SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número4-1Woord voorafThe South African political environment: Strategie perspectives índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.4-1 Pretoria dic. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-1a2 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die aard, wese en rol van die Suid-Afrikaanse universiteite in 'n ontwikkelende land

 

The nature, essence and role of the South African universities in a developing country

 

 

Flip Smit

E-pos: flipsmit@telkomsa.net

 

 


OPSOMMING

Die studenteproteste aan die begin van 2015 en met die aanvang van die 2016-akademiese jaar het die universiteite tot in hul fondamente geskud. Die outonomie van universiteite is 'n nekslag toegedien toe die voorgestelde klasgeldverhogings tot 0%-verhoging wegonderhandel is. Daar is 'n volgehoue aandrang dat universiteite meer studente en veral meer swart studente moet toelaat. Die staatsbydrae het egter nie met die toename in studentegroei tred gehou nie. Klasgelde moes noodwendig verhoog word. Daar is egter twyfel of klasgelde in die toekoms verhoog sal word. Die universiteite betree dus 'n onsekere toekoms. Sonder drastiese herstrukturering en meer realistiese toelating van studente sal meer geld nie die probleme oplos nie. Die aandrang op transformasie bring groot onsekerheid by personeel en standaarde is ook in gevaar. Akademici moet akademiese vryheid aangryp en hierdie selfvernietigende proses op wetenskaplike wyses teenstaan.

Trefwoorde: Universiteite, studenteproteste, massa hoër onderwys, klasgeld, outo-nomie, transformasie, subsidie, onderrig, navorsing, rangorde, akade-miese vryheid


ABSTRACT

Student protests, which originated with the Rhodes Must Fall campaign (#RhodesMustFall), spread to Fees Must Fall (#FeesMustFall) and free tertiary education. It highlighted the deficiencies in the current educational system, shaking it at its very foundations. This has altered the institutions forever. Authorities at universities complied with most of the demands in an attempt to halt the vandalism and disruptions, and vice-chancellors made promises of transformation. The required increase of over 10% in tuition fees for the 2016 academic year was "nullified" to 0% by President Zuma, with the undertaking that the government would be accountable for the increase. This promise was not upheld and universities had to contribute R395 million from their trust funds. Another matter - that of insourcing of contract workers - will add an additional burden of several million rand to their remuneration expense. Technically speaking, some of the universities are already bankrupt.
As a consequence, a presidential commission was appointed to investigate the financing of universities and the feasibility of free tertiary education. It is possible that tuition fees may never again be increased. Mass higher education is a global phenomenon and universities are struggling to accommodate larger numbers of students with less financial support. The worldwide economic collapse after 2008 forced governments drastically to curtail their financial contributions to higher education. Consequently, universities had to restructure. Realising that universities could not be everything to everyone, the focus need to shift to areas of excellence within a specific region or country. In South Africa mass higher education hit the country like a tsunami: in less than 20 years the student numbers have doubled. The racial composition of student numbers has also changed drastically. The proportion ofwhite students has decreased from 90% in 1960 to 17% at present, whereas the proportion of black students has risen to more than 70%. Because government's funding has not kept up with the rapid growth in student numbers, it necessitated the drastic increase in tuition fees, which now account for 33% of universities' budgets. Sustained pressure is being exerted to accommodate even more students, especially black students.
The nature and essence of universities have been seriously affected. Of the South African universities, a number aspire to higher positions on the world ranking; however, high student-lecturer ratios are preventing them from reaching higher scores. In terms of education and research, the focus in developing countries should be primarily on solving local problems. With sustained pressure to admit more students, to operate with less government funding and to comply with transformation demands, universities are facing a very uncertain future. Academics, exercising their right to academic freedom, are encouraged to adopt a scientific approach to resist these destructive processes.

Keywords: Universities, student protests, mass higher education, tuition fees, autonomy, transformation, subsidy, teaching, research, ranking, academic freedom


 

 

1. INLEIDING

Die jaar 2015 sal waarskynlik as "die jaar van die student" bekend staan.

Die studenteproteste wat met #RhodesMustFall begin het, het na #FeesMustFall en gratis tersiêre opleiding uitgekring. Baie studente beskou standbeelde as 'n versinnebeelding van Westerse oorheersing en onderdrukking, en meen daarom dat die Universiteit van Kaapstad se "argitektuur en kultuur Westers is en vernietig moet word". Skilderye is derhalwe verbrand. Daar is ook aandrang dat die leerplanne en die totale strukture verafrikaniseer word.

Die herlewing van die Swart Bewussynsbeweging se slagspreuk is "Afrika-oplossings vir Afrika-probleme". Alles moet vernietig word; daar moet van voor af begin word. Die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) het reeds 'n groot naambord aangebring: University of (sic) Africa.

Voorafgaande het onwillekeurig die studenteproteste in 1968 in Parys (Frankryk) en in 1989 by die Tiananmen-plein in Beijing in herinnering geroep.

Volgehoue druk om steeds groter getalle studente toe te laat en op alle vlakke te transformeer, terwyl staatsubsidies verminder, moes noodwendig die stelsel laat knak. Nogtans is die universiteite onkant betrap en is daar aan feitlik al die eise van die studente toegegee. Met dié suksesse op hulle kerfstok het die proteste na die 2016-akademiese jaar oorgespoel.

Die gesag van die universiteitsbesture is uitgedaag en ondermyn. Teenstrydige verklarings, petisies en deelname van dosente aan betogings het spanning by personeel en studente veroorsaak. Prof. Kenneth Hughes (2016) van die Universiteit van Kaapstad het die onwilligheid om teen studente op te tree, so gestel: "... [the offence principle] - of protecting students against possible offence - is not abandoning its true calling and abdicating its responsibility to provide proper education to its students."

Die verhouding tussen wit en swart studente het skade gely. Afrikaans as onderrigtaal is opnuut in die spervuur geplaas. Baie personeel en veral hoofbestuurslede is oorwerk, ontgogel en gedemotiveer.

Die outonomie van universiteite is n nekslag toegedien toe die klasgeldverhogings van meer as 10% vir die 2016-akademiese jaar, wat die universiteitsbesture opgestel het en deur rade goedgekeur is, vinnig deur president Zuma "wegonderhandel" is.

Die belofte om die klasgeldverhogings uit die staatskas goed te maak, is nie ten volle nagekom nie. Die universiteite moet uit eie fondse R395 miljoen bydra; saam met die salarisse van nuut ingekontrakteerde dienswerkers moet sommige universiteite meer as R100 miljoen uit trustfondse opdiep. Die leningskuld van studente aan universiteite bedra reeds R5 miljard, terwyl R6,4 miljard deur 247 913 studente aan die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) geskuld word. Sedert 1991 is 2,6 miljoen studente ondersteun en is R51 miljard aan die skema spandeer.

Sal klasgelde, wat gemiddeld 33% van universiteitsbegrotings uitmaak, ooit weer verhoog kan word? Alhoewel R68,7 miljard vir hoër onderwys begroot is vir die boekjaar 2016-2017, het voorlopige ramings van die Departement Hoër Onderwys en Opleiding aangedui dat 'n bykomende R56 miljard benodig word om agterstande uit te wis. Met die swak ekonomiese groeikoers (0,7%) lyk dit moeilik realiseerbaar.

Universiteite betree derhalwe n tydperk van groot onsekerheid wat verskeie netelige kwessies insluit. Daar is hangende hofsake en tugverhore oor skade van R459 miljoen, waartoe die staat slegs R40,5 miljoen sal bydra. Die aanbevelings van die presidensiële kommissie oor die finansiering van universiteite en die moontlikheid van gratis hoër onderwys sal beslis nie sonder slag of stoot aanvaar word nie. Die verslag sal nie vóór Julie 2017 voltooi wees nie. Studente sal nie die belofte van gratis tersiêre onderwys, wat president Zuma in 2007 by Polokwane gemaak het, vergeet nie. Universiteite sal dus 'n gistende massa bly.

Die Wysigingswetsontwerp oor Hoër Onderwys (9 November 2015), wat die magte van die minister aansienlik uitbrei, hang soos n swaard oor universiteite se koppe. Hiermee word strukture geskep wat die vordering met transformasie moniteer en gereelde rapportering vereis.

Voorafgaande het die aard, wese en rol van universiteite tot in hulle fondamente geskud en dit sal nooit weer dieselfde wees nie. Daar is wêreldwyd n stryd om die siel van die tradisionele universiteit. Die meeste universiteite het nog nie aangepas om n massa studente met minder staatsgeld te akkommodeer nie. Suid-Afrika is derhalwe nie uniek nie.

In sekere opsigte is die Suid-Afrikaanse universiteite tog anders. In die eerste plek was die toename en verandering in die samestelling van die studentebevolking ongeëwenaard in die wêreld. Tweedens is daar geweldige groot verskille in standaarde; die kwalifikasies van personeel; navorsingsuitsette; die toelating van studente en afhanklikheid van staatsbefondsing tussen die ouer, tradisionele universiteite en dié wat om politieke en ideologiese redes deur die apartheidsregering in die lewe geroep is. In die laaste plek word die situasie by baie universiteite verder gekompliseer deur drukgroepe van buite en politieke partye.

In die lig van voorafgaande word die volgende ontleed:

Die aard, wese en rol van 'n universiteit wat wêreldwyd die grondslae bied waarvolgens universiteite funksioneer.

'n Wêreldperspektief van massa hoër onderwys en hoe dit saam met inligting- en kommunikasietegnologie die aard en wese van universiteite beïnvloed.

Die verandering in groei en samestelling van die studentebevolking in Suid-Afrika, met 'n kort verwysing na finansiering wat nie tred hou met studentegroei nie en akademiese standaarde in gevaar stel.

Hoe presteer die universiteite ten opsigte van graduering en navorsingsuitsette?

Wat word met transformasie bedoel en watter vordering word gemaak?

Die strewe na n plek op wêreldranglyste kan veroorsaak dat navorsing ten koste van onderrig gestimuleer word.

Watter lesse is daar in die wêreld te leer ten einde die getalledruk teen te werk?

 

2. DIE AARD, WESE EN ROL VAN 'N UNIVERSITEIT

2.1 Kontekstualisering van 'n universiteit

Dit word wêreldwyd aanvaar dat kennis mag is, en dat wetenskap en tegnologie sentraal in n kennisgedrewe ekonomie is om welvaart te skep. Mouton (2014:3) verduidelik dat: "... Increasingly, the progress of societies, the quality of life of their citizens and the success of their economies are considered dependent on their ability ... for the production, distribution and application of knowledge." Nieteenstaande die voorafgaande, stel Collini (2012:7) dit in sy gedagteryke boek What are universities for? dat "never before in human history have universities been so numerous or so important, yet never before have they suffered from so much a disabling lack of confidence and lack of identity". Universiteite se aard, wese en status is verwring en verwater as plekke van aansien, integriteit, kritiese denke, verdraagsaamheid en toewyding - al die eienskappe wat by opgevoede mense aanwesig behoort te wees.

Hoe word fundamentele en kritiese denke, wat eie aan n tradisionele universiteit is, met kitsklaar vaardigheidsvereistes van die werkplek versoen? Hoe word toegepaste navorsing met avontuurlike ontdekking op die grense van die onbekende gebalanseer?

2.2 Sommige universiteite behou hul aard, wese en karakter

Hoewel hierdie debatte al vir meer as n eeu voortduur, is universiteite die enigste instellings wat basies hulle aard en funksies bly behou het. Hoër onderwys is n Westerse konsep wat inslag gevind het sedert die stigting van die Universiteit van Bologna (1088), die Universiteit van Parys (Frankryk) en die Universiteit van Oxford in die middel van die 12de eeu. 'n Nuwe model is met die stigting van die Universiteit van Berlyn in 1810 gevestig. Dié model is na Europa, die VSA en koloniale gebiede in Afrika oorgedra. Dit bly die grondslag van uitnemende onderrig en navorsing.

Die benaming "universiteit" het wêreldwyd n bepaalde karakter, betekenis en status verwerf. In die meeste lande is dit 'n simbool van trots. Die woord is afgelei van die Latynse term Universitas magistrorum et scholarium - 'n gemeenskap van geleerdes en studente.

Die wêreldbekende Philip Altbach maak die stelling dat selfs in 'n tydperk van die internet 'n effektiewe universiteit 'n akademiese gemeenskap nodig het: "What is an academic community? It includes a sense of generally shared academic values along with a commitment to a university, to colleagues and to students" (Altbach 2013:83). Hieraan kan toegevoeg word dat 'n bepaalde karakter, etos, trots en "a sense of belonging" met tyd by 'n universiteit geskep word. Wanneer dié karakter vinnig verander, verloor die universiteit gewoonlik sy begaafde personeel en studente.

Op eie bodem wys Rossouw (Rossouw & Van Niekerk 1993:38-39) daarop dat 'n universiteit n universele karakter het maar genoodsaak is om die een of ander vorm van aansluiting te soek by die kenmerkende sosiale en kulturele waardes van sy besondere ondersteuningsgemeenskap. Hy stel dit dan soos volg: "Die gees wat binne n universiteit heers, die kodes wat daarin geld en die wyse waarop sake gereël word, sal dan ook altyd iets van hierdie waardes weerspieël."

Sonder 'n bepaalde ruimte (kampus) floreer akademiese gemeenskappe moeilik. Altbach (2013:20) is van mening dat "... a neglected requirement is space - an actual physical space - where teaching staff and students meet to work and communicate". Dit impliseer nie dat daar nie ruimte is vir die aanwending van inligting- en kommunikasietegnologie in veral afstandonderrig nie. Daar word egter op die beperkinge gewys en dat die aanwending van tegnologie tot groter effektiwiteit reeds die laaghangende vrugte gepluk het (Smit 2010). In n ontwikkelende land soos Suid-Afrika met 'n swak skoolstelsel is leerders nie met die nodige kognitiewe en taalvaardighede toegerus om die voordele van die tegnologie ten volle te benut nie. Die deurvloei van Graad 1 tot aan die einde van Graad 12 is minder as 40%.

Massive Open Online Courses (MOOCs) is gratis aanlynkursusse wat sedert 2008 ontwikkel is en wonderlike geleenthede bied, veral vir afstandonderrig. Dié kursusse, van meer as 140 universiteite, is egter vanweë die massa nie kredietdraend nie. Kundiges soos Zemski (2014:243) en Altbach (2013:22) is skepties oor die waarde van die kursusse, en meen dat hulle hul piek bereik het en nie baie sukses behaal het nie. Die jaar 2013 is wel deur The New York Times as die jaar van die MOOCs verklaar. Van hierdie kursusse word deur die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Witwatersrand aangebied.

Massa hoër onderwys het die status en karakter van veral die tradisionele residensiële universiteite baie nadelig beïnvloed. In die Suid-Afrikaanse konteks is die status van die universiteit geskaad toe technikons oornag universiteite van tegnologie geword het. In sekere gevalle het minder as een-derde van die instellings se personeellede 'n doktorsgraad gehad. Die status van die rang van professor is erg verwater toe professorate aan personeel "toegeken" is sonder eweknie-evaluasie. Dit gebeur steeds by universiteite, veral as persone in bestuursposte aangestel word.

Daar sal later aangetoon word hoe transformasie en die aanstelling en bevordering van personeel die aard en wese van universiteite ondermyn.

2.3 Die outonomie word aangetas

Outonomie is nog 'n aspek wat eie aan die aard en wese van 'n universiteit is. Institusionele outonomie beteken om alleenseggenskap uit te oefen oor die kwalifikasievereistes, die aanstelling van personeel, die toelating van studente, die ontwerp en samestelling van kurrikula, die keuse van navorsingsrigtings en die besteding van eie fondse (Rossouw & Van Niekerk 1993:44-45). Hierdie outonomie - wat dikwels kortliks gestel word as wie onderrig; wat word onderrig; en aan wie - was juis die gom wat oor eeue heen uitnemendheid gewaarborg het. Die Nobelprys-wenner J.M. Coetzee vra tereg: "Is 'n universiteit nog 'n universiteit wanneer hy sy outonomie verloor?"

Universiteite word met staatsfondse gesubsidieer en is daarom toerekenbaar aan die belastingbetalers. Die probleem in Suid-Afrika is egter dat baie van die universiteite feitlik totaal van staatsubsidies afhanklik is, terwyl van die ouer, tradisionele universiteite slegs ongeveer een-derde van hul begrotings as subsidie van die staat ontvang. Wanbestuur en korrupsie het daartoe gelei dat sommige instellings al onder administrasie geplaas is; gevolglik word al die universiteite nou met 'n ystergreep deur die staat beheer.

Die outonomie van universiteite is oor tyd - selfs in die apartheidsera - geleidelik deur die staat ingeperk. Soos reeds genoem, het die ingryping van president Zuma met die 0%-verhoging van klasgeld vir 2016 die outonomie van universiteite tot in hul fondamente geskud. Die proporsie van die direk toegewese subsidie vir spesifieke doeleindes neem jaarliks toe. Daar moet met die Departement Hoër Onderwys en Opleiding onderhandel word oor onderrigprogramme, en hul minister besluit - sonder behoorlike navorsing oor vaardigheidsbehoeftes - wat die land se tekorte is.

Subsidies en verpligte studentegroei word in toenemende mate gekoppel aan die eis dat die personeel- en studentesamestelling die demografie van die land (80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Asiër) moet verteenwoordig. Staatsubsidie word al hoe meer as stuurmeganisme gebruik om bepaalde politieke en ideologiese oogmerke te bereik.

Grové (2016) som die toenemende rol van die staat op deur aan te toon dat daar oor tyd n verskuiwing was van deelnemende bestuur in 1997, na staatsbestuur en ingryping in 2011, en uiteindelik staatsbeheer en gerigte bestuur, soos verwoord in die Wysigingswetsontwerp oor Hoër Onderwys van 9 November 2015.

 

3. MASSA HOËR ONDERWYS: 'N WÊRELDPERSPEKTIEF

3.1 Elitistiese instellings

Eeue lank het ouers en studente self vir opleiding betaal. Universiteite was elitistiese instellings waar slegs mense met die nodige intellektuele en finansiële vermoë kon studeer. Dosente en veral professore was begaafde intellektueles. Rossouw (in Rossouw & Van Niekerk 1993:39) noem dit tereg "elitisme van talent" - n keurkorps van bevoorregtes.

Elitisme en meritokrasie of presteerderheerskappy is nie gewild in n demokratiese tyd waar die klem op toelating en gelyke geleenthede val nie. Altbach en Salmi (2011:15) merk in hierdie verband op: "A research university is elite and meritocratic in such areas as hiring and admission policies, promotion standards and degree requirements for staff members and students." Daar word selfs gepraat van "maximum unfairness" as eie personeel en selfs dié binne die landsgrense oor die hoof gesien word om die beste in die wêreld te werf.

Die opbloei van demokrasie en humanistiese ideologie in Europa het regerings al hoe meer by universiteitsopleiding betrokke gemaak. Toenemende welvaart ná die Tweede Wêreldoorlog het tot gratis hoër onderwys gelei. Dit was egter nie suksesvol nie en die toetrede van regerings het die outonomie van universiteite ondergrawe.

3.2 Wie moet vir universiteitsopleiding betaal?

Die wêreldwye ekonomiese insinking ná 2008 het opnuut die vraag na vore gebring wie vir universiteitsopleiding moet betaal. Regerings het die besteding aan hoër onderwys ingekort. Die feit dat die individu by hoër onderwys baat en n hoër salaris kan verdien, het die argument versterk dat studente self 'n al hoe groter bydrae tot hul opleiding moet maak. Aan die ander kant vind die staat baat by n geskoolde werkmag wat hoër ekonomiese groei en belasting verseker.

Die uitdaging is derhalwe om 'n gesonde balans tussen die bydraes van die staat en dié van die individu te vind. Die vermindering van staatsbydraes moes noodwendig tot die verhoging van klasgeld lei. Dit, tesame met die ontploffing van inligting- en kommunikasie-tegnologie, het die deure vir private onderwys geopen.

3.3 Vinnige groei in studentegetalle

Die aantal studente in hoër onderwys het van 28,6 miljoen in 1970 tot die huidige ongeveer 180 miljoen toegeneem. In Sub-Sahara-Afrika is die groeikoers tussen 10% en 15% per jaar.

Die swaartepunt van studentegetalle het van Wes-Europa na Oos-Asië verskuif, waar geweldige toenames veral in China ondervind word. Noord-Amerika en Wes-Europa het die laagste groei ondervind omdat dié wêrelddele reeds hoë deelnamekoerse het.

Die groei in studentegetalle lei tot hoër deelnamekoerse, met die aantal studente as persentasie van die ouderdomsgroep 20 tot 24 jaar. Voor die Tweede Wêreldoorlog was die deelnamekoerse minder as 3% in Europa, terwyl dit tans in Wes-Europa meer as 70% is en in die VSA meer as 80%. Nieteenstaande die vinnige toename in studente in Sub-Sahara-Afrika en Suid-Afrika, veroorsaak vinnige bevolkingsgroei dat die deelnamekoerse nog onderskeidelik 10% en 19% is (Smit 2010).

Die drastiese staatsbesnoeiings aan hoër onderwys, wat ná die wêreldwye ekonomiese insinking in 2008 ingetree het, het die universiteitswese wêreldwyd in n krisis gedompel. Die World Conference on Higher Education wat in 2009 in Parys (Frankryk) plaasgevind het, het dit duidelik gestel dat "... higher education is entering a period of crisis unprecedented since World War II" (UNESCO 2009). Kommer is uitgespreek dat akademiese standaarde kan daal en dat die aansien van universiteite skade kan ly.

Massa hoër onderwys, die benutting van inligting- en kommunikasietegnologie soos die internet, globalisering of internasionalisering van onderrig en navorsing, en die geweldige opbloei van private hoër onderwys is derhalwe besig om die aard en wese van universiteite wêreldwyd drasties te verander. Grootskaalse herstrukturering het ná die ekonomiese insinking van 2008 plaasgevind. Die fokus in Suid-Afrika was so sterk op toelating van studente en regstellende stappe dat baie universiteite ten opsigte van herstrukturering agter geraak het.

Vinnige studentegroei en finansiële beperkinge noodsaak herbesinning en herstrukturering. In baie vereenvoudigde terme word dit gestel dat universiteite nie meer alles vir almal kan wees nie. In Nederland word dit "focus, massa, selective exellentie, professionalisering en profilering" genoem. 'n Amerikaanse deskundige noem dit "growth by substitution".

3.3 Differensiasie

In die herstruktureringsproses word daar gewoonlik op twee wyses na die identiteit van n universiteit gekyk. Die tradisionele manier is om uit te gaan van die "idee van 'n universiteit" en dié betrokke universiteit te beskou as die realisering van die idee. Die klem val dan op die ooreenkomste met ander universiteite, hulle vergelykbaarheid en strewe na n plek op die wêreldranglys. Navorsingsprestasies neem 'n sentrale plek in. Dit word ook "academic creep" genoem.

Die moderne manier is om 'n universiteit te analiseer ingevolge die doel en funksionaliteit in n bepaalde konteks. Die hooffunksie is kennisbedryf binne 'n bepaalde streek en land, en hoe spesifieke behoeftes bevredig word (Chatterton & Goddard 2000:475-496). Die aansien en status word nie internasionaal bepaal nie. Navorsing word nie oor die hele spektrum bedryf nie en die fokus is op doeltreffende onderrig en leer - "fit for purpose".

Voorafgaande kan in een woord opgesom word: differensiasie. In Japan is daar in 2015 besluit om net n paar universiteite met die beste kundigheid in die wêreld tot vlagskip-universiteite uit te bou en 1 500 internasionale leiernavorsers te lok. So word "education hubs" ontwikkel en felle mededinging ontstaan tussen verskillende lande om sodanige "spilpunte" te vestig (soos Silicon Valley in Kalifornië).

Daar sal later aangetoon word dat baie universiteite in Suid-Afrika daarna streef om 'n plek op die wêreldranglys te kry. Dit geskied dikwels in 'n ontwikkelende land soos Suid-Afrika ten koste van onderrig, terwyl plaaslike navorsingsprobleme oor die hoof gesien word.

 

4. DIE SUID-AFRIKAANSE KONTEKS

4.1 Studentegetalle

Die wêreldwye vinnige verandering van hoër onderwys vir n relatief klein elitegroep tot dié vir die massa, het Suid-Afrika soos 'n tsoenami getref. Soos reeds genoem, word die verandering in groei en samestelling van die studentebevolking uit 'n demografiese oogpunt as van die vinnigste veranderinge in die wêreld beskou.

Die studentegetalle het van 472 000 in 1993 tot 1 020 000 in 2015 toegeneem - meer as 'n verdubbeling in 20 jaar teen 'n gemiddelde groeikoers van 4,5% per jaar. Baie universiteite in die wêreld het bewys dat 'n groeikoers van meer as 2% per jaar moeilik volhoubaar is.

Die rassesamestelling van die studentebevolking het ook dramaties verander. In 1960 het wit studente nog 90% van die studentebevolking uitgemaak. Dié proporsie het tot 17,5% in 2013 verminder, terwyl die proporsie swart studente van 40% tot 70% toegeneem het. Bruin studente is, met 6% van die totale studentebevolking, steeds onderverteenwoordig. Hulle deelnamekoers is slegs 15% teenoor 17% van swart en 55% van wit mense onderskeidelik (verwerk uit BINEB 2016 en CHE 2015). Die proporsie wit studente neem af en daar is ook n daling in absolute getalle. Van die huidige 172 000 wit studente is 51% Afrikaanstaliges.

Die getalledruk vir universiteitstoelating word al hoe groter. In die tydperk 2008 tot 2015 het die studentegetalle met 28% toegeneem. In dieselfde tydperk het die kandidate met vrystelling vir baccalaureus-graadstudie egter bykans verdubbel en met 56% toegeneem.

Daar is politieke druk om die matrikulasieslaagsyfer (Nasionale Senior Sertifikaat) van 70,79% in 2015 tot 80% en die deelnamekoers tot 30% te verhoog. Dit moet in gedagte gehou word dat 57% van die jeug in die ouderdomsgroep 15 tot 34 jaar werkloos is (Statistics SA 2016). Dit laat jong mense met min ander keuses as om op verdere opleiding aan te dring.

Soos later aangetoon sal word, het die vinnige groei in studentegetalle die mikpunte van toelating en billikheid bereik, maar hoë uitvalsyfers en lae gradueringskoerse bly n kenmerk van die stelsel.

4.2 Befondsing verminder

Universiteite is duur instellings. Vir die boekjaar 2016-2017 is R68,7 miljard vir hoër onderwys begroot. Die Departement Hoër Onderwys en Opleiding beraam dat 'n bykomende R56 miljard nodig sal wees om agterstande uit te wis. Baie wetenskaplike toerusting, boeke, ens. moet uit die buiteland ingevoer word en die verswakking van die Suid-Afrikaanse rand teenoor ander geldeenhede verhoog die koste nog meer.

Die begrotings van universiteite bestaan uit drie geldstrome: staatsubsidie dra gemiddeld 40% by, maar by baie tradisionele universiteite het die syfer tot ongeveer 33% afgeneem; klasgelde dra gemiddeld 33% by, terwyl die sogenaamde derde geldstroom (donasies, kontraknavorsing, ens.) 27% bydra.

Die finansiering van universiteite as persentasie van die staatsbesteding van 2,4% en 0,75% van die bruto nasionale produk (BNP) het sedert 2008 feitlik konstant gebly. Dié syfers is heelwat laer as selfs in sommige Afrikalande, soos Botswana. Besteding per student in reële terme het in sekere tydperke met tot 20% verminder en oor 20 jaar met minstens 10% gedaal (verwerk uit BINEB 2016 en CHE2015). Die kernbegroting het dus konstant gedaal, terwyl studentegetalle vinnig toegeneem het.

Dit is duidelik dat klasgelde jaarliks verhoog moet word. Sommige universiteite het uitstekend presteer om donasies te werf en eie inkomste aan te vul. Die tradisionele swart universiteite beskik egter nie oor dié vermoë nie en tekorte moet gereeld uit die staatskas aangevul word. Volgens Universiteite Suid-Afrika (tot onlangs bekend as Hoër Onderwys Suid-Afrika) is 19 van die 26 plaaslike universiteite in 'n finansiële verknorsing.

Soos reeds gestel, is daar benewens die afname in reële waarde van die staatsbydrae, n geleidelike toename in die geoormerkte fondse wat aan spesifieke projekte bestee moet word. Universiteite het derhalwe al hoe minder seggenskap oor die besteding van fondse wat van die staat ontvang word.

 

5. HOE PRESTEER DIE UNIVERSITEITE?

5.1 Uitstekende prestasie

Daar word tereg gevra wat die rendement is vir die begrote uitgawe van R168 miljard vir die boekjaar 2016-2017. Tans studeer net meer as een miljoen studente aan die 26 universiteite in Suid-Afrika. Jaarliks word bykans 200 000 sertifikate, diplomas en grade verwerf, wat 'n groot toevoeging tot skaars vaardighede is.

Enersyds het die Suid-Afrikaanse universiteite uitnemend presteer. By sommige universiteite is daar sentra van uitnemendheid wat van wêreldgehalte is. Die land se tien ontvangers1 van die Nobelprys, van wie ses vir letterkunde, mediese en natuurwetenskappe, het almal hul basiese opleiding hier plaaslik ontvang.

Die hoëronderwysstelsel lewer ongeveer 90% van die wetenskaplike publikasies van die land. Hiervan word ongeveer 65% deur vyf universiteite geproduseer. Mouton (2015:19) bevestig hierdie prestasie:

South Africa's production of research publications over the recent past has been impressive ... The overall number of scientific journal articles ... increased from 2 973 in 1980 to approximately 13 000 in recent years. This has translated in an increase of South Africa's share of world publications from 0,4% in 1980 to 0,65% in 2013.

Die inwerkingstelling van die nuwe Befondsingsraamwerk in 2005, waarvolgens navor-singsuitsette goed befonds word, het daartoe bygedra dat die per capita-uitsette van die individuele navorsers baie verbeter het. Mouton (2015:34) wys egter ook daarop dat "when we benchmark South Africa's performance on a select number of indicators we do not compare well. On every one of the indicators we fall short when we compare ourselves with the developed countries and leading countries in Europe and North America". Volgens die mededingingsindeks van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) beklee Suid-Afrika se onderwys- en opleidingstelsel die 140ste plek uit 144 lande. Die WEF verklaar dat "... the greatest impediment to doing business in South Africa was an inadequately skilled workforce" (Cloete, Mouton & Sheppard 2015:15).

Teenoor die Universiteit van Bologna (1088) en die Universiteit van Cambridge (1209) het die Suid-Afrikaanse universiteite 'n kort geskiedenis. In sekere opsigte het die universiteite besonder goed presteer en groot bydraes tot die land se ontwikkeling gemaak (kyk onder meer Royal Society of South Africa). Die boek Science in South Africa: A handboek and review (Flint & Gilchrist 1905) is in 1905 gepubliseer. Hierin word die verstommende bydraes van wetenskaplikes aan instellings wat nog nie eers universiteitstatus gehad het nie, aangetoon. Wetenskaplikes is opgelewer wat uraan kon verryk tot kernbomme; Pratley Putty is ontwikkel as gom wat in ruimtetuie gebruik word, terwyl baanbrekerswerk met onder meer hart- en penisoorplantings gedoen is.

Suid-Afrika is 'n leier op die gebied van paleontologie en astronomie. Die Southern African Large Telescope (SALT) en die Square Kilometre Array (SKA) lok internasionale beleggings en bied navorsingsgeleenthede. Dit is waarskynlik nog te vroeg om die impak daarvan op die land se ontwikkeling te bepaal. Wetenskaplikes van naam bevraagteken dié prioriteite en beleggings in n ontwikkelende land met groot armoede en werkloosheid. Groot dele van die Karoo word baie nadelig deur die SKA beïnvloed, omdat alle kommunikasie in die gedrang gebring word.

5.2 Die teenpool van goeie prestasies

Daar is egter ook n ander kant ten opsigte van die uitsette van universiteite. Die aandrang op toelating van al hoe groter getalle studente en die gebruik van die staatsubsidie as stuur-meganisme om die demografie van die land op alle vlakke te reflekteer, bedreig die handhawing van standaarde. Enkele aspekte word soos volg aangestip:

Nieteenstaande onvoldoende kognitiewe vermoë en taalvaardigheid mik studente na universiteite met bewese akademiese status. Klopper (2016) toon aan dat net ongeveer een-derde van universiteitstudente oor die intellektuele, kognitiewe en taalvermoë beskik om suksesvol aan n universiteit te studeer.

Die student-dosent-verhouding het van 38 in 1994 tot die huidige 55 verhoog. Dit plaas groot druk op die navorsing- en publikasievermoë van dosente. Spesiale klasse moet dikwels aangebied word om studente met agterstande te help. Du Plessis (2016) haal die bevindinge van die South African Child Gauge Institute van die Universiteit van Kaapstad aan, wat toon dat Engels die tweede of selfs die derde taal van swart leerders is en dat hulle teen die einde van die sekondêre skoolfase "... minstens vyf jaar agter hulle bevoorregte eweknieë is".

Ongeveer 60% van eerstejaarstudente druip, terwyl 55% van alle studente en 45% van diegene aan residensiële universiteite die universiteit ná vier of vyf jaar se studie verlaat sonder dat hulle n graad behaal het. Klopper (2016) wys op die "regressive proportions in Bachelor's completion rates among Blacks". Die persentasie wit en Asiërstudente wat B-grade voltooi het, het tussen 1970 en 2010 onderskeidelik van 18% tot 29% en van 17% tot 20% gestyg; terwyl swart studente se voltooiingsyfer in dié tydperk van 11% tot 9% gedaal het. Die bruin studente se syfer het van 10% in 1970 tot 6% in 2010 afgeneem.

In die lig van die hoë uitvalsyfers en lae gradueringskoerse het n taakspan van die Raad op Hoër Onderwys in Augustus 2013 aanbeveel dat die driejaargraadkursusse met een jaar verleng word. Tot dusver is daar geen reaksie op die aanbevelings nie (CHE 2013).

Die kwotastelsel en die aandrang om meer swart studente te akkommodeer, lei daartoe dat wit leerders met ses onderskeidings byvoorbeeld nie keuring kry vir mediese studies nie en gevolglik in die buiteland moet studeer.

Die groter befondsing van studierigtings in die ingenieurswese en natuurwetenskappe lei daartoe dat die geesteswetenskappe, soos in die res van die wêreld, vinnig kwyn (ASSAf 2011).

By sommige universiteite is die standaarde van onderrig en navorsing onder verdenking, en sekere kwalifikasies word nie meer in die buiteland erken nie.

 

6. WAT WORD MET TRANSFORMASIE BEDOEL?

6.1 Transformasie is 'n vae begrip

Die woord transformasie het 'n cliché by universiteite geword, sonder dat daar gedefinieer word wat presies daarmee bedoel word. Die skrywer Breyten Breytenbach verwys daarna as "'n holrug geryde en holle cliché". Die eerste simposium oor transformasie in hoër onderwys het in 1991 by die destydse Universiteit van Durban-Westville plaasgevind. Die Nasionale Kommissie oor Hoër Onderwys (NKHO) se verslag, "NCHE Report: A Framework for Transformation, 1996", het gevolg. Dit is in 1997 opgevolg met 'n witskrif "Education White Paper 3: A Programme for the Transformation of Higher Education".

Cloete (2015) maak die gevolgtrekking dat "... the term transformation has become a code word for race". Hy vervolg dan so:

... most of the public transformation debate is about equity, but equity is increasingly defined as Africans from South Africa; the term 'black' is used less frequently, and the Rhodes Must Fall movement focused specifically on African, not Indian and coloured staff.

Cloete voel so sterk oor die gebruik en misbruik van die woord transformasie dat die Centre for Higher Education and Transformation (CHET) die naam na die Centre for Higher Education Trust verander het. Dit is gedoen omdat "... the term had become, in the Marxian sense, so overloaded with 'surplus' politics that it obscures, rather than clarifies research and debate".

Die wêreldbekende Immanuel Castells het ná n besoek aan Suid-Afrika opgemerk: "Transformation is a word that South Africans use when they stop thinking and start making social conversation over a glass of wine" (in Cloete 2015).

6.2 Vier terreine van transformasie

Natuurlik moet 'n universiteit voortdurend vernuwe om by die eise van die tyd aan te pas. In die lig van die voorafgaande vae begrip word vier terreine van transformasie onderskei:

Werf groter getalle swart studente. Die poel is egter beperk. Die gemiddelde resultate van die matriekslaagsyfer in 2015 was byvoorbeeld soos volg: wiskunde 26,8%; wiskundige geletterdheid 28%; fisiese wetenskappe 31,6%; Afrikaans HG 53,6% en Engels HG 52,8% (Klopper 2016). Slegs 32 000 kandidate het in 2015 wiskunde met meer as 60% geslaag. Vir fisiese wetenskappe was die syfer 25 000. Soos reeds aangetoon, is daar 'n daling in die sukseskoers van swart en bruin studente wat B-grade verwerf. Sedert 2012 is daar 'n algehele daling in slaagsyfers (CHE 2015). Dit lyk dus of groter getalle tot 'n afname in slaagsyfers lei. 'n Onlangse publikasie van die Raad op Hoër Onderwys (CHE 2016) wys daarop dat die onproduktiewe subsidie met 50% sal toeneem as die mikpunte van 1,6 miljoen studente teen 2030 bereik moet word.

Sommige universiteite ontvang tussen vyf en nege keer méér aansoeke as waarvoor daar plek is. Baie universiteite maak reeds, addisioneel tot skoolprestasies, van die National Benchmark Test (NBT) gebruik om studente vir sekere studierigtings te keur. Die Universiteit van Pretoria het in 2016 meer as 10 000 nuweling-eerstejaars toegelaat, die Universiteit van Johannesburg 10 500 en die Universiteit Stellenbosch 5 000. Maar hoe word 5 000 tot meer as 10 000 nuweling-eerstejaars effektief geakkom-modeer? 'n Student laat nie sy agtergrond tuis wanneer 'n universiteitskampus betree word nie. Baie studente van alle rassegroepe is eerstegeslagstudente, en ervaar fisiese en emosionele probleme om veral by grootstad-universiteite aan te pas. Hoe word hulle byvoorbeeld gehelp om inligtingstegnologie en die biblioteek te gebruik, suksesvol te studeer en sosiaal aan te pas?

Geen wonder nie dat swart studente kla dat hulle met beurse gelok, maar daarna aan hulle eie lot oorgelaat word. Prof. Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), noem dat 75% van die studente swart is - maar waarom voel hulle steeds onwelkom op die kampus?

'n Tweede terrein van transformasie is die personeelsamestelling. Die minister van Hoër onderwys en Opleiding sê dat dit onaanvaarbaar is dat "83% van die professors wit is". Hy het hierdie stelling tydens sy 2016-begrotingsdebat herhaal en gesê trans-formasie is n prioriteit.

Van die permanente akademiese personeel van 17 838 teen 2013 was 32% swart, 5% bruin, 51% wit en 8% Asiër. Die senior bestuur is soos volg saamgestel: swart 27%, bruin 12%, wit 53% en Asiër 7%. Net vier visekanseliers uit 26 universiteite is wit.

Vier tendense is duidelik: swart personeel neem geleidelik toe; wit personeel se getalle en proporsies daal; die aantal akademiese personeel neem veel stadiger toe as studentegetalle; gevolglik verswak die student-dosent-verhouding, en die personeel verouder vinnig. In laasgenoemde lê die grootste gevaar vir die handhawing van standaarde. Daar is briljante opkomende jong swart, bruin en Asiërdosente en -navorsers, maar hulle kort ervaring. Baie universiteite neem deel aan die Volgende Generasie Akademici-program, waarvolgens talentvolle jong akademici besondere steun ontvang. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding het egter in Julie 2016 aangekondig dat die R800 miljoen wat vir dié program geoormerk is, gebruik word om die 0%-klasgeldverhoging te finansier.

Soos in die res van die wêreld, val die klem ook sterk op die opleiding van doktorale kandidate. In die Nasionale Ontwikkelingsplan (2012) is voorgestel dat die aantal doktorale graduandi van 1 876 in 2012 tot 5 000 teen 2030 verhoog moet word. In 2012 is 821 doktorsgrade aan swart studente toegeken, waarvan die meerderheid (496) uit Afrika afkomstig was (Cloete, Mouton & Sheppard 2015:2-28). Swart akademici uit Afrika word nie by al die Suid-Afrikaanse universiteite as transformasiekandidate gereken nie.

Die salarisse by universiteite is nie mededingend nie. Volgens prof. Kenneth Hughes (2016) van die Universiteit van Kaapstad oorweeg baie akademici aan die universiteit vroeë aftrede of soek hulle n ander heenkome. Daar is in Junie 2016 aangekondig dat skeidingspakkette by hierdie universiteit beskikbaar is.

'n Universiteit is by uitstek 'n instelling waar leierskap deur voorbeeld van ervaring, kwalifikasies en navorsingsuitsette gekenmerk word. 'n Goeie voorbeeld is hoe Linus Pauling, wenner van twee Nobelpryse, soms teen sy eie kollegas gediskrimineer het om net die bestes na die California Institute of Technology (CAITEC) te lok en die instelling tot wêreldgehalte uit te bou (Hager 1995). Dit is n voorbeeld van die toepassing van "maximum unfairness" wanneer daar na akademiese uitnemendheid gestreef word.

In die lig van die letsels van apartheid is transformasie ten opsigte van die toelating van studente en die werwing en bevordering van personeel, baie noodsaaklik. Oorhaastigheid hou egter groot gevare in. Rossouw (Rossouw & Van Niekerk 1993:34) vra tereg: "Kan 'n universiteit sy identiteit gestand doen sonder om 'n elitistiese instelling te bly?"

Die derde terrein van transformasie is die verandering van kurrikula. Wetenskaplike kennis is universeel. Studente eis verafrikanisering en "Afrika-oplossings vir Afrikaprobleme". Groter Afrika-gerigtheid is wel noodsaaklik; die gebrek aan leerstof is egter n groot beperking.

Die laaste terrein, naamlik transformasie van die institusionele kultuur, is van die moeilikste op kampusse. Ontgroening, geverfde gesigte en verkragtingsvoorvalle het die kompleksiteit en emosies van verandering duidelik in die kollig geplaas.

 

7. DIE STREWE NA 'N PLEK OP DIE WÊRELDRANGLYSTE

Universiteite in Suid-Afrika ding mee om personeel, studente, navorsingsfondse en donasies. Daar is ook n koorsagtige strewe na plekke op die wêreldranglyste. Visekanseliers haal egter selektief aan hoe goed hulle universiteite op sekere "terreine" presteer.

Daar is ook aansprake dat universiteite van wêreldgehalte is. Daar is wel sentra van uitnemendheid by n aantal universiteite, maar n algehele aanspraak is vergesog. Salmi (in Altbach & Salmi 2011:323) haal die gerespekteerde Philip Altbach aan: "... the paradox of the world-class university is that everyone wants one, no one knows what it is and no one knows how to get one".

Nadat die wetenskaplike boikot opgehef is, het universiteite internasionalisering omhels. Dit geskied dikwels ten koste van onderrig, terwyl navorsingsprobleme plaaslik verwaarloos word. Tegnologie, soos die internet, het veral navorsing bevoordeel en akademici publiseer suksesvol saam met internasionale kundiges.

Die strewe na n plek op wêreldranglyste skep mededinging, wat baie gesond is. Daar is egter ook groot vraagtekens. Collini (2012:33) praat van die "Champions League syndrome" en vervolg dan so: "Vice-chancellors now keep a nervous eye on league tables as do football managers and placings are frequently involved to legitimate a preferred policy shift". Laasgenoemde is al as argument gebruik dat onderrig in Engels 'n staanplek op wêreldranglyste sal bevorder.

Daar is verskeie instellings wat jaarliks inligting verwerk om die ranglyste saam te stel, soos die Times Higher Education World University Rankings, Academic Ranking of World Universities (ook genoem Shangai Ranking) en die QS World University Rankings. Sonder om in detail te tree, kan dit gestel word dat kriteria soos die aantal ontvangers van die Nobelprys; student-dosent-verhoudings; navorsingsuitsette (mede-outeurskap saam met internasionale kundiges); aantal internasionale dosente, navorsers en studente; reputasie, ens. aansienlike gewig dra. Toegepas op Suid-Afrika moet besef word dat - gegee die ontwikkelingskarakter, ligging en geskiedenis van die universiteite - hoë posisies op die wêreldranglyste n veraf lugspieëling bly. Volgens die 2016-ranglyste van die Center for World University Rankings (CWUR) het die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), wat Suid-Afrika se topuniversiteit op die lys is, die afgelope jaar van die 149ste plek na die 179ste plek geval. So ook het die Universiteit van Kaapstad van 248ste na 265ste geval; die Universiteit Stellenbosch van 306de na 329ste en die Universiteit van Pretoria van 678ste na 697ste.

Voorafgaande beteken nie dat universiteite nié na uitnemendheid moet streef nie. In n ontwikkelende land soos Suid-Afrika is die eerste plig om na die behoeftes van die bepaalde streek waarin die universiteit geleë is, om te sien. Daarna word na die land se behoeftes gekyk. Clark Kerr (2001:53) merk tereg op dat selfs vir 'n navorsingsuniversiteit soos Berkeley, die grense in die eerste plek dié van die deelstaat Kalifornië (lees "provinsie") is. n Universiteit kan aansien verwerf in fokusgebiede soos regsgeleerdheid, ingenieurswese, ens.

 

8. MOONTLIKE OORWEGINGS

Daar word geensins beweer dat daar eenvoudige oplossings vir baie komplekse probleme bestaan nie. Daar is egter n aantal internasionale lesse wat oorweging verdien:

8.1 Ongebreidelde groei

Die kernprobleem is die ongebreidelde groei in studentegetalle van gemiddeld 4,5% per jaar oor die afgelope 20 jaar. Toelating is makliker as die handhawing van standaarde. Die samestelling van die studentebevolking reflekteer reeds in 'n groot mate die nasionale demografie, terwyl die aantal swart akademici voortdurend toeneem. Die ongelykhede van die verlede en die swak skoolstelsel wat deur n vakbond in n wurggreep gehou word, gaan nie oornag reggestel word nie. Die Raad op Hoër Onderwys verwys na hoër onderwys in Suid-Afrika as 'n "low-participation and high-attrition system" (CHE 2013:16). Indien akademiese standaarde daal, sal talentvolle swart studente waarskynlik die meeste daaronder ly. Universiteite en die staat sal wys wees as hulle gesamentlik besluit op studentegroei van nie méér as 2% per jaar nie. Diskriminasie teen talentvolle wit studente wat ná 1994 gebore is, is onverdedigbaar.

8.2 Differensiasie

Die krag van die hoëronderwysstelsel in die VSA lê in die diverse stelsel van gemeenskap-kolleges, gewone universiteite tot die vlagskip-universiteite soos Harvard en Stanford. Hoe is dit moontlik dat 17 van die 26 Suid-Afrikaanse universiteite kursusse van baccalaureus- tot doktorale grade kan aanbied en staatsubsidie ontvang om navorsingskapasiteit te bou? Die noodsaaklikheid van groter differensiasie is telkens uitgespel, maar dit het in die stof gebyt, omdat die voormalige "boskolleges" nou heilige koeie geword het. In teenstelling met die res van die wêreld, streef Suid-Afrikaanse universiteite na eenvormigheid.

Gesien in die lig van die huidige finansiële posisie van universiteite, is drastiese herstrukturering nodig. n Hele aantal universiteite moet slegs toegelaat word om voorgraads op te lei. Selfs die tradisionele universiteite behoort in streeksverband te rasionaliseer ten opsigte van gespesialiseerde rigtings soos byvoorbeeld ingenieurswese, geneeskunde, ens. Nederland is n goeie voorbeeld van n land waar hierdie beleid toegepas word.

8.3 Private hoër onderwys

Private hoër onderwys is sedert die 1990's wêreldwyd van die vinnigste groeiende sektore in die onderwys. In Suid-Amerika en veral in Brasilië akkommodeer private instellings meer as 70% van die naskoolse opleiding. Private onderwys is ook besonder sterk in Japan. Mount Kenia is die grootste private universiteit in Oos-Afrika. (Verwys onder meer na Private Education Conference, San Francisco 2015.)

Sedert 1994 was daar baie belangstelling van private instansies en buitelandse universiteite om in hoër onderwys in Suid-Afrika te belê. Die afname in studentegetalle by swart universiteite en die vrees vir mededinging met openbare universiteite het daartoe gelei dat die staat 'n moratorium op private instellings geplaas het. Die Wysigingswet op Hoër Onderwys No. 55 van 1999 het aan die minister drakoniese magte ten opsigte van private onderwys gegee. Gevolglik het buitelandse en binnelandse belangstelling gekwyn (Fehnel 2002:227-243).

Daar is tans meer as 100 geregistreerde en 26 voorlopig geregistreerde private onderwysinstellings, met ongeveer 140 000 studente. Van besondere betekenis is Monash Universiteit van Australië, met 28 kampusse in die wêreld, asook n satellietkampus in Johannesburg. Akademia is n universiteit in wording in Gauteng en bied reeds baccalaureus-grade en diplomas aan.

Private hoër onderwys kan, soos in die res van die wêreld, in samewerking met bestaande universiteite grootliks daartoe bydra om toelating te verbreed en die druk op openbare universiteite te verlig.

8.4 Satellietkampusse

Satellietkampusse van vooraanstaande universiteite in die VSA, Europa en Australië word in baie lande van die wêreld gevestig. So byvoorbeeld lok die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Maleisië, Suid-Korea en China van hierdie universiteite om kampusse in dié lande te vestig. Waarom gebeur dieselfde nie in Suid-Afrika nie?

8.5 Verkeerde persepsie

Die persepsie bestaan by baie ouers en studente dat universiteitsopleiding dié enigste roete vir 'n suksesvolle toekoms is. 'n Gekoördineerde veldtog wat uitspel watter vaardigheidsbehoeftes daar bestaan en hoe dit by ander instellings as universiteite verwerf kan word, is nodig. Die 50 kolleges vir onderwys en opleiding met 700 000 studente moet kragtig bemark en uitgebou word.

 

9. SAMEVATTING

Die studenteproteste aan die einde van 2015 het die universiteite onverhoeds betrap en die implikasies daarvan sal verreikend wees. Daar word tereg opgemerk dat, wat die finansiering van klasgeld betref, studente méér in tien dae vermag het as visekanseliers in tien jaar. Gepaardgaande met klasgeldverhogings is eise gestel vir vinniger transformasie, die verafri-kanisering van leerplanne en die wegdoen met Westerse simbole.

Massa hoër onderwys, saam met die veranderinge op die gebied van inligting- en kommunikasietegnologie, het reeds en sal ook in die toekoms die aard, wese en karakter van Suid-Afrikaanse universiteite ingrypend verander. Die groei in studentegetalle het tot 'n groot mate die mikpunte van toelating en billikheid bereik, maar die Raad op Hoër Onderwys verwoord sy gevolgtrekking soos volg:

The conclusions are that the output of higher education is not meeting the country's needs, that the system has low internal efficiency in utilising human and material resources ... and that the scale of the failure and dropout occurring ... points to substantial systemic problems that require systemic responses (CHE 2013:16).

Graduering in veral ingenieurswese en tegnologie bly besonder laag - dit is juis vaardighede wat noodsaaklik is vir ontwikkeling.

Indien die regering voortgaan om universiteite te verplig om steeds groter getalle studente toe te laat sonder die nodige befondsing moet dit noodwendig lei tot óf 'n verdere daling in standaarde óf groter getalle studente wat druip. Meer fondse sal egter die probleme net tydelik verlig want die gebrek aan ruimte en veral 'n tekort aan dosente met die nodige kwalifikasies en ondervinding gaan die stelsel vir baie jare kniehalter. Dit word wyd aanvaar dat studente se onvoorbereidheid en veral gebrekkige taalvaardigheid die oorheersende leerverbandhou-dende oorsaak van swak prestasies is. Selfs die voorstel van die taakspan van die Raad op Hoër Onderwys, soos vervat in die verslag A proposal for undergraduate curriculum reform in South Africa. The case for a flexible curriculum structure (CHE 2013), asook die verlenging van driejaargraadkursusse met een jaar, het talle finansiële en ander implikasies.

Die hoëronderwysstelsel het sistemiese probleme en drastiese herstrukturering is nood-saaklik ten einde groter differensiasie te bewerkstellig. Die huidige stelsel stuur op verlaging van standaarde en moontlik ook selfvernietiging af.

Besture, rade en akademici van universiteite is dikwels polities so korrek dat n gesonde akademiese debat nie gevoer kan word nie. Ander buig agteroor om politieke en ideologiese beleidsrigtings te verdedig. Die debat word veel sterker by Engelstalige universiteite gevoer. Uitnemende prestasies moet ook uitgelig en aan die breër publiek bekend gestel word.

John Kane-Berman (2015) maak tereg die stelling dat akademiese vryheid nie die alleenreg van akademici is nie, maar ook die reg van studente en die breë gemeenskap.

Die intellektuele vermoë en akademiese vryheid moet ingespan word om idees te propageer wat in lyn is met wêreldtendense en fundamenteel verskillend is van heersende ideologiese beleidsrigtings wat die kernwaardes van universiteite kan vernietig. Dié debat moet op die hoogste intellektuele en beskawingsmondige wyse gevoer word.

 

BIBLIOGRAFIE

Academy of Science of South Africa (ASSAf). 2011. Consensus study on the state of the humanities in South Africa: Status, prospects and strategies. Pretoria: ASSAf.         [ Links ]

Addison, G. (ed.). 2004. Science and Technology in South Africa: Progress and achievements in the first decade of democracy, 1994-2004. Pretoria: Department of Science and Technology.         [ Links ]

Altbach, P.G. 2013. Don't take too much notice of rankings. University World News, Issue no. 264, 23 March.         [ Links ]

Altbach, P. G. & Salmi, J. (eds). 2011. The road to academic excellence: the making of world-class research universities. Washington, D.C.: The World Bank.         [ Links ]

Buro vir Institusionele Navorsing en Beplanning (BINEB). 2016. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Chatterton, P. & Goddard, J. 2000. The response of higher education institutions to regional needs. European Journal of Education, 35(4):475-496.         [ Links ]

Cloete, N. 2015. The PhD and the ideology of 'no transformation'. University World News, Issue no. 379, 28 August.         [ Links ]

Cloete, N., Mouton, J. & Sheppard, C. 2015. Doctoral education in South Africa. Policy, Discourse and Data. Somerset West: African Minds.         [ Links ]

Collini, S. 2012. What are universities for? London: Penguin Books.         [ Links ]

Council on Higher Education (CHE), South Africa. 2013. A proposal for undergraduate curriculum reform in South Africa. The case for a flexible curriculum structure. Pretoria: Council on Higher Education.         [ Links ]

Council on Higher Education (CHE), South Africa. 2015. Vital Stats: Public Higher Education, 2013. Pretoria: Council on Higher Education.         [ Links ]

Council on Higher Education (CHE), South Africa. 2016. South African Higher Education Reviewed. Two decades of democracy. Pretoria: Council on Higher Education, p. 24.         [ Links ]

Du Plessis, T. 2016. Engels is g'n wonderkuur. Beeld, 17 Maart.         [ Links ]

Fehnel, R. 2002. Private higher education. In Transformation in Higher Education. Global pressures and local realities in South Africa. Pretoria: Centre for Higher Education Transformation (HET), pp. 227-243.         [ Links ]

Flint, W. & Gilchrist, J.D.F. 1905. Science in South Africa: a handbook and review. Prepared under the auspices of the South African Government. Cape Town, Pretoria, Bulawayo: T. Maskew Miller.         [ Links ]

Grové, N. 2016. Die verskuiwing van deelnemende bestuur (1997) na staatsbestuur en ingryping (2011) in uiteindelike staatsbeheer en gerigte bestuur (ongepubliseerde voordrag). Spitsberaad: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria, 17 Februarie.         [ Links ]

Hager, T. 1995. Force of nature: The life ofLinus Pauling (e-book edition).         [ Links ]

Hughes, K. 2016. Letter to the Editor: Appeasing the UCT Taliban. Daily Maverick, 22 April.http://www.dailymaverick.co.za/article/2016-04-22-letter-to-the-editor-appeasing-the-uct-taliban/ [1 September 2016].         [ Links ]

Kane-Berman, J. 2015. Academic Freedom: Threatened from without and within. Politicsweb, 28 November.http://irr.org.za/reports-and-publications/articles-authored-by-the-institute/academic-freedom-threatened-from-without-and-within-2013-politicsweb-28-november-2015 [1 September 2016].         [ Links ]

Kerr, C. 2001. The uses of the university. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Klopper, C. 2016. Studente-onluste. Universiteite en die plek van Afrikaanse universiteite ( ngepubliseerde voordrag). Spitsberaad: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria, 17 Februarie.         [ Links ]

Mouton, J. 2014. Foreword. 2014 Annual activity report. Stellenbosch: DST-NRF Centre of Excellence in Scientometrics and STI Policy.         [ Links ]

Mouton, J. 2015. A research and innovation performance framework. Stellenbosch: DST - NRF Centre.         [ Links ]

Rossouw, H.W.& Van Niekerk, A.A. 1993. Universiteit, wetenskap en kultuur: opstelle oor die krisis, uitdagings en geleenthede van die moderne universiteit. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Royal Society of South Africa.http://www.royalsocietysa.org.za [31 Augustus 2016].         [ Links ]

Smit, P. 2010. Demografiese tendense en die betekenis daarvan in die onderwys in Suid-Afrika.Toespraak gelewer: Konvokasie, Universiteit Stellenbosch. 11 November.         [ Links ]

Statistics SA. 2016. Vulnerable groups Series I: The social profile of youth, 2009-2014, 18 April.         [ Links ]

UNESCO. 2009. Final Report: World Conference on Higher Education 2009. 5-8 July, Paris.         [ Links ]

Zemski, R. 2014. With a MOOC MOOC here and a MOOC MOOC there, here a MOOC, there a MOOC, everywhere a MOOC MOOC. Journal of General Education, 63(4):237-243.         [ Links ]

 

 

 

Philippus (Flip) Smit het aan die Universiteit Stellenbosch en Unisa studeer en ook daar gewerk. Hy was verbonde aan die Universiteit van die Noorde (nou bekend as die Universiteit van Limpopo), die Universiteit van Pretoria, die Afrika Instituut en die Raad vir Geestes-wetenskaplike Navorsing (RGN). Hy het navorsing aan die London School of Economics, die School for African and Oriental Studies, die Wereldbank en die Council for Higher Education in Washington gedoen, en as gasprofessor by verskeie buitelandse universiteite opgetree. Hy was lid van verskeie kommissies, soos die Ondersoek na Onderwys (De Lange-kommissie), die Makro-ondersoek na Universiteitswese, die Nasionale Sportondersoek, die Kommissie vir die skepping en afbakening van die grense van die nege provinsies, en die Ondersoek na Grens-nywerhede in Suid-Afrika (die Ontwikkelingsbank). Sy werk het erkenning ontvang van Naspers met die Recht Malan-prys, en van die Claude Leon/Percy Fox Foundation en die South African Geographical Society. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom met 'n Stals-prys, die NP van Wyk Louw-medalje en erelidmaatskap vereer. Tydens die 100-jarige feesviering van die Universiteit van Pretoria in 2008 is hy as een van die 100 denk-leiers oor 100 jaar aangewys.
Philippus (Flip) Smit studied and worked at Stellenbosch University as well as at Unisa. He also served on the staff of the University of the North (now the University of Limpopo), the University of Pretoria, the Africa Institute and the Human Sciences Research Council (HSRC). He undertook research at the London School of Economics, the School for African and Oriental Studies, The World Bank as well as the Council for Higher Education in Washington. As visiting professor, he lectured at various universities abroad. He has served on several commissions, such as the Investigation into Education (De Lange Commission), the Macro Investigation into the University System, the National Sport Investigation, the Commission for the Creation and Demarcation of the borders of the nine provinces, and an Investigation into Border Industries in South Africa (Development Bank). Smit's extensive research over many years was acknowledged by Naspers with the Recht Malan Prize. He also received recognition from the Claude Leon/Percy Fox Foundation and the South African Geographical Society. He was awarded the Stals Prize and the NP van Wyk Louw Medal and granted honorary membership of the South African Academy for Science and Arts. In 2008, when the University of Pretoria celebrated its centenary, he was recognised as one of 100 leading minds over the past 100 years.
1 Sydney Brenner; J.M. Coetzee; Alan M. Cormack; F.W. de Klerk; Nadine Gordimer; Aaron Klug; Albert Luthuli; Nelson Mandela; Max Theiler en Desmond Tutu.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons