolidasie andersyds is groot temas waarna slegs verwys word (Duvenhage 2014:1-30).
15 Veral aan die linkerkant van die politieke spektrum waar radikale swart magsgroepe en vakbonde geposisioneer is, is daar tans geen plafon vir verwagtinge nie.
16 Studieskuld het binne twee jaar bykans verdubbel van R3.6 miljard (2012) tot 5.3 mijard (2014) staatsfinansiering het in reële terme oor die afgelope 11 jaar (as gevolg van inflasie) met 3.4% per student afgeneem. Die aard van die huidige ekonomiese en finansiële omstandighede in die staat maak verhoogde staatsubsidies hoogs onwaarskynlik (Swanepoel 2016:6).
17 In sy werk "Time Traveller's Guide to our next ten years" (2014) is Frans Cronjé ook negatief oor die politieke vooruitsigte vir Suid-Afrika vorentoe.
18 Referaat gelewer met die titel "Reg tot protes versus kampusveiligheid" by die PUK-Forum (Skool vir Filosofie, Fakulteit Lettere) te Potchefstroom op 18 Julie 2016.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons