SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número4-1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.56 no.4-1 Pretoria Dez. 2016

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n4-1a1 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Woord vooraf

 

 

Op Woensdag 17 Februarie 2016 het 'n Spitsberaad aangebied deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns plaasgevind, met as fokus studente-onluste en die implikasie vir Afrikaanse hoër onderwys. Hierdie Spitsberaad het plaasgevind teen die agtergrond van #FeesMustFall wat die wese van universiteite geraak het en 'n uiters onsekere toekoms vir hierdie instellings ingelui het. Leidende akademici en gemeenskapsleiers het aan die Spitsberaad deelgeneem en verskeie bydraes gelewer. Met die Spitsberaad as vertrekpunt, is versoek dat sommige referate (aangevul deur versoeke aan ander spesialiste) omskep moet word in 'n spesiale temanommer vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe met as fokus bogenoemde vraagstuk. Die uitkoms hiervan is elf akademiese artikels wat in die algemeen fokus op 'n snel veranderende politieke, ekonomiese en sosiale omgewing en die implikasies hiervan vir universiteite; kritiese vrae en perspektiewe ten opsigte van die grondslag en wese van die universiteitswese en dit wat tans in Suid-Afrika besig is om te realiseer; asook die posisie van Afrikaans as taal vir hoër onderwys in Suid-Afrika.

Die kontekstuele omgewing: Brandpunte wat hier aangeraak is, sluit in die aard, wese en rol van n universiteit in n ontwikkelende land; die politieke omgewing waarbinne die universiteitswese homself tans bevind; die invloed van radikale postkolonialisme op die universiteitswese in Suid-Afrika; asook die impak en potensiële invloed van die leidende en dominante politieke ideologie van transformasie op die universiteitsomgewing. Met #FeesMustFall(2) tans in volle swang is dit duidelik dat hierdie omgewing vorentoe nog groter uitdagings aan universiteitsomgewings gaan stel. Dus, hef aan lê nog voor.

Die Universiteitswese: In 'n omgewing van radikale verandering word kritiese vrae gevra oor die aard van die universiteitswese, sy plek en rol in die groter samelewing en wat van universiteite verwag kan word in hierdie tyd. In die gees van #FeesMustFall is finansiële volhoubaarheid (en wie hiervoor verantwoordelik is) uiteraard 'n kern besprekingspunt. Hiermee saam gaan die risiko's vir gehalte akademiese onderrig teen die agtergrond van die aandrang op oop toegang ("open access ") vir almal binne die raamwerk van 'n radikale en postkoloniale sosio-politiese tydsgees. Is daar nog plek en ruimte vir universiteite soos hul histories binne n Westerse konteks tot stand gekom het? Is dit die einde van universiteite soos wat ons hul histories leer ken het? Wat hou die toekoms vir universiteite in Suid-Afrika in?

Die Afrikaanse Universiteit: Dit is duidelik dat die bogenoemde kwessies verreikende implikasies inhou vir Afrikaans as taal van hoër onderwys in die algemeen en meer spesifiek vir die toekoms van dit wat oorgebly het van die Afrikaanse Universiteit in Suid-Afrika. Die meerderheid akademiese bydraes het dan ook as fokus die Afrikaanse taal en hoër onderwys met toespitsing op talle aspekte wat tersaaklik is vir taal en die universiteitswese in Suid-Afrika.

Met die finalisering van hierdie uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe is dit duidelik dat die onstabiliteit aan universiteite n nuwe fase betree en dat meer geweld en ontwrigting van universiteite tans aan die orde van die dag is. Dit hang myns insiens saam met die patrone van politieke onstabiliteit wat tans uitspeel binne die groter politieke, ekono-miese en sosiale omgewings. Wat duidelik is, is dat moeilike tye voor die deur lê en dat nie net universiteite voor groot uitdagings te staan gekom het nie. Die uitspeel hiervan mag egter lotsbepalend wees vir die land en al sy mense. Dit is 'n tyd om aktief en konstruktief by jou eie toekoms betrokke te raak deur te bou en nie te vernietig nie. Die geskiedenis mag bewys lewer dat 2015/6 die jare is waar die akademiese leiers aan universiteite die land gefaal het deur nie genoegsaam en sterk genoeg op te getree het nie.

My dank aan alle kollegas en medewerkers wat bygedra het om hierdie spesiale tema-nommer te verwesenlik. In besonder die bydraes van Dionē Prinsloo, Ina Wolfaardt-Gräbe. Hennie de Wet, Wynand Greffrath en Christine Knoetze vir hul deurlopende bydraes en ondersteuning waarsonder hierdie spesiale temanommer nie moontlik sou gewees het nie.

 

André Duvenhage

Gasredakteur

Augustus 2016

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons